SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.54 issue3The drafting of a Dutch literary history: generic characteristics as positivistic traits?Rhetorical figures as intellectual play in advertising communication author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Tydskrif vir Geesteswetenskappe

On-line version ISSN 2224-7912
Print version ISSN 0041-4751

Tydskr. geesteswet. vol.54 n.3 Pretoria Sep. 2014

 

NAVORSINGS- EN OORSIGARTIKELS

 

Nederlandstaliges se bydraes tot die behoud en erkenning van Afrikaans 1870-1920*

 

Dutch language speakers' contributions to the maintenance and recognition of Afrikaans 1870-1920

 

 

J.C. Steyn

Navorsingsgenoot: Departement Afrikaans en Nederlands, Duits en Frans, Universiteit van die Vrystaat, E-pos: steynjaap@gmail.com

 

 


OPSOMMING

Die bydrae van Nederlandstalige letter- en taalkundiges, joernaliste, uitgewers en onderwysers tot die sukses van die Afrikaanse taalstryd en die taalbeweging tussen ongeveer 1870 en 1920 is 'n belangwekkende aspek van die geskiedenis van Afrikaans. Drie van die vier manne wat 'n mens met die begin van die 19de-eeuse taalbeweging in verband kan bring, was gebore Nederlanders: Arnoldus Pannevis, Casper Petrus Hoogenhout en Johannes Brill. Die vierde was ds. Stephanus Jacobus du Toit. Een van die belangrikste vroeë Nederlands-gebore skrywers was J. Lion Cachet, outeur van Sewe duiwels en wat hulle gedoen het. Taalkundiges wat vir Afrikaans in die bresse getree het, was W.S. Logeman van Kaapstad en D.C. Hesseling. Ná die Anglo-Boereoorlog het Nederlanders bygedra tot die welslae van Christelik Nasionale Onderwys, wat verseker het dat, naas Engels, Hollands as voertaal en vak in hierdie skole bly voortbestaan het. Met die hulp van dr. W.J. Leyds is ZAR-geld wat voor en in die oorlog na Europa gestuur is, na Afrikanerleiers gekanaliseer om te help met die onderwys en die heroprigting van Hollands-Afrikaanse koerante. Daarnaas was daar morele steun. Ten eerste kon taalaktiviste inspirasie vir die taalstryd kry deur berigte oor die volharding van die Vlaminge in húl stryd. Ten tweede het Nederlandse geleerdes die Afrikaans-aktiviste in hul strewe gesterk deur die bruikbaarheid van Afrikaans, die onbruikbaarheid van Hollands en die waarde van die eerste Afrikaanse werke te beklemtoon. Die belangrikste rede vir die sukses van die Afrikaanse taalbeweging en taalstryd was die toewyding en deursettingsvermoë van die verdedigende Afrikanernasionalisme, maar die Nederlandse betrokkenheid by die taalstryd was 'n faktor van wesenlike belang.

Trefwoorde: geskiedenis van Afrikaans, Nederlands, Hollands, taalbeweging, taalstryd, Afrikaner-nasionalisme, Engelse nasionalisme, Afrikaans-Hollandse pers, Nederlandse nasionalisme


ABSTRACT

The contribution of Dutch literary scholars and linguists, journalists, publishers and teachers to the success of the Afrikaans language struggle and the language movement between about 1870 and 1920 is a significant aspect of the history of Afrikaans. Under language struggle or language activism is meant the actions to oppose the displacement of Afrikaans and Dutch by English. In Afrikaans history, language movement refers to the activities undertaken to develop and recognise Afrikaans as a replacement for Dutch as the written language.
The 19th-century language movement began at a time when Afrikaners became dissatisfied with the dominance of English in the Cape Colony. This was especially the case with a small group that initiated a struggle for the recognition of Afrikaans as a written language in 1875 - the members of the Genootskap van Regte Afrikaanders (GRA) [Society for Real Afrikaners], which was established on 14 August in Paarl. Three of the four men that one could associate with the beginning of the language movement were Dutch-born: Arnoldus Pannevis, Casper Petrus Hoogenhout and Johannes Brill. The fourth was ds. Stephanus Jacobus du Toit.
The GRA was not anti-Dutch, and they published numerous books in Dutch and distributed petitions calling for the recognition of Dutch as a language of the Cape Parliament. In 1877, Du Toit and Hoogenhout strongly considered publishing the GRA 's mouthpiece, Die Afrikaanse Patriot, in simplified Dutch, and to cooperate with those who wanted to maintain Dutch in South Africa. Du Toit's brother, DF du Toit, "Oom Lokomotief", wrecked this plan.
Even after the establishment of the GRA, the Dutch remained involved in the construction and defence of Afrikaans. One of the most important 19th-century writers was Jan Lion Cachet, author of the "Devil books" that were published in one volume: Sewe duiwels en wat hulle gedoen het. Sketse uit die Afrikaanse buitelewe (Seven devils and their deeds. Sketches of the Afrikaans country living).
Among the scholars were W. S. Logeman, Dutch professor at the South African College in Cape Town and one of the few early linguists that took Afrikaans seriously. At least one linguist in the Netherlands thought that all efforts to promote Dutch in South Africa were doomed to failure. D.C. Hesseling argued in 1897 in De Gids that Afrikaans had developed as a separate language.
After the Anglo-Boer War (1899-1902), the Dutch and Flemish in Europe, but also Dutch in South Africa, played an important part in the language struggle in which they tried to prevent English from supplanting Afrikaans as spoken and especially Dutch as teaching language. After 1902, English was the official language and the language of education.
This English-nationalist policy and its implementation created an Afrikaans nationalism that had the objective of sustaining the Afrikaners as a people with their own language. The Dutch support helped the language activists on two main areas: education and the press.
In the Transvaal, Dutch teachers from the days of the Republic took the lead in establishing schools that used Dutch alongside English as a language and subject. Since the end of 1902, and through the efforts of the churches, the Boer leaders, Dutch and Afrikaner teachers and newspapers such as De Volksstem and Het Westen, a network of schools arose in the towns and districts of the Transvaal.
A happenstance that struck the Afrikaners after the war was that they could get financing to revive the Dutch-Afrikaans press. This came in the form of funds of the Zuid-Afrikaansche Republiek. Money that had been transferred to Europe before and during the war was smuggled back to South Africa in secret by dr. W.J. Leyds. Before and during the war, he was the Transvaal envoy in Europe and the money was sent there to promote ZAR interests. After the war, the remaining money was sent to the Boer leaders for national purposes - CNE schools and the reestablishment of newspapers. From England, Joseph Chamberlain did everything in his power to obtain this money.
Two of the papers that benefited from ZAR money was De Volksstem and the new independent half-weekly, De Vriend des Volks. They were the two most important newspapers that promoted Afrikaans from 1905. De Volksstem's editor was Dr. F. V Engelenburg, a born Dutchman.
One of the newspapers that came into being with the ZAR money still exists in 2014. It is Volksblad, which was founded in 1904 in Potchefstroom by Hendrik de Graaf as Het Westen The founders, De Graaf and B. P. Landa, and the first editors, were St. Helena exiles during the Anglo-Boer War that came to know each other in the Deadwood camp. The editors were Paul G. Das, Adam J. Boshoff and BG Versélewel de Witt Hamer. Apart from Boshoff (from the Free Sate), all were Dutch.
In 1907, De Graaf began publishing books. The first anthology of the 20th-century movement, Bij die monument (At the monument) by Totius, was printed in 1908 b ye Graaf of "Het Westen"-Drukkerij. "Het Westen"-Drukkerij published 17 of the 33 poetry a ndprose works that appeared in Afrikaans between 1907 and 1915. The rest were published at seven other publishers.
The assistance to the CNE schools and the channeling of ZAR money to Afrikaner leaders was the practical, material, part of the Dutch involvement with Afrikaners after the Anglo-Boer War. In addition, there was moral support. The Afrikaners knew they did not stand alone. Firstly, they could find inspiration for the language struggle through reports of the persistence of the Flemish in their struggle. Secondly, the Dutch scholars strengthened Afrikaner activists in their pursuit by emphasising the usefulness of Afrikaans, the impracticality of Dutch and of the value of the first Afrikaans works.
Each time, Afrikaans scholars and publications referred to foreign opinions that supported their views. Among those mentioned were Hesseling, Dr. Kiewiet de Jonge, dr. J. B. Scheepers, dr. R. A. Kollewijn, O. Kamerlingh-Onnes and several others. People like C.G.N. de Vooys and G. Kalff praised C. Louis Leipoldt's Oom Gert vertel en ander gedigte (Uncle Gert relates and other poems).
After the recognition of Afrikaans as a teaching language, it was once again mainly a Dutch publisher, J.L. van Schaik, who used Dutch business acumen to become one of the leading publishers of Afrikaans school books.
The success of the Afrikaans language movement and language struggle is due to various factors. The most important of these was the dedication and perseverance of the leaders of Afrikaner nationalism. It was a defensive move against aggressive English nationalism. But another factor of major importance was the Dutch involvement in the language struggle.

Key concepts: History of Afrikaans, Dutch, language movement, language struggle, Afrikaner nationalism, English nationalism, Afrikaans-Dutch newspapers, Dutch nationalism


 

 

1. INLEIDING

Die bydrae van Nederlandstalige letter- en taalkundiges, joernaliste, uitgewers en onderwysers tot die sukses van die Afrikaanse taalstryd en die taalbeweging tussen ongeveer 1870 en 1920 is 'n belangwekkende aspek van die geskiedenis van Afrikaans. Die bedoeling met hierdie artikel is om 'n oorsig van dié bydrae te gee. Onder taalstryd of taalaktivisme word hier verstaan die optredes om die verdringing van Afrikaans en Hollands deur Engels teë te gaan. In die Afrikaanse geskiedenis verwys taalbeweging na die aktiwiteite wat aangepak is om Afrikaans in die plek van Nederlands as skryftaal van die Afrikaanssprekendes te ontwikkel en te erken.

Die algemene benaming vir Nederlands in Suid-Afrika was in die 19de en vroeë 20ste eeu Hollands, en daarom word dié benaming hier behou. Bowendien was Hollands en Nederlands in Suid-Afrika nie altyd sinoniem nie. Met Hollands is verwys na óf Nederlands, óf Afrikaans en Nederlands óf Afrikaans. Afrikaanssprekendes is dikwels Hollandssprekendes genoem. In sy herinneringe aan die taalstryd tref Langenhoven (1956:314, 358) 'n onderskeid tussen Nederlands-Hollands en Afrikaans-Hollands.

Die skrywer gee aandag aan: (1) die 19de-eeuse taalbeweging en (2) die 20ste-eeuse taalstryd en taalbeweging. (Ander benamings is onderskeidelik die eerste en tweede taalbeweging, of die voor- en naoorlogse taalbeweging - die oorlog wat hier ter sprake is, is die Anglo-Boereoorlog van 1899 tot 1902).

 

2. DIE 19DE-EEUSE TAALBEWEGING

2.1 Nederlanders en die begin van die Afrikaanse taalbeweging

In die vroeë 1870's was die verengelsing van die Kaapkolonie al ver gevorder. Aanvanklik het die Britse owerheid die proses afgedwing, maar mettertyd het dit ongedwonge en vrywillig geskied. Die gedwonge proses word in besonderhede beskryf deur Giliomee (2004), J. du P. Scholtz (1965) en G.D. Scholtz (1970, 1974 en 1977).

Afrikaners het hulle voor die 1870's slegs sporadies verset teen die verdringing van hul taal deur Engels. Hulle het geglo dat hulle Hollands as kerktaal moet handhaaf, maar dat Engels op ander terreine die eerste plek moet beklee. Scholtz (1965:162) sê dat die Afrikaners nog nie behoorlik besef het nie "dat 'n volk wat tevrede is om sy taal in sy eie land 'n ondergeskikte posisie te laat inneem, gedoem is om met sy taal onder te gaan". In die 1870's het Afrikaners ongelukkig begin raak oor die alleenheerskappy van Engels. Dit was veral die geval met 'n klein groepie wat in 1875 begin ywer het vir die erkenning van Afrikaans as skryftaal - die lede van die Genootskap van Regte Afrikaanders (GRA), wat op 14 Augustus in die Paarl gestig is.

Drie van die vier manne wat 'n mens met die begin van die taalbeweging in verband kan bring, was gebore Nederlanders: Arnoldus Pannevis, Casper Petrus Hoogenhout en Johannes Brill. Die vierde was ds. Stephanus Jacobus du Toit. G.S. Nienaber (1967:3-5) meld dat Pannevis (gebore op 16 Februarie 1838) se pa en oupa dokters was, en dat ook hý eers in die geneeskunde gaan studeer het. Hy was twee jaar as "officier van gezondheid" in diens van die Nederlandse vloot voordat hy bedank het - blykbaar omdat hy die gevloek van die matrose en hul houding teenoor die godsdiens nie kon verdra nie. Daarna het hy in Latyn en Grieks gaan studeer en die kandidaatseksamen afgelê. Hy het ook Duits, Frans en Engels geken en kon hom behelp met Spaans, Italiaans, Deens en Sweeds.

In 1866 het hy na Suid-Afrika gekom en is gou na die Paarl waar ds. G.W.A. van der Lingen hom gasvry ontvang het. Van der Lingen was die stigter en hoof van die Paarlse Gimnasium wat Hollands as voertaal gehad het. Pannevis het aan leerlinge wat deur Van der Lingen aanbeveel is, private lesse in klassieke tale en wiskunde gegee. Een van sy studente was S.J. du Toit.

Dit het Pannevis van sy aankoms aan die Kaap af opgeval dat die taal van die "Hollands-sprekendes" nie meer Hollands was nie. Omdat hy so godsdienstig was, het dit hom gehinder dat die gekleurde Afrikaanssprekendes klaarblyklik nie die Hollands van die Bybel kon verstaan nie. Daarom het hy in 'n brief, wat op 7 September 1872 in De Zuid-Afrikaan verskyn het, onder 'n skuilnaam ("Een Vriend van het Nuttige") gepleit dat die Bybel of ten minste die Nuwe Testament ter wille van die gekleurde bevolking in Afrikaansch-Hollandsch vertaal word. 'n Paar koerantbriewe het verskyn maar die skrywery was gou op 'n end.

Pannevis se brief kan 'n mens nie beskou as 'n pleidooi vir Afrikaans nie. So 'n pleidooi het die volgende jaar egter gekom van 'n ander Nederlander, C.P. Hoogenhout, wat op 11 Maart 1843 in Amsterdam gebore is. Sy ma is oorlede toe hy dertien was, en hy kon nie met sy stiefma oor die weg kom nie. Gevolglik is hy in 1860 na Suid-Afrika, waar hy werk kon kry by die Nederlandse konsul. Toe Pannevis na Suid-Afrika kom, maak hy met hom kennis en dié lei hom op as onderwyser. Omstreeks 1870 het Hoogenhout onderwyser geword by Groenberg in die distrik Wellington.

Sý brief, "Die Bijbel in Afrikaans", verskyn in De Zuid-Afrikaan van 12 April 1873. Daar is "banja mense" in Afrika wat die Bybel nie verstaan nie. 'n Bybelvertaling is nodig, "nie alleen ver [vir] die bruin mense nie, maar ook ver banja blanke, want daar is regte ook banja blanke wat die Hollandse taal nie half verstaan nie. Ja, die Hollandse taal sal naderhand heeltemal in Afrika gedaan raak, en die Afrikaans sal daarvoor in die plek kom, en das ook reg." Was daar 'n Bybel en ander boeke in Afrikaans, sal 'n Afrikaner in ses maande meer kan leer as nou in ses jaar.

Soos Scholtz (1965:192) betoog, gee die briewe van dié jare in De Zuid-Afrikaan blyke van 'n heftige verset teen die toenemende verengelsing en verdrukking van Hollands. Die redakteur, maar ook die korrespondente, veral die voorstanders van Afrikaans as skryftaal, het ongeduldig geraak oor die eensydig Brits-georiënteerde onderwys. Buitengewoon felle aanvalle is gedoen op die Engelse meisieskole wat op inisiatief van NG predikante in Kaapstad en Wellington opgerig is.

Hoogenhout het ook ' n tweede brief oor die Bybel in Afrikaans geskryf en as Klaas Waarzegger Jr. van 26 Julie 1873 in De Zuid-Afrikaan 'n reeks "Gesprekke tussen oom Jan Vasvat en neef Daantjie Loslaat" gepubliseer waarin hy propaganda vir Afrikaans maak. Meer as een keer het ander skrywers hom in die koerant aangeval.

Die volgende jaar het 'n derde yweraar vir Afrikaans na vore gekom. Dit was ds. S.J. du Toit. Onder 'n skuilnaam, "Een Ware Afrikaander", het hy in drie artikels in Nederlands onder die opskrif "De Afrikaansche Taal" op 8, 11 en 22 Julie 1874 in De Zuid-Afrikaan die bewering weerlê dat Afrikaans geen taal is nie en dat Hollands die moedertaal van die Afrikaners is. In die laaste stuk wei hy uit oor hoe die volkstaal verdring word deur die onbillike invoer van Engels in die Parlement, die geregshowe, die skole en die kerke. Hy sluit sy betoog só: "Dog sonder taal, geen nasie. Daarom Afrikaners, hou u land, u volk, en u taal in ere!" (Afrikaanse vertalings deur Nienaber & Heyl 1960 1:12-20).

Talle briewe het weer verskyn - almal naamloos. Afrikaans het onafgebroke onder die aandag van die koerant se lesers gebly. Een skrywer het betoog dat "un genootskap foor die befordering fan die Afferkaanse taal" nodig is. Wat die voorvegters vir Afrikaans goed te pas gekom het, was die optrede van nog 'n Nederlander, Johannes Brill, wat in 1842 gebore is en in 1867 magna cum laude aan die Universiteit van Utrecht gepromoveer het. Ná ses jaar as onderwyser in Deventer en Kampen het hy in 1873 die rektor geword van die Grey-kollege in Bloemfontein. Hy het daarin geslaag om die sukkelende skool tot 'n "uitmuntende seunskool" te laat groei (Venter 1968:122-123).

Brill het in Mei 1875 'n lesing oor "De Landstaal" in Bloemfontein gelewer. Hy het betoog dat Afrikaans, en nie Hollands nie, die ware landstaal van Suid-Afrika is. Hy het betoog dat Afrikaans nie 'n verbasterde Hollands of 'n veragtelike dialek is nie, maar net soos ander tale volgens normale taalwette ontstaan het. Die lesing is in De Zuid-Afrikaan (29 Mei 1875) gerapporteer en het die Kaapse taalyweraars in hul oortuigings gesterk.

Terwyl hierdie taalliefhebbers volgens koerantbriewe gewerk het aan 'n Afrikaanse geskiedenis, 'n taalboekie en 'n Afrikaanse volkslied, het Pannevis op 7 November 1874 op eie houtjie 'n brief aan die Britse en Buitelandse Bybelgenootskap (BBBG) in Londen geskryf waarin hy die behoefte aan 'n Bybel in Afrikaans uiteensit. Ewe min as sy brief van 1872 in De Zuid-Afrikaan laat hy hierin blyk dat hy enige belangstelling in of liefde vir Afrikaans as taal het, of geloof het aan sy toekoms. Pannevis het van Afrikaans gepraat as 'n soort verbasterde Hollands, 'n dialek wat deur die verwaarlosing van die moedertaal ontstaan het; hy was nie eers seker of dit nie op die ou end deur Engels verdring sou word nie.

Die BBBG het die brief na sy Kaapse kantoor verwys, en ds. George Morgan van dié kantoor het in Mei of Junie 1875 'n predikantekonferensie in Wellington gevra om die saak te oorweeg. 'n Minderheid was ten gunste van 'n vertaling. Du Toit het nie die konferensie bygewoon nie hoewel hy twee keer uitgenooi is. Pannevis het in sy brief Du Toit 'n geskikte vertaler genoem, en Morgan het in die Paarl met hom kom praat. Du Toit het aan hom gesê hy ken sommige voorstanders van 'n Bybelvertaling en sal die saak met hulle bespreek. D.F. du Toit, broer van ds. Du Toit, het 'n vergadering van voorstanders van 'n Bybelvertaling vir 5 Julie 1875 belê (D.A. Scholtz 1975:73). Wie toe almal daar was en wat bespreek is, is volgens Scholtz onbekend. Hierdie vergadering word in die geskiedskrywing oor Afrikaans heeltemal oorskadu deur die historiese vergadering van Saterdag 14 Augustus 1875. Op hierdie vergadering is die GRA gestig. Pannevis was nie teenwoordig nie.

Die oud-Nederlander wat die meeste by die taalbeweging betrokke was, was Hoogenhout. Hy was die skrywer van Geskiedenis van Josef voor Afrikaanse kinders en huissouwens. In hulle eige taal geskrywe. Door Een Vriend. Die GRA het 'n hele ruk lank in 1877 vergeefs geprobeer om hom as heeltydse redakteur te kry van Die Afrikaanse Patriot wat in Januarie 1876 begin verskyn het.

2.2 Die GRA en die Hollandse beweging

Die ontstaan van die GRA het nuwe lewe gegee aan die Hollandse beweging wat hom vir die behoud van die Hollandse taal in Suid-Afrika beywer het. Anna de Villiers (1936:58) beskou 'n gebore Nederlander, A.N.E. Changuion, as voorloper van dié beweging. Hy was 'n stryder teen verengelsing al het hy die aanvanklik Hollandse kosskool wat hy in die 1830's in Kaapstad opgerig het, Het witte huis, gou tweetalig gemaak, miskien om beter met die Zuid-Afrikaansche Athenaeum te kan meeding. Ook hý was gou oortuig daarvan dat Hollands geen kans het om die volkstaal van die Afrikaanssprekendes te word nie. Sy bekendste werk, De Nederduitsche taal in Zuid-Afrika hersteld (1844), bevat "Proeve van Kaapsche taaleigen". Dit is die eerste uitvoerige dokumentering van Afrikaans.

De Villiers (1936:98) meen dat die manifes van die GRA miskien vir J.H. Hofmeyr ("Onze Jan") geprikkel het om hom vir die voortbestaan van Hollands te beywer. Daarom ook dat hy Het Zuid-Afrikaansche Tijdschrift in 1878 laat herleef het nadat dit 35 jaar lank nie verskyn het nie. Hy was in dié stadium ook nog redakteur van De Zuid-Afrikaan en sou die belangrikste politieke leier van die Kaapse Afrikaners word.

Die Hollandse beweging het Afrikaans eintlik eerder bevoordeel as benadeel. Ook die GRA het dit só gesien: winste vir Hollands in die openbare lewe sou onvermydelik winste vir Afrikaans word. In die jare ná die stigting van die GRA was daar 'n tyd lank sprake van 'n Hollandse Genootskap en samewerking tussen die GRA en dié Hollandse Genootskap. Die gegewens oor die Hollandse Genootskap is egter skraps en onduidelik: uit die Patriot-berigte kry 'n mens die indruk dat daar omstreeks 1877 al so 'n genootskap bestaan het, terwyl Anna de Villiers (1936:98) verklaar dat dit nooit tot stand gekom het nie.

In elk geval bevestig die beriggewing oor en kommentaar op dié Genootskap die stelling van J.D. du Toit - die digter Totius - dat die Afrikaanse beweging nie anti-Hollands was nie. Hy meen die beskuldiging van anti-Hollandsheid is 'n legende wat "vergoed verjaag [moet] word soos 'n eensame tier, wat nog in beskaafde streke sig weet op te hou en te handhaaf (1917:124). De Villiers (1936:98) sê die bewering dat die GRA anti-Hollands was, is "uit die lug gegryp", en sy wys tereg op die groot aantal Hollandse boeke wat die GRA-mense uitgegee het. Ook het die Patriot-kantoor petisies versprei waarin vir die erkenning van Hollands as 'n taal van die Kaapse parlement gevra is (Du Toit 1917:129).

Hoe geheg die hooffigure in die Afrikaanse taalbeweging aan Hollands gebly het, toon 'n episode in die jaar 1877, wat Otto Liebenberg in sy werk oor D.F. du Toit ("Oom Lokomotief') behandel. Die Patriot het geldelik swaargekry. Die sirkulasie was minder as 700. Die verandering na 'n weekblad aan die begin van die jaar het die koste so opgejaag dat die GRA moeilik daarmee kon voortgaan. 'n Paar lede het huiwerig geword. Selfs Du Toit het begin twyfel. Die werk het vir hulle weinig meer as verguising en persoonlike benadeling meegebring.

Daarom het S.J. du Toit en Hoogenhout dit sterk oorweeg om Die Afrikaanse Patriot in vereenvoudigde Hollands uit te gee en om saam te werk met diegene wat Hollands in Suid-Afrika wou behou. S.J. du Toit sou die voorsitter wees van die Paarlse tak van die Hollandse Genootskap, terwyl Hoogenhout redaksielid was van Het Zuid-Afrikaansche Tijdschrift. Die meeste GRA-lede sou lede van die Hollandse Genootskap gewees of geword het.

Die GRA het in Junie en Augustus 1877 'n moontlike vereniging met die Hollandse Genootskap oorweeg. Dit is op die spits gedryf op die algemene vergadering op 11 Augustus. Die lede moes besluit of "ons nie self ons saak kan vort sit nie?" Maar as "ons nie kan nie om dit dan as 'n teken te neem, om dit o'er te maak an die Hollanse Genootskap; mar onder die vollende voorwaardes:-

(a) Die Patriot bly by syn naam, beginsels, en inrigting.

(b) Die taal moet geen styf - mar eenvoudig Kaaps - Hollans wees sonder inmenging van uitheemse woorde.

(c) Advertensies, versla'e en stukke van die Afr. Genootskap sal in ider No. verniet moet opgeneem worre, seg tot twe kolomme." (Die GRA het Hollands altyd gespel Hollans.)

So netelig was die kwessie dat die vergadering besluit het om op 15 September 1877 weer byeen te kom om finaal daaroor te besluit. Intussen sou hulle probeer om die geldelike tekort te delg deur intekenaars te werf en 'n bankwissel te reël, terwyl op die vergadering 'n £75 ingesamel is - £25 van ds. Du Toit, £5 elk van sy broer D.F en twee ander, en die res van ander lede.

Liebenberg toon aan dat dit uit korrespondensie tussen ds. Du Toit se broer, D.F., ook bekend as Oom Lokomotief, en Hoogenhout blyk dat D.F. van plan was om vereniging met die Hollandse Genootskap en 'n oorname van die Patriot sterk teen te staan. Hy het Hoogenhout dit kwalik geneem dat hy bereid was om vereniging met die Hollandse Genootskap te oorweeg. Oom Lokomotief het dit beklemtoon dat hy as lid van die Hollandse Genootskap nie anti-Hollands was nie. Von Wielligh sê dat Oom Lokomotief vasgetrap het om die werk nie te laat vaar nie. Ook D.F. Malherbe getuig: "Dis veral te danke aan sy leiding, heldersiende blik en moed, dat die ou Patriot nie van kleur verander het nie" (Von Wielligh 1922:66 en Liebenberg 1976:135).

S.J. du Toit het nog lank geweifel. Dit blyk uit 'n brief van hom wat in 1882 in die Patriot opgeneem is. Hy siteer daarin uit 'n ander brief wat hy in 1878 geskryf het. In die brief van 1878 reageer S.J. du Toit op die antwoord van Oom Lokomotief op een van die versoeke wat die Patriot gereeld gekry het om dit in 'n ander taalvorm uit te gee.

Du Toit het Oom Lokomotief in die brief, wat tot in 1882 ongepubliseer gebly het, verwyt dat hy nie al die voordele van Hollans genoem het nie. Een daarvan sou gewees het: "ons sal mense bykry van meer geleerdheid en bekwaamheid om leiders te wees in publieke en politieke sake". Sy voorstel was: "LAT ONS DIE PATRIOT EENVOUDIG HOLLANS MAAK". Die Hollans van die Patriot moet so eenvoudig wees "dat die ongeleerdste dit moet kan verstaan."

Dit sou nie 'n erkenning wees dat die beweging verkeerd was om Afrikaans voor te staan nie. "Né, Afrikaans groei elken dag an in ons land, en Hollans neem elken dag af." Maar een van die voordele van Hollands sou wees dat "ons dan dadelik 'n hele party voorstanders bykry, ons saak het dit nodig" (Du Toit 1917: 116-118).

Die plan om die blad te verhollands, is stil-stil laat vaar nadat D.F. du Toit aan die einde van 1877 redakteur geword en dit beter met die Patriot gegaan het. Van die Hollandse Genootskap is niks weer gehoor nie.

Oom Lokomotief het ook 'n ander plan van Du Toit laat skipbreuk ly. Du Toit het in 1882 'n aanstelling aanvaar as Superintendent van Onderwys in Transvaal, waar Hollands die onderwystaal was. Hy het Oom Lokomotief meegedeel dat hy van plan was om 'n vereenvoudigde Hollandse Spraakkuns vir skoolgebruik uit te gee. Soos Oom Lokomotief self later erken het: "Daar was natuurlik veel voor te sê, en hy was net die man om so 'n Spraakkuns te bewerk. Vir redenering met hom was ek nie opgewasse nie. My hoof argument was: Ds., as jy dit gaan doen dan vernietig jy al ons werk en opoffering, of woorde van gelyke betekenis. Toe ook dit hom nie van voornemens kon afbring nie, het ek geseg dat as hy dit doen, dan gooi ek hier (Paarl) alles op, ens. Wel, soos jy weet, het die Spraakkuns nie verskyn nie, en gevolg gee aan my dreigement was ook onnodig." Dit het hy in 'n brief aan Hoogenhout meegedeel (aangehaal deur Liebenberg 1976:146).

2.3 Afrikaans en Hollands aan die einde van die 19de eeu

In die laaste anderhalf dekade van die 19de eeu het Hollands in die wetboeke van drie Suid-Afrikaanse state 'n plek gehad: die Kaapkolonie, die Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR, oftewel Transvaal) en die Oranjevrijstaat. Die groeiende nasionalisme (veroorsaak deur die anneksasie van die ZAR deur Engeland en die daaropvolgende Transvaalse Vryheidsoorlog) het die voorstanders van Hollands in die Kaapkolonie aangespoor om die regte te probeer herstel wat Hollands voorheen in die openbare lewe geniet het. Du Toit en die res van die GRA het saamgewerk. Onder leiding van Du Toit, Onze Jan Hofmeyr en ander het die Afrikaner-politici druk op die Kaapse regerings uitgeoefen om bepaalde regte aan Hollands toe te ken. Op 27 Mei 1881 is petisies met 5 000 name by die parlement ingedien met die versoek om Hollands tot die Kaapse parlement toe te laat.

'n Eerste voorstel met dié strekking is egter in 1881 verwerp. Daarna is nog petisies ingestuur en op 30 Maart 1882 het Hofmeyr weer sy voorstel ingedien. Op 9 Junie 1882 is Hollands naas Engels vir die parlement erken. Wet No 38, wat ook Wet 1 van 1882 was, het bepaal dat die debatte en besprekings in die Legislative Council en die House of Assembly waargeneem sal mag word "either in English or Dutch, but in no other language" (Eybers 1918:66). In die volgende paar jaar het Hollands nog 'n paar regte in die kolonie gekry. 'n Nuwe onderwyswet het die bepaling van 1865 herroep wat die gebruik van Engels as voertaal in skole verplig het. In die praktyk het Engels die voertaal gebly omdat die offisiële taal Engels was en die eksamenliggaam, die University of the Cape of Good Hope, slegs Engels as eksamentaal vir skooleksamens toegelaat het.

In die Zuid-Afrikaansche Republiek het 'n wet van 1888 bepaal: "De Hollandsche taal is de officieele taal des lands." In die Oranjevrijstaat was Hollands van 1854 af die "hoofdtaal". In vele opsigte was Hollands slegs in naam die amptelike taal. Hollands het gedien as "'n stut" vir Afrikaans. Dié woorde het die Patriot op 14 September 1877 gebruik: die "Afrikaanse boom" het Hollands "vereers nodig as 'n stut, totdat hy sterk genoeg is om alleen te staan" (Du Toit:125). Amptelike "Hollands" was in die praktyk dikwels Afrikaans. Op die tweede Afrikaanse Taalkongres in 1897 het Du Toit gesê: "Engels en Hollans is reeds as offisi'ele tale erken. Holl. mar het di naam en Afrikaans di daad, want in die Volksrade en Parlement word ni Hollans nie mar Afrikaans gepraat. Di skoolmeester gebruik oek Afrikaans" (Taalkongres 1897:7).

Die Hollandse beweging het 'n goeie slag geslaan toe een van die belangrikste figure in dié beweging, dr. Nico Mansvelt, gewese dosent in moderne tale in Stellenbosch, as Superintendent van Onderwys in Transvaal aangestel is. Hy het gekom in die plek van S.J. du Toit, wat terug is Paarl toe. Mansvelt het die Transvaalse onderwysbeleid van Hollands as onderwystaal streng uitgevoer, maar kon nie verhinder dat Afrikaner-onderwysers Afrikaans pleks van Hollands gebruik het om les te gee nie. Vooraanstaande Afrikaners was lid van die Zuid-Afrikaansche Taalbond, wat in 1890 gestig is om Hollands te bevorder. Die mondstukke van die bond was Het Zuid-Afrikaansche Tijdschrift (1878-1893), Jong Zuid-Afrika (1893-1896) en OnsTijdschrift (1896-1901).

Ook ná die pioniersjare van die GRA het Nederlanders betrokke gebly by die opbou en verdediging van Afrikaans. Een van die belangrikste skrywers van die 19de-eeuse taalbeweging was Jan Lion Cachet. Hy en sy broer Frans (bekend as die eerste NG leraar in Transvaal) was kinders van gekerstende Amsterdamse Joodse ouers. In Januarie 1861 het hy na Suid-Afrika gekom, was 'n paarjaar onderwyser in die Kaapkolonie en het predikant in die Gereformeerde Kerk geword. Nadat hy 'n paar gemeentes bedien het, word hy dosent in voorbereidende vakke aan die teologiese skool van die Gereformeerde Kerk op Burgersdorp. Van 1894 af was hy permanent professor - en het hy die volle predikante-opleiding van die Gereformeerde Kerk behartig.

In die 1890's was hy die skrywer van die rubriek "Zwart pilletjies" in die Patriot waarin hy sy "medisyne" gee vir die nasionale siektes. Hy het onder verskillende name geskryf; volgens Spoelstra (1968:152) was dit Ou oom Jan, Pastor, Junior, Neef Jan, Neef Jan wat versies maak Jan die versiemaker, N.N. en nog meer. Hy is veral bekend vir sy Duiwel-boekies - Di geldduiwel in 1882, Di liegduiwel in 1883, Di praatduiwel in 1884 en Di spogduiwel in 1892. Hierdie boekies, en ook die lateres wat in Ons Klyntji verskyn het, is in 1907 in een bundel uitgegee: Sewe duiwels en wat hulle gedoen het. Sketse uit die Afrikaanse buitelewe. Vir die Patriot het hy ook Die geskiedenis van die Hugenote van die jare 1521 tot 1789 geskryf. Dit is in 1886 in Afrikaans en Nederlands gepubliseer. Sy allegoriese vers, "Di Afrikaanse Taal", is in 1869 gedig, maar is eers in 1896 in Ons Klyntji geplaas (Spoelstra 1968:152).1

Op die eerste taalkongres in die Paarl in Januarie 1896 het Cachet die heildronk op die nuwe tydskrif Ons Klyntji ingestel - wat hy volgens die berig in die Patriot op "seer luimige wyse" gedoen het: "Di Kleintji wat van dag gebore is, is 'n Kleintji wat hy al lang verwag het (gelag): want hy het di noodsakelikheid ingesien dat ons Afrikaanse volk ook Afrikaanse leesstof moet hê" (Taalkongres 1896:15).

Op dieselfde taalkongres het nog 'n professor opgetree. Dit was W. S. Logeman, professor in Hollands aan die South African College in Kaapstad en een van die weinige vroeë taalkundiges wat Afrikaans ernstig opgeneem het. Die tweede druk (in 1899) van sy How to speak Dutch bevat 'n handleiding oor Afrikaans (Van der Merwe 1968:500). Volgens een van sy oudstudente, M.E. Rothman, die skryfster M.E.R., was dit vir Logeman 'n voorreg om met Afrikaans, "'n taal in wording", in aanraking te kom. "Ek onthou hoe hy daaroor uitgewei het; hoe hy belang gestel het in die uitdrukkings wat ons gebruik het - want ons het vrae en antwoorde, mondelings, in ons eie Afrikaans gedoen. [ . . . ] Ek kan nou nog die geamuseerde glimlag sien op die gesig van die student langs my oor die 'ou' se uitvra, want dit het nie regtig by ons opgekom dat Afrikaans werklik 'n taal was nie. [ . . . ] Ek sal nooit vergeet dat professor Logeman die eerste gesaghebbende was wat met agting en belangstelling oor my taal gepraat het; dit het toe al 'n baie diep indruk op my gemaak" (Steyn 2004:43).

Ten minste een taalkundige in Nederland het gemeen dat al die pogings om Hollands in Suid-Afrika te bevorder, tot mislukking gedoem was. D.C. Hesseling, 'n gesaghebbende oor die diglossie-situasie in Griekeland, betoog in 1897 in De Gids dat Afrikaans ontwikkel het tot 'n selfstandige taal. Die Nederlandse spreek- en skryftaal het vir die Afrikaner 'n vreemde taal geword, wat hy wel gemakliker kan aanleer as 'n ander taal, "maar die nimmer voor hem de taal zal worden waarin hij zijn eigen zieleleven kan uitdrukken". Daar is wel Afrikaners wat wetenskaplike geskrifte in suiwer Nederlands opstel, en dis nie ondenkbaar nie dat die getal sterk sal toeneem wat in offisiële stukke, handelsbriewe en dergelike 'n suiwer Hollands sal leer gebruik - net soos Nederlanders in verskeie tale kan korrespondeer. Dit sal Afrikaners maklik val om die taal van die ou moederland te leer skryf.

"Dit alles heeft met literatuur niets te maken [...] Wat ik niet voor mogelijk houd, wat naar mijne meening nog nooit is geschied en nimmer geschieden kan, dat is, dat een schrijftaal die van buiten is aangevoerd en door een kloof van twee eeuwen gescheiden is, van de gesproken taal, ooit het voertuig kan worden van een nationale letterkunde, het eenige betrouwbare bolwerk tegen de veldwinnende macht van het Engelsch. Spreektaal en schrijftaal vallen bij geen enkel volk geheel samen, en ook waar de scheiding tusschen deze twee grooter is dan wij zouden wenschen kan er sprake zijn van een literatuur die voor het geheele volk is, maar ook zulk een meer conventioneele schrijftaal is toch altijd ontstaan uit een spreektaal, en de kunstenaar die zich van haar bedient zal ons alleen treffen wanneer hij zich dat verband bewust blijft, want kunst is innigheid. Er is naar mijn vaste overtuiging maar één middel om zulk een nationale letterkunde mogelijk te maken: het schrijven der volkstaal."

Hesseling het dus duidelik ingesien wat een van die oogmerke van die taalbeweging was, naamlik om die doeltreffendste instrument teen verengelsing te vind: 'n moeilike aangeleerde taal kan dit nie wees nie. Slegs die spreektaal kan die taal van die hart wees en die volk aangryp. Hesseling het hom skerp uitgelaat oor die houding van die Nederlandse taalkundige Jan te Winkel, wat die "Patriottenpartij" gevra het om nie 'n taal in te voer wat in niks anders sy krag kon soek nie, "dan in de gemakzucht der minst ontwikkelden onder de boeren". Waarop Hesseling verontwaardig opmerk: "Hoe kan men zoo iets zeggen van de waarachtige taal van een volk!" (Hesseling 1897:157-159).

'n Onregstreekse bydrae tot die bevordering van Afrikaans is gelewer deur die gewilde 19de-eeuse Hollandse skrywer D'Arbez. Hy was wel 'n gebore Afrikaner, maar het sy skoolopleiding in Nederland gehad. D'Arbez was die skuilnaam van J.F. van Oordt. Sy moeder, Susanna, was 'n dogter van A.N.E. Changuion. D'Arbez het die beginsels van die GRA goedgekeur, maar wou hom nooit daarby aansluit nie. Die tyd vir 'n Afrikaanse skryftaal was vir hom nog nie ryp nie. Sy Mooi Annie en Dawid Malan was van die mees gelese boeke onder die 19de-eeuse Afrikaners. Hy het in 'n eenvoudige Hollands geskryf wat lesers maklik kon verstaan. 'n Letterkundige, Elizabeth Conradie meen dat die "Hoog-Hollandse Taalparty" in hom sy allergrootste steun gehad het. "As tolk van die verlede het hy 'n Hollands gebesig wat hom so ver as moontlik na die volkstaal gerig het en daardeur het hy sy mede-Afrikaners leer lees soos niemand voor hom nie en weinige na hom." Buite die bestek van hierdie artikel val die Afrikaner-skrywers wat belangrike werke in Nederlands gelewer het soos T.F. Burgers, Nico Hofmeyr, J.D. Kestell en selfs genl. De Wet (laasgenoemde in De strijd tusschen Boer en Brit).

 

3. DIE 20STE-EEUSE TAALBEWEGING

Ná die Anglo-Boereoorlog (1899-1902) het Nederlanders en Vlaminge in Europa, maar ook Nederlanders in Suid-Afrika, 'n belangrike aandeel gehad aan die taalstryd wat moes voorkom dat Afrikaans as spreektaal en Hollands as onderwystaal verdring word deur Engels. Ná 1902 was Engels die offisiële taal en die onderwystaal. Transvaal het sy naam behou maar die Oranjevrijstaat het die Orange River Colony (ORC / ORK) geword. Die Hollandse koerante soos De Volksstem moes publikasie in die oorlog staak.

Lord Alfred Milner, sedert 1902 Britse goewerneur van Transvaal en die ORK, was gekant teen enige regte vir Hollands in die nuwe kolonies. Hy was ten gunste van die verdwyning van die Afrikaners as "separate, exclusive caste" deur verengelsing (Headlam 1933:205; Scholtz 1978:140). Dieselfde soort boodskap het ook Joseph Chamberlain, Britse minister van kolonies, verkondig op 'n reis wat hy vroeg in 1903 saam met Milner deur die kolonies onderneem het. Op Grahamstad was sy boodskap duidelik: laat los jul taal en word Engelse. "You must feel . . . that any aspirations for a separate Dutch identity . . . are absurd and ridiculous" (Scholtz 1978: 268).

Hierdie Engels-nasionalistiese beleid en die uitvoering daarvan het 'n Afrikaanse nasionalisme laat ontstaan wat die behoud van die Afrikaners as 'n volk met 'n eie taal as sy oogmerk gehad het. Die Nederlandse bystand het die taalstryders op veral twee terreine gehelp: die onderwys en die pers.

3.1 Nederlanders se bydrae tot die taalstryd in die onderwys

Die taalstryd in die Transvaalse skole het kort na die einde van die oorlog begin. Zietsman (1992) beskryf in besonderhede die ontstaan en geskiedenis van die Christelik Nasionale Onderwys (CNO). Die inisiatief is geneem deur 'n aantal Nederlandse onderwysers wat in die Zuid-Afrikaansche Republiek skoolgehou het en tydens die oorlog in broodgebrek gedompel is. Om die nood te verlig, het ses van hulle in Junie 1901 De Vriendenkring in Pretoria gestig. Die lede van die kring het die haglike lot van hul kollegas bekla in 'n brief aan H.J. Emous, 'n yweraar vir Hollandse onderwys in Transvaal. Hy het gereël dat geld uit Nederlandse fondse aan dié onderwysers oorbetaal word. Deur die noodleniging het De Vriendenkring teen die einde van die oorlog met sowat vyftig onderwysers kontak gehad, en hulle het verwag dat dié getal met tientalle kon groei namate die wat op kommando was, ná die oorlog terugkeer. Dit het die Vriendenkring op die gedagte gebring om die Hollandse onderwys te laat herleef, mits die geld daarvoor in Nederland gevind kon word. Sulke skole het toe inderdaad tot stand gekom.

Die Transvaalse Afrikaners was van vroeg na die oorlog af ontevrede oor die regeringskole, onder meer oor die miskenning van Hollands. In Januarie 1903 het die Hoofdcommissie voor Christelijk Nationaal Onderwijs tot stand gekom, wat alle werksaamhede oorgeneem en 'n permanente sekretaris gehad het. De Vriendenkring het sy gesag aan dié kommissie oorgedra. Die kommissie het die gelde uit Nederland en ander bronne ontvang, subsidies toegeken, algemene riglyne neergelê vir skole wat daarby ingeskakel was, oor die standaard gewaak en inspeksies gereël. Zietsman (1992:114) sê: "Die betekenis van De Vriendenkring het daarin gelê dat hy die bal aan die rol gesit het, en sonder die idealisme van dié onderwysers (Hollanders en Afrikaners), wat dikwels eiebelang opsygeskuif en veel ontbeer het, sou die CNO in die na-oorlogse Transvaal nie die mas opgekom het nie. Hul vergoeding was karig, hul bestaan onseker, en hul geringe salarisse is dikwels nie eers betyds betaal nie."

Hoewel Hollanders die baanbrekerswerk gedoen het, was daar in Februarie 1903 ook heelparty Afrikaners in 'n lys van 63 hoofde van CNO-skole in Transvaal. Die vroeë begin van die CNO was 'n belangrike rede vir die bloei en voortbestaan daarvan. Die beweging was in Transvaal, met sowat 6 000 leerlinge, reeds volgroei voordat die Vrystaters in Desember 1903, ná vergeefse onderhandelinge met die regering, besluit het om private skole te stig.

Steun het van Afrikanervriende in Nederland gekom deur middel van veral die Nederlandsch-Zuid-Afrikaansche Vereeniging (1881), en Het Algemeen Nederlandsche Verbond, wat in die 1890's gestig is om Nederlanders in alle dele van die wêreld as taal- en kultuurgemeenskap saam te bind, met takke in Nederland, Vlaandere, Nederlands-Indië, Noord-Amerika en Suid-Afrika.

'n Deel van die geld wat drie Boeregeneraals, Christiaan de Wet, Koos de la Rey en Louis Botha, ná die oorlog op 'n Europese reis ingesamel het, het ook vir onderwys gegaan. Van die £110 000 wat tot in 1904 ingekom het, is £40 000 daarvoor afgestaan: £28 000 vir Transvaal en £12 000 vir die ORK. Zietsman (1992:126) sê dat, hoewel die Boeren Hulpfonds maar 'n betreklik beskeie bedrag gelewer het, dit vir die "Transvaalse Afrikanersaak 'n betekenis gehad het wat nie in geld uitgedruk kan word nie. Dit het gehelp dat die Afrikanergevoel en -taalbewustheid in die donker naoorlogse tyd nie uitgedoof word nie."

Deur die ywer van die kerke, die Commissie voor de CNO, die Boereleiers, CNO-onderwysers en koerante soos De Volksstem en Het Westen, het daar sedert die einde van 1902 'n netwerk van CNO-skole in die dorpe en distrikte van Transvaal ontstaan. Daar was in 1904 altesaam 172 CNO-skole met 286 onderwysers en 6 958 kinders in Transvaal, en in 1905, 228 skole, 419 onderwysers en 9 335 kinders. In vergelyking met die staatskole was dit nie indrukwekkend nie. In Junie 1905 was daar 29 456 leerlinge in die staatskole. Maar die staatskole kon leerlinge trek met gratis onderwys, skoolboeke, losies en reistoelaes, terwyl die CNO-skole gewurg het weens die ouers se armoede. Milner en die Engelse pers was ontstem oor die vordering van CNO. Die strewe "to preserve the 'taal' from extinction and maintain the burgher population as a separate people" was vir The Star teken van 'n diepgewortelde politieke vooroordeel.

3.2 Nederlandse bydrae tot die herlewing van die Hollands-Afrikaanse pers

Een geluk wat die Afrikaners getref het, was dat hulle geld kon verkry om die Hollands-Afrikaanse pers te laat herleef. Dit was 'n deel van die fondse van die Zuid-Afrikaansche Republiek. Geld wat voor en gedurende die oorlog na Europa oorgeplaas is, is in die geheim deur dr. W.J. Leyds na Suid-Afrika gesmokkel. Hy was voor en in die oorlog die Transvaalse gesant in Europa en die geld is daarheen gestuur om die ZAR se belange te bevorder. Ná die oorlog is die oorblywende geld na die Boereleiers gestuur vir nasionale doeleindes - CNO-skole en die heroprigting van koerante. Vanuit Engeland het Joseph Chamberlain alles in sy vermoë gedoen om hierdie geld te bekom. 'n Wydvertakte Britse geheime diens in Europa het briewe tussen Boerevriende onderskep en die Milner-bewind op die hoogte gehou met sommige van die stappe wat Leyds gedoen het om die geld aan genls. Louis Botha en Jan Smuts in Pretoria te besorg om die Afrikanersaak te bevorder (Muller 1990:21-22).

Die vernaamste koerant wat steun ontvang het, was De Volksstem wat in 1900 ná die Britse inname van Pretoria gestaak is. Ná heelwat aanvanklike teëwerking deur Milner het De Volksstem (vanaf 1 Januarie 1905 af De Volkstem) in Maart 1903 publikasie hervat met F.V. Engelenburg weer as redakteur. Toe Abraham Fischer, uit Bloemfontein deur middel van Botha en Smuts, 'n beroep op Leyds doen om bystand aan The Friend te verleen, het hy £8 000 gekry. (Fischer, Hertzog en 'n groep ander Afrikanergesinde Bloemfonteiners het die blad in 1903 oorgeneem.) Met hierdie geld is De Vriend, die Hollandse deel van The Friend, verander in 'n nuwe afsonderlike halfweeklikse koerant De Vriend des Volks (van 3 Oktober 1905 af).

De Volkstem en De Vriend des Volks was twee van die belangrikste koerante wat Afrikaans van 1905 af gepropageer het. Preller het sy beroemde reeks artikels onder die opskrif "Laat 't ons toch ernst wezen!" van 19 April tot 14 Junie 1905 in De Volkstem laat verskyn. Preller het gematigdheid en redelikheid bepleit: totdat Afrikaans algemeen geskryf word, wou hy hê: "Afrikaans schrijven en spreken, Hollands leren, albei lezen." Toe Preller se betoog in 1905 as brosjure verskyn (Laat t ons toch ernst wezen! Gedachten over een Afrikaanse schrijftaal), was Engelenburg verantwoordelik vir die voorwoord.

Ds. Willem Postma, leier van die Vrystaatse beweging, het sy manifes onder die skuilnaam Jong Afrika van 2 Junie 1905 af in De Vriend des Volks gepubliseer. Hy het volgens Nienaber en Heyl (1960:ii-iii) die stukke geskryf sonder om bewus te wees van Preller se artikels.

Preller het Afrikaans ook probeer bevorder met toneelopvoerings. Die eerste toneelstuk wat hy vir die Afrikaans-Hollandse Toneelvereniging (AHTV, gestig in 1907) opgevoer het, was Ou' Daniel van Harm Oost. Oost was 'n jong kollega van Preller by De Volkstem - 'n gebore Nederlander wat in die oorlog geveg het. Die opvoering het groot byval in die pers gevind. By opvoerings van die AHTV het Preller en Oost die gehoor aangemoedig om Afrikaans te bevorder deur toneelgeselskappe te stig - en sulke geselskappe is op Potchefstroom, Germiston, Ermelo en Heidelberg gestig. Oost was later die redakteur van Ons Vaderland en sy voorgangers, Die Week en Het Volk.

Een van die koerante wat met die ZAR-geld tot stand gekom het, het in 2014 nog bestaan. Dit is Volksblad, wat in 1904 op Potchefstroom deur Hendrik de Graaf as Het Westen begin is. De Graaf, 'n gebore Nederlander, wat vrywilliger in die oorlog was, is by Elandslaagte gevang en na St. Helena gestuur. Ná sy vrylating is hy na De Volkstem en het saam met B.P. Landa op 4 Oktober 1904 'n drukkery op Potchefstroom begin. Hier het die eerste uitgawe van Het Westen, 'n weekblad, op Vrydag, 18 November 1904 sy verskyning gemaak. Die twee stigters en die eerste redakteurs was St. Helena-ballinge wat mekaar in die Deadwood-krygsgevangenekamp leer ken het. Die redakteurs was Paul G. Das, Adam J. Boshoff en B.G. Versélewel de Witt Hamer. Op Boshoff ('n Vrystater) ná was almal Nederlanders. Een berig in die eerste nommer handel oor besoeke wat dr. J.D. du Toit (Totius) aan verskeie CNO-skole gebring het. Solank sulke skole bestaan, het hy die ouers verseker, sal die Afrikaanse volk nooit ondergaan nie. 'n Belangrike medewerker, ook van ander koerante en tydskrifte, was die gebore Nederlander Jan Kamp, wat later professor aan die lettere-afdeling van die teologiese skool van die Gereformeerde Kerk op Potchefstroom geword het.

In 1907 het De Graaf boeke begin uitgee. Die verskuiwing van die teologiese skool van die Gereformeerde Kerk van Burgersdorp na Potchefstroom in 1907 het hom goed te pas gekom. De Graaf het bevriend geraak met leidende figure van die Gereformeerde Kerk, soos J. Lion Cachet, Kamp en Totius. Dit het De Graaf die geleentheid gegee om by sulke skrywers manuskripte te werf. In 1907 het hy die reeds vermelde 19de-eeuse treffer heruitgegee: Sewe duiwels en wat hulle gedoen het van "Ou Oom Jan". Die eerste digbundel van die 20ste-eeuse beweging, Bij die monument van Totius, is in 1908 deur De Graaf van "Het Westen"-Drukkerij gedruk.

Dié drukkery en uitgewery was net so 'n baanbreker soos D.F. du Toit & Co. wat soveel boeke van die 19de-eeuse beweging uitgegee het. "Het Westen"-Drukkerij het 17 van die 33 Afrikaanse poësie- en prosawerke uitgegee wat tussen 1907 en 1915 in Afrikaans verskyn het. Die res was by sewe ander uitgewers. "Het Westen"-Drukkerij se uitgawes was goed versorg, is goed geadverteer en is teen lae pryse verkoop. De Graaf het 'n paar vakmanne uit Nederland laat kom. Een van hulle, C. Snoek, was later werkbestuurder van die Nasionale Pers in Bloemfontein en Kaapstad. Ná die verandering van die naam van Het Westen na Het Volksblad was die Afrikaanse Woordelys en Spelreëls een van sy belangrikste publikasies.2

Die hulp aan die CNO-skole en die kanalisering van ZAR-geld na Afrikanerleiers was die praktiese, stoflike, kant van die Nederlandstalige betrokkenheid by Afrikaners ná die Anglo-Boereoorlog. Daarnaas was daar morele steun. Die Afrikaners het geweet dat hulle nie alleen staan nie. Verder kon hulle inspirasie vir die taalstryd kry deur berigte oor die volharding van die Vlaminge in húl stryd (3.3). Ook het Nederlandse geleerdes die Afrikaans-aktiviste in hul strewe gesterk deur die bruikbaarheid van Afrikaans en die onbruikbaarheid van Hollands in die Afrikaanse letterkunde, asook die waarde van die eerste Afrikaanse werke, te beklemtoon (3.4).

3.3 Inspirasie uit die Vlaamse beweging

Taalstryders soos Onze Jan Hofmeyr en Gustav Preller het in hul pleidooie melding gemaak van die weerstand van ander taalgemeenskappe teen assimilasie: Walliessprekendes in Engeland, Franstaliges in Kanada, die Pole in Rusland en Pruise, die Serwiërs, Boelgare, Roemene en Grieke onder Turkse heerskappy. Die taalstryders het veral gemeen dat hulle iets kon leer by die Vlaminge. 'n Berig onder die opskrif: "Taalstrijd in Belgie" in Het Westen (31 Oktober 1913) begin byvoorbeeld só: "Er valt voor Afrikaners heel wat te leren uit de strijd die hun Vlaamse stamverwanten te voeren hebben tegen onwil van tegenstanders en onverschilligheid onder de Vlamingen zelf."

Ten tyde van die stryd oor die voertaal aan universiteite het die Afrikaans-Hollandse koerante telkens berig oor die stryd vir 'n Vlaamse universiteit. 'n Akademikus wat deelgeneem het aan die taalstryd in Vlaandere was een van die sprekers op 'n konferensie in April 1911 op Stellenbosch. Sowat 70 afgevaardigdes van 21 inrigtings, onder meer die universiteitskolleges in Stellenbosch, Wellington, Pretoria, Potchefstroom, Bloemfontein en Kaapstad, was teenwoordig. Onder die sprekers was bekende figure soos F. W. Reitz, prof. Adriaan Moorrees, dr. D.F. Malan, predikant van Moorreesburg, genl. Christiaan Beyers en prof. Willem Blommaert, 'n Vlaamse taalstryder. Blommaert het 'n uiteensetting gegee van die ontstaan en ontwikkeling van die Vlaamse taalbeweging en die rol wat die studente daarin gespeel het. Volgens Pieter Kapp (2011) sou die Vlaamse invloed op die studente dikwels duidelik blyk. In daardie stadium was die doseer- en eksamentaal aan alle Suid-Afrikaanse onderwysinstellings uitsluitlik Engels. Die studente se eerste besluit het gelui dat hulle oortuig voel dat die tyd gekom het om voorsiening te maak vir universiteitseksamens in Hollands.

Ons Land het op 25 September 1913 'n artikel deur Lodewijk de Raet oor die volkstaal en die universiteite oorgeneem. Hy was een van die intellektuele leiers van die Vlaamse beweging tussen 1891 en 1914. Dit was sy mening dat die Vlaamse beweging net deur 'n Vlaamse universiteit sy eindbestemming sou bereik, want alleen van die vervlaamsing van die hoër onderwys kan 'n mens die verdere ontwikkeling van die Vlaamse volkskrag verwag. Die Vlaamse universiteit is 'n simbool van verstandelike bevryding omdat dit regstreeks en onregstreeks kan help om Vlaandere se volkskrag te versterk en die kultuurwaardes van Vlaandere ten volle te ontwikkel. Dit was woorde wat ook indruk op die stryders vir Afrikaanse universiteite gemaak het.

Die taalstryders was ingelig oor die een groot verskil tussen die Afrikaanse en die Vlaamse beweging. Preller betoog in De Volkstem (31 Oktober 1914): "Ons mag baje leer van die Vlaminge, baje meer als van enige ander volk wat, soos ons en soos hulle, strijdvoer vir ons taal. Ons mag leer om standvastiger te wees, soos hulle, aanhoudender te werk, kragtiger te werk, stelselmatiger te werk. Ons mag leer om opelik uit te kom vir ons goeie saak, [...] inplaas van weg te kruip agter utiliteit en politiek." Maar, sê hy verder, daar is alleenlik 'n belangrike verskil wat betref die keuse van 'n kultuurtaal, en in dié opsig kan Afrikaners nie soos die Vlaminge optree nie.

Van hierdie "belangrike verskil" kon die voorstanders van Hollands dankbaar gebruik maak. In 1914 het Louis Franck, 'n lid van die Belgiese parlement, 'n besoek aan Suid-Afrika gebring op weg na die destydse Belgiese Kongo. Franck, 'n boeiende spreker, het in sy toespraak onder meer verwys na die "partikularisatie", wat ook 'n probleem was in Holland, Italië, Griekeland en Vlaandere. In Vlaandere het die werklik groot skrywers gevoel dat hulle moet put uit die algemene taalskat, uit Nederlands, dus. Luidens die verslag van sy toespraak in Ons Land van 25 Julie 1914 het hy gesê dat hierdie kunstenaars hul "gewest.-spraak" gaan veredel en opgevoer het tot "praktiese Nederlands". "Zij hebben daarmee de taalschat van het Nederlands verrijkt doch hebben zich aan vele hunner kernachtige uitdrukkingen gehouden".

Sy opmerkings is deur die voorstanders van Hollands aangegryp, en daarop het J.J. Smith gereageer. Hy het kort tevore professor in Duits en Frans aan die Victoria-kollege (voorloper van die Universiteit van Stellenbosch) geword en was een van 'n groepie jong taalstryders wat in daardie jaar met die nuwe tydskrif, Ons Moedertaal, begin het. Hy skryf dat Franck wel geen vergelyking tussen Suid-Afrika en België getref het nie, maar dat die sinspeling duidelik was. Dit was dan ook geen wonder nie "dat die teenstanders van die Afrikaanse Taalbeweging, diep getref deur die welsprekendheid van die Belg, met ope arms na die vergelyking gegryp het".

Smith gaan dan in op die verskille tussen die twee lande. Hy haal die taalkundige Jac. van Ginneken aan wat skryf dat die Belgiese dialekte vir duisende dinge en handelinge elkeen 'n afwykende woord het wat nie algemeen gangbaar is nie. Daarteenoor staan altyd die Franse term wat oral verstaanbaar is. Om 'n konkurrent daarteen te hê, word na die Noord-Nederlandse woord gegryp, wat houvas gee. Afrikaans, daarenteen, word in alle dele van die land met 'n verbasende mate van eenvormigheid gebruik. Oor die basis van die Afrikaanse skryftaal hoef ons nie te stry nie, want van konkurrerende dialekte kan ons gelukkig nog nie praat nie, sê Smith (1914:27).

Hy het ook uitgewei oor die relevansie van Engels. Hy het gesê dat "ons hier te stry het teen 'n taal wat geen woordgeslag en geen ingewikkelde verbuigings en vervoegings ken nie". Die Nederlandse taal kan heel goed stand hou teen Frans in België, want die Franse taal ken ook woordgeslag en besit ook 'n besonder ingewikkelde vervoeging van sy werkwoorde; "maar dit ly geen twyfel nie dat als Engels en Nederlands op gelyke voet teenoor mekaar kom te staan, laasgenoemde die onderspit sal moet delwe" (Smith 1914:27).

3.4 Nederlandse bydrae tot die argumente vir Afrikaans

Die taalstryd was nog aan die gang toe afgevaardigdes van die vier Britse kolonies - die Kaap-kolonie, Natal, ORK en Transvaal - byeengekom het om 'n grondwet op te stel vir 'n verenigde Suid-Afrika. Taal was een van die brandende kwessies vir die Nasionale Konvensie, wat die grondwet moes opstel. Vir die Afrikanernasionaliste van veral die ORK was Uniewording slegs aanvaarbaar indien hul taal saam met Engels amptelike erkenning sou verkry. Genl. J.B.M. Hertzog en pres. M.T. Steyn was daarvoor verantwoordelik dat Dutch wel op 20 Oktober 1908 as een van die twee amptelike tale erken is. Afrikanerpolitici en taalstryders het in Januarie 1909 in Kaapstad ooreengekom dat Hollands die gepaste term is waarmee die naam Dutch vertaal sou word omdat dit sowel Afrikaans as Nederlands insluit. Die keuse van Hollands was 'n kompromis. Veral in Kaapstad en Stellenbosch was die stryd tussen die voorstanders van Nederlands of Afrikaans nog nie verby nie. Hierdie betekenis van Hollands is behou met die stigting van De Zuid-Afrikaanse Akademie voor Taal, Letteren en Kunst op 2 Julie 1909 in Bloemfontein. Sy doel was die bevordering van die "Hollandse Taal en Letteren" en die Suid-Afrikaanse geskiedenis, oudheidkunde en kuns. In die statute is verklaar dat onder Hollands verstaan word "de beide taalvormen gebruikelik in Zuid-Afrika". Die Unie van Suid-Afrika het op 31 Mei 1910 tot stand gekom. Dit sou egter nog baie lank duur voordat die grondwetlike taalbepalings in die praktyk toegepas is.

En bowendien: watter van die twee soorte Hollands sou seëvier? Verskeie faktore was vir die oorwinning van Afrikaans verantwoordelik. Só het 'n hele aantal geleerde mense in die groot sentra die Afrikaanse beweging gesteun, terwyl Afrikaans in die 19de-eeuse beweging die simpatie en medewerking van 'n klein groepie, hoofsaaklik in die Paarl, geniet het. Ná Preller se artikels het volksleiers soos pres. Steyn, genl. De Wet en genl. Louis Botha, asook joernaliste, predikante en regsgeleerdes, aan De Volkstem laat weet dat hulle saamstem met die strekking van Preller se artikels.

Die feit dat so min Afrikaners skool geniet het, of anders deur medium van Engels opgelei is, het ook teen Hollands gewerk: Hollands was "moeilik" en Afrikaans het "vanself' gekom. En veral het die eerste gedigte in Afrikaans 'n groot oortuigingskrag gehad. 'n Bykomende rede was dat dit indruk op Afrikaners gemaak het dat ook Nederlandse geleerdes die bestaansreg en waarde van Afrikaans as skryftaal ingesien het.

Die koerante het hul lesers getrou op hoogte gehou van steun en simpatie van Nederlandse geleerdes. Miskien was die verslaggewing eensydig, omdat die pers nie altyd bewus was van die geleerdes wat die reeds aangehaalde afkeuring van Jan te Winkel gedeel het nie. In 1930 het Leyds met ontsteltenis kennis geneem van die verafrikaansing van die pers, dit "verderfeliik" genoem en Engelenburg veroordeel as een van die "taal-bedervers" (Muller 1990:400, 793).

Telkens het Afrikaanse geleerdes en publikasies na die buitelandse menings verwys wat met hul siening ooreengestem het. D.F. Malherbe het in 1906 in 'n lesing op Wellington gesê dis "aanmoedigend" dat Hollandse geleerdes soos Hesseling, dr. Kiewiet de Jonge, dr. J.B. Scheepers, dr. R.A. Kollewijn en vele ander "sig só ruiterlik ten gunste van Afrikaans verklaar". Hy haal aan wat O. Kamerlingh-Onnes (redakteur van Het Algemene Nederlandsche Exportblad van Amsterdam), op 'n taal- en letterkundige kongres in Brussel gesê het: "Dat die Afrikaner aan Hollands vashou, is prysenswaardig, dat hy sterk Hollands gesind te werk gaan, by die wording van sy Afrikaanse taal - wie van ons sal dit nie hoog waardeer nie? Maar die nasionale taal vir Suid-Afrika is Afrikaans! En op óns veral, stamverwante in Noord- en Suid-Nederland, rus die dure plig, om die erkenning van Afrikaans as skryftaal in Suid-Afrika te bevorder (Nienaber & Heyl II 1960:79).

Kamerlingh-Onnes het ook gesê dat pogings om Nederlands aan Suid-Afrika op te dring by voorbaat 'n mislukte onderneming is. De Waal (1939:171) skryf dat hy nie daaraan twyfel nie dat Kamerlingh-Onnes "meer as een Afrikaner-leser beïnvloed, ja beskaam het". Die eerste tydskrif van die 20ste-eeuse taalbeweging, Die Brandwag, maak op 1 Junie 1912 met genoeë melding van "Nederlanders van naam en gesag wat aan onse Afrikaanse taal alle reg, en alle reg van bestaan, laat wedervaar het", en noem die name van H. Kern, Jac. van Looy, Albert Verwey, proff. P.J. Blok, C.B. Spruyt, A. Kluyver en W.G. van Nouhuijs.

Die grootste verdediger van Afrikaans was Hesseling, wat telkens vir die taal in die bresse getree het in Nederlandse vaktydskrifte en weens sy kennis van diglossie in Griekeland, besef het dat nie alleen rasionele argumente nie, maar ook die gevoel medebepalend is vir die keuse van 'n kultuurtaal en dat die "macht van het dichterlike woord ... uit het hart komt". In een van sy artikels (Hesseling 1922) onder die titel "Is het Afrikaans een beschaafde taal?" reageer Hesseling, sonder om die naam van die betrokkenes te noem, op mense soos Carel Scharten, wat Afrikaans lelik genoem het: "verminkte en verharde tongval", "doofstommen-taaltje", "gebarste viool", en geskryf het dat, as daar "in Transvaal" eenmaal "een dichter van betekenis" sou opstaan, hy hom "zou willen bezweren zijn schoonheid te geven in het Engelsch."

Die Volkstem het 'n berig geplaas onder die opskrifte: "Afrikaans in Holland / Hollandse professore en doktore met ons saam." In die berig word melding gemaak van die steun van H. Kern, beroemde oriëntalis en tot kort tevore voorsitter van die hoofbestuur van die Algemeen Nederlandsch Verbond, wat "in volkome simpatie is met die strewe en beweging om van Afrikaans die skrijftaal van die Afrikaners te maak". De Volkstem het aangehaal wat R.A. Kollewijn, propageerder van die Vereenvoudigde Nederlandse Spelling, verklaar het: "Dit kom my voor dat niks die Afrikaners só kan verbind, sóseer hul selfvertroue kan sterk nie, as die besef dat hul Afrikaans nie 'n minderwaardige dialek is nie, waarvoor hulle hul eintlik moet skaam nie, maar die taal van 'n volk, 'n taal wat gepraat, geskryf word met dieselfde reg waarmee die Nederlander hom van Nederlands, die Engelsman hom van Engels bedien."

Al hierdie uitsprake was vir die kampvegters van Afrikaans 'n riem onder die hart. Feitlik elke nuwe boek in Afrikaans was 'n argument vir die verowering van die een of ander terrein vir Afrikaans. Ook het daar binne enkele jare gedigte soos Eugène Marais se "Winternag" en die eerste bundels van Totius, Jan F.E. Celliers en veral C. Louis Leipoldt verskyn. Baie van hierdie gedigte het die gevoelens en ervarings van die lesers in die oorlog verwoord.

Oom Gert vertel en ander gedigte (1911) van C. Louis Leipoldt was die sterkste van hierdie vroeë digbundels. Die bekende taalkundige C.G.N. de Vooys het volgens De Volkstem van 20 Januarie 1914 geoordeel dat Leipoldt hom meer as enigiemand anders die vaste oortuiging gee van "de levensvatbaarheid van een zuidafrikaanse letterkunde"; "de noodzakelikheid van 't Afrikaans als uitings-middel voor de kunstenaar is metterdaad bewezen".

Dit moes demoraliserend vir die voorstanders van Hollands as skryftaal van Afrikaners gewees het dat hul werke ook deur Nederlandse kenners as van minder waarde beskou is as die Afrikaans van mense soos Leipoldt. Elize Botha haal die mening van De Vooys aan oor die digbundels van begaafde Hollandsskrywende Afrikaners wie se werk getuig van onmag om "tot die hart van die volk" deur te dring. (Dit is die bundels van drie predikantedigters, Zevenjaartjes van A. Moorrees, Pastoriebloemen van G.R. Keet en Uit mijn jonkheid van G.B.A. Gerdener.) De Vooys het in 1913 in De Beweging geskryf: "Hier te lande zullen weinige beoordelaars ... niet zonder aarselen de jonge Afrikaanse dichters verkiezen boven hun 'zuiver-Hollands' schrijvende mede-dichters" (Botha 1980:191). Dit was van die 19de eeu af die swakheid van die Hollandse beweging. Hubertus Elfferink skryf in 1893 in die voorwoord by sy drama Debora: "Het Hollands in Zuid-Afrika kan niet gehandhaafd worden dan door de verspreiding van uit Afrikaanse bodem ontsprongen literatuur" (De Villiers 1936:91). En so 'n literatuur wou maar nie kom nie.

Op 1 Maart 1915 haal Die Brandwag ook 'n artikel van prof. G. Kalff aan waarin hy na aanleiding van Oom Gert vertel skryf: "Een aan Afrikaners opgedrongen Hollands tegenover het Engels te willen stellen schijnt mij van een verkeerd inzicht te getuigen en is bovendien een hopeloze onderneming". In 'n bespreking van Pienaar se werk oor die poësie van die tweede taalbeweging skryf Hesseling dat die boek die oortuiging van Afrikaners en vriende van Suid-Afrika bevestig dat "de geestelike zelfstandigheid van de jonge natie na de vrede van Vereeniging beter gewaarborgd is dan ooit, nu de eigen taal het voertuig is geworden van een letterkunde die, met vertalen begonnen en groter geworden door navolging, hoe langer hoe meer aan eigen krachten genoeg heeft" (1919:313-4).

Vanaf die verskyning van die eerste digbundels dateer 'n houdingsverandering onder Afrikaners teenoor Afrikaans as skryftaal. De Waal skryf op 24 Desember 1910 in Ons Land dat, waar feitlik alle briefwisseling vóór 1906 onder die opgevoede jong geslag in Engels gevoer is, 'n menigte jongmense dit al "in ongekunstelde Afrikaans" doen. "Hulle het ontwaak tot die besef van die verdienstelikheid van hul eië omgangstaal, en, nietteenstaande dat hulle gin Afrikaans op skool geleer het nie, val dit hulle gemakkelik."

'n Belangrike keerpunt na Afrikaans as kultuurtaal was 'n besluit wat die provinsiale rade van drie provinsies in 1914 oor die onderwystaal geneem het. C.J. Langenhoven het in 1914 in die Kaaplandse provinsiale raad voorgestel dat Afrikaans-Hollands as medium gebruik word waar Hollands volgens die wet die voertaal op skool is. Die voorstel is onbestrede aangeneem. Die Oranje-Vrystaat (wat in 1910 sy ou naam teruggekry het) en Transvaal het 'n paar weke daarna dieselfde besluit. Hoewel hierdie besluit nie dadelik uitgevoer is nie, was dit die nekslag vir Nederlands as skryftaal van Afrikaanstaliges.

3.5 Deelnemers aan die opbou van die Afrikaanse kultuur

Afrikaans was in 1914 nog geen gevestigde kultuurtaal nie. Daar was selfs nog te min Afrikaanse skoolboeke om dadelik die besluit uit te voer om van Afrikaans 'n onderrigtaal te maak.

In die onderwys was daar 'n Nederlander met ondernemingsgees wat gou die kans aangegryp het om 'n belangrike uitgewer van Afrikaanse skoolboeke te word. Hy was Johannes Lambertus van Schaik, wat in 1888 naby Amsterdam gebore is en by die groot boekesaak Meulenhoff begin werk het. In 1911 het hy 'n aanstelling as bestuurder van die Johannesburgse tak van De Bussy gekry. In 1914 het hy 'n klein saak van J.A. Wormser in Pretoria oorgeneem - 'n tak van die Amsterdamse uitgewer en boekhandelaar Höveker en Wormser, wat in 1896 winkels in Pretoria en Potchefstroom gehad het. Binne 'n jaar nadat Van Schaik die winkel in Pretoria oorgeneem het, het hy self Afrikaanse boeke begin uitgee.

Van Schaik was dus 'n man met sakevernuf en hy het 'n hele netwerk medewerkers opgebou uit veral die talryke Nederlandse onderwysmense wat toe nog in Transvaal, en vernaamlik in Pretoria gewoon het. J.J. van Schaik en Raubenheimer (1992) sit uiteen hoe hy te werk gegaan het om boeke te laat skryf deur aangetroude familie en vriende. Sy swaer, A.K. Bot, was verantwoordelik vir Algemene geskiedenis en burgerpligte (1918) in Nederlands en Afrikaans. Bot het in dieselfde jaar die medewerking van J.J. van der Merwe en die Nederlands-gebore skrywer J. Lub gekry vir die reeks Ons Afrikaanse leesboek (1918-1920) en Ons Afrikaanse taalboek. Saam met P.I. Heslinga en R. van Mazijk het Bot in 1920 Ons Afrikaanse rekenboek saamgestel. Bot en Van der Merwe was die samestellers van Ons Afrikaanse resitasieboek. P.J. Kloppers en A.K. Bot se bekende Eerste Afrikaanse skoolatlas het in 1922 verskyn, en is in die volgende veertig jaar telkens grondig vir Afrikaanse skole hersien. Besonder suksesvol was ook Ons Afrikaanse skryfboek, waar kinders met voorbeelde die netjiese skoonskrif van daardie dae geleer is. Hierdie reekse was die voorlopers van die later lees- en taalboeke Jong Suid-Afrika en Young South Africa van C.J. Alers, asook J.J. Groeneweg se Vry en bly-leesreeks en latere Afrikaanse en Engelse rekenboeke van Ogden en Van Vuuren. 'n Bekende onder die Nederlandse onderwysers wat skoolboeke geskryf het, was Omius van Oostrum, wat ná die oorlog by die CNO-skole betrokke, en later by die Normaalskool was. As vurige voorstander van moedertaalonderwys het hy, soms saam met ander, vir skoolboeke in rekenkunde en Afrikaans vir De Bussy gesorg.

Nog 'n besondere onderwyser en skrywer van Nederlandse skoolboeke, C.J. van Rijn, het ná 1914 ook vir Afrikaanse skole begin skryf. Onder Van Rijn se 47 boeke was daar spraakkunste, leesboeke, boeke met spreekwoorde en taal- en styloefeninge. Verskeie van hulle, ook in Engels, het baie bygedra tot die verspreiding van Hollands en 'n beter begrip van Afrikaans. Sy Hollands-Engels en Engels-Hollands woordenboek voor Zuid-Afrika en Europa (1908) het algemeen gebruikte Afrikaanse woorde ingesluit. Saam met J.J. Botes was hy vir Styl- en taaloefeninge in Afrikaans vir hoërskole (1921) verantwoordelik (Posthumus 1968:875).

Nederlanders het ook vóór en ná hierdie periode 'n belangrike rol in die uitgewerswese en boekebedryf gespeel. Dit blyk uit die bestaan van uitgewers soos J.H. de Bussy, Jacques Dousseau & Co. en die Hollandssch-Afrikaansche Uitgeversmaatschappij (HAUM). Sedert die 1940erjare het A.A. Balkema belangrike Afrikaanse en Engelse werke uitgegee.

Ook in die koerantwese was daar plek vir Nederlanders. In die eerste jare van Die Burger het die koerant heelwat op Nederlandse medewerkers staatgemaak vir 'n objektiewer nuusdiens as wat Reuter verskaf het (Muller 1990:165-178). Daarby het 'n paar belangrike Nederlands-gebore joernaliste die Afrikaanse koerante verryk. Engelenburg is reeds genoem, en by Die Volkstem was daar verder Nathan Levi, en by Die Burger Frederik Rompel en J. Steinmeyer. L.W. Hiemstra (1965) beskou Rompel as "die grondlegger van die moderne Afrikaanse joernalistiek, ook ten opsigte van die inkleding van die nuus". Hy is in 1921 by Die Burger as tegniese redakteur aangestel - die destydse benaming vir die nuusredakteur.

Ten slotte: ook tot die Afrikaanse prosa het gebore Nederlanders bydraes gelewer. Onder hulle was J. Lub, ook bekend as skrywer van skoolboeke. Twee van die belangrikste romanskrywers van die 20ste-eeuse beweging mag nie onvermeld bly nie: Jochem van Bruggen, wat as jongeling daarop aangedring het om in die Anglo-Boereoorlog aan Boerekant te gaan veg, en J. van Melle, wat aan die Rebellie van 1914 deelgeneem en die belangrikste vroeë verhale en die klassieke roman Bart Nel geskryf het met die opstand as agtergrond.

 

4. SLOT

Die sukses van die Afrikaanse taalbeweging en taalstryd in die eerste kwart van die 20ste eeu is aan verskeie faktore te danke. Die belangrikste was die toewyding en deursettingsvermoë van die leiers van die destydse Afrikanernasionalisme. Dit was 'n verdedigende beweging teen die aggressiewe Engelse nasionalisme waarvan die aangehaalde uitsprake van Milner en Chamberlain getuig. Ook het die Afrikanernasionaliste besef dat Hollands vir hulle nie enduit die instrument vir die taalstryd kan wees nie. Deur Afrikaans te aanvaar het hulle die taal as kultuurtaal gered en verhoed dat die hele Suid-Afrika in 'n kort tyd verengels. 'n Tweede faktor was die eerste skeppende werk van digters soos Eugène Marais, C. Louis Leopodt, Totius en Jan F.E. Celliers.

Maar ' n faktor van wesenlike belang was ook die Nederlandse betrokkenheid by die taalstryd. Ook dít was 'n uiting van nasionalisme - 'n Nederlandse nasionalisme. Zietsman (1992:117) konstateer dat die Nederlandse organisasies wat hulp aan die Afrikaners verleen het, van mening was dat die Nederlandse taal 'n krag in die bestendiging en uitbreiding van die Nederlandse kultuur en invloed kan wees. Nederland was in gevaar om tussen die groot Europese magsblokke verdwerg te word en dit was dus nodig om stamverwante binne en buite Europa nader aan mekaar te trek en die Nederlandse erfenis buite die grense te versprei en te beskerm. Daarby het ook die Nederlandse betrokkenes besef dat hulle nie Nederlands-Hollands (Langenhoven se benaming) kon red nie, en met geesdrif die bevordering van Afrikaans-Hollands nagejaag.

 

BIBLIOGRAFIE

Botha, Elize. 1980. Oor die Afrikaanse prosa en ander opstelle. Kaapstad: Tafelberg.         [ Links ]

Conradie, Elizabeth. 1949. Hollandse skrywers uit Suid-Afrika. Deel II, Kaapstad/ Pretoria: H.A.U.M.         [ Links ]

De Villiers, Anna J.D. 1936. Die Hollandse taalbeweging in Suid-Afrika. Annale van die Universiteit van Stellenbosch. Kaapstad: Nasionale Pers.         [ Links ]

De Waal, J.H.H. 1932/1939. Herinnerings aan ons taalstryd. (Versamelde werke. deel I). Kaapstad ens.: Nasionale Pers.         [ Links ]

Du Toit, J.D. 1917. Ds. S.J. du Toit in weg en werk. Paarl: Paarl Drukpers Maatschappij Beperkt. (Faksimilee-heruitgawe deur Tafelberg, Kaapstad, in 1977).         [ Links ]

Eybers, G.W. (red). 1918. Select constitutional documents illustrating South African history 1795-1910. London: Routledge.         [ Links ]

Giliomee, H. 2004. Die Afrikaners. 'n Biografie. Kaapstad: Tafelberg.         [ Links ]

Headlam, C. (red.). 1933. The Milner Papers II, London: Cassell.         [ Links ]

Hesseling, D.C. 1897. Het Hollandsch in Zuid-Afrika. De Gids 61, vierde serie, eerste deel, 138-162.         [ Links ]

Hesseling, D.C. 1919. Taal en poësie van die tweede Afrikaanse taalbeweging. Utrechtse proefskrif van E.C. Pienaar. De Nieuwe Taalgids 13 (6):313-5.         [ Links ]

Hesseling, D.C. 1922. De taalkwestie in het hedendaagse Griekeland. Die Banier III (1):5-8.         [ Links ]

Hiemstra, L.W. 1965. "Hy was die regte man op die regte plek," Bylae tot Die Burger, 23 Julie 1965.         [ Links ]

Kapp, P. 2011. "Stellenbosse studente se rol in die vestiging van Afrikaans as onderrigtaal aan die Universiteit van Stellenbosch", in LitNet Akademies 8(3), Desember 2011.         [ Links ]

Langenhoven, C.J. 1932/1956. My aandeel aan die taalstryd, in U dienswillige dienaar (Versamelde werke, deel XII). Kaapstad: Nasionale Pers.         [ Links ]

Liebenberg, Otto Jaekel. 1976. D.F. du Toit (Oom Lokomotief): taalstryder, joernalis en letterkundige. M.A.- verhandeling aan die Universiteit van die Oranje-Vrystaat.         [ Links ]

Muller, C.F.J. 1990. Sonop in die suide, Geboorte en groei van die Nasionale Pers 1915-1948, Kaapstad: Nasionale Boekhandel.         [ Links ]

Nienaber, G.S. 1967. Twee taalstryders: Pannevis en Preller. Kaapstad: Nasou.         [ Links ]

Nienaber, P.J. & J.A. Heyl. 1960. Pleidooie in belang van Afrikaans, deel I en II. Kaapstad, Bloemfontein, Johannesburg: Nasionale Boekhandel.         [ Links ]

Posthumus, M.J. 1968. Van Rijn, Cornelis Johannes in Suid-Afrikaanse Biografiese Woordeboek I (Kaapstad: RGN), p. 875.         [ Links ]

Scholtz, D.A. 1975. Ds. S.J. du Toit as kerkman en kultuurleier. DTh-proefskrif. Universiteit van Stellenbosch.         [ Links ]

Scholtz, G.D. 1970. Die ontwikkeling van die politieke denke van die Afrikaner. Deel II 1806-1854. Johannesburg: Perskor.         [ Links ]

Scholtz, G.D. 1974. Die ontwikkeling van die politieke denke van die Afrikaner. Deel III 1854-1881. Johannesburg: Perskor.         [ Links ]

Scholtz, G.D. 1977. Die ontwikkeling van die politieke denke van die Afrikaner. Deel IV 1881-1899. Johannesburg: Perskor.         [ Links ]

Scholtz, G.D. 1978. Die ontwikkeling van die politieke denke van die Afrikaner. Deel V 1899 - 1910. Johannesburg: Perskor.         [ Links ]

Scholtz, J. du P. 19652. Die Afrikaner en sy taal 1806- 1875. Kaapstad: Nasou.         [ Links ]

Smith, J.J. 1914. België en Suid-Afrika, Ons Moedertaal 1 (2):25-27.         [ Links ]

Spoelstra, B. 1968. Cachet, Jan Lion. In Suid-Afrikaanse Biografiese Woordeboek 1: 151-153.         [ Links ]

Steyn, J.C. 1994. "Het Westen"- / "Het Volksblad"-Drukkerij en die Afrikaanse boekbedryf in Nuwe perspektiewe op die geskiedenis van Afrikaans, opgedra aan Edith H. Raidt (Halfweghuis:Southern-Boekuitgewers),pp. 209-230.         [ Links ]

Steyn, J.C. 2004. Die 100 jaar van M.E.R. Kaapstad: Tafelberg.         [ Links ]

Taalkongres, 1896. Di eerste Afrikaanse taalkongres gehou an di Paarl, 15 en 16 Jannewari 1896. Paarl: D.F. du Toit & Co.         [ Links ]

Taalkongres, 1897. Verslag van Taalkongres en Samenkomst, gehouden aan de Paarl, op 27 tot 31 Januari, 1897. Paarl: D.F. du Toit & Co.         [ Links ]

Van der Merwe, H.J.J.M. 1968. Logeman, Willem Sybrand. Suid-Afrikaanse Biografiese Woordeboek, 1, 499-500.         [ Links ]

Van Schaik, J.J. & H.G. Raubenheimer. 1992. Van Schaik. In W.D. Beukers, J.C. Steyn en andere (reds.), Boekewêreld. Die Nasionale Pers in die uitgewersbedryf tot 1990. Kaapstad: Nasionale Boekhandel, pp. 476-490.         [ Links ]

Venter, I.S.J. 1968. Brill, Johannes. Suid-Afrikaanse Biografiese Woordeboek, deel I: 122-124.         [ Links ]

Von Wielligh, G.R. 1922. Eerste skrywers. Pretoria: Van Schaik.         [ Links ]

Zietsman, P.H. 1992. Die taal is gans die volk. Pretoria: Universiteit van Suid-Afrika.         [ Links ]

 

 

JC Steyn het gestudeer aan die Universiteit van die Oranje-Vrystaat (UOVS) en die Gemeentelijke Universiteit van Amsterdam, en was werksaam by Die Volksblad en Rapport, asook die Universiteit van Port Elizabeth (tans Nelson Mandela-Universiteit), die Randse Afrikaanse Universiteit (Universiteit van Johannesburg) en die UOVS (tans Universiteit van die Vrystaat). Hy het meer as 100 artikels in vaktydskrifte en boeke gepubliseer en is die skrywer van taalpolitieke en taal- en kultuurhistoriese werke. Die vernaamste is Tuiste in eie taal (1980), Trouwe Afrikaners. Aspekte van Afrikaner-nasionalisme en die Suid-Afrikaanse taalpolitiek 1875-1938 (1987) en 'Ons gaan 'n taal maak'. Afrikaans sedert die Patriot-jare (2014). Ook in sy drie biografieë, Van Wyk Louw - 'n lewensverhaal (1998), Penvegter - Piet Cillié van Die Burger (2002) en Die honderd jaar van M.E.R. (2004) gee hy besondere aandag aan die taalstryd en die opvattings van die skrywers oor Afrikanernasionalisme. Onder sy ander publikasies is 'n digbundel, Die grammatika van liefhê (1975) en enkele prosawerke soos Sonkyker (2008). Hy is die ontvanger van verskeie toekennings van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns.
JC Steyn studied at the University of the Free State (UFS) and the Communal University of Amsterdam. He worked at Die Volksblad and Rapport, as well as the University of Port Elizabeth, the Rand Afrikaans University and the UFS. He has published over 100 articles in journals and books and is the author of several works on language politics and language and cultural histories. The most important of these are Tuiste in eie taal [Home in their own language] (1980), Trouwe Afrikaners. Aspekte van Afrikaner-nasionalisme en die Suid-Afrikaanse taalpolitiek 18751938 [Loyal Afrikaners. Aspects of Afrikaner nationalism and the South African language policy 1875-1938] (1987) and Ons maak 'n taal. Afrikaans sedert die Patriotjare [We make a language. Afrikaans since the years of Die Patriot] (2014). In his three biographies, Van Wyk Louw - 'n lewensverhaal [Van Wyk Louw - A biography] (1998), Penvegter - Piet Cillié van Die Burger ['Penvegter' - Piet Cillié of Die Burger] (2002) en Die honderd jaar van M.E.R. [The hundred years of M.E.R] (2004), he paid special attention to the language conflict and the views of the authors of Afrikaner nationalism. Among his other publications are a volume of poetry, Die grammatika van liefhê [The grammar of love] (1975) and several prose works such as Sonkyker [Lizard] (2008). He is the recipient of several awards from the South African Academy for Science and Arts.
* Hierdie artikel is vir 'n deel gegrond op stof wat ook opgeneem is in J.C. Steyn: 'Ons gaan 'n taal maak'. Afrikaans sedert die Patriot-jare. Pretoria: Kraal, 2014.
1 Daniel Hugo (2009:34-35) bespreek hierdie gedig uitvoerig.
2 Vir 'n vollediger behandeling van die betekenis van "Het Westen"- / "Het Volksblad"-Drukkerij vir die Afrikaanse boekebedryf sien Steyn (1994).

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License