SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.54 issue3Inleidende opmerkingsLiplappen and Nonna's: Presentation of a comparative study to be conducted author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Tydskrif vir Geesteswetenskappe

On-line version ISSN 2224-7912

Tydskr. geesteswet. vol.54 n.3 Pretoria Sep. 2014

 

NAVORSINGS- EN OORSIGARTIKELS

 

Oxford aan die Amstel: Leerstoel Suid-Afrikaanse letterkunde in Amsterdam 80 jaar oud. Die beginjare en vroeë kontakte met die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns1

 

Oxford-upon-Amstel. The Amsterdam chair of South African Literature eighty years old. The early years and relations with the South African Academy for Science and Arts

 

 

Ena Jansen

Suid-Afrikaanse Letterkunde, Universiteit van Amsterdam, Afdeling Literatuur en Samelewing, Vrije Universiteit Amsterda, Navorsingsgenoot Universiteit van Johannesburg, Epos: e.jansen@uva.nl

 

 


OPSOMMING

Die Amsterdamse leerstoel Zuid-Afrikaanse letterkunde is in 1933 deur die "Stichting tot bevordering van de studie van taal, letterkunde, cultuur en geschiedenis van Zuid-Afrika" ingestel aan wat toe nog de Gemeentelijke Universiteit van Amsterdam geheet het. Dit was 'n teken van erkenning deur die Nederlandse wetenskap dat Afrikaans uit Nederlands ontwikkel het tot 'n taal in eie reg, tot 'n "selfstandige loot aan die Germaanse taalboom". Op 9 Oktober 1933 het prof. dr. Gerrit Besselaar (1874-1947) sy intreerede as "bijzonder hoogleraar Zuid-Afrikaanse taal-, letterkunde en geschiedenis" gehou. Die leerstoel is ná 'n lang onderbreking tydens en na die Tweede Wêreldoorlog hervat en in die jare '50 en '60 van die vorige eeu beklee deur agtereenvolgens N.P. van Wyk Louw (1950-1958) en H. van der Merwe Scholtz (1959-1962). As gevolg van politieke druk en akademiese boikotaksies is die leerstoel later opgehef, maar ná die demokratiese omwenteling in Suid-Afrika is die tyd ryp geag vir die herinstelling daarvan. In Junie 1999 is 'n konsepvoorstel ingedien by die Fakulteit Geesteswetenskap van die Universiteit van Amsterdam (UvA) en 'njaar later het die "College van Bestuur" toestemming gegee vir die instelling van weer 'n "bijzondere" leerstoel. In September 2001 is Ena Jansen (gebore 1951) benoem, in April 2002 het sy met haar eerste lesingreeks begin en op 11 April 2003 haar intreerede gehou.
In die artikel word veral aandag gegee aan die ontstaansjare van die leerstoel en aan kontakte tussen Amsterdam en die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns.

Trefwoorde: Suid-Afrikaanse letterkunde; Afrikaans; Afrikaanse letterkunde; onderwys en kultuur; Universiteit van Amsterdam; Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns; akademiese boikot; G. Besselaar; N.P. van Wyk Louw; H. van der Merwe Scholtz; Ena Jansen


ABSTRACT

Eighty years ago the chair of "Zuid-Afrikaanse taal, letterkunde en geschiedenis" (South African Language, Literature and History) in Amsterdam came into existence under the auspices of the "Stichting ter bevordering van de studie van taal, letterkunde, cultuur en geschiedenis van Zuid-Afrika" (The Foundation for the Advancement of the Study of Language, Literature, Culture and History of South Africa). This Foundation was established on the 14th November 1932 in The Hague and has since then been a subsection of the so-called "Suid-Afrikaanse Instituut" (South African Institute), one of the institutions based in the "Zuid-Afrika Huis" (South Africa House) at 141 Keizersgracht in Amsterdam. The chair has since its inception been managed in close cooperation with a supervisory council of the University of Amsterdam. Due to long periods of inactivity only four people have been professors of Afrikaans literature in Amsterdam since the instalment of the chair.
On 9th October 1933 dr. Gerrit Besselaar (1874-1947) gave his inaugural lecture as so-called "bijzonder hoogleraar" (professor by special appointment). The Dutchman Besselaar was born in Rotterdam and became a teacher in England before leaving for South Africa in 1903, shortly after the end of the Anglo-Boer War. He soon became an advocate for Afrikaans and was one of the founding members of the "Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns" (South African Academy for Science and Arts) in 1909. He was professor in the department "Nieuwe Talen" (Modern Languages) at the Natal University College in Pietermaritzburg before returning to Europe in 1932. After teaching Afrikaans to German missionaries in Berlin he became the first holder of the chair of Afrikaans literature in Amsterdam. Afrikaanse taal- en letterkunde universitair studievak te Amsterdam, the title of Besselaar 's inaugural address, emphasised the status and pedagogical value of the Afrikaans language and literature.
The establishment of the chair was an important acknowledgement on the side of the Dutch academy that Afrikaans, besides Dutch and Flemish, was an empowered and independent member of the Germanic group of languages. Following Besselaar 's retirement the chair of South African literature has always been occupied by South Africans. Temporary lecturers such as dr. Elizabeth Conradie (1903-1939) were also always South Africans. During the year when she took over from the ailing Besselaar she was praised not only for her enthusiastic lectures and networking skills but also for laying the foundation for the extensive library of the South Africa House. Because of World War Two and its aftermath the chair was vacant for more than a decade. The famous Afrikaans poet N.P. van Wyk Louw (1906-1970) was professor between 1950 and 1958, during which time many South African literary scholars came to study under his guidance. He wrote his most important literary work whilst living in Amsterdam. After his return to South Africa he was succeeded in 1959 by H. van der Merwe Scholtz (1924-2005) who had just completed his PhD in Amsterdam. After three years he returned to South Africa to take up a teaching post in Pretoria. Louw was a so-called "buitengewoon hoogleraar" (special chair) whilst Scholtz was "gewoon hoogleraar" (regular professor - actually the position with the most clout because of being part of the regular group of faculty professors). Louw's famous inaugural address delivered on 22nd May 1950 carried the title Die digter as intellektueel (The Poet as Intellectual), whilst the title of Scholtz's lecture delivered on 26th October 1959 was In en om die gedig (In and About the Poem).
After Scholtz's departure the chair remained vacant for forty years. South African scholars such as Roy H. Pheiffer and Johan Uys, who had been studying in The Netherlands themselves, taught Afrikaans at the University for some years. After them dr. Truida Lijphart-Bezuidenhout held the fort from 1969 until her untimely death in 1987, teaching Afrikaans literature to a handful of students. During the strident years of Dutch opposition to the South African government's racial policy which resulted in an academic boycott of South African scholars and authors, the chair was suspended and only re-installed in 2000. A year later the position was advertised and on 13 September 2001 the "curatorium" (curating body) of the University of Amsterdam proposed dr. Ena Jansen as new "bijzonder hoogleraar". In April 2002 her appointment was finalised and she commenced teaching. Seventyyears after Besselaar, on the 11th April 2003, she gave her inaugural address entitled "Eva, wat sê hulle?" Konstruksies van Krotoa in Suid-Afrikaanse tekste ("Eva, what are they saying?" Constructions of Krotoa in South African texts).
In this article the focus is on the founding years of the Amsterdam chair and its ties with the "Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns".

Key words: South African literature; Afrikaans; Afrikaans literature; education and culture; University of Amsterdam; Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns; academic boycott; G. Besselaar; N.P. van Wyk Louw; H. van der Merwe Scholtz; Ena Jansen


 

 

1. INLEIDING

Meer as tagtig jaar gelede, op 9 Oktober 1933, het prof. dr. Gerrit Besselaar sy intreerede as "bijzonder hoogleraar Zuid-Afrikaanse taal-, letterkunde en geschiedenis" aan die Universiteit van Amsterdam gehou. Besselaar was 'n Rotterdammer, maar het in 1903 na Suid-Afrika vertrek waar hy 'n vurige voorvegter vir Afrikaans geword het en één van die oprigters was van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns. Hy het jare lank "Nieuwe Talen" aan die Natal University College gedoseer voordat hy in 1932 om gesondheidsredes teruggekeer het na Europa. Hy het kortliks in Berlyn Afrikaans gedoseer aan voornemende Duitse sendelinge voordat hy hom in Den Haag gaan vestig het en 'n beroep op hom gedoen is om die leerstoel in Amsterdam te vul.2 Besselaar het die status en pedagogiese belang van Afrikaans in 'n Nederlandse omgewing benadruk deur die titel en inhoud van sy rede: Afrikaanse taal- en letterkunde universitair studievak te Amsterdam. Afrikaans was toe nog maar agt jaar lank een van die amptelike tale van Suid-Afrika. Vir Besselaar het die instelling van die leerstoel dan ook 'n erkenning deur wetenskaplike Nederland beteken van die bestaansreg van Afrikaans as 'n taal "in eigen recht", die taal van 'n nuutgebore "Diets volk", 'n mondige en selfstandige loot aan die Germaanse taalboom, naas die Nederlands van Vlaandere en Nederland. Besselaar het dit so uitgedruk: "Hollands-Zuid-Afrika kan niet meer Nederlands, het moest Afrikaans-Hollands zijn." In die tyd het Nederlands inderdaad al in Suid-Afrika 'n nagenoeg dooie taal geword wat wel nog soms gelees en skryf is, maar nouliks nog gepraat is. Volgens skattinge in die tyd het slegs tien persent van alle Suid-Afrikaanse studente destyds nog 'n grondige studie van Nederlands gemaak.

Besselaar se ideaal was dat Amsterdam vir Afrikaanssprekendes sou word wat Oxford en Cambridge vir Engelssprekende Suid-Afrikaners was en dat die leerstoel sou uitgroei tot 'n Afrikaanse Kultuurhistoriese Instituut met 'n Afrikaner-besetting. Ná Besselaar se uittrede is die leerstoel steeds, maar wel met groot tussenposes, beset deur Suid-Afrikaners. Ook tydelike dosente was deur die bank Suid-Afrikaners. Die jong tydelike lektor dr. Elizabeth Conradie het tydens die jaar waarin sy met groot entoesiasme klas gegee het en 'n groot netwerk opgebou het, die Afrikaanse boekery uitgebrei en die basis gelê vir die huidige biblioteek aan die Keizersgracht. Weens die Tweede Wêreldoorlog was die leerstoel lank vakant. Die Nederlander Pieter Geyl het in 1940 lesings gehou oor die verhouding tussen Boer en Brit in die 19de eeu, terwyl 'n lesingreeks oor die Afrikaanse letterkunde deur Marie Bax-Botha in 1941 versorg is.3

Van 1950 tot 1958 was N.P. van Wyk Louw hoogleraar terwyl hy in dié tyd ook van sy belangrikste literêre werk geskryf het. Hy is in 1959 opgevolg deur H. van der Merwe Scholtz wat egter ná minder as drie jaar reeds teruggekeer het na Suid-Afrika. Louw en Scholtz was onderskeidelik "buitengewone" en "gewone" hoogleraar. Louw se beroemde intreerede heet Die digter as intellektueel (22 Mei 1950), terwyl Scholtz s'n getitel was In en om die gedig (26 Oktober 1959). Roy H. Pheiffer en Johan Uys het ná die vertrek van die hooglerare Louw en Scholtz Afrikaanse lesings versorg en ná 1969 tot aan haar dood in 1987 was dr. Truida Lijphart-Bezuidenhout die gesig van die Afrikaanse letterkunde aan die UvA. Tydens die moeilike jare waarin Suid-Afrika akademies geboikot is, is die leerstoel formeel opgeskort en eers weer in 2000 heringestel. 'n Jaar later is die pos geadverteer en op 13 September 2001 het die kuratorium van die UvA Ena Jansen voorgedra as nuwe "bijzonder hoogleraar". Op 11 April 2003, byna sewentig jaar na Besselaar, het sy die hoogleraarsamp amptelik aanvaar met die uitspreek van haar intreerede "Eva, wat sê hulle?" Konstruksies van Krotoa in Suid-Afrikaanse tekste.

 

2. AGTERGROND

Die vestiging van die leerstoel in die 1930s in Amsterdam was grootliks te danke aan Nederlandse simpatie en bewondering vir die Boere wat 'n halfeeu eerder al ontstaan het en wat gelei het tot die stigting van die Nederlands Zuid-Afrikaanse Vereniging (NZAV) in 1881. Ná die triomf van Majuba in Februarie 1881 was Nederlanders in die algemeen en NZAV-lede in die besonder uiters trots op hulle stamverwantskap met die stoere "verre neven en nichten" (Schutte 1986 en De Graaff 1993). 'n Belangrike taak van die NZAV was dan ook om die belange van die "Hollands Afrikaansche natie" in Transvaal te bevorder. Honderde Nederlandse onderwysers en skoolboeke is na die Transvaal gestuur.4 Dat dit in die Paarl en elders reeds in 1875 aan die gons was om, onafhanklik van Nederlandse inmenging en oorheersing, Afrikaans tot volwaardige taal te ontwikkel, het baie goedbedoelende Nederlanders wel onkant gevang. Met verloop van tyd moes hulle berus by die triomf van Afrikaans en Afrikaans het ná baie broedertwiste en redekawelings in 1925 'n amptelike taal van Suid-Afrika geword.

Nederlands is egter nie heeltemal tersyde geskuif in Suid-Afrika nie en die belang van Nederlands as akademiese vak is in 1931 bestendig toe op inisiatief van die NZAV 'n leerstoel Nederlandse kultuurgeskiedenis en 'n Nederlandse Kultuurhistoriese Instituut aan die Universiteit van Pretoria opgerig is wat vanuit Nederland gefinansier is. Steeds meer was daar 'n gevoel dat 'n eweknie-instelling in Nederland tot stand moes kom. Die konkrete inisiatief om die Afrikaanse taal- en letterkunde op die akademiese agenda in Nederland te plaas het egter nie van die ondertussen sterk verdeelde NZAV gekom nie, maar van die Dietsche Studenten Bond tydens hulle kongres wat in Maart 1931 in Groningen gehou is. Die Dietsche Bond van studente uit Nederland, Vlaandere en Suid-Afrika het, soos wat die naam aangee, die sogenaamde Groot Nederlandse Gedagte hoog in die vaandel gehad. Tegelykertyd het die Bond ook die selfstandigheid van die Afrikaanse kultuur erken as 'n gedifferensieerde vorm van Nederlands. Een van die sprekers in Groningen was prof. dr. Besselaar wat die eerste leerstoelhouer in Amsterdam sou word. 'n Ander spreker op die Groningse kongres van die Dietsche Bond was die 28-jarige dr. Elizabeth Conradie, lektrise Nederlands in Bloemfontein en oud-studente van die Hugenote-kollege in Wellington en die Universiteit van Amsterdam. Sy sou in 1934 in Amsterdam promoveer, weer teruggaan Bloemfontein toe en enkele jare later Besselaar opvolg, nie as hoogleraar nie, maar as tydelike lektor totdat sy op 36-jarige leeftyd onverwags aan die gevolge van longontsteking en uitputting oorlede is (Jansen en Veltkamp-Visser 2003).

Sowel Besselaar as Conradie het in 1931 aktief die wenslikheid bepleit van 'n lektoraat of professoraat Afrikaanse taal- en letterkunde in Nederland. Hierin is hulle gesteun deur 'n aantal invloedryke Nederlanders. Hulle het ook met die Suid-Afrikaanse Akademie vir Taal, Lettere en Kuns hieroor gekorrespondeer. Albei was trouens aktiewe lede van die Akademie; Besselaar was selfs een van die stigterslede. In sowel die Akademie se Feesalbum 1909-1959 (1959) as Draer van 'n droom wat tydens die eeufees van die Akademie verskyn het (Kapp 2009), word talle paragrawe aan hulle betrokkenheid by die Akademie gewy.

Die leerstoel is deur privaat inisiatief gefinansier en het met moeite tot stand gekom. Dit is duidelik uit die letterlik honderde briewe wat veral tussen 'n groot voorstander van die leerstoel, dr. H. Burger, en sy talle korrespondente gewissel is. Burger was hoogleraar in neus-, oor- en keelkunde aan die Universiteit van Amsterdam en een van die grootste Suid-Afrikavriende in Nederland tydens die interbellum. Jare lank het hy as sekretaris vir allerlei stigtinge en verenigings binne die konglomeraat van besture in die Zuid-Afrika Huis aan die Keizersgracht opgetree. Uit sy korrespondensie en ander bronne is dit duidelik dat daar 'n enorme verdeeldheid was tússen en ín 'n aantal van hierdie besture. Uit die argief van die Zuid-Afrika Huis blyk dat daar groot onenigheid onder NZAV-bestuurslede was oor verskeie sake, onder andere oor waar 'n leerstoel dan gevestig moes word. Die Amsterdammer Burger se direkte opponente was mense wat die leerstoel aan 'n Ryksuniversiteit en nié aan die stadsuniversiteit gevestig wou sien nie. Burger en medestanders het na baie binnegevegte egter daarin geslaag dat 'n afsonderlike Stichting Leerstoel, onafhanklik van die NZAV, in die lewe geroep is om die leerstoel spesifiek in Amsterdam ingestel te kry.

Op die solders van die Keizersgracht is talle argiefdose met stapels keurig-genommerde dokumente wat direk en indirek met die "Stichting tot bevordering van de studie van taal, letterkunde, cultuur en geschiedenis van Zuid-Afrika", kortom die Stichting Leerstoel te make het. Telkens kom die Akademie ook ter sprake omdat die raad van kuratore en bestuur wat die leerstoel finansieel geborg het, by monde van die Suid-Afrikaanse konsul in Nederland, dr. Herman van Broekhuizen, by die Akademie om geldelike steun gevra het. Die Akademie het onderneem om £100 per jaar vir vier jaar by te dra5 en gereeld verslae van die kuratore en bestuurder van die leerstoel ontvang (Kapp 2009:367), maar daar was ewe gereeld probleme.

 

3. DIE LEERSTOEL EN DIE AKADEMIE

Besselaar, die eerste hoogleraar in Amsterdam, was tydens sy verblyf in Pietermaritzburg slegs oënskynlik geïsoleer van Afrikaans-Nederlandse taalsake. Die provinsiale sisteem het daarvoor gesorg dat óók mense uit die kleiner provinsies dikwels op landelike vlak aktief was en bekend geword het. So was Besselaar een van die bestuurslede van die Afrikaans-Hollandse Taalvereniging (AHTV) wat vroeg in 1908 gestig is. Die AHTV het daarop aangedring dat onderwysers eers Nederlands magtig moes wees voordat hulle aangestel is (Kapp 2009:25). Besselaar het saam met Gustav Preller standpunt ingeneem tydens 'n debat teen ds. J. Lion Cachet waarin hulle daarvoor gepleit het dat die nuut op te rigte organisasie van taal- en kunsliefhebbers inderdaad 'n akademie moes wees, 'n statusliggaam, en nie 'n organisasie wat die hele volk sou betrek nie (Kapp 2009:31). Hy was een van die AHTV se verteenwoordigers op die stigtingskongres van die Akademie, later ook lid van die Akademieraad en die Akademie se verteenwoordiger in die Lae Lande (Kapp 2009:25). In 1946 is hy tot erelid van die Akademie verkies maar is oorlede voordat dit formeel aan hom toegeken kon word. Die Akademie is in beginsel op 2 Julie 1909 gestig en die eerste ledevergadering het op 7 Julie 1910 plaasgevind (Kapp 2009:35).

In die sogenaamde Bulletins van wat in die jare dertig nog die Suid-Afrikaanse Akademie vir Taal, Lettere en Kuns genoem is, is die Afrikaanse Leerstoel, Amsterdam telkens 'n agendapunt en onderdeel van die "Werksaamhede van die Raad". Tydens die jare dertig is oor veral drie kwessies vergader en gekorrespondeer:

- of die Akademie 'n finansiële bydrae kon maak tot die leerstoel;

- of die Akademie sy invloed kon laat geld om die leerstoel in Amsterdam te behou wanneer blyk dat Utrecht of Leiden as alternatiewe oorweeg word;

- en, derdens, wat die aard van kontak moes wees wat die hoogleraar as "Buitelandse Korrespondent en Verteenwoordiger" van die Akademie tot stand kon bring met gerenommeerde Europese Akademies in stede soos Den Haag, Leiden, Brussel, Gent en Berlyn.

Ook is telkens nagedink oor die doelgroep van vakke soos Romeins-Hollandse reg, koloniale en Suid-Afrikaanse geskiedenis. Belangrike vrae was of Amsterdam 'n sentrum vir buitelandse studie vir Afrikaanssprekendes moes wees of moes veral Nederlandse studente vertroud gemaak word met Afrikaans en Suid-Afrika. In die subhoofstukkies "In die Buiteland" en "Afrikaans-Nederlandse kontakte" (Feesalbum 1959:106-107) word kortliks verwys na die rolle van Besselaar en Conradie terwyl Kapp (2009:362-376) in hoofstuk 9, "Die droom anderkant die horison", ruim aandag gee aan die ontstaansjare van die leerstoel en wedersydse kontakte. Veral word Besselaar en Conradie se talle pogings beskryf om die Akademie te probeer oorreed om die finansiële verantwoordelikheid vir die leerstoel te aanvaar. Dit het selfs tot onderhandelings deur die Akademie met die Suid-Afrikaanse regering gelei om staatsteun vir die projek te kry, maar die regering was bang dat dit 'n presedent sou skep om steun vir leerstoele in ander lande te vra (Kapp 2009:368).

3.1 Prof. dr. Gerrit Besselaar

Besselaar se ideaal was dat Amsterdam vir Afrikaanssprekendes sou word wat Oxford en Cambridge vir Engelssprekende Suid-Afrikaners was en dat die leerstoel sou uitgroei tot 'n Afrikaanse kultuurhistoriese instituut met 'n Afrikaner-besetting. Besselaar was 'n voorstander van Suid-Afrikaners se voortgesette studie in Nederland en as ekstra doelgroep het hy ook Nederlandse onderwysstudente voor oë gehad. In 'n memorandum aan die Akademie het hy in 1938 geskryf: "Die werk is nie bloot of in die eerste plek om die Afrikaanse taal te doseer vir emigrante uit Nederland nie (dis alleen insidenteel), maar wetenskaplike en stamverwantskaplike werk van universitêre standaard. [...]". Verder het hy in 1938 aan die Akademie geskryf:

Met groot nadruk wil ek daarop wys dat die Afrikaanse leerstoel sowel vir Afrikaners as vir Nederlanders moet wees. Die Afrikaner wat wil spesialiseer moet in die stamland 'n wetenskaplike sentrum hê waar hy dit kan doen. Juis die seminariearbeid waar Afrikaner en Nederlander saamwerk het onder my leiding van die beste resultate gelewer.

Van alle kante het hy behalwe lof ook kritiek op sy standpunt oor die belang van Afrikaans as wetenskaplike taal gekry. Die skerpste kritiek het heel aan die begin van sy hoogleraarskap van 'n Stellenbosse Nederlander Van Harencarspel gekom, maar die pas-aangetrede hoogleraar Besselaar stel sy kuratorium onmiddellik in 'n brief gerus (Argiefdoos VI 56):

De heer van Harencarspel uit Stellenbosch maakt deel uit van een uitstervende klasse van anti-Afrikaanse Nederlanders in Z Afrika. Hij is trouwens meer te beklagen dan ernstig op de vatten. De heer van H. is een zenuwpatiënt, onschadelijk, een bekend type in Stellenbosch, die b.v. 'snachts om half 3 op de veranda viool gaat spelen tot nadeel van de nacht- en gemoedsrust van eerzame Stellenbossers. De bladen ginds nemen zijn stukken niet meer op, omdat hij ontoerekenbaar is; nu begint hij met de Nederlandse pers. Het is slechts te hopen, dat de bekende junta te Amsterdam hem niet gaat exploiteren tegen de leerstoel.

Besselaar se brief was gerig aan sy "Geachte Collega" Burger, die man met wie hy in verband met die Amsterdamse leerstoel meer as tweehonderd briewe gewissel het. Aan hom meld hy verder ook kritiek vanuit 'n ander hoek op die leerstoel:

Van ultra-jingoïstische Engelse kant kreeg ik ook een vuil stukje tegen de leerstoel. Het is het Reuter-bericht van de intrede op 9 oktober l.l. met [onder-] schrift: [Mushroom language ???] 'Disgusting Totty (= Hottentots) language. You better leave it in S.Africa. Many decent Dutchmen feel ashamed. (Argiefdoos VI 56)

Ondanks al die teenstand is die Suid-Afrikaanse leerstoel in Amsterdam behou, maar die bestaan daarvan sou jare lank onseker wees, selfs 'n strydperk word waarin opponerende faksies mekaar sou uitskel - meestal wel in uiters formele taal. Die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns is voortdurend as 'n soort arbiter op die hoogte gehou, waarskynlik omdat die Akademie wel 10 pond per jaar bygedra het tot die leerstoel. Dit was net genoeg om te betaal vir ongeveer twee maande van Besselaar se karige jaarsalaris. Dat die Akademie self besef het hoe min tien pond was, blyk uit 'n latere brief van die Algemene Sekretaris I.M. Lombard waarin hy aan dr. Conradie vra: "Dink u dat dit enige waarde het om hierdie bedraggie weer vanjaar aan die Curatorium te stuur?"

Dit was spoedig vir die Nederlanders onverteerbaar dat hulle bykans alleen moes betaal vir die leerstoel. Die Nederlandse koerant De Telegraaf wat 'n jaarvergadering van die Stichting Leerstoel bygewoon het, het dit so opgesom:

De vraag mag in dit verband gesteld worden of niet belanghebbenden in Zuid-Afrika thans eens van hun daadwerkelijke belangstelling dienen blijk te geven. Nederland bekostigt nu reeds gedurende ca. vijf jaren zowel den Afrikaanschen leerstoel te Amsterdam als den Nederlandschen leerstoel te Pretoria. Is thans niet een geschikt tijdstip aangebroken dat ook Zuid-Afrika zijn penningske voor het goede doel der instandhouding van den leerstoel in Nederland gaat offeren? (Argiefdoos XXII 61)

Die bulletins van wat toe nog die Suid-Afrikaanse Akademie vir Taal, Lettere en Kuns geheet het, bevat in dié jare talle verwysings na hierdie finansiële "perikelen". Op die Akademie se Raadsvergadering op 20 en 21 Desember 1935 was daar byvoorbeeld al 'n klag van Besselaar dat geen geldelike ondersteuning vir die leerstoel ontvang word nie. Hy noem dit 'n "betreurenswaardige toestand".

Professor Fransie Malherbe het opdrag van die Akademieraad gekry om aan Professor Burger in Amsterdam te skryf om meer inligting te vra en 'n mens kry onteenseglik die indruk dat steeds deur die Akademie na uitstel vir betaling gesoek is. Korrespondensie oor en weer het immers weke geduur. Daadwerklike hulp in die vorm van meer ponde en pennies is nie verleen nie; en dit terwyl Besselaar 'n ou bekende van die meeste raadslede van die Akademie was.

Die vraag of die leerstoel nie liewer aan 'n Rijksuniversiteit in plaas van aan die stads- oftewel die Gemeentelijke Universiteit van Amsterdam gevestig moes word nie, hetjare nadat die Leerstoel reeds daar gevestig was steeds opgespeel. Teenstanders van die Amsterdam-opsie het gedink die stad is te links en het bowendien gehoop dat 'n ryksuniversiteit in Utrecht of Leiden staatsbefondsing tot gevolg sou hê. Burger het nie geskroom nie om almal te opponeer en selfs as kleinsielig te karakteriseer wat sy plan wou dwarsboom om die leerstoel in Amsterdam te vestig en te behou. Besselaar en Conradie wat onderskeidelik in 1914 en 1934 gepromoveer het aan die UvA was ook voorstanders van Amsterdam.

Uit korrespondensie blyk dat die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns onder invloed van Burger se NZAV-opponente Pont en Middelberg en onder voorsitterskap van die anti-Amsterdamse teoloog Engelbrecht wel 'n groot voorstander van die Ryksuniversiteit-opsie begin word het. Die rede hiervoor is, behalwe die linkse imago van Amsterdam, sekerlik dat die vestiging van die leerstoel aan 'n ryksuniversiteit deur anti-Amsterdammers aan die Akademie voorgehou is as dat dit sou kon lei tot minder druk op Suid-Afrika om 'n finansiële bydrae te lewer.

Vanuit Amsterdamse perspektief was Engelbrecht nie juis 'n geslaagde Akademie-voorsitter nie. Burger het hom openlik geminag. Ook die Utrechtse hoogleraar en historikus Pieter Geyl wat op uitnodiging van die Lesingkomitee van Suid-Afrikaanse universiteite tydens die tweede helfte van 1937 'n reis na Suid-Afrika onderneem het, was baie negatief oor Engelbrecht. Die Akademievoorsitter was saam met Geyl op sy skeepsreis terug na Nederland en Geyl (2000:36-37) skryf in sy memoires die volgende oor Engelbrecht:

Ik deed mijn best om op vriendschappelijke voet met Engelbrecht te blijven maar het ware geestelijke contact ontbrak, en van samenwerking in Holland kwam veel minder dan ik zelf aan boord voorzien had. Hij verkoos zijn eigen weg te gaan. Kleine ijdele man, verrukt met de omgang met hoge personages in Den Haag en argwanend en naijverig ten opzichte van mij: het kosste mij tijd dat te ontdekken. Voor mijn practische en bescheiden plannen [byvoorbeeld om Nederlandse kinderboeke na Suid-Afrika te stuur - EJ] haalde hij de neus op.

Gelukkig het die Akademie "overstag gegaan" oor die plek waar die Leerstoel gevestig moes bly - waarskynlik danksy weer eens 'n "uitvoerig toegelicht schrijven" van Burger namens die Stichting Leerstoel. Ook van belang was 'n sterk verwoorde memorandum van Besselaar aan die Akademie waarin hy op 23 Desember 1938 skryf: "Teen 'n salaris (?) van f 50 'n maand is daar, al is dit met menslike swakheid, goeie werk gedoen. D[ie leerstoel] het gegroei en jaar na jaar het die Suid-Afrikaanse Akademie sy waardering uitgespreek en dit ook geldelik gesteun. [...] Om telkens 'n nuwe begin te maak met leerstoele is ernstige manne onwaardig." Hierdie argumente het die knoop deurgehaak. Die Jaarverslag van die Stichting Leerstoel 1938-1939 meld dan ook:

De Stichting mocht daarop van de Afrikaanse Akademie als blijk van haar waardeering een geldelijke bijdrage ontvangen met de verzekering, dat zij de instelling van een gewoon hoogleraarschap te Amsterdam beschouwt als de beste oplossing van het vraagstuk.

Tussen Amsterdam en die Akademie was dit dus voorlopig "koek en ei", alhoewel die Akademie finansieel nooit baie sou bydra nie. Kapp (2009:368) meld verder dat Besselaar "mettertyd geïrriteerd geraak [het] met sekere Akademieraadslede wat hy van pro-Nazi-simpatieë verdink het". So het Besselaar in 1937 aan die Sekretaris van die Akademie geskryf:

Ek het objektief die werkswyse beskrywe, en eers op die einde 'n konklusie getrek, waarin ek ernstig waarsku teen tendense, politieke, ekonomiese en kulturele, ook religieuse, van die Nasionaal-Socialisme van Duitsland in Suid-Afrika. Ek sit hier digterby as u in S Afrika" (Kapp 2009:368).

Ses jaar na sy intreerede vertrek Besselaar met siekverlof op 'n wêreldreis. Vanuit New York skryf hy op 7 Oktober 1939 (Argiefdoos VI 207):

Zoals bekend is, heb ik bij de Stichting slechts onder hoge druk toegestemd in het bezetten van de leerstoel. [...] Onder openbare vijandschap en verborgen tegenwerking is er genoeg tot stand gekomen om de recht- en plichtmatigheid van deze leerstoel te bewijzen, maar dat moet nu verder, indien enigszins mogelijk, door een geboren Afrikaner geschieden.

3.2 Dr. Elizabeth Conradie

Na Besselaar se vertrek behartig dr. Elizabeth (Bettie) Conradie die leerstoel as "tijdelijke lector" vanaf 1938 tot aan haar plotselinge dood in Oktober 1939. Sy het Besselaar ook opgevolg as die Akademie se verteenwoordiger in die Lae Lande en het onder meer gehelp met die stigting van die Documentatie Centrum voor Afrikaans in Brugge (Kapp 2009:369). Net soos Besselaar was sy 'n bekende in Akademie-kringe. So is sy in ongeveer 1936 terwyl sy lektor in Afrikaans en Nederlands in Bloemfontein geword het betrek as mede-redakteur van Tydskrif vir Wetenskap en Kuns wat vanaf 1935 'n publikasie van die Akademie geword het. Volgens Kapp (2009:300) het sy "'n goeie aanvoeling vir [D.F.] Malherbe se moeilike temperament gehad". In Maart 1937 is sy saam met proff. F.E.J. Malherbe en E.C. Peinaar en dr. M.S.B. Kritzinger aangestel as lid van die Letterkundige Kommissie van die Akademie. Haar spesiale opdrag was om Nederlands op Suid-Afrikaanse hoërskole te bevorder (Jansen en Veltkamp-Visser 2003:5).6 Conradie se proefskrif Hollandse skrywers uit Suid-Afrika. 'n Kultuur-historiese stude Deel I (1652-1875) (1934) asook die tweede deel wat postuum uitgegee is in 1949 nadat dit deur haar goeie vriendin dr. Anna de Villiers persklaar gemaak is, is waardevolle publikasies wat telkens aangehaal word in debatte oor die ontstaansperiode van die Afrikaanse letterkunde.7 Talle aspekte van haar persoonlikheid is nog baie onderbelig en 'n boeiende biografie sou oor haar geskryf kon word. Omdat sy so plotseling en so jonk oorlede is, is dit uiters moeilik om te voorspel wat haar verdere ontwikkeling sou gewees het.

In Bloemfontein, Wellington en Amsterdam is sy geprys vir haar "groote toewijding en werkkracht". Haar belangrikste Amsterdamse prestasie was die stigting van die "Suid-Afrikaanse Instituut", aanvanklik 'n studiesaal in die universiteitsbiblioteek, wat op 30 Mei 1939 deur die Amsterdamse wethouer Boekman aan die bestuur van die "Stichting Leerstoel" oorgedra is. Boekskenkings is gedoen deur dr. W.J. Leyds, die Algemeen Nederlands Verbond, die NZAV, mevrou N. Mansvelt en talle ander (Kapp 2009:368). Die bestaan van die steeds omvangryker Suid-Afrikaanse biblioteek en die feit dat 'n hoogleraar weens die hoë kulturele profiel van Amsterdam sy of haar taak om bekendheid aan die Suid-Afrikaanse letterkunde te gee die beste dáár sou kon uitoefen, is daarna steeds as goeie redes voorgehou vir die behoud van die leerstoel in Amsterdam.

Argumente vir én teen Amsterdam is dikwels ook in een asem genoem met die wenslikheid al dan nie van 'n konsentrasie van Suid-Afrikaners in die hoofstad. Daar is gemeen dat 'n studietydperk in Nederland wedersydse kontak tussen Nederlanders en Suid-Afrikaners moes bevorder terwyl daar 'n gevoel was dat Amsterdamse Suid-Afrikaners te veel 'n kliek gevorm het en te min met Nederlanders gemeng het. Burger het egter in De Dietsche Gedachte van 1938 (Argiefdoos XXII 57) juis gepleit vir "een groote klomp" Suid-Afrikaners in Amsterdam. Hy wys daarop dat daar in die interbellum ongeveer vyftig Suid-Afrikaners per jaar in Amsterdam was wat tot in die Nereus-roeivereniging 'n groot rol gespeel het en ook "die rugbyspel" ingevoer het. Hy roem hulle "nationale bewustzijn" en beweer dat hulle juis as 'n groep en dan in Amsterdam die beste gewapen daarteen sou wees dat hulle "eigen Afrikaansch gevoel" nie steeds meer "verslapt" nie. Ook die jong student P.J. Nienaber8 was gegrepe deur die samehorigheid. So beskryf hy hoe hy op Oujaarsaand 1933 alleen oor die gragte dwaal toe hy plotseling Afrikaanse liedjies hoor en aanklop. Dit was by "proffie Burger" se huis. In dié tyd het Suid-Afrikaners mekaar behalwe by professor en mevrou Burger se huis ook gereeld op Woensdae-aande in die Vondelstraat 60 ontmoet. Burger en sy vrou was veral baie gesteld op Elizabeth Conradie wat dikwels by hulle ingewoon het en volgens talle mense soos 'n dogter vir hulle was.

Die "eigen Afrikaansch gevoel" het 'n probleem begin word toe nasionaal-sosialistiese gedagtes teen die eindjare dertig steeds meer in Europa begin posvat het. Sommige jong Afrikaners, mense wie se ouers nog die Anglo-Boereoorlog van naby meegemaak het, was beslis gevoelig daarvoor en party het sterk anti-Britse sentimente gekoester. So skryf die Nederlandse historikus en Suid-Afrikavriend professor Pieter Geyl: "Van Bettie Conradie en anderen hoorde ik dat de stemming van de Afrikaner studenten in Amsterdam extreem was. Geen aansluiting bij de Nederlanders, samen hokken, bewondering voor Duitsland" (Geyl 2000:38). In 1939 was Geyl uiters geskok oor Conradie se eie Duits-gesinde standpunte. Hy beskryf haar as volg in sy memoires:

Alleraardigse vrouw, Bettie. Zij zal in '37 [toe hy haar ontmoet het - EJ] drie, vierendertig jaar oud geweest zijn. In het Afrikaner academische wereldje had zij een zeer goede naam en veel invloed. Zij verdiende dat ten volle door haar brandende ijver en diepe ernst; er ging iets uit van die persoonlijkheid. Opgewekt en hartelijk bovendien [...]. Trouwens, reeds in Bloemfontein konden wij het uitstekend vinden. Haar geestdrift voor de zaak van het Hollands was oprecht en daarbij goed en redelijk gefundeerd. In de politiek stond zij bewust buiten de verdeeldheid van Malaniet en Herzogiet. Haar nationalisme was er een naar mijn hart (...).

In Amsterdam maakte zij zich dra een hele positie, en er zat in de leerstoel heel wat meer leven dan onder de kleine oude Besselaar. Wij maakten ons wel dikwijls ongerust over haar: zij eiste te veel van zichzelf, zij scheen soms oververmoeid, had geen sterk hart, maar telkens krabbelde zij weer uit haar inzinking op en was even lustig en moedig als tevoren. Zij woonde in bij de oude Prof. Burger, voor wie zij een dochter scheen te zijn. Van N.S.B.-neigingen geen spoor, zij had een Joodse vriendin, het Joodse vraagstuk greep haar in het gemoed.

Welnu, in October 1939 kwam zij, voor het eerst sedert het uitbreken van de oorlog op 1 September, bij ons, onverwachts. Toevallig hadden wij Prof. Post ten eten, en die woonde dus bij dat Bettie, in een verterende opwinding, over de oorlog begon uit te pakken en zwelgde in verwachtingen van de ondergang van het Britse Rijk. Ik wist niet hoe ik het met haar had. Ik vroeg haar of zij vergeten was wat het nationaal-socialisme betekende. Nee; maar de 'vrijheid' van Zuid-Afrika!. Ik vroeg haar of de tegenwoordige staat van zaken geen ontplooiing van Afrikaner cultuur had mogelijk gemaakt en of zij niet vreesde dat Zuid-Afrika een heel wat harder meester (of liever: pas recht een meester!) in het zegevierende Duitsland vinden zou? Ja, maar de vrijheid! De vrijheid! De vrijheid!. Ik zei eindelijk: "en Holland? Zie je niet dat het met ons gedaan is als Duitsland wint? De zelfstandigheid van onze staat niet alleen, maar van onze beschaving ... De Hollander moet wensen, uit nationale overwegingen, uit overwegingen van zelfbehoud, dat Engeland bij machte blijkt om het evenwicht te bewaren. Telt dat voorjou niet mee? Voorjou die zo goed weet wat een betekerus Holland voor de Afrikaners heeft?" Zij bestreed mijn inzicht omtrent de gevolgen van een Duitse overwinning voor Holland eigenlijk niet, maar ten laatste, in een hoekje gedreven, liet zij het grote woord glippen: dat was dan ónze zaak, zij moest aan Zuid-Afrika denken en hier was de grote, de enige kans op de vrijheid! Zij moest bidden om de ondergang van het Britse Rijk! ... Ik trok niet zonder bitterheid, en in wezenlijke gemoedsbeweging, de conclusie: laten wij dan niet meer over stamverbondenheid praten, niet meer doen alsof onze Groot-Nederlandse idealen iets reëels betekenen. Ook wij moeten dan aan onszelf denken.

Een week of wat later is Bettie Conradie te Amsterdam aan longontsteking gestorven. Overwerkt als zij was, had zij geen weerstand. Lien en ik, die ontroerd, gingen naar de begrafenis, waar de oude Burger en zijn vrouw de betuigingen van deelneming in ontvangst namen en waar een grote schaar van vrienden en belangstellenden uit de Amsterdamse academische en uit de Groot-Nederlandse wereld aanwezig was. In mijn herinnering wordt het beeld van Bettie Conradie niet door haar afdwaling die mij kort voor haar dood zo pijnlijk gebleken was, beheerst. Dat gesprek had mij de gevaren van het nationalisme nog eens schril doen beseffen. Maar ik ben ervan overtuigd dat zij er van teruggekomen zou zijn. Ik kan niet geloven dat zij de invasie en de bezetting had kunnen meemaken en Duitsgezind blijven.

Elizabeth Conradie moet seker geëer word vir haar gedrewe inset vir die studie Suid-Afrikaanse letterkunde aan die UvA. Daar is ses dose met dokumente oor haar in die argief van die Zuid-Afrika Huis. Daarin is van alles: korrespondensie met die Akademie, onder andere in verband met die Kommissie vir die Suid-Afrikaanse Boek, spyskaarte van dinees gehou deur die Suid-Afrikaanse Studente-Vereniging SASVIA in Hotel Kransnapolsky, kopieë van voordragte en radiouitsendings, honderde amptelike en persoonlike briewe. Terwyl Doos 5 nog bol staan van die aktiwiteite wat sy aan die ontplooi was, dra Doos 6 die titel "Overlijden en herdenkingen". Sy is onverwags op 36-jarige leefyd in Oktober 1939 oorlede. Conradie se Suid-Afrikaanse Instituut, in 1939 eintlik nie veel meer as 'n klein studiesaaltjie met 'n versameling boeke, vorm die kern van die huidige uitgebreide biblioteek op die Keizersgracht. Dit is daarom geen wonder dat 'n skildery van Elisabeth Conradie steeds sentraal hang in die Zuid-Afrika Huis nie.

Dit is sekerlik tereg dat Kapp (2009:367-369) as geskiedskrywer van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns in sy hoofstuk "Die droom anderkant die horison" baie aandag aan die Amsterdamse jare van Besselaar en Conradie gee.

3.3 Na-oorlogse hooglerare: proff. N.P. van Wyk Louw, H. van der Merwe Scholtz en Ena Jansen

Na die Tweede Wêreldoorlog en jare se onderhandelinge kom N.P. van Wyk Louw vir agt van die vrugbaarste jare van sy bestaan van 1950 tot 1958 as "buitengewoon hoogleraar" na Amsterdam. Jaap Steyn het in sy biografie hierdie fase van sy lewe onder meer aan die hand van die talle dokumente in die Keizersgracht-argiefbeskryf. Hiervan is Louw se briewe aan die here Middelberg en Broekman van die Stichting Leerstoel 'n voorbeeld. Dit dateer uit Maart en April 1947 in antwoord op hulle dringende uitnodiging van meer as 'n jaar eerder om na Nederland te kom. Louw wyt die lang vertraging veral aan "huislike moeilikhede": "die geboorte van 'n dogter, verstorings in huis weens die lang vakansie, en dan nog die vernaamste rede, nl. dat my planne nog so onseker is." In die argief van die Zuid-Afrika Huis is daar ook korrespondensie in verband met Louw se afskeid op 20 Junie 1958 in die Park Hotel aan die Stadhouderskade. Twee sale is bespreek en talle besonderhede word verstrek oor die aand: aankoms- en vertrektye, dat na skatting 35 persone 'n aperitief sou gebruik waarbij "een zoutje" bedien is.9 Om half 7 staan die koue buffet dan gereed waarby 'n "kop bouillon" "geserveerd" is. Daarna het Louw negentien gedigte uit Nuwe verse behandel "in een causerie". Al die gedigte, van "die katstert en die angelier/ verlede jaar was die kind nog hier" tot by "hy kou die vuur/ en die blink in sy bek/ sy nek is tot/ by sy stert gerek", is in getikte vorm te vinde in een van die Louw-argiefdose.

Tussen Van Wyk Louw en die Akademie was daar gereeld skermutselings en Pieter Kapp lewer uitvoerig verslag daarvan in Draer van 'n droom (2009). Die probleme het egter nie met sy funksionering as hoogleraar nie, maar met bekronings van sy skeppende werk te doen gehad. So het Louw reeds in 1937 op 31-jarige leeftyd geweier om die Hertzogprys vir sy debuut Alleenspraak te deel met I.D. du Plessis (vir Vreemde Liefde en Ballades). Vir Louw, een van die vernuwers en voorlopers van die Dertigers, was dit 'n klap in die gesig om die prys met een van die "ouer" digters te moes deel. Kapp (2009:168) som die verhouding tussen die Louw-broers Wyk en Gladstone en die Akademie op as "besonder krities [.] in besonder teenoor die letterkundige oordele van die Akademie se keurkomitees vir letterkundige pryse". Hy voeg hieraan toe dat hulle kritiek "dikwels 'n sterk persoonlike element" bevat het. Van Wyk Louw het die Hertzogprys vyf keer ontvang, onder meer vir kritiese prosa in 1958 en die laaste keer in 1965 vir sy bundel Tristia (1962) wat grootliks in Amsterdam ontstaan het.

Kort ná Louw se vertrek uit Amsterdam word Merwe Scholtz vir twee jaar "gewoon hoogleraar", maar, soos reeds genoem, is die leerstoel ná hom dekades lank onbeset. In 1971 verskyn daar selfs 'n berig in Rapport dat die leerstoel eintlik 'n rusbank sou wees waarop niemand wou gaan sit nie. In werklikheid het dit 'n hot seat geword. Ná Sharpeville (1960) maar seker ná Soweto (1976) was daar geen sprake daarvan dat die leerstoel te midde van die kulturele boikot in die "rooie" stad Amsterdam vervul sou kon word nie. Tydelike dosente, met name Roy Pheiffer, maar veral Truida Lijphart-Bezuidenhout, bied wel jare lank lesings in Afrikaanse letterkunde aan terwyl die Nederlander dr. Hans ten Besten tot aan sy dood enkele jare gelede verantwoordelik was vir die doseer van Afrikaanse taalkunde.

In 1990 en veral na 1994 is daar aan sowel die Vrije Universiteit as die Universiteit van Amsterdam pogings onderneem om universitêre "bande te herstel". Wium van Zyl en 'n aantal ander dosente was tydelike gasdosente aan die VU en die hoogleraar Neerlandistiek Dick van Halsema oorweeg dit selfs om 'n "bijzondere hoogleraarschap" aan die VU te laat instel. Weer is daar byna 'n geskil oor waar die leerstoel gevestig moet word. Uiteindelik slaag die poging van die Suid-Afrikaanse Instituut onder voorsitterskap van Hans Ester om die ou UvA-tradisie in ere te herstel. Van 1994 tot en met 2001 is lesings op versoek van die vakgroep Neerlandistiek deur Ester gegee, maar die ideaal van die SAI-bestuur was die herinstelling van 'n leerstoel. Sief Veltkamp-Visser (2003) som die gang van sake só op:

Na enkele oriënterende gesprekken, diende het bestuur van het SAI op 7 juni 1999 een conceptvoorstel in voor een bijzondere leerstoel Zuid-Afrikaanse letterkunde bij de Faculteit der Geesteswetenschappen van de UvA. Op 27 april 2000 gaf het College van Bestuur toestemming. Bijna een jaar later, op 24 maart 2001 werd de post geadverteerd en begon de selectieprocedure. Op 13 september 2001 droeg het curatorium dr. Ena Jansen voor. Zij werd benoemd en begon in april 2002 haar eerste colleges.

Byna al my studente is Nederlands. Dit is vandag onnodig vir Suid-Afrikaanse studente om spesiaal na Amsterdam te gaan om Suid-Afrikaanse letterkunde te studeer. Die rol wat Louw as mentor vir 'n hele generasie Suid-Afrikaanse letterkundiges soos T.T. Cloete, Ernst Lindenberg, Rialette Wiehahn en Elize Botha gespeel het was uniek.10 Wat tans wel baie gebeur is dat MA-studente en promovendi uit Suid-Afrika en elders navorsing kom doen in die biblioteek en argief aan die Keizersgracht - daarby het ek dikwels 'n adviserende rol. My eie promovendi is Nederlands en onlangs het selfs 'n Russiese vrou uit Duitsland by my gepromoveer. Die doel van my derdejaarskursusse is veral om Nederlandse studente insig te gee in en entoesiasties te maak vir soveel moontlik fasette van die Suid-Afrikaanse letterkunde en samelewing. Telkens het ek 'n tematiese aanpak waarby byvoorbeeld die representasie van stede, die landskap, migrasie of geskiedenis in die letterkunde sentraal staan. Die woord "Zuid-Afrikaanse" in die naam van die leerstoel "Zuid-Afrikaanse taal, letterkunde en geschiedenis" beteken volgens ou Nederlandse gebruik spesifiek Afrikaans. Om meer reg te laat geskied aan die groot verskeidenheid stemme en kulture in Suid-Afrika, het ek egter die vryheid geneem om, ondanks my inbedding by Neerlandistiek, ook Engelstalige Suid-Afrikaanse letterkunde in my onderwys te betrek.11

In die beginjare is nog gereeld beraadslaag oor wat die aard van die verhouding tussen die Amsterdamse leerstoel en die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns kon wees. Die feit dat sowel Gerrit Besselaar as Elizabeth Conradie reeds in Suid-Afrika nou betrokke was by die Akademie en selfs tydens hulle Amsterdamse tyd die rol van Europese afgesante vervul het, het mede hiertoe aanleiding gegee. Hulle na-oorlogse opvolgers se persoonlike bande met die Akademie was van 'n heel ander aard.

Sief Veltkamp-Visser is tans besig met 'n boek oor die geskiedenis van die leerstoel en sal hierin veral fokus op die tydperk van N.P. Van Wyk Louw waarby ook verder ingegaan sal word op bande tussen die Amsterdamse leerstoel en die Akademie. In 'n volgende artikel word meer aandag hieraan gegee.

BIBLIOGRAFIE

Anoniem. Feesalbum 1909-1959. Die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns. 1959. Pretoria: J.L. van Schaik.         [ Links ]

Argief Zuid-Afrika Huis. Genommerde dose VI 56, VI 207, XXII 57 en XXII 61, asook die Besselaar-, Conradie- en Louw-argiewe.         [ Links ]

Besselaar, G. 1933. Afrikaanse taal- en letterkunde universitair studievak te Amsterdam. Amsterdam: N.V Swets & Zeitlinger.         [ Links ]

Conradie, Elizabeth. 1934. Hollandse skrywers uit Suid-Afrika, 'n kultuur-historiese studie Deel I (1652-1875). Pretoria/ Kaapstad: J.H. de Bussy.         [ Links ]

Conradie, E.J.M. 1949. Hollandse skrywers uit Suid-Afrika, 'n kultuur-historiese studie Deel II (1875-1905). Pretoria/ Kaapstad: J.H. de Bussy.         [ Links ]

De Graaff, B.J.H. 1993. De mythe van de stamverwantschap. Nederland en de Afrikaners 1902-1930. Amsterdam: Suid-Afrikaanse Insituut.         [ Links ]

Geyl, Pieter. 2000. Pieter Geyl in Zuid-Afrika. Verslag van de lezingentournee in Zuid-Afrika juli-december 1937. Verzorgd en toegelicht door P. van Hees en A.W. Willemsen. Amsterdam: SAI.         [ Links ]

Huigen, Siegfried. 1996. De weg naar Monomotapa. Nederlandstalige representaties van geografische, historische en sociale werkelijkheden in Zuid-Afrika. Amsterdam: Amsterdam University Press.         [ Links ]

Hoogeveen, Jan. 1982. Briewe uit ou Transvaal. Vertaal en ingelei deur Ena Jansen. Kaapstad ens.: Human & Rousseau.         [ Links ]

Jansen, Ena. "Eva, wat sê hulle?" Konstruksies van Krotoa in Suid-Afrikaanse tekste. 2003. Amsterdam: Amsterdam University Press.         [ Links ]

Jansen, Ena & Sief Veltkamp-Visser. 2003. Elizabeth Conradie (1903-1939). 'n Terugblik op haar lewenswerk. Stilet, 15(2):1-19.         [ Links ]

Kapp, Pieter. 2009. Draer van 'n droom. Die geskiedenis van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns (1909-2009). Hermanus: Hemel & See Boeke.         [ Links ]

Liebenberg, Otto. 1998. Dr. Bettie Conradie (1903-1939) se erflating. Ongepubliseerde referaat. Bloem-fontein: NALN.         [ Links ]

Louw, N.P. van Wyk. 1950. Die digter as intellektueel. 's-Gravenhage: A.A.M. Stols/ Johannesburg: Constantia.         [ Links ]

Scholtz, H. van der Merwe. 1959. In en om die gedig. Kaapstad: Human & Rousseau.         [ Links ]

Schutte, G.J. 1986. Nederland en de Afrikaners. Adhesie en aversie. Franeker: T. Wever.         [ Links ]

Veltkamp-Visser, Sief. 2003. De eerste leerstoel Afrikaans in Amsterdam. Zuid-Afrika, 80(4/5):50-53.         [ Links ]

 

 

Ena Jansen het 'n MA oor Karel Schoeman se buitestaanderkarakters aan die Universiteit van Stellenbosch in 1974 voltooi voordat sy 'n doktoraal cum laude in teoretiese literatuurwetenskap in Utrecht verwerf en as vryskutjoernalis in Amsterdam gewerk het. Tussen 1984 en 2001 was sy dosent by Wits se Afrikaans en Nederlands departement waar sy gepromoveer het met 'n proefskrif oor Elisabeth Eybers. Afstand en verbintenis. Elisabeth Eybers in Amsterdam het sowel in Suid-Afrika as in Nederland in handelsuitgawes verskyn.
Tydens haar laaste jare by Wits was sy aktief as boekjoernalis en het resensies vir veral De Kat en Vrye Weekblad geskryf. Sedert 2001 woon sy weer in Amsterdam en doseer moderne Nederlandse letterkunde aan die VU en is sedert 2002 hoogleraar Suid-Afrikaanse letterkunde aan die Universiteit van Amsterdam. Sy was lid van die Letterkundekommissie (1996-1999), ontvanger van die Elisabeth Eybers-beurs in 1998 en is sedert Mei 2007 lid van die Akademie. Die afgelope jare was sy pleitbesorger vir die behoud van die Zuid-Afrika Huis aan die Keizersgracht 141 in Amsterdam en het talle artikels geskryf, lesings gehou en 'n petisie van akademici gelei om dié belangrike erfgoedplek vir die nageslag te help bewaar. Benewens artikels en boeke oor Eybers, die Boere-oorlog, migrasie en stede in die literatuur, skryf sy die afgelope tyd veral oor slaweromans en die representasie van huisbe-diendes. Soos familie, haar boek oor huispersoneel in die Suid-Afrikaanse letterkunde sal in 2014 by Protea Boekhuis verskyn.
Ena Jansen studied at the universities of Stellenbosch and Utrecht. She taught for sixteen years at the University of the Witwatersrand where she obtained her PhD in 1992 before moving again to the Netherlands in 2001 where she teaches Dutch literature at the Free University. She is also Professor of South African literature at the University of Amsterdam and research fellow at the University of Johannesburg. Her publications include Afstand en verbintenis. Elisabeth Eybers in Amsterdam (1996 and 1998 - in Afrikaans and Dutch editions); as well as books and articles on the Boer War, migrant literature, city novels, slavery novels and the representation of families in literature. Her inaugural lecture on constructions of Jan van Riebeeck's interpreter Eva/Krotoa as well as many articles are available on internet. Her book on the role of domestic workers in South African city novels will be published in 2014. She played a leading role in safeguarding the future of the Zuid-Afrika Huis in Amsterdam. She was a recipient of the Elisabeth Eybers bursary in 1998, a member of the Commission for Literature (19961999) en has been a member of the South African Academy for Science and Arts since 2007.
1 Hierdie artikel is 'n verwerking van lesings wat ek op Stellenbosch oor die leerstoel gehou het tydens kongresse van die Afrikaanse Letterkundevereniging in September 2006 en van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns in September 2013. Gebruik is telkens gemaak van Veltkamp-Visser (2003), Jansen (2003), en Jansen en Veltkamp-Visser (2003).
2 Besselaar het ook onderwys in Engeland gegee en onder andere by Grey College skoolgehou voordat hy hoogleraar geword het in Pietermaritzburg. Sy proefskrif getitel Zuid-Afrika in de letterkunde (1914) word steeds as 'n belangrike publikasie beskou.
3 Marie Botha is later met die Hollandse Neerlandikus en historikus Dirk Bax getroud. Sy het in Oktober 1935 van die Universiteit van die Witwatersrand in Johannesburg (waar Elisabeth Eybers 'n vriendin van haar was) na Amsterdam gegaan om haar studie Nederlands voort te sit en sy het ook vir 'n tydjie Afrikaans by Besselaar gestudeer. Saam met medestudent W.E.G. Louw het sy in die "Commissie tot verspreiding van het Afrikaanse boek in Nederland" sitting gehad.
4 Sien Hoogeveen 1982.
5 Soos wat verder op gesien word, word ook die "skamele" bedrag £10 genoem.
6 Sief Veltkamp-Visser, destyds direkteur van die Zuid-Afrika Huis, en ek het in 2003, 'n eeu ná haar geboortejaar, saam 'n artikel oor Conradie vir Stilet geskryf.
7 Sien onder andere Huigen (1996) en Jansen (2003) vir besprekings van haar bydrae.
8 P.J. Nienaber was 'n student van Conradie aan UKOVS. Toe Conradie eind 1933 na Nederland is om te promoveer, was hy op dieselfde skip na Nederland om daar verder te gaan studeer (Liebenberg 1998).
9 Elisabeth Eybers en haar man was toevallig in Junie 1958 in Amsterdam en by die afskeidsgeleentheid aanwesig.
10 Elize Botha gee jare later 'n pragtige beskrywing in 'n liber amicorum vir haar medestudent Roy Pheiffer van hoe dit was om student van Louw te wees.
11 Tydens my referaat oor die leerstoel voor die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns het ek afgesluit met die volgende verwysing na huidige bekendes in Akademie-kringe: "Hennie van Coller was by my orasie in April 2003 aanwesig - destyds het ek gedink dat dit toevallig was, maar nou wonder ek of dit dalk in sy hoedanigheid as lid van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns was. Dat Wannie Carstens tien jaar later, tydens die studiejaar 2012-2013 'n klas gegee het in my jaarlikse lesingreeks is dalk ook nie toevallig nie. Hulle besoeke kan as 'n 21ste eeuse bevestiging van bande tussen die Akademie en die leerstoelhouer beskou word. Vandaar dan ook dat ek die 80-jarige bestaan van die Amsterdamse leerstoel Suid-Afrikaanse letterkunde by hierdie kongres van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns wou vier." My eie betrokkenheid by die Akademie is dat ek 'n volle lid is sedert Mei 2007, in 1998 een van die eerste ontvangers van die Elisabeth Eybersbeurs was en lid was van die Letterkundekommissie 1996-1999.

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License