SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.54 issue3Oxford-upon-Amstel. The Amsterdam chair of South African Literature eighty years old. The early years and relations with the South African Academy for Science and Arts author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Tydskrif vir Geesteswetenskappe

On-line version ISSN 2224-7912

Tydskr. geesteswet. vol.54 n.3 Pretoria Sep. 2014

 

NAVORSINGS- EN OORSIGARTIKELS

 

Inleidende opmerkings

 

 

Op 13 September 2013 vind die gewone Simposium en Jaarvergadering van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns plaas in Stellenbosch. Tydens die simposium word ook 'n letterkunde-sessie aangebied met lesings wat agterafbekyk op verrassende wyse by mekaar aansluit.

Die drie geselekteerde studies het naamlik elkeen 'n historiese inslag en belig ook op eiesoortige wyse die verhouding tussen die Nederlandse en Afrikaanse letterkundes of Nederland en Suid-Afrika. In haar artikel getiteld "Oxford aan die Amstel: Leerstoel Suid-Afrikaanse letterkunde in Amsterdam 80 jaar oud. Die beginjare en vroeë kontakte met die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns" fokus Ena Jansen spesifiek op die geskiedenis van die Amsterdamse letterkunde-leerstoel (en die (sporadiese) rol van die Suid-Afrikaanse Akademie).

Uit haar studie blyk dat die geskiedenis van hierdie leerstoel altyd in die teken gestaan het van omstredenheid (oor byvoorbeeld waar so 'n leerstoel gehuisves moes word) en dat politieke en ideologiese oorwegings ook voortdurend 'n rol speel. Waar "Suid-Afrikaans" in die aanvangsfase byvoorbeeld duidelik gebruik is as sinoniem vir "Afrikaans" is daar mettertyd 'n veel meer inklusiewe betekenis daaraan geheg in die sin van letterkunde behorende tot Suid-Afrika en byvoorbeeld ook in Engels.

Pamela Pattynama se studie is veel meer direk vergelykend van aard en handel oor 'n ondersoek na die representasie van mense van 'n "gemengde ras" in beide die Nederlandse en die Afrikaanse letterkundes in die tydperk 1900-1950. In die eerste geval word die ondersoek toegespits op representasies van die sogenaamde "Indo" of mense van gemengde ras uit Indonesië ("Nederlands Indië") in die Nederlandse letterkunde. In haar uiteensetting van die onderliggende aannames en uitgangspunte word beklemtoon dat gefokus sal word op die onderskeie opvattings van "gemengde ras", op rasse-verhoudings en op kulturele interaksies.

In sy studie, "Die skryf van 'n Nederlandse literatuurgeskiedenis, generiese kenmerke as wetmatighede?", lewer H.P. van Coller verslag van die skryfvan z'n Nederlandse literatuurgeskiedenis in Afrikaans. In hierdie proses het bepaalde verbande tussen die twee letterkundige sisteme opgeval, maar ook ander "wetmatighede" waaronder die opeenvolgende fases van ontwikkeling van Wes-Europese literature, die kanoniseringstrategieë van nuwe literêre groepe of bewegings en die rol van institusies, kritici en spilfigure in die vestiging van bepaalde poëtikas. Van Coller se eindbevinding is dat alle letterkundige tekste nie dieselfde potensiaal bevat vir 'n estetiese realisasie of lesing nie.

Hoewel nie aanvanklik deel van die simposium-lesings nie, sluit J.C. Steyn se artikel "Nederlandstaliges se bydraes tot die behoud en erkenning van Afrikaans 1870-1920" goed aan by die ander genoemde artikels. Sy tese is dat Nederlandstalige letter- en taalkundiges, joernaliste, uitgewers en veral onderwysers, 'n bepalende rol gespeel het in die suksesvolle Afrikaanse taalbeweging(s) in die laat 19e en vroeë 20e eeue. Naas inspirasie en morele steun geld veral die Vlaminge as voorbeeld van 'n suksesvolle taalstryd. Maar boonop gee Nederlandstalige geleerdes dikwels wetenskaplike erkenning aan Afrikaans as afsonderlike en bruikbare taal en speel die Nederlandstalige onderwysers en joernaliste 'n bepalende rol in die verset teen verengelsing van die onderwys en joernalistiek onderskeidelik.

Op die oog af het Angelique van Niekerk en Elmarie Lubbe se artikel "Retoriese stylfigure as intertekstuele spel in advertensiekommunikasie" weinig te make met die res omdat dit 'n toespitsing is op Afrikaans met geen vermelding van Nederlands nie. In Ena Jansen se artikel word vlugtig verwys na (H. van der) Merwe Scholtz, die opvolger van N.P. van Wyk Louw. Scholtz het in 1955 (saam met W.G. Hellinga) die standaardwerk, Kreatiewe analise van taalgebruik gepubliseer, steeds een van die handjievol boeke deur 'n (Suid-)Afrikaanse letterkundige wat internasionale uitstraling gehad het. In hierdie werk wat onder die literêre stilistiek (of stilistiek op linguistiese grondslag) tuishoort, word taal- en letterkunde op 'n boeiende wyse gekombineer in hul eksemplariese "close-reading" van 'n Leopold-teks.

Van Niekerk en Lubbe se eie analise van reklametekste is eweneens 'n kombinasie van letterkundige kunsgrepe (soos metaforiek en vergelykings), taalkunde (onder andere idiome en personifikasie) en semiotiek. Hoewel hulle die term nooit gebruik nie, is die aanduiding van strategieë waarop gefokus word om die leser se aandag te trek, verwant aan ostranenie of vervreemding wat reeds deur die Russiese Formaliste onderskei is en ook 'n nawerking het in Hellinga en Scholtz se boek.

Uit die artikels blyk sonder meer dat die Nederlandse taal- en letterkunde nie net 'n studieveld is wat steeds met vrug nagevors kan word nie, maar ook op diverse wyses 'n verryking bied vir die bestudering van die Afrikaanse taal- en letterkunde.

H.P. van Coller
Julie 2014

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License