SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.54 número2Irrational beliefs of adolescents who experience group pressureEffectiveness of the school-based support team within an inclusive South African educational system índice de autoresíndice de assuntospesquisa de artigos
Home Pagelista alfabética de periódicos  

Serviços Personalizados

Artigo

Indicadores

Links relacionados

  • Em processo de indexaçãoCitado por Google
  • Em processo de indexaçãoSimilares em Google

Compartilhar


Tydskrif vir Geesteswetenskappe

versão On-line ISSN 2224-7912
versão impressa ISSN 0041-4751

Tydskr. geesteswet. vol.54 no.2 Pretoria Jun. 2014

 

NAVORSINGS- EN OORSIGARTIKELS RESEARCH AND REVIEW ARTICLES

 

Ouers se ervaring van deelname aan 'n perdondersteunde ouerleidingsprogram

 

Parents' experience of participation in an equine-assisted parental guidance programme

 

 

Carel van Wyk

Departement Maatskaplike Werk, Universiteit van die Vrystaat, Bloemfontein vanwykcj@ufs.ac.za

 

 


OPSOMMING

'n Verskeidenheid terapeutiese programme waarin perde benut word, word deur geestesgesond-heidsterapeute gebruik om die psigososiale funksionering van kliënte te verbeter. Dit blyk egter dat nie al hierdie terapeutiese programme oor 'n navorsingsbasis beskik nie. Navorsing aangaande genoemde programme is dus noodsaaklik, sodat die kliënt op die beste moontlike wyse terapeuties gehelp kan word. Die doel van hierdie studie is derhalwe 'n ondersoek na die subjektiewe belewenisse van kliënte wat aan 'n perd-ondersteunde ouerleidingsprogram deelgeneem het ten einde aanpassings aan die program vir toekomstige gebruik te maak. Die studie kan ook as basis dien vir verdere kwantitatiewe, bewysgebaseerde navorsing. Die kwalitatiewe navorsingsparadigma, met 'n fenomenologiese ontwerp, is in hierdie studie gevolg. 'n Doelbewuste niewaarskyn-likheidsteekproef van ses deelnemers is getrek en data is deur middel van vraelyste met geslote sowel as oopeinde-vrae en semigestruktureerde persoonlike onderhoude ingesamel. Hierna is dit volgens die stappe van beskrywende fenomenologie geanaliseer. Daar is onder andere bevind dat die deelnemers die beginsels van die perd-ondersteunde ouerleidingsprogram begryp het, dat selfinsig en insig in hulle kinders se gedrag en ontwikkelingsfase verhoog het en dat hulle alternatiewe wyses om hulle kinders te hanteer, begin benut het. Die feit dat die program nie op individuele vlak aangebied is nie, is as 'n leemte aangedui. Daar is verder bevind dat die deelnemers die benutting van die perde as waardevol ervaar het en dat hulle perde verkies bo ander lewende of sagte speelgoeddiere.

Trefwoorde: ouerleidingsprogram; ouerskapvaardighede; pleegsorg; kinders met gedragsuitdagings; dier-ondersteunde terapie; perd-ondersteunde terapeutiese program; perd-ondersteunde psigoterapie; fenomenologie; beskrywend fenomenologiese analise


ABSTRACT

Equine-assisted psychotherapy (EAP) is primarily a solution orientated therapeutic modality where horses are used to address different psychosocial needs of clients. Several EAP therapeutic programmes exist but it appears that they have not been subjected to scientific research. Therefore, an existing parental guidance programme was integrated with EAP principles and a descriptive phenomenological analysis of the personal experiences of parents in this regard was undertaken as a way to gain deeper insight in the participants' experience of the programme to inform future practice.This study can serve as the basis for further quantitative, evidence-based research. The parental guidance programme under investigation consists of several contact sessions. The contents of the different contact sessions are communication, the drafting of house rules, discipline and having house meetings. The programme was offered in a practical manner within the context of a group, in that the above aspects were discussed by means of a workbook. The theoretical discussion of the content was extended by means of equine-assisted psychotherapeutic activities. The purpose of the utilisation of the equine-assisted psychotherapeutic activities was to address parents 'handling of problems in the here and now. The parental guidance programme is therefore combined with equine-assisted psychotherapy. The qualitative research paradigm was utilised, because the personal experience of participants in an equine-assisted parental guidance programme was the focus. A phenomenological research design was followed as guideline for the research procedures. Non-probability sampling was used to select six participants for participation in the study. Trustworthiness was ensured through triangulation by collecting data by means of different methods at different times. The data collection methods included questionnaires with both closed and open-ended questions and semi-structured interviews. The data were analysed and interpreted according to the process of descriptive phenomenology. It was found, inter alia, that the participants understood the principles of the equine-assisted parental guidance programme and that their insight into themselves as well as the developmental phase of their children had increased. Alternative ways of handling their children were acquired and applied. The fact that the equine-assisted parental training programme was not offered individually for parents, was indicated as a limitation. It was determined that anthropomorphism had occurred. This can be applied therapeutically because the projection of human traits and relationship patterns unto the horses can be processed with the clients in the here-and-now. The results indicated, for example, that participants preferred the application of horses in the parental guidance programme to the utilisation of other animals or stuffed animals. Recommendations for further research include the following: Qualitative as well as quantitative research investigations should be launched after the utilisation of horses, to determine the effectiveness of their use as part of a parental guidance programme. The launching of quantitative research could bring the equine-assisted parental guidance programme into the cadre of evidence-based research and evidence-based practice. Recommendations for practice are that clients who engage in the equine-assisted parental training programme can also engage in individual therapeutic sessions in order to address specific, individual psychosocial challenges. Individual feedback on specific observations pertaining to their interactional patterns could also be provided to clients upon completion of the equine-assisted parental training programme.

Key concepts: parental guidance programme; parental skills; foster care; children with behavioural challenges; animal-assisted therapy; horse-assisted therapeutic programme; equine-assisted psychotherapy; phenomenology; descriptive phenomenological analysis


 

 

INLEIDING

Perde word in 'n verskeidenheid terapeutiese programme deur onder andere maatskaplike werkers en sielkundiges benut om die psigososiale funksionering van kliënte te bevorder (sien Tabel 1, Bylaag 1). Hierdie perd-gebaseerde terapeutiese programme wissel byvoorbeeld van programme vir kinders in konflik met die gereg tot programme wat op huweliksfunksionering en ouerleiding fokus. Uit 'n totaal van 15 perd-ondersteunde terapeutiese programme wat nagegaan is, het slegs een program oor 'n navorsingsbasis beskik (sien Tabel 1, Bylaag 1). Bogenoemde bevinding sluit aan by dié van Chalmers en Dell (2011:61) wat noem dat "uiters min" empiriese navorsing bestaan waar die psigososiale impak van perd-ondersteunde terapie op jeug- of volwasse populasies ondersoek is. Thomson, Iacobucci en Varney (2012:374;384;386) het ook bevind dat perdeterapieprogramme vir persone met gestremdhede nie voldoende nagevors is nie, dat beweringe oor die waarde van perdeprogramme nie op "sistematiese empirisme" berus nie en dat lidmaatskap van byvoorbeeld EAGALA nie kwaliteit waarborg nie. Hieruit blyk dit dat empiriese navorsing oor al die verskillende perdeterapie-dissiplines heen minder beskikbaar is. Dit is dus noodsaaklik om perd-ondersteunde terapeutiese modaliteite aan verdere empiriese navorsing bloot te stel ten einde genoemde leemte te vul. In hierdie studie word daar spesifiek gefokus op 'n perd-ondersteunde ouerleidingsprogram in die konteks van perd-ondersteunde psigoterapie soos hieronder uiteengesit.

Finlay (2011:par.292) stel die volgende vraag aangaande effektiewe terapeutiese praktyk in die konteks van fenomenologiese navorsing: "How can in-depth understanding of one patient's experience be presented so as to give insight that informs future practice". Die doel van die artikel sluit by bogenoemde vraag aan deur resultate weer te gee van 'n beskrywend fenomenologiese ondersoek na die ervaring van kliënte ten opsigte van spesifieke aspekte van 'n perd-ondersteunde ouerleidingsprogram waaraan hulle deelgeneem het, sodat die program vir toekomstige praktykbenutting aangepas kan word. In hierdie geval word inligting uit die analise van een groep deelnemers se ervaringe gebruik om die program aan te pas vir toekomstige groepe kliënte. Dit word in die vooruitsig gestel om genoemde perd-ondersteunde ouerleidingsprogram dan aan verdere kwantitatiewe, bewysgebaseerde navorsing te onderwerp. Die huidige ondersoek word dus as die eerste ondersoek in 'n reeks van ondersoeke gesien.

Vervolgens word perd-ondersteunde psigoterapie, asook die ouerleidingsprogram waaraan die kliënte deelgeneem het, beskryf. Dit word opgevolg met 'n bondige uiteensetting van die fenomenologiese navorsingsmetodologie en 'n bespreking van die resultate wat in die konteks van verkennende en beskrywende navorsing in die kwalitatiewe navorsingsparadigma gedoen is. Die artikel word afgesluit met gevolgtrekkings en aanbevelings ten opsigte van die benutting van perde in die konteks van 'n ouerleidingsprogram.

 

PERD-ONDERSTEUNDE PSIGOTERAPIE

Perd-ondersteunde terapie is 'n vorm van dier-ondersteunde terapie (Thomson et al. 2012:373374). Soos daar verskillende vorme van dier-ondersteunde terapieë voorkom, kom daar ook verskillende vorme van perd-ondersteunde terapieë voor, waarvan terapeutiese perdry, perdry vir persone met gestremdhede, hippoterapie, perd-ondersteunde psigoterapie, perd-gefasiliteerde afrigting, perd-begeleide opvoeding en perd-gefasiliteerde ervaringsleer voorbeelde is (Coates 2008:137-138; Thomson et al. 2012:374). Hallberg (2008:287-288) onderskei verder tussen die volgende vorme van perdeterapie: perd-gefasiliteerde psigoterapie, perd-gefasiliteerde berading, perd-ondersteunde psigoterapie, perd-gefasiliteerde kort-intensiewe, perd-gefasiliteerde leer, perd-ondersteunde ervaringsleer-opleiding, perd-gefasiliteerde professionele afrigting en perd-gefasiliteerde menslike ontwikkeling. Perd-ondersteunde opleiding is nog 'n vorm van perdeterapie (Harris, Krebs, Schertler & Stevenson 2010). Verskillende praktykmodelle het vanuit bogenoemde perdeterapieë ontwikkel. Die "HEAL Model TM" is byvoorbeeld gebaseer op die beginsels van perd-gefasiliteerde psigoterapie (Shambo, Young & Madera 2013:par.470), terwyl die "C.R.E.S.T. © Model" 'n praktykmodel is wat op die beginsels van perd-ondersteunde psigoterapeutiese beginsels geskoei is (Miller & Nussen 2014:par.51). Volgens Shambo et al. (2013:par.470) is dit belangrik om te let op die subtiele verskille tussen perd-ondersteunde en perd-gefasiliteerde psigoterapie (my klem). Sy verduidelik onder andere dat die perd as 'n gereedskapstuk in die perd-ondersteunde terapieë benut word, terwyl die perd in die perd-gefasiliteerde terapieë meer as 'n gelyke van die terapeut geag word en dat die perd 'n groter rol speel om die terapeutiese proses te lei (Shambo et al. 2014:par.470 & 3104). Hieruit blyk dit dat elke begrip in die arena van "perdterapie" 'n spesifieke betekenis het en dat die verskillende perdeterapie-begrippe nie sonder meer as sinonieme gebruik kan word nie.

Aangesien perd-ondersteunde psigoterapie soos deur die Equine Assisted Growth and Learning Association (EAGALA) geskep en ontwikkel is, in hierdie studie as terapeutiese modaliteit vir die ouerleidingsprogram benut is, word dit vervolgens verder omskryf. In Engels word daarna verwys as "equine-assisted psychotherapy" en afgekort as "EAP". Perd-ondersteunde psigoterapie is 'n spesifieke vorm van perdterapie. Indien dit nie beoefen word soos onder uiteengesit nie, word perd-ondersteunde psigoterapie nie beoefen nie, maar een of ander vorm van "perdeterapie". Volgens O.K. Corral Series het Greg Kersten die term "perd-ondersteunde psigoterapie" ("Equine Assisted Psychotherapy") geskep wat voorheen glad nie deur enige ander persoon gebruik is nie. Die term is geskep om die unieke terapeutiese werk met behulp van perde wat hy met kinders in riskante omstandighede gedoen het, te beskryf (O.K. Corral Series 2013).

Volgens Hallberg (2008) word perd-ondersteunde psigoterapie onderskei van die ander vorme van perd-ondersteunde terapieë op grond van die volgende aspekte:

1. Daar is 'n inherente risiko verbonde aan die beoefening van perd-ondersteunde psigoterapie, aangesien die prooi-roofdier dinamika tydens die aktiwiteite met die perde ontlok word en die fisiese veiligheid van die kliënt gekompromitteer kan word (Hallberg 2008:330 & 331). In perd-gefasiliteerde psigoterapieë sal die prooi-roofdier dinamika gevolglik nie deur middel van die perde-aktiwiteite geaktiveer word nie.

2. Veiligheidsaspekte in die teenwoordigheid van perde word nie vooraf met kliënte hanteer nie (Hallberg 2008:332; EAGALA 2009:41-49), terwyl dit wel gedoen word in byvoorbeeld die geval van perd-ondersteunde berading (Weston-Thomson 2012:235-236).

3. Perd-ondersteunde psigoterapie is nie verhoudingsgeoriënteerd nie, maar aktiwiteitsgeoriënteerd. Daar word ook minder op die perd gefokus in vergelyking met ander vorme van perdeterapieë (Hallberg 2008:336; 340).

4. Volgens Hallberg (2008:338) is perd-ondersteunde psigoterapie aanvanklik nie ontwikkel met die oog op hulpverlening aan individue nie, maar eerder groepe. Soos bo aangedui, het perd-ondersteunde psigoterapie sy oorsprong in die terapeutiese werk met kinders in riskante omstandighede.

Perd-ondersteunde psigoterapie word deur EAGALA (2009:13) beskryf as die inkorporering van perde by die terapeutiese proses om groei en leer by die kliënt te bevorder. 'n Terapeutiese spanbenadering word gevolg. Hierdie span bestaan uit 'n professionele persoon in geestesgesondheid (byvoorbeeld maatskaplike werker of sielkundige) en 'n perdespesialis. Eersgenoemde fokus op die emosies, gedrag en nieverbale kommunikasie van die kliënt, terwyl laasgenoemde op die nieverbale kommunikasie van die perde en veiligheidsaspekte fokus. Nadat 'n perde-aktiwiteit aan die kliënte gegee is, word die kliënte en die perde deur die terapeutiese span geobserveer. Wanneer die aktiwiteit afgehandel is, word dit aan die hand van die ervaringsleerproses terapeuties geprosesseer. Die perdespesialis interpreteer die nieverbale kommunikasie van die perde vir die terapeut soos nodig. Die inligting word dan op 'n dieper terapeutiese vlak deur die geestesgesondheidsterapeut met die kliënt bespreek (vgl. Chandler 2005:112; EAGALA 2009:17-18). Bereiking van terapeutiese doelwitte word dus nagestreef deur 'n gesamentlike poging van die geestesgesondheidsterapeut en die perdespesialis in hulle terapeutiese werk met die perde en kliënte.

Perd-ondersteunde psigoterapie word as 'n ervaringsleer-modaliteit gesien. Dit impliseer dat kliënte meer van hulleself leer deur aan aktiwiteite met perde deel te neem, waarná die aktiwiteit terapeuties geprosesseer word deur op die kliënt se denke, oortuiginge, gedrag en patrone te fokus (EAGALA 2009:13).

EAGALA (2009:26) volg die Sokratiese benadering wat 'n "houding van onkunde" impliseer en dat kliënte self antwoorde op hulle probleme vind. Paul en Elder (2006:par.58) verduidelik dat Sokratiese vrae "sistematies", "gedissiplineerd" en "diep" is en dat dit gewoonlik op beginsels, teorieë, kwessies of probleme gerig is. In die konteks van perd-ondersteunde psigoterapie word vrae dus op 'n gedissiplineerde en sistematiese wyse aan kliënte gestel wanneer 'n perde-aktiwiteit afgehandel is en die aktiwiteit met die kliënte geprosesseer word, sodat die kliënte bewus word van hulle selfontwikkelde teorieë en persepsies aangaande hulself en hul leefwêreld, hulle onbewuste denke, gevoelens en emosies. Sodoende ontwikkel kliënte insig in hulle probleme en pragmatiese aksies kan ontwikkel word om dit op te los.

In perd-ondersteunde psigoterapie word daar op die intra-psigiese prosesse van kliënte gefokus en nie noodwendig op die inhoudelike van 'n spesifieke aktiwiteit nie (EAGALA 2009:25). Dit impliseer onder andere dat die hier-en-nou belangrik is, met ander woorde wat op die oomblik tussen die perde en die kliënt gebeur; hoe die kliënt die aktiwiteit aanpak; op watter wyse die aktiwiteit uitgevoer word; en wat die kliënt se persoonlike ervaring ten opsigte van die uitkoms van die aktiwiteit is. Of die kliënt "sukses" met die aktiwiteit behaal of nie, is dus van minder belang, terwyl die beplanning en ervaring en gedrag tydens die uitvoering van die aktiwiteit en hoe die kliënt die eindresultaat van die aktiwiteit ervaar (kognitief en emosioneel), wel van belang is. Soos uit bogenoemde afgelei kan word, val die klem nie op die kliënt se verlede nie, maar op die hier-en-nou.

 

DIE HANTERINGSMODEL

Die perde is in die konteks van 'n ouerleidingsprogram, Die Hanteringsmodel, wat onder leiding van Cilliers (s.a.) van die eertydse Kinderleidingkliniek te Bloemfontein ontwikkel is, benut. Die doel van die ouerleidingsprogram is om ouers met basiese vaardighede toe te rus ten einde die gesinsisteem hiërargies te herstruktureer. Dit beteken dus dat die gesag in die gesinsubsisteem in die ouerlike-subsisteem gesetel moet word. Die klem val gevolglik op die gesinsisteem as geheel en nie op 'n individuele kind se spesifieke probleemgedrag nie (vgl. Cilliers s.a.).

Die ontwikkeling van die Hanteringsmodel het uit verskillende fases bestaan. In die eerste fase is kinders wat met gedragsprobleme presenteer het en na die Kinderleidingkliniek verwys is, geïdentifiseer. Kinders met psigose en gedragsprobleme met 'n biologiese oorsprong, is nie by die eksperiment ingesluit nie. Die deelnemende kinders is klinies, maar nie psigometries geassesseer nie. Tydens die tweede fase van die eksperiment is onderhoude met die ouers gevoer en die ouers is afsonderlik van agter 'n eenrigtingskerm waargeneem terwyl hulle met hulle kinders gespeel het. Elke sessie is opgevolg met 'n onderhoud met die ouers waartydens terugvoer oor die hantering van die kind verskaf is en die vrae van die ouers beantwoord is. Na die ontleding van die onderhoude met die ouers, is 'n aantal gemeenskaplike faktore geïdentifiseer wat by die meeste ouers teenwoordig was en moontlik aanleiding kon gee tot die ontwikkeling van gedragsprobleme by hulle kinders. Van hierdie gemeenskaplike faktore teenwoordig by die ouers was byvoorbeeld: die afwesigheid van 'n eenvoudige struktuur/roetine in die gesin; reëls is nie konsekwent toegepas nie; straf is onoordeelkundig en ontoepaslik toegedien; ouers tree aggressief in plaas van ferm op; swak huweliksverhouding was aanwesig; afwesige vader; kind onbepland; bindingsprobleme. Tydens die laaste fase is die Hanteringsmodel ontwikkel. Die kern van hierdie ouerleidingsprogram is die ondersteuning van die ouers ten opsigte van meer effektiewe kommunikasie met hulle kinders, die opstel van huisreëls vir die kinders, die ontwikkeling van toepaslike wyses van dissiplinering sou die huisreëls oortree word en die beginsels van die hou van 'n gesinsvergadering. Elke aspek word tydens 'n groepsessie met die ouers bespreek. Die ouers ontvang werkskaarte vir elke sessie. Die ouers moet dan byvoorbeeld huisreëls vir hulle kind op die werkskaart neerskryf. Tydens die volgende sessie werk die terapeut saam met die ouers deur hulle huisreëls om die toepaslikheid daarvan te bepaal en daar word dan van die ouers verwag om toepaslike metodes van dissiplinering op 'n volgende werkskaart neer te skryf. Dit word dan tydens die groepsessies bespreek en die terapeut moet onder andere toesien dat die huisreëls en die metodes van dissiplinering ouderdomstoepaslik is en logies met mekaar verband hou. Tydens die laaste groepsessie word die ouers ten opsigte van die basiese beginsels van 'n gesinsvergadering ingelig. Daar word van die ouers verwag om 'n datum vir 'n gesinsvergadering te bepaal. Tydens die gesinsvergadering moet die ouers onder andere die huisreëls aan die kinders bekend stel asook die gevolge indien dit oortree sou word (vgl. Cilliers s.a.). Die skrywer reël ook na ses weke 'n opvolgsessie met die ouers om onduidelikhede op te klaar en vrae te beantwoord. 'n Oop-deur-beleid word deurgaans gevolg. Afgesien van die bykomende sessie wat deur die skrywer gereël word, word hierdie ouerleidingsprogram ook met perde-aktiwiteite gekombineer wat op die beginsels van perd-gebaseerde psigoterapie gebaseer word.

Die integrasie van perde-aktiwiteite in die ouerleidingsprogram is 'n nuwe komponent wat by die program gevoeg is. Dit is gedoen deur sekere perdgebaseerde aktiwiteite met elke teoretiese bespreking van die onderskeie komponente van die ouerleidingsprogram af te paar. Nadat die teoretiese inligting met die ouers bespreek is, is 'n perdgebaseerde aktiwiteit gedoen. Die wyse waarop die ouers die aktiwiteit oor die algemeen benader het, hulle hanteringstrategieë en die projeksies van die ouers op die perde is terapeuties deur die terapeut en die perdespesialis met die ouers hanteer.

 

NAVORSINGSMETODOLOGIE

Die studie word vanuit 'n kwalitatiewe navorsingsparadigma gedoen. Denzin en Lincoln (2011:3) beskryf kwalitatiewe navorsing onder andere as navorsing waar die navorser verskynsels in hulle natuurlike ekologie bestudeer deur die betekenis wat mense aan die verskynsels heg, te interpreteer. Dit impliseer noue kontak tussen die navorser en die deelnemer en dat verskynsels uit verskillende hoeke geïnterpreteer kan word. Na aanleiding van die doel van die studie, word daar gefokus op die wyse waarop kliënte 'n perd-ondersteunde ouerleidingsprogram ervaar.

Fenomenologie word beskou as 'n filosofie, sowel as 'n metode, waarvolgens die navorser die essensie van menslike ervaringe van 'n fenomeen op grond van die deelnemers se beskrywing identifiseer (Moustakas 1994 in Creswell 2009:par. 601-614). Die navorser beoog dus om sonder 'n voorafbepaalde teoretiese oriëntering die wesenlike van die deelnemers se ervaringe ten opsigte van 'n fenomeen saam te stel (Creswell 2009:1624). Fenomenologie, wat as die navorsingsontwerp van hierdie studie benut is, fokus ook op wat op die oomblik gebeur (McLeod 2011:22). Die doel van fenomenologie behels 'n volledige beskrywing van 'n verskynsel van alledaagse ervaring om sodoende tot 'n beter begrip van die essensiële strukture van die verskynsel te kom, soos dit in die konkrete ervaring van die deelnemer bestaan (McLeod 2011:25, 89). Smith, Flowers en Larkin (2009:32) beskryf fenomenologie as 'n filosofiese benadering wat die ervaring van die mens, soos wat hy/sy dit leef, bestudeer. Die fokus van fenomenologie is dus 'n beskrywing van die gemene deler van die wyse waarop die deelnemers 'n verskynsel ervaar. Die individuele ervaringe van 'n verskynsel word dan tot 'n beskrywing van die universele kern gereduseer (Creswell 2007:58). Vir Jung (1959:207) handel die fenomenologie oor die beskrywing en rangskikking van gebeure wat opgevolg word met 'n diepgaande ondersoek na die beginsels wat hierdie gebeure of gedrag rig.

'n Doelbewuste niewaarskynlikheidsteekproeftrekking is gedoen. Dit behels dat deelnemers op grond van die navorser se oordeel en die doel van die studie gekies word (Rubin & Babbie 2011:355). Deelnemers aan hierdie studie is gekies aangesien hulle 'n perd-ondersteunde ouerleidingsprogram bygewoon het wat deur 'n welsynsorganisasie aangevra is. Die deelnemers was drie heteroseksueel getroude pare met biologiese, aangenome en/of kinders in plek-van-veiligheid-plasing wat almal maatskaplikewerk-dienste van 'n sekere privaatwelsynsorganisasie ontvang het. Die gesinne het onlangs by maatskaplike werkers en/of sielkundiges vir ouerleiding, huweliksterapie, gesinsterapie en spelterapie ingeskakel. Die volgende psigososiale simptome was by die deelnemers se kinders teenwoordig: traak-my-nie-agtige ingesteldheid; swak verhouding met portuurgroep; aggressie; opponerend-uitdagende gedrag; onsekerheid; woedebuie. 'n Kind van een van die ouerpare is uit ouerlike sorg verwyder weens fisiese mishandeling deur die vader.

Bogenoemde gekose deelnemers is by die ouerleidingsprogram ingeskakel. Die ouerleidings-program het uit vier terapeutiese sessies bestaan. 'n Oriënteringsessie is voor die aanvang van die sessies gehou waarin administratiewe reëlings (datums, tye, duur en plek van aanbieding) met die kliënte getref is.

In die kwalitatiewe navorsingsparadigma is daar verskeie wyses waarop data ingesamel kan word, waaronder gevallestudies, lewensverhale en onderhoude. Verskillende interpretatiewe praktyke kan aangewend word om die verkreë data te analiseer (Denzin & Lincoln 2011:3-4). In hierdie studie is die data deur middel van vraelyste (met geslote en oopeinde-vrae) en persoonlike semigestruktureerde onderhoude ingesamel en aan die hand van die beskrywende fenomenologie geanaliseer. Vraelyste is gebruik om biografiese en agtergrondinligting te bekom en om die aanbieder van, asook die ouerleidingsprogram op sigself, te evalueer. Die evalueringsvraelyste is ongeveer 24 maande later deur middel van semigestruktureerde persoonlike of telefoniese onderhoude opgevolg. Die onderhoudskedule vir die semigestruktureerde onderhoude volg in Tabel 2. Die onderhoude is deur 'n veldwerker gedoen wat dit digitaal opgeneem en getranskribeer het.

Data is aan die hand van die beskrywende fenomenologie volgens Giorgi (2009) se stappe geanaliseer. Die data word dus nie geïnterpreteer soos in die geval van interpretatiewe fenomenologie nie, maar word op sigwaarde geanaliseer (Giorgi 2009:127-128; Finlay 2011:par. 2266). Volgens Finlay (2011:par. 2310) word beskrywende fenomenologie benut om meer algemene verskynsels, byvoorbeeld die ervaring om vir terapie ingeskakel te wees, te ontleed. Daar word dus op die verskynsel as geheel gefokus en nie slegs op individuele ervaringe nie. Die volgende konkrete stappe in beskrywende fenomenologie is benut om die onverwerkte data te analiseer:

Lees die onderskeie stelle data om 'n geheelbeeld te ontwikkel;

Bepaal betekenisvolle eenhede uit die onderskeie stelle data en

omskep die deelnemers se persoonlike ervaringe tot 'n fenomenologies-sielkundig, sensitiewe uitdrukking en/of gevolgtrekking (Giorgi 2009:128-137).

NVivo 9-sagteware (2010) is bykomend aangewend om die data te organiseer en die analitiese proses te dokumenteer.

Data-analise in die konteks van fenomenologie word nie vanuit 'n spesifieke, voorafbepaalde sosiaalwetenskaplike teoretiese perspektief gedoen nie (McLeod 2011:24). 'n Teorie "dwing" die navorser om inligting op 'n sekere wyse te interpreteer en betekenis daaraan te heg. Aangesien 'n spesifieke teoretiese raamwerk nie benut is nie, kan die navorser nou aandag skenk aan die betekenis wat die deelnemer self aan die verskynsel heg.

Aangesien die studie vanuit 'n kwalitatiewe navorsingsparadigma gedoen is, speel die navorser 'n belangrike aktiewe rol, wat objektiwiteit kan beïnvloed. Dit is dus belangrik om hierdie aspek te verreken. Creswell (2007:159) beveel aan dat die navorser sy/haar persoonlike ervaringe aangaande die verskynsel wat bestudeer word, moet beskryf. Dit word gedoen sodat die navorser in staat is om persoonlike ervaringe tersyde te stel en op dié van die deelnemers te fokus. Algehele objektiwiteit is egter nie moontlik nie (vgl. Creswell 2007:159).

Die navorser het 'n internasionale sowel as nasionale kursusse aangaande perd-ondersteunde psigoterapie bygewoon en hanteer kliënte in die konteks van genoemde terapeutiese modaliteit. Hieruit kan afgelei word dat die navorser 'n voorkeur het vir die gebruik van perde in psigoterapie. Die navorser het ook die wetenskaplike onderbou van perd-ondersteunde terapie in die algemeen en perd-ondersteunde psigoterapie spesifiek in die literatuur nagevors. 'n Bewustheid van bogenoemde aspekte (agtergrond en kennis aangaande perd-ondersteunde psigoterapie) het die navorser ondersteun om meer neutraal te wees, aangesien dit deurgaans in berekening gebring word.

Etiese kwessies het, aan die hand van Berg (2009:87, 91-93) en Rubin en Babbie (2011:78, 82, 83), soos volg aandag geniet: Die deelnemers het voor die ouerleidingsprogram ingeligte, skriftelike toestemming verleen dat inligting vir navorsingsdoeleindes gebruik mag word en dat foto's van die perde-aktiwiteite geneem mag word. (Foto's is egter nie in hierdie artikel benut nie.) Die deelnemers kon enige tyd hulle toestemming terugtrek, sonder dat dit hulle enigsins sou benadeel. Daar is aan deelnemers verduidelik dat potensieel gevaarlike situasies kan ontstaan wanneer terapeuties en andersins met perde gewerk word en hulle het 'n vrywaringsvorm in hierdie verband onderteken.

 

BEVINDINGE EN BESPREKING

Die kernaspekte van die bevindinge word vervolgens uitgelig. Hierdie kernaspekte word as 'n geheel beskou, aangesien dit interafhanklik is (Finlay 2011:par. 7273). Laastens word die proses diagrammaties, na aanleiding van Giorgi (2009:204-211), voorgestel.

Kernaspekte

Die kernaspekte wat op grond van die betekenisvolle eenhede geïdentifiseer is, word in Tabel 3 aangedui, asook hoe die deelnemers deur die verskillende kernaspekte van die algemene struktuur geleef het (Giorgi 2009:209), met ander woorde hulle persoonlike belewenisse. Die "D" in die onderstaande tabel staan vir "Deelnemer". Die deelnemers se woorde word nie verbatim aangehaal nie, maar die kern daarvan word so na as moontlik aan die werklike stellings weergegee (Macintyre 2010:par. 6189).

Die algemene struktuur van die perd-ondersteunde ouerleidingsprogram is uit die kernaspekte ontwikkel. Dit behels die uitbeelding van die deelnemers se persoonlike ervaringe van die perd-ondersteunde ouerleidingsprogram, wat aspekte insluit waarvan die deelnemers onbewus was (Giorgi 2009:166). Die algemene struktuur is dus die essensie van die bevindinge en word geïllustreer in Figuur 1.

Algemene struktuur

Die verhouding tussen die kernaspekte soos in Tabel 3 uiteengesit en in die algemene struktuur beskryf is, word in Figuur 1 uiteengesit om 'n logiese proses aan te dui. Die proses het uitgeloop op die kernaspekte waaruit die algemene struktuur bestaan en wat op 'n komplekse wyse interafhanklik is. Indien een van die kernaspekte dus weggelaat word, sal die algemene struktuur ineenplof.

Basislyn-interaksionele patrone het gemanifesteer weens deelname aan die perde-aktiwiteite, wat met die verskillende komponente van die ouerleidingsprogram gekombineer was. Vrees vir perde en die onbekendheid van die perde het daartoe bygedra dat die basislyn-interaksionele patrone in die hier-en-nou geopenbaar is. Antropomorfisme het tot gevolg gehad dat houdings en persepsies ten opsigte van kinders op die perde geprojekteer is. Die perde as lewende prooidiere hetvinnig opdie interaksionele patrone reageer,in teenstelling met honde watjagdiere is en speelgoeddiere wat glad nie kan reageer nie. Die basislyn-interaksionele patrone kon dan in die hier-en-nou deur die terapeutiese span hanteer word. Op grond daarvan kon nuwe interaksionele patrone en/of hanteringstrategieë ontwikkel word. Hierdie ontwikkeling van nuwe interaksionele patrone het plaasgevind ten spyte daarvan dat die perd-ondersteunde ouerleidingsprogram in groepsverband, waar minder privaatheid en individuele aandag geskenk kon word, aangebied is.

Bogenoemde proses kan gewysig word, aangesien die perd-ondersteunde ouerleidingsprogram in groepsverband aangebied is. Aspekte soos privaatheid en individuele aandag aan elke afsonderlike deelnemer was gevolglik nie moontlik nie.

 

TEKORTKOMINGE VAN STUDIE

Vraelyste en semigestruktureerde onderhoude is ook benut om data in te samel. Slegs indiepte onderhoude en/of geskrewe protokolle (Finlay 2011:par. 2328) moes egter benut word om data in die konteks van die beskrywende fenomenologie in te samel. Die semigestruktureerde onderhoudskedule kan as leidend geïnterpreteer word en dit moes dus minder spesifiek gestel word in die konteks van die fenomenologie as navorsingsontwerp.

 

GEVOLGTREKKING EN AANBEVELINGS

Die artikel dra by tot die begrip van deelnemers se persoonlike ervaringe van 'n perd-gebaseerde ouerleidingsprogram. Resultate dui daarop dat die perde 'n unieke dimensie aan die ouerleidingsprogram verskaf en dat dit 'n belangrike katalisator vir verandering is omdat interaksionele patrone in die hier-en-nou terapeuties geprosesseer word.

Op praktykvlak kan die perd-ondersteunde ouerleidingsprogram met individuele terapeutiese sessies gekoppel word om sodoende die uniekheid van elke gesin in ag te neem. Dit kan deur die aanbieder self gedoen word of in samewerking met ko-terapeute. Individuele terugvoer kan aan ouers verskaf word ten opsigte van waarnemings wat deur die terapeutiese span gemaak is en wat te sensitief is om in groepsverband te hanteer. Die ouers wat die program bywoon, moet egter duidelik verstaan dat die doel van die program psigo-opvoedkundig van aard is en nie individuele psigoterapie nie. 'n Spesifieke sessie aangaande die ontwikkelingsfase waarin die betrokke kinders hulle bevind, kan tydens die perd-ondersteunde ouerleidingsprogram aangebied word. Sodoende kan ouers daarop attent gemaak word om nie ouderdomsontoepaslike eise aan hulle kinders te stel nie. Die groeplede behoort dus homogeen betreffende die ontwikkelingsfase van hulle kinders te wees. Bogenoemde aanbevelings hou egter implikasies ten opsigte van tydsbesteding, mannekrag en finansiële uitgawes in. Dit moet dus in ag geneem word wanneer ko-terapeute en/of individuele terapeutiese sessies ter sprake kom.

Die ouerleidingsprogram kan deur maatskaplike werkers benut word. Dit is egter belangrik dat die terapeute wat die ouerleidingsprogram gebruik, professioneel opgelei moet wees in die beginsels en toepassing van perd-ondersteunde psigoterapie.

Op akademiese vlak kan die perd-ondersteunde ouerleidingsprogram verder kwantitatief sowel as kwalitatief ondersoek word. Eksperimentele ontwerpe in die kwantitatiewe navorsings-paradigma kan benut word om die effektiwiteit van die ouerleidingsprogram, sowel as die rol van die perde in die uitkoms van die program, te meet. Dit kan byvoorbeeld gedoen word deur die ewekansige toewysing van deelnemers aan 'n eksperimentele groep (met perde) en 'n kontrolegroep (sonder die perde) wat die ouerleidingsprogram deurloop om sodoende die impak en die rol van die perd te bepaal. Op hierdie manier kan daar bewysgebaseerde navorsing gedoen word wat uiteindelik tot bewysgebaseerde praktykbeoefening kan lei.

Verdere beskrywende en/of interpretatiewe fenomenologiese studies in die konteks van die kwalitatiewe navorsingsparadigma kan gedoen word om te bepaal hoe deelnemers verskillende terapeutiese intervensies of ingrypings ervaar. Volgens Blundo (2009:34) dui navorsing daarop dat geen terapeutiese intervensie ten opsigte van die effek daarvan bo 'n ander terapeutiese ingryping verhewe is nie. Volgens McLeod (2011:5) blyk dit dat verskillende terapeutiese intervensies min of meer dieselfde suksesvlakke het - hy verwys daarna as die "gelykwaardigheidsparadoks". Die mening word gehuldig dat, indien verskillende terapeutiese intervensies dieselfde uitkoms het, die terapeutiese ingryping benut moet word wat die beste aanklank by verskillende kliëntsisteme vind, aangesien dit waarskynlik minder weerstand tot gevolg sal hê en die terapeutiese proses vinniger sal vorder.

 

ERKENNING

Erkenning word aan die volgende persone en instansies verleen: Me. M. Olivier van Equistria vir haar insette as perdespesialis en die beskikbaarstelling van haar fasiliteite en perde; Me. M. Joubert, maatskaplike werker, wat veral betrokke was by die administratiewe reëlings van die projek; die welsynsorganisasie wat dit vir sommige van hulle kliënte finansieel moontlik gemaak het om die perd-ondersteunde ouerleidingsprogram te kon meemaak; dr. Troskie-de Bruin (ASEV Navorsing & Ontwikkelingskonsultant) vir haar idees en voorstelle aangaande die toepassing van die navorsingsmetodologie.

 

BIBLIOGRAFIE

Anthony, L., Cramer, K., Flynn, M., & Knapp, S. 2007a. Teen sense. An 8-week EAP group for women facing change. Marshall, NC: Horse Sense of the Carolinas, Inc.         [ Links ]

Anthony, L., Cramer, K., Flynn, M., & Knapp, S. 2007b. Sister sense. An 8-week EAP group for at-risk youth. Marshall, NC: Horse Sense of the Carolinas, Inc.         [ Links ]

Berg, B.L. 2009. Qualitative research methods for the social sciences. Pearson international edition. 7th ed. London: Allyn & Bacon (as imprint of Pearson).         [ Links ]

Blundo, R. 2009. The challenge of seeing anew the world we think we know. Learning strengths-based practice. In Saleebey, D. (ed.). The strengths perspective in social work practice. 5th ed. Boston, MA: Pearson, pp. 24-46.         [ Links ]

Byrne, S. 2010. EAP activity guide for treatment of grief and loss. Grass Valley, CA: Presence of Horses.         [ Links ]

Byrne, S. 2010. EAP activity guide for survivors of sexual abuse. Grass valley, CA: Presence of Horses.         [ Links ]

Chalmers, D. & Dell, C.A. 2011. Equine-assisted therapy with First Nations Youth in residential treatment for volatile substance misuse: building an empirical knowledge base. Native Studies Review, 20(1):59-87.         [ Links ]

Chandler, C.K. 2005. Animal assisted therapy in counselling. New York, NY: Routledge.         [ Links ]

Cilliers, P. s.a. Die hanteringsmodel. Bloemfontein: Kinderleidingkliniek, (Ongepubliseerd).         [ Links ]

Coates, M. 2008. Connecting with horses. The life lessons we can learn from horses. London: Rider.         [ Links ]

Cramer, K., Knapp, S., Jacoby, R., & Anthony, L. 2007. Girls rule! An 8-week EAP group for adolescent girls ages 12-17. Marshall, NC: Horse Sense of the Carolinas, Inc.         [ Links ]

Creswell, J.W. 2007. Qualitative inquiry and research design. Choosing among five approaches. 2nd ed. London: Sage.         [ Links ]

Creswell, J.W. 2009. Research design. Qualitative, quantitative, and mixed methods approaches. 3rd ed. London: Sage. [Kindle ed. Available http://www.amazon.com].         [ Links ]

Denzin, N.K. & Lincoln, Y.S. 2011. Introduction. The discipline and practice of qualitative research. In Denzin, N.K. & Lincoln, Y.S. (eds). The Sage handbook of qualitative research. 4th ed. London: Sage, pp. 1-19.         [ Links ]

Dvorak, S. & Lytle, M. 2008. Sexually abusive youth. A guide to working with youth with sexual behavior problems. Marion, NC: www.headhearthandsandhorses.com        [ Links ]

EAGALA. Sien Equine Assisted Growth and Learning Association.         [ Links ]

Equine Assisted Growth and Learning Association. 2009. Fundamentals of EAGALA model practice. (Un) training manual. Supplemental material to the EAGALA equine assisted psychotherapy and learning training and certification program. 6th ed. Santaquin, UT: EAGALA.         [ Links ]

Finlay, L. 2011. Phenomenology for therapists. Researching the lived world. West Sussex: Wiley-Blackwell. [Kindle ed. Available http://www.amazon.com].         [ Links ]

Giorgi, A. 2009. The descriptivephenomenological method in psychology. A modified Husserlian approach. Pittsburg, PA: Duquesne University Press.         [ Links ]

Hallberg, L. 2008. Walking the way of the horse. Exploring the power of the horse-human relationship. New York, NY: Universe.         [ Links ]

Harris, D., Krebs, G.J., Schettler, M. & Stevenson, J.L. 2010. Horse assisted education. Kroepelin: European Association for Horse Assisted Education.         [ Links ]

Heady, S. 2004. Parenting from the barn: A brief guide to a psycho-educational parenting program utilizing equine interactive learning activities. South Green Cove Springs, FL: PX Equine Enterprises Inc.         [ Links ]

Jung, C.G. 1959. The archetypes and the collective unconscious. The collected works of C.G. Jung. Volume 9, Part 1. 2nd ed. Bollingen Series XX. New York, NY: Princeton University Press.         [ Links ]

Jung, S. & Cowles, D. 2009. Colts and fillies. Equine assisted learning for children. Lawrenceville, GA: Winning Strides.         [ Links ]

Kazdin, A.E. 2010. Methodological standards and strategies for establishing the evidence base of animal-assisted therapies. In Fine, A.H. (ed.). Handbook on animal-assisted therapy. Theoretical foundations and guidelines for practice. 3rd ed. Amsterdam: Elsevier, pp. 518-546.         [ Links ]

Krall, V. & Sapir, L. s.a. Running with Mustangs. Equine assisted cognitive-behavioral therapy. Marshall, NC: Horse Sense of the Carolinas, Inc.         [ Links ]

Kruger, K.A. & Serpell, J.A. 2010. Animal assisted interventions in mental health: definitions and theoretical foundations. In Fine, A.H. (ed.). Handbook on animal-assisted therapy. Theoretical foundations and guidelines for practice. 3rd ed. Amsterdam: Elsevier, pp. 33-48.         [ Links ]

Lancia, J. 2008. Taming the wild horse. Using EAP in assisting the transition from combat soldier to civilian. Hilton, NY: Windhorse Farm, LLC.         [ Links ]

Lancia, J. 2011. Helping wounded warriors manage anger and other intense emotions. Hilton, NY: Windhorse Farm, LLC.         [ Links ]

Macintyre, R. 2010. Our patients: heretics, believers, agnostics, and ecumenists. In Chan, G.K., Brykczynski, K.A., & Benner, P. (eds). Interpretative phenomenology in health care research. Indianapolis, IN: Sigma Theta Tau, Loc. 6150-6725. [Kindle ed. Available http://www.amazon.com].         [ Links ]

Magnelli, R.G. & Magnelli, N. 2011. Power toolsfor living. Santaquin, UT: EAGALA.         [ Links ]

Mandrell, P.J. 2006. Introduction to equine-assisted psychotherapy. A comprehensive overview. Santaquin, UT: EAGALA.         [ Links ]

Mandrell, R. & Mandrell, P. 2005. Marriage that lasts: Toolsfor success. EAP facilitator's guide. Lubbock, TX: REFUGE Services, Inc.         [ Links ]

Mandrell, R. & Mandrell, P. 2008. Champions. EAP group curriculum for at-risk adolescents. 3rd ed. Lubbock, TX: REFUGE Services, Inc.         [ Links ]

McGreevey, P. & McLean, A. 2010. Equitation science. West Sussex: Wiley-Blackwell. [Kindle ed. Available http://www.amazon.com].         [ Links ]

McLeod, J. 2011. Qualitative research in counselling and psychotherapy. London: Sage.         [ Links ]

Miller, R. & Nussen, J. 2014. Treating trauma in the horse arena. Cognitive restructuring using equine-assisted EMDR & sandtray therapies (C.R.E.S.T.). A guide for mental health pro/essionals.[Kindle ed. Available http://www.amazon.com]        [ Links ]

NVivo qualitative data analysis software. 2010. QSR International Pty Ltd. Version 9.         [ Links ]

O.K. Corral Series. 2014. Equine-assistedhistory. http://okcorralseries.com/about Toegangsdatum: 28 April 2014.         [ Links ]

Paul, R. & Elder, L. 2006. The thinker's guide to Socratic questioning. Based on critical thinking concepts and tools. Tomales, CA: Foundation for Critical Thinking Press. [Kindle ed. Available http://www.amazon.com]        [ Links ]

Rubin, A. & Babbie, E. 2011. Research methods for social work. 7th ed. International ed. Belmont, CA: Brooks/Cole.         [ Links ]

Shambo, L. (with Young, D. & Madera, C.). 2013. The listening heart. The limbic path beyond office therapy. A manual for "The Heal ModelTM" of equine -facilitated psychotherapy and learning. Chehalis, WA: Heal. [Kindle ed. Available http://www.amazon.com]        [ Links ]

Schultz, P.N. Remick-Barlow, G.A., & Robbins, L. 2007. Equine-assisted psychotherapy: a mental health promotion/intervention modality for children who have expereinced intra-family violence. Health and social care in the community, 15(3):265-271.         [ Links ]

Schlough, P. 2009. K - 8th grade bully prevention/intervention. An equine assisted learning program. s.l.: PEACE, LLC.         [ Links ]

Smith, J.A., Flowers, P. & Larkin, M. 2009. Interpretative phenomenological analysis. Theory, method and research. London: Sage.         [ Links ]

Thomson, J.R., Iacobucci, V., & Varney, R. 2012. Giddyup! or whoa Nelly! Making sense of benefit claims on websites of equine programs for children with disabilities. Journal of Developmental and Physical Disabilities, 24:373-390.         [ Links ]

Weston-Thompson, J. 2012. Using equine assisted counselling with psychotherapists in a group setting. In Trotter, K.S., ed. Harnessing the power of equine assisted counselling: Adding animal assisted therapy to your practice. London: Routledge. pp. 233-240.         [ Links ]

 

 

Carel van Wyk was vir twaalf jaar werksaam by die Kinderleidingkliniek te Welkom. Kinders tot en met graad 12 met enige psigososiale uitdagings, byvoorbeeld alle vorme van mishandeling, egskeiding, skolastiese uitdagings en gedragsprobleme, is terapeuties deur hom gehanteer. Carel het dikwels maatskaplike werk forensiese assesserings gedoen en hy het ook as deskundige getuie in streekhowe getuig. Hy het Ontwikkelingsielkunde deeltyds op honneursvlak in die Departement Sielkunde aan Vista Universiteit, Welkom-kampus, aangebied. Carel is sedert 2006 as lektor by die Departement Maatskaplike Werk by die Universiteit van die Vrystaat werksaam. Hy doseer op voor- en nagraadse vlak vakke soos Maatskaplike Werk met die Kind, Maatskaplike Werk met Gesinne, Gevorderde Kliniese Gevallewerk en Forensiese Maatskaplike Werk. Hy beplan om sy PhD-studie in maatskaplike werk oor die moontlike voorkoms van sinchronisiteit in perd-gerugsteunde psigoterapie te doen. Hy beplan om genoemde fenomeen primêr vanuit die Jungiaanse paradigma te verken, te beskryf en te verklaar.

Carel van Wyk worked at the Child Guidance Clinic in Welkom for twelve years. Children up to Grade 12 with any psycho-social challenge, for example, all forms of abuse, divorce, scholastic challenges and behavioural problems were handled by him. Carel often did forensic assessments and he also testified as expert witness in regional courts. He lectured Developmental Psychology part-time at Honours level in the Department of Psychology at Vista University, Welkom Campus. Since 2006, Carel has been employed as lecturer in the Department of Social Work at the University of the Free State. He teaches modules such as Social Work with the Child, Social Work with Families, Advanced Clinical Casework and Forensic Social Work at undergraduate and postgraduate levels. He plans to do his PhD study in Social Work on the possible prevalence of synchronicity in equine-assisted psychotherapy. He plans to investigate, describe and explain the said phenomenon primarily from the Jungian paradigm.

 

 

BYLAAG 1

In Tabel 1 volg 'n lys met die name van 'n aantal perd-ondersteunde terapeutiese programme en 'n aanduiding van navorsing wat daaroor gedoen is. Hieruit blyk dit dat daar slegs een program uit 'n totaal van 15 oor 'n navorsingsbasis beskik.

 

Creative Commons License Todo o conteúdo deste periódico, exceto onde está identificado, está licenciado sob uma Licença Creative Commons