SciELO - Scientific Electronic Library Online

vol.54 issue2The diminishing attractiveness of the academic profession in South AfricaRemuneration trends in the public sector during sustained inflation: an economic perspective author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand



Related links

  • On index processCited by Google
  • On index processSimilars in Google


Tydskrif vir Geesteswetenskappe

On-line version ISSN 2224-7912
Print version ISSN 0041-4751

Tydskr. geesteswet. vol.54 n.2 Pretoria Jun. 2014




"Mag ons vergeet?" 'n Geskiedenis-serie en Afri-kanernasionalisme, 1937-1948


"Should we forget?" A history series and Afrikaner nationalism, 1937-1948



Fransjohan Pretüriüs

Departement Historiese en Erfenisstudies Universiteit van Pretoria




Met hierdie studie word die rol ondersoek wat 'n geskiedenisreeks van Nasionale Pers, getiteld "Ons Geskiedenis-Serie", tussen 1937 en 1948 ten opsigte van Afrikanernasionalisme gespeel het. Enersyds het die reeks beoog om Afrikanernasionalisme te bevorder, maar andersyds het dit 'n behoefte by Afrikanernasionaliste bevredig en was die publikasies 'n aanduiding van die stand van hierdie nasionalisme. Vooraf word daar ter wille van konteks gekyk na vroeë Afrikanergeskied-skrywing, Nasionale Pers se rol in hierdie geskiedskrywing, en die opbloei van Afrikanernasiona-lisme in die dertigerjare. Daarna kom die ontleding aan die beurt van die 21 werke wat in die reeks verskyn het. Met die oog daarop word die aard van die hooftemas en die aard van die individuele werke onder die loep geneem. Die hooftemas was die volksplanting, die Groot Trek, die Eerste Vryheidsoorlog of Eerste Anglo-Boereoorlog, die Anglo-Boereoorlog van 1899-1902, en die Afrikaner se ekonomiese en geestelike vernedering voor Brittanje ná die oorlog en in die eerste dekades van die twintigste eeu.

Trefwoorde: Afrikanergeskiedskrywing, Afrikanernasionalisme, Alie Badenhorst, Anglo-Boereoorlog, Eerste Vryheidsoorlog, generaal J.C.G. Kemp, Groot Trek, Gustav Preller, H.J.C. Pieterse, konsentrasiekampe, mev. E. Neethling, Nasionale Pers, Ons Geskiedenis-Serie, P.J. van der Merwe, volksplanting


In this study an investigation is undertaken of the contribution made to Afrikaner nationalism by a history series, the "Ons Geskiedenis-Serie", published between 1937 and 1948 by Nasionale Pers. On the one hand the series aimed to promote Afrikaner nationalism, but on the other it also satisfied a need among Afrikaner nationalists, and was an indication of the state of Afrikaner nationalism.
In order to provide the appropriate context, early Afrikaner historiography, the role played by Nasionale Pers in this regard, and the rise of Afrikaner nationalism in the 1930s, are discussed.
In the last decades of the nineteenth century, a number of Afrikaners produced examples of volksgeskiedenis, the history of their own people. Meanwhile, Afrikaner nationalism flourished under the spectre of foreign oppression; for the republican Afrikaner the threat of British domination and imperialism became increasingly real.
At the time of its establishment in 1915, Nasionale Pers had three main objectives. These were to promote Afrikaans literature, language and culture and, closely linked to this, the promotion of Afrikaner nationalism. Secondly, to make a profit to boost its meagre finances as far as possible. A third aim involved publishing educational material for teaching purposes.
In 1918 a publishing section was set up by Nasionale Pers. In the same year the first of 24 volumes of a series called "Die Burgerleeskring" appeared to meet the now growing demand for good Afrikaans reading material - literature as well as history - and to stimulate the Afrikaans reader both culturally and intellectually. The first volume, entitled Voortrekkermense 1, was in fact a source publication with documents of the Great Trek with footnotes and essays by Gustav Preller.
"Die Burgerleeskring" met with limited success and was discontinued in 1925 for financial reasons. The series was nevertheless of great significance for the emergence of the Afrikaans book because it laid the foundations for later development.
Meanwhile, Preller established himself as one of Nasionale Pers' most popular authors, gaining a reputation not only for his source publications but more particularly for his historical works on the Great Trek and the Anglo-Boer War. His emotional involvement in the subject matter struck a chord in Afrikaner hearts because by the 1930s a strong and clearly identifiable Afrikaner nationalism had developed.
Under these circumstances, the suffering endured by the volk throughout Afrikaner history, notably in the Great Trek and the Anglo-Boer War, began to gain new significance. All the more so when the contemporary injustices experienced by Afrikaners under British supremacy could be traced back to the Anglo-Boer War when their ancestors had doggedly resisted British domination.
The financial success experienced by Nasionale Pers after 1936 gave rise to a period of remarkable entrepreneurial growth for the publishing house from 1937 to 1939. In the flush of this emotional-historical climate, Nasionale Pers produced a ground-breaking historical series - one that can indeed be described as a true renaissance of Afrikaans historiography. This was the "Ons Geskiedenis-Serie", which in 1937 saw its first of 21 publications, which was to last until 1948.
The main themes of the series were those that immediately come to mind. The settlement of the volk when Jan van Riebeeck came ashore at the Cape in 1652; the Great Trek; the First War of Independence (the Transvaal War); the Second War of Independence (the Anglo-Boer War); and the fate of the Afrikaner in the twentieth century, were predictably chosen as the main turning points in the history of the Afrikaner. Of the 21 books in the series, there was eventually one on the settlement at the Cape; five dealt with the Great Trek; one was on the First War of Independence; thirteen discussed the Anglo-Boer War; and one examined Afrikaner nationalism in the first four decades of the twentieth century. The number of copies printed varied from 2 000 to 3 000, which was quite considerable for the time. Some of the most popular works merited a second and even a third impression.
The year 1938 was undoubtedly the highpoint for the "Ons Geskiedenis-Serie", when no less than nine titles appeared - one on the settlement; four, understandably in its centenary year, on the Great Trek; and four on the Anglo-Boer War. In 1939 two titles saw the light of day, both on the Anglo-Boer War; while in 1940 one on the First War of Independence and two on the Anglo-Boer War reached the bookshelves. In 1941 there were two on the Anglo-Boer War; and in 1942 one on the Anglo-Boer War and one on Afrikaner nationalism in the twentieth century. In 1943 there were again two works on the Anglo-Boer War; while in 1945 one title appeared dealing with the Great Trek period.
Significant contributions were made to the series by Gustav Preller, who contributed three works on the Great Trek and three on the Anglo-Boer War. H.J.C. Pieterse compiled two reminiscences by veterans of the First War of Independence and the Anglo-Boer War respectively; while General Jan Kemp submitted two works of note, one on the Anglo-Boer War and another on the first four decades of the twentieth century. The work by Mrs. E. Neethling, Mag ons vergeet? is one of the most heart rending contributions. Dealing with the suffering of the Boer women and children it provides an accurate depiction of the raw emotional baggage which was so characteristic of the series.
The analysis of the objectives, content and nature of the 21 works forms an important part of this article. Finally, the reasons why the series was discontinued in 1948 are examined. The author comes to the conclusion that the series undoubtedly mirrored the spirit of the times and the ambient level of Afrikaner nationalism in the late 1930s and early 1940s, but that it possibly, in turn, also contributed to the rising spirit of nationalism.

Key words: Afrikaner historiography, Afrikaner nationalism, Alie Badenhorst, Anglo-Boer War, concentration camps, Dutch settlement at the Cape, General J.C.G. Kemp, Great Trek, Gustav Preller, H.J.C. Pieterse, Mrs. E. Neethling, Nasionale Pers, Ons Geskiedenis-Serie, P.J. van der Merwe, Transvaal War




Dit is bekend dat die geskiedenis van die Afrikaner van die negentiende eeu in die dertiger- en veertigerjare van die twintigste eeu gebruik is om Afrikanernasionalisme te bevorder (Kyk bv. Grundlingh 2001:245-249). Veral die gebeure van die Groot Trek rondom 1838, die Anglo-Boereoorlog van 1899-1902, en in 'n mindere mate die Eerste Anglo-Boereoorlog (Eerste Vryheidsoorlog of Transvaalse Oorlog) van 1880-1881, is aangewend om hierdie nasionalisme te voed in 'n tyd toe die emosie van die 100-jarige herdenking van die Groot Trek Afrikanerhuise gevul het. Dit was eintlik so maklik, want daar was soveel stof in hierdie gebeure wat direk tot die hart van die Afrikaner kon spreek. Maar terselfdertyd was werke oor die geskiedenis van die Afrikaner wat in hierdie tyd verskyn het, 'n aanduiding van die behoefte wat daar by lesers bestaan het en was dit ook 'n aanduiding van die stand van sy nasionalisme. Die bevordering van nasionalisme en die behoefte aan publikasies van nasionale aard het dus wedersyds op mekaar ingewerk.

Met hierdie studie word die rol ondersoek wat 'n geskiedenisreeks van Nasionale Pers, getiteld "Ons Geskiedenis-Serie", tussen 1937 en 1948 gespeel het ten opsigte van Afrikanernasionalisme. Die uitgangspunt is dat die reeks Afrikanernasionalisme bevorder het, maar dat dit terselfdertyd 'n aanduiding was van die stand van Afrikanernasionalisme - dat Nasionale Pers met hierdie reeks aan 'n behoefte by die Afrikaner voldoen het.

Daar het 21 werke in die reeks verskyn. Met die oog daarop word die aard van die hooftemas en die aard van die individuele werke onder die loep geneem. Vooraf word daar ter wille van konteks gekyk na vroeë Afrikanergeskiedskrywing, Nasionale Pers se rol in hierdie geskiedskrywing, en die opbloei van Afrikanernasionalisme in die dertigerjare.

Die werke self vorm uiteraard die belangrikste primêre bronne. Daar is egter weinig ander primêre bronne beskikbaar, aangesien die Nasionale Pers-argief in hierdie opsig, volgens erkenning van die argivaris, dr. François Verster, in verskeie e-posse aan skrywer, besonder onvolledig is. Gelukkig kon die geskiedenis van Nasionale Pers, getiteld Sonop in die suide, met C.F.J. Muller as redakteur (1990), sekere nuttige inligting oor beleid en besluite van die direksie verskaf uit bronne wat vir die redakteur toeganklik was.



In die laaste kwart van die negentiende eeu het enkele Afrikaners volksgeskiedenis geskryf, dit wil sê 'n Afrikanersentriese geskiedenis wat deur onkritiese subjektiwiteit gekenmerk is. Soos met die "Ons Geskiedenis-Serie" later, was dit tegelyk 'n aanduiding van die ontwaking van Afrikanernasionalisme en 'n poging om deur middel van hierdie publikasies daardie nasionalisme te bevorder.

Nasionalisme gedy onder vreemde oorheersing ofbedreiging, en vir die republikeinse Afrikaner was die bedreiging duidelik Britse oorheersing en imperialisme. Die Groot Trek, die Britse bemagtiging van die diamantvelde in die sewentigerjare, die anneksasie van die Zuid-Afrikaansche Republiek (Transvaal) in 1877 en die Transvalers se daaruitspruitende Vryheidsoorlog van 18801881 het die temas bepaal. H.J. Hofstede het in sy Geschiedenis van den Oranje-Vrijstaat (1876) verklaar dat die "vele griewe" van die Afrikaners teen Britse imperialisme bekend gemaak moet word (Van Jaarsveld 1984:10). In 1877 het S.J. du Toit - die gesig van die Genootskap van Regte Afrikaners - met sy nogal Afrikaanse teks, Die geskiedenis van ons land in die taal van ons volk, sy uitgangspunt aangedui: "Vertel die waarheid; bestraf die leugen; en breng die dade en lotgevalle van ons voorouwers weer an die lig!" (Du Toit 1877:ii). J.D. Weilbach en C.N.J. du Plessis wou met hul Geschiedenis van de Emigranten-Boeren en van den Vrijheidsoorlog (1882) 'n verhaal vertel van wat die Afrikaner "reeds van den beginne af en altijd door hebben moeten verduren van Engeland en van de Engelschen" (Weilbach & Du Plessis 1882:Voorwoord; Van Jaarsveld 1984:10).

Ander werke oor Afrikanerlyding en -triomf het gevolg. N.J. Hofmeyr het in sy De Afrikaner-Boer en de Jameson-inval nie geskroom om sy betrokkenheid aan te dui nie: "Als een zoon des lands kan ik niet anders dan mijn dankbare bewondering voor onze Afrikaner-Boeren uitspreken. Keer op keer hebben zij ons nationaal zelfrespect gered en verhoogd; thans hebben zij weer den ouden roem der Afrikaners op het slagveld op schitterende wijze gehandhaafd" (Hofmeyr 1896: 9-11). J.F. van Oordt het met Paul Kruger en de opkomst der Zuid-Afrikaansche Republiek (1898) die hoop uitgespreek dat die "Zuid-Afrikaansch Volk" sal begryp wat dit beteken om 'n vaderlandse geskiedenis te hê en daardeur die geskiedenis en "de Groote Mannen" wat daarin 'n rol gespeel het, sal leer waardeer (Van Oordt 1898:Voorrede).

Die Anglo-Boereoorlog van 1899 tot 1902 wat tot die vernietiging van die twee Boererepublieke gelei het, het 'n nuwe, dinamiese maar tydelike fase van publikasies deur die Afrikaner oor sy geskiedenis ingelui. Benewens 'n "amptelike" geskiedenis van die eerste ses maande van die oorlog deur N.J. Hofmeyr, getiteld Zes maanden bij de commando 's ('s-Gravenhage: W.P. van Stockum, 1903), was opvallend die verskyning van ervarings van Boere-offisiere, gewone burgers en vroue wat die oorlog deurstaan het. Tussen 1901 en 1905 het sowat 24 dagboeke en veral herinneringe in boekvorm verskyn, onder meer die herinneringe van president Paul Kruger, generaals Christiaan de Wet, Ben Viljoen en Stoffel Badenhorst, ds. J.D. Kestell, burgers Dietlof van Warmelo, Philip Pienaar, J.F. Naudé en O.T. de Villiers, en mevv. E. Neethling en Nonnie de la Rey. Daarby het die dagboeke van ds. A.D. Lückhoff en mev. Johanna Brandt-van Warmelo gekom.

Voorwoorde en Inleidings getuig dat die skrywers met hierdie werke hul ervarings gewoon as herinneringe wou koester, maar ook die heroïese van die slagveld en die lyding en sterftes van die blanke vroue in die veld en in die konsentrasiekampe aan hul leserspubliek wou deurgee. Dit is meestal bedaarde voornemens, met enkele aanduidings van emosie en nasionalisme. Dietlof van Warmelo wou vir hom persoonlik en miskien vir diegene wat hom daarom gevra het sy "wederwaardigheden" te boek stel (Van Warmelo 1901 :Voorbericht). Generaal De Wet het gereken dat dit sy plig was om sy persoonlike ondervindinge te boek te stel "voor het tegenwoordige en voor de toekomst, niet alleen voor het Afrikaansche Volk, maar voor het geheele wereld" (De Wet 1902:Voorwoord). Philip Pienaar het hom afgevra: "Is het dan geen troost om zich nog eens de slagen te herinneren, die de vijand werden toegebracht, en te gevoelen dat men zijn plicht heeft gedaan!" (Pienaar 1902:6).

Die Voorwoorde van Boerevroue oor hul eie en andere se ervarings het 'n meer emosionele toon geadem, omdat hulle uiteraard van die lyding en sterftes in die konsentrasiekampe getuig het. 'n Sweem van nasionalisme slaan deur. Mev. E. Neethling, predikantsvrou van Utrecht, wou in haar Should we forget? die ervarings van die Boerevroue vertel, ook van die krag van hul geloof wat die "secret of their strength, their patient endurance, their heroic steadfastness" was (Neethling 1903:Introduction). Haar toon sou aanmerklik emosioneel verskerp toe haar werk in 1917 in Nederlands by de Nationale Pers en in 1938 in Afrikaans in die "Ons Geskiedenis-Serie" van Nasionale Pers gepubliseer is (Vide infra). Vir mev. J. Rijksen-van Helsdingen was haar "eenvoudig schrijven" bedoel vir haar vriende en landgenote, wat "goed en bloed hebben geofferd voor 'Recht en Vrijheid'" (Rijksen-van Helsdingen 1903:2). Die vurige mev. Johanna Brandt-van Warmelo (suster van Dietlof van Warmelo) het bloot verklaar dat sy gereken het dat die publikasie van haar ervarings as vrywillige verpleegster vir twee maande in die konsentrasiekamp te Irene, met belangstelling ontvang sou word deur diegene wat nog meelewe met die lotgevalle van haar land en volk, en dat dit miskien van waarde sou wees vir die geskiedenis van Suid-Afrika (lees: die Afrikaner) (Brandt-van Warmelo 1905:Voorwoord).

F.J. Stemmet wys daarop dat die publikasie van Afrikanerherinneringe en -dagboeke uit die Anglo-Boereoorlog egter ná 1905 dramaties afgeneem het. Tussen 1906 en 1931 het daar slegs nege in boekvorm verskyn (Stemmet 1975:110). Die getal kan dalk effe meer wees - dit hang af van wat mens as herinneringe en dagboeke beskou. Die meeste sou in die lig van 'n opkomende Afrikanernasionalisme staan. Johanna Brandt se nasionale aanslag het sedert haar herinneringe aan die konsentrasiekamp in Irene (1905) aanmerklik sterker geword. Hoewel sy in 1913 in Die kappie commando verklaar: "Het onrecht ons aangedaan, de misdaden door de vijand gepleegd, het lijden in de koncentratiekampen, de bittere haat en machteloze woede van de onderdrukten - deze dingen heb ik verzwegen", het sy reeds daarmee haar ingesteldheid verraai, en kon sy daarom haar Inleiding begin met die versugting: "Indien het mij gegeven wordt, door gevoelens van vaderlandsliefde in de harten van sommigen onder mijn lezers op te wekken, mede te werken tot het verhogen van het peil van ons nationale leven, dan zal dit boek het doel bereikt hebben" (Brandt 1913:xiii).

Aan die ander kant van die spektrum was Deneys Reitz se herinneringe wat hy in 1903 op Madagaskar opgestel het en wat in 1929 in verkorte en gewysigde vorm in Engels met die titel Commando: A Boer journal of the Boer War gepubliseer is. Generaal Jan Smuts het in sy Voorwoord hom daarin verheug dat Reitz ná sy terugkeer in Suid-Afrika geleer het "to see (Louis) Botha's great vision of a united South African people to whom the memories of the Boer War would mean no longer bitterness but only the richness and the inspiration of a spiritual experience" (D. Reitz 1929:7).

Stemmet bied 'n aantal verklarings vir die afname in publikasies van Afrikanerherinneringe en -dagboeke ná 1905: In die eerste plek het die Zuid-Afrikaanse Akademie voor Taal, Letteren en Kunst wat in 1909 gestig is om onder meer die Suid-Afrikaanse (lees: Afrikaanse) geskiedenis te bevorder, hom beywer slegs vir die geskiedenis van die Groot Trek (omdat besef is dat die laaste Voortrekkers nog in lewe was) en die Afrikaner se verhouding met die swart groepe in Suid-Afrika. Voorts het gebeure rondom die politieke toneel met die Eerste Wereldoorlog, die Afrikaner-rebellie van 1914-1915 en die stigting van die Nasionale Party, die Afrikaner se nasionale bewussyn geprikkel, maar nie publikasies oor die Anglo-Boereoorlog gestimuleer nie. Ten derde was die Afrikaner nog in 'n groot mate 'n geestelike Voortrekker wat meer vertroud was met die geweer as met die pen, Afrikaans gepraat maar nog in Nederlands probeer skryf het en gesukkel het om sy gedagtes in woorde uit te druk (Stemmet 1975:109-113). Daarby moet in gedagte gehou word dat Afrikaans nog nie 'n amptelike landstaal was nie en dat ontkenning en trauma in die Afrikaner se gemoed ná die Anglo-Boereoorlog 'n rol gespeel het waarom Afrikaner-deelnemers aan die Anglo-Boereoorlog die lyding van die verlede probeer vergeet maar nie verwerk het nie - en dus nie daaroor geskryf het nie (Snyman 1999:25-51; Wessels 2001:244-245). 'n Soortgelyke tendens het hom in die afgelope veertig jaar oor die Grensoorlog in Angola afgespeel, met publikasies wat nou eers in groter getalle hul verskyning begin maak.

Gustav Preller se biografie, Piet Retief, in 1906 het nie alleen die geskiedskrywingsbeen van die sogenaamde Tweede Taalbeweging in beweging gesit nie, maar ook die weg aangedui vir toekomstige temas - die Groot Trek, die vroeë republikeinse geskiedenis en die Afrikaner-rebellie.

'n Opkomende Afrikanernasionalisme is duidelik waarneembaar. Die "emosionele en aktivistiese joernalis" (Muller 1990:529), J.A. Smith, publiseer Brit en Boer (Van Slagtersnek tot Jopie Fourie) in 1917, "ter gedachtenis aan die brawe volksleidsmanne uit die roemrijke geskiedenis van 'n 110 jaar lang diepgeteisterde" Afrikanervolk (Smith 1917:Opdrag). Hy volg dit in 1918 op met Naar Bloedrivier en Paardekraal, waarin hy die Brit as "die skender, die verdrukker van die kleine Boerenasie hul republiek" bestempel (Smith 1918:iii; Muller 1990:530). In J.M. de Wet se Lewenskets van Jopie Fourie (1915) voer die skrywer aan dat daar oor die dood van generaals Koos de la Rey en Christiaan Beyers en Jopie Fourie 'n kreet van afkeuring opstyg "uit die oorlopende hart van die volk" (De Wet 1915:Voorwoord).

Hierdie opstuwende nasionalisme het 'n Nasionale Party-oorwinning (in koalisie met die Arbeidersparty) in 1924 verseker, maar die bydrae wat die werke oor die Afrikaner se geskiedenis daartoe gelewer het, kan moeilik bepaal word. Dit was waarskynlik gering, omdat die Afrikanerleserspubliek nie besonder groot was nie en dit tyd sou neem om die Afrikaner met die woord polities te mobiliseer.

Betekenisvol egter vir Afrikanergeskiedskrywing in die algemeen was die verskyning van enkele werke deur gerekende historici, soos Eric Stockenström, Handboek van die geskiedenis van Suid-Afrika tussen 1652 en 1892 (1920), S.F.N. Gie, Geskiedenis van Suid-Afrika of ons verlede, I, -1795 (1924), en Geskiedenis van Suid-Afrika of ons verlede II, 1795-1918 (1927), en J.H. Malan, Die opkoms van 'n republiek of die geskiedenis van die Oranje-Vrystaat tot die jaar 1863 (1929). Dit is gebaseer op goeie navorsing en met gebruikmaking van die historiese metode, en gekenmerk deur minder emosionele betrokkenheid, hoewel die Afrikaner se geskiedenis sentraal in die gebeure gestaan het.



Die aktiwiteite van Nasionale Pers tussen die jare 1915 en 1925 word vervolgens belig, aangesien hierdie uitgewer tussen 1937 en 1948 vir die publikasie van die "Ons Geskiedenis-Serie" verant-woordelik sou wees.

Met sy oprigting in 1915 was twee van De Nationale Pers se oogmerke 1) om die bevordering van die Afrikaanse letterkunde, taal en kultuur voort te sit en in noue verband daarmee Afrikaner-nasionalisme te bevorder; en 2) om 'n wins te maak om sy karige finansies sover moontlik te ondersteun. 'n Derde oogmerk het oor opvoedkundige boeke vir onderrig gegaan (Muller 1990:498).

In 1918 is 'n "Uitgewers Departement" by Nasionale Pers opgerig. In dieselfde jaar het die eerste van 24 bande van 'n serie getiteld "Die Burgerleeskring" verskyn om aan die nou groeiende behoefte aan goeie Afrikaanse leesstof - letterkunde en geskiedenis - te voorsien en die Afrikaanse leser kultureel en intellektueel te stimuleer. Die eerste band, getiteld Voortrekkermense I, was juis 'n bronnepublikasie met dokumente uit die Groot Trek en voetnote en opstelle deur Gustav Preller.

"Die Burgerleeskring" het egter 'n kreeftegang gegaan. Wat die geskiedeniswerke betref, moes Voortrekkermense I met 'n oplaag van 2 500 spoedig herdruk word, maar Voortrekkermense II (1920, oplaag 3 000) is nie herdruk nie, en van Voortrekkermense III (1922) en Voortrekkermense IV (1925) is onderskeidelik slegs 1 500 en 1 000 gedruk. In 1925 is "Die Burgerleeskring" met finansiële verlies afgesluit. Volgens C.F.J. Muller het die reeks egter baie vir die Afrikaanse boek beteken, omdat grondslae gelê is waarop later voortgebou kon word (Muller 1990:337-344).

Preller het hom in hierdie tyd gevestig as een van Nasionale Pers se gewildste skrywers, nie vanweë sy bronnepublikasies nie, maar sy geskiedskrywing oor die Groot Trek en die Anglo-Boereoorlog. In 1920 het die tiende uitgawe van sy gewilde Piet Retiefby die uitgewer verskyn. Tevore is dit by De Volkstem-Uitgewerij en J.L. van Schaik uitgegee. Sy Oorlogsoormag en ander sketse en verhale (1923) - aanvanklik in "Die Burgerleeskring" - het verskeie herdrukke na afloop van die serie belewe. Sy emosionele uitgangspunt het tot die Afrikaner gespreek by wie daar in die loop van die dertigerjare 'n kragtige en duidelik identifiseerbare nasionalisme ontwikkel het. Ironies genoeg het hy 'n Afrikanernasionalisme help voed wat ná 1934 deur die "Gesuiwerde" Nasionale Party van dr. D.F. Malan verder geneem sou word, terwyl Preller 'n ondersteuner van generaal J.B.M. Hertzog sou bly.



In die jare ná die Nasionale Party se oorwinning van 1929 (sonder die hulp van die Arbeidersparty) het 'n radikale nasionalisme onder leierskap van D.F. Malan ontwikkel wat die politieke landskap ingrypend sou verander. Die direkte oorsaak van die ontwikkeling was die ekonomiese krisis (depressie) wat die wêreld in 1929 getref en tot 1933 geduur het. Ná die samesmelting tussen Hertzog se Nasionale Party en Jan Smuts se Suid-Afrikaanse Party in 1934 om die Verenigde Party te vorm met Hertzog as premier, het Malan die Gesuiwerde Nasionale Party gestig. Sy beswaar was dat Afrikanernasionaliste onder Hertzog met Engelssprekendes in 'n party saamsmelt terwyl die Afrikaners - wat 56% van die blanke bevolking uitgemaak het - ten opsigte van sosiale, ekonomiese en onderwysaspekte nog nie op gelyke vlak met die Engelse gemeenskap was nie (Giliomee 2012:299-301).

Dit was veral die boere - waarvan Afrikaners in die meerderheid was - wat swaar deur die depressie en droogte getref is. Met die aanloklike snelle industrialisasie voor oë, het talle verarmde Afrikaners na die stede gestroom. Dit was meestal bloot 'n vervanging van landelike armoede deur stedelike armoede. Daarbenewens het hulle uitgebuit gevoel deur kapitalisme met sy Britse agtergrond, en het die morele waardes van die stad hulle vervreem. Onder hierdie omstandighede het lydingsmomente in die Afrikanergeskiedenis, soos die Groot Trek en die Anglo-Boereoorlog, 'n nuwe betekenis gekry. Dit was veral die geval toe die eietydse euwels onder die Afrikaners in 'n omgewing onder Britse oorheersing, na die Anglo-Boereoorlog teruggevoer kon word, toe 'n vorige geslag hulle ook teen Britse oorheersing verset het (Grundlingh 2001:246).

Te midde van hierdie roeringe in Afrikanergeledere het die eeufeesviering van die Groot Trek in 1938 plaasgevind. Só het D.W. Krüger, 'n vurige nasionale Afrikanerhistorikus, dit beskryf:

Die Groot Trek is geloof as die een gebeurtenis wat nie net die blanke beskawing in Suid-Afrika gered het nie, maar ook die grondslae van republikanisme gelê en die voortbestaan van die Afrikanerdom as volk verseker het... Dit het 'n magsfaktor geword wat onweerstaanbaar in die politiek was. Afrikaanse koerante en tydskrifte het 'n gereelde stroom artikels gepubliseer wat die prestasies van die Groot Trek beklemtoon het, en daar is besluit om 'n waardige monument op 'n heuwel by Pretoria op te rig om die groot gebeurtenis te herdenk. Die hoeksteen sou op 16 Desember 1938 gelê word, presies 100 jaar na die slag van Bloedrivier. Om die plegtige geleentheid te kenmerk, is 'n simboliese trek met 'n aantal ossewaens van suid na noord dwarsdeur die land georganiseer. Hulle sou verlede en hede met mekaar verbind. Die trek is in Augustus 1938 van stapel gestuur en orals langs die pad is plaaslike feesvierings gereël. Mans het hulle baarde laat groei, mense het hulle in Voortrekkerdrag geklee, terwyl volksliedere weerklink het. Die Vootrekkergeskiedenis is oor en oor herhaal, en namate die waens die eindpunt van die trek by die toneel van die monument genader het, het die vlam van vaderlandsliefde hoër gebrand. Die gevoel was oorweldigend dat Afrikaners bymekaar hoort op kulturele en politieke gebied. Hulle het 'n gemeenskaplike erfenis uit die verlede besit waaraan by implikasie die Engelssprekendes geen aandeel gehad het nie. (Krüger 1965:542)



Nooit tevore was die Afrikaner so ontvanklik vir lektuur rondom sy geskiedenis as met die Groot Trek-herdenking nie. Vir Afrikanerwoordsmede was die hoofmomente duidelik: Die volksplanting, die Groot Trek, die Eerste Vryheidsoorlog, die Anglo-Boereoorlog, en die eietydse stryd teen Britse oorheersing in Suid-Afrika, sou momente wees waar rondom die Afrikaner oor sy geskiedenis kon en wou lees. Enersyds sou die tydsgees hierdie publikasies voortbring. Andersyds sou hierdie publikasies as voedingsbron vir Afrikanernasionalisme dien. En as uitgewer sou Nasionale Pers hom nie onbetuig laat nie.

Die jare 1936-1937 was 'n finansiële waterskeiding vir Nasionale Pers. Waar daar oor die voorafgaande twintig jaar onegalige vooruitgang was, het die situasie teen 1933-1934 verbeter en is jaarlikse dividende van 5% betaal. In 1936 het die wins, soos in 1927 en 1928, tot oor die £20 000 gestyg, en sou die dividende nooit weer minder as 6% wees nie (Muller 1990:741). Tussen 1937 en 1939 het dit 'n tydperk van groot ondernemingsgees by Nasionale Pers beteken. Muller wys daarop dat aansienlike uitgawes aangegaan is danksy steun van Afrikaanse finansiële instellings en gestimuleer deur die behoeftes van die jong "Gesuiwerde" Nasionale Party, waarvan die leier, Malan, vanaf 1935 in die direksie was en wat ruim steun deur Nasionale Pers nodig gehad het om sy opdraande politieke stryd te voer. Nasionale Pers het dus van 1937 af van krag tot krag gegaan in sy hantering en finansiering van nuwe ondernemings (Muller 1990:741).

Die direksie het in hierdie stadium bestaan uit Bruckner de Villiers (voorsitter), Willie Hofmeyr, dr. D.F. Malan, LV, J.H.H. de Waal, LV (bekende skrywer van historiese romans), dr. N.J. van der Merwe, LV, en dr. S.J. du Toit (beide skoonseuns van oud-president M.T. Steyn), senator C.A. van Niekerk, C.R. Louw en P.A. Malan. As hoofbestuurder het H.J. Otto ook die direksievergaderings bygewoon. In November 1937 het die argitek Wynand H. Louw die plek van die afgestorwe De Waal geneem, en drie jaar later is adv. C.R. Swart ná die dood van Van der Merwe op die direksie verkies (Muller 1990:741).

In hierdie geestelik-historiese klimaat het Nasionale Pers vervolgens 'n buitengewone reeks historiese werke die lig laat sien - in so 'n mate dat Muller van oordeel is dat dit as 'n ware renaissance van Afrikaanse geskiedskrywing bestempel kan word (Muller 1990:554). Dit was die "Ons Geskiedenis-Serie" wat in 1937 sy eerste van 21 publikasies ervaar het en tot 1948 sou strek. Die "Ons" vooraan in die naam van die reeks het Nasionale Pers en die Afrikaner tot één verbind - dis "ons" geskiedenis, neem kennis!

Só het Nasionale Pers die "Ons Geskiedenis-Serie" in sy tydskrifte geadverteer:

In breë trekke word in hierdie reeks boeke blootgelê die verloop van ons vryheidswording teen barbaarse wreedheid, diplomatieke intrige en die geweld van die oormag. Hierdie boeke vorm 'n waardevolle bydrae tot ons historiese literatuur. Dit is boeke van onskatbare waarde vir die strydende Afrikanerdom wat die vuur van vaderlandsliefde in menige hart sal aanwakker. (Naspers-argief, AL 5, 32/1/5/66, Pryslys)

Hieruit is dit duidelik dat die oogmerk was om Afrikanernasionalisme te bevorder, maar ook om aan die geestelike behoeftes van die Afrikanernasionaliste ("die strydende Afrikanerdom") te voldoen.

Al 21 werke is met 'n roomkleurige linnestof oorgetrek. Dit het 'n kenmerkende ontwerp op die voorste buiteblad gehad. In die middel is 'n donkerbruin reghoekige raam geplaas, ingekeep op die vier hoeke. Die raam is heraldies van aard, met bo-aan die naam van die reeks ("Ons Geskiedenis-Serie") wat op 'n rol met krulwerk ("scroll") aangebring is. Die binnekant van die raam is versier met 'n vloeiende ontwerp van ligbruin blaretakke - dit omraam die titel van die boek en die naam van die outeur wat in groen letters aangebring is. Heel onderaan die raam verskyn die embleem van NPb (Nasionale Pers Beperk) binne-in 'n sirkel.

Dit was nie moeilik om die hooftemas vir die reeks te bepaal nie. Die volksplanting met Jan van Riebeeck in 1652, die Groot Trek, die Eerste Vryheidsoorlog, die Tweede Vryheidsoorlog (die Anglo-Boereoorlog), en die Afrikaner se lot in die twintigste eeu, is outomaties opgeroep as hoofmomente in die Afrikaner se geskiedenis. Van die 21 boeke in die reeks sou uiteindelik één die volksplanting, vyf die Groot Trek, een die Eerste Vryheidsoorlog, dertien die Anglo-Boereoorlog, en een Afrikanernasionalisme in die eerste vier dekades van die twintigste eeu, as temas hê. Die oplaes sou wissel tussen 2 000 en 3 000, wat aansienlik was vir die tyd (Muller 1990:554-555), en van die gewildste werke sou 'n tweede of selfs derde druk ervaar.

Die 21 werke in die "Ons Geskiedenis-Serie" word vervolgens onder die loep geneem. Hulle word, met uitsondering van die eerste werk wat verskyn het, volgens die vyf hooftemas wat hierbo uitgelig is, bespreek. Die keuses was deurgaans werke wat Afrikanernasionalisme kon bevorder. Aan die ander kant sou dit ook 'n behoefte na werke van hierdie aard bevredig en 'n weerspieëling van die Afrikanernasionalisme van die tyd wees.

Die keuse vir die eerste werk in die reeks het geval op C.J. Scheepers Strydom se manuskrip oor die Kaapkolonie en die Anglo-Boereoorlog. Dit is in die tweede helfte van 1937 gepubliseer as Kaapland en die Tweede Vryheidsoorlog.

Dit was 'n interessante keuse. Strydom, wat in 1929 die eerste MA-verhandeling in geskiedenis oor die Anglo-Boereoorlog in Afrikaans (aan Unisa) behaal het, het hiermee 'n verwerking van sy doktorale proefskrif aangebied. Dit was ook die eerste doktorale proefskrif oor die Anglo-Boereoorlog in Afrikaans, toe dit in 1932 met die titel "Die Kaapkolonie, 1899-1902: Skadevergoeding en die rebelle in ere herstel" by die Universiteit van Kaapstad aanvaar is met prof. Eric Walker as promotor (Muller 1990:539-540). Eienaardig genoeg het nóg die skrywer in sy Voorwoord nóg Nasionale Pers van die Afrikaanse prestasie gewag gemaak. Nogtans was die boodskap duidelik dat werke van hierdie gehalte in Afrikaans gepubliseer kán word.

Tevore was die oorspronklike manuskrip na die oordeel van 'n voornemende uitgewer te lank, maar in 1935 het die Afrikaanse Nasionale Studentebond in die werk begin belangstel en aangebied om die publikasie daarvan onder hul beskerming te laat geskied. Hierdeur aangespoor het Strydom die manuskrip verkort en verpopulariseer met 'n gemaklike skryfstyl en sonder prysgawe van veel wetenskaplikheid. Dit bevat voetnote, bylaes, 'n bronnelys, en 'n kritiese besinning oor die bronne. Met die verwerking het Strydom die hulp van onder meer Frederik Rompel en J.A. Smith van Die Burger gehad (Muller 1990:1940). Rompel was aan die begin van die Anglo-Boereoorlog korrespondent van De Volksstem in die Zuid-Afrikaansche Republiek. Smith was tydens die Anglo-Boereoorlog as veertienjarige knaap die jongste Kaapse rebel in generaal Wynand Malan se kommando in die Kaapse Middellande, en nou 'n bekende skrywer.

Strydom, vroeër 'n skoolhoof, was met die publikasie van Kaapland en die Tweede Vryheidsoorlog redakteur van Die Suiderstem, mondstuk van Hertzog se Verenigde Party in Kaapstad, uit die stal van Unie-Volkspers Bpk. Dit was ironies genoeg 'n media-mededinger van Nasionale Pers. Opvallend is dus dat die "Ons Geskiedenis-Serie" nie slegs Malan se Gesuiwerde Nasionale Party sou bedien nie, maar ook die regerende Verenigde Party. Miskien was die oorhoofse boodskap die belangrikste: Die Afrikaner se heldhaftige stryd teen Brittanje in die verlede kon vir die hede en die toekoms aangewend word. As VP-ondersteuner het Strydom dit oor die boeg gegooi van versoening en samewerking tussen Afrikaans- en Engelssprekendes noudat die oorlog verby was (Strydom 1937:261-264).

Minstens twee ander skrywers in die "Ons Geskiedenis-Serie" was ondersteuners van die Verenigde Party. Dit was 'n aanduiding dat die reeks nie deur die Malaniete gekaap is nie - solank die oorhoofse boodskap dat die Afrikaner se heldhaftige stryd teen Brittanje in die verlede vir die hede en die toekoms aangewend word, gegeld het. Dit was nogal die reeks se belangrikste skrywer, Gustav Preller, en Louis C. Leipoldt.

Kaapland en die Tweede Vryheidsoorlog was 'n gewilde publikasie, en het daarom in 1943 'n tweede druk beleef. Hierdie keer was die lettertipe kleiner en het dit 181 bladsye beslaan, teenoor die eerste druk se 285 bladsye - die Tweede Wereldoorlog met sy gebrek aan papier het kennelik sy invloed laat geld.

Hier volg 'n lys van die werke in die "Ons Geskiedenis-Serie":


1. Leipoldt, Jan van Riebeeck 1938

Groot Trek:

2. Preller, Dagboek van Louis Trichardt 1938

3. Preller, Voortrekkermense, Deel V 1938

4. Preller, Voortrekkermense, Deel VI 1938

5. Van der Merwe, Trekboer in Kaapkolonie 1938

6. Van der Merwe, Trek 1945

Eerste Anglo-Boereoorlog:

7. Pieterse, Volksaltare 1940 2de 1948

Anglo-Boereoorlog, 1899-1902:

8. Strydom, C.J. Scheepers, Kaapland 1937 2de 1943

9. Neethling, Mag ons vergeet? 1938

10. Preller, Ons parool 1938 2de 1943

11. Preller, Scheepers se dagboek 1938

12. Du Plessis, Oomblikke van spanning 1938

13. Badenhorst, Tant Alie van Transvaal 1939

14. McDonald, In skaduwee van die dood 1939 2de 1943

15. Brink, Oorlog en ballingskap 1940

16. Weeber, Op die Natalse front 1940

17. Pieterse, Oorlogsavonture van W. Malan 1941 2de 1946

18. Kemp, Vir vryheid en vir reg 1941 2de 1942 3de 1946

19. Preller, Talana 1942

20. Conradie, Met Cronjé aan die wesfront 1943

Afrikanernasionalisme in die 20ste eeu:

21. Kemp, Die pad van die veroweraar 1942 2de 1946

Die jaar 1938 was ongetwyfeld 'n hoogtepunt vir die "Ons Geskiedenis-Serie", toe nege titels verskyn het - een oor die volksplanting, vier begryplikerwys oor die Groot Trek tydens die eeufeesjaar, en vier oor die Anglo-Boereoorlog. In 1939 het twee titels verskyn, albei oor die Anglo-Boereoorlog; in 1940 het een oor die Eerste Vryheidsoorlog en twee oor die Anglo-Boereoorlog die rak gehaal; in 1941 was dit twee oor die Anglo-Boereoorlog; in 1942 was daar een oor die Anglo-Boereoorlog en een oor Afrikanernasionalisme in die twintigste eeu; in 1943 was dit weer twee oor die Anglo-Boereoorlog; en laastens, in 1945 een oor die Groot Trek-tydperk.



Vroeg in 1938 het C. Louis Leipoldt se boek, Jan van Riebeeck, in die reeks verskyn. Veelseggend was die subtitel Die grondlegger van 'n blanke Suid-Afrika. Leipoldt se getuigskrif was goed: Sy aangrypende gedigte oor die leed van die Afrikaner in die Anglo-Boereoorlog, soos "Oom Gert vertel", "In die konsentrasiekamp" en "Aan 'n seepkissie", het veel bygedra tot die emosionele opwekking van die Afrikaner ná die Anglo-Boereoorlog. Jan van Riebeeck is reeds twee jaar tevore, in 1936, in Engels deur Longmans, Green & Co. in Londen en New York uitgegee met die titel Jan van Riebeeck - a biographical study. Leipoldt self het dankbare erkenning aan E.C. Godée Molsbergen se biografie van Van Riebeeck verleen (De stichter van Hollands Zuid-Afrika: Jan van Riebeeck, Amsterdam, 1912). Hy het probeer, verklaar hy in die Voorwoord, om soveel as moontlik uit Van Riebeeck se Daghregister te put, en, waar moontlik, hom self te laat praat. Daarby het hy egter vermy om sy boek "te ontsier met tal van voetnote, wat die lees moeilik maak" (Leipoldt 1938:Voorwoord).

Die geskiedkundige, Anna Böeseken, het nie veel van Leipoldt se biografie van Van Riebeeck gedink nie. In haar gesaghebbende Jan van Riebeeck en sy gesin (1974) het sy haar nie verwerdig om die werk in haar Voorwoord of haar Inleiding te noem nie; trouens, sy verwys slegs eenmaal daarna - in 'n voetnoot, en dit in 'n negatiewe sin: "Hoewel goed geskryf, wemel dr. Leipoldt se boek van gissings wat as feitemateriaal aangebied word" (Böeseken 1974:13). Vir 'n ontvanklike Afrikaanse leserspubliek was Leipoldt se Jan van Riebeeck egter kennelik 'n gawe leeservaring.

Die eeufees van die Groot Trek in 1938 het Nasionale Pers tot heelwat publikasies aangespoor (Muller 1990:538). Die "Ons Geskiedenis-Serie", soos hier bo gemeld, sou vier hiertoe bydra. Gustav Preller, teen hierdie tyd byna allerweë in Afrikanergeledere as volkshistorikus aangeneem, het in hierdie jaar vir drie bronnepublikasies oor die Groot Trek gesorg. Voortrekkermense V en VI het eerste verskyn. Dit was manuskripte wat oorgehou is van "Die Burgerleeskring" uit die twintigerjare. Waarskynlik was dit nie 'n goeie keuse nie, want die uitgawes van "Die Burgerleeskring" het nie goed verkoop nie. Soos met die vorige dele het dit bestaan uit herinneringe, dagboeke, verslae, briewe en wetgewing uit die Voortrekkertydperk. Dit was nie opwindende leesstof nie, en waarskynlik het hierdie twee publikasies nie veel aftrek gekry nie. In deel V beslaan die eerste vyftig bladsye ' 'n Afrikaanse vertaling van die oninspirerende dagboek van Carl Behrens, 'n Duitser wat hom in 1840-1841 by die Voortrekkers in Natal bevind het; dit word in die volgende sestig bladsye opgevolg deur die oorspronklike Duitse teks; waarna met die herinneringe van Voortrekker J.H. Hattingh afgesluit word waarvan die byna vergete eerste helfte reeds in 1918 in Voortrekkermense I gepubliseer is. Deel VI met 'n aantal briewe, verslae en regulasies uit die Groot Trek het moontlik vir meer leesgenot gesorg. In skrywer se eksemplaar van deel V het J.H. Kritzinger van die Kweekskool op Stellenbosch trots voorin geskryf: "Ontvangs van die Voortrekker-ossewa op Stellenbosch, 9.8.'38". Twee maande later voeg hy aan die einde kommentaarloos by: "Gelees 18/10/'38".

Later in 1938 is Preller se tweede (verbeterde) uitgawe van die Dagboek van Louis Trichardt (1836-1838) in die "Ons Geskiedenis-Serie" gepubliseer. Ofskoon dit keurig versorg is, was dit basies presies dieselfde teks, kommentaar en annotasies as die eerste uitgawe wat in 1917 by Het Volksblad-Drukkerij in Bloemfontein verskyn het. Die eerste uitgawe het geskied as 'n opdrag van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Taal, Lettere en Kuns in 1916. Preller het egter in albei uitgawes weinig moeite gedoen om die afstandsvreemde Nederlands van Louis Trichardt vir sy lesers in verduidelikende voetnote op te helder.

Met sy beperkte fondse het Nasionale Pers dikwels sy populêre tydskrif, Die Huisgenoot, as toetsterrein gebruik om te bepaal of 'n reeks artikels in boekvorm uitgegee moet word. Een so 'n reeks was die swaarder wetenskaplike artikels van dr. P.J. van der Merwe, senior lektor in geskiedenis aan die Universiteit van Stellenbosch, oor die Afrikaner-trekboere in die laat-agtiende en vroegnegentiende eeu (Muller 1990:567). Kennelik het die reeks algemene byval gevind, en teen die einde van 1938 het Van der Merwe se Die trekboer in die geskiedenis van die Kaapkolonie (1657-1842) as die vierde werk oor die Groot Trek-tydperk in die "Ons Geskiedenis-Serie" verskyn.

Van der Merwe het 'n ietwat eienaardige werkwyse gevolg (Van der Merwe 1938:vii). Die trekboer in die geskiedenis van die Kaapkolonie (1657-1842) het wel die eerste deel van 'n beplande trilogie oor die trekboere gevorm, maar die derde deel het eintlik eerste verskyn - in 1937, as Van der Merwe se doktorale proefskrif onder die beroemde kultuurhistorikus, Johan Huizinga, aan die Universiteit van Leiden in Nederland, met die titel Die noordwaartse beweging van die boere voor die Groot Trek (1770-1842). Die tweede beplande deel met die beoogde titel Die mobiliteit van die pioniersbevolking aan die Kaap, sou uiteindelik in 1945 bloot met die titel Trek as die laaste deel van die "Ons Geskiedenis-Serie" verskyn.

Van der Merwe maak 'n einde aan die verwarring onder historici van "die trekboer" en "die Voortrekkers" deur die twee groepe met hulle afsonderlike bewegings duidelik van mekaar te onderskei; die trekboere was nie die eerste Voortrekkers nie, maar semi-nomadiese grensboere wat die natuurlike uitbreiding van die Kaapkolonie na die binneland gelei het (Van Jaarsveld 1981:147, 149).

In Die trekboer in die geskiedenis van die Kaapkolonie (1657-1842) wys Van der Merwe op die evolusie van die graanboer na trekboer. Hy bespreek die rol van die leningsplaas, houdings teenoor arbeid, die daling van graanpryse, die tradisie om selfstandig te boer, die rol van veeruilers en jagters, en die sielkundige grondslag van die trek weg van die beskawing af. Hy skryf oor grondbesitters, bywoners, jong beginners, nomadiese trekboere en jagterveeboere wat na die grensdistrikte verhuis het vir beter lewensomstandighede. Van der Merwe se aanslag vergelyk met F.J. Turner se studie van die Frontier in die Amerikaanse geskiedenis, en sy werk is in pas met die vroeëre Franse Annalesskool van geskiedskrywing en 'n voorloper van hul latere Franse plattelandse streeksgeskiedenisse (Van Jaarsveld 1981:151). Van der Merwe het uitgebreide navorsing in Kaapstad, Den Haag en Berlyn gedoen, en dit aangevul met besonder deeglike veldwerk. Ofskoon hy besondere aandag aan detail gegee het, was dit altyd ondergeskik aan die breë doek van historiese gebeure (Smith 1988:79).

Trek, wat, soos gestel, die laaste publikasie in die "Ons Geskiedenis-Serie" (herdrukke uitgesluit) was, het in 1945 verskyn. Dit handel oor die mobiliteit van die trekboer, en is 'n deeglike ontleding van die prosesse en gevolge van geografiese beweeglikheid van 'n pioniersbevolking. F.A. van Jaarsveld noem dit "een van die mees oorspronklike boeke wat nog in Afrikanerhistoriografie verskyn het". Ten eerste, verduidelik hy, is dit grootliks op 'n nuwe metode, nl. veldwerk, gebaseer waardeur mondelinge getuienis aan die hand van argivale navorsing gekontroleer en aangevul word. Tweedens behandel dit plattelandse streeksgeskiedenis op 'n wetenskaplike wyse, wat nuut is in die Afrikanergeskiedskrywing. En derdens fokus dit op temas soos jag, jagterveeboere, landtoggangers en ruil-ekspedisies. Trekboer-tipes se lewensomstandighede word ondersoek en die trekgees word verklaar (Van Jaarsveld 1981:153-154).

Die publikasie van Die trekboer in die geskiedenis van die Kaapkolonie (1657-1842) en Trek is uit pas met die denkbeeld dat die "Ons Geskiedenis-Serie" Afrikanernasionalisme wou bevorder. Toe Afrikanernasionaliste met die Voortrekkerverheerliking begin het en die Voortrekkers as helde beskou het, asof hulle die enigste geestelike voorvaders van die Afrikaner was, het Van der Merwe op 'n ander tipe pionier gekonsentreer en hulle handelswyse probeer verstaan. Soos Van Jaarsveld opmerk, het Van der Merwe se wetenskaplike bedryf slegs gewentel om die "verstaan" van die verlede ter wille van die verlede self - sy geskiedskrywing was onbetrokke en objektief (Van Jaarsveld 1981:135 en 148). 'n Mens wil Van der Merwe se werk anti-Groot Trek-werke noem, aangesien die heroïese element, waarin die gewone leser van die reeks sou belangstel, afwesig is.

Nasionale Pers het in hierdie tyd ook twee ander werke van Van der Merwe wat uit sy trekboer-navorsing gespruit het, uitgegee, nl. Die Kafferoorlog van 1793 (1940) en Pioniers van die Dorsland (1941). Daar kan alleen gespekuleer word waarom hulle nie onder die vaandel van die "Ons Geskiedenis-Serie" verskyn het nie. Waarskynlik is geredeneer dat dit die balans van temas vir die reeks sou versteur.



In 1940 verskyn die herinneringe van Pieter C. Joubert in die "Ons Geskiedenis-Serie" met die titel Volksaltare, of 'n veteraan van die Eerste Vryheidsoorlog. Dit is versorg deur en het verskyn onder die naam van H.J.C. (Dèki) Pieterse, onderwyser aan die Hoërskool Maitland.

Waarom 'n werk uit die stryd van 1880-1881, waarvan weinig mense kennis gedra het behalwe miskien om te weet van die Slag van Majuba? Die antwoord vind ons in die woorde van die joernalis J.A. Smith, wat in 1918 in die Inleiding van sy emosionele werkie Naar Bloedrivier en Paardekraal geskryf het:

Ons volk sou vandaag 'n swakker, 'n meer slaafse en papbroekiger volk gewees het als daar geen oorwinning in die Vrijheids-Oorlog gewees het. Die oorlog was voorwaar 'n sterke hoeksteen van die groter wordende volk, die redding van nasionale selfstandigheid, die uitkoms uit verdrukking, die redding van Suid-Afrika en 'n verlossing vir die blanke man uit die naturellegevaar, waarin Brittanje wetend of onwetend die land geprobeer bring het. (Smith 1918:iii-iv; Muller 1990:530)

Joubert se herinneringe kom nugter oor, maar daar is geen onduidelikheid oor die heroïese van die Afrikanerstryd teen die magtige Brittanje nie. Volksaltare het kennelik sy teikenmark getref en dit het die onderskeiding dat dit 'n tweede druk in 1948 ervaar het - die laaste publikasie in die "Ons Geskiedenis-Serie". Daarom is dit vreemd dat slegs een werk oor die eerste Vryheids-oorlog verskyn het, terwyl oudstryders nog gelewe het.



Vroeër is daarop gewys dat die publikasie van Boereherinneringe en -dagboeke oor die Anglo-Boereorlog beduidend afgeneem het in die tydperk tussen 1906 en 1931. Daarna het 'n golf van publikasies oor die oorlog die Afrikaanse leserspubliek getref. Die jare 1938 en 1939 sou veral 'n goeie oes lewer. Wat het dan die ommekeer teweeggebring?

Met die besef dat oudstryders van die Anglo-Boereoorlog aan die uitsterf was, het verskeie Afrikanerkultuurorganisasies in die twintigerjare die behoefte uitgespreek dat mense se herinneringe opgeteken word. Dr. D.F. Malan, minister van binnelandse sake, het egter vroeg in Januarie 1931 verklaar dat die fondse vir die aanstelling van 'n historikus om die oorlog te boek te stel, ontbreek. Onmiddellik het Die Burger in Kaapstad en Die Volksblad in Bloemfontein hul teleurstelling uitgespreek. So 'n geskiedenis sou nie alleen in 'n nasionale behoefte voorsien nie, maar ook verhoed dat heelwat uiters waardevolle mondelinge getuienis verlore sou gaan, het Die Burger geprotesteer. Oproepe in die Senaat, die Vrystaatse Provinsiale Raad en vanuit die Sentrale Monumentekomitee het geen sukses behaal nie.

In hierdie tyd het die redakteur van Die Huisgenoot, J.M.H. Viljoen, egter begin om sy le2sers te laat besef hoe belangrik dit was dat hulle hul herinneringe moet opteken. Hy het eers algemene artikels geplaas om bepaalde gebeurtenisse te herdenk, en vervolgens reekse herinneringe van oudstryders oor beroemde Boereoorwinnings, die leiers, en die ervaring van krygsgevangenes. Dit het groot byval gevind en talle briewe met nuwe inligting tot gevolg gehad (Stemmet 1975:115-118).

Hierdie talle pleidooie en pogings van verskillende instansies het tog eindelik daartoe gelei dat oudstryders die waarde van hul ervarings besef het en dit begin opteken of laat opteken het. Daarbenewens het die aanloop tot en die honderdjarige herdenking van die Groot Trek in 1938 self, met sy simboliese ossewatrek en die hoeksteenlegging van die Voortrekkermonument op 16 Desember, die verlede-besef van die Afrikaners wakker gemaak. Die politieke woelinge sedert die uitbreek van die Tweede Wereldoorlog in September 1939 het as verdere prikkel gedien, namate Afrikanernasionaliste deelname aan die kant van Brittanje verwerp het en Brittanje se inpalming van die Boererepublieke veertig jaar tevore in herinnering geroep het. Belangrik was dat die tydsgees die opskryf van herinneringe begunstig het: Oudstryders kon nou hul oorlogservarings in hul eie taal, Afrikaans, wat in 1925 tot amptelike status naas Engels en Nederlands verhef is, opteken. Hulle kon ook op Afrikaanse uitgewers en 'n geesdriftige leserskring staatmaak wat voorheen grootliks ontbreek het. Dit het tot 'n reuse-toename van publikasies in die laat-dertiger- en veertigerjare gelei (kyk Stemmet 1975:118-119). Die tydperk van ontkenning - moontlik nie van trauma nie, maar dit is 'n ander verhaal - was verby.

Hierin het Nasionale Pers met sy besluit om die "Ons Geskiedenis-Serie" uit te gee, hom nie onbetuig gelaat nie, en verklaar dit waarom uiteindelik dertien van die een en twintig boeke in die reeks oor die Anglo-Boereoorlog sou gaan. Die eerste daarvan, en ook die eerste in die reeks, was C.J. Scheepers Strydom se Kaapland en die Tweede Vryheidsoorlog, wat in 1937 verskyn het en hier bo bespreek is.

Waarskynlik het geen ander boek in die reeks soveel tot die ontvanklike gemoed van die Afrikaner gespreek nie as mev. Elizabeth Neethling se Mag ons vergeet? in 1938. Soos bo aangetoon, is haar Should we forget? reeds in 1903 in Engels deur H.A.U.M. gepubliseer. Die 1938-Afrikaanse uitgawe het heeltemal van die Engelse teks verskil, en was eintlik 'n vertaling van die Nederlandse uitgawe, Vergeten?, wat in 1917 by de Nationale Pers verskyn het. Vir hierdie teks het sy die herinneringe aan die lyding van die Boerevroue en -kinders in die veld en in die konsentrasiekampe oorgeneem wat die redakteur van die Transvaler, Horak, in 1904 versamel het. Die gevoelens wat Neethling hier openbaar, dateer uit die 1917-uitgawe (eintlik haar Voorwoord uit 1916), aangesien sy in 1917 oorlede is (Du Toit 1972:523). Betekenisvol word dit egter nie in die 1938-uitgawe vermeld dat sy reeds 21 jaar tevore oorlede is nie.

Die teks uit 1917 en Neethling se verontwaardiging maar terselfdertyd haar waarskuwing teen haat (Neethling 1938:xi) het goed ingepas by die oogmerk van Nasionale Pers en die "Ons Geskiedenis-Serie", nl. om die Afrikaanse kultuur en daarmee saam Afrikanernasionalisme te bevorder. Nie alleen het die titel die gemoed aangespreek nie, maar is daar ook op die titelblad onder die skryfster se naam die woorde "L.W.: Hierdie boek is nie vir diegene wat wil vergeet nie" aangebring. Neethling se Voorwoord open met die opmerking dat baie mense miskien sal vra: "Waarom nou weer die ou wonde oopkrap? Is dit nie beter om sulke pynlike dinge, al is hulle ook waar, maar aan die vergetelheid oor te laat nie?" Daarop is haar antwoord: "Liewe lesers en leseresse, meen julle nou werklik dat dit beter sou wees vir ons kinders en ons kindskinders om niks te weet van alles wat hulle vaders, en vernaamlik hulle moeders, vir land en volk gely het nie? Waarom sorg die Skotte so goed daarvoor dat die geskiedenis van die stryd vir vryheid en onafhanklikheid altyd vars in die geheue moet bly?... Net so in Switserland!... In Holland is dit presies dieselfde.. .En die Verenigde State van Amerika!" Die herinnering moet die nuwe geslagte sterk maak. "Dit is nou wel waar dat ons ons onafhanklikheid verloor het", skryf sy, "maar dit ontneem niks aan die waarde van al die moed en volharding deur ons helde en heldinne aan die dag gelê nie. Ons nageslag moet dit weet." Sy spreek die vertroue uit dat die boek sal help "om ons kinders trots te maak op hulle voorouers, hulle volksliefde sal vermeerder en die edelste in 'n volkskarakter sal opbou" (Neethling 1938:i-v).

In hierdie klimaat van volkstrots oor die heldedade en verontwaardiging oor die lyding in die Anglo-Boereoorlog het Gustav Preller gedy. Benewens sy biografie van die Voortrekkerleier, Andries Pretorius, wat in 1938 by die Afrikaanse Pers verskyn het, het die "Ons Geskiedenis-Serie" saam met sy drie werke oor die Groot Trek óók drie van sy werke oor die Anglo-Boereoorlog gepubliseer - Ons parool: Dae uit die dagboek van 'n krygsgevangene (in 1938), Scheepers se dagboek en die stryd in Kaapland (1 Okt. 1901 - 18 Jan. 1902) (ook in 1938), en Talana: Die Drie Generaals-Slag by Dundee, met lewensskets van Genl. Daniel Erasmus (in 1942).

Ons parool is Preller se eie oorlogservaringe toe hy vroeg in 1902 as krygsgevangene na Indië gestuur is. Ofskoon hy in sy Voorwoord verklaar dat hy "daarna streef om slegs die waarheid weer te gee" soos hy dit self beleef en indertyd aangeteken het, getuig dit van sterk voor- en afkeure - voorkeure vir die getroues aan die Afrikanersaak van vryheid, en afkeure vir onbeskofte Britse soldate en joiners (Afrikanerkollaborateurs of -samewerkers aan Britse kant). Veral is die joiners in sy visier, die "ruggraatlose erdwurms". En tog verklaar hy dat die getroues aan die Afrikanersaak sal probeer versoen met die ontroues "omdat ons hul kinders nie wil afstoot nie" en hulle stemme in die toekoms by politieke verkiesings nodig sal hê (Preller 1938-2:Vooraf, 87, 227-228). Die lyding van die Boerevroue en kinders is duidelik die dryfveer vir Preller se gevoel:

Die hele land deur werd hulle uit hul huise uitgesleur, die huise voor hul oë in as en puin gelê en hulle self in die hartjie van die Hoëveldse winter dae lank op oop waens blootgestel aan die guurste weer, sonder enige dekking hoegenaamd. Hulle werd nie toegelaat om hul eie dekgoed uit hul brandende huise te red nie, en later is hulle saamgehok in konsentrasiekampe, waar 26,000 vroue en kinders dit met hul lewens bekoop het - die slagoffers van ontbering, blootstelling, honger en ellende. (Preller 1938-2:243-244)

Ons parool was so gewild by die leserspubliek dat dit in 1943 'n tweede druk belewe het.

Met die publikasie van kaptein Gideon Scheepers se dagboek van sy gevangeneming en verhoor in die Kaapkolonie wou Preller die skreiende onreg wat met Scheepers se teregstelling gepleeg is, aan die groot klok hang. Daar is genoeg in die dagboek wat die emosie gaande maak. Drie weke voor sy skuldigbevinding en teregstelling skryf Scheepers: "Hoe de vyand ook moge juigen, het Afrikaner Volk zal leven en niet sterven!... Doch wy Afrikaners zullen onder de Engelsman nooit recht zien" (Preller 1938-3:100; Muller 1990:541).

Preller het Scheepers se dagboek in konteks geplaas deur 'n uitgebreide biografiese skets van hom plus 'n uiteensetting van die oorlog in die Kaapkolonie sedert generaal Hertzog se inval in Desember 1900, in te sluit. Die feit dat Scheepers se optrede in die Kaapkolonie op bevel van sy senior offisiere was, en bloot 'n reaksie op die Britse verskroeide aarde-beleid in die Boererepublieke, het die verbeelding aangegryp. So ook die feit dat die Britte sy lyk in die nag ná sy teregstelling opgegrawe en elders op 'n onbekende plek gaan begrawe het. Die publikasie het ongetwyfeld daartoe bygedra dat Gideon Scheepers een van die martelaarsfigure in die Afrikaner se geskiedenis geword het.

Talana is 'n biografie van generaal Daniel Erasmus,'n welgestelde groot grondbesitter van Pretoria. Tydens die Slag van Talana was hy met sy kommando bo-op Impatiberg in digte mis gehul, en al kon hulle die geveg by Talana duidelik hoor, het Erasmus en sy krygsraad teen ondersteuning besluit. Hierdie versuim het Erasmus oor die jare aan ernstige kritiek blootgestel. Preller probeer Erasmus egter verontskuldig met die argument dat hy bloot kommandant-generaal Piet Joubert se bevele uitgevoer het om Impatiberg te beset en dat daar van ondersteuning aan generaal Lukas Meyer geen sprake was nie (Preller 1942:203-211).

In sy Inleiding verklaar Preller ronduit dat volkome objektiwiteit onbereikbaar is, maar dat hy nietemin teenoor sy stof "so objektief staan as wat dit my as Afrikaner gegee is om te doen" (Preller 1942:iii). Dit het daartoe gelei dat hy die oorlog beskou as "Die Goudoorlog", omdat, sê hy, "dit gegaan het oor besit en eksploitasie van Transvaal se goud en diamante en weinig of niks anders nie". Hy voeg by dat dit nou eenmaal 'n hoedanigheid van die Britte is dat hulle hul oë op een of ander Nabot se wingerd slaan en die besit daarvan begeer (Preller 1942:1-2). Daarmee het hy nie die guns van strewers na objektiwiteit gewen nie.

'n Laaste werk in die reeks uit 1938 was ds. Ph.J. du Plessis se Oomblikke van spanning, wat sy herinneringe as Kaapse rebel onder kommandant Willem Fouché bevat. Die korrespondent van Die Burger, J.A. Smith, bekend vir sy vurige Afrikanernasionalisme, verduidelik in 'n Voorwoord dat daar tot in daardie stadium min uit die geskiedenis van die stryd in Kaapland in druk verskyn het. Daarom was hierdie herinneringe baie welkom, omdat dit gebeure beskryf "wat onvergeetlik sal bly in die geskiedenis van dapperheid en taaie volharding van hulle wat, nie om eie voordeel of eie eer nie, soveel gewaag en opgeoffer het". Hy beveel as medestryder hierdie werk aan met die vertroue dat dit mag dien "tot kweking van groter volkstrots" en as 'n aanvuring vir seuns en dogters "tot volharding in die nastrewing van hoë volksideale" (Du Plessis 1938:Voorwoord).

Smith weerspieël nie die toonaard van Du Plessis se beskeie maar insiggewende aanbieding nie. Du Plessis vertel dat dors en "doodvaak" die swaarste liggaamlike ontberinge op kommando was en brandwagstaan een van die swaarste, vervelendste en mees senuspannende pligte. Tog slaan die boodskap van nasionalisme deur: Toe 'n medeburger van besoldiging vir sy diens op kommando praat, reageer Du Plessis verbaas: "Nee, oom Tys, ons veg nie vir geld nie. Ons veg net vir die vryheid en behoud van die twee Republieke!... 'n Mens moet 'n oortuiging en ideaal hê, anders help hierdie swaarkry niks nie". In aansluiting by die algemene vrome godsdienssin van sy tydgenote, vertel hy ook dat die murmurering oor die teleurstellende vrede weldra uitgeloop het op 'n gelatenheid en berusting in die alwyse raad van die Verbondsgod (Du Plessis 1938:18, 26, 173-174, 179).

Nog 'n werk wat oor die stryd in Kaapland handel, het in 1939 in die reeks verskyn. Dit was ds. R.D. McDonald se In die skaduwee van die dood, wat reeds in 1904 in Engels met die titel In the shadow of death sy debuut gemaak het. Ten einde die soeklig op die heldefiguur in die boek te laat val, het hy generaal P.H. Kritzinger as eerste skrywer op die titelblad aangekondig. McDonald, oorspronklik van Winburg, het as veldprediker en militêre sekretaris van Kritzinger opgetree.

Op geen wyse verberg hy sy nasionale gevoelens nie. In Junie 1900 het hy aan 'n krygsgevange Britse offisier verduidelik dat die Vrystaters en Transvalers in wese één volk was. Die Vaalrivier het die twee republieke geskei, maar wat bande van bloed betref, nie die mense nie (Kritzinger & McDonald 1939:41). Die ontsettende lyding tydens De Wet se tweede mislukte invalspoging in die Kaapkolonie in Februarie 1901 het McDonald laat opmerk dat hy die burgers se uithouvermoë, geduld en vasberadenheid bewonder het. Dit was vir hom as prediker 'n plesier om sulke manne te dien wat hul vaderland liefhet. Hulle, wat bereid is om alles vir hul vryheid op te offer, moet tog seker eindelik seëvier? (Kritzinger & McDonald 1939:77, 81). Hy sluit ook sy Voorwoord af met die woorde: "Mag die vuur van vaderlandsliefde deur hierdie geringe bydrae in menige hart aangewakker word." Moontlik het generaal Kritzinger se naam daartoe bygedra dat die werk in 1943 'n tweede druk belewe het.

Uit 1939 het nog 'n verhaal van 'n Boerevrou in die Anglo-Boereoorlog in die "Ons Geskiedenis-Serie" verskyn - die herinneringe van Alie Badenhorst van die plaas Mahemsvlei in die Potchef-stroomse distrik. Die vertaling uit die Afrikaans-Nederlands van Badenhorst is deur oudpresident F.W. Reitz aangepak en ná sy dood deur mev. M.E. Rothmann (die bekende M.E.R.) voltooi (Badenhorst 1939:Voorwoord).

Op 'n manier het Tant Alie van Transvaal 'n klassieke werk geword - enersyds omdat Emily Hobhouse reeds in 1923 vir 'n Engelse vertaling daarvan gesorg het (Tant Alie of Transvaal) en dit dus internasionale bekendheid verwerf het, maar andersyds omdat dit op onbeskroomde wyse die Afrikanervrou se lydsaamheid, krag, godsdienssin en volksgevoel weerspieël het. Of, soos mev. Tibbie Steyn, weduwee van president M.T. Steyn, in 'n Boodskap voorin die boek geskryf het, dit getuig "van volksliefde en skerpsinnige waarneming, en dra die stempel van 'n egte Boervrou en Afrikanermoeder" (Badenhorst 1939:Boodskap van mevrou president Steyn).

Gebaseer op haar dagboek is dit die verhaal van Alie Badenhorst wat ná haar man se vertrek op kommando die boerdery behartig. Hy word in Februarie 1900 saam met generaal Piet Cronjé by Paardeberg krygsgevange geneem en na Simonstad en later St. Helena gestuur. In April 1901 voer die Britte haar weg van die plaas na Klerksdorp. Omdat sy op daardie oomblik siek is, word sy en haar vyf kinders nie na die konsentrasiekamp gestuur nie, maar kry sy vergunning om by 'n vriendin in die dorp te bly. Later dien sy as verpleegster in die kamp. Die briewe wat sy van haar man op kommando en later as krygsgevangene kry, word in die boek opgeneem. So kry die leser 'n uitstekende beeld van hoe die oorlog 'n Boeregesin geraak het. As vrome Christin aanvaar sy haar lot, maar lewer tog as patriotiese Afrikaner kommentaar op die wêreld om haar. Van die lyding skryf sy: "Maar ly moes hulle, want hulle is weggestuur omdat - ja, waarom? Omdat hul mans nog geveg het. Arme vrouens! Arme kinders! Nooit het ek kon dink dat 'n beskaafde nasie so met vrouens kon werk nie" (Badenhorst 1939:295). Wanneer die vrede sonder vryheid aanbreek, behou sy haar geloof: "Al ons huise was vernietig, al ons diere weggemaak." En sy vra: "O God, waarom het u ons so swaar beproef?" Maar dan kom die berusting: "O God, maak my onder U heilige wil tevrede; leer my U wil te eerbiedig; U ken self my opstandige hart!" (Badenhorst 1939:373). Alie Badenhorst is in 1908 oorlede en beide die Engelse en Afrikaanse werke is ná haar dood gepubliseer. Dit is egter nie in die uitgawe van die "Ons Geskiedenis-Serie" vermeld nie.

In 1940 verskyn twee werke oor die Anglo-Boereoorlog in die "Ons Geskiedenis-Serie", nl. J.N. Brink se Oorlog en ballingskap, en E.J. Weeber se Op die Natalse front (1 Oktober 1899 -31 Mei 1900). Brink, van die Ladybrand-kommando, was een van die sowat 4 300 man wat einde Julie 1900 onder generaal Marthinus Prinsloo in die Brandwaterkom krygsgevange geneem en na Ceylon (vandag Sri Lanka) gestuur is. In 1904 het Brink sy herinneringe in Nederlands en Engels by H.A.U.M. gepubliseer, met die onderskeidelike titels Ceylon en de bannelingen en Recollections of a Boer prisoner-of-war in Ceylon.

Dit was nou egter 'n welkome toevoeging tot die "Ons Geskiedenis-Serie", wat volgens resensent A.T.H. van der Walt van 16 Augustus 1940 in Die Volksblad "reeds soveel gedoen het om aan die groeiende vraag na historiese, en veral oorlogslektuur te voldoen".

In vergelyking met die uitgawes uit 1904 is die inhoud aanmerklik uitgebrei en ook deur vier bykomende hoofstukke oor die aktiwiteite van die Ladybrand-kommando aan die wesfront aangevul. Brink weerspieël sonder klinkklare bewyse die opvatting watjarelank in die Oos-Vrystaat geglo is, nl. dat Prinsloo vir sy oorgawe met die vyand gekonkel en dus verraad gepleeg het. Hy verontskuldig generaal ds. Paul Roux, wat ernstig deur generaal C.R. de Wet in sy De strijd tusschen Boer en Brit verkwalik is vir sy lamsakkige optrede met Prinsloo se oorgawe.

E.J. Weeber se herinneringe aan die Natalse front was 'n goeie toevoeging tot die reeks en die enigste wat uitsluitlik oor daardie operasionele terrein handel. Hy was van Middelburg, Transvaal, afkomstig en met die uitbreek van die oorlog 11de klerk van die staatsekretaris, in die afdeling Buitelandse Sake in Pretoria (Staats-almanak voor de Zuid-Afrikaansche Republiek 1899:41). Hy het dus, soos hy verklaar, persoonlik die "ontwikkeling van die groot Suid-Afrikaanse tragedie" van naby aanskou, en al die Boerevoormanne persoonlik geken, ook vanweë sy ouers se konneksies (Weeber 1940:2-3, 17). Hy het vrywillig op kommando gegaan, maar van kommandant-generaal Piet Joubert se "papbroekige krygsbeleid" het hy niks gedink nie. Hy lewer gereeld kritiek daarop, soos die versuim om die spoorlyne diep binne die Kaapkolonie en Natal te gaan afsny en die vyand aan te val wanneer hy kwesbaar was (Weeber 1940:29-32, 90, 93, 101, 120).

Weeber se opvolg-manuskrip is twee jaar later, in 1942, deur Nasionale Pers met die titel Op die Transvaalse front uitgegee, maar opvallend genoeg nie as deel van die "Ons Geskiedenis-Serie" nie. Dit is moontlik dat sy kritiek op Joubert en die algemene leërleiding nie goed ontvang is nie en 'n verklaring vir hierdie besluit bied. Dit mag ook wees dat Nasionale Pers vooraf met hom 'n ooreenkoms aangegaan het om albei manuskripte te publiseer, en dat Op die Natalse front nie goed verkoop het nie en die uitgewer tog sy ooreenkoms wou nakom, maar nie in die "Ons Geskiedenis-Serie" nie. Dokumentäre bewys ontbreek egter om 'n finale oordeel te vel.

Daar was wel 'n tragiese nadraai. In 1951, 'n jaar ná Weeber se dood, het sy weduwee by Nasionale Pers navraag gedoen oor die lot van 'n verdere manuskrip oor die Anglo-Boereoorlog, getiteld "Oudstryders aan die woord", aangesien sy as weduwee met haar kind dit finansieel swaar gehad het. "'n Weduwee van 'n man wat twee boeke oor die Boere-oorlog en [sic] ons nagelaat het, verdien darem tog seker 'n iets as daar iets is wat tot ons voordeel kan wees", het sy afgesluit (Naspers-argief, Brief, A.M. Weeber - Nasionale Pers, 25.1.1951).

In 1941 het daar twee werke oor die Anglo-Boereoorlog in die "Ons Geskiedenis-Serie" verskyn, te wete H.J.C. Pieterse se Oorlogsavonture van genl. WynandMalan, en generaal J.C.G. Kemp se beskrywing van die oorlog met die titel Vir vryheid en vir reg. Soos genoem, was Pieterse ook verantwoordelik vir die optekening van Pieter C. Joubert se herinneringe aan die Eerste Vryheidsoorlog, getiteld Volksaltare, in die "Ons Geskiedenis-Serie".

Dertien van die 21 werke in die "Ons Geskiedenis-Serie" sou oor die Anglo-Boereoorlog handel. Van die dertien was Oorlogsavonture van genl. Wynand Malan die vyfde in die reeks oor die stryd in Kaapland tydens die oorlog. Dit dui op 'n gebrek aan balans in die beplanning. Waarskynlik was dit omdat Nasionale Pers 'n Kaapse basis gehad het en daar gevoel is dat die Kaapkolonie tevore in die verhale oor die oorlog afgeskeep is. In hierdie verband het J.A. Smith se betrokkenheid by Nasionale Pers en sy reputasie dat hy as veertienjarige die jongste Kaapse rebel was wat tydens die Anglo-Boereoorlog onder Malan geveg het, waarskynlik 'n rol gespeel.

Die avonture van Malan, wat ná die Anglo-Boereoorlog na Tanganjika uitgewyk het en vir die Groot Trek-herdenking in 1938 na Suid-Afrika gereis het, is ná 'n lang vertraging eindelik gepubliseer met die aanmoediging van Die Huisgenoot-redaksie, die redaksie van Die Burger se naweekuitgawe, en J.A. Smith, wat in daardie stadium assistent-kommandant-generaal van die Ossewabrandwag was. Dit was in 'n kritieke fase van die Tweede Wêreldoorlog, toe dramatiese verwikkelinge in Suid-Afrika plaasgevind het (Muller 1990:540).

Malan se avonture was kennelik gewild by die leserspubliek, en het 'n tweede druk in 1946 belewe. Ongetwyfeld het die gloeiende aanbevelings van Smith en Pieterse wat in die werk opgeneem is, daartoe bygedra.

In sy Aanbeveling skryf Smith: "Hiermee word 'n boek van onskatbare waarde vir die strydende Afrikanerdom aangebied - die verhaal van 'n beroemde krygsman by wie plig en diens vir volk en vaderland die aanvuring was om vir geen opoffering of dood terug te deins nie." Hy vervolg: "Wie die verlede van 'n strydende volk in ere hou, sal met nasietrots besiel word deur die lees daarvan, en wie 'n beter toekoms vir sy volk soek, sal daardeur tot groter geesdrif aangespoor word" (Pieterse 1941:Aanbeveling).

Die nasionale appèl figureer ook sterk in Pieterse se Inleiding. Hy vertel hoe die beskeie Malan eers as gewone burger en later as offisier hom "met bykans grenselose hartstog in die worstelstryd van die Boere gewerp" het. Hy was 'n man "van geweldige energie, en sy hartstog het hom voortgedryf tot dade van roekelose dapperheid wat haas onbegryplik is". By generaal De Wet en kommandant Danie Theron het hy geleer, en sy stormjaagtaktiek te perd het hom altyd "saam met die dapperstes op die voorpunt van die geveg en meestal teen 'n geweldige oormag" gebring. Volgens Pieterse het sy krygsloopbaan letterlik gewemel van avontuurlike insidente, en sy prestasies as individuele vegter "klink bykans ongelooflik" (Pieterse 1941:4-6). Die leser van vandag wonder skalks waarvoor die ander sestigduisend Boere dan nodig was.

Sy verteller sluit sy Inleiding af met die woorde: "Mag die herinnerings van [die] gryse generaal dien om nou van die tienduisende jong Afrikaners manne te vorm soos Malan eertyds van. die heroïeke Kaapse rebelle en ander, manne gemaak het" (Pieterse 1941:9).

Maar Pieterse is nog nie klaar nie. In 'n voetnoot in die teks bring hy die verlede en sy hede moeisaam by mekaar uit:

Dis nie vir die historiese kritici gestel om te verklaar of die sterkste georganiseerde beweging in die geskiedenis van Suid-Afrika - die Ossewabrandwag - ewe skitterende offisiere, alhoewel op 'n ander gebied, gaan voortbring nie, maar dis opvallend dat veral Wynand Malan se T.V.K. [Theron Verkenningskorps] vandag, voor die voet, van die allerbelangrikste offisiersbetrekkings (hoofsaaklik in Kaapland) beklee; sy jongste penkop-rebel is assistent-kommandant-generaal - J.A. Smith. 'Joubertjie', die kranige adjudant van genl. Manie Maritz, is bevorder tot generaal; Ben Burger is hoofkommandant, W.P. Burger (Wit Jack) eweneens... 'n Mens sou.. .'n splinternuwe T.V.K. onder die offisiere alleen kan monster. Toevallig lees ek dat kapt. Henry Slegtkamp ook 'n O.B.-generaal is. (Pieterse 1941:198n)

Generaal Jan Kemp se werk met die tot-die-hart-sprekende titel Vir vryheid en vir reg is volgens die Voorwoord van prof. E.C. Pienaar, kultuurkenner van Stellenbosch, 'n ryklik gedokumenteerde stuk geskiedenis wat "'n treffende beeld van die vryheidsworsteling van die Afrikanerdom gedurende 'n eeu van onreg" lewer. Dit skets die verloop van die Afrikaner se vryheidsworsteling "teen barbaarse wreedheid, teen diplomatieke intrige en oormatige wapengeweld" (Kemp 1941:Voorwoord).

Met die eerste oogopslag is dit 'n indrukwekkende werk. Al 476 bladsye daarvan. Dit is trouens die eerste poging van Afrikanerkant om 'n algemene geskiedenis van die Anglo-Boereoorlog in sy geheel te skryf, beginnende by die oorsake - die stryd tussen Boer en Brit in die laat-agtiende eeu, dwarsdeur die negentiende eeu met Slagtersnek, die Groot Trek, die ontstaan van die Boererepublieke, die Britse anneksasie van Transvaal in 1877, die Eerste Vryheidsoorlog, die ontdekking van goud, die Jameson-inval, die diplomatieke stryd tussen die Transvaal en Brittanje oor die stemregkwessie en Joseph Chamberlain en sir Alfred Milner se rol daarin, en uiteindelik die ultimatum en uitbreek van die oorlog op 11 Oktober 1899. Dit bring ons tot by bladsy 180. Jan Kemp figureer maar skraps in hierdie fase van die boek. Wanneer die beskrywing van die Anglo-Boereoorlog 'n aanvang neem, word alle fronte van die stellingkrygfase gedek, al was Kemp slegs op die Natalse front bedrywig. Die verhaal kry meer kleur nadat die guerrillafase aangebreek het, en generaal C.F. Beyers (en Kemp onder hom) in Desember 1900 van kommandant-generaal Louis Botha opdrag kry om saam met generaal J.H. de la Rey in Wes-Transvaal te werk. Maar nou is ons al op p. 354.

Tot dusver word die leser gerusgestel en beïndruk met talle verwysings in voetnote na Britse en Transvaalse amptelike en nie-amptelike bronne, soos L.S. Amery (red.) se The Times history of the war in South Africa, J.L. Garvin se The life of Joseph Chamberlain, Groenboeke van die Transvaalse regering, W.H.H. Waters se The German official account of the war in South Africa, en die werke van drr. W.J. Leyds en G.D. Scholtz.

Maar hierdie is nie die werk van Jan Kemp alleen nie. Die hand van 'n geskoolde historikus is duidelik te bespeur, sonder dat die leser daarvan in kennis gestel word. Dat dit 'n historikus uit die Afrikaner nasionale skool was wat reeds sy spore as kenner van die Anglo-Boereoorlog verdien het, ly geen twyfel nie.

Die ontnugtering neem 'n nuwe wending wanneer "Kemp" sy aandeel aan die guerrillafase weergee (pp. 349-476). Die skrywer gaan voort om gebeure elders op die oorlogsterrein kunstig in te voeg, voetnote en al, maar dit wat as Kemp se "herinneringe" deurgaan, is niks anders nie as 'n Afrikaanse vertaling - soms woordeliks, soms in opsomming - van J.F. Naudé se Vechten en vluchten van Beyers en Kemp "bôkant" De Wet, wat in 1903 in Rotterdam gepubliseer is. Alles waarby Kemp in Naudé se werk betrokke was tussen pp. 181 en 373 word ingevleg asof dit onse Jan se eie maaksel is. En Naudé figureer slegs vyfmaal in die voetnote. So lees Kemp se werk byvoorbeeld: "... Kaalfontein, wat ek laat bombardeer en bestorm. Ek vind egter dat die stasie te goed gefortifiseer is vir die mag waaroor ek beskik, en val terug" (Kemp 1941:362). Hieroor het Naudé al in 1903 geskryf: "Kemp bombardeerde Kaalfontein en liet nader stormen, doch vond de statie te goed gefortificeerd, waarop hij terugtrok" (Naude 1903:209), en só gerieflikheidshalwe Kemp se geheue oor sy eie bevindinge verfris!

Wanneer Muller vyftig jaar later dus oordeel dat van Kemp geen objektiewe geskiedenis verwag kan word nie omdat hy nog te besig was om die onreg van die verlede op te spoor (Muller 1990:542), slaan dit eintlik op die poging van die historikus-as-helper.

Nietemin, die Afrikanerleser het die verhaal van Kemp, nou 'n gesiene figuur in die Herenigde Nasionale Party tydens die Tweede Wêreldoorlog, kennelik intens waardeer, want dit het in 1942 'n tweede en in 1946 'n derde druk belewe - die enigste werk in die "Ons Geskiedenis-Serie" wat sodanige sukses gesmaak het.

Sonder dat die lesers dit waarskynlik besef het, het die "Ons Geskiedenis-Serie" byna die einde van die pad bereik. In 1943 het die laaste van die dertien werke oor die Anglo-Boereoorlog verskyn - die beskouinge van François D. Conradie, getiteld Met Cronjé aan die wesfront (1899-1900) en waarom het die Boere die oorlog verloor? Conradie dek die militêre gebeure aan die wesfront, soos wat hy dit persoonlik ervaar het, insluitende die beleg van Mafeking. Hy gee egter ook 'n meer volledige beeld van gebeure waarby hy nie betrokke was nie, soos die veldslae van Modderrivier en Magersfontein, wat hy volgens eie erkenning ontleen het aan skrywers van beide oorlogspartye (Conradie 1943:36).

Conradie is fel krities teenoor die gebrekkige Boereleërleiding, selfs nog voor hy die vraag probeer beantwoord waarom die Boere die oorlog verloor het. Geen belangrike persoon word gespaar nie. Hy loop konsekwent 'n hardkoppige, eiewyse generaal Piet Cronjé storm wat op 27 Februarie 1900 met 4 000 man by Paardeberg aan lord Roberts oorgegee het. Selfs die gerespekteerde president Steyn word gekritiseer vir 'n klaarblyklike sinnelose opdrag wat hy aan generaal De Wet gegee het en só die weg vir Roberts na Paardeberg en Bloemfontein oopgemaak het. By hierdie geleentheid merk Conradie op: "Só het die een onverklaarbare en onverstaanbare gebeurtenis die ander met snelheid opgevolg, terwyl die vyand die land binnegestroom het" (Conradie 1943:131).

Oor Conradie se beskouings waarom die Boere die oorlog verloor het, waarsku prof. E.C. Pienaar die leser reeds in die Voorwoord: "Dis 'n werk wat ongetwyfeld opspraak sal verwek... want hier word histories-gevestigde reputasies aangetas, en die skrywer skroom nie om die kind by sy naam te noem nie" (Conradie 1943:Voorwoord). So is dit inderdaad.

Conradie erken Brittanje se mag en ryk en die swakheid van die Boererepublieke as algemene rede vir die Boere se nederlaag. Sy analise sny egter dieper. In die eerste plek sonder hy die swakheid van die hoofoffisiere van die Boereleërleiding uit. Volgens hom dra Cronjé met sy optrede of gebrek daaraan by Mafeking en later by Paardeberg, Jacobus Prinsloo aan die wesfront, Marthinus Prinsloo in die Brandwaterkom, Olivier by Stormberg en Joubert as kommandant-gene raal, die grootste blaam (Conradie 1943:172, 174, 176):

Sonder behoorlike militêre opleiding, sonder strategiese aanleg en insig, sonder inisiatief en deursettingsvermoë, in meer as een geval selfs sonder verantwoordelikheidsbesef, was hulle deur die gunste en gawe van die Regering beklee met die rang van "generaal" en geroepe om die vryheid van volk en vaderland te beskerm teen die magtigste en mees gedissiplineerde militêre masjien van daardie tyd. En aan hulle hoof het gestaan die kommandant-generaal, Piet Joubert - sonder die minste twyfel 'n deeglike en opregte en beminlike mens, maar hoegenaamd nie opgewasse vir die hoogs verantwoordelike taak wat aan hom opgedra was nie.

In die tweede plek, verklaar Conradie, was daar die gebruik om verantwoordelike posisies aan sekere persone en hul familiebetrekkinge toe te ken. Daar was volgens hom minstens ses invloedryke families wat gefigureer het. In die Transvaal het hulle soos bye aanmekaar gehang en is uit die hoofnes gevoed. En dan was hulle nog ondertrou ook, sommige selfs met president Kruger se familie. Die skynbaar onvermydelike gevolg hiervan was voortrekkery. Die Boere het dus die oorlog begin met onbekwame gunstelinge van die regering as offisiere (Conradie 1943:181).

Maar die grootste aanleidende oorsaak tot die ondergang van die twee republieke was volgens Conradie die benoeming van Cronjé tot opperbevelhebber van die republikeinse magte aan die wesfront: "As bevelvoerder ... was hy van die staanspoor af tot by sy roemlose kapitulasie, vyf maande later, 'n onvergeeflike en bykans patetiese mislukking." Dit was 'n mislukte veldheerskap in een onafgebroke reeks van verspeelde kanse as gevolg van sy koppigheid, eiewaan en selfoorskatting (Conradie 1943:182-183).

In die vierde plek, oordeel Conradie, het die godsdienstige opvatting van die hoofoffisiere in ernstige botsing gekom met die praktiese eise van oorlogvoering. Wanneer die vyand teruggedryf is, het die Boereleiers dit as 'n "oorwinning" beskou, en nie hulle sukses opgevolg nie, omdat hulle geredeneer het dat as God hulle die pinkie gegee het, hulle nie die hele hand mag gryp nie. Dit, sê Conradie, het die Britte die geleentheid gebied om te herstel en met hernieude (en suksesvolle) aanslae te kom (Conradie 1943:188-191).

Ten slotte noem Conradie "een van die swartste bladsye van die oorlog - die veragtelike rol van die Boereverraaiers en die groot aandeel wat hierdie renegate-pes later in duisendtalle gehad het in die bewerkstelliging van die ondergang van hul eie vlees en bloed, hul eie land en volk" (Conradie 1943:196-204).

In die tyd van die hoogbloei van Afrikanernasionalisme en met inagneming van die Afrikaner se sensitiwiteit vir kritiek, het Conradie se verdoemende uitsprake waarskynlik nie op gretige ore geval nie. Dit het trouens waarskynlik bygedra tot die doodsklok vir die "Ons Geskiedenis-Serie".

Met Cronjé aan die wesfront was die laaste publikasie oor die Anglo-Boereoorlog en laaste op een ná in die reeks (herdrukke uitgesluit). As versamelaarsitem is dit 'n skaars werk, wat die vermoede laat ontstaan dat dit een van die werke in die reeks was wat vanweë swak verkope verpulp is. Die verpulping van die latere publikasies in die reeks word hier onder bespreek.



Waarskynlik aangespoor deur die sukses van generaal Kemp se Vir vryheid en vir reg wat in 1941 oor die Anglo-Boereoorlog verskyn het en reeds die volgende jaar 'n tweede druk belewe het, het Nasionale Pers in 1942 'n opvolg van Kemp se verhaal gepubliseer met die titel Die pad van die veroweraar.

Hierdie werk wys op 'n kontinuïteit van swaarkry van die Afrikaner onder Britse hand. Dit neem 'n aanvang by die graf van die Boererepublieke op 31 Mei 1902, toe die burgers na hul verwoeste plase en die murasies van hul opstalle teruggekeer het, dikwels met 'n gesin waarvan talle lede in die konsentrasiekampe omgekom het. Die reis van die Afrikanervernedering ná die oorlog is op die pad van die veroweraar, Brittanje, wat die Afrikaner met 'n "geestelike en ekonomiese verslawingsproses" in ellende gedompel het (Kemp 1942:66). Die lot van die Afrikaner word beskryf, soos wat hy ná die Anglo-Boereoorlog ly, unie-wording ervaar, die uitbreek van die Eerste Wêreldoorlog, die Afrikaner-rebellie - en Kemp se aandeel daaraan - die Nasionale Party se oorwinning in 1924 en Kemp se rol in die Hertzog-kabinet, die Groot Trek-herdenking, en Kemp se keuse om saam met Hertzog in opposisie te gaan met die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog.

Weer eens bestaan daar 'n vermoede dat Kemp minstens hulp van 'n geskoolde historikus gekry het. Die werk bevat voetnote van Britse gepubliseerde bronne oor die herstel ná die Anglo-Boereoorlog, en Suid-Afrikaanse regeringsdokumente vir die rebellie-tydperk en daarna. Moet ons Kemp prys vir sy kennis van die bestaan van byvoorbeeld Charles Boissevain se pamflet The struggle of the Dutch republics (Amsterdam 1900) op p. 24, en prof. W.P. de Villiers se ongepubliseerde manuskrip oor die verhouding tussen Boer, Brit en swart man (Bantoe), op pp. 78-79, of is dit die hand van 'n geskoolde historikus?

Weer eens was Kemp 'n wenner by die nasionale Afrikanerlesers, want 'n tweede druk het in 1946 verskyn, in 'n stadium toe daar nie meer nuwe manuskripte in die "Ons Geskiedenis-Serie" gepubliseer is nie.

Uiteindelik was vyftien van die 21 publikasies in die "Ons Geskiedenis-Serie" manuskripte wat vir die eerste keer gepubliseer is. Van die ander ses was een (Dagboek van Louis Trichardt) 'n heruitgawe, terwyl drie tevore in Engels en twee sowel in Engels as Nederlands gepubliseer is. Die Afrikaanse vertaling van laasgenoemde vyf werke wat oorspronklik in Engels verskyn het, is kennelik as noodsaaklik vir die reeks beskou wat as oogmerk gehad het om enersyds Afrikanernasionalisme te bevorder en andersyds die behoefte aan sodanige literatuur by Afrikanernasionaliste te bevredig. Daarvan was mev. E. Neethling se Mag ons vergeet? die sprekendste voorbeeld.



Ofskoon C.F.J. Muller die "Ons Geskiedenis-Serie" as 'n renaissance in Afrikanergeskiedskrywing beskou, en sekere werke ongetwyfeld suksesvolle publikasies was, was die reeks nie 'n ongekwalifiseerde sukses nie.

Om onverklaarbare redes het Nasionale Pers 'n klompie werke in dieselfde tydperk van die reeks buite die reeks gepubliseer, wat waarskynlik veel aansien aan en gewildheid vir die reeks sou kon beteken het, indien dit dáárin gepubliseer was. Ongetwyfeld sou Sarah Raal (mev. O.J.O. Snyman) se herinneringe wat vroeg in 1938 as Met die Boere in die veld verskyn het en in dieselfde jaar reeds 'n derde druk belewe het, 'n trekpleister in die reeks gewees het. Dit het geweldige ontsteltenis onder Engelssprekendes gewek oor die negatiewe wyse waarop die Britse optrede in die Anglo-Boereoorlog voorgestel word, en 'n hele polemiek oor die toestande in die konsentrasiekampe ontketen (Steyn 1987:191-206).

Ander werke wat in hierdie tyd by Nasionale Pers maar nie in die "Ons Geskiedenis-Serie" verskyn het nie - al het dit tematies goed daarby ingepas - was E.G. Jansen se Die Voortrekkers in Natal in 1938; Hendrina Rabie-Van der Merwe se Onthou!: In die skaduwee van die galg in 1940; E.J. Weeber se Op die Transvaalse front in 1942 (nadat sy Op die Natalse front in 1940 as deel van die reeks gepubliseer is); en die twee dele van G.H. van Rooyen, Kultuurskatte uit die Voortrekker-tydperk in 1938 en 1940 (Kyk Muller 1990:542). Dat Pieter C. Joubert se My tweede vryheidstryd: Herinneringe van P.C. Joubert in 1945 deur Nasionale Pers buite die reeks gepubliseer is nadat sy Volksaltare in 1940 deel van die reeks uitgemaak het, was waarskynlik omdat die lot van die reeks teen daardie tyd reeds verseël was.

Waarom het die reeks ten einde geloop? Sekerlik was die temas nie almal ewe opwindend vir die lesers nie of het almal eenvoudig nie die verbeelding aangegryp nie. Dit was asof daar nie goed genoeg beplan is en vervolgens spesifieke opdragwerke versoek is nie, want, hoewel die hooftemas van volksplanting, Groot Trek, Eerste Vryheidsoorlog, Anglo-Boereoorlog en die vroeg-twintigste eeuse-geskiedenis logiese keuses was, was die temas binne die hooftemas nie verteenwoordigend genoeg van die belangrikste aspekte daarvan nie. Te veel het oor die Kaapkolonie tydens die Anglo-Boereoorlog gehandel, en daar was te veel bronnepublikasies wat nie lekkerleesmateriaal was nie.

Muller wys daarop dat 'n gebrek aan papier sake by Nasionale Pers bemoeilik het, sodat manuskripte oor die Afrikaner se verlede later afgewys moes word. Dit is egter ook so dat die Afrikanerlesers se belangstelling tydens die Tweede Wêreldoorlog verskuif het na die talle aangrypende dramas wat daar in daardie stadium in Suid-Afrika afgespeel het. Lesers het ook ligter leesstof gevra en beswaar begin maak teen oorlogs- en historiese verhale. Dr. C.F. Albertyn wat in 1944 as hoof van Nasionale Pers se uitgewersafdeling aangestel is, het getuig dat nadat generaal Kemp se twee boeke in 1941 en 1942 verskyn het, die belangstelling in die "Ons Geskiedenis-Serie" sodanig afgeneem het dat van die latere publikasies in die reeks verpulp is (Muller 1990:517-518, 555).

H.J.C. Pieterse, wat vir twee werke in die "Ons Geskiedenis-Serie" verantwoordelik was, het klaarblyklik in 1948 nog 'n derde voorberei. Dit was die herinneringe van P.R. (Paultjie) de Villiers, bekende inwoner van Stellenbosch, en gedurende die Anglo-Boereoorlog werksaam in die kantoor van die ouditeur-generaal van die Transvaal. Op 2 Oktober 1948 het J.J. Spies van Nasionale Pers se uitgewersafdeling egter aan De Villiers geskryf dat die publiek ongelukkig "vandag nie meer gretig is om werke oor die Tweede Vryheidsoorlog te lees nie". Hy het verduidelik dat Nasionale Pers beoog om die verskillende publikasies wat hy reeds oor die saak uitgegee het, af te sluit met 'n omvattende en wetenskaplike werk oor die Anglo-Boereoorlog van dr. J.H. Breytenbach, wat uiteindelik waarskynlik ses of sewe dele sal beslaan (Nasionale Argief, Transvaalse Argiefbewaarplek, Aanwins A 284, P.R. de Villiers-Aanwins, Band 1, Inkomende briewe, Persoonlik, 1918-1951). Hiervan het vir 'n lang tyd niks tereggekom nie. Breytenbach se reeks, wat tussen 1969 en 1996 uiteindelik nie deur Nasionale Pers nie, maar deur die staat uitgegee is, sou ses dele beslaan en net die eerste agt of nege maande van die oorlog dek.

Belangstelling in werke oor die Anglo-Boereorlog in die besonder en in die Suid-Afrikaanse geskiedenis in die algemeen het in die fase ná die Tweede Wêreldoorlog baie gewissel, en in die sestiger- en vroeë sewentigerjare 'n sterk opflikkering getoon. Dit was moontlik vanweë die besef dat oudstryders en konsentrasiekampkinders aan die uitsterf was. Die algemene gebruik van kassetbandopnemers het waarskynlik ook tot die hernieude belangstelling bygedra, namate nasate hul grootouers se herinneringe op band kon vaslê.

Hoe dit ook al sy, Nasionale Pers het in 1968 deur middel van 'n skrywe van Hubert Coetzee die departement Geskiedenis aan die Randse Afrikaanse Universiteit gepols oor die lewensvatbaarheid van 'n projek om die "Ons Geskiedenis-Serie" weer uit te gee. Die reaksie van dr. Ockie Geyser van die departement was dat hy 25 persone, wat uit onderwysers, universiteitsdosente en nagraadse studente bestaan het, se mening in dié verband getoets het. Die persentasie ten gunste van her-uitgawe lyk toe só (Naspers-argief, AL 4, Direksiestukke, 15/44/4/480:Korrespondensie en diverse stukke, 1986-1993):

Gustav Preller se werke 69%

Alie Badenhorst, Tant Alie van Transvaal 28%

Generaal Kemp se werke 57%

C. Louis Leipoldt, Jan van Riebeeck 44%

P.J. van der Merwe, Trek 63%

P.J. van der Merwe, Die trekboer 74%

R.D. McDonald, In die skaduwee van die dood 54%

H.J.C. Pieterse, Oorlogsavonture Wynand Malan 45%

H.J.C. Pieterse, Volksaltare 46%

E.J. Weeber, Op die Natalse front 48%

Verdere dokumentasie ontbreek, maar Nasionale Pers het met hierdie syfers tot hulle beskikking kennelik besluit dat her-uitgawes van werke uit die "Ons Geskiedenis-Serie" ekonomies nie sin maak nie, want die werke het nie weer verskyn nie. Wel het Scripta Africana, 'n afdeling van Hans Strydom Uitgewers, Preller se Dagboek van Louis Trichardt en sy Voortrekkermense dele V en VI (laasgenoemde twee in een band) in 1988 uitgegee in 'n reeks van nege Prellerwerke, wat dele I-IV van Voortrekkermense ingesluit het. Dit was egter bedoel as versamelaarsitems, is luuks versorg, en slegs 300 kopieë per deel is gedruk.

Muller het sy geskiedenis van Nasionale Pers, getiteld Sonop in die suide, met die volgende evaluering afgesluit (Muller 1990:760):

Sonder om die rol van die Nasionale Pers in ag te neem, kan die breë ontwikkeling van Afrikanernasionalisme nie behoorlik begryp word nie. Die Nasionale Pers is inderdaad 'n faktor waarmee in die hoofstroom van ons 20ste-eeuse geskiedenis terdeë rekening gehou moet word.

Hierdie uitspraak kan op die "Ons Geskiedenis-Serie" van toepassing gemaak word. Die reeks het ongetwyfeld die gees van die tyd en die stand van Afrikanernasionalisme in die laat-dertigeren vroeg-veertigerjare weerspieël. Dit het kennelik 'n behoefte by Afrikanernasionaliste bevredig. Maar op sy beurt het dit waarskynlik tot daardie nasionalisme bygedra.

Dank word hiermee uitgespreek teenoor die Nasionale Navorsingstigting vir sy Aansporingsfonds wat tot die totstandkoming van hierdie artikel bygedra het. Menings hier uitgespreek is dié van die skrywer.

•• Ook die skrywer se dank aan dr. François Verster, argivaris van die Naspers-argief, vir sy onvermoeide soektogte om inligting; prof. W. J. Verwoerd vir die verwysing na die korrespondensie tussen Nasionale Pers en Paultjie de Villiers; en mev. Estelle Pretorius vir haar beskrywing van die buiteblad van die werke in die "Ons Geskiedenis-Serie".



Badenhorst, Alie. 1939. Tant Alie van Transvaal. Kaapstad: Nasionale Pers.         [ Links ]

Böeseken, Anna. 1974. Jan van Riebeeck en sy gesin. Kaapstad: Tafelberg.         [ Links ]

Brandt, J. 1913. Die kappie kommando. Kaapstad: H.A.U.M.         [ Links ]

Brandt-Van Warmelo, J. 1905. Het concentratie-kamp van Iréne. Amsterdam: H.A.U.M.         [ Links ]

Brink, J.N. 1940. Oorlog en ballingskap. Kaapstad: Nasionale Pers.         [ Links ]

Conradie, F.D. 1943. Met Cronjé aan die wesfront (1899-1900) en waarom het die Boere die oorlog verloor? Kaapstad: Nasionale Pers.         [ Links ]

De Wet C.R. 1902. De strijd tusschen Boer en Brit. Amsterdam: Höveker & Wormser.         [ Links ]

De Wet, J.M. 1915. Lewenskets van JopieFourie. Pretoria: Die Afrikaner Boek Maatskappij.         [ Links ]

Du Plessis, Ph.J. 1938. Oomblikke van spanning. Kaapstad: Nasionale Pers.         [ Links ]

Du Toit, F.G.M. 1972. Hendrik Ludolph Neethling. In De Kock, W.J. & Krüger, D.W. Suid-Afrikaanse biografiese woordeboek. Pretoria: RGN, pp. 523-524.         [ Links ]

Du Toit, S.J. 1877. Die geskiedenis van ons land in die taal van ons volk. Kaapstad: G.R.A.         [ Links ]

Giliomee, Hermann. 2012. 'n "Gesuiwerde" nasionalisme, 1924-1948. In Pretorius, Fransjohan (red.). Geskiedenis van Suid-Afrika: Van voortye tot vandag. Kaapstad: Tafelberg, pp. 293-310.         [ Links ]

Grundlingh, Albert. 2001. Die Anglo-Boereoorlog in die bewussyn van 20ste-eeuse Afrikaners. In Pretorius, Fransjohan (red.). Verskroeide aarde. Kaapstad: Human & Rousseau, pp. 242-264.         [ Links ]

Hofmeyr, N.J. 1896. De Afrikaner-Boer en de Jameson-inval. Amsterdam: Jacques Dusseau.         [ Links ]

Hofstede, H.J. 1876. Geschiedenis van den Oranje-Vrijstaat. 's-Gravenhage: D.A. Thieme.         [ Links ]

Kemp, J.C.G. 1943. Die pad van die veroweraar. Kaapstad: Nasionale Pers.         [ Links ]

Kemp, J.C.G. 1941. Vir vryheid en vir reg. Kaapstad: Nasionale Pers.         [ Links ]

Kritzinger, P.H. & McDonald, R.D. 1939. In die skaduwee van die dood. Kaapstad: Nasionale Pers.         [ Links ]

Krüger, D.W. 1965. Die bewind van die Verenigde Party. In Van der Walt, A.J.H. et al. Geskiedenis van Suid-Afrika.Kaapstad: Nasou, pp. 529-559.         [ Links ]

Leipoldt, C. Louis. 1938. Jan van Riebeeck: Die grondlegger van 'n blanke Suid-Afrika. Kaapstad: Nasionale Pers.         [ Links ]

Muller, C.F.J. 1990. Sonop in die suide. Kaapstad: Tafelberg.         [ Links ]

Naudé, J.F. 1903. Vechten en vluchten van Beyers en Kemp "bôkant" De Wet. Rotterdam: Nijgh & Van Ditmar.         [ Links ]

Neethling, E. 1938. Mag ons vergeet? Kaapstad: Nasionale Pers.         [ Links ]

Neethling, E. 1903. Should we forget? Amsterdam: H.A.U.M.         [ Links ]

Neethling, E. 1917. Vergeten? Kaapstad: De Nationale Pers.         [ Links ]

Pieterse, H.J.C. 1941. Oorlogsavonture van genl. WynandMalan. Kaapstad: Nasionale Pers.         [ Links ]

Pieterse, H.J.C. 1940. Volksaltare, of 'n veteraan van die Eerste Vryheidsoorlog. Kaapstad: Nasionale Pers.         [ Links ]

Preller, Gustav. 1938-1. Dagboek van Louis Trichardt (1836-1838). Kaapstad: Nasionale Pers.         [ Links ]

Preller, Gustav. 1938-2. Ons parool: Dae uit die dagboek van 'n krygsgevangene. Kaapstad: Nasionale Pers.         [ Links ]

Preller, Gustav. 1938-3. Scheepers se dagboek en die stryd in Kaapland (1 Okt. 1901 -18 Jan. 1902). Kaapstad: Nasionale Pers.         [ Links ]

Preller, Gustav. 1938-4. Voortrekkermense V. Kaapstad: Nasionale Pers.         [ Links ]

Preller, Gustav. 1938-5. Voortrekkermense VI. Kaapstad: Nasionale Pers.         [ Links ]

Preller, Gustav. 1942. Talana: Die Drie Generaals-Slag by Dundee, met lewensskets van Genl. Daniel Erasmus. Kaapstad: Nasionale Pers.         [ Links ]

Reitz, Deneys. 1929. Commando: A Boer journal of the Boer War. London: Faber & Faber.         [ Links ]

Rijksen-Van Helsdingen, J. 1903. Vrouweleed. Amsterdam: J.H. de Bussy.         [ Links ]

Smith, J.A. 1917. Brit en Boer (Van Slagtersnek tot Jopie Fourie). Kaapstad: H.A.U.M.         [ Links ]

Smith, J.A. 1918. Naar Bloedrivier en Paardekraal. Kaapstad: De Nationale Pers.         [ Links ]

Snyman, Johan. 1999. Die politiek van herinnering: Spore van trauma. In Verhoef, Grietjie (red.). Die Anglo- Boereoorlog: Herdenkingslesings aan die Randse Afrikaanse Universiteit, 1999. Johannesburg: RAU, pp. 25-51.         [ Links ]

Staats-almanak voor de Zuid-Afrikaansche Republiek 1899. Pretoria: Staatsdrukkerij.         [ Links ]

Stemmet, F.J. 1975. Die insameling van outobiografiese getuienisse oor die Anglo-Boereoorlog. Christiaan de Wet-Annale, 1975(3):107-122.         [ Links ]

Steyn, J.C. 1987. Trouwe Afrikaners: Aspekte van Afrikanernasionalisme en Suid-Afrikaanse taalpolitiek 1875-1938. Kaapstad: Tafelberg.         [ Links ]

Strydom, C.J. Scheepers. 1937. Kaapland en die Tweede Vryheidsoorlog. Kaapstad: Nasionale Pers.         [ Links ]

Van der Merwe, P.J. 1938. Die trekboer in die geskiedenis van die Kaapkolonie (1657-1842). Kaapstad: Nasionale Pers.         [ Links ]

Van der Merwe, P.J. 1945. Trek. Kaapstad: Nasionale Pers.         [ Links ]

Van Jaarsveld, F.A. 1984. Omstrede Suid-Afrikaanse verlede. Johannesburg: Perskor.         [ Links ]

Van Jaarsveld, F.A. 1981. Wie en wat is die Afrikaner? Kaapstad: Tafelberg.         [ Links ]

Van Oordt, J.F. 1898. Paul Kruger en de opkomst der Zuid-Afrikaansche Republiek. Amsterdam: Jacques Dusseau.         [ Links ]

Van Warmelo, D.S. 1901. Mijn commando en guerillacommando-leven. Amsterdam: W. Versluys.         [ Links ]

Weeber, E.J. 1940. Op die Natalse front (1 Oktober 1899 - 31 Mei 1900). Kaapstad: Nasionale Pers.         [ Links ]

Weilbach, J.D. & Du Plessis, C.N.J. 1882. Geschiedenis van de Emigranten-Boeren en van den Vrijheidsoorlog. Kaapstad: Saul Solomon.         [ Links ]

Wessels, André. 2001. Die oorlog se bose kringloop. In Pretorius, Fransjohan (red.). Verskroeide aarde. Kaapstad: Human & Rousseau, pp. 256-257.         [ Links ]



Fransjohan Pretorius, MA (UP), Drs Litt (Leiden) en D Litt et Phil (Unisa), LAkad, is professor in geskiedenis aan die Universiteit van Pretoria. Hy is die skrywer of redakteur van agt boeke oor die Anglo-Boereoorlog, waarvan die meeste in Afrikaans en Engels verskyn het. Hy is ook die redakteur van Geskiedenis van Suid-Afrika: Van voortye tot vandag (Tafelberg, Kaapstad, 2012). Pretorius het verskeie toekennings, onder meer die Stalsprys vir Geskiedwetenskappe, vir sy werk oor die Anglo-Boereoorlog ontvang. Hy dien op die Raad van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, is voorsitter van die Geskiedeniskommissie van die Akademie, en is 'n trustee van die Erfenisstigting. Hy was tussen 2006 en 2008 lid en in 2008 voorsitter van die paneel vir historiese wetenskappe van die Nasionale Navorsingstigting (NRF). Hy is 'n B-gegradeerde navorser van hierdie stigting.

Fransjohan Pretorius, MA (UP), Drs Litt (Leiden) and D Litt et Phil (Unisa) is professor of history at the University of Pretoria. He is the author or editor of eight books on the Anglo-Boer War. He is also the editor of A history of South Africa: From the distant past to the present day (Protea Book House, Pretoria, 2014). Pretorius has received several awards, amongst others the Stals Prize for Historical Sciences and the runner-up prize for the Sunday Times Alan Paton Award, for his work on the Anglo-Boer War. He serves on the Council of the Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, is the chairperson of the History Commission of the Akademie, and is a trustee of the Erfenisstigting. Between 2006 and 2008 he was a member and in 2008 chairperson of the panel for historical sciences of the National Research Foundation. He is a B-rated researcher of this foundation.



Nasionale Argief:
Transvaalse Argiefbewaarplek, Aanwins A 284, P.R. de Villiers-Aanwins, Band 1, Inkomende briewe, Persoonlik, 1918-1951.
AL 4, Direksiestukke, 15/44/4/480: Korrespondensie en diverse stukke, 1986-1993 AL 5, 32/1/5/66, Pryslys.

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License