SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.54 issue1Zo ver en zo dichtbij: De Afrikaanse literatuur in Nederland in 2013 author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Tydskrif vir Geesteswetenskappe

On-line version ISSN 2224-7912
Print version ISSN 0041-4751

Tydskr. geesteswet. vol.54 n.1 Pretoria Jan. 2014

 

BOEKBESPREKING / BOOK REVIEW

 

 

Klawerjas deur Adam Small, Digbundel, Tafelberg Uitgewers (2013)

Small kô hystoe na 'n nuwe lente

Die digter en dramaturg, Adam Small, het op 14 September 2013 sy stilte verbreek nadat hy vir byna 30 jaar geen werk gepubliseer het nie. Ten spyte van sy "stilte" het die Akademie vir Wetenskap en Kuns op 12 September 2012 die Hertzogprys aan Small toegeken, onder andere vir sy werk, Kanna hy kô hystoe, wat reeds in 1965 gepubliseer is en wat deur André Brink as die beste drama in Afrikaans beskryf is. Michael le Cordeur het Small op hierdie dag gaan verwelkom in sy tuisdorp, Wellington. Dit het saamgeval met die bekendstelling van sy nuwe bundel, Klawerjas. Le Cordeur gee hier sy indrukke van daardie historiese dag asook van die bundel.

Wellington. Saterdag 14 September. Die ligte lentereën het my reeds vroegdag wakker gemaak. Ek vind dit moeilik om die opwinding wat sedert gisteraand in my are druis, te beteuel. Gisteraand om tien-uur het prof. nog 'n finale e-pos gestuur. So presies. So doelmatig en beplan. Die seun wat, volgens Mamma, kleintyd 'n snydokter wou word en as kind reeds "operasies" uitgevoer het op Wellington se muise. Die seun wat skaars 'n klipgooi van die Breytenbachsentrum in Terracestraat skuins agter die NG Sendingkerk grootgeword het, kom vandag hystoe.

Dis baie ironies dat die gebeure juis by die Breytenbachsentrum plaasvind. Dis bekend dat die twee digters groot respek vir mekaar se werk het. Breyten Breytenbach het, toe hy in 2008 weer die Hertzogprys ontvang het, sy prys aan Small opgedra. By dieselfde geleentheid, wat deur die uwe bygewoon is, het Breyten gevra "Waar is Small se Hertzogprys?" Dis vandag presies een jaar en twee dae sedert die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns die Hertzogrys toegeken het aan Adam Small. In 'n onderhoud met Murray la Vita het Small toegegee dat die Hertzogprys 'n belangrike prikkel was om uit sy selfopgelegde ballingskap te kom:

"Ek glo nie 'n mens moet vir pryse skryf nie, maar erkenning is tóg belangrik" het hy aan La Vita gesê.

Toe dit bekend geword het dat 'n Adam Small-bundel op pad is en Small sy stilte gaan verbreek, het die ratte begin draai om die bekendstelling van Klawerjas by hierdie historiese sentrum te laat gebeur. Boonop in 'n markiestent op die groot werf onder die Olyfboom (deur Breyten gedoop Ounooi se werf), omdat nie een lokaal in die huis groot genoeg sou wees vir die verwagte toeloop nie. Ekstra stoele en sitplekke moes inderhaas gereël word vir die meer as 400 mense wat die voorreg gehad het om na hom te luister, om in lewe vir hom dankie te kan sê.

Dis kwart voor een. Ek en Sonia wag in die voorportaal. As voorsitter van die trusteeraad van die Breytenbachsentrum is dit my voorreg om prof. Adam Small en sy vrou, dr. Rosalie Small (sy het pas afgetree as dosent in die filosofie van die opvoedkunde aan die UWK) in te wag en welkom te heet. "Hulle is hier!" roep Sonia toe ek vir 'n wyle wegdwaal.

My eerste indrukke is dat hy ongelooflik goed lyk. En alhoewel skraler en gryser, lyk hy heelwat jonger as sy 76 somers; en beslis jonger as wat ek my voorgestel het. Sy hare is steeds in die kenmerkende Adam Small-styl, maar die grys is nou spierwit en glinster blink in die flouerige lenteson. Hy's geklee in 'n baie netjiese goenerige baadjie met 'n donkergroen, byna kakie, hemp en broek wat baie mooi afsteek teen Rosalie se helderrooi serp en swart leerboetse. Hy stap stadig, maar kiertsregop. Dan glimlag hy beskeie en groet sag maar duidelik: "Middag Michael, aangename kennis Sonia. En dankie vir die moeite wat julle doen". Steeds die ultimate gentleman.

Teen dié tyd het die fotograwe en TV-kameramanne agtergekom prof. Adam het opgedaag en hulle sak soos aasvoëls op hom toe. Ek hou hulle egter beleefd, maar ferm, op 'n afstand. Hy poseer geduldig. 'n Paar foto's, 'n paar sekondes. Dan draai hy om en stap die Breytenbachhuis binne met Rosalie en ek op sy hakke. Binne is dit dieselfde patroon. Hy groet heel eerste vir André P Brink en dié se vrou. Die atmosfeer tussen die twee is gul en hartlik en getuig van respek vir mekaar (se werk). Prof. Richard van der Ross, oud-rektor van UWK - waar Small professor in die wysbegeerte en later in maatskaplike werk was - self in sy neëntigs, stap nader om te groet. Adam gee spesiale aandag aan twee kennisse uit sy jeug: Nellie Cavernelis (85, vgl. die karakters in sy drama Krismis vir Map Jacobs) en Sylvia le Cordeur (76). Een na die ander kom sê hello, sommige skud net sy hand, ander neem foto's met hul selfone en 'n paar oorywerige bewonderaars soek 'n handtekening. Hulle word vriendelik daarop gewys dat prof. na die verrigtinge boeke sal teken. Die baie flukse Olivia Ockhuis van die Sentrum, sorg dat Adam en Rosalie gemaklik raak aan tafel wat vooraf vir hulle gedek is. André Brink sluit hom by hulle aan en later ook prof. Van der Ross.

Van heinde en ver is daar mense wat kom groet: die digter Wilma Stockenström, die skrywer Riana Scheepers; die jong digter Nathan Trantaal, akademici soos prof. Ena Jansen, van die Vrije Universiteit van Amsterdam, prof. Louise Viljoen van Stellenbosch, en prof. Johan Anker van die KSUT. Ook Danie van Wyk van die SBA, dr. Danny Titus van die ATKV, Heindrich Wyngaard van die Suidoosterfees en Ria Olivier van die ATR is daar. Ek merk talle mense van die media op: Nina Swart van KykNet, Naomi Meyer van LitNet, Murray la Vita, van Die Burger en Michele O' Connor van die Cape Times. Daar's studente soos my Honneursstudent Zanne, onderwysers soos Coreen Pietersen, Sandra Williams en Odette Monis. Ook bekendes in die gemeenskap soos Cora Wiese, Herman Bailey en Jan Odendaal. Almal is dit eens: dis 'n voorreg om net daar te wees.

En toe is dit tyd: Saterdagmiddag, 14 September 2013 om 14h00 stap Adam Small aan die sy van sy vrou, Rosalie, saam met die uwe, die volgepakte markiestent by die Breytenbachsentrum op Wellington, sy tuisdorp, binne. Ek help hom op die verhoog. Die gehoor het reeds opgestaan en verwelkom hom met staande applous. Riana Barnard van Tafelberg Uitgewers neem langs Adam plaas op die verhoog. Hy groet die gehoor met 'n sagte kopknik. Hy lyk emosioneel maar baie verlig. Hy vroetel met sy notas. Ek nooi Rosalie om langs hom op die verhoog te kom sit. Dit het die gewenste uitwerking. Haar nabyheid maak hom rustig, laat hom selfs verleë glimlag.

Wanneer die gehoor tot rus kom en elkeen sy sit gekry het, doen ek die verwelkoming. Net kortliks. Dis nie my plek om te praat nie. Die mense wil na Adam Small luister. Ek volstaan dus met: "Dames en Here, vandag is 'n geskiedkundige dag vir Wellington, want een van sy grootste seuns het hystoe gekom". Ek maak seker dat hystoe klink soos Kanna se hy kô hystoe. In my bes moontlike Kaaps.

En dan is dit tyd vir Adam om te praat: na soveel jaar word die stilte verbreek. In die gedig "My woorde kom weer" skryf Small:

Ek was lank stil, maar nou, waarlik, kom die woorde weer.

Skoorvoetend eers, dan met langer hale.

Voordat hy begin om uit Klawerjas voor te lees, waarsku hy die gehoor dat van die gedigte vir hom baie swaar op die hart druk. Die gedigte is vooraf sorgvudig gekies en opgeskryf op 'n lys wat hy by hom hou. Eers kondig hy die gedig aan, dan gee Rosalie die bladsynommer.

Klawerjas is natuurlik 'n Kaapse woord. Ek het dit leer ken toe my pa vir al sy kinders klawerjas leer speel het. Dis 'n kaartspel wat baie ernstig opgeneem word op die Kaapse Vlakte en die hoogste troefkaart van klawers in die pak kaarte is die Boer of die Jas van klawers. Dis 'n intellektuele groepspel en verg dissipline. Dit berus op goeie samewerking tussen twee spanmaats. Een moet die somme maak, die ander moet die opponente "lees" en hulle probeer uitoorlê. Almal wat van UWK af kom, moes leer om Klawwedjas (soos dit op die Kaapse vlakte uitgespreek word) te speel. Dis 'n groepspel en dit word van een geslag na 'n ander oorgedra. 'n Handgeskrewe brief wat N.P. van Wyk Louw op 17 Julie 1961 aan Small geskryf het nadat hy sy boek Die Eerste Steen gelees het, is op die skutblaaie van Klawerjas afgedruk. Die gedig "Klawerjas" is ook aan hom opgedra.

'n Belangrike kenmerk van Klawerjas is dat die bundel nie in Kaaps nie, maar in standaardafrikaans geskryf is. Prof. Jakes Gerwel het geskryf: die benaming Kaaps is die skepping van Adam Small.

Small skryf in "My woorde kom weer":

Ek hoor 'n stem wat vra: Adam wat het van jou Kaaps geword? Hierdie nuwe verse klink só anders. Ek dink ná, antwoord dan: My Kaaps is goeie geskiedenis - die stemme, soos ek dit verbeeld het, van die stemloses. Maar daar kom 'n keer wanneer 'n digter ook aan sy eie belang sal dink, homself as individu op die verhoog moet bring.

Die vorige aand het prof Adam vir my 'n e-pos gestuur met 'n brief van Breyten Breytenbach waarin Breyten hom as volg oor Klawerjas uitlaat: "Die wyse waarop hy ikone en begrippe en geskiedenisse herbesoek en duidelik maak en, veral, aangee, is meesterlik. Alles wat mens ooit kon wou weet, is in hierdie bundel en juis daarom wil mens dit met agting en met skroom benader, want ook die sluiers is deel van die tot woorde bring, helder en lewegewend soos water, van komplekse gevoelens en waarnemings en geskiedenisse - Dis 'n 'meesterklas' deur Meester Adam Small".

My bespreking van die gedigte beperk ek tot die minimum, want ek wil met Breyten saamstem as hy sê: "Ek dink mens moet stil bly, en luister, en bly wees".

Small lees stadig en nadruklik, sy stem helder, gelaai met emosie. Soms raak dinge te veel, en breek sy stem so effens. Af en toe biggel 'n traan, maar Rosalie sorg dat hy nie van stryk gebring word nie. Sy gee telkens vir hom 'n sakdoek aan.

Die tema van reis kom baie sterk deur in die bundel. Die Odysseus-tema. Die lewe is 'n reis. En hy het nou soos 'n Odysseus teruggekeer van 'n lang reis. In sy onderhoud met Murray la Vita verduidelik hy die jarelange stilte en die onttrekking aan die openbare lewe:

"Jy weet, dit was die dae toe ek baie, baie bitter was....oor apartheid natuurlik. En ek het net besluit - wat baat dit tog? Rosalie het my seker gehelp. Ek het later, soos ek ouer geword het, om die waarheid te sê redelik onlangs, besluit hoekom sal ek myself skade berokken? Ek wil nog graag van my beste werk lewer voordat ek sterf en die dood is 'n werklikheid in my lewe. En ek het vir myself die lig gevínd."

Die laaste twee reels van die laaste gedig spreek derhalwe boekdele:

deur die lewe goddank uitgewan

'n ouer en 'n wyser man.

Die bundel bevat ook verse vir diegene wat na aan hom en Rosalie geleef het: hy huil oor sy goeie vriend Vernon February, verlang na sy buurvrou Missies Isaacs, sy seun Peter, sy geliefde ds. Dawid Botha en Juliana, kollega en boesemvriendin van Rosalie.

Hy skryf versoeningsgedigte vir Madiba en FW de Klerk en daar is 'n nostalgiese vredesvers vir sy eertydse student en later geesgenoot, Jakes Gerwel, wat volgens hom hopeloos te vroeg gesterf het.

Sy Nuwejaarsgebed vir ons jong demokrasie toon dat hy sy vinger op die pols van die nuwe Suid-Afrika het. Hy put ook krag uit wêreld-ikone soos Moeder Theresa en Florence Nightingale, terwyl sy liefde vir die vak filosofie duidelik blyk met gedigte oor die Griekse filosoof Sokrates, Sartre en die Russiese skrywer-filosoof Dostoevsky. Ook sy liefde vir die skilderkuns kom na vore met gedigte opgedra aan Rembrandt, Vermeer en die Hollander, Vincent van Gogh, na sy mening "die grootste kunstenaar ooit uit die Lae lande".

In sy onderhoud met Murray la Vita noem Small "Dit is nie alles net 'diep, donker verse' nie. Daardie pous-gedigte wat ek onder die titel 'Lawwighede' publiseer, is ligte, satiriese gespot en welmenend". Hy hekel onder andere met die nuwe Pous van Argentinië, maar nie voordat hy in 'n bewoë oomblik verwys na sy ma se Islamitiese agtergrond en hoe sy gekies het om sy pa se Christelike geloof te volg nie. Hy verwoord hierdie gevoelens met 'n Bybelse teks in Rut 1:

Moet my tog nie dwing om van u af weg te gaan en om om te draai nie, want waar u gaan, sal ek gaan.

Hy erken dat hy 'n streng katolieke opvoeding gehad het en Rooms Katolieke skole bygewoon het.

Baie van die gedigte in Klawerjas is daarom geestelik van aard. Tog meen hy "die Vader is 'n stróéwe figuur":

Wanneer Hy klawerjas speel, dan speel Hy dit nórs Hy hou sy kaarte teen sy bors.

Volgens Small is die "grootste" gedig in Klawerjas die Jesus-gedig. Hy verklaar dat hy 'n Jesus-bewonderaar is en sluit die vier-bladsy-ode aan Jesus af met die volgende woorde:

Jy, Jesus, sal dan die middelpunt van Alles wees, sal oor Alles heers tot in Ewigheid, 'n Ewigheid wat oplaas deurdrenk sal wees van ware menslikheid

Voordat ek hierdie artikel afsluit, moet daar iets gesê word van Rosalie. Adam lig ons in dat Rosalie die laaste tyd sy sekretaresse, tikster kritikus en klankbord is. Volgens Small het hy ongeveer 'n jaar en ses maande gelede aan hierdie bundel gewerk. Rosalie het die hele bundel getik, want Small tik deesdae nie meer self nie. Sy mooi hande word in Klawerjas deur Rosalie besing in die gedig "Jou Hande". Die gedig is haar werk opgedra aan hom.

Na die tyd spot sy dat sy van geen digteres weet wat haar debuut gemaak het in haar man se bundel nie. Self sê sy dat "die bundel is ons bundel." 'n Engelse Kaapse Dagblad verwoord Rosalie se respons as volg : "Ek was oorstelp soos so baie ander mense saam met ons. Dit was 'n ongelooflike ervaring om saam met Adam 'n staande ovasie te ontvang" (my vertaling).

"Sê vir Rosalie dankie namens ons almal", skryf Breyten in sy brief. "Haar naam is nou deel van ons erfenis, haar skoonheid en gevoeligheid vasgeweef in die tapisserie van Adam se werk".

Geen wonder dan dat Klawerjas is "opgedra aan Rosalie oftewel Penelope deur hierdie Odysseus".

Daarom is dit geen verassing dat hy die bundel begin met 'n liefdesgedig opgedra aan haar:

Jare gelede, liefling het ek 'n groot Krismisgebed geskryf.

nou skryf ek hierdie Liefdesgebed vir jou

Hy s luit vanselfsprekend af met 'n gedig opgedra aan sy Penelope:

Laat ek dan oplaas voordat ek hierdie kers op hierdie boek uitblaas alles ietwat formeel verseël

Ek en Rosalie het bymekaar groot vreugde ervaar gedurende die vorming van hierdie werk

As alles verby is, staan die gehoor op, vir 'n staande ovasie om tegerlykertyd erkenning te gee aan een van ons grootste woordkunstenaars; maar dit getuig ook van dankbaarheid dat hy en veral sy werk ons nog beskore is.

Dan staan hy op, bedank die gehoor. Hy's so jammer die tyd is verby: "Ek wou nog so graag vir julle die gedig vir my boesemvriend, Vernon February, lees".

"Ja, asb ja", eis die gehoor. Wat volg, is 'n roerende ode aan 'n jarelange boesemvriend. Hierdie keer loop die trane vrylik. Dis rou emosie. Rosalie doen haar bes om dit af te vee. "Haai jinne, dis so mooi", hoor ek iemand agter my sê. Dan is dit verby. Hy verlaat die verhoog, weer aan Rosalie se sy.

"Prof. Adam sal 'n paar boeke binne die huis onderteken", kondig ek aan. Later is daar 'n lang tou mense wat met Klawerjas in die hand geduldig wag dat hy moet teken. Sommige het selfs van sy ouer werke saamgebring: Kitaar my kruis, Krismis vir Map Jacobs, is van die boeke wat ek opmerk. Ek hou versigtig maar beleefd toesig, op 'n afstand. Hy moet hom nie ooreis nie. Hy teken elke boek sorgvuldig, vra wat elkeen se naam is en skryf dit neer. Die brein is so helder soos altyd, selfs meer helder as so iets moontlik is.

"Daar's niks meer boeke oor nie" hoor ek 'n ontstelde aanhanger haar nood bekla. "Hoe sal ek dan nou die prof se handtekening kry?" Haar trane lê vlak. "Koop die boek, en stuur dit vir my, ek sal dit teken" sê hy sag.

Dis kwart oor vier. Tyd vir huis toe gaan. Die chauffeur van die motor wat die uitgewer gereël het, staan nader. Prof. Adam begin groet. "Jy moes minder gelees het en meer met ons gepraat het", gooi 'n onvergenoegde Dicky van der Ross sy laaste stuiwer in die beurs. Hy verwoord slegs wat ons almal voel. Ons sou nog soveel van hom wou hê, met ons wou saamneem huis toe.

Ek, Sonia en Steward van Wyk vergesel hom en Rosalie na die motor. Dit begin weer liggies reën. Sonia hou 'n sambreel oor sy statige grys kop. Voordat hy inklim en finaal totsiens sê, kyk hy vir oulaas om waar Rosalie is. Maak hy seker dat sy Penelope by hom is. Die motor verdwyn om die draai in Pentzstraat af. Verby die huis waar hy as kind eens gespeel het.

Hopelik sal Wellington se mense begrip hê vir die eer wat hy die dorp besorg het met hierdie eenmalige gebeurtenis.

"Sit die TV aan" vra Sonia as ons by die huis kom. "Is daar iets op die nuus?" "Nee niks, dis alles net van die Bokke se verloor teen die All Blacks. En almal blameer die ref" antwoord ek kortaf.

"Sies, hulle behoort hulle te skaam", protesteer Sonia.

Ek haal weer Breyten se brief uit en lees: "Dis so 'n oorstelpende ervaring, dis so 'n wonderlike geskenk - hierdie bundel, hierdie meestersklas van Adam Small - dat mens in alle ootmoed en bewondering en dank spraakloos is. Hoe werklik fantasties is dit nie dat ons dit nog kon belewe nie, hierdie glansende ontplooiing en die groothartige medeliefde en vrygewigheid waarvan dit spreek?"

"Daar gaan nog baie lank en met verwondering in hierdie bundel gelees word. Ek is daarvan oortuig dat die digters-voorgangers, Leipoldt en Oom Wyk en Eybers en SV Petersen en Piet Philander en Ingrid Jonker en Uys (Krige) en Pieter Blum... almal met groot waardering net buite die vuurkring se lig sit en luister, en die wat nog in lewe is mekaar met verbasing sal aankyk en sê: 'Kan dit waar wees?'"

Omdat dit vroeglente is in die Boland sluit ek af met die woorde van die digter Herman Gorter: 'n Nuwe lente en 'n nuwe geluid. In die Breytenbachsentrum het dié woorde nuwe betekenis gekry: 'n Nuwe lente met Adam Small. Vir sy moed om terug te keer na die openbare lewe nadat hy so lank met die gevolge van apartheid geworstel het, is een van die kragtigste dade van versoening wat nog in Afrikaans geskied het; sy bundel Klawerjas is 'n groot geskenk aan al sy lesers wat reeds jarelank daarvoor vra. Hy is terug en sy stem sal weer gehoor word op die Kaapse Vlakte tot ver anderkant die Oranjerivier.

Wat 'n voorreg om deel te kon wees van iets so spesiaals. Adam Small het hystoe gekom, letterlik en figuurlik.

Met erkenning aan:

Breyten Breytenbach se brief aan Adam Small

Willem de Vries se artikel in Die Burger

Naomi Meyer se artikel op LitNet.

Murray la Vita se Forumartikel in Die Burger.

Michele O'Connor se artikel in The Cape Times.

 

 

Michael le Cordeur

Departement Kurrikulumstudies, Universiteit Stellenbosch mlecorde@sun.ac.za

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License