SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.54 issue1South Africa's fiscal cliff: A reflection on the appropriation of government resourcesZo ver en zo dichtbij: De Afrikaanse literatuur in Nederland in 2013 author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Tydskrif vir Geesteswetenskappe

On-line version ISSN 2224-7912

Tydskr. geesteswet. vol.54 n.1 Pretoria Jan. 2014

 

AKTUEEL

 

Sailor Malan: vergete vryheidsvegter vir demokrasie?

 

 

Dr. Chris de Wit

Somerset-Wes. dewitchris@gmail.com

 

 

Op 17 September 2013 is daar 'n plegtigheid op die plaas Benfontein, 8 kilometers vanuit Kimberley, gehou om die dood van een van Suid-Afrika se grootste seuns, Adolf Gysbert (Sailor) Malan, 50 jaar gelede te herdenk.

Op hierdie datum in 1963 het een van die beroemdste vegvlieëniers in die geskiedenis van die Britse Koninklike Lugmag (RAF) sy laaste geveg teen Parkinsonsiekte verloor en is hy op die relatief jeugdige ouderdom van 52 jaar vanuit die St. Cyprians Katedraal in sy geliefde Kimberley ter ruste gelê.

Sailor Malan se lewe was een wat uit verskillende stadia en rolvertolking bestaan het. As tipiese kaalvoet plaasseun in die Wellington-distrik, het hy op die ouderdom van tien jaar alreeds geleer hoe om perd te ry, sy pa se motor op die plaas te bestuur en die kuns om 'n voël in vlug met 'n haelgeweer neer te skiet, bemeester. Hierdie vroeg aangeleerde vermoëns sou later blyk van groot nut te wees toe hy as vegvlieënier van die Spitfire 74 Squadron gedurende die "Battle of Britain" op koel en berekende manier die jagter van vyandelike Duitse vliegtuie geword het. Saam met sy groot vriend, Johnny Johnson, sou hulle die meeste aantal Duitse vliegtuie neerskiet met sy persoonlike totaal op 'n berekende 34 en heel waarskynlik meer waarvan daar nie rekenskap gegee kon word nie. Gedurende die oorlogsjare, en veral gedurende 1941, sou die briljante individualiteit en leierskap van Sailor Malan in die annale van die Britse lugmag verewig word en is hy saam met Johnson bestempel as een van twee uitstaande vegvlieëniers van die Tweede Wêreldoorlog.

Reeds op die jeugdige ouderdom van veertien het Adolph Gysbert Malan die skoolbanke verruil vir opleiding aan die maritieme kollege aan boord van die Generaal Botha waar die standaarde van fisiese opleiding vandag se Weermagopleiding soos 'n teepartytjie sal laat lyk. Sy paar jaar in die vloot was dan ook die rede vir die bynaam "Sailor" waaronder hy beroemd sou word.

Die dryfveer vir Sailor Malan se deelname aan die Tweede Wêreldoorlog aan Britse kant was in die eerste plek en primêr moreel. Die beskerming van die demokrasie en menseregte teen die fascisme van die Nazi's en hul bondgenote was die hoogste prioriteit. Die bloedige stryd teen 'n massale lugaanslag deur die Duitsers het teen die begin van die veertigerjare van die oorlog letterlik aan die buitewyke van Londen gewoed en is gevoer met 'n dodelike passie wat eie aan Sailor Malan was en wat hom as oorlogsheld sou verewig - "the King's favourite Afrikaaner"!

Teen 1940 was mannekrag in die RAF van kritieke belang en is die stuurkajuite van die Spitfires en ander vegvliegtuie vir gekleurdes uit lande in die Britse Ryk, soos die Karibiese Eilande, Nigerië, Goudkus, Sierra Leone en die Maleisiese Skiereiland oopgestel. Hierdie "rassegelykheid" was vir Sailor Malan 'n natuurlike deel van sy morele en liberale uitkyk op menswaardigheid en 'n groot aansporing vir deelname aan die oorlog en in later jare aan die stryd teen politieke ongeregtigheid teen sy gekleurde landgenote in Suid-Afrika. Vir hom was kamerade soos Vlugsersant James Hyde van Trinidad en Vliegoffisier Mahinder Singh Puji van Indië (wat daarop aangedring het om sy Hurricane in sy Sikh tulband te vlieg) gelyke medestryders wat hulle posisies op grond van bekwaamheid verkry het en nie as gevolg van hulle velkleur nie - of dan van sodanige posisies weerhou is nie.

Gedurende sy verblyf in Londen ná die oorlog het Sailor Malan deur middel van H. N. Abrahams, hoof van Diamond Trading Company wat De Beers se diamantverkope in Londen hanteer het, goed bevriend geraak met sir Ernest Oppenheimer en sy seun, Harry. Met sy terugkeer na Suid-Afrika in 1946 word hy 'n pos aangebied by Anglo-American in Johannesburg. Saam met sir Ernest, wat die Kimberley-setel tussen 1924 tot 1938 vir die SAP en later die VP gehou het, en sy seun Harry, het hulle gesamentlik 'n visie vir al die mense van Suid-Afrika gedeel - 'n visie waarvoor hulle bereid was om gedurende die Tweede Wêreldoorlog hulle lewens op te offer. (Harry het as kaptein in die 4de Pantserkar Regiment in Noord-Afrika gedien.)

Met die oorname van die NP-regering van D. F. Malan in 1948 het die donker wolke van 'n Afrikaner nasionalisme se rassistiese beleid oor die land toegesak, wat daarna oor 'n tydperk van vyftig jaar Suid-Afrika tot skandvlek van die internasionale gemeenskap sou degradeer. Reeds in 1951 is 'n wet deur die NP-regering voorgestel wat Kleurlinge van die gemeenskaplike kieserslys sou verwyder en wat eers na 5 jaar in 1965 gerealiseer het nadat Malan se NP-regering deur middel van immorele en skandelike metodes die grondwet in dié verband verkrag het.

In 1951 het die Springbok Legioen saam met die Aksiekomitee vir Oorlogsveterane die "Torch Commando" gestig om die regering se duistere planne met die Kleurling-stemreg te beveg. As stigterslid saam met latere politici soos Harry Schwartz en Louis Kane-Berman het Sailor hart en siel betrokke geraak by 'n beweging wat vir hom bo politiek verhewe was en 'n stryd wat om beginsels gegaan het - iets wat vir hom sy hele lewe lank van die grootste belang was en waarvoor hy sy lewe op die spel sou plaas. Toe die Liberale Party hom vir politieke doeleindes wou kaap, het hy op geen onduidelike wyse nie hulle daarop gewys dat die stryd vir hom bo politiek verhewe was. Alhoewel Sailor Malan geen probleem gehad het met eventuele nie-blanke beheer oor die land wanneer dit onvermydelik sou blyk te wees nie, was ekonomiese evolusie vir hom van groter belang. Vir hom was die klem op die bestryding van armoede en gebrek aan lewensmiddele en behuising onder die swart bevolking baie belangriker as die politiek waar met bedenklike metodes probeer word om beheer te kry en te behou.

Vir meer as vyf jaar het Sailor Malan en die Torch Commando teen die regering se rassewetgewing geveg en het die ledetal op die hoogtepunt van die beweging se bestaan op 250 000 gestaan. DF Malan se regering was hoogs bekommerd oor die invloed van die beweging en die uiters gewilde beeld en leierskap van die oorlogsheld, Sailor Malan, en het uit die aard van die saak probeer om met smerige propaganda die beweging en sy leiers te diskrediteer. Eers is Sailor Malan as persoon tot en met sy dood en ook daarna, deur die regering sowel as die Suid-Afrikaanse Lugmag geïgnoreer. In die Nasionale Party pers is hy gekarikaturiseer as 'n vlieënde poedel, kompleet met leer- en vliegbriltoerusting in diens van Jan Smuts en die Joodse mynbase na wie as die "Hochenheimers" verwys is.

Desondanks het Sailor dieselfde veggees, waarmee hy met soveel innerlike en morele oortuiging gedurende die "Battle of Britain" fascisme en rassisme beveg het, aan die dag gelê en dit het hom ook in sy vaderland voortgedryf om hom te verset teen die skending van menseregte. Sy ideaal van 'n regverdige demokrasie en 'n beter lewe vir almal in sy vaderland het hom nie alleen voortgedryf nie, maar hom ook vervreem en geïsoleer van mede blanke nasionale Afrikanerlandgenote wat verblind was deur 'n kortsigtige en fatale beleid van rassediskriminasie. Tydens 'n toespraak in Johannesburg in 1954 het hy beklemtoon dat "die mans en vrouens wat vir vryheid geveg het steeds die ideaal koester waarvoor hulle geveg het. Ons is vasbeslote dat die vrugte van daardie oorwinning ons nie ontneem sal word nie".

Gedurende die 17 jaar sedert sy terugkeer vanuit Brittanje in 1946 tot en met sy dood in 1963 het die kloof tussen hom en 'n rasbehepte Afrikaner nasionalistiese regering wyer geword en is hy gesien as 'n verraaier en buitestander by uitstek. Vanweë sy integriteit en morele oortuiging het hy teen die einde van sy lewe ook sy rug gedraai op 'n stelsel van onreg en verdrukking in die land waarvoor hy lief was. Maar anders as vegvlieënier in sy Spitfire gedurende sy heldhaftige stryd in die lug bo Londen, sou dit hierdie keer 'n verlöre een wees waar individuele briljantheid nie goed genoeg was nie.

Die bekende Duitse filosoof, Arthur Schopenhauer, het op 'n keer opgemerk dat elke groot idee deur drie fases gaan: Aan die begin word dit bespot, daarna word dit gewelddadig beveg en laastens word dit as 'n feit aanvaar. Dit was die fases waardeur Sailor Malan en sy stryd teen die ongeregtigheid teenoor die demokratiese regte van sy mede gekleurde landgenote in Suid-Afrika ook sou gaan. Sy aandeel in die suksesvolle bereiking van 'n regverdige demokratiese samelewing in Suid-Afrika sal egter in die annale langs dié van menige ander vryheidsvegter opgeteken staan en is moeilik te oorskat. Dit mag en sal nie in vergetelheid verval nie.

Die Spitfire Heritage Trust, saam met die Imperial War Museum, beoog om gedurende die 75-jarige herdenking van die "Battle of Britain" ook gepaste hulde te bring aan hierdie briljante Suid-Afrikaner. 'n Gedenkbyeenkoms sal ook in Kimberley ter ere van hom gehou word. Daar word verder beoog om 'n Sailor Malan-Trustfonds ten behoewe van plaaskinders in die Wellington omgewing wat aan Fetale Alkohol Sindroom ly, in die lewe te roep. Belangstellendes wat meer besonderhede wil bekom, kan gerus met die skrywer in verbinding tree by dewitchris6@gmail.com.

 

 

Dr. Chris de Wit is 'n historikus en resident navorser vir die Sailor Malan-projek wat hom ten doel stel om die nalatenskap van 'n briljante Afrikaner te verewig en Malan se naam aan 'n welsynprojek vir plaaskinders in Wellington te heg. 'n Skoleprojek vir die bevordering van Geskiedenis as skoolvak word ook beoog.
Extracts from: Moving ceremony as "Sailor" laid to rest

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License