SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.54 issue1The ergonomically ideal computer lab for the enhancement of learner securitySouth Africa's fiscal cliff: A reflection on the appropriation of government resources author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Tydskrif vir Geesteswetenskappe

On-line version ISSN 2224-7912
Print version ISSN 0041-4751

Tydskr. geesteswet. vol.54 n.1 Pretoria Jan. 2014

 

Vertaalpraktyke in die sosiale media: 'n verbeterde vertaalteks vir 'n virtuele gemeenskap?

 

Translation practice in the social media: an improved translation text for a virtual community?

 

 

Harold M Lesch

Departement Afrikaans en Nederlands. Universiteit Stellenbosch. E-pos: HLesch@sun.ac.za

 

 


OPSOMMING

Die vertrekpunt van hierdie artikel is die idee dat gemeenskapsvertaling nie noodwendig sy oorsprong in tegnologiese vooruitgang en die virtuele rekenaarleefruimte het nie. Gemeenskapsvertaling het op 'n vroeër stadium ontwikkel as praktyk waardeur die doelteksleser talig bevoordeel is. Binne die Suid-Afrikaanse konteks is daar in die laat 1980's begin om met hierdie vorm van vertaling te eksperimenteer met die doel om talig-benadeeldes te bemagtig. Hierdie artikel het ten doel om gesprek oor die grense van gemeenskapsvertaling te inisieer, asook oor die vraag of die bestaande grense van sodanige vertaling voorsiening maak vir die virtuele gemeenskap. Die doel is om bestaande norme, soos ontwikkel vir gemeenskapsvertaling, gedefinieer in terme van talig-benadeeldes, met massadeelvertaling ("crowdsourced translation") in verband te bring in situasies waar massadeelvertaling op 'n ongedefinieerde groot groep mense, gemeenskap of skare gerig is. Die ondersoek is ingebed in 'n funksionalistiese vertaalraamwerk. Die metodologie behels 'n uiteensetting van gemeenskapsvertaling, 'n teoretiese verkenning van vertaalnorme en die formulering van norme vir gemeenskapsvertaling. In ooreenstemming met die doel om debat te inisieer, word daar dus nie pertinente bevindings gestel nie, maar word daar tog gesuggereer dat die bestaande grense van gemeenskapsvertaling verruim het om voorsiening te maak vir massadeelvertaling.

Trefwoorde: gemeenskapsvertaling, massadeelvertaling, norme, virtuele gemeenska


ABSTRACT

A method increasingly used to provide translation in the computer era is crowdsourcing. This practice is widely exercised in the open-source community and has become quite sophisticated. The "crowd" comes in various forms: customers, brand advocates, domain experts, passionate users and the "unwashed masses". All of these take the form of multilingual communities whose translation work may be integrated with existing translation workflows. However, there are still many misconceptions and myths about the outcomes of crowdsourcing when applied to translation. Three major phenomena in harnessing the power of the crowd for translation purposes have been identified by Rebecca Ray and Nataly Kelly (2011). The first is community translation (or social translation) which is usually performed on voluntary basis by members of a group or by people with common interests. These groups are often cause-focused; interested in obtaining access to information in their own language; or simply people devoted to language. The second is collaborative technology and processes which allow a community to develop around a project and to work on the same content. Community members can verify and rectify one another's work as they go along. The term "collaborative translation" is also used to describe the work of professional translation teams working as a swarm - where multiple translators interact with the same content simultaneously, using advanced translation memory tools. The third, crowdsourcing, opens up a translation project to teams comprising of any mix of volunteer translators, employees, contractors or language service providers. It leverages the power of the swarm to accomplish much more than a single translator or language service provider can do alone. These three methods have supported one another to such an extent that the boundaries between them have faded.
However, this paper argues that crowdsourced translation for a virtual community expands on community translation as originally developed for educationally deprived communities, with specifically the linguistically deprived as target readers of translated texts. Multicultural societies, such as those in South Africa, where heterogeneous target audiences require translation, use community translation as a vehicle for effective communication (Lesch 2004; 1999). Otherwise a translation will only be a symbolic gesture, empty of value, and thus not communicating the message intended. This article argues that a functional approach ensures that translations are meaningful acts, and that this approach may serve as a translation paradigm for multilingual countries and global virtual institutions.
Different readers and listeners must be addressed in writing (and in speaking) at a level that they can understand. In the multicultural context found in many countries, a plain language approach to translation for communication purposes entails that those who produce texts must consider plain language for effective communication. At the same time it should be borne in mind that there are various degrees of plainness. The communicator and translator can achieve a relative plainness, for instance, a plainer language that is more adequate in the eyes and ears of the audience than the legalese Afrikaans version. In terms of communication it represents an improvement of the original source text language.The concept of plain language is dynamic and varies according to the target audience. Translators can adopt one of two approaches. They either think of a text in terms of plain language before translating, or they transfer a text into plain language during the translation process. The latter approach deals with rephrasing and adaptation as part of the construction of target texts. I am of the opinion that this is the better way to ensure effective intercultural communication across power gaps in a heterogeneous country, and that this also applies to the generic reader on the internet.
It goes without saying that this translation strategy is useful for effective understanding of the target text when communicating a message to widely heterogeneous audiences, including some with limited educational backgrounds, and for effective communication across a wide cultural spectrum and power gaps.
Consequently, this article draws on norms that have been developed for the community translation practice prior to the evolution of a virtual internet community, and were designed for target readers with a limited educational background. The article raises the question of, and initiates debate on whether the proposed norms are also relevant for translation via crowdsourcing. The underlying principle for these norms is using accessible language in crowdsourced and community translation on the internet.

Key words: community translation, crowdsourced translation, norms, virtual community


 

 

1. INLEIDING

Die begrip gemeenskapstolking is reeds gevestig, maar die begrip gemeenskapsvertaling, wat 'n baie dinamiese veld beskryf, word anders hanteer. Die jongste vertrekpunt is dat die konsep en praktyk van gemeenskapsvertaling ontwikkel het vanuit die platform van die internettegnologie. Terwille van volledigheid toon hierdie artikel aan dat die praktyk van gemeenskapsvertaling vroeër ontstaan het, en dat dit getipeer kan word deur die skep van 'n vertaalteks wat op 'n generiese leser gemik is.

Hierdie artikel poog om die raakpunte tussen twee vorme van gemeenskapsvertaling te dokumenteer. Die eerste vorm manifesteer rondom kontensieuse kwessies in die samelewing of gemeenskaplike sake wat 'n betrokke deel van die samelewing raak. Die ander manifesteer binne die konteks van die internet.

Die vertaalinhoude wat deur die gebruiker op die internet gegenereer word, neem al hoe meer toe en die grense tussen professionele en nie-professionele vertalers is besig om te vervaag. Om 'n gehalte produk te skep, sal daar vanuit 'n akademiese oogpunt riglyne, 'n skryfstylgids en uiteindelik, norme gestel word. Of sulke norme afdwingbaar sal wees, bly egter 'n ope vraag.

In beide vorme van gemeenskapsvertaling speel wederkerigheid en deelname van die gemeenskap 'n wesenlike rol, omdat daar spesifieke gemeenskapskenmerke by die virtuele gemeenskap én die talig-benadeelde gemeenskap ter sprake is. Die onderliggende vraag is of die norme (soos vroeër voorgestel) ook relevant is vir die praktyk van gemeenskapsvertaling binne die konteks van die virtuele gemeenskap. In die lig hiervan word norme herbesoek as 'n maatstaf om generiese gehalte te verseker vir die gemeenskapsvertaalpraktyk, ten einde 'n teleologiese vertaalteks te skep wat geskik is vir sosialemediagebruikers. Hierdie norme is oorspronklik ontwikkel nadat 'n beperkte verteenwoordigende korpus van toepaslike vertaaltekste ontleed is (Lesch 1999b).

Die uitdaging is om verdere debat oor die onderwerp te stimuleer na aanleiding van die norme en standaarde wat gestel word vir gemeenskaplike kwessies in gemeenskapsvertaling, en om vas te stel of hierdie norme ook relevant is vir die vertaalpraktyk van gemeenskapsvertaling deur middel van massadeelvertaling ("crowdsourcing"). Die artikel belig (1) die agtergrond oor gemeenskapsvertaling (2) 'n teoretiese plasing van die begrippe norme en gemeenskap en (3) die daarstelling van norme vir gemeenskapsvertaling. Die onderliggende vraag wat die artikel probeer aanspreek, is hoe absoluut die norme binne die twee uiteenlopende kontekste van gemeenskapsvertaling is. Anders gestel: Geld die norme wat binne die een konteks van gemeenskapsvertaling ontwikkel is, ook vir die ander konteks? Geen klinkklare antwoorde word gegee nie, maar daar word eerder gehoop om gesprek te stimuleer aangesien norme binne die vertaalkonteks, des te meer wat die toepassing daarvan binne die sosiale netwerke betref, aanvegbaar is.

 

2. KONTEKSTUALISERING VAN GEMEENSKAPSVERTALING

Die algemene opvatting is dat die idee van gemeenskapsvertaling, asook die praktyk daarvan, ontwikkel het vanuit die internetplatforms wat 'n sosiale netwerk vorm. Binne hierdie konteks vorm vrywillige vertalers en taalpraktisyns 'n tipiese ongespesifiseerde belangegroep wat vir 'n bepaalde gemeenskaplike doel saamwerk. Die inhoud wat deur die gebruiker gegenereer en versprei word deur sodanige aktiwiteite, vervaag in die proses die grense tussen professionele en nie-professionele vertalers. Die deelname van gebruikers en vertalers, dit wil sê die lesers van die teks, aan die vertaalaktiwiteit, kan wel indruis teen die handhawing van 'n professionele gedragskode en die nakoming van gevestigde standaarde en norme, maar dit kan ook nuwe kommunikasiekanale oopmaak. In die nabye verlede was daar 'n toename in sosiale netwerke op die wêreldwye web en nou word vertaalaktiwiteite ook 'n sosiale aktiwiteit wat onderneem word deur internetgebruikers. Internetgebruikers span saam binne die spangees van 'n "virtuele gemeenskap" - die kollektief van mense wat in sosiale interaksie verkeer of van aanlynhulpbronne gebruik maak, volgens Rheingold (2000). Vir hierdie vertaalhandeling gebruik Howe (2008) die term "crowdsourcing" en "crowdsourced translation" (massadeelvertaling). Daar word gesteun op die insette van die virtuele massa om die vertaling te doen. Dit is 'n vertaalmodel waar medewerkers, wat nie noodwendig 'n vertaalagtergrond het nie, gebruik word in plaas van, of in samewerking met, professionele vertalers. DePalma en Kelly (2008) noem hierdie vertaalhandeling gemeenskapsvertaling.

Massadeelvertaling kan gebruik word vir verskillende tipes vertaalprojekte, maar dit is veral doeltreffend vir inhoud wat vir die massa gegenereer word, soos blogs, nuusportale, wiki-webwerwe en webaansoeke. Ideale massadeelvertaal-projekte sluit in gebruikergegenereerde inhoud of massagegenereerde inligting soos Wikipedia; inhoud wat nie 'n afgeronde of konsekwente finale styl vereis om as suksesvol beskou te word nie en webinhoud waar individue 'n sterk belangstelling het om deel te neem binne 'n professionele omgewing.

Massadeelvertaling is 'n vorm van die vertaalpraktyk wat aan die wysheid van die skare op die internet glo. Enigeen - professioneel of nie-professioneel - kan voorstelle maak oor hoe 'n teks vertaal behoort te word. Gemeenskapsvertaling is baie nuttig in die opstelling van rekenaarvertaalenjins, waar groepe internetgebruikers teenstrydighede in die rekenaarvertaling uitlig en dit dan opgradeer.

Om hierdie rede raak die ontwikkeling en daarstelling van norme belangrik vir die amateurvertaler op sosiale netwerke. Amateurvertalers word hier gesien in teenstelling met professionele vertalers wat opgelei word tot op 'n erkende standaard van vaardigheid, 'n erkende gedragskode onderskryf en "[who] enjoys the support and regulation of a professional structure" (Feinauer 2005:162). Van 'n kundige of professionele vertaler word daar verwag om teoretiese kennis en ervaring van die vertaalpraktyk aan die dag te lê. Hierdie kundigheid ontbreek egter by die meeste amateurvertalers.

Daar word dus vanaf die standpunt uitgegaan dat gemeenskapsvertaling op die internet uit massadeelname put. Tog is die begrip gemeenskapsvertaling dubbelsinnig, omdat die term na verskillende aktiwiteite kan verwys. Dit is deels toe te skryf aan verwarring met die reeds gevestigde term van gemeenskapstolking, en andersins as gevolg van terminologiese onstabiliteit wat tipies is van 'n ontwikkelende veld. Pym (2011a) wys daarop dat sommige vertaalteoretici gemeenskapsvertaling in veral Australie en die VSA, en spesifiek die geskrewe vertaling van openbare inligting vir immigrante, in verband bring met gemeenskapstolking. In die onlangse verlede het gemeenskapstolking 'n meer professionele beslag gekry, maar dit maak nog steeds grootliks gebruik van onopgeleide individue en word dikwels met amateurskap en ad hoc-oplossings geassosieer. Dit is waarskynlik in laasgenoemde sin, waar daar van nie-professionele individue gebruik gemaak word, dat daar 'n konseptuele oorvleueling is tussen gemeenskapsvertaling en gemeenskapstolking.

Gemeenskapsvertaling word deur sommige organisasies gebruik as 'n meganisme om gratis vertalings te bekom deur nie gebruik te maak van professionele vertalers nie. Tog is O'Hagan (2011:11) van mening dat gemeenskapsvertaling meer is as 'n "dilettante, anti-professional movement".

In hierdie breë tegnologiese omgewing is gemeenskapsvertaling ingebed in die implisiete betekenis van " 'n gemeenskap van internetgebruikers". In dié verband noem Facebook in 2009 in hul aansoek by die VSA se handelsmerkkantoor, dat die skepping bekend sal staan as Community Translation on a Social Network. Dit word verder beskryf as: "...embodiments of the invention provide techniques for translating texts in a social network" (O'Hagan2011:12). Hierdie Facebook-voorbeeld illustreer dat gemeenskapsvertaling nou verweef is met sosiale netwerke op die internet. Die vertaalinisiatiewe van die Facebook-gebruiker is een van die vroeë, mees gepubliseerde voorbeelde van gemeenskapsvertaling op die internet. 'n Groep selfgeselekteerde internetgebruikers vertaal dele van 'n teks wat op die Facebook-webwerf in verskillende tale en weergawes gebruik word. Die vertalers is reeds lid van Facebook en dus bekend met die omgewing. Ander vrywillige vertalers moet eers registreer op Facebook ten einde hulle eie pasgemaakte vertaalplatform te kan gebruik. Ander Facebook-gebruikers stem dan vir die voorgestelde vertalings. Hierbenewens is daar ook besprekings wat plaasvind en gemeenskapsvertalers raak betrokke by die gehalte van die vertaalteks (O'Hagan 2011:13). Die Facebook-voorbeeld toon dat daar 'n sosiale dimensie betrokke is by die besluit oor die gehalte van 'n gegewe vertaling (Jiménez-Crespo 2011), maar betaalde professionele vertalers kan ook betrokke raak ten einde gehalte te verbeter (Kelly, Ray & DePalma 2011).

Hierdie massadeelvertaling bring ook mee dat daar wegbeweeg word van die liniêre vertaal-, redigeer- en publiseermodel (VRP), na 'n meer organiese gemeenskapsprojek. Dit behoort ook nie noodwendig gesien te word as h gevaarlike ontwikkeling wat die professie bedreig nie, maar eerder as die mark se reaksie op bepaalde uitdagings wat nie bevredigend aangespreek word deur die tradisionele VRP-model nie (Kelly e.a. 2011:75). Natuurlik is daar etiese kwessies wat in gedrang kom, soos aspekte van selfregulering, gemeenskapspolisiëring van die vertaalteks, gedeelde waardes, eerder as individuele regte, en die begeleiding van nuwelinge (Dolmaya 2011:97-110).

Volgens Perinno (2009) en O'Hagan (2011:11) word gemeenskapsvertaling min of meer sinoniem gebruik met terme soos "translation crowdsourcing, user-generated translation and collaborative translation" binne die Engelse vakliteratuur. Verder word CT met verwysing na "community, crowdsourced and collaborative translation" (DePalma & Kelly 2008) ook gebruik. Die gebruik van die term kan ten beste volgens O'Hagan (2011:11) gespesifiseer word:

[...]when the concept is anchored in the context of Web 2.0 (second generation-technologies). This [...] acknowledges its intrinsic tie to online communities and directs us to new dynamics resulting from general internet users acting as translators.

Rakende die veronderstelling dat die vernaamste verskil tussen gemeenskapsvertaling en professionele vertaling die vergoedingsaspek is, beveel Pym (2011a) die begrip "vrywilligervertaling" ("volunteertranslation") aan.

Ek wil egter waarsku dat binne die konteks gemeenskapsvertaling, die afwesigheid van vergoeding nie noodwendig die bepalende kenmerk van die gemeenskapsvertaalpraktyk is nie, alhoewel vrywillige deelname 'n akkurate beskrywing is vir die selfgeïnisieerde handeling wat tipies is van gemeenskapsvertaling. Die gemeenskaplike kenmerke van "community, crowdsourced and collaborative translation", is dat dit vertaalaktiwiteite deur vrywillige internetgebruikers is en geproduseer word deur een of ander vorm van samewerking ("collaboration") op spesifieke platforms deur 'n groep mense wat 'n aanlyngemeenskap vorm (O'Hagan 2011:14). Dit is binne hierdie konteks dat massadeelname en gevolglik die frase "wysheid van die menigtes" na vore kom, en dat teoretisering oor die potensiaal en wysheid van die internetmenigtes om moeilike probleme op te los, ontstaan het (Surwiecki 2005). In ooreenstemming hiermee hanteer Shirky (2010) massadeelname as 'n verwesenliking van die kognitiewe surplus van die gemeenskap van internetgebruikers.

Volgens O'Hagan (2011:14-15) word massadeelvertaling van Facebook vir die virtuele gemeenskap deur verskillende organisasies benut, ten einde vertalings te verkry deur uit te reik na die horde internetgebruikers. Uitbuiting van die internetmassa, veral deur winsgewende instellings, ten einde gratis vertalings te bekom, werk natuurlik professionele vertalers teë. Dit is dan ook geen verrassing dat protesgroepe geskep is nie. Een hiervan is "Leave Translation to Translators!" wat die spot gedryf het met die Facebook-vertaalgemeenskap as "people who think they can do it" (Keegan 2009). 'n Soortgelyke protes deur "Translators against Crowdsourcing for Commercial Business" is geloods teen LinkedIn, 'n maatskappy met winsbejag wat voordeel wou trek uit vrywillige vertaaldienste. Die ongemak in professionele vertaalkringe oor massadeelvertaling hou verband met die kultus van die amateur (Keen 2007). Maar hierdie verskynsel van die opkoms van die amateur kan ook vertolk word as die krisis waarin die kundige (d.i. die professioneel-geskoolde vertaler) hom bevind, naamlik om dit wat hy nie ken nie te onderskat en dit wat hy wel ken, te oorskat (Gee & Hayes 2011:44). Dit staan vas dat die omgewing waarbinne die professionele vertaler werk, 'n dinamiese omgewing is wat voortdurend verander.

Ten spyte van begrip vir die posisie van professionele vertalers, is daar ook 'n ander sy:

Concerns raised by professional translators are understandable on the grounds of the likely threat to their jobs and the risks that such movements may lead to further devaluation of what is involved in translation work[...] The ethical question of profit-enterprises exploiting free labour, no matter how willing are the volunteers (sic), also remains. Yet the other side of the coin is that every day most remunerated translators rely on the vast amount of free user-generated content and information available on the Internet be it glossaries of terms or technical information of all kinds in a given language. Placed in the bigger picture of the powerful trends of Internet technologies advocating openness and sharing, which is feeding through also to the design of translation tool, community translation is far too complex to be treated simply as a dilettante, anti-professional movement. (O'Hagan 2011:15)

Vir talle vertalers en vertaalteoretici is die vertaalpraktyk betreffende die internetmassa steeds 'n ontwikkelende praktyk. Daar is nog nie uitsluitsel oor wat dit as bepaalde vertaalsubdissipline behels nie. Dit maak die veld dus oop vir verdere bespreking en die identifisering van aansluitingspunte met bestaande vertaalteorieë en -aktiwiteite. Daarom word daar in hierdie artikel van die veronderstelling uitgegaan dat die begrip en praktyk van gemeenskapsvertaling nie noodwendig nuut is nie, en dat dit nie noodwendig sy oorsprong in die tegnologiese platform het nie. Dit is eerder 'n geval van bestaande grense wat verbreed word. Die oorspronklike besorgdheid van gemeenskapsvertalers uit die vroeë 1990's oor die gehalte van die vertaalteks, is vervang deur 'n besorgdheid oor die toepaslikheid en toeganklikheid van die doelteks (DTE) (Fraser 1990; Cluver 1992; Meintjes 1992). Vertaling word die middel tot die doel; gemeenskappe word voorsien van inligting om hulself te bemagtig en om hulle behoeftes eerste te plaas; en doeltreffende kommunikasie met die leser word die enigste geldige maatstaf vir sukses. Só 'n benadering neem gemeenskapsfaktore in ag. Daar word aangetoon dat 'n voorvereiste vir die vertaalpraktyk om 'n teleologiese aktiwiteit te wees, is dat vertalers in heterogene samelewings die teikenleser in ag moet neem. Indien dit nie die geval is nie, sal die vertaling 'n simboliese gebaar wees met geen waarde nie, en die teks sal dus nie die bedoelde boodskap oordra nie.

So byvoorbeeld verwys Burns en Kim (2011) onlangs na die belangrikheid van doeltreffende kommunikasie in 'n multikulturele en veeltalige land soos Australië. Hulle wys daarop dat doeltreffende gemeenskapswye kommunikasie onder diverse taalgroepe met verskillende kulturele agtergronde, 'n uitdagende kwessie is, veral binne die gesondheidsorg. 'n Groot bron van kommer is die toeganklikheid van die teks vir die leser, en hulle spreek hulle ook uit ten gunste van gewone taalgebruik. Eagleson (1990:4) bied die volgende beskrywing van gewone taal ("plain language"):

In short it is the opposite of gobbledegook and of confusing and incomprehensible language. Plain English is clear, straightforward expression, using only as many words as are necessary. It is language that avoids obscurity, inflated vocabulary and convoluted sentence construction. It is not baby talk, nor is it a simplified version of the English language.

Fine (2001:19-21) beskryf gewone taal soos volg:

[...] plain language [is] accessible, user-friendly, understandable and informative. It is characterised by a lucid and well-organised structure; by a clear and user-friendly lay-out and design for written materials and visuals. When spoken, it is presented with back-ups and appropriate and user-friendly tone and body language.

Om in gewone taal te skryf, beteken dus dat generiese lesers dit kan verstaan. Binne die sogenaamde beelde-vertaalteorie beteken dit dat die leser in staat gestel word om 'n realistiese breinkaart van die teks te kan teken. Dit is binne hierdie konteks dat begrippe soos "translation accessibility" en "community translation" ook vir Burns en Kim (2011) relevant is. Dit is teen die agtergrond van doeltreffende uitgebreide kommunikasie met die gemeenskap dat Lesch (1999a; 1999b) reeds in die laat 1990's onderskeid getref het tussen verskillende tipes gemeenskapsvertaling -parallelle, nie-parallelle en intratalige gemeenskapsvertaling - en 'n gemeenskapsvertaalbenadering geformuleer het.

 

3. TEORETIESE AGTERGROND

3.1 Gemeenskap

"Gemeenskap" word volgens Lesch (1999b:74-77) in terme van opvoedingsvlak gedefinieer en dit is nie noodwendig 'n demografiese gemeenskap wat ter sprake is nie. Die ongelyke magsver-houdings en die begeleidingsrol wat vertalers as taalbemiddelaars behoort te speel, staan voorop in sy beskrywing van die gemeenskap. Die begrip "gemeenskap" staan ook in verhouding tot ander verbandhoudende terme soos "gemeen", "gemeen(skaplik)heid", "gemeensaam". Om die begrip te kontekstualiseer, word daar onder meer teruggegaan na die grondvorm van die woord "gemeenskap".

Vanuit 'n sosiologiese perspektief word 'n gemeenskap gedefinieer as 'n groep persone verwant aan mekaar deur volgehoue betrekkinge soos sosiale status, rolvervulling en sosiale netwerke. Andersins is dit 'n groot sosiale groepering wat dieselde geografiese grondgebied deel en onderhewig is aan dieselfde politieke gesag en heersende kulturele verwagtinge. Menslike gemeenskappe word gekenmerk deur onderlinge handelinge tussen individue met 'n gedeelde kultuur en institusies. Benewens die feit dat gemeenskap na 'n geografiese groepering kan verwys, beteken dit binne die konteks van hierdie artikel nie noodwendig dat die gemeenskap binne bepaalde geografiese grense afgebaken kan word nie. Dit verwys eerder na 'n betrokke groep mense in die samelewing wat in sekere opsigte met mekaar identifiseer. Die nosie van "om aan 'n groep te behoort" of "om met 'n groep te identifiseer" of "om deel te wees van 'n groep" is in die begrip "gemeenskap" opgesluit. Myns insiens staan hierdie groep in kontras met die elite en is dit die werkersklas wat in hierdie geval relevant is. Hulle het 'n relatief lae onderwysvlak.

Die uniekheid van gemeenskapsvertaling, soos dit deur Lesch (1999a; 1999b; 2004) beskryf word, is dat die bronteksleser en doelteksleser nie noodwendig op dieselfde geletterdheidsvlak is nie. Dit fokus op daardie sektor van die samelewing wat juis uitgesluit is van die hoofstroomontwikkeling. Reeds sedert die vroeë 1990's word die standpunt gehuldig dat sekere tekste 'n heroriëntering verg. Die oorspronklike besorgdheid oor die kwaliteit van die vertaling maak plek vir die toepaslikheid ("appropriacy") en toeganklikheid ("accessibility") van die teks (Siegrühn 1992:33). Na aanleiding hiervan maak Siegrühn (1992:34) die volgende opmerking:

[T]he community translator is neither a social worker, nor an educator, nor an advocate. The community translator is aware of the power imbalances in society and chooses to mediate in order to make [target] texts accessible, instead of offering "parallel" translations.

Die uiteindelike doel van hierdie ingesteldheid is om die magswanbalans teen te werk. Gemeenskapsvertaling is eerder 'n middel tot 'n doel, naamlik om gemeenskappe met die middele toe te rus om hulself te skool en hul behoeftes te prioritiseer. Dit is 'n poging om die magsver-houdings tussen die sender en die ontvanger te balanseer deur voorkeur te gee aan die gemeenskap se behoeftes. Met verwysing na die doeltreffendheid van die kommunikasieproses, bly Cluver (1992:36) se opmerking rakende vertaling relevant:

No society is homogeneous and translators need to be sensitive [to] the needs of the different groups. Within any speech community there are marginalised groups who have been excluded from mainstream developments and for whom the form in which information is encoded presents a barrier [...] The task of the community translator is not only to make information available in another language (in a parallel manner) but to make it available to marginalised communities in a more assimilable format.

Die beslissende rol wat die leser speel, vind ook weerklank in die standpunt dat 'n streng afbakening van die vertaalteks as spieëlbeeld van die oorspronklike uitgedien is. Daar word voorgestel dat die begrip "vertaling" uitgebrei moet word om aanpassings en herformulering in te sluit.

In teenstelling met die bogenoemde beskrywing van "gemeenskap" word die aanlyn virtuele gemeenskap, volgens Preece (2000), gesien binne die konteks van:

People, who interact socially as they strive to satisfy their own needs or perform special roles, such as leading or moderating;

A shared purpose, such as an interest, need, information exchange, or service that provides a reason for the community;

Policies, in the form of tacit assumptions, rituals, protocols, rules, and laws that guide people's interactions;

Computer systems, to support and mediate social interaction and facilitate a sense of togetherness.

Volgens McDevitt, Pérez-Quinones en Padilla-Falto (2004:2) is 'n aanlyngemeenskap wat rondom 'n sentrale taak gestig word, 'n taakgebaseerde gemeenskap. Die doel of taak op hande kan die vertaling van verskillende elektroniese platforms insluit. Die gebruikersgemeenskap van die stelsel het 'n gedeelde belang daarby en doen 'n beroep op die taakgebaseerde gemeenskap om spontaan 'n vertaling te doen. Die individue van die gemeenskap dien as 'n stelsel van wigte en teenwigte, asook as 'n konsensusmeganisme wanneer dispute wel onstaan. 'n Mens het egter begrip daarvoor dat hierdie benadering aanleiding kan gee tot kommer oor aspekte soos sekuriteit, omdat die verantwoordelikheid van die vertaalinhoud aan die taalgebruikers gegee word. Dit is selfs meer waar wanneer 'n dispuut besleg moet word as lede van die gemeenskap nie oor 'n bepaalde vertaalopsie saamstem nie. As nie net die nodige hulpbronne en tegnieke aan die gebruikers voorsien word om te kan saamwerk nie, maar ook bepaalde norme gestel word, sal daar waarskynlik meer vertalings met 'n konsekwente gehalte en styl geskep word.

DePalma en Kelly (2008) in hul verslag "Translation of, for and by the people" bied ook 'n ander persepsie van die konteks van gemeenskapsvertaling. Hulle ondersteun die standpunte dat vertaling tradisioneel as 'n kuns gesien is. Vandag, namate tegniese en sake-inhoud toeneem, word van taaldiensverskaffers vereis om hul produktiwiteit en uitsette te verhoog sonder om gehalte in te boet. Die uitdagings van die globale sakewêreld vereis 'n stelselmatige herbesinning van die vertaalproses. Die wêreldwye web en intydse massadeelname is gevolglik die weg vir verhoogde uitsette en konsekwente gehalte. Vertaling, soos dit tradisioneel beoefen word, behoort vervang te word deur tegnologie en prosesse wat 'n swerm vertalers, redakteurs, proeflesers en ondersteunende taalmedewerkers toelaat om gelyktydig aan 'n vertaling mee te werk (Beninatto & DePalma 2007:49-51). Vandaar dan dat daar verwys word na massadeelname vir die totstandkoming van die uiteindelike vertaalteks.

Wat duidelik in hierdie samewerking voorkom, is dat die hersiening van die doelteks parallel met die skepping van die vertaalteks uit die bronteks (BTE) geskied. Die gemeenskap vorm dus deel van elke stap van die proses en het deel aan die massadeelname-vertaalproses wat die reële vertaling, redigering en proeflesing behels. Dit herinner aan die idee dat die konsepvertalings tydens werksessies met lede van die gemarginaliseerde gemeenskap getoets word (Siegrühn 1989).1 Op hierdie wyse kan daar sodoende vasgestel word in watter mate mense dit verstaan en hoe suksesvol kommunikasie sal wees, al dan nie. Vertaling deur massadeelname behels egter dat vertalers gelyktydig intyds deur middel van die internet werk totdat 'n gepaste vertaalproduk bereik is (DePalma & Kelly 2008:3).

Hoe gemeenskapsvertaling ook al gekarakteriseer word, daar is oor die algemeen ooreenstemming onder gemeenskapsvertalers dat 'n gemeenskapsvertaalteks nie van 'n swakker gehalte behoort te wees nie. Die vertaalkwaliteit hang grootliks af van die vaardighede waaroor die vertaler beskik. Volgens McDevitt e.a. (2004:1) omsluit gehalte onder andere die kriteria van akkurate beeldskepping en korrekte grammatika, asook gepaste register en styl.

Wat duidelik word, is dat die gemeenskap binne die konteks van gemeenskapsvertaling 'n sosiale groepering in die samelewing wat op enige gegewe tyd in sosiale interaksie verkeer, behels. "Gemeenskap" verwys na 'n groep mense wat verenig is deur 'n gedeelde situasie, of dit verwys na 'n groep mense wat intellektueel, professioneel en/of polities met mekaar verbind word. Dit kan geografiese gemeenskappe, gemeenskappe wat dieselfde belange deel of gemeenskappe wat bepaalde praktyke beoefen, wees. Hierdie uitgebreide definisie laat ons toe om op gemarginali-seerde groeperings in gemeenskappe te fokus, terwyl dit terselfdertyd ander gemeenskapsformasies insluit en dus ook voorsiening maak vir die virtuele gemeenskap, waar die lede binne 'n reële taalsituasie in wisselwerking met mekaar is. Die taalkonteks is hierdeur interaktief gekoppel aan 'n herkenbare groep, die virtuele gemeenskap op die internet, en dus die taalbehoeftes van die betrokke gemeenskap. Vanuit 'n vertaalperspektief moet daar 'n duidelik-identifiseerbare taalvoordeel vir die gemeenskap wees. Dit beteken wedersydse voordeel vir dié wat die diens ontvang, die inisieerder en die opdraggewer aan die een kant (Nord 1991a:8-10) en die vertaalgemeenskap, wat ook die gebruiker is, aan die ander kant.

3.2 Vertaalnorme

Binne vertaling is die begrip "norme" nie sonder enige probleme nie. Tog word daar na Toury en Chesterman se hantering van die begrip "norm" binne vertaling gekyk. Verder moet ons ook nie uit die oog verloor dat Toury se begripperaamwerk beskrywend van aard is en poog om die vertaalproses te rekonstrueer, en as sulks geensins voorskriftelik is nie. Tog vind ek dit 'n handige vertrekpunt.

Toury (1980:49-50, 52-62, 115-116, 123-139) omskryf vertaalnorme soos volg:

Translational norms are behavioural constraints with the properties indicated below:

a) They may be thought of as performance instructions in that they prescribe specific types of translational performance for specific types of translational situations.

b) They may also be thought of as serving as performance criteria - that is, criteria for the evaluation of instances of translational behaviour.

c) They belong, like other norms, to the inter-subjective category of constraints regulating behavioural activities.

d) They reflect certain (normative) models.

Volgens Toury (1980:53) is norme binne elke fase van die vertaalproses en op elke vlak van die vertaalteks werksaam.

Preliminêre norme is vertaalnorme wat werksaam is voor die vertaalproses self. Twee hoofkategorieë geld hier vir oorweging: keuse van die tipe werke wat vertaal word; en die "direktheid" van die vertaling. Eersgenoemde het betrekking op die keuse van watter tipe bronteks vertaal word.

Operasionele norme daarenteen, lei volgens Toury (1980:54) die vertaler met sy besluite tydens die vertaalproses. Daar bestaan twee subgroepe, naamlik matriksnorme en tekstuele norme.

Matriksnorme het betrekking op die matriks van die teks, dit wil sê op die wyse waarop die linguistiese materiaal, veral groter eenhede, in die teks versprei word. Dit bepaal, of het ten minste 'n groot invloed op die reële bestaan van die doeltaalmateriaal (DT-materiaal), wat as ekwivalent vir die ooreenstemmende brontaalmateriaal (BT-materiaal) dien. Die plasing van die DT-materiaal binne die teks, dit wil sê die vorm en verspreiding daarvan, asook die tekstuele segmentering op sowel sinsvlak as suiwer teksvlak, word bepaal deur die matriksnorme. Die mate waartoe daar in die vertaalteks van weglatings, toevoegings, verandering in plasing en manipulasie van segmente gebruik gemaak word, word ook hierdeur bepaal (Toury1980:54).

Tekstuele norme bepaal of beïnvloed die reële seleksie van DT-materiaal (eenhede en patrone) wat tekstuele en linguistiese materiaal van die BT vervang om as vertaalekwivalente te dien. Die tekstuele norme het dus betrekking op die werklike (verbale) formulering van die teks en die werklike seleksie van die DT-materiaal (eenhede en patrone) om die oorspronklike tekstuele en linguistiese materiaal te vervang, of om as funksionele ekwivalente daarvoor te dien. Hierdie tekstuele norme kan suiwer taalkundig wees of dit kan bepaal word deur wat gepas is vir 'n vertaalteks in 'n sekere genre, of vir 'n bepaalde bron of periode (Toury1980:54; 1985:131).

Die inisiële norm verwys na die vertaler se keuse tussen twee polêre moontlikhede: die vertaler onderwerp hom óf aan die oorspronklike bronteks met sy tekstuele verhoudinge en die norme wat daarin uitgedruk of beliggaam is, óf aan die heersende linguistiese en gemeenskaps-norme van die doelteks en die DT-polisisteem, of 'n gedeelte daarvan.

In sy hantering van vertaalnorme, tref Chesterman (2000:67) 'n onderskeid tussen verwagtingsnorme en professionele norme. Eersgenoemde is hoofsaaklik produkgeoriënteerd en word gestig "by the expectations of the readers of a translation (of a given type) concerning what a translation (of this type) should be like" (Chesterman 2000:64). Hierdie verwagtinge word tot 'n sekere mate bepaal deur die heersende vertaaltradisie in die doeltaalkultuur en tot 'n sekere mate deur die vorm van soortgelyke tekstipes in die doeltaal. Die leser van die DTE het ook verwagtinge oor die tekstipe en diskoerskonvensies oor die styl, register, graad van grammati-kaliteit, woordeskat, ensovoorts.

Professionele norme kan beskou word as prosesnorme wat die vertaalproses self reguleer. Vanuit die vertaler se oogpunt is hierdie norme 'n subordinaat van die verwagtingsnorme. Die bron van die professionele norme lê volgens Chesterman (2000:67) by uitstek by "members of the society who are deemed to be competent professional translators, whom the society trust as having the status, and may further be recognized by others as competent". Ingeslote by sy professionele norme is die verantwoordbaarheidsnorm, die kommunikasienorm en verbandnorm (Chesterman 2000:68-9).

By die verantwoordbaarheidsnorm is ingesluit die professionele norme (bv. lojaliteit teenoor die oorspronklike skrywer, die gemagtigde en die vertaler), kommunikatiewe norme (bv. om kommunikasie tussen die betrokke partye te optimaliseer) en betrokkenheidsnorme (bv. relevante ooreenkoms wat tussen die bronteks en doelteks gehandhaaf word) (Chesterman 2000:68-69). In wese is die professionele vertaler "a master of the skill, through education and training; acceptance of duties to a broader society than merely one's clients; objectivity and high standards of conduct and professional performance" (Feinauer 2005:162).

Teen hierdie agtergrond word professionele gedrag verwag van die massadeelvertaler ("crowdsourced translator"). Keen (2007) waarsku egter teen die opkoms van die amateur en die skade - ekonomies, sosiaal, kultureel en polities - wat hierdie amateurs kan aanrig. Sonder standaarde en sonder smaak, sonder instellings om goed en swak, waar en vals te onderskei, sal die internet, volgens Keen, ons vernietig (Lessig 2007).

 

4. NORME2 VIR GEMEENSKAPSVERTALING

Vanuit 'n akademiese agtergrond wil ek glo dat dit wenslik is om taalgebruikriglyne binne hierdie konteks te stel. Vanweë die afwesigheid van sodanige bestepraktyke kan die amateurvertaler skade op talige gronde aanrig. Teen hierdie agtergrond poog ek dus om norme vir gehaltegemeenskaps-vertaling voor te stel. Hierdie norme is aanvanklik nie ontwikkel met die virtuele gemeenskap in gedagte nie, maar eerder met die talig-gemarginaliseerde gemeenskap, soos gedefinieer in terme van opvoedingsvlak, as die primêre teikenmark. Die uitdaging is om vas te stel of hierdie norme ook enige waarde vir massadeelvertaling op die internet het. Lesch (1999b) het 'n beperkte korpus3 tekste wat gemik was op die talig-agtergeblewe gemeenskappe ontleed, en dit word nie hier weer gestel nie:

4.1 Die inisiële norm

Norm:

Die gemeenskapsvertaler moet hom onderwerp aan die heersende linguistiese en gemeenskaps-norme van die DT en die doeltaalpolisisteem of 'n gedeelte daarvan en nie aan dié van die BT nie.

Dit is om te verseker dat 'n aanvaarbare doelteks geskep word en nie 'n swak-adekwate teks nie. 'n Aanvaarbare doelteks binne Toury se begripperaamwerk behels dat die vertaler hom onderwerp aan die heersende norme in die doelkultuur (Toury 1980:12, 29, 55, 75, 116). Daarenteen is 'n swak-adekwate vertaling 'n maksimale rekonstruksie (Toury1980:108) of getroue weergawe (Toury1980:141) in die DT van die tekstuele verhoudinge, funksies en norme wat in die BTE uitgedruk en beliggaam word.

4.2 Die preliminêre norme

Norm:

Daar moenie vermeld word dat die teks 'n vertaling is nie, maar verseker word dat die DTE eerder voordoen as 'n verskuilde vertaling.

n Verskuilde vertaling skep die indruk van 'n oorspronklike teks. 'n Klaarblyklike vertaling is 'n vertaalteks wat duidelik as 'n vertaling herkenbaar is. Binne Venuti (1985) se raamwerk sal dit beteken dat 'n domestikerende vertaling, in teenstelling met 'n vervreemdende vertaling, geskep word. 'n Domestikerende vertaling is volgens Venuti (1998:5) "[...]supplemented with features peculiar to the translating language, no longer inscrutably foreign but made comprehensible in a domestic style".

4.3 Die operasionele norme

Die identifisering van die operasionele norme verg onder meer dat dit in ooreenstemming met die karakterisering van die gemeenskap moet wees. Vir Lesch (1999b) is gewone taal, dit is eenvoudige toeganklike taalgebruik, noodsaaklik binne hierdie konteks.

4.3.1 Enkoderingsnorme

Norm:

Die vertaalteks moet taalkundig en ortografies korrek aangebied word en moet dus in ooreenstemming met die DT-grammatikareëls wees.

Dit is in ooreenstemming met die professionele norme (Chesterman 2000:67) omdat 'n professionele produk verlang word. Om 'n gemeenskaps(vertaal)teks te skep met die virtuele gemeenskap in die teleologiese oog, beteken nie noodwendig dat die spreektaal tot skryftaal verhef word nie. Nog minder beteken dit dat taalreëls en spelreëls verontagsaam moet word. Van die gemeenskapsvertaler as taalpraktisyn word verwag om onder meer 'n taalkundig-korrekte teks te skep en tikfoute, spelfoute en linguistiese inkonsekwenthede in die vertaalteks is geheel en al onaanvaarbaar.

Norm:

Gebruik 'n gemoedelike taal en styl wat toeganklik vir die lesers se begripsvermoëns is, maar gebruik streektaal met omsigtigheid.

Die taalgebruik moet hiervolgens lesersvriendelik wees en die leser moet daarmee kan identifiseer (Fine 1995:12-20). In die geval van die virtuele gemeenskap word aanvaar dat dit 'n internasionale gemeenskap is en dat daar met groter omsigtigheid omgegaan moet word met dialektiese taalgebruik wat 'n uitdaging vir die begripsvermoë van die leser skep.

Norm:

Enkodeer inligting deur middel van sintakties-simplekse strukture.

Gebruik dus kort sinne met duidelike antesedente indien anaforiese kettings4 gestig word (Fine 1995:12-20).

Norm:

Gebruikkort en eenvoudige woorde (Fine 1995:13-15, 30-35).

Hierdie norm is nie noodwendig 'n weerspreking van die standpunt dat streektaal omsigtig gebruik moet word nie.

Norm:

Betrek die leser deur hom/haar direk aan te spreek of deur vrae te stel.

Die lees van die vertaalteks moet as 'n aktiewe handeling ervaar word deur die potensiële leser (Fine 1995:23). So word die gebruik van die generiese "jy" aanbeveel.

Norm:

Ekspliseer BTE-inligting in die DTE deur byvoorbeeld gebruik te maak van frases soos: "met ander woorde." en "dit wil sê.", byvoegings, of deur voorbeelde te verskaf.

Deur gestalte aan hierdie norm te gee, word bepaalde inligting gekonkretiseer en spreek die teks duideliker tot die leser.

4.3.2 Teksuitlegnorme

Norm:

Maak gebruik van paragraafreliëf om die DTE meer toeganklik te maak.

Paragraafreliëf behels dat een lang sin in kleiner gedeeltes opgebreek word.

Norm:

Sinchroniseer die stof deur die inligting te groepeer en te herorganiseer.

Ter motivering van hierdie norm dien dat teksstrukturerende meganismes groter samehang in die vertaalteks bewerkstellig. (Vergelyk ook Toury(1980:54, 102) se idee van manipulasie van segmentasie.)

Norm:

Gebruik subhofies om die lees van die gesinchroniseerde stof te vergemaklik.

Die gebruik van opskrifte maak die vertaalteks ligter en meer lesersvriendelik, en stel die generiese leser in staat om onmiddellik 'n idee te kry van waarop die daaropvolgende paragraaf/-we konsentreer.

 

5. SAMEVATTING

Hierdie artikel toon dat die konsep en praktyk van gemeenskapsvertaling nie homogeen is nie. Die begrip "gemeenskapsvertaling" soos aanvanklik gedefinieer in terme van opvoedingsvlakke, het nou verruim om ook voorsiening te maak vir die virtuele gemeenskap. Die realiteit is dat die praktyk van massadeelvertaling op die internet 'n relatief nuwe verskynsel is. Die vraag is of die praktyk van virtuele gemeenskapsvertaling 'n uitbreiding is van gemeenskapsvertaling, soos dit oorspronklik getipeer is, of 'n nuwe verskynsel wat geensins daarmee verband hou nie, en vervolgens, of die gestelde norme van waarde is vir massadeelvertaling.

Ek is terdeë bewus van die aanvegbaarheid van wat in die artikel voorgestel word, en ek is nie naïef ten opsigte van die regulering van die norme nie. Sosiale media het in die onlangse verlede verreikende gevolge gehad vir gemeenskappe op die Afrika-kontinent, sonder dat daar enigsins norme of riglyne gegeld het vir kommunikasie op die virtuele platform. Geordende deelname aan vertaalopdragte op die web blyk egter tog haalbaar te wees.

Enersyds moet navorsing op die gebied van vertaling vir die virtuele gemeenskap verder ontgin word, maar andersyds ook hoe die voorgestelde wetsontwerp op taalpraktisyns hierdie aktiwiteit sal raak.

 

BIBLIOGRAFIE

Beninatto, R.S. & DePalma, D.A. 2007. Collaborative translation. Resource Directory & Index Multi Lingua, 2007:49-51.         [ Links ]

Burns, A. & Kim, M. 2011. Community accessibility of health information and the consequent impact for translation into community languages. Translation & Interpreting, 3(1):58-75.         [ Links ]

Chesterman, A. 2000. Memes of translation.The spread of ideas in translation theory. Amsterdam: John Benjamins.         [ Links ]

Cluver, A. 1992. Trends in the changes of translating domains: an overview. In Kruger (ed.). Changes in translating domains. Pretoria: Unisa        [ Links ]

DePalma, D.A. & Kelly, N. 2008.Translation of, by, and for the people. Lowell,Massachusetts: Common Sense Advisory.         [ Links ]

Dolmaya, J. McD. 2011. The ethics of crowdsourcing. Linguistica Antverpiensia, 10:97-110.         [ Links ]

Eagleson, R.D. 1990. Writing in Plain English. Canberra: Australian Government Public Service.         [ Links ]

Feinauer, I. 2005. Language practitioners and standards. In Boers (ed.). Rights in practice: A compendium on the rights of language practitioners and their clients. Pretoria: South African Translators' Institute, pp. 162-164.         [ Links ]

Fine, D. 1995. How to use Plain Language. University of Cape Town:Legal Education Project (LEAP).         [ Links ]

Fine, D.. 2001. Plain language communication: approaches and challenges. In Viljoen & Nienaber (eds). Plain language for a New South Africa, Pretoria: Protea Book House.         [ Links ]

Fraser, J.E. 1990. Tilting the message: community translation in a reader-orientated model of translation process. Ongepubliseerde MA-verhandeling, Ealing College        [ Links ]

Gee, J.P. & Hayes, E. 2011. Language and learning in the digital age. New York: Routledge.         [ Links ]

Howe, J. 2008. Crowdsourcing: Why the power of crowd is driving the future of business. London: Random House.         [ Links ]

Jiménez-Crespo, M.A. 2011. From many one: novel approaches to translation quality in a social network era. Linguistica Antverpiensia, 10:131-52.         [ Links ]

Keegan, N. 2009. Crowdsourcing: using cross-cultural competency gained from the global proficiency programme to better understand Facebook's Spanish translation. http://www.bc.edu/offices/international/gp/metaelements/pdf/PDF/2009_Reflection_Projects/Keegan,% 20Nathan.pdf. (5 Februarie2010 geraadpleeg).         [ Links ]

Keen, A. 2007. The cult of the amateur. New York: Doubleday.         [ Links ]

Kelly, N, R. Ray & DePalma, D.A. 2011. From crawling to sprinting: community translation goes mainstream. Linguistica Antverpiensia, 10:75-96.         [ Links ]

Lessig, L. 2007. The cult of the amateur. http://www.lessig.org/blog/2007/05/keensthecultoftheamateur.html (12 Februarie 2010 geraadpleeg).         [ Links ]

Lesch, H.M. 1999a. Community translation: right or privilege? In Erasmus (ed.). Liaison interpreting in the community. Pretoria: Van Schaik.         [ Links ]

Lesch, H.M. 1999b. Gemeenskapsvertaling in Suid-Afrika: Die konteks van die ontvanger as normeringsbeginsel. Ongepubliseerde D.Litt-proefskrif, Universiteit van Wes-Kaapland.         [ Links ]

Lesch, H.M. 2004. Societal factors and translation practice. Perspectives: Studies in Translatology,12(4):256-69.         [ Links ]

McDevitt, K., Pérez-Quinones,M.A. & Padilla-Falto, O.I. 2004. Design of a community-based translation centre, Technical Report cs. HC/0401007, Computing Research Report (CoRR). http://arxiv.org/abs/cs/0401007/ (15 Maart 2010 geraadpleeg).         [ Links ]

Meintjes, L. 1992. Translation for empowerment and democracy. In Kruger (ed.). Changes in translating domains. Pretoria: Unisa.         [ Links ]

Nord, C. 1991a. Text analysis in translation. Theory, methodology and didactic application of a model for translation-oriented text analysis. Translated from German by C. Nord & P. Sparrow. Amsterdam: Rodopi.         [ Links ]

O'Hagan, M. 2011. Community translation: translation as a social activity and its possible consequences in the advent of Web2.0 and beyond. Linguistica Antverpiensia, 10:11-23.         [ Links ]

Perrino, S. 2009. User-generated translation: The future of translation in a Web 2.0 environment. Journal of Specialised Translation, 12. http://www.jostrans.org/issue12/artperrino.php (15 Maart 2010 geraadpleeg).         [ Links ]

Preece, J. 2000. Online communities, designing usability and supporting sociability. In R. Earnshaw, Guedj, R. Van Dam, A & Vince, T (eds). Frontiers of Human-Centred Computing, Online Communities and Virtual Environments. Amsterdam: Springer Verlag, pp. 263-277.         [ Links ]

Pym, A. 2011. Translation research terms: a tentative glossary for moments of perplexity and dispute. In Pym (ed.). From translation research projects 3, Tarragona: Intercultural Studies Group. http://isg.urv.es/publicity/isg/publications/trp32011/index.htm (14 November 2012 geraadpleeg).         [ Links ]

Ray, R. & Kelly, N. 2011. Crowdsourced Translation - best practices for implementation. Lowell: Common Sense Advisory, Inc.         [ Links ]

Rheingold, H. 2000. The virtual community: homesteading on the electronic frontier. Cambridge, MA: MIT Press.         [ Links ]

Siegrühn, A. 1992. Community translation. In Kruger (ed.). Changes in translating domains. Pretoria: Unisa.         [ Links ]

Siegrühn, A. 1989. 'Translation and the national Language Project'. In: Language Projects 'Review, 4 (3).         [ Links ]

Shirky, C. 2010. Cognitive surplus: Creativity and generosity in a connected age. London: Allen Lane.         [ Links ]

Surwiecki, J. 2005. The wisdom of the crowd: Why the many are smarter than the few. London: Abacus.         [ Links ]

Toury, G. 1980. In search of a Theory of Translation. Tel Aviv University: Porter Institute for poetics and semiotics.         [ Links ]

Toury, G. 1985. A rationale for descriptive translation studies. In Hermans (ed.). The Manipulation of Literature. Studies in Literary Translation. New York: St. Martin'sPress.         [ Links ]

Venuti, L. 1998. The scandals of translation: towards an ethics of difference. London: Routledge.         [ Links ]

 

 

 

Harold Lesch is verbonde aan die Universiteit van Stellenbosch waar hy 'n opleidings- en navorsingsprogram in tolking gevestig het. Hy het hom aanvanklik geskool in vertaling en navorsing in dié veld gedoen. Hy hou onder meer kwalifikasies in vertaling en tolking van die Universiteit van Suid-Afrika, Universiteit van Stellenbosch, Universiteit van die Vrystaat en die Universiteit van Wes-Kaapland. Vir die afgelope 10 jaar is hy veral betrokke by tolkopleiding en tolknavorsing. Hy het 'n hele aantal publikasies en referate in vertaling sowel as tolking, nasionaal en internasionaal, agter sy naam. Verder het hy ervaring as vertaler in die korporatiewe sektor, maar ook as simultaantolk in die Nasionale Parlement van SA, die Wes-Kaapse Wetgewer en as 'n fluistertolk. Hy het ook 'n leidende rol gespeel in die daarstelling van 'n tolkdiens op die kampus van die Universiteit van Stellenbosch.

Harold Lesch is affiliated to Stellenbosch University where he has established a training and research programme in interpreting. He originally qualifified in translation studies and did research in this discipline. He holds qualifications in translation and interpreting from the University of South Africa, Stellenbosch University, Free State University and the University of the Western Cape. For the past 10 years he has been involved especially with interpreting training and interpreting research. He has produced a number of publications and papers on translation as well as interpreting, nationally and internationally. Furthermore, he has experience as a translator in the corporate sector, but also as a simultaneous interpreter in the national parliament of South Africa, the Western Cape Parliament and as a whisper interpreter. He also played a leading role in establishing an interpreting service on the campus of Stellenbosch University.

 

 

1 Die gedagte is dat die bronteks en doelteks in 'n werksessie deur lede van die betrokke gemeenskap bespreek word om optimale resepsie van die vertaalteks te verseker alvorens dit amptelik bekend gestel word. Die gedagte hieragter is om te verseker dat misverstande in die vertaalteks reggestel word en tot die minimum beperk word, maar ook om vas te stel watter vertaalopsie die beste tot die gemeenskapsleser sal spreek.
2 Alhoewel Toury die konsep norm nie voorskriftelik gebruik nie, juis omdat sy begripperaamwerk gesetel is binne die beskrywende vertaalkunde, word dit nogtans hier benut omdat daar intertekstueel met verskeie bronne omgegaan word, en dit as nuttige middel gebruik kan word ten einde 'n skryfstylgids te ontwikkel vir gemeenskapsvertaling.
3 Om insae te verkry in van die tekste wat wel verken en deurgewerk is, word u verwys na Lesch (1994) en Lesch (2009).
4 'n Anaforiese ketting bestaan uit 'n antesedent, dit waarna die anafoor verwys, en 'n anafoor, 'n voornaamwoord. Voorbeeld: Die legendariese bokser (antesedent) het aan die einde van sy loopbaan van armoede vergaan. Hy (anafoor) sal egter altyd onthou word vir die groot gevegte in die vroeë jare van sy leeftyd.

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License