SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.54 número1The liberal welfare state: democracy or meritocracy?On the status of "oe" in Afrikaans: an acoustic analysis índice de autoresíndice de assuntospesquisa de artigos
Home Pagelista alfabética de periódicos  

Serviços Personalizados

Artigo

Indicadores

Links relacionados

  • Em processo de indexaçãoCitado por Google
  • Em processo de indexaçãoSimilares em Google

Compartilhar


Tydskrif vir Geesteswetenskappe

versão On-line ISSN 2224-7912
versão impressa ISSN 0041-4751

Tydskr. geesteswet. vol.54 no.1 Pretoria Jan. 2014

 

'n Sonderlinge wysgerig-estetiese verbindingslyn: Bilderdijk, Dooyeweerd en Malherbe*

 

A remarkable philosophical-aesthetic connection: Bilderdijk, Dooyeweerd and Malherbe

 

 

Danie Strauss

Skool vir Filosofie. Noordwes-Universiteit. Potchefstroom Kampus. dfms@cknet.co.za

 

 


OPSOMMING

Deur oorsigtelik na 'n aantal wysgerige grondprobleme en denkstrominge te kyk, word die weg berei om die besondere posisie van Bilderdijk se sonnet, De Wareld, te waardeer - enersyds oorspan hierdie sonnet die hoofkontoere van die geskiedenis van die filosofie en andersyds gryp dit vooruit na een van die geesteskinders van die verskynsel, die Nederlandse Rèveil, met name die reformatories-wysgerige beweging wat in aansluiting by die gedagte-wêreld van Abraham Kuyper 'n nuwe werklikheidsiening aan die begin van die 20ste eeu ontwikkel het. Vanaf die Stoïsynse oorsaaklikheidsgedagte, via die middeleeuse (neo-Platoniese) problematiek van emanasie en die aard van 'n substansie, tot by die empiristiese en transendentaal-filosofiese oriëntering van Kant loop die sonnet uit op die antwoord dat alles van God afhang en dat die wêreld sy stem is wat ons oproep om hom te vrees. Die verdieping wat Herman Dooyeweerd aan hierdie erfenis gegee het, is deur D.F. Malherbe sowel in wetenskaplike as in digterlike vorm verder gevoer. Die afwysing van die moderne idee dat die mens self-wet-stellend (outonoom) is, hang saam met die herontdekking van die menslike selfheid, sy hart in Bybelse sin, as die religieuse wortel van die mens se bestaan. Benewens 'n verwysing na 'n wysgerig-estetiese artikel, Kuns Selfstandig en Afhanklik word hoofmomente van 'n gedig uit die laaste digbundel van D.F. Malherbe toegelig. Hierdie gedig "Ek" kom uit Agterland.

Trefwoorde: kousaliteit, skeptisisme, substansie, emanasie, vryheid, outonomie, afhanklikheid, uniekheid, samehang


ABSTRACT

In his astonishing sonnet, De Wareld, Bilderdijk captures the main contours of the philosophical legacy of the West, from ancient Greek philosophy up to his own position in 1786. He even anticipated key elements of the reformational philosophical movement of the 20th century in the Netherlands. These periods of philosophy embody reflection on perennial problems, such as unity and diversity and constancy and change, accompanied by theoretical stances such as atomism, holism, realism and nominalism. Dooyeweerd has shown that particular philosophical notions acquired diverse philosophical interpretations dependent upon the (supra-theoretic) basic motives guiding and directing theoretical thought. The concepts of nature and causality, for example, obtained a meaning in Greek philosophy that differs from their meaning in modern (post-Renaissance) philosophy. The same applies to the concept of substance, a concept that dominated Greek-medieval philosophy but then, within modern philosophy, had to give way to the concept of relations. However, the latter was now embedded in the dialectical tension between causality (nature) and freedom. Inspired by a thought-experiment of Galileo (1638) the great Enlightenment philosopher, Immanuel Kant, had to restrict the initial science ideal to sensory phenomena and the categories of understanding in order to open up a domain of practical freedom. Yet within the domain of sensibility Kant elevated human understanding to be the formal law-giver of nature. His idea of freedom was negative, in the sense that it is supposed to be free from natural necessity (causality). Thus he confused the underlying conditions of freedom with the nature of freedom. Freedom is only possible within the normed possiblities of human beings leaving room both for norm conformative and antinormative actions. Informed by the idea of being a law unto oneself (autonomy), Kant introduces two law-givers: understanding as law-giver for theoretical knowledge in a possible experience and reason as law-giver for (practical) freedom.
At this point Bilderdijk wrote his sonnet De wareld (in 1786):
What are you, configuration of inconceivability?
chain of struggles and causes without an end
Upon whose possibility the spirit scarcely can comment
Whose real existence, for reason, is sheer impenetrability
An abyss, in which awareness finds no way to enter
What are you? a mere appearance, impressed upon the senses?
An impression of understanding, upon which focusing is fruitless?
An idea which we, out of our hollow opinion, give structure?
Or are you, on the contrary, a being outside of me?
Do you exist? is that not purely dreaming?
Or is it an alteration of a different being?
Hence I asked time and again, until God gave me the answer:
He spoke: 'what is, belongs to me', what exists, depends upon me,
The world is my voice, and calls you, to fear me. (Translation by author)
Bilderdijk was a leading figure in the Dutch Rèveil and he influenced figures such as Isaäc da Costa, Samuel Iperusz Wiselius, Willem de Clercq and Groen van Prinsterer. However, the remarkable fact about this sonnet is that it managed to capture the main contours of the historical development of philosophy in the West. The first four lines of the octave focus on the middle Stoa (figures such as Panaetius and Posidonius) with their idea of an endless causality series. It is followed in the last four lines of the octave by mentioning the empiricist view of sensory impressions and proceeding to the Kantian view of the relationship between sensibility and understanding. Then, in the first part of the sestet the neo-Platonic idea of emanation surfaces alongside the classical concept of a substance. Finally, in the last three lines of the sestet a biblical perspective unfolds, emphasizing that the universe (the world) is the voice of God calling us to fear Him.
These closing lines relate to the Reformation of the 16th century and anticipated the new philosophical orientation of Herman Dooyeweerd in the 20th century. His philosophy proceeds from the biblical distinction between Creator and creation, and the implied acknowledgement of the dependent nature of reality. He anticipated the two main outcomes of the philosophy of science, namely the inevitability of a theoretical frame of reference (paradigm) and an ultimate commitment. Although Dooyeweerd initially had been under the influence of neo-Kantianism and the phenomenology of Husserl, he eventually advanced a radical new approach proceeding from recognizing the heart as the root of human existence. Malherbe followed him in both regards. He wrote a penetrating article on the dependence and independence of an artwork and in his last volume of poetry, Agterland, a poem on the Self is found, echoing various facets of Dooyeweerd's understanding of the human self-hood (the heart in its radical biblical sense).

Key words: causality, skepticism, substance, emanation, freedom, autonomy, dependence, uniqueness, coherence


 

 

 

 

 

 

 

1. WYSGERIGE ONDERSKEIDINGE

Wie die geskiedenis van die Westerse wysbegeerte wil verstaan, word onvermydelik met die sistematiese oriëntering van verskillende ondersoekers gekonfronteer. Nogtans beteken dit allermins dat diegene wat spesialiseer in die bestudering van die geskiedenis van die filosofie nie deurlopend met die unieke bydrae van elke histories-betekenisvolle figuur in die geskiedenis gekonfronteer word nie - selfs al word daar op uiteenlopende wyses rekenskap van gegee. Dit is gevolglik sekerlik verantwoord om van die verstommende gekompliseerdheid van die geskiedenis van die wysbegeerte kennis te neem.

Een moontlikheid wat belangrike gesigspunte na vore bring, is om na te gaan watter basiese probleme 'n rol in die ontwikkeling van die filosofie gespeel het. Dink byvoorbeeld aan die relasie tussen die ene en die vele wat reeds vroeg in die Griekse filosofie 'n vername rol gespeel het en onder meer tot die teenstelling tussen monisme en pluralisme aanleiding gegee het. 'n Positiewe benadering, wat ruimte sal laat vir 'n sinvolle wisselwerking tussen die ene en die vele spreek liefs van eenheid en verskeidenheid. Of dink aan die verhouding tussen selfstandige eenhede en dele van 'n groter geheel, of aan die hunkering na onverganklikheid te midde van verganklikheid (duursaamheid en verandering). Die eerste teenstelling sou aanleiding gee tot die uiterstes van atomisme en holisme terwyl die verhouding tussen konstansie en dinamiek onder meer beslag sou kry in die spanning tussen wat as rasionalisme en irrasionalisme bekend sou staan. Laasgenoemde teenstelling, naamlik rasionalisme en irrasionalisme, is op sy beurt ten nouste verbonde aan die rol wat die universele en die individuele in die opposisie tussen realisme en nominalisme speel. Bedink hierby nog die vername rol wat die verband tussen oorsaak en gevolg (kousaliteit) in die geskiedenis van die filosofie gespeel het, vanaf Aristoteles se onderskeiding tussen 'n materiële, formele, effektiewe en finale (doel-)oorsaak (sien Aristoteles 2001:752; Metaph. 1013a26 e.v., Boek V Hoofstuk 2), tot by the moderne inperking van kousaliteit tot materiële (fisiese) oorsake en gevolge. Juis hierdie inperking het tot nuwe probleme aanleiding gegee, in die besonder tot die spanning tussen (fisiese) kousaliteit en (menslike) vryheid (soms verbind aan die meer algemene onderskeiding tussen determinisme en indeterminisme).

 

2. BO-TEORETIESE VERTREKPUNTE

Juis op hierdie punt het Dooyeweerd aangetoon dat byvoorbeeld die idee van kousaliteit in verskillende fases van die geskiedenis van die filosofie 'n interpretasie ontvang het wat ten diepste deur bo-teoretiese grondmotiewe gerig en gestuur is. Deur bloot te let op teoretiese probleme (soos die ene en die vele; eenheid en verskeidenheid, eindig en oneindig, die geheel en sy dele, universeel en individueel, duursaamheid en verandering, kenbaar en onkenbaar) en die opponerende teoretiese posisies wat ten opsigte hiervan ingeneem is (soos atomisme, holisme, monisme, pluralisme, (in-)determinisme, (ir)rasionalisme, realisme, nominalisme, vitalisme, psigologisme, logisisme, historisme, ekonomisme), is gevolglik nog nie rekenskap van die uiteindelike grondmotief-motivering van waaruit gedink word gegee nie. Laasgenoemde dieperliggende motivering besorg dikwels aan dieselfde wysgerige terme uiteenlopende betekenisonderskeidinge.

 

3. DIE SUBSTANSIEBEGRIP

Die term "phusis" (fisiese natuur) in die Griekse filosofie besit byvoorbeeld 'n betekenisinhoud wat pertinent verskil van die wyse waarop die fisiese natuur in die moderne fisika sedert die Renaisance verstaan word. Die bekende, wysgerig-onderlegde fisikus, Carl Friedrich von Weiszäcker, wys immers daarop dat die tradisionele (Grieks-Middeleeuse) siening van die werklikheid 'n omvattende goddelike wêreldorde aanvaar waarin ook die mens ingebed is. Descartes sou hierdie instelling omkeer: wat die mens van meet af besit, is die besef van sy eie (denkende) bestaan -"ek dink, daarom bestaan ek". Sekerheid oor die bestaan van God word gekanaliseer deur die menslike self-versekerdheid. Dit is volgens von Weiszäcker 'n tipiese kenmerk van die moderne tyd - die werklikheid waarin ek my bevind, waarborg nie meer my bestaan nie. Hierdie waarheid gaan immers verlore, maar wanneer die werklikheid teruggevind word, is dit as voorwerp van my selfversekerde denke, as 'n voorwerp wat ek (denkend) kan manipuleer (von Weiszäcker 2002:130-131). Een van die sleutel-kenmerke van die Grieks-Middeleeuse erfenis is in die siening van 'n substansie gegee. Eerstens is 'n substansie as 'n verbinding van vorm en materie gesien en tweedens was 'n substansie veronderstel om onafhanklik van enigiets anders te bestaan.1

Die Grieks-Middeleeuse siening van 'n substansie word selfs nog by Descartes aangetref: "By substance we can conceive nothing else than a thing which exists in such a way as to stand in need of nothing beyond itself in order to its existence" (Decartes 1965:184; § LI). Spoedig sou die swaartepunt egter van substansie na relasie verskuif (sien Strauss 2013). Sedert die opkoms van die moderne fisika (Galileo en Newton) is die sentrale natuurwetenskaplike vraag nie meer wat nie, maar hoe? Weliswaar sou hierdie relasiebegrippe diensbaar gemaak word aan die klassieke natuurwetenskapsideaal wat die ganse werklikheid in kousaal-begrepe relasies wou vaspen.

 

4. KOUSALITEIT EN VRYHEID

In sy beroemde geskrif oor twee nuwe wetenskappe bedink Galileo in 1638 'n gedagte-eksperiment wat handel oor 'n liggaam wat op 'n eindelose baan in beweging is. Hierdie liggaam sal bly voortbeweeg tensy iets soos wrywing of swaartekrag daarop inwerk. Hieruit lei hy dan die traagheidswet af. Sy hele oriëntering is beperk tot die sogenaamde "primêre kwaliteite" van materie, met name aritmetriese (telbaarheid), ruimtelike (vorm, grootte, posisie, aanraking), en kinematiese eienskappe (beweeglikheid) (Hucklenbroich 1980:291).

Dit inspireer Immanuel Kant dan in die agtiende eeu om die volgende radikale rasionalistiese konklusie te trek. As die mens 'n gedagte-eksperiment kan formuleer, 'n natuurwet daaruit kan aflei en hierdie wet dan op die waarneembare dinge in die natuur kan toepas, dan beteken dit dat die wette vir die natuur by voorbaat (apriori) in die menslike verstand opgesluit lê: "Die verstand skep sy wette (apriori) nie uit die natuur nie, maar skryf dit aan die natuur voor" (Kant 1783:320; § 36). Hierdie verstandswette het egter alleen betrekking op die sintuiglike verskynsels en nie op die vermeende dinge op sigself agter die verskynsele nie - waarmee 'n element van die klassieke substansie-begrip belig word, gegee in die onderskeiding tussen wese en verskyning.

Te midde van verskeie faktore wat aanleiding gegee het tot die verbrokkeling van die eens magtige en lewensomspannende middeleeuse kerklike eenheidskultuur, het die Reformasie opnuut erns gemaak met die Bybelse perspektief wat duidelik tussen God (as Skepper) en skepping onderskei. Die implikasie van hierdie vertrekpunt is dat niks in die skepping op sigself bestaan nie soos die klassieke substansie-begrip geleer het nie. Menslike vryheid en verantwoordelikheid kan ook nie opgelos word in 'n gedetermineerde kousaliteitsreeks nie - net so min as wat vryheid op die vry-wees van die onderliggende (natuur-)voorwaardes van mens-wees kan dui nie. Slegs op die basis van hierdie voorwaardes is die mens tewens in staat om kragtens die genormeerdheid van alle menslike handelinge norm-gehoorsaam of antinormatief op te tree. Sonder 'n normerende maatstaf is dit onmoontlik om iets antinormatief as normstrydig te waardeer. Net so min as wat die voorwaardes vir atoom-wees met enige konkrete atoom saamval, val die voorwaardes vir mens-wees met enige spesifieke mens saam. Die moderne strewe om outonoom te wees, dui dus op iets wat onmoontlik is, want daarvolgens val die voorwaardes en dit wat daaraan beantwoord, saam. Dink aan Rousseau wat glo dat vryheid gehoorsaamheid is aan die wet wat die mens vir hom- of haarself gestel het (Rousseau1975:247). In sy Grundlegung der Metaphysik der Sitten stel Kant die vraag: wat anders kan die vryheid van die wil wees as om vir sigself 'n wet te wees (Kant 1785:A-98 Afdeling Drie).

 

5. TWEËRLEI OUTONOMIE BY KANT

Juis in die denke van Kant tref ons egter 'n verdubbelde idee van die menslike outonomie aan, want uit hoofde van sy boedelskeiding tussen wese ("Ding an sich" / "ding-op-sigelf)" en verskyning, aanvaar hy in sy Kritik der Urteilskraft 'n tweërlei wetgewer: die verstand en die rede. Eersgenoemde is (apriori) wetgewend vir teoretiese kennis in 'n moontlike ervaring en laasgenoemde is (apriori) wetgewend vir die vryheid. Die sfere van die natuurbegrip en die vryheidsbegrip is van mekaar geskei deur die groot kloof wat die bo-sinnelike van die verskynsels skei in hul totale afgesonderdheid - en dit is "nie moontlik om tussen hierdie twee gebiede 'n brug te slaan nie" (Kant 1790:B-LIII; Inleiding, paragraaf IX).

Hierdie opmerkings van Kant is bloot 'n voortsetting van die posisie wat hy reeds in 1781 (tweede druk 1787) insake die verhouding tussen natuur en vryheid ingeneem het. Hy verduidelik dit deur die manier waarop hy die wese-verskyning tema ingeklee het - eersgenoemde verteenwoordig die voorrang van die vryheidsmotief (persoonlikheidsideaal) in sy denke en laasgenoemde herberg die domein van die ingeperkte natuurmotief (wetenskapsideaal). Wie hardnekkig eksklusief sou wou vashou aan die realiteit van verskynsels met miskenning van die "wese" agter die verskynsels, sal nooit daarin slaag om "natuur en vryheid te versoen nie" (Kant 1781-A: 537; B:565). Op die vorige bladsy stel hy uitdruklik: "Want as verskynsels dinge op sigself is, sal vryheid nie gered kan word nie" (Kant 1787-B:564). Let terloops daarop dat die tweespalt tussen natuur en vryheid ten grondslag lê aan Kant se opmerking dat hy die kennis moes inperk om vir geloof plek te maak (Kant 1781-B:xxx).

 

6. DIGTERLIKE INTERMEZZO

Die vlugtige oorsig wat pas van enkele hoofkontoere van die Westerse wysgerige denkontwikkeling gegee is, sou 'n sonderlinge verwerking beleef in die digkuns van die bekende figuur uit die tydperk van die sogenaamde Rèveil, Willem Bilderdijk.

As gevolg van 'n voetgebrek moes Bilderdijk die tydperk tusssen sy sesde en sestiende lewensjaar tuis deurbring. Dit het egter aan hom die geleentheid gebied om geweldig uitgebreid en baie - ook in die filosofie - te lees. Volgens Prinsen het Byron hom teen die Engelse skyn-heiligheid gerig en het hy die klassikus Alexander Pope verheerlik, terwyl Hugo teen sosiale onregverdigheid en hardnekkige klassisisme te velde getrek het. Dan merk Prinsen op: "Bilderdijk stuit in zijn vaderland op een muf wereldje van kibbelende of elkaar ophemelende geleerden en dichtertjes, op een duf rationalistisch Christendommetje, een zoetelijk streven naar rust, op zelfgenoegzaamheid en zelfverheerlijking, op al wat hier uit de Aufklärung versuikerd was" (Prinsen 1921:518).

Die besondere historiese betekenis van Bilderdijk se lewe en werk word waarskynlik ten beste in die titel van Van der Zwaag (1991) se werk oor Bilderdijk belig: Willem Bilderdijk, Vader van het Rèveil. Hierdie beweging (ongeveer tusssen 1815 en 1865) beliggaam 'n internasionale oplewing van christelike nadenke en aksie in Europa. Leerlinge van Bilderdijk was onder meer Isaäc da Costa, Samuel Iperusz Wiselius, Willem de Clercq en Groen van Prinsterer,2 terwyl latere figure soos Abraham Kuyper en Hermann Bavinck ook aan bepaalde gedagtelyne van Bilderdijk verbind kan word.

Hoewel Kuyper van mening was dat Bilderdijk se denke teen 1780 nog "paganisties" was, het Bilderdijk in die jaar 1786 'n merkwaardig-unieke sonnet die lig laat sien, handelende oor die wêreld.

In die lig van relatiewe strenge vorm-vereistes wil dit voorkom asof die sonnet as digvorm nie al te veel moontlikhede bied nie. Die klassieke sonnetvorm, wat waarskynlik in die Siciliaanse digterskool van die 13de eeu n.C. ontstaan het, is veral deur Dante en Petrarca tot 'n groot mate van afgerondheid gevoer - gebonde aan 'n nougesette reglementering as liriese digvorm.

Soos bekend, bestaan die klassieke Petrarcaanse sonnet uit veertien verslyne wat normaalweg gegroepeer word in die oktaaf en sestet - eersgenoemde bestaan uit twee kwatryne van vier lyne elk en laasgenoemde bestaan uit twee tersines van drie lyne elk. Die rymskema is gewoonlik abba-abba-cdc-cdc. Die inhoud besit meestal 'n oorgang of wending vanaf die oktaaf na die sestet - ook bekend as die "val". Dit is merkwaardig dat Jacques Perk, die bekende digter uit die Nederlandse "Beweging Tagtig", aan die einde van die 19de eeu veral daarvoor bekend was dat hy die sonnetvorm met die grootste gemak hanteer het. Sy bekende sonnet-siklus, Mathilde, bestaan bv. uit 3+100+3 sonnette. Juis in die lig van hierdie gemaklike beheersing van die sonnet as digvorm het Perk beweer: "De ware vrijheid luistert naar de wetten".

Hoewel Bilderdijk regte gestudeer het (hy promoveer in 1782 in Leiden), het hy hom daarnaas aan 'n (nie alte akkurate) geskiedenis van Nederland gewaag - as teenvoeter vir die geskrif van die Nederlandse patriot Wagenaar - tussen 1833 en 1853 is Bilderdijk se geskiedenis deur Tydeman in 13 dele uitgegee. Hy het egter veral bekendheid verwerf as digter. Sy versamelde gedigte is uitgegee deur Da Costa (16 dele, 1856-1859). Hierbenewens het Bilderdijk 'n grondige kennis van die geskiedenis van die filosofie besit - soos veral ook blyk uit die unieke sonnet "DE WARELD":

DE WARELD

Bilderdijk (1786)

Wat zijt ge, ô samenstel van onbegrijplijkheden?

ô Schaakling van gewrocht en oorzaak zonder end,

Wier moogelijkheid de geest ter naauwernood erkent;

Wier daadelijk bestaan een nacht is voor de reden!

ô Afgrond, dien 't besef geen weg vindt in te treden!

Wat zijt ge? een bloote schijn, het zintuig ingeprent?

Een indruk van 't verstand, waarom 't zich vruchtloos wendt?

Een denkbeeld, dat we ons zelf uit ijdle meening smeden?

Of zijt ge integendeel een wezen buiten mij?

Bestaat ge? is dat bestaan geen enkle droomerij?

Of is 't een wijziging van eenig ander wezen?

Dus vraagde ik reis op reis, tot God mij 't antwoord gaf:

Hij sprak: 't bestaan is 't mijn'; wat is, hangt van mij af,

De wareld is mijn stem, en roept u, mij te vrezen.

Hoewel hierdie sonderlinge gedig reeds in 1786 geskryf is, is dit eers in 1798 deur Bilderdijk gepubliseer. Die gangbare literêre kritiek tipeer hierdie gedig as "duister". Die merkwaardige is egter dat die strekking van hierdie sonnet die hele filosofie-geskiedenis tot en met die 1780s weerspieël (ingeslote die eerste druk van Kant se Kritiek van die Suiwere Rede uit die jaar 1781).3

Twyfelvrae stempel die skeptisisme van die eerste vier versreëls - wat uitloop op die uitroepteken van die vierde reël: die feitlike bestaan ("daadelijk bestaan") van die wêreld is 'n onbegryplike raaisel wanneer slegs met die rede, met die verstand, te werk gegaan word. Dit is bekend dat Bilderdijk beïnvloed is deur die Stoa - dink veral aan die "middel-Stoa", d.i. denkers uit die laaste twee eeue voor Christus (met name Panaetius en Posidonius). Hierdie denkers beskou die werklikheid vanuit die perspektief van 'n universele oorsaaklike verbondenheid - vgl. Bilderdijk se woorde: "Schaakling van gewrocht en oorzaak zonder end" (reël 2). Die moontlikheid hiervan kan sy gees ter naauwernood erkent (3)! Die wysgerige opvattinge van Leibniz (1646-1716) het ook hierop ingewerk (sien Leibniz 1965:89, 173-175).

Die tweede oktaaf borduur nog verder voort - sélfs vir die menslike besef bly die wêreld 'n afgrond wat nêrens toegang bied nie. Waar dit vervolgens gaan om die vraag of die werklikheid 'n "blote schijn" is wat die "zintuig ingeprent" is (6), ontmoet ons die denke van onder meer Hume (1711-1776) en Berkeley (1685-1753) - albei denkers wat ons totale werklikheidservaring wou terugvoer tot sintuiglike indrukke (vergesel van die idee dat die menslike bewussyn 'n skoon lei is; tabula rasa). Van Hume stam tewens die volgende tiperende gedagte: "To hate, to love, to think, to feel, to see, all this is nothing but to perceive" (Hume 1739:I,2,6).

Die spreke van 'n verstandsindruk ("Een indruk van 't verstand") bring die filosofie van Immanuel Kant (1724-1804) op die toneel. Ons het gesien dat Kant tewens die menslike vryheid wou onttrek aan 'n universele oorsaaklikheidsbestel, want hy het ingesien dat indien die ganse werklikheid tot sintuiglike verskynsels, wat aan die universele wet van oorsaak en gevolg onderworpe is, herlei word, daar geen ruimte vir die menslike vryheid sou oorbly nie (vgl. Kant 1787:564). Gevolglik maak hy ruimte vir die "vryheid van die menslike siel" en wel deur te onderskei tussen die sintuiglik-waarneembare verskynsels en die bo-vermelde vermeende "ding-op-sigself' (Ding an Sich). Bilderdijk gryp selfs vooruit op die idealistiese filosofie van Schelling (1775-1854), Fichte (1762-1814) en Hegel (1770-1831) wat tot die radikale gevolgtrekking sou kom dat beide die denke en die werklikheid hul grond in die "idee" vind - vgl. versreël 8: "Een denkbeeld, dat we ons zelf uit ijdle meening smeden?". (Hegel sien later die idee as die eenheid van begrip en werklikheid - vgl. Hegel 1830:239.)

Globaal gesproke vertoon die oktaaf dus 'n voortgang van die wysgerige skeptisisme (Stoa) na die wysgerige subjektivisme (die moderne persoonlikheidsideaal van 'n outonoom-vrye mens, waar die werklikheid sy uiteindelike grond in die skeppende vermoë van die menslike gees vind).

In die eerste tersine van die sestet word weliswaar na die alternatiewe perspektief wat deur die wysgerige besinning van die middeleeue gebied word, teruggegryp. Die vraag is tewens: moet ons nie liewer aanvaar dat die werklikheid "objektiewe realiteit" buite my "subjektiewe gees" besit nie (vgl. reël 9)? Gedurende die middeleeue is immers, veral in aansluiting by opvattinge van Plato (427-347 v.C.) en Aristoteles (384-323 v.C.), aandag gevra vir die vermeende selfstandigheid van die werklikheid of van dinge in die werklikheid en die vermeende in-sig-self-rustende aard daarvan. Hierbo het ons daarop gewys dat sedert die Griekse filosofie die term "substansie" gebruik is. Bilderdijk laat weerklink hierdie nalewende problematiek duidelik in sy vraag: "Bestaat ge?" Vervolgens vra hy of hierdie voorstelling van die selfstandige (substansiële) bestaan van die werklikheid nie selfbedrog is nie. Gedurende die vroeëre middeleeue het veral die neo-Platonisme egter 'n ander moontlikheid ontgin - die moontlikheid naamlik dat alles wat bestaan hul ontstaan te danke het aan 'n proses van "oorvloeiing," van "emanasie" vanuit die volheid van God as die Oer-Ene (vgl. Plotinus - ongeveer 204-269 n.C.): "Of is 't een wijziging van eenig ander wezen?"

Maar dan betree ons die laaste tersine waarin Bilderdijk die ydelheid van 'n wysgerige soeke na die laaste en diepste vrae van die lewe en die werklikheid aan die orde stel - en wel op 'n kinderlik-gelowige wyse:

Dus vraagde ik reis op reis, tot God mij 't antwoord gaf:

Hij sprak: 't bestaan is 't mijn'; wat is, hangt van mij af,

De wareld is mijn stem, en roept u, mij te vrezen.

Die skeppende magspreke van God (vgl. Gen.1 en Joh.1) impliseer dat die skepping Sy stem openbaar.

 

7. VOORTGESETTE REFORMATORIESE LYN: KUYPER EN DOOYEWEERD

Die invloed van hierdie siening is in die denke van Abraham Kuyper asook in die wysbegeerte van Herman Dooyeweerd terug te vind. Teen die einde van die 19de eeu het Kuyper van die Calvinisme as 'n allesomvattende lewens- en wêreldbeskouing gepraat. Hy het immers besef dat die Protestantse reformasie van die 16de eeu die hart as sentrale setel van die menslike selfheid raak en gevolglik nie tot die hervorming van die kerk en die teologie beperk kan bly nie, maar vernuwend in alle sektore van die mens se bestaan moet deurwerk, ook in die onderwys en wetenskap. Kuyper het besef dat teoretiese (wetenskaplike) denke in die greep van 'n dieper liggende grondoortuiging is, daarom het hy van "tweërlei wetenskap" gepraat (Kuyper 1894:11, 98, 102 ff.). Op sy voetspoor het Dooyeweerd onderskei tussen die teoretiese werklikheidsbeeld van 'n wetenskaplike, die wysgerige grondidee van 'n denker, en die diepste rigtinggewende grondmotief wat op die hart van so 'n denker beslag lê. Later, in die loop van die 20ste eeu, sou die wetenskapsfilosofie praat van 'n paradigma en 'n diepste verbondenheid ("ultimate commitment"). In 1995 merk Van Peursen oor hierdie ontwikkelinge op dat talle boeke in die domein van die wetenskapsfilosofie nie geskryf sou gewees het as hierdie outeurs vooraf gelees het wat Dooyeweerd geskryf het nie (Van Peursen 1995:85).

'n Sentrale lyn in die wetenskaplike denke van Dooyeweerd betref sy sensitiwiteit vir 'n denkrigting wat iets in die skepping uitlig en op sigself stel, verabsoluteer of vergoddelik. Nie alleen lei dit tot 'n miskenning van die onverbreeklike samehang wat tussen alles in die skepping bestaan nie, maar tegelyk soek dit na 'n plaasvervanger of substituut vir God as skepper. Daarmee kom die verhouding tussen Skepper en skepping bepaald in die gedrang. Dink bloot aan die fisikalisme wat meen dat alles materie is, maar dan vasloop in die probleem dat die voorwaardes vir materie-wees (dit is wet vir materie) nie self materieel is nie.

Die filosofiese benadering van Dooyeweerd beklemtoon die afhanklike betrokkenheid van die ganse skepping op God en neem gevolglik daarmee in beginsel stelling in teenoor elke siening van die werklikheid wat iets in die skepping goddelike status gee. Dit lei gewoonlik tot die gepaardgaande strewe om die res van die skeppingsverskeidenheid tot hierdie enkele bevoorregte perspektief te herlei of te reduseer - oorbekend aan ons in die vele ismes wat die geskiedenis van die Westerse denke deurkruis. Dink slegs aan die aritmetisisme van die Pythagoreërs ("alles is getal"); aan die ruimte-metafisika sedert Parmenides (die een, samehangende, ewige syn in die hede, die nou), die oorgawe aan verandering (Herekleitos: "alles verander"); die vitalisme ("alles lewe"); die psigologisme (reeds by Goethe verneem ons: "alles ist Gefühl" / "alles is gevoel"); die logisisme (die denke sal alles deurgrond); die historisme (onder meer deurgevoer in die grondstelling van die eksistensialisme: "die mens is geskiedenis"); die hermeneutiese taalwending ("alles is interpretasie"); en die ekonomisme (onder meer vergestalt in die dialektiese materialisme van Marx).

Hierdie sensitiwiteit vir ismes (die vergoddeliking van iets in die skepping) ontgin die slotperspektief van Bilderdijk se sonnet want daarin word pertinent gestel dat die heelal (De wareld) aan God behoort, van Hom afhanklik is en daarom as sy stem ons oproep om alle eer aan Hom te bring:

Hij sprak: 't bestaan is 't mijn'; wat is, hangt van mij af,

De wareld is mijn stem, en roept u, mij te vrezen.

 

8. D.F. MALHERBE

Die verskeidenheid aspekte en entiteite wat in die werklikheid aangetref word, moet derhalwe veeleer in hul uniekheid en onverbreeklike samehang positief waardeer word. Hierdie alsydige "uniekheid-in-samehang" wat uit die slot-perspektief van Bilderdijk se sonnet voortvloei, het 'n merkwaardige invloed op die lewe en werk van die Afrikaanse skrywer, D.F. Malherbe, gehad. Wat bestaan (die ganse skepping) mag nie beskou word asof dit (of iets daarin) God is nie, juis omdat alles wat bestaan van God afhanklik is - en die wyse waarop ons deur God se stem opgeroep word om Hom te vrees, is juis om niks in die skepping tot die rang van die goddelike te verhef nie.

Geïnspireer deur die nuwe wysgerige insigte van Dooyeweerd het Malherbe onder meer in 'n artikel wat in 1947 in Philosophia Reformata verskyn het sy kunsfilosofiese besinning toegespits op die wysgerige grondprobleem van uniekheid en samehang. Die artikel handel oor: Kuns -Selfstandig en Afhanklik.4 Teenoor die humanistiese erfenis, waar Kant byvoorbeeld nog die verstand en rede tot teoretiese en praktiese wetgewer verhef het, aanvaar Malherbe die genormeerdheid ook van estiese aktiwiteite. Estetiese beginsels besit 'n universele appèl wat in die uniek-historiese toepassing daarvan 'n toerekenbare vryheid aan die kunstenaar laat. Dit is juis hierdie "toepassings-vryheid" (positiveringsvryheid) wat in die humanistiese outonomie-strewe verselfstandig word - ten koste van die universele en konstante vertrekpunte (beginsels) wat in die werklikheidsorde gefundeer is as 'n normerende gegewe wat nie deur die menslike subjek gekonstrueer is nie.

Die estetiese begrensing van kunsvormende aktiwiteite vind Malherbe in die onties-gegewe estetiese en artistieke norme wat uit hoofde van die samehang met andersgeaarde norme nie geïsoleer of verselfstandig mag word nie. Daarom waarsku Malherbe teen die wanopvatting dat die kunstenaar 'n besondere soort wese sou wees met die begenadigde kus op die voorhoof - nie "gebonde aan die norme wat die alledaagse mens moet gehoorsaam nie. Die regter moet hom hou aan bekende norme in sy uitspraak, die onderwyser moet opvoed volgens erkende kodes en elke beroepsmens moet in die spore trap wat geld vir die gemeenskap" (Malherbe 1965a:1).

Juis die onverbreeklike samehang waarin kunsvormende aktiwiteite gevoeg is, bevat 'n prinsipiële stellingname teenoor elke poging om die kuns tot 'n verhewe werklikheid in sigself te verhef, soos wat dit onder meer in die "afgodery" by Willem Kloos aangetref word:

Schoonheid, o Gij, wier naam geheiligd zij,

Uw wil geschiede. Kome Uw heerschappij;

Naast U aanbidde den aard geen andren God.

(Malherbe 1965a:2-3)

Ons het vroeër vermeld dat Kuyper die lewensomvattende wiekslag van die Bybelse appèl verbind het aan die Christelike lewens- en wêreldbeskouing - juis omdat dit die hart van die mens as sentrale wortel van sy bestaan raak en daarom in alle lewensuitinge en lewensektore beslag moet kry.

Hierdie sentrale posisie van die menslike self-heid of ek-heid, wat Dooyeweerd ook as die religieuse wortel van mens-wees tipeer, het 'n deurslaggewende rol in sy denkontwikkeling gespeel. Hy merk tewens in die Voorwoord van sy Magnum Opus, wat in Engels verskyn het as A New Critique of Theoretical Thought (4 Vols.), op dat hy aanvanklik sterk onder die invloed van die neo-Kantiaanse filosofie gekom het en later onder die invloed van die fenomenologie van Husserl, totdat hy besef het dat hierdie wysgerige denkrigtings steeds gewortel is in die geloof in die self-genoegsaamheid van die menslike denke. Hoewel Husserl dit wat hy as die rasionalistiese wetenskapsideaal bestempel verwerp, meen hy tog dat die krisis van die Europese wetenskappe en die mens aan 'n fouterende rasionalisme ('n "verirrenden Rationalismus") te wyte is (Husserl 1954:337). Teenoor so 'n fouterende rasionalisme stel Husserl die moontlikhede van sy eie intuïsionistiese, fenomenologiese rede en wel as teenvoeter vir die groeiende invloed van die naturalisme en objektivisme, asook die irrasionalisme van sy eie student Heidegger. Husserl ervaar hierdie ontwikkelinge met 'n gevoel van wanhoop wanneer hy skryf:

Om te begryp wat verkeerd is in die huidige krisis moet die begrip Europa weereens gesien word deur middel van die historiese gerigtheid op die oneindige doelstellinge van die rede; daar moet aangetoon word hoedat die Europese wêreld uit rede-idees gebore is, dit wil sê, uit die gees van die Filosofie. Die krisis sal dan duidelik na vore tree as die skynbare mislukking van die rasionalisme. Die basis van hierdie mislukking van 'n rasionele kultuur is egter nie inherent aan die rasionalisme nie, aangesien dit slegs in die veruiterliking daarvan, in die verval tot naturalisme en objektivisme te vinde is. Die krisis van die Europese bestaan bied daarom slegs twee opsies: die verval van Europa in die vervreemding van die eie rasionele bestaans-sin, die verwording tot 'n antipatie teenoor wat geestelik is en die verval tot barbarisme; of die wedergeboorte van die Europese bestaan deur die gees van die Filosofie, in die besonder deur 'n heroïsme van die rede wat deurgaans oor die naturalisme sal triomfeer (Krisis 1954:347-348).

Dooyeweerd kon hierdie rede-vergoding te bowe kom eers toe hy begin verstaan het wat die implikasies van die Bybelse siening van die hart is: "I came to understand the central significance of the 'heart', repeatedly proclaimed by Holy Scripture to be the religious root of human existence. On the basis of this central Christian point of view I saw the need of a revolution in philosophical thought of a very radical character" (Dooyeweerd 1997-I:v).

Sonder om nader op hierdie radikale omwenteling in te gaan, is dit merkwaardig om ten slotte 'n gedig van Malherbe te vermeld waarin hierdie waardering van die menslike self-heid, die "Ek" duidelik deurskemer. Hierdie "Ek" is die "wortel van my broos bestaan" en selfs die "wortel van geloof en waan"; dit is die "ingewer van die skoonheid"; is "in die hand wat note steel" en dit is "tog hy wat al my denke stuur". Van die Ek kan geen begrip gevorm word nie, die naaste wat ons daaraan kom, is 'n "misterie"- en daarom bly dit "duister tot die laaste"; ons "vind soms 'n spoor, hom nimmer nie". Die menslike Ek gaan tewens die tydelikheid te bowe: "waaraan geen tyd'likheid kan raak," ... en blink nog anderkant die dood".

Ek

(D.F. Malherbe)

[1] Wat is my ek? Waar is sy huis? Verskuil in half en half gesuis? Die stem bekend soos van 'n maat. en nimmer nimmer uitgepraat: nou lig, dan duisternis, en steeds geheimenis.

[2] Sy Hier is sonder feil sy Daar: tog hy wat al die sorge baar, tog hy wat al my denke stuur. werksaam solank my asem duur: soos wolk se flarde, yl, vlug hy sonder verwyl.

[3] My hart miskien waarmee ek kyk, of dalk my gees wat na hom reik? Stom staan die wys psigologie, vind soms 'n spoor, hom nimmer nie: speel op my hart se snare, hy, ongenaakbare.

[4] Soms bak hy by die hart se toets, soos dit my lyk, 'n gawe poets: hul staan met handevol sinjale, bly soekend in die voorportale. en onder nabetragting verstuiwe die verwagting.

[5] Nog in my slaap die regisseur, ken hy sy spelers deur en deur; droomtaferele sy bestel, waarvan my vlakker ek vertel: droomdrama sy plesier, sy nag se ou manier.

[6] Hy is elkeen se trouste maat, dien hom met wyse of bose raad; ingewer van die skoonheid, hy. blitsvinnig met sy dienery: as jy langsaam verstaan, het hy al skuil gegaan.

[7] Hy is die maker van krakeel, is in die hand wat note steel, en in die Godsgetuienis en waar die hoop se daeraad is. Maar waar is dan sy plek? Agter my intellek?

[9] Ek dink, hy is veel meer as skim, wat by my hart se luik in klim. Die wortel van my broos bestaan? Die wortel van geloof en waan? Self van my Self, is't hy wat deur die damp gelei?

[10] Dan is hy van 'n stof gemaak waaraan geen tyd'likheid kan raak, dan is sy Ster, my Ster, en groot en blink nog anderkant die dood; dan is hy hier nie tuis, soek elders na sy huis.

[11] Sy stem is my so oorbekend in dag of nag; hy is gewend om wag te staan by elke tree: ek hoor hom jubel, hoor sy wee, in durende half gesuis, diep agter my eie huis.

[8] Om hom te soek is tog verniet; hy's in die naklink van 'n lied en by in elke tong se klag - waar maak die wind sy bed vannag? Misterie is die naaste, bly duister tot die laaste.

Wanneer hierdie gedig van Malherbe saam met sy 1947 artikel oor kuns (selfstandig en afhanklik) gelees word, is dit onmiddellik duidelik dat die twee gesigspunte wat deur die wetenskapsfilosofiese besinning van die vorige eeu na vore gebring is, naamlik die aanwesigheid van 'n diepste grondoortuiging ("ultimate commitment") en 'n teoretiese verwysingsraakwerk (paradigma), ook by hom teruggevind word. Weliswaar sluit hy daarin by die wysgerige oriëntering van Dooyeweerd aan. Laasgenoemde het egter 'n nuwe nie-reduksionistiese verstaan van die werklikheid ontwikkel wat gemotiveer is deur die perspektief dat die skepping in afhanklike betrokkenheid op God verstaan moet word - 'n instelling wat reeds in Malherbe se bekende sonnet Slaap aanwesig is. Vergelyk slegs die sestet:

Sluit so my oë, God, wanneer vir my u Engel wenk ter laaste, lange rus en ek van wilde woeling hier moet skei;

dat my dan stille drome huis toe sus en sterke Hand deur duisternisse lei. Sluit so my oë, God, as ek gaan rus.

 

9. SLOTOPMERKING

Op 'n sonderlinge wyse slaan Bilderdijk se sonnet "De wareld" die brug tussen 'n insigtelike estetiese beligting van vier groot kontoere uit die geskiedenis van die wysbegeerte en die ontwikkeling van Dooyeweerd se reformatoriese filosofie meer as honderd jaar later, wat op sy beurt die laaste denk-fase van D.F. Malherbe beïnvloed het.

(i) Die laat-Griekse gedagteklimaat van die Stoïsynse filosofie;

(ii) Die neo-Platoniese en Aristotelies-Thomistiese lyne in die middeleeuse filosofie (met emanasie en substansie as sleutel-temas);

(iii) Die problematiek van die moderne humanistiese wysbegeerte wat by Kant beslag gekry het in die besondere wyse waarop hy die onderskeiding tussen wese (Ding-an-sich -persoonlikheidsideaal) en verskyning (natuurwetenskapsideaal) aan die dialektiek tussen natuur en vryheid diensbaar gemaak het; en

(iv) Die reformatoriese siening van die afhanklike betrokkenheid van die skepping op God (Hij sprak: 't bestaan is 't mijn'; wat is, hangt van mij af, De wareld is mijn stem, en roept u, mij te vrezen).

 

BIBLIOGRAFIE

Aristotle. 2001. The Basic Works of Aristotle. Uitgegee deur Richard McKeon met 'n inleiding deur C.D.C. Reeve. (Oorspronklik gepubliseer deur Random House in 1941). New York: The Modern Library.         [ Links ]

Bilderdijk, W. 1857. De Dichtwerken van Bilderdijk, Vijfde Deel. Gewijde Poëzy (Uitgewer I. da Costa). Haarlem: A.C. Kruseman.         [ Links ]

Bos, J. 1961. Willem Bilderdijk als wij sgerig Historievormer. In: Van Dijk, Stellingwerf, De Boer, Dengerink, Groen, Leeuwis, Mojet, Puchinger & B.J.F. Schoep 1961:228-240.         [ Links ]

Descartes, R. 1965. A Discourse on Method, Meditations and Principles, vertaal deur John Veitch, met 'n Inleiding deur A.D. Lindsay. London: Everyman's Library.         [ Links ]

Dooyeweerd, H. 2012. Reformation and Scholasticism in Philosophy, Collected Works, Series A, Volume 5, (Trilogie: Volume Een). Paideia Press: Grand Rapids.         [ Links ]

Galileo Gallilei 1638. Dialogues and Mathematical Demonstrations concerning Two New Sciences, Duitse vertaling, Darmstadt: Wissenschaftliche Buchgesellschaft, 1973.         [ Links ]

Hegel, G.W.F. 1830. Wissenschaft der Logik, Volume Twee, Heruitgewer Hermann Glockner. Gesammelte Werke 1969. Stuttgart: Prommann.         [ Links ]

Hucklenbroich, P. 1980. Der physikalische Begriff der Materie. In: Ritter, Historisches Wörterbuch der Philosophie. Volume 5, Stuttgart: Schwabe & Co Verlag, pp.921-924.         [ Links ]

Hume, D. 1962. A Treatise of Human Nature. Londen: Collins, Die Fontana Library (Oorspronklik gepubliseer in 1739).         [ Links ]

Husserl, E. 1954. Die Krisis der europäischen Wissenschaften und die Transzendentale Phänomenologie, Husserliana Band VI, Den Haag: Martinus Nijhoff.         [ Links ]

Kant, I. 1783. Prolegomena zu einer jeden künftigen Metaphysik die als Wissenschaft wird auftreten können. Hamburg: Felix Meiner uitgawe (1969).         [ Links ]

Kant, I. 1785. Grundlegung der Metaphysik der Sitten. Darmstadt: Wissenschaftliche Buchgesellschaft (1968).         [ Links ]

Kant, I. 1787. Kritik der reinen Vernunft, 2de Druk (B). Hamburg: Felix Meiner uitgawe (1956).         [ Links ]

Kant, I. 1790. Kritik der Urteilskraft (1790, 1793, 1799). Darmstadt: Wissenschaftliche Buchgesellschaft (1968).         [ Links ]

Kuyper, A. 1894. Encyclopaedie der Heilige Godgeleerdheid. Deel 2, Algemeen deel. Kampen: Kok.         [ Links ]

Leibniz, G.W.L. 1976. Philosophical Papers. Edited by Leroy E. Loemker.Synthese Historical Library, Volume 2. Dordrecht-Holland: D. Reidel (eerste druk 1969).         [ Links ]

Malherbe, D.F. 1947. Kuns - Selfstandig en Afhanklik, in: Philosophia Reformata, Jaargang twaalf, tweede kwartaal (pp.66-85).         [ Links ]

Malherbe, D.F. 1965. Kuns en Gehoorsaamheid. Selfstandige oordruk van 'n kort atikel.         [ Links ]

Malherbe, D.F. 1965a. Agterland. Laaste Digbundel. Bloemfontein: SACUM Bpk.         [ Links ]

Plotinus. 1956. The Enneads. Vertaal deur MacKenna. Londen: Faber & Faber.         [ Links ]

Prinsen, J. 1920. Handboek tot de Nederlandsche Letterkundige Geschiedenis. Den Haag: Martinus Nijhof.         [ Links ]

Rousseau, J.J. 1975. Du contrat social et autres oeuvres politiques. Uitgawe van Garnier Fréres, Paris.         [ Links ]

Strauss, D.F.M. 2010. 'n Verwaarloosde faset van D.F. Malherbe se nalatenskap - "Kuns - Selfstandig en Afhanklik," KOERS 75(2):341-361.         [ Links ]

Strauss, D.F.M. 2013. Reifying things or relations: substantialism versus functionalism, Acta Academica 45(2): 262-287.         [ Links ]

Ter Horst, G. 2008. De ontbinding van de substantie. Een deconstructie van de beginselen van vorm en materie in de ontologie en de kenleer van Thomas van Aquino. Delft: Uitgevrij Eburon.         [ Links ]

Van der Zwaag, W. 1991. Willem Bilderdijk, Vader van het Réveil. Houten: Den Hertog B.V.         [ Links ]

Van Dijk, W.K., J. Stellingwerf, Th. De Boer, J.D. Dengerink, C. Groen, A. Leeuwis, J.W.Mojet, G. Puchinger & B.J.F. Schoep 1961. Perspectief, Kampen: Uitgewer Kok N.V. Kampen.         [ Links ]

Van Peursen, C.A. 1995. Dooyeweerd en de wetenschapsfilosofische discussie, in: Dooyeweerd herdacht, uitgegee deur J. De Bruin, Amsterdam: VU-Uitgeverij, pp.79-94.         [ Links ]

Van Prinsterer, G. 1922. Ongeloof en Revolutie. Kampen: Kok.         [ Links ]

 

 

 

Danie Strauss word in 1971 as senior lektor in Wysbegeerte aan die destydse UOVS aangestel. Vanaf Januarie 1976 is hy bevorder tot mede-professor en in Oktober 1977 word hy aangestel as professor en hoof van die Departement Wysbegeerte aan die UOVS. In 1994 vertrek by na Kanada waar hy as eerste Direkteur van die Dooyeweerd Centre die publikasie van die versamelde werke van Herman Dooyeweerd in Engels van stapel stuur. Hy keer in 1997 terug na Suid-Afrika en vanaf April 1998 tot 31 Desember 2001 ageer hy as Dekaan van die nuwe Fakulteit van Geesteswetenskappe aan die UVS. Benewens 15 selfstandige publikasies, 40 internasionale konferensie-voordragte en 20 bydraes tot versamelde werke het meer as 270 vakartikels in nasionale en internasionale tydskrifte uit sy pen verskyn. In 2005 is 'n werk oor die wysgerige grond-slae van die moderne natuurwetenskappe deur die Duitse Uitgewer Peter Lang gepubliseer, Paradigmen in Mathematik, Physik und Biologie und ihre philosophische Wurzeln (216 pp.) (Frankfurt am Main). In 2006 het 'n werk oor die sosiologie ook by Peter Lang verskyn - Reintegrating Social Theory - Reflecting upon human society and the discipline of sociology (310 pp.) (Oxford: New York). In 2009 het sy werk, Philosophy: Discipline of the Disciplines by Paideia Press, Grand Rapids, USA verskyn (715 pp.). In 2011 is dit in Amsterdam deur die Stichting Reformatorische Filosofie beloon as die mees omvattende uitbouing van die sistematiese erfenis van hierdie filosofie. Die uitgewer het versoeke tot die vertaling daarvan in Portugees en Spaans ontvang. Sedert 2013 is Danie Strauss Navorsingsgenoot by die Skool vir Filosofie, Noordwes-Universiteit, Potchefstroom Kampus.

Danie Strauss was appointed as senior lecturer in Philosophy at the then UOFS in 1971. He was promoted to associate professor in January 1976 and in October 1977 he became professor and head of the Department of Philosophy at the UOFS. In 1994 he went to Canada, where as the first Director of the Dooyeweerd Centre, he initiated the publication of the collected works of Herman Dooye-weerd in English. He returned to South Africa in 1997 and from 1 April 1998 to 31 December 2001 he was Dean of the new Faculty of Humanities at the UFS. Apart from 15 independent publications, 40 international conference papers and 20 contributions to collected works, he has published more than 270 articles in national and international journals. In 2005 his work on the philosophical foundations of the modern natural sciences was published by Peter Lang Publishers - Paradigmen in Mathematik, Physik und Biologie und ihre philosophische Wurzeln (216 pp.) (Frankfurt am Main). In 2006 Peter Lang published his work Reintegrating Social Theory - Reflecting upon human society and the discipline of sociology (310 pp.) (Oxford New York). In 2009 his work, Philosophy: Discipline of the Disciplines was published by Paideia Press, Grand Rapids, USA (715 pp.). In 2011 this book received the award for work in the fields of systematic philosophy or the history of philosophy for advancing the cause of the "Philosophy of the Cosmonomic Idea". The Publisher has already received requests to translate this work into Portuguese and Spanish. Since 2013 Danie Strauss is a Research Fellow at the School of Philosophy, North West University, Potchefstroom campus.

 

 

* Hierdie artikel is gebaseer op navorsing wat deur die "National Research Foundation" ondersteun is.
1 Die onhoudbaarheid van hierdie substansiebegrip is onlangs aan 'n diepgaande ontleding en kritiek onderwerp deur G. Ter Horst (2008).
2 In sy bekende werk oor Ongeloof en Revolusie skryf Van Prinsterer pertinent: "want ik ben, zegt men en ik zeg het ook, leerling van Bilderdijk" (Van Prinsterer 1922:39).
3 Vergelyk die bespreking van Bosch (1961).
4 Vergelyk paragraaf 6 waarin D.F. Malherbe in die besonder nadink oor die "sin-samehang" tussen die estetiese aspek en die ander werklikheidsapekte - sien Strauss (2010).

Creative Commons License Todo o conteúdo deste periódico, exceto onde está identificado, está licenciado sob uma Licença Creative Commons