SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.53 issue4Deelstad - 'n Boek oor Berlyn (2013) - Karel Schoeman author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Tydskrif vir Geesteswetenskappe

On-line version ISSN 2224-7912

Tydskr. geesteswet. vol.53 n.4 Pretoria Apr. 2013

 

RESENSIES

 

Karretjiemense - Roman - Carol Cambell

 

 

Titel: Karretjiemense
Skrywer: Carol Campbell
Uitgewer: Umuzi, Roggebaai
ISBN: 9781415201855 Uit Engels vertaal deur Kirby van der Merwe
Jaar: 2013
Bladsye: 143
R170.00

 

Onsigbare mense van die Karoo op reis na identiteit

Michael le Cordeur

Lanklaas het 'n roman my so aangegryp, maar terselfdertyd ook so ontstel, soos hierdie een. Karretjiemense is die aangrypende storie - om David Kramer se woorde te gebruik - van "die onsigbare mense van die Karoo" (bl 27) wat Carol Campbell op die voorgrond bring. Dit gee 'n blik op die mees weerlose mense soos nog nooit tevore gedoen is nie.

Karretjiemense is die verhaal van 'n brandarm Karoo-gesin wat 'n nomadiese bestaan voer. Hulle is voortdurend op reis met hul donkiekar; van plek tot plek waar Kapok (Josef Bitterbessie) 'n joppie as skaapskeerder kan kry. Sy houvrou, Muis, het drie kinders: die oudste is Fansie, 'n seun uit 'n vorige verhouding met Jan, "die enigste persoon wat nog ooit vir haar omgegee het" (28). Haar twee dogters, Witpop en Sponsie, is albei Kapok se kinders, gebore onder die karretjie op die vlaktes van die Karoo. Kapok en sy knipmes het die kinders in die wêreld help bring.

Dis ook 'n verhaal van mense wat in die veld slaap (51) en "vrek van die honger" (35). Wat vasgevang is in hul omstandighede, en aan die lewe gehou word net deur die "Boesmandinge wat Muis van haar ma geleer het" (23) en Kapok se "ou Boesmangeheime wat hy by sy oorle' pa geërf het" (29). Soms is 'n erdvark wat die karre op die N1 doodgery het en deur Fansie opgetel is, al kos wat hulle en hul twee donkies aan die lewe hou (31).

Die hoofstukindeling is interessant en word benoem volgens die karakter wat aan die woord is. Met hierdie unieke vertellersperspektief slaag die skryfster daarin dat die karakters die verhaal vanuit hul perspektief en boonop in hul eie idioom vertel. Kirby van der Merwe se vertaling gee erkenning aan Karoo-Afrikaans soos dit in die volksmond leef. Trouens, die titel van die roman is juis een van talle mooi voorbeelde van hierdie pragtige variëteit van Afrikaans wat deur hierdie roman geboekstaaf word. In hierdie resensie word slegs enkeles uitgelig.

Soms is die name (ek neem aan dit is fiktief) bietjie geforseerd: Kapok se van is Bitterbessie, wat sy bitter bestaan verwoord. Sy vrou, Muis, se van is Muishond, wat dui op die feit dat hulle letterlik stink omdat hulle nooit kan stort nie (34), maar ook op die feit dat sy en haar kinders die muishonde van die samelewing is.

Die skryfster en haar man het 'n tyd lank 'n vulstasie in Prins Albert besit. Haar waarneming van die "ander" mense wat by hierdie vulstasie vertoef, is daarom lewensgetrou en eg. In die dorre, woestynagtige Karoo is 'n vulstasie soos 'n oase waarheen die onsigbare mense altyd terugkeer as hulle nie meer liggaam en siel aanmekaar kan hou nie. Maar ook op metaforiese vlak sluit die skryfster aan by die woestyn-oase-metafoor: vir die karretjiemense is die lewe 'n ewigdurende woestyn, 'n stryd om te oorleef, waarin hul byna Boesmanagtige instink en vaardighede (23) hand aan hand gaan met hul afhanklikheid van die natuur en hul Skepper: "[D]ie liewe Jirre weet van ons. Hy sal vir ons söre" (27).

Dis mense vir wie drank daardie broodnodige (!) ontvlugting bied: "Wanneer ek 'n dorp sien naderkom, dan klim die dors vir 'n doppie in my bloed. Net so 'n wyntjie om my van my worries te laat vergeet" (21). Maar 'n kind ervaar sy ouers se drankmisbruik heel anders: "Die eerste ding wat Mamma en Pappie wil hê as hulle op die dorp kom, is 'n papsak, maak nie saak hoe honger hulle is nie" (35), want " miskien sal 'n dop Mamma weer bietjie bly maak" (36). 'n Papsak laat "kaal grond soos 'n sagte bed slaap" as jy "pap taaiers is" (47).

Armoede veroorsaak dat "Mamma nooit geld op haar het nie, miskien 'n sakkie twak of mêtjies, maar dis al" (119). Hierdie armoede word vererger omdat hulle ongeletterd is, en sonder geboortepapiere is daar geen vooruitsig dat hulle ooit sal weet dat 'n "pienk noot" R50 werd is nie. Al wat hulle weet, is "'n pienk noot koop 'n wit plastic kan vol wyn wat lyk soos pie" (136).

Die eenvoud van hul karige bestaan is selfs in hul drome sigbaar: Witpop droom daarvan om eendag genoeg geld te hê sodat sy vir haar pienk roll-on, 'n waslappie en sagte pads kan koop, want die koerantpapier in haar broekie is tog te ongemaklik (34). Fansie droom om genoeg geld te maak sodat hy elke dag "gladde rooi Russians kan koop om te eet" (44). Hulle hét dus drome, want "drome kos niks al is jy 'n 'n karretjiemeid" (35).

En juis omdat die goewerment nie hul bestaan erken nie, maak die karretjiemense hul eie wette. As hulle 'n papsak uitgesuip het, sal hulle baklei en Kapok sal vir Muis "deur die gesig klap lat sy haar mond moet hou", óf "net om te wys wie's baas" (26), óf net om te sê "jou bek is te besig. Bly stil" (35). En as Witpop nie vir Sponsie wil dra nie, dan "slaat Mamma my deur die gesig" (44). Fansie het gou geleer as jy "'n dronkie op straat teëkom wat lê en tiep", kan jy sy geld uit sy sak haal, "want hy gaan net weer wyn koop en ons moet eet" (119). Dus: dis mense wat soos diere leef met survival of the fittest die aanvaarbare norm.

Maar bowenal is dit 'n verhaal van mense op soek na identiteit. Muis verstaan nie waarom haar kinders "so worrie nie", want sy begryp nie dat as haar kinders "nie papiere het nie kan hulle nie skool toe gaan nie" (20). Sonder die nodige identiteitsdokumente en "goewermentsname" kan Miskiet haar en haar kinders uitmoor, en "die poeliese sal nie eens weet vir wie om te soek nie" (21). As haar kinders gekry word, sal sy ook geen bewyse hê dat hulle hare is nie. In wese "bestaan hulle nie" want hulle is nie geregistreer nie (22). Daarom "traak dit hulle nie om vir (ons) karretjiemense huise te gee nie" (28).

Die intrige van die verhaal is daarin geleë dat Muis al vyftien jaar wegkruip van Jan se moordenaarbroer, Miskiet, wat eers vir Muis in die tonnel onder die pad op Leeu-Gamka verkrag het (27) en daarna vir Jan vermoor het uit jaloesie omdat hy nie self vir Muis kon kry nie. Miskiet maak homself wys dat Muis se babaseun, Fansie, sy laaitie is (25). As Muis dan besluit om saam met Kapok weg te loop as dié se houvrou, sweer Miskiet wraak: hy gaan haar "keelaf sny soos 'n skaap" as sy ooit weer haar voete op Leeu-Gamka sit (25). En noudat die Karoo so droog is, het Kapok geen keuse nie as om terug te keer na die oase in Leeu-Gamka; die een plek waar Muis nooit wou wees nie, omdat sy glo dat Miskiet haar sal inwag en vermoor. Hy en sy twee vlymskerp messe. En sy was ook nie verkeerd nie.

Maar die flukse en flinke Fansie het reeds een van die messe in die hande gekry ...

Teen die tyd dat hulle Leeu-Gamka binnegaan, wag Miskiet hulle in. Die spanning laai op, dit word ondraaglik - vir Muis sowel as die leser. En voor Fansie sy oë kon uitvee, "het Miskiet vir Mamma met sy mes teen haar keel" (120). Die ontknoping van die verhaal het egter 'n verrassingselement: Muis se hulp kom uit 'n oord wat nóg Muis, nóg die leser verwag.

Muis se lewe word - heel voorspelbaar - gered, maar nie deur Fansie, soos almal (hierdie skrywer inkluis) verwag het nie (121). Ek los dié stukkie lekkerte vir die leser om self te ontdek.

Met Miskiet uit die weg geruim, was daar nie meer hindernisse wat hul emansipasie kon keer nie. "Sonder 'n bleddie papier tussen hulle" (125) daag hulle op by die kantore van Home Affairs.

Op hierdie punt word die wetteloosheid van die karretjiemense ook kenmerkend van Home Affairs as Juffrou Oliphant al wat 'n reël is, oortree (129). Die karretjiemense se geluk het gedraai en hulle verlaat die kantoor van Binnelandse Sake met wettige geboortesertifikate: pa, ma en kinders. Hul ID's sal gereed wees as die "veldblomme uitslaan" (130).

Die karretjiemense se toekoms is met hoop gevul en sal binnekort begin blom soos die veldblomme. Weg is die wanhoop. Muis se klögoed het nou identities (135) en sal kan skool toe gaan. Hulle is nie meer onsigbaar nie. Hulle bestaan, want die goewerment het hul name op die papiere geskryf en hulle mense gemaak (131).

Karretjiemense bied opvoedkundige leesstof vir oud enjonk, wat die deursnee Suid-Afrikaner se oë sal oopmaak sodat hulle met nuwe oë sal kyk na daardie deel van ons samelewing wat so dikwels deur almal misgekyk word.

 

 

Michael le Cordeur
Departement Afrikaansonderwys, Fakulteit Opvoedkunde, Universiteit van Stellenbosch, mlecorde@sunac.za

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License