SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.53 issue4The use of network theory in a system-theoretical approach to Afrikaans literature: A theory overviewKarretjiemense - Roman - Carol Cambell author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Tydskrif vir Geesteswetenskappe

On-line version ISSN 2224-7912
Print version ISSN 0041-4751

Tydskr. geesteswet. vol.53 n.4 Pretoria Apr. 2013

 

RESENSIES

 

Deelstad - 'n Boek oor Berlyn (2013) - Karel Schoeman

 

 

Uitgewer: Protea Boekhuis
Bladsye: 399
ISBN: 978-1-86919-949-4

Hierdie boek is nie 'n reisgids nie, maar 'n persoonlike verslag van Karel Schoeman se besoeke aan Berlyn en omgewing, waarin ook sy omvattende bestudering van sekondêre bronne oor 'n wye verskeidenheid onderwerpe beslag kry.

Berlyn is om verskeie redes as onderwerp van die boek gekies: Eerstens te danke aan die inherente dinamiek van dié stad "wat bestem is om altyd te wórd maar nooit te wéés nie" (bl.124). Tweedens is Berlyn 'n entiteit met vele gesigte: "Die stad van deftige geboue en groot huise, vol standbeelde, spuitfonteine en offisiere in opsigtige uniforms, was terselfdertyd ook die stad van die kenmerkende Mietskasernen of 'huurkasernes', die groot woonblokke aangevul met sy-, dwars- en agterhuise rondom reekse aaneengeskakelde binnehowe, waar hele gesinne dikwels in een of twee donker en benoude kamertjies moes saamhok ..." (bl.152). Derdens beoordeel Schoeman Berlyn soos volg: "By diegene wat dit oor die jare beleef het, want Berlyn belééf jy eerder as wat jy dit leer ken, het die stad dikwels sterk gevoelens opgeroep, sy dit van aangetrokkenheid of afkeer. Desondanks was die algemene oordeel steeds dat dit geen uitgesproke eie persoonlikheid besit het nie, of liewer geen énkele en duidelik uitkenbare persoonlikheid nie, maar in werklikheid vele stede was en is" (bl. 356).

Die uitleg van Deelstad is kaleidoskopies en die inhoud is nie beperk tot Berlyn nie. Die boek is soos volg in drie afdelings ingedeel: "Oriëntasie" (ses hoofstukke), "Verkenning" (die omvangrykste met 19 hoofstukke) en "Vertrek" (twee hoofstukke). Afgesien van die eerste en laaste twee hoofstukke is daar geen sigbare en logiese volgorde van die hoofstukke nie. Dit is ook nie altyd duidelik om watter rede 'n hoofstuk in 'n bepaalde afdeling verskyn nie. So byvoorbeeld sou vier van die ses hoofstukke in "Oriëntasie", naamlik Unter den Linden, Die Neue Wache, Sachsenhausen en Die Spandauer Vorstadt ook onder "Verkenning" ingedeel kon word. Wat die inhoud betref, handel Deelstad nie uitsluitlik oor Berlyn nie: Potsdam, Pruise, Berlyn se bloeitydperk (1871-1874), die Weimarrepubliek, Duitse politiek, geskiedenis en kultuur hoofsaaklik in die 18de,19de en 20ste eeu, en talryke Joodse lotgevalle is van die addisionele temas. Een van "Verkenning" se hoofstukke heet byvoorbeeld Suid-Afrika en handel oor Joodse immigrasie na dié land, asook die Suid-Afrikaanse politieke toneel voor en tydens die Tweede Wêreldoorlog. Schoeman regverdig sodanige "ekskurse" soos volg: "Vanselfsprekend is dit 'n persoonlike mening, maar ten slotte is hierdie boek ook niks anders as my persoonlike reaksies op en menings oor Berlyn en Duitsland soos ek dit beleef het nie, en ewe goed op en oor ander sake wat onderweg my aandag trek" (bl.151-2).

Dwarsdeur die boek word persoonlike belewenisse vervleg met Berlynse of selfs nie-Berlynse temas binne 'n bepaalde hoofstuk. Schoeman stel egter eise aan die leser, soos vooraf kennis van personalia, die skone kunste en argitektuur, asook kennis van Duits en sintaksis, soos die volgende aanhaling bewys: "Maar Museuminsel is nie die Linden nie, soos gesê, en oor die Schloßbrücke wat tot onlangs nog die Marx-Lenin-Brücke geheet het, stap ek in die herfssonskyn langs die beelde van gevleuelde oorwinningsfigure en naakte krygsmanne uit die Oudheid na die Linden terug. Turkse vroue bedel, mans van onsekere herkoms verkoop by klein stalletjies nagemaakte pelsmusse en aandenkings aan die Oos-Duitse verlede, en op die middel van die brug het 'n man in 'n Pruisiese uniform of 'n nabootsing of 'n benadering daarvan, Pickelhaube op sy kop, met 'n draaiorreltjie stelling ingeneem wat 'n ou walsmelodie oor maankastele of lugkastele uitkraam: Schlößer (sic!), die im Monde liegen, uit die operette Frau Luna van die eens so geliefde komponis Paul Lincke wat in 1899 hier in die stad vir die eerste keer opgevoer is; later het Richard Tauber 'n plaatopname daarvan gemaak wat in my kinderjare in Suid-Afrika oor die radio gespeel is" (bl.26, Die Neue Wache).

Deelstad bied 'n wye spektrum van onderwerpe, vanaf abstrakte temas soos Duitse mentaliteit, morele skuld, historiese en politieke gebeure, sosiologiese en kulturele aspekte, tot gedetailleerde beskrywings van strate, voorstede, openbare verkeer, voetgangers, argitektuur, opvoerings, films, konsentrasiekampe, woonhuise, museums, restaurante, kerke, winkels en selfs die pryse van luukse artikels.

Herhalings kom nogal dikwels voor en raak irriterend: "soos ek reeds genoem het" (bl.160 en elders); "soos ek gesê het" (bl.171); "het ek sopas geskryf' (bl.171).

Gewaagde en/of onjuiste uitsprake doen tog afbreuk aan die boek se geloofwaardigheid: "Onder aanvoering van die militante Pruise, en met die aanhitsing van sy kragdadige, ambisieuse en gewetenlose eerste minister Bismarck ..." (bl.122); "Sanssouci is uitgebreid en bevat ... 'n groot aantal koninklike en keiserlike paleise, villas en ander bouwerke ..." (bl.103); "In Brecht se roman Die Straße der kleinen Ewigkeit deel die fiktiewe hoofkarakters vermoedelik dieselfde lot as werklike inwoners" (bl. 53). Foute in Duitse aanhalings is onnodig: "Marsch zum Fuhrer" (bl. 334); "Technik Museum" (bl. 339); "Einsteigen bitten" (bl. 365); "Videokabines" (bl. 358); "herrliche Zeite" (bl. 24); "Schlößer" (bl. 26 & 27); "Flossenbürg" (bl. 38); "Szeneviertel" (bl. 55); "Chicago an die Spree" (bl.126).

Schoeman se taalgebruik is inspannend en soms net verstaanbaar indien die leser die vele germanismes ken, byvoorbeeld "belemmerdes" (bl. 351); "en haar daaroor bekla dat ... (bl. 351); "sonoorgote straat" (bl. 173); "vir Liebknecht is daar later 'n stele opgerig" (bl. 175); "het Luxemburg in 'n hoë huis ... gewoon" (bl. 176); "Godgebode trou aan die Vaderland" (bl. 36); "verskrikkingskampe" (bl. 33); "oordekte vragmotors" (bl. 34).

Schoeman gebruik geen endnote of bronnelys nie, slegs direkte aanhalings en/of verwysings in die teks na 'n bepaalde skrywer en/of digter, en na 'n bepaalde werk, asook 'n omvattende leeslys. Besonder waardevol is egter die register wat na onderwerpe, persone en plekke verwys.

Die boek bevat ongelukkig geen illustrasies nie. Om Berlyn se belangrikste bouwerke, strate, voorstede en omgewing as vertrekpunt van Schoeman se omvattende beskrywings te kan visualiseer, sou 'n aantal grafiese hulpmiddels die leser se taak vergemaklik het. Die ietwat somber stofomslag weerspieël ook min van die inhoud.

Hierdie omvangryke werk word aanbeveel vir historici, kultuurhistorici, sosioloë, argitekte, stads- en streeksbeplanners, toergidse, letterkundiges en alle mense wat graag lees en reis, aangesien die inhoud 'n veelvlakkige blik op 'n fassinerende stad en era bied.

 

Martin Zöllner
martinzoll@vodamail.co.za

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License