SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.53 issue4The contractual dimension of constitutions: new challenges for South Africa? author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Article

Indicators

Related links

  • On index processCited by Google
  • On index processSimilars in Google

Share


Tydskrif vir Geesteswetenskappe

On-line version ISSN 2224-7912
Print version ISSN 0041-4751

Tydskr. geesteswet. vol.53 n.4 Pretoria Apr. 2013

 

Voorwoord

 

Dit was 'n genoeglike ervaring om nog 'n keer 'n bundel artikels te versamel vir 'n verdere besinning oor gees, geestelikheid en die geestelike. Die voriges kan geraadpleeg word in die Tydskrifvir geesteswetenskappe 52(1)* en 52(4) van 2012. Om die soveelste keer so 'n voldoening te smaak, was 'n eer en het alles te make met die aard van die samewerking, toewyding en entoesiasme van begeesterde outeurs. Oor die geleentheid van gesprekvoering voorafgaande aan die publikasie, is almal dit hartlik eens dat hierdie soort besinning nodig is en aangemoedig behoort te word en veral ook dat verdere gesprekvoering oor ander temas van sodanige aard nie afgeskeep mag word nie. Die opgewonde ontvangs van so 'n geleentheid vir besin, skryf, lees, praat en dink oor 'n bepaalde tema bevestig net, soos die vorige geleentheid, hoe uiters welkom en nodig dit is om binne ons gegewe situasie en milieu voort te gaan met die beplanning en verwesenliking van geleenthede soos hierdie.

Hierbenewens mag ook nie nagelaat word nie om diegene wat die klein konferensie bygewoon het opreg te bedank vir hulle teenwoordigheid en deelname waardeur hulle die geleentheid tot 'n heel besondere geleentheid getransformeer het, waaroor almal heel opgewonde was. Die entoesiasme waarmee die uitnodiging begroet is, was nie alleen inspirerend nie, maar het duidelik bevestig dat daar baie is wat aan hierdie soort gesprek wil deelneem. Hierbenewens het die gees waarin die verrigtinge verloop het en die gesprekke tydens en daarna ook bevestig dat die bydraes van werklike gehalte was. Almal was geboei. Dit was niks anders nie as 'n klein intelligente gemeenskap wat namens hulleself en mekaar toegewyd en spontaan meegewerk en meegedink het om van die geleentheid 'n sukses te maak. Dit was dus terselfdertyd ook 'n proses van beoordeling, maar dan van van 'n heel eiesoortige aard.

Terwyl die hedendaagse geestesklimaat, bepaal deur die gees van die tyd, van so 'n aard is dat daar min plek vir hierdie soort besinning oor hierdie soort tema is, is dit ook duidelik uit elke bydrae hoedanig die genoemde geestesklimaat heeltemal vlak, en leeg en dood geword het en hoe sprankelend die belewenis was dat daar 'n geleentheid kon wees waartydens oor meer diepgaande sake besin kon word. Die huidige geestesklimaat put ongelukkig nie die werklikheid uit nie. Miskien ly ons aan 'n ontologiese oorbelading van een aspek van die werklikheid. En wie kan voorspel waar hierdie reduksionistiese proses ons nog gaan uitbring. Baie waarskynlik nie by 'n utopie nie.

Ons besinninge het getoon hoedanig daar plek is en ook plek gemaak moet word vir besinning oor ander aspekte van die werklikheid as die digitale, die tegniese en die ekonomiese. Die keuse om vir hierdie doel weer te fokus op gees, geestelikheid en die geestelike was dus geregverdig. Ander ewe belangrike temas sou beslis verderaan bedink kon en moet word. In hierdie geval is die bepalende betekenis van gees, geestelikheid en die geestelike op prinsipiële, diepgaande wyse ontgin in 'n teologiese konteks (Danie Goosen), in die geesteswetenskappe (Pieter Duvenage), in die tegniek (Machdel Matthee), in die poësie (Ina Wolfaardt-Gräbe), asook in die geestes-kultivering van mense (Johann Rossouw). Later sal die besinning oor die betekenis van gees in die kuns sekerlik ook nog 'n plek vind. Elke outeur het 'n eie stempel afgedruk op die eie bydrae tot die bundel. Hierdie kollegas se bydraes verdien die grootste waardering van almal wat die saak van ons tema hoog ag. Ons hoop inderdaad dat daar respondente gaan wees wat die gesprekke nog verder kan voer.

Op ' n tydstip dat daar baie en indringend van baie kante gevra word na wat dit werklik beteken om mens te wees, mag ons nie nalaat om juis nou die grootse betekenis van menswees as gees-wees, eg en onverabsoluteerd, te bepleit, te beding en te bevorder nie. Terwyl daar met moeite probeer word om gees te laat verdwyn, of spesifiek te verplaas na die masjien, is dit nou veral dringend nodig om gees, geestelikheid en die geestelike weer te laat ontwaak deur dit te herwin, te herinventeer en ook te herkultiveer as nog steeds bepalend ook vir vandag se menswees en vir vandag se omstandighede.

Die sorgsaamheid, deeglikheid en deernis waarmee prof Ina Wolfaardt-Gräbe die afronding en finalisering van elke artikel behartig het, verdien die hoogste lof. Baie dankie vir haar skeppende bydrae ook in hierdie verband tot die bundel artikels.

 

 

Fanie de Beer
Gasredakteur
Oktober 2013

 

 

* Met aangename en geestesverrykende herinneringe aan Braam Roux en Gerrit Brand wat ondanks hulle persoonlike omstandighede nogtans met die grootste toewyding, sorg en entoesiasme hulle onderskeie bydraes vir hierdie uitgawe voorberei het. Ons eer hulle nagedagtenis terwyl hulle nie meer die huidige geleentheid met ons kan deel nie.

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License