SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.53 número3A small note about a big difference: Percentage change compared to percentage point change índice de autoresíndice de materiabúsqueda de artículos
Home Pagelista alfabética de revistas  

Servicios Personalizados

Articulo

Indicadores

Links relacionados

  • En proceso de indezaciónCitado por Google
  • En proceso de indezaciónSimilares en Google

Compartir


Tydskrif vir Geesteswetenskappe

versión On-line ISSN 2224-7912

Tydskr. geesteswet. vol.53 no.3 Pretoria  2013

 

BOOK REVIEWS

 

Here en boere. Die kolonie aan die Kaap onder die Van der Stels, 1679-1712 (2013) - Karel Schoeman

 

 

Uitgewer: Protea Boekhuis
Bladsye: 596
ISBN: 978-1-86919-273-0

Met Simon van der Stel se aankoms aan die Kaap in 1679, het die nedersetting nog net 27 jaar bestaan, maar daar was reeds 'n vinnige opeenvolging van sewe verskillende kommandeurs en goewerneurs! Die eerste moeilike jare was nou agter die rug en Van der Stel, 'n energieke en ondernemende man, se aankoms het saamgeval met 'n tydperk van toenemende welvaart en stabiliteit. Simon van der Stel sou meer as twintig jaar as kommandeur en goewerneur aan die Kaap deurbring en hierdie boek gaan oor dié tydperk, asook oor sy seun, Adriaan, wat hom opgevolg het.

Here en boere is die laaste aflewering van 'n vyfdelige publikasie Kolonie aan die Kaap, wat ingelei is deur Schoeman se boek Patrisiërs & prinse. Die Europese samelewing en die stigting van 'n kolonie aan die Kaap, 1619-1715 (2008). In dié eerste boekdeel skryf Schoeman veral oor Nederland, maar ook oor die ander Europese lande waaruit die mense wat in diens van die VOC na die Kaap gekom het, gestam het. Om iets van die VOC-amptenare te verstaan, moet 'n mens ook kennis neem van die agtergrond waaruit hulle gekom het. Dit is belangrik, aangesien Schoeman in die boek 'n hipotese oor die ontstaan van 'n eiesoortige kultuur aan die Kaap wil bewys. Sy werksmetode by die skryf daarvan was om uiters omvattend van sekondêre en gepubliseerde primêre bronne gebruik te maak, eerder as om weer eens deur die argivale bronne te werk.

Die Nederland wat in Patrisiërs & prinse beskryf word, was ook die land wat Adriaan van der Stel, Simon se vader, in 1623 verlaat het om met die rang van onderassistent in diens van die VOC na die Ooste te gaan. Simon is op 3 November 1639 in Batavia gebore. Die eerste ses jaar van sy lewe bring hy deur op Mauritius, die beskeie buitepos van die VOC. Daar is min gegewens oor Simon se grootwordjare in Batavia. In 1659 verlaat hy die Ooste en gaan na Nederland waar hy in 1663 in die huwelik bevestig word met Johanna Jacoba Six, lid van 'n vooraanstaande Amsterdamse patrisiërfamilie. In 1679 neem die VOC die ietwat verrassende besluit om Simon van der Stel as kommandeur van die Kaap aan te stel, hoewel hy nie vantevore in diens van die VOC was nie. Simon kom dus in 1679 in die Kaap aan, vergesel van sy skoonsuster, Cornelia Six, en ses van sy kinders. Sy vrou en twee jongste kinders bly in Nederland agter. Schoeman spekuleer baie interessant oor hierdie buitengewone gebeure.

In die eerste drie hoofstukke van Here en boere word die omstandighede aan die Kaap met die aankoms van Van der Stel beskryf, asook sy bydraes op die gebied van landbou en boomaanplanting, sy reise na die binneland, sy kragdadige optrede teen oneerlikheid van amptenare en sy verkryging van Constantia. In 1690 word Van der Stel van kommandeur tot goewerneur bevorder. Min of geen van dié inligting is werklik nuut, maar omdat dit met die inhoud van al die vorige boeke oor Van der Stel oorvleuel, is dit besonder interessante leesstof. Dwarsdeur die teks staaf Schoeman sy gegewens met direkte aanhalings en verwysings. Sewentiende- en agtiende-eeuse Nederlandse woorde en uitdrukkings word direk in die teks ontgin, byvoorbeeld "gerigtsplaats" (teregstellingsplek) of "derbel" (sinlik, ligsinnig) en nog baie ander.

Dan volg die opwindende middelste deel van die boek - vier hoofstukke wat handel oor die elite aan die Kaap met eeuwisseling van die sewentiende na die agtiende eeu, hulle sosiale lewe en die ontstaan van 'n koloniale kultuur. Hier is die fiksieskrywer Karel Schoeman aan die woord wat hierdie hoofstukke as 'n heerlike stuk kultuurgeskiedenis aanbied. Hoofstuk vier, Elite aan die Kaap, bied 'n dwarssnit van die destydse Kaapse gemeenskap. Hierin word die lewensverhale vertel van die skatryk boer, Henning Hüsing, en sy latere vriend, Adam Tas, wat in 1697 aan die Kaap arriveer, asook van Jacob van der Heyden, Ferdinandus Appel, Pieter van der Bijl en andere. Vier gevestigde plaaseienaars word uitgelig, naamlik Johannes Mulder, Pieter Robbertsz, Isaq Schrijver en darem ook een vrou, Catharina Cloete!

Hierna volg twee hoofstukke oor die Ontstaan van die koloniale kuituur waarin Schoeman die fisiese ruimte weergee van die mense wat aan die Kaap leef. Die huise en herberge wat die vryburgers en amptenare vir hulleself gebou het en die boumateriaal word bespreek. Spoedig was daar ook herehuise, en weer eens word die huis van die welaf Henning Hüsing genoem. Woningbou in die Kaapse binneland en Stellenbosch word apart bespreek. Daarna die interieurs, die meubels, die hout waarvan die meubels gemaak is, gordyne, bedbehangsels, porselein en eetgerei, en skilderye. Die bron van inligting vir hierdie gegewens was meestal boedelinventarisse. Verdere inligting uit dieselfde bron het Schoeman ook gehelp om uitvoerig oor die klere en juwele van die mense aan die Kaap te skryf. Om veralgemening te voorkom, het Schoeman ses spesifieke boedels tussen die jare 1692 en 1703 uitgesonder en elk van hulle intensief bespreek.

Die skildering van die sosiale lewe aan die Kaap is lekker leesstof. Ongeveer almal het meegedoen aan die (onwettige!) handel in brandewyn en tabak met besoekers op uitseilende skepe - waardeur die Kaap die reputasie gekry het van onverbloemde uitbuiting van besoekers! Vir die amptenare van die Kompanjie was daar verskeie plegtighede, soos die Nuwejaarsbal in die goewerneurswoning, maar vir die vryburgergemeenskap was daar min openbare vermaaklikheid. Strawwe was in die sewentiende en agtiende eeu nie net as straf vir die oortreder bedoel nie, maar moes ook dien as afskrikmiddels. Gevolglik is erge strawwe soos geseling, brandmerk en ophang aan die galg voor al die inwoners uitgevoer - 'n gewilde vorm van vermaak wat gewoonlik op 'n Saterdag voltrek is. Daar was darem ook huwelike waar vrolik gedans is en kerkfunksies soos doop en begrafnisse. Daar is ook oor en weer gekuier! Al hierdie inligting is uit fragmente van Adam Tas se dagboek verkry.

Schoeman eindig hierdie besonder interessante deel vyf met die volgende opmerking wat sy hipotese oor die ontstaan van 'n eietydse kultuur omvat:

Om dus te probeer opsom: die taamlik bont versameling amptenare, ambagsmanne, matrose en soldate wat hulle aan die Kaap bevind het, het elemente van bestaande Europese kulture in die Tafelvallei ingedra, en hul koloniale kultuur is net so letterlik van die grond af opgebou soos Van Riebeeck se kleimuurfort of die vlegwerkhuisies van die eerste vryburgers in die Liesbeeckvallei.Die eietydse kultuur wat sodoende tot stand gekom het, is saamgestel uit elemente uit 'n verskeidenheid bronne, en het tot stand gekom in 'n konteks wat terselfdertyd besondere moontlikhede vir sy ontwikkeling gebied het en ook beperkings daaraan opgelê het. Dit was nie noodwendig beter of slegter as dié van die eietydse Skotse adel, Engelse "gentry" of Nederlandse patrisiaat, of trouens as dié van die inheemse stamme van Afrika nie; maar dit het 'n eie karakter besit, een wat erken en gerespekteer moet word. (p342)

Die laaste twee hoofstukke handel oor Willem Adriaan van der Stel, seun van Simon. Die Here XVII het in 1696 besluit om Simon van der Stel as goewerneur van die Kaap te ontslaan en in 1697 het hulle hom in kennis gestel dat sy oudste seun hom sal opvolg. Willem Adriaan was 34 jaar oud, en afgesien van die vyf jaar wat hy aan die Kaap deurgebring het, het hy sy hele lewe in Nederland gewoon. Daar is nie veel oor sy persoon bekend nie, maar meer oor sy boerdery aan die Kaap nadat hy reeds in 1700 vir hom die groot plaas, Vergelegen, aangeskaf het. Hierdie plaas en sy opbrengste was die doring in die vlees van die vryburgers. Waar daar in die verlede gekla is oor die tyd wat Simon van der Stel op Constantia deurgebring het, word daar nou oor sy seun gekla en oor die tyd wat hy op Vergelegen deurgebring het. Daar is baie oor Willem Adriaan se bedrywighede geskryf; gevolglik is daar 'n aantal momentopnames van hom wat van geen van sy voorgangers gesê kan word nie. Schoeman wys egter daarop dat dit nie altyd onpartydig is nie. Die geskiedenis is bekend, maar dit is kernagtig en baie leesbaar aangebied. Die vryburgers het hulle "saak" teen Willem Adriaan gewen, en hy is teruggeroep na Nederland, waarheen hy in 1708 vertrek het en waar hy ook oorlede is. Sy vader, Simon, sterf in 1712 aan die Kaap en daarmee kom die Van der Stel-era tot 'n einde.

Daar is geen illustrasies in die boek nie, want soos Schoeman tereg opmerk, die enkeles wat wel beskikbaar is, is oorbekend. Schoeman maak ruim van endnote gebruik, wat agterin die boek volgens hoofstukke ingedeel is. Daar is ook 'n volledige bronnelys. Besonder waardevol is ook die register wat na onderwerpe, persone en plekke verwys. Die boek is versier met 'n kleurryke stofomslag wat nogtans nie iets van die inhoud weerspieël nie. Dié lekkerlees-boek word aanbeveel vir alle mense wat belangstel in geskiedenis, kultuurgeskiedenis en ook genealogie, aangesien die inhoud dikwels oor van die oudste familiestamvaders handel.

 

Linda Zöllner
lindazoll@vodamail.co.za

 


 

Philida - van slavin tot geëmansipeerde vrou Philida - 'n slaweroman

 

 

André P. Brink
Human & Rousseau
R295

Philida - 'n slaweroman is die verhaal van Philida, 'n slavin op die plaas Zandvliet wat afspeel in die tydperk voor en tydens die vrystelling van slawe aan die Kaap. Die merkwaardige verhaal begin in die jaar 1832, wanneer Philida van Zandvliet na Stellenbosch toe loop om daar by die slawebeskermer 'n klag in te dien teen Frans Brink, seun van die plaaseienaar Cornelius Brink, omdat hy nie sy belofte om haar vry te koop, nagekom het nie.

Brink was die eerste ontvanger van die Jan Rabie & Marjorie Wallace-skrywersbeurs van die Universiteit van Wes-Kaapland en Philida is die produk van daardie beurs. Daar was 'n gevoel (om die waarheid te sê, was daar 'n hele polemiek), omdat die beurs aan so 'n gevestigde (lees "wit") skrywer toegeken is. Dit moes eerder aan 'n ontwikkelende ( lees "bruin of swart") skrywer toegeken word, was die argument. Wat ook al die meriete en die redes vir Antjie Krog en Steward van Wyk se besluit, volgens Gerwel het jy geweet dat Brink sou "deliver" en hy het.

Aan die einde van die toegelate periode waarin die roman die lig moes sien, het Brink 'n voltooide en afgeronde werk op die tafel geplaas. Volgens Gerwel (2012:1) is dit presies soos ons Brink ken: "... een van Afrikaans se produktiefste romanskrywers". Maar, voeg hy by, dit is nie Brink se mees vernuwende roman nie. Veel eerder is dit 'n kragtige herinnering aan die verlede waaruit ons kom en volgens Jansen (2012:1) is dit boonop uiters noodsaaklik om die stuk geskiedenis binne die Suid-Afrikaanse (en Afrikaanse) letterkundige mileu te plaas.

 

Philida se rol as voorloper vir vroue-vryheid

Jansen (2012:1) wys daarop dat in die opgetekende Kaapse geskiedenis-annale die argiefgegewens oor Philida maar min is: al wat ons weet, is dat sy in November 1832 'n klag ingedien en 'n verklaring by die slawebeskermer op Stellenbosch afgelê het dat 'njong wit boer, wat vier kinders by haar verwek en beloof het om haar vry te koop, nie sy belofte nagekom het nie.

Francois Gerhard Jacob Brink van Zandvliet ontken dat hy ooit seksueel verkeer het met die vrou wat hy van kindsbeen af liefgehad het. Ten spyte van die feit dat hy 'n lafaard en swakkeling is, wat nóg die wil het om teen sy sadistiese pa op te staan, nóg die manlike ordentlikheid om vir die vrou wat hy liefhet, te veg, word sy woord bo hare aanvaar. Was dit slawerny of apartheid in sy vroeë stadia?

Juis daarom is Brink se roman so noodsaaklik: nie net om die verwronge feite van die verlede reg te stel nie, maar ook om die voorbeeld wat Philida aan ander vroue gestel het, om self iets te doen om haar vryheid te bekom, wetenswaardig te maak.

 

Oor slaweromans in Afrikaans

Op dié manier word sy, volgens Jansen (2012) onlosmaaklik deel van 'n groep boeiende vroulike slawestemme waaraan die Suid-Afrikaanse postkoloniale romanliteratuur ryk is, soos dié van Somiela in Rayda Jacobs se The Slave Book (1998) en Sila in Yvette Christiansë se Unconfessed (2006). Die tema van slaweromans is nie nuut in Suid-Afrika nie. Brink het met 'n Oomblik in die wind (1975) - wat hierdie resensent as student onder Gerwel bestudeer het - asook Houd-den-Bek (1982) dekades vantevore reeds die kontensieuse terrein van slaweromans verken deur altyd voorop te stel dat die skrywer nooit kan weet nie, slegs op metahistoriese wyse kan probeer agterhaal en vertel (Jansen 2012). Karel Schoeman het dit gedoen met Armosyn.

 

Verhouding tussen slavin en baas

Philida se verhouding met Frans is tekenend van die verhaal van slawerny aan die Kaap: 'n mooi slavin raak betroke in 'n verhouding met haar eienaar - in hierdie geval met die eienaar (baas Cornelius Brink) se seun, Frans (kleinbaas). Dis 'n verhaal waarin die vennote van hierdie vehoudings nooit op gelyke voet kon meeding nie. Hoeveel sê het die slavinne gehad in hierdie verhoudings? Dit is 'n ope vraag. Kon hulle werklik "nee" sê as die baas hulle vir saamslaap genooi het, of was dit ook maar net 'n opdrag wat die slaaf moes uitvoer soos een van die talle ander take wat hulle moes verrig? Waar trek jy die grens tussen wat Gerwel (2012) "intieme wreedheid, of wrede intimiteit" noem?

Volgens Frans se eie vertelling (p.32) het hy al van vroeg 'n oog op Philida gehad, dit ondanks die feit dat hulle as speelmaats grootgeword het. Hy kon selfs op sy manier lief wees vir haar, en het reeds van kleins af die sensuele in haar raakgesien. Maar dis 'n verhouding "wat mettertyd verwikkel tot die seksuele met al die gevolge daarvan: liefde en verraad asook teerheid en wreedheid, vervleg in 'n verhouding wat in sy basis bepaal word deur die ongelykhede van 'n slaaf-besittende samelewing" (Gerwel 2012). Hierdie perverse intimiteit van slawerny kry verder beslag in die verhouding van Frans se pa, Cornelis, met Philida se peet-ouma, Petronella. Cornelis, wat erken dat hy die kind is van Petronella, word voorgestel as die opperste wreedaard. Om sy lafhartige seun, Frans, teen Philida se klag by die slawebeskermer te beskerm, laat Cornelis haar in die openbaar verkrag deur twee jong slawe van die buurplaas L'Ormarins. By 'n latere geleentheid probeer hy self om haar te verkrag. Nie eens tydens hierdie opperste wrede daad het Frans die ruggraat om vir Philida op te staan nie.

Met die talle verhoudings op Zandvliet tussen baas en slavin kry die leser 'n idee hoe dit was om slaaf te wees in die destydse Kaap; vandaar die ondertitel " 'n Slaweromari".

 

Christenskap vs Islam

Brink gebruik ook hierdie roman om sy lesers in te lig waarom die meeste slawe na die afskaffing van slawerny NIE die Christengeloof van hul base aanneem nie (p.249). By meer as een geleentheid laat blyk Frans en Philida dat Cornelis se gedwepery met Christenskap en die Bybel hulle eintlik walg (p.53). So sou hy die aand na Philida se openbare verkragting, sy optrede probeer regverdig uit die Bybel deur - volgens hom - die gepaste gedeeltes voor te lees (p.241). Dis dan ook geen wonder nie dat Philida haar tot Islam wend, nadat Cornelius haar en haar twee blondekopkinders aan meester De la Bat van Worcester verkoop het. Haar verhouding met Labyn stel haar nie net bekend aan die Islam geloof nie, dit help ook om haar op 'n ander manier te bevry: Labyn sou haar leer lees en skryf, in vandag se konteks 'n besonder kragtige bemagtigingsaksie wat bydra tot haar uiteindelike emansipasie.

 

Interteks

Gerwel (2012) voer aan dat "André P. Brink is die teoretikus en praktisyn van vernuwing in die Afrikaanse romankuns ... net [s]oos Van Wyk Louw in die poësie het hy dit reggekry om hom telkens te hernuwe". Philida is volgens Gerwel nie een van daardie Brink-romans wat 'n vernuwing aankondig nie. Inteendeel. Dit gryp in baie opsigte terug na vorige romans soos Bidsprinkaan en Houd-den-bek. Hierdie roman eindig met Philida en haar vriend Labyn op pad na die Gariep om vryheid daar te verken; op pad ontmoet hulle vir Kupido Kakkerlak uit Bidsprinkaan. Hulle help hom selfs om 'n gebreekte wawiel reg te maak. Op ander plekke word verwys na Galant, Achilles en Ontong uit Houd-den-Bek.

 

Philida "brei" haar eie storie

Jansen (2012) wys ons daarop dat sowel breiery as skaduwees deurlopende romanmotiewe is in Brink se werk. So dink Philida: "Ek kan sê: Ek brei my storie enduit. Of ek kan sê: Ek vertel my trui heelpad. Want die twee loop saam." Ouma Nella weer het dikwels gesê: "'n Mens se skaduwee [...] hy's soos jou storie, hy kom ook heelpad saam, dag en nag". Baie belangrik is hóé Philida se storie vertel word en dat Brink sterk daaroor voel dat hy dit mág vertel. In 'n onderhoud op LitNet het hy gesê: "Philida se storie wil ek skryf omdat haar storie ook my storie is. My eie voorouers was daarby betrokke en is een van die karakters. Ek kan myself nie ken tensy ek ook Philida verstaan en deur my eie bloed en gebeente eien nie."

 

Tema: die strewe na vryheid

Hierdie is die verhaal van 'n jong slavin, en die reis wat sy moes aflê (meestal kaalvoet) op pad na haar eie vryheid en emansipasie. Voor die aankondiging dat slawerny op 1 Desember 1832 afgeskaf sou word, het baie semen teen slavinne se bene afgeloop. Wat vandag as statutêre verkragting bekend sou staan waarvoor die skuldiges jarelank in die tronk sal deurbring, is destyds beskou as een van die basiese regte van die slawebaas.

Op tematiese vlak handel die roman rondom vrae oor die aard en betekenis van vryheid. Gerwel voer aan dat "om slaaf te wees, is om die uiterste teenstelling van vryheid te beleef ... dat alles van buite af vir jou besluit word. Jy moet maar net luister en maak soos hulle sê. Of dit nou is om 'n stuk breiwerk uit te trek of oor te brei, en of dit is om te loop kromstaan dat 'n man jou met 'n sambok kan bykom."

Gerwel noem heel tereg dat Brink in 'n vroeëre roman al die hoofkarakter, 'n slaaf, laat opmerk het dat hy nooit 'n slaaf "was" nie, maar "aangehou is as slaaf'. In wese beteken dit dat jy net slaaf is, as jy bereid is om slaaf te wees. Vir hierdie resensent is die vernaamste tema in hierdie roman derhalwe die wete dat Philida 'n groeiende bewussyn ontwikkel dat ware vryheid van binne kom (al is dit dan ook soos voorgesê deur ouma Nella). Dis een ding om vrygestel te word deur wetgewing, dis 'n heel ander saak om steeds verkneg te wees aan intellektuele slawerny.

Dis my belewing dat baie voormalige slawe juis slagoffers is van hul eie onvermoë om soos vrymense te leef, om steeds as agterryer vir die baas op te tree. Dit sou aanleiding gee tot die bekende spreekwoord, "Ek het maar net saam met die baas gekom". Hierin is 'n groot stuk waarheid wat ook in die kontemporêre geskiedenis weerklank vind. Is dit nie die probleem op ons plase vandag nie? En is dit nie die wortel van die kwaad as plaaswerkers betoog vir vryheid, maar wanneer hulle alleen in die baas se teenwoordigheid is, kan hulle, anders as Philida, nie opstaan teen die baas nie. So kry Philida ook eietydse en universele betekenis.

 

Metafore vir Vryheid

Brink maak van verskeie metafore gebruik om die tema te illustreer, sommige soos Jansen (2012) aandui, is dalk geforseerd, maar nogtans nuttig om in 'n vierdejaarsklas te ondersoek. Ek verwys na net twee voorbeelde: om skoon te was en om skoene te kry.

Soos reeds vroeër genoem, pak Philida hierdie reis na Vryheid kaalvoet aan. Om slaaf te wees, is om nie skoene te mag hê nie. Philida se droom om eendag skoene te kry (p 36), vir haar en haar kinders is tematies van haar strewe na emanipasie. So lank jy kaalvoet is, kan jy nie loop waar jy wil nie. As jy skoene het, maak dit jou vry om te kom en gaan soos jy wil. Kaalvoet is soos om voetboeie aan te hê. Hierdie tema herinner baie aan die eertydse koloniale stelsel toe mense wat in tronke gestop is, se skoene van hul weggevat is, sodat hulle nie kon ontsnap nie.

Dan is daar die metafoor om jou skoon te was. Wanneer Philida die terugtog vanaf Stellenbosch aanpak, stop sy by 'n waterpoel om te was. Op dié manier word die besmette nalatenskap van die Brinks afgewas. Alhoewel die slawebeskermer teen haar beslis, kom sy tog seëvierend uit die hofsaak. Want toe die slawebeskermer Klein Willem se blonde hare en blou oë sien, het hy geweet dat dit Philida is wat die waarheid praat, en nie Frans nie. Ook die manier waarop sy haar eie verdediging behartig het deur selfs die slawebeskermer op sekere regsaspekte tereg te wys, spreek van 'n vrou wat weet waarheen sy op pad is. Sy is allesbehalwe die hopelose slavin. Sy daag Cornelius uit, eintlik tart sy hom, en hy weet dit (p.100). Hy weet dis haar manier van sê, "jy sal my nooit weer besit nie, ek sal nooit weer voor jou (en vir jou) buk nie. Want ek is vry; ek het myself vrygemaak, ek het nie 'n Frans of wie ook al, nodig om my vry te koop nie".

 

Die prys van vryheid

Dit bring ons by die prys van vryheid. Hoeveel is jy bereid om op te offer en van jouself prys te gee om ware vryheid te bekom? Gegewe die uiterste wreedheid van slawerny - die daaglikse afranselings, die marteling en teregstellings, die strukturele minagting en verontmensliking - kan so 'n geïdealiseerde voorstelling van 'n innerlike vryheid volgens Gerwel (2012) "sentimenteel oorkom". Philida mymer ná die amptelike vrystelling: "Dit was al die jare julle wat die reg gehad het om te sê: Philida, jy is 'n slaaf. Maar julle het nie die reg om te sê: Philida, jy's nou vry nie. Want dit kan niemand vir jou van buite af sê nie, dit kan net van die binnekant af kom. En dit kan net ek sê, en dit sê ek. Vandag is ek 'n vry vrou. Maar die sê is altyd makliker as die doen" (p. 284).

Soos al die ander slawe moes Philida duur betaal vir haar vryheid. Slawe moes hierna nog vier jaar by hul base ingeboek bly voordat hulle waarlik vry was. Saam met die blydskap van vryheid was daar ook die hartseer: Op dieselfde dag dat hulle die boodskap ontvang dat die slawe vrygestel gaan word, verneem sy dat Ouma Nella afgesterf het (p.266). Die ooreenkoms tussen Christus wat moet sterwe sodat ons kan lewe, kom hier ietwat geforseerd voor, maar Brink slaag nietemin daarin om die primêre boodskap oor te dra:

ware vryheid is nie goedkoop nie.

In die verhaal is daar heelwat verwysings na Klein Frans, 'n afgestorwe kind uit die verhouding tussen Philida en Frans. Dit is eers aan die einde dat die leser agterkom dat Klein Frans nie werklik gelewe het nie. Dis dan dat jy begin wonder of Philida nie dalk 'n besluit geneem het om die pasgebore Klein Frans self dood te maak nie. Maar hoekom? Dalk omdat sy nie wou hê haar kind moet as 'n slaaf grootword nie? Dalk om te keer dat Frans die kind loop versuip soos hy die klein katjies versuip het? (p. 285). Dan liewer die kind vermoor? Dan besef jy dat slawerny vir slawe erger was as die dood. Dan eers weet jy wat slawe moes deurmaak vir hulle vryheid.

 

Oor die taalgebruik in Philida

Jansen is van mening dat die "taalgebruik is interessant, maar plek-plek kinderstorie-agtig en geforseerd argaïes" (2012:1). Soos ons nou al vir Brink leer ken het, het hy geen geloofsbesware of enige inhibisies om woorde wat die seksuele daad in detail beskryf, te gebruik nie. In hierdie roman is dit nie anders nie. Daarom was dit uiters braaf van hierdie resensent om die roman voor te skryf vir sy vierdejaarsklas. Veral omdat daardie klas op twee na slegs uit meisies bestaan het, die meeste wit en in dieselfde oudersdomgroep as toe Philida vir die eerste keer 'n baba van Frans in die lewe gebring het. Terwyl hulle enersyds met Philida as vrou kon identifiseer, was dit 'n aanpassing voordat hulle hulself in die liggaam van 'n bruin slavin kon indink. Een student het selfs genoem dat sy nagmerries kry as sy die roman lees en het gevra of ons nie 'n ander roman kon doen nie. Met die belofte dat die boek 'n mooi einde het, en dat ons geen enkele vloekwoord in die klas of in notas gaan gebruik nie, het ons deurgedruk. Watter ervaring was dit nie! Lesers wees egter gewaarsku: Philida is nie 'n boek wat jy vir jou ma of skoonma sal gee as geskenk op moedersdag nie.

 

Slotopmerking

Philida speel af tydens 'n belangrike oorgangstyd in die Suid-Afrikaanse geskiedenis: die afskaffing van slawerny. Ná die reis wat sy kaalvoet aflê, voel sy haarself waarlik vry daar by die groot Oranjerivier, of soos die Khoi dit gedoop het, die Groot Gariep. Sy ervaar uiteindelik die "Jirregot se liefde", waarin "ook die Islam en die son en die maan en alle sterre vervat is" (Jansen 2012:1). En hoe gepas is dit nie as Floris vir almal op die werf 'n paar skoene uithaal wat hy self gemaak het nie (p.273). Op daardie historiese dag van 1 Desember 1834: vir Philida en Delphina, vir homself en vir Labyn, tot vir Philida se twee kinders, Lena en Klein Willem. Elke paar presies nommerpas. Dan weet jy dat ook hierdie stil slaaf geglo het, geweet het, dat die bitter lewe van slawerny tot 'n einde sou kom, móés kom. Die skoene getuig van weke, selfs maande se handewerk. So word Philida se droom bewaarheid. Saam met die skoene kom die vryheid. Word die lewe van die kaalvoetslaaf finaal afgeskud.

In haar eie woorde:

"Ek is Philida van die Caab. Hierdie ek wat vry is. Hierdie ek wat nou Gariep is. Ek wat slaaf was. Ek wat mens is. Ek wat eintlik alles is (p.310)".

 

Michael le Cordeur
Universiteit Stellenbosch
mlecorde@sun.ac.za

 

Bronne

1. Brink, Andre P. Philida -'n slaweroman. Kaapstad: Human en Rousseau.

2. Gerwel, C.J. (2012). Intieme wreedheid - of wrede intimiteit. LitNet, 2 September.

3. Jansen, Ena. (2012). Philida: 'lofwaardig én noodsaaklik'. LitNet, 2 September.

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License