SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.53 issue3The part played by Potchefstroom in Voortrekker state formationA small note about a big difference: Percentage change compared to percentage point change author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Tydskrif vir Geesteswetenskappe

On-line version ISSN 2224-7912

Tydskr. geesteswet. vol.53 n.3 Pretoria  2013

 

RESEARCH AND REVIEW ARTICLES

 

Louis Tregardt se dagboek as 'n historiese bron

 

Louis Tregardt's diary as an historical source

 

 

Jackie Grobler

Departement Historiese en Erfenisstudies Fakulteit Geesteswetenskappe Universiteit van Pretoria jackie.grobler@up.ac.za

 

 


OPSOMMING

Hierdie artikel ontleed die dagboek van Louis Tregardt ten einde die waarde daarvan as historiese bron te bepaal. Tregardt was die enigste Voortrekkerleier wat 'n dagboek bygehou het en wel vir die tydperk van einde Julie 1836 tot die begin van Mei 1838. Hierin vermeld hy, benewens sy daaglikse aantekeninge oor die aktiwiteite waarmee hy en sy trekgenote hulle normaalweg besig gehou het, 'n magdom besonderhede wat nie geredelik in ander bronne beskikbaar is nie. Hy skryf oor sy eie lewens- en wêreldbeskouing, oor onderlinge verhoudinge binne asook tussen Voortrekkergesinne, oor rasse-vooroordele en oor gewelddadigheid. Hy skryf oor verskeie van hulle gebruike, waaronder godsdiens, opvoeding, mediese behandeling, praktyke in verband met dood en begrafnis en eet- en drinkgewoontes. Uitvoerige besonderhede word oor Tregardt en sy trekgenote se leefwereld verskaf, insluitende oor die klimaat, fauna en flora, jag, boerderybedrywighede, veesiektes, behuising, meubels, gereedskap, kleredrag, die onderhoud van ossewaens en trekgereedskap, vervaardiging van gebruiksartikels soos seep, die uitdagings op die trekpad, waaronder roofdiere en veediewe en interaksie met inheemse gemeenskappe en met die Portugese by Delagoabaai. Laastens werp die dagboek lig op die Afrikaans wat destyds gebesig is - 'n aspek wat nie in die artikel ontleed word nie. Aangesien Tregardt se dagboek so 'n verskeidenheid fasette aan die lig bring, is die finale gevolgtrekking dat dit as een van die mees uitstaande dokumente uit die GrootTrek-tydperk beskou moet word en dat die waarde daarvan nie oorskat kan word nie.

Trefwoorde: Louis Tregardt, Dagboek, Groot Trek, Soutpansberg, Tsetsevlieg, Wa, Jag, Veesiekte, Opvoeding, Buys-gemeenskap, Slawerny, Lourengo Marques


ABSTRACT

In this article it is argued that the diary of Louis Tregardt contains a wealth of historical information. Tregardt was the only Voortrekker leader of the Great Trek era who kept a diary. It covers the period from the end of July 1836, when Tregardt and his group of Voortrekkers had already reached the Soutpansberg region in what is today the Limpopo Province of South Africa, to 1 May 1838, when his wife died less than three weeks after they had reached the Portuguese Fort at what is now Maputo in Mozambique. The diary was written in the language spoken by Tregardt and his companions: an early form of Afrikaans which was evolving from Dutch.
Two transcriptions of Tregardt's diary have been published to date. The author of this article is busy translating the diary into Afrikaans. Selections from the diary have been published in English. Furthermore, a variety of academic and popular historical studies on Tregardt and his diary have been undertaken, especially on the language used by the diarist. Tregardt's trek has inspired creative work by foremost literary and artistic figures in South Africa. However, the only extensive evaluation of the diary as an historical source was undertaken by Gustav Preller in 1917. Since then a large body of information on Tregardt and his trek, which Preller did not have access to, has emerged. It certainly is time for a re-evaluation of the diary as an historical source.
The first issue focused on in this article is the diarist himself, namely Tregardt. Why did he keep the diary? Did he mostly report on events and circumstances in which he himself participated or which he experienced? Did he enter information on a daily basis or long after events about which he wrote? Is the information which he included in the diary of sufficient interest to justify claims that it should be regarded as an important source? The answers to these questions can be summarised as follows: It is not clear why Tregardt kept a diary, but it certainly was not to justify his actions. He reported on what he himself did or witnessed. He wrote almost daily and seldom more than two days after events; and he certainly provides unique and valuable information.
Indeed, this evaluation of Tregardt's diary as an historical source is based primarily on an analysis of the variety of issues about which the diary provides information that is not readily available from other sources. In the first place, Tregardt provides detailed information about his own character and views; about relationships within Voortrekker families; about racial prejudices; and about violence. Secondly, the diary highlights the differences between the various types of pioneers who participated in the Great Trek. Thirdly, extensive information is provided on Voortrekker customs and habits, including religious practices, education, death and funerals, clothing, food and drink, disease and medicine. Fourthly, the diary contains extensive information about the world of the Voortrekker. This includes the fauna and flora of the areas where they trekked; the climate and rainfall; the challenges of trekking in areas never before traversed by wheeled vehicles; interaction with indigenous communities as well as cultural practices of those communities; their hunting activities and indiscriminate killing and wounding of game; their wagons and the challenges to keep those wagons going; houses and shelters which the Voortrekkers built; their furniture and their tools; their farming activities and their struggle to move forward with their large herds of cattle and sheep; stock diseases and, finally, their interaction with the Portuguese at Delagoa Bay.
In conclusion, the author agrees with Preller that there is no other single document from the Great Trek era that contains such a wealth of information as does Tregardt's diary. In addition, the diary is a literary gem reflecting the early development of the Afrikaans language - an issue not addressed in this article. The only possible conclusion is that the value of Tregardt's diary as an historical source cannot be over-estimated.

Key words: Louis Tregardt, Diary, Great Trek, Soutpansberg Mountains, Tsetse fly, Wagon, Hunting, Stock disease, Education, Buys community, slavery, Lourengo Marques


 

 

1. INLEIDEND

Die geskiedenisfilosoof Arthur Marwick het hoë waardering vir die waarde van dagboeke as historiese bronne. Hy skryf:

Alle dagboeke moet as produkte van nogal atipiese mense beskou word: maar wanneer die dagboekskrywer se doel, sosiale agtergrond, kenmerkende eienskappe, onmiddellike konteks en literêre konvensies - indien relevant - in ag geneem word, is 'n skatkis van inligting daarin opgesluit vir diegene wat in staat is om dit raak te sien! (Marwick 2001:167 - Afrikaanse vertaling deur outeur)

Louis Tregardt was die enigste Voortrekkerleier wat 'n dagboek bygehou het. Ongelukkig strek dit nie oor die hele duur van sy trek nie, maar wel van die einde van Julie 1836, toe hy en sy trekgenote hulle by die Soutpansberg in die huidige Limpopoprovinsie bevind het, tot in Mei 1838, op die dag waarop sy vrou oorlede is. Die dagboek is oorspronklik in Tregardt se spreektaal, 'n vroeë vorm van Afrikaans deurspek met Nederlandismes, geskryf. Die oorspronklike berus in die Nasionale Argief in Pretoria.

Transkripsies van die hele dagboek het reeds drie keer in druk verskyn. Die eerste het in 1917 verskyn en is 'n woordelikse transkripsie van die dagboek wat deur die joernalis en volkshistorikus Gustav Preller versorg is (Preller (1917:ix). Die tweede verskyn in 1938, ook 'n woordelikse transkripsie van die dagboek wat deur Preller versorg is. Die twee transkripsies was skynbaar identies, so ook die omvangryke inleidende aantekeninge, maar die 1938-uitgawe is in heelwat meer besonderhede deur Preller geannoteer en meer illustrasies is ingesluit (Preller 1938). Die derde dateer uit 1964, herdruk in 1966. Dit is deur professor T.H. le Roux, 'n taalkundige verbonde aan die Universiteit van Pretoria, uit die oorspronklike dagboek getranskribeer. Hy het ook 'n inleiding, aantekeninge en glossarium tot die publikasie toegevoeg.1 Die skrywer van hierdie artikel is tans besig om sy eie Afrikaanse vertaling van die dagboek met die oog op publikasie later vanjaar voor te berei.2

Benewens transkripsies van die volle dagboek asook die vertaling, is uittreksels uit die dagboek in verskeie publikasies bekendgestel.3 Tregardt en sy dagboek was voorts die onderwerp van minstens twee doktorale proefskrifte4 asook verskeie korter akademiese studies en populêre artikels.5 Minstens drie boeke is al oor die Tregardttrek geskryf.6 In die letterkunde was die trek die onderwerp in prosa en poësie.7 Die taalkundige waarde van die dagboek is reeds deeglik ondersoek, onder meer deur Smuts (1943) in sy gemelde proefskrif en Le Roux (1966) in sy uitgawe van Tregardt se dagboek. Die taalkundige waarde van die dagboek kom gevolglik nie in hierdie artikel onder die loep nie. Aan die ander kant was die enigste omvattende beoordeling van die dagboek as historiese bron egter dié van Preller in die inleiding van sy eerste transkripsie van die dagboek wat in 1917 verskyn het en woordeliks in die 1938-uitgawe herhaal is. Aangesien daardie beoordeling reeds bykans 100 jaar gelede die lig gesien het, en daar sedertdien heelwat nuwe inligting wat op die Tregardttrek lig werp na vore gekom het, is dit haas tyd om opnuut oor die waarde van die dagboek as historiese bron te besin.

 

2. DOELSTELLING

Die doelwitte met hierdie artikel is tweeledig:

  • eerstens om uitvoerig aan te toon oor watter wye variasie van onderwerpe die dagboek van Louis Tregardt lig werp op die geskiedenis van die Groot Trek en van die Voortrekkers;
  • en tweedens om in die lig van daardie uiteensetting te besin of dit geregverdig is om die dagboek as 'n uitsonderlike bron te beskou.

Die tweede doelwit kan slegs bereik word indien die navorser duidelike maatstawwe het waaraan die waarde van die dagboek as historiese bron gemeet kan word. Die waarde van historiese bronne hang telkens ten nouste saam met die opsteller(s) daarvan - in hierdie geval die dagboekskrywer. Bevredigende antwoorde op die volgende vrae kan 'n wesenlike bydrae lewer tot 'n objektiewe beoordeling van die geskrif:

  • Waarom het hy die dagboek geskryf? Is die dagboek geskryf met die oog op latere moontlike openbaarmaking of publikasie of het die dagboekskrywer bloot gegewens opgeteken om moontlik later sy eie geheue te verfris?
  • Was die dagboekskrywer merendeels 'n eerstehandse getuie van die gebeure waaroor hy skryf of maak hy hom aan die verkondiging van ongetoetste gegewens skuldig?
  • Het die skrywer op 'n daaglikse basis sy aantekeninge bygehou of het hy telkens eers dae, weke of maande later gegewens onder die datums in die dagboek ingevoeg sonder om dit so aan te dui?
  • Is die gegewens in die dagboek van genoegsame historiese belang om die bestudering daarvan te regverdig?

Die antwoorde op hierdie vrae is nie almal voor die hand liggend nie. Alhoewel dit onwaarskynlik is dat Tregardt die dagboek met die oog op latere openbaarmaking geskryf het, is dit geensins duidelik waarom hy dit geskryf het nie. Hy het self geen verduideliking verskaf nie. Mens kan aanvaar dat hy dit bloot geskryf het om later sy eie geheue te verfris, wat positief tot die waarde van die geskrif bydra. Die waarde van die dagboek word voorts verhoog deur die feit dat Tregardt hom merendeels net uitlaat oor kwessies waarvan hyself 'n eerstehandse getuie was. Hy dui duidelik aan waar dit nie die geval was nie. Dit is voorts duidelik dat hy die meeste inskrywings op die dag van die gebeure of dan binne dae na 'n gebeurtenis neergeskryf het, wat ook die waarde verhoog. Laastens kan niemand twyfel nie dat hierdie dagboek gebeure van genoegsame historiese belang beskryf om die benutting daarvan geheel en al te regverdig. Die dagboek van Louis Tregardt voldoen gevolglik aan die eerste stel eise waaraan 'n waardevolle primêre bron moet voldoen.

 

3. OOR WATTER ASPEKTE IS TREGARDT SE DAGBOEK 'N WAARDEVOLLE HISTORIESE BRON?

3.1 Eerstens oor Tregardt self - spieël van sy eie karakter

Die dagboek getuig daarvan dat Tregardt 'n goeie selfbeeld gehad en op sy eie oordele vertrou het. Soms het hy egter geneig om homself verhewe bokant sy trekgenote te ag. Sy gebrek aan respek vir veral drie van die mans wat met hulle gesinne saamgetrek het, naamlik Hannes Strijdom, Hendrik Botha en Izak Albach is onverbloemd.8

'n Groot aantal inskrywings in die dagboek dui daarop dat Tregardt 'n gesinsman by uitnemendheid was. Dit is duidelik dat hy moeite gedoen het om goeie onderrig vir sy kinders te verseker, maar dat hy ook self sy verantwoordelikheid vir hulle opvoeding deurgaans op die voorgrond geplaas het. Sy verhouding met sy vrou en sy respek vir haar mening en waardigheid word eweneens telkens in die dagboek aangetoon. Die inskrywings skep voorts die indruk dat Tregardt se kinders hom ook met groot respek behandel het.

Daar is geen aanduiding in die dagboek dat Tregardt ooit een van sy trekgenote, of maats, soos hy by geleentheid na hulle verwys, hardhandig behandel het nie. Hy het wel by een geleentheid hom so vir sy seun Pieta vervies dat hy 'n jukskei gegryp het om hom 'n loesing mee te gee, maar Pieta het weggehardloop en hy kon hom nie vang om sy voorneme tot uitvoer te bring nie (DB 1837:3 Junie). Teen die einde van die dagboek spog Tregardt inderdaad dat hy nooit in sy lewe in 'n fisiese bakleiery betrokke geraak het nie (DB 1838:3 April).

Dit blyk uit die dagboek dat Tregardt 'n afwysende houding teenoor mense van ander rasse as sy eie gehad het. Hy het selfs met afkeur na die gesinslede van sy trekgenoot Izak Albach verwys - spesifiek na sy vrou, Lena, wat 'n bruin vrou was en sy vier jongste kinders, wat hy minagtend Albach se basterkinders noem (DB 1838:19 April).

Talle dagboekinskrywings dui daarop dat Tregardt nie 'n hoë dunk van die inheemse swart gemeenskappe in die algemeen gehad het nie. Om een voorbeeld te noem: op 14 Augustus 1837 het hy, toe hy op die punt was om van die Soutpansberg af na Delagoabaai te vertrek, 'n besoek van die Venda-hoofman Rasethau ontvang. In sy dagboek het hy aangeteken dat hy gedink het dat Rasethau "...weer wou bedel, soos wat alle swart mense en swart nasies gewoonlik doen" (DB 1837:14 Augustus).

Dit wil ook voorkom asof Tregardt, wat in sy dagboek die indruk skep dat hy as vredemaker telkens uit sy pad gegaan het om onderlinge geweldpleging tussen sy blanke trekgenote te voorkom, nie gehuiwer het om geweld teenoor sy eie swart werkers te gebruik nie (DB 1837:14 en 27 Maart).

Dit is duidelik dat Louis Tregardt geen beginselbeswaar teen slawerny gehad het nie. Inteendeel, hy en sy trekgenote was in April 1838 skaars twee weke in Delagoabaai - wat onder Portugese gesag was en waar slawerny toegelaat is - toe hy twee jong slaweseuns by die Portugese goewerneur gekoop het (DB 1838:30 April).

'n Mens leer voorts in die dagboek 'n Tregardt ken wat veral in sy optrede teenoor swart mense versigtig, maar kragdadig is. Hy het feitlik deurentyd deur fyn diplomasie daarin geslaag om nie by geskille tussen swart gemeenskappe betrokke te raak nie. Maar teen veediewe het hy streng opgetree en nie gehuiwer om op hulle te skiet om dood te skiet nie (DB 1838:8 Februarie). Daarby het hy geen swartes toegelaat om gewapend in sy geselskap te verskyn nie (DB 1837:5 September).

Die taalgebruik in Tregardt se dagboek dui daarop dat hierdie Voortrekkerleier oor 'n besondere taalvaardigheid beskik het. Sy woordeskat is uitgebreid en sy woordkeuses en vermoëns om 'n situasie te beskryf, is iets besonders. Sy dagboekinskrywings dui ook daarop dat hy graag die humor in situasies opgemerk het (DB 1837:29 Mei en 3 Augustus).

Ten spyte van 'n reeks positiewe karaktertrekke is dit opmerklik dat Tregardt nie huiwer om die kru taal wat sy trekgenote, manlik en vroulik - en hy self - soms gebesig het, sonder om te blik of te bloos in sy dagboek aan te teken nie (DB 1837:13 April asook 26 Julie). Dit is moontlik 'n aanduiding dat daardie woorde nie destyds as kru taal geag is nie. Mens kan ook aanvaar dat Tregardt en sy trekgenote nie uniek was nie en dat kru taalgebruik onder die Voortrekkers van ouds wydverspreid voorgekom het.

3.2 Tydsbegrip

Die dagboek weerspieël 'n hoogs ontwikkelde tydsbegrip by Tregardt self. In die eerste plek het hy deeglik tred gehou met die kalender en het te alle tye presies geweet wat die dag en datum is. Sy inskrywings is vergelyk met die dag en datum van twee tydgenote, naamlik eerwaarde Erasmus Smit en eerwaarde Francis Owen se dagboeke, en daar is nêrens 'n afwyking nie.9 Voorts is dit van heel voor in die dagboek af duidelik dat hy 'n horlosie gehad en dit gereeld geraadpleeg het (DB 1836:5 Augustus; 1837:28 Mei; en 1838:1 Mei). Al skryf Tregardt self nêrens in die dagboek oor die horlosie nie, word dit vermeld in sy boedel wat in 1842 in die Republiek Natalia afgehandel is.10 Die feit dat hy 'n horlosie gehad het, bring mee dat die aanduiding van die ure van die dag in die dagboek as betroubaar beskou kan word.

Tregardt se eie, duidelike begrip van datum en tyd beteken nie dat alle Voortrekkers soos hy gedink het nie. Inteendeel, in die dagboek is daar 'n kostelike, maar tegelyk hartseer beskrywing van sy trekgenoot Hannes Strijdom se absolute onkunde oor dag, datum en tydsverloop. Strijdom het nie geweet wanneer hy en sy vrou Alida getroud is of hoe oud hulle kinders is nie (DB 1837:21 en 22 April).

Daar is in Tregardt se dagboek net drie vermeldings van verjaarsdae - twee keer van Pieta se verjaarsdag (1836:30 Oktober; en 1837:30 Oktober) en dan Tregardt self se 56ste verjaarsdag (DB 1838:10 Augustus). Tregardt meld nêrens eers sy vrou se verjaarsdag nie. Dit kan moontlik daarop dui dat verjaarsdae nie belangrik geag is nie, maar dit is meer waarskynlik dat Tregardt bloot nagelaat het om sy ander trekgenote se verjaarsdae te vermeld omdat dit vir hom vanselfsprekend was en onnodig om spesifiek aan te teken.

3.3 Oorsake van die Groot Trek

Tregardt se dagboek bevat sy eie verklaring van die belangrikste redes waarom hy uit die Kaapkolonie weggetrek het en werp so lig op die oorsake van die Groot Trek in die algemeen. Na sy aankoms in Delagoabaai het die Portugese goewerneur hom naamlik daaroor uitgevra. Hy som sy eie antwoord vir die redes waarom hy getrek het, as volg op:

Ek sê aan sy Edelheid: 1ste, dat die grens van twee Kolonies deur die Swart Nasie verinneweerd is; 2de, dat die Goewerment alle slawe op vrye voet stel; 3de dat die Goewerment die Afrikaner tot soldaat maak. Daarop het ek gesê dat ek na die Portugese kus sal gaan. (DB 1838:13 April)

3.4 Beeld van verskillende tipes van die tyd en hulle kenmerkende eienskappe

Preller het in 1917 daarop gewys dat Tregardt in die dagboek 'n verskeidenheid figure skets.11 Dit is dan ook een van die kenmerke van die dagboek wat die meeste waarde daaraan toevoeg dat Tregardt so 'n fyn waarnemer, skerpsinnige mensekenner en keurige skrywer was. Hy vertel onderhoudend van sy aggressiewe en gewelddadige oudste seun Carolus, wat selfs een keer sy eie vrou te lyf wou gaan; van sy immer betroubare tweede seun Pieta, wat duidelik sy gunsteling is en hoe teleurgesteld hy by twee geleenthede was toe Pieta hom na sy mening in die steek gelaat het; van sy agterbakse trekgenoot Jan Pretorius, wat in sy voortvarendheid nooit huiwer om al sy trekgenote gruwelik in die steek te laat nie, maar tog die enigste man is met wie Tregardt 'n ordentlike gesprek kon voer; van die eenvoudige Hannes Strijdom, wat oor geen noemenswaardige vaardighede of aardse besittings beskik het nie; van die hopelose jagter en sukkelende ystersmid Hendrik Botha, twaalfjaar jonger as Tregardt, maar na wie hy deurentyd as "ouwe Botha" verwys; en van die Fransman Izak Albach, wat spog dat hy 'n hoefsmid in Napoleon Bonaparte se weermag was, maar met wie Tregardt gedurig oor sy onbeholpenheid spot. Tregardt vertel voorts van die vroue op die trek - sy eie Martha, vir wie hy die wêreld se respek het en wat sy sielsgenoot was; van die weduwee Antjie Scheepers, wat 'n reguit pad geloop en nooit gehuiwer het om die roede in te lê as haar kinders na haar mening straf verdien het nie; van die bakleiery tussen die meisie-kinders oor wie kwansuis die mooiste is; en van gevegte tussen die seuns oor dieselfde meisies. Hierdie mensetipes het ongetwyfeld in al die trekgeselskappe van die Groot Trek voorgekom, maar daar is geen ander dokument waar hulle so raak beskryf word as in Tregardt se dagboek nie.

Al was daar sporadies struwelinge tussen hulle, dui Tregardt se dagboekinskrywings daarop dat die trekgenote gewoonlik heel gewillig was om mekaar te ondersteun (DB 1837:10 Mei). Dit is aan die ander kant duidelik dat sommige Voortrekkers sonder om te skroom hulle trekgenote in die steek gelaat het. Die groot sondaar in hierdie kategorie op die Tregardttrek was Jan Pretorius, wat Hendrik Botha se wa vir dae lank teen 'n berghelling laat staan het nadat Botha hom uitgehelp het (DB 1837:14, 15 en 17 November). Tregardt teken op een plek aan dat Carolus in verband met Pretorius se koppigheid opgemerk het: Dit is die Afrikaner se ongeluk dat as hulle iets wil aanpak, almal hulle eie baas wil wees en dat alles dan verkeerd gaan (DB 1838:13 April).

Tregardt se dagboek weerspieël voorts 'n geredelike neiging tot onderlinge gewelddadigheid, minstens in die geledere van sy trekgenote. Hy het op vyf dae opgeteken dat daar van die mans mekaar te lyf gegaan het. By een geleentheid het Pretorius een van Albagh, wat ongeveer twee maal ouer as hy was, se ribbes afgeskop. Dit is opmerklik dat die mees humeurige en gewelddadige van Tregardt se trekgenote sy seun Carolus was, wat selfs sy eie broer te lyf gegaan en sy beeste met 'n mes gesny het.12

Tregardt se dagboek is die enigste oorspronklike Voortrekkerbron waarin daar direkte verwysings na seks is en wel by minstens twee geleenthede (1837:16 Junie en 5 Augustus).

3.5 Gebruike

3.5.1 Geloof en godsdiens

Daar is nêrens in die dagboek enige vermelding van 'n godsdienstige aktiwiteit van enige aard nie - nie op 'n Sondag nie en ook nie op enige ander dag nie. Dit beteken nie dat Tregardt goedsmoeds die vierde gebod oortree het nie. Inteendeel, sy dagboekinskrywings dui daarop dat Sondae wel in die meeste gevalle - maar beslis nie deurgaans nie - as rusdag gerespekteer is (DB 1837:25 Junie). Die dagboekinskrywings - veral sy aangrypende relaas van sy vrou se sterwensuur (DB 1838:1 Mei) - dui nogtans daarop dat Tregardt 'n sterk gelowige was. Dit is moontlik dat hy godsdiensaktiwiteite as vanselfsprekend aanvaar het en dit bloot nie nodig geag het om daaroor te skryf nie, net soos wat hy op een uitsondering na nooit skryf oor die soort voedsel wat hulle met etenstye geniet het nie.

Tregardt se dagboekinskrywings dui daarop dat die Voortrekkers nie almal jaarliks op 25 Desember die geboortedag van Christus gedenk het nie. Hy het in beide 1836 en 1837 op 25 Desember aantekeninge in sy dagboek gemaak, maar dit handel oor alledaagse kwessies en daar is geen verwysing van enige aard na Kersfees of na Christus nie (DB 1836: 25 Desember; en 1837:25 Desember).

3.5.2 Dood en begrafnis

Daar is by drie geleenthede tydens die Tregardttrek klein kindertjies oorlede en begrawe. Drie van hierdie kinders was Tregardt se eie. Hy verskaf in al die gevalle weinig detail en daar is geen emosie in sy aantekening of enige aanduiding van empatie met sy vrou in sy aantekeninge te bespeur nie. Van 'n spesifieke seremonie of van 'n grafsteen is daar in geeneen van die gevalle sprake nie. Hy meld bloot dat die lykies "ter aarde besteld" is.13 Oor die begrafnisse van die drie volwassenes wat tot 1 Mei 1838 in Delagoabaai oorlede is, waaronder Martha Tregardt, is daar ook geen besonderhede nie.14

3.5.3 Kleredrag

Tregardt se dagboek bevat weinig inligting oor kleredrag. Hy skryf wel oor geleenthede waar hulle materiaal soos linne en kasjmier as geskenke ontvang of by inheemse gemeenskappe vir produkte soos olifanttande geruil het (1837:11 Julie en 9 Augustus). Alhoewel dit nie in die dagboek vermeld word nie, kan 'n mens aanvaar dat die Voortrekkers hierdie materiaal gebruik het om kledingstukke te vervaardig. Tregardt vermeld wel by enkele geleenthede dat hulle velskoene gemaak het. In al hierdie gevalle was dit mans wat as skoenmakers opgetree het (DB 1837:29 Maart; 8 Mei; en 17 Augustus).

Dit was eers na hulle aankoms in Delagoabaai wat hulle gemaakte kledingstukke kon aankoop. Tregardt meld dat hy vir hom skoene en sokkies by die kommandant van die Portugese fort gekoop het. Die Portugese het ook aan beide hom en Carolus kledingstukke persent gegee (DB 1838:13 April).

3.5.4 Spys en drank

Tregardt verskaf weinig inligting oor die daaglikse dieet van sy trekgenote in sy dagboek. Hy maak wel melding dat hulle tuin gemaak en produkte soos mielies, wortels, patats en komkommers geplant en geoes het (DB 1837:10 Februarie). Swart mense het soms aan hulle voedselprodukte soos heuning, rys, suikerriet en makatane as geskenke gebring (DB 1838:6 Maart en 7 April). Terwyl hulle op die trekpad was, het Tregardt gereeld melding gemaak daarvan dat hulle produkte soos mielies en koring by die plaaslike gemeenskappe gekoop het teen produkte soos vet en velle as betaling (DB 1837:17 November). By een geleentheid het hy selfs 'n boodskapper na 'n swart gemeenskap gestuur met die versoek om mielies en koring vir ruilhandel te bring, omdat hy en sy trekgenote niks buiten vleis gehad het om te eet nie (DB 1837:10 Desember). Die enigste vermelding van hulle voedsel by 'n spesifieke ete was op Pieta se 18de verjaarsdag toe hulle onder meer hoendervleis en boontjies geëet het (DB 1837:30 November). Op Oujaarsdag in 1837 vermeld hy dat die jong mans wat die vee moes oppas, melkkluitjies te ete gehad het (DB 1837:31 Desember). In Mosambiek het die Portugese goewerneur se vrou kort voor Martha Tregardt se dood vir haar 'n duif laat gaarmaak (DB 1838:25 April). Dit is voorts uit Tregardt se dagboek duidelik dat hy en sy trekgenote wildsvleis geëet het wanneer hulle daarvan gehad het (DB 1837:2,9 en 10 September).

Wat drank betref, skryf Tregardt nêrens voor hulle by die Portugese in Delagoabaai aangekom het, dat hulle koffie of tee gemaak het nie. Hy het wel toe hulle nog by die Soutpansberg was, probeer om koffie en tee van die Portugese af in die hande te kry (DB 1837:13 Mei), maar skryf nie of hy suksesvol was nie. Met hulle aankoms in Delagoabaai het die Portugese goewerneur hulle almal op koek en tee trakteer (DB 1838:13 April). Hulle het toe ook die geleentheid benut om koffie aan te skaf (DB 1838:20 April).

Benewens water was daar vir hulle min anders om te drink. Daar is aanduidings in die dagboek dat hulle gereeld melk gedrink het (DB 1837:31 Desember). Tregardt meld elke nou en dan dat swart hoofmanne vir hulle 'n aantal kalbasse bier gebring het wat hulle graag gedrink het (DB 1837:8 Maart en 24 September). Hierdie bier was gewoonlik van graan gemaak, maar Tregardt noem ook bessiesbier (DB 1837:19 April) en appelbier (1838:11 Februarie).15 Soms het hulle niks anders as sorghumbier gehad om te drink nie (DB 1837:14 April). Laastens maak Tregardt in verband met die Portugese in Delagoabaai melding van sterk drank soos brandewyn en rum (1837:10 Mei; en 1838:8 April).

3.5.5 Siekte, beserings en medisyne

Tregardt se dagboekinskrywings dui daarop dat hy 'n huisapteek gehad en oor basiese kennis in verband met medisyne beskik het. Nogtans weerspieël sy inskrywings in verband met die behandeling van siekes en beseerdes 'n geloof in emanisme, naamlik dat daar 'n willose krag in elke ding skuil en dat mens deur 'n sterker krag te gebruik byvoorbeeld die krag wat in maagpyn skuil, kan uitdryf.16 In Mei 1837 het Carolus homself een dag per ongeluk in sy been gekap en die bloed wou teen tienuur die aand steeds nie stol nie. Hulle het toe uitgebrande aluin op die wond gestrooi en 'n ghienie ('n muntstuk van goud) daarop gesit. Die pyn het Carolus byna gedood. Daarop het hulle 'n bok keelaf gesny en vir Carolus 'n kommetjie van die penswater laat drink. Dit het die pyn laat bedaar (1837:9 Mei). Hierdie behandeling dui daarop dat hulle geglo het dat die verskuilde krag wat in die muntstuk geleë is, in staat sou wees om die pyn te verdryf. Toe dit misluk, het hulle teruggeval op die ou raat dat 'n dier se ingewandevog 'n kragtige geneesmiddel is.

Tregardt vermeld by verskeie ander geleenthede in die dagboek ook presies watter middels soos kruit, leeuvet, alwyn en tabakblare of medisyne soos kappeva en gloversout hulle gebruik het om genesing te probeer bewerkstellig.17 Hoe suksesvol al hierdie middele was, word nie vermeld nie.

3.5.6 Onderwys en opvoeding

Die trek van Louis Tregardt was by verre die eerste een wat vir die formele skoolonderrig van die kinders voorsiening gemaak het. Die onderwyser was die bejaarde Daniël Pheiffer. By meer as een staanplek aan die voet van die Soutpansberg het Tregardt-hulle met groot moeite 'n skoolgeboutjie opgerig. Pheiffer het op Saterdag 22 April 1837 die eerste keer in die eerste gebou aan die kinders, waaronder Tregardt se eie seun Gustav, onderrig gegee (DB 1837:22 April).

Aan die einde van Mei 1837 het die Tregardttrek van staanplek verander, maar binne 'n maand het hulle 'n nuwe skoolgebou opgerig en was die kinders terug in die klas by meester Pheiffer (1837:27 Mei). Die prioriteit wat hulle aan die oprigting van 'n skoolgeboutjie gegee het, al was dit maar 'n eenvoudige hartbeeshuisstruktuur, bevestig die hoë waarde wat hierdie trek aan die opvoeding van hulle kinders geheg het.

Uit Tregardt se dagboek blyk dit dat sommige ouers nie gehuiwer het om aan hulle kinders lyfstraf toe te dien nie.18

3.6 Leefwêreld

3.6.1 Die omgewing: fauna, flora, weersomstandighede en die ruimte

Tregardt se dagboek bevat 'n magdom inligting oor die omgewing waar hulle hul bevind het. Hy vermeld telkens watter soort wilde diere, en selfs ook voëls en insekte hulle aangetref het, wat lig werp op verspreidingspatrone in daardie jare. Hy skryf uitvoerig oor die plantegroei en weidingstoestande. Hy meld bykans daagliks wat die weersomstandighede is en teken aan wanneer dit gereën het. Laastens vermeld hy selfs by twee geleenthede dat daar 'n maansverduistering was (DB 1837:20 April en 17 Oktober).

3.6.2 Die trekpad

Tregardt skryf vanselfsprekend in sy dagboek baie oor trek. Die historikus W.H.J. Punt het bereken dat die Tregardttrek selde meer as 40 kilometer per week gevorder het. Fuller het beraam dat Tregardt moeilik meer as agt kilometer per dag kon getrek het, om die eenvoudige rede dat die spoed waarteen hy gevorder het bepaal is deur die totale afstand wat skape - soms skaaplammertjies - op 'n dag kon stap.19

Daar is verskeie aanduidings in die dagboek van faktore wat deur Tregardt en sy trekgenote in ag geneem is by besluite oor trekroetes, waaronder die volgende: die oorsteek van riviere, die oorsteek van berge, die deursteek van ruie bos, die aanwesigheid van water vir die vee om te kan suip, die aanwesigheid van gevaarlike insekte, die aanwesigheid van roofdiere, die beskikbaarheid van voldoende brandhout en geskikte uitspanplekke.

Die plek waar en tyd wanneer Tregardt-hulle riviere soos die Olifantsrivier oorgesteek het, is bepaal deur die aanwesigheid van geskikte driwwe en of die water nie te sterk of te diep geloop het nie. Dit is opvallend dat Tregardt in die meeste gevalle die advies van plaaslike gemeenskappe ingewin het en op die steun van swart hoofmanne soos Marmanelle Omsana om van hulle onderdane te stuur om hom deur die driwwe te help, gebruik gemaak het en telkens swart gidse, of padwysers soos hy hulle noem, gebruik het.20

Tregardt werp ook lig op hoe deeglik hulle moes beplan om oor berge of deur poorte in berge te trek. Hulle moes kyk of die berghange nie te steil is nie, of daar nie vaste klipbanke is of kranse wat hulle voortgang sou stuit nie, of dit waar dit baie klipperig was moontlik sou wees om pad te maak, of die poorte deur die berge nie te smal is vir waens nie of moontlik met groot rotse besaai is nie.21

Tregardt meld in sy dagboek twee geleenthede toe hulle noodgedwonge deur ruie bos moes trek en dit vir hulle nodig was om 'n weg oop te kap.22 Hy skryf voorts hoe belangrik die aanwesigheid van water was vir die vee om te kon suip (DB 1837:14 September). En dan verduidelik hy hoe die aanwesigheid van tsetsevlieë op spesifieke plekke hulle gedwing het om van die Soutpansberg af deur en oor die Strydpoort- en Noordelike Drakensberg eerder as in 'n ooswaartse rigting om die berge te gaan (DB 1837:22 Augustus).

Tregardt beskryf by twee geleenthede hoe die aanwesigheid van gevaarlike roofdiere hulle trekkery beïnvloed het (DB 1838:4 en 6 Maart). Die beskikbaarheid van goeie uitspanplekke het inderdaad telkens die dag se skoflengte bepaal. Daar moes by die uitspanplek voldoende weiding wees asook genoeg drinkwater vir mens en dier en genoeg vuurmaakhout. Tregardt beskryf in die verbygaan oor al hierdie kwessies en het spesifieke gevalle aangeteken waar hulle besondere moeilike skofte moes trek ten einde geskikte uitspanplekke te kon bereik (DB 1837:20 Oktober).

Tregardt skryf nêrens in detail oor uitspanaktiwiteite en die werksverdeling wat daarmee gepaardgegaan het nie. Mens kan wel uit sy beskrywings aflei dat die mans se belangrikste taak met uitspantyd was om die osse uit te span, die vee te versorg en die kamp te beveilig deur onder meer doringtakke te kap en tydelike krale te maak. Voorts skryf Tregardt dat, toe hulle deur die Laeveld getrek het, dit elke aand vir die mans nodig was om wag te staan.23 Die vroue se bedrywighede op die trekpad kry nooit in die dagboek aandag nie.

Die enigste ontspanning op die trekpad waaroor Tregardt skryf, was wanneer die mans gesit en rook het (DB 1837:1 Desember). Hulle het tabak deur middel van ruilhandel met die inheemse gemeenskappe bekom (DB 1837:19 April). Hulle het self hulle pype gemaak, en wel uit sagte klip, wat hulle pypklip genoem het. In Oktober 1836 het Louis Tregardt in sy dagboek aangeteken dat sy seun Carolus besig was om pype te sny en op sy draaibank te draai.24

3.6.3 Wonings/skuilings en meubels

Tregardt se dagboek bevat waardevolle inligting in verband met die behuising van die Voortrekkers. Hy en sy trekgenote het op elke plek waar hulle langer as net 'n paar dae oorgestaan het, vir hulle hartbeeshuisies gebou (DB 1836:15 September; 1837:13 Maart). Die Voortrekkervrouens asook die vroulike bediendes het soms met die bouery gehelp (1837:22 Maart en 25 Junie). Tregardt was skaars in Delagoabaai toe hy hout laat kap het om ook daar vir hom 'n huisie te bou (DB 1838:23 April).

Tregardt skryf selde oor die maak van meubels, wat daarop dui dat dit nie veel gebeur het nie. Pieta het in Maart 1837 'n katel - wat normaalweg uit 'n raamwerk met 'n riempiesmat bestaan het - opgesit en in April het hy en Carolus veldstoele gemaak (1837:22 Maart en 25 April).

3.6.4 Gereedskap en gebruiksartikels

Aangesien daar nie in die binneland winkels was waar hulle produkte kon aankoop nie, moes die Voortrekkers die meeste van hulle gereedskap, implemente en alledaagse benodigdhede soos seep en kerse self vervaardig. Tregardt het gereeld in sy dagboek van sodanige aktiwiteite melding gemaak.25

In die loop van Maart, April en Mei 1837 was Carolus Tregardt volgens Tregardt se dagboekinskrywings gereeld in sy smidswinkel besig om verbruiksartikels uit yster te maak. Hy het koppe vir sy draaibank gemaak, tande in 'n saag ingesit, asook koevoete, kettingskakels, 'n skaaf en lunse gemaak.26 Vroeg in Mei 1837 was Izak Albach een dag besig om spykers te maak. 'n Paar dae later het hy en Hendrik Botha messe gemaak (DB 1837:2 en 6 Mei).

Die onderhoud van hulle wapens en van hulle waens en trektoerusting het hoë prioriteit by die Voortrekkers geniet en Tregardt teken telkens besonderhede daaroor in sy dagboek aan.27

3.6.5 Boerdery

Tregardt se dagboek wemel van opmerkings oor boerderybedrywighede. Hy en sy seuns moes noodgedwonge deeglik na hulle vee omsien, want dit was hulle grootste bron van welvaart. Daar is telkens die een of ander aantekening oor die maak van takkrale vir die beskerming van hulle beeste en skape en van kalwer- en lammerhokke (DB 1837:12 Maart en 24 April).

Gevare was daar oorgenoeg op die trekpad. Een wesenlike gevaar was roofdiere. Veral die Tregardttrek het by tye heelwat skade as gevolg van roofdiere verduur. In sy dagboek skryf Tregardt gereeld van 'n leeu, 'n luiperd, 'n wolf (soos hy dit noem, waarskynlik 'n bruin hiëna) of 'n krokodil wat 'n bees, skaap of bok vang.28 Hulle moes allerhande maatreëls tref om hulle vee teen roofdiere te beskerm. Dit sluit jag op roofdiere, die gebruik van vanghokke en die stel van gewere by aas in.29

'n Tweede gevaar vir hulle veekuddes waaroor Tregardt gereeld geskryf het, was veesiektes. Verskeie tipes veesiektes het in die Voortrekkertyd in suidelike Afrika voorgekom of kom steeds voor. Nagana was 'n dodelike veesiekte wat deur die byt van die tsetsevlieg veroorsaak is. In sommige gebiede buite suidelike Afrika veroorsaak die byt van die tsetsevlieg by mense slaapsiekte, maar in hierdie geweste is dit net gevaarlik vir diere, veral beeste en perde (Punt 1953:33-34). Tregardt en sy trekgenote was die eerste Voortrekkers wat met nagana te doen gekry het.

Inskrywings in sy dagboek weerspieël die verliese wat hulle gely het asook hulle pogings om uit gebiede weg te bly waar daar tsetsevlieë was.30

Benewens nagana het Tregardt ook van ander veesiektes wat hy nie geken het nie, geskryf (DB 1838:9 Maart). Bosluise het hulle groot skade berokken (Punt 1953:93). Hy skryf ook oor ander veesiektes, soos stopsiekte (DB 1837:2 Februarie), diksiekte (DB 1837:11 Februarie) en "nintas", 'n tipe krimpsiekte, wat meebring dat die dier se nek styftrek.31 Perdesiekte was ook vir Tregardt-hulle 'n teistering.32

Benewens veesiektes het Tregardt-hulle telkens te kampe gehad met 'n tekort aan water en onvoldoende weiding. Talle dagboekinskrywings toon die moeite aan wat hulle gedoen het om, as daar nie voldoende drinkwater was nie, vir hulle vee dammetjies te bou en vore na suipplekke te grawe, of in die sand van droë rivierbeddings vir water te grawe.33 'n Gebrek aan weiding en water was telkens die belangrikste rede waarom hulle noodgedwonge van een staanplek na 'n ander moes trek. 'n Volgende oplossing was die vestiging van veeposte - hetsy tydelik of semipermanent (DB 1838:18 April).

'n Vierde gevaar was rowers. Tregardt het uitvoerig oor hulle botsings met veediewe verslag gedoen (DB 1838:20 en 21 Januarie).

'n Vyfde gevaar was vanggate waarin hulle vee kon val. Terwyl die Tregardttrek van die Soutpansberg na Delagoabaai op pad was, het hulle by verskeie geleenthede deur gebiede getrek wat besaai van vanggate was wat deur swartmense vir die vang van wilde diere gegrawe is. Hierdie gate was 'n gevaar vir mens en dier. Hulle het talle stuks vee in vanggate verloor.34

'n Sesde gevaar was oormatige reën of koue. Tregardt het telkens daaroor geskryf. Die grootste terugslag was op 18-19 November 1837 toe hulle in een nag 90 stuks kleinvee verloor het toe dit swaar begin reën het terwyl hulle in die oopte bo-op die Noordelike Drakensberg moes oornag (DB 1837:19 November). 'n Wesentlike gevaar wanneer hulle riviere moes oorsteek, was dat daar van hulle diere kon verdrink. Tregardt het verskeie kere geskryf van diere - veral skape - wat hulle op daardie wyse verloor het.35 'n Laaste gevaar was dat die vee kon wegloop of wegraak. Tregardt maak sporadies melding van vee wat afgedwaal het, of, wanneer hulle aan 't trek was, na die vorige aand se staanplek teruggeloop het.36

Omdat hulle in die eerste plek veeboere was en telkens van staanplek verander het, het tuinen akkerbou nie hoë prioriteit by Tregardt en sy trekgenote geniet nie. Tog is daar aanduidings in die dagboek dat hulle geleenthede om tuin- en akkerbou te bedryf, geskep en benut het (DB 1837:24 Maart en 3 Mei).

3.6.6 Jag

Die lede van die Tregardttrek het graag gejag. In sy dagboek het Tregardt gereeld aangeteken wat hulle geskiet het, waaronder olifante, renosters, blouwildebeeste, hartebeeste, kameelperde, elande, zebras, en seekoeie, asook wilde voëls soos gompoue, wildemakoue en kolganse.37 Daar was verskeie redes waarom hulle gejag het. In die eerste plek kon hulle met die produkte van die jag handel dryf. Hulle het dan ook, wanneer hulle byvoorbeeld olifante geskiet het, die tande uitgekap en met hulle saamgeneem. Die velle (huide) van wilde diere was ook handelsprodukte. Derdens het hulle die vleis van die diere wat hulle geskiet het, self geëet. Vierdens het Tregardt-hulle soms wilde diere geskiet ten einde die vleis as vergoeding aan hulle swart werkers, aan swart werkers wat hulle op die trekpad behulpsaam was of as 'n vriendskapsgebaar aan swart hoofmanne te gee.38

3.7 Mense met wie hulle in aanraking gekom het

3.7.1 Ander Voortrekkers

Tregardt se dagboek bevat nie veel inligting oor ander Voortrekkers as sy trekgenote nie, maar die inligting wat dit wel bevat, is grotendeels uniek. Die dagboek bevat waardevolle inligting oor die uiteindelike lot van die Van Rensburgtrek. Die geskrif begin inderdaad met Tregardt se terugkeer van 'n verkenningsrit waartydens hy en enkele andere, waaronder J.G.S. Bronkhorst, tevergeefs gaan probeer vasstel het wat van Van Rensburg en sy trekgenote geword het. Sewe maande later was daar steeds geen duidelikheid oor Van Rensburg-hulle se lot nie, maar op 2 Maart 1837 teken Tregardt in sy dagboek aan dat hy deur swart mense meegedeel is dat Van Rensburg en sy trekgenote almal deur 'n swart krygsmag uitgemoor is.39

3.7.2 Hulle bediendes/slawe

Die Tregardt-dagboek bevat 'n skat van inligting oor die wyse waarop die Voortrekkers hulle bediendes/werknemers hanteer het. Met hulle wegtrek van die Kaapkolonie het Tregardt-hulle arbeiders/bediendes met hulle saamgeneem. Sommige het uit vrye wil saamgegaan, maar sommige waarskynlik teen hulle sin. Terwyl hulle op die trekpad was, het feitlik al hulle arbeiders mettertyd gedros.40 Tregardt skryf ook hoe hulle telkens gepoog het om onderdane van swart hoofmanne met wie hulle kontak gehad het as arbeiders te gebruik, maar met min sukses.41

3.7.3 Die De Buyse

In die eerste helfte van die dagboek, toe Tregardt-hulle nog by die Soutpansberg was, is daar talle inskrywings waarin Doors en Gabriël Buys vermeld word. Nogtans is daar bitter min agtergrondgegewens oor die Buyse en word daar nêrens vermeld dat hulle vader, Coenraad de Buys, 'n kennis van Louis Tregardt se vader in die distrik Graaff-Reinet teen die einde van die agtiende eeu was nie.42

3.7.4 Swart gemeenskappe

Inskrywings in die dagboek dui daarop dat Tregardt, terwyl hy in die Soutpansberggebied was, gereeld by diplomatieke betrekkinge met swart mense betrokke was. Hy het meestal met almal in vrede probeer lewe. Dit het meegebring dat hy en swart hoofmanne gereeld aan mekaar geskenke gestuur het. Op Maandag 24 Oktober 1836 het die swart kaptein Maletie byvoorbeeld 'n olifanttand aan Tregardt gestuur (DB 1836:24 Oktober). Op Saterdag 19 November het Moekapanee met 'n olifanttand opgedaag om Tregardt te oorreed om reën te maak, want hy het skynbaar gedink Tregardt beskik oor besondere kragte. Mapilie was 'n soortgelyke mening toegedaan en het een olifanttand en drie beeste aan die reënmaker - Tregardt - gestuur (DB 1836:19 November). Kort daarna, en ook op sy trekpad na Delagoabaai, het swart gemeenskappe vir Tregardt in hulle interne opvolgkrisisse betrokke probeer kry, maar hy het daarin geslaag om onbetrokke te bly.43

Die dagboek bevat waardevolle inligting oor die kultuur, gebruike en leefwereld van die destydse swart mense. By die meeste swart gemeenskappe was dit die gebruik dat 'n kaptein wat vreemdelinge besoek, met sy koms geskenke moes ontvang, want anders, het een kaptein aan Tregardt verduidelik, was dit nie 'n vreedsame besoek nie (DB 1838:22 Februarie).

Die dagboek bevat laastens tientalle inskrywings oor ruiltransaksies tussen die Tregardttrek-genote en swart gemeenskappe.44

3.7.5 Die Portugese van Delagoabaai

Tregardt se dagboekinskrywings dui daarop dat hy 'n bykans onderdanige houding teenoor die Portugese owerhede by Delagoabaai ingeneem het. Dit het reeds begin met die koms van die twee swart Portugese soldate, Lourengo en Antonio, wat deur die Portugese kommandant in Lourengo Marques gestuur is om vir Tregardt-hulle na die fort daar te begelei. Tregardt het hulle met groot respek bejeën en inderdaad mettertyd totaal van hulle steun afhanklik geword. In die dagboek verwys hy na hulle as Lourens en Antonie, so asof hulle gewone Afrikanerseuns was (DB 1837:25 Augustus).

Na aanvanklike misverstande op die dag van hulle aankoms by Delagoabaai, blyk dit uit die dagboek dat daar vinnig hartlike verhoudinge tusen Tregardt en die Portugese ontwikkel het. Tregardt het aangeteken dat die goewerneur hulle almal, mans, vroue en kinders, die eerste aand na hulle aankoms by die fort onthaal het (DB 1838:13 April). Twee weke later, toe Tregardt se vrou Martha ernstig siek geword het, het die goewerneur se vrou haar tot en met haar afsterwe met groot deernis in haar eie huis verpleeg - 'n feit waarvan Tregardt met dankbaarheid in sy dagboek melding maak (DB 1838:21 April).

 

4. SLOT

Gustav Preller (1917:x-xv) het die volgende redes aangevoer waarom hy die dagboek as historiese bron hoog aangeslaan het:

1. Dat daar geen vergelykbare dokument uit die Voortrekker-era is wat soveel inligting oor die trekkersweë bevat nie.

2. Dit bevat onmisbare inligting oor die destydse inheemse gemeenskappe van die Oorvaalse geweste.

3. Dit is die enigste bron oor verskeie aspekte van Tregardt se eie trek asook oor die lot van Hans van Rensburg se trek.

4. Die teks is van groot taalkundige waarde.

5. Die lig wat die dagboek werp op sedes en gebruike, geloof, volksgeneeskunde, jag, handel, ruilwaardes, taal, trekgewoontes, woningbou en handwerk.

6. Dit bevat unieke inligting oor meteorologiese toestande in daardie tyd.

Die bespreking van onderwerpe waarop die dagboek lig werp, dui daarop dat Preller nie oordryf het met die hoë waarde wat hy aan die dagboek geheg het nie. Daar is geen ander primêre bron wat soveel inligting oor die lewens- en wêreldbeskouing, die leefwereld, alledaagse bedrywighede en oorlewingstryd van so 'n uiteenlopende groep Voortrekkers bevat as hierdie dagboek nie. Daarbenewens is dit 'n literêre skat en bevat dit 'n reeks aangrypende en verrassende beskrywings wat mens by die lees daarvan feitlik oorbluf laat. Die oorspronklike taal van die dagboek is deels maklik om te volg, maar daar is telkens sinsnedes en opmerkings aangeteken in 'n taal wat nie vir die moderne Afrikaanse leser verstaanbaar is nie. Alles in ag genome, bly Tregardt se dagboek 'n unieke, oneindig waardevolle dokument waarin daar, om Marwick (2001) se woorde in die eerste paragraaf van die referaat te herhaal, "'n skatkis van inligting ... opgesluit [is] vir diegene wat in staat is om dit raak te sien!"

 

BIBLIOGRAFIE

De Kock, H.C. 1938. Op Trichardt se spoor oor die Drakensberge. Pretoria: Van Schaik.         [ Links ]

Dicke, B.H. 1941. The Northern Transvaal Voortrekkers, Argief-jaarboek vir Suid-Afrikaanse Geskiedenis, Vierde jaargang, deel I. Kaapstad: Cape Times Ltd. vir die Staatsdrukker, Pretoria, pp 67-170.         [ Links ]

Ferreira, J. 2007. Die son kom aan die seekant op. Kaapstad & Pretoria: Human & Rousseau.         [ Links ]

Fuller, C. 1932. Louis Trigardt's trek across the Drakensberg, 1837-1838, edited by Leo Fouche. Cape Town: Van Riebeeck Society, first series, no. 13.         [ Links ]

Grobbelaar, P.W., Hudson, C.W. & Van der Merwe, H. 1977. Boerewysheid. Kaapstad: Tafelberg.         [ Links ]

Grobler, Jackie. 2013. Die Groot Trek. Gids totmonumente, terreine en gedenkplekke in Suid-Afrika. Pretoria: Kontak Uitgewers.         [ Links ]

Le Roux, T.H. (red.). 1966. Die dagboek van Louis Trigardt. Met inleiding, aantekeninge en glossarium. Pretoria: J.L. van Schaik Beperk.         [ Links ]

Marwick, A. 2001. The New Nature of History. Knowledge, Evidence, Language. Basingstoke: Palgrave.         [ Links ]

Metelerkamp, S. Triegard's Trek. The State of South Africa, V (4), April 1911, pp 544-555; V (5), May 1911, pp 723-734; V (6), June 1911, pp 848-862.         [ Links ]

Nathan, M. 1938. Die epos van Trichard en Van Rensburg. Pretoria: Van Schaik.         [ Links ]

Opperman, D.J. 1968. Voëlvry. Kroniekspel van 'n voortrek. Kaapstad: Human & Rousseau.         [ Links ]

Owen, F. 1926. The Diary of the Rev. Francis Owen, M.A. Missionary with Dingaan in 1837-38. Together with extracts from the writings of the interpreters in Zulu, Messrs Hulley and Kirkman, edited by Sir        [ Links ]

Geo E. Cory. Cape Town: The Van Riebeeck Society, first series, no. 7.         [ Links ]

Preller, G.S. (red.). 1917. Dagboek van Louis Trigardt (1836-1838). Met inleiding en aantekeninge deur Gustav S. Preller in opdrag van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Taal, Lettere en Kuns. Bloemfontein: "Het Volksblad"-drukkery.         [ Links ]

Preller, G.S. 1928. Sketse en Opstelle. Pretoria: J.L. van Schaik, Bpk.         [ Links ]

Preller, G.S. (red.). 1938. Dagboek van Louis Trigardt (1836-1838). Met inleiding en aantekeninge van Gustav S. Preller. Tweede, verbeterde uitgaaf. Ons Geskiedenis-Serie. Kaapstad, Bloemfontein & Port Elizabeth: Nasionale Pers, Beperk.         [ Links ]

Punt, W.H.J. 1953. Louis Trichardt se laaste skof. Pretoria: J.L. van Schaik Beperk.         [ Links ]

Smit, E. 1988. Joernaal van 'n trek. Uit die dagboek van Erasmus Smit, geredigeer deur G.S. Preller, ingelei en versorg deur Merwe Scholtz. Kaapstad: Tafelberg.         [ Links ]

Smuts, J. 1943. 'n Ondersoek na die ontwikkelingstadium van Afrikaans teen die tyd van die Groot Trek, veral na aanleiding van Trichardt se dagboek. PhD-proefskrif. Universiteit van Kaapstad.         [ Links ]

Thom, H.B. 1949. Die Geloftekerk en ander studies oor die Groot Trek. Kaapstad: Nasionale Pers.         [ Links ]

Van der Merwe, H.J.J.M. 1964. Scheepsjournael ende daghregister: fragmente uit 17de-eeuse Nederlandse skeepsjoernale, 'n verkorte weergave van Jan van Riebeeck se Daghregister volgens die Kaapse teks, die Dagboek van Franqois de Cuiper, 1725, en uittreksels uit Lewies Trigardt se Dagboek. Tekste byeengebring, versorg en van aantekeninge en 'n glossarium voorsien, tweede uitgawe, Pretoria: J.L. van Schaik Beperk.         [ Links ]

 

 

Jackie Grobler is 'n historikus verbonde aan die Departement Historiese en Erfenisstudies, Universiteit van Pretoria. Nege boeke het reeds uit sy pen verskyn, waaronder vroeër vanjaar Die Groot Trek. Gids tot monumente, terreine en gedenkplekke in Suid-Afrika. Daarbenewens het hy verskeie hoofstukke tot boeke bygedra, asook artikels -beide akademies en meer populêr van aard - oor 'n wye verskeidenheid historiese onderwerpe. In sy navorsing spits hy hom toe op die Groot Trekera, op die Anglo-Boereoorlog en op die fisiese herdenkingsplekke van Suid-Afrika. Hy dien op die Suid-Afrikaanse Geografiese Pleknameraad asook op die direksies van beide die Voortrekkermonument (Pretoria) en die Erfenisstigting.

Jackie Grobler is an historian attached to the Department of Historical and Heritage Studies, University of Pretoria. He has written nine books, of which the latest was published earlier this year, titled Die Groot Trek. Gids tot monumente, terreine en gedenkplekke in Suid-Afrika (The Great Trek. Guide to monuments, terrains and commemorative places in South Africa). In addition, he has contributed numerous chapters to books, and also articles - both academic and of a popular nature - on a broad variety of historical topics. In his current research he focuses on the Great Trek era, on the Anglo Boer War and on commemorative places and sights in South Africa. He serves on the South African Geographic Place Names Council and also on the board of directors of both the Voortrekker Monument (Pretoria) and the Heritage Foundation.

 

 

1 Le Roux (1966:189η).
2 Die beoogde titel is Louis Tregardt se dagboek 1836-1838. Die uitgewer is Kontak Uitgewers van Pretoria.
3 Byvoorbeeld in Metelerkamp (1911: 544-555; 1911:723-734; 1911:848-862). Die mees onlangse is Van der Merwe (1964).
4 Smuts (1943); Punt (1953) - 'n publikasie gebaseer op sy doktorale proefskrif, Universiteit van Stellenbosch, 1952.
5 Byvoorbeeld 'n hoofstuk in Thom (1949); hoofstukke in Preller (1928); en De Kock (1938).
6 Fuller (1932); Dicke (1941:67-170); en Nathan (1938).
7 Byvoorbeeld die roman van Ferreira (2007); en Opperman (1968).
8 Volg byvoorbeeld dagboekinskrywing op 2 Mei 1837. Hierna aangedui as DB (1837:2 Mei).
9 Vergelyk Smit (1988); Owen (1926).
10 Thom (1949:65).
11 Preller (red), Dagboek 1917: x-xv.
12 Dagboekinskrywings op 12-13 Maart, 13 Mei, 15 Junie en 25 en 29 Desember 1837 en 9 Maart 1838.
13 Dagboekinskrywings op 2 en 4 Oktober 1836, 11 en 12 Maart 1837 en 29 en 30 Augustus 1837.
14 Dagboekinskrywing op 21 en 29 April en 1 Mei 1838.
15 Volgens Preller (1938:269, voetnoot 106) was dit maroelabier.
16 Sien Grobbelaar et al. (1977:122).
17 Dagboekinskrywing op 15 en 30 Maart en 3, 17, 25 en 26 Augustus 1837.
18 Dagboekinskrywing op 14 April 1837. Volg ook dagboekinskrywing op 21 Julie en op 29 Desember
19 Punt (1953: 22-23); Fuller (1932: xv-xvi).
20 Verskeie dagboekinskrywings in Februarie en Maart 1838, spesifiek 13 Februarie 1838.
21 Verskeie dagboekinskrywings in Augustus 1837 asook in November 1837 - Januarie 1838.
22 Dagboekinskrywings op 7 November 1837 en 16 Januarie 1838.
23 Verskeie dagboekinskrywings in Januarie-Maart 1838, spesifiek 4 en 10 Februarie 1838.
24 Dagboekinskrywings op 19 en 22 Oktober 1836. Volg Le Roux (1966:191).
25 Dagboekinskrywings op 6 April, 1 12, 25 en 27-28 Junie en 10 Julie 1837.
26 Dagboekinskrywings op onder meer 31 Maart, 27 April en 1 Mei 1837.
27 Dagboekinskrywings op onder meer 12, 24 en 25 Oktober en 30 Desember 1836, 10 April en 25 Mei 1837 en 7 Maart 1838.
28 Dagboekinskrywings op onder meer 10 en 21 Oktober 1836, 28 Julie 1837 en 2 Januarie 1838.
29 Dagboekinskrywings op onder meer 10 en 17 Desember 1836, 2 Januarie, 23 Maart, 17 en 24 Junie 1837 en 27 Februarie 1838.
30 Dagboekinskrywings in Augustus en September 1836, 12 Maart 1837 en 24 Februarie, 10 en 30 Maart 1838; Punt (1953:34).
31 Dagboekinskrywing op 9 Maart 1838; Le Roux (1966:251).
32 Dagboekinskrywings op 31 Desember 1836 en op 9 Februarie 1837.
33 Dagboekinskrywings in September en Oktober 1836 en op 23 September 1837.
34 Dagboekinskrywings op 5 en 25 September en 2 en 10 Oktober 1837.
35 Dagboekinskrywing op 13 Februarie en 23 en 25 Maart 1838.
36 Dagboekinskrywings op onder meer 3-4 Junie en 18 Julie en 17 Januarie 1838.
37 Dagboekinskrywings op onder meer 10 en 12 Augustus 1836, 17 Mei 1837 en 15 Maart 1838.
38 Dagboekinskrywings op onder meer 18 Mei en 14-15 Augustus 1837 en 22 Maart 1838.
39 Dagboekinskrywings op 31 Julie - 17 Augustus 1836 en 2 Maart 1837.
40 Dagboekinskrywings op 3 en 13 Januarie, 29 Mei - 1 Junie, 17-18 Junie en op 14 Augustus 1837.
41 Byvoorbeeld dagboekinskrywing op 8 Maart 1837 en op 16-17 Januarie 1838.
42 Verskeie dagboekinskrywings tussen 2 Oktober 1836 en Augustus 1837. Sien Preller (1928:163).
43 Dagboekinskrywing op 10 Maart, 15 April en 13 Augustus 1837 en op 23 Februarie 1838.
44 Byvoorbeeld dagboekinskrywings op 23 November 1836 en op 9-10 Maart 1837.

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License