SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.53 número3The Great Trek 175: Story or history?Louis Tregardt's diary as an historical source índice de autoresíndice de assuntospesquisa de artigos
Home Pagelista alfabética de periódicos  

Serviços Personalizados

Artigo

Indicadores

Links relacionados

  • Em processo de indexaçãoCitado por Google
  • Em processo de indexaçãoSimilares em Google

Compartilhar


Tydskrif vir Geesteswetenskappe

versão On-line ISSN 2224-7912
versão impressa ISSN 0041-4751

Tydskr. geesteswet. vol.53 no.3 Pretoria  2013

 

RESEARCH AND REVIEW ARTICLES

 

Die aandeel van Potchefstroom in Voortrekker-staasvestiging

 

The part played by Potchefstroom in Voortrekker state formation

 

 

Gert van den Bergh

Departement Geskiedenis (emeritus) Noordwes-Universiteit, Potchefstroom

 

 


OPSOMMING

Die ontstaan van Potchefstroom was te danke aan Hendrik Potgieter se breuk met die Natalse Volksraad en sy behoefte aan 'n tydelike setelplaas vir sy gesagsuitoefening op die Hoëveld in afwagting op sy verskuiwing na Oos-Transvaal. Afsegging van daardie voorneme het gevolg op versoening met die Volksraad, die daarstelling van 'n Adjunkraad onder plaaslike Potgieter-beheer en gelei tot die vestiging van die tweede Potchefstroom. Na die anneksasie van Natal het die Volksraad na Potchefstroom verskuif en, uit vrees vir die implementering van die Cape of Good Hope Punishment Act vandaar, saam met Potgieter na Ohrigstad.
Die vrees dat Potchefstroom as voorwendsel tot Britse anneksasie van Transvaal kon lei het Potgieter oorreed om die dorp te ontruim. Die onsekerheid oor hul staatkundige status het die Potchefstromers se verhouding met die Ohrigstad-bewind vertroebel.
Andries Pretorius het algaande die onsekerheid verdryf en, deur sterk leiding, die politieke swaartepunt na Potchefstroom terug verskuif en beide Potgieter en die Volksraad as toonaan-gewende leier vervang. Deur sy toedoen is die Sandrivier-konvensie gesluit en Voortrekker-onafhanklikheid in Transvaal bevestig.

Trefwoorde: Voortrekkers, Groot Trek, Potchefstroom, Mzilikazi, staatsvestiging, Hendrik Potgieter, Andries Pretorius, Volksraad, Drie-en-Dertig Artikels, Pietermaritzburg, Ohrigstad, Sandrivier-konvensie


ABSTRACT

While Potchefstroom did not figure in the planning of Voortrekker state establishment, a variety of unforeseen factors led to its founding. These include Potgieter's aversion to settlement in Natal and his consequential break with the Natal Volksraad. The need to establish a capital from where his rule over the Voortrekkers west of the Drakensberg mountains could be conducted led to the founding of Potchefstroom, this despite Potgieter's aim of ultimately settling near Mozambique for the sake of foreign trade. In response to Potgieter's claim to independence the Volksraad appointed Jacob de Klerk as landdrost (magistrate) to counteract Potgieter's influence, the real aim being to persuade the Voortrekkers west of the Drakensberg mountains to settle in Natal. By the time of his reconciliation with the Volksraad in 1842 the Potgieter supporters had resolved to remain settled on the High Veld, but to shift Potchefstroom to a more suitable location.
A series of crises in the 1840s led to Potgieter's decision to abandon Potchefstroom: The British annexation of Natal in 1842 and the shifting of Volksraad sittings to Potchefstroom. This was followed by the threat of British annexation of the Transvaal, evoked by the Cape of Good Hope Punishment Act. The fear of British northward expansion into what Potgieter and the Volksraad claimed as Voortrekker territory had been haunting them from the advent of the Great Trek. The Punishment Act claimed to extend British territory up to the 25th latitude. Fearing the legitimacy of this claim Potgieter and the Volksraad moved to Ohrigstad in 1845 and established it as the new Voortrekker capital. While some half of the High Veld Voortrekkers moved to the new settlement, the remainder refused to budge, but had no option but to acknowledge Volksraad rule. They now found themselves sandwiched between the encroaching British annexation threat from the south and the Volksraad pressure to forsake Potchefstroom andjoin the Ohrigstad settlement.
The undefined location of the 25th parallel provoked the displeasure and discomfort of the Potchefstroom dwellers to the extent of dividing their loyalty toward the Ohrigstad regime.
A new and novel approach to the Potchefstroom problem was provided when Andries Pretorius left Natal to settle on the High Veld in 1848, at the same time that the governor of the Cape Province, Sir Harry Smith, established British control over what was to be known as the Orange River Sovereignty. Incensed by this, seemingly arbitrary action, Pretorius called the Voortrekkers in the northern part of the Sovereignty to arms in an effort to have Smith's annexation revoked. Pretorius's defeat at Boomplaats served only to antagonise Ohrigstad and Potchefstroom dwellers alike.
Propagating a united Voortrekker republic north of the Vaal River, re-established Pretorius's leadership in Potchefstroom, but further alienated Potgieter and the Volksraad. In defiance of a Volksraad resolution, Pretorius was elected Commandant-General by the Potchefstroom community, an appointment which the Volksraad, in a roundabout way, was obliged to acknowledge in 1851.
By now Pretorius, acknowledged as the spokesman for Potchefstroom interests, began pressing the Volksraad for accepting the Vaal River as the southern boundary of the republic, thereby incorporating Potchefstroom in the republic. Encouraged by the influence of the Dutch spokesmen, JA Smellekamp and HT Bührmann, the Volksraad, now sitting in Lydenburg, confirmed the 25th latitude as the limit of its authority thereby formally rejecting title to Potchefstroom. The Potchefstroom community recognised in Pretorius their salvation against both British expansionist inclinations and the wavering Volksraad. Ensured of the support of Potchefstroom, Pretorius now resolved to treat directly with the Cape government, making full use of the powers conferred on his title of Commandant-General. In what amounted to a coup d'etat on the Volksraad, and aware of diplomatic problems faced by Britain in Europe and Southern Africa, he arranged to meet with British commissioners to settle the political status of the Voortrekkers in the Transvaal. The negotiations resulted in the Sand River Convention of 1852, whereby the Transvaal Voortrekkers were recognised as independent and the Vaal River as the boundary between the British territories in the south and the Voortrekkers in the Transvaal.
Between its unlikely founding in 1838 and the final recognition of Voortrekker independence, Potchefstroom was the catalyst of the establishment of a Voortrekker state in the Transvaal. Not only did it counter all attempts to establish the Voortrekker body politic in the Eastern Transvaal, but thanks to the unrelenting efforts of Pretorius, political initiative shifted back to Potchefstroom. The Sand River Convention opened the way to the establishment of The South African Republic with Potchefstroom as its capital.

Key words: Voortrekkers, Great Trek, Potchefstroom, Mzilikazi, state formation, Hendrik Potgieter, Andries Pretorius, Volksraad, Thirty-three Articles, Pietermaritzburg, Ohrigstad, Sand River Convention


 

 

Vir die doel van hierdie artikel word die Groot Trek geag as die verhuising van Nederlandstalige bewoners van die oosgrensgebied van die Kaap Kolonie ten einde 'n bestaan elders in Suider-Afrika onafhanklik van Britse beheer te voer. Dit het in 1836 'n aanvang geneem en is in 1852 met die Sandrivier-konvensie afgesluit.

Drie bedreigings moes te bowe gekom word. Eerstens was daar die vermeende en werklike bedreiging dat die Britse regering die Voortrekkers sou agterhaal om die Trek ongedaan te maak. Dit was die bedreiging van agter. Daarnaas was daar die magtige swart stamme wat die vestiging van die Voortrekkers sou betwis. Dit was die bedreiging van voor. Derdens was daar die onver-kwiklike twis onder Voortrekkerleiers oor finale vestigingsdoelwitte en regeringstruktuur. Dit was die bedreiging van binne.

Die eerste pogings tot grondwetvorming is deur Hendrik Potgieter op 2 Desember geneem, pas nadat sy talryke Trek die Kaapkolonie verlaat het en hy as leier van dié Trek aanvaar is (Oberholster 1968:665). Na gelang meer Trekke, soos dié van Petrus Uys, Gerrit Maritz en Piet Retief, in die Trans-Gariep opgedaag het, is op 6 Junie 1837 'n algemene vergadering gehou en is omvattende wetgewende besluite geneem. Daardeur is 'n "staat op wiele" gevestig in afwagting op finale staatsvestiging. Onderskeid moet getref word tussen gebiedsvestiging en staatsvestiging.

Reeds voor die aanvang van die Groot Trek het die leiers onderling verskil oor die finale vestigingsgebied. Die grootste groep Voortrekkers het reeds voor die Groot Trek, na aanleiding van kommissieverslae, op vestiging in Natal besluit (Wichmann 1941:6-7). Hul vernaamste oorweging was om daar 'n republiek te vestig en, deur Port Natal, buitelandse betrekkinge te verseker. Die gevolg was die vestiging van die Republiek Natalia en 'n Volksraad met Pietermaritzburg as setelplaas.

Natalia was nie die enigste Voortrekkervestigingsideaal nie. Een van die eerste trekgroepe om die Kolonie te verlaat, was dié van Louis Tregardt. Hy het tot so ver as die Soutpansberg getrek en daar op Potgieter se trek gewag om, soos vooraf afgespreek, saam ooswaarts te verskuif om in die omgewing van die Portugese hawens in Mosambiek te vestig met die oog op buitelandse handel. Potgieter se oortuiging dat Brittanje nooit sou toelaat dat die Voortrekkers 'n eie hawe besit nie, het van hom 'n verbete teenstander van vestiging in Natal gemaak. Hy sou die stigter van 'n alternatiewe Voortrekker-staat wees.

 

1. AANLOOP TOT DIE STIGTNG VAN POTCHEFSTROOM

Die vestiging van Potchefstroom was nie 'n oogmerk van enige van die Voortrekkerleiers nie. Die dorp het sy grondlegging aan uiteenlopende en onvoorsiene faktore te danke gehad.

Die vernaamste daarvan was die uitgestrekte Ndebele(Matabele)-ryk van koning Mzilikazi in Transvaal waardeur Potgieter gekonfronteer is. Die moorde op enkele van sy volgelinggroepe noord van die Vaalrivier in Augustus 1836 gedurende Potgieter se afwesigheid op soek na Tregardt en die daaropvolgende Slag van Vegkop in Oktober, het die besef laat posvat dat Transvaal nie beset sou kon word alvorens die Ndebele-bedreiging verwyder is nie. Die verlies van al die vee het die Trek tot stilstand gebring. Aan die plus-kant was die hulp van die Rolong-hoofde wat die Potgieter-trek in staat gestel het om na Thaba Nchu te verskuif. Daar aangekom, het Potgieter 'n blywende bondgenootskap met hulle, veral met Machavi (Matlabe) aangegaan. Omdat Mzilikazi hul tuislande in Wes-Transvaal beset het, was ook die Rolong gretig om hom te verdryf sodat van hom 'n gemeenskaplike vyand gemaak is (Van der Merwe 1986:20; 137-142). Beide om Transvaal van die Ndebele te suiwer en die geroofde vee, wat by Vegkop weggevoer is, te herwin is twee ekspedisies teen die Ndebele onderneem. Die Rolong-hoofde het daaraan deelgeneem en ook kontingente van Uys en Maritz. Die uitslag van die eerste onderneming was onbeslis, maar na die tweede het Mzilikazi Transvaal ontruim. Daarvan was Potgieter onbewus.

Van onmiddellike belang was die toenemende vervreemding tussen Uys en Maritz aan die een en Potgieter aan die ander kant. Die kernoorsaak daarvan was teenstrydige sienings oor die aard van Voortrekker-regering. Maritz en Uys was, soos Retief en na hom Andries Pretorius, voorstanders van 'n demokratiese bestel, terwyl Potgieter vasgevang was in die patriargale bestuur wat steeds in sy laers gegeld het.

Ook was hy steeds gekant teen vestiging in Natal. Tog het hy met 'n gedeelte van sy volgelinge agter die ander Voorrekkers aan Natal toe gegaan. Die verklaring daarvoor was dat hy, bewus van die probleme met die Zoeloes wat op sy mede-Trekkers in Natal gewag het, hul veilige vestiging wou bystaan as 'n quid pro quo-gebaar vir die steun wat Uys en Maritz teen die Ndebele aan hom verleen het.

Die fiasko van die Italeni-geveg, waarvoor die skuld voor Potgieter se deur gelê is, het hom nogmaals van vestiging in Natal laat afsien en hy het na sy gevestigde laers aan die Vetrivier teruggekeer (Oberholster 1968:667). In April 1839 het hy begin om plase aan sy volgelinge in die sg. Vetrivier-gronde wat hy van die Bataung hoof, Makwana, bekom het, toe te ken.

Gedurende die ongeveer 14 maande dat Potgieter se laers in daardie geweste vertoef het, was daar voldoende geleentheid om die terrein onmiddellik noord van die Vaalrivier te verken (Van den Bergh 1989:301-303). In afwagting op die besetting van Transvaal het Potgieter ook plase aan die Mooirivier, Schoonspruit en Vaalrivier aan sy volgelinge toegeken (Van den Bergh 1990:302).

Twee oorwegings het die besetting van Transvaal vertraag. Daar was onsekerheid oor waar Mzilikazi hom bevind het en sonder sekere kennis daaroor was verskuiwing noord van die Vaalrivier riskant. Hierdie probleem is besweer deur 'n sterk verkenningspatrollie wat bevind het dat, met die uitsondering van 'n vegkraal in die omgewing van waar Pretoria later sou verrys (Silkaatsnek), die Ndebele Transvaal ontruim het (Van der Merwe 1986:276). Dat Potgieter op daardie stadium van die besettingsmoontlikheid van Transvaal oortuig was, blyk daaruit dat plaasuitgifte in die Vetrivier-gronde in Oktober 1838 gestaak is (Van den Bergh 1990:303).

Daarnaas was Potgieter steeds besorgd oor die veiligheid van die Voortrekkers in Natal en wou hy nie te ver van hulle wegtrek voordat die op hande synde Bloedrivier-Slag beslis is nie. Boonop het van Potgieter se aanhangers, veral die groep van De Klerk (De Clerq) aan die Schoonspruit, voldoen aan Pretorius se oproep vir steun vir die slag. Na ontvangs van die gunstige uitslag daarvan het Potgieter Potchefstroom op 22 Desember 1838, die ligging waarvan ongetwyfeld reeds bepaal was ten tye van plaasuitgifte aan die Mooirivieroewers, geproklameer. Besetting moes egter wag vir die terugkeer van die De Klerk-kontingent, wat waarskynlik eers vroeg in Januarie 1839 plaasgevind het (Van den Bergh 1989:25).

 

2. DIE VOORKOMS EN OPSET VAN DIE EERSTE POTCHEFSTROOM

Die eerste Voortrekkerdorp, Pietermaritzburg, se voorkoms kan soos volg getipeer word:

  • Dit is in 'n reëlmatige roosterpatroon uitgelê.
  • Woonblokke is in reghoekige erwe beplan.
  • Daar was sentraalgeleë regerings- en openbare pleine.
  • Watervore is vir huishoudelike en besproeiingsdoeleindes gebou.
  • Administratiewe en woonstrukture was van permanente aard.
  • Daar was 'n kerk.
  • Administrasie was in die hande van 'n verskeidenheid amptenare.

Die eerste Potchefstroom het nie een van hierdie kenmerke vertoon nie. Dit het trouens in geen opsig die voorkoms van 'n dorp gehad nie.

Daar bestaan slegs twee bondige, kontemporêre beskrywings daarvan. Beide is van reisigers wat skynbaar slegs enkele dae daar vertoef het. Die eerste is dié van ' n persoon met die skryfnaam Viator wat Potchefstroom gedurende Maart 1840, dus sowat 'n jaar na sy vestiging, besoek het (De Zuid-Afrikaan, 19/06/40).

'n Tweede beskrywing van die dorp is ook in 1840 deur 'n amptenaar van die British East India Company, ene Kinloch, geboekstaaf (Du Toit 1990:4). Sy gegewens is skraler as dié van Viator. Insiggewend is sy vermelding dat, na meer as 'n jaar se besetting, daar slegs een of twee permanente strukture was. Die ander dorpenaars was meesal nog in waens of tente tuis. Alles getuig van landelikheid en tydelikheid.

Potchefstroom se bestaansregverdiging is geleë in ekonomiese en politieke oorwegings.

Heelparty van Potgieter se volgelinge, soos trouens die geval was met ander Trekke, was sodanig deur botsings met swart stamme "geruïneer" dat hulle nie in staat was om 'n plaas te bedryf nie en genoodsaak was om 'n bestaansekonomie op 'n een-morg dorpserf te voer. Volgens Viator was daar op Potchefstroom 30 sulke gesinne en is vir 200 voorsiening gemaak.

Van meer betekenis was die politieke oorweging. Teen die agtergrond van sy breuk met die Natalse Volksraad was dit vir Potgieter noodsaaklik om 'n setelplaas - 'n ampsadres - te vestig vanwaar hy sy gesag kon uitvoer. Potchefstroom sou dit wees, ongeag hoe tydelik ook al sy verblyf in Wes-Transvaal sou wees en ten spyte van die feit dat sy regering nie fisies daar gesetel het nie.

Deeglik bewus van die staatkundige oogmerke van Potgieter, was die bestaan van Potchefstroom vir die Volksraad 'n moeilike neut om te kraak. Hul oogmerk was steeds om al die Voortrekkers te oorreed om hulle in Natal te vestig. Ook was al die Trekkers in die gebied wes van die Drakensberge nie gediend met Potgieter se outokratiese bestuur nie en het voorkeur gegee aan die meer demokratiese Volksraadsbeheer. As 'n tussentydse maatreël moes die Volksraad Potgieter se gesag betwis deur die aanstelling van Jacob de Klerk as landdros met 'n volle komplement van kryg- en administratiewe personeel en met sy setel aan die Schoonspruit.

Daardeur is die Volksraad se probleme vergroot eerder as verklein. Die sterk gevoel van die Potchefstromers teen De Klerk en die Volksraad het Viator opgeval. Hy verhaal hoedat Potgieter en sy aanhangers deur die "ander factie" onder valse voorwendsels verlei is om in Natal te vestig en daar deur hulle "mishandeld en belasterd" is. Nadat die Potgieter-groep uit Natal terug is Hoëveld toe en hul eie "verblyfdplaats hebben gevonden" het die Natallers daarop gereageer deur hulle "aan (te) dringen" deur hulle in die Potgieter-groep se sake in te meng. Die toonbeeld van hierdie verontregting is aan Viator verduidelik, naamlik die aanstelling van De Klerk om plase op die Hoëveld uit te gee en reg te spreek.

Dat De Klerk se aanstelling nie bedoel was om Voortrekker-vestiging wes van die Drakensberge by die Republiek in te sluit nie, is bevestig in 'n volksraadsbesluit van 9 Maart 1840;

"Mooij Rev(ier) en Schoonspruit tot zayengen bepaald"(Breytenbach 1958:38).

Dit was 'n lomp poging van die Volksraad om die spanning op die Hoëveld te besleg. Deur Potchefstroom, die enigste aanspraakmaker op dorpstatus in Transvaal, as sodanig te erken, sou die Volksraad aan Potgieter 'n mate van status toesê wat die Volksraad se belange nie sou bevorder nie. Om aan die ander kant die status van die veel kleiner Schoonspruit-nedersetting tot dié van dorp te verhef, was onsinnig. Die verskuilde verwagting van die Volksraad was steeds dat die Voortrekkers "gene zijde der Drakensberg" na Natal gelok sou word om die "maatschappy" daar te versterk.

Die uitweg vir die Volksraad was dus om beide nedersettings as landbounedersettings te omskryf. Dit val op dat die Volksraad konsekwent verseg het om na Potchefstroom as dorp te verwys.

'n Reeks gebeure tussen 1840 en 1848 het die politieke status van Potchefstroom telkemale laat styg en weer laat krimp. Deur die bemiddeling van Andries Pretorius is 'n versoening tussen Potgieter en die Volksraad in Oktober 1840 aangegaan. In ruil vir erkenning van die Volksraad se gesag wes van die Drakensberge is Potgieter se status as leier van die Trekkers op die Hoëveld bevestig en sy raad as Adjunkraad van die Volksraad erken. Vir die eerste keer is Potchefstroom as dorp en setel van die Adjunkraad erken en is De Klerk opdrag gegee om sy drosdy daarheen te verskuif, maar voortslepende onmin tussen hom en Potgieter het gelei tot De Klerk se bedanking (Preller 1924:154).

 

3. DIE STIGTING VAN DIE TWEEDE POTCHEFSTROOM

Een gevolg van die politieke versoening was die ontruiming van die eerste Potchefstroom en die aanleg van die huidige.

Tussen die Britse anneksasie van Natal in 1842 en die erkenning van die onafhanklikheid van die Voortrekkers in Transvaal in 1852, was Potchefstroom se voortbestaan vir 'n tweede keer in die gedrang.

Die Britse anneksasie van Natal het vir die Voortrekkers 'n staatkundige krisis meegebring. Hoewel die Volksraad nog 'n ruk lank 'n futlose bestaan gevoer het, het Potgieter die gebied onder die toesig van die Adjunkraad - nou die Burgerraad genoem - in April 1844 onafhanklik verklaar (Oberholster 1968:668).

Ook in ander opsigte was die middel-veertigerjare betekenisvol. Die Volksraadsittings in Pietermaritzburg het uitgerafel en in 1845 is sittings daar gestaak. Aangewakker deur hernude botsings met die Volksraad, nou in Potchefstroom gevestig, het die anneksasie van Natal Potgieter se drang na Oos-Transvaal laat herleef. In hierdie tyd ontstaan die gevierde Drie-en-Dertig Artikels, verkeerdelik as 'n grondwet deur historici vertolk.1 In werklikheid is die opstel van die dokument deur die Volksraad gelas en bedoel as 'n regsprekende addendum tot die bestaande grondwet.

Die tentatiewe aanleg van die eerste Potchefstroom was gekoppel aan Potgieter se voorneme om hom in Oos- of Noord-Transvaal te vestig. Hiervan het hy afgesien toe hy met die Natalse Volksraad 'n politieke versoening aangegaan het. Die anneksasie van Natal het anneksasievrees by Potgieter laat herleef. Hierdie keer sou dit wentel om die sogenaamde Cape of Good Hope Punishment Act van Augustus 1836 (Eybers 1918:146).

Hierdie wet is deur die Britse Parlement uitgevaardig met die uitsluitlike doel om nie-blankes in die gebiede noord van die Kaapse grens teen misdadige blankes te beskerm, aangesien die Kolonie se wette dit andersins nie kon doen nie. Die wet het uitdruklik bepaal dat dit nie Britse "Claims or Title whatsoever to Dominium or Sovreignty" oor sodanige gebiede geïmpliseer het nie, maar die anneksasie van Natal het goewerneur George Napier van die Kaap aangespoor om 'n meer verskuilde vertolking van die wet aan die Voortrekkers, in September 1842, voor te hou as sou dit Britse gesag tot aan die 25ste suiderbreedtegraad inhou. Hierdie grenskeuse was enigsins arbitrêr en moontlik met opset vaag.

 

4. POTGIETER EN DIE VOLKSRAAD VERSKUIF NA OHRIGSTAD

Die magiese Act het gevolglik die voorwendsel voorsien om Potgieter se verhuising na die Portugese hawens uiteindelik te verwesentlik en in 1845 het Potgieter en die Volksraad Potchefstroom ontruim en na Ohrigstad verhuis.

Potgieter was daarvan oortuig dat die gewraakte Act aan Brittanje de jure-gesag suid van die grens verleen het en dat Voortrekker-onafhanklikheid bokant die grenslyn de facto-erkenning sou geniet.

Wat Potchefstroom betref, het hierdie toedrag van sake nie slegs sy status in die gedrang gebring nie, maar ook sy wesentlike voortbestaan bedreig. Potgieter, die stigter van Potchefstroom, het nou die behoud daarvan as 'n bedreiging vir Voortrekker-onafhanklikheid ingesien - dat die behoud daarvan verdere Britse anneksasie, wat tot Ohrigstad kon uitkring, sou uitlok. Tot sy teleurstelling het ruim die helfte van die Potchefstromers verseg om te verskuif. Tog was Potgieter se invloed sterk genoeg om die restante Potchefstromers se lojaliteit te behou. Hulle het hulle steeds as deel van die "vereenigd maatschappy" beskou en landdros Visage het van die Ohrigstad Volksraad sy instruksies gevra (Breytenbach 1949:157). Ten einde die afsterf van Potchefstroom te verseker het Potgieter selfs alle dokumentasie oor Potchefstroom met hom saamgeneem (Breytenbach 1949:156-7).

Die Potchefstromers se gediendheid met die Ohrigstad-bewind het sy perke gehad. Onversigtige bewoording van volksraadsbesluite het tot die onsekerheid en spanning onder die Potchefstromers bygedra. Aanvanklik het hulle hul uitsluiting uit Voortrekker-staatsvorming probeer beredder deur, pas na die verhuising, Potgieter te oortuig dat die 25 suiderbreedtegraad ongeveer met die Vaalrivier saamval (Breytenbach 1949:156.) Toe dit nie slaag nie, wou hulle weet watter reg die Ohrigstad-bewindhebbers gehad het om die Potchefstromers van die "wettige gronde aan onze maatschappy behoorde" uit te sluit. Toe Potgieter oor die 26ste graad as grens en die onsekere posisie van Potchefstroom voet by stuk hou, het die Potchefstromers sy weifelende standpunt probeer besweer deur by die Volksraad op 'n juiste aanduiding van die 26ste graad aan te dring (Pretorius 1924:223), aangesien, so het hulle geredeneer, die Volksraad se gesag daar geëindig het en Potchefstroom moontlik daarbuite val, hulle nie seker was of hulle die Volksraad se gesag verder sou erken nie (Breytenbach 1949:156).

'n Derde faktor het ook ten tye van die anneksasie van Natal op die toneel verskyn. Dit was die Nederlander, JA Smellekamp, wat sedert 1842 as gesant van Nederlandse handels- en politieke belange sy opwagting by die Natalse Voortrekkers gemaak het. Sy opvatting, dat die Punishment Act geldige gebiedsaansprake behels het, maar op die 25ste suiderbreedtegraad geëindig het, is gretiglik deur Potgieter en die Volksraad aanvaar.

Die knoop is deurgehak toe die Volksraad in Januarie 1846 verklaar dat sy wette voortaan slegs aan die Ohrigstad-kant van die Olifantsrivier sou geld waaruit die Potchefstromers afgelei het dat die Volksraad sy gesag oor hulle finaal laat vaar het en bereid was om die gebied aan die Britte af te staan (Breytenbach 1949:165, 210).

Van hul kant het die Potchefstromers steeds sitting op die Volksraad geneem, aan handelskommissies na Lourengo Marques deelgeneem, onderhandelingskommissies met swart stamme meegemaak en militêre diensplig gelewer,2 maar hul later begin verset teen die verskaffing van kommando's en kommissielede tot tyd en wyl daar sekerheid oor hul status geheers het. Hieruit blyk die Voortrekker-regeerders se gretigheid om Wes-Transvaal te behou, maar ook hul skuheid om vir erkenning daarvan by die Britte aan te dring (Pretorius 1924:218, 344).

In 1845 het landdros Visage daarop gewys dat hy bloot 'n nuusoordraer vir Potgieter was en gevolglik in sy hoedanigheid as landdros in beheer van plaaslike administrasie geen aansien onder die Potchefstromers geniet het nie. Hy wou bepaaldelik weet of Potgieter van plan was om Potchefstroom "te behou" (Pretorius 1924:65,167). Visage se standpunt is teen 1846 deur Jan en alleman onder die Potchefstromers gedeel.

Solank Potgieter en die Volksraad op goeie voet met mekaar omgegaan het, het die Potchefstromers geen ander keuse gehad nie as om hulle die opdragte en instruksies van Ohrigstad af te laat welgeval. Teen April 1846 het die ontevredenheid reeds sulke afmetings aangeneem dat die Hoëvelders hul eie amptenare, sonder verwysing na Ohrigstad, begin aanstel het en die pro-Volksraads-amptenary gekla het dat hul gesag "alhier zeer swak ofte niet erkent worde" (Pretorius 1924:223).

Die Transvaalse staatkunde is gedurende die tyd onder bespreking deur drie werklike en een vermeende faktor bepaal. Laasgenoemde was, soos reeds gesien, die vrees vir Britse anneksasie van Potchefstroom en sy omgewing. Hoewel die verwesenliking daarvan nooit deur die Britte ernstig oorweeg is nie, was dit die katalisator waardeur die ander drie faktore se onderlinge betrekking bepaal is.

Potgieter se gevestigde gesagsposisie in Transvaal is uit twee kante bedreig. Eerstens deur die herinstelling van Volksraadsbestuur in Ohrigstad en tweedens deur die vestiging van Andries Pretorius in Wes-Transvaal in Desember 1847. Teenoor eersgenoemde moes hy sy gesagsaansien afstaan, of ten beste, deel en teenoor laasgenoemde algaande sy invloed in die Potchefstroomgeweste sien kwyn. Die werklike bedreiging vir Potgieter se gesag was die Volksraad en Pretorius en nie in die Punishment Act nie.

Vir die lot van Potchefstroom was al die faktore van belang. Wat die Volksraad betref, is 'n wanopvatting dat die een wat in Ohrigstad gefunksioneer het 'n ander liggaam was as die een wat in Natal deur die Britse anneksasie ontbind is. In werklikheid was dit dieselfde liggaam wat van Pietermaritzburg vir 'n wyle na Potchefstroom verskuif het en vandaar na Ohrigstad (Sien ook Preller 1924:iii-iv).

Die status van Potchefstroom gedurende die eerste jare na 1845 het om 'n aantal faktore gewentel. Eerstens was daar die vermeende Britse anneksasiebedreiging uit die suide, beklemtoon deur die anneksasie van Trans-Oranje by name Oranjerivier Soewereiniteit in 1848.

Tweedens geld die Ohrigstad-standpunt dat voortgesette Voortrekker-aanspraak op Potchefstroom beide wettig en militêr onhoubaar was. Derdens is Potchefstroom se posisie beklemtoon deur hernude gesagsbotsings tussen Potgieter en die Volksraad vanaf 1846 aangesien die twistende partye in Ohrigstad beide van steun uit Potchefstroom afhanklik was.

Potgieter se botsings met die Volksraad en sy verwerping van die Raad se gesag het uitgeloop op nog een van sy verhuisings, hierdie keer na Schoemansdal en die vestiging daar van die sogenaamde "Potgieter-Grondwet" van September 1846 waaromheen hy sy volgelinge wou skaar (Breytenbach 1949:214). In wese was die Potgieter-Grondwet 'n terugkeer na die eenmansregering waarop hy in 1838, na sy breuk met die Natalse Volksraad, teruggeval het. Die Potchefstromers het dit onomwonde aan beide partye gestel dat hul steun onderhewig was aan bevredigende bylegging van die grenskwessie en erkenning van die status van Potchefstroom (Pretorius 1924:289; Breytenbach 1949:156). Die waarheid was dat Potchefstroom, anders as die sukkelende Ohrigstad en nuwe Schoemansdal, reeds 'n gevestigde dorp was wat gewoond geraak het aan 'n ordelike en demokratiese burgerlike bestuur (Breytenbach 1949:235, 239, 240).

 

5. DIE KOMS VAN ANDRIES PRETORIUS

Die verskyning van Andries Pretorius op die toneel in 1847 het aan die Transvaalse staatkundige bestaan 'n derde en aggressiewe dimensie verleen.

Sy beleid en optrede het in hoofsaak van dié van Potgieter en die Volksraad daarin verskil dat, anders as om voortdurend oos- en noordwaarts uit te wyk, hy die de jare-erkenning van onafhanklikheid wou afdwing deur 'n diplomatieke sterkmansbeeld teenoor sowel die Britse gesag, die Volksraad en Potgieter voor te hou, wat nie anders kon nie, as om by die Potchefstromers byval te vind.

Pretorius se koms was egter nie 'n onbedekte seën nie. Dit het aanvanklik slegs 'n verdere faktor verleen. Mettertyd egter, sou sy onwrikbare standpunt oor die onafhanklikheid van die Potchefstroom-geweste die tanende beeld van Potgieter as leier finaal ondermyn en hom in die oë van Potchefstromers op die agtergrond skuif.

Pretorius se koms is met min entoesiasme deur die Potchefstromers, wat hom nog nie vergewe het vir sy aanvaarding van Britse gesag in Natal nie, begroet. Ten tye van die verhuising na Ohrigstad het beide die Volksraad- en Potgieter-groep sy gesag as voormalige kommandantgeneraal van Natal uitdruklik verwerp (Pretorius 1924:128).

Nie hierdeur van stryk gebring nie, het Pretorius geen tyd verkwis om sy siening van die probleem rakende Potchefstroom se status uiteen te sit nie. "Waarde landgenoten en vrienden, waar kunt gy ons tog eene weg aanwyzen?" vra hy in April 1848 met verwysing na die beleid van Potgieter en die Volksraad en die armoede wat die ewige wegtrekkery vir die Voortrekkers gebring het. "Ziet gy niet dat gy u edelen niet kund vry trekken...wat kan nu worden gedaan? Weder onderwerpen? Spiegel u aan den lieden in Natal. Weder verder vlugten? Daarom broeders ... neemt nu God in u edelens harten en den swaard in u edelens handen en verdedig u edelens regten en u edelens vrijheid" (Pretorius 1924:313).

Sy houding van aktiewe verset teen Britse gesagsuitbreiding na Transvaal het baie Potchefstromers tot sy siening oorgehaal en teen Februarie 1848 was 'n groot groep van hulle reeds bereid om hom as hul kommandant te erken (Pretorius 1924:403).

Deur die vertroue van die Potchefstromers aangemoedig, het Pretorius Britse indringing, ook in die Soewereiniteit wyd en syd verdoem.

Op 'n gesamentlike Potgieter-Pretorius vergadering op 15 Mei 1848 te Potchefstroom is 'n kompromis aangegaan. Potgieter sou 'n brief aan sir Harry Smith, die goewerneur van die Kaap-kolonie, rig en hom versoek om Britse gesag suid van die Vaalrivier, minstens oor die Winburgers, terug te trek. In ruil sou Pretorius van sy oorlogsplanne om dieselfde doel te bereik, afsien. Die Potgieter-brief is 'n model van nederigheid en het verseker dat die Kaapse Goewerneur hom meer tot Potgieter as tot Pretorius aangetrokke sou voel. In sy antwoord van 28 Mei bestempel hy Potgieter as vriend en vredemaker en Pretorius as misleidend, opruiend en eersugtig. Potgieter se ruggraatloosheid het aan Smith die geleentheid gebied om hom die versekering te gee dat hy steeds al die Transvalers as Britse onderdane reken en mettertyd Britse magistrate oor hulle sou aanstel (Pretorius 1924:316, 318, 330, 335, 359). Smith se brief was vir Potgieter die bevestiging van sy diepste vrees, naamlik dat Pretorius se onbesonne optrede slegs aanleiding tot anneksasie sou gee. In werklikheid is Potchefstroom se status minder deur Pretorius se optrede bedreig as deur die siellose houding van Potgieter en die Volksraad onder invloed van die orakel, Smellekamp.

Pretorius se ongeduld het gelei tot die geveg en neerlaag by Boomplaas in Augustus 1848 en weereens 'n afname van sy aansien. Smith se uitnodiging aan Potgieter om met hom te Winburg samesprekings te hou, is van die hand gewys. Tog het Potgieter gepleit dat Smith die Voortrekkers, in ruil vir goeie gedrag "aan deze zyde Vaal revier niet sult moeielyk zyn"(Pretorius 1942:341, 346, 349).

Teen die einde van 1848 was die Transvaalse politiek op die rand van chaos. In die noorde het die twiste tussen Potgieter, nou in Schoemansdal, en die Volksraad, nou in Lydenburg, voortgeduur. Aan die stryd tussen Potgieter en Pretorius in die suide oor die vraagstuk van 'n Voortrekkersuidgrens sou die Volksraad, voortaan deur sy verteenwoordiger, Bührmann, klappe na beide Potgieter en Pretorius uitdeel (Breytenbach 1949:269).

Bührmann se beskuldiging dat Potgieter en Pretorius, hoewel uit verskillende hoeke, te behep was om Potchefstroom te red en dat beide van hulle op 'n outokratiese regering ingestem was, het daartoe gelei dat die twee leiers algaande tot mekaar aangetrokke sou voel. Botsings met die Volksraad, gemeenskaplike en toenemende besorgdheid oor die Vaalrivier as grens en die bewese ongesondheid en swart verset waardeur die Oos-Transvaalse nedersettings geteister is, het die politieke swaartepunt algaande terug verskuif na Potchefstroom. Potgieter het al meer tot die besef gekom dat, alhoewel sy hart steeds noordwaarts geneig het, hy gevaar geloop het om, weens die invloed van Pretorius, alle steun in die Potchefstroom-geweste te verbeur.

Van groot belang was die aansienlike demografiese verskuiwing wat sedert die verhuising na Ohrigstad in 1845 in die suid-westelike kwart van Transvaal ingetree het. Die groep Voortrekkers wat na die verskuiwing in die gebied agtergebly het se getalle is deurlopend aangevul deur nuwe aankomelinge uit die Soewereiniteit en Natal, sowel as deur 'n gestadigde stroom van mense wat uit Oos-Transvaal teruggekeer het na die Potchefstroom-omgewing. Pretorius kon hom gevolglik daarop beroep dat hy namens en "hier in het midden der dikke bevolking" spreek (Breytenbach 1950:206).

Die gelykmakende faktor in die Ohrigstad-Lydenburg-Soutpansberg-Potchefstroom-woelinge was die gemeenskaplike strewe na politieke eenheid en onafhanklikheid. Hieraan was die grenskwessie vir Potgieter en die Volksraad ondergeskik, maar vir Pretorius was dit niks minder nie as die voorvereiste vir enige nasionale bestaan. Hiermee was hy die realis wat besef het dat daar geen sprake kon wees van nasionale eenheid sonder nasionale grense nie en na die verlies van Natal en Transoranje, kon nie ook van die digsbevolkte Voortrekker-streek in Transvaal afgesien word nie. Deur hierdie faktor te probeer omseil, het die twee partye wat nedersettings in Oos-Transvaal as kern vir 'n Voortrekker-staat vooropgestel het, aansien in Potchefstroom verloor en het die Wes-Transvalers weer met die aanvang van die vyftigerjare na Pretorius as die leier in hul midde opgesien. Teen hierdie tyd het ook Potgieter se sterkste steunpilaar in Potchefstroom, kommandant Gert Kruger, al meer na Pretorius begin oorhel. 'n Sterk bewoorde brief aan die Britse gesagvoerder in die Oranjerivier Soewereiniteit, majoor Warden, waarin Pretorius hom daarop wys dat "ik nu de Hoofd ben van de gantsche vereenigde Emigranten macht", is medeonderteken deur Kruger (Breytenbach 1949:232, 235, 241,242, 243). Ten einde nie binne die streek heeltemal in die vergetelheid te raak nie, is ook die Volksraad gedwing om sommige van sy vergaderings in Potchefstroom, Rustenburg, Suikerbosrand en Marico te hou - iets wat vierjaar vroeër as onwettig bestempel is. Deurentyd egter het Pretorius se aansien in die suide gegroei. In Potchefstroom veral het selfs die Volksraads-amptenare, soos landdros HS Lombard, 'n toenemende houding van weerspannigheid teenoor die Raad openbaar (Breytenbach 1949:120-121).

Die Volksraad het gepoog om sy kritici die mond te snoer deur die amp van kommandant-generaal af te skaf, maar tydens 'n vergadering in Potchefstroom in Oktober 1850 is hulle gedwing om Pretorius te benoem as "voorlopige Commandant-Generaal op de wal van Vaal Revier" (Breytenbach 1949:145), 'n aanstelling wat later bevestig is (Breytenbach 1949:145; 1950:3). Pogings van die Volksraad om Pretorius se gesag tot noord van die 25ste breedtegraad te beperk, het sinloos geblyk te wees toe hulle op sy navraag oor waar die grens geloop het, nie 'n antwoord kon verskaf nie. Pretorius het met 'n gedugte nuwe argument vorendag gekom deur die Raad daarop te wys dat die Britte self die Vaalrivier as 'n logiese grens beskou, deur dit as die Soewereiniteit se noordgrens te proklameer (Breytenbach 1950:202, 204, 214).

Die ware bedreiging vir die Voortrekkers se vrede en staatsvestiging was nie die ligging van die "lemieten" nie, maar die feit dat daar geen formele ooreenkoms met die Britte oor die grens tussen die Soewereiniteit en Transvaal bestaan het nie. Vir dié argumente het die Volksraad en sy segsman, Bührmann, nooit 'n bevredigende antwoord kon bied nie en gepoog om die saak dood te swyg deur in algemene terme te verwys na "de thans bestaande lijn" of die grens as iewers "benoorde den Vaal Revier" (Breytenbach 1950:33).

 

6. DIE STATUS VAN POTCHEFSTROOM DEUR DIE SANDRIVIER-KONVENSIE BEVESTIG

Teen 1851 was Pretorius genoegsaam verseker van die steun van die Potchefstromers om die Britte weereens te konfronteer - hierdie keer nie met wapens nie, maar met diplomasie. In die nuwe fase van sy onderhandelings met Smith sou hy die bestaande ooreenkomste tussen laasgenoemde en Potgieter ignoreer en die Volksraad as faktor uitskakel deur, soos hulle, die vereniging van al die Voortrekker-gebiede te bepleit.

Pretorius was deeglik daarvan bewus dat Brittanje oorhoops was met ongunstige internasionale toestande sowel as met onrus in Suider-Afrika. Op die Kaapse oosgrens was die Agste Grensoorlog in volle swang terwyl die Basotho-koning, Mosjwesjwe, besig was om die Britse militêre posisie in die Soewereiniteit tot die uiterste te beproef. Bowendien het die Britte die vrees gekoester dat die vorming van 'n anti-Britse bondgenootskap tussen Pretorius, die Winburgers en Mosjwesjwe nie uitgesluit kon word nie (Krynauw 1944:114, 223).

Pretorius se kommandant-generaal-instruksies het hom uitdruklik verbied om met enige buitelandse moondheid te onderhandel, maar hom wel gemagtig om, met die goedkeuring van 'n landdros, kommissieraad en krygsraad, in noodgevalle te handel (Breytenbach 1950:279). Op 'n algemene krygsraadsvergadering te Rustenburg op 8 September 1851 het hy 'n koers ingeslaan wat op 'n staatsgreep teen die Volksraad neergekom het (Breytenbach 1950:235). Die voorwendsel daarvoor was dat die Volksraad nie in staat was om op Pretorius se aandrang dat die Transvaalse suid-grens die Vaalrivier was, bevredigend te reageer nie. Die Volksraad se gesag is gevolglik in die Wes-Transvaalse geweste tydelik opgehef en die Raad is in kennis gestel dat al sy besluite oor die 26ste graad as grens "herroepe en terug geroep beschoud zal worde als nooyt gepasseert zynde" (Breytenbach 1950:45). Met die Potchefstromers agter hom het die politieke inisiatief nou in Pretorius gesetel.

Hy het met die Britse gesagvoerders in verbinding getree en gereël dat kommissarisse afgevaardig word om met hom oor die onafhanklikheid van die Voortrekkers in Transvaal, en die Vaalrivier as grens, te onderhandel. Die Volksraad het besef dat hulle magteloos was om die ontmoeting te verhoed en op 'n kommissieraadsvergadering te Potchefstroom in Januarie 1852 is aan Pretorius volmag verleen om namens hulle te onderhandel en is sy posisie versterk deur uiteindelik, stilswyend, die opdrag van die vergadering dat die Vaalrivier onder alle omstandighede as die suidgrens deur Brittanje erken word, te steun (Breytenbach 1949:52). 'n Kommissie van 16 lede, veral verteenwoordigend van Lydenburg en Potchefstroom, sou Pretorius vir die onderhandelings, wat aan die Sandrivier sou plaasvind, vergesel (Breytenbach 1950:25).

Die ontmoeting met die Britse kommissarisse het op 17 Januarie 1852 uitgeloop op die Sandrivier-konvensie. Daardeur is die onafhanklikheid en soewereiniteit van die Voortrekkers noord van die Vaalrivier erken. In ruil het die Transvalers onderneem om nie verder in die sake van die Soewereiniteit in te meng nie (Breytenbach 1950:278).

Dit was die eerste formele Britse erkenning van Voortrekker-onafhanklikheid.

Die Konvensie was vir Potgieter, die Volksraad en hul aanhangers 'n diplomatieke neerlaag (Krynauw 1944:187). Hul diepste vrees oor Britse anneksasie wat hulle 10 jaar lank gekoester en hulle 'n swerwersbestaan laat voer het, met gepaardgaande ekonomiese, sosiale en staatkundige spanning en ontwrigting, is besweer. Vir die standvastigheid van die Suid- en Wes-Transvalers met Potchefstroom vooraan en onder leiding van Andries Pretorius en, ten spyte van politieke en administratiewe verwydering en insinking, was dit 'n triomf en 'n einde aan onsekerheid.

Dit was die begin van die einde van die politieke invloed van Lydenburg en Soutpansberg en die einde van alle buitelandse manipulering van Transvaalse sake. Vir Potgieter het dit 'n end gebring aan sy anneksasievreessindroom. Vir Pretorius se deursettingsvermoë was die Konvensie 'n persoonlike sege, sy grootste sedert Bloedrivier.

Sandrivier het die onontbeerlike weg tot die vorming van die Zuid-Afrikaans Republiek, met die Vaalrivier as suidgrens en die erkenning van Potchefstroom as setelplaas geopen.

 

BIBLIOGRAFIE

Breytenbach, J.H. & H.S. Pretorius (reds.). 1949. Suid-Afrikaanse Argiefstukke. Transvaal nr. 1. Notule van die Volksraad van die Zuid-Afrikaansche Republiek, 1842-1850. Kaapstad: Cape Times Ltd.         [ Links ]

Breytenbach, J.H. (red.). 1950. Suid-Afrikaanse Argiefstukke. Natal nr. 1. Notule van die Natalse Volksraad, 1838-1845. Kaapstad: Cape Times Ltd.         [ Links ]

Breytenbach, J.H. (red.). 1950. Suid-Afrikaanse Argiefstukke. Transvaal nr. 2. Notule van die Volksraad van die Zuid-Afrikaansche Republiek, 1851-1854. Kaapstad: Cape Times Ltd.         [ Links ]

Du Plessis, J.S. 1955. Die ontstaan en ontwikkeling van die amp van staatspresident in die Zuid-Afrikaanse Republiek (1858-1902). Argiefjaarboek vir Suid-Afrikaanse Geskiedenis. 1955, deel 1. Pretoria: Staatsdrukker.         [ Links ]

Du Toit, M.1990. Oudedorp. Ontwykende wieg van Potchefstroom. Potchefstroom: PUCHO.         [ Links ]

Eybers, G.W. (red.). 1918. Select Constitutional Documents Illustrating South African History 1795-1910. London: Routledge.         [ Links ]

Ferreira, O.J.O. 1978. Stormvoël van die Noorde; Stephanus Schoeman in Transvaal. Pretoria: Makro-boeke.         [ Links ]

Krynauw, D.W. & H. Pretorius (reds.). 1944. Transvaalse Argiefstukke, 1850-1853. Pretoria: Staatsdrukker. Pelzer, A.N. 1950. Geskiedenis van die Suid-Afrikaanse Republiek. Deel 1. Wordingsjare. Kaapstad: Balkema.         [ Links ]

Preller. G.S. (red.). 1922. Voortrekkermense, deel iii. Kaapstad: Nasionale Pers.         [ Links ]

Preller, G.S. (red.). 1924. Voortrekker Wetgewing. Notule van die Natalse Volksraad 1839-1845. Pretoria: J.L. van Schaik Beperk.         [ Links ]

Pretorius, H.S. & D.W. Kruger (reds.). 1924. Voortrekker Argiefstukke. Notule van die Volksraad van die Zuid-Afrikaansche Republiek 1829-1849. Pretoria: Staatsdrukker.         [ Links ]

Swart, M.J. 1956. Die aandeel van H.T. Bührmann in die geskiedenis van die Suid-Afrikaanse Republiek. Pretoria: UP.         [ Links ]

Van den Bergh, G.N. 1989. Die stigting van Potchefstroom, 1838 en 1839. Contree, 19(26).         [ Links ]

Van den Bergh, G.N. 1990. Voortrekker plaasbesetting op die Transvaalse Hoëveld: 'n versteurde beeld. Suid-Afrikaanse Tydskrif vir landmeetkunde en kartering, 20(17).         [ Links ]

Van der Merwe, P. J. 1986. Die Matabeles en die Voortrekkers. Argiefjaarboek vir Suid-Afrikaanse Geskiedenis. 1986, deel II. Pretoria: Staatsdrukker.         [ Links ]

Wichmann, F.A.F. 1941. Die wordingsgeskiedenis van die Zuid-Afrikaanse Republiek. 1941. Argiefjaarboek vir Suid-Afrikaanse geskiedenis. Pretoria: Staatsdrukker.         [ Links ]

De Zuid-Afrikaan. Dagjoernaal van 'VIATOR', 19/06/1840.         [ Links ]

 

 

Gert Nicolas van den Bergh ontvang sy akademiese opleiding aan die Potchefstroomse Universiteit met 'n DLitt-graad as hoogste kwalifi-kasie. Hy het geskiedenis gedoseer aan die Universiteit van Suid-Afrika, die Universiteit van die Oranje Vrystaat, die Universiteit van Zoeloeland, die Universiteit van die Noorde en die Potchefstroomse Universiteit. Hy het in 1982 afgetree en daarna in 'n tydelike hoedanigheid by laasgenoemde gedoseer. Hy is die outeur van twee akademiese boeke, Die polisiediens in die Zuid-Afrikaanse Republiek (1980) en Die Middeleeue (1983). Hy is mede-outeur van verskeie ander boeke. Ongeveer 20 van sy artikels is in geakkrediteerde joernale gepubliseer.

Gert Nicolas van den Bergh was educated at the Potchefstroom University with a DLitt Degree as highest qualification. He taught history at the University of South Africa, the University of the Orange Free State, the University of Zululand, the University of the North and the Potchefstroom University. He retired in 1982 and thereafter taught in a temporary capacity at the latter university. He is the author of two academic books, Die polisiediens in die Zuid-Afrikaanse Republiek (1980) and Die Middeleeue (1983). Some 20 of his articles have been published in accredited journals.

 

 

1 Byvoorbeeld Du Plessis (1955:52); Wichmann (1941:11); Oberholster (1968:668).
2 Kyk Breytenbach (1950:205, 226, 229); Pretorius (1924: 218, 344).

Creative Commons License Todo o conteúdo deste periódico, exceto onde está identificado, está licenciado sob uma Licença Creative Commons