SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.53 issue3Rapport's depiction of Robert Mugabe's candidature for the 1980 Zimbabwean independence electionThe part played by Potchefstroom in Voortrekker state formation author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Tydskrif vir Geesteswetenskappe

On-line version ISSN 2224-7912

Tydskr. geesteswet. vol.53 n.3 Pretoria  2013

 

RESEARCH AND REVIEW ARTICLES

 

Die Groot Trek 175: Storie of historie?

 

The Great Trek 175: Story or history?

 

 

Hans du Plessis

Navorsingseenheid vir Taal en Literatuur in die Suid-Afrikaanse konteks, Noordwes-Universiteit, Potchefstroomkampus E-pos: hans.duplessis@nwu.ac.za

 

 


OPSOMMING

In watter mate is die skrywer van 'n historiese roman afhanklik van die feite wat die geskiedskrywing bied? Hoe swaar weeg die historieseromanskrywer se interpretasie van veral die onvolledig gedokumenteerde geskiedenis, soos byvoorbeeld dié van die Groot Trek tussen 1836 en 1844 in die Potchefstroom-omgewing? Dit is die doel van hierdie artikel om die narratief van Hans du Plessis se twee historiese romans, Die pad na Skuilhoek en As die wind kom draai, te stel. Die verhouding tussen die romansier en die geskiedskrywer word onder die loep geneem. Teen die agtergrond van die mite as merker van 'n groep se identiteit word die Voortrekkers as gemeenskap duideliker gedefinieer. Die grensgebied waarvandaan die Groot Trek begin, is groter as die Oosgrens en die gemeenskap wat trek, is veel breër as die byna twintigduisend wit koloniste. Die grensgebied word as Voorpos bespreek en die gemeenskap as 'n heterogene en geïntegreerde kontinuum. Die binneland waarheen hulle trek, word teen die teoretiese agtergrond van Michel Foucault se siening van die utopie as droomruimte en die ander plek as heterotopie bespreek.

Trefwoorde: fiksionaliseer, Frontier, geskiedenis, Groot Trek, heterotopie, historiese roman, historieseromanskrywer, identiteit, kontinuum, Michel Foucault, mite, narratief, pioniersgemeenskap, skryfkuns, storie


ABSTRACT

This article investigates the relationship between the writer of a historical novel and the historiography. To what extent does the novelist depend on the historical facts researched by the historian? Undoubtedly the novelist needs the historian's research but it is also accepted that history is researched by people, and that pure objectivity is a myth and writing history always includes the researcher's own interpretation of historical facts. Story (fiction) must therefore be distinguished from history on the one hand and myth on the other. Although the fiction writer needs the historian's research, the historical novelist would prefer to interpret an ill documented part of history himself, because it is easier to fictionalise. The history of the Great Trek between 1836 and 1844, especially in the Potchefstroom area, is a good example. This article aims to establish a narrative for the two historical novels by Hans du Plessis, Die pad na Skuilhoek and As die wind kom draai.
Myths are markers of the identity of a group. I am the story I am telling about myself, a community is the narrative it believes of itself. The novel is the story it narrates.
Against this background, as well as that of myth as identity marker, certain myths of the Great Trek are redefined. According to traditional historiography, the Voortrekkers who left the Cape Colony in 1836 were mainly white Dutch speaking colonists, but a closer look at the community on the Cape Frontier suggests that this community was a heterogenic and rather integrated community of Khoi, Oorlams, Basters, Trekboers and cattle farmers, and they almost all used Afrikaans as mother tongue and as lingua franca. The social and class boundaries between the different groups on the Frontier were not well defined. The lack of defined dividing lines leads to over simplified dichotomies such as black or white, civilised and uncivilised, owners and nonowners, in order to describe the compilation of the community. Binary opposition usually results in over simplification and stereotyping. Class markers did exist, but it did not run along clear lines. It can rather be described as a continuum with African on the one end and European on the other, comparable to that of the so called Metis Nation of the seventeenth century community of fur hunters in Canada. The Voortrekker community was therefore not a mere homogeneous group of white Dutch colonists.
This article furthermore argues that the Frontier was more than the so called Eastern Border or Oosgrens. Frontier means more than a geographical space; it is also a condition of constant transformation.
The Cape Frontier of the seventeenth and eighteenth century is discussed against the theoretical background of the American historian, Frederick Jackson Turner's theory of the American Frontier as not only a physical space, but also as creator of new myths, and destroyer of existing ones.
With reference to Michel Foucault the Frontier is discussed as a utopia and the interior as heterotopia, a free site without a marginalising authority. Therefore a crucial reason for the mass movement of the Afrikaans speaking Frontier community was the dream of a new site.

Key words: continuum, creative writing, fictionalise, Frontier, Great Trek, heterotopias, history, historical novel, historical writer, identity, Michel Foucault, myth, narrative, pioneer community, story


 

 

1. INLEIDING

'n Mens is die storie wat jy van jouself glo; 'n volk is die historie wat hy van homself vertel. Die vraag is nie hoe waar die storie is nie, maar hoe sterk jy daaraan glo. Dit is narratiewe soos dié wat ons bestaan definieer; dit is metafoor van ons identiteit. Daarom, lyk dit vir my, is mites die grondslag van identiteit, en hoe vaer die feite, hoe geloofwaardiger raak die mite. Dit is die wese van die historiese roman. Dalk is dit ook waar van die historiografie?

Die Groot Trek, en spesifiek die geskiedenis van Sarel Cilliers, is 'n goeie voorbeeld van wat ek bedoel. Kyk net hoe sterk so 'n metafoor kan wees: kultuurorganisasies en voorste historici vier die honderd vyf en sewentigste herdenking van die Groot Trek in die honderd sewe en sewentigste jaar - twee jaar laat, as jy vergeet om Tregardt en Van Rensburg te tel!

Die mite van Sarel Cilliers het die metafoor geword waardeur die Afrikaner 'n belangrike deel van sy identiteit gevind het. Die mite het van die Gelofte die Groot Trek gemaak. Die slag van Bloedrivier het die storie geword wat ons van onsself glo. Die feite is minder belangrik as die storie. Die feit dat die slag van Vegkop myns insiens 'n meer kritieke veldslag was as Bloedrivier, is nie so belangrik as die metafoor van Bloedrivier nie. Dat 'n nederlaag by Vegkop die verloop van die Groot Trek, en dus die verloop van ons geskiedenis, waarskynlik harder sou tref as 'n nederlaag by Bloedrivier, is ondergeskik aan die mite rondom die Gelofte. Let daarop dat ek nie die Gelofte as sodanig as mite beskou nie, maar bloot skepties staan teenoor die rol van Sarel Cilliers.

Alles wat ons van Cilliers weet, het hy ons self vertel, en dit onder andere in 'n joernaal wat hy ruim dertig jaar ná die gebeure op sy sterfbed oorvertel. Dit is nie ek wat so sê nie, dit is historici, soos sy biograaf, P.S. de Jong (1987). Wat Cilliers ons nie van homself vertel het nie, dink dr. G.B.A. Gerdener (1925) uit en bewoord selfs die Gelofte, want Gerdener is daarop uit om 'n narratief te skep.

Ek is nie 'n historikus nie, en skryf hierdie artikel as 'n historieseromanskrywer op soek na die feite wat historici nagevors het. Die romanskrywer soek die storie agter die historie. Sonja Loots se Sirkusboere het my pas weer daarvan oortuig datjy die feite deeglik moet ken om dit geloofwaardig te kan verdraai. Historieseromanskrywers het historici bitter nodig, sodat ons die werklikheid van die verlede oortuigend kan fiksionaliseer. 'n Mens kan net suksesvol lieg oor 'n waarheid wat jy regtig ken. Die doel van hierdie artikel is eenvoudig die stel van 'n narratief oor die Groot Trek, soos wat dit in my romans oor hierdie geskiedenis neerslag vind. Omdat ek vir die geskiedenis as wetenskap soveel respek het, sal ek probeer om die storie wat in die romans vertel word binne 'n teoretiese raamwerk te plaas. Ek gee dus nie voor dat ek 'n akademiese artikel produseer nie, want ek is 'n amateurhistorikus en as historieseromanskrywer teer ek juis op geskiedenis wat dokumentêr nie so goed beskryf is nie. Paradoksaal genoeg is my historiografie verkieslik dié van die ongedokumenteerde. Miskien is dit ook goed om hier in gedagte te hou wat Nigel Penn (1995:X) opmerk: "It is the nature of historical records to present a partial (meaning both biased and incomplete) view of the past ..." Hy haal op dieselfde bladsy die historikus, Greg Denning, aan: "... there is no escape from the politics of our knowledge, but that knowledge is not in the past".

Penn (1995:VIII) volg in sy Voorwoord al die Franse filosoof, Paul Ricoeur se beskouing dat die lewe 'n aktiwiteit en 'n passie is op soek na 'n narratief, en dat geskiedkundige gebeure 'n narratiewe struktuur het. Daar moet egter onderskei word tussen 'n historiese narratief (soos dié van Penn op grond van Ricoeur) en 'n historiese roman.

Die historieseromanskrywer moet die geskiedenis navors, anders is dit nie 'n historiese roman nie, maar die geskiedenis werk met dit wat inderdaad geskied het, terwyl die storie per definisie fiksie is. Miskien is dit die hoofrede hoekom albei my romans oor die Groot Trek 'n onseker verlede as agtergrond het: historiese fiksie teer op onvolledige geskiedskrywing.

My eerste roman, Die pad na Skuilhoek (2011, Lapa) begin by die Liebenbergmoorde en die Vaalrivierslag van 1836, terwyl die tweede roman, As die wind kom draai (2013, Tafelberg), oor die sogenaamde onafhanklike republiek in die Potchefstroom-omgewing van 1844 gaan.

Navorsing oor die eerste gedeelte van die Groot Trek, 1836-1844, en veral oor die Potgietertrek, dui spoedig daarop dat die trek van Andries Hendrik Potgieter nie goed gedokumenteer is nie. Dit is byna bloot op hoorsê dat 'n mens moet rekonstrueer wat regtig gebeur het.

Terwyl die Maritz- en Retieftrek, en ook later die gebeure in Natal, uit dagboeke, soos dié van Erasmus Smit of J.G. Bantjes se verslag nagevors kan word, is die gebeure rondom die Potgietertrek en Potchefstroom vaag en die navorser is van byna net sekondêre bronne afhanklik.

Een van die heel betroubaarste destydse dokumente is die Dagboek van Louis Tregardt, maar dit handel oor Tregardt se eie trek en dit dek skaars twee jaar. Selfs in hierdie geval moet 'n mens versigtig lees, want Gustav Preller se weergawe van die dagboek verskil van dié van T.H. le Roux. Preller het byvoorbeeld kragwoorde weggelaat of in Latyn vertaal. Op 'n paar plekke raak Tregardt (byvoorbeeld Le Roux 1977:31,71) nogal erg omgekrap, veral met mense, en dan huiwer hy nie om dit in kru woorde uit te druk nie. Sondae is, as jy die dagboek noukeurig lees, vir Tregardt-hulle omtrent deurgaans maar gewone dae waarop daar gejag, gebou of uitgery word na die vee. Hoekom tref dit 'n mens dan tussen die oë as jy skielik daarvan lees? Seker omdat jy "mos weet" die Voortrekkers was vrome mense.

Dit is belangrik om ook te onthou dat Preller se Voortrekkermense "ooggetuieverslae" is wat ten minste dertig, veertig jaar later eers opgeteken is. Hoeveel onthou 'n mens, veral 'n ou mens, nog ná veertig jaar van die besonderhede? (Vergelyk Du Plessis 2011.)

Dit is nie die doel van die twee romans onder bespreking om die prestasies van die mense van die trek te probeer verkleineer nie, want enige volk het mites en helde nodig. Selfs Abraham Lincoln was seker ook maar net 'n mens. En koning Dawid? Daar is niks fout met mitologisering as sodanig nie, dit is immers een van die hoekstene van identiteit.

Geskiedskrywing as wetenskap moet egter by die verheerliking verby kan lees en die gebeure sover moontlik feitelik kan beskryf.

Vir Die pad na Skuilhoek (2011) moes ek uit die aard van die saak indringende navorsing doen oor die vroeë geskiedenis van die Groot Trek, spesifiek die verloop van die grootste trek, naamlik dié onder leiding van Andries Hendrik Potgieter. Dit was as vroeë trek en as groot trekgeselskap seker een van die heel belangrikste groepe wat die Kaapkolonie óf aan die einde van 1835 óf vroeg in 1836 verlaat het. Net hier loop ek my vas teen die onvastheid van die geskiedskrywing oor hierdie stuk van die Suid-Afrikaanse geskiedenis. Nêrens staan selfs die vertrekdatum outentiek opgeteken nie!

Dit is die probleem: hoe skryf jy 'n geskiedenis sonder primêre bronne tot jou beskikking? Hoe skep 'n mens fiksie rondom 'n wêreld waarvan die werklikheid nêrens opgeteken staan nie? Kan die geskiedenis as teks en die roman as teks dan ooit resoneer, of bly elkeen maar net 'n teks binne die onderskeie omgewings?

Nee, ek weet van Preller se Voortrekkermense, van die vrome ou kerkvader G.B.A. Gerdener se biografie van Sarel Cilliers; ek het P.J. van der Merwe gelees, ek ken die werk van C.F.J. Muller en ek het F.A. van Jaarsveld van laerskool af al moes leer. Ek het groot plesier aan Herman Giliomee se werk en die Geskiedenis van Suid-Afrika van voortye tot vandag, maar steeds weet ek niks, want ons sê soms ook maar op hoorsê, al het die wetenskap geleer dat hoorsê nie juis empiries is nie.

Primêre bronne oor die trek van Potgieter is skaars, die geskiedskrywer en die fiksieskrywer moet hom of haar verlaat op iets soos die onsamehangende verslag van Johannes Bronkhorst, op Preller of op die joernaal van Sarel Cilliers. Hoe anders toets jy die waarheid van hierdie ge-skiedenis?

Dieselfde kan gesê word oor die agtergrond van my tweede Groot Trek-roman, As die wind kom draai, wat in die Potchefstroom-distrik van 1844 afspeel. Dokumentêr is daar weinig bewyse, veral min oor die verhouding tussen mense. Hoe het hulle mekaar gesien? Soos ons mekaar vandag sien?

Ongelykstelling, byvoorbeeld, is volgens die geskiedskrywer, W.A. Stals (1977) reeds in 1837 statutêr vasgestel. Dit staan egter nie duidelik in die eerste grondwet van 1837 nie, maar die eerste artikel stel dit wel dat "een ieder, geenen uitgezondert, sal moeten afwyken van allen den sendelings genootschap van Engeland". Dit is duidelik hoe oop hierdie artikel vir interpretasie is. So ook Artikel Ses van die Drie en dertig Artikels van April 1844, veral die volgende frase: "Geen bastaarden zullen in onze vergaderingen als lid of regter mogen zitten." Wat is 'n baster? Of eerder: Wat word in 1844 met die woord bedoel? Moeilik om te sê, eintlik onmoontlik.

G.N. van den Bergh (1969) wys in sy artikel oor die grondwetlike status van die Drie en dertig Artikels daarop dat die onsekerheid daaroor ten dele verklaar kan word "... uit gebrek aan ander gegewens oor die beraadslaging van die vergadering van 9 April te Potchefstroom waartydens die Artikels goedgekeur is". Dieselfde onsekerheid omhul die instruksies aan kommandante en veldkornette, want: "Geen notule van hierdie of enige ander vergadering van 'n wetgewende liggaam in Potchefstroom gedurende die veertiger jare het bewaar gebly nie" (1969:6).

Is dit dan vreemd dat die romansier eerder hierdie onsekere geskiedenis sal fiksionaliseer? In elk geval: is daar regtig 'n duidelike onderskeid tussen storie en historie?

Wat is 'n storie dan?

In die skryfkuns- en in die literêre teorie word daar aanvaar dat die narratief vier vertelkategorieë moet bevat, naamlik karakter, tyd, plek en gebeure. Die twee historiese romans waarom dit hier gaan, is Groot Trek-romans, wat beteken dat tyd, plek en persone deur die geskiedenis bepaal word. Hierdie drie vertelkategorieë vorm die wese van die twee verhale. Die tyd van die Groot Trek is betreklik vas, die plek veronderstel die binneland noord van die Oranjerivier, en die mense is die Voortrekkers. Die probleem is egter dat die geskiedenis die deelnemers aan die trek, hoekom en hoe hulle trek nie altyd dieselfde historiografeer om daarvan romans te kan maak nie.

Om die probleem wetenskaplik aan te pak, is dit nodig om die terme wat ter sprake kom, te probeer presiseer, maar net eers iets meer oor die twee romans.

 

2. DIE TWEE HISTORIESE ROMANS

Die eerste roman, Die pad na Skuilhoek, begin op Maandag, 22 Augustus 1836, die middag voor die aanval op die Liebenbergtrek. Die tweede roman, As die wind kom draai, speel af in die jaar 1844. Die romans dek dus die eerste agt jaar van die Groot Trek.

Die ruimte waarin albei die verhale geplaas word, lê hoofsaaklik binne die driehoek tussen die huidige Parys, Potchefstroom en Vredefort. Die sentrale ruimte van albei is min of meer die berglandskap wat ons vandag as die Wêrelderfenisgebied van die Vredefortkoepel ken.

Die hoofkarakters bly oorwegend dieselfde in die twee stories. Die eerste roman huiwer op die grens van jeugverhaal en volwasse roman. Die tweede is hoegenaamd nie 'n jeugverhaal nie. Albei die romans is op die oog af liefdesverhale, maar dit kan nie as sogenaamde romantiese fiksie beskou word nie. Die meeste karakters is fiktiewe karakters, maar nie die soort Voortrekkers waarvan die mites gemaak is nie. Hulle noem hulleself nog nie Voortrekkers of Afrikaners nie. Hulle is Hollandse immigrante, reisigers, trekkers of soms selfs die voorste mense. Hulle is sommer gewone mense, wat nie almal ongeletterd en onvoorwaardelik vroom is nie. Hulle rand ook nie almal elke tweede diensbode aan wat verbyloop nie.

Die geskiedenis van die eerste jare van die Potchefstroommaatskappy is swak gedokumenteer en ek kon daarom dié geskiedenis op my manier interpreteer. Hierdie artikel is daarom nie 'n geskiedenisartikel met nuwe historiese feite nie. Dit is bloot my interpretasie van die feite wat ek uit die geskiedskrywing van goeie historici kon rekonstrueer.

 

3. DIE TEORETIESE KONTEKS

Ethnologies kan ons historie terugvoer na die Middelnederlandse historie, wat via Latyn uit Grieks kom, met die oerbetekenis van "wyse man". In die Middeleeue is daar nie altyd onderskei tussen gebeure gegrond op geskiedkundige feite en 'n romantiese verhaal nie. Vir albei is die term historie gebruik, omdat dit om 'n geskrewe verhaal gegaan het. Geskiedenis is eintlik dan 'n beter term omdat dit dui op dit wat geskied of gebeur het. Die onderskeid tussen historie en geskiedenis het in moderne Nederlands en in Afrikaans egter vervaag en die terme word in die meeste gevalle afwisselend gebruik.

Hierteenoor verklaar die HAT roman as "verdigte prosaverhaal". In Nederlands word gepraat van "een puur verzinsel" en in Engels is novel 'n "fictitious narrative".

'n Derde term wat vir hierdie gesprek van belang is, is mite. 'n Mite is volgens die WAT 'n "gemeenskaplike, samebindende ideaal of lewensbeskouing", maar Van Zyl Slabbert (2006:153) gaan verder en beskryf mite

... as iemand 'n situasie as 'werklik' definieer word dit werklik omdat werklike gevolge uit so 'n siening voortvloei. As so 'n situasie nie gestaaf of weerlê kan word nie, en mense volhard nog steeds daarin om dit 'werklik' te noem, het ons met die onderskeidende kenmerk van 'n mite te doen.

Wat is dan nou die verband tussen historie, roman, mite en hierdie artikel?

Toe Alex Haley gevra is na die akkuraatheid van sy historiese feite in Roots, het hy gesê: "Ek het my mense 'n mite gegee waarvolgens hulle kan lewe."

Ek dink 'n mens moet daarom dalk versigtiger onderskei tussen mite en ideologie, duideliker as wat Slabbert dit doen, in elk geval. Hy (2006:20) meen dat "as die verlede versin word, of ideologies gekoöpteer word, word dit moeiliker om 'n herhaling van die foute te voorkom en die probleme van die hede aan te pak".

In die historiese roman word die feite gefiksionaliseer sonder om noodwendig daarvan ideologie te probeer maak. Dit is nie sonder meer die opeis van die geskiedenis agter die roman as dié geskiedenis nie. Die romanskrywer moet die geskiedenis interpreteer, en dit as die verhaal van die roman aanbied, sonder om dit as die allerwaarheid op te eis. Trouens, wat is geskiedskrywing sonder interpretasie, en bestaan daar iets soos objektiewe interpretasie? Is my interpretasie van die geskiedenis van die Groot Trek nie per definisie subjektief nie? Die voordeel is dat ek my subjektiwiteit kreatiwiteit mag noem.

Geskiedskrywing het immers altyd iets van die subjektiewe in hom. Lize Kriel (2004) bespreek, om 'n voorbeeld te noem, in haar doktorstesis twee dagboeke oor die Malabog-oorlog van 1894 tussen die Boere en die Hananwa. Dit gaan vir Kriel egter nie in die eerste plek om die geskiedenis van die oorlog self nie, maar oor die verskil in die weergawes van hierdie geskiedenis deur twee verskillende skrywers, naamlik die Duitse sendeling Christoph Sonntag en die Anglikaanse kapelaan, Colin Rae. Kriel is meer geïnteresseerd in die verskillende weergawes van die geskiedenis as in die geskiedenis self. Dit gaan om die konstruksie van die geskiedenis, die manier waarop geskiedenis vertel word. Dit gaan nie soseer oor die verlede nie, maar oor hoe ons oor die verlede skryf. Verder oor hoe dit ontvang is op verskillende tye en plekke. 'n Belangrike punt wat Kriel in Hoofstuk 6 maak, is dat 'n mens ook moet in ag neem wie vertel en aan wie word vertel. Dit is belangrik, sê sy (2004:151): "(T)o imagine and construct what has not been recorded."

Dagboekskrywers kan enige iemand in of uit hulle verslag skryf, hulle kan hulle eie werklikheid bou. Vergelyk, byvoorbeeld Tregardt se dagboek, Erasmus Smit s'n en Cilliers se joernaal, ook Le Roux en Preller se weergawes van Tregardt se dagboek.

Die Voortrekkers trek self die binneland in met vaste mites, beweer Nigel Penn (1995:XVIII), byvoorbeeld Bybelse mites, en hoe verder van die heilige land, hoe meer heidens word dit. Hoe verder van die beskawing af, hoe meer barbaars word dit. Hulle word die uitverkore volk, en Nederlanders word die rykstes, en so meer. Hoe verder hulle trek, hoe meer nuwe mites.

Dit is die soort mites wat die Kaapse koloniste as vryburgers met hulle saamneem na die grensgebiede van die Kolonie. Wat gebeur egter met die mites op die grens? Sodra die mite na 'n nuwe plek (kolonie) ingevoer word, word die mite getransformeer. Penn verwys na die Franse filosoof Michel Foucault, wat van die kolonies as heterotopieë praat. (Vergelyk die bespreking hiervan in Afdeling 4 hieronder.) Die binneland, die oosgrens en die gebied noord van die Oranjerivier, lyk voorlopig vir my na voorbeelde van heterotopieë.

Die vrae wat die twee historiese romans onder bespreking vra, is in die eerste plek: Wie trek? Tweedens: Hoekom trek hulle? Die antwoord hierop is die narratief van die twee romans.

 

4. DIE KARAKTERS

In Karl Kielblock se historiese roman, Guillam Woudberg, staan Guillam en sy aanstaande by 'n sonwyser in sy tuin. Op die sonwyser is 'n Latynse sinnetjie wat hy vir haar vertaal: "Ek tel net mooiweer-ure."

Ons is almal so, ons tel wat ons wil tel, veral as dit om mense gaan. Die geskiedenis van die Groot Trek tel tradisioneel net die mense in hulle eie son. Lees maar Tregardt se dagboek versigtig. Hy onderskei drie groepe: die mense, die volk en die nasies. Hierdie driedeling strook met ons taalnavorsing in Namibië in die middeltagtigerjare van die vorige eeu oor die chronolek van die Swart van der Merwes, afstammelinge van die sogenaamde Makvolk uit die Dorslandtrek. Ouma Rachel van der Merwe onderskei ook tussen die mense, die volk en die nasies. Die volk synde die diensbodes, die nasies is die inheems swart stamme. Dié wat oorbly, is dan die mense. Ons geskiedenis tel meestal net die mense.

Lees maar die verslae oor die Liebenbergmoorde en die Vaalrivierslag van 23 Augustus 1836. By Liebenbergskoppie is ongeveer 14 mense vermoor en by die Vaalrivier sneuwel een of twee. Ondersoek ter plaatse dui egter daarop dat al die slagoffers waarskynlik op Kopjeskraal, waar die Vaalrivierslag sowat tien kilometer suid van Liebenbergskoppie, plaasgevind het, begrawe lê. Maar daar is 33 grafte, twee maal die aantal "mense" wat dood is! In haar verslag in Voortrekkermense II (Preller 1920:45-47) vertel Anna Steenkamp van die verwoestende brand in die laer aan die Tugela: baie mense dood, en dan nog enkele diensbodes.

Tussen 1835 en 1845 verlaat 'n groot deel van die grensgebiedbewoners die Kaapkolonie. Jan Visagie (2012:131) bereken dat die 17 000 wit mense wat trek ongeveer een vyfde van die wit bevolking van die destydse Kaapkolonie verteenwoordig. "Daar kan aanvaar word dat elke wit gesin deur minstens twee of meer werknemers vergesel is." Die som wil nog nie heeltemal reg uitwerk nie, want my gesprekke met afstammelinge van die diensbodes in die Vredefortkoepel dui daarop dat daar onder die "volk" ook families saam getrek het. Wie was die Voortrekkers dan?

Johan de Villiers (2012:75) stel dit duidelik dat daar "'n streng klasseverdeling" aan die begin van die negentiende eeu aan die Kaap bestaan het. Hy onderskei outokratiese regeerders, grondbesitters, ondersteunende sakelui, vrye arbeiders, arm bywoners, gekontrakteerde werkers en slawe. "Dié soort samelewingsorde was in daardie tyd tipies van die heersende sosiale bestel in vele lande, veral in Wes-Europa." Hy wys ook daarop dat ras toenemend 'n klassifiserende faktor geword het. "Ras en klas het dus in 'n groot mate mense en groepe se status bepaal."

Dit lyk vir my egter belangrik om teen die tweede helfte van 1700 en die eerste derde van 1800 duideliker te begin onderskei tussen die Eurobewuste Kaapse samelewing en die veel meer Afrobewuste grensgebiede, die Voorpos sal ek dit voorlopig noem omdat die Afrika-omgewing in die Voorposgebiede mense en groepe anders laat funksioneer het. Miskien is een van die miskyke van ons geskiedskrywing juis die gebrek aan onderskeid tussen die gemeenskappe in die Kaap self en die gemeenskap in die grensgebiede.

Ek skram opsetlik weg van die Oosgrens as term, want die binnelandse grensgebied waaruit die Voortrekkers trek, was veel groter as die Oosgrens, soos wat die grensgemeenskap veel breër was as die Europese grensboere. Om hiervan te probeer wegkom, gebruik ek eerder Voorpos as vertaling van die Amerikaanse Frontier. Voorpos veronderstel bloot die totale grensgebied anderkant die Hottentots-Hollandberge.

In 1893 lewer die Amerikaanse historikus, Frederick Jackson Turner, volgens Penn (1995:3) 'n lesing voor die American Historical Association in Chicago: "The significance of the frontier in American History". Turner se basiese stelling was dat die Frontier vir Amerikaners en hulle geskiedenis 'n onderskeidende kenmerk gegee het. Die Frontier was nie net 'n plek nie, maar 'n toestand of 'n proses waar die ongevestigdes die gevestigdes geword het deur fisieke beweging van trekkers die land in. Die Frontier was die ontmoetingsplek van die barbaar en die beskawing, dit was 'n streek in konstante transformasie. Amerikaanse instellings en die Amerikaanse persoonlikheid spruit uit hierdie evolusie op die Frontier.

Sou dit ook van toepassing kon wees op die grensgebied van die Kaapkolonie in die agtiende eeu? Nigel Penn (1995:14) waarsku dat historici die Amerikaanse en Suid-Afrikaanse grensgebiede gelykstel, want hulle ignoreer die groot verskil: In Amerika is die Indiane so te sê uitgewis.

Dit is natuurlik so dat die hele Voorpos nie oral ewe dig bewoon was nie. Die westelike dele daarvan was, veral ná die pokke-epidemie van 1713, yler bewoon as die oostelike en sentrale gebied. Dit is selfs moontlik dat dit nie oral as bewoonde gebied beskou kan word nie, veral as 'n mens in gedagte hou dat dele van die westelike Voorpos volgens Turner se formule (Penn 1995:3) van minder as "twee Europeërs per vierkante myl" as onbewoonde gebied beskou moet word. My term Voorpos impliseer nie dat die Suid-Afrikaanse Voorpos dieselfde is as die Amerikaanse Frontier nie. Die term is bloot 'n gerieflikheidsterm omdat ek deurgaans in hierdie artikel gemerkte terme wil vermy ten einde my hipotese te kan formuleer.

Penn argumenteer verder dat sowel die liberale as die konserwatiewe historici net die wit kant van die Voorpos raaksien. Die uitsondering is P.J. van der Merwe, maar hy is volgens Penn só presies en in detail vasgevang dat niemand hom lees nie, maar Van der Merwe (1937) gee hoofsaaklik aandag aan die konflik tussen San en Trekboer. Min navorsers skenk in besonderhede aandag aan die Khoi, Oorlams en die Basters.

Daar is egter nog meer groepe wat deel vorm van die Kaapse Voorpos. Dit sluit die Khoi-San, slawe, Khoi, Oorlams, Basters, Trekboere en Europese veeboere in. Wat was die klasseverdeling binne dié Voorposgemeenskap? Duidelik nie identies aan óf die Kaapse gemeenskap soos wat De Villiers dit beskryf óf die Amerikaanse Frontier nie.

Penn (1995:11) verwys na I.D. MacCrone se standpunt dat die koloniste se siening van niewittes beïnvloed is deur die digotomie van Christen teenoor heiden. "It was regarded as more fundamental than that between black and white." Penn wys verder daarop dat die digotomie van ras algaande sterker word, maar dat heidene wat Christene geword het as gelykes in die koloniale gemeenskap opgeneem kon word.

Penn (1995:12) aanvaar ook dat 'n voorpos eweseer die skepper van nuwe identiteit is as wat dit die verwoester van ou identiteite is. Die Kaapse Voorpos lyk vir my na die verwoester van die mite van die digotomie.

Die gebruik van die woord digotomie is myns insiens die basis van 'n fundamentele denkfout, die mite van die digotomie, sal ek dit voorlopig noem.

Dit gaan hoofsaaklik om die betekenis van die woord digotomie as enige verdeling van 'n geheel in twee presiese dele. Die term kan ons midde in die Postmodernisme laat beland, want wat ek verder aan betoog, dekonstrueer juis die gebruik van skerp binêre klassifikasies ten opsigte van die Voorposmense, soos swart of wit, beskaafd of onbeskaafd. Sonder om my te veel aan die teorie te besondig, wil ek dit stel dat die klassifikasie van die gemeenskappe op die Voorpos nie 'n digotomie was waar een deel 'n kenmerk insluit en die ander dit uitsluit nie.

Die grondprobleem van die digotomie is dat dit kwessies kan oorvereenvoudig, en die gevolg daarvan is meestal stereotipering. Om die individuele of groepskenmerke van die pioniers van die Voorpos te probeer beskryf met verwysing na plus of minus is 'n gruwelike oorvereenvoudiging, met sinlose stereotipes as enigste gevolg. Om byvoorbeeld 'n stelling te maak, soos Giliomee en Mbenga (2007:68) dat "feitlik niemand kon skryf nie", kan maklik lei tot 'n stelling dat die pioniersgemeenskap ongeletterd was. Dit veronderstel 'n digotomie van geletterd teenoor ongeletterd en dit lei tot 'n moontlike waninterpretasie van die uitspraak wat hulle op dieselfde bladsy maak, naamlik: "Die gemeenskap is deur die gesproke woord saamgesnoer." Teen die teoretiese agtergrond van die Mediologie (soos onder andere uiteengesit deur Johann Rousseau 2008) moet die kommunikasie van inligting in die Voorposgemeenskap gestereotipeer word as synde net in die logosfeer. Dit erken egter nie die kommunikasie in die grafosfeer, soos wat dit neerslag vind in die vele veldwagtersbriewe van die tyd, dagboeke, soos dié van Tregardt, verslae of amptelike stukke, soos die eerste grondwet of selfs die Drie en Dertig artikels nie.

Oorvereenvoudiging en stereotipering is die dwaalleer van die digotomie. As die wind kom draai, my tweede historiese roman, handel juis oor die digotomie van ons en hulle tydens die Groot Trek, 'n digotomie waaraan ons vandag nog steeds nie kan ontkom nie.

Nie alle Voorpos-bewoners is met geweld gedwing om as vry arbeiders deel te word van die pioniersgemeenskap nie. Die Amerikaanse Frontier was in hierdie opsig meer een van uitsluiting, terwyl ons Voorpos sowel in- as uitsluitend was. Leggasick redeneer volgens Penn dat rassisme op die Voorpos nie erger was as in die Kaap nie, en dat samewerking op die Voorpos meer was as in die Kaap. Dit was myns insiens egter eerder 'n kwessie van oorlewing as van een of ander morele oorweging.

Penn gee 'n uitstekende relaas van die verskil tussen Khoisan, Khoi en San, wat daarop neerkom dat die koloniste die verskil tussen jagter-versamelaars en veeboere geken en verstaan het. Hy (1995:214) argumenteer dat die kommando's die verskil tussen klasse polities-militêr vestig teenoor die ekonomiese faktore wat andersins klas in 'n pastorale gemeenskap bepaal.

Die aard en samestelling van die Voorposgemeenskap verskil in meer as een opsig radikaal van die Kaapse gemeenskap van dieselfde tyd. Klasseverdeling is belangrik, en ras speel 'n mindere rol, eenvoudig omdat die omgewingsuitdaging van mekaar verskil het.

Grietjie Verhoef (2012:205) merk byvoorbeeld op dat wolskape reeds in 1795 deur die Nederlandse goewerneur ingevoer is, "maar dié boerdery is eers sedert die 1830's kommersieel beoefen". Veeboerdery is egter dwarsdeur die agtiende eeu op die Voorpos beoefen, 'n bestaansboerdery met vee. Die Voorposgemeenskap was almal op een of ander manier by dié veeboerdery betrokke, as veebesitters, -wagters of -rowers. Die Voorposgemeenskap waaruit die Groot Trek se mense kom, was 'n ander soort gemeenskap as die Kaapse gemeenskap (vergelyk ook Giliomee 2003: 58 e.v.).

Die karakters in my historiese romans is Voorposmense, nie Kapenaars nie!

Wie was hulle dan? Wie het in die 1830's die Kolonie verlaat omdat hulle dik was vir die Engelse, sommige uit eie oortuiging, ander in opdrag. Wie was die Voorpospioniers nou eintlik? Wie het op die Groot Trek gegaan?

Ter wille van die karakters in die romans onder bespreking, moes ek die Voorposmense beter definieer, al het dit van meet af aan vir my na 'n onbegonne taak gelyk, hoofsaaklik omdat my beskouing aanvanklik 'n koloniale, digotomiese beskouing was, soos die Britse en Amerikaanse geskiedskrywing van die Frontier.

Op grond van studies soos dié van Penn (1995), Giliomee (2003) en P.J. van der Merwe (1937) was die Voorposgemeenskap duidelik nie 'n homogene of gesegregeerde gemeenskap nie. Hulle was op verskillende maniere hoofsaaklik betrokke by veeboerdery, en volgens Christo van Rensburg (2012) was hulle byna naatloos Afrikaanssprekend.

Die Voorpos was, van die owerhede se kant af gesien, anderkant die Hottentots-Hollandberge, in die Groot- en die Klein-Karoo, van die weskus tot die suidooskus, en suid van die Oranjerivier. Veel wyer as die sogenaamde Oosgrens. Die aard van hierdie omgewing bring mense nader aan mekaar, omdat die ongenadige natuur hulle na mekaar toe dwing. Veeboerdery is die gemeen-skaplike belang en Afrikaans die groot bindende faktor (vergelyk Van Rensburg 2012: Hoofstuk III en IV).

Hiermee suggereer ek steeds hoegenaamd nie 'n homogene Voorposgemeenskap nie. Inteendeel, duidelike klasmerkers loop deur die gemeenskap, soos deur enige ander koloniale gemeenskap. 'n Mens kan opvallende klasmerkers onderskei, merkers wat grense trek, byvoorbeeld die drie groot groepe: slawe, Afrikane en Europeërs. In meer besonderhede: Slawe, vry slawe, Khoi-San, Khoi, Oorlams, Basters, Trekboere en Kolonisteboere.

Die dwaling is egter om die klasmerkers as digotome te sien, want die merkers dui op grade van besitter teenoor nie-besitter, grade van nomade, skakerings van beskaafd en onbeskaafd. Etnisiteit was een van die merkers, maar nie die enigste merker nie. Dit was ook 'n klasmerker eerder as 'n rasmerker, en bepaald nie 'n digotomie van blank en nie-blank nie.

Al sou die terme vir die plek en tyd per konvensie vas wees, veronderstel die terme self 'n onderlinge vloeibaarheid. Waar lê die grens tussen Khoi en Oorlam, Oorlam en Baster, tussen Baster en Trekboer of tussen Trekboer en Grensboer?

Die Voorposgemeenskap is daarby ook nog volgens Van Rensburg (2012:44) 'n enkele taalgemeenskap met net 'n vae variëteitsgrens tussen Khoi-Afrikaans en Veeboerafrikaans, en selfs dit was nie 'n digotomie nie.

Wat noem ons hulle?

Dit is wat ek in 1992 (Du Plessis 1992:8) bedoel het met Afrikaanses, maar toe was dit vir my 'n sinchroniese term. Nou verstaan ek dit meer diachronies, omdat my lees van die geskiedenis en die taalgeskiedenis 'n nuwe wêreld oopgemaak het waarbinne die fiktiewe karakters van die romans optree. Dalk verstaan ek nou self eers my eie term, maar dit is nou onbruikbaar omdat dit verpolitiseer is.

Die verskillende Afrikaanssprekende gemeenskappe op die Voorpos veronderstel nie 'n digotomie nie, want daar is nie duidelik gedefinieerde grense tussen die onderskeie Afrikaanse groepe nie, dit impliseer eerder iets soos 'n kontinuum. Die trekkers uit die Voorpos is 'n heterogene, geïntegreerde gemeenskap. 'n Kontinuum van gemeenskappe, waar kleur, ná meer as 'n eeu in die Afrika-son, hoogstens skakerings van bruin sou wees. Ek wil aanvanklik wegbly van 'n Afrikaanse term vir dié gemeenskap, omdat dit voor die einde van ons gesprek polities verdag sal wees.

Ek het my op 'n Google-soektog verlaat en agtergekom dat daar internasionaal meer neutrale terme vir sodanige gemeenskappe bestaan. Miskien is die Spaanse mestizos 'n eerste oplossing. Dit is afgelei van die Latynse woord vir meng, mixtus.

Dit is my nalees oor die Métis-mense van Kanada wat my op die eerste spore geneem het. Die sewentiende-eeuse Franse pelsjagters het inheemse Indiane-vroue geneem en hieruit ontstaan die Métis-Nation, wat volgens Noel Knockwood (1995:1) "a continuum [is] having Native roots at one end and European at the other".

Ofskoon die Voorposmense 'n vergelykbare kontinuum veronderstel, is dit duidelik uit die betoog tot dusver dat dit op ons Voorpos nie net om Afrikaan en Europeer op die eindpunte van die kontinuum gaan nie, want dit word gekompliseer deur slawe as deel van die kontinuum. Die Voorposgemeenskap is verder meer as 'n gemeenskap van gemengde bloed, want op die eindpunte moet daar teoreties voorsiening gemaak word vir iets soos ongemengde Afrikaan, ongemengde slaaf en ongemengde Europeër. Die Voorposgemeenskap sluit meer as net mestizos in. Daarom gebruik ek Voorpospioniers as eienaam vir my Voorposgemeenskap.

Die Voorpospioniers is Afrikaanssprekend, maar daar loop sosiale en dus ook sosiolektiese grense deur die taalgemeenskap. Van Rensburg (2012) onderskei deurgaans tussen Khoi-Afrikaans en Veeboerafrikaans op die Voorpos, maar selfs dit kan natuurlik ook geïnterpreteer word as mite van die digotomie, want die Intertaalteorie veronderstel juis 'n klien van aanleerdersvariëteite en nie net 'n tweedeling nie.

Lang en indringende gesprekke tussen my en Christo van Rensburg oor die afgelope jare veroorsaak dat ek nie altyd seker is of ek hom of myself aanhaal nie, maar hy het my op die spoor van G.S. Nienaber se manatan gebring. Die Voorpospioniers het almal Manatans gepraat. Manatan, volgens Nienaber (1989:716; 795), is die Khoi-woord wat verwys na 'n taal sonder klap- of suigklanke, dus nie Khoi nie.

My karakters verteenwoordig 'n geskakeerde Voorpospioniersgemeenskap wat Afrikaans praat. Dit is Manatans wat getrek het.

 

5. HOEKOM TREK HULLE?

Die aard van die boerdery op die Voorpos in die eeu voor die Groot Trek veronderstel verskillende grade van 'n nomadiese bestaan. Om by Van Rensburg (2012:70) aan te sluit: "Veeboere moet maar regstaan om gereeld agter weiveld aan te versit. Dit maak dat hulle trek ken. En onvastigheid. So bly 'n mite leef. Eendag kom daar 'n trek wat by 'n bestemming gaan uitkom waar drome nie meer hersenskimme is nie."

In aansluiting by die siening oor die Amerikaanse Frontier, aanvaar ek ter wille van die argument dat ons Voorpos nie net 'n werklike plek is nie maar ook 'n ruimte waarbinne identiteit geskep én verwoes word. Die vorige afdeling het oor die Voorpos as skepper van 'n Voorpos-identiteit gehandel, terwyl dit eweneens die verwoester van 'n Kaapse identiteit was. Wat gebeur nou as die pionier op die Voorpos self weer gemarginaliseerd voel?

In 1836 verlaat my Voorposkarakters die Voorposruimte en trek oor die Grootrivier die onbekende binneland in na 'n nuwe ruimte. Eintlik maar net na 'n nuwe Voorpos waarin ou identiteite verwoes kan word en nuwes gebore kan word.

Die vraag is dus: Hoekom trek 'n pioniersgemeenskap uit een voorpos na 'n ander, onbekende voorpos?

'n Punt wat Penn in sy inleiding maak, is dat die amptenary in 'n vreemde omgewing die oorspronklike kultuur idealiseer. Ek meen dat 'n mens ook identiteit in die plek van kultuur kan gebruik. Die Nederlandse en later Britse amptenary in die afgeleë grensgebiede idealiseer hiervolgens die Kaapse identiteit. Dit was juis die onderdrukkende aard van die Kaapse kultuur wat my karakters se voorgeslag Voorpos toe gedryf het. Dit is presies dié kultuur wat hulle in die Kaap soos gemarginaliseerde koloniste laat voel het. Giliomee (2003:58) merk op dat "many of them pretended that they could do without the government, ...".

Deur weg te trek uit die Kaap self, het hulle hulleself van die konvensies wat hulle onderdruk het, probeer bevry sodat hulle 'n nuwe interpretasie aan Kaapse identiteit kon gee. "The frontier was thus the sight of constant battle between different versions of what constitutes Dutch identity", sê Penn (1995:XVIII).

Dit is belangrik om te beklemtoon dat die voorafgaande afdeling van hierdie artikel juis betoog dat die identiteit op die Voorpos teen die eeuwending veel meer as 'n Hollandse of selfs 'n Kaapse identiteit was.

Teen 1836 word die binneland vir my karakters die "ander plek", 'n heterotopie. Heterotopie is 'n konsep uit die menslike geografie wat dui op 'n ruimte van andersheid, maar wat nie hier of daar is nie. Dit is terselfdertyd werklikheid en verbeelding, soos die beeld in 'n spieël.

Was die Voorpospioniers op soek na 'n ander voorpos, 'n nuwe identiteit?

Die oorsake van die Groot Trek word in baie boeke en artikels bespreek, ook in Die geskiedenis van Suid-Afrika. Dit is glad nie die doel van hierdie afdeling om dit oor te probeer sê nie. Dit is goed genoeg gedokumenteer, maar die karakters in enige roman se handeling moet immers gemotiveer word. Die fiksieskrywer is meer geïnteresseerd in die koppe en harte van mense omdat dit eintlik is waaroor die historiese roman behoort te gaan.

Die bekende Franse filosoof, Michel Foucault (1926-1984), beklemtoon in sy 1967-artikel oor heterotopie, ruimte as sentrum van ons teorieë en denke. In die Middeleeue is ruimtes bloot beskou as 'n groep hiërargieë van plekke, byvoorbeeld heilige plekke. Die vraag is egter nie net of daar ruimtes is nie, maar wat die verhouding tussen terreine is, en ek gebruik terreine as vertaling van die Engelse sites. Ons lewe in 'n stel verhoudings met terreine wat nie gelykgestel kan word aan mekaar nie, en wat ook nie oormekaar geplaas kan word nie.

In die uiteensetting hier onder steun ek swaar op die Engelse vertaling van die 1967-artikel van Foucault self, miskien so sterk dat dit wat volg in sekere opsigte 'n Afrikaanse interpretasie van Foucault is. Die verwysings is sonder uitsondering na hierdie artikel, wat in die internet-weergawe ongelukkig nie bladsynommers verstrek nie.

Eerstens is daar utopieë, maar Utopia is nie 'n werklike plek nie. "Utopias are sites with no real place." Utopieë is terreine sonder werklike plek. Dit stel 'n gemeenskap in perfekte vorm voor. In wese is 'n utopie 'n plek wat nie bestaan nie. 'n Droomruimte.

Veral ná die tweede Britse besetting van die Kaap in 1806 sou die Voorpospioniers al meer oor 'n utopie begin droom het. 'n Droomruimte waarin hulle nie oorheers en gemarginaliseer sou word deur vreemde amptenare of onderdrukkende wette en regulasies nie. Sodanige utopie is egter plekloos, totdat die droomplek 'n werklike plek word. Dit noem Foucault dan 'n heterotopie.

'n Museum is byvoorbeeld 'n heterotopie van tyd, 'n plek waar voorwerpe en style uit verskillende tye uitgestal word. "They exist in time but also exist outside of time because they are built and preserved to be physically insusceptible to time's ravages."

Foucault gebruik 'n spieël as metafoor vir die dualiteit en kontradiksie, die werklikheid en onwerklikheid van utopiese projekte. Die spieël is 'n metafoor vir 'n utopie, omdat die beeld wat 'n mens daarin sien nie bestaan nie. Die spieël is egter tegelyk ook 'n heterotopie, want die spieël is inderdaad 'n werklike plek waarin jou beeld verskyn.

Die volmaakte wêreld wat die Voorposmense hulle verbeel bestaan, bestaan nêrens nie, maar anderkant die Grootrivier is daar 'n binneland, 'n werklike ruimte, waarin hulle die spieëlbeeld van die utopie sien. Die binneland word dus die heterotopie waarheen hulle gaan trek. Dit is die plek wat optree as utopie, en die heterotopie wat gevorm word in die gees van die gemeenskap.

Dit, sê Foucault, is iets soos kontra-terreine, 'n soort effektiewe nagemaakte utopie waarin al die werklike terreine, al die ander werklike terreine wat kan bestaan binne die kultuur, gelyktydig verteenwoordig, betwis en omgekeer kan word. Hierdie soort plekke is buitekant alle plekke, al sou dit moontlik wees om hulle lokaliteit in die werklikheid aan te dui. Omdat hierdie plekke totaal anders is as al die terreine wat hulle weerkaats en oor praat, noem Foucault hulle, by wyse van kontras met utopieë, heterotopieë. Foucault meen dat daar tussen utopieë en heterotopieë 'n soort gemengde, gesamentlike ervaring kan wees, wat die spieël is. Die spieël is immers 'n utopie, aangesien dit 'n pleklose plek is. In die spieël sien ek myself daar waar ek nie is nie, in 'n onwerklike, virtuele plek wat agter die oppervlakte oopgaan; ek is daar oorkant waar ek nie is nie, 'n soort skaduwee wat my eie sigbaarheid vir myself gee, dit stel my daartoe in staat om myself te sien waar ek afwesig is: Dit is egter terselfdertyd ook 'n heterotopie vir sover die spieël in die werklikheid bestaan, waar dit van 'n soort teenaksie van die posisie wat ek inneem, gebruik maak. Gesien van die spieël se kant af ontdek ek my afwesigheid van die plek waar ek is (in die spieël) omdat ek myself daar oorkant sien. Die gestaar word as 't ware reguit op my gerig vanaf die grond van hierdie virtuele plek wat aan die ander kant van die glas is, kom ek na myself toe terug, ek begin weer my oë op myself rig en begin myself rekonstitueer daar waar ek is. Die spieël funksioneer in hierdie opsig as 'n heterotopie: dit maak hierdie plek wat ek inneem sodra ek na myself in die glas kyk onmiddellik absoluut werklik, saam met al die ruimte wat dit omring, en absoluut onwerklik, want om waargeneem te word, moet dit deur hierdie virtuele punt wat doer oorkant is, beweeg.

Hoe kan die heterotopieë beskryf word? Watter betekenis het hulle? Dit is min of meer 'n gelyktydige mitiese en werklike stryd van die plek waarin ons bestaan. Hierdie beskrywing kan heterotopologie genoem word.

Die Voorposgemeenskap sien oorkant die Grootrivier die werklike plek waarin hulle hulleself op hulle eie manier sal regeer, waar hulle onafhanklik sal wees. Die nuwe voorpos word hulle heterotopie.

In die twee romans word daar deurgaans gepraat oor Andries Hendrik Potgieter se isolasiebeleid. Hy wil 'n droomwêreld sonder Engelse skep. Dit is hoekom die karakters in Die pad na Skuilhoek nie Natal toe gaan nie, en dit is hoekom die enkele nuwe karakters in As die wind kom draai terug trek, weg van die anneksasie van Natal af.

Op die nuwe Voorpos kry die karakters nuwe mites en 'n ander identiteit.

 

6. SLOT

Heterotopieë is spesiale plekke waarin spesifieke waardes van die vooggemeenskap gelyktydig verteenwoordig, betwis en gewysig word. Die binneland as nuwe voorpos is 'n goeie voorbeeld van 'n heterotopie.

Daar is in hierdie artikel vlugtig aandag geskenk aan die mites wat die Nederlandse koloniste met hulle saamneem na die Voorpos toe en hoe dit op die Voorpos verander en al minder Hollands en al minder Kaaps word. Wat gebeur met die mites in die binneland, want sodra die mite na 'n nuwe plek (voorpos) ingevoer word, word dit getransformeer?

Dit is eintlik 'n vraag na die gevolge van die Groot Trek. Daaroor kan ek ongelukkig nog nie praat nie, want my jongste roman eindig in 1844. Dit was nog te vroeg om die transformasie te sien. Daarvoor moet jy maar die geskiedenisboeke raadpleeg.

My karakters gaan op trek op soek na hulleself en die utopie waarin daar nie oorheersing is nie. Hendrik Potgieter sê in die jongste roman, As die wind kom drooi, self dat waar 'n Engelsman is, kan daar nie vryheid wees nie. Hulle ontmoeting met die binneland as werklike ruimte, met nuwe armoede, onderlinge stryd en die nasies, laat sowel die utopie as die heterotopie vinnig verdwyn. Miskien is die byna onmiddellike teenwoordigheid van die Britse owerheid in die binneland 'n feit wat die utopie verwoes, en die geweld waarmee die nasies ontmoet word deel van wat uiteindelik hulle identiteit word, 'n identiteit wat eers ná 1880 as Afrikanernasionalisme beskryf kan word. Maar ek raai net, want ek is nog net by 1844.

Een ding weet ek nou: Ek kan nie 'n roman skryf oor die geskiedenis van Potchefstroom ná 1850 nie, want ek het te min feite om daarvan fiksie te kan maak.

Daar is dus 'n verband tussen storie en historie, maar daar is ook 'n duidelike verskil. Dit lyk vir my na bedmaats wat nie sonder mekaar kan klaarkom nie. Historiese fiksie is afhanklik van historiese feite. Mislei deur die mite van die digotomie, het ek in die titel van hierdie artikel van storie óf historie gepraat. Nou weet ek van beter. Dit moet Die Groot Trek 175, storie én historie wees.

 

BIBLIOGRAFIE

De Jong, P.S. 1987. Sarel Cilliers. Johannesburg: Perskor.         [ Links ]

De Villiers, Johan. 2012. Die Kaapse samelewing onder Britse bewind, 1806-1834. Pretorius, Fransjohan (redakteur). 2012. Geskiedenis von Suid-Afrika van voortye tot vandag. Kaapstad: Tafelberg, Hoofstuk 4.         [ Links ]

Du Plessis, Hans. 1992. En nou Afrikaans? Pretoria: Van Schaik.         [ Links ]

Du Plessis, Hans. 2011. Die romansier en die verlede: die skrywer se hantering van historiese materiaal in die skep van die historiese roman Die pad na Skuilhoek. LitNet Akademies , Jaargang 8 (3),Desember 2011.         [ Links ]

Foucault, Michel. 1967. Of other spaces, heterotopias. http://foucault.info/documents/heteroTopia/foucault.heteroTopia.en.html        [ Links ]

Gerdener, G.B.A. 1925. Sarel Cilliers, die vader van Dingaansdag. Pretoria: J.L. van Schaik. Giliomee, Herman. 2009. The Afrikaners. Kaapstad: Tafelberg.         [ Links ]

Giliomee, Herman & Bernard Mbenga. 2007. Nuwe geskiedenis van Suid-Afrika. Kaapstad: Tafelberg. Knockwood, Noel. 1995. The Métis-nation. http://easternwoodlandmetisnation.ca/metis-history.htm        [ Links ]

Kriel, Lize. 2004. Negotiating identity in contested space: African Christians, white missionaries and the Boer conquest of the Blouberg in the late nineteenh century Transvaal. African Historical Review, 30:148-169.         [ Links ]

Le Roux, T.H. (red). 1977. Die dagboek van Louis Trigard (derde uitgawe). Pretoria: J.L. van Schaik.         [ Links ]

Nienaber, G.S. 1989. KhoiKhoinse stamname. Pretoria: Academica.         [ Links ]

Penn, Nigel, G. 1995. The Northerh Cape Frontier zone, 1700-c1815. Ongepubliseerde Ph.D.-tesis, Universiteit van Kaapstad.         [ Links ]

Preller, Gustav S. 1920. Voortrekkermense, deel II. Kaapstad: De Nationale pers.         [ Links ]

Preller, Gustav S. 1938. Dagboek van Louis Tregardt (1836-1838) (tweede, verbeterde uitgaaf). Kaapstad: Nasionale pers.         [ Links ]

Pretorius, Fransjohan (redakteur). 2012. Geskiedenis von Suid-Afrika von voortye tot vandag. Kaapstad: Tafelberg.         [ Links ]

Rossouw, Johann. 2008. Tegniek en Republiek: Wisselende vryheidsbegrippe in Afrikaner- en Suid-Afrikaanse politiek. LitNet Akademies, Jaargang 5(1), Augustus 2008.         [ Links ]

Slabbert, Frederik Van Zyl. 2006. Duskant die geskiedenis. Kaapstad: Tafelberg.         [ Links ]

Stals, W/A. 1977. Die kwessie van naturelle-eiendomsreg op grond in Transvaal, 1838-1884. Argiefjaarboek vir Suid-Afrikaanse geskiedenis, jaargang 35, deel II. Pretoria: Staatsargief.         [ Links ]

Van den Bergh, G.N. 1969. Die Drie en Dertig Artikels: Grondwet of Regsprekende handleiding? S.A. Historical journal, (1.1).         [ Links ]

Van den Bergh, G.N. 1998. Die geskiedenis van Potchefstroom. Ongepubliseerde manuskrip.         [ Links ]

Van der Merwe, P.J. 1937. Die noordwaartse beweging van die Boere voor die Groot Trek, 1770-1842. Den Haag: Van Stockum.         [ Links ]

Van der Merwe, P.J. 1985. Die Matabeles en die Voortrekkers. Argiefjaarboek vir Suid-Afrikaanse geskiedenis,         [ Links ]

nege en veertigste jaargang, deel I. Pretoria: Staatsargief. Van Rensburg, Christo. 2012. So kry ons Afrikaans. Pretoria: Lapa.         [ Links ]

Verhoef, Grietjie. 2012. Die ekonomiese geskiedenis van die 19de eeu. Pretorius, Fransjohan (redakteur).         [ Links ]

2012. Geskiedenis van Suid-Afrika van voortye tot vandag. Kaapstad:Tafelberg, pp. 201-218. Visagie, J.C. 2012. Uittog en vestiging van die Voortrekkers in die binneland. Pretorius, Fransjohan (redakteur).         [ Links ]

2012. Geskiedenis van Suid-Afrika van voortye tot vandag. Kaapstad:Tafelberg. pp.131-152.         [ Links ]

 

 

Hans du Plessis behaal die graad BA aan die Universiteit van Pretoria en die DLitt et Phil aan UNISA. Hy besoek Harvard Universiteit in 1976 en in 1991 woon hy kursusse in skryfkuns aan Iowa en die Oklahoma Arts Institute by.
Na ses jaar as onderwyser word hy aangestel as lektor in Afrikaanse taalkunde aan UNISA in 1971, daarna doseer hy aan die RAU en word in 1981 aangestel as professor in Afrikaans aan die Noordwes-universiteit. Hy word in 1990 die Direkteur van die ATKV-skryfskool van die NWU. Tans is hy navorsingsgenoot in die Skool vir Tale van die NWU en hy is voltydse skrywer.
Meer as 150 artikels in nasionale en internasionale tydskrifte het reeds uit sy pen verskyn asook 'n aantal taalkundeboeke. Hy debuteer in 1978 as skeppende skrywer en 15 literêre werke het reeds van hom verskyn, waaronder poësie, prosa en drama.

Hans du Plessis obtained a BA from the University of Pretoria and the DLitt et Phil from UNISA. He visited Harvard University in 1976 and in 1991 attended courses in Creative Writing at Iowa and the Oklahoma Arts Institute. After six years as a teacher he was appointed lecturer in Afrikaans linguistics at UNISA in 1971. He took up a post as Senior Lecturer at the Rand Afrikaans University and in 1981 became professor in Afrikaans at the Northwest University and in 1990 the Director of the School for Creative Writing at the same university. At present he is a full-time writer, and research fellow in the School of Languages of the Northwest University. He has published more than 150 articles in national and international journals, several textbooks, and 15 literary works, including poetry, novels and columns.

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License