SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.53 número3The context of the Royal Music School and the Royal Academy of Music in Munich and their South African born students, 1874-99The Great Trek 175: Story or history? índice de autoresíndice de materiabúsqueda de artículos
Home Pagelista alfabética de revistas  

Servicios Personalizados

Articulo

Indicadores

Links relacionados

  • En proceso de indezaciónCitado por Google
  • En proceso de indezaciónSimilares en Google

Compartir


Tydskrif vir Geesteswetenskappe

versión On-line ISSN 2224-7912

Tydskr. geesteswet. vol.53 no.3 Pretoria  2013

 

RESEARCH AND REVIEW ARTICLES

 

Rapport se uitbeelding van Robert Mugabe se kandidatuur vir die 1980 Zimbabwiese onafhanklik-heidsverkiesing

 

Rapport's depiction of Robert Mugabe's candidature for the 1980 Zimbabwean independence election

 

 

JC de Wet

Departement Kommunikasiewetenskap Universiteit van die Vrystaat Bloemfontein E-pos: dewetjc@ufs.ac.za

 

 


OPSOMMING

Robert Mugabe is reeds vir meer as drie dekades aan bewind as president van Zimbabwe. Hy gaan weer vanjaar op 89-jarige ouderdom sy ZANU-PF party in die nasionale verkiesings lei. Mugabe het deur die jare die beeld verkry van 'n magshonger diktator wat min politieke opposisie duld. Die Westerse wêreld het sy rug op Zimbabwe gedraai met die VSA en die Europese Unie wat tans ekonomiese sanksies toepas. Hoe is hy destyds deur die Suid-Afrikaanse media, toe hy aanvanklik vir die presidentskap gestaan het, aan Suid-Afrikaners voorgehou? Meer spesifiek, wat het Rapport, Suid-Afrika se enigste Afrikaanse Sondagkoerant in 1980, vir sy lesers oor Mugabe se kandidatuur te vertel gehad? Hoe is Mugabe deur middel van agendastelling en raming uitgebeeld? 'n Kwalitatiewe inhoudsontleding van Rapport se dekking van die verkiesingsveldtog met die gepaardgaande agendastelling en raming word gevolg deur argumentasie wat die inhoud van die dekking in lyn bring met kritiese Suider-Afrikaanse vraagstukke destyds en met die algemene kultuur van Rapport as instelling. Daar is bevind dat Rapport hoofsaaklik van stereotipiese beelde van Mugabe gebruik gemaak het. Vir Rapport het die verkiesingstryd in Zimbabwe hoofsaaklik gedraai om 'n keuse vir Suider-Afrika tussen die kapitalisme en Marxisme aan die een kant, en die toekoms van wit en swart mag aan die ander kant. Mugabe is uitgebeeld as die vyand van sowel die kapitalisme as wit belange.

Trefwoorde: Robert Mugabe; 1980 Zimbabwiese onafhanklikheidsverkiesingsveldtog; Rapport; kwalitatiewe inhoudsontleding; agendastelling; raming; stereo-tipiese beelde; Suider-Afrikaanse vraagstukke; kapitalisme; Marxisme; wit mag; swart mag


ABSTRACT

Zimbabwean President Robert Mugabe has now been in power for more than three decades. The 89-year-old Mugabe will again lead his ZANU-PF party in national elections this year. He has steadily acquired an image of a power hungry dictator who allows little political opposition. The Western World has turned its back on Zimbabwe with the United States and European Union imposing economic sanctions on it. What kind of image did he bring to his initial candidature in 1980? How was he depicted by the South African media or, more specifically and for the purposes of this article, what did Rapport, at the time the only Afrikaans Sunday newspaper in South Africa and ally of the ruling National Party, have to say about Robert Mugabe and his candidature in the 1980 Zimbabwean (common roll) independence election? How was he depicted by means of media agenda-setting and framing? The term "common roll" election, as found in the (Rhodesian) Electoral Act of 1979, is used in this article merely to distinguish the election for 80 members of Parliament from the election for the 20 reserved white seats which was held on 14 February 1980. In fact, as agreed upon at Lancaster House, there was no roll for black voters. Polling for the common roll election was on 27, 28 and 29 February 1980. Qualitative content analysis is employed. The population comprises every heading, report, article, editorial, cartoon, photograph and caption on Robert Mugabe as it appeared in the available late editions of Rapport from 13 January 1980 to 24 February 1980. The analysis of the coverage and the concomitant media agenda-setting and framing are followed by argumentation that brings the content in line with the general culture of the newspaper and critical issues predominating in Southern Africa at that time. A typification of Rapport in 1980 is provided as well as the conditions under which foreign correspondents had to operate in Zimbabwe-Rhodesia during the election campaign. The vigorous press censorship that had existed after both the Internal Settlement on 3 March 1978 and the internal elections (which saw Bishop Abel Muzorewa become Prime Minister of Zimbabwe-Rhodesia on 1 June 1979), though diminished, was however not ended when the British Governor, Lord Christopher Soames, assumed office in mid-December 1979. Although nine political parties announced that they would contest the 80 seats on the common roll, it was soon clear that the real contest in the election would be between the United African National Council (UANC) led by Bishop Abel Muzorewa, the Patriotic Front (PF) led by Joshua Nkomo, and Robert Mugabe's Zimbabwe African National Union-Patriotic Front (ZANU-PF). The analysis shows that Rapport viewed and depicted Mugabe as a threat to white interests in Rhodesia on the grounds, inter alia, that Mugabe would destroy the free market system and replace it with a communist system where industries are nationalised. Rapport used mainly stereotypical images to frame Mugabe. Traits ascribed to Mugabe by means of words included defiant, dishonest, Marxist, ruthless, despicable and terrorist leader. Photographs which appeared in Rapport portrayed him as evil, ominous, representing black power, wolf in sheep clothes, insensitive to common rules of conduct, aggressive and emotional. Rapport regarded Mugabe as the frontrunner in the race for the Presidency, despite him being depicted (by Rapport) as a mean, aggressive, sinister (albeit intellectual) individual who would continue the war if he did not win the election. From the coverage it appears that Rapport regarded and framed the election campaign as revolving respectively around a choice for Southern Africa between capitalism and Marxism and between the future of white and black power. Mugabe was depicted as an enemy both of capitalism and of continued white interests.

Key words: Robert Mugabe; 1980 Zimbabwean independence election campaign; Rapport; qualitative content analysis; agenda-setting; media framing; stereotypical images; Southern African issues; capitalism; Marxism; White power; Black power


 

 

INLEIDING EN PROBLEEMSTELLING

Zimbabwe is op 18 April 1980 gebore nadat Robert Mugabe se party, die Zimbabwe African National Union (Patriotic Front)-ZANU (PF), 'n oorweldigende meerderheid in die Februarie 1980 onafhanklikheidsverkiesing in die voormalige Rhodesië behaal het. Veertig lande het nagenoeg 800 mediaverteenwoordigers gestuur om oor hierdie historiese verkiesing verslag te doen (Boynton 1980:34). Suid-Afrikaanse korrespondente was ook daar om oor die gebeure te berig.

Mugabe (1924-) is nou vir meer as drie dekades aan die bewind. Volgens onlangse berigte (sien Moore 2013; Tendi 2013), gaan hy weer vanjaar op 89-jarige ouderdom, wat hom die oudste dienende politieke leier in Afrika maak, sy party in die Zimbabwiese nasionale verkiesings lei.1

Sy presidentskap is in die geheel in omstredenheid gehul (sien Moore 2013; Moyo 2010:ii; Willems 2010). Mugabe het gedurende die eerste tien jaar van sy bewind die land se hulpbronne gebruik om skole, paaie, damme, hospitale en klinieke vir gemarginaliseerde swart gemeenskappe te bou. Hy het egter ook in die 1980's gewys dat hy nie opposisie duld nie met sy veigruising van Joshua Nkomo se Patriotic Front waartydens duisende burgerlikes gesterf het. In die 1990's het hy opdrag gegee dat miljoene hektaar grond wat in die besit van witmense was, konfiskeer word wat tot die massa-uittog van kommersieel-aktiewe wit boere gelei het. Mugabe het hom deurgaans as die swartmense se held voorgehou, die een wat sal sorg dat herkolonialisering nie weer sal plaasvind nie, en as die dryfveer agter die finale revolusie van die swart vryheidstryd. Soos Zakaria (2013) uitwys, sy ekonomiese beleid is 'n ramp. Die staatskas word deur regeringsamptenare en ministers feitlik leeg gesteel (Moore 2013). Duisende mense het deur die jare uit Zimbabwe na lande soos Suid-Afrika, Botswana en die Verenigde Koninkryk gevlug (Moyo 2010:ii). Die Westerse wêreld het sy rug op Zimbabwe gedraai met die VSA en die Europese Unie wat ekonomiese sanksies toepas (Moore 2013). Hoewel Mugabe in die algemeen as 'n kwaai, slu en bejaarde diktator beskou word, het hy nog heelwat steun in Zimbabwe - hoewel selfs hierdie steun miskien te wyte is aan 'n vrees vir hom en sy militêre trawante (Moore ibid.).

In die lig van Mugabe se lang heerskappy in Zimbabwe, Suid-Afrika se belangrikste buurland; dat hy steeds in die kollig bly; en sy merendeels swak internasionale beeld vandag, kan mens vra wat was die voorstelling van hom in Suid-Afrika toe hy aanvanklik vir die Presidentskap gestaan het, of hoe is hy destyds deur die Suid-Afrikaanse media aan Suid-Afrikaners voorgehou? Meer spesifiek, en vir die doeleindes van hierdie artikel, kan gevra word hoe het Rapport, Suid-Afrika se enigste Afrikaanse Sondagkoerant in 1980, Mugabe se kandidatuur aan sy lesers voorgehou? Rapport was, en word steeds, beskou as 'n leidende medium vir die Afrikaanssprekende koerantleserspubliek.

Die wetenskaplike relevansie van so 'n ondersoek het te doen met die "soeke na waarheid" rondom die beeld van Mugabe wat deur Rapport voorgehou is en die redes daarvoor binne die konteks van die hoofstroomkultuur/-ideologie van die koerant en die Suid-Afrikaanse regering in 1980. Akkurate antwoorde hierop moet nagevors word. Die ondersoek betrek ook die praktyk van (media) agendastelling waar die media, met inbegrip van koerante, vir ontvangers vertel waaroor hulle moet dink - ook ten opsigte van politieke persoonlikhede wat betrokke is by verkiesingsveldtogte (sien Negrine & Stanyer 2007). Gekoppel aan media-agendastelling is die gebruik van rame of verwysingsraamwerke deur joernaliste om nie slegs vir ontvangers te vertel waaroor hulle moet dink nie, maar ook aan hulle voor te stel (deur middel van onder meer metafore, stereotipes en foto's) hoe hulle die gebeure of mense moet vertolk (sien Linström & Marais 2012:21-38).

 

DOEL EN METODE

Hierdie artikel ondersoek hoe Rapport die kandidatuur van Robert Mugabe gedurende die 1980 Zimbabwiese onafhanklikheidsverkiesingsveldtog - vir die gemeenskaplike kieserslys ("common roll") - uitgebeeld het.

Die sogenaamde "common roll election" (verkiesing vir die gemeenskaplike kieserslys) vir 80 Parlementslede moet onderskei word van die een vir die 20 setels wat vir blankes gereserveer is en wat op 14 Februarie 1980 gehou is. Soos daar by Lancaster House ooreengekom is, was daar geen kieserslys vir swart kiesers nie (Southern Rhodesia Elections 1980). Die verkiesing vir die gemeenskaplike kieserslys het op 27, 28 en 29 Februarie 1980 plaasgevind.

Die populasie van die ontleding behels elke opskrif, berig, artikel, hoofartikel, spotprent, foto en onderskrif oor Robert Mugabe soos dit in die beskikbare laat-uitgawes van Rapport vanaf 13 Januarie 1980 tot 24 Februarie 1980 verskyn het. Hierdie tydperk kom ooreen met die amptelike datums van die verkiesingsveldtog vir die gemeenskaplike kieserslys.

Sondagkoerante het 'n voordeel bo dagblaaie deurdat hulle die voorafgaande week se gebeure in taamlike detail kan beskou en in 'n breë konteks kan plaas. Vanweë tyd- en spasie-oorwegings is dit dus moontlik dat Sondagkoerante meer omvattend kommentaar op gebeure soos verkiesingsveldtogte as dagblaaie kan lewer.

Met die doel om die dekking in konteks te plaas, word die ontleding gevolg deur argumentasie wat onder meer die inhoud van die dekking met die destydse kultuur van Rapport as instelling in lyn bring.

Dit is so dat die vertolking van 'n teks sy eie problematiek inhou. Subjektiwiteit is ter sprake wanneer daar kwalitatief te werk gegaan word. Sodanige subjektiwiteit van die navorser word egter geminimaliseer wanneer nie net alle nuusbydraes van die tersaaklike onderwerp ondersoek word nie, maar ook as daar aangeneem word dat nuusbydraes voorkom binne die beperkings van die gevestigde "nuusraam". Hierdie nuusraam is die politiek-ideologiese, sosiaal-ekonomiese en administratiewe grense waarbinne die beginsels van joernalistieke praktyk by 'n bepaalde media-instelling beoefen word (vgl. Preston 2009; Tuchman 1978; Zelizer 2004:45-80).

'n Begrip van die bepaalde politiek-ideologiese ingesteldheid van Rapport in historiese konteks is dus toepaslik.

 

'N TIPERING VAN RAPPORT IN 1980

Rapport was in 1980 die enigste Afrikaanse Sondagkoerant in Suid-Afrika. Sy sirkulasiesyfer was nagenoeg 417 000 (Audit Bureau of Circulations, January-June 1980). Die koerant is uitgegee in Johannesburg, maar is landswyd gesirkuleer.

Rapport is gesamentlik besit deur Nasionale Pers en Perskor, die twee groot Afrikaanse persgroepe. Die Rade van hierdie persgroepe wat die besluite geneem het (vgl. Cillie1980), het die Nasionale Party ondersteun en die redaksionele beleid (met inbegrip van die politiek-ideologiese beleid) van Rapport beheer deur onder meer die aanstelling van redakteurs (vgl. Adam & Giliomee 1979:232-240; Roelofse 1983:56).

Die rol van Rapport (en ander hoofstroom-Afrikaanse koerante) is bondig opgesom deur Pienaar (1979:131) as "onafhanklik-in-gebondenheid", bedoelende dat Rapport aan die een kant onafhanklik was deurdat dit nie deur die regering besit is nie en onafhanklik was in die handhawing van sy joernalistieke taak, maar dat Rapport aan die ander kant gebonde en lojaal was aan die regerende Nasionale Party.

Met die aanvang van die Zimbabwiese onafhanklikheidsverkiesingsveldtog was Rapport stewig geposisioneer binne die raamwerk van Westerse kultuur en wit politieke en ekonomiese mag (cf. Roelofse 1983). In verband met wit mag, huldig Adam en Giliomee (1979:237) die mening dat Afrikaanse (en Engelse) koerante "meer stabiele strukture van dominansie wil bou sonder om met die werklike mag en verspreiding van rykdom in te meng. In mindere of meerdere mate kritiseer albei die uitvoerende mag se styl van magsvertoon sonder om hulle te beywer vir die radikale transformasie van die huidige orde" (eie vertaling). Die Afrikaanse en Engelse pers wou dus nie die ekonomiese status quo, wat op kapitalistiese lyne gebaseer was, radikaal verander nie (vgl. Adam & Giliomee 1979:177-195; Chimutengwende 1978; Doherty 1981; Louw 1983).

Die redenasie wat hier gevolg word, is dat die Afrikaanse pers in 1980, met inbegrip van Rapport, saamgewerk het om kapitalisme en wit belange te laat seëvier.

Eksterne faktore of die sosiale omstandighede waaronder joernaliste werk, kan die inhoud van hulle mediaboodskappe beïnvloed. Die omstandighede waaronder buitelandse korrespondente (insluitende diegene van Rapport) gedurende die verkiesingsveldtog in Zimbabwe-Rhodesië moes funksioneer, is dus ter sprake. Dit kan vermeld word dat buitelandse korrespondente 'n spesiale vertolkende of verklarende rol het om in gebeure te speel, synde dat buitelandse gebeure dikwels so kompleks is dat die meeste lesers nie die feite oor verwikkelinge in konteks kan plaas nie. Terwyl die korps van buitelandse korrespondente dikwels mekaar raadpleeg oor gebeure en met die opvolg van nuusleidrade, moet elkeen sy eie "mark" (lesers, luisteraars, kykers) in gedagte hou wanneer stories ingestuur word (cf. Gans 1980:37; Graber 1980:250; Metykova 2009; Willnat & Weaver 2003). Politieke druk op buitelandse korrespondente speel dalk 'n groter rol by die aanvanklike keuse van nuus as wat dit in hul eie lande sou geld, omdat korrespondente min of meer in die hande is van die owerhede in die lande vanwaar hulle verslag doen.

 

BUITELANDSE KORRESPONDENTE IN ZIMBABWE-RHODESIË

Deur die omstandighede te beskryf waaronder buitelandse korrespondente gedurende die verkiesingsveldtog in Zimbabwe-Rhodesië moes funksioneer, moet 'n mens daarop let dat die streng mediasensuur wat sowel ná die Interne Skikking op 3 Maart 1978 as die interne verkiesings (wat tot biskop Abel Muzorewa se verkiesing op 1 Junie 1979 as Eerste Minister van Zimbabwe-Rhodesië gelei het) steeds van krag was (hoewel in mindere mate) toe die Britse Goewerneur, lord Christopher Soames, vanaf die middel van Desember 1979 sy amp beklee het (Southern Rhodesia Elections 1980:46).

Volgens die Commonwealth Observer Group (Southern Rhodesia Elections 1980:47) was alle inligting oor die veiligheidsmagte onder die beheer van die Minister van Inligting. Noodregulasies het voorsiening gemaak dat mense wat inligting versprei wat paniek of wanhoop kon veroorsaak, gestraf sou word. Die Commonwealth Observer Group rapporteer voorts dat wetgewing alle inligting deur enige medium vir gebruik binne of buite Rhodesië oor die veiligheidsmagte of die Regering se werksaamhede om terrorisme of sabotasie te beveg, verbied het. Hulle rapporteer ook dat die wetgewing 'n negatiewe invloed gehad het op die vermoë van joernaliste om oor gebeure tydens die 1980-verkiesingsveldtog verslag te doen (Commonwealth Observer Group ibid.).

Wat mediageriewe betref, hou sir John Boynton, die Verkiesingskommissaris van die 1980 Zimbabwiese onafhanklikheidsverkiesings, vol dat alle pogings aangewend is om die media te help om oor die verkiesing verslag te doen. 'n Perssentrum is in sentraal-Salisbury gevestig en is gesamentlik deur die personeel van die Goewerneur se woordvoerder en die Rhodesiese Departement van Inligting bestuur. Ongeveer 800 persone vanuit die mediawêreld in veertig lande was geakkrediteerd en kon dus die geriewe by die sentrum gebruik (Boynton 1980:34).

Die Verkiesingskommissie het vir die media daagliks agt heen-en-weer-terug-reise na elkeen van die provinsies gedurende die tydperk 14 Februarie 1980 tot 2 Maart 1980 gereël. Op al hierdie reise is die media vergesel deur lede van die Rhodesiese Departement van Inligting en soms deur lede van die Goewerneur se personeel (Boynton ibid.). Daar is egter vermeld dat dit uiters moeilik vir buitelandse korrespondente was om 'n gebalanseerde prentjie te kry van wat swartmense in die landelike gebiede en in die Trustgebiede dink. Dit was blykbaar so omdat Rhodesiese beamptes streng beheer oor die verrigtinge uitgeoefen het en swartmense huiwerig was om steun vir Mugabe uit te spreek uit vrees vir vergelding deur veiligheidsbeamptes (vgl. Frederikse 1982:284-285, 323).

 

MUGABE TE MIDDE VAN IDEOLOGIE EN STRYD

Hoewel nege politieke partye aangedui het dat hulle die 80 setels vir die gesamentlike kieserslys sou beveg, was dit duidelik (Cleary 1980:24) dat die ware mededinging in die verkiesing gelê het tussen die United African National Council (UANC) gelei deur biskop Abel Muzorewa, die Patriotic Front (PF) van Joshua Nkomo, en Robert Mugabe se Zimbabwe African National Union-Patriotic Front (ZANU-PF).

Nkomo en Mugabe, wat die Patriotic Front Alliance gestig het as bondgenote in die oorlog teen die Smith- en Muzorewa-regerings, het besluit om die verkiesing as aparte partye te beveg.

Terwyl Muzorewa nie heeltemal die Westerse waardes en kapitalistiese leefstyl van wit Rhodesiërs verteenwoordig het nie, was hy dié een van al die belangrike swart leiers wat die naaste daaraan gekom het - beslis meer so as Nkomo of Mugabe (Frederikse 1982:275). Muzorewa is deur blankes beskou as 'n gematigde swart leier wat nie wesenlik die kapitalistiese status quo sou verander as hy aan die bewind kom nie (Frederikse ibid.).

Die witmense in Rhodesië het Nkomo beskou as die "man in die middel", wat die potensiaal gehad het om 'n dooie punt in die verkiesing tussen Mugabe en Muzorewa te breek, indien - soos die meeste politieke ontleders voorspel het - geen kandidaat 'n algehele meerderheid sou behaal nie (Frederikse 1982:290). Frederikse (1982:291) stel dit voorts dat die witmense in Rhodesië gehoop het dat Nkomo deel sou kon wees van 'n wit-gesteunde gematigde swart regering om die uitgesproke Marxis, Mugube, van die mag te weerhou. Kommunisme, Marxisme en sosialisme het kodewoorde geword om Mugabe te beskryf. Selfs Ian Smith het op die lawaaiwa geklim met die uitspraak dat enigiemand behalwe Mugabe aanvaarbaar was, ondanks die feit dat Smith en Nkomo nie langs dieselfde vuur gesit het nie (Frederikse 1982 ibid.).

Dit blyk dus dat Robert Mugabe deur die witmense in Rhodesië beskou is as die ware bedreiging vir hul voortgesette Westerse (kapitalistiese) leefstyl.

Dit beteken egter nie dat die verkiesing slegs om die meriete van die kapitalisme of Marxisme gedraai het nie. Rassisme het ook 'n rol gespeel. Die swart/wit-vraagstuk het sedert die begin van kolonialisme ná die Tweede Wêreldoorlog die Suider-Afrikaanse politiek oorheers (vgl. Davidson 1978:205 e.v.) en was ook teenwoordig in Rhodesië. Die kern van die dekolonisasie-beweging was om swart meerderheidsregering in die plek van wit minderheidsregering daar te stel. Die witmense in Rhodesië het besef dat die meerderheid sou regeer, maar het gehoop om 'n "aanvaarbare" swart regering te kry - een wat aanvaarbaar was vir wit belange. Wit vooroordeel teen swart mense in die algemeen en 'n vrees vir wat met hulle onder 'n vyandige swart regering kon gebeur, was alomteenwoordig (vgl. Cleary 1980; Frederikse 1982). Die verkiesing het dus nie net om 'n kapitalisme/Marxisme-konflik gedraai nie, maar ook om 'n wit/swart-stryd - 'n stryd vir sowel die fisieke oorlewing as die lewensgehalte van die witmense.

Op die vooraand van die verkiesing is Muzorewa deur wit Rhodesiërs beskou as die swart leier wat hul toekoms in die land die minste bedreig. Hulle het Nkomo as 'n vyand beskou, maar ook as 'n potensiële bondgenoot teen die gehate en gevreesde Robert Mugabe (Frederikse 1982:291).

 

ONTLEDING VAN RAPPORT SE DEKKING OOR MUGABE

Soos hierbo vermeld, is die ontleding gefokus op die tydperk 13 Januarie 1980 tot 24 Februarie 1980, nagenoeg die amptelike tydperk van die Zimbabwiese onafhanklikheidsverkiesingsveldtog vir die gesamentlike kieserslys. Daar was egter geen verwysing na Robert Mugabe in Rapport se uitgawes van 13 en 20 Januarie asook 17 Februarie1980 nie.

27 Januarie 1980

'n Artikel oor Robert Mugabe getitel, "Mugabe sê Britte kan hom nie keer", verskyn as 'n tweede leidende item op bladsy tien.

Die keuse van die opskrif en die foto met die onderskrif, "Robert Mugabe... 'Die Britte kan my nie belet om na Rhodesië terug te keer nie'", dra albei by tot die uitdra van 'n beeld dat Mugabe 'n uittartende houding het. Die foto wys 'n oopmond Mugabe wat kwansuis vir die Britte skree. Bowendien lyk dit asof hy geen tande in sy mond het nie. Die foto suggereer dat Mugabe iemand is wat nie sy emosies kan beteuel nie; iemand wat onsensitief is vir algemene gedragsreëls (deur oënskynlik sonder tande in die openbaar te verskyn); of iemand wat buite homself is.

Die inleiding handel ook oor Mugabe se uittartende houding:

'Die Britse regering speel 'n bevooroordeelde rol in die uitvoering van die skikkingsplan vir Rhodesië', het 'n uitdagende Robert Mugabe hier op die vooraand van sy vertrek na Salisbury gesê. Hy het die Britse goewerneur in Salisbury, lord Soames, ook daarvan beskuldig dat hy 'skreiende leuens' sou vertel.

Daarenteen, in die laaste vier paragrawe van hierdie langerige artikel, kom Mugabe nie juis uitdagend oor nie:

Wat toekomsplanne betref, ontken hy (Mugabe) bewerings dat hy grootskaalse nasionalisasie sal aanpak, of dat hy 'n Marxis uit die boek is. Veranderings in die land sal geleidelik aangebring word om 'n sosialistiese gemeenskap te skep.

Private besit sal nie afgeskaf word nie, want die private sektor sal sover moontlik behou word.

Boere wat doeltreffend boer, hoef nie te vrees nie, maar daar sal geen plek wees vir diegene wat van subsidies afhanklik is nie. 'n Staatsektor in die landbou, die kleinboersektor, sal egter gestig word. Alle onbenutte en ontruimde grond sal daarvoor gebruik word.

Hy sien geen rede waarom witmense paniekbevange moet word as hy die bewind sou oorneem nie. Maar hy meen nie spesiale pogings moet aangewend word om die vrese van blankes uit te skakel om paniek te voorkom - soos wat in Mosambiek gebeur het - nie. 'n Mugabe-regering sal nie godsdiens bevorder nie, omdat dit nie 'n funksie van die staat is nie. Hy beoog egter geen stappe teen godsdiens of teen kerke nie. In die vryheidstryd is goed saamgewerk met kerke, wat sy vegters medisyne, kos en klere gegee het. Hy sien geen rede waarom hulle vervolg moet word nie, het hy gesê.

Die argument dat witmense nie vreesbevange vir hom moet wees nie, is 'n duidelike teken dat die swart/wit-vraagstuk hoog op die agenda in die verkiesing was en dat Rapport dit ook so sou vertolk. Die foto van Mugabe strook nie met sy uitsprake wat aan die einde van die artikel voorkom nie. Dit is asof sy beredeneerde argumente nie gepas het by die visuele beeld wat hy na die verkiesingsveldtog gebring het nie: 'n radikale Marxis en die een wat witmense die meeste in Suider-Afrika moes vrees (vgl. Smith, Simpson & Davis 1981:218).

3 Februarie 1980

Die leidende artikel op bladsy twee van hierdie uitgawe, geskryf deur Frik Badenhorst en getitel "Ian Smith se vryery op die lappe", handel hoofsaaklik oor die veranderende politieke toekoms van die gewese Eerste Minister, Ian Smith.

In paragrawe 19 tot 21 reflekteer Badenhorst oor swart houdings teenoor die hoofpartye wat die verkiesing beveg:

Intussen word die voortekens sterker dat mnr. Robert Mugabe die verkiesing kan wen. Wit en swart voorspel selfs dat sy ZANU 'n volstrekte meerderheid sal behaal en dat hy dan sal regeer...

In die breë publiek word mnr. Nkomo 'n tweede plek gegun, met biskop Muzorewa derde. Deurgaans is die siening onder swart kiesers dat hulle in die laaste verkiesing vir die biskop gestem het om 'n einde aan die oorlog te maak, maar dat die biskop dit nie kon doen nie. Hulle sien mnr. Mugabe as die sterkste man en meen as hulle vir hom stem, dit 'n einde aan al die probleme sal maak.

In dieselfde uitgawe van Rapport, maar op die voorblad van die Ateljee-seksie, verskyn 'n artikel deur Badenhorst, getitel "Stormgesig oor Rhodesië", oor Mugabe.

Die foto van Mugabe, waarin die ZANU-leier jonk (selfs seunsagtig) voorkom, het die onderskrif "Robert Mugabe... sy gesig steek soos stormweer oor Rhodesië op". Die inleiding lui: "Die ander gesig van Robert Mugabe, wat deur ruim 'n kwart miljoen mense in Rhodesië terug verwelkom is, steek soos stormweer oor die land op. Die masker van welwillendheid en gematigheid word strook na strook afgestroop".

Deur 'n metafoor oor die weer te gebruik om Mugabe te beskryf en om hierdie foto van Mugabe te publiseer, gee Rapport sy sentrale boodskap oor Mugabe deur, naamlik dat ondanks die gematigde beeld wat hy aan die kiesers voorhou, daar iets onheilspellends of selfs boos omtrent hom is.

Badenhorst verduidelik in paragrawe twee tot vyf:

Vir Rhodesiërs was sy onlangse toesprake ongelooflik. Niemand kon hul ore glo nie. Dit was asof hy biskop Abel Muzorewa in gematigheid probeer oor-bie. Almal sal onder sy bevind veilig wees. Politieke vryheid en vryheid van geloof, demokrasie, beloof hy.

Maar niemand glo hom nie, niemand behalwe sy stalmaat, Joshua Nkomo, nie...

Allerweë word voorspel dat Mugabe aan die einde van die maand as die sterkste man uit die verkiesing sal tree - al die klippe wat die Britte hom in die pad gelê het ten spyt.

Die swart Rhodesiërs kan dit nie waag om nie vir hom te stem nie. In die jare van oorlog het hulle al te dikwels die gevolge ervaar as hulle hom of sy magte teenstaan. En sy magte rem teen die stang om hul werwing met die wapen te volvoer.

Mnr. Rowan Cronjé, Minister van Grondsake in biskop Muzorewa se kabinet, word in paragraaf tien aangehaal waar hy sou sê dat Mugabe met "politieke bedrog" besig was. Mnr. Cronjé verwys na "Mugabe se kalender vir 1980" wat wyd deur Rhodesiese koerante versprei is en waarin alle Christelike vakansiedae verwyder is, met inbegrip van Kersdag en Hemelvaartdag.

Die inhoud van die kalender is op 19 Januarie 1980 deur die Ministerie van Inligting vrygestel en was deel van die dokumente wat die Veiligheidsmagte in Oos-Rhodesië bekom het nadat hulle in gevegte met Mugabe se ZANLA-magte betrokke was (Frederikse 1982:295). Ná die vrystelling van die ZANU-kalender het Mugabe se mediawoordvoerder heftig geprotesteer met die argument dat die partykalender slegs politieke herdenkings reflekteer en dat dit geen bedoeling verteenwoordig om Christelike vakansiedae te verwyder nie, maar dit het min aandag in die media gekry (Frederikse ibid.).

Rapport het nie ZANU se verklaring in hierdie verband gedra nie. 'n Moontlike rede hiervoor is dat Rapport, soos ook die meeste van die Rhodesiese pers, die idee wou beklemtoon dat Mugabe se party Marxisties en aktief anti-Christelik was en wat dus ten alle koste vermy moes word. Daarom is slegs Cronjé se verwysing na die ZANU-kalender gedra.

Bladsye twee en drie van Rapport se Sake-afdeling word gewy aan Zimbabwe se ekonomiese vooruitsigte. Gert Marais, wat al tien die berigte geskryf het, beklemtoon deurgaans dat die Zimbabwiese ekonomie net sal herstel en groei as 'n stabiele regering, wat in die vryemarkstelsel glo, ná die verkiesing aan die bewind kom.

'n Voorbeeld hiervan is die inleiding van die leidende berig op bladsy twee, getitel "Stembus sal ekonomie bepaal", wat soos volg lees:

Die kanse op ekonomiese herstel en ekonomiese voorspoed is baie goed as 'n stabiele regering, wat in vrye ondernemingskap glo, vandeesmaand in Rhodesië verkies word. Indien dit nie gebeur nie, kan dit die begin van die einde vir die land se ekonomie beteken.

In kommentaar op Zimbabwe se ekonomiese vooruitsige onder 'n regering van een van die drie hoofkandidate, skryf Marais in paragraaf nege van dieselfde berig:

Biskop Muzorewa sal maklik deur die blankes aanvaar word. Joshua Nkomo sal met heelwat agterdog bejeën word maar sal nie onaanvaarbaar wees nie. Dieselfde kan egter nie van Robert Mugabe gesê word nie. Baie blanke sakemanne sê openlik dat hulle die land eenvoudig sal verlaat as hy aan die bewind kom.

Marais voeg egter in die derde laaste paragraaf by:

Sommige sakeleiers glo dat ekonomiese realiteite selfs die ekstremistiese Mugabe sal dwing om die huidige ekonomiese orde in stand te hou en nie die bande met Suid-Afrika te verbreek nie. Almal is nie so seker hiervan nie.

In die ander prominente berig op blady twee, getiteld "Boere bitter bekommerd oor verkiesing-uitslag", skryf Marais in die eerste twee paragrawe:

Baie blanke Rhodesiese boere is moontlik meer bekommerd oor die uitslag van die verkiesing as enigiemand anders.

As Robert Mugabe se ZANU(PF) wen, kan baie van hulle hul plase verloor. Mugabe het glo reeds in die openbaar gesê hy sal grond sonder vergoeding van blanke boere wegneem en dit aan ander gee. Hy sal dit waarskynlik ontken as die vraag nou aan hom gestel word, maar dit sal nie die vrees onder boere laat verdwyn nie.

Dit blyk duidelik uit die voorafgaande berigte in die Sake-afdeling dat die ekonomiese voorspoed van 'n onafhanklike Zimbabwe grootliks wentel om 'n oorwinning van óf Muzorewa óf (in 'n mindere mate) Nkomo, wat beskou word as simpatiek tot die vryemarkstelsel, in teenstelling met Mugabe wat as 'n Marxis beskou word. Mugabe word as 'n bedreiging vir blanke Rhodesiërs beskou omdat hulle bevoorregte posisie deur onder meer die vryemarkstelsel in stand gehou word (vgl. Frederikse 1982; Martin & Johnson 1981).

Foto's van vier groot Zimbabwiese leiers verskyn op bladsy drie. Elke persoon word slegs deur sy naam geïdentifiseer, maar die keuse van die foto in elke geval kan as ideologies -gemotiveerd beskou word. Die "bondgenote" van wit Rhodesiërs en die kapitalisme, Ian Smith en Abel Muzorewa, word glimlaggend uitgebeeld, wat 'n indruk van welwillendheid skep. Nkomo -moontlik 'n laaste-uitweg-bondgenoot van witmense en die kapitalisme, soos Marais uitgewys het, word as 'n suurgesig uitgebeeld, maar heelwat vriendeliker as Mugabe (die Marxis) wat, in hierdie foto, as gemeen en sinister voorkom. Hierdie is 'n goeie voorbeeld van hoe 'n foto aangewend kan word om ideologiese betekenis oor te dra.

10 Februarie 1980

'n Artikel deur Frik Badenhorst, getitel "Rhodesiese swart leiers dik in die geld", verskyn as die enigste item op bladsy veertien van hierdie uitgawe. Soos die opskrif aandui, handel die artikel hoofsaaklik oor die meer as gesonde finansiële posisie van die partye gelei deur Mugabe, Nkomo en Muzorewa.

Slegs 'n foto van Mugabe, mond wawyd oop en met 'n gebalde vuis, verskyn met die artikel. Histories beskou, verteenwoordig 'n gebalde vuis ook swart mag en vir Rapport was Mugabe deur die uitbeelding in hierdie foto die een met die meeste mag in die verkiesingstryd.

In paragraaf drie stel Badenhorst dit dat Nkomo die meeste van sy finansiële steun van die Sowjet-Unie kry, en in paragraaf elf dat Mugabe deur kommunistiese lande, bepaalde Skandinawiese lande en die Komitee Zuider Afrika uit Nederland gesteun word. Muzorewa se bron van inkomste word amper verswyg. In die vierde laaste paragraaf noem Badenhorst "Biskop Abel Muzorewa word met Wes-Duitse mark gesteun. Die biskop het twee duur koeëlvaste Duitse motors persent gekry en twee helikopters is aan hom geleen; terwyl hy ook 'n vliegtuig gekoop het."

Rapport swyg doelbewus dat Muzorewa finansieel deur Suid-Afrika en die Verenigde State van Amerika ondersteun is (sien Frederikse 1982:286-292). Hoekom? Moontlike redes is dat Rapport in die eerste plek nie die Suid-Afrikaanse regering in die Zimbabwiese onafhanklikheidsverkiesingsveldtog wou impliseer nie, en in die tweede plaas besef het dat as dit op die lappe sou kom, dit die kanse van Muzorewa in die verkiesingstryd sou benadeel. Dit sou lyk of wit Suid-Afrika in die toekomstige swart Zimbabwe se sake inmeng en vir die Mugabe-verkiesingsmasjien ammunisie teen Muzorewa verskaf.

24 Februarie 1980

'n Berig deur Frik Badenhorst, getitel "Dit is oorlog in Rhodesië", verskyn op die onderste helfte van die voorblad en vervolg op bladsy ses van hierdie uitgawe. Die kern van die berig word in die eerste twee paragrawe weergegee:

Dit is oorlog. Midde-in hernieude Britse vredespogings in Rhodesië het mnr. Robert Mugabe sy terroriste beveel om die land militêr te beset, afgesien van die uitslag van die verkiesing. Hy is op sy beurt gereed om die land te verlaat.

Agter die skerms word gespook om mnr. Joshua Nkomo van mnr. Mugabe weg te skeur en hom na die kant van die Rhodesiese magte oor te haal. Op politieke vlak word geprobeer om hom met biskop Abel Muzorewa te versoen. Volgens die jongste aanduidings is die biskop besig om sterk veld te wen.

In die leidende artikel op bladsy vyftien, getitel "Verkiesing van vrees, snakasems", fokus Badenhorst op die drie hoofkandidate in die verkiesing. Die inleiding reflekteer grootliks die opskrif:

Snakasem stem Rhodesië se drie miljoen swart kiesers van Donderdag tot Saterdag, 'n groot deel se kruisies het niks te doen met beleid of ideologie nie. Vir honderd-duisende is dit 'n verkiesing van louter vrees: baie stem vir die man wat hulle meen die sterkste is - 'n wenner - en vir sommige is dit nog die ou stamverwantskap wat tel.

In die derde paragraaf som Badenhorst die persoonlike eienskappe van die drie hoofkandidate op:

  • Biskop Muzorewa: kerkman, nasionalis, realis en uitgesproke kapitalis.
  • Mnr. Nkomo: politikus, humanis, nasionalis, maar met ondertone van Russiese invloed.
  • Mnr. Mugabe: intellektueel, sosialis van die Chinese skool eerder as 'n verknogtheid aan die Rooi Beer, maar tog 'n ywerige student van Karl Marx.

Volgens Badenhorst is die enigste realis onder die kandidate Muzorewa. Hy stel dit ook dat Muzorewa die enigste uitgesproke kapitalis onder die kandidate is.

Badenhorst verwys na die moontlike uitslag van die verkiesing in paragraaf nege:

Laat dit genoeg wees om te sê in gewone omstandighede sou mnr. Mugabe nie veel kans teen die biskop gehad het nie, maar daar is die romantiek van die oorlog om mnr. Mugabe se skouers wat veral die jong warmkoppe trek, en die oorlogskaal se intimidasie wat die verskil maak.

Die verkiesingsintimidasie waarna in die uittreksel verwys word, word beklemtoon in die gepaardgaande foto's van die drie kandidate. Muzorewa, Mugabe en Nkomo word in aggressiewe bui tipeer - Muzorewa wat strak voor hom uitkyk met 'n gebalde vuis voor sy gesig; Nkomo wat vasberade voorkom met 'n mond wat skeef trek; en bowenal Mugabe, mond wawyd oop (met weinige tande wat wys) en klaarblyklik aan die raas.

Die leidende hoofartikel op bladsy twintig, getitel "Rhodesië", fokus op die verkiesing en, soos vermeld in die inleiding, die onafwendbaarheid van geweld ná die verkiesing.

Mugabe geniet heelwat aandag. Paragrawe twee en drie lees soos volg:

Indien biskop Abel Muzorewa 'n regering kan saamstel - al is dit met die hulp van 'n koalisie - sal mnr. Robert Mugabe nie daarin berus nie. Hy het die kiesers plegtig belowe dat die stryd sal voortgaan, en niks het nog gebeur wat as aanduiding dien dat hy dit nie bedoel het nie. Trouens, duisende van sy terroriste het nie by die versamelpunte opgedaag nie, en dit is hulle wat hoofsaaklik vir die voortsetting van terreur, afdreiging en intimidasie verantwoordelik was, wat die verkiesingsveldtog so gekenmerk het.

Sou mnr. Mugabe 'n regering kan saamstel, moet verwag word dat die ou kommunistiese patroon gevolg sal word: uitwissing en vervolging van diegene wat as 'n hindernis vir die vestiging van 'n kommunistiese staat beskou sal word.

 

SLOT: BEVINDINGE OOR MUGABE SE BEELD

Uit die voorafgaande verslag en ontleding kan die navorsingsvraag wat in die inleiding van die artikel gestel is, naamlik hoe het Rapport Mugabe se kandidatuur in 1980 aan sy lesers voorgehou, beantwoord word. Rapport het in sy dekking van die 1980 Zimbabwiese onafhanklikheidsverkiesingsveldtog vir Robert Mugabe as 'n gevaar vir volgehoue wit belange in Rhodesië beskou en hom ook so voorgestel. Dit is omdat hy, volgens Rapport, die vryemarkstelsel sou vernietig en 'n kommunistiese stelsel tot stand sou bring.

Rapport het meestal stereotipes gebruik om Mugabe uit te beeld. Die gebruik van stereotipes deur die massamedia om politieke leiers in verkiesingsveldtogte te beskryf is nie ongewoon nie, ook wanneer die veldtog deur hoogspanningkonflik in die politieke omgewing en tussen die opponente gekenmerk word (McNair 2007:67 e.v.).

Kenmerke wat deur middel van woorde aan Mugabe toegeskryf is en wat die stereotipering onderskryf, sluit in uitdagend, radikaal/ekstremis, oneerlik, politieke bedrieër, Marxisties, genadeloos, afskuwelik en terroristeleier.

Foto's wat in Rapport verskyn het, beeld Mugabe uit as boos, sinister, verteenwoordiger van swart mag, wolf in skaapklere, aggressief, raserig en emosioneel.

Mugabe is ook voorgestel as die voorloper in die wedloop vir President, ondanks Rapport se gestelde mening dat hy 'n gemene, aggressiewe, onheilspellende (dog intellektuele) mens is wat die oorlog sou voortsit, indien hy nie die mag by die stembus sou kry nie. Interessant genoeg, onlangse berigte uit Zimbabwe, 33 jaar ná sy aanvanklike kandidatuur vir die Zimbabwiese presidentskap, stel dit dat Mugabe nie 'n nederlaag in vanjaar se opkomende verkiesing sal aanvaar nie en dat daar verwag kan word dat hy soos "'n gewonde dier" die verkiesing sal beveg (Moore 2013).

Soos vermeld in die inleiding, gekoppel aan die gebruik van stereotipes is die gebruik van rame of verwysingsraamwerke deur joernaliste om nie slegs vir ontvangers te vertel waaroor hulle moet dink nie (met ander woorde, agendastelling) maar ook voor te stel hoe hulle die gebeure of mense moet vertolk.

Uit die beriggewing blyk dit dat Rapport, nes die regerende Nasionale Party in Suid-Afrika in 1980 met wie Rapport in bondgenootskap was, die verkiesing in Rhodesië beskou het, en geraam het, as 'n keuse vir die konflik in Suider-Afrika tussen die kapitalisme en die Marxisme aan die een kant, en die toekoms van wit en swart mag aan die ander kant. Mugabe is in die dekking feitlik deurgaans uitgebeeld as die vyand van die kapitalisme en volgehoue wit belange.

 

BIBLIOGRAFIE

Adam, H. & Giliomee, H. 1979. The rise and crisis of Afrikaner power. Cape Town: David Philip. Boynton, J. 1980. Southern Rhodesia independence elections 1980. Report of the Election Commissioner. London: Her Majesty's Stationery Office.         [ Links ]

Chimutengwende, C.C. 1979. South Africa: The press and the politics of liberation. London: Barbican Books.         [ Links ]

Cleary, S. 1980. Zimbabwe is born. Johannesburg: South African Institute of Race Relations.         [ Links ]

Davidson, B. 1978. Let freedom come. Africa in modern history. Boston: Little, Brown & Company.         [ Links ]

Doherty, C. 1981. The Wits-Koornhof debate: Is there really a difference between the English and Afrikaans presses. Critical Arts, 2(2):39-49.         [ Links ]

Frederikse, J. 1982. None but ourselves. Masses vs.Media in the making ofZimbabwe. Johannesburg: Ravan Press.         [ Links ]

Gans, H.J. 1980. Deciding what's news. New York: Vintage Books.         [ Links ]

Graber, D.A. 1980. Mass media and American politics. Washington, D.C.: Congressional Quarterly Press.         [ Links ]

Linström, M. & Marais, W. 2012. Qualitative news frame analysis: A methodology. Communitas, 17:21-38.         [ Links ]

Louw, P.E. 1983. The English and Afrikaans press in South Africa: One press or two? Communicatio, 9(2).         [ Links ]

McNair, B. 2007. An introduction to political communication. Fourth edition. London: Routledge.         [ Links ]

Metykova, M. 2009. A key relation: Journalists and their publics. In Preston, P. Making the news. London: Routledge, pp. 155-164.         [ Links ]

Moore, D. 2013. Pres. Aikôna. Rapport, 13 Februarie: 1 (Weekliks).         [ Links ]

Moyo, D. 2010. Mediating the Zimbabwe crisis. Communicare, 29 (Special Edition).         [ Links ]

Negrine, R. & Stanyer, J. (eds). 2007. The political communication reader. London: Routledge.         [ Links ]

Pienaar, S. 1979. Getuie van groot tye. Kaapstad: Tafelberg.         [ Links ]

Preston, P. 2009. Making the news. London: Routledge.         [ Links ]

Roelofse, J.J. 1983. Towards rational discourse. Pretoria: Van Schaik.         [ Links ]

Smith, D., Simpson, G. & Davis, I. 1981. Mugabe. London: Sphere Books.         [ Links ]

Southern Rhodesia Elections. 1980. The report of the Commonwealth Observer Group of elections to independent Zimbabwe. London: Commonwealth Secretariat.         [ Links ]

Tendi, B-M. 2013. Robert Mugabe: A man of many faces. The Guardian, 4 February.         [ Links ]

Tuchman, G. 1978. Making news. A study in the construction of reality. New York: Free Press.         [ Links ]

Willnat, L. & Weaver, D. 2003. Through their eyes: The work of foreign correspondents in the United States. Journalism, Theory, Practice, and Criticism, 4(4): 403-422.         [ Links ]

Willems, W. 2010. Beyond dramatic revolutions and grand rebellions: Everyday forms of resistance in the Zimbabwean crisis. Communicare, 29 (Special Edition).         [ Links ]

Zakaria, F. 2013. CNN GPS on Zimbabwe (4 February at 14:15).         [ Links ]

Zelizer, B. 2004. Taking journalism seriously. London: Sage.         [ Links ]

 

 

Johann de Wet, 'n gegradueerde van die Universiteite van Kaapstad, Stellenbosch en Suid-Afrika, is tans professor en voorsitter van die Departement Kommunikasiewetenskap aan die Universiteit van die Vrystaat in Bloemfontein. Hy is die outeur/mederedakteur/redakteur van 12 vakwetenskaplike boeke. Die derde uitgawe van sy boek The art of persuasive communication. A process verskyn in 2010 by Juta in Kaapstad. Hy is die stigterredakteur en huidige redakteur van Communitas, 'n nasionaal-geakkrediteerde akade-miese joernaal oor gemeenskapskommunikasie en inligtingimpak. Sy spesialiseringsgebiede is oorredings- en politieke kommunikasie en die joernalistiek. Hy was die afgelope tien jaar 'n beoordelaar van Vodacom se nasionale Joernalis van die Jaarkompetisie.

Johann de Wet, a graduate of the Universities of Cape Town, Stellenbosch and South Africa, is currently Professor and Chair of the Department of Communication Science at the University of the Free State in Bloemfontein. He is the author/coauthor/editor of 12 scholarly books. The third edition of his book The art of persuasive communication. A process was published by Juta in Cape Town in 2010. He is the founding editor and present editor of Communitas, a nationally-accredited academic journal on community communication and information impact. His fields of specialisation are persuasive and political communication and journalism. He has been a judge for Vodacom's national Journalism of the Year competition for the past ten years.

 

 

1 Met die ter perse gaan van hierdie artikel, het Mugabe se SANU-PF party vanjaar se verkiesing gewen, en gevolglik is Mugabe vir die volgende vyf jaar weer President. Die uitslag van die verkiesing is deur lande soos die VSA, Brittanje en Australië asook die Europese Unie bevraagteken. Daar word beweer dat grootskaalse ongerymdhede met die verkiesingsproses plaasgevind het.

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License