SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.53 número3The positive accommodation of cultural diversity in Canadian education: An object lesson for South Africa?Enhancing the vocabulary of isiXhosa mother tongue speakers in grade 4 to 6 in Afrikaans schools índice de autoresíndice de assuntospesquisa de artigos
Home Pagelista alfabética de periódicos  

Serviços Personalizados

Artigo

Indicadores

Links relacionados

  • Em processo de indexaçãoCitado por Google
  • Em processo de indexaçãoSimilares em Google

Compartilhar


Tydskrif vir Geesteswetenskappe

versão On-line ISSN 2224-7912
versão impressa ISSN 0041-4751

Tydskr. geesteswet. vol.53 no.3 Pretoria  2013

 

RESEARCH AND REVIEW ARTICLES

 

Taalkeuses en -opinies van Afrikaanssprekende studente aan Unisa

 

Language choices and opinions of Afrikaans-speaking students at Unisa

 

 

Elirea BornmanI; Petrus H PotgieterII; JC PauwIII

IDepartement Kommunikasiewetenskap, Universiteit van Suid-Afrika bornme@unisa.ac.za
IIDepartement Besluitkunde, Universiteit van Suid-Afrika potgiph@unisa.ac.za
IIIDepartement Publieke Administrasie, Universiteit van Suid-Afrika kerneels@intekom.co.za

 

 


OPSOMMING

Die literatuur oor taalkeuses in veeltalige kontekste wys dat politieke, sosiale en individuele faktore taalkeuses beïnvloed. Dit sluit in: die simboliese waarde van die gebruik van tale anders as Engels, magsverhoudinge, taalideologieë, en plaaslike asook sosiaal-sielkundige faktore. In Suid-Afrika tref ons 'n neiging tot die oorheersing van Engels onder die skyn van veeltaligheid aan. By die Universiteit van Suid-Afrika (Unisa) neem die omvang van onderrig wat slegs in Engels geskied al hoe meer toe en verloor Afrikaans sy voorheen gelyke posisie met Engels. Daarom het die skrywers die taalkeuses en -opinies van Afrikaanssprekende studente aan Unisa empiries ondersoek deur middel van 'n vraelysopname. 'n Totaal van 2 749 studente het in November 2011 'n internetvraelys voltooi. In hierdie artikel berig die skrywers oor 'n seleksie van die inligting wat versamel is. Uit hierdie steekproef het 1 393 studente (50,7%) in Afrikaans gestudeer en 1 314 (47,8%) in Engels. Beduidende verskille is uitgewys tussen die twee groepe op grond van onder andere geslag, ouderdom en kollege. Hoewel studente oor die algemeen trots was op Afrikaans, was dié wat in Afrikaans gestudeer het, beduidend meer trots op hulle taal en baie positief oor die uitkoms van hulle keuse. Studente wat in Engels gestudeer het, het die beskikbaarheid van handboeke en die nut van kennis van Engelse terminologie as redes vir hulle keuse uitgewys. Enkele aanbevelings word gemaak oor hoe Afrikaans as onderrigtaal op tersiêre vlak bevorder kan word.

Trefwoorde: Veeltaligheid, taalkeuse, identiteit, hoër onderwys, onderrigtaal, onderrig in Afrikaans, taalideologie, handboeke, Unisa, taalpersona


ABSTRACT

Literature dealing with language choice in multilingual contexts shows the influence of political, social and individual factors. The global status of English influences the way speakers of other languages act in relation to their own languages. Although English is still extremely important globally, the emergence of multilingualism is a feature of postmodernity. According to the British Council s report English Next (Graddol 2006), the global role of English has changed. Language ideologies, local circumstances, power relationships and the persona speakers of other languages project in relation to their own language choices form part of the dynamics of the interplay of languages in peoples' lives. English is on the ascendancy in South Africa in the midst of a pretence to multilingualism. This is also the position at the University of South Africa (Unisa), the biggest university in South Africa. Afrikaans previously enjoyed parity with English as languages of instruction at this institution. However, in recent years more and more modules have been offered only in English. Against this background, the authors undertook an empirical investigation into the language choices and opinions of Afrikaans-speaking students at Unisa. The population that was investigated in 2011 consisted of approximately 32 000 students who had Afrikaans as one of their home languages or who took at least one module in the medium of Afrikaans. A total of 2 749 of these students completed and submitted an online survey. This article comprises a discussion of a selection of the information gleaned from the study. The sample was divided, among others, between students who took modules in Afrikaans (1393, or 50,7% of the respondents) and students who preferred tuition in English (1 314, or 47,8% of the respondents). Questions were posed to gather biographical data and information about the opinions of the respondents. Significant differences were, inter alia, found between the two groups with regard to sex, age and the respective colleges where they studied. Students in the Colleges of Education, Law, and Economic and Management Sciences were more likely to prefer tuition in Afrikaans. Women were more likely to choose Afrikaans as a medium of instruction. With regard to age cohorts, younger and older groups were more likely to choose Afrikaans; groups between 26 and 55 years of age were more likely to choose English. The reasons why younger students (in terms of age and registering for a first degree) were more inclined to enrol for courses in their home language of Afrikaans may be ascribed to the influence of their schools and social networks. The reason why relatively more men chose tuition in English may be ascribed to their greater need to reflect a cosmopolitan persona in the work place. Although the sample as a whole was generally proud of Afrikaans, students who studied in Afrikaans were significantly more proud of their language. Students who chose Afrikaans as a medium of tuition were also highly satisfied with the outcome of their choice. Students who chose English as a medium of tuition indicated the availability of textbooks and the usefulness of terminological knowledge as the most important reasons for their choice. The authors conclude this article by advocating the development of intellectual resources such as textbooks and online platforms in Afrikaans and encourage the government of South Africa to make money available for the development of all the indigenous languages of the country. Multilingualism should be more than an empty gesture.

Keywords: Multilingualism, language choice, identity, higher education, language of tuition, tuition in Afrikaans, language ideology, textbooks, Unisa, language persona


 

 

1. INLEIDING

In 1994 het 'n nuwe demokratiese bedeling vir Suid-Afrika aangebreek. Hierdie nuwe bedeling het nie slegs politieke en sosiale veranderinge teweeg gebring nie, maar ook 'n verreikende invloed gehad op die Suid-Afrikaanse talesituasie (Carstens 2006:15-19). Terwyl slegs twee amptelike tale - Afrikaans en Engels - voor 1994 as nasionale amptelike tale erken is, erken die Grondwet van 1996 'n totaal van 11 nasionale amptelike tale. Enersyds is hierdeur 'n kultuur van linguistiese pluraliteit, taalverdraagsaamheid, 'n sin vir respek vir eiesoortigheid en die aanvaarding van linguistiese diversiteit as hulpbron geskep (Webb 2001). Die verwesenliking van hierdie ideale in die praktyk het egter geblyk problematies te wees. Dit is veral in die onderwys - en ook die hoëronderwys - waar die taalproblematiek hom sedert 1994 uitgespeel het (Du Plessis 2006:100107). In vele opsigte was die implikasies vir Afrikaans meer as vir Engels. Afrikaans is nou een van 11 en nie meer net twee nasionale amptelike tale nie. In die hoëronderwys is die afskaling van Afrikaans in vele opsigte die gevolg.

Dit is egter nie slegs amptelike beleid wat die taallandskap van 'n land beïnvloed nie, maar ook die gesindhede en taalkeuses van individue (Carstens 2006:15-19; O'Driscoll 2001:245-268). Aangesien taal 'n integrale deel vorm van kollektiewe identiteite soos kulturele, nasionale en etniese identiteite, sou 'n mens dink dat in situasies waar mense wel 'n keuse het, hulle hul moedertaal - ook in hoëronderwys - sou kies om die voortbestaan te verseker van 'n identiteit wat hulle na aan die hart lê. Volgens Lanza en Svendsen (2007:275-276) is taalkeuses egter 'n veel meer komplekse saak, veral in meertalige gemeenskappe. Daar bestaan, afgesien van die handhawing van identiteit en sosiale identifisering, verskeie ander faktore wat taalkeuses beïnvloed.

In hierdie artikel beskryf ons sommige van die faktore wat die taalkeuses van Afrikaans-sprekende studente kan beïnvloed. Ons bespreek vervolgens die resultate van 'n vraelysopname wat in 2011 onder Afrikaanssprekende Unisa-studente gedoen is. Op grond daarvan word enkele aanbevelings gemaak om linguistiese pluraliteit te bevorder en die verdere afskaling van Afrikaans in die hoëronderwys teen te werk.

 

2. LITERATUUROORSIG

2.1 Politieke, sosiale en individuele faktore wat taalkeuses beïnvloed

In meertalige gemeenskappe word individuele taalkeuses grootliks bepaal deur 'n proses van onderhandeling waarin verskeie opsies teen mekaar opgeweeg word (Lanza & Svendsen 2007:277; Ting & Sussex 2002:1-15).

2.1.1 Die simboliese en gebruikswaarde van 'n taal - die globale status van Engels teenoor ander tale

Volgens Lanza en Svendsen (2007:278) word die vryheid om 'n bepaalde taalkeuse uit te oefen dikwels beïnvloed en beperk deur die simboliese waarde van 'n bepaalde taal op die "taalmark" in 'n land, gemeenskap of konteks. In hierdie verband wys verskeie ontleders nie net op historiese kragte soos kolonialisering wat die status van veral Engels en Frans bepaal nie, maar ook op die verreikende invloed van globalisering en die veranderende belangrikheid van Engels as globale taal (Graddol 2006; Pachler 2007). Die gevolg is dat Engels die lingua franca en as 't ware die sine qua non in baie lewensfere geword het.

Die simboliese status van Engels impliseer ook dat die funksie- of pragmatiese waarde van dié taal verbreed het (Carstens 2006:15-19). In die meeste kontekste kan Engels nie langer as 'n "vreemde taal" beskou word nie. Engels is verder 'n kernelement in feitlik elke globale proses: die globale handel; die uitkontraktering van vervaardiging na lande waar arbeid goedkoper is; die ontwikkeling van inligtings- en kommunikasietegnologieë (IKT's) soos die internet; die totstandkoming van 'n inligtingsekonomie; die aard en beheer van die moderne nuus- en digitale media; ensovoorts. In die totstandkoming van 'n nuwe wereldorde het die bemeestering van Engels feitlik 'n globale basiese vaardigheid en 'n kernkomponent van basiese onderrig geword. Die globale status en gebruik van Engels hou verder verband met sosiolinguistiese veranderings soos toenemende verstedeliking en die feit dat meer mense middelklas-status bereik. Engels het volgens sommige ontleders in werklikheid die taal van die stedelike middelklas geword en dien as simbool van ' n moderne lewenstyl. As sodanig lê Engels aan die wortel van die herdefiniëring van nasionale, groeps- en individuele identiteite wêreldwyd. In kort, die wêreld het 'n globale dorpie geword met Engels as voertaal (Cohen 2012:17-22).

Baie ontleders glo dan ook dat die wêreld 'n Fukuyama-agtige einde van die linguistiese wêreldgeskiedenis bereik het (Cohen 2012:17-22). Dit is veral leiers in hoëronderwys wat die globale dominansie van Engels sien as die koms van 'n wonderbaarlike linguistiese utopie waarin die eise van onderrig in tale anders as Engels bloot geïgnoreer kan word.

In die voorwoord tot Graddol se verslag (2006:i-iii) oor die toekoms van Engels wys Neil Kinnock egter daarop dat die globaliserende wêreld ook gekenmerk word deur komplekse sosiale en kulturele veranderings wat 'n wesenlike bedreiging vir die globale dominansie van Engels inhou. Terwyl globalisering dikwels eensydig geassosieer word met tendense wat met sinkro-nisering, homogenisering en universalisme verband hou, gee dit ook aanleiding tot toenemende fragmentering en groter diversifisering (Le Pere & Lambrects 1999:11-13). Dit is veral etniese en ander plaaslike identiteite wat 'n opbloei beleef, met die gepaardgaande herwaardering van 'n eie taal, kultuur en geskiedenis. Hierdie tendense kan selfs in die kuberwêreld waargeneem word, waar die persentasie Engelse webblaaie in die afgelope tyd skerp afgeneem het om plek te maak vir inhoud in ander (kleiner) tale (Graddol 2006:22-34, 44-64). Die opkoms van die BRICS-lande (Brasilië, Rusland, Indië, China en Suid-Afrika) in die wêreldekonomie bring ook mee dat tale soos Spaans, Mandaryns en Portugees 'n steeds groter bedreiging vir die globale dominansie van Engels inhou. Graddol assosieer hierdie veranderde posisie van Engels as 'n paradigmaskuif wat met die verskuiwing van die moderne na die postmoderne verband hou. In hierdie postmoderne wêreld het veeltaligheid die norm geword.

Volgens Cohen (2012:17-22) dui hierdie tendense daarop dat eentalige universiteite gedoem is. Linguistiese pluraliteit het die norm geword en universiteite wat hulle studente grondig wil voorberei vir die wêreld waarin hulle eendag sal moet funksioneer, behoort studente blootstelling te gee aan ander tale - hetsy as medium van onderrig of deur die onderrig van ander tale.

2.1.2 Magsverhoudinge

'n Ander faktor wat nou verband hou met die status van 'n bepaalde taal is die magsverhoudinge binne 'n bepaalde konteks, asook in die breër globale orde (Lanza & Svendsen 2007:278; Venter 1998:22-39). Die verhouding tussen minderheids- en meerderheidsgroepe binne 'n bepaalde samelewing het 'n bepalende invloed op die status van tale. Die heersende elite is ook in die posisie om nie alleen formele taalwetgewing uit te vaardig nie, maar ook om informele ideologieë te beïnvloed wat die voorkeur vir bepaalde tale betref. Hierdie wetgewing en taalideologieë beïnvloed weer taalkeuses in mikro-, meso- en makro-kontekste, organisasies en instansies.

2.1.3 Taalideologieë

Taalideologieë is nog 'n faktor wat taalkeuses beïnvloed (Lanza & Svendsen 2007:292; Venter 1998:22). Dit behels algemene idees oor die aard van taal in die wêreld of 'n bepaalde samelewing, en die sosiale sisteem van sosiale en taalverhoudinge, sowel as die gepaardgaande morele en politieke belange. Dié ideologieë hou verder verband met houdings teenoor bepaalde taalgroepe, die verhoudinge tussen groepe en die statushiërargie binne 'n bepaalde samelewing. Taalideologieë manifesteer en word in stand gehou in gesprekke en diskoerse oor taal - die metalinguistiese en metapragmatiese diskoers - asook die implisiete metapragmatiek; dit is seine oor waar, wanneer en hoe tale gebruik behoort te word. Dit is egter nie stabiel of staties nie, maar kan verander -onder meer as gevolg van veranderde magsverhoudinge.

Taalideologieë strek gevolglik wyer as individuele houdings en persepsies, en hou verband met kollektiewe persepsies en kulturele hegemonie. Taalideologieë manifesteer in die eerste plek binne 'n bepaalde etniese of taalgroep. So kan 'n bepaalde taal 'n belangriker kernwaarde en simbool van die identiteit van 'n sekere etniese groep wees as vir ander groepe. Aan die ander kant kan meer pragmatiese ideologieë oor taal - en die beklemtoning van die waarde van Engels as globale taal - in die groter samelewing van toepassing wees. Binne laasgenoemde ideologie word taalhandhawing - en die gepaardgaande instandhouding van 'n bepaalde etniese of kulturele identiteit - as onbelangrik beskou.

2.1.4 Konteksverwante norme

Valentine et al. (2008:377) en Venter (1998:23) wys verder daarop dat taalkeuses beskou kan word as 'n gesitueerde praktyk wat met 'n bepaalde konteks of situasie - die huis, skool, gemeente, universiteit of werksplek - verband hou. Binne elke konteks bestaan daar norme, ideologieë en verwagtings wat kommunikasiegedrag rig en bepaal ten opsigte van wat mense kan en nie kan doen nie, sekere vorms van gedrag en identiteite legitimeer, terwyl ander onderdruk of beperk word.

So word etniese identiteite - en daarmee saam ook wat beskryf word as "etnokulturele tale" - dikwels nie in die werkplek geduld nie. Hoewel die huistaal 'n belangrike rol speel in identiteitsvorming binne kontekste soos die huis, gesin en vriendekring, verteenwoordig kontekste soos die universiteit, werksplek en globale wêreld dikwels dit waarna individue streef. In hierdie kontekste is vaardigheid in Engels en 'n globale kosmopolitaanse identiteit dikwels die norm.

2.1.5 Individuele faktore

Uit die voorafgaande kan afgelei word dat taalkeuses nie 'n neutrale opsie is nie (Venter 1998:24). Volgens O'Driscoll (2001:245-268) is dit egter uiteindelik individue wat in enige situasie waar hulle wel 'n taalkeuse het, verskillende ideologieë en norme - soos bepaal deur magsverhoudinge en die status van tale binne die bepaalde konteks - teen mekaar opweeg en hulle keuses maak. Taalkeuses hang gevolglik af van hoe individue die magte in 'n bepaalde situasie evalueer en daarop reageer.

O'Driscoll (2001:245-268) onderskei drie verskillende personas wat individue kan projekteer op grond van hul interpretasie van 'n bepaalde konteks. In 'n etnokulturele persona dien 'n bepaalde taal as merker van 'n bepaalde kollektiewe identiteit. In so 'n geval word die gebruik van die huis-of etnokulturele taal dikwels as 'n kwessie van beginsel beskou. Dit verskaf verder aan die individu sekuriteit en die gevoel dat hy of sy êrens behoort binne 'n linguistiese see van moontlikhede en identiteite.

Alternatiewelik word 'n kosmopolitaanse persona dikwels geprojekteer deur mense wat daarna streef om binne hedendaagse veeltalige kontekste te presteer. Hulle poog om die indruk te skep dat hulle nie behoefte het aan die ondersteuning van 'n etnokulturele groep nie en dat hulle daartoe in staat is om as individue te floreer in die internasionale hoogwater. Net soos 'n etnokulturele persona word 'n kosmopolitaanse persona ook met 'n bepaalde taal - gewoonlik Engels - verbind. So dien die gebruik van Engels dikwels as simbool van byderwetsheid en prestige.

Individue kan ook verkies om 'n hoflike persona te projekteer in situasies waar samewerking beklemtoon word en waar dit as belangrik beskou word om sosiaal aanvaarbaar op te tree. In gevalle waar 'n bepaalde etniese of kulturele groep in die minderheid is, kan mense ook voel dat dit nie wenslik is om hul eie etnokulturele identiteit te beklemtoon nie, maar eerder akkommoderend op te tree. Hoewel die projeksie van 'n hoflike persona as onselfsugtig beskou kan word, word dit volgens O'Driscoll (2001:245-268) dikwels deur selfsugtige doelstellings gemotiveer. So kan 'n persoon Engels praat om 'n akkommoderende en onselfsugtige beeld te projekteer, maar in werklikheid daarna streef om Engels te bemeester ten einde in staat te wees om ' n kosmopolitaanse persona te weerspieël.

Die persona wat 'n persoon in 'n bepaalde situasie projekteer, word dikwels bepaal deur die relatiewe status van 'n taal in die samelewing asook in die globale konteks (O'Driscoll 2001:245268). Individue sal byvoorbeeld slegs 'n taal met 'n relatiewe laer status gebruik wanneer hulle óf 'n etnokulturele persona óf 'n akkommoderende persona weerspieël. Die gebruik van 'n taal met 'n hoër status gaan bykans altyd gepaard met die weerspieëling van 'n kosmopolitaanse persona.

Die keuse van bepaalde persona word verder beïnvloed deur taalhoudings of -gesindhede (Carstens 2006:15-19). Aziakpono en Bekker (2010:44-45) onderskei drie komponente van taalhoudings: 'n kognitiewe komponent (idees, opinies en kennisinhoude wat met tale verband hou); 'n affektiewe komponent (gevoelens teenoor 'n bepaalde taal soos taaltrots) en 'n konatiewe kom-ponent (bepaalde gedrag soos taalkeuses). Die affektiewe komponent hou dikwels verband met groepsidentifisering en die mate waarin 'n bepaalde taal as merker van 'n bepaalde groep dien. Dit is egter nie slegs die affektiewe komponent nie, maar ook die kognitiewe komponent wat die keuses van personas en die gepaardgaande taalkeuses beïnvloed. Ruiz (in Lubbe & Du Plessis 2001) wys in hierdie verband ook op die rol van taaloriëntasies, met ander woorde komplekse disposisies rakende taal en verskillende tale, asook die rol van taal in die samelewing. Taaloriëntasies vorm dikwels die raamwerk vir die vorming van taalhoudings in dié sin dat hulle bepaal watter houdings as aanvaarbaar en legitiem beskou word. In hierdie verband kan enersyds onderskei word tussen oriëntasies wat verband hou met die instrumentele waarde van taal en andersyds 'n gevoelsmatige verbondenheid aan 'n bepaalde taal.

'n Verdere potensieel belangrike faktor is die normatiewe druk van sosiale netwerke - en in die besonder hegte en digte netwerke (Lanza & Svendsen 2007:276-279). Aktiewe netwerke bestaan gewoonlik uit familie en vriende, en soms ook uit kollegas of die portuurgroep, met wie die individu gereeld interaksie het. Passiewe netwerke - mense met wie individue nie op so 'n gereelde basis kontak het nie, maar in wie hulle vertroue het as rigtingwysers, inligtingsbronne of morele ondersteuning - kan ook belangrik wees. IKT's en globalisering bring mee dat sosiale netwerke nie langer begrens kan word tot 'n bepaalde plaaslike ruimte nie, maar dikwels globaal uitstrek. Wat egter belangrik is, is dat die lede van sodanige netwerke bepaalde ideologieë oor die simboliese- en gebruikswaarde van taal deel en normatiewe druk op lede uitoefen om in ooreenstemming met hierdie ideologieë op te tree.

2.2 Die Suid-Afrikaanse konteks

Volgens Venter (1998:22) lê taal - net soos ras en klas - aan die wortel van politieke ontwikkelings en magsverhoudinge in Suid-Afrika. Gedurende die apartheidsera het taal gedien as 'n belangrike merker van etnokulturele identiteit en is dit as sodanig verbind met taalideologieë wat 'n belangrike invloed op tussengroepverhoudinge gehad het. Afrikaans is byvoorbeeld enersyds deur Afrikaners gesien as 'n sentrale komponent van hul identiteit asook 'n instrument van bevryding van Engelse oorheersing. Andersyds is Afrikaans deur ander groepe beskou as 'n instrument van onderdrukking en die manipulering van etnisiteit ten einde die politieke mag van Afrikaners te vestig - 'n siening wat gelei het tot die Soweto-opstande van 16 Junie 1976 teen verpligte onderrig in Afrikaans.

Soos reeds genoem, erken die Suid-Afrikaanse Grondwet van 1996 tans 11 nasionale amptelike tale. Daar word verder erkenning gegee aan die reg van alle Suid-Afrikaners om hulle taal en kultuur te beoefen. Balfour (2007:35-49) tref egter 'n onderskeid tussen (aan die een kant) amptelike of formele strategieë soos wat in die Grondwet, ander wetgewing en amptelike beleid vergestalt word en klaarblyklik ten doel het om meertaligheid te bevorder, en (aan die ander kant) passiewe strategieë wat meertaligheid in die wiele ry. Ten spyte van die amptelike erkenning van meertaligheid in die Grondwet en ander wetgewing, word hierdie wetgewing nie aktief deur staatsinstellings geïmplementeer en ondersteun deur byvoorbeeld die toekenning van kapasiteit en hulpbronne nie (Carstens 2006:15-19). Hierdie passiewe laissez-faire-houding het tot gevolg dat Engels nie-amptelik die "amptelike" taal van Suid-Afrika en die simboliese taal van nasionale eenheid geword het (Venter 1998:22-39).

In die postapartheid Suid-Afrika het nuwe taalideologieë verder ontwikkel wat die verhoudinge tussen tale - asook die verhoudinge tussen groepe - hiërargies struktureer (Venter 1998:22-39). In hierdie taalhiërargie geniet Engels 'n dominante posisie in feitlik elke sfeer van die samelewing. Die oorsprong van hierdie ideologie kan nie net teruggevoer word na die koloniale tydperk nie, maar ook na die verbintenis van Afrikaans met die apartheidsregering en die sterk weerstand wat ander groepe teen hierdie bedeling gebied het. Hierdie hiërargie weerspieël egter ook die huidige globale politieke en ekonomiese konteks en die globale oorheersing van Engels en Amerikaans-Westerse kulturele inhoude. Engels het verder die taal geword van die groeiende swart middelklas en simboliseer hul aspirasies. Die opvatting dat Engels die enigste taal is wat geskik is vir gebruik in die publieke ruimte, het wyd posgevat.

Meertaligheid word verder in die wiele gery deur die huidige ANC-regering se verbintenis tot 'n breër projek wat die algehele transformasie van die Suid-Afrikaanse samelewing behels (Balfour 2007:35-49; Venter 1998:22-39). Die ideologieë van nasiebou en rasse-integrasie wat met hierdie projek verband hou, word verbind met die ideologie dat Engels beskou word as die enigste taal wat geskik is vir gebruik vir interkulturele kommunikasie in situasies waar meer as een groep teenwoordig is. Volgens Venter is hierdie ideologie van toepassing selfs wanneer nie-Engelssprekendes in 'n bepaalde konteks die oorgrote meerderheid verteenwoordig. Die bevordering van 'n oorkoepelende nasionale identiteit word ook as belangriker beskou as afsonderlike etnokulturele identiteite. Rassegelykheid impliseer verder assimilasie en die onderbeklemtoning van etnokulturele diversiteit, en gevolglik ook die miskenning van tale wat met verskillende etnokulturele identiteite verband hou.

Wat vir die ander sektore van die Suid-Afrikaanse samelewing geld, geld ook vir die onderwyssektor en in die besonder vir die hoëronderwys (Balfour 2007:35-49). Die ideaal van die bevordering van meertaligheid wat in die Language Policy for Higher Education (South Africa 2002) gestel word, het tot dusver geblyk nie veel meer as lippediens te wees nie. Die probleem is dat - soos ook die geval in ander sektore is - die ideaal van die bevordering van meertaligheid nie ondersteun word deur die toekenning van finansiële dryfvere, mannekrag-kapasiteit en ander hulpbronne nie. Die impak van die globale status van Engels is ook besonder sterk in hoëronderwys. Dit bring mee dat inheemse tale met Engels moet meeding. Dit is egter 'n ongelyke stryd, omdat die ruimte waarvoor meegeding word, nie "leeg" of vakant is nie, maar reeds deur Engels ingeneem word. Hierdie tendens vind neerslag in die dalende getalle van studente wat vir kursusse in inheemse tale registreer en/of wat verkies om in Afrikaans (of 'n ander inheemse taal) te studeer. Dit is dikwels die geval dat baie studente met hulle voete stem ten gunste van die taal wat opwaartse mobiliteit simboliseer - dit is Engels.

Volgens Balfour (2007:35-49) en Carstens (2006:15-19) hou faktore wat lei tot die uitbou en bevordering van inheemse tale dikwels verband met aspekte wat buite formele beleid val. Dit is nie slegs die aantal moedertaalsprekers van 'n bepaalde taal nie, maar veral die omvang van geletterdheid in die taal; die omvang van die funksies van die taal en veral die gebruik van die taal in onderwysinstellings op alle vlakke (moedertaalonderrig bring mee dat die taal beskou word as relevant tot die leerproses); die gebruik van die taal in die media (ook die elektroniese media); die beskikbaarheid van intellektuele hulpbronne (byvoorbeeld handboeke); en die mate waartoe die taal as 'n ekonomiese hulpbron beskou word.

Balfour (2007:35-49) wys daarop dat dit uiteindelik belangrik is dat instellings in beide die openbare en die private sektore aktief en op 'n sigbare wyse hulle verbintenis tot die bevordering van inheemse tale demonstreer - onder meer deur die toekenning van ekonomiese en ander hulp-bronne. Inheemse tale - waaronder ons ook Afrikaans reken - moet verder beskou word as waardevolle hulpbronne wat gekoester moet word, en daar moet daadwerklik opgetree word om hulle verdere afskaling en agteruitgang te stuit. As dit nie gedoen word nie, kan die vraag tereg gevra word of daar werklik sprake is van die bevordering van gelykheid, inklusiwiteit en demokrasie in die nuwe bedeling.

2.3 Die talesituasie by die Universiteit van Suid-Afrika (Unisa)

Unisa word op sy webwerf beskryf as die leier in Afrika wat afstandsonderrig betref (About Unisa, g.d.). Met 'n studentetal van meer as 350 000, kan Unisa tereg beskou word as die grootste universiteit in Suid-Afrika en in Afrika.

Unisa was sedert met afstandsonderrig in 1946 begin is, 'n tweetalige instelling waar parallelle onderrig in sowel Engels as Afrikaans aangebied is (Du Plessis 2010:316-319). Ten tye van die opname het 34 222 studente wat vir die tweede semester van 2011 geregistreer was, aangedui dat hulle huistaal Afrikaans of Afrikaans en Engels is. Hoewel Afrikaanssprekende studente minder as 10% van die studentekorps uitmaak, het Unisa waarskynlik meer Afrikaanssprekende studente as enige ander Suid-Afrikaanse universiteit.

Dit gebeur egter meer en meer dat Afrikaanssprekende studente kies om in Engels te studeer. In 2011 het ongeveer 'n derde van die Afrikaanssprekende studente gekies om hulle kursusse in Engels te neem. Die gevolg is dat die getal Afrikaanssprekende studente in baie modules - en veral in tweede- en derdejaarmodules - baie min geword het. Dit word gevolglik ál moeiliker om die voortgesette aanbieding van sulke modules in Afrikaans te motiveer. Talle versoeke om modules en selfs al die kursusse in 'n kollege slegs in Engels aan te bied, het al voor die Senaat se Taalkomitee gedien en is goedgekeur. Hoewel die nuwe taalbeleid meertaligheid, linguistiese diversiteit en die bevordering van taalregte beklemtoon en strenger riglyne in hierdie verband daarstel, kan daar tereg gepraat word van 'n tendens tot verengelsing by Unisa. Hierdie verengelsing vind plaas ten spyte van amptelike beleid soos uiteengesit in die Language Policy for Higher Education (South Africa 2002) en die aandrang van die Afrika-unie om Afrika-tale te bevorder.

Dit is in die lig van hierdie problematiek dat die Forum vir Afrikaans ('n personeelorganisasie wat daarna streef om Afrikaans as onderrig- en voertaal by Unisa te bevorder) by die Bestuurs-komitee van Unisa aansoek gedoen het om navorsing te onderneem oor die taalkeuses van Afri-kaanssprekende studente en die faktore wat sodanige keuses beïnvloed. 'n Seleksie van die resultate van hierdie navorsing word in die volgende afdelings bespreek.

 

3. NAVORSINGSMETODE

Die huidige studie behels 'n internetopname onder 'n steekproef Unisa-studente. Kriteria vir die teikenpopulasie was die volgende: studente wat op hulle registrasievorms aangedui het dat hulle Afrikaanssprekend of Afrikaans-en-Engelssprekend is, asook studente wat geregistreer het om een of meer modules deur medium van Afrikaans te doen. Studente in die teikenpopulasie moes verder hulle myUnisa-e-posadresse (Unisa se studente-internetplatform) geaktiveer het, wat beteken het dat daar vir hulle 'n e-posadres op die Unisa-studentestelsel geregistreer is. Die internetvraelys was in Afrikaans en is geformateer deur Unisa se Departement vir Institusionele Statistiek en Ontleding (DISA). Dit is deur die Departement Inligtingstegnologie versprei na die meer as 32 000 studente wat in die teikenpopulasie ingesluit is. Die opname is gedurende die eksamenperiode in November 2011 gedoen, aangesien dit bekend is dat meer studente gedurende hierdie tydperk hulle myUnisa-e-posbusse besoek. Uiteindelik is 2 749 volledig voltooide vraelyste terug ontvang. Die demografiese samestelling van die gerealiseerde steekproef word in tabel 1 aangedui.

'n Verskeidenheid vrae het gehandel oor studente se taalkeuses, ervarings, opinies, idees en gevoelens wat verband hou met Afrikaans en Engels as onderrigtale, asook ander verbandhoudende aspekte. 'n Seleksie van die resultate word in hierdie artikel gedek, terwyl ander aspekte in opvolgartikels gehanteer sal word.

 

4. RESULTATE

4.1 Taalkeuses en hulle verband met demografiese veranderlikes

Die konatiewe komponent van taalhoudings - in hierdie geval taalkeuses - is eerstens ondersoek deur studente te vra in watter taal hulle by Unisa studeer. Altesaam 1 393 respondente (50,7%) het aangedui dat hulle in Afrikaans studeer en 1 314 (47,8%) dat hulle in Engels studeer (42 respondente, of 1,5%, het nie die vraag beantwoord nie).

Die verband tussen verskillende demografiese veranderlikes en taalkeuses is vervolgens ondersoek (kyk tabel 1). (Respondente wat nie die betrokke vrae beantwoord het nie, is weggelaat uit die berekenings.) Statisties betekenisvolle verskille is vir huistaal gevind (Chi-kwadraatwaarde=50,521; p=0,000; gvv=1; Cramer phi=0,137). Studente met Afrikaans as huistaal was, soos verwag, duidelik meer geneig om in Afrikaans te studeer as dié met Afrikaans en Engels, Engels, of 'n ander Europese of Afrika-taal as huistaal. Die effekgrootte (Cramer phi) dui aan dat huistaal 'n relatief belangrike faktor was.

Verskille rakende geslag was ook statisties betekenisvol, met beduidend meer vroue as mans wat Afrikaans gekies het (Chi-kwadraatwaarde=25,008; gvv=1;p=0,000). Die Cramer phi van 0,096 impliseer dat geslag relatief minder belangrik was as ander faktore.

Ouderdomsverskille was ook statisties beduidend (Chi-kwadraatwaarde=61,507; gvv=4; p=0,000). Meer respondente in die jongste en oudste ouderdomskategorieë het Afrikaans gekies, terwyl dié in middelouderdomskategorieë meer geneig was om Engels te kies. Volgens die Cramer phi van 0,151 was ouderdom 'n relatief belangrike faktor.

Bevolkingsverskille was ook statisties beduidend, met witmense wat meer geneig was om in Afrikaans te studeer (Chi-kwadraatwaarde=10,290; p=0,016; gvv=3; Cramer phi=0,062). Die lae Cramer phi-waarde dui egter aan dat bevolkingsgroep relatief onbelangrik was.

Verskille in onderwyskwalifikasies was ook statisties beduidend (Chi-kwadraatwaarde =44,071; gvv=5; p=0,000). Die Cramer phi van 0,127 wys dat kwalifikasies relatief belangrik was. Respondente met slegs matriek was meer geneig om in Afrikaans te studeer, terwyl dié met 'n B-graad, tersiêre diploma of 'n vakleerlingskap meer geneig was om in Engels te studeer. Geen verskille is egter vir dié met 'n meestersgraad gevind nie, maar meer studente met 'n doktorsgraad het in Engels gestudeer.

Hoewel statisties betekenisvolle verskille gevind is vir respondente wat in verskillende wêreldstreke woonagtig was (Chi-kwadraatwaarde=13,290; p=0,021; gvv=3), dui die Cramer phi van 0,07 aan dat die effek klein was. Respondente wat in Suid-Afrika woonagtig was, was meer geneig om in Afrikaans te studeer as dié wat in Afrika en die res van die wêreld gewoon het. Dit is interessant dat hierdie verskille veel groter was vir die res van die wêreld as vir ander Afrika-lande, asook dat sommige respondente in die buiteland wel nog in Afrikaans studeer.

Nie alleen was verskille vir registrasie by verskillende Unisa-kolleges statisties betekenisvol nie (Chi-kwadraatwaarde=313,371; gvv=7; p=0,000), maar volgens die Cramer phi van 0,343 was hierdie faktor van besondere belang. Studente wat in die Kolleges van Opvoedkunde, Regte en Ekonomiese- en Bestuurswetenskappe gestudeer het, was meer geneig om Afrikaans te kies as studente in ander kolleges.

4.2 Trots op Afrikaans

Die affektiewe komponent van houdings teenoor Afrikaans is gemeet deur respondente te vra om hulle mate van trots op Afrikaans op 'n vyfpunt-Likert-skaal aan te dui. Opsies het gewissel van "baie trots" tot "glad nie trots nie". Die gemiddeldes was soos volg: totale groep - M=4,7; respondente wat in Afrikaans studeer - M=4,8; respondente wat in Engels studeer - M=4,5. Hoewel die totale groep 'n relatief hoë mate van trots in Afrikaans gehad het, dui 'n ANOVA-toets (F=130,108; p<0.01; gvv=1; Cohen se d(effekgrootte)=0,046) aan dat die groep wat in Afrikaans gestudeer het beduidend trotser op Afrikaans was as die groep wat in Engels gestudeer het. Volgens die effekgrootte het taaltrots wel 'n aansienlike invloed (4,6%) gehad.

4.3 Opinies van studente wat in Afrikaans studeer

'n Aantal vyfpunt-Likert-tipe-items is gestel aan studente wat in Afrikaans gestudeer het ten einde hul opinies oor Afrikaanse onderrig by Unisa te peil (kognitiewe komponent van taalhoudings - tabel 2). 'n Hoër gemiddelde dui daarop dat die bepaalde aspek positiewer geëvalueer is.

Aangesien al die gemiddeldes redelik hoog bokant die skaalgemiddeld van 3,0 is, kan daar aanvaar word dat die respondente oor die algemeen onderrig in Afrikaans positief ervaar het. Van besondere belang is die relatief hoë vlak van tevredenheid met die besluit om in Afrikaans te studeer.

Daar is ook vir hierdie respondente gevra of hulle dit oorweeg om in die toekoms oor te skakel na onderrig in Engels. Uit 'n totaal van 1 373 studente wat die vraag beantwoord het, het slegs 64 respondente (4,5%) aangedui dat hulle wel van plan was om oor te skakel na Engels; 289 (20,7%) het aangedui dat hulle onseker was en dit oorweeg het; terwyl die oorgrote meerderheid (1 020 respondente of 74,3%) gesê het dat hulle dit nie oorweeg het nie.

4.4 Gedrag en opinies van studente wat in Engels gestudeer het

Die konatiewe en kognitiewe komponente van die taalhoudings van studente wat in Engels gestudeer het, is verder ondersoek. Eerstens is gevra of hulle van die begin af in Engels gestudeer het en of hulle op 'n later stadium oorgeskakel het. Die oorgrote meerderheid (n=836 of 63,6%) het aangedui dat hulle van die begin af in Engels gestudeer het; ongeveer 'n derde (n=402 of 30,6%) het in 'n later stadium oorgeskakel; terwyl 64 respondente (4,9%) aangedui het dat nie een van hierdie opsies op hulle van toepassing was nie.

Idees en opinies oor Afrikaans en Engels as onderrigtale is verder ondersoek deur middel van vyfpunt-Likert-skale. Die responsopsies het gevarieer van "baie belangrik" tot "heeltemal onbelangrik". 'n Hoër gemiddelde dui daarop dat 'n bepaalde aspek as meer belangrik beskou is (tabel 3).

Die feit dat handboeke oorwegend in Engels is, blyk verreweg die belangrikste rede te wees waarom respondente besluit het om in Engels te studeer. Ander belangrike redes hou verband met die posisie van Engels as wêreldtaal en die behoefte om toegang tot Engelse terminologie te hê en te bemeester. 'n Verdere belangrike faktor was die taal van die werksomgewing waar respondente gewerk het. Die gemiddeldes vir die ander faktore wat in die ondersoek gedek is, was almal onder die skaalmiddelpunt en het klaarblyklik 'n relatief minder belangrike rol gespeel. Die feit dat Engels die lingua franca in Suid-Afrika is, is onder meer as relatief onbelangrik beskou. So ook was die taalomgewing by Unisa - die siening dat die voertaal slegs Engels sou wees, satelliet- en besprekingsklasse slegs in Engels aangebied word, die gehalte van Afrikaanse studiemateriaal en die feit dat nie alle dosente in Afrikaans kan kommunikeer nie - klaarblyklik relatief onbelangrik. Sosiale netwerke en portuurgroepdruk, dit wil sê die invloed van medestudente, het ook nie 'n belangrike rol gespeel nie. Die oorweging om in die buiteland werk te kry, was ook relatief onbelangrik.

 

5. BESPREKING

Verskeie belangrike gevolgtrekkings kan uit die resultate gemaak word. In die eerste plek dui die feit dat studente wat vir 'n eerste graad geregistreer het - asook studente in die jongste ouder-domsgroep - meer geneig was om in Afrikaans te studeer, waarskynlik op die invloed van sosiale netwerke soos die ouerhuis, 'n etnokulturele vriendekring en Afrikaanse skole (Lanza & Svensen 2007). Vir hierdie studente is dit klaarblyklik nie 'n probleem om 'n etnokulturele persona te weer-spieël nie - ook nie binne die multikulturele universiteitsopset nie (O'Driscoll 2001). Hulle blyk minder bewus te wees van magsverhoudinge en taalideologieë wat Engels globaal en in Suid-Afrika bevorder. Die feit dat hulle hoogs tevrede was met hulle keuse om in Afrikaans te studeer, kan toegeskryf word aan die voordele wat moedertaalonderrig bied, asook aan die feit dat Afrikaans moontlik vir hulle as 'n bron van sekuriteit en geborgenheid dien in die veeltalige en multikulturele omgewing waarin hulle hulle bevind.

Daar was egter ook 'n aansienlike persentasie studente met Afrikaans as eerste taal wat in Engels gestudeer het. Die keuses van hierdie studente is waarskynlik nie alleen beïnvloed deur taalideologieë en magsverhoudinge binne die Suid-Afrikaanse konteks nie, maar ook deur die globale status en wye gebruikswaarde van Engels (Lanza & Svensen 2007; Graddol 2006; Valentine et al. 2008; Venter 1998). Die feit dat handboeke merendeels slegs in Engels beskikbaar is, blyk besonder belangrik te wees. Die bemeestering van Engelse terminologie kon vir sommige studente 'n bloot praktiese oorweging gewees het, terwyl dit vir ander meer om die status van die gebruik van Engelse terminologie kon gegaan het.

Studente in die heel oudste ouderdomskategorie was waarskynlik minder blootgestel aan faktore wat Engels bevorder en is waarskynlik ook beïnvloed deur die vorige bedeling waarin Afrikaans 'n hoër status geniet het. Aan die ander kant was studente in die middelouderdomsgroepe, asook dié wat vir hoër grade geregistreer het, waarskynlik meer bewus van hierdie faktore, wat dan ook gelei het tot die keuse van Engels as onderrigtaal. Vir hierdie studente was dit waarskynlik belangrik om 'n kosmopolitaanse of 'n hoflike persona te projekteer, veral in die universiteitskonteks (O'Driscoll 2001). Die strewe na 'n kosmopolitaanse persona word verder gereflekteer in die prominensie wat studente wat in Engels gestudeer het, gegee het aan Engels as wêreldtaal en om toegang te hê tot Engelse terminologie en dit te bemeester.

'n Kosmopolitaanse persona - wat ook 'n strewe na prestige en sukses weerspieël - was klaarblyklik ook vir manlike studente belangriker (O'Driscoll 2001). Manlike studente was waarskynlik meer aktief in die openbare en publieke sfere en daarom meer bewus van magsverhoudinge en taalideologieë wat Engels begunstig. Dit was waarskynlik ook die geval met studente wat in die buiteland woonagtig was en die rede waarom hulle meer geneig was om Engels te kies. Tog is dit interessant dat daar wel studente in die buiteland was wat Afrikaans gekies het. Vir sommige van hierdie studente het Afrikaans as onderrigtaal waarskynlik hulle bande met hul etniese groep bevestig en het dit gedien as 'n bron van kulturele sekuriteit in die vreemde (Lanza & Svensen 2007).

'n Bewustheid van en die geneigdheid om te handel volgens ideologieë wat gebaseer is op die globale status en gebruikswaarde van Engels en die bevordering van Engels in Suid-Afrika, asook die strewe om 'n kosmopolitaanse of 'n hoflike persona te projekteer, kan egter klaarblyklik teengewerk word deur affektiewe gesindhede soos taaltrots (Carstens 2006; Aziakpono & Bekker 2010). Dit wil voorkom of studente wat besonder trots is op hulle taal, minder skaam of bang is om 'n etnokulturele persona ook in die openbaar - in hierdie geval in 'n multikulturele en meertalige universiteitsopset - te projekteer. Daar blyk verder belangrike kontekstuele faktore te wees wat taalkeuses beïnvloed, soos blyk uit die verskille tussen die verskillende Unisa-kolleges (Lanza & Svensen 2007).

Die gebrek aan Afrikaanse handboeke blyk 'n belangrike faktor te wees wat studente se taalkeuses beïnvloed. Handboeke kan waarskynlik beskou word as kern-intellektuele hulpbronne binne enige onderrigopset (Balfour 2007). Die feit dat universiteitshandboeke tans merendeels in Engels beskikbaar is, dien waarskynlik verder om die globale status van Engels - ook as taal van hoëronderwys - te bevestig en taalideologieë wat Engels bevorder, te versterk.

 

6. SLOT

Die gevolgtrekking kan gemaak word dat Afrikaanse skole waarskynlik 'n belangrike rol speel om Afrikaanssprekende studente voor te berei om Afrikaans op universiteit te kies. Die invloed van Engels word klaarblyklik egter sterker namate mense aan die breër Suid-Afrikaanse en globale opsette blootgestel word. Keuses ten gunste van Afrikaans word aan die ander kant weer bevorder deur 'n diepgaande taaltrots. Ten einde linguistiese diversiteit te bevorder en die afskaling van Afrikaans in die hoëronderwys teen te werk, is dit belangrik dat intellektuele bronne soos handboeke en internet-inligtingsplatforms in Afrikaans ontwikkel en uitgebou word (Balfour 2007). Die regering moet verder uitgedaag word om nie langer slegs lippediens aan die bevordering van inheemse tale te bied nie. Finansiële en ander hulpbronne moet beskikbaar gestel word om nie slegs Afrikaans nie, maar ook ander inheemse tale op universiteitsvlak te bevorder. Verdere navorsing oor die redes waarom sommige studente van meet af in Engels studeer en ander op 'n later stadium oorskakel na Engels, die aard van en redes vir kontekstuele verskille soos dié tussen die verskillende Unisa-kolleges, asook faktore wat tot die vorming van taalhoudings bydra, is verder belangrik.

 

BIBLIOGRAFIE

About Unisa. g.d. http://www.unisa.ac.za [13 Desember 2012].         [ Links ]

Aziakpono, P. & Bekker, I. 2010. The attitudes of isiXhosa-speaking students towards language of learning and teaching issues at Rhodes University, South Africa: General trends. Southern African Linguistics and Applied Language Studies 28(1):39-60.         [ Links ]

Balfour, R.J. 2007. University language policies, internationalism, multilingualism, and language development in the UK and South Africa. Cambridge Journal of Education, 37(1):35-49.         [ Links ]

Carstens, W.A.M. 2006. Die breë debat (1994-2005) oor die toekoms van Afrikaans: Enkele temas en inisiatiewe. Supplement - Moedertaalonderrig Tydskrif vir Geesteswetenskappe, Junie:12-36.         [ Links ]

Cohen, P. 2012. The rise and fall of the American linguistic empire. Dissent, 59(4):17-22.         [ Links ]

Du Plessis, T. 2006. Tweetalige hoëronderwys in Suid-Afrika? Taalbeleidsontwikkeling by histories Afrikaansmedium universiteite in Suid-Afrika as gevallestudie. Supplement - Moedertaalonderrig Tydskrif vir Geesteswetenskappe, Junie:100-111.         [ Links ]

Du Plessis, T. 2008. Perspectives on managing Afrikaans and English as 'equal' languages of learning and teaching at the University of the Free State. Southern African Linguistics and Applied Language Studies 26(3):315-332.         [ Links ]

Graddol, D. 2006. English next. London: British Council. http://www.britishcouncil.org/learning-research-english-next.pdf [5 Desember 2012].         [ Links ]

Lanza, E. & Svendsen, B.A. 2007. Tell me who your friends are and I might be able to tell what language(s) you speak: Social network analysis, multilingualism, and identity. International Journal of Bilingualism, 11(3):275-300.         [ Links ]

Le Pere, G. & Lambrechts, K. 1999. In Bekker & Prinsloo (eds). Identity? Theory, politics, history. Pretoria: HSRC.         [ Links ]

Lubbe, J. & Du Plessis, T. 2001. Die debat rondom die vertolking van die amptelike taalbeleidsbeginsels van die oorgangsgrondwet in die gedrukte media: 'n Inhoudsontleding. Southern African Linguistics and Applied Language Studies 19:23-41.         [ Links ]

O'Driscoll, J. 2001. A face model of language choice. Multilingua, 20(3):245-268.         [ Links ]

Pachler, N. 2007. Choices in language education: Principles and policies. Cambridge Journal of Education, 37(1):1-15.         [ Links ]

South Africa, Ministry of Education. 2002. Language policy for higher education.http://www.info.gov.za/otherdocs/2002/langupolicy.pdf [15 Maart 2013].         [ Links ]

Ting, S-H. & Sussex, R. 2002. Language choice among the Foochows in Sarawak, Malaysia. Multilingua, 21:1-15.         [ Links ]

Valentine, G., Sporton, D. & Nielsen, K.B. 2008. Language use on the move: Sites of encounter, identities and belonging. Transactions of the Institute of British Geographers, 33:376-387.         [ Links ]

Venter, D. 1998. Silencing Babel? Language preference in voluntary associations - evidence from multicultural congregations. Society in Transition, 29(1-2):22-39.         [ Links ]

Webb, V.N. 2001. In Carstens & Grebe (reds). Taallandskap. Pretoria: Van Schaik.         [ Links ]

 

 

Elirea Bornman is 'n navorsingsprofessor in die Departement Kommunikasiewetenskap aan die Universiteit van Suid-Afrika (Unisa). Sy het 'n doktorsgraad in Sosiale Sielkunde van Unisa en was voorheen werksaam by die Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing (RGN). Sy is die outeur/ mede-outeur van verskeie boeke, hoofstukke in boeke, artikels in nasionale en internasionale vaktydskrifte, kongreslesings en navorsingsverslae.

Elirea Bornman is a research professor in the Department of Communication Science of the University of South Africa (Unisa). She holds a doctoral degree in Social Psychology from Unisa and worked at the Human Sciences Research Council (HSRC) before she came to Unisa. She is the author/co-author of various books, chapters in books, articles in national and international scientific journals, conference papers and research reports.

 

Petrus H Potgieter voltooi in 1992 die graad MA (Math) aan die Kent State-universiteit in die VSA en keer terug na Suid-Afrika in dieselfde jaar vir doktorale studie by die Universiteit van Pretoria waar die graad PhD (Wiskunde) aan hom toegeken word in 1996. In 1995-1996 is hy werksaam aan die Universiteit van Stellenbosch. Sedert 1997 is hy by die Universiteit van Suid-Afrika in Pretoria, in die Departement Besluitkunde.

Petrus H Potgieter completed the degree MA (Math) at Kent State University in the USA and returned to South Africa during the same year for doctoral studies, obtaining the degree PhD (Mathematics), awarded to him in 1996. During 19951996 he worked at the University of Stellenbosch. Since 1997 he has been employed at the University of South Africa in Pretoria in the Department of Decision Sciences.

 

JC (Koos) Pauw is buitengewone professor in Publieke Administrasie aan die Universiteit van Suid-Afrika. Hy promoveer by die Randse Afrikaanse Universiteit in die Filosofie onder Professor PGW du Plessis op grond van 'n proefskrif, Die filosofie en die bewerking van kontekste. Ná ongeveer 15 jaar as dosent word hy staatsamptenaar in 1985. By die Kempton Park-onderhandelinge, wat lei tot die 1993 Grondwet, het hy as amptenaar van die regering bygedra tot die skryf van die taalklousule. Gevolglik stel hy steeds belang in taalbeleid en die bevordering van Afrikaans. In 1995 word hy dosent aan Unisa. Onlangse publikasies handel meestal oor die administrasie van openbare geld.

JC (Koos) Pauw is professor extraordinaire in Public Administration at the University of South Africa. He received his doctorate at the Rand Afrikaans University under Professor PGW du Plessis on the strength of a thesis dealing with the epis-temology of philosophy. After 15 years as a lecturer he joined the civil service in 1985. At the constitutional negotiations at Kempton Park which led to the 1993 Constitution he was a co-author of the language clause in his capacity as a government official, and he is still interested in language policy and the promotion of Afrikaans. He became a lecturer at Unisa in 1995. His recent publications deal mainly with the administration of public money.

Creative Commons License Todo o conteúdo deste periódico, exceto onde está identificado, está licenciado sob uma Licença Creative Commons