SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.53 número2The diminishing attractiveness of the academic profession in South AfricaRemuneration trends in the public sector during sustained inflation: an economic perspective índice de autoresíndice de materiabúsqueda de artículos
Home Pagelista alfabética de revistas  

Servicios Personalizados

Articulo

Indicadores

Links relacionados

  • En proceso de indezaciónCitado por Google
  • En proceso de indezaciónSimilares en Google

Compartir


Tydskrif vir Geesteswetenskappe

versión On-line ISSN 2224-7912
versión impresa ISSN 0041-4751

Tydskr. geesteswet. vol.53 no.2 Pretoria jun. 2013

 

EDITORIAL

 

Stefans Grové 90: Opstelle oor sy lewe en werk

 

 

Hubert du Plessis se wrange herinneringe ná 'n lang loopbaan - soos uitgespreek slegs maande voor sy dood in Maart 2011 - kan beskou word as simptomaties van die soort ontnugtering wat geld vir die breë bevordering van die Suid-Afrikaanse kunsmusiek. Hoewel so 'n bevordering in die eerste plek geleë is in die uitvoering van dié erfenis, kan 'n versameling opstelle soos hierdie hopelik 'n bydrae lewer tot 'n groter bewusmaking.

Dit is opvallend hoe, in die meer as sestig jaar van Stefans Grové se musikale aktiwiteite, bykans elke dekade van sy lewensloop vanaf sy geboorte in 1922 gekenmerk is deur lewensveranderende gebeure, maar ook gebeure wat die noodwendigheid van nadenke soos hierdie noodsaak: 'n eerste onderwysbetrekking as "afgestudeerde" in 1942; 'n histories betekenisvolle publikasie oor die toekoms van Suid-Afrikaanse kunsmusiek in Standpunte in 1952; die totstandkoming van 'n hoofwerk soos die Simfonie in 1962; sy terugkeer na Suid-Afrika in 1972; die eerste toonsettings ooit van ikoniese Ingrid Jonker-tekste in 1982, ensovoorts.

Grové se betekenis vir die Suid-Afrikaanse musieklewe het veral in die afgelope twee dekades herhaaldelik só 'n neerslag in die musiekliteratuur gehad dat mens moontlik die afleiding kan maak dat hy die mees "beskrewe" Suid-Afrikaanse toonkunstenaar is - dit afgesien van die feit dat hy die langslewende van alle betekenisvolle figure in die veld is: Slegs vir die tydperk 2005 tot 2010 behels studies op magister- en doktorale vlak tien titels.

Die enigste bestaande monografie oor die komponis, onder redaksie van Stephanus Muller en Chris Walton (A Composer in Africa. Essays on the Life and Work of Stefans Grové, African Sun Media, 2006), kan verder as een van die belangrikste bydraes gesien word. Dit bevat die volledigste werklys en opname-besonderhede (tot en met die publikasiedatum), asook 'n hele aantal lesenswaardige opstelle, hoewel grotendeels vanuit 'n "kultuurwetenskaplike" hoek, maar helaas geen werkbesprekings nie. Die indrukwekkende lys van publikasies deur en oor Grové daarin is 'n aanwins vir die Suid-Afrikaanse musiekakademiese veld.

Hierdie versameling opstelle het dus meer as een doelwit voor oë. Onlangse tendense rondom musieknavorsing word gekenmerk deur 'n soms radikale klemverskuiwing, sonder dat 'n verruiming van navorsing werklik daardeur tot stand gebring word. Die eenvoudige feit dat musiek nie toeganklik kan wees sonder insae in die "note" nie, kan as emblematies gesien word by sommige van die agttal opstelle hierna, dit wil sê insae in die musiekhistoriese en analitiese fasette van die musiek. Die klem op bedoelde of vermeende "postapartheid" of "kolonialistiese" assosiasies in Grové se oeuvre in resente literatuur word ook in hierdie versameling sigbaar maar, gelukkig genoeg, sonder om die "lewe" van die kunswerk self op die agtergrond te wil skuif.

Dat die versameling veral 'n aantal jonger navorsers kon betrek, is des te meer waardevol. Die versameling is ook nie in die eerste plek 'n vorm van heldeverering nie - daarvan getuig die goed deurdagte kritiek in meer as een bydrae.

Samehangend hiermee het die keuse van Afrikaans as medium ook spesiale betekenis, en poog om daardeur te reageer op die praktyk om musiekwetenskaplike publikasies feitlik uitsluitlik in Engels die lig te laat sien. Die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns se bereidwilligheid om in te staan vir so 'n onderneming kan slegs geloof word.

Op 'n meer persoonlike vlak bring ek hiermee graag hulde aan 'n geliefde en bewonderde persoon binne die breër familiekring. Ek kon eers in Desember 1972, ná sy terugkeer na sy vaderland, kennis maak met Stefans - destyds 'n onvermydelik onbereikbare en misterieuse figuur. Sedertdien het ons ook vriende geword, iets wat uiteindelik toegang tot sy werk en begrip daarvoor vergemaklik reed te kry; keurders wat hulle deel gebring het in die slyping en afrondi die bydraes duidelik word.

Die totstandkoming van 'n produk soos dié is afhanklik van welwillende hulp. Ek noem graag instansies en individue wat dit moontlik gemaak het om dié bundel opstelle aan die lig te bring: Die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, in die persone van dr. Dionē Prinsloo (hoof uitvoerende beampte) en prof. Ina Wolfaardt-Grábe (redakteur van die Tydskrif vir Geestes-wetenskappe) wat elkeen alles in haar vermoë gedoen het om die publikasie moontlik te maak; ; die outeurs van die bydraes wat soms onder moeilike omstandighede moes ywer om die stukke gereed te kry; keurders wat hulle deel gebring het in die slyping en afronding van bydraes; Stefans Grové self en sy gesinslede vir gegewens en dokumentasie; me Santie de Jongh en die DOMUS-argief van die Universiteit van Stellenbosch; en ten slotte aan my vrou, Felicity, vir waardevolle raad, en gewilligheid om met redigering, kommentaar en vertaalwerk te help.

Die publikasie is in die eerste plek egter 'n gelukwensing met die komponis se 90ste verjaardag in Julie 2012. Mag hierdie gelukwensinge - byna 'n volle jaar laat! - nietemin die gemelde funksies vervul, en 'n gepaste waardering teenoor hom verwoord.

 

Izak Grové
GasredaUte ur Stellenbosch
Maart 2013

Creative Commons License Todo el contenido de esta revista, excepto dónde está identificado, está bajo una Licencia Creative Commons