SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.53 número2Innovative public sector education and training in a developing South Africa: the impact of and responses to globalisation índice de autoresíndice de materiabúsqueda de artículos
Home Pagelista alfabética de revistas  

Servicios Personalizados

Articulo

Indicadores

Links relacionados

  • En proceso de indezaciónCitado por Google
  • En proceso de indezaciónSimilares en Google

Compartir


Tydskrif vir Geesteswetenskappe

versión On-line ISSN 2224-7912
versión impresa ISSN 0041-4751

Tydskr. geesteswet. vol.53 no.2 Pretoria jun. 2013

 

FOREWORD

 

Woord vooraf

 

 

Stefans Grové se besondere posisie in die Suid-Afrikaanse musieklandskap is onomstrede. In Suid-Afrika lei hy die musikale voorhoede reeds vir die afgelope sestig jaar. Die filosofiese diepte van sy visie en sy artistieke integriteit, maak hom een van die sleutelfigure in Suid-Afrikaanse en Afrika-kunsmusiek. Benewens sy talente as komponis, skrywer, joernalis en kritikus was hy ook vir 31 jaar orrelis van die Arcadia-gemeente van die Lutherse Kerk. Ook word hy met agting, waardering en liefde deur 'n skare oudstudente onthou as 'n pionier op die gebied van kunsmusiek in Suid-Afrika.

Sedert die openbare uitvoering van sy eersteling-volwasse komposisies in 1953 in die buiteland het sy reputasie as komponis wye internasionale aansien in Oostenryk, Duitsland, België, Nederland, Israel, Engeland en Amerika geniet. Die redes daarvoor is nou reeds geskiedenis: sy onverstoorbare estetika, sy vaardigheid as komponis en sy unieke en omvattende stylbegrip het iets aan die wêreld gebied wat volgens destydse norme die eis vir oorspronklikheid op glansende wyse geslaag het. In logiese opvolging daarvan is Grové se laat-styl - sedert sy terugkeer na sy vaderland - om verskeie redes betekenisvol. Eerstens het hy 'n hibriede medium ontwerp wat in die samesmelting van Westerse musikale tegnieke en Afrikamateriaal die moontlikhede van sintese van hierdie wêrelde grootliks uitgebrei het. Tweedens word sy skeppende werk deur 'n uitsonderlike breë register van taal en uitdrukking gekenmerk - veel daarvan verwoord in Afrikaans - wat ontwikkel het in 'n ryk opbrengs van titels, fabels, drome, narratiewe en beskrywings wat sy Afrika-toonwêrelde vergesel.

Grové is een van 35 plaaslike musici wat sedert die stigting van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns in 1909 vereer is vir sy unieke bydrae tot die kunsmusiek in Suid-Afrika, en die enigste een wat reeds drie toekennings ontvang het: In 1997 is die Erepenning vir Musiek aan hom toegeken, en in 2008 het hy die enigste komponis ooit geword aan wie die Akademie se hoogste eerbewys, Erelidmaatskap, toegeken is. Tydens die vieringe van sy 90ste verjaarsdag in 2012 is hy in Bloemfontein ook deur die Akademie gehuldig, en hy ontvang ook op 28 November 2012 'n Oorkonde van die Akademie by 'n glansryke geleentheid (geborg deur mnr. David Maenaut, die verteenwoordiger van die Vlaamse gemeenskap in Suid-Afrika).

Met die verskyning van dié spesiale uitgawe van die Tydskrif vir Geesteswetenskappe bou die Akademie voort op hierdie erkentlikheid, en is dit die hoop van die Akademie dat Stefans Grové se reusebydrae tot die Suid-Afrikaanse én internasionale musiekwêreld vir die nageslag behoue sal bly.

 

Dionē Prinsloo

HUB SA Akademie vir Wetenskap en Kuns Mei 2013

Creative Commons License Todo el contenido de esta revista, excepto dónde está identificado, está bajo una Licencia Creative Commons