SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.53 issue1Een grote glimlach op Schiphol: De Afrikaanse literatuur in Nederland in 2012 author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Tydskrif vir Geesteswetenskappe

On-line version ISSN 2224-7912
Print version ISSN 0041-4751

Tydskr. geesteswet. vol.53 n.1 Pretoria Mar. 2013

 

BOEKBESPREKING BOOK REVIEW

 

 

So kry ons Afrikaans (2012) - Christo van Rensburg

 

 

Uitgewer: Lapa Publishers Bladsye: 159
ISBN: 978-0-7993-5660-1

'n Ontdekkingsreis deur die geskiedenis van Afrikaans

"Daar is goud... in ons geskiedenis". - Jan Smuts (vertaal)

'n Fassinerende ontdekkingsreis na waar die wortels van Afrikaans lê. Dis hoe 'n mens die publikasie So kry ons Afrikaans..., van die gerekende taalnavorser en taalhistorikus, Christo van Rensburg, kan beskryf. Soos met enige ander ontdekkingsreis, het die ontdekkingsreisiger 'n idee waarna hy op soek is, maar hy weet ook dat hy talle verrassings, selfs skokke kan verwag. So is dit dan ook met hierdie boek.

Die leser (reisiger) moet vir eers vergeet van Onze Jan en 1652. Van Rensburg reis langs verskillende bakens op hierdie ontdekkingsreis en in die proses maak hy 'n Kaapse draai wat waarskynlik nog nie eens in die koppe of verwysingsraamwerk van sy lesers bestaan nie. Maak jou dus gereed vir 'n reis wat reeds in 1500 begin, 'n reis waarin die Khoi-Khoin se aandeel van byspeler verander tot mede-hoofspeler.

Die skrywer self, meld dat So kry ons Afrikaans... die geskiedenis van Afrikaans vertel so al met 'n klomp hoogtepunte langs (p.11). Die fokus val op Afrikaans en die mense wat Afrikaans praat; op sigself reeds 'n fundamentele verskuiwende raamwerk. Dit gaan in die eerste plek om Afrikaans die taal, maar die tweede gebod wat daarmee saamgelees moet word is: wie is/was die mense wat Afrikaans praat en die taal tot stand gebring het tot waar hy vandag is en hoe pas almal se stukkies in die legkaart van Afrikaans in as mens agterna daarna kyk. In hierdie vertelling word gekyk na raakpunte tussen Afrikaans en sy sprekers. Hoe het hulle hulle rolle in die geskiedenis van Afrikaans gespeel?

So kry ons Afrikaans... is in opdrag van die Afrikaanse Taalraad (ATR) geskryf. Sedert sy ontstaan in 2008, het die ATR hom ten doel gestel om Afrikaans te bevorder onder al sy sprekers. Om dit te vermag, was dit nodig dat die verhaal oor die ontstaan van Afrikaans opnuut nagevors word sodat die volle (gedeelde) geskiedenis van Afrikaans en die mense wat Afrikaans praat, vertel kon word. Met hierdie publikasie word daar wegbeweeg van 'n taalgeskiedenis wat die Afrikaanse gemeenskap verdeel het.

Die boek het 'n paar vertellings in die oog. Oor die eerste Afrikaans wat gepraat is, en hoe die optekening van die oudste Afrikaans lyk. Hoekom Afrikaans se taalgebied daarna drasties verander het van 'n streektaal (rondom Kaapstad) tot 'n nasionale taal reg oor die breedte en wydte van Suid-Afrika.

Daarmee is die reis maar nog net aan die begin. Afrikaans het ook gevorder van kommunikasietaal tot skryftaal. Ook daaraan is 'n paar stories verbonde. En steeds gaan die reis aan. 'n Taal, soos Afrikaans, bestaan ook uit al talle variëteite. Gevolglik was dit nodig om ook van Afrikaans se bekendste variëteite te bekyk, veral oor hoe dit uitspeel in die sprekers van daardie variëteite se identiteit en hulle belewing van die taal. Van Rensburg wys ons daarop dat van die interessantste kante van die taal juis daar lê. Dit is 'n groot taalrykdom wat wag om ontgin te word en waarmee hier nou 'n aanvang geneem is.

Van Rensburg se reis neem die leser na verskillende uithoeke van ons land: in die Kaap, Genadendal, die Noord-Kaap, die Oos-Kaapse dorp, Graaff-Reinet, en selfs die spore van die Voortrekers is nagevors. In die proses maak die skrywer boeiende ontdekkings.

Talle Europese seevaarders het nooit hul bestemming in die Ooste bereik nie. Die reis was eenvoudig te ver. Kos en water kon nie hou nie. Daarvoor moes 'n plan gemaak word. Vars vleis kon maklik by die Khoi-Khoin gekry word, maar water was 'n ander storie. Dias het hom byvoorbeeld vasgeloop toe hy water wat van Tafelberg se hange afloop, wou skep. Vir die Khoi-Khoin was water 'n belangrike besitting. Daaroor moes onderhandel word. Die verskillende groepe moes met mekaar praat. So het almal 'n klompie woorde oor en weer geleer.

Te dikwels word Afrikaans soms net as 'n "afstammeling" van Nederlands beskryf. Van Rensburg wys egter hoedat 'n smeltkroes van tale, invloede, volke en verskillende lande in die wêreld gelei het tot die Afrikaans wat ons vandag ken.

Nederlandse skepe het al teen die einde van 1500 die Kaapse kuste aangedoen. Die Khoi-Khoin het vroeg al die woord brokwa vir verskillende soorte brood gebruik. Dit beteken letterlik "brood-goed" en kom moontlik uit sowel Engels as Nederlands. Die Nederlanders het weer so vroeg as 1611 die woord kanna by die Khoi-Khoin geleer omdat hulle juis op soek was na daardie wortel met sy medisinale waarde. Ook boegoe, dagga en kierie is by die Khoi-Khoin oorgeneem.

In 1647 het 'n groep van 62 Nederlandse seemanne vir meer as 'n jaar aan die Kaap oorgebly nadat hulle skip gestrand het. Hulle het die Khoi-Khoin in hul omgewing goed leer ken en daar was toe al tolke wat die oorlewingsomstandighede vergemaklik het. Autshumato (meer bekend as Herry) was so 'n tolk. Hy het 'n belangrike rol as tolk en onderhandelaar vervul. Die nedersetters wou later meer vee hê. Herry het beheer oor die handelstransaksies probeer uitoefen. Ander Khoi-Khoin-leiers soos Doman het Herry se voorbeeld nagevolg.

So is daar al in 1626 'n lysie van 31 Khoi-woorde opgestel deur Herbert wat vir agt dae in Tafelbaai was. Nog 'n Nederlandse boot het in 1655 vir drie weke in Saldanhabaai gelê. De Flacourt het toe 'n Khoi-woordelys van 221 woorde opgestel met Franse verklarings. Baie woorde wat ons vandag in Afrikaans het, kan daarin herken word: kers, kis, knoop, tou, koring ens. Twee belangrike geboorteplekke van tale, het navorsers al van vroeg af gevind, is markplekke en werk-plekke. Met Afrikaans was dit nie anders nie.

Hoe verwag 'n mens sou 'n teks van daardie vroeë Afrikaans lyk? Heel waarskynlik sou daar stukke swak Nederlands in wees, soos wat aanleerders gebruik, en miskien stukkies geykte Nederlands ook, soos groetformules. Leengoed uit ander tale sal ook daarin voorkom. Wat mens moet vasstel, is of herkenbare stukke Afrikaans, soos dit later sou blyk, ook daarin voorkom. Dan sou mens 350 jaar later daarvan kon praat as Afrikaans!

'n Plantkundige, Willen ten Rhyne het in 1673 vier weke aan die Kaap deurgebring. Hy het 'n paar Khoi-Khoin-vriende gemaak. Ten Rhyne hoor toe van 'n kennis wat in die Tweede Khoi-Khoin-oorlog gesneuwel het, en hy teken hierdie vertelling op:

Dat is doet: was mak-om? Duytsman altyt

Kall-om:icke Hottentots doot maak-om: Mashy

Doot, icke strack nae onse groot Kapiteyn toe die

man my soon witte

Boeba ge-me.

In Afrikaans sou dit so lyk:

Wat is die dood? Wat maak dit saak?

Die Hollanders sê altyd: Ek maak Hottentotte dood. Maskie (almaskie)

Dood, (gaan) ek reguit na ons groot kaptein toe die man sal my sulke wit osse gee.

Hierdie teks help dat ons die talelegkaart beter verstaan. Die naam "Kaaps" is al dikwels gebruik vir die voortsetting van hierdie soort Khoi-Afrikaans. Dit het nie lank gevat voordat hierdie taal baie mense se moedertaal geword het nie. En dit het steeds uitgebrei.

Met hierdie publikasie beklemtoon Van Rensburg die veelfasettige afkoms van Afrikaans. Die skrywer lewer 'n waardevolle bydrae om vir eens en vir altyd die misverstande oor waar Afrikaans vandaan kom, by te lê. Sodoende word die nou byna afgesaagde gesegde dat Afrikaans 'n witmanstaal is, finaal in die kiem gesmoor. Die navorsing wat hier aangebied word, bewys dat Afrikaans die eiendom is van almal wat Afrikaans praat.

"Die onus rus nou op die sprekers om te wys wat hulle met die taal wil doen. En hoe hulle met ander tale wil inskakel." So reis gerus saam met die skrywer langs al die bakens van Afrikaans. Dit beloof om die leser enduit te boei.

 

Michael le Cordeur
Departement Kurrikulumstudies Universiteit Stellenbosch

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License