SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.53 issue1An introduction and interpretation of Niklas Luhmann's theorising from within communication theory as a fieldDie kuberruimte - voordele en nadele author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Tydskrif vir Geesteswetenskappe

On-line version ISSN 2224-7912

Tydskr. geesteswet. vol.53 n.1 Pretoria Mar. 2013

 

NAVORSINGS- EN OORSIGARTIKELS RESEARCH AND REVIEW ARTICLES

 

Lewenstandaard: 'n Ekonomiese perspektief op lewensgehalte in Suid-Afrika

 

Living standards: An economic perspective on quality of life in South Africa

 

 

Fanie JoubertI; Jannie RossouwII

IDepartement Ekonomie, Universiteit van Suid-Afrika Pretoria E-pos: sjjoube@unisa.ac.za
IIDepartement Ekonomie Universiteit van Suid-Afrika, Pretoria

 

 


OPSOMMING

Teen die agtergrond van plaaslike en internasionale pogings om armoede en ongelykheid uit te wis, fokus hierdie artikel op een onderafdeling van hierdie uitdaging, naamlik die handhawing van lewenstandaarde. Ten opsigte van armoede onder Suid-Afrikaners is die bevindings dat alhoewel absolute armoede as persentasie van die bevolking tussen 1996 tot 2010 afgeneem het, relatiewe armoede slegs 'n marginale daling oor dieselfde tydperk getoon het. Terselfdertyd het Suid-Afrika se Ginikoëffisiënt, wat 'n aanduiding van relatiewe inkomsteverdeling is, sedert 1993 bykans onveranderd gebly. 'n Analise van die groei in die aantal belastingbetalers teenoor die aantal ontvangers (en koste) van sosiale toelaes wat die regering betaal, bring ernstige vrae oor die volhoubaarheid van sosiale en maatskaplike versorging deur middel van belastingverdeling aan die lig. Die artikel lewer ook 'n blik op die Suid-Afrikaanse bevolking se ouderdomsprofiel en hul persepsie van aftreevoorsiening. Die vernaamste probleem is 'n verouderende bevolking met onvoldoende aftreevoorsiening. Dit bevestig dat Suid-Afrikaners hul marginale verbruiks- en besparingsgeneigdheid gedurende hul werksloopbane moet hersien om dalende lewenstandaarde na aftrede te voorkom.

Trefwoorde: Lewenstandaard, lewensgehalte, armoede, inkomsteverdeling, belastinglas, sosiale besteding, populasie, ouderdomsprofiel, aftreevoorsiening


ABSTRACT

This research provides an economic perspective on living standards in South Africa against the background of domestic and international initiatives to eradicate poverty and inequality. In general living standards and quality of life are multidisciplinary topics in which numerous factors such as medical care and advancements, housing, food resources, etc., also play an integral part. This research makes the assumption that living standards are a prerequisite for quality of life. The methodology is thus to analyse a number of economic indicators often used in the assessment of living standards.
As far as poverty amongst South Africans is concerned, the research finds that although absolute poverty decreased as a percentage of the population between 1996 to 2010, relative poverty decreased only marginally over the same period. Absolute poverty is measured as the number of people living on less than US$2 per day, and this share of the population decreased from 12,1% in 1996 to 5,0% in 2010. Relative poverty takes into account factors such as cost of living as well as the size of the household. Relative poverty recorded a marginal decrease from 40,6 % of the population in 1996 to 39,9% in 2010, and was therefore not as pronounced as the decrease in absolute poverty.
Income distribution can be assessed using the Gini-coefficient, which compares the cumulative percentage of income earned by various cumulative percentages of the population. Income distribution in South Africa has improved only marginally since 1993, as indicated by Gini-coefficient readings of 0,67, 0,68 and 0,66for the years 1993, 2000 and 2008, respectively. This implies that despite the government's various poverty reduction measures, income distribution still remains stubbornly skewed.
South Africa's government revenue will be an estimated R800 billion (excluding non-tax revenue and SACU payments) during the 2012/13 financial year. The main sources of revenue are personal income tax (R295bn. or 34,6% of the total), value added tax (R209 bn. or 25,4%) and company tax (R166 bn. or 20,3%). The number of tax payers per category is around 6 177 050 individuals, 2 078 182 companies and 326 649 trusts. A closer analysis of the personal income tax category indicates that 72,9% of this item is paid by individuals earning less than R260 000 per year, while 95,5% is paid by individuals earning less than R600 001 per year.
As for the division of state revenue, social development will receive an estimated R112bn. during 2012/13, of which the bulk will be allocated to the social assistance (R104bn) sub category. Around 16,1 million South Africans currently (2012/13) receive some form of grant, with the biggest categories (by numbers) of recipients receiving the child support grant (11,3 million) and the old age grant (2,7 million).
The number of personal income taxpayers increased on average by 4,4% between 2008 to 2012. Compared to this, the number of grants paid rose by 5,3% during the same period. More alarming is the cost of these grants (social assistance payments) which rose by an average 10,4% over the period. These large short term discrepancies raise serious questions about the sustainability of these items in the long term.
The South African population rose from 5,9 million people in 1911, to 40,5 million in 1996, while Stats SA estimates that there were 50,6 million people during mid-2011. The population growth rate indicates some deceleration from around 2,2% per annum during the 1990s to a growth rate of 1,3% per annum, for the period 2007 to 2012. The age profile of all South Africans indicates a clear pyramid shape, with the age groups between 0-19 years forming the base of the pyramid. Despite this, the South African population is showing signs of aging. In 2010 around 5,6% of the South African population was 65 years or older, placing the country in the "mature/] intermediate" category. Projections are that by 2020 more than 7,6% of the population will be 65years or older which will justify a reclassification to "old".
As far as life expectancy is concerned, the Actuarial Society of South Africa and the Institute for Future Research estimated values of 58,2 and 50,8 years, respectively, for 2010. Both of these entities expect life expectancy to improve, with estimates of 59,1 and 51,3 years, respectively, for 2025.
The research indicates that a large burden of financial support to the greater economy is being placed on the shoulders of the middle income class in South Africa. This burden, rather than job creation, eradicated absolute poverty. Adding to this is the need for sufficient retirement planning, which currently seems to be left somewhat to faith. South Africans in general, and the middle income group especially, have to realign their consumption and expenditure trends during their working lives, to limit a decrease in living standards (and thus quality of life) post retirement.

Key concepts: Living standards, quality of life, poverty, income distribution, tax burden, social spending, population, age profile, retirement provision


 

 

1. AGTERGROND EN RASIONAAL1

Hoë vlakke van ongelykheid en armoede is 'n wêreldwye probleem, wat veroorsaak dat lewenstandaarde wesenlik tussen lande, maar ookbinne lande verskil (Todaro & Smith 2011:61). 'n Raming wat die Verenigde Nasies in 2006 gemaak het, toon byvoorbeeld dat die armste 20% van die wereldbevolking (nagenoeg 1,4 miljard mense) slegs 1,5% van die wêreld se inkomste verdien. Dieselfde mense moes ook op minder as sowat $1,25 per persoon per dag (teen koopkragpariteit) oorleef (Todaro & Smith 2011:61). Die grootste persentasie van hierdie mense, sowat 41,1%, woon in Sub-Sahara Afrika, gevolg deur 31,7% in Suid-Asië (Todaro & Smith 2011:62).

'n Vrou in Sub-Sahara Afrika het byvoorbeeld 'n een-uit-dertig kans om te sterf terwyl sy geboorte skenk - in die ontwikkelde wereld is hierdie kans een uit 5 600. So ook is die lewensverwagting van die gemiddelde Sub-Sahara Afrikaan minder as 55 jaar (Banerjee & Duflo 2011:1).

Die gemiddelde per capita inkomste in Afrika is steeds laer as in die middel 1970s (Mills 2010:31). Mills (Hoof van die Brenthurst Stigting en vorige nasionale direkteur van die Suid-Afrikaanse Instituut vir Internasionale Aangeleenthede) voer aan dat "(d)ie hoofrede waarom Afrika se mense arm is, is omdat hul leiers slegte besluite geneemhet" (Mills 2010:1). Mills haal die "vader van moderne Singapoer", Lee Kuan Yew, soos volg aan:

When misguided policies based on half-digested theories of socialism and redistribution of wealth were compounded by less than competent government, societies formerly held together by the colonial power splintered, with appalling consequeces. (Mills 2010:10)

Mills voeg egter by dat "alhoewel Afrika ... versuim het om teen dieselfde tempo as ander lande te globaliseer, daar teen die een-en-twintigste eeu groter geleenthede as ooit vir Afrikane was" (Mills 2010:31).

In 'n poging om ongelykhede tussen ryk en arm lande uit te wis en armoede te verlig, het die 189 lande wat teen September 2000 lidmaatskap van die Verenigde Nasies (VN) gehad het, hulself verbind tot die "Millennium Development Goals" (MDGs). Die MDGs bestaan uit agt mikpunte wat teen 2015 behaal behoort te word ten einde te vorder met armoedeverligting en die uitwissing van ongelykhede. Die MDGs word beskryf as die sterkste verbintenis tot op datum deur die internasionale gemeenskap om globale armoede te beëindig (Todaro & Smith 2011:23). Die MDGs het egter nie universele steun nie want daar is diegene (sien byvoorbeeld Bond 2006:138) wat meen dat armoede nog vinniger verlig kan word.

Die VN gebruik die "Human Development Index" (HDI) om armoede te meet en tussen lande te vergelyk. In 2010 was Suid-Afrika in die 110de plek (uit 169 lande) op die HDI, met 'n ondergemiddelde waarde van 0,597 teenoor die wereld se gemiddeld van 0,624 (Human Development Report 2010:145-46). Dit plaas Suid-Afrika in die "Medium Human Development" kategorie - die derde van vier moontlike kategorieë. Suid-Afrika se prestasie (of liefs dan gebrek aan prestasie) in terme van die HDI bevestig dat armoedeverligting en die verbetering van lewensgehalte belangrike uitdagings is wat die land in die gesig staar.

Navorsing wat in 2004 gepubliseer is, toon dat "(T)he single most important issue facing South Africa ten years after the transition to democracy is breaking the grip of poverty on a substantial portion of its citizens" (EFSA Institute 2003:2). Die Studies in Poverty and Inequality Institute (SPII) het in 2009 tot die gevolgtrekking gekom dat:

(m)ost of the national policies of the departments do reflect a pro-poor orientation in their rhetoric... However outside the general rhetoric, the policies do not provide for satisfactory implementation. (Studies in Poverty and Inequality Institute 2009:2).

Verbeterings in lewensgehalte is uiteraard 'n multidissiplinêre vraagstuk, waar faktore soos mediese sorg en mediese vooruitgang, behuising, voeding en so meer 'n rol speel. Todaro en Smith (2011:23) noem dat die MDGs in werklikheid 'n erkenning deur die internasionale gemeenskap is van die multidimensionele aard van ontwikkeling en armoedeverligting, en dat die uitwissing van armoede meer gaan verg as bloot die toename in die inkomste van die armes.

Armoede, ongelykheid en armoedeverligting ter verbetering van lewenstandaard in Suid-Afrika kry wye aandag en heelwat literatuur het al oor hierdie onderwerp verskyn.2 Migrasie binne en informele indiensneming in Suid-Afrika en die rol daarvan op armoede en lewenstandaarde, kry ook heelwat aandag in die literatuur.3

Alhoewel dit buite die bestek van hierdie artikel val om 'n omvattende oorsig oor al die beskikbare literatuur oor armoede, ongelykheid en migrasieprobleme te gee, is dit van belang om uit te wys dat hierdie probleme 'n lang aanloop in Suid-Afrika het. Terreblanche (2002) toon byvoorbeeld duidelik aan dat hierdie probleme van 'n diepgewortelde historiese aard is, wat nie oornag opgelos kan word nie (sien ook Valodia 2007). Terreblanche (2012) toon ook aan dat die Suid-Afrikaanse regering na die demokratiese verkiesing in 1994 nie suksesvolle ekonomiese geleenthede aan arm Suid-Afrikaners gebied het nie.

Hierdie artikel gee 'n samehangende blik van die Suid-Afrikaanse omstandighede, teen die agtergrond van plaaslike en internasionale ongelykheid en pogings om armoede te verlig. Die artikel fokus op een onderafdeling van lewensgehalte, met die uitgangspunt dat die handhawing van lewenstandaard 'n voorvereiste vir lewensgehalte is. Hierdie ontleding is belangrik vanuit 'n ekonomiese perspektief vanweë die noue verwantskap tussen die ekonomiese wetenskappe en menslike gedragswetenskappe.

Die struktuur van die res van die artikel is as volg: Afdeling 2 ondersoek die armoede- en inkomsteverdeling van Suid-Afrikaners en die impak daarvan op lewensgehalte. In afdeling 3 word die belastinglas en die afhanklikheidkoers tussen belastingbetalers ondersoek. Die afdeling ondersoek verder die volhoubaarheid van sosiale en maatskaplike versorging deur middel van belasting en inkomsteverdeling. Afdeling 4 lewer 'n blik op die Suid-Afrikaanse bevolking se ouderdomsprofiel en hul aftreevoorsiening as 'n wyse om lewenstandaard na aftrede te verseker. 'n Opsomming van bevindings word as slotopmerking in afdeling 5 gegee.

 

2. ARMOEDE EN INKOMSTEVERDELING

Hierdie afdeling ondersoek die armoede en inkomsteverdeling van Suid-Afrikaners en die impak daarvan op lewensgehalte. Daar word na armoede gekyk met die fokus op absolute sowel as relatiewe armoede. Suid-Afrika se Ginikoëffisiënt, wat 'n aanduiding van relatiewe inkomsteverdeling is, word ook bespreek.

2.1 Absolute en relatiewe armoede

Volgens die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseverhoudinge (SAIRR), is dit belangrik om te onderskei tussen absolute armoede en relatiewe armoede. Absolute armoede word dikwels gemeet as die aantal mense wat op minder as VS$24 (sowat R16) per dag moet oorleef, wat ook 'n maatstaf vir internasionale vergelykings is.

Beskikbare data toon aan dat die aantal Suid-Afrikaners wat in absolute armoede leef, sowat 5,1 miljoen in 1996 beloop het (SAIRR 2011(a):308). Die getal het gestyg tot 'n piek van meer as 7,8 miljoen mense in 2002, waarna dit afgeneem het na 2,5 miljoen mense rondom 2010.

Oor die totale tydperk (1996-2010) was daar dus ongeveer 'n halvering (-51,0%) in die aantal mense wat in absolute armoede leef. Hierdie syfers word dikwels ook as persentasie van die totale bevolking gerapporteer, en toon 'n soortgelyke daling, naamlik vanaf 12,1% van die totale bevolking in 2006 tot 5,0% van die totale bevolking in 2010 (SAIRR 2011(a):308).

In terme van relatiewe armoede word die armoedeperk elke jaar na gelang van lewenskoste en die aantal mense per huishouding aangepas. Die SAIRR noem byvoorbeeld dat die armoedeperk vir 'n huishouding met een persoon gestel was op 'n maandelikse inkomste van R443 in 1996 en R1 315 in 2010. Hierteenoor was dit vir 'n huishouding van agt persone R1 770 in 1996 en R4 729 in 2010 (SAIRR 2011(a):309).

 

Figuur 1

 

Die aantal Suid-Afrikaners wat in relatiewe armoede leef was sowat 17,1 miljoen in 1996. Die getal het gestyg tot 'n piek van 22,6 miljoen mense in 2002, waarna dit afgeneem het na 19,8 miljoen mense in 2010. Oor die totale tydperk (1996-2010) was daar dus 'n toename van 16,2% in die aantal mense wat in relatiewe armoede leef. Dit is in teenstelling met die tendens vir absolute armoede (d.i. 'n afname van 51%). Wetenskaplike (nagevorsde) redes hiervoor is onduidelik. 'n Moontlike afleiding is dat welsynstoelae ("social grants") van die staat daarin kon slaag om mense uit absolute armoede te lig, maar nie noodwendig uit relatiewe armoede nie. Slegs volgehoue werkskepping kan waarskynlik laasgenoemde ondersteun.

As persentasie van die totale bevolking het diegene in relatiewe armoede 'n marginale daling vanaf 40,6% in 1996 tot 39,9% in 2010 getoon. Dit is egter heelwat kleiner as die daling wat in die absolute armoedeperk ondervind is. Dit laat geen twyfel nie dat voortslepende armoede die lewensgehalte en lewenstandaarde in Suid-Afrika onder druk plaas.

2.2 Inkomsteverdeling (die Ginikoëfflsiënt)

Inligting rakende inkomsteverdeling is 'n netelige saak aangesien betroubare inligting rondom die inkome van elke individu of huishouding in die ekonomie gedurende die betrokke tydperk benodig word. Nietemin kan data van onder andere bevolkingsensusse en belastingopgawes hiervoor gebruik word. Dan is daar ook verskillende maniere om die gelykheid en/of ongelykheid van inkomsteverdeling te meet, insluitend die Lorenz-kromme, die Ginikoëffisiënt of kwantielverhoudings (Mohr 1998:173).

Die Ginikoëffisiënt kan tussen 0 en 1 varieer, waar 'n uiterste lesing van 0 aantoon dat inkomste absoluut gelyk verdeel word, teenoor 'n uiterste lesing van 1, wat aantoon dat een individu of huishouding die totale inkomste ontvang. In die praktyk lê die Ginikoëffisiënt van lande gewoonlik tussen ongeveer 0,30 (baie gelyk) en ongeveer 0,70 (baie ongelyk) (Mohr et al. 2008:73-75).

Onlangse navorsing toon dat die inkomsteverdeling in Suid-Afrika sedert 1993 slegs marginaal verbeter het. Dit blyk uit die Ginikoëffisiënt wat lesings van 0,67, 0,68 en 0,66 in onderskeidelik 1993, 2000 en 2008 aangetoon het (Development Indicators 2011:25). Verdere navorsing deur die SAIRR toon dat daar gedurende die vorige dekade in werklikheid 'n toename in die Ginikoëffisiënt onder drie van die vier rasgroepe (d.i. swart, bruin en Indiër) teenwoordig was, hoewel daar 'n wesenlike afname in die lesing vir die wit bevolking tussen 2000 (0,62) en 2008 (0,56) was. Wat geografiese verspreiding betref, het die verdeling van inkomste onder stedelinge verswak terwyl dit in landelike gebiede 'n effense verbetering getoon het (sien Tabel 1) (SAIRR 2011(a):293).

 

 

Op die keper beskou is die feit dat die Ginikoëffisiënt slegs 'n marginale afname toon, kommer-wekkend, veral in die lig van die staat se talle pogings om alle landsburgers op 'n meer gelyke voet, sover dit die verdeling van inkomste betref, te plaas. Een voorbeeld hiervan is die progressiewe belastingstelsel waarin persone wat 'n hoër inkomste verdien, teen 'n hoër marginale belastingkoers aangeslaan word (sien afdeling 3 hieronder). Beide die Ginikoëffisiënt en armoedevlakke toon dat lae lewenstandaarde 'n voortslepende probleem in Suid-Afrika is en gevolglik lewensgehalte negatief bly beïnvloed.

 

3. DIE BELASTINGLAS

Hierdie afdeling ondersoek Suid-Afrikaners se belastinglas en die afhanklikheidkoers tussen belastingbetalers en diegene wat vir hul lewensmiddele van toelae ("grants") van die regering afhanklik is. Ten spyte van Suid-Afrika se bo-gemiddelde vlak van bruto nasionale inkomste (sien HDI verslag) bring hierdie analise ernstige vrae oor die volhoubaarheid van sosiale en maatskaplike versorging deur middel van belasting en inkomsteverdeling aan die lig.

3.1 Die belastingbetalers

Die 2012 begroting toon aan dat Suid-Afrika se staatsinkomste nagenoeg R800,0 miljard5 vir die 2012/13 finansiële jaar sal beloop. Die grootste bydraes tot hierdie totaal sal afkomstig wees vanaf persoonlike inkomstebelasting (R295 miljard of 34,6% van die totaal), belasting op toegevoegde waarde (R209 miljard of 25,4%) en maatskappybelasting (R166 miljard of20,3%) (Budget Review 2012:150).

Die aantal belastingpligtiges per kategorie waarop die staat steun om die bogenoemde belastings te betaal, is nagenoeg 6 177 050 individue (Budget Review 2012:50), 2 078 182 maatskappye en 326 649 trusts (2011 Tax Statistics 2011:2).

 

Figuur 2

 

'n Ontleding van die individuele belastingbetalers toon aan dat die grootste gros van belasting (d.i. bykans 95% van inkomste) deur individue betaal word wat 'n belasbare inkomste van minder as R600 000 per jaar verdien. Van hierdie individue val die meeste (43,9%) in die belasbare inkomstekategorie van R160 001 tot R260 000 per jaar (Budget Review 2012:50). Die belastingdrempel, of inkomstevlak waaronder individue geen belasting aanspreeklikheid sal hê vanweë o.a. die primêre korting nie, is net onder R60 000 vir die 2012 belastingjaar. Dus word die bykans 4,8 miljoen individue wat minder as R60 000 belasbare inkomste verdien, nie in die syfers bygereken nie.

Suid-Afrika het 'n progressiewe inkomstebelastingstelsel wat beteken dat die belasting wat betaal word in verhouding tot die belasbare inkomste toeneem, soos die belasbare inkomste toeneem. Dit beteken dus dat individue met hoër inkome, 'n hoër persentasie van hul inkome aan belasting moet betaal as individue met 'n laer inkome. Tabel 2 toon aan hoe die belastingkoers van verskillende belasbare inkomstekategorieë verskil. Dit dui ook aan dat die maksimum marginale koers waarteen individue in Suid-Afrika belas word op 40,0% per jaar vasgestel is.

Wat kommerwekkend is, is die verhouding van die aantal individuele belastingbetalers gemeet teen die totale arbeidsmag. Statistiek Suid-Afrika (StatsSA) raam dat daar teen einde 2011 sowat 32,6 miljoen Suid-Afrikaners tussen die ouderdom van 15 tot 64 was. Hieruit word die arbeidsmag bereken as nagenoeg 17,7 miljoen persone (StatsSA 2011(a):vi). Hierdie syfer sluit, onder andere, individue wat ophou werk soek ("discouraged work-seekers") en ekonomies onaktiewe persone uit.

Indien die Nasionale Tesourie se syfers van 6,17 miljoen persoonlike inkomstebelasting betalers dus hiermee vergelyk word, kry ons 'n verhouding van 1:5,3 teenoor die ouderdomsgroep 15 tot 64 jaar, en 1:2,8 teenoor die arbeidsmag. Om dit anders te stel, persoonlike belastingbetalers maak slegs sowat 18,9% van die ouderdomsgroep 15 tot 64 jaar oud uit en slegs sowat 34,8% van die arbeidsmag betaal persoonlike inkomstebelasting. Dit moet egter beklemtoon word dat hierdie analise op persoonlike inkomstebelasting fokus. Daar kan geredelik aanvaar word dat meeste van die arbeidsmag bydra tot ander tipes indirekte belasting bv. BTW, aksyns of brandstofheffing deur gewone verbruiksbesteding. Sien ook Tabel 4 hieronder wat aantoon dat die aantal persoonlike inkomstebelasting betalers met 'n gemiddeld van 4,4% per jaar oor die tydperk 2008 tot 2012, toegeneem het.

3.2 Sosiale besteding

Volgens die 2012 nasionale begroting sal sowat R112,0 miljard aan sosiale ontwikkeling en bystandbetalings tydens die 2012/13 finansiële jaar bestee word (11,5% van totale staatsbesteding). Die allokasie aan sosiale besteding word afgebreek in vyf subkategorieë insluitend administrasie, sosiale bystand ("social assistance"), sosiale beskermingsbeleid, welvaartsdienste en geïntegreerde diensverskaffing. Van hierdie subkategorieë, is die sosiale bystandkategorie die swaargewig en sal sowat R104,8 miljard ontvang. Die mikpunt van die sosiale besteding is: "(t)o ensure protection against vulnerability by creating an enabling environment for the provision of a comprehensive, integrated and sustainable social development service" (Estimates of National Expenditure 2012:413).

Sosiale bystandoordragte ("social assistance transfers") voorsien dat die betaling van sosiale bystandtoelae aan begunstigdes geskied wat kwalifiseer vir sosiale bystand in terme van die Social Security Act, 2004 (Wet 13 van 2004). Die program bestaan uit die volgende subprogramme (Department ofSocial Development 2011:38):

  • Ouderdomstoelaag voorsien inkomste aan persone ouer as 60 wat 'n jaarlikse inkomste van minder as R31 536 (enkellopend) en R63 072 (getroud) het;
  • Oorlogsveteraantoelaes vir mans en vroue wat in die Tweede Wereldoorlog sowel as die Koreaanse Oorlog geveg het;
  • Ongeskiktheidstoelaag vir diegene met 'n permanente of tydelike ongeskiktheid wat 'n jaarlikse inkomste van minder as R31 536 (enkellopend) en R63 072 (getroud) het;
  • Pleegsorg is 'n toelaag vir kinders wat onder 'n hofbevel in pleegsorg geplaas is;
  • Sorgafhanklik voorsien 'n toelaag aan mense wat versorg en 'n jaarlikse inkomste onder R129 600 (enkel) en R259 200 (getroud) verdien en omsien na 'n kind wat geestelik of fisies gestremd is;
  • Kindertoelaag is van toepassing op kinders onder 18 gebore na 1 Desember 1993 en is betaalbaar aan ouers en toesighouers met 'n jaarlikse inkomste van onder R30 000 per jaar;
  • "Grant-in-aid" is 'n addisionele toelaag aan ontvangers van die ouderdomstoelaag, ongeskiktheidstoelaag en oorlogsveteranetoelaag wat as gevolg van hul fisiese ofgeestelike toestand gereelde sorg van iemand anders verlang; en
  • Sosiale verligting is 'n tydelike inkomste ondersteuning of kospakkies aan diegene wat deur moeilike tye gaan ("undue hardship").

 

Figuur 3

 

Tans (d.i. tydensdie 2012/13 begroting) ontvang sowat 16,1 miljoen Suid-Afrikaners een of ander tipe staatstoelaag (sosiale bystand) wat die staat sowat R104,8 miljard per jaar kos (Estimates of National Expenditure 2012:415). Deur die aantal toelaes, asook die besteding per kategorie te gebruik, kan die koste per item bereken word. So byvoorbeeld is die duurste kategorie tans die oorlogsveterane (R18 349,9 p.p.p.j.) en die "grant-in-aid" (R2 644,3 p.p.p.j.) is die goedkoopste. Die meeste mense (11,3 miljoen) word bygestaan deur die kindertoelaag terwyl die meeste geld aan ouderdomstoelae (R39,3 miljard) bestee word.

 

Tabel 3

 

Daar is geen twyfel nie dat sosiale bystand 'n kritieke deel van die inkomste van veral die armste van die armes van Suid-Afrika se mense uitmaak. Die belangrike vraagstuk is die volhoubaarheid van toelaes. Een volhoudbaarheidstoets is om die tempo van toename in die aantal belastingbetalers, met die tempo van toename in uitbetalings te vergelyk. 'n Soortgelyke toets toon aan dat die aantal persoonlike belastingbetalers tussen 2008 en 2012 met gemiddeld 4,4% per jaar toegeneem het. Hierteenoor het die aantal toelaes wat uitbetaal word met gemiddeld 5,3% per jaar oor die ooreenstemmende tydperk gestyg (2011 Tax Statistics 2011: 2 en Estimates of National Expenditure 2012: 421-22). Meer kommerwekkend is die koste van toelaes wat met gemiddeld 10,4% per jaar oor dieselfde tydperk gestyg het - vergelykings wat ernstige vrae oor die volhoubaarheid van hierdie items oor die langtermyn laat ontstaan.

Vanuit die Tesourie se oogpunt het die fokus in die mees onlangse (2012) begroting sterk geswaai na veral infrastruktuuruitbreidings maar sosiale besteding bly steeds hoog op die agenda. In die Minister se eie woorde:

Government has expanded social assistance to households over the past decade, but employment and economic growth have to be the main future drivers of income growth and poverty reduction. (Gordhan2012:4)

Hierdie stelling bevestig dat die staat self met die volhoudbaarheidskwessie worstel. Dit is ook belangrik om vanuit 'n fiskale oogpunt daarop te let dat elke rand wat op een item bestee word, beteken dat dieselfde bedrag by besteding op 'n ander item "weggelaat" word. Dit kan ook beteken dat die staat meer geld moet leen, afhangende van die vlak van belastinginkomste. Die ekonomiese begrip geleentheidskoste weerspieël hierdie beginsel. Die ontleding toon egter duidelik dat die lewenstandaard van 'n groot aantal Suid-Afrikaners deur maatskaplike oordragbetalings bepaal word. So 'n toedrag van sake kan nouliks 'n langtermynbeleid vir armoedeverligting wees.

 

4. AFTREEVOORSIENING TER VERSEKERING VAN LEWENSTANDAARD EN LEWENSGEHALTE

Hierdie afdeling lewer 'n blik op die Suid-Afrikaanse bevolking se ouderdomsprofiel en hul aftreevoorsiening. Die vernaamste probleem is 'n verouderende bevolking met onvoldoende aftreevoorsiening. Teen 'n inflasiekoers van net 5% per jaar, verdubbel pryse elke 15 jaar. Pensioenarisse lewe al langer, maar hul lewensgehalte daal vanweë onvoldoende aftreevoorsiening en omdat hul beleggingsinkomste nie met inflasie tred hou nie. Daar word ook klem gelê op Suid-Afrikaners se persepsie oor aftreevoorsiening.

4.1 Suid-Afrika se populasie en ouderdomsprofiel

In 1911 was Suid-Afrika se bevolking 5,9 miljoen mense (SAIRR 2011(b):10). Teen 1996 was daar reeds 40,5 miljoen en die mees onlangse aanduiding is dat daar 50,6 miljoen Suid-Afrikaners is. Dus in 'n tydperk van bykans 'n eeu het die populasie met 747% gegroei (SAIRR 2011(b):10). Oor die laaste twee dekades toon die jaarlikse populasieaanwas wel 'n verlangsamende groeitempo vanaf ongeveer 2,19% per jaar in die vroeë negentigs tot gemiddeld 1,31% per jaar gedurende die laaste vyf jaar (d.i. 2007 tot 2011). Sedert die begin negentigs is die stadigste groeitempo gedurende die jare 2004 (0,34%) en 2005 (0,65%) aangeteken (SAIRR 2011(b):12). Volgens die Aktuariële Vereniging van Suid-Afrika (ASSA), word addisionele steftes a.g.v. MIV/VIGS sedert 2004 by hierdie syfers ingesluit.

Behalwe vir die tempo van aanwas is dit ook belangrik om te kyk na die ouderdomsprofiel van die populasie. Figuur 4 gebruik 'n keugel-verdeling om aan te toon hoe die populasie tans verdeel is. Let daarop dat hierdie 'n totale verdeling is en dat die onderlinge verdelings tussen ras en geslag wesenlike verskille aantoon.

 

 

Die Instituut vir Toekomsnavorsing ("Institute of Future Research" of IFR) aan die Universiteit van Stellenbosch, bevind dat die Suid-Afrikaanse populasie tekens van veroudering begin wys. Suid-Afrika het verander van 'n demografies jong populasie na 'n populasie van intermediêre ouderdom. Volgens definisie word 'n populasie as "oud" geklassifiseer indien meer as 7% van die populasie ouer as 65+ is, "volwasse/intermediêr" indien tussen 4% tot 7% 65 + jaar oud is, en as "jonk" indien minder as 4% van die populasie 65+jaar oud is.

Teen 2010 het daar reeds sowat 5,6%%6 van die Suid-Afrikaanse populasie in die kategorie van 65+jaar oud geval, wat Suid-Afrika dus gemaklik in die kategorie van "volwasse/intermediêr" plaas. Verdere projeksies deur die IFR toon aan dat teen 2020 daar 7,6% van Suid-Afrika se populasie ouer as 65 + jaar oud kan wees, wat dus 'n herklassifikasie na "oud" sal regverdig (sien Tabel 5) (SAIRR, 2011(b):11)

 

 

Lewensverwagting vir Suid-Afrikaners bly ietwat van 'n tameletjie wat voorspellings betref. Dit is veral weens die onsekere effek van MIV/VIGS en die mate wat anti-retrovirale middels wel effektief teen die siekte sal wees. Verder is betroubare statistieke ook moeilik bekombaar. Tabel 6 toon die verandering in lewensverwagting vir Suid-Afrikaners per geslag oor die laaste dekade. Merkbaar is die afname in lewensverwagting vir beide geslagte tussen 2001-2005 en dan weer die verbetering tussen 2006-2011. Volgens 'n nota by die vrystelling, meld Statistiek Suid-Afrika dat die verbetering tussen 2006-2011 gedeeltelik toegeskryf kan word aan die verspreiding ("rollout") van anti-retrovirale middels (StatsSA2011(b):5).

 

 

Projeksies van lewensverwagting oor die volgende 10 na 15 jaar (tot 2025) wissel wesenlik na gelang van die instelling wat die raming maak. Die Aktuariële Vereniging van Suid-Afrika (ASSA) en die IFR se lewensverwagtingskatting vir 2010 is onderskeidelik 58,2 en 50,8 jaar en hul projeksies toon beide 'n toename in lewensverwagting teen 2025 na onderskeidelik 59,1 en 51,3 jaar.

Daar is wesenlike verskille tussen die verwagtings vir die verskillende bevolkingsgroepe. Hou in gedagte dat veral die swart (Afrikane) bevolking 'n swaargewig in die totale mandjie is en enige verskille in dié kategorie dus 'n betekenisvolle effek op die totale syfer sal hè. Nog voor 'n analise van die aftreevoorsiening vir Suid-Afrikaners gemaak word, skets die verskille tussen lewensverwagting van die verskillende rassegroepe in Suid-Afrika reeds 'n kritieke vraagstuk sover dit voorsiening vir aftrede betref.

4.2 Suid-Afrikaners se aftreebeplanning

'n Bekende finansiële diensteverskaffer maak die volgende stelling op hul webtuiste:

Research has shown that as many as 94% of South Africans do not make sufficient provision to enjoy a comfortable retirement. As a result, they need to continue working in their retirement years, or depend on family members for support (www.liberty.co.za).

Alhoewel daar geen bronverwysing vir die navorsing is nie, en daar onsekerheid is oor hul definisie van "comfortable retirement", laat dit tog 'n beklemmende gevoel by die leser.

Indien data rakende huishoudings se spaarpatrone in die geheel ontleed word, lyk die groter prentjie kommerwekkend. Huishoudings se spare in verhouding tot hul besteebare inkomste het vanaf +4,2% in 1993 tot vlakke van onder nul (negatief) teen 2006 afgeneem. Dit beteken huishoudings was in werklikheid ontspaarders (www.resbank.co.za).

'n Blik op huishoudings se "balansstaat" skep 'n rooskleuriger prentjie sover dit voorsiening vir aftrede aangaan, alhoewel daar steeds 'n paar kommerwekkende tendense is. Navorsing toon dat finansiële bates in 2011 sowat 69,9% van huishoudings se bates uitgemaak het, teenoor die 30,1% van niefinansiële bates (insluitend residensiële geboue) (Momentum/Unisa 2011:12). In die finansiële batekategorie is dit die onderafdeling van uittreefondse en langtermynversekeraars (36,6% van die totale bates) wat die swaarste gewig dra. Ten spyte van aftreefondse en langtermynversekeraars se prominente posisie, het die afdeling wel ietwat veld verloor gedurende die laaste dekade, vanafsowat 40,5% in 2000, tot 36,6% in 2011.

 

Figuur 5

 

Dieselfde navorsing toon dat aftrekkings (bv. inkomstebelasting, maatskaplike bydraes (UIF) en rentebetalings) vanaf huishoudelike inkomste sowat R632 miljard in 2011 beloop het. Gedurende 2011 het hierdie aftrekkings met slegs 2% (jaar-tot-jaar) toegeneem, wat heelwat laer is as die toenames wat in 2006 (15%) en 2008 (25%) gemeet is. Die verslag skryf hierdie tendens toe aan laer rentebetalings asook laer bydrae aan maatskaplike bydraes.

As gevolg van die laer toename in aftrekkings, het nominale inkomste beskikbaar vir uitgawes en spare met 10,4% in 2011 teenoor 2010 se syfer toegeneem. Alhoewel mens sal dink dat hierdie tendens huishoudings se spare (insluitend vir aftrede) sou aanwakker, was dit nie die geval nie. 'n Kommerwekkende rede hiervoor is dat die gedeelte wat huishoudings aan belastings op inkomste en winste moet betaal, gestyg het vanaf ongeveer 35% van totale aftrekkings in 2006 tot 40% teen 2011. In teenstelling hiermee het maatskaplike versekering-tipe bydraes vanaf 30% van totale aftrekkings in 2006 tot 27% in 2011 gedaal. Die effek van die laer rentekoerse is ook duidelik in soverre rentebetalings as persentasie van die totale aftrekkings vanaf 19% in 2006 tot 15% in 2011 afgeneemhet.

 

Tabel 7

 

In antwoord op bogenoemde maak Momentum/Unisa die stelling dat: " ... alhoewel huishoudings se inkomste verbeter het sedert die resessie van 2008/09, dit hoofsaaklik is as gevolg van laer rentebetalings en verlaagde bydrae aan sosiale versekeringskemas. Dit beteken dat hoër rentekoerse 'n skielike ("immediate") negatiewe effek op huishoudings se beskikbare inkomste sal hê, terwyl die laer bydrae aan sosiale versekering die kwesbaarheid van huishoudings se toekomstige finansiële posisie verhoog ..." (Momentum/Unisa 2011:4-5, 12).

Old Mutual het onlangs hul "Retirement Monitor" vrygestel onder die subtitel "insight into the retirement provisions of working South Africans". Die monitor ontleed voor-aftrede persepsies van werkende Suid-Afrikaners, spesifiek hul vertroue in hul voorsienings vir aftrede. Die 2011 verslag is saamgestel uit 1 005 onderhoude met voltyds-werkende individue, tussen 18 tot 64 jaar oud wat in metropolitaanse gebiede woonagtig is. Persoonlike inkomste wissel tussen "minder as R3 000" tot "R40 000" per maand, waarvan meeste respondente in die kategorie "R3 000-R11 999" per maand (58%) geval het. Daar is ook goeie verteenwoordiging tussen ouderdom, ras en geslag.

Paar interessante bevindings uit die verslag sluit o.a. in:

Tevredenheid met die huidige stand van aftreevoorsienings was gematig op 5,8 op 'n skaal van 1 tot 10. Dit was wesenlik hoër onder fondslede (6,6) as niefondslede (4,9) ongeag inkomstevlak;

Slegs 23% van respondente kon 'n raming van die randwaarde van hul aftreefonds gee, alhoewel die raming skerp toegeneem het volgens inkomste;

58% verwag om aan te hou werk na formele aftrede (44% fondslede en 72% niefondslede) en die meerderheid skryfdit toe aan finansiële noodsaak eerder as keuse; en

Gemiddeld het respondente gevoel dat aftreespare hulle vir 14,2 jaar sal moet hou. Daar is egter 'n direkte korrelasie gevind tussen inkomstevlakke en die verwagte tydperk. So bv. verwag persone in die "onder R3 000" kategorie, 12,0 jaar, terwyl persone in die "R40 000+" kategorie, 17,9jaar verwag (Old Mutual 2011).

Hierdie ontleding toon dat middelklas Suid-Afrikaners nie net geneig is om té min vir aftrede te spaar nie, maar dat hul spaarvermoë waarskynlik weens 'n hoë belastinglas onder druk is. Daar word ook ernstige wanpersepsies oor afreevoorsiening uitgewys. Voorts is arm Suid-Afrikaners glad nie in 'n posisie om te spaar nie, en sal hierdie groep van sosiale toelaes afhanklik bly.

 

5. SLOTOPMERKINGS

Soortgelyk aan talle ander lande, het Suid-Afrika ook ernstige armoedeprobleme wat tot lae lewensgehalte en lewenstandaarde bydra. Tussen 1996 tot 2010 het absolute armoede as persentasie van die bevolking afgeneem vanaf 12,1% van die totale bevolking in 1996 tot 5,0% in 2010. Oor dieselfde tydperk het relatiewe armoede slegs 'n marginale daling vanaf 40,6% van die totale bevolking in 1996 tot 39,9% in 2010 getoon. 'n Waarskynlike verklaring is dat die welsynstoelae ("social grants") van die staat daarin kon slaag om mense uit absolute armoede te lig, maar nie noodwendig uit relatiewe armoede nie.

Inkomsteverdeling in Suid-Afrika het sedert 1993 slegs marginaal verbeter soos gemeet aan die Ginikoëffisiënt wat lesings van 0,67, 0,68 en 0,66 in onderskeidelik 1993, 2000 en 2008 aantoon. Die feit dat die Ginikoëffisiënt slegs marginaal gedaal het, is kommerwekkend, veral in die lig van die staat se talle pogings om alle landsburgers op 'n meer gelyke voet, sover dit die verdeling van inkomste betref, te plaas.

Die aantal persoonlike belastingbetalers het van 2008 tot 2012 met gemiddeld 4,4% per jaar toegeneem. Hierteenoor het die aantal toelaes en die koste van die toelaes wat uitbetaal word met gemiddeld 5,3% en 10,4% oor die ooreenstemmende tydperk gestyg. Hierdie vergelykings laat ernstige vrae oor die volhoubaarheid van hierdie items oor die langtermyn ontstaan.

Navorsing toon aan dat die Suid-Afrikaanse populasie tekens van veroudering begin toon. Teen 2010 het daar reeds sowat 5,6% van die Suid-Afrikaanse populasie in die kategorie van 65+ jaar oud geval, wat Suid-Afrika dus gemaklik in die kategorie van "volwasse/intermediêr" plaas. Verdere projeksies deur die IFR toon aan dat teen 2020 daar 7,6% van Suid-Afrika se populasie ouer as 65+jaar oud kan wees, wat dus 'n herklassifikasie na "oud" sal regverdig. Dit plaas 'n toenemende verantwoordelikheid vir voldoende aftreevoorsiening op veral middelklas Suid-Afrikaners. Hierdie groep moet hul marginale verbruik- en bestedingsgeneigdheid gedurende hul werksloopbane hersien om dalende lewenstandaarde en lewensgehalte na aftrede te voorkom. Op hierdie wyse kan hierdie groep bydra tot die behoud van lewenstandaard en lewensgehalte van 'n groot groep ouer-wordende Suid-Afrikaners.

Hoë vlakke van ongelykheid en armoede is 'n wêreldwye probleem, wat veroorsaak dat lewenstandaarde wesenlik tussen lande, maar ook binne lande verskil. Die geskiedenis leer ons dat sommige lande dit kon regkry om hulself uit armoede te werk, terwyl ander lande steeds in 'n armoedelokval ("poverty trap") vasgekeer is. Die uitdagings wat lande in die gesig staar in hul pogings om aan die armoedelokval te ontkom, impliseer dat navorsing oor armoedeverligting op nasionale en internasionale vlak bydra tot ons insig oor die vordering (al dan nie) met die verbetering van lewensgehalte en lewenstandaard. Dit beteken dat lande die voorbeelde van ander lande waar beleidsrigtings suksesvol was, kan volg, om sodoende die internasionale probleem van handhawing en verbetering van lewenstandaarde aan te spreek. Ongelukkig laat Suid-Afrika se benadering ernstige vrae ontstaan oor die benadering wat ter plaatse gevolg word.

 

BIBLIOGRAFIE

2011 Tax Statistics. 2011. A joint publication between National Treasury and the South African Revenue Service. http://www.treasury.gov.za/publications/tax%20statistics/ [11 Julie 2012]         [ Links ].

Banerjee, A. V. & Duflo, Ε.2011. Poor Economics. A radical rethinking of the way to fight global poverty. PublicAffairs.         [ Links ]

Bond, P. 2006. Looting Africa: The economics ofexploitation. Zed books.         [ Links ]

Budget 2012 Highlights. 2012. National Treasury http://www.treasury.gov.za/documents/national%20 budget/2012/guides/Budget%20Highlights%202012.pdf[15 Junie 2012]         [ Links ].

Budget Review 2012. 2012. National Treasury http://www.treasury.gov.za/documents/national%20 budget/2012/review/FullReview.pdf [15 Junie 2012]         [ Links ].

Casale, D. & Posel, D. 2009. Unions and the gender wage gap in South Africa. January 2009. Working Paper v Number 113. University ofKwazulu-Natal.         [ Links ]

Competition Commission. 2012. http://www.compcom.co.za/about-us/ [15 Junie 2012]         [ Links ].

Development Indicators. 2011. The Presidency. March 2012. http://www.thepresidency-dpme.gov.za/ MediaLib//Home/Publications2/Dev%20Ind%20For%20Print%201-83_%2016032012%20print%20to%20cab.pdf [2 Oktober 2012]         [ Links ].

Ecumenical Foundation of Southern Africa (EFSA). 2003. Breaking the grip of Poverty and Inequality in South Africa 2004-2014. Current trends, issues and future policy options. Executive summary coordinated by J.P. Landman. December 2003.http://www.sarpn.org/documents/d0000649/P661-Povertyreport3b.pdf [2 Oktober 2012]         [ Links ].

Estimates of National Expenditure 2012. 22 February. National Treasury. Republic of South Africa. http://www.treasury.gov.za/documents/national%20budget/2012/default.aspx [11 Julie 2012]         [ Links ].

Gordhan, P. J. 2012. 2012 Budget speech by the Minister of Finance. 22 February. http://www.treasury.gov.za/documents/national%20budget/2012/default.aspx [11 Julie 2012]         [ Links ].

Human Development Report 2010. 20th Anniversary Edition. United Nations Development Program (UNDP).http://hdr.undp.org/en/media/HDR_2010_EN_Complete_reprint.pdf [2 Oktober 2012]         [ Links ]

Heintz, J. & Posel, D. 2008. Revisiting informal employment and segmentation in the South African labour market. South African Journal of Economics. Volume 76:1. Maart 2008.         [ Links ]

Kok, P., O'Donovan, M., Bouare, O., & Van Zyl, J. 2003. Post-Apartheid Patterns of Internal Migration in South Africa. HSRC Press.         [ Links ]

Liberty. 2012. http://www.liberty.co.za/our-products/provide-for-my-retirement/Pages/pre-retirement- planning/take-charge-of-your-own-retirement-planning.aspx [15 Junie 2012]         [ Links ].

May, J.2010. Poverty eradication: The South African Experience. 15-17 September 2010, United Nations Conference Centre, Addis Ababa, Ethiopia. http://www.un.org/esa/socdev/social/meetings/egm10/documents/May%20paper.pdf [2 Oktober 2012]         [ Links ].

Mills, G. 2010. Why Africa is poor and what Africans can do about it. Penguin Group.         [ Links ]

Mohr, P. 1998. Economic indicators. University of South Africa. First edition. Unisa press.         [ Links ]

Mohr, P., Fourie, L. en medewerkers. 2008. Economics for South African students. Fourth edition. Van Schaik publishers.         [ Links ]

Momentum/Unisa. 2011. The Momentum household net wealth report: Q4 2011. Study conducted in collaboration with UNISA's Personal Finance Research Unit and the Bureau of market research. http:// www.moneyweb.co.za/mw/action/media/downloadFile?media_fileid=15098 [17 September 2012]         [ Links ]

Old Mutual. 2011. Old Mutual Retirement Monitor 2011 - Insights into the retirement provisions of working South Africans. http://www.oldmutual.co.za/RetirementMonitor [15 Junie 2012]         [ Links ].

Padayachee, V. 2005. The South African Economy. 1994-2004. Social Research. 72:3 549-580.         [ Links ]

Statistics South Africa. 2011(a). Quarterly Labour Force Survey. Quarter 4, 2011. Statistical release P0211.http://www.statssa.gov.za/publications/statsdownload.asp?PPN=P0211&SCH=5153 [11 Julie 2012]         [ Links ].

Statistics South Africa. 2011(b). Mid-year population estimates Statistical release P0302. http://www.statssa.gov.za/publications/statsdownload.asp?PPN=P0302&SCH=4986 [11 Julie 2012]         [ Links ].

South African Institute of Race Relations (SAIRR). 2011(a). Employment and Incomes 2010/2011 South African Survey.http://www.sairr.org.za/services/publications/south-africa-survey/south-africa-survey-online-2010-2011/employment-and-incomes [15 Junie 2012]         [ Links ].

South African Institute ofRace Relations (SAIRR). 2011(b). Demographics. 2010/2011 South African Survey. http://www.sairr.org.za/services/publications/south-africa-survey/south-africa-survey-online-2010-2011/demographics [15 Junie 2012]         [ Links ].

Studies in Poverty and Inequality Institute. 2009, Can Government Policies Be Said to Be Pro-poor? An Exploration of Policy Working Paper No. 4. September 2009. http://www.spii.org.za/agentfiles/434/file/Documents/Poverty%20Auditfinal.pdf [2 Oktober 2012]         [ Links ]

Terreblanche, S.J. 2002. A history of inequality in South Africa. University of Natal Press.         [ Links ]

Terreblanche, S.J. 2012. Lost in transformation: South Africa's search for a new future since 1986. KMM Review Publishing Company.         [ Links ]

Todaro, M.P. & Smith, S.C.2011. Economic Development. Eleventh edition. Addison Wesley.         [ Links ]

Triegaardt, J. D. 2005. The child support grant in South Africa: a social policy for povery alleviation? International Journal of Social Welfare. Oktober 2005. Volume 14, uitgawe 4.         [ Links ]

Vermaak, C. 2012. Tracking poverty with coarse data: evidence from SouthAfrica. The Journal of Economic Inequality. Junie 2012. Volume 10. Uitgawe 2.         [ Links ]

Valodia, I. 2007. Informal employment in SouthAfrica. HSRC Research Report. HSRC Press.         [ Links ]

Wills, G. 2009. South Africa's informal economy: A statistical profile. Wiego Working Paper No. 61. April. [www.wiego.org]         [ Links ].

 

 

FANIE JOUBERT is 'n senior dosent in die Departement Ekonomie aan die Universiteit van Suid-Afrika (Unisa). Hy begin sy loopbaan in 2005 as junior dosent by die Universiteit van Pretoria en is daarna na die privaatsektor waar hy nader kennis gemaak het met finansiële markte as ekonoom van die Efficient Group. Sedert 2011 is hy deeltyds betrokke as ekonomiese raadgewer by Third Circle Batebestuurders waar hy die geleentheid het om sy passie vir beleggings asook die finansiële adviesbedryf te kan uitleef. In sy navorsing fokus hy op verskeie ekonomiese velde insluitend inflasie, demografie, volhoubare ontwikkeling en die finansiële markte.

FANIE JOUBERT is senior lecturer in the Department of Economics at the University of South Africa (Unisa). His career started in 2005 as junior lecturer at the University of Pretoria followed by a stint in the private sector where he made closer contact with financial markets as economist at the Efficient Group. Since 2011, he has been employed as part-time economic advisor to Third Circle Asset Management where he has the opportunity to focus on his passion for investments and the financial advice industry. His research focuses on various economic fields including inflation, demographics, sustainable development and financial markets.

 

 

JANNIE ROSSOUW is professor in die Departement Ekonomie aan die Universiteit van Suid-Afrika (Unisa). Gedurende sy professionele loopbaan was hy Hoof van Betaalmiddelebestuur van die Suid-Afrikaanse Reserwebank, dosent aan die Universiteit van Pretoria asook ekonoom van die Afrikaanse Handelsinstituut. Hy het studeer aan die Universiteit van Pretoria en verwerf die M.Com (Ekon) en MBA grade, asook 'n PhD-graad aan die Universiteit van KwaZulu-Natal. Sy navorsing fokus op monetêre ekonomie en inflasie, asook die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG).

JANNIE ROSSOUW is professor in the Department of Economics at the University of South Africa (Unisa). During his professional career he was Head of Currency Management of the South African Reserve Bank, lecturer at the University of Pretoria as well as economist of the "Afrikaanse Handelsinstituut". He studied at the University of Pretoria where he obtained the degrees M.Com (Econ) and MBA, and obtained his PhD degree from the University of KwaZulu-Natal. His research focuses on monetary economics and inflation, as well as the Southern African Development Community (SADC).

 

 

1 Hierdie artikel is gebaseer op 'n referaat wat by die Suid-Afrikaans Akademie vir Wetenskap en Kuns se 2012 Simposium gelewer is. Die outeurs bedank graag anonieme keurders vir hul kommentaar op die artikel wat tot die verbetering daarvan bygedra het, maar enige foute of weglatings bly die outeurs se verantwoordelikheid.
2 Sien byvoorbeeld Bond (2006), Casale & Posel (2009), May (2010), Padayachee (2005), Terreblanche (2002), Terreblanche (2012), Triegaardt (2005) en Vermaak (2012).
3 Sien byvoorbeeld Heintz & Posel (2008), Kok et al. (2003), Valodia (2007) en Wills (2009).
4 Let daarop dat hierdie perk van tyd tot tyd aangepas word. Die literatuur verwys byvoorbeeld na VS,00 of VS,25 per dag wat ook as maatstafgebruik word.
5 Hierdie syfer sluit niebelasting inkomstes asook SA Doeane Unie oorbetalings uit.
6. 5.02% indien StatsSA se mid-year population estimates, 2011 gebruik word. Bron: StatsSA (2011(b)).

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License