SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.53 número1Totius and the standardisation of early modern Afrikaans verbsLiving standards: An economic perspective on quality of life in South Africa índice de autoresíndice de assuntospesquisa de artigos
Home Pagelista alfabética de periódicos  

Serviços Personalizados

Artigo

Indicadores

Links relacionados

  • Em processo de indexaçãoCitado por Google
  • Em processo de indexaçãoSimilares em Google

Compartilhar


Tydskrif vir Geesteswetenskappe

versão On-line ISSN 2224-7912

Tydskr. geesteswet. vol.53 no.1 Pretoria Mar. 2013

 

NAVORSINGS- EN OORSIGARTIKELS RESEARCH AND REVIEW ARTICLES

 

Die belang van Niklas Luhmann vir kommuni-kasieteorie. 'n Inleidende interpretasie.

 

An introduction and interpretation of Niklas Luhmann's theorising from within communication theory as a field

 

 

Corné Davis

Departement Strategiese Kommunikasie, Universiteit van Johannesburg E-pos:cdavis@uj.ac.za

 

 


OPSOMMING

Niklas Luhmann word gehuldig as een van die mees fassinerende sosiale teoretici van die 20ste eeu, hoewel geen van sy werke nog binne kommunikasieteorie as 'n studieveld bespreek is nie.
Sommige van die radikale stellings wat hy maak, soos dat menslike individue glad nie kan kommunikeer nie, kan dalk verklaar hoekom selfs die mees welbekende teoretici in die veld soos Craig (1999; 2007), Littlejohn en Foss, en Miller (2009) van sy teoretisering wegskram. Die artikel werp 'n blik op Luhmann se intellektuele agtergrond en poog om twee van sy verwarrende aannames te verduidelik, naamlik dat slegs kommunikasie kan kommunikeer en dat kommunikatiewe sisteme totaal en al geslote is. Uiteindelik word sosiale outopoiëse beskryf as 'n moontlike teoretiese raamwerk vir toekomstige studies in kommunikasieteorie as 'n veld.

Trefwoorde: Kommunikasieteorie, Niklas Luhmann, sosiale outopoiëse, operasionele geslotenheid, funksionele differensiasie


ABSTRACT

Niklas Luhmann has been hailed one of the most fascinating social theorists of the 20th century. His theorising encompasses a broad range of disciplines such as sociology, law, mass media, religion, love, administration, and several others. Most of his approximately 400 journal publications and 50 books have not yet been translated from German into English. Although his work has been discussed extensively by key German-speaking sociologists, his theorising has only recently been applied in other social scientific fields, such as organisational communication, philosophy, and journalism. While the central debate in communication theory has revolved around communication theory not yet being a unified field (Craig 1999; 2007; Russill 2005), Luhmann (1981; 2002) shifts the focus towards the definition of communication itself. Yet his theory of social autopoiesis with communication at its core has not yet been discussed even by the leading communication theorists such as Craig (1999; 2007), Griffin (2011), or Littlejohn and Foss (2011). It may not be surprising that communication scholars seem to ignore Luhmann's theorising when he makes a statement such as: "Human beings cannot communicate; not even their brains can communicate: not even their conscious minds can communicate. Only communication can communicate" (Luhmann 2002:169). This paper presents a brief introduction to and interpretation of Luhmann's theorising about communication in an attempt to clarify some ofthe confusion that seems to surround his work. Itprovides a short overview of his intellectual background and focuses on two particular theoretical challenges in his theorising: 1) that communication systems are completely closed, and 2) that only communication can communicate. Operational closure is described as a concept that was developed within second-order cybernetics by Von Foerster (1970) within a constructivist epistemological framework. Luhmann's social system theory describes society as differentiated by autopoietic operationally closed systems that have evolved over time. He draws a clear distinction between structural functionalism and functional differentiation and offers an explanation for why, in his opinion, social theory has been unable to resolve society's problems. Luhmann's social system theory, based on the biological theory of autopoiesis developed by Maturana and Varela (1980), explains that social systems create themselves through communication and nothing but communication. Luhmann (1986; 1995; 2002) argues that communication comes about through the unity of the synthesis of three selections: information, utterance, and understanding, driven by expectation as a fourth selection. He contends that since there is no explanation for how individuals create communication, and no evidence that understanding is accomplished, communication is an auto poietic process that, in other words, creates itself, and creates social systems in such a process. His exclusion of human action in his theory of communication is controversial and contentious. A closer analysis of his theorising reveals that it resonates well with the theory of the coordinated management of meaning1 and also with Cilliers's (1998) theorising on complexity. According to Luhmann (1981; 1995) language creates the illusion that people understand each other; he argues that communication itself can be the only unit of analysis. The article concludes that Luhmann's theorising should not be dismissed by communication scholars, and that some of his provocative claims should be explored. While it remains unlikely that communication theory will become a unified field, Luhmann's approach may spark some fruitful conversation.

Key words: Communication theory, Niklas Luhmann, social autopoiesis, operational closure, functional differentiation


 

 

INLEIDING

Kommunikasieteorie as 'n studieveld is 'n samevoeging van teorieë en begrippe vanuit verskeie studievelde en denkrigtings. Die bekendste en mees onlangse tekste wat handel oor kommunikasieteorie, soos Littlejohn en Foss (2011), Griffin (2011), en Miller (2009), pas Craig (1999) se taksonomie van kommunikasie toe wat kommunikasieteorie volgens doelwitte en toepassings in sewe tradisies van kommunikasie klassifiseer, naamlik die semiotiese, kubernetiese, sosiokulturele, sosiopsigologiese, fenomenologiese, kritiese en retoriese tradisies. Binne elk van hierdie tradisies word kommunikasie omskryf volgens die spesifieke fokus en doelwit van 'n studie. Dance (1970) lewer 'n uitvoerige ontleding van 95 definisies van kommunikasie wat verskeie fokuspunte in kommunikasiestudies aantoon. Die diversiteit van die onderwerpe in kommunikasieteorie was reeds voor die hand liggend na aanleiding van die klemverskuiwings tussen onderwerpe wat Dance (1970) uitgelig het, soos byvoorbeeld simbole, begrip, vermindering van onsekerheid, prosesse, transmissie, koppeling, stimuli, tyd en konteks, of mag.

Die heersende debat behels nie 'n poging om 'n enkele definisie van kommunikasie te bied nie, maar eerder om samehang in die studieveld te bewerkstellig. Kommunikasieteoretici aanvaar dus as vertrekpunt dat kommunikasieteorie nog 'n onsamehangende studieveld is (Craig 1999).2 Die uitdaging wat dit aan kommunikasieteoretici stel, is dat daar toenemende betrokkenheid by en interaksie met belangrike sosiale doelwitte, vraagstukke en kontroversies moet wees ten einde die spanningspunte wat skeiding tussen dissiplinêre tradisies, spesialisering en verskillende metodologieë veroorsaak, te oorbrug. Daarom is dit belangrik dat kommunikasieteoretici voortdurend die sosiaal-teoretiese landskappe fynkam in 'n poging om teoretiese konsepte te identifiseer wat kan bydra tot die herkenning van raakpunte vir gesprekvoering. Dit is met inagneming van dié doel dat hierdie bespreking rondom Niklas Luhmann (1927-1998) se sosiale sisteemteorie wat kommunikasie as sentrale element veronderstel, wentel. Die gebruik van Luhmann se invalshoek fokus die debat binne sosiale wetenskappe weer op die definisie van kommunikasie, met dien verstande dat Luhmann op sigself, volgens Moeller (2012), nie 'n pragmatiese oogmerk het om sosiale vraagstukke en probleme op te los nie.

Alhoewel Luhmann as een van die belangrikste sosiale teoretici in die twintigste eeu beskou word,3 is sy teoretisering van kommunikasie nie genoegsaam verken nie en dus feitlik onbekend binne die tradisionele grense van kommunikasieteorie as studieveld. Sy eerste publikasie wat in Engels (1981) verskyn het en in een van die mees prominente kommunikasievaktydskrifte (1992) opgeneem is, bevraagteken die waarskynlikheid van kommunikasie. Op 'n onbedoelde en ironiese wyse onderskraag dit Craig (2007, 1999) se waarneming dat kommunikasieteoretici mekaar ignoreer. 'n Skynbare gebrek aan kommunikasie tussen kommunikasieteoretici rakende Luhmann se teoretisering, is waarskynlik verdedigbaar deur te wys op Luhmann se provokatiewe aannames rakende kommunikasie. Byvoorbeeld, Luhmann (2002) beweer dat sy teorie van kommunikasie heeltemal nuut is; dat individue glad nie kan kommunikeer nie; en dat alle kommunikasie riskant en doelloos is (Luhmann 2002). Die stellings laat waarskynlik vele kommunikasieteoretici se nekhare rys en kan redes verskaf waarom Luhmann grootliks deur kommunikasieteoretici geïgnoreer word.

 

'N OORSIG VAN LUHMANN SE INTELLEKTUELE AGTERGROND

Luhmann,4 'n toonaangewende voorstander van 'n nuwe sisteemteorie, het gedurende sy akademiese loopbaan meer as 400 artikels en 50 boeke gepubliseer waarvan die meeste nog nie in Engels vertaal is nie. Seidl en Becker (2006:10) beskryf Luhmann as een van die mees verbeeldingryke en fassinerende sosiale teoretici. Hulle plaas hom binne dieselfde liga as Bourdieu, Giddens, Foucault en Habermas. Luhmann se teoretisering sluit baie onderwerpe in, soos politiek, die reg, teologie, filosofie, pedagogiek, literatuur, mediastudies, kuns, liefde, en waarskynlik vele ander wat na vore sal tree wanneer meer vertalings van sy werk in Engels verskyn.

Sy kontroversiële weergawe van sosiale sisteemteorie (met kommunikasie as die kern), wat hier uitgelig word, het op die gebied van sosiologie ontwikkel. Luhmann beveel aan dat sisteemteorie alle verwysings na rolspelers en hul selfinterpretasies moet skrap. Hy redeneer dat konseptueel "rolspelers" en "selfinterpretasies" reeds ingesluit is by die siening van die "omgewing" van ander sisteme (Alan & Bohman 1998:3). Dit is juis dié sienswyse in Luhmann se teoretisering wat polemiek ontlok. Soos later uiteengesit word, voer Luhmann (1986; 1995; 1996; 2002) aan dat sosiale (sub)sisteme en dus die (supra)samelewingsisteem deur kommunikasie self, as n ekologiese proses, geskep word en nié deur 'n individu of individue nie. Tog bestaan daar 'n skynbaar inherente teenstrydigheid, gegewe die feit dat Luhmann op sigself vanuit 'n posisie as "'n individu" hierdie aansprake maak. Daarmee tesame verwys hy deurlopend na die persepsies en handelinge van individue as deelnemers.

Nog 'n aanvegbare stelling, wat moontlik 'n teoretiese pessimisme of selfs nihilisme uitbeeld, word in die volgende aangetref:

We have to come to terms, once and for all, with a society without human happiness and, of course, without taste, without solidarity, without similarity in living conditions. It makes no sense to insist on these aspirations, to revitalize or to supplement the list by renewing old names such as civil society or community. (Luhmann in Moeller 2012:i)

Luhmann stel dit dat die sosiale sisteemteorie die funksionalistiese weergawe van sosiale integrasie van norme vervang met die anonieme integrasie van interafhanklike dele en gehele wat generies toepaslik op alle vlakke van sosiale analise kan wees (Moeller 2006). Alan en Bohman (1998:3) gaan voort deur te wys op Luhmann se ontkenning dat moderne samelewings, in die sin van Parsons se funksionalisme, geïntegreerd is. Volgens Luhmann bestaan daar geen sentrale organiserende sisteem (soos staat of samelewing) nie, maar eerder interafhanklikheid tussen verskillende funksionele sisteme.

Luhmann se teorie van sosiale outopoiëse, wat deur selfskeppendheid gekarakteriseer word, is gegrond op Maturana en Varela (1980) se biologiese teorie van outopoiëse. Die begrip "selfskeppende sisteme" is reeds in die 1970's ontwikkel in Von Foerster5 se konsep "tweede-ordekubernetika" (Umpleby 2005). Luhmann se ontwikkeling van die konsep "sosiale outopoiëse" het debat ontlok omdat Maturana en Varela (1980) nie saamstem dat outopoiëse 'n sosiale teorie kan wees nie.6 Hierdie konseptuele debat en besprekings wat daarom wentel, word nie verder in hierdie artikel bespreek nie. Luhmann se bekendstelling van sy teorie vind plaas in Geyer en Van der Zouwen se Sociocybernetic paradoxes: observation, control and evolution of self-steering systems (1986) waarin hy kommunikasie soos volg beskryf:

Social systems use communication as their particular mode of autopoietic reproduction. Their elements are communications which are recursively produced and reproduced by a network of communications and which cannot exist outside of such a network. Communications are not 'living' units, they are not 'conscious' units, they are not 'actions'. Their unity requires a synthesis of three selections: namely information, utterance, and understanding (including misunderstanding). This synthesis is produced by the network of communication, not by some kind of inherent power of consciousness, or by the inherent quality of information. (Luhmann 1986:174)

Selfskeppende (outopoiëtiese) sisteme kan slegs gedefinieer word aan die hand van hul "kompleksiteit" en "operasionele geslotenheid". 'n Inleidende illustrasie van "operasionele geslotenheid" is dat iemand nie in iemand anders se kop kan dink nie. Anders gestel, die prosessering van insette (voedsel, inligting, ens.) kan slegs binne operasioneel geslote sisteme plaasvind. Op die sosiale sisteemvlak word geslotenheid bepaal deur die waarnemer, in die geval van n enkele individu, sowel as die gelyktydige en interpenetrerende waarnemings, in die geval van individue, wat plaasvind. Soos Nassehi (2005:179)7 dit verwoord:

Luhmann's theory is interested in understanding how events that can be attributed to individual actors become meaningful within a process that itself cannot be attributed to individual actors - neither to one actor, nor to a number of actors. Systems theory in that sense is not a macro theory, and it is not a micro theory either. It rejects the distinction between micro and macro phenomena.

Hierdie artikel steun by tye woordeliks op sommige van Luhmann se stellings en verduidelikings in n poging om voortgesette misverstand en onduidelikheid te vermy, veral omrede sy siening aangaande kommunikasie nog nie vantevore in kommunikasieteorie as studieveld bespreek is nie. Luhmann se teoretisering het in 1995 meer toeganklik geword8 vir onder andere die Anglo-Saksies akademiese wêreld as gevolg van die vertaling van sy mees omvattende werk, Soziale Systeme: Grundrifi einer allgemeinen Theorie (1984) as Social Systems. Dit is onder andere gevolg deur 'npostuum publikasie, Theories of Distinction. Redescribing the Descriptions of Modernity (2002), wat 'n gewysigde weergawe van sy 1992-artikel What is Communication? is. Luhmann se radikale standpunte aangaande kommunikasie word eers in sy latere werke eksplisiet uiteengesit en derhalwe verwys Moeller (2012) na hom as n "Trojaanse perd".

 

TEORETIESE UITDAGINGS IN LUHMANN SE SIENING VAN KOMMUNIKASIE

Luhmann (2002) kritiseer bestaande opvattings oor die begrip kommunikasie en poog om dit met 'n ander weergawe te vervang. Hy beweer, in teenstelling met bestaande opvattings oor die interdissiplinêre aard van die veld van kommunikasie, dat sielkunde en sosiologie (wat soos genoem, teoretiese voedingsbronne van kommunikasieteorie is) as dissiplines apart van mekaar staan. Met ander woorde, psigologiese en sosiale sisteme kan nie geïntegreer word nie. Hy is van mening dat geen navorser in staat is om die hele korpus van kennis in enige van hierdie studievelde te dek nie. Craig (1999:120) stem saam met laasgenoemde stelling ten opsigte van kommunikasieteorie, maar onderstreep die feit dat dissiplinêre samewerking wel noodsaaklik is om aansluitingspunte tussen verskillende studievelde en onderwerpe te vind ter verbetering van die sosiale sisteem. Vanweë Luhmann se gebrek aan soortgelyke pragmatiese doelwitte kan teoretisering volgens sy siening waarskynlik as 'n futiele onderneming gesien word. Moeller (2012) dui aan dat Luhmann die waarde van teorie bevraagteken, aangesien dit tot op hede nie in staat was om sosiale probleme op te los nie. Luhmann poog om deur middel van sy sosiale sisteemteorie 'n verduideliking te bied van waarom teorie nooit in staat sal wees om sosiale probleme op te los nie. Hierdie standpunt word uiteengesit in onderstaande bespreking van outopoiëtiese sosiale sisteme (vgl. figuur 1), die operasionele geslotenheid daarvan en die kommunikasie wat hierdie sisteme skep.

Luhmann (1986:173) se sentrale argument is dat sosiale sisteme as selfskeppend en nielewend beskou kan word. Hy maak woordeliks gebruik van Maturana en Varela (1980) se definisie van lewende biologiese outopoiëtiese sisteme om nielewende sosiale outopoiëtiese sisteme mee te konseptualiseer (Davis 2011). Maturna (in Luhmann 1986:174) se definisie van outopoiëtiese sisteme is:

systems that are defined as unities, as networks of productions of components, that recursively, through their interactions, generate and realize the network that produces them and constitute, in the space in which they exist, the boundaries of the network as components that participate in the realization of the network.

Luhmann (2002:157) skep hiermee 'n ander begrip van kommunikasie wat wegbeweeg van enige verwysing na "lewe" of "bewussyn". In dié verband beskryf hy "psigiese sisteme" as "constituted on the basis of a unified (self-referential) nexus of conscious states" en "sosiale sisteme" as "constituted on the basis of a unified (self-referential) nexus of communications" (Luhmann 1995:59). Soos aangedui in Davis (2011) dring Luhmann daarop aan dat psigiese sisteme (menslike bewussyn) nie in sy definisie van kommunikasie figureer nie. Luhmann se stellings dat 1) sosiale outopoiëtiese sisteme van kommunikasie geheel en al operasioneel geslote is, en 2) slegs kommunikasie kan kommunikeer, word nou onder die loep geneem.

Sisteme van kommunikasie is geheel en al geslote

Operasionele geslotenheid is 'n kernbegrip in Luhmann se sosiale sisteemteorie met die sentrale beginsel dat alle outopoiëtiese sisteme oop sowel as geslote is. Dit is belangrik om die implikasies van operasionele geslotenheid aan te dui, aangesien dit soortgelyke implikasies inhou vir die toepassing van hierdie konsep in kommunikasieteorie. Soos Luhmann (1996:345) dit stel:

If cells, brains, and minds are operationally closed systems, social systems are operationally closed as well. They use communication and nothing but communication to reproduce themselves. They cannot incorporate organic or psychic operations to connect communication with communication. Whatever has to be done by a system has to be done by communication. Communication can talk about, but cannot include and cannot contact, the operations of living and psychic systems.

'n Implikasie van operasionele geslotenheid van sosiale sisteme is die vaagheid wat bestaan ten opsigte van die sistemiese grense wat geskep word. Elke sosiale sisteem bepaal self voortdurend wat hierdie grense vir die sisteem is, of wat binne of buite die sisteem val. Met verwysing na biologiese sisteme verduidelik Moeller (2006) dit soos volg:

That a system produces itself implies that it produces its own boundary between itself and its environment. It practices a closure by producing space - in the case of the biological cell - a membrane. Its autopoietic production consists of its own operational closure. (Moeller 2006:14)

In Luhmann se toepassing van bogenoemde op sosiale sisteme beteken dit dat operasioneel geslote sisteme selfskeppende organismes van kommunikasie bevat, naamlik die individu en/of individue. Hierdie selfskeppende organismes skep kommunikasie binne die sisteem wat die sisteem beide tot stand bring en dit afbaken en sodoende operasionele geslotenheid teweegbring. Kortom, kommunikasie skep die operasionele geslotenheid van sosiale sisteme.

Tog maak die individu en/of individue terselfdertyd deel uit van die "sisteem" sowel as die "omgewing" van die sisteem. Daar bestaan 'n groot mate van oorvleueling of strukturele koppeling of verbinding tussen sosiale sisteme. Ter verduideliking, 'n individu is gelyktydig 'n lid van verskeie sosiale subsisteme, soos die familie, 'n vriendekring, 'n organisasie, 'n provinsie en 'n land. Luhmann (1996) se bespreking van sosiale lidmaatskap en motiewe bevestig dat hy nie daarin slaag om die individu in sy teoretisering uit te sluit nie en dui op die paradoks wat ontstaan in die onderskeid tussen "sisteem" en "omgewing". Wanneer daar uit die verte na die sisteem gekyk word, maak die kompleksiteit van die sisteem dit onmoontlik om die individu en/of individue as 'n eenheid te onderskei. Dit is die handelinge van individue - die "inligting", "uiting" en "begrip" - wat bymekaarkom om die kommunikasie te skep wat op sy beurt die sosiale sisteem skep. Dit lei tot Luhmann se bewering dat sosiale sisteme slegs deur middel van kommunikasie geskep word. 'n Beskrywing van die (operasioneel geslote) funksionele sisteme wat die samelewing skep en herskep, volg ter verheldering van bogenoemde.

Volgens Luhmann (in Moeller 2006)9 het die samelewing ontwikkel in sisteme wat onderskei kan word volgens die funksies wat hul verrig (vgl. tabel 1), naamlik die reg, ekonomie, politiek, wetenskap, religie en ekonomie.10 Luhmann se siening is dat in 'n funksioneel gedifferensieerde sisteem enige kommunikasie nie met enige ander kommunikasie kommunikeer nie (Moeller 2006:32). Byvoorbeeld, ekonomiese kommunikasie kommunikeer met ekonomiese kommunikasie, politieke kommunikasie met politieke kommunikasie, ensovoorts. Ekonomiese transaksies kan dus slegs voortgesit word deur verdere ekonomiese transaksies. Moeller (2006:32) verduidelik dat 'n mens dus nie vir artikels kan betaal met die wet nie, ofwetenskaplike bewyse uit heilige skrifte kan verskaf nie. Hierdie funksionele taksonomie wat deur Luhmann ontwikkel is, dui aan hoe sy sisteemteorie op die makro-perspektief fokus wat aansluiting kan vind by 'n ekologiese kommunikasieteorie.11 Luhmann (1997) verwys na die ineenstorting van die sosialistiese ekonomie wat nie in staat was om ekonomiese inligting in politieke inligting te omskep nie. Waarop dit neerkom is dat, netsoos individue nie ekologiese prosesse kan beheer nie, kan hulle ook nie die kommunikasieprosesse beheer wat binne sulke operasioneel geslote makrosisteme plaasvind nie. So ook kan individue nie die kommunikasie beheer wat hulle in hul eie bewussyn en onderbewussyn skep nie.

Nassehi (2006:180) verduidelik voorts dat:

The functional meaning of systems, therefore, is the appropriation of reduced degrees of freedom which cannot be controlled by the world but only by themselves. As they refer to themselves, the order of systems is the order of recursive processes, based on the present state of a system.

Byvoorbeeld, die Universiteit van Johannesburg, as 'n operasioneel geslote subsisteem, kan binne die funksionele sisteem van opvoedkunde onderskei word. So 'n onderskeid lei daartoe dat die waarneembare kompleksiteit van die operasioneel geslote subsisteem verminder word. Beide Moeller (2006)12 en Cilliers (1998)13 gebruik die voorbeeld van die ekonomiese funksionele sisteem om onderskeidelik operasionele geslotenheid en kompleksiteit te demonstreer. Moeller (2006) dui aan dat individue en hul gedagtes nie n integrale deel vorm van die gebeurtenisse wat in kommunikatiewe episodes plaasvind nie. Die betaling vir 'n item by 'n kasregister wat plaasvind terwyl n individu op sy of haar selfoon kommunikeer terwyl die kassier met n kollega in die winkel gesels terwyl die kontant ontvang word, beteken uiteindelik dat ekonomiese kommunikasie, wat die ekonomiese sisteem skep en in stand hou, plaasvind - ondanks die feit dat dit oorvleueling of verbinding met ander funksionele sisteme behels. Samevattend gestel het die komplekse kernbegrip van operasionele geslotenheid binne Luhmann se sisteemteorie die implikasie dat slegs kommunikasie kan kommunikeer.

Slegs kommunikasie kan kommunikeer

Luhmann (2002:169) beweer: "Human beings cannot communicate; not even their brains can communicate: not even their conscious minds can communicate. Only communication can communicate". Hierdie idiosinkratiese stelling word duideliker wanneer Luhmann (1981) se bewering dat kommunikasie onwaarskynlik is op grond van drie redes, uiteengesit word. Die eerste onwaarskynlikheid is dat een individu verstaan wat n ander bedoel, gegewe die afsonderlikheid van die menslike bewussyn (Luhmann 1981:123-124). Hy sê: "Meaning can be understood only in context, and context for each individual consists primarily of what his own memory supplies". Die tweede onwaarskynlikheid hou verband met die moontlikheid dat kommunikasie die ontvanger kan bereik, met ander woorde dat die kommunikasie meer ontvangers kan bereik as wat in 'n gegewe situasie teenwoordig is. Die derde onwaarskynlikheid is dat kommunikasie suksesvol sal wees. Selfs as die kommunikasie "begryp" word, is daar geen waarborg dat dit aanvaar sal word en dat dit tot verdere kommunikasie sal lei nie.

Hy vat die argument 'n stap verder wanneer hy beweer dat individue glad nie kan kommunikeer nie (Luhmann 2002:170). Hy is van mening dat teoretici nie by magte is om te verduidelik op watter wyse die bewustelike verstand kommunikasie teweegbring nie. Hy ontken geensins dat die menslike verstand wel deelneem aan die skep van kommunikasie nie en erken dat kommunikasie nie kan bestaan sonder die verstand nie (Luhmann 2002:170). Hy argumenteer wel dat die verstand 'n geslote outopoiëtiese sisteem is en dat daar geen direkte verbintenis tussen een verstand en 'n ander kan wees nie. Hy sê dus wat ons waarneem as ooreenstemming bloot n konstruk van die (1992); en Pearce (2009). waarnemer is. Hy voer aan dat die verstand nie kan kommunikeer nie en dat voortgesette kommunikasie eerder toegeskryf kan word aan die menslike verbeeldingsvlug of persepsie dat kommunikasie wel plaasvind. Dit is, volgens Luhmann (2002:170), nie kommunikasie nie.

Dit is op grond van bogenoemde aannames dat Luhmann die uitspraak lewer dat "slegs kommunikasie kan kommunikeer". Hy omskryf kommunikasie as die sintese van drie keuses, naamlik die keuses van "inligting", "uiting" en "begrip" (insluitend wanbegrip) wat deur 'n vierde keuse, naamlik verwagting aangedryf word. Die sinvolheid van Luhmann se definisie van kommunikasie word duidelik wanneer sosiale sisteme, soos reeds aangetoon, as komplekse sisteem begryp word waarbinne en waardeur kommunikasie ook as 'n ekologiese sisteem gesien word. Cilliers (1998:4) verwoord dit goed wanneer hy sê: "Each element of the system is ignorant of the behaviour of the system as a whole, it responds only to information that is available to it locally".

Dit is verstaanbaar dat geen individu kennis kan besit aangaande die totale sosiale sisteem wat wel deur kommunikasie geskep word nie. Terselfdertyd bestaan daar, volgens Cilliers (1998), 'n bewussyn in die element (in dié geval die individu) van die inligting wat in die onmiddellike omgewing teenwoordig is. Wanneer dit dan kom by die eenheid van die keuses van "inligting", "uiting" en "begrip" wat kommunikasie teweegbring, wat sosiale sisteme skep, kan dit slegs die individu wees wat vir die individu hierdie keuses maak. Van naderby beskou, is sosiale sisteme, as nielewend (vgl. figuur 1), nie in staat om begrip te toon of te "begryp" nie. So ook kan sosiale sisteme slegs "begryp" as daar na saamgroeperings van individue verwys word.

Luhmann (2002:155) dring daarop aan dat wanneer daar na individuele denkprosesse of psigiese sisteme verwys word, sulke prosesse slegs binne die domein van sielkunde behandel kan word. Hy argumenteer dat "handeling" en "kommunikasie" twee onversoenbare konsepte is, aangesien die konsepte die teenwoordigheid van n individu met n titel en adres voorveronderstel, waaraan handeling of kommunikasie toegeskryf kan word. Hy stel dit soos volg: "But the concepts of subject or individual function [therein] only as empty formulas for a state of affairs that is in itself highly complex, one that falls under the domain for which psychology is responsible and does not further interest sociologists". Dit word derhalwe duidelik dat Luhmann se beskrywings van kommunikasie verband hou met sy spesifieke sosiologiese vertrekpunt en dat sy teorie nie fokus op kommunikasie wat individuele denkprosesse (psigiese sisteme) insluit nie. Dit beteken egter ook nie dat hy dit uitsluit nie, aangesien hy wel deurlopend in sy besprekings na individuele persepsie, waarneming en selfs handeling verwys (Davis 2011). Dit is van uiterste belang vir die moontlike toepassing van Luhmann se teoretisering binne kommunikasieteorie as n studieveld dat hierdie punt begryp word.

'n Kommunikasieteorie wat kan bydra om begrip van Luhmann se toepassing van kommunikasie op 'n sisteemvlak, te verbeter, is bepaalde skrywers14 se teorie van gekoördineerde bestuur van betekenis.15 Volgens dié teorie kan handeling as inligting en uiting (soos Luhmann daarna verwys) tot verdere handelinge en interpretasie van sulke handelinge lei, wat nie noodwendig verband hou met die oogmerk of begrip van die individue se handelinge nie.

Die teorie van die gekoördineerde bestuur van betekenis gaan van die standpunt uit dat individue in enige kommunikasiesituasie twee dinge doen: 1) hul ken betekenis toe aan die situasie, en 2) hul besluit hoe om in die situasie te reageer. "Begrip" en "betekenis" is twee onskeidbare konsepte wat verenig is in die seleksie van begrip, kortom, begrip skep noodwendig betekenis. As n dosent byvoorbeeld n boodskap van n student ontvang en dit nie beantwoord nie, kan die student verskeie begrippe vorm of nie vorm nie. As die antwoord van besondere belang was, soos in die geval van 'n eksamenuitslag, kan die student "begryp" dat die dosent nie aandag geskenk het aan die boodskap nie, met die "betekenis" dat die dosent die navraag nie belangrik genoeg geag het nie. Aan die ander kant kan die student "begryp" dat die dosent besonder besig is, met die "betekenis" dat hy/sy so gou as moontlik sal antwoord. Hoe dit ook al sy, bepaal die keuse van begrip die betekenis van die kommunikasie, wat dan die verdere kommunikasie of reaksie(s) op die kommunikasie bepaal.

Die moontlike begrip en betekenisse word gemanifesteer deur die keuses van inligting, uiting en begrip wat bewustelik of onbewustelik deur die individu in alle moontlike kommunikatiewe kontekste gemaak word. Luhmann (2002:156) sien hierdie argument in, maar hy stel dit dat handelinge nie kommunikasie is nie wanneer hy sê: "I would like to assert in the face of this that only communication can communicate and that what we understand as 'action' can be generated only in [such] a network of communication". Wanneer daar na "betekenis" gekyk word, moet daar noodwendig gelet word op die medium waardeur bewustelike betekenis toegeken word, naamlik taal. Luhmann (1981:125) voer aan dat taal die illusie skep dat mense mekaar verstaan omdat dit simboliese veralgemenings gebruik wat menslike persepsies verteenwoordig. Taal skep dus die indruk dat individue mekaar verstaan en skep sodoende die brose grondslag vir verdere kommunikasie. Luhmann definieer "betekenis" as die virtualisering en verwesenliking en hervirtualisering en herverwesenliking van moontlikhede. Die moontlike betekenisse is onbeperk aangesien dit binne die operasionele geslotenheid van outopoiëtiese subsisteme in die individu self geskep word. Die koördinasie van handelinge wat tussen individue plaasvind, geskied op grond van die voorveronderstelling van gedeelde betekenis.

Ten spyte van Luhmann se aandrang dat sosiale teorie nie in staat is om sosiale probleme op te los nie en hy daarom eerder poog om 'n verduideliking te bied waarom dit nooit moontlik sal wees nie, kan die moontlikheid van menslike keuse (en per implikasie handeling) wel beklemtoon word aan die hand van die teorie van sosiale outopoiëse. Dit maak die deur oop vir 'n verdere ondersoek na die Luhmann-weergawe van kommunikasie.

 

TEN SLOTTE

Luhmann, as 'n enigmatiese denker, is in die artikel onder die aandag van kommunikasieteoretici gebring. Dit bied 'n inleidende interpretasie van sy siening van kommunikasie deur lig te werp op sy teoretisering van die operasionele geslotenheid van sosiale sisteme en die implikasies daarvan vir kommunikasie wat hierdie sisteme skep. Luhmann se aanname dat menslike individue nie kan kommunikeer nie, is verduidelik aan die hand van sy teorie van sosiale outopoiëse. Sy skynbaar radikale vertrekpunt dat "slegs kommunikasie kan kommunikeer", is met die teorie van die gekoördineerde bestuur van betekenis in verband gebring om aan te dui dat daar aansluitingspunte tussen Luhmann se teorie en kommunikasieteorie bestaan. Dit is te betwyfel of Luhmann se uitsluiting van die psigiese dimensie in die bestudering van kommunikasie aanklank by kommunikasieteoretici sal vind, aangesien dit die toepaslikheid van sy teoretisering in die veld van kommunikasie beperk. Tog kan daar verdere ondersoek ingestel word na Luhmann se konsepte soos: die "toevalligheid" van kommunikasie; "onverskilligheidsones"; kommunikasie en handeling; interpenetrasie; die samelewing en interaksie; "selfverwysing" en rasionaliteit asook die epistemologiese implikasies van sosiale outopoiëse. Die Trojaanse perd versteek dalk eerder bondgenote as teenstanders.

 

BIBLIOGRAFIE

Alan, R. & Bohman, J. 1998. Systems theory in social science, in Routledge Encyclopedia of Philosophy, edited by E. Craig. London: Routledge.http://www.rep.routledge.com/article/R038SECT3 [21 Januarie 2011]         [ Links ]

Baecker, D. 2005. Niklas Luhmann. International Society for the Systems Sciences: Project ISSS. http:// www.projects.isss.org/Main7NiklasLuhmannByDirkBaecker [23 Januarie 2011]         [ Links ]

Bechmann, G. & Stehr, N. 2002. The Legacy of Niklas Luhmann. Society 2002: (January/February). http:// www.infoamerica.org/documentos_pdf/luhmann_02.pdf [22 Januarie 2011]         [ Links ]

Blühdorn, I. 2000. An offer one might prefer to refuse: The systems theoretical legacy of Niklas Luhmann. European Journal of Social Theory 3(3): 339-354.         [ Links ]

Borch, C. 2011. Niklas Luhmann. Abingdon: Routledge.         [ Links ]

Cilliers, P. 1998. Complexity andpostmodernism. London: Routledge.         [ Links ]

Craig,R.T. 1999.Communicationtheoryasafield. Communication Theory 9(2): 119-161.         [ Links ]

Craig, R.T. 2007. Pragmatism in the field ofcommunication theory. Communication Theory 17:125-145.         [ Links ]

Cronen, V.E. & Pearce, W.B. 1992. Grammars of identity and their implications for discursive practices in and out of academe: A comparison of Davies and Harré's views on coordinated management of meaning theory. Research on Language and Social Interaction 25:37-66.         [ Links ]

Cronen, V.E., Pearce, W.B. & Changsheng, X. 1990. The meaning of 'meaning' in the CMM analysis of communication: A comparison of two traditions. Research on Language and Social Interaction 23:1-40.         [ Links ]

Cronen, V.E., Pearce, W.B. & Harris, L.M. 1979. The logic of the coordinated management of meaning: A rule-based approach to the first course in interpersonal communication. Communication Education 28:22-38.         [ Links ]

Dance, F.E.X. 1970. The concept of communication. Journal of Communication 20(2):201-210.         [ Links ]

Davis, C. 2011. A second-order cybernetic explanation for the existence of Network Direct Selling Organisations as self-creating systems. Doctoral dissertation. Unpublished. Pretoria: University of South Africa.         [ Links ]

De Beer, A.A. 2011. Kyk terug na die toekoms: nuusobjektiwiteit en Niklas Luhmann se konsep van die realiteit van die massamedia. Tydskrif vir Geesteswetenskappe 51(4):613-630.         [ Links ]

Griffin, E.2011. A First Look at Communication Theory. 7th Edition. Boston: McGraw-Hill.         [ Links ] Kay, R. 2001. Are organisations autopoietic? A call for a new debate. Systems Research and Behavioral Science 18:461-477.         [ Links ]

Littlejohn, S.W. & Foss, S. 2011. Theories of human communication. Tenth Edition. Belmont Calif: Wadsworth.         [ Links ]

Luhmann, N. 1981. The improbability of communication. International Social Science Journal XXXIII(1):122-132.         [ Links ]

Luhmann, N. 1986. The autopoiesis of social systems, in Sociocybernetic paradoxes: observation, control and evolution of self-steering systems, edited by R.F. Geyer & J. van der Zouwen. London: Sage,pp.172-192.         [ Links ]

Luhmann, N. 1992. What is communication? Communication Theory. Forum: 251-259.         [ Links ]

Luhmann, N. 1993. Risk. A sociological theory. New York: A. de Gruyter.         [ Links ]

Luhmann, N. 1994. "What is the case?" and "What lies behind it?" The two sociologies and the theory of society. Sociological Theory 12(2): 126-139.         [ Links ]

Luhmann, N. 1995. Social Systems. California: Stanford University Press.         [ Links ]

Luhmann, N. 1996. Membership and motives in social systems. Systems Research 13:341-348.         [ Links ]

Luhmann, N. 2002. Theories of distinction. Redescribing the descriptions of modernity. California: Stanford University Press.         [ Links ]

Maturana, H.R. & Varela, F.J. 1980. Autopoiesis and Cognition. The Realization of the Living. Dordrecht: Reidel.         [ Links ]

Miller, K. 2009. Organizational Communication. Approaches and Processes. 5th Edition. Australia: Wadsworth.         [ Links ]

Mingers, J. 2002. Can social systems be autopoietic? Assessing Luhmann's social theory. The Editorial Board of the Sociological Review: 278-299.         [ Links ]

Mingers, J. 2004. Can social systems be autopoietic? Bhaskar's and Giddens' social theories. Journal for the Theory ofSocial Behaviour 34(4):403-407.         [ Links ]

Moeller, H. 2006. Luhmann explained: from souls to systems. Chicago: Open Court.         [ Links ]

Moeller, H. 2012. The radical Luhmann. New York: Columbia University Press.         [ Links ]

Nassehi, A. 2005. Organizations as decision machines: Niklas Luhmann's theory of organized social systems. Sociological Review 53(1):178-191.         [ Links ]

Pearce, W.B. 2009. Communication and social construction: claiming our birthright, in Socially Constructing Communication, edited by W. Leeds-Hurwitz & G. Galanes. Creskill NJ: Hampton.         [ Links ]

Rasch, W. 2000. Niklas Luhmann's modernity. Paradoxes of differentiation. CA: Stanford University Press.         [ Links ]

Russill, C. 2005. "Now back to pragmatism...": Thinking about publics with Bruno Latour. The Communication Review 8:265-276.         [ Links ]

Schoeneborn, D. 2011. Organization as communication: A Luhmannian perspective. Management Quarterly XX(X): 1-27.         [ Links ]

Searle, J.R. 1969. Speech acts: an essay on the philosophy of language. Cambridge: Cambridge University Press.         [ Links ]

Seidl, D. & Becker, K.H. 2006. Organizations as distinction generating and processing systems: Niklas Luhmann's contribution to organization studies. Organization 13(1): 9-35.         [ Links ]

Shkliarevsky, G. 2007. The paradox of observing, autopoiesis, and the future of social sciences. Systems Research and Behavioral Science 24: 323-332.         [ Links ]

Stichweh, R. 2000. Systems theory as an alternative action theory? The rise of 'communication' as a theoretical option. Acta Sociologica 43: 5-13.         [ Links ]

Stichweh, R. 2007. Evolutionary theory and the theory ofworld society. Soziale Systeme 13: 528-542.         [ Links ]

Umpleby, S.A. 2005b. A history of the cybernetics movement in the United States. http://www.gwu.edu/cybernetics/2005_WAS_History_ [6 Januarie 2010]         [ Links ]

Vanderstraeten, R. 2000. Autopoiesis and socialization: On Luhmann's reconceptualization of communication and socialization. British Journal ofSociology 51(3):581-598.         [ Links ]

Verwey, S. & Davis, C. 2011. Sociocybernetics and social autopoiesis - new laws of organisational form? Communicare 30(2):1-26.         [ Links ]

Von Foerster, H. 2003. Understanding understanding: essays on cybernetics and cognition. NY: Springer.         [ Links ]

Woerman, M. & Cilliers, P. 2012. The ethics of complexity and the complexity of ethics. South African Journal ofPhilosophy 31(2):447-463.         [ Links ]

 

 

Corné Davis het haar loopbaan in hoëronderwys in 2001 begin. Haar lesings by Bond Universiteit Suid-Afrika het onderwerpe soos kommunikasie-toerie, massakommunikasie, media, oorreding, retoriese kritiek, en kommunikasienavorsing ingesluit. Sy is vanaf 2006 'n dosent in die Departement van Strategiese Kommunikasie by die Universiteit van Johannesburg. Sy het die grade MA Kommunikasie en D Litt et Phil van onder-skeidelik die universiteite van Johannesburg (UJ) en Suid-Afrika (Unisa) ontvang. Die toepassingsgebied in haar doktorale studie was 'n verklaring vir die bestaan van Netwerk-Direkte-Verkope-Organisasies as self-skeppende sisteme. Haar spesialiteitsgebied is tweede-orde kubernetika en sosiale outopoiëse. Haar huidige navorsing fokus op verdere ontwikkeling van kommunikasieteorie wat die werk van Niklas Luhmann, Heinz von Foerster, Humberto Maturana, en Francesco Varela, onder andere, insluit.

Corné Davis has been involved in higher education since 2001. Her lectures at Bond University South Africa included topics such as communication theory, mass communication, media, persuasion, rhetorical criticism, and communication research. She has been a lecturer in the Department of Strategic Communication at the University of Johannesburg since 2006. Her qualifications are MA Communication (RAU), and D Litt et Phil (UNISA). The field ofapplication in her doctoral study was an explanation for the existence of Network Direct Selling Organisations as self-creating systems. Her areas of specialisation are second-order cybernetics and social auto-poiesis. Her current research focuses on further development of communication theory which includes the work of Niklas Luhmann, Heinz von Foerster, Humberto Maturana, and Francesco Varela, amongst others.

 

 

1 See Cronen, Pearce & Harris's (1979); Cronen, Pearce & Changsheng (1990); Cronen & Pearce (1992); Pearce (2009).
2 Vergelyk Craig (1999; 2007) en Russill (2005).
3 Vergelyk Bechmann & Stehr (2002:67), Blühdorn (2000), Stichweh (2000), Vanderstraeten (2000), Moeller (2006), Shkliarevsky (2007), Borch (2011) en Schoeneborn (2011).
4 Vergelyk http://www.stw_niklas-luhmann-blackwell-companion-to-major-social-theorists.pdf vir 'n volledige biografiese skets van Luhmann. Vergelyk ook Baecker (2005). In The radical Luhmann sluit Moeller (2012) 'n hoofstuk in met die titel "Why he wrote such bad books", wat verskeie lesers kan vermaak.
5 Daar kan hier genoem word dat Luhmann en Von Foerster tydgenote en vriende was wat vir mekaar vraagstukke op hul verjaarsdae gestuur het. Vergelyk Von Foerster (2003).
6 Vergelyk ook Kay (2001), Mingers (2002), en Mingers (2004).
7 Nassehi se siening omtrent makro- en mikroteorie word waargeneem alhoewel die veelvuldigheid van sisteme en subsisteme wat geskep word binne die samelewing dit bykans onmoontlik maak om nie na makro- en mikrovlakke te verwys om sisteme van mekaar te onderskei nie.
8 Vergelyk Verwey en Davis (2011), Verwey en Davis (2012) se komende publikasie Network Direct Selling Organisations: a schismatic perspective; Davis en Crystal (2012) se referaat A Luhmannian perspective towards health communication wat gelewer is op die Academy of World Business and Management Development konferensie; sowel as Davis en Hoffman (2012) se referaat A Luhmannian perspective on organisational theatre as a strategic communication intervention wat op die International Association for Media and Communication Research konferensie gelewer is .
9 Luhmann bespreek funksionele sisteme en operasionele geslotenheid in sy teks Die Gesellschaft der Gesellschaft (1997) wat ten tyde van hierdie navorsing nog nie in Engels beskikbaar was nie. Vergelyk Rasch (2000), Moeller (2006), en Borch (2011).
10 Later verwys Moeller (2006) ook na die massamedia as 'n funksionele sisteem.
11 Luhmann het sy kernargumente oor operasionele geslotenheid reeds in sy boek Ecology of Communication uiteengesit, maar blykbaar het dit nie by daardie standpunt aanklank gevind nie, aangesien nuwe kopieë van hierdie teks nie beskikbaar was ten tyde van die navorsing vir hierdie studie nie.
12 Vergelyk Moeller (2006:6-7) vir 'n bespreking van die operasionele geslotenheid van ekonomiese sisteme.
13 Cilliers (1998:5) verwys nie na operasionele geslotenheid op dieselfde wyse as Luhmann nie, maar sy verduideliking dat die grense van 'n sisteem geskep word deur die posisie van die waarnemer/ navorser kom in baie opsigte ooreen met Luhmann se sosiale sisteemteorie.
14 Vergelyk Cronen, Pearce en Harris (1979); Cronen, Pearce en Changsheng (1990); Cronen en Pearce (2009).
15 Die teorie val binne die kubernetiese tradisie van kommunikasieteorie (Littlejohn & Foss 2011).

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License