SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.53 issue1Representations of violence in Slaghuis (2007) and Skrapnel (2011) by playwright Willem AnkerAn introduction and interpretation of Niklas Luhmann's theorising from within communication theory as a field author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Tydskrif vir Geesteswetenskappe

On-line version ISSN 2224-7912

Tydskr. geesteswet. vol.53 n.1 Pretoria Mar. 2013

 

NAVORSINGS EN OORSIGARTIKELS RESEARCH AND REVIEW ARTICLES

 

Totius en die standaardisering van vroeg-moderne Afrikaanse werkwoorde1

 

Totius and the standardisation of early modern Afrikaans verbs

 

 

Johanita Kirsten

Departement Afrikaans-Nederlands, Skool vir Tale Noordwes-Universiteit, Vanderbijlpark E-pos: Johanita.Kirsten@nwu.ac.za

 

 


OPSOMMING

In Afrikaanse diachroniese taalkunde is daar voorheen grotendeels gefokus op die ontstaans-geskiedenis en vroeë ontwikkeling van Afrikaans uit Nederlands. Deur die loop van die twintigste eeu het 'n tradisie van ondersoek ontstaan wat Kaaps-gekleurde tekste in fyn besonderhede ondersoek het, en die stabilisering van Afrikaans so vroeg as die einde van die agtiende eeu gedateer het. Onlangs het hierdie aanname egter kritiek begin ontvang. Daar is aangetoon dat daar tot in die twintigste eeu nog omvangryke variasie in die Afrikaanse skryftaal in persoonlike briewe was (Deumert 2004), en hierdie studie ondersoek die variasie in gepubliseerde skryftaal. Daar word gefokus op die werkwoord, aangesien die verandering van die Nederlandse na die Afrikaanse werkwoordsisteem omvangryk is. Hierdie studie gebruik korpuslinguistiese ondersoekmetodes, en ondersoek die Nederlands-Afrikaanse variasie in werkwoorde in gepubliseerde Afrikaanse tekste aan die hand van drie korpusse. Die korpusse is saamgestel uit al die Afrikaanse bydraes van Totius (J.D. du Toit) in die publikasie Het Kerkblad van 1916 tot 1922, uittreksels uit gepubliseerde Afrikaanse boeke, en uittreksels uit Afrikaanse tydskrifte. Hierdie data wys dat daar in die vroeg-twintigste eeu nog heelwat Nederlands-gekleurde variasie in Afrikaans was, en die korrelasie tussen die korpusse impliseer dat die skryftaal moontlik nader aan die spreektaal was as wat vroeër aangeneem is. Dit word bevestig deur die aandag wat variasie in normatiewe bronne van die tyd geniet het. Die studie toon ook die rol wat Totius as prominente taalgebruiker gespeel het in standaardisering, en iets meer van die dinamiek van die aanvanklike standaardisering van Afrikaans.

Trefwoorde: Afrikaans, Nederlands, werkwoorde, Totius, korpus, korpuslinguistiek, skryftaal, variasie, norme, standaardisering


ABSTRACT

In the diachronie studies of Afrikaans in the past, the focus used to be on the origin and early development of Afrikaans from Dutch. During the twentieth century the philological school, with a tradition of researching all Cape Dutch flavoured texts in detail, was established through the work of J. du P. Scholtz and his students. Through their analyses, they estimated the stabilisation of Afrikaans to have been as early as the end of the eighteenth century (for example Raidt 1991:145; Ponelis 1994:229). In the past few decades, however, this estimation has begun to receive criticism from other scholars, including Roberge (1994:159) and Deumert (2004:20). With the help of a corpus, Deumert (2004) has shown that there is substantial variation in Afrikaans letters as late as the early twentieth century, and this study expands on her work by researching the variation in published writing in the early twentieth century.
This is done by focusing on verbs, as there is significant change from the Dutch verbal system to the Afrikaans verbal system. This study uses corpus linguistic research methods, and researches Dutch-Afrikaans variation in verbs in published Afrikaans texts, compiled in three corpora. The main corpus was compiled from all the Afrikaans writings of Totius (J.D. du Toit) in the publication Het Kerkblad from 1916 to 1922. Two control corpora are also used: the first was compiled from excerpts from published Afrikaans books for the same period, and the second was compiled from excerpts from Afrikaans periodicals for the same period. In order to compensate for the shortcomings of corpus data alone, normative works on Afrikaans from the relevant period are also taken into account. The study accounts the recommendations made by these works about the relevant constructions, and how the corpus data correlates with these recommendations.

Variation in six verbal constructions is analysed in this study:
1. Final consonant t/n (for example gaat/gaanj: the old (more Dutch) word forms are used infrequently in the corpora, while the modern Afrikaans word forms are almost fully established.
2. Final consonant g (for example seg/sè): the old word forms are also used infrequently in the corpora, while the modern word forms take the lead.
3. Stem vowel (for example breng/bring): the old word forms are more frequent at the beginning of the period, followed by some uncertainty, with the modern word forms being used predominantly by the end of the period.
4. Preterite (specifically had/gehad and werd/geword): there is considerable instability throughout, which is enhanced by a distinction in use between main verbs and auxiliary verbs made by some authors.
5. Past participle (for example gedaan/gedoen): there is significant instability at the beginning of the period, but the modern word forms are used more frequently by the end of the period.
6. Perfect tense auxiliary verb (is/het): the old form is still used in the corpora, but the modern form is more frequent from the beginning of the period, and increases with even further frequency towards the end.

This data shows that there was still significant variation in Afrikaans under Dutch influence as late as the early twentieth century, and the correlation between the different corpora implies that the written language might have been much closer to the spoken language than had been previously assumed. It is further confirmed by the amount of attention this variation gets in the normative works from that period. Furthermore, this study also shows the role that Totius played in the standardisation of Afrikaans as a prominent figure in the language community. It also shows some of the dynamics of early Afrikaans standardisation, with reference to the corpus data and the recommendations made in the normative works of that period.

Key words: Afrikaans, Dutch, verbs, Totius, corpus, corpus linguistics, written language, variation, norms, standardisation


 

 

1. INLEIDING

Wanneer Afrikaans diachronies bestudeer is in die verlede, is daar grotendeels voorkeur getoon vir die ontstaan en vroeë ontwikkeling van die taal. Die vraag hoe die taal van Nederlands na Afrikaans ontwikkel het, is telkens beantwoord met verwysing na taalkontaksituasies en/of semi-kreolisering (Den Besten 2009:234). Die algemeen gehuldigde standpunt dat die ontwikkeling van Afrikaans 'n vroeë aanvang het, het onlangs egter kritiek begin ontvang. Roberge (1994:159) wys deur 'n vergelyking van Louis Tregardt se dagboek met amptelike briewe wat hy geskryf het, dat hy wel by magte was om gangbare Nederlands te skryf, en sy dagboek waarskynlik nader aan die spreektaal was as wat voorheen vermoed is. Deumert kritiseer ook die gevolgtrekking dat die vorming van Afrikaans reeds teen 1750 of selfs 1800 gestabiliseer het, deur te toon dat variasie nog lank daarna bestaan het (Deumert 2004:155). Sy wys op die moontlikheid dat taalverandering daarna nog voortgeduur het, hoewel moontlik teen 'n stadiger pas as wat oorspronklik aangeneem is (Deumert 2004:156). In terme van interpretasie van data in verskeie diachroniese studies van Afrikaans, wat die stabilisering van Afrikaans in die spreektaal graag vroeg dateer, noem Den Besten verder dat die voorkoms van Nederlandse vorme in geskrewe tekste nie noodwendig as Nederlandismes weggedoen behoort te word nie, maar dat daar ook meer konserwatiewe variante in die spreektaal kon bestaan, of dat daar gemengde Nederlands-Afrikaanse variëteite kon wees (Den Besten 2009:235).

Op grond hiervan beveel Den Besten sterk aan: "Onderzoek de archivale data, Vroeg Afrikaans en Vroeg Modern Afrikaans op het punt van 'gemengde' periodes, parallelle constructies, enz." (Den Besten 2009:236).

Voorts, as gevolg van 'n gebrek aan aandag aan meer sistematiese beskrywings van variasie in taalgebruik, het die tradisie voortbestaan wat slegs geïnteresseerd was in wanneer 'n spesifieke taalvorm gevestig is. Die filologiese skool het aangeneem dat 'n nuwe taalvorm wat enigsins in die skryftaal voorkom, reeds gevestig sou wees in die spreektaal, op grond van die aanname dat skrywers hulle skryftaal so na as moontlik aan Nederlands gehou het (Scholtz 1958:61,62; Raidt 1991:116,135). Daar is dus nie besondere aandag geskenk aan variasie in taalgebruik nie, omdat die skryftaal as skribale artefak geïnterpreteer is (Deumert 2004:19), en daar slegs belangstelling getoon is in wanneer 'n vorm enigsins begin voorkom het, en nie die variasie wat daarna steeds in taalgebruik aanwesig was nie. Dit het ook tot gevolg dat die tydperk van die aanvanklike standaardisering van Afrikaans dikwels agterweë gelaat is in navorsing.

In hierdie studie word 'n aantal werkwoordelike parallelle konstruksies in vroeg-moderne Afrikaans ondersoek, spesifiek in die tyd wat standaardisering in momentum begin toeneem het, ten einde beter insig te verkry in die aanvanklike standaardisering van Afrikaans, en hoe variasiereduksie plaasgevind het.

 

2. DIE STANDAARDISERING VAN AFRIKAANS

2.1 Standaardisering

Conradie (2010:69) definieer standaardisering as: "het tot stand brengen van een gecodificeerd boven-dialectisch taalbestand dat geschikt is als schrijftaal en voor andere formele doeleinden". Hierdie opkomende standaardtaal is grootliks die resultaat van doelbewuste linguistiese intervensies en uitbreidings van individuele en kollektiewe bewerkers (Deumert & Vandenbussche 2003b:456-457). Terwyl standaardtale aan taalgebruikers geleer word deur eksplisiete en geïnstitusionaliseerde onderrigpraktyke, word die norme van taalstandaarde hoofsaaklik deur taalgebruikers aangeleer deur blootstelling aan en nabootsing van modeltekste en modelsprekers (Deumert & Vandenbussche 2003b:456). Daaruit word afgelei dat dit ook sinvol kan wees om 'n modelspreker se tekste te ondersoek vir die hantering van sekere verskynsels wat nog nie gestandaardiseer is nie, aangesien die moontlikheid bestaan dat daardie persoon se taalgebruik deur mede-taalgebruikers as goeie voorbeeld nagevolg is.

Haugen (1987:59) het 'n model vir die standaardisering van taal daargestel, wat uit verskillende fases bestaan:

1. normseleksie,

2. normkodifikasie,

3. implementering, en

4. uitbreiding.

Verder stel Deumert en Vandenbussche (2003a:3) dat taalstandaardisering altyd 'n proses van variasiereduksie is. Dit impliseer dat daar keuses gemaak moet word tussen soortgelyke vorme om die nuwe standaard te bepaal. Hierdie keuses word veral gemaak aan die hand van die voorbeeld van vooraanstaande lede van die gemeenskap se taalgebruik, soos wat Tieken-Boon van Ostade (2011:252) aantoon die agtiende-eeuse grammatikus Robert Lowth gedoen het. Normatiewe bronne wat voorbeelde stel en direkte aanbevelings maak oor watter variante verkieslik is, gee ook riglyne vir die maak van keuses tussen variante. Daar word vervolgens 'n oorsig gegee oor die normatiewe bronne wat beskikbaar was tydens die aanvanklike standaardisering van Afrikaans.

2.2 Normatiewe bronne oor vroeg-moderne Afrikaans

Dit is opmerklik dat die meerderheid van die bronne oor Afrikaans of "Cape Ducth" wat voor 1916 verskyn, vir vreemdetaalsprekers geskryf is. Die doel van hierdie boeke is nie om Afrikaans ter wille van die Taal op te hef, te standaardiseer en polities te bevorder nie, maar eerder om die algemene spreektaal op 'n toeganklike wyse aan die vreemdetaalspreker te leer. In wese is hierdie bronne dus eerder deskriptief van oriëntasie as preskriptief. Hierdie bronne dui heelwat wisselvorme en variasie in vorme aan. Daar is soms 'n aanduiding van die konteks wat 'n keuse tussen wisselvorme sou beslis, maar daar is ook heelwat variasie wat aangedui word sonder verdere verduideliking. Dit dui op voortgesette variasie en veranderlikheid vroeg in die twintigste eeu.

In die tydperk van 1916-1922 kan daar 'n groot verandering in die aard en kwaliteit van normatiewe bronne in Afrikaans oor die Afrikaanse taal gesien word, wat nie onverwags is in die lig daarvan dat Afrikaans in skole ingevoer is in hierdie tyd nie (Giliomee 2003:376). Die hantering van grammatikale kwessies is uitgebreid en gaan in heelwat besonderhede in. Selfs die boeke wat vir skoolgebruik geskryf is, toon tekens van sofstikasie en dieper insig in grammatikale kwessies, wat voorheen ontbreek het. Daar word ook uitsprake gemaak oor die gepastheid van sekere taalverskynsels, en of dit bevorder of teengewerk behoort te word. Die aard en doel van hierdie bronne is duidelik gemik op die standaardisering van Afrikaans, die ontwikkeling en daarstel van 'n algemeen gebruiklike Afrikaanse volkstem, en die opheffing van Afrikaans tot die vlak waar dit nie meer as slegs 'n "kombuistaal" gesien sal word nie, maar benut sal word in alle domeine van die publieke lewe.

Tydens die vroeg-twintigste eeu is daar vir die eerste keer gereeld Afrikaanse tekste in koerante en tydskrifte gepubliseer. Lesers en skrywers het dikwels vrae gehad oor watter taalvorme om te gebruik, en vir 'n tyd lank het publikasies die vrymoedigheid geneem om uitsprake hieroor te publiseer. Daar is ook stukke gepubliseer wat handel oor die Afrikaanse taalvraagstuk, en of Afrikaans enigsins as formele skryftaal aangewend behoort te word. Publikasies wat hieraan deelgeneem het, sluit in De Unie, Die Brandwag, De/Die Huisgenoot en Die Banier. Daar is oor die algemeen meer gefokus op groter vrae oor die gebruik van Afrikaans en taalideologie, eerder as spesifeke normeringskwessies; byvoorbeeld, in 1914 publiseer Die Brandwag twee opeenvolgende artikels wat onderskeidelik motiveer waarom Afrikaans nié as skryftaal gebruik behoort te word nie, en waarom wél (Brandwag 1914:734-739), en in 1919 word die kwessie van Afrikaans in die kerk aangespreek in Die Huisgenoot (Huisgenoot 1919:243-245). Wanneer daar wel aandag gegee is aan meer spesifeke sake, het dit hoofsaaklik gehandel oor spellingkwessies aan die hand van vrae wat lesers ingestuur het. Die media het dus 'n meer komplementêre rol gespeel om 'n klimaat te skep waarbinne grammatikas en skoolopvoeding 'n groter invloed kon hê.

 

3. METODOLOGIE

3.1 Korpusse van hierdie studie

Totius was 'n vooraanstaande lid van die Afrikaanse gemeenskap, iemand wat toon aangegee het op verskeie gebiede. In die samestelling van Keur uit die gedigte van Totius skryf C. M. van den Heever in die inleiding oor die groot invloed wat Totius op sy studente en ook die gemeenskap gehad het:

Wat egter opmerklik is, is die feit dat die invloed nie net tot sy studente of Kerk beperk gebly het nie; dit het uitgedy, die hele Afrikanervolk ingesluit, sodat Totius met die verloop van jare een van die mees gesiene en waardigste leiers van sy volk op kulturele en godsdienstige gebied geword het. (Van den Heever 1954?:9)

Roberge (2003:29) huldig Totius saam met skrywers soos Eugène Marais, Jan Celliers, en Louis Leipoldt daarvoor dat hulle "memorialized Afrikaner hardships, heroism, and defeat during this period". Roberge (2003:23) wys verder daarop dat daar tydens die Tweede Taalbeweging 'n generasie van entoesiastiese jong onderwysers, predikante, professore, politici en ander professionele persone was, wat hulle beywer het vir die Afrikaanse taal en die politieke bemagtiging van die Afrikaner, waartoe Totius behoort het.

Tieken-Boon van Ostade wys uit dat in die skryf van vroeë grammatikas van ander tale die taalgebruik van "meerderes" dikwels as model gesien is (Tieken-Boon van Ostade 2011:252). Robert Lowth, byvoorbeeld, was 'n biskop, wat steeds opgesien het na die taalgebruik van sy meerderes in die kerkhiërargie (Tieken-Boon van Ostade 2011:252). In Suid-Afrika was die situasie egter anders. Daar was nie 'n adelstand of baie vooraanstaande Afrikaanse politici om na te volg in taalgebruik nie. Verder was die N.G. Kerk, wat in vele opsigte toonaangewend was in die samelewing, nog sterk pro-Nederlands (Giliomee 2003:378). Binne hierdie konteks het Totius na vore getree as leier van volk en kerk (Gereformeerd), en sy groot aandeel in die vertaling van die Bybel in Afrikaans het hom moontlik 'n gesaghebbende voorbeeld in taalgebruik gemaak. Hy het ook verskeie digbundels gepubliseer, openbare toesprake in teologiese en politieke hoedanigheid gelewer, en dikwels in die media geskryf - hy staan kop en skouers bo sy tydgenote uit wat die omvang van sy taal- en sosiale aansien betref; hierdie studie ondersoek of hy ook op die voorpunt van Afrikaanse taalgebruik was.

Die hoofkorpus wat in hierdie studie gebruik word, is saamgestel uit die Afrikaanse bydraes van Totius in die tweeweeklikse publikasie Het Kerkblad van 1916 tot 1922. Die tydperk is so gekies omdat die eerste Afrikaanse tekste van Totius in Het Kerkblad in 1916 verskyn, en die publikasie in 1922 verander na Die Kerkblad, waarna al die inhoud Afrikaans is, en dit die einde van die oorgangstydperk tussen Nederlands en Afrikaans aandui. Die korpus bestaan uit 158 128 woorde, met tussen 17 000 en 36 000 woorde per jaar (behalwe vir 1922, waaruit net een uitgawe ingesluit is voordat die publikasienaam verander het).

Die taalgebruik van Totius word vergelyk met kontrolekorpusse wat saamgestel is, ten einde vas te stel of hy leiding neem tydens variasiereduksie in die standaardisering van Afrikaans, en of hy meer behoudend was in sy keuses.

Die eerste kontrolekorpus is saamgestel uit gepubliseerde Afrikaanse boeke van verskillende skrywers. Daar is vir elke jaar (1916-1922) tien bronne van verskillende skrywers gebruik, en ongeveer 1 000 woorde uit elke bron is ingesluit. Die korpus se totale woordtelling beloop 73 302. Die tweede kontrolekorpus is saamgestel uit Afrikaanse tekste in tydskrifte uit die betrokke tydperk. Daar is ongeveer 20 000 woorde per jaar ingesamel uit soveel verskillende publikasies as wat beskikbaar was vir die jaar. Die totale woordtelling van die korpus beloop 142 345.

3.2 Korpuslinguistiese metodes van hierdie studie

In hierdie studie word daar van korpuslinguistiese metodes gebruik gemaak. Die eerste stap in die korpusanalise was om die spesifieke werkwoordverskynsels wat variasie toon, te identifiseer. WordSmith is gebruik om 'n woordelys van die korpus saam te stel, asook konkordansies van die verskillende verskynsels. Die konkordansies is met die hand nagegaan, en alle gevalle wat ingesluit is deur die gegewe parameters, maar nie in werklikheid binne die kategorie val nie, is verwyder. Die konkordansies is uitgevoer na Excel-werkboeke, waar die frekwensies per kalenderjaar in 'n tabel ingevoer is. Daarna is dieselfde prosedures gevolg met die kontrolekorpusse, om uiteindelik 'n grafiek van elke verskynsel op te trek, wat die verhouding tussen ou en moderne vorme aandui.

 

4. TOTIUS EN DIE STANDAARDISERING VAN DIE AFRIKAANSE WERKWOORD

4.1 Werkwoord: stamvorm

4.1.1 Slotkonsonant t/n-Slotkonsonant

Die eerste verskynsel wat bespreek word, is die slotkonsonant van die groepie woorde gaan/t, sien/t, staan/t, doen/t, slaan/t. Teen die tyd wat die korpusse se brontekste geskryf is, is daar slegs sporadies gebruik gemaak van die ou -t-vorme, en het die moderne -n-vorme (wat ooreenstem met die Nederlandse infinitief asook meervoudskongruensie) grootliks reeds inslag gevind. Voorbeelde van hierdie verskynsel is:

[1] Daarteën gaat ons protes. (Het Kerkblad, Totius, 15 Junie 1917)

[2] Gemaklik kon dus Amos die buitewereld gaan bekijk. (Het Kerkblad, Totius, 1 Mei 1917)

Die onderskeie korpusse - Totius, Kontrolekorpus 1 (boeke) en Kontrolekorpus 2 (tydskrifte) - se gebruik van die variasie in die t/n-slotkonsonant word weergegee in figuur 1.

In Totius kom die -t-vorme voor tot in 1921, hoewel daar deurgaans voorkeur gegee word aan die -n-vorme. Die -t-vorm neem af in frekwensie gedurende die laaste jaar, waar slegs een geval nié die gebruik van die woord siet is nie. By Totius is daar 'n sterk semantiese onderskeid tussen sien en siet, soveel so dat beide gebruik word in die sin:

[3] In vers 9 tog lees ons: "daarna sien ek, en sietl 'n groot skare wat niemand kan tel nie..." (Het Kerkblad, Totius, 15 Maart 1919)

Siet word deur Totius slegs in 'n spesifieke konteks gebruik, in die imperatief, om 'n Bybelse uitdrukking mee te vertaal. Die Griekse woord waarvoor Totius siet gebruik is βλέπω (Pocket Oxford Greek Dictionary 2000:237). Die woord het 'n verskeidenheid van betekenisse, onder andere "look at, regard", "of mental functions: direct one's attention to someth., consider, note", "notice, mark someth." en "watch, look to, beware of" (Arndt & Gingrich 1979:143) en word gebruik met die bedoeling "kyk, en verstaan tog!".

Verder onderskei Totius ook tussen aangaan en aangaat, waar aangaan 'n konkrete betekenis het, en aangaat gebruik word met die betekenis "betref", soos in die sin "veral wat die taal aangaat". Nie een van hierdie onderskeidings word in die kontrolekorpusse gevind nie.

In die kontrolekorpusse kom die -t-vorm effens meer wisselvallig voor, hoewel voorkeur ook deurgaans aan die -n-vorm gegee word. Die -t-vorm verminder nog verder van 1921 af.

Daar is meer as een normatiewe bron uit die tyd wat 'n aanbeveling maak dat daar ter wille van eenvormigheid heeltemal oorgegaan moet word na die -n-vorm (Malherbe 1917:54; Jansen 1920?:13). Aan die een kant het die normatiewe bronne dus 'n aanbeveling gemaak op grond van die algemene voorkeur wat reeds geheers het, maar het dit ook daarmee verdere variasiereduksie bevorder. Dit blyk ook dat Totius se taalgebruik in pas is met dié van die breër taalgemeenskap.

g-Slotkonsonant

Die verskynsel wat vervolgens ondersoek word, kom voor in 'n groep werkwoorde met 'n woordeinde wat gewissel het tussen [-g] en 'n oop sillabe. Voorbeelde hiervan is leg/lê, seg/sê, draag/dra, vraag/vra, in sinne soos:

[4] Nou wel Gods Woord peil die wese van die verskijnsels en seg ons aangaande die teenwoordige omwentelings dat... (//et Kerkblad, Totius, 1 Desember 1918)

[5] Ik dit in alle erns. (Het Kerkblad, Totius, 15 Mei 1917)

Die -g-vorme is ouer vorme wat uit Nederlands oorgebly het, waar die -g-lose vorme die moderne vorm is wat tydens standaardisering die oorhand in Afrikaans gekry het.

Hoewel die -g-vorme deurgaans van 1916 tot 1921 voorkom in die Totius-korpus, soos aangedui in figuur 2, word deurgaans voorkeur gegee aan die -g-lose vorme. Die -g-vorme neem dan ook effens af met verloop van tyd, hoewel dit nie heeltemal verdwyn nie.

In die kontrolekorpusse is daar groter wisselvalligheid as by Totius. Dit toon egter dieselfde basiese neiging: effense vermindering, hoewel dit nie heeltemal uitsterf teen die einde nie. Die groter wisselvalligheid kan moontlik toegeskryf word daaraan dat die kontrolekorpusse uit verskillende skrywers se tekste saamgestel is, en dat hierdie skrywers teen verskillende tempo's afskeid geneem het van die ou vorme.

Terwyl die normatiewe bronne uit die tyd hierdie variasie slegs as wisselvorme aandui, wys Totius, en die breër taalgemeenskap, se afname in die gebruik van ou vorme daarop dat daar moontlik wel 'n konvensie van die gebruik van die moderne vorme in plek gekom het gedurende hierdie tydperk. Die vermoede word verder versterk daardeur dat De Waal in 1910 reeds waargeneem het dat die -g-lose vorme meer gebruiklik is in Afrikaans (De Waal 1910:49).

4.1.2 Stamvokaal

Daar word vervolgens nader ondersoek ingestel na die aantal werkwoorde in Afrikaans wat vir 'n tyd lank variasie in stamvokale getoon het, byvoorbeeld bring en breng, in sinne soos:

[6] Paulus sien die dood as 'n lelike monster, met 'n kaal angel, klaar om die dodelike steek toe te bring. (Het Kerkblad, Totius, 15 April 1919)

[7] Maar die dag sal lig breng, en deur die vlam-lig en die son-lig sal die onderskeid kenbaar wees. (Het Kerkblad, Totius, 15 Februarie 1919)

Daar kan geen duidelike semantiese onderskeid tussen die variante gesien word nie, en dit word in normatiewe werke van die tyd ook gewoon as wisselvorme aangedui, indien dit enigsins aan die orde kom.

Die gebruik van die stamvokaalvariante in die onderskeie korpusse word in figuur 3 gegee.

In die Totius-data word daar in 1916 en 1917 voorkeur aan die -e-vorm gegee, maar teen middel 1918 lê die voorkeur egter by die -i-vorm. Vanaf 1919 is daar slegs enkele gevalle waar die -e-vorm nog gebruik word, en teen 1922 kom dit glad nie meer voor nie.

In die kontrolekorpusse kom die -e-vorme van die begin af meestal effens minder voor as die -i-vorme. Van 1921 af is dit egter skielik heeltemal afwesig in die eerste kontrolekorpus, en dit stem ooreen met Totius, hoewel die afwesigheid meer skielik voorkom. In die tweede kontrole-korpus is daar groter wisselvalligheid, hoewel daar steeds 'n sterk afname in die gebruik van -e-vorme is.

Tussen die drie korpusse blyk dit dat Totius se taalgebruik 'n tussenweg is tussen die twee kontrolekorpusse, waar die eerste (boeke) die progressiefste is, en die tweede (tydskrifte) die grootste fluktuasie en onsekerheid toon. Dit kan moontlik daaraan toegeskryf word dat daar meer uitgebreide redaksionele versorging betrokke is by die uitgee van boeke as die uitgee van tydskrifte, en dat variasie moontlik meer doelbewus utigeskakel is deur die redaksionele versorging. Die sterk afname van -e-vorme wat telkens na 1918 waargeneem kan word, korreleer ook met die voorkeur wat lesers aangedui het in die uitsprake in Die Huisgenoot in 1918, wat voorkeur toon vir die -i-vorme. Terwyl die formele normatiewe bronne dus hierdie vorme gewoon as wisselvorme aandui, gee die media 'n duideliker beeld van die breër taalgemeenskap se voorkeur vir die moderne vorme, wat korrespondeer met die korpusdata. Dit wys ook dat normatiewe bronne nie altyd leiding neem en aanbevelings maak nie, maar in sekere gevalle vryheid toelaat, en die taalgemeenskap mikroseleksie onderling toepas.

4.2 Grammatikale verledetydsvorm

4.2.1 Preteritum

In moderne Afrikaans word die preteritum nie meer gebruik nie, hoewel daar nog reste van oorgebly het in die gebruik van sekere hulpwerkwoorde, is/was, en modale hulpwerkwoorde, wil/wou, kan/ kon, sal/sou, mag/mog en moet/moes. In die vroeg-twintigste eeu is had en werd egter nog algemeen gebruik, wat later deur het gehad en het geword verdring is. Voorbeelde hiervan sluit in:

[8] Ons volk had vroeger geen dokters nie en dis wonderlik hoe vindingrijk hul was in die uitdenking van medisijne. (Het Kerkblad, Totius, 16 April 1917)

[9] Ons het swaar tije gehad. (Het Kerkblad, Totius, 20 Desember 1918)

Volgens Conradie (1998:10) het die grootste preteritumverlies reeds aan die begin van die negentiende eeu plaasgevind; Deumert (2004:159) dui aan dat daar in haar korpus wel voorkeur gegee word aan die perfektum teenoor die preteritum, maar dat dit steeds gebruik is. Sy noem ook dat dit soms gebruik is as 'n aanduiding van aansien (Deumert 2004:160), wat veral in gepubliseerde werke van belang kan wees.

 

Figuur 4

 

Die vorm had kom enigsins in Totius voor, soos fguur 4 wys, maar die gebruiksfrekwensie van beide die ou en moderne vorme is te min om 'n duidelike uitspraak daaroor te maak. In die eerste kontrolekorpus kom daar meer had/gehad-konstruksies voor, en kan daar iets van 'n patroon afgelei word. Aan die begin word voorkeur gegee aan had, maar dit neem stadig maar seker af, totdat het gehad aan die einde die oorhand kry. Had word egter nog enigsins gebruik. Die tweede kontrolekorpus gee van die begin af effens voorkeur vir het gehad, met baie wisselvalligheid tussen die verskillende jare, hoewel daar tog 'n afname in gebruik van had waargeneem kan word.

Wat werd betref, soos aangedui in figuur 5, word daar in getalle sterk voorkeur gegee aan werd teenoor geword. Dit kan egter misleidend wees: met nadere ondersoek is daar vasgestel dat Totius werd hoofsaaklik gebruik het in die konteks van hulpwerkwoord, en geword as hoofwerkwoord. Voorbeelde hiervan is:

[10] Algemeen werd gevoel dat ons maar éen hart het (al práát ons bietjie uiteen) en dat daar dus geen twee stemme van die Kongres moet uitgaan nie. (Het Kerkblad, Totius, 15 April 1918)

[11] Die regstaat is 'n kultuur-staat geword. (Het Kerkblad, Totius, 15 Augustus 1917)

Hierdie onderskeid word deurgaans behou. In die eerste kontrolekorpus word die vorm geword wel as hulpwerkwoord gebruik, hoewel werd slegs as hulpwerkwoord gebruik word. Die gebruik van werd neem effens af, maar in 1921 is daar 'n skielike sprong, en word dit amper glad nie meer gebruik nie. Dit dui daarop dat geword ook die hulpwerkwoordfunksie begin vervang, en die grammatikale onderskeid wat Totius tref, nie volgehou is nie. Die tweede kontrolekorpus gebruik geword selfs nog meer as hulpwerkwoord, terwyl werd se gebruik te wisselvallig is om 'n duidelike afname te wys.

Die normatiewe bronne van 1916-1922 maak dikwels duidelike uitsprake oor die gebruik van beide had en werd. Malherbe (1917:57-58) noem dat had nie gebruik behoort te word nie, behalwe in voorwaardelike en wensende sinne, wat aansluit by De Waal (1910:49). Die gebruik van werd is egter volgens Malherbe (1917:56) gangbaar, hoewel net in die formele skryftaal, wat ook aansluit by De Waal (1910:63). Jansen (1920?:13-16) bespreek die gebruik van beide had en werd, maar maak geen uitspraak oor moontlike ongewenstheid van die vorme nie, en gebruik dit self ook in sy skryfwerk. Botha en Burger (1921:118) erken dat hierdie vorme nog in die skryftaal gebruik word, maar keur dit ten sterkste af en beveel aan dat die moderne vorme dit eerder moet vervang. In Die Banier word die gebruik van werd ook aangedui as slegs gebruiklik in die skryftaal, en hoewel dit nie aangemoedig hoef te word nie, dit handig kan wees in sinne waar woorde beide 'n verlede deelwoord of adjektief kan wees, "vgl. 'Hij is oortuig dat dit nie so was nie' en 'Hij werd oortuig dat dit nie so was nie'" (Die Banier 1921:168).

Die gebruik van die preteritum as grammatikale tyd in Afrikaans is nie so eenvoudig soos slegs die woordvorme wat gebruik is nie, soos wat gewys word deur die onderskeid tussen gebruik as hulpwerkwoorde en hoofwerkwoorde. Die verdwyning van die preteritumvorme as hulpwerkwoorde wat egter aangetoon word, dui daarop dat dit die laaste reste van die preteritum as grammatikale tyd is wat hier waargeneem word.

4.2.2 Verlede deelwoorde

In die tydperk ter sprake vir hierdie studie, was daar nog onsekerheid oor sekere woordvorme wat gebruik behoort te word in verledetydskonstruksies, byvoorbeeld gedaan of gedoen, gekog of gekoop, soos in die sinne:

[12] ...en werd verder toeseggings gedaan vir 'n bedrag van £669. (Het Kerkblad, Totius, 1 Augustus 1916)

[13] Onlangs het die bisskop van Pretoria, bij die opening van die Anglikaanse Synode in Johannesburg dit nog gedoen. (Het Kerkblad, Totius, 1 Oktober 1917)

Beide Scholtz (1958:85) en Raidt (1991:219) wys daarop dat die regularisering van die verlede deelwoord 'n tussenstadium ondergaan het waartydens die vereenvoudiging van die sterk verlede deelwoord nog nie voltrek is nie. Die korpusse in hierdie studie toon dat hierdie tussenstadium nog nie afgeloop was nie, en dien dus as teenbewys vir Ponelis se bewering dat hierdie vorme reeds teen die eeuwisseling in volledige onbruik verval het (Ponelis 1993:420).

Daar kan in figuur 6 gesien word dat Totius voorkeur gee aan die ou vorme in 1916, terwyl hy die moderne vorme van 1917 af gebruik, en geen ou vorme meer van 1921 af gebruik nie.

In die eerste kontrolekorpus is daar heelwat meer wisselvalligheid. Aan die begin word daar voorkeur gegee aan die moderne vorm, en dit lyk asof die moderne vorm toeneem. Die gebruik is egter steeds wisselvallig, wat wys dat daar nog onsekerheid geheers het oor watter woordvorme gepas is om in verledetydskonstruksies te gebruik, en dat die afname tot 1922 nie noodwendig op 'n permanente afname dui nie. Die tweede kontrolekorpus toon deurgaans voorkeur vir die moderne vorme, hoewel die oorgang ook wisselvallig is.

Die klein getalle waarin hierdie verskynsel voorkom in al drie die korpusse belemmer enige duidelike uitsprake oor die toename of afname van gebruik van ou vorme, of enige gebruikspatrone.

Wat wel met sekerheid uit die data afgelei kan word, is dat die moderne vorme wel reeds meer gebruiklik was in hierdie tyd, maar dat die ou vorme nog enigsins gebruik is, ten spyte daarvan dat 'n navorser soos Ponelis (1993:420) beweer dat die vorme reeds uitgesterf het. Die oorgang en finale standaardisering van die vorme was dus nog nie afgehandel nie.

4.2.3 Perfektum: hulpwerkwoorde

In moderne Afrikaans word slegs die hulpwerkwoord het gebruik om verlede tyd aan te dui. In Nederlands word daar egter van beide hebben en zijn gebruik gemaak, wat in Afrikaans het en is geword het. In moderne Afrikaans word is wel in verledetydskonstruksies gebruik, maar slegs in die lydende vorm. In die vroeg twintigste eeu was dit nog gangbaar om is ook as hulpwerkwoord te gebruik in verledetydskonstruksies wat nié in die lydende vorm was nie, saam met dieselfde tipe hoofwerkwoorde wat in Nederlands zijn sou neem. Die normatiewe bronne uit die tyd, onder andere Malherbe (1917:60), Jansen (1920?:14) en Botha en Burger (1921:118), stem ooreen daarin dat is gebruik kan word in sinne wat 'n verandering van plek of tyd aantoon, asook sekere tipes gebeurtenisse. Dit is egter opvallend dat die bronne dit nie aanbeveel of as die norm stel nie, maar slegs aandui wanneer is gebruik sou kon word, hoewel het ook te eniger tyd gebruik kan word. Voorbeelde van sinne met is uit die Totius-korpus sluit in:

[14] Dit is nou uit, dit is geskied, en in hoofstuk 21:1 is daar 'n geheel nuwe toestand opgekom. (Het Kerkblad, Totius, 1 September 1920)

[15] Tot nog toe egter is al dié pogings op mislukking uitgeloop. (Het Kerkblad, Totius, 1 Junie 1921)

Die gebruik van die verskillende hulpwerkwoorde in die perfektum word in figuur 7 aangedui.

Die data uit die Totius-korpus toon nie 'n definitiewe toename of afname in die gebruik van die ou vorm nie. Dit is egter opvallend dat die ou vorm op geen stadium oorheers nie, wat wys dat Totius reeds begin het om het te verkies in moontlike is-konstruksies. Daar is egter een spesifieke konstruksie wat Totius telkens gebruik het, wat die getalle direk beïnvloed. Die frase "dit is geskied!" is dikwels gebruik as uitroep om te verwys na gebeure in die Bybel, en dan ook telkens vele male in dieselfde artikel. Indien die konstruksie "dit is geskied" buite rekening gelaat word, kan daar tog 'n geleidelike afname bemerk word in die proporsie ou vorme teenoor moderne vorme.

In die eerste kontrolekorpus word daar ook deurgaans voorkeur gegee aan die het-vorm, en word die moderne vorm in vergelyking met Totius effens meer gebruik. Dit lyk egter nie of die gebruik daarvan besonder afneem met verloop van tyd nie. In die tweede kontrolekorpus se data is daar 'n duidelike afname in die gebruik van is waar te neem. Terwyl die gebruik aanvanklik wisselvallig is, neem dit die laaste vier jaar stelselmatig af tot amper afwesigheid. Dit bevestig die tendense wat ook in die ander korpusse na vore kom, en toon dat die is-vorm waarskynlik kort daarna in totale onbruik verval het. Hierdie tendens sluit ook aan by die algemene verlies van vervoeging en infleksie wat daar van Nederlands na Afrikaans plaasgevind het.

 

5. GEVOLGTREKKING

Die verskynsels wat bestudeer is, kan in drie verskillende afdelings ingedeel word volgens tipe variasie wat elke verskynsel toon.

Die eerste groepering is waar daar in sommige gevalle slegs sporadiese gebruik gemaak is van ou vorme deur die hele tydperk, terwyl die moderne vorme reeds oorwegend gebruik is. Daar is drie van die verskynsels wat binne hierdie groep val: beide die variasies in slotkonsonante (gaat/ gaan, seg/sê) en ook die hulpwerkwoorde in perfektumkonstruksies (is/het). Hierdie variasiegroepering het 'n grammatikale basis op grond waarvan die onderskeid tussen die ou en moderne vorme gemaak is. Die variasie in slotkonsonant (gaat/gaan, seg/sê) is as gevolg daarvan dat daar nog onsekerheid bestaan het oor watter Nederlandse woordvorm om die Afrikaanse woordvorm op te baseer, byvoorbeeld stamvorm, enkelvoud eerstepersoon ofinfinitief. Die wisseling in hulpwerkwoord wat in die perfektum gebruik is (is/het), is ook as gevolg van Nederlandse gebruikskonvensies wat in vroeër Afrikaans nog nagevolg is, maar mettertyd minder gebruiklik geraak het, en heeltemal in onbruik verval het. Al drie hierdie verskynsels se oorgang na die moderne vorm is egter reeds byna voltrek met die aanvang van die korpustydperk, wat daarop dui dat die seleksie reeds grotendeels gemaak is, maar die implementering daarvan nog nie so 'n eenvoudige saak was vir alle taalgebruikers nie. Totius se sporadiese gebruik van die ou vorme tesame met moderne vorme bevestig dit, omdat hy as vooraanstaande lid van die gemeenskap en konsensieuse taalgebruiker self nie konsekwent was in sy gebruik nie. By die slotkonsonantverskynsels is daar wel deur normatiewe bronne aanbevelings gemaak vir die moderne vorme eerder as die ou vorme, en dit is waarskynlik omdat die moderne vorme reeds algemeen oorheers het, en met die uitskakeling van die minder gebruiklike variant eenvormigheid gepoog het. Wat die gebruik van is betref, maak die normeerders nie 'n duidelike aanbeveling daarteen nie, maar die aanduiding dat is gebruik kán of mág word, dui daarop dat dit nie hoef nie; die gebruik van het het dus reeds grootliks oorgeneem, maar die gebruik van is moes nog verduidelik word.

Die tweede groep is die gevalle wat 'n groter mate van variasie aan die begin van die tydperk toon, wat dan tussen 1917 en 1920 afplat, waarna die moderne vorme die oorhand kry. Daar is twee verskynsels wat in hierdie groep val, naamlik die stamvokaal (breng/bring) en die woordvorm wat in verledetydskonstruksies gebruik is (gedaan/gedoen). Dit blyk dat verskynsels waarvan variasie in vorm nie semantiese of grammatikale variasie aandui nie, maar slegs wisselvorme is, se oorgangstydperke korter is as ander, meer komplekse verskynsels. Die wisseling in stamvokaal (breng/bring) en woordvorm in die verlede tyd (gedaan/gedoen) het binne enkele jare van groot onsekerheid beweeg na sterk voorkeur vir die moderne vorm. Dit kan wees omdat taalgebruikers slegs 'n woordvorm moes kies en konsekwent gebruik, en nie byvoorbeeld 'n grammatikale kategorie vaarwel moes roep of 'n betekenisnuanse verloor nie. Dit is ook opmerklik dat die normatiewe bronne geen duidelike aanbevelings hieroor maak nie, en dat Totius in albei hierdie gevalle leiding neem in die oorname van die moderne vorme teenoor die ou vorme. Die normeerders se huiwering om uitsprake hieroor te maak, is moontlik gekoppel daaraan dat dit 'n arbitrêre uitspraak sou wees, en nie gegrond kan word in grammatikale of selfs ideologiese beweegredes nie. Daarom is dit oorgelaat aan die taalgemeenskap om eers 'n voorkeur te toon, op grond waarvan mikroseleksie dan kon plaasvind, soos wat in hierdie korpusse inderdaad die geval is.

Die derde groep toon meer variasie en onsekerheid wat steeds voortduur tot aan die einde van die tydperk, en terwyl die ou vorme nie meer in moderne Afrikaans voorkom nie, was dit nog enigsins gebruiklik op daardie stadium. Slegs die preteritum (had/gehad en werd/geword) val in hierdie groepering. Dit is 'n komplekse verskynsel daarin dat dit nie net 'n woordvorm is waarvoor 'n keuse gemaak moet word nie, of die keuse tussen twee hulpwerkwoorde nie - dit is die wegval van 'n hele grammatikale tyd wat nie meer tot die taalgebruiker se beskikking sou wees nie. Die aansien wat ook daaraan gekoppel is (Deumert 2004:160) het die aanbevelings daarteen waarskynlik verder bemoeilik, hoewel die sterk Afrikanerideologie van die tyd en die stryd vir 'n eie Afrikaanse taalaard (Malherbe 1917:57) keuses weg van Nederlands begunstig het, al was dit kontroversieel. Terwyl Totius dan as belese, keurige taalgebruiker die onderskeid tussen ou vorme as hulpwerkwoorde en moderne vorme as hoofwerkwoorde aan die begin van die tydperk volgehou het, blyk dit later dat ook hy die moderne vorme as hulpwerkwoorde begin gebruik, wat ooreenstem met die breër taalgemeenskap se oorweldigende keuse vir die moderne vorme. Die enkele ander skrywers wat egter ook daaraan vasgehou het, wys dat die ideologiese kwessies of aansien wat aan hierdie spesifieke woordkeuses gekoppel is, die saak heelwat meer gekompliseer het as wat met ander verskynsels die geval was. Terwyl die standaardisering van Afrikaans dus grotendeels ideologies gedrewe was, het sekere spesifieke oortuigings binne die taalgemeenskap die saak tog gekompliseer.

 

BIBLIOGRAFIE

Arndt, W.F. & Gingrich, F.W. 1979. A Greek-English Lexicon of the New Testament and Other Early Christian Literature. Chicago: The University of Chicago Press.         [ Links ]

Banier. 1921. Taalaangeleenthede. Die Banier, 1(12):168-170, Feb.         [ Links ]

Botha, M.C. & Burger, J.F. 1921. Maskew Miller se Afrikaanse Grammatika. Kaapstad: Maskew Miller.         [ Links ]

Brandwag. 1914a. Tegen Afrikaans als schrijftaal. Die Brandwag, 4(23):734-736, 1 Mei.         [ Links ]

Brandwag. 1914b. Voor Afrikaans als schrijftaal. Die Brandwag, 4(23):736-739, 1 Mei.         [ Links ]

Conradie, C.J. 1998. Preteritumverlies in vroeë Afrikaans. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 38(1):6-20, Mrt.         [ Links ]

Conradie, C.J. 2010. In Van der Wal, M. & Francken, E. (reds). Standaardtalen in beweging. Amsterdam: Stichting Neerlandistiek VU, pp. 67-84.         [ Links ]

Den Besten, H. 2009. In Den Besten, H., Hinskens, F. & Koch, J. (reds). Afrikaans: een drieluik. Amsterdam: Stichting Neerlandistiek VU, pp. 234-252.         [ Links ]

Deumert, A. 2004. Language Standardization and Language Change: The dynamics of Cape Dutch. Amsterdam / Philadelphia: John Benjamins.         [ Links ]

Deumert, A. & Vandenbussche, W. 2003a. In Deumert, A. & Vandenbussche, W. (eds). Germanic Standardizations. Amsterdam / Philadelphia: John Benjamins, pp.1-14.         [ Links ]

Deumert, A. & Vandenbussche, W. 2003b. In Deumert, A. & Vandenbussche, W. (eds). Germanic Standardizations. Amsterdam / Philadelphia: John Benjamins, pp. 456-469.         [ Links ]

De Waal, J.H.H. 1910. Africander Grammar. Cape Town: Cape Times.         [ Links ]

Du Toit, S.J. 1897. Fergelijkende Taalkunde fan Afrikaans en Engels. Paarl: D.F. du Toit.         [ Links ]

Giliomee, H. 2003. The Afrikaners: Biography of a people. Cape Town: Tafelberg.         [ Links ]

Haugen, E. 1987. Blessings of Babel: Bilingualism and Language Planning. Berlin: Mouton de Gruyter.         [ Links ]

Huisgenoot. 1919. Afrikaans in de Kerk. Die Huisgenoot, 4(44):243-245, Des.         [ Links ]

Jansen, M.M. 1920?. Die Afrikaanse Taal Eksamen: Grammatika vir die Laer en Hoër eksamen. Pietermaritzburg: De Nationale Pers.         [ Links ]

Malherbe, D.F. 1917. Afrikaanse Taalboek:praktiese wegwijser bij die vernaamste moeilikhede in verband met die Afrikaanse Grammatika. Bloemfontein: De Nationale Pers.         [ Links ]

Oom Piet. 1910. Praktiese leerboek voor die Afrikaanse Taal. Kaapstad: Juta & Co.         [ Links ]

Pocket Oxford Greek Dictionary. 2000. New York: Oxford University Press.         [ Links ]

Ponelis, F. 1993. The Development of Afrikaans. Frankfurt am Main / Berlin / Bern / New York / Paris / Wien: Peter Lang.         [ Links ]

Raidt, E.H. 1991. Afrikaans en sy Europese Verlede. 3de uitg. Kaapstad: Nasionale Opvoedkundige Uitgewery.         [ Links ]

Roberge, P.T. 1994. In Olivier, G. & Coetzee, A. (reds). Nuweperspektiewe op die geskiedenis van Afrikaans: opgedra aan Edith H. Raidt. Halfweghuis: Southern Boekuitgewers, pp. 153-165.         [ Links ]

Roberge, P.T. 2003. In Deumert, A. & Vandenbussche, W. (eds). Germanic Standardizations. Amsterdam / Philadelphia: John Benjamins, pp. 15-40.         [ Links ]

Scholtz, J. du P. 1958. Die ontstaan van die Afrikaanse werkwoordelike vormstelsel. Tydskrifvir Wetenskap en Kuns, 18(1):61-99, Apr.         [ Links ]

Tieken-Boon van Ostade, I. 2011. The Bishop's Grammar: Robert Lowth and the Rise of Prescriptivism. Oxford: Oxford University Press.         [ Links ]

Van den Heever, C.M. 1954?. Keur uit die gedigte van Totius. 5de druk. Bloemfontein / Kaapstad / Johannesburg: Nasionale Boekhandel.         [ Links ]

 

 

JOHANITA KlRSTEN, lektor in Afrikaanse Taalkunde aan die Vaaldriehoekkampus van die Noordwes-Universiteit, se akademiese belangstelling handel oor die ontwikkeling van Afrikaans vanuit Nederlands. Haar M.A.-verhandeling, getiteld Laaste spore van Nederlands in Afrikaanse werkwoorde ondersoek die oorgangstydperk van die gebruik van Nederlands na Afrikaans as skryftaal, en die gedrag van sekere werkwoord-vorme gedurende daardie tydperk. Sy brei tans haar diachroniese ondersoek van Afrikaans verder uit, deur mikrolinguistiese kenmerke se verandering met verloop van tyd verder te ondersoek, aan die hand van gedateerde, elektroniese korpusse van Kaaps-Nederlandse en Afrikaanse tekste. Die fokus val veral op tekste in die negentiende en vroeg-twintigste eeu, aangesien daar 'n groot leemte in die literatuur bestaan wat tekste uit die betrokke tydperk bestudeer. Sy werk ook tans aan 'n ensi-klopedie-inskrywing oor Afrikaans vir die Encyclopedia of the Social and Political History of Southern Africa's Languages, saamgestel deur dr Tomasz Kamusella en dr Finex Ndhlovu.

JOHAMTA KLRSTEN, lecturer of Afrikaans Linguistics at the Vaal Triangle Campus of the North-West University, is interested in the development of Afrikaans from Dutch. Her M.A. dissertation, titled Laaste spore van Nederlands in Afrikaanse werkwoorde investigates the transition phase from the use of Dutch to Afrikaans as written language, and how certain verbal constructions behave during this phase. She is currently expanding her diachro-nic research on Afrikaans, by further investigating the change of micro-linguistic characteristics over time, on the basis of dated electronic corpora of Cape Dutch and Afrikaans texts. The focus is primarily on texts from the nineteenth and early twentieth centuries, as there is a lack of literature that focuses on researching texts from that specific period of time. She is currently also working on an encyclopaedia entry on Afrikaans for the Encyclopedia of the Social and Political History of Southern Africa's Languages, edited by Dr Tomasz Kamusella and Dr Finex Ndhlovu.

 

 

1 Uit die M.A.-verhandeling, Laaste spore van Nederlands in Afrikaanse werkwoorde aan die Vaaldriehoekkampus van die Noordwes-Universiteit, onder leiding van Prof. Bertus van Rooy.

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License