SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.52 número4Swartskaap: Odette Schoeman índice de autoresíndice de materiabúsqueda de artículos
Home Pagelista alfabética de revistas  

Servicios Personalizados

Articulo

Indicadores

Links relacionados

  • En proceso de indezaciónCitado por Google
  • En proceso de indezaciónSimilares en Google

Compartir


Tydskrif vir Geesteswetenskappe

versión On-line ISSN 2224-7912
versión impresa ISSN 0041-4751

Tydskr. geesteswet. vol.52 no.4 Pretoria dic. 2012

 

BOEKBESPREKINGS BOOK REVIEWS

 

Politieke Denke en Praktyke. 'n Repliek

 

 

Koos Malan, Politokrasie
Pretoria: Pretoria University Law Press, 2011.

Die verskyning van Prof Koos Malan se Politokrasie verteenwoordig 'n belangrike gebeure in die openbare lewe. Alhoewel die enkele notas hieronder by verre na nie reg sal laat geskied aan die belangrikheid van die werk nie, is my hoop dat dit enkele treë in daardie rigting verteenwoordig.

1. Alhoewel die boek van Malan sterk teoreties begrond is - en in die besonder op die abstrakte wêreld van politiek- en regsfilosofiese denke fokus - is die bedoeling van die werk nie tot die teoretiese beperk nie. Inteendeel, dit het ook duidelike praktiese oogmerke.

Waarom is hierdie blote formele punt belangrik? Om dit te verduidelik, moet kortliks na die hedendaagse gesprekke onder Afrikaanssprekendes verwys word. Malan se werk moet teen die agtergrond daarvan verstaan en beoordeel word.

Afrikaanssprekendes se nadenke oor hulself en die uitdagings waarvoor hulle vandag as taal- en kultuurgemeenskap te staan gekom het, staan dikwels in die teken van - om dit maar sagkens te formuleer - powere teoretiese begronding. Om die waarheid te sê, 'n mens kry soms die indruk dat hulle soeke na praktiese antwoorde op hulle toestand van enige teoretiese nadenke gestroop is.

'n Voorbeeld hiervan is die feit dat sommige bykans ad infinitum die teoretiese resepte vanuit die verlede herhaal, sonder om maar vir 'n sekonde die nuwe werklikhede in ag te neem.

Tegelyk is daar andere wat op hulle beurt weer die bestaande grondwetlike bedeling hanteer asof dit 'n heilige dokument is, dit terwyl die praktyk die afgelope jare reeds enkele belangrike gebreke daarin uitgewys het. Van nuwe denke anderkant sowel 'n nostalgie na die verlede as 'n naïewe lofprysing op die bestaande ordes is daar weinig sprake.

As teoretiese denke maar slegs 'n saak van teorie was, kon 'n mens natuurlik jou skouer opgetrek het. Gebrekkige teoretiese begronding sou dan in ieder geval geen verskil aan die konkrete toestand gemaak het nie. Ongelukkig is dit nie waar nie. Teorie en praktyk vooronderstel mekaar. Goeie teorie kan goeie praktyke oplewer, terwyl goeie praktyke ook goeie teorie moontlik maak.

Weinige tekens is egter hiervan sigbaar. Eerder die teendeel, die gebrek aan teoretiese nadenke gee dikwels tot swak praktyke aanleiding (terwyl ons swak praktyke op hulle beurt ook swak teoretiese denke in die hand werk).

'n Belangrike historiese voorbeeld hiervan is die gesprekke wat Afrikaanssprekendes die afgelope jare met die regerende party, die ANC, gevoer het. Alhoewel dit waarskynlik 'n vereenvoudiging is, kan die indruk kwalik ontsnap word dat Afrikaanssprekendes in die meeste van hierdie gesprekke nie teoreties opgewasse was om sinvolle inhoud aan hierdie gesprekke te gee nie.

Malan se Politokrasie verteenwoordig 'n regstelling hierop. Sowel teoreties as prakties beoordeel het ons hier met 'n werk te doen wat op 'n diepsinnige, oorspronklike en helder geformuleerde wyse inspeel op sowel die teoretiese as die praktiese eise van ons tyd.

2. Die sentrale motief in Politokrasie handel oor die vraag na die aard en wese van die politieke lewe. As Malan se boeiende verhaal daaroor in enkele sinne saamgevat kan word, kan gesê word dat die "egte" politieke lewe anderkant die moderne territoriale staat (die sterflike god van Hobbes) en sy grondliggende logika opgesoek moet word. Volgens Malan word die politieke lewe in die egte sin van die woord opgehef wanneer dit op 'n eensydige wyse aan die werking van die moderne territoriale staat oorgelaat word.

Maar waar kan die egte politieke lewe dan tot sy reg kom? Die sleutel tot Malan se nadenke daaroor lê opgesluit in die begrippe "gemeenskaplike deelname". Laasgenoemde word reeds op 'n treffende wyse op die voorblad van die werk uitgebeeld, wat bestaan uit 'n sentrale fragment uit Rembrandt se Die Nagwag. Soos wat die twee uitgebeelde karakters in 'n gesprek met mekaar is, so tree die politieke daar na vore waar ons saam met medeburgers op die verhoë van die openbare lewe verskyn en ons op 'n gemeenskaplike grondslag oor die toekoms besluit.

Hieraan knoop 'n aansluitende punt. As 'n mens dit in effense tegniese taal kan formuleer: By Malan is daar 'n duidelike voorkeur vir die presentatiewe eerder as die representatiewe aard van die politieke lewe. Hiervolgens gebeur die politieke lewe nie soseer daar waar ons elke vyf jaar afgevaardigdes verkies om ons in die instellings van die staat te verteenwoordig nie. Nee, die politieke gebeur eerder daar waar die burgers op so 'n direkte wyse moontlik aan mekaar verskyn en van aangesig tot aangesig aan gemeenskaplike sake deelneem.

Malan skryf nie oor die presentatiewe aard van die politieke lewe as 'n blote teoretiese kwessie nie. Inteendeel, hy plaas sy argument vierkantig binne die konteks van die huidige representatiewe orde in Suid-Afrika en die beperkinge wat dit kenmerk.

In terme van dié orde is kleiner gemeenskappe soos die Afrikaanssprekendes en in die besonder Afrikaners vandag (miskien nie de jure nie, maar de facto) van effektiewe inspraak in en mag oor hulle sake gestroop. As kultuurgemeenskap het hulle nóg 'n sinvolle inspraak in die wetgewende nóg in die uitvoerende gesag.

Teen die agtergrond hiervan is 'n sentrale motief in die werk van Malan om te vra na 'n antwoord op hierdie toestand. Politokrasie is duidelik daaroor. Alhoewel die regbank 'n belangrike "instrument" vir kleiner gemeenskappe is, is dit nie 'n antwoord sonder probleme nie. Terwyl die regbank binne die nuwe grondwetlike bedeling veronderstel is om vir alle praktiese doeleindes te kompenseer vir die verlies aan wetgewende en uitvoerende mag, kan dit vanweë strukturele probleme (gebrekkige polisiëring, disfunksionele howe, ensovoorts) nie noodwendig aan alle verwagtinge voldoen nie.

Teen die agtergrond hiervan beroep Malan hom op die presentatiewe aard van die politieke lewe: Te midde van die praktiese gebreke wat ons vandag met die representatiewe orde ervaar, kan 'n politiek gegrond op presentatiewe uitgangspunte 'n uitweg bied. Malan stel in hierdie verband voor dat die gemeenskappe op 'n presentatiewe wyse by hulle sake betrokke raak. Dit wil sê by wyse van deelname, die aanvaarding van eie verantwoordelikheid, die strewe na die verwesenliking van die gemeenskaplike. So kan opnuut inhoud aan die politieke lewe gegee word.

3. Maar wat beteken 'n teoretiese verbintenis tot die presentatiewe aard van die politieke lewe in meer praktiese terme? Malan hou dit nie by 'n blote teoretiese besinning nie. Hoe moet die strukture lyk waarbinne die presentatiewe lewe tot sy reg kan kom, vra hy. Hoe moet die verhoë vandag lyk waarop burgers aan mekaar kan verskyn? Hoe moet die forums lyk waarop saam aan die politieke lewe deelgeneem kan word? Rondom hierdie vrae stuit ons op een van die mees waardevolle aspekte van die boek.

Malan fokus in hierdie verband tereg op 'n kwessie waaraan die vroegste politieke denkers (maar ook weer Jean-Jacques Rousseau in die moderne tyd) aandag gegee het, naamlik die kwessie van skaal. Hoe groot moet 'n politieke gemeenskap met ander woorde wees sodat deelname sinvol kan gebeur? In aansluiting by 'n oeroue wysheid uit die politieke denke, voer Malan aan dat 'n presentatiewe orde (waarin burgers van aangesig tot aangesig verskyn), slegs konkreet gestalte binne die ruimte van 'n bepaalde skaal kan kry.

Indien die politieke ordes in terme van skaal te groot is (soos byvoorbeeld die universele orde van die latere Romeinse ryk, maar ook soos in die moderne territoriale staat), verloor burgers die dimensie van aangesig tot aangesig verskyning eie aan die politieke lewe. Binne sodanige groot of universele strukture word onderlinge verhoudinge aan onpersoonlike en abstrakte kragte oorgegee. Burgers loop as gevolg daarvan die risiko om hulle rug op die politieke lewe te draai en daarvan afskeid te neem.

Indien die politieke orde in terme van skaal egter te klein is, het 'n mens te doen met 'n onvoldoende uitdifferensiëring van 'n veelvoud van beroepe, instellings en funksies. Dit lei noodgedwonge tot verstikking, geslotenheid en uiteindelik ook - net soos in die geval van universele ordes - tot 'n gebrek aan politieke deelname.

Daarom moet daar 'n middeweg opgesoek word. In aansluiting by die Klassieke politieke tradisie is Malan daarvan oortuig dat so 'n middeweg onder meer vandag in 'n relatief groot (of is dit relatief klein?) orde soos die stad of polis gevind kan word. Daarom ook die titel van die boek, Politokrasie, wat dui op politieke magsuitoefening in en deur die strukture van die polis. Vanweë hulle grootte word stede deur 'n veelvoud van relatief onafhanklike instellings (regswese, onderwys, ekonomie, veiligheid, ensovoorts) gekenmerk. Daarmee word 'n belangrike voorwaarde neergelê om te voorkom dat die presentatiewe lewe in 'n verstikkende eenheid opgeneem word.

Tegelyk is die 'n stad nie so groot dat ons onderlinge verhoudinge slegs op onpersoonlike en abstrakte wyses bemiddel word nie. Deur sy teaters, stadspleine, wandelgange, universiteite, skole, howe en ander instellings skep stede die ooptes waarop 'n egte politieke lewe moontlik kan word.

4. Dit bring ons by 'n laaste punt. Die werk van Malan word onderlê deur 'n gewisse kritiek op die territoriale staat en in die besonder op die voorskrifte wat die staat vanuit sy dikwels onbuigsame sentrum - en met 'n beroep op die meerderheidsbeginsel - op alles en almal neerlê.

Tegelyk word die werk onderlê deur 'n voorkeur vir die eksentriese kragte en magte wat as't ware buite-om die sentrum hul eie werklikheid ter hande neem. Dit is magte - soos die veelheid van plaaslike gemeenskappe - wat histories met moeite aan die voorskrifte van die sentrum en die wil van die meerderheid onderwerp word.

Maar ja, miskien is dit in te opstandige terme geformuleer. Malan gaan omsigtig met hierdie kwessie om. Alhoewel sy werk teen die verstikkende moontlikhede in die territoriale staat gerig is, is hy waarskynlik nie per definisie teen die staatlike ordening as sodanig gekant nie. Hy is eerder teen dié staat gekant wat van bo af aan almal - en in die besonder aan minderhede - voorskryf.

Tegelyk is hy ten gunste van dié staat wat die plaaslike gemeenskappe in staat stel om vir hulself verantwoordelikheid te aanvaar. Laasgenoemde kan nie anders nie as die federale staat wees nie, dit wil sê dié staat wat histories sy krag put uit die feit dat hy die gesag so ver as moontlik na ondertoe afwentel.

Dit bring my by 'n slotopmerking. Malan se klem op gemeenskappe wat vir hulself binne 'n federale raamwerk verantwoordelikheid aanvaar, verdien die dwingende aandag van diegene wat bekommerd is oor sentralistiese neiginge in die territoriale staat.

Waarom? Miskien in die eerste plek omdat gemeenskappe nie hul toekoms aan die lotgevalle van die sentrumsoekende staat kan toevertrou nie. Laasgenoemde is nie net verstikkend nie. Dit is gewoon nie in staat om na gemeenskappe om te sien nie. Daarvoor ervaar hy eenvoudig te veel strukturele probleme.

Maar daar is ook 'n ander rede. Dit hou verband met die begrippe "selfrespek" en "hoop". Gemeenskappe wat hulself van die sentrumsoekende staat afhanklik stel, verloor 'n sin vir verantwoordelikheid. En so uiteindelik ook hulle kollektiewe selfrespek. Gemeenskappe wat daarenteen self verantwoordelikheid aanvaar, word deur 'n kollektiewe selfrespek gekenmerk. Hulle neem daarom ook op 'n skeppende wyse aan die geskiedenis deel.

Maar dit hou ook met "hoop" verband. Diegene wat hulself van die staat afhanklik stel, verloor hoop. Die patetiese moedeloosheid onder Afrikaanssprekendes die afgelope dekades hou hiermee verband. Ten grondslag daarvan lê die verwagting dat die staat die antwoord het. Omdat die staat nie noodwendig daaraan kan voldoen nie, is daar die neiging om in wanhoop weg te sink.

Daarteenoor is diegene wat hulself van die ou sindroom van afhanklikheid jeens die staat losmaak, met nuwe hoop vervul. 'n Mens sien dit in sowel die stigting van dinamiese nuwe organisasies in die Afrikaanse wêreld as die verlewendiging van ou organisasies soos die SA Akademie vir Wetenskap, wat op 'n verbeeldingryke wyse vir die Afrikaanse wêreld intree.

Politokrasie moet teen hierdie agtergrond beoordeel word. Dit bied 'n teoretiese raamwerk en praktiese riglyne vir die herstel van die politieke lewe en 'n hoopvolle verhouding met ons wêreld.

Danie Goosen
Godsdienswetenskap, Unisa
goosedp@unisa.ac.za

 


 

Looking beyond? Shifting views of transcendence in philosophy, theology, art and politics.

 

 

Stoker, Wessel & Van der Merwe, W L (reds) 2012
Amsterdam: Rodopi. Bl. 527
ISBN: 978-90-420-3473-0. Prys:106 Euros.
Ook as E-Boek beskikbaar: ISBN: 978-94-012-0752-2.

Hierdie versamelbundel onder die redakteurskap van Wessel Stoker, afgetrede professor van Estetika en Willie van der Merwe, professor in Filosofie, beide aan die Vrije Universiteit, Amsterdam, Nederland is 'n goeie nuwe toevoeging by die toenemende literatuur as versamel-bundels wat in die afgelope bietjie meer as 'n dekade oor transendensie verskyn het. Om maar net enkele van hierdie versamelbundels te noem: Mutations culturelles et transcendence (2000) met Pierre Gaudette as redakteur; Transcendence in Philosophy and Religion (2003) met James Faulconer as redakteur; Transcendence: Philosophy, Literature, and Theology Approach the Beyond (2004) met Regina Schwartz as redakteur en Religion and Postmodernism 4: Transcendence and Beyond (2007) met John Caputo en Michael Scanlon as redakteurs. Duidelik is dit alreeds 'n goeie aanduiding van die belang van hierdie begrip in kontemporêre filosofies-teologiese diskoerse. Hierdie nuwe toevoeging Looking Beyond? wat in die reeks Currents of Encounter. Studies on the contact between Christianity and other Religions, Beliefs and Cultures (vol 42) verskyn het, kom saam met nog 'n publikasie van Stoker en Van der Merwe, naamlik Culture and Transcendence. Laasgenoemde het vroeër in 2012 verskyn in die reeks Studies in Philosophical Theology (vol 51). Alhoewel beide publikasies oor transendensie gaan, is Culture and Transcendence toepassinge op uiteenlopende diskoerse in teologie, filosofie, sielkunde en populêre kultuur van 'n viervoudige tipologie van transendensie wat Stoker ontwikkel het. Looking Beyond? daarteenoor eksploreer teen die agtergrond van hierdie tipologie van Stoker (bl 5-28), die wisselende vergestaltinge van transendensie in die uiteenlopende diskoerse van kontemporêre filosofie, filosofiese teologie, Christelike teologie, politieke filosofie en kuns. Daarom die duidelike, beskrywende subtitel van hierdie publikasie: Shifting Views of Transcendence in Philosophy, Theology, Art, and Politics. Die eksplorasie of verkenning van hierdie wisselende vergestaltinge in Looking Beyond? berus op die aanname dat die "contemporary landscape of religiosity and spirituality, at least in the secularized West, can be brought into relief by focusing on the breaches and parallels between the blazing trails left by the recurring appearances of transcendence, wittingly or unwittingly, in the work of various authors and/or certain cultural phenomena" (Foreword). In kort dus: In religie in die kontemporêre Westerse samelewing het daar 'n transformasie plaasgevind wat religieuse en spirituele transendensie ingrypend verander het. Hierdie bundel wil die uiteenlopende vergestaltinge daarvan naspoor.

Die nasporing daarvan in Looking Beyond? word uiteengesit in ses afdelings. In Afdeling Een (bl 29-63) wat handel oor historiese benaderinge in die filosofie tot transendensie, is daar twee bydraes, naamlik dié van die filosoof Peter Jonkers van Tilburg Universiteit, Nederland, en die Suid-Afrikaanse godsdiensfilosoof Danie Goosen van die Universiteit van Suid-Afrika, Pretoria. Eersgenoemde bydrae met die titel The Death-Defying Leap from Nihilism to Transcendence ondersoek die debat tussen die filosoof Jacobi en sy tydgenote oor immanente transendensie waarin Jacobi radikale immanensie grondig kritiseer en deur sy kritiek die voorafskaduwing word vir die omvangryke transformasies van die konsep transendensie soos ontwikkel deur ander latere filosowe soos Kierkegaard, Levinas, Marion, Derrida en Deleuze in die negentiende en twintigste eeu. Goosen op sy beurt argumenteer in sy bydrae Radical Immanence: An Anomaly in the History of Ideas dat radikale immansensie 'n historiese anomalie verteenwoordig daarin dat juis die kragte in die geskiedenis van idees wat radikale immanensie moontlik gemaak het, dieselfde kragte is wat transendensie onmoontlik gemaak het!

In Afdeling Twee (bl 65-135) onder die opskrif Contemporary Philosophy is daar vier bydraes. Die eerste bydrae The concept of Transcendence in Charles Taylor's Later Work is van Guido Vanheeswijck, filosoof van die Universiteit van Antwerp waarin hy sy uitgangspunt neem by die invloed van die beeld van God as "Gans Andere" wat uiteindelik aanleiding gegee het tot sekularisasie, en Taylor se sogenaamde dubbele posisie met betrekking tot sekularisasie enersyds en sy persoonlike verhaal oor die moontlikheid van bekering andersyds. In die tweede bydrae Humanism and Transcendence van Annemie Halsema, filosoof aan die Vrije Universiteit, Amsterdam fokus sy op Harry Kunneman se humanistiese interpretasie van horisontale transendensie en toon aan dat sy benadering nie die vertikale dimensie van religie uitsluit of verwerp nie. Richard Rorty on Transcendence is die derde bydrae in hierdie afdeling van die godsdiensfilosoof Ronald Kuipers van die Institute for Christian Studies in Toronto, Kanada waarin hy Rorty se agterdog oor die konseptuele glibberigheid van transendensie nagaan en aantoon hoe Rorty, ten spyte van sy diepgaande agterdog teenoor die begrip, tog uiteindelik 'n positiewe residu nalaat in die verstaan van die konsep. Die laaste bydrae Early Critical Theory and Habermas on Transcendence in hierdie afdeling is van die Suid-Afrikaanse filosoof Pieter Duvenhage van die Vrystaatse Universiteit waarin hy hom toespits eerstens op die vroeë Kritiese Teorie se verstaan van religie/transendensie en tweedens op die uiteensetting van Habermas se besondere verstaan van transendensie as 'n "transendensie van binne".

Philosophical Theology is die opskrif van Afdeling Drie (bl 137-239) waarin daar ses bydraes is. Laurens ten Kate, godsdiensfilosoof van die University of Humanistic Studies, Utrecht bespreek in sy bydrae Living Death: The Logic of Self-Foundation and The Problem of Transcendence in Nancy's Deconstruction of Christianity Jean-Luc Nancy se dekonstruksie van die Christendom. Op 'n besondere wyse dekonstrueer Nancy die "iets" (etwas) wat die Christendom moontlik maak maar wat terselfdertyd volgens hom nie eie aan die Christendom is nie, veral onder andere wat die vraag oor transendensie betref en die problematiese relasie met immanensie wat aanleiding gee tot die self-dekonstruksie van die Christendom. In die tweede bydrae Jean-Luc Marion and the Transcendence par Excellence: Love van Joeri Schrijvers, verbonde aan die Teologiese Fakulteit van die Katolieke Universiteit van Leuven, word die gebrek aan transendensie in ons kontemporêre kultuur wat Marion aanspreek, uiteengesit waarin Marion in die begrippe "afstand", "oorvloed" en "geskenk" opnuut weer diepte in ons eietydse ervaringe van kontemporêre kultuur probeer herwin. Inigo Bocken van die Radboud Universiteit, Nijmegen lê in sy Everyday Life as Divine Practice: Modernity and Transcendence in Michel de Certeau die plek bloot waar volgens De Certeau die persoon hom/haarself bevind in die ervaringsmatige aanspraak van die afwesigheid van God te midde van die ervaring van die afwesigheid van God in die geskiedenis van die Christelike spirituele tradisie en die ervaring van moderniteit. In die vierde bydrae Jean-Yves Lacoste: The Experience of Transcendence gee Kenneth Wardley, nagraadse student van die School of Divinity, University of Edinburgh, 'n uiteensetting van kontemporêre weergawes van stilte in fenomenologie en teologie, in besonder die weergawe van Lacoste waarin hy stilte neem as instruktief vir teologiese epistemologie. Svein Aage Christoffersen, professor in Etiek en Godsdiensfilosofie aan die Universiteit van Oslo, Noorweë fokus in sy Transcendence, Self-Transcendence and Aesthetics op die belang van die begrip "self-transendensie" wat na sy oordeel in elke tipe van transendensie voorkom soos deur Stoker in sy tipologiese model aangedui maar nie verder ontwikkel is nie. In die laaste bydrae Gianni Vattimo: Transcendence and (Postmetaphy-sical) Utopia in hierdie afdeling met dubbele outeurskap, naamlik Willie van der Merwe en Schalk Engelbrecht (wat sy doktorale proefskrif in Filosofie aan die Universiteit van Stellenbosch vroeër voltooi het), word die simbiotiese herevaluering van die religieuse en utopiese asook die implikasies daarvan vir die konsep van transendensie bespreek soos deur Gianni Vattimo uitgewerk in sy poging om verby metafisika te beweeg.

Afdeling Vier (bl 241-319) Christian Theology bestaan uit drie bydraes waarvan die eerste twee herdrukke is van vroeëre publikasies van Sally McFague en Mark C Taylor. In eersgenoemde bydrae Intimation of Transcendence: Praise and Compassion (2007) van McFague, Carpenter Professor of Theology Emerita, Vanderbilt University Divinity School, word twee spesifieke karaktertrekke van gelowige mense bespreek, naamlik van die aanbidding van God en die poginge van gelowiges om mekaar lief te hê. McFague sien in hierdie karaktertrekke spore van transendensie. Taylor, professor of Religion, Columbia University, New York se bydrae bestaan uit twee uittreksels vanuit sy After God (2007), naamlik Religious Secularity en Eclipse of the Real (foutiewelik aangedui onder die een titel Religious Secularity and the Eclipse of the Real). In eersgenoemde uittreksel bespreek hy die verwarring wat bestaan in die verhouding tussen religie en sekularisasie wat dit onmoontlik maak om die huidige tydsgewrig te verstaan, en in die tweede uittreksel word die implikasie van Karl Barth se besondere klem op God as die "Gans Andere" en sy protes teen teologiese liberalisme histories nageteken en die verwantskap hiervan met Thomas Altizer se beklemtoning van die dood van God, aangedui. Die laaste bydrae in hierdie afdeling Transcendence in Ingmar Bergman's "Winter Light" (1962) is van Martien Brinkman, professor van Intercultural Theology, Vrije Universiteit, Amsterdam. Hy neem die negentiende-eeuse onderskeid wat in die geskiedenis van teologie gemaak is tussen die Jesus van die geskiedenis en die Christus van geloof en vra die vraag of dit nie weerklank vind in die onderskeid van sogenaamde Jesus- en Christusfilms nie, maar dan met die groot verskil dat dit nou juis Christene is wat die biografiese weergawes hiervan voorhou as synde korrekte historiese weergawes van die ware Jesus!

Politics is die titel van die Vyfde Afdeling (bl 321-397) wat vier bydraes bevat. Govert Buijs, professor van Political and Social Philosophy, Vrije Universiteit, Amsterdam bespreek in sy Against the Use of the Essentialist Divine Hierarchy Theory of Religion in Political Theory die inherente verbintenisse tussen politiek en transendensie en die kritiese implikasies daarvan, veral dié tussen demokrasie en transendensie. In die tweede bydrae The World as the "Beyond" in Politics bespreek Vasti Roodt, filosoof aan die Universiteit van Stellenbosch die voorwaardes vir die bestaan van politiek as sodanig wat voortspruit uit 'n wêreldse besorgdheid wat 'n politieke oproep op ons maak tot politieke handeling. In die filosoof van Radboud University, Marin Terpstra se bydrae A Politcal Theology of an Absent God word die politieke teologie van Thomas Hobbes bespreek aangesien hy 'n belangrike figuur is in die oorgang van antieke en middeleeuse teorieë van verteenwoordiging na moderne teorieë. Die laaste bydrae in hierdie afdeling Splitting Transcendence and Dividing Humankind: A Case of Secularization is van Theo de Wit van die Tilburg School of Theology, University of Tilburg waarin hy die begrip God as regter maar terselfdertyd ook die (oordelende) mens as regter in 'n sekulêre verstaansraamwerk bespreek.

Ses bydraes maak Afdeling Ses (bl 399-504) uit met die titel Art. Die eerste bydrae Communities of Oppression and the Recovery of the Sacred Community van David Jasper, professor van Literature and Theology, University of Glasgow gaan oor die kuns van Anselm Kiefer en die wyse waarop dit verband hou met die digkuns van Paul Celan. Jasper bespreek hierdie verband vanuit die perspektief van radikale immanensie. Allard den Dulk, nagraadse student in filosofie aan die Vrije Universiteit, Amsterdam bespreek in sy bydrae The Transcendence of a Meaningful Life: The Portrayal of the Contemporary Self in David Foster Wallace's "Infinite Jest" weergawes van die self soos dit in eietydse literatuur, maar veral in die werk van Wallace na vore kom. Die derde bydrae in hierdie afdeling is van die Nederlander Henry Jansen The Ethics of Transcendence: C.S. Lewis' "Chronicles of Narnia" and Philip Pullman's "His Dark Materials". Jansen gaan na die waardes wat gereflekteer en aangemoedig word in die verskillende perspektiewe op transendensie soos wat dit in die werke van Lewis en Pullmann onderskeidelik na vore kom. Moments of Transcendence in A.I.: The Moving Image and the Power of the Human Imagination is die vierde bydrae in hierdie afdeling van Heide de Mare, Nederlandse kuns- en filmgeskied-kundige waarin sy die film Artificial Intelligence (AI) van Steven Spielberg aan die hand van die viervoudige tipologie van Stoker bespreek ten einde vas te stel watter een van die tipes van transendensie ter sprake kom, en die vraag stel vanuit die perspektief van die menslike verbeelding of dit 'n bydrae maak tot die verstaan van transendensie en kontemporêre spiritualiteit. In die vyfde bydrae Beyond Immanence and Transcendence: Reflection in the Mirror of Andrei Tarkovsky's "Andrei Rublev" and "Solaris" van die filosoof Sylvain de Bleeckere van Hasselt University, België word die kritiese vraag gestel vanuit 'n kinematografiese perspektief of die konseptuele raamwerk wat deur die begrippe van transendensie en immanensie aangedui word, nog steeds werkbare begrippe is wat as kognitiewe instrumente aangewend kan word in die huidige kulturele landskap. In die laaste bydrae van die nagraadse student Oane Reitsma van die Vrije Universiteit, Amsterdam Some Time for Timelessness: Performance Time of Works by Messiaen, Sorabji, and Ten Holt word die vraag na transendensie in terme van tyd en ewigheid nagegaan in die musikale werke van Olivier Messiaen, Kaikhosru Sorabji en Simeon ten Holt en wat volgens Reitsma aanleiding gee tot 'n meer genuanseerde verstaan van transendensie.

Hierdie versamelbundel verteenwoordig 'n indrukwekkende byeenbring van wydreikende perspektiewe op die verskuiwinge in die verstaan en vergestaltinge van transendensie in die Westerse kultuur. Dit is 'n navorsingspronkstuk! Verdere toekomstige gesprekke oor die konseptuele uitklaar van transendensie en immanensie kan nie hierdie bundel ignoreer nie. Die huidige diskoerse oor transendensie word na my mening met die toevoeging van hierdie bundel grondig verdiep en verbreed oor 'n wye spektrum van die intellektuele, spirituele, politieke en artistieke lewe. Maar dit sal in toekomstige gesprekke oor transendensie na my oordeel nog moet breër, want dit is vreemd dat hierdie bundel nie eers een ondersoekende woord rep oor een van die mees invloedryke diskoerse van die Westerse kultuur, te wete dié van die natuurwetenskappe nie, en dus van die natuurwetenskappe en transendensie nie. Die Britse filosoof Colin McGinn (1994:113) het al amper dertig jaar gelede in sy Can we solve the mind-body problem? [in: Warner, Richard & Szubka, Tadeusz (eds). 1994 The mind-body problem: a guide to the current debate. Cambridge: Blackwell] op hierdie onvermydelike belang gewys deur te skryf:

We need to cultivate a vision of reality (a metaphysics) that makes it [reality - DPV] truly independent of our given cognitive powers, a conception that includes these powers as a proper part. It is just that, in the case of the mind-body problem, the bit of reality that systematically eludes our cognitive grasp is an aspect of our own nature. Indeed, it is an aspect that makes it possible for us to have minds at all and to think about how they are related to our bodies. This particular transcendent tract of reality happens to lie within our own heads. A deep fact about our own nature as a form of embodied consciousness is thus necessarily hidden from us.

Dit beteken eenvoudig dat die natuurwetenskaplike insigte soos dié van die biologie (evolusionêre biologie), neurowetenskappe (oor bewussyn) en so meer onmisbaar is vir die integriteit en toekoms van hierdie nog breër gespreksvoering oor transendensie want hierdie "particular transcendent tract of reality happens to lie within our own heads"! Die onmisbare belang van die natuurwetenskaplike-teologiese debatsvoering hieroor het alreeds geblyk uit (om maar net een resente Suid-Afrikaanse voorbeeld te noem) die versamelbundel Homo transcendentalis. Transcendence in Science and Religion (2010) van die Research Institute for Theology and Religion, Unisa onder die redakteurskap van Cornél du Toit.

Die bundel word afgesluit met 'n bondige oorsig oor die bydraes in Looking Beyond? deur Willie van der Merwe en 'n indeks van name en onderwerpe asook 'n naamlys van die bydraers tot die bundel.

 

Daniël P Veldsman
Departement Dogmatiek en Christelike Etiek
Fakulteit Teologie
Universiteit van Pretoria, Pretoria
Danie.veldsman@up.ac.za

 


 

Jansen se twiets is waardevolle lesse vir oud en jonk. Briewe aan my Kinders (2012) deur

 

 

Niefiksie
Jonathan D Jansen
Subtitel: Twiets wat jou laat dink Uitgewer: Bookstorm, Tafelberg
Bladsye: 188
ISBN: 978 - 0 - 624052-78-4

Die briewe in hierdie versameling is oorspronklik deur Facebook en Twitter die wêreld ingestuur. Omdat ek (en die skrywer) besef dat nie al die lesers van hierdie resensie (en die boek) ewe tuis is op die sosiale netwerke nie, is dit nodig om eers die jargon te verduidelik: 'n twiet (selfstandige naamwoord) is 'n boodskap wat op die sosiale netwerk twitter geplaas word met nie meer as 140 karakters nie.

Jonathan Jansen is 'n groot aanhanger van die groot Amerikaanse skrywer, digter en aktivis, Maya Angelou, en dit was juis by die lees van haar Letter to my daughter dat die gedagte by hom posgevat het om die lesse wat die lewe hom geleer het (- daar's seker nog baie lesse op pad -) aan sy eie kinders te skenk. Gevolglik besluit hy om sy eie briewe, wat eintlik maar twiets is oor 'n tydperk van 365 dae, neer te pen vir sy kinders (met die pragtige name Michail (!) en Sara-Jane) om te lees. Ek neem ook aan dat dit in Engels op Twitter verskyn het; daarom behoort 'n groot dankie ook te gaan aan een van my gunsteling Suid-Afrikaanse joernaliste van alle tye en deesdae afgetrede adjunkredakteur van Rapport, Anne-Marie Mischke vir haar puik vertaling (Terloops, ek het my pragtige dogter, Mischke, na haar vernoem).

Maar natuurlik was dit nie net bedoel vir sy twee biologiese kinders nie, dit was ook 'n manier om kernwaardes aan sy meer as 30 000 ander "kinders" op die Kovsie-kampus te kommunikeer, en vanselfsprekend ook Jansen se aanhangers dwarsoor die wêreld. Jansen se Facebook-blad het gou die perk van 5000 vriende bereik en sy Twitter-volgelinge is reeds meer as 11 000 en neem daagliks toe met 100 twiets. Dit was 'n manier om te wys dat hy in voeling is met sy studente, baie vir wie hy nooit in lewende lywe sal ontmoet nie. Dis ook die doeltreffendste meganisme vir massakommunikasie in werklike tyd - in 'n sekere sin sou dit dan ook vir sy studente wys dat hul rektor nogal cool is.

Tipies aan die geaardheid van Jansen kan hy nie wag om vir sy kollegas by ander universiteite tong uit te steek nie as hy sê "sosiale media herinner my hoe belaglik dit is om in die 21ste eeu nog studente en ouers te laat tou staan (en onlangs te laat doodgaan) om vir universiteitstoelating te registreer. Ons universiteite, ... is soos masiewe ou skepe wat sukkel om die rekenaartegnologie tot hul beskikking te gebruik terwyl hulle vasklou aan die ou vuurtorings op land" (p.3).

Jansen se daaglikse briewe was in die vorm van 'n kort stelling oor 'n kosbare les wat iewers langs die lewenspad geleer is. Die lesse dek 'n verskeidenheid onderwerpe: van leierskap tot studie, oor die liefde en die lewe, oor skole en die werkplek, oor openbare diens en materialsme, van hoe om te bestuur, én hoe om die land te verlaat; ja oor byna alles. In die proses word Jansen self weer kind; onthou hy die dinge wat sy ma en pa hom geleer het; onthou hy sy swaarkry kinderjare en herinner hy homself aan die foute wat hy gemaak het; dat baie daarvan vermy kon gewees het, as hy na sy ouers geluister het.

Die lesse (of twiets, of spreekwoorde) van Jansen is nie alles nuut nie, soos een volgeling op Twitter dit gestel het: "dis net dat hy dit so anders stel, so eg Jonathan". Hy wou egter ook ruimte vir interpretasie laat, wat hom meer as dikwels die gramskap van sy volgelinge op die hals gehaal het: "Sê wat jy bedoel", of "verduidelik asb", of "nou's ek deurmekaar" was gereelde reaksies. Jansen self erken dat dit frustrerend was om te sien hoe mense 'n eenvoudige boodskap kon verdraai, soos die brief wat in die naweek van die ANC se 100ste verjaardagviering in Mangaung, Bloemfontein, geplaas is:

Onthou altyd dat geen enkele politieke party of beweging of etniese groep vryheid vir jou land verwerf het nie.

Een prominente politikus het dadelik teruggekap met "Jansen is verkeerd, want ons sou nie vryheid gehad het sonder die ANC nie".

Maar geen enkele plasing het meer beroering veroorsaak as die opsetlik dubbelsinnige brief wat uit net twee woorde bestaan het nie, naamlik:

Kondome skeur

"Keur prof Jansen dan promiskuïteit goed?", "Natuurlik skeur kondome as jy hulle nie reg gebruik nie. Studente behoort kondome te gebruik." En "(d)is die enigste effektiewe manier om daai virus te keer", het menige student laat hoor. Maar die tweewoord-duwweltjie moes sy lekkerste twiet nog twiet. Dink jou in aan die tientalle twiets wat gevolg het nadat die minister van sport 'n ander vrou swanger gemaak het in 'n tyd toe hy van sy vrou vervreemd was!

In een twiet (# 22) raai hy sy kinders aan om nooit 'n werk te aanvaar as hulle vermoed dat die aanbod op velkleur gegrond was nie. Toe begin die uitskellery. "Jansen ontken apartheid" en "Dit wys dat Jansen eintlik konserwatief en 'n coconut is", ens ens. Jansen se reaksie was gewoon dat hy te veel talentevolle swart jongmense in hierdie land ken, wat enige dag met enige ander werksoeker kan kompeteer, dat hulle hulself moet verlaag deur deel te neem aan 'n spel waar ek gehelp moet word om iewers te kom in 'n land wat juis deur swartes regeer word.

En dan is daar Jansen se yslike dwarsklap na die Engelse, vir lank die onaantasbares in hierdie land. In twiet # 16 skryf hy:

In swart geledere sal hulle jou vertel dat jy die Afrikaners meer as die Engelse kan vertrou; vertrou albei.

Die Engelse was immers almal liberale wat apartheid teengestaan het, of hoe? Hulle is tog nie soos die gestereotipeerde Afrikaner rassiste met 'n kort broek en kakiehemp nie?

Wel toe nie. Vandag weet ons, rekenaars het die sommetjies gemaak, dat die Engelse ewe lustig vir die Verwoerds en die Vorsters gestem het. Net omdat hulle Engels soos Helen Suzman gepraat het, beteken nie almal was soos Suzman nie. Allermins!

Byna net so opspraakwekkend is twiet # 39:

Dis nie waar dat alle wittes apartheid gesteun het nie, net so min as wat dit waar is dat alle swartes teen apartheid was.

Hierdie skrywer hoor nog daagliks swart en bruin mense wat sê hulle sal veel eerder onder 'n boer werk as onder 'n swart man.

Vir iemand vir wie taal na aan die hart lê, is twiet #8 natuurlik musiek op die ore:

Praat meer as een taal; dit sal jou liefdeslewe verbeter.

En diegene wat na 'n nierassige Suid-Afrika strewe en - soos ek - 'n hekel het aan die K-woord wat vir bruin mense gereserveer word (Kleurling) sal twiet # 14 waardeer:

Jy is nie gekleurd nie, ons almal is - soos jy kan verwag na 350jaar se saamslaap. Vir die onflukse student is daar twiet #6:

Gaan universiteit toe om droog te maak, hoe anders sal jy leer?

En die hoogdrawende politikus kan wakker lê oor twiet #24:

Maak nie saak wie jou gehoor is nie, gebruik eenvoudige taal; mense wat groot woorde inspan, is onseker van hulself.

En paartjies wat op trou staan, kan gerus luister na twiet # 125:

Wanneer jy trou, vra geld vir geskenke; dit sal keer dat mense hul eie goedkoop trougeskenke hersirkuleer.

Ten slotte mik Jansen 'n hou na almal van ons:

Suid-Afrikaners is van die luiste mense op aarde (twiet # 119) en dan my persoonlike gunsteling:

Jy kan met net vier ure slaap per nag uitblink. Slaap is aangeleerde gedrag. (twiet # 65). Daar is ook 'n paar clichés; weliswaar net enkeles soos twiet # 38:

Dit maak nie saak hoeveel keer jy val nie; wat wel saak maak, is dat jy elke keer opstaan.

Ek wou Jansen aanvanklik hieroor kritiseer, maar toe onthou hierdie voormalige skoolhoof, hoeveel keer hy dit vir sy leerders én onderwysers gesê het. Die ding met 'n cliché is mos juis dat dit so waar is dat jy dit oor en oor wil gebruik.

Soos wat daar vandag verwys word na ou Chinese spreekwoorde, wat inderwaarheid die lesse was van die groot wysgeer, Confucius, sal daar na dese baie stemme opgaan in die trant van Volgens 'n bekende spreekwoord deur Jonathan Jansen... Hiermee suggereer ek glad nie dat Jansen vandag die gelyke van die Chinese wysgeer is nie! Wel, ten minste, nog nie. Maar wie sal dan ooit vir Confucius kan nadoen?

Ek sou die lesers nog heelwat besig kon hou met Jansen se onderhoudende briewe, maar julle moet darem ook die boek koop om die ander 144 twiets self te lees. Oor een ding gee ek Jansen gelyk: ek wil graag sien watter universiteit met behulp van die sosiale media 'n papierlose registrasieproses sonder enige toustanery sal bewerkstellig.

Sal dit nou nie cool wees nie? Soos Nataniel op 'n keer gesê het:

Koop net die blêddie boek!

Michael le Cordeur
Afrikaans Didaktiek, Universiteit van Stellenbosch
mlecorde@us.ac.za

 


 

Omstrede land. Die historiese ontwikkeling van die Suid-Afrikaanse grondvraagstuk, 1652-2011,

 

 

Louis Changuion & Bertus Steenkamp
Pretoria, Protea Boekhuis, 2011
470pp

In geskiedeniskringe is die 2011-publikasie Omstrede land... van emeritus professor Louis Changuion en oudsoldaat generaal-majoor Bertus Steenkamp (self 'n man met 'n MA in Geskiedenis) meer as tydig. 'n Engelse weergawe van Omstrede land.., getiteld, Disputed Land: The historical development of the South African Land Issue, 1652-2011, is in Augustus 2012 deur die Protea Boekhuis vrygestel. Kommentaar van watter aard ook al is dus nog skaars maar behoort weldra deur veral etlike historiese joernale krities in oënskou geneem te word.

Omstrede land... se wording is te danke aan die finansiële ondersteuning van die H.F. Verwoerdtrust. Volgens die skrywers was hierdie befondsingsliggaam geensins voorskriftelik van watter aard ook al nie. Die skrywers het in die bestek van 20 hoofstukke 'n periode van 360 jaar se grondgeskiedenis op 'n toeligtend-krities-vraende wyse probeer dek, met die bedoeling om grondhervormingsprosesse na 1994 te kontekstualiseer en voorstelle as oplossings te bied. Die gedokumenteerde bylaes en bronne is ver oor 100 bladsye. Die skrywers beskou die doel van die boek as " 'n gekombineerde poging... om die geskiedenis van die omstrede en uiters gekompliseerde probleem van grondbesit in Suid-Afrika in perspektief te stel". Die skrywers verklaar onomwonde dat die publikasie "nie 'n akademiese verhandeling" is nie, maar "geskryf vir die algemene publiek". Verder wil die skrywers die publikasie eerder sien as by verre nie volledig nie (bedoelende dan seker inhoudelik en ten opsigte van bronne), maar dat Omstrede land... wel as waardevolle verwysingsbron kan dien vir "alle belanghebbendes en in besonder politieke besluitnemers". Met hierdie versigtige benadering lyk dit asof Changuion en Steenkamp verkies het om eerder 'n pad van veilige beskeidenheid te volg, en só dalk kritiek te ontduik. Soos dit egter soms die geval mag wees, is daar die kantlynvrae wat dikwels goed bedoelde navorsing wil oorskadu, naamlik: Waarom net blanke skrywers?; Waarom half ontwykend vir die historiese waarde en navorsing gedoen?; Het die publikasie veral, of net, ten doel om as reaksie te dien op die Departement van Grondsake se eensydige publikasie van 1994 getiteld This is our land of gaan dit oor die vul van 'n kontekstuele leemte in die Geskiedenis oor die grondgeskiedenis van Suid-Afrika?

Dit wil voorkom asof die skrywers met Omstrede land... graag grondhervormingsprosesse, soos dit tans deur die regering hanteer word, meer nasionale en internasionale samehang wil gee om te verseker dat die regering die kompleksiteit en diversiteit van grondhervorming ook histories moet beskou en besluite of gedagtes daaroor kan verdiskonteer. Beide skrywers stel dit duidelik dat die oogmerk was om so "objektief moontlik" te wees en om basies vas te stel of dit vir alle Suid-Afrikaners moontlik is om aanspraak daarop te kan maak dat die land ook hulle s'n is.

Om die geskiedenis van grond neer te pen, het die skrywers hoofsaaklik 'n chronologies-tematiese benadering gevolg. Hulle beskouing van wat "grondbesit" veronderstel, is verduidelik waarna in Hoofstuk een weggeval word met die periode 1671 tot 1835 (en tegnies dadelik n vraagteken plaas oor die subtitel van die boek wat na 1652 verwys). Hoofstuk Agt tot Agtien handel hoofsaaklik oor die grondgeskiedenis van die twintigste eeu wat merendeels chronologies, maar ook soms tematies, georden is. Tematiese refleksies dek onder meer die welbekende en veel besproke 1913-wetgewing oor grond en die Beaumont-verslag van 1916. In die laaste twee hoofstukke van Omstrede land... word die grondhervormingsbeleid van die periode 1994-2011 krities ondersoek, en vrae gevra soos of dit enigsins moontlik is om grond op n regverdige wyse van n ander af te neem. Of grondhervorming in ander lande in hierdie opsig alreeds suksesverhale kan deel, was nie n kernvraag nie, maar tog n onsekerheid waarop die skrywers graag toeligting wou verskaf.

  • Die skrywers van Omstrede land... laat die lesers met kernbesluite, naamlik dat:
  • Grondhervormingsdebatte sonder die geskiedenis van grond in die land nie sinvol kan wees nie;
  • Etlike meningsverskille bestaan oor sekere periodes van die land se grondgeskiedenis, byvoorbeeld die rol en invloed van die vroeg-negentiende-eeuse uitdelgingsoorloë op die bevolkingsverspreiding van baie groepe in Suid-Afrika;
  • Mense van 'n soort neig om hulle eie soort te soek, daarom dat skeiding en grondbesetting in die proses dikwels spontaan is en internasionaal selfs nie anders is nie;
  • Geen spesifieke groep aanspraak op grond uitgeoefen het voor veral die negentiende eeu nie;
  • n Getalleverhouding in grondbesit bloot verbeter kan word maar nooit vergelyk sal kan word nie weens baie veranderlikes;
  • Regerings van die dag baie foute gemaak het in hulle benadering tot die toepassing van skeiding tussen groepe, maar dat alle besluite ook 'n eie konteks het waarteen benaderings opgeweeg behoort te word. In die geval van Suid-Afrika behoort die impak van imperialisme gedurende eeue van koloniale heerskappy en indirekte bestuur nie onderskat te word nie.

Moontlike oplossings is ook deur die skrywers debatteer ('n terrein wat historici gewoonlik vermy), en hulle benadruk die noodsaaklikheid van deurdagte en regverdig-gedrewe grondhervorming.

Kritiek tot sover van Jan-Publiek (siende dat die publikasie veral vir hierdie lesers bestem is) is dat die sterkste punt van Omstrede land... die "magdom feite" en "primêre bronne" is, dat dit "verstommende kennis beskikbaar stel vir ingeligte debat" en eie interpretasies uit dokumente insluit. Die interpretasie van die skrywers van hierdie "magdom feite" word egter bevraagteken.1

Vanuit 'n historiese perspektief (en ongeag die skrywers se verdediging vir wie die publikasie beoog om te wees), is daar vraagtekens oor die uitsluiting van etlike historiese artikels en bronne op streeks- en nasionale vlak ten opsigte van veral die afgelope twee tot drie dekades. Dit skep die indruk dat die skrywers hoofsaaklik ten doel gehad het om die geskiedenis aan te bied sonder om genoegsaam historiografies te verkeer van hoe omvattend navorsers al daaroor gedink het, wat hulle beredeneer het as bykomend tot hierdie komplekse tema en hoe omvattend daar al selfs vanuit regeringskringe probeer dink is aan grondhervorming. Hieronder tel EM Letsoalo se "Land reform in South Africa: A black perspective" (1987); Harvey M. Feinberg se artikel oor "Pre-apartheid African land ownership and the implication for the current restitution debate in South Africa" (1995, Historia) asook sy publikasie "Black South African initiatives and the land, 1913-1948" (2009, Joernaal vir Eietydse Geskiedenis); E. Lahiff van die Universiteit Wes-Kaapland se 2008-navorsingsverslag oor die "Programme for Land and Agrarian Studies" (PLAAS), en so ook ander histories-gerigte kontemporêre indrukke van grondhervorming in koerante, veral siende dat die laaste hoofstuk veral eietyds neig en oplossings wil bied. In hierdie opsig sou 'n verslag soos dié van L Ntsebeza en R Hall (eds) getiteld "The land question in South Africa: the challenge of transformation and redistribution" wat in 2007 verskyn het, van waarde gewees het. Die Centre for Develepment and Enterprise het in 2005 ook Verslag 14 uitgebring oor "Land reform in South Africa: A 21st century perspective". Ook die PhD-proefskrif (2008) van A Westaway, getiteld "Bare life in the Bantustans (of the Eastern Cape) Re-membering the centennial South African Nation-state" is n ewe kosbare studie in n debat soos hierdie.

Of die skrywers oortuigend daarin geslaag het om juis die eensydigheid van die 1994-verslag van die Departement van Grondsake, getiteld "This is our land" met genoegsame geskiedenis as kontekstuele agtergrond te weerlê, is onwaarskynlik. n Gulde geleentheid om as eerste volledige standaardwerk te kan dien ten opsigte van die vul van die kontekstuele leemte in die historiografie oor die grondgeskiedenis van Suid-Afrika, het daarmee verlore gegaan. Die publikasie is egter die eerste van sy soort om nougeset die historiese ontwikkeling van grondbesetting in Suid-Afrika so volledig as moontlik te beskryf en te debatteer.

Elize S van Eeden
Skool vir Basiese Wetenskappe, Noordwes-Universiteit
(Vaaldriehoek Kampus) Vanderbijlpark
Elize.vanEeden@nwu.ac.za

 

 

1 J. Joubert, "Boekresensie omstrede land" vir Huisgenoot in http://huisgenoot.com/vermaak/boek-omstrede-land-louis-changuion-bertus-steenkamp/. 16 Maart 2012;         [ Links ] S. Van der Walt, "Boek oor grond-geskiedenis", Beeld, 19 Maart 2012 in http://protea.bookslive.co.za/blog/2012/03/28/louis-changuion-gesels-oor-omstrede-land-eiendomsreg-en-geskiedenis/.         [ Links ]

Creative Commons License Todo el contenido de esta revista, excepto dónde está identificado, está bajo una Licencia Creative Commons