SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.52 número4Utility or spirit? The state of the humanities in South AfricaLegal scholarship, the humanities and a few thoughts on justice índice de autoresíndice de materiabúsqueda de artículos
Home Pagelista alfabética de revistas  

Servicios Personalizados

Articulo

Indicadores

Links relacionados

  • En proceso de indezaciónCitado por Google
  • En proceso de indezaciónSimilares en Google

Compartir


Tydskrif vir Geesteswetenskappe

versión On-line ISSN 2224-7912
versión impresa ISSN 0041-4751

Tydskr. geesteswet. vol.52 no.4 Pretoria dic. 2012

 

NAVORSINGS EN OORSIGARTIKELS RESEARCH AND REVIEW ARTICLES (3)

 

Geesteswetenskappe: Vry of verkneg

 

Sciences of the spirit: Free or enslaved

 

 

Fanie de Beer

Departement Inligtingkunde, Universiteit van Pretoria fanie.debeer@up.ac.za

 

 


OPSOMMING

Hierdie artikel probeer aantoon in watter mate die geesteswetenskappe geannekseer word tot 'n posisie van knegskap aan ekonomistiese, managerialistiese, informasionistiese en reduksionistiese ideologieë. In die proses word hulle beroof van wat die mees eie aan hulle is en word hulle daardeur effektief verhinder om hul deurslaggewende, kennismatige, eties-transformasionele rol in die samelewing, in gemeenskappe en in institusionele kontekste (wetenskapkontekste ingesluit) te vervul. Die geesteswetenskappe word opgeroep om nie toe te gee aan die drastiese aftakeling en uiteindelike opoffering van hul mees eie taak wat aan hulle opgedwing word nie, soos onder andere deur ASSAf se konsensusdokument en die Manifes vir die Geestes- en Sosiale wetenskappe van die Departement van Hoër Onderwys bepleit nie, maar om hierdie taak (dit is hulle dwingende alternatief) doelgerig en roepingsbewus her-op-te-neem tot selfbevryding en samelewings-bevryding (wat insluit wetenskap en institusionele bevryding). So 'n strategie sal hulle in staat stel om inventief te werk aan die vyf sake wat bespreek is: omvattende geletterdheid (lees, skryf, dink), waarheid (in al die manifestasies daarvan), kennis (inligting en wetenskap), sin (en wêreld), mens (gees, die geestelike en geestelikheid), met laasgenoemde as die voorwaarde vir al die ander en waarsonder globale katastrofe die mensheid onteenseglik bedreig.

Trefwoorde: Geesteswetenskappe, vryheid, verknegting, alternatief, uitdaging, menswees, waarheid, kennis, geletterdheid, wêreld, sin


ABSTRACT

This article tries to identify the key issues that threaten the sciences of the spirit with their denigration, and eventually their catastrophic downfall. The economistic political economy of science, political policies promoting at all cost the Market economy, the informationalistic notion imposed on knowledge, and the scientistic-reductionistic rationalisation of science towards a position of research and nothing more are the main culprits. It is suggested that these different issues are in effect working in an hegemonical way towards the radical dismantling of the authenticity of the sciences of the spirit, the outcome of which will be, and which is to a great extent already the case, the degrading, annexation and enslavement of these sciences to the position of servitude and dependence, and eventually of obsolescence.
It is highly imperative for these sciences to realise the possibility of an alternative to this position of servitude, the condition of which would be that they remain free and independent. In order to achieve this alternative they have to be alert for various semblances of solutions to their crises, with the explicit pretence of salvaging their fate by cryptic, disastrous alternatives that will ensure and even unceremoniously deepen their downfall instead of redeeming their fate. It is not possible to salvage the sciences of the spirit by applying cosmetic strategies as if the relief of their crises can be effectuated by adding some kind of glamour to their appearance. Their unequivocal mission should be fully to commit themselves to a situation radically different from such cosmetic endeavours.
Their real and deepest challenge is perhaps more of an ethical nature in the sense of working towards a radical comprehensive materialisation of societal, political, institutional and cognitive transformation, which require a certain definite freedom from economistic parameters and superficial populistic political ambitions. As a matter of fact, their ambition, on the contrary, should be to liberate the economy from precisely such economistic enslavement, and politics from any superficial, one-sided and opportunistic strategies. They have to warn firmly against the destructive dimensions of transformational policies and strategies in favour of a more comprehensive and constructive theory of form-giving to a formless and unstructured society, with sometimes fatal consequences for individuals.
For the fulfilment of these objectives a number of central and crucially important issues should be highlighted and intensively and extensively explored by these sciences: human spirituality and what it really means to be human, both as singular individuals and as members of communities; comprehensive literacy and the ability to think, write and read properly should be pursued at all cost and against the odds; the much neglected notion of truth should be brought into the open as the most debatable issue to be reflected upon; a ruthless uncovering of reductionistic tendencies in the pursuit of the best possible science and the production, invention and dissemination of true and life-changing knowledges; the absence of meaning as the source and manifestation of nihilism should clearly be identified and its recovery and the re-invention of the world and the reenchantment of "world" as the home of meaning, should be enthusiastically pursued, fully aware of the fact that the sciences of the spirit are the only ones equipped for this lofty endeavour. Let these challenges be pursued wholeheartedly.

Key concepts: Sciences of the spirit, freedom, enslavement, alternative, challenge, being human, truth, knowledge, literacy, world, meaning


 

 

INLEIDING

Mag 'n mens nog oor gees en die geesteswetenskappe skryf, veral in Afrikaans? In wie se belang word daar dan geskryf? Daar bestaan nie eintlik meer 'n institusionele konteks waarin dit saak maak om in Afrikaans hieroor te skryf nie. Dat die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns (SA Akademie) hierdie geleentheid geskep het, is wonderlik en word opreg waardeer, maar geniet dit werklik enige amptelike erkenning? Die twee onlangse verslae oor die stand van die geesteswetenskappe (ASSAf se Konsensusdokument en die Manifes vir die Geestes- en Sosiale wetenskappe) vermeld nie eens die bestaan van die SA Akademie nie, ongeag die meer as honderdjarige bestaan daarvan en die bydraes van groot omvang aan hierdie saak. Kan daar groter disrespek wees? Aan die ander kant: Hoef die aktiwiteite noodwendig amptelike erkenning te geniet om enigsins 'n indruk te maak? Om hieroor in Afrikaans te skryf, so mag gedink word, is eintlik maar wegwensbaar; dit is hoogstens 'n irritasie deur 'n klein groepie lastiges, maar so is daar baie ander irriterende klein groepies lastiges wat dit oor allerlei ander sake het. Dit voel op 'n manier soos dagdromery oor iets wat 'n mens hoop tog dalk eendag sou kon waar word al is die kanse daarvoor skraal.

Het die geesteswetenskappe enigsins nog 'n plek? Daar is nie 'n stand nie; dit bestaan eintlik nie meer nie - nie in Afrikaans nie, maar ook kwalik in ander tale. Almal het skaam geword vir die woord "gees". Die literatuur in Amerika (Hillis-Miller 1999; Paulson 1988), Engeland (Readings 1996) en Frankryk (Cité 2012) is nie letterlik nie, maar wel figuurlik vol van deeglike en oortuigende analises en beskrywings van hierdie "ontkenning" en "afwesigheid" - en ontkenning en afwesigheid word ook deur akademici in hierdie lande ervaar wanneer daar met hulle gesels word.

Vir sover hierdie wetenskappe nog bestaan, is dit die geval by diegene wat nie van beter weet nie, of, danksy die genade van ander wat hulle maar verdra, of danksy hulle gewilligheid om eenvoudig in te val by die voorskrifte van hierdie ander.1 Indien die geesteswetenskappe, of liewer, die wetenskappe van die gees 'n stand het, of nog bestaan, is dit slegs as stiefkind, maar nie meer eg nie. Dit beteken dus dat die rolle omgekeer is. Dit waar alles begin het, in die wetenskappe van die gees, is nie meer waar alles nou afspeel nie, maar miskien ... net miskien ... tog nie waar alles uiteindelik gaan eindig nie. Daaroor is ons nog nie seker nie. Sommige is wel meer seker as ander. Die vraag bly: moet dit so wees?

Derrida (1990, 2005) se moedige en intense vertoë oor "die reg tot filosofie" wat ook in samewerking met ander gelei het tot die motivering vir en die stigting van die Collége Internationale dephilosophie in Parys in die 1980's (Derrida et al. 1982) gee blyke daarvan dat dit nie so hoef te wees nie. Hoeveel het nie al in 'n periode van nagenoeg 25 jaar wêreldwyd hieruit voortgevloei nie!

En tog: Die wetenskappe ken geen werklike taalgrense nie. Die grense bestaan wel vir sommige wetenskaplikes; hulle broei hieroor en hierop en suggereer dat slegs sekere tale gepas is vir wetenskapwerk, veral om politieke en natuurlik ook ekonomiese redes. Wetenskap kan egter in alle tale beoefen word en dit gebeur inderdaad ook. Daar is omvattende wetenskapbeoefening in Duits, Pools, Frans, Nederlands, Vlaams, Russies en selfs ook Afrikaans. Waar 'n taal bedreig word, is die uitdaging aan die wetenskaplikes en intellektueles van en in hierdie taal op sy grootste. Of die geesteswetenskappe in hierdie konteks waarin ons nou werk en skryf, nog 'n stand gaan hê, of sou kon hê, of behoort te hê, is in die hande van diegene wat Afrikaans praat.

 

FAKTORE WAT DIE STAND BEPAAL

Waarom het die geesteswetenskappe geen vanselfsprekende stand meer nie en is dit selfs nodig om na hierdie stand te vra, of is die stiefkind- of bywonerstatus werklik finaal? En wat stel die stand van die ander wetenskappe bo verdenking en wat maak hulle, almal van hulle, los van die stand van hierdie groep wetenskappe asof daar geen verband was of selfs nog is nie? Daar is myns insiens vier faktore, oorsake of redes:

1 Ekonomiese magte het oorgeneem. 'n Sterk, onversetlike ekonomistiese ideologie bepaal ons wetenskaproete, ondanks die feit dat dit self hedendaags oral erg aan die wankel is. Dit het 'n lang geskiedenis wat nou verwant is aan die politiek: die politieke ekonomie van kennis. Vergelyk byvoorbeeld Nico Stehr (1994:157) se bespreking van die ekonomiese struktuur van kennissamelewings met sy uitspraak: ".the economy of the knowledge society is, as much as the rest of global society, increasingly subjected to a rise in indeterminacy", wat duidelik die dodelike beperktheid van ekonomiese determinisme blootlê, waarvan ons almal tot slawe gemaak word.

2 Dit bring politieke beleid as 'n tweede faktor, oorsaak of rede na vore. Waaroor navorsing en onderrig gaan en eintlik behoort te gaan en waarop gefokus mag word en wat bekostigbaar is, word deur politieke beleidmakers bepaal, want hulle doen die betaalwerk, meen hulle, al is dit met belastingbetalers se geld. Intellektuele werk wat nie fondsgenererend is nie, ondanks wat anders dit aan sin, betekenis en lewenskwaliteit genereer, is nie noemenswaardig nie en dus weglaatbaar.

3 Kennis het 'n nuwe definisie gekry en 'n gedaanteverwisseling ondergaan in bogenoemde konteks. 'n Informasionistiese kennisopvatting met soliede, haas onaantasbaar vasgestelde grense en definisies van meetbaarheid, vastigheid, bestuurbaarheid en verhandelbaarheid het die kennistoneel oorgeneem (Vgl. Liu 2004). Stuksgewyse oplossings, waarteen Laszlo (1989) al lank gelede gewaarsku het, het oorgeneem. Daarom word die groot probleme, soos wêreldarmoede, die misbruik en opgebruik van die aarde, ensovoorts nooit regtig opgelos nie, nie omdat die probleme so groot is nie, maar omdat daar so 'n groot onkunde oor kennis en die ware aard daarvan ingetree het en nou veral ook oor die werkinge van kennis heers (Kyk Ballay 2010).

4 Wetenskap se betekenis is gaandeweg op 'n ander vlak vasgelê as waar dit begin het, veral in die klemverskuiwing na navorsing (Vgl. Heidegger 1983 en Latour 1998 hieroor). Daar is 'n besondere sterk wetenskap- (veral tegno-wetenskap)-opvatting wat op berekenbaarheid gegrond is wat alles oorheers en waarbinne die oortuiging heers dat dit die norm vir wetenskaplikheid en wetenskapbeoefening is en behoort te wees en dat wetenskapdefinisies finaal en absoluut in hierdie terme vasgelê behoort te word. Dissiplines, nie wetenskappe nie, wat makliker veral om utilitêre en ekonomistiese redes hierby inval, geniet vanselfsprekend voorrang. Wetenskap word losgemaak van taal, losgedink van geskiedenis en "gesuiwer" van metafisiese oorwegings, maar in die proses verloor dit sy wese - dit word bloot navorsing.

Hierdie vier faktore/oorsake/redes word op hegemoniese wyse so georkestreer dat hulle mekaar oor en weer versterk en die ondeurdringbare grense word saam bepaal - per mag en per beleid en per befondsing. Wie nie hiermee saamstem nie, moet uit. Daar word oor 'n wye spektrum (wetenskap, politiek, ekonomie, kultuur, godsdiens) 'n soort TINA-situasie ("There is no alternative") geskep - DIGA in Afrikaans: Daar is geen alternatief nie.2 Dit is 'n soort shibbolethbeleid wat gevolg word. Wie die wagwoord nie ken nie, moet uit en kry dus nie toegang tot die gemeenskap van kundiges nie. Daar is ongelukkig geen alternatief nie. Almal moet dus hierby inval, of net wegval. Tog is hierdie verhouding nie altyd so gemaklik en sonder spanning nie, miskien is hulle net in sekere opsigte meer voordelig vir die meeste van die vennote. Waarborge vir sukses ontbreek.

 

DIE AFTAKELINGSPROSES

Hiermee word 'n soort staat van beleg, van anneksasie of besetting, tot stand gebring - 'n gevangenskap deur die ekonomiese, politieke en bestuurskorps. In die proses vind verskraling van sowel wetenskap as kennis plaas. Hele wetensgebiede word stadig maar seker op die agtergrond gedwing en soms selfs met venyn as nutteloos afgemaak. Hierdie wetensgebiede word hul vryheid ontneem. Die onderskeid tussen wete en kennis het in hierdie oë weggeval. Die klem op dissiplines het oorgeneem. Die verheerliking van dissiplines bring natuurlik die ontering en ontluistering van die werklikheid mee. Meesal slaag dissiplines nie daarin of doen selfs nie eers moeite om 'n dissiplinegebied met die groter werklikheid te verbind nie. Die wete rakende 'n groter werklikheid word uitgeban en so verval die wete-om-te-doen, die-wete-om-te-leef en die-wete-om-te-dink (te teoretiseer) - alles wat dit werklik die moeite werd maak om te wees.

Ons hoor dit gereeld selfs ook uit eie geledere: Ons het nie eintlik 'n keuse nie, het ons? Wie ook al dit waag om hiervan te verskil word uitgelag of net weggeswyg indien hulle sou waag om te verskil - naïewe en kortsigtige wesens. Sodanige oorwegings beteken om die eie dood te beplan en te verseker. Dit is waar die verhouding tussen kennis en mag inkom, veral ekonomiese mag. Diep vooroordele teen die geesteswetenskappe word sistematies ingeprent - siniese en wrang, kamtig skertsende spookstories is die minste hiervan. Dit is nie waarmee enige regdenkende mense hulle behoort te bemoei nie. Dit is betekenislose retoriek wat in die lug hang, geen praktiese waarde het nie en veral vir die ekonomie natuurlik en vanselfsprekend nutteloos is. Ons leef immers in "die eeu van vulgêre pragmatisme". Butler (2004:128) verwys na die universiteitspresident wat die volgende te sê het: "[N]o one is reading humanities books anymore, .. .the humanities have nothing more to offer or, rather, nothing to offer for our times." As 'n handperdjie mag dié wetenskappe nog 'n plekkie kry, soos byvoorbeeld in allerlei dienskursusse. Hiermee word die geesteswetenskappe gekastreer, geëmaskuleer (die woorde van Heidegger 1974) en eintlik geannekseer of beset om aan "ander gode" diensbaar te wees. Hierby moet ingeval word as ononderhandelbare voorwaarde, of, alternatiewelik moet daar drasties afgeskaal word en selfs uitgefaseer word.

Daar moet nie uit die oog verloor word nie dat die geesteswetenskappe historiese voorrang geniet. Verskuiwinge en afwykinge is afwykinge van hulle. Dit is nie hulle wat van die norm afwyk nie. Wanneer van die geesteswetenskappe verwag word om in te val by 'n vasgelegde wetenskapopvatting wat hul nie self help formuleer het nie, word van hulle verwag om hulle mees eie identiteit prys te gee. Hulle pas nie in dié soort geselskap nie. Wanneer van hulle gevra word om in hierdie kennis- en wetenskapterme ekonomiese doelwitte te behaal, word daar met die intrapslag van hulle gevra om boedel oor te gee, want hulle kan nie en mag ook nie op hierdie wyse meeding nie. Wanneer die geesteswetenskappe gedwing word om hulleself tot 'n ander as hul eie kennisopvatting en werkwyse te verbind, word van hulle verwag om selfmoord te pleeg. Wanneer die geesteswetenskappe dus gedwing word om by hierdie strategieë in te val en hulle val wel in, is hulle besig of word van hulle verwag om hulle eie doodsvonnis te onderteken. Die feit dat hulle dit wel doen om almal ter wille te wees, beteken dat 'n soort Freudiaanse "doodsdrif" by hulle die oorhand gekry het. Wat beteken dit? Steiner (1978) maak dit mooi duidelik: Hulle verloën hulleself en dit wat die mees eie aan hulle is en is bereid om onder te gaan.

Hulle word op 'n dubbele wyse getref: Enersyds word hulle doodgewurg; julle kan nie meer departemente hê nie; julle kan nie meer poste kry nie; val maar hier en daar en oral in - stiefkinders, bywoners, suig aan die agterste speen. Afrikaans het mooi en treffende uitdrukkings hiervoor. Wat kwel julle so? Wat van sake-etiek, rekenaar-etiek, mediese etiek, ensovoorts, ensovoorts. Elke ding het sy etiek. Is dit nie genoeg nie. Wat word in die proses van filosofiese etiek, die morele filosofie van menswees? En filosofiese besinning rakende baie kernsake wat vir menswees, vir samelewing en individu van die grootste belang is en nie buite-om hierdie aktiwiteite besleg kan word nie. Andersyds word hulle werk en bydraes oorbodig verklaar en gemaak: ons kan sonder handboeke klaarkom; ons studente hoef nie meer te lees nie (Butler 2004 se voorbeeld). Nee hulle moet net memoriseer. Hulle hoef ook nie meer te dink nie (Evans 2004 se Killing thinking: the death of the universities); ons, dit wil sê die ekonomie, die mark, die geldmag, doen die dinkwerk vir hulle, eintlik vir almal. Intellektueles en intellektualiteit, geestelikheid verdwyn (Furedi 2004). Gaandeweg raak die proses van uitfasering stilweg voltooi. Sekere nuwe universiteite en tegniese universiteite in die land het byvoorbeeld geen "lettere" of dan filosofiedepartemente nie en dus ook nie filosofie en letterkunde in die biblioteke nie.

Kittler (1980) se verheerliking van sy eie interpretasie van die poststrukturele denke, as die uitdrywing van die gees uit die geesteswetenskappe, kan gesien word as een van die mees eksplisiete voorbeelde van die aftakelingsproses. As redakteur van 'n bundel opstelle met die titel: Austreibung des Geistes aus den Geisteswissenschaften: Program des Poststrukturalismus neem hy 'n artikel van Derrida en een oor Foucault daarin op. Enersyds is dit prematuur, want dit hou nie rekening met die Derrida van Spectres of Marx (1994) nie en ook nie met sy On Spirit (oor Heidegger) (1989) nie, wat albei ná 1980 gepubliseer is en waarin moeilik iets soos "die uitdrywing van geeste" raakgesien of raakgelees kan word, maar veel eerder iets van 'n beskermer van die idee van die gees. Foucault (1981) het sekerlik met sy "Skrifting van die self" soos ook met sy "Die moed om die waarheid te praat" (2009) (sy laaste seminaarreeks in 1984 kort voor sy dood), die noölogiese optiek van menswees duidelik uitgespel. Stiegler (2010a:115) skryf byvoorbeeld: "L'Ecriture de soi" (Die skrifting van die self) ... allows us to derive the issues of psychopower and noopolitics from Foucault's analysis of biopower." (My kursivering).

Andersyds kan 'n saak uitgemaak word dat die verband wat Kittler lê tussen die uitdryf van geeste uit die geesteswetenskappe en die "besetene van Gadara" (Markus 5) misplaas is. Hy verwys nie na "die groter geestelike mag" voor wie hierdie "bose geeste" geswig, gebuig en gesmeek het nie en wat beheer oor hulle uitgeoefen het nie. Of het hierdie uitdrywende mag werklik niks met gees te make nie? Daar word nie gewag gemaak van waarheen hierdie geeste gedrywe is nie en hy sê ook niks oor hoe die man genees is nie (hy is by sy verstand) en wat van hom geword het nie (hy wou in die nabyheid van hierdie "groter geestelike mag" vertoef het en het uiteindelik opdrag ontvang om die groot dinge wat met hom gebeur het aan ander te gaan vertel). Die kern is dat die man uit wie "die bose geeste" uitgedryf is, genees is en die genesing beteken dat "hy by sy verstand is". Wat sou dit kon beteken? Sou hy nie nou met 'n ander soort gees besiel wees nie en sou "by sy verstand wees" nie presies dit beteken nie en daarom wil hy naby "die groter geestelike mag" bly; hom met hierdie gees vereenselwig; oor hierdie gees en sy dade en sy aard aan almal gaan vertel?

'n Mens sou dus 'n baie sterk saak kon uitmaak dat die sogenaamde "poststrukturalistiese program" waarvan Kittler praat, wel die geeste waarin die geesteswetenskappe bedryf is en selfs op die huidige tydstip grootliks nog bedryf word, in die sin van 'n humanistiese, subjektivistiese, idealistiese, ideologistiese en kapitalistiese gees, sou wou uitdryf, maar dan is dit gees in 'n heel ander sin as gees soos dit in hierdie opstel gebruik word, naamlik as die wesenskenmerk van menselewe in die volheid daarvan. Dít sou veel eerder klop met die geeste van Markus 5. Soos vir hierdie man, bly ook vir die geesteswetenskappe, uit wie die geeste gedryf is, nog iets oor. Hulle is by hulle verstand. Dit beteken om by die gees en vol van die gees en geïnspireer deur die gees te wees, maar dan 'n ander gees. Kittler sou 'n sterk punt kon maak dat, ná die uitdrywing van die geeste uit die geesteswetenskappe, hierdie wetenskappe juis "by hulle verstand" sou kom, wat beteken om met groot entoesiasme en baie geïnspireerd hulle ware geesteswerk te verrig, ware geesteswetenskappe te wees, te vertel van die wonderlikhede van die gees. "Om by sy verstand te wees" sou vir elke enkele geesteswetenskap beteken om die werklikheid, die wêreld, die syn en sin na behore te verstaan as in verbinding met en in verhouding tot die gees te wees en ooreenkomstig hierdie begrip dan te werk en te lewe.

Weliswaar beskuldig Dupuy (2002:155-180) ook die poststrukturalistiese denke van so 'n uitdrywing na die kubernetiese domein, maar dan met ferm argumente daarteen en nie vereenselwiging daarmee soos in die geval van Kittler nie. Vir hom is dit 'n diepgegriefde handeling van prysgawe van dit wat vir die wetenskappe van die gees kosbaar is.3

Oral word dus spore gesien van die aftakeling en van die armoede en frustrasie wat die soort armoedige benaderings van die uitdrywing van die gees uit die wetenskappe van die gees, wat met baie geld gepaardgaan en deur geld gedryf word, tot gevolg het. Oral word besef dat studente nie meer kan lees, skryf en selfs dink nie. Dit is besig om katastrofiese afmetings aan te neem. Dit is nie al nie. Hierdie armoede word ook gewreek op die gebied van kennis. Morin (1986) skryf oor "die patologie van kennis" wat ontstaan, oor die distorsie of verminking van kennis, danksy die versplintering daarvan in dissiplines. Ongelukkig lei die vermoording van denke en die lettere ook tot die dodelike aftakeling van die instellings self (Evans 2004). Verban die lettere en die denke en skrifting en lesing word verban. Dit ruïneer kennis, maar veral ook kennisinstellings (Readings 1996). Die waarheid bly uiteindelik in die slag, want waar ideologie oorneem, word waarheid verwring en verdring. Die verbande tussen lees, dink, skryf, ken en leef word ontwrig en geminag en dit lei tot sinsontwrigting wat ook lewensontwrigting is. Dit is dus 'n kwessie van institusionele verwoesting en aftakeling en lewensvernietiging. Geen geld kan hierdie verliese regstel nie en allermins kan dit in die supermarkte gekoop word.

Ons is eintlik met 'n omvattende selfmoordpoging besig. Om Afrikaans uit te wis, omdat dit nie die taal van die Mark is nie of om watter ander rede ook al, is maar een stappie in hierdie onafwendbare, maar terugwaartse, rigting. Taal is per slot van rekening deel van wetenskapak-tiwiteit as geestesaktiwiteit en wanneer dit uit die oog verloor word, word waar waarvan Granger (1983:13) skryf: "Science is a discourse; he who passes over this condition in silence runs a great risk of losing his way completely." Geen wonder dat Prigogine en Stengers (1989:41, 61, 67) 'n pleidooi lewer vir die noodsaaklikheid van die introduksie van 'n "narratiewe element", dus meer aandag aan die diskursiewe, in die fisika nie.

Ons is in 'n oorlog gewikkel, maar dan 'n oorlog sonder vyande, dit wil sê, eintlik in 'n oorlog met onsself (Nancy 2012:35-36) - vars uit die Eurosentriese oond - ongelukkig. Miskien is Suid-Afrika een van die beste voorbeelde van mense wat in 'n oorlog sonder vyande gewikkel is, slegs gewaande vyande, maar sodat die oorlog geregverdig kan word, word vyande gemaak van diegene wat nie regtig vyande is of wil wees nie. Die soort oorlog is egter self-vernietigend. Oorlog vernietig vyande en wanneer daar nie regtig vyande is nie, dan word die oorlogmakers self, onsself, vernietig. Daar is steeds 'n geveg aan die gang teen iets wat onherroeplik verby is. Die soort oorlog lei tot katastrofe. Vandaar 'n soort noodkreet: Daar moet 'n alternatief wees. Die res van die artikel sal probeer om iets meer van hierdie verantwoordelikheid uit te spel en te dui op die implikasies wanneer hierdie verantwoordelikheid van die hand gewys word.

 

DAAR MOET 'N ALTERNATIEF WEES

Teen hierdie agtergrond moet besef word dat die geesteswetenskappe nie bloot 'n groot taak het nie, maar dat dit by uitstek selfs 'n etiese taak is. Daar kan nie toegelaat word dat hierdie toedrag van sake, wat katastrofes van steeds groeiende omvang vir die mensdom laat ontketen, verder voortduur en vererger omdat die wetenskappe van die gees doodgesmoor word nie. Die literatuur oor moontlike katastrofes is oorweldigend, dermate dat Nancy (2012:21) selfs suggereer dat dit naby aan 'n genre kom.4 Teen so 'n agtergrond is dit die geesteswetenskappe wat hulle wesenlik andersoortige en eiesoortige taak weer met mening moet opneem, want die situasie het juis ontstaan omdat hulle gedwing word om anders as hulle mees eie te wees en ander take en identiteite as hul mees eie te aanvaar en daarmee sogenaamd in almal se belang te woeker.

Daar moet dus 'n alternatief wees - vir hulleself, vir die ander wetenskappe, vir beleidmakers en -uitvoerders, vir die gemeenskap. Daar moet 'n alternatief wees anders is die genoemde katastrofe wat deur baie voorspel word onafwendbaar. Of sou dit te vergesog wees? Daar is wel voorbeelde: die atoombom, Tsjernobil, Fukushima, burgerlike gewelddadige opstande en moorddadigheid - die skadelike gevolge van elk is wel wegdenkbaar, rasionaliseerbaar, maar uiteindelik tog wel onberekenbaar.

Gelukkig is daar ook 'n ander kant van die verhaal wat ongesiens bly, maar beslis nie nalaat om sig te laat geld nie en dus tog ruimte en hoop gee. Verskeie ter sake voorbeelde kan vermeld word: my eie situasie van geleenthede spreek boekdele; navorsers met wie ek te doen het en gehad het se situasie; oral word gapings gegee wat met oorgawe benut moet word. Ons kom nog later by die sake waarin ons veral betekenisvol kan en ook moet werk. Verskeie bestaande institusies en institusionele kontekste bied geleenthede: SA Akademie, Tydskrif vir Geesteswetenskappe, LitNet, Koers en ander Afrikaanse akademiese tydskrifte, verskeie universiteitsdepartemente en ook ander persoonlike inisiatiewe van studente en dosente. Die geleentheid van die Mini-konferensie oor die stand van die geesteswetenskappe waarvan hierdie artikel en ander 'n uitvloeisel is, is 'n sprekende voorbeeld.

In aansluiting hierby en ter ondersteuning hiervan, bestaan daar gelukkig wel besonder insiggewende uitsonderings in benadering wat van baanbrekersaard is, met oortuigende voorbeelde van argumente soos dié van Gibbons et al. (1997) en daarna Nowotny et al. (2004), wat die dringende nodigheid gevind het om alternatiewe uit te werk. Naas hulle is daar ook die insiggewende werk van baie ander wetenskaplikes en denkers van formaat, wat ook wêreldwye erkenning geniet, soos onder andere die volgende: Atlan (1986, 1994), Bohm (1989, 2004), D'Espagnat (1990), Guattari (1989), Prigogine (1997), Prigogine en Stengers (1989), Salomon (1999) - almal gesiene, internasionaal erkende wetenskaplikes en denkers. Die geesteswetenskappe, of wetenskappe van die gees, wat 'n veel wyer begrip is, kan iets bied wat niemand anders of geen ander wetensgebied kan bied nie al probeer almal hoe hard. Serres (2009b:71-85) bied 'n sprekende voorbeeld: hy verwys na "die komponering van 'n leefbare wêreld" wat deur geen ander as hierdie geestesaktiwiteite gedoen kan word nie. Al die genoemde voorbeelde artikuleer op verskillende maniere die uniekheid en onvervangbaarheid van die bydraes van die wetenskappe van die gees deur hulle beklemtoning van wêreldbeskrywing en -komponering, onsekerheid, toeval, onmeetlikheid, onbepaaldheid, wat alles buite die meetbare en weegbare en voorspelbare val, maar nie ontken en onbedink durf bly sou ons nie katastrofes wou oproep nie. Foucault (1977:169) in sy bespreking van die werk van Deleuze maak dit treffend duidelik: "It is this expanding domain of intangible objects that must be integrated into our thought: we must articulate a philosophy of the phantasm that cannot be reduced to a primordial fact through the intermediary of perception or an image, but that arises between surfaces, where it assumes meaning... ." Hierdie soort integrering en artikulasie is uniek tot die aktiwiteite van die wetenskappe van die gees.

Hiervan kan maklik afgelei word dat die bogenoemde aftakelende faktore nie is waarvoor die geesteswetenskappe gemaak is, of selfs bedoel is nie. Hulle het 'n ander, eiesoortige taak. Om dít voluit te kan doen, wat net hulle kan doen, moet hulle vrygemaak word om dit te kan doen en moet hulle hierdie vryheid, wanneer en waar dit gebied word, omhels en najaag. Die anneksasie of besetting moet bestry en opgehef word. Eerder as om deur 'n doodsdrif gedryf en mislei te word om die DIGA-keuse (TINA-keuse waarna Stiegler telkens in sy werke verwys) te aanvaar en selfs regverdiging daarvoor te soek, moet die geesteswetenskappe hul daarteen verset, aanvaar dat daar 'n alternatief is en werk of selfs stry daarvoor. Nancy (2012:103) skryf in die lig van die bedreigende katastrofes: "Ons kan gaan!...na die doel toe, na die uiterste grense toe en nog meer: Ons beskik weliswaar oor die vermoë daartoe." (My vertaling). Dit kom onder andere neer op die weiering om in 'n proefbuis gedruk te word, op 'n weegskaal geplaas en in supermarkte uitgestal te word, om dan na vore te kom met 'n eie ononderhandelbare bydrae wat die enigste manier is om katastrofes van institusionele vernietiging en lewensverwoesting te kan besweer. Nee, hierdie wetenskappe moet dringend en vrypostig aandring op die herinvensie van menslike geestelikheid, die herwinning van volle geletterdheid (van lees, skryf en dink), die geveg voer om die verwesenliking van waarheid, die artikulasie van die volle ekologie van kennis te verwesenlik en die stryd aanknoop vir menslike sinverwesenliking, waarsonder slegs ondergang wink. Hulle kan dit doen, soos geen ander wetenskap in terme van eie definisies bevoeg is om te doen nie en opgewasse is om te vermag nie. Die hele wêreld draai nie om die ekonomie, rekeningkunde en sekere natuurwetenskappe nie (soos hedendaagse ideoloë, beleidmakers en die media ons telkens wil laat glo nie) en ewemin slegs om tegno-wetenskaplike uitsette en prestasies. Inteendeel, dit het al dikwels geblyk dat hierdie wetenskappe min saligheid in enige finale sin kan verseker of waarborg.

Maar dit wat die wetenskappe van die gees moet en kan doen moet gedoen word deur op maniere te lees en te skryf en te dink wat hiermee klop. Soos Stiegler (2012:134 -144) dit duidelik maak: Ons durf nie slegs verset te pleeg en weerstand te bied nie. Dit is onvoldoende. Daar is veel meer en veel meer positief wat gedoen kan en moet word: verbeeldingryke invensie en herinvensie van ons volwaardige plek in institusionele kontekste en in die samelewings as geheel en selfs in individuele lewens. Ons skrifting moet gebeurtenisse tot dié effek word, soos Derrida (2005:13) skryf! Ons moet wys dat dit kan gebeur en moet gebeur - ondanks al die ander wetenskaplikes se vakkundige aktiwiteite wat lofwaardige werk van 'n heel ander aard baie goed vermag. Die wetenskappe van die gees moet ook toon dat niks anders verwesenlik kan word sonder hierdie bydrae nie, selfs nie eers geldmaak kan hiersonder regtig sin maak nie. In hierdie konteks word die wete-om-te-doen, die wete-om-te-lewe en die wete-om-te-dink en te teoretiseer (Stiegler) eintlik eers reg verstaan. Dit is waar die wete van wetenskap tot sy reg kom. Dit is insiggewend dat daar in verskillende tale op insiggewende wyse onderskei word tussen kennis en wete: wete en kennis (Afrikaans), Wissen en Erkenntnis (Duits), wete en kennis (Nederlands/ Vlaams), savoir et connaissance (Frans).

Hierdie alternatief vra vir 'n gevoelige gewete wat gekoppel kan en moet word aan die wete van wetenskap en aan kennis (De Beer 1990) wat gedra word deur die oortuiging dat ekonomiese wetmatigheid, informasionele kontrolemeganismes en eng reduksionistiese wetenskapopvattings, geldig en met 'n impak soos dit die geval in sekere omstandighede wel mag wees, direkte aanleiding tot verskillende katastrofes kan gee en ellende kan skep en dit inderdaad ook doen. Die impak mag wissel van die onvermoë om probleme op te los (Ballay 2010) tot die skepping van krisisse van katastrofiese omvang wat nie noodwendig so bedoel hoef te wees of beplan was nie, maar tog uiteindelik daarop kan uitloop met enorme onberekenbare en onvoorspelbare gevolge - die onberekenbare gevolge van die berekenbare en voorspelbare (Nancy 2012). Dit is die risiko waarvan Salomon (2006) en die krisis waarvan Serres (2009a) skryf. 'n Duidelike besef van en insig in dié gebreke mag die pad na 'n alternatief open. Dit moet egter geskep word, want dit is nie vanselfsprekend daar nie. Hierin kan slegs die geesteswetenskappe 'n besliste en beslissende rol speel mits daar nie aan hulle voorgeskryf word nie en hulle dus vry en onbeset bly.

 

WAAK TEEN SKYNOPLOSSINGS AS ALTERNATIEF: EKONOMIES OF POLITIES

Dit is betekenisvol dat die krisisse wel raakgesien word al gebeur dit nie deurdag genoeg nie en al is daar 'n soort skeptiese houding daaroor of dit wel die geval is. Een ding is seker: Opknapping, poetsing, aanpassing, sal nie werk nie. Kosmetiek is nie genoeg nie. Daar kan nie bloot iets beter van dieselfde ontoereikendhede gemaak word nie. So skryf Ivan Illich (1974:8-9) byvoorbeeld die volgende oor bestuur en navorsing:

It has become fashionable to say that where science and technology have created problems, it is only more scientific understanding and better technology that can carry us past them. The cure for bad management is more management. The cure for specialized research is more costly interdisciplinary research, just as the cure for polluted rivers is more costly non-polluting detergents. . (T)he attempt to overwhelm present problems by the production of more science is the ultimate attempt to solve a crisis by escalation.

Deur hierdie eskaleringstrategieë te probeer, word hulle eerder dubbel ontoereikend. Daar moet iets anders, radikaal anders, verwesenlik word. Bohm se pleidooi is vir 'n nuwe bewussyn, 'n nuwe soort intelligensie, 'n nuwe soort gesprekvoering en 'n nuwe en dieper manier van denke en refleksie oor die werklikheid en oor presies die sake ten opsigte waarvan aanspraak gemaak word dat dit die enigste eintlike sake is wat gedoen moet word. Nuwe betekenisvolheid en ook toepassingsmoontlikhede behoort hierdeur na vore te kom (Bohm 2004:138-145).

Die bogenoemde vier sake kan nie toereikend verbeter en opgepoets word tot die uitskakeling van katastrofes nie: die gebreke van reduksionismes en kennispatologieë bly ingebou. Iets heel anders moet na vore gebring word, iets wat wel daar is, maar tans geïgnoreer word. Daar is meer as een wetenskap-, kennis- en ekonomieopvatting. Dit is waar die gewete inkom: die gewete wil dat alles in berekening gebring moet word - die volle werklikheid en nie slegs die berekenbare dele daarvan nie en nie slegs enkele wetenskapopvattinge nie. Die volle werklikheid bestaan nie net uit meetbare objekte nie; kennis is veel meer as stukkies en brokkies informasie; ekonomie gaan om meer as net rand en sent, die genereer van inkomste en die rente op beleggings; dit gaan oor die reëls vir die huishouding en die kern van die reëls is om sorg te dra en om te gee. Hierdie dinge moet uitgewerk word, dit moet bedink word, daar moet deeglik daaroor besin word. Die "ekosofie" van Guattari (1989), "die huishouding van wysheid", met die klem op die lewe van die self, die gemeenskap en die omgewing behoort hier sinvol vermeld en opgevolg te word. Hierin kan slegs die wetenskappe van die gees 'n rol speel deur die alternatiewe opvatting van wetenskap en kennis en ekonomie uit te spel, mits niks in hul pad staan en aan hulle voorgeskryf word hoe en wat om te doen nie.

Indien die geesteswetenskappe wel in stand gehou moet en behoort te word, of van iets gered moet word, sal hulle dit uit eie krag, middele en vernuf en sonder sameswering moet doen. Nóg die ASSAf-strategie, nóg die Manifes van die Departement Hoër Onderwys se voorgestelde "oplossings" sal hierdie doel dien. Waarom nie? Albei is gerig op poetsering - niks anders nie - as vorme van ideologiese rasionalisering. As sodanig bied hulle nie die oplossing nie, maar vorm 'n wesenlike deel van die probleem. Wat beteken dit? Hulle aanbevelings is: Doen dieselfde wat julle toegelaat is om te doen, maar doen dit net beter. Markeer die pas maar net flinker, vinniger en deftiger. Doen wat julle doen maar volgens ons voorskrifte. Nie een van die twee raak aan die regtige probleem nie, of slaag daarin om dit behoorlik te identifiseer nie, wat bowendien ook 'n wêreldwye probleem is.5 Albei fokus op negatiewe aftakeling van wat is, sonder om die eintlike probleem aan te spreek of uit te spel.

Waarna verwys die werklike probleem? Die regtige probleem verwys na dit wat verlore gaan wanneer die reëls van die politieke ekonomie van kennis of die reëls van die partypolitiek van kennis in werking tree. Die berekenbare word uitgestal en opgehemel, of populistiese opvattinge van kennis word verabsoluteer, maar die onberekenbare en die onmeetbare word ontken of tot niet gemaak. Gees word in die proses afgetakel of gewoon ontken, kennis word verdraai, vermink en vervlak en tot handelsware verklaar, die wêreld, werklikheid en syn word ontluister en sin word verwring tot iets onsinnig en on-synig. 'n Staat van patologie, indiwidueel en sosiaal, word gaandeweg gevestig deur al die verminking, verwringing en verdraaiing deur die verabsolutering, meting en popularisering wat die pad oopmaak na vernietigende katastrofes.

Albei dokumente fokus dus op die transformasie van die geesteswetenskappe ter bevordering van eie doelwitte! En natuurlik doen elk dit op sy eie manier en met 'n eie fokus: óf die politieke ekonomie van kennis wat verhef is tot byna bonatuurlike norm, óf die partypolitiek van kennis wat ewe kritiekloos eendimensionele politiek van kennis bedryf en dit tot norm verhef. Politici was nog nooit bekend vir die luister wat hulle aan wetenskaplike kennis en insig verleen nie. In die proses word die wetenskap- en kennisopvatting geskaaf en gesnoei om by eie ideologie in te pas. Geeneen gee blyke van enige begrip van die dimensies van die term "transformasie" nie, behalwe vir 'n selfgeskepte verskraalde konsep van transformasie, hoewel albei daarmee dweep. Ewemin word die Westerse kennisopvatting in die omvattende sin daarvan gerespekteer, maar slegs verdraaiinge en verwordinge daarvan wat nooit die norm mag wees of word nie, word geteiken. As transformasie beteken internasionaal erkende publikasies, dan mis ons die punt; as transformasie beteken die ongeartikuleerde wegdoen met 'n sogenaamde eendimensionele opvatting van "Eurosentrisme" sonder meer en sonder om wat wesenlik "die Europese" of "die Westerse" verteenwoordig, behoorlik te ontgin en neerkom op die blote invoeging van inheemse kennis om dit te vervang, dan word die punt gemis! Ten diepste behoort transformasie in hierdie konteks te beteken die verandering van gesindhede, gesindhede teenoor wetenskap, gesindhede teenoor kennisvorme en gesindhede van mense teenoor mekaar. Nie een van hierdie ambisies kom naby daaraan nie. Die belangrikheid van menswees, as dít waaroor alles in hierdie wetensgebiede eintlik handel, word verswyg. Om die waarheid te sê, maak dit nie saak wat gesindhede is nie en wat daarvan gaan word nie, solank ons net publikasiepunte en navorsingsuitsette kan verhoog en solank ons net straatname en leerplanne kan verander, ongeag geskiedenis, inhoude en betekenis, dan is transformasie verwesenlik. Solank hierdie sake verwesenlik kan word, hoef "Westerse wetenskap" in die omvattende en outentieke sin, soos dit oor eeue heen ontwikkel het en baie vir die wêreld en selfs oneindig baie vir Afrika beteken het, nie in ag geneem te word nie.

 

DIE WERKLIKE UITDAGING

Dit is miskien tyd dat hierdie wetenskappe uit hul dop kruip, ophou om teruggetrokke en selfs skaam te wees, eintlik weier om langer in 'n dop ingedwing te word en verskoning te maak vir hulle bestaan en na vore te kom met 'n sterk, oortuigende, selfstandige standpunt vir hul eie saak, eerstens teen die vier genoemde "monsters" wat onder die vaandel van "die enigste" weldoeners verskyn, tweedens deur ewe oortuigend met bepaalde alternatiewe wetenskap-, ekonomie- en kennisopvattinge, wat daar wel bestaan, soos reeds voorgestel is, vorendag te kom en derdens in terme hiervan leiding aan beleidmakers (politiek en wetenskap) en wetenskapbeoefenaars te gee aangaande 'n meer verbeeldingryke dog steeds realistiese toekoms. "Ons kan gaan" skryf Nancy. Die vermoë is daar. Dit is hierdie wetenskappe wat moet toon dat hulle aan die wêreld, aan die wetenskappe, aan die wêreld van kennis, iets onvervangbaars te bied het in terme van wêreldbeskrywing wat niemand anders kan bied nie (Serres 2009b), maar op voorwaarde dat al die onverbiddelik gestelde ekonomiese en politieke voorwaardes nie vir hulle geld nie. Dit is nie 'n pleidooi vir intellektuele losbandigheid nie, maar eerder vir volle verantwoordelikheidsaan-vaarding. Wie anders kan teen die nihilisme veg, of teen etiese verval en die ideologie van etiek (Badiou, 2001), of teen ideologie sonder meer, of die verval van taal, lettere, denke, skrifting en lees, of teen die verlaging en eliminering van die gees, die geestelike en geestelikheid, of die onderwerping van al hierdie sake aan ekonomiese waardes en wetmatigheid, of die assimilasie daarvan met die masjiene van die dag en selfs van die toekoms. Die toerusting van insig, taal, fokus en begrip ontbreek eenvoudig. Serres (in Serres & Latour 1995:27-28) skryf:

Do you think that pure and simple scientific rationality is enough to make one lead a happy, responsible, and good life? What positive science, what logic, formal abstraction can bring one to reflect on death, love, others, the circumstances of history, violence, pain or suffering - in sum, on the old problem of evil? ... No - the questions formented since the dawn of time by what we call the humanities help rethink those asked today, about and because of the sciences.

Hierdie wetenskappe van die gees het wel nie die mag aan hulle kant nie, maar inderdaad die krag, die krag van die gees teen 'n ont-geestelikte bedeling en tydsgewrig, 'n bedeling waarin die gees verlaag en ontkrag is (Heidegger 1974). Kyk ook na Lévy (1997:88-89) se insiggewende onderskeid tussen mag en krag. Hiervoor moet gees en geestelikheid egter voluit herontdek en hervind word en ons skaamte daarvoor afgelê word. Dit is 'n grootse taak en uitdaging. Die geesteswetenskappe beskik oor die vermoëns; dit is geen arrogansie nie. Dít, die arrogansie, laat ons aan ander oor. Wie beskik oor die konseptuele, intellektuele, noëtiese, fantasievolle vermoëns - almal geestelike vermoëns wat ver verwyderd is van die "normale" patroon van metodevas-stelling, probleemformulering en objekbepaling van massas navorsingsprojekte - om "die gees van die tyd" te diagnoseer en te artikuleer, om waarskuwingseine teen dreigende katastrofes uit te stuur, soos wat dit in die jongste tyd gebeur en ook om die hoop te genereer dat die dreigende katastrofes omgekeer of afgeweer kan word? Dit is nie bloot fisiese, tegniese, ekonomiese, inligting en beleidsake nie, maar diepgaande geestelike sake met 'n ander soort kennis as voorwaarde. Nobelpryswenners erken dit (Lecourt 2009:41), insigte oor herontdekte filosofieë (soos Delcomminette & Mazzu 2012) oor Plato, Lordon (2010) oor Spinoza en Malabou (2005) oor Hegel bevestig dit, selfs die geestesmiddele van die tegniek wat benut kan word om geestelik te verryk, onderskryf dit onomwonde.6

Was daar 'n tyd toe dit wel gebeur het, of probeer 'n mens maar net 'n valse droomwêreld optower? Die valse, utopiese droomwêrelde het ander oorspronge en is juis deel van die valse wêrelde wat hier bestry moet word! Waarvan praat Valéry (1945) byvoorbeeld ... so asof daar wel so 'n tyd was? Was mense nie maar altyd katastrofe- en barbarisme-gerig nie? Is dit nie tog maar die beeld van die geskiedenis van die mensheid nie? Dit is waar Derrida (1981) en Stiegler et al. (2006) se verwysing na die farmakon (as beide gif en geneesmiddel) en selfs Malabou (2009) se teorie van plastisiteit (sowel vormgewing as vormvernietiging) betekenisvol na vore gehaal kan word. Daar sal altyd 'n stryd wees om die geneesmiddel te vind en te laat werk en te laat gedy, maar hierdie stryd moet gestry word anders neem vergiftiging en vernietiging oor. Hierdie stryd behels primêr die stryd om die herinvensie van die gees en geestelikheid, want dit is die noodsaaklike en ononderhandelbare voorwaarde, mits dit op remediëring gerig bly, vir die herbetowering van die wêreld. Alle ander voornemens, wetmatighede en beleidsrigtinge se sukses en voortbestaan hang hiervan af. In sy laaste hoofstuk beklemtoon Lévy (1997) die ononderhandelbare belangrikheid van die nous, die noëtiese, as die kragtige wapen van mense tot sinver-wesenliking en synsvervulling.

Waarop behoort, op die wyse waarop slegs hulle dit kan doen, gefokus te word indien ons wil hê die geesteswetenskappe moet floreer en 'n betekenisvolle plek vul? Die fokus moet onmiskenbaar wees op die brak kolle, die verwaarloosde areas of wetensgebiede, wat tans 'n groot bedreiging inhou, maar doelbewus verder brak gelaat word. Eintlik is hierdie wetensgebiede probleemgebiede van 'n komplekse aard met kennis en wete wat saamgevoeg is (transaksioneel, diskursief, konversasioneel).

In die eerste plek gaan dit om die geesteswetenskappe en dus die plek en betekenis van die gees, of die menswetenskappe en dan natuurlik om die vraag wat dit ten diepste beteken om mens te wees. Menswees is geeswees. Indien nagelaat word om menswees in terme van gees te artikuleer dan het ons met 'n ander wese as die mens te doen. Juis omdat dit vandag gebeur, raak alles wat met gees te doen het ook aangetas. Transformasie kan slegs sin maak as meer van gees-wees en mens-wees in die proses van transformasie na vore gebring word eerder as ras-wees of getalle-wees, ensovoorts. Die miskenning en aftakeling van menslike geestelikheid skep op 'n wye front diepgaande krisisse. Om die waarheid te sê, is alles wat volg sterk simptome van presies hierdie proses van aftakeling. Gees het of is 'n oriënteringsfunksie (dit gee rigting en sin), 'n verbindings-funksie (dit stig gemeenskap en sorgsaamheid), 'n kenfunksie (dit skep die wete van alle wetenskap en van tegniek, maar dit moet 'n gewetevolle wete wees), 'n skeppingsfunksie (die invensie, verbeelding, fantasie, denke span saam om wêreld en sin te skep wat almal sterk taalhandelinge is). Indien dit verval of vervlak, verval al die genoemde sake, word alles vervorm en vermink, verword alles tot barbarisme (Henry 2012, Steiner 1999). Ons kan nie by waarheid uitkom nie.

Waarheid kom min of meer nooit meer ter sprake nie. Hiervoor moet geveg word (Derrida 2005). Universiteite bely die soeke na waarheid. Dit is hulle professie. Hulle verklaar en belowe 'n onbeperkte toewyding aan die waarheid. Dit is sekerlik ook die benadering van die geesteswetenskappe. Die verskillende opvattinge oor waarheid kan tot in die oneindige bespreek word: korrespondensieteorie, openbaringsteorie, oopdekkingsteorie, diskursiewe teorie, poëties-performatiewe teorie, maar dit is presies wat binne die geesteswetenskappe en binne die universiteite bespreek moet word! (Derrida 2005:12). Wysheid, insig, begrip tel hier mee. Waarheid maak vry, nie rewolusie nie. En die uitspraak is nie bloot 'n stukkie evangelie nie. Dit ook. Dit is egter ingeweef in menslike gemeenskapteksture. By waarheid in hierdie sin kan slegs die gees ons uitbring. So beklemtoon Derrida (1989) byvoorbeeld dat Heidegger, ten spyte van sy begeerte om afskeid te neem van gees, se werke steeds daarvan vol is! Om waarheid in die omvattendste moontlike sin te artikuleer, het ons taal en die lettere, of letters en nie bloot nommers en syfers nie, voluit nodig. Foucault (2009) se "moed om die waarheid te praat" (die Griekse parrhesia), die tema van sy laaste seminaar, is hier 'n kosbare nalatenskap. Derrida (2002) se bespreking van die geskiedenis van die leuen is ewe relevant.

Ons beleef tans op 'n dramatiese wyse die aantasting van geletterdheid wat taal, lees, denke, skrifting insluit. Dit het 'n laagtepunt bereik. Beide in Engeland en Frankryk was daar gedurende Mei 2012 gesprekke hieroor in die nuusmedia. Die gees leef in en tussen die lettere en maak sy woonplek in die taal. Hierdie huis word leeg, onsinnig, slordig en muf as die gees daaruit verdwyn of verdryf word. Dit mag die gevolg wees van Kittler (1980) se vindingryke, maar mistastende, intellektuele gimnastiek. Dit bring 'n vervlakking mee in ons omgang met kennis en in ons beoefening van wetenskap. Daar moet geveg word vir die herwinning van geletterdheid teen die sistematiese en berekende prosesse van ont-lettering asof geletterdheid regtig te doen het met elitisme, ivoortoringmites en die gegoede burgery wat dan so 'n groot gevaar sou wees. Denkvolheid was bowendien nog nooit vanselfsprekend die sterk punt van die groepe wat hierteen agiteer nie. Mense kan nie aangemoedig word om beter te skryf as geletterdheid stelselmatig ontmoedig word nie; ewemin kan mense aangemoedig word om beter te dink as slegs een vorm van denke, naamlik berekening, bevorder word nie; en net so waar is dit dat dit nie sal help om mense beter te leer lees terwyl 'n reproduktiewe leeshandeling deurgaans al is wat bevorder word nie. Kan daar 'n groter uitdaging vir die geesteswetenskappe bestaan?

Daar is 'n verlies aan erkenning van die ekologie van kennis en wetenskap, waaronder die etiek van kennis, aannames, die rol van ideologie, persoonlike voorkeure, paradigmas en kennis aangaande kennis (soos Morin 1983, 1986, 1991) dit artikuleer. Laasgenoemde, met sy sterk pleidooi vir en indringende bespreking van 'n noösfeer en 'n noölogie, is op die voorpunt van 'n pleidooi vir die herinvensie van die gees, van die erkenning van die nous (noölogie en noösfeer) in die wetenskapwêreld. Sy hele paradigmatologie is 'n geestesdokument wat veg teen die verminking en patologie van kennis wat volgens hom aan reduksies en versnippering toe te skryf is. Soos gees word ook kennis afgetakel en geherdefinieer om binne ideologiese raamwerke in te pas. Naccache (2010:64) beskryf eksplisiet hoedat beide Nazisme en Kommunisme hulle ideologieë gebruik het vir "'n ware utilitaristiese kaping van kennis in diens van militêre, politieke, sosiale of rassistiese doelwitte" ter bevordering van hulle eie ideologiese agendas. Vanselfsprekend lei dié soort verlies aan kennis tot 'n verlies aan sin.

Die voortgaande bedreiging van die nihilisme, die verlies aan of afwesigheid van sin, moet afgeweer word sodat wêreldskepping (Nancy 2007) verwesenlik kan word, sodat die wêreld 'n tuiste vir almal - en alles - kan word. Barrau en Nancy (2011:11) se definisie van die verband tussen wêreld en sin sê dit alles en hulle verbind dit ook aan geestelikheid: "Die sin van 'wêreld' ... vorm die kernpunt waar al die aspekte en al die insette rakende 'sin' in die algemeen, saamgebind word." Heidegger verbind ook wêreld as sin-konstruksie en gees met mekaar en albei selfs ook met taal. Die geesteswetenskappe het 'n taak om te veg vir sin teen ondergang, katastrofe en barbarisme. Michel Serres (2009a:71-85) gee 'n omvattende beskrywing van ons wêreld en beklemtoon dan illustratief dat dit eintlik maar net die geesteswetenskappe (filosofie, letterkunde, kunste) is wat so 'n soort droomwêreld van netwerke van sin kan komponeer, maar ook moet komponeer. Hy vra dan ook watter ander wetenskap dit kan doen? Guattari (2002) het die gedagte al vroeër beklemtoon: "Die filosofie is noodsaaklik vir menslike bestaan." Vir Barrau en Nancy (2011:83-84) word sin in verband gebring met die hoogste perspektief, met 'n laaste doelwit (einde) (hetsy van geskiedenis, wysheid of saligheid). Dit is by uitstek die probleemveld vir die geesteswetenskappe in die belang van menswees.

Hierdie wetenskappe moet op die voorpunt wees van transformasie en nie beteuterde, selfbejammerende slagoffers daarvan nie, veral in die lig van die transformasie-uitputting wat ons daagliks beleef. Ons moet met ons insette demonstreer wat "ware transformasie" eintlik beteken: 'n transformasieproses van ongeletterdheid en ont-lettering tot geletterdheid; van leuenagtigheid en misleiding tot waarheid en die moed om waarheid te praat en te lewe; van informasionisme tot kennis en van navorsing terug na die wete van wetenskap en kennis in die volle sin van die woord; van onsin, nihilisme, wêreldverlies en wêreldloosheid na volheid van sin en wêreldopluistering en -herbetowering; van ontgeesteliking, geesloosheid en onmenslikheid, na geestesvolheid, geestelike waardes en ware menswees.

Hierdie transformasie handel nie slegs oor nommers of syfers nie, of is nie 'n beweging weg van letters na nommers nie, maar oor letters en syfers, wat weer in kontraktuele of transaksionele verbintenis met mekaar staan en mekaar dus komplementeer. Soos Egéa-Kuehne (2005:44) dit na aanleiding van Derrida stel: "One must grasp the incalculable [letters] and the calculable [syfers] both and at the same time as well as the transaction between the two." En weer: soos digitalisering van alles eensydig verarmend werk moet die literalisering van alles saam met digitalisering van alles, tot verryking van alles lei en dit is die werk van die gees. Dit moet 'n staande proses en praktyk van refleksie en hersiening in Heidegger (1983) se sin wees, dus 'n diepgaande proses wat alles omkeer. Dit is per slot van rekening waarvoor gees staan - lewendig, dinamies, soekend, indringend, hersienend, hervormend, verdiepend ten opsigte van menswees in al die aspekte daarvan, die volle waarheid, omvattende kennis, omvangryke wêrelde van sinsvervulling.

 

SLOT

Ons ken die slagspreuk van Marx (Sy elfde stelling teen Feuerbach): Ons het nou genoeg probeer om die wêreld te verstaan; ons moet dit nou verander. Michel Serres voel egter dat dit tyd is om hierdie slagspreuk om te keer: ons het nou genoeg verander aan die wêreld; dit het tyd geword om die wêreld te verstaan. My weergawe sou wees dat transformasie sonder interpretasie lei tot konsternasie (verbasing, ontsteltenis, verbystering). 'n Mens kan hiervoor aansluit by Catherine Malabou (2012) se teorie van plastisiteit waarin plastisiteit drie dinge kan beteken: die gee van vorm, die ondergaan van vorm, maar veral dan ook die vernietiging van vorm wat van die grootste belang is vir enige transformasieproses. Laasgenoemde bespreek sy in 'n klein boekie Die ontologie van die ongeluk: 'n opstel oor destruktiewe plastisiteit. Wat met transformasie sonder toereikende interpretasie gebeur, is ongeluk (ander noem dit katastrofe, barbarisme, domheid, ens.). Hierdie ongeluk is 'n wesenlike saak, 'n ontologiese saak. My oordeel is dat die twee transformasiedoku-mente rakende die geesteswetenskappe gaan lei tot 'n intellektuele en 'n geestelike ongeluk ('n konsternasie) met onherstelbare verdere skade wat berokken kan word aan kennis, die wetenskappe, navorsings- en onderriginstellinge, waarheid, menswees en sin, soos wat elders in die wêreld besig is om te gebeur, vanweë die gebrek aan interpretasie en soos dit op baie ander terreine in ons land besig is om te gebeur.7 Ons sit in Suid-Afrika met 'n wesenlike ongelukstoneel terwyl die redes daarvoor op die verkeerde plekke gesoek word. Ware transformasie moet ons hier uithelp en dit kan slegs gebeur indien ons die geveg aanknoop oor en in belang van die vyf sake wat genoem is: omvattende geletterdheid (lees, skryf, dink), waarheid, kennis (en wetenskap), sin (en wêreld), mens, gees, die geestelike en geestelikheid, met laasgenoemde as die voorwaarde vir al die ander.

Die wetenskappe van die gees kan nie sit en toekyk hoe al hierdie sake vernietig word deur verwronge ekonomismes, potsierlike mensbeelde en ideologiese barbarismes en idiotismes nie. Dan neem ons deel aan die fatale oorlog sonder vyande, die oorlog teen onsself, wat die waarborg bied vir selfvernietiging. Om hierdie uitdaging in Afrikaans te aanvaar en indringend en diepgaande op volgehoue wyse aan al die genoemde sake aandag te gee, sou selfs 'n besondere lansie vir die taal breek.

 

BIBLIOGRAFIE

ASSAf (Academy of Science of South Africa). 2011. Consensus study on the state of the humanities in South Africa: status, prospects and strategies. Pretoria: ASSAf.         [ Links ]

Atlan, H. 1986. Entre le crystal et la fumée: essai sur l'organisation du vivant. Paris: Seuil.         [ Links ]

Atlan, H. 1994. A tort et a raison: intercritique de la science et du mythe. Paris: Seuil.         [ Links ]

Badiou, A. 2001. Ethics: an essay on the understanding of evil. London: Verso.         [ Links ]

Ballay, J. 2010. Le mythe de l'intelligence collective. http://arsindustrialis.org/le-mythe-de-lintelligence-collective-0. Afgelaai: 2010/10/25.         [ Links ]

Barrau & Nancy, J-L. 2011. Dans quelles mondes vivons-nous? Paris: Galilee.         [ Links ]

Bohm, D. 2004. On creativity. London: Routledge Classics.         [ Links ]

Bohm, D. & Peat, 1989. Science, order and creativity. London: Routledge.         [ Links ]

Butler, J. 2004. Precarious life: the powers of mourning and violence. New York: Verso. Cités: philosophie, politique, histoire, 50. (2012).         [ Links ]

Cohen, T. 2001. Introduction: Derrida and the future of in Jacques Derrida and the humanities: a critical reader, edited by Tom Cohen. Cambridge: Cambridge University Press.         [ Links ]

De Beer, C.S. 1990. Wetenskap en gewete. Pretoria: RGN.         [ Links ]

Department of Higher Education and Training. 2011. Report commissioned by the Minister of Higher Education and Training for the Charter for Humanities and Social Sciences. Pretoria: Department of Higher Education and Training.         [ Links ]

Delcomminette, S. & Mazzu, A. 2012. L'idée platonicienne dans la philosophie contemporaine: jalons. Paris: Vrin.         [ Links ]

Derrida, J. 1981. Dissemination. Chicago: The University of Chicago Press.         [ Links ]

Derrida, J. 2002. The history of the lie, in Without alibi. Stanford: Stanford University Press.         [ Links ]

Derrida, J. 1990. Du droit a la philosophie. Paris: Galilee.         [ Links ]

Derrida, J. 2005. The future of the profession or the unconditional university (Thanks to the humanities that could take place tomorrow), in Deconstructing Derrida: tasks for the new humanities, edited by P.P.         [ Links ]

Trifonas & M.A. Peters. New York: Palgrave MacMillan.         [ Links ]

Derrida, J., Chatelet, F., Faye, J-P.& Lecourt, D. 1982. College international, philosophie. Rapport présenté á M. Jean-Pierre Chevènement, Ministre d'Etat, Ministre de la Recherche et de l'Industrie, France.         [ Links ]

D'Espagnat, B. 1990. Penser la science ou les enjeux du savoir. Paris: Bordas.         [ Links ]

Dupuy, J-P. 2000. The mechanization of the mind. Stanford: Stanford University Press.         [ Links ]

Dupuy, J-P. 2002. La mécanisation de l'esprit, in Avions-nous oublié le mal? Paris: Bayard.         [ Links ]

Egéa-Kuehne, D. 2005. Right to humanities: of faith and responsibility, in Deconstructing Derrida: tasks for the new humanities, edited by P.P. Trifonas & M.A. Peters. New York: Palgrave MacMillan.         [ Links ]

Evans, M. 2004. Killing thinking: the death of the universities. London: Continuum.         [ Links ]

Foucault, M. 1977. Theatrum philosophicum, in Language, Counter-memory, practice. Ithaca: Cornell University Press.         [ Links ]

Foucault, M. 2008. The courage of truth. New York: Picador. Furedi, F. 2004. Where have all the intellectuals gone? London: Continuum.         [ Links ]

Gibbons, M., Limoges, C., Nowotny, H., Schwartzman, S.; Scott, P. & Trow, M. 1994. The new production of knowledge: the dynamics of science and research in contemporary societies. London: Sage.         [ Links ]

Granger, G-G. 1983. Formal thought and the sciences of man. Dordrecht: D.Reidel Publishing Company.         [ Links ] Guattari, F. 1989. Les trois ecologies. Paris: Galilee.         [ Links ]

Guattari, F. 2002. "Laphilosophie est essentielle a l'existence humaine". La Tour d'Aigues: Editions de l'Aube.         [ Links ]

Heidegger, M. 1974. An introduction to metaphysics. New Haven: Yale University Press.         [ Links ]

Heidegger, M. 1983. De tijd van het wereldbeeld. Tielt: Uitgeverij Lannoo.         [ Links ]

Henry, M. 1990. Du communisme au capitalisme: théorie d'une catastrophe. Paris: Odile Jacob.         [ Links ]

Henry, M. 2012. Barbarism. London: Continuum.         [ Links ]

Hillis Miller, J. 1999. Black holes. Stanford: Stanford University Press.         [ Links ]

Illich, I. 1973. Tools for conviviality. London: Calder & Boyars.         [ Links ]

Kittler, F. 1980. Austreibung des Geistes aus den Geisteswissenschaften: Program desPoststrukturalismus. Paderborn: Ferdinand Schoningh.         [ Links ]

Laszlo, E. 1989. The inner limits of mankind: heretical reflections on today's values, culture and politics. London: Oneworld Publications.         [ Links ]

Latour, B. 1988. The pasteurization of France. Cambridge (Mass.): Harvard University Press.         [ Links ]

Latour, B. 1998. From the world of science to the world of research. Science, 280:208-209.         [ Links ]

Lecourt, D. 2009. L 'age de la peur: éthique, science et société. Paris: Bayard.         [ Links ]

Lévy, P. 1997. Collective intelligence: mankind's emerging world in cyberspace. New York: Plenum Trade.         [ Links ]

Liu, A. 2004. The laws of cool: knowledge work and the culture of information. Chicago: The University of Chicago Press.         [ Links ]

Lordon, F. 2010. Capitalisme, désir et servitude (sur Spinoza et Marx). Paris: Amsterdam Poches.         [ Links ]

Malabou, C. 2005. The future of Hegel: plasticity, temporality and dialectic. London: Routledge.         [ Links ]

Malabou, C. 2012. Ontology of the accident: an essay on destructive plasticity. Cambridge: Polity Press. Manifes sien Department of Education.         [ Links ]

Morin, E. 1983. Social paradigms of scientific knowledge. SubStance, 39:3-20.         [ Links ]

Morin, E. 1986. La méthode 3. La connaissance de la connaissance/1. Paris: Seuil.         [ Links ]

Morin, E. 1991. La méthode 4. Les idées: leur habitat, leur vie,leurs moeurs, leur organisation. Paris: Seuil.         [ Links ]

Naccache, L. 2010. Perdons-nous connaissance? De la mythologie a la neurology. Paris: Odile Jacob.         [ Links ]

Nancy, J-L. 2007. The creation of the world or globalization. New York: Suny Press.         [ Links ] Nancy, J-L. 2012. L'Équivalence des catastrophes. Paris: Galilee.         [ Links ]

Nowotny, H., Scott, P. & Gibbons, M. 2004. Re-thinking science: knowledge and the public in an age of uncertainty. Cambridge: Polity Press.         [ Links ]

Paulson, W.R. 1988. The noise of culture: literary texts in a world of information. Ithaca: Cornell University Press.         [ Links ]

Paulson, W.R. 1997. Writing that matters. SubStance, 83:22-36.         [ Links ] Prigogine, I. 1997. The end of certainty. New York: The Free Press.         [ Links ]

Prigogine, I. & Stengers, I. 1989. Tussen tijd en eeuwigheid. Amsterdam: Uitgeverij Bert Bakker.         [ Links ]

Readings, B. 1996. The university in ruins. Cambridge (Mass.): Harvard University Press.         [ Links ]

Salomon, J-J. 1999. Survivre a la science: une certaine idée du futur. Paris: Albin Michel.         [ Links ]

Salomon, J-J. 2006. Une civilisation a hauts risques. Paris: Editions Charles Leopold Mayer.         [ Links ]

Serres, M. 1997. Science and the humanities: the case of Turner. SubStance, 83:6-21.         [ Links ]

Serres, M. 2008. La guerre mondiale. Paris: Le Pommier.         [ Links ] Serres, M. 2009a. Temps des crises. Paris: Le Pommier.         [ Links ]

Serres, M. 2009b. Écrivains, savants etphilosophes font le tour du monde. Paris: Le Pommier.         [ Links ] Stengers, I. 2009. Au temps des catastrophes: résister a la barbarie qui vient. Paris: La Découverte.         [ Links ]

Stehr, N. 1994. Knowledge societies. London: Sage.         [ Links ]

Steiner, G. 1978. In Bluebird's castle: some notes towards the re-definition of culture. London: Faber & Faber.         [ Links ]

Stiegler, B. 2012. États de choc: bêtise et savoir auXXIe siècle. Paris: Mille et une nuits.         [ Links ]

Stiegler, B. & Ars Industrialis. 2012. Reenchantment of the world. London: Continuum.         [ Links ]

Valéry, P. 1945. La liberté de l'Esprit, in Regards sur le monde actuel et autres essais. Paris: Gallimard.         [ Links ]

 

 

FANIE DE BEER is Emeritus Professor van die Departement Inligtingkunde, Universiteit van Suid-Afrika en tans Buitengewone Professor in Inligtingkunde aan die Universiteit van Pretoria. Hy gradueer in Landbou en Filosofie (doktorale werk) aan die Universiteite van Pretoria en Parys X, Nanterre, Frankryk, onderskeidelik. Hy doseer Inligtingkunde, Wysbegeerte en Kommunikasie-kunde aan verskillende universiteite, onderneem navorsing op al hierdie gebiede en verwante subge-biede. Hy publiseer daaroor en doen konsultasie-werk oor kennisskepping, -benutting en -dissemi-nasie. Onder sy publikasies tot op datum tel 6 boeke (as outeur), 5 boeke (as redakteur), 95 wetenskap-like artikels en verskeie navorsingsverslae. Hy doen tans ekstensief navorsing en publiseer oor die volgende temas: die filosofie en teorie van inligting in die wydste sin van die woord, met besondere klem op die individuele en sosiale implikasies van inligting; navorsingsmetodologiese uitdagings; filosofieë en teorieë van tegniek en tegnologie; kennisinvensie, -disseminasie, -benutting en -bestuur; lees- en interpretasieteorieë en die bestaande gelet-terdheidsnood; en oor die her-invensie van menslike spiritualiteit, noölogie en die gees van ons tyd.

FANIE DE BEER is Professor Emeritus of the Department of Information Science, University of South Africa and is currently Extraordinary Professor of Information Science at the University of Pretoria. He graduated in Agriculture and Philosophy (doctoral work) at the University of Pretoria and Paris X, Nanterre, France, respectively. He taught Information Science, Communications, and Philosophy, undertook research in all these disciplines and related sub-disciplines and was involved in consultation work in the area of knowledge utilisation and information dissemination. To date he has published 6 books (as author), 5 books (as editor), 95 scientific articles, and a number of research reports. He is currently extensively engaged in research and publishes on the following themes: the philosophy and theory of Information in the widest possible sense, with special emphasis on the individual and social implications of information; research-methodological challenges; philosophies and theories of technics and technology; knowledge invention, dissemination, utilisation and management; reading and interpretation theories and the existing literacy needs; and on the re-invention of human spirituality, noology and the spirit of our age.

 

 

1 Vergelyk die insiggewende studie van Liu (2004) in hierdie verband.
2 Vergelyk Stiegler et al. (2006) hieroor.
3 Kyk veral ook na sy deeglike studie oor die geskiedenis van die neurowetenskappe (Dupuy 2000).
4 Enkele voorbeelde: Henry (1990, 2012), Salomon (2006), Serres (2008, 2009a), Steiner (1978, 1999), Stengers (2009), en Nancy (2012) self, het noemenswaardige werk in hierdie verband gedoen.
5 Vergelyk Liu (2004), Hillis-Miller (1999) en Paulson (1988).
6 Kyk hiervoor na Barrau en Nancy (2011), na Stiegler et al. (2006) en na Dupuy (2002).
7 Vergelyk byvoorbeeld die onlangse spesiale uitgawe van die Franse tydskrif Cité wat handel oor die aftakeling van die universiteitswese.

Creative Commons License Todo el contenido de esta revista, excepto dónde está identificado, está bajo una Licencia Creative Commons