SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.52 número4On the SpiritualSciences of the spirit: Free or enslaved índice de autoresíndice de materiabúsqueda de artículos
Home Pagelista alfabética de revistas  

Servicios Personalizados

Articulo

Indicadores

Links relacionados

  • En proceso de indezaciónCitado por Google
  • En proceso de indezaciónSimilares en Google

Compartir


Tydskrif vir Geesteswetenskappe

versión On-line ISSN 2224-7912
versión impresa ISSN 0041-4751

Tydskr. geesteswet. vol.52 no.4 Pretoria dic. 2012

 

NAVORSINGS EN OORSIGARTIKELS RESEARCH AND REVIEW ARTICLES (3)

 

Nut of' gees? Die stand van die geesteswetenskappe in Suid-Afrika1

 

Utility or spirit? The state of the humanities in South Africa

 

 

Benda Hofmeyr

Departement Filosofie, Universiteit van Pretoria benda.hofmeyr@up.ac.za

 

 


OPSOMMING

In hierdie bydrae word die bevindinge en aanbevelings van die Academy of Science of South Africa (ASSAf) se verslag oor die toestand waarin die geesteswetenskappe in Suid-Afrika verkeer wat in 2011 gepubliseer is, krities onder die loep geneem. Na 'n kort opsomming van die belangrikste gevolgtrekkings van die verslag, word 'n kritiese blik op die metodologie van die sogenaamde "konsensusstudie" gewerp. Daarna word die aandag gevestig op bepaalde vooronderstellings waarop die wyer debat rondom die stand van die geesteswetenskappe berus. ASSAf se bevindinge op grond waarvan hulle ook bepaalde aanbevelings maak oor hoe die gediagnoseerde krisis aangepak kan word, poog om 'n aantal van hierdie problematiese vooronderstellings te bevraagteken. By nadere ondersoek blyk hierdie (laasgenoemde) pogings egter net 'n skynprotes te wees teen die instrumentele logika van die heersende neoliberale bestel wat in werklikheid die verslag se pleidooi onderlê. Die belangrikste vooronderstellings sluit in: (1) die vooronderstelde waterskeiding tusssen die geesteswetenskappe en die natuur- of eksakte wetenskappe; (2) die onkritiese aanname dat enige vorm van wetenskap (ook die geestesweten-skappe) "regstreeks bruikbaar" moet wees. (3) Laastens, die vooronderstelling dat "die geesteswetenskappe" na 'n konsekwent gedefinieerde en koherente geheel verwys terwyl dit in werklikheid 'n sambreelterm is wat in verskillende kontekste (in díe verslag teenoor ander verslae asook die breër debat, byvoorbeeld) verskillend aangewend word en dikwels 'n ander versameling dissiplines saamgroepeer. Ten slotte, lig ek my pleidooi ten gunste van die "nieregstreekse bruikbaarheid" van die geesteswetenskappe toe aan die hand van die dekonstruktiewe strategie wat die binêre logika van nut-of-niks wil uitdaag met 'n "beide/en"-benadering wat daarop aandring dat die nieregstreekse nuttigheidswaarde van kritiek 'n noodsaaklike voorvereiste is vir werkbare alter-natiewe oplossings.

Trefwoorde: geesteswetenskappe; krisis; Suid-Afrika; nut; nieregstreekse bruikbaarheid; instrumentalisme; neoliberalisme; Ubuntu; gees; konsensusstudie; Academy of Science of South Africa (ASSAf); kritiek; dekonstruksie; binêre logika; dubbelbinding; beide/en


ABSTRACT

This contribution critically considers the findings and recommendations of the report published in 2011 by the Academy of Science of South Africa (ASSAf) on the state of the humanities in South Africa. The study concludes that the humanities are in crisis, but despite the crisis situation in which they find themselves it is undeniable that they are indispensable. The humanities are indispensable because of their use or instrumental value as providing "the glue of Ubuntu" (ASSAf 2011:32) and nurturing "the intellectual lifeblood of a democratic project" (ibid., pp. 14, 137). In other words, the humanities are of vital importance because they teach us how to be truly "human" and how to live with other "humans" in "society" by uncovering our mutual dependence and fostering a feeling of solidarity (ibid., p. 25). The fact that the humanities convey essential analytical, interpretative and problem solving skills is constitutive oftheir human- and community-building capacity.
According to ASSAf this ideal model of what it means to be "human" and what constitutes "community", which the humanities are equipped to realise, is premised on the humanistic philosophy of Ubuntu that defines the essence of being human in terms of our mutual connectedness. The study opposes this "ideal" model to the neo-liberal model that engenders competition, individualisation, self-responsibilisation and fragmentation instead of a sense of solidarity and fellow feeling. In other words, the study defends the humanities on the basis of their instrumental value in the realisation of the ideal (Ubuntu-inspired) model of community. They teach essential communication skills that facilitate "being truly human" or a "human-centred community", which the study considers to be the heart or "spirit" of the humanities (p. 33).
Ubuntu - essentially the idea that we are truly human only through other people - is not a politically neutral concept or philosophy, however. It is fundamentally complicit with the neo-liberal politico-economic policy which the post-apartheid government took over from their predecessors. Hence, the crux of my critique against the ASSAf-study is that it defends the humanities on the basis of their instrumental value and at the expense of their intrinsic value that supposes an autonomous position independent of political, economic or ideological prejudices or affiliations. The instrumental nature of their exposition undermines the "spirit" of the humanities, which they claim to defend and rests upon the very neo-liberal logic which they in principle oppose.
The critique levelled against the ASSAf-report proceeds by first critically assessing the methodology of the so-called "consensus study". Attention is subsequently drawn to the various presuppositions that underlie the wider debate on the state of the humanities. The findings of the study, which form the foundation for a number of recommendations as to how the diagnosed crisis of the humanities might be addressed, aim to uncover the problematic nature of these presuppositions. Upon closer investigation, however, these attempts at problematisation prove to be more of an apparent than a real protest against the instrumentalist logic of the existing neo-liberal order, which in reality animates the argumentative thrust of the entire study. The most important presuppositions include the following: (1) the presupposed rigid demarcation between the humanities and the natural or hard sciences; (2) the uncritical assumption that all forms of science (including the humanities) should have a "direct" or immediately apparent use-value. And finally, (3) the presupposition that "the humanities" refers to a consistently defined and coherent whole, while in actual fact it serves as an umbrella term deployed differently in different contexts (in this study as opposed to other reports as well as the wider debate, for example), often grouping a slightly different collection of disciplines together that conflates the difference between "abstract" (e.g. Philosophy) and "applied" (e.g. Education or Law) forms of knowledge.
In the final instance, an argument is put forward in favour of the "indirect utility" of the humanities, an argument that is fleshed out with the aid of the deconstructivist strategy that challenges the binary logic of "utility-or-nothing" with a "both/and" approach that insists that the indirect utility of critique serves as necessary condition for practicable alternative solutions.

Key concepts: humanities; crisis; South Africa; use; indirect utility; instrumentalism; neo-liberalism; Ubuntu; spirit; consensus study; Academy of Science of South Africa (ASSAf); critique; deconstruction; binary logic; double bind; both/and


 

 

INLEIDING

In Augustus 2011 het die Academy of Science of South Africa (ASSAf) hul sogenaamde "Konsensusstudie oor die stand van die geesteswetenskappe in Suid-Afrika" gepubliseer - die eerste verslag van dié aard wat ooit in Suid-Afrika saamgestel is. Die verslag kom tot die gevolgtrekking dat die geesteswetenskappe ook in Suid-Afrika2 in 'n krisis verkeer, maar ondanks hierdie krisis is dit onontkenbaar dat die geesteswetenskappe onontbeerlik is. Die geestes-wetenskappe is onontbeerlik vanweë hul bruikbaarheid of instrumentele waarde as dit wat, in die woorde van die verslag, die "gom (of saambindende krag) van Ubuntu" voorsien (ASSAf 2011: 32) en "die intellektuele lewensaar van die demokratiese projek voed" (ibid., pp. 14, 137). Met ander woorde, die geesteswetenskappe is van kritieke belang, want hulle leer ons hoe om waarlik mens te wees en hoe om saam met ander mense as gemeenskap te leef deur ons onderlinge afhanklikheid bloot te lê en 'n samehorigheidsgevoel te koester (ibid., p. 25). Die mens- en gemeenskapsvormende vermoë van die geesteswetenskappe is opgesluit in die kommunikasie-, interpretasie- en probleemoplossingsvaardighede wat hulle oordra.

Die ideale mens- en gemeenskapsmodel wat die geesteswetenskappe sodoende kan help realiseer is dus volgens ASSAf geskoei op die humanistiese filosofie van Ubuntu waarvolgens die essensie van menswees ons onderlinge verbondenheid is. Die verslag stel hierdie "ideale" model teenoor die neoliberale model wat in plaas van onderlinge verbondenheid, kompetisie, indiwidualisering, self-verantwoordeliking en fragmentering in die hand werk. Die geestes-wetenskappe word dus verdedig op grond van hulle instrumentele waarde in die realisering van die ideale (Ubuntu-)gemeenskapsmodel, dit wil sê hulle leer essensiële kommunikasievaardighede wat ware menswees of 'n "mens-gesentreerde samelewing" (p. 33) - wat die verslag as die kern of die gees van die geesteswetenskappe beskou - fasiliteer.

Ubuntu - in wese die idee dat ons slegs waarlik mens is deur ander mense3 - is egter nie 'n polities neutrale konsep of filosofie nie, maar wesenlik ineenverweef met die neoliberale politiek-ekonomiese beleid wat die postapartheid regering van hulle voorgangers oorgeneem het. Die kern van my kritiek teen die ASSAf-verslag is dus dat dit die geesteswetenskappe verdedig op grond van hulle instrumentele waarde ten koste van hulle intrinsieke waarde wat 'n outonome posisie, los van politieke, ekonomiese of ideologiese vooroordele of affiliasies, impliseer. Die instrumentele aard van hulle betoog ondermyn dus die "gees" van die geesteswetenskappe wat hulle eweseer verdedig en berus op die einste neoliberale logika waarteenoor hulle in prinsipe krities staan.

In wat volg gee ek eers 'n kort uiteensetting van die bevindinge en aanbevelings van die ASSAf-verslag oor die toestand waarin die geesteswetenskappe in Suid-Afrika verkeer. Ek rig vervolgens 'n kritiese blik op die metodologie van die sogenaamde "konsensusstudie". In die daaropvolgende afdeling wend ek my tot bepaalde vooronderstellings waarop die wyer debat rondom die stand van die geesteswetenskappe berus. ASSAf se bevindinge op grond waarvan hulle ook bepaalde aanbevelings maak oor hoe die gediagnoseerde krisis aangepak kan word, poog om 'n aantal van hierdie problematiese vooronderstellings te bevraagteken. By nadere ondersoek blyk hierdie (laasgenoemde) pogings egter net 'n skynprotes te wees teen die instrumentele logika wat in werklikheid die verslag se pleidooi onderlê. Om my argument dus verder toe te lig, sal ek 'n aantal van hierdie vooronderstellings en hoe dit aan bod kom in die verslag kortliks onder die loep neem. Dit sluit die volgende in: (1) die vooronderstelde waterskeiding tusssen die geesteswetenskappe en die natuur- of eksakte wetenskappe; (2) die onkritiese aanname dat enige vorm van wetenskap (ook die geesteswetenskappe) "regstreeks bruikbaar" moet wees; laastens, (3) die vooronderstelling dat "die geesteswetenskappe" na 'n konsekwent gedefinieerde en koherente geheel verwys terwyl dit in werklikheid 'n sambreelterm is wat in verskillende kontekste (in dié verslag teenoor ander verslae asook die breër debat, byvoorbeeld) verskillend aangewend word en dikwels 'n ander versameling dissiplines saamgroepeer.

 

'N KORT UITEENSETTING VAN DIE ASSAF-VERSLAG: BEVINDINGE EN AAN-BEVELINGS

Die ASSAf-verslag dring aan op die onontkenbare waarde van die geesteswetenskappe wat desnieteenstaande in 'n krisis verkeer juis omdat hulle oënskynlik onbetwisbare gebruikswaarde nie as sodanig - buite konsensuskringe - deur die hoëronderwysbeleid, befondsingsinstansies, natuur- of "eksakte" wetenskaplikes en die breë samelewing erken word nie. Wat die krisis presies inhou word deeglik in die verslag omskryf. Die simptome van die krisis word vervat in 'n lys van tien kernbevindinge (ASSAf 2011:15-16) wat onder andere die aansienlike afname in inskrywings en gegradueerdes, die hoë staaksyfer, die vergrysing van die akademiese en navorsingswerkmag en die afname in gedoktoreerde navorsers in die geesteswetenskappe insluit. Onder die kernbevindinge word ook die volgende oorsake vir die ondergang van die geesteswetenskappe geïdentifiseer: die afname in regeringsbefondsing van hoëronderwysinstellings, institusionele keuses, die sistematiese bevoordeling van Wetenskap, Tegnologie, Ingenieurswese en Wiskunde deur die postapartheid regeringsbeleid, gebrekkige skoolvoorligting en die lae impak van geesteswetenskaplike navorsingsuitsette.4

Myns insiens is die belangrikste kernbevinding - wat moontlik beide 'n oorsaak en gevolg van die krisis is - egter hul uitspraak dat die geesteswetenskappe al vir die afgelope 15 jaar in sterwensnood verkeer, 'n toestand van "intellektuele stagnasie"5 wat natuurlik gedeeltelik, maar nie geheel en al nie, aan eksterne faktore toegedig kan word. Met ander woorde, as dit wél die geval is dat die geesteswetenskappe al 'n dekade en 'n half besig is om te stagneer, is dit nie miskien eerder as gevolg van intrinsieke kwaliteite of faktore nie? Moontlik hou geestesweten-skaplike navorsing nie tred met die tyd nie en ly dit aan 'n gebrek aan relevansie, aktualiteit of kontekstualisering omdat dit verknog geraak het aan vergange, gebiedsgebonde of "vakbeperkte" (spesialistiese) temas, konsepte of probleemstellings sonder om dit altyd of genoegsaam te kontekstualiseer in terme van hedendaagse of wyer verwikkelinge?6 Of moontlik kan die "stagnasie" toegeskryf word aan die selfondermynende aard van bepaalde krities-filosofiese navorsingstemas soos die poststrukturalistiese en "postmoderne" aandrang op die afwesigheid van enige metafisiese fondamente of op die dood (of minder drastiese "desentrering" en gevolglike [minder suksesvolle] poging tot 'n "hersentrering") van die subjek wat 'n onmiskenbare nihilistiese nasleep tot gevolg gehad het? Dit sou daarop kon dui dat ons hier te make het met 'n konstitutiewe of wesenlike krisis wat eerder gesien moet word as 'n produktiewe fase van "kreatiewe vernietiging" (schöpferische Zerstörung) á la Schumpeter? Dit wil sê, bepaalde intrinsieke faktore gee moontlik periodiek aanleiding tot 'n "krisis" wat juis die moontlikheidsvoorwaarde is vir groei en nuwe ontwikkelinge. Krisis in dié sin is nader aan sy Griekse wortels wat dui op 'n keerpunt of wending eerder as 'n verknorsing of nypende toestand. Die ASSAf-verslag oorweeg egter geensins die moontlikheid van sodanige intrinsieke oorsake nie, maar skryf die stagnasie toe aan eksterne faktore, soos onvoldoende befondsing, 'n bevooroordeelde regeringsbeleid, gebrekkige skoolvoorligting en die vooroordele van ouers en studente wat op soek is na studierigtings wat loopbaanvooruitsigte waarborg of artikuleer in voor die hand liggende beroepe.7

Myns insiens bied die vraagstuk rondom die oënskynlike intellektuele stagnasie van die geesteswetenskappe belangrike stof tot nadenke indien dit vanuit die intrinsieke hoek beskou word, maar die verslag self baseer hierdie bevinding nie op 'n inhoudelike assessering van die tipe navorsing wat die afgelope twee dekades in die geesteswetenskappe verrig is nie, maar op die kwantiteit of hoeveelheid boek- en artikeluitsette wat gelewer is. Die uitsette word deurgaans beskou as onvoldoende (klein hoeveelheid vakkundige boekpublikasies) of van swak "kwaliteit" (die groot hoeveelheid artikels wat gepubliseer word in tydskrifte wat nie (of nog nie) deur die regte (veral internasionale) outoriteite geakkrediteer is nie). Met die uitsondering van Teologie (wat aansienlik meer uitsette gelewer het) en Regsgeleerdheid (wat aansienlik minder uitsette gelewer het), word die "stagnasie" toegeskryf aan die feit dat die gelewerde uitsette in die geesteswetenskappe slegs 20-22% van die totale uitsette uitmaak, 'n persentasie wat oor die afgelope 15 jaar onveranderd gebly het (ASSAf 2011:126-127).

Onder die sterkpunte van die verslag tel die feit dat dit op post-94 beleidsbesluite fokus en hoe die hoëronderwyssisteem die afgelope 18 jaar daardeur geraak is, eerder as om, soos die Nzimande-manifes byvoorbeeld, apartheid die geykte sondebok te maak. Die verslag erken verder dat daar groot onderlinge verskille in die stand van die onderskeie geesteswetenskaplike dissiplines bestaan en dat enige ingreep onderling gedifferensieerde vakspesifieke strategieë, eerder as een oorkoepelende beleidsverandering vir die geesteswetenskappe as 'n geheel, sal vereis.

 

METODOLOGIE GEPROBLEMATISEER: KONSENSUS OP GROND VAN UITSLUITING

Die bevindinge van die ASSAf-verslag is die uitvloeisel van 'n opmerklike metodologie wat myns insiens nie onproblematies is nie: 'n sogenaamde "konsensuspaneel" is deur ASSAf saamgestel wat uit 'n groep deskundiges en belanghebbende partye in die geesteswetenskappe (in 'n ruim sin van die begrip) bestaan wat na afloop van 'n uitgebreide ondersoek 'n verslag op grond van konsensus saamgestel het. Die konsensusverslag is vervolgens na eksterne referente gestuur, waarna dit deur ASSAf vir openbare debat vrygestel is. Die openbare debat het dus gevolg op en is bepaal deur 'n interne konsensus wat deur die paneel bereik is terwyl die oorleg van die paneel geensins deur eksterne oorweginge of perspektiewe beïnvloed is nie (ASSAf 2011: 20).

Die prosessuele uitsluiting het egter ook 'n verdere - meer fundamentele - inhoudelike uitsluiting tot gevolg. Die verslag se bevindinge kan gesien word as die uitkoms van wat John Higgins (2012:6) elders 'n "uitsluitende konsensus"8 noem. Dit betref 'n oënskynlik algemene konsensus wat bereik is (en slegs bereik kon word) deur die uitsluiting van 'n bepaalde perspektief wat dit moontlik kon bevraagteken of weerspreek. Die ASSAf-konsensus voer 'n pleidooi ten gunste van die geesteswetenskappe op grond van laasgenoemde se direkte (maar onderwaardeerde) bruikbaarheid in die realisering van 'n Ubuntu-geïnspireerde gemeenskap wat in werklikheid die intrinsieke waarde of outonome gees van die geesteswetenskappe uitsluit, wat juis in hulle outonomie onherleibaar tot een bepaalde ideologiese affiliasie of enige vorm van regstreekse instrumentalisering is.

Hierdeur wil ek nie die geesteswetenskappe terug in die kamp van onbruikbare ivoortoring-denke plaas nie, maar eerder daarop aandring dat hulle juis bruikbaar is in hulle onmiddellike onbruikbaarheid. Met ander woorde, ek wil 'n beroep doen op 'n meer genuanseerde, tweede-orde of nieregstreekse gebruikswaarde wat nie tot 'n neoliberale of neoliberaliserende meganisme reduseer kan word nie. Dink, byvoorbeeld, aan die waarde van kritiek: kritiek, soos hier gerig teen die ASSAf-verslag, is nie regstreeks bruikbaar as iets wat onmiddellike alternatiewe oplossings bied nie, maar eerder indirek bruikbaar as dit wat die vanselfsprekende problematiseer, ongesiene swakplekke en nuwe perspektiewe blootlê, en sodoende die weg kan baan vir 'n heruitvinding van die bestaande. Die nosie van "nieregstreekse gebruikswaarde" wat geassosieer kan word met 'n bepaalde definisie van kritiek sal later in die betoog meer breedvoerig aangeraak word.

 

PROBLEMATIESE VOORONDERSTELLINGS WAAROP DIE DEBAT RONDOM DIE STAND VAN DIE GEESTESWETENSKAPPE BERUS

ASSAf se bevindinge op grond waarvan ook bepaalde aanbevelings gemaak word oor hoe die gediagnoseerde krisis aangepak kan word, poog om 'n aantal problematiese vooronderstellings waarop die wyer debat rondom die stand van die geesteswetenskappe berus, uit te daag. Telkens blyk hierdie pogings egter om niks meer as skynbewegings te wees nie. Om my argument verder toe te lig, sal ek 'n aantal van hierdie vooronderstellings en hoe dit aan bod kom in die verslag kortliks onder die loep neem.

(1) Die eerste vooronderstelling is die onbetwisbare waterskeiding tussen die geestes-wetenskappe en die natuur-, eksakte of oënskynlik meer toegepaste of bruikbare wetenskappe. Maar hoe volhoubaar is sodanige waterskeiding werklik? Een argument in die verslag wat die waterskeiding uitdaag, is dat "'n mens nie Wiskunde en Wetenskap kan leer aan mense wat nie kan lees nie", soos die American Academy of Arts and Sciences uitwys (ASSAf 2011:19). Maar sodanige argument reduseer die geesteswetenskappe weereens tot 'n diensknegrol verantwoordelik vir die geletterdheid van studente en versterk die "sagte-harde [eksakte] wetenskap" teenstelling. Die feit dat die sogenaamde "krisis van die geesteswetenskappe" valslik van die ander wetenskappe geïsoleer is, kan sekerlik deur meer substansiële argumente gestaaf word.9

(2) Die tweede vooronderstelling is die direkte gebruikswaarde van alle vorme van wetenskapsbeoefening (ook die geesteswetenskappe). ASSAf se verslag word plek-plek toegelig met 'n pseudo-kritiese ingesteldheid teenoor die heersende instrumentalistiese aanname dat alle vorme van wetenskap of kennis regstreeks bruikbaar moet wees,10 maar by nadere ondersoek blyk dit dat die kern van hulle pleidooi ten gunste van die geesteswetenskappe op die einste instrumentalistiese prinsipes berus. Die onontkenbare waarde van die geesteswetenskappe, voer die verslag aan, is juis gesetel in hul bruikbaarheid of instrumentele waarde as dit wat die "gom (of samebindende krag) van Ubuntu" voorsien (ASSAf 2011:32) en die intellektuele lewensaar van die demokratiese projek voed (ibid., pp. 14, 137). As die geesteswetenskappe in 'n krisis verkeer wat enersyds met die persepsie van hulle bruikbaarheid te make het, maar andersyds en meer fundamenteel met intrinsieke kwaliteite (die toestand van "intellektuele stagnasie" waarin die geesteswetenskappe, volgens die verslag, al die afgelope 15 jaar verkeer, kan nie uitsluitlik aan eksterne faktore gewyt word nie, soos hierbo aangevoer), kan die krisis slegs gedeeltelik en heel oppervlakkig aangespreek word deur 'n beroep te doen op hulle (onderskatte of onderwaardeerde) gebruikswaarde.

ASSAf se pleidooi kan gevolglik gesien word as geskoei op die onbetwisbare, oral erkende "waarheid" (wat dus die teikengehoor van die verslag nie tot ander insigte sal bring nie) dat vernuwing en vooruitgang deur gesofistikeerde kommunikasie-, interpretasie- en probleem-oplossingsvaardighede moontlik gemaak word (ASSAf 2011:27). Die verfyning van hierdie vaardighede val miskien tradisioneel binne die domein van die geesteswetenskappe, maar verleen geensins 'n uitsonderingsposisie of spesiale status aan die geesteswetenskappe nie, aangesien dit ook 'n wesenlike deel van alle wetenskappe uitmaak. Die afname in die aantal inskrywings en slaagsyfer in die geesteswetenskappe, byvoorbeeld, het oënskynlik nie 'n impak op die ander wetenskappe nie. As dit wel gesien word as die primêre nut van die geesteswetenskappe, word hulle tot 'n gemeenskapsopheffingsprojek gereduseer wat kommunikasievaardighede oordra. Dit is en was nog nooit die doel van hoër onderwys nie en daarom is hoër onderwys ook nie verpligtend soos primêre en sekondêre onderwys nie. Inteendeel, ek wil aanvoer dat 'n pleidooi wat gevoer word in die naam van die regstreekse bruikbaarheid van die geesteswetenskappe juis hulle saambindende gees op grond waarvan ASSAf hulle in die eerste plek wil verdedig,11 ondermyn.

Dit ís natuurlik waar dat kommunikasie-, interpretasie- en probleemoplossingsvaardighede verhoudinge tussen mense bevorder en in hierdie opsig is die geesteswetenskappe wél instrumenteel in die opbou en instandhouding van gemeenskappe. Maar sodanige pleidooi word gelewer op grond van die neoliberale beginsel van regstreekse nutswaarde in plaas daarvan om 'n beroep te doen op die intrinsieke waarde van die geesteswetenskappe wat myns insiens ten minste 'n kritiese gees veronderstel wat juis bestaande maniere van doen, dink en wees bevraagteken sonder 'n teleologiese motief of alternatiewe antwoorde. Deur dieselfde logika te gebruik, word die einste regstreeks-instrumentele logika wat in elke moontlike ander opsig indiwidualiseer en fragmenteer, juis onderskryf. Dit is die logika van die toenemende globale neoliberale orde wat gebaseer is op 'n "rasionaliteit" wat instrumentaliteit en toerekenbaarheid hoofsaaklik in terme van ekonomiese meerwaarde definieer. In só 'n konteks word beleidmakers beskou as "rasioneel" as hulle die relatiewe koste en voordele van alternatiewe handelinge kan bereken, en op grond van hierdie berekeninge 'n keuse kan uitoefen wat die verwagte nuttigheidswaarde sal maksimaliseer.12

John Higgins (2010:3) se onderskeid tussen "stelling" (statement) en "betoog" (address) poog om die ASSAf-verslag se aandrang op die instrumentele waarde van die geesteswetenskappe te verklaar. Of 'n saak oortuigend gestel word, hang van twee faktore af: (1) die kwaliteit van die stelling of die waarheidswaarde van die getuienis; en (2) die kwaliteit van die betoog, dit wil sê die mate waartoe die stelling of getuienis daarin slaag om sy gehoor te oortuig. Stellings het 'n beter kans om te oortuig as dit met die agtergrond van heersende aannames en geldende idees rekening hou. Anders gestel: as jy gehoor wil word buite jou eie konsensuskring, moet jy die taal van jou toehoorders praat. ASSAf se poging om hulle betoog in 'n neoliberale vorm te giet wat vir hulle teikengehoor van beleidmakers aanneemlik sal wees, kan moontlik deur minder kritiese lesers as een van die verslag se sterk punte beskou word, maar daar is 'n fyn lyn tussen die gebruik van die vyand se taal en die verkondiging van die vyand se boodskap.

Die intrinsieke waarde van die geesteswetenskappe, wat grootliks gesetel is in hulle neiging om te teoretiseer of te sistematiseer in terme van abstrakte "onderliggende beginsels" en die soektog na betekenis of waarheid, is nie gemaklik versoenbaar met die wêreld van praktiese (utilitêre of pragmatiese) kennis en handeling nie. Die toekoms van die geesteswetenskappe is juis op die spel omdat belangelose kennis van waarde ontdaan is, dit wil sê kennis sonder politieke of ekonomiese agendas, kennis suiwer vir sy eie ontwil. Kennis wat nie regstreeks instrumenta-liseerbaar is nie, is natuurlik nie nutteloos nie. Die bruikbaarheid lê juis in die onmiddellike onbruikbaarheid wat outonomie verseker.

(3) Hoewel die ASSAf-verslag by tye die groot onderlinge verskille in die stand van die onderskeie geesteswetenskaplike dissiplines erken, slaag die verslag nie daarin om die vooronderstelling in die meeste beleidsdokumente dat "die geesteswetenskappe" na 'n konsekwent gedefinieerde en koherente geheel verwys en dat die onderskeie dissiplines dus oor dieselfde kam geskeer kan word, op 'n konsekwente manier uit te daag nie. In terme van sy bevindinge en aanbevelings word die onderlinge verskille so goed as nietig verklaar. Ons weet egter dat "die geesteswetenskappe" in werklikheid 'n sambreelterm is wat in verskillende kontekste (in díe verslag teenoor ander verslae asook die breër debat, byvoorbeeld) verskillend aangewend word en dikwels 'n ander versameling dissiplines saamgroepeer.

ASSAf se gebruik van die term sluit ook onderwys, regsgeleerdheid, die uitvoerende kunste en die sosiale wetenskappe in (ASSAf 2011:19-20). Soos die hedendaagse hoëronderwysbestuur wat die geesteswetenskappe en die sosiale wetenskappe in een organisatoriese eenheid saamsnoer, gaan 'n belangrike onderskeid tussen twee verskillende vorme van kennis (rofweg abstrak en toegepas) verlore in die saamgroepering. Sodoende kan die regstreekse gebruikswaarde (of tekort daaraan) van die een onder die vaandel van die ander verberg (of "verkoop") word - vergelyk, byvoorbeeld, 'n vakdisipline soos filosofie met die onderwys of regsgeleerdheid. Die doel van hoër onderwys binne 'n neoliberale bestel wat op ekonomiese groei, beroepsvooruitsige en herverdeling (cf. GEAR) gerig is, ís per slot van rekening opleiding en nie soseer onderwys nie. As 'n vorm van opleiding wat oplossings moet bied en 'n voor die hand liggende gebruikswaarde moet hê deur die vaardighede wat dit oordra, is die geesteswetenskappe ontdaan van die einste gees van beredeneerde kritiek wat op 'n onregstreekse manier ons vryheid verseker (cf. Vale 2010: 3,10,12,13), dit wil sê die soort kritiek wat die manifeste bestaande orde sowel as die latente diskoers wat die "politiek van waarheid" onderlê, bevraagteken. Die instrumentele logika gaan hand aan hand met 'n bestuurskultuur wat administreer, burokratiseer, toesig hou en werksverrigting evalueer aan die hand van meetbare uitsette en ander ekonomiese kriteria wat juis die ware verligtingsdoel van kennis, waarop die geesteswetenskappe floreer, verswelg, naamlik om die mens te bevry van onderdrukkende voorskriftelike eksterne outoriteite wat hulle onthef van die verantwoordelikheid om vir hulleself te dink (Kant 1784).

 

KRITIEK: NUT OF NIKS?

Myns insiens is dit noodsaaklik om in dié konteks die aanname dat die "krisis van die geesteswetenskappe" benader kan word met 'n vereenvoudigde binêre reg-of-weg (of nut-of-niks) benadering, uit te daag deur onsself weereens te herinner aan die kompleksiteit en ineenverweefde aard van die mens en haar werklikheid wat uiteraard beide die objek en subjek13 van geesteswetenskaplike navorsing uitmaak. So 'n dekonstruktiewe benadering wil ontkom aan die verligtingsafpersing wat kritici die mond wil snoer wat net kritiseer of problematiseer sonder om alternatiewe oplossings te bied. Met ander woorde, óf jy lewer kritiek in die naam van 'n beter alternatief óf jy word die stilswye opgelê. Ek wil dus hier 'n beroep doen op 'n vorm van dekonstruktiewe kritiek teen die instrumentalistiese logika van die bestaande neoliberale bestel wat nie die aandrang op bruikbaarheid bekritiseer in die naam van sy teenpool, onbruikbaarheid nie, maar 'n pleidooi lewer vir 'n "beide/en" benadering wat vertaal kan word as die moontlikheid van "onregstreekse bruikbaarheid". Dit is dus nie 'n argument geloods teen bruikbaarheid as sodanig nie, maar 'n erkenning van die feit dat die aandrang op regstreekse bruikbaarheid noodwendig 'n verskraling van die gees van die geesteswetenskappe is. Met ander woorde, as geesteswetenskaplike navorsing vinnig moet geskied en oornag vertaal moet word in kwantifi-seerbare uitsette wat subsidie kan werf, word dit in 'n "harder/eksakter" wetenskaplike vorm gegiet wat dit juis ontdaan van die einste gees van beredeneerde kritiek wat op 'n "stadiger" of onregsteekse manier reg kan laat geskied aan die kompleksiteit van die menslike toestand en realiteit. Om krities en konstruktief na te dink oor die mens en haar omgewing kan nie gereduseer word tot die vaslegging van waarneembare resultate op grond waarvan direkte afleidings gemaak kan word nie. Geesteswetenskaplike insigte is altyd en per definisie 'n fyn weefkuns wat die empiriese kontekstualiseer in terme van 'n breë spektrum van aspekte, 'n kontekstualisering wat op sy beurt weer op 'n meta-vlak en met die nodige kritiese afstand of insig wat slegs met die verloop van tyd kom, beskou moet word. Sodanige kontekstualisering van geesteswetenskaplike waarnemings, ontdekkings of nuwe insigte geskied in terme van onder andere die sielkundige (d.i. die innerlike), die sosiologiese (die sosiale omgewing), die geskiedkundige en argeologiese (die verlede), die politieke (of politiek-ekonomiese), die kulturele (dink aan die bydraes van literatuurstudie, van kuns, van antropologie, ens.), terwyl 'n kritiese of meta-beskouing van die gekontekstualiseerde bevindinge op sy beurt weer binne die domein van die filosofiese val.

Onregstreekse bruikbaarheid veronderstel dus dat iets bruikbaar kan wees juis omdat dit "direk" of "onmiddellik" onbruikbaar is en dat dié "beperking" nie soseer beperkend werk nie, maar bemagtigend, dit wil sê as 'n bevorderende of bemagtigende limiet. Die reg-of-weg logika wat aandring op nut-of-niks is geskoei op die veronderstelling dat nut en onbruikbaarheid teenpole is wat mekaar uitsluit. As 'n dekonstruktiewe benadering gevolg word, kom ons egter tot die insig dat die betekenisse van oënskynlik teenoorgestelde begrippe nooit volledig bepaald is nie, maar oorgelewer is aan 'n proses waarin "identiteit" altyd in 'n proses van onderhandeling is en dat oënskynlike teenpole mekaar in werklikheid impliseer eerder as wat hulle mekaar uitsluit.14 Die teenpool tussen nut (slegs kritiek wat werkbare alternatiewe oplossings regstreeks bied) of niks is dus geskoei op die instrumentalistiese logika wat ook 'n waterskeiding veronderstel tussen teorie en praktyk of denke en handelinge. Die idee van onregstreekse bruikbaarheid dui daarop dat denke en handelinge indirek maar wesenlik ineenverweef is, dat dit 'n konstruktiewe spanningsveld van interafhanklikheid vorm wat "beide/en" veronderstel teenoor óf kritiek óf stilswye. Die dubbelbinding veronderstel verder dat werkbare alternatiewe oplossings nie gevind kan word sonder kritiek nie.

 

SLOTOPMERKINGS

As die geesteswetenskappe inderdaad in 'n krisis verkeer, is een van die primêre en sekerlik onrusbarendste faktore die feit dat hulle ontdaan is van hul kritiese en bevrydende gees wat ooit (nie so lank gelede nie) daartoe in staat was om nuwe diskoerse te voorskyn te roep, om met kritiese perspektiewe vorendag te kom wat daadwerklike dissensus teweeggebring het, en daardeur soms selfs die sisteem laat steier het.15 Die laat-kapitalistiese wereldorde waarin privatisering en indiwiduele selfbelang die botoon voer ten koste van ons verantwoordelikheid en generositeit teenoor ander, het daarin geslaag om ook die eens kritiese gees van die geesteswetenskappe te onderwerp aan die allesbepalende vereiste van ekonomiese produktiwiteit. Die kommodifisering van kennis impliseer toenemend meer druk op akademici om hul navorsingsuitsette te verhoog (beide in kwantiteit en kwaliteit) wat aanleiding gee tot geheimhouding en proteksionisme ten koste van openbare debat en kennisuitwisseling. Dit lei op sy beurt tot die fragmentering, radikale indiwidualisering en gevolglik die depolitisering van die akademiese gemeenskap wat nie langer daartoe in staat is of daarin belangstel om enige rol in die openbare sfeer buite die ivoortoring te vervul nie.

Uit hul verslag blyk dit dat ASSAf nie onbewus is van of onkrities staan teenoor die neoliberale verloop van sake nie.16 Die kritiese trant skyn egter bloot lippehulde te wees aangesien dit wesenlik onverenigbaar en selfs teenstrydig is met hul verdediging van die geesteswetenskappe op grond van hul onderwaardeerde bruikbaarheid, aan die een kant, en hul saambindende gees aan die ander kant. Met ander woorde, ASSAf se essensieel tweebenige pleidooi ten gunste van die geesteswetenskappe word eerstens gemaak in die naam van dit wat terselfdertyd ook die spil vorm waarom hul kritiek teen die ander wetenskappe en die vermarkte universiteit draai (d.i. instrumentalisering; cf. pp. 31-32); en dié spil druis loodreg in teen die tweede been van hul pleidooi, naamlik die feit dat die geesteswetenskappe mens- en gemeenskapsvormend is, aangesien instrumentalisering juis fragmentering in die hand werk. Die geesteswetenskappe is van waarde want hulle is tóg bruikbaar in die bestaande instrumentalistiese realiteit, maar hulle waarde is gesetel in hulle gemeeskaps-vormende vermoëns wat juis die fragmenterende en depolitiserende tendens van neoliberalisme teenwerk. ASSAf wil dus hul beleidmakers oortuig deur hulle te hou by die reëls van die neoliberale spel met die troosprys dat die geesteswetenskappe daartoe in staat is om 'n saambindende pleister op die fragmenterende gevolge van vermarking en instrumentalisme te plak. Hulle is egter nie bereid om hulle te verbind tot die herpolitiserende potensiaal van die geesteswetenskappe wat daartoe in staat is om die sisteem uit te daag met wesenlike kritiek nie.

Ten slotte, die ASSAf-verslag (soos die Nzimande-manifes) het meriete, want dit plaas die benarde staat van die geesteswetenskappe in die kollig en vestig ons aandag op die feit dat die geesteswetenskappe al 'n aansienlike tyd stagneer en owerheidsteun sowel as gemeenskapsvertroue en dus hul geloofwaardigheid kwyt is. Alhoewel die verslag krities staan teenoor die heersende markgedrewe logika wat die waarde van enige onderneming in die onderwys in terme van direk waarneembare resultate as reaksie op markaanvraag meet, ontkom hul pleidooi, myns insiens, nie aan dieselfde logika nie. Ons moet onsself afvra tot watter mate die ASSAf-verslag in sy neerbuigende toon wat deurgaans die aandag vestig op die regstreekse instrumentele waarde van die geesteswetenskappe in die verwesentliking van die ideale "Ubuntu-gemeenskap", nie aan die neoliberale afpersing van regstreekse nut of niks toegee nie?

ASSAf se pleidooi eindig met die aandrang dat die geesteswetenskappe die "gom van Ubuntu" is - waarsonder ons niks anders as 'n verskeurde partysugtige nasie is nie. Dit is in hierdie konteks dat die verslag verwys na Nelson Mandela se geskiedkundige toespraak gelewer tydens die land se eerste demokratiese parlementsitting op 24 Mei 1994, waarin hy fragmente uit Ingrid Jonker se gevierde gedig, Die kind wat doodgeskiet is deur soldate by Nyanga aanhaal om gewig te verleen aan die oortuiging dat die geesteswetenskappe (nie politiek of beleid nie, maar digkuns!) die mag het om mense te verenig. Laat my toe om 'n paar versreëls aan te haal, maar verbeel u dat die kind na die geesteswetenskappe verwys, sy moeder na die vermarkte universiteit en sy vader na ons verraderlike hoëronderwysbeleid:

Die kind [die geesteswetenskappe] is nie dood nie

die kind lig sy vuiste teen sy moeder [die vermarkte universiteit]

wat Afrika skreeu skreeu die geur van vryheid en heide

[...]

Die kind lig sy vuiste teen sy vader [die hoëronderwysbeleid]

in die optog van die generasies

wat Afrika skreeu skreeu die geur

van geregtigheid en bloed

[...]

die kind is teenwoordig by alle vergaderings en wetgewings

die kind loer deur die vensters van huise en in die harte

van moeders

die kind wat net wou speel in die son by Nyanga is orals

die kind wat 'n man geword het trek deur die ganse Afrika

die kind wat 'n reus geword het reis deur die hele wêreld

Sonder 'n pas17

Só gelees verwoord Jonker se gedig die poortwagtersrol van die geesteswetenskappe wat die mens in staat stel om hul selfopgelegde onmondigheid of dissipelskap te ontkom (Kant 1784). Hoe is dit moontlik dat die einste gees wat die paswette uitgedaag het nou self slegs met 'n neoliberale pas kan bly voortbestaan, gekniehalter deur 'n instrumentele dwangbuis en ontdaan van hul gees van transformerende kritiek?

 

BIBLIOGRAFIE

Academy of Science of South Africa 2011. Consensus study on the state of the humanities in South Africa. Status, prospects and strategies". Pretoria: ASSAf (afgekort as ASSAf 2011).         [ Links ]

Derrida, J. 1984. Dialogue with Jacques Derrida. In Kearney, R. (ed.) Dialogues with contemporary Continental thinkers. Manchester: Manchester University Press, pp. 105-133.         [ Links ]

Derrida, J. 1988. Limited Inc. Evanston, IL.: Northwestern University Press.         [ Links ]

Higgins, J. 2010. Making the case for the humanities in South Africa. A research paper for the Acacemy of Science of South Africa Consensus Panel Study: "The state of the humanities in South Africa: Status, prospects and strategies".         [ Links ]

Higgins, J. 2012. "Response to Premesh Lalu". Referaat gelewer op 15 Mei 2012 in die Departement Filosofie, Universiteit van Pretoria oor die Nzimande-manifes en ASSAf se reaksie daarop.         [ Links ]

Jonker, I. 1994. Versamelde werke. Kaapstad & Pretoria: Human & Rousseau.         [ Links ]

Kant, I. 1784. "Was ist Aufklarung?" in Lotringer, S. (ed.) (2007). The politics of truth, trans. Lysa Hochroth & Catherine Porter, pp. 29-37.         [ Links ]

Morin, E. 2008. On complexity.Cresskill: Hampton Press.         [ Links ]

Vale, P. 2010. "Instead of a defence: thoughts on the humanities at home and abroad", gepubliseer in Theoria 128 (September 2011): 21-39; weergawe voorgedra op 24 Augustus 2010 aan die Fakulteit Geesteswetenskappe, Universiteit van Pretoria onder die tema, "Rediscovering the humanities in South Africa".         [ Links ]

 

 

BENDA HOFMEYR is 'n filosoof wat in sowel Suid-Afrika as Nederland werksaam is. Nadat sy haar doktorale proefskrif in Filosofie aan die Radboud Universiteit Nijmegen (RU) in Nederland voltooi het, het sy aan die Jan van Eyck Academie in Maastricht navorsing oor die politieke dimensie van kuns- en kultuurproduksie gedoen. Sy is tans aan die Departement Filosofie van die Universiteit van Pretoria verbonde as medeprofessor en tot onlangs was sy ook aan die Departement Fundamentele Filosofie van die Fakulteit Filosofie, Teologie en Godsdienswetenskap aan die RU verbonde as navorsingsgenoot en gasdosent. Afge-sien van haar gepubliseerde DPhil-proefskrif (2005), talle akademiese artikels en hoofstukke in boeke, is sy ook redakteur van twee akademiese boeke: Radical passivity. Rethinking ethical agency in Levinas (Springer, 2009) en The Walmart phenomenon. Resisting neo-liberal power through art, design, and theory (Jan van Eyck Academie Press, 2008). Besoek gerus haar webblad (www. bendahofmeyr.com) vir meer inligting oor haar navorsingsbelangstellings en publikasies.

BENDA HOFMEYR is a philosopher working in both South Africa and in the Netherlands. After the completion of her doctoral thesis in Philosophy at the Radboud University Nijmegen (RU) in the Netherlands, she conducted research at the Jan van Eyck Academie in Maastricht on the political dimension of art and cultural production. At present she is affiliated to the Department of Philosophy of the University of Pretoria as associate professor and until very recently she was also affiliated to the Department of Fundamental Philosophy in the Faculty of Philosophy, Theology and Religious Science of the RU as research fellow and guest lecturer. Apart from her published DPhil thesis (2005), numerous academic articles and book chapters, she also edited two scholarly volumes: Radical passivity. Rethinking ethical agency in Levinas (Springer, 2009) and The Walmart phenomenon. Resisting neo-liberal power through art, design, and theory (Jan van Eyck Academie Press, 2008). Visit her website (www.bendahofmeyr.com) for more information about her research interests and publications.

 

 

1 Ek wil graag Matthias Pauwels, Willie Burger en Fanie de Beer bedank vir hulle waardevolle terugvoer.
2 Hierdie artikel spruit voort uit 'n versoek gerig deur Fanie de Beer om tydens die Akademie se jaarlikse simposium (21-22 Junie 2012) 'n voordrag te lewer waarin spesifiek die ASSAf-verslag onder die loep geneem word. Die fokus is dus uitsluitlik op die bevindinge van die ASSAf-verslag en op die huidige debat oor die stand van die geesteswetenskappe in Suid-Afrika sonder om die toedrag van die geesteswetenskappe in die wyer internasionale konteks in ag te neem. As gevolg van die omvangrykheid van die internasionale debat sal 'n verdere artikel nodig wees om reg te laat geskied aan sodanige kontekstualisering.
3 In Zoeloe lui die Ubuntu-leuse umuntu ngumuntu ngabantu.
4 Die maatstawwe waarvolgens die verslag die "lae impak" van geesteswetenskaplike navorsing meet, word hieronder bespreek.
5 "The Humanities ... is in a state of intellectual stagnation and, singular innovations notwithstanding, has remained in this moribund condition for more than fifteen years" (ASSAf 2011: 15).
6 'n Artikel soos hierdie een, byvoorbeeld, kan moontlik daarvan beskuldig word dat dit 'n relatiewe lae impak sal hê omdat dit 'n konteks-spesifieke probleem aanroer in 'n medium wat dit net toeganklik maak vir 'n gedeelte van die belanghebbendes sonder om die bespreking te kontekstualiseer in terme van die wyer internasionale debat. Sodanige kritiek het meriete omdat wetenskapsbeoefening (denke of teorie) myns insiens nie skeibaar is van die wêreld van handeling of praktyk nie, dus is die wetenskap ook wesenlik daarvoor verantwoordelik om sy bevindinge in 'n toeganklike vorm oor te dra en verbande te lê met bestaande insigte ook in ander kontekste of dissiplines. Daar kan egter terselfdertyd aangevoer word dat die wetenskapsbeoefening nog altyd gekenmerk is deur "vakbeperkte" of spesialistiese debatte of probleemstellings wat net tot 'n beperkte gehoor van kundiges spreek, en dat sodanige "beperktheid" nie kwalifiseer as 'n intrinsieke kwaliteit van slegs die geesteswetenskappe nie. Origens dra sodanige "beperktheid" slegs by tot "stagnasie" binne 'n bestel wat aandring op die regstreekse bruikbaarheid van wetenskaplike bevindinge (soos meer breedvoerig hieronder aangevoer word).
7 Hierteenoor het die ASSAf-verslag bevind dat omtrent alle gegradueerdes in die geesteswetenskappe wél in die arbeidsmark geholpe raak.
8 Cf. Higgins (2012:6): "higher education policy across the world, and over the past twenty years or so, has managed to constitute the apparent paradox of an exclusionary consensus. In this, an apparent general consensus is generated by the refusal of one particular perspective - with all the benefits accruing from the particular narrowness of its focus of attention, but also all the deficits necessarily resulting from its partiality - to acknowledge the existence of other perspectives, differing in interest and scope, and yet to claim for itself an unchallengeable sovereign knowledge... In its strongest form, exclusionary consensus works by overlooking any arguments and evidence that might question, contradict or even simply modify any of its constituent tenets".
9 Die ASSAf-verslag (p. 56) wys daarop dat die lot van die geesteswetenskappe en die suiwer natuur-wetenskappe moontlik ineenverweef is in die wetenskapsbeleidsraamwerk as gevolg van laasgenoemde se beperkte begrip van vernuwing en die bevoordeling van toepassings-gedrewe navorsing: "[t]his-could create the basis for collaborative engagement, joint critiques and proposals for new approaches rather than a ghettoising 'two cultures' approach or claims to Humanities exceptionism". Die argument hier is dus nie dat die geestes- en natuurwetenskappe wesenlik ineenverweef is nie, maar dat die instrumentalistiese vooroordeel ook die natuurwetenskappe raak en dat dit die twee dus in dieselfde kamp plaas.
10 Sien byvoorbeeld ASSAf (2011:31): "This is the view that has driven the policy community to believe that the Humanities have no place in the modern economy because it believes that there is a direct link between knowledge as a productive force and the need for higher education to contribute visibly to economy and society. But his view ignores the opposite: the dangers inherent in a higher education system that subordinates itself to the presumed demands of the employment system. As government pursue the first, they invariably stress the idea of 'accountability' but what they really mean is 'instrumentality' - knowledge must be of use to society".
11 Sien, byvoorbeeld, ASSAf (2011:25): "The Humanities teach people to be 'human' to work and live with other 'humans' in 'society'. This link enables both societies and individuals to promote the idea of 'community' and to foster in it a sense of 'belonging' and 'identity'".
12 Cf. Simpson. B. 2007. "Rational Choice Theories", in Ritzer, G. (Ed.) Blackwell Encyclopedia of Sociology (available online) in Vale (2010:6).
13 'n Kompleksiteitsbenadering veronderstel dat die objek van studie (die mens en haar werklikheid) en die subjek (die mens wat die studie onderneem) gekonstitueer word in hul verhouding van wedersydse afhanklikheid en dus op 'n strukturele manier aan mekaar gekoppel is. Morin (2008:91) noem hierdie siening "co-constructivist" wat rekening hou met die feit dat "we construct the world itself which, as it were, lends us a hand".
14 In die "Afterword" van Limited Inc. verduidelik Derrida (1988:115-116) dat die ekonomie wat, volgens hom, die sisteem van betekenis beheers alle vorme van eenheid, vasgelegde of volledig bepaalde betekenis ondermyn of ongedaan maak. Hy stel dit teenoor die binêre paradigma wat veronderstel dat die betekenis van begrippe bepaal word binne 'n geslote sisteem van ander vasgelegde begrippe. Die dekonstruktiewe strategie ondermyn dus die veronderstelde suiwerheid en eenheid van konsepte wat hulle gemaklik definieer as dit óf dat, en dring aan op 'n spanningsvolle verhouding van dit en dat wat ook nooit verenigbaar is in 'n dialektiese sintese nie (Derrida 1984:110).
15 Soos die verslag ook tereg toegee op p. 29: "This questioning spirit of the Humanities was responsible for the emergence of great political and social movements that have changed the world... "
16 Die ASSAf-verslag gee wél toe dat die belang van die geesteswetenskappe heeltemal misverstaan word in die najaag van utilitêre uitkomste soos ekonomiese groei en profyt. Sien, byvoorbeeld, ASSAf (2011:3132) waarin aangevoer word dat in plaas van gemeeskapsvorming dit aanleiding gegee het tot 'n verdeelde samelewing met 'n reeks van onoplosbare probleme as nasleep - aardverwarming, wêreldwye armoede, konflik en epidemies. Die klem word geplaas op toerekenbaarheid, terwyl instrumentalisme in werklikheid op die spel is - kennis moet vir die samelewing bruikbaar wees, d.w.s. die uitsluitlike doel van hoër onderwys is om tewerkstelling te verhoog en dus het die geesteswetenskappe geen plek in die moderne ekonomie nie aangesien daar geen wesenlike dryfveer is om die kloof tussen teorie en praktyk, tussen ivoortoring en realiteit te oorbrug nie. In die vermarkte universiteit is kennis slegs van waarde as dit tot toepasbare vaardighede herlei kan word wat op sy beurt gegradueerdes toerus om 'n bepaalde werk te kan doen. Kritiek kan egter slegs waarlik krities wees as dit 'n kritiese afstand van die onderwerp van kritiek behou, iets waarin die ASSAf-verslag nie slaag nie. ASSAf lewer kritiek op die neoliberale logika terwyl dit die geesteswetenskappe in die naam van die einste logika probeer verdedig.
17 Jonker, I. 1960. "Die kind wat doodgeskiet is deur soldate by Nyanga" in Jonker 1994: 81.

Creative Commons License Todo el contenido de esta revista, excepto dónde está identificado, está bajo una Licencia Creative Commons