SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.52 número4Swartskaap: Odette Schoeman índice de autoresíndice de assuntospesquisa de artigos
Home Pagelista alfabética de periódicos  

Serviços Personalizados

Artigo

Indicadores

Links relacionados

  • Em processo de indexaçãoCitado por Google
  • Em processo de indexaçãoSimilares em Google

Compartilhar


Tydskrif vir Geesteswetenskappe

versão On-line ISSN 2224-7912
versão impressa ISSN 0041-4751

Tydskr. geesteswet. vol.52 no.4 Pretoria Dez. 2012

 

NAVORSINGS EN OORSIGARTIKELS RESEARCH AND REVIEW ARTICLES (3)

 

Redakteursnota vir Spesiale Tema – Besinning oor die geesteswetenskappe en menslike geestelikheid

 

 

Besorgdheid oor die stand van die geesteswetenskappe wêreldwyd, maar spesifiek ook hier te lande, was die impetus vir 'n spesiale uitgawe van die Tydskrif vir Geesteswetenskappe (Maart 2012) met as tema, Besinning oor menslike geestelikheid en met prof C S (Fanie) de Beer as gasredakteur. Alhoewel nie al die outeurs, soos De Beer dit in die voorwoord stel, noodwendig sy besorgdheid oor "die afwesige gees" deel nie, was almal dit eens "dat dit 'n hoogs belangrike saak is om oor die gees, geestelikheid en geestelike waarde te besin en na te dink". 'n Besinning en nadenke wat inderdaad neerslag gevind het in nege artikels en 'n vertaling van die manifes Ars Industrialis (2005), waarin "die belangrikheid van menslike geestelikheid op verskillende maniere beklemtoon" word. Hierdie indringende nadenke oor menslike geestelikheid is verder gevoer tydens 'n minisimposium van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns te Pretoria in Junie 2012.

Die viertal artikels in hierdie uitgawe is op hulle beurt enersyds 'n respons op en andersyds 'n voortsetting van nadenke oor die menslike gees of, by implikasie, die belangrikheid van die geesteswetenskappe, en moet dus saamgelees word met die artikels in die spesiale Maartuitgawe van die TGW. Danie Goosen gaan uit van die standpunt "dat die geestelike ten grondslag van die geesteswetenskappe in 'n krisis verkeer" - iets wat onder meer afgelees kan word uit die andersins uiteenlopende bydraes in die spesiale uitgawe - en ontleed vervolgens die redes vir so 'n toedrag van sake. Benda Hofmeyr stel die (kwel)vraag "nut of gees" na aanleiding van 'n kritiese lees van die bevindinge en aanbevelings vervat in die Academy of Sciences of South Africa (ASSAf) se verslag oor die "toestand waarin die geesteswetenskappe hier te lande verkeer". In sý bydrae vra Fanie de Beer of die geesteswetenskappe vry of verkneg is en toon inderdaad aan hoe die geesteswetenskappe "geannekseer word tot 'n posisie van knegskap aan ekonomistiese, managerialistiese, informasionistiese en reduksionistiese ideologieë". In haar bydrae ondersoek Karen van Marle die verhouding tussen die reg en die geesteswetenskappe in die nasleep van apartheid. Sy is eweneens krities oor die "algemene sentiment" in twee onlangse formele verslae oor die stand van die geesteswetenskappe in Suid-Afrika, die ASSAf-verslag en die Handves vir die Geestes- en Sosiale Wetenskappe (die sogenaamde Nzimande-verslag), wat volgens haar 'n "eng-funksionalistiese, nie-intrinsieke waarde" aan hierdie wetenskappe toedig. Ter illustrasie van die belang van die geesteswetenskappe bespreek sy voorbeelde van "'n respekvolle omgang met die geesteswetenskappe as deel van 'n besinning oor geregtigheid".

Die outeurs wat bygedra het tot die indringende debat oor die geesteswetenskappe in die Maartuitgawe, sowel as hierdie supplement van die Desemberuitgawe van die Tydskrif vir Geesteswetenskappe, is nie slegs verontrus oor die "knegskap" van die geesteswetenskappe nie, maar ook passievol oor die belangrikheid van hierdie wetenskappe. Fanie de Beer stel dit onomwonde:

Die geesteswetenskappe word opgeroep om nie toe te gee aan die drastiese aftakeling en uiteindelike opoffering van hul mees eie taak wat aan hul opgedwing word nie, soos onder andere deur ASSAf se konsesdokument en die Manifes vir die Geestes- en Sosiale Wetenskappe van die Departement van Hoër Onderwys bepleit nie, maar om hierdie taak (dit is hulle dwingende alternatief) doelgerig en roepingsbewus her-op-te-neem tot selfbevryding en samelewingsbevryding (wat insluit wetenskap en institusionele bevryding).

Ten einde 'n vergelykende saamlees van die artikels in die Maart- en Desemberuitgawes te vergemaklik, word hierdie afdeling ook afsonderlik in 'n supplementum gebind. Die moontlikheid van 'n vertaling in Engels en 'n afsonderlike uitgawe van al die bydraes word in die vooruitsig gestel.

 

Ina Wolfaardt-Grabe
Redakteur: Tydskrif vir Geesteswetenskappe
November 2012

Creative Commons License Todo o conteúdo deste periódico, exceto onde está identificado, está licenciado sob uma Licença Creative Commons