SciELO - Scientific Electronic Library Online

vol.52 número4Getting (a)head: embodiment and contemporary cyber cultureThe state of curriculum studies in faculties of education at South African universities índice de autoresíndice de assuntospesquisa de artigos
Home Pagelista alfabética de periódicos  

Serviços Personalizados



Links relacionados

  • Em processo de indexaçãoCitado por Google
  • Em processo de indexaçãoSimilares em Google


Tydskrif vir Geesteswetenskappe

versão On-line ISSN 2224-7912
versão impressa ISSN 0041-4751

Tydskr. geesteswet. vol.52 no.4 Pretoria Dez. 2012




Die moontlikheidsvoorwaardes van metafoor- gebruik


Conditions of possibility for the use of metaphor



DFM Strauss

Departement Filosofie, Universiteit van die Vrystaat, Bloemfontein




'n Ondersoek word ingestel na bepaalde kondisies wat die aard van metafoorgebruik onderlê en eers moontlik maak. Dit blyk dat die onderskeiding tussen letterlike en figuurlike taalgebruik eersgenoemde nie bo die algemeen-interpretatiewe aard van alle taalgebruik verhef nie, waaruit volg dat nie alle taalgebruik metafories is nie. Aristoteles se bydrae verg dat gelet word op die verband tussen logos, analogon en alogos wat verband hou met die verskil tussen begrip en woord en na die gegewe dat 'n metafoor iets wat "sin-strydig" (αλογον) is, bevat. 'n Vergelyking is nie 'n metafoor nie. Die Ilias van Homeros se metaforiese gebruik van die woord leeu word opgevolg deur te let op die hipoteties-fiktiewe kant van 'n metafoor. Die onderskeidenheid van begrip en woord maak tipiese semantiese verskynsels eers moontlik. Die voortgesette bespreking belig ook die rol van die menslike inbeeldingsvermoë in metafoorgebruik en vestig ten slotte die aandag op die aard van egte analogieë - wat na vore tree wanneer twee gegewens ooreenstem in die opsig waarin hulle verskil. Ten slotte word die elf kondisies of voorwaardes waaraan in die artikel aandag geskenk is, bondig puntsgewys saamgevat.

Trefwoorde: Metafoor, vergelyking, begrip en woord, denke en taal, interpretasie, sin-strydig, analogie, begrip en idee, metafore is verwisselbaar


Faced with the vast literature on the nature of metaphoricity, this article restricts its investigation to some of the prominent conditions underlying and making metaphors possible - thus pursuing a transcendental-empirical approach - where the word transcendental does not have an epistemological but rather an ontic meaning. Making a distinction between literal and figurative language-use does not elevate the former above the general interpretative nature of all language-use and at the same time does not mean we have to accept the view that all language is metaphorical. A brief explanation of the etymology of the word metaphor is followed up by referring to the well-known fourfold distinction made by Aristotle. In particular, the fourth element of Aristotle S reflection on the nature of metaphor generated attention for the connection between logos, analogon and alogos - terms pointing towards the difference between concept and word and to the fact that a metaphor contains something nonsensical ("Sinnwidrig" or "Widersinnig," a "meaning-contradiction" - αλογον). Boyle (Black 1998:21) alludes to the "mystery" of a metaphor which is "simply that, taken as literal, a metaphorical statement appears to be perversely asserting something to be what it is plainly known not to be". An analysis of the relationship between comparison (as a simile) and a metaphor in particular, highlights the nature of similarities which, in connection with Aristotle's approach, also bears upon identity. Within the context of his distinction between discrete quantity and continuous quantity, Aristotle discerns an equality of ratios. Just like a comparison contains four elements - where the element of comparison is taken twice, every point of division on a continuum is also taken twice - as end-point of the one part and as starting-point of the other. An assessment of the nature of a comparison and a metaphor brings to light that although the former is foundational to the latter, the two cannot be equated, because the words employed in a comparison maintain their meanings without any transfer of meaning. A metaphor differs from a simple comparison in that it actually at once has two different meanings. Yet, while a comparison merely identifies something similar between different things, something more complicated is at stake when it concerns differences which are shown in what is similar. This complication is underscored where Leezenberg explains the view of Jurjáni: "Only the metaphor can describe Zayd as if he is really a lion." (Leezenberg 2001:53) It was already in the Iliad of Homer that the word lion was used metaphorically. Reflecting on this feature of metaphors highlights the "hypothetical-fictional" side of a metaphor - as it comes to expression in the explanation that only a metaphor can describe a soldier "as if" he "really" is a lion (notice the tension between the phrase "as if" and the word "really"). Could it be asserted that Zyad is a real lion and at the same time alleges that Zyad is merely viewed as if it is a lion? This gives rise to the question as to whether metaphors contain a fictitious element. Although one may relate this question to Vaihinger's (1949) philosophy of the "as if," it is not necessary to succumb to his view that fictions are internally antinomic. What is antinomic or contradictory appeals to the validity and application of logical principles, such as those of identity and non-contradiction, which serve as the foundation for lingual phenomena. In addition, the 'as if' character relates to a hypothetical element entailed in metaphoric language use. It is subsequently argued that the distinctness of a concept and a word enables the very existence of typical semantic phenomena. According to Ricoeur the literal meaning of a word cannot be equated with its supposed "proper" meaning, because the lexical value of a word is a literal meaning, while the "metaphorical meaning is non-lexical: it is a value created by the context." Furthermore, what is apparently logically contradictory in a metaphor, viewed from the perspective of a logical-analytical assessment, turns out to be unproblematic, when observed within a lingual context. The discussion also reveals the role of the imagination as a human capacity involved in the use of metaphors. In the final section, attention is given to the role of genuine analogies - surfacing whenever what is given is similar in that respect in which they are different. A significant element in our discussion concerns the relationship between metaphor and analogy, which, according to Ricoeur (2006), is indeed one of the most difficult problems confronting an understanding of metaphor. He pursues the path of "analogous attribution" present in the medieval doctrine of "analogia entis". The two levels alluded to by Ricoeur actually require the introduction of a new distinction, namely that between conceptual knowledge and concept-transcending knowledge. A brief investigation of analogies between different ontic domains shows that differences are shown in what is similar. For example, both mathematical space and physical space are extended (their similarity), but within this similar element the difference evinces itself, because whereas mathematical space is continuous and infinitely divisible, physical space is neither continuous nor infinitely divisible. These examples open the way to a definition of a proper analogy: whenever two things or properties are similar in that respect in which they differ, or differ in that respect in which they are similar, a genuine analogy is at stake. The distinction between the modal aspects of reality and concrete events and entities functioning within them, enables a fourfold distinction between analogies, namely between aspects (A-A), between entities (E-E), between aspects and entities (A-E) and between entities and aspects (E-A). It is argued that only the last three possibilities should be designated as metaphors. In conclusion, the eleven conditions discerned in the analysis are briefly summarised.

Key words: Metaphor, comparison/simile, concept and word, thought and language, interpretation, meaning-contradictory, analogy, concept and idea, metaphors are exchangeable




Die toeleg van hierdie artikel is om vas te stel watter kondisies die gebruik van metafore in die eerste plek moontlik maak. Sedert Immanuel Kant (1724-1804) in sy Kritiek van die Suiwere Rede (1781/1787) die term transendentaal in gebruik geneem het om onder meer na die voorwaardes wat iets moontlik maak, te verwys, het hierdie term deel geword van die algemene filosofiese woordeskat. Die onderliggende onderskeiding waaroor dit handel, gryp egter terug na die Griekse filosofie waar daar reeds besef is dat die kondisies vir iets se bestaan (die orde daarvoor) nie saamval met dit wat aan hierdie kondisies (orde vir) beantwoord nie. Die kondisies vir groen-wees is nie self groen nie en die kondisies vir atoom-wees is nie self 'n atoom nie. Insgelyks is die kondisies vir metafoor-wees nie self 'n metafoor nie.

Teoretiese besinning oor dergelike kondisies vind uiteraard 'n aanknopingspunt in die ordelikheid van dit wat aan die universele kondisies onderworpe is (daardeur gekondisioneer word). Om derhalwe op die spoor van die orde vir (wet vir) atoom-wees te kom, moet die orderlikheid (wetmatigheid) van atome ondersoek word. Wetmatigheid dui op dit wat die maat-van-die-wet besit, dit wil sê, wetmatigheid is 'n eienskap van onderworpenheid aan kondisies. Dieselfde geld van 'n ondersoek na die kondisies vir (orde vir) metafoorgebruik - hierdie orde is vergestalt in die aard van metafoor-wees.

Hierdie artikel handel dus nie ongekwalifiseerd oor metafore nie. Dit handel oor die kondisies vir (orde vir) metafoorgebruik. Gevolglik word voorbeelde van metafore en teorieë oor metafore (hetsy histories of kontemporêr) relatief willekeurig aan die orde gestel. Dieselfde kondisies sou immers aan die hand van ánder metafoor-voorbeelde en ander teoretiese refleksies oor metafore geïllustreer kon word. Wat wel aan die orde gestel word, fokus egter deurgaans op die kondisies wat opsommend in elf punte aan die einde van die artikel saamgevat word.

Dit is gebruiklik om die aard van metafoorgebruik afhanklik te maak van die samehang wat bestaan tussen woorde, sinne, tekste en kontekste. Bykomend word dit in verband gebring met die onderskeiding tussen 'n letterlike enfiguurlike gebruik van woorde of sinne. Die dubbel-sinnigheid wat hierdie onderskeiding impliseer, word aan woorde verbind en dit tree ook in alledaagse taalgebruik na vore. In eersgenoemde geval is 'n semantiese metafoorteorie van toepassing, en in laasgenoemde geval 'n pragmatiese. Verskynsels wat nou hiermee saamhang, is 'n verge-lyking, 'n gelykenis en 'n allegorie ('n uitgebreide metafoor).



Met die oog op die identifisering van die onderliggende kondisies vir metafoorgebruik selekteer ons allereers bepaalde historiese gegewens, weldeeglik onder die besef dat die geskiedenis van en besinning oor die aard van metafoorgebruik oewerloos is. Gevolglik beoog hierdie artikel om die aandag bloot te vestig op enkele prominente kondisies wat die aard van metafoorgebruik onderlê en eers moontlik maak. Die term moontlikheidsvoorwaardes wat in die titel voorkom, is die ekwivalent van die woord transendentaal. Hierdie term transendentaal moet egter nie in Kantiaanse sin opgeneem word nie, want by hom dui dit daarop dat die menslike verstandska-tegorieë in epistemiese sin as formele wetgewer van die natuur optree. Eerder moet aan die uitdrukking transendentaal-empiries gedink word wat enersyds op ontiese kondisies wat ons ervaring van iets eers moontlik maak dui en andersyds verwys na dit wat ons op basis daarvan ervaar (die empiriese kant).

Die Griekse woord µεταφορά is afgelei van µετά en φέρειν. Die eerste deel, µετά, kan op 'n abstraksie dui of op 'n gegewe wat na iets anders kom (dink aan die populêre verhaal oor Aristoteles se meta-fisika as die boek wat na sy fisika gekom het), 'n gegewe wat iets anders te bowe gaan (soos in meta-taal) of wanneer reflekterende distansie geneem word (soos in meta-teorie). Die tweede gedeelte van die woord, φέρειν, dui op 'n verwisseling of oordrag. Aristoteles sien tewens 'n metafoor as die oordrag van 'n vreemde naam (Μεταφορά δέ εστιν ονόµατος αλλότριου επιφορά - Rhetorica, III, 4, 1406b-1407a; Aristoteles 1909:154).

Onderliggende probleme betref vrae soos watter rol menslike denke (en begripsvorming) in metafoorgebruik speel, wat die verhouding tussen konnotasie en denotasie is, en of woord-betekenisse as begrippe gesien moet word.

In sy Poetika maak Aristoteles sy bekende onderskeiding tussen vier soorte metafore. Hy stel dat 'n metafoor op betekenisoordrag berus. Dit bestaan daarin dat aan iets 'n naam gegee word wat aan iets anders behoort. Hierdie betekenisoordrag kan geskied van (i) genus tot spesie, van (ii) spesie tot genus, van (iii) spesie tot spesie, en op grond van (iv) analogie, in die sin van proporsionaliteit (kata tou analogon)} Hierdie omskrywing is redelik omvattend en sou vergelyk kon word met wat 'n stylfiguur genoem kan word. 'n Voorbeeld van die betekenis-oordrag van (i) genus tot spesie, is wanneer gesê word: "Hier staan my skip" - want om op anker te lê, is die wyse waarop 'n spesifieke ding "staan". Ten opsigte van (ii) (naamlik van spesie tot genus) vermeld Aristoteles die oorgang van 'n spesifieke groot getal ("tienduisend") na 'n generiese frase soos "'n groot getal". Leezenberg (2001:33) vermeld ten opsigte van (iii) (van spesie tot spesie) die verwisseling van "bedel" en "bid" in die uitdrukkings: "begging to the gods" en "praying for an alm".



Om wat hy onder analogie in die sin van proporsionaliteit verstaan te verduidelik, meld Aristoteles dat 'n analogie moontlik is wanneer vier terme met mekaar in verband gebring word, sodanig dat die tweede (B) tot die eerste (A) op 'n soortgelyke (homoiös) wyse staan as wat die vierde (D) tot die derde (C) staan. Byvoorbeeld: soos wat ouderdom (D) tot die lewe is (C), so is die aand (B) tot die dag (A). Dienooreenkomstig kan die aand (B) as die "ouderdom van die dag" (D + A) en ouderdom (D) as die "aand" of "sonsondergang van die lewe" (B+C) beskryf word (Metaph. 1457b23-25 - Aristoteles 2001:1477).

Die Griekse woord logos bevat twee belangrike betekenisnuanses: (i) Enersyds verwys dit na 'n begrip en (ii) andersyds na 'n verhouding of ratio, alhoewel ons nie logos (ratio) en analogon (proporsie) moet vereenselwig nie (sien Fowler 1999:15 e.v.). By die Pythagoreërs, wat bekend is vir hul oortuiging dat alles getal is, sou die woord logos 'n besondere betekenis kry. Aristoteles merk op dat hulle getal met werklike dinge vereenselwig het (Metaph. 1083b17 - Aristoteles 2001:904). Hy wys voorts daarop dat hulle selfs van mening was dat sintuiglike dinge uit getalle gevorm is (Metaph. 1080b18). Sy algemene beswaar is teen die Pythagoreërs se oortuiging dat "alle dinge tot getalle herlei" kan word (Metaph. 1036b12 - Aristoteles 2001:800).

In die Griekse denke was daar van meet af 'n dialektiese spanning tussen vorm en materie (die begrensde en onbegrensde, konstansie en dinamiek) - in die sin dat hierdie pole mekaar tegelyk wederkerig veronderstel en bedreig. Die diepgrypende tweespalt wat in hierdie dialektiek teenwoordig is, het ook in die verstaan van getal beslag gekry. By monde van Aristoteles het ons immers gesien dat die Pythagoreërs van mening was dat die wese van alles getalsmatig uitgedruk kan word. Selfs alle ruimte-verhoudinge, so is geglo, sou uitgedruk kon word met behulp van twee heelgetalle, oftewel met breuke (rasionale getalle - afgelei van ratio). Die ontdekking dat daar ruimte-verhoudinge bestaan, soos die diagonaal en die sy van 'n reëlmatige vyfhoek (pentagon), wat nie in terme van 'n verhouding tussen twee heelgetalle uitgedruk kan word nie, is deur Hippasos van Metapontum gemaak. Dit het hom egter in groot moeilikheid gedompel omdat hy 'n wiskundige geheim publiek gemaak het (sien Riedweg 2005:107 en Fowler 1999:289-302).

Die bewys van Hippasos het endersyds die beperkinge van die rasionale getalle belig en andersyds op die ontdekking van sogenaamde irrasionale getalle gedui. Dit sou maklik wees om die woord "irrasionaal" bloot te verbind aan die afwesigheid van 'n gemeenskaplike maat of ratio. Indien so 'n ratio wel bestaan, heet die ruimte-verhouding "kommensurabel" en indien daar nie so 'n ratio bestaan nie, heet dit "inkommensurabel". Laasgenoemde uitdrukking het egter 'n breër toepassing omdat dit as alogos ook dit wat "sin-strydig" is kan verwoord. Wanneer Proklos byvoorbeeld oor die meetkunde skryf, beweer hy dat daar geen kleinste kan bestaan nie, en wanneer deling tot in die oneindige voortgesit word, is die irrasionale ook teenwoordig - en dan word laasgenoemde as "das Sinnwidrige" (sin-strydige)aangedui - in Grieks, τόαλογον. 'n Oneindige deling word insgelyks as iets "Widersinniges" (αλογον) ervaar (vgl. Szabó, 1965:440).

Ten opsigte van metafore word die element van skynbare "sin-strydigheid" (Widersinnigkeit), soms as die misterie van 'n metafoor aangedui. Max Black verwys na Boyle wat gesê het: "Among the mysteries of human speech, metaphor has remained one of the most baffling" because it has the "odd predilection for asserting a thing to be what it is not". Max Black vat Boyle se gedagtegang soos volg saam: "So perhaps the 'mystery' is simply that, taken as literal, a metaphorical statement appears to be perversely asserting something to be what it is plainly known not to be" (Black 1998:21).

Die woord analogie besit verskeie, relatief-verwante, betekenisnuanses. Soms word dit gebruik as 'n fisiese grootte wat deur middel van 'n wyser op 'n kontinue skaal aangegee word (soos in 'n voltmeter); deur middel van substituering kan verskillende chemiese verbindinge ook analoog wees; terwyl bioloë van analoë organe praat (waar dit gaan oor ooreenstemmende funksies in die afwesigheid van 'n gemeenskaplike afstamming). Dit sal egter blyk dat die deurslaggewende betekenisnuanse vir die verstaan van die moontlikhede en grense van metafore in 'n element te vinde is wat met ooreenkomste en verskille verband hou en wat ook saamhang met die aard en verskille tussen woorde en begrippe. Ons let egter allereers op die verband tussen 'n vergelyking en 'n metafoor.



'n Vergelyking berus altyd op bepaalde ooreenkomste tussen gegewens. Die klassieke voorbeeld voer ons terug na 'n vergelyking wat in Homeros se Ilias getref word. Van die seun van Peleus word gesê dat "hy soos 'n leeu is" (Ilias, Hoofstuk 22 - sien Homeros 1961:370). In sy Retorika stel Aristoteles dat daar bloot 'n klein verskil tussen vergelyking en 'n metafoor is, hoewel hy tegelyk volhou dat 'n vergelyking nogtans 'n metafoor is (Rhet. 1406b20). Hy vervolg onmiddellik met 'n voorbeeld van elk. Wanneer die digter van Achilles sê: "Hy spring op hom soos 'n leeu" het ons 'n vergelyking. Maar wanneer hy sê: "'The lion sprang on them,' this is a metaphor; for as both animals are brave, he has transferred the name of 'lion' to Achilles" (vergelyk ook Aristoteles 1909:154). Ons het vroeër vermeld dat Aristoteles van 'n analogie praat wanneer die tweede (B) tot die eerste (A) staan, op 'n soortgelyke (homoiös) wyse as wat die vierde (D) tot die derde (C) staan. Leezenberg wys daarop dat die sentrale woord homoiös vir Aristoteles beide soortgelyk as dieselfde kan beteken. Hy meen selfs dat die betekenis "dieselfde" voorkeur geniet in Aristoteles se denke. Hy verwys na Miller (1979) wat argumenteer dat 'n analogie (in die sin van die identiteit van eienskappe), nie 'n relasie van ooreenkoms is nie - en merk dan op dat dit gaan oor "an identity of (two-place) relations" (Leezenberg 2001:35). In die Nicomachiese Etiek vind ons 'n verduideliking wat weinig verskil van wat ons vroeër vermeld het. Wat nuut is daarin, is die implementering van Aristoteles se onderskeiding tussen diskrete kwantiteit en kontinue kwantiteit? Beide diskrete en kontinue proporsies sien hy as die "gelykheid van ratio's" wat ten minste vier terme betrek. Soos wat lyn A tot lyn B is, is lyn B tot lyn C - waaruit blyk dat lyn B twee keer genoem word (Nic. Eth. 1131b1-2 - Aristoteles 2001:1007). Dit stem ooreen met die aard van verdelingspunte van 'n kontinuum waar elke verdelingspunt volgens Aristoteles twee keer geneem word - as eindpunt van die een gedeelte en as beginpunt van die ander (slegs wanneer begin- en eindpunte saamval, is daar sprake van kontinuïteit (Phys. 231b16-17).

Hoewel 'n vergelyking ook vier elemente bevat (waar die vergelykingselement twee keer geneem word soos 'n verdelingspunt op 'n kontinuum), verskil dit sodanig van die vier elemente van 'n metafoor dat daar genoegsame grond is om 'n vergelyking nié as 'n metafoor te beskou nie. Selfs al sou geargumenteer word dat 'n vergelyking beide ooreenkomste en verskille verreken, word nog nie daarin geslaag om die onderskeidende aard van 'n metafoor vas te pen nie.3 Tewens, om ooreenkomste op te merk, veronderstel vanselfsprekend dat dit gaan om verskillende dinge wat in 'n bepaalde opsig 'n ooreenkoms vertoon (of met mekaar ooreenstem). En dit is presies wat 'n vergelyking uitlig - die feit dat verskillende dinge in 'n sekere opsig 'n ooreenkoms besit of ooreenstem. Ook Ricoeur (2006) beklemtoon dat metafoor op ooreenkoms berus4 en hy wys bykomend daarop dat in die geval van vergelyking as gelykenis geen betekenisoordrag plaasvind nie en dat al die woorde hul betekenis behou:

No transfer of meaning takes place in the case of comparison as simile (Jim is as stubborn as a mule); all the words retain their meaning, and the representations themselves remain distinct and coexist with fairly equal degrees of intensity. (Ricoeur 2006:220)

In Leezenberg (2001) se bespreking van die merkwaardige opvattinge van 'Abd al-Qahir Jurjání ('n Persiese geleerde uit die 12de eeu) bring laasgenoemde opnuut die "leeu" ter sprake. Jurjání onderskei pertinent tussen 'n vergelyking en 'n metafoor maar hou tereg daaraan vas dat 'n metafoor sy fundering in 'n vergelyking vind. Wanneer gesê word die soldaat "Zayd is like a lion" word geensins beweer dat Zayd werklik 'n leeu is nie. Anders as 'n gewone vergelyking beteken 'n metafoor eintlik tegelyk twee verskillende dinge. Leezenberg verduidelik Jurjánï se siening deur te stel: "Only the metaphor can describe Zayd as if he is really a lion" (Leezenberg 2001:53).



Laasgenoemde uitspraak van Leezenberg bevat 'n interne spanning wat aan die hand van die volgende vraag aan die lig gebring kan word: Kan tegelyk beweer word dat Zyad as 'n werklike leeu beskryf kan word en tegelyk bloot beskou kan word asof hy 'n leeu is? Impliseer die "as of nie juis dat hy nie regtig 'n leeu is nie?!

Die subtiele en vermoedelik onbewuste invoer van die woordjie "asof" roep onmiddellik die gedagtewêreld van die bekende neo-Kantiaanse Duitse filosoof, Hans Vaihinger, na vore. Hy het immers 'n hele filosofie van die "asof ontwikkel en dit in 'n gelyknamige boek uiteengesit. Hy meen dat alle kennis wat suksessie en saam-bestaan ("co-existence") te bowe gaan, slegs analogies kan wees. Volgens hom is kategorieë in kennisteoretiese sin voorbeelde van analogieë. Hy meen selfs dat Kant se kategorieë bloot analogiese fiksies is wat nie aan ons ware kennis kan besorg nie (Vaihinger 1949:29).5 'n Fiksie beskou iets in 'n "asof'-perspektief. Twee vrae duik in hierdie verband op: (i) dui 'n fiksie - in die sin van 'n asof-perspektief - noodwendig op iets innerlik teenstrydig (soos Vaihinger meen)? (ii) kan 'n metafoor as 'nfiksie gesien word of, alternatiewelik, bevat dit 'n fiktiewe element?

Dink aan die Afrikaanse variant van die leeumetafoor - generaal De la Rey wat bekend gestaan het as die "leeu van Wes-Transvaal" tydens die Anglo Boere-oorlog. Waarom dink niemand dat generaal De la Rey werklik 'n leeu was nie? Die mees voor die hand liggende rede is logies-analities van aard. Die logies-analitiese funksie van die mens betref immers die menslike vermoë om te kan identifiseer en te onderskei. Die logika erken hierdie vermoë deur twee logiese beginsels daaraan toe te orden, met name die logiese identiteitsbeginsel (in die analiseerbare is A altyd A) en die logiese beginsel van nonkontradiksie (in die analiseerbare is A nooit nie-A nie). Om derhalwe 'n mens met 'n dier te vereenselwig, is kontradiktories. Dit is onlogies want dit berus op gebrekkige onderskeiding en identifisering, naamlik ten opsigte van mens ('n generaal) en dier ('n leeu).

Dat 'n "asof'-perspektief nie noodwendig innerlik teenstrydige fiksies hoef te benut nie, blyk uit die wiskundige idee van oneindige totaliteite soos wat dit verdedig is deur die wiskundige, Paul Bernays (1976). Hy bestempel sy eie siening van die oneindige as 'n "asof'-benadering wat konsistent en betroubaar is en daarom verskil van Vaihinger se siening (Bernays 1976:60). 'n Ander wiskundige, Paul Lorenzen (wat bekend is vir sy konstruktivistiese benadering in die wiskunde), verwys na die "alle" as fiksie, "die fiksie dat oneindig baie getalle [opeens] gegee is" (Lorenzen 1952:593).6

In die lig van die voorafgaande opmerkings kan nou teruggekeer word na Leezenberg se vroeër vermelde verduidelikende opmerking, naamlik dat slegs "the metaphor can describe Zayd as if he is really a lion" (Leezenberg 2001:53). Hierdie opmerking bevestig dat metafore inderdaad 'n "asof'-element bevat wat ook as 'n element vanfiksie (of selfs as 'n hipotese) gesien kan word.



Sonder om te ontken dat metafore 'n bydrae kan lewer om feitlike stande van sake te verstaan, mag dit ons nie daartoe verlei om die noue verband tussen interpretasie en metafoorgebruik uit die oog te verloor nie. Juis omdat alle taalgebruik keuse veronderstel en as gevolg daarvan interpretasie vérg, kan geen stelling of bewering wat 'n sogenaamde "letterlike bedoeling" besit, gevrywaar word van dubbelsinnigheid nie - en derhalwe van die eis om te interpreteer nie.

Vergelyk 'n skynbaar onproblematiese voorbeeld van letterlike taalgebruik, "The cat is on the mat" - en bedink dan die opmerking: "I know what this means: 'the poor Hippie is once again in the office of the Boss!'" Leezenberg (2001) stel in die algemeen (in reaksie op die idee van "conceptual metaphors" van Lakoff en Johnson (1999) - vgl. ook Botha 2007:26 e.v. se uiteensetting): "After all, some sentences can be interpreted either literally or metaphorically, and the same sentence may receive different metaphorical interpretations in different contexts" (Leezenberg 2001:139). Die omgekeerde kan ook gebeur. Net soos wat 'n alternatiewe konteks 'n letterlike uitspraak kan omtower in 'n metaforiese sin, kan 'n alternatiewe konteks 'n metaforiese uitspraak omtower in 'n letterlike uitspraak. Grice (1989) verwys na die voorbeeld: "7ou are the cream in my coffee". Leezenberg (2001) wys daarop dat dit "already contains two indexical elements, so it cannot be assigned a literal meaning or content in the absence of a context" -waaraan hy toevoeg: "In fact, someone picking a can of his favourite brand of coffee creamer from a supermarket display may very well address it literally by uttering 'You are the cream in my coffee'" (Leezenberg 2001:108).

In sy bespreking van die gedagtes van Paul Henle verduidelik Ricoeur (2006) dat ons moet afstand doen van die gelykstelling van die letterlike betekenis van 'n woord met die behoorlike betekenis daarvan: "one must dissociate the notion of literal meaning from that of proper meaning. Any lexical value whatsoever is a literal meaning; thus the metaphorical meaning is non-lexical: it is a value created by the context" (Ricoeur 2006:222). Die voorbeeld wat Max Black (1998) gee is die sin "Men are verbs, not nouns" - op grond waarvan hy dan opmerk dat dit duidelik is dat die woorde "verb" en "noun" nie letterlik gebruik word nie: "Dictionaries do not include men as a special case of verbs, and a competent speaker will not list them as paradigm cases of the application of that word" (Black 1998:22).

Omgekeerd hoef metaforiese taalgebruik geensins van 'n feitlike (of: "letterlike") appèl gestroop te wees en bloot as retories en dekoratief gesien te word nie - soos tereg deur Botha (2011:638 e.v.) geargumenteer word.7 Die reikwydte van interpretasie as inherente eienskap van taaluitinge laat volledig ruimte vir die onderskeiding tussen letterlike en metaforiese taalgebruik. In reaksie op die huiwering wat by Lakoff en Johnson (1999) in hierdie verband bespeur word, stel Leezenberg gevolglik tereg: "not all acts of interpretation involve the understanding of one thing in terms of another, and thus a mapping between two distinct conceptual domains" (Leezenberg 2001:139).

Menslike taalgebruik veronderstel gevolglik altyd keusevryheid.8 Hierdie keusevryheid hou verband met die talle gepaardgaande betekenisonderskeidinge wat woorde in (kommunikatiewe) taalgebruik kan ontvang. Op sy beurt verg hierdie betekenisnuanses altyd interpretasie - soos tereg beklemtoon deur Lyons: "An utterance has meaning only if its occurrence is not completely determined by its context. This definition rests on the widely-accepted principle that 'meaning-fulness implies choice'" (Lyons 1969:413).9

Die feit dat betekenis keuse veronderstel, impliseer dat prakties alle woorde nie alleen oor 'n bepaalde betekenisgebied beskik nie, maar ook 'n verruiming van hul semantiese domein kan beleef - onder meer wanneer woorde metafories gebruik word. Die Grieke het reeds beginsels bedink met behulp waarvan rekenskap gegee kan word van die uitbreiding van die betekenisgebied van 'n woord buite die grense van die vermeende ware of oorspronklike betekenis daarvan. Lyons merk in hierdie verband op: "... the Greeks introduced a number of principles to account for the extension of a word's range of meaning beyond its 'true', or 'original', meaning" (Lyons 1969:406).

Johnson (1981:1-5) hou immers Aristoteles verantwoordelik vir die hardnekkige, allesomvattende Westerse tradisie waarvolgens 'n metafoor behandel word as gefundeer in ooreenkoms, afwykend van letterlike taalgebruik en as 'n kwessie van taal eerder as van denke.10

Die menigvuldigheid moontlike betekenisnuanses binne die semantiese domein van 'n woord maak die linguale keusevryheid van die mens eers moontlik, want sonder opsies is daar geen vryheid van keuse nie. Keusevryheid veronderstel natuurlik ook normatiwiteit en toerekenbaarheid. Hoe anders kan ons tewens onderskei tussen logies korrekte begrippe en onlogiese begrippe of tussen betekenisvolle en betekenislose taalgebruik? 11

Op hierdie punt moet egter duidelik onderskei word tussen begrip en woord. 'n Begrip is nie self 'n woord of die betekenis van 'n woord nie. Woorde (met hul betekenisse) kan immers vertaal word, terwyl 'n begrip slegs ingesien of begryp kan word - en wanneer iets ingesien is, kan die woord waarmee dit aangedui word, vertaal word. As ek begryp wat 'n driehoek is, kan ek dit 'n driehoek noem en hierdie benaming heet in Engels triangle, in Duits Dreieck, en so meer.

Omdat 'n begrip slegs korrek is indien al die konstitutiewe boustene van dit wat begryp word teenwoordig is, kan woorde nie met begrippe vereenselwig word nie. Juis metaforiese taalgebruik belig hierdie gegewe treffend. Beskou opnuut die voorbeeld wat vroeër ter sprake gekom het: "Generaal De la Rey is die leeu van Wes-Transvaal". Vanuit 'n suiwer logies-analitiese perspektief gesien, is dit foutief om 'n leeu met 'n mens te vereenselwig: 'n mens is 'n mens en 'n leeu is 'n leeu (die toepassing van die logiese identiteitsbeginsel); maar 'n mens is nie 'n leeu nie (die toepassing van die logiese beginsel van nonkontradiksie). Die semantiese en pragmatiese vryheid van 'n taalgebruiker stel so 'n persoon egter in staat om deur middel van metaforiese taalgebruik die onlogiese implikasies van foutiewe identifisering en onderskeiding te bowe te kom - en probleemloos van die leeu van Wes-Transvaal te praat! Hoeseer dit onlogies is om 'n vierkant 'n sirkel te noem, sal niemand dit problematies vind om van of oor 'n "boxing ring" te praat nie - en dit terwyl almal weet dat dit letterlik sou beteken dat daar 'n "vierkantige sirkel" bestaan. Slegs wanneer die kenmerkende teken-funksie van taalgebruik onderken word, kan sinvol rekenskap gegee word van semantiese verskynsels - waarby metafoorgebruik ingesluit is. In die algemeen kan tewens gesê word dat semantiese verskynsels soos ambiguïteit, sinonimie, redundansie, metonimie, hiponimie en metafoorgebruik altyd funderend afhanklik is van die menslike analitiese vermoë om met keusevryheid tussen alternatiewe opsies te kan onderskei en enigeen daarvan uit te lig (te kan identifiseer).

Metaforiese taalgebruik gaan daarom letterlik begripsvorming te bowe. Vanuit 'n logies-analitiese perspektief bevat metafoorgebruik ten ene male iets "sin-strydigs" (αλογον). Slegs wanneer tussen woord en begrip onderskei word, kan ingesien word dat metaforiese taalgebruik van 'n konsistente "asof' (fiksie) gebruik maak. Hierdie kenmerk hang op sy beurt saam met die uniek-menslike inbeeldingsvermoë. Die Duitse woord Einbildungskraft dui volgens Immanuel Kant op die vermoë om iets aanskoulik voor te stel wat nie aanskoulik of in die sintuiglike ervaring gegee is nie.12 Die keersy hiervan is gegee in die mens se vermoë om iets wat wel aanskoulik of in die sintuiglike ervaringsveld van die mens gegee is, ánders voor te stel as wat dit gegee is.13

Wanneer iemand vandag van die "leeu van Wes-Transvaal" hoor sonder dat die generaal self óf 'n leeu teenwoordig is, word albei kante van die menslike inbeeldingsvermoë (in die volgorde soos wat dit hierbo vermeld is) benodig, want allereers word die generaal ingebeeld (aanskoulik voorgestel) sonder om in ons ervaringsveld te verskyn (hy is tewens lankal dood), en tweedens word die generaal anders ingebeeld as die wyse waarop hy in die eerste plek aanskoulik voorgestel is14 - De la Rey is immers die leeu van Wes-Transvaal!

In hierdie weergawe word die verskillende elemente waaraan ons in die voorafgaande bespreking aandag gegee het, tegelyk na vore gebring. Die oordrag van betekenis wat in 'n metafoor beslag kry, herberg iets "sin-strydigs" (το αλογον) (iets "Widersinniges" - αλογον). Tegelyk belig die "asof'-karakter daarvan 'n hipotetiese element, meer spesifiek, iets van 'n konsistentefiksie - analoog aan die wyse waarop Bernays (1976) die gebruik van oneindige totaliteite (waarvan die elemente beskou word asof dit opeens gegee is) verdedig en uiteindelik dit ingebed het in die twee kante van die mens se inbeeldingsvermoë. Ricoeur praat in hierdie verband van die "conjunction of fiction and redescription" en wys dan op die sentrale rol van die "verb to be" alvorens hy positief stel: "The metaphorical 'is' at once signifies both 'is not' and 'is like'" (Ricoeur 2006:6).

Die een gegewe wat nog agterweë gebly het, is die regstreekse verband tussen 'n metafoor en 'n analogie. Maar alvorens ons daaraan aandag gee, moet kortliks daarop gewys word dat die hele idee van "conceptual metaphor" - vergelyk veral Lakoff en Johnson se werk van 1999 -innerlik teenstrydig is. Dit volg reeds regstreeks uit wat ons vroeër oor die verskil tussen 'n begrip en 'n woord gesê het. Die dubbelsinnigheid van woorde en in die besonder die metaforiese gebruik wat van woorde gemaak kan word, veronderstel dat 'n begrip nie gelykgestel kan word aan 'n woord nie.15



Ricoeur (2006:6) beskou die Aristotelies-Middeleeuse siening van analogie as een van die moeilikste probleme in die verstaan van metafoor. Ons het daarop gewys dat Aristoteles analogie in die sin van proporsionaliteit (kata tou analogon) ingevoer het. Wat egter ontbreek het, was iets tussen eenduidigheid (univocality) en meerduidigheid (multivocality). Volgens Ricoeur is hierdie middeweg in "analogous attribution" gevind, binne die konteks van die Middeleeuse analogia entis (die leerstuk van die analogie van die syn). Met verwysing na dit wat Kant en Heidegger as onto-teologie bestempel, beskryf Ricoeur die probleem wat aangespreek moes word, soos volg: "Now theological discourse encounters a similar choice: to impute a discourse common to God and his creatures would be to destroy divine transcendence; on the other hand, assuming a total incommunicability of meaning from one level to the other would condemn one to utter agnosticism" (Ricoeur 2006:322-323). Ricoeur het egter nie ingesien dat twee verskillende sake hier ineengevleg word nie. Aan die een kant het ons te doen met die nalewende erfenis van die Grieks-Thomistiese substansiebegrip, en aan die ander kant met die probleem van analogieë. Die substansiebegrip bevat die onderskeiding tussen wese en verskyning (openbaring) en dit het daartoe aanleiding gegee dat die "wese" van God in 'n sfeer van onkenbaarheid geplaas is.16 Die alternatief was dat die skepselmatige "volmaakthede" ["perfections"] tot in die wese van God geprojekteer is, vanwaar dit dan weer "terug gekopieer" is in die skepping. Op hierdie punt omseil die leerstuk van die analogia entis die werklike probleem, wat naamlik gegee word in die vraag hoe ons met dieselfde terme na God én skepsel kan verwys. Wat hier benodig word, is 'n nuwe verstaan van die twee vlakke waarvan Ricoeur gepraat het: op die een vlak word terme begripsmatig gebruik en op die ander vlak word dieselfde terme op 'n begripstransenderende wyse gebruik.17

Sonder om verder in te gaan op die belangrike implikasie wat opgesluit lê in die onderskeiding tussen begripskennis en begripstransenderende kennis,18 fokus ons ten slotte op die wyse waarop 'n bepaalde verstaan van die aard van analogieë verdere lig werp op die bestaansmoontlikhede en grense van metafore.

Ons het vroeër verwys na Aristoteles se siening van proporsionele analogie waar vier terme gefigureer het. In twee bykomende gevalle het ons daarop gewys dat een term dubbeld (twee keer) gebruik word. Diskrete en kontinue proporsies sien hy as die "gelykheid van ratio's" wat ten minste vier terme betrek (soos wat lyn A tot lyn B is, is lyn B tot lyn C) waaruit geblyk het dat lyn B twee keer genoem word. 'n Soortgelyke situasie word by die verdelingspunte van 'n kontinuum aangetref - elkeen word twee keer geneem (as samevallende eindpunt en beginpunt).

Om ons ondersoek na die bestaanswoorwaardes van metafore verder te belig, let ons allereers op enkele voorbeelde. Die eerste een betref die aard van ruimtelike uitgebreidheid in oorspronklike sin (ons sal daarna verwys as matematiese ruimte) wat dan vergelyk word metfisiese ruimte en sensitief-psigiese ruimte. Die menslike vel besit byvoorbeeld 'n sensitiwiteit vir onderskeie (diskrete) prikkels met 'n naald. Dit blyk egter spoedig dat wat fisies en ruimtelik gesien diskreet is (d.w.s. onderskeibaar is), deur die menslike gevoelswaarneming as kontinu ervaar word (vgl. Gosztonyi 1976-1:13). Alhoewel beide ons sensitief-psigiese waarnemingsruimte en matematiese ruimte uitgebreid is, is die een kontinu en die ander een diskreet. 'n Soortgelyke situasie word aangetref indien ons op die aard van fisiese ruimte en matematiese ruimte let. Waar wiskundige ruimte beide kontinu en oneindig verdeelbaar is, is fisiese ruimte, as gevolg van die diskrete kwantumstruktuur van energie, nóg kontinu, nóg oneindig verdeelbaar - iets wat deur beide die wiskundige David Hilbert en Paul Bernays ingesien is. Hilbert vermeld dit in sy voordrag oor die oneindige in 1925 (Hilbert 1925:164), terwyl Bernays die volgende opmerking oor fisiese ruimte en matematiese (ideële) ruimte maak: "Eers deur die kontemporêre ontwikkeling van die meetkunde en die fisika het dit noodsaaklik geword om tussen die ruimte as iets fisikaal en die ruimte as 'n ideële menigvuldigheid wat deur geometriese wette bepaal is, te onderskei" (Bernays 1976:37).

Dit is opmerklik dat in albei hierdie voorbeelde vier terme figureer. In die eerste geval gaan dit oor waarnemingsruimte wat uitgebreid is en oor matematiese ruimte wat ook uitgebreid is - en in die tweede geval handel dit oor die uitgebreidheid vanfisiese ruimte en die uitgebreidheid van matematiese ruimte. Daar is duidelik 'n ooreenkoms tussen fisiese ruimte en matematiese ruimte want beide is uitgebreid. Nogtans belig uitgebreidheid as ooreenkoms die verskil tussen die twee tipes ruimte, want die uitgebreidheid van eersgenoemde is nóg kontinu, nóg oneindig verdeelbaar, terwyl laasgenoemde sowel kontinu as oneindig verdeelbaar is. Met ander woorde, in die element wat die ooreenkoms belig, naamlik uitgebreidheid, kom die verskil tegelyk na vore.

Ons kan hierdie gegewe ook in die algemeen formuleer as 'n definisie van 'n egte analogie:19

Wanneer twee gegewens ooreenstem in dié opsig waarin dit verskil, of verskil in dié opsig waarin dit ooreenstem, het ons met 'n analogie te doen. 20

Hierdie omskrywing van 'n analogie veronderstel die analitiese vermoë van die mens om te kan identifiseer en onderskei. Identifisering en onderskeiding geskied egter altyd op die basis van ooreenkomste en verskille. (Selfs wanneer beweer word dat twee dinge "absoluut" verskil, word uit die oog verloor dat beide "dinge" is - waaruit vanself die relativering van die absoluutheidsaanspraak voortvloei.) Aangesien begripsvorming alles te make het met identifisering kan beide die aard van 'n analogie en die aard van 'n metafoor nie losgemaak word van hierdie funderende logies-analitiese gegewe nie. Ricoeur (2006:323) merk daarom tereg op dat 'n analogie tot die begripsorde behoort: "it belongs to the conceptual order" ).

Die voorbeelde van analogieë waarop ons pas gelet het, appelleer egter almal op bepaalde aspekte van die werklikheid, met name die ruimtelike, fisiese, sensitief-psigiese en sosiale aspekte. Omdat hierdie aspekte ook as bestaanswyses gesien kan word, word soms daarna verwys as modi (wyses van bestaan) of kortweg as modaliteite. In die struktuur van die fisiese, sensitief-psigiese en sosiale aspekte ontmoet ons in die sin-figure uitgebreidheid en afstand, gegewens wat verwys na die ruimte-aspek waar uitgebreidheid oorspronklik is. In die lig van ons definisie van 'n analogie sou ons ook kon sê dat in die drie gemelde aspekte ruimte-analogieë aangetref word. Dergelike analogieë veronderstel die uniekheid van die onderskeie aspekte, maar belig tegelyk ook die onverbreeklike samehang wat tussen die verskillende aspekte van die werklikheid bestaan.21

Die opvallende kenmerk van modale analogieë is egter dat hulle nie vervangbaar is nie maar hoogstens verwisselbaar is met sinonieme. Ons sou byvoorbeeld kon stel dat matematiese ruimte deur kontinue uitgebreidheid gekenmerk word en dit dan verder toelig deur te verduidelik dat kontinuïteit in ruimtelike sin aaneenlopend, gekonnekteerd, gapingloos of samehangend is. Elkeen van die beklemtoonde woorde sê egter niks anders as wat reeds met die term kontinuïteit gestel is nie.

Indien ons egter ons blikveld sou verruim en nie bloot na analogieë tussen modale aspekte kyk nie, maar ook analogieë tussen dinge (entiteite) verreken, kan ons rekenskap gee van die metaforiese gebruik van bekende alledaagse entiteitsanalogieë - soos die neus van die motor, die voet van die berg of die elmboog van my vinger. In dergelike gevalle bly die algemene struktuur van 'n analogie van krag, want in die moment van ooreenkoms word die verskil getóón.

Aangesien ons werklikheidservaring omspan word deur die dimensies van modale aspekte en konkrete dinge (entiteite en gebeurtenisse), bestaan daar nog twee verdere analogiese relasies wat metafories ontgin kan word: analogieë tussen aspekte en entiteite en analogieë tussen entiteite en aspekte. Dit gebeur dikwels dat 'n aspek behandel word asof dit 'n entiteit is, soos wanneer bioloë oor die ontstaan van "die lewe" praat. Omgekeerd kan "ding-matig" oor aspekte gepraat word, soos in die uitdrukking "web van geloof' of "die sosiale gom van die samelewing".

Omdat analogieë tussen aspekte (modale analogieë) bloot met sinonieme verwissel kan word, behoort die term metafoor gereserveer te word vir die laaste drie kategorieë van analogieë. Die metafore wat hierdie drie kategorieë aandui, bevat analogieë wat beide verwisselbaar is en selfs in letterlike verduidelikings getransponeer kan word.

Hiermee het ons aan die einde gekom van ons ontleding van die kondisies wat metaforiek moontlik maak en begrens. In ons voorafgaande ontledinge het ons selektief hoofsaaklik gefokus op die volgende voorwaardes wat die gebruik van metafore moontlik maak:

1) Alle taal veronderstel keusevryheid en verg interpretasie - die effek van die kondisionerende rol van die funderende logies-analitiese aspek en die besondere aard van die teken-aspek van die werklikheid. Sonder hierdie fundering is metafoorgebruik onmoontlik.

2) Hoewel alle taalgebruik interpretasie verg, is nie alle taalgebruik metafories nie - wat beteken dat die onderskeiding tussen letterlike en metaforiese taalgebruik mede-kondisionerend vir laasgenoemde is.

3) Die semantiese domein van woorde kan metafories uitgebrei word - waaruit die kondisionerende rol van linguale eenheid en veelheid asook van die aard van die betekenisgebied van woorde blyk.

4) Aristoteles se siening van 'n proporsionele analogie hang saam met die dubbelsinnigheid van die woord logos, wat op sy beurt verband hou met die woord ratio wat tydens die ontdekking van irrasionale getalle ook gebruik is om dit wat as 'n "sin-strydigheid" waardeer kan word, aan te dui. Die aard van begripstransenderende kennis verseker dat hier nie van 'n egte teenstrydigheid sprake kan wees nie.

5) Die betekenisoordrag wat in metafoorgebruik voorkom, bevat 'n fiktiewe asof- element waarsonder metafoorgebruik nie kan bestaan nie.

6) Metafoorgebruik word voorts moontlik gemaak deur die wedersydse onherleibaarheid van die logies-analitiese en die linguale aspekte van die werklikheid - en veronderstel daarom beide "denke" en "taal".

7) Semantiese verskynsels (soos ambiguïteit, sinonimie, redundansie, metonimie, hiponimie en metafoorgebruik) is funderend afhanklik van die menslike analitiese vermoë om met keusevryheid tussen alternatiewe opsies te kan onderskei en enigeen daarvan te kan uitlig (te kan identifiseer).

8) Metaforiese taalgebruik gaan begripsvorming te bowe. Hoewel metafoorgebruik iets "sin-strydigs" (ëïaïí) bevat, kan slegs ingesien word dat metaforiese taalgebruik van 'n konsistente "asof' (fiksie) gebruik maak indien korrek tussen begrip en woord onderskei word.

9) Metafoorgebruik veronderstel die uniek-menslike inbeeldingsvermoë - beide in die sin dat iets wat nie regstreeks gegee is nie, teenwoordig gemaak kan word en dat dit wat aanskoulik gegee is, anders ingebeeld kan word as die wyse waarop dit aanskoulik teenwoordig is.

10) Die deurslaggewende kondisie vir metafoorgebruik is gegee in die menslike vermoë om te kan identifiseer en te onderskei op die basis van ooreenkomste en verskille - 'n vermoë wat dit moontlik maak om egte analogieë te onderken, waar laasgenoemde daarop dui dat twee gegewens ooreenstem in dié opsig waarin hulle verskil - en omgekeerd.

11) Aspek-analogieë (modale analogieë) moet onderskei word van egte (vervangbare) metafore wat moontlik gemaak en begrens word deur analogieë tussen entiteite, analogieë tussen aspekte en entiteite en analogieë tussen entiteite en aspekte.22



Altner, G. 1976. The Nature of Human Behaviour. London: Allen & Unwin.         [ Links ]

Aristotle, 1909. The Rhetoric of Aristotle. Vertaal deur R.C. Jebb. Cambridge: University Press.         [ Links ]

Aristotle. 2001. The Basic Works of Aristotle. Geredigeer deur Richard McKeon met 'n voorwoord deur C.D.C. Reeve. (Oorspronklik gepubliseer deur Random House in 1941). New York: The Modern Library.         [ Links ]

Bavinck, H. 1918. Gereformeerde Dogmatiek. (4 Vols. Ongewysigde herdruk, 1967). Kampen: Kok.         [ Links ]

Becker, O. (red.) 1965. Zur Geschichte der griechischen Mathematik. Wege der Forschung, Band 43.Darmstadt: Wissenschaftliche Buchgesellschaft.         [ Links ]

Bernays, P. 1976. Abhandlungen zur Philosophie der Mathematik. Darmstadt: Wissenschaftliche Buchgesellschaft.         [ Links ]

Black, M. 1998. More About Metaphor. In: Ortony (red.), 1998 (19-41).         [ Links ]

Böhme, W. (ed.) 1988. Evolution und Gottesglaube. Göttingen: Vandenhoeck & Ruprecht.         [ Links ]

Botha, M.E. 2007. Metaphor and its Moorings: Studies in the grounding of metaphorical meaning. Frankfurt am Main: Peter Lang.         [ Links ]

Botha, M.E. 2011. Geloofstaal tussen Pan-Literalisme, Pan-Metaforisme en die Dubbeltaalmodel. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 51(4):631-644.         [ Links ]

Cassirer, E. 1953. Language and Myth. New York: Dover.         [ Links ]

Changeux, J-P. & Ricoeur, P. 1998. What makes us think? Princeton: Princeton University Press.         [ Links ] De Klerk, W.J. 1978. Inleiding tot die Semantiek. Durban: Butterworth.         [ Links ]

Eibl-Eibesfeldt, I. 2004. Grundripdervergleichenden Verhaltensforschung,Ethologie. 8ste hersiene uitgawe.Vierkirchen-Pasenbach: Buch Vertrieb Blank.         [ Links ]

Fowler, D. 1999. The Mathematics of Plato's Academy. Second Edition. Oxford: Clarendon.         [ Links ]

Gosztonyi, A. 1976. Der Raum; Geschichte seiner Probleme in Philosophie und Wissenschaften. (Vols. 1 & 2). Freiburg: Alber.         [ Links ]

Grice, H.P. 1989. Studies in the Way of Words. Cambridge MA: Harvard University Press.         [ Links ]

Homer 1960. The Iliad. Amsterdam: Hakkert.         [ Links ]

Johnson, M. 1981. Philosophical Perspectives on Metaphor. Minneapolis: University of Minnesota Press.         [ Links ]

Kant, I. 1787. Kritik der reinen Vernunft. 2de uitgawe (verwysings is na 1787-B). Hamburg: Felix Meiner-uitgawe (1956).         [ Links ]

Knowles, M. & Moon, R. 2006. Introducing Metaphor. New York: Routledge.         [ Links ]

Lakoff, G. 1998. The contemporary theory of metaphor. In: Ortony (ed.) (1998:202-251).         [ Links ]

Lakoff, G. & Johnson, M. 1999. Philosophy in the Flesh. The Embodied Mind and Its Challenge to Western Thought. New York: Basic.         [ Links ]

Leezenberg, M. 2001. Contexts of Metaphor. Oxford: Elsevier Science.         [ Links ]

Lorenzen, P. 1952. Über die Widerspruchfreiheit des Unendlichkeitsbegriffes. Studium Generale. Zeitschrift für die Einheitder Wissenschaft und im Zusammenhang ihrerBegriffsbildungen und Forschungsmethoden, 10:592-595.         [ Links ]

Lorenzen, P. 1972. Das Aktual-Unendliche in der Mathematik. In: Meschkowski (red.) (1972:157-165).         [ Links ]

Luyten, N.A. (red.) 1974. Fortschritt im heutigen Denken? Publikasie van die Görres-Gesellschaft für Interdisziplinare Forschung. Serie: Grenzfragen. Volume 4. Freiburg: Alber.         [ Links ]

Lyons, J. 1969. Introduction to Theoretical Linguistics. Cambridge: University Press.         [ Links ]

Meschkowski, H. (red.) 1972. Grundlagen der modernen Mathematik. Darmstadt: Wissenschaftliche Buchgesellschaft.         [ Links ]

Miller, G.A. 1998. Images and models, similes and metaphors. In: Ortony (ed.), (1998:342-356 - eerste uitgawe 1979).         [ Links ]

Narr, K.J. 1974. Tendenzen in der Urgeschichtsforschung. In: Luyten, N.A. (red.) (1974:85-125).         [ Links ]

Narr, K.J. 1976. Cultural Achievements of Early Man. In: Altner (1976:98-152).         [ Links ]

Narr, K.J. 1988. Von der Natur der frühesten Menschheit. In: Böhme (1988:273-302).         [ Links ]

Nida, E.A. 1979. Componential analysis of meaning. Den Haag: Mouton.         [ Links ]

Ortony, A. (ed.) 1998. Metaphor and Thought. 2nd edition. Cambridge: University Press.         [ Links ]

Ricoeur, P. 2006. The rule of metaphor. London: Routledge Classics.         [ Links ]

Riedweg, C. 2005. Pythagoras: His Life, Teaching, and Influence. Ithaca: Cornell University Press.         [ Links ]

Strauss, D.F.M. 2009. Philosophy: Discipline of the Disciplines. Grand Rapids: Paideia.         [ Links ]

Strauss, D.F.M. 2011. Skakeringe van die begrip kultuur - in historiese en sistematiese perspektief. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 51(4):645-665.         [ Links ]

Szabó, A. 1965. Anfange des euklidischen Axiomensystems. In: Becker (red.) (1965:355-461).         [ Links ]

Vaihinger, H. 1949. The Philosophy of 'As If.' London: Routledge & Kegan Paul (vertaal deur C.K. Ogden).         [ Links ]



DANIE STRAUSS word in 1971 as senior lektor in Wysbegeerte aan die destydse UOVS aangestel. Vanaf Januarie 1976 is hy bevorder tot medeprofessor en in Oktober 1977 word hy aangestel as professor en hoof van die Departement Wysbegeerte aan die UOVS. In 1994 vertrek by na Kanada waar hy as eerste Direkteur van die Dooyeweerd Centre die publikasie van die versamelde werke van Herman Dooyeweerd in Engels van stapel stuur. Hy keer in 1997 terug na Suid-Afrika en vanaf April 1998 tot 31 Desember 2001 ageer hy as Dekaan van die nuwe Fakulteit van Geesteswetenskappe aan die UVS. Benewens 15 selfstandige publikasies, 40 internasionale konferensie-voordragte en 20 bydraes tot versamelde werke het meer as 260 vakartikels in nasionale en internasionale tydskrifte uit sy pen verskyn. In 2005 is 'n werk oor die wysgerige grond-slae van die moderne natuurwetenskappe deur die Duitse Uitgewer Peter Lang gepubliseer, Para-digmen in Mathematik, Physik und Biologie und ihre philosophische Wurzeln (216 pp.) (Frankfurt am Main). In 2006 het 'n werk oor die sosiologie ook by Peter Lang verskyn - Reintegrating Social Theory - Reflecting upon human society and the discipline of sociology (310 pp.) (Oxford: New York). In 2009 het sy werk, Philosophy: Discipline of the Disciplines by Paideia Press, Grand Rapids, USA verskyn (715 pp.). In 2011 is dit in Amsterdam deur die Stichting Reformatorische Filosofie beloon as die mees omvattende uitbouing van die siste-matiese erfenis van hierdie filosofie. Die uitgewer het versoeke tot die vertaling daarvan in Portugees en Spaans ontvang.

DANIE STRAUSS was appointed as senior lecturer in Philosophy at the then UOFS in 1971. He was promoted to associate professor in January 1976 and in October 1977 he became professor and head of the Department of Philosophy at the UOFS. In 1994 he went to Canada, where as the first Director of the Dooyeweerd Centre, he initiated the publication of the collected works of Herman Dooye-weerd in English. He returned to South Africa in 1997 and from 1 April 1998 to 31 December 2001 he was Dean of the new Faculty of Humanities at the UFS. Apart from 15 independent publications, 40 international conference papers and 20 contributions to collected works, he has published more than 260 articles in national and international journals. In 2005 his work on the philosophical foundations of the modern natural sciences was published by Peter Lang Publishers - Paradigmen in Mathematik, Physik und Biologie und ihre philosophische Wurzeln (216 pp.) (Frankfurt am Main). In 2006 Peter Lang published his work Reintegrating Social Theory - Reflecting upon human society and the discipline of sociology (310 pp.) (Oxford New York). In 2009 his work, Philosophy: Discipline of the Disciplines was published by Paideia Press, Grand Rapids, USA (715 pp.). In 2011 this book received the award for work in the fields of systematic philosophy or the history of philosophy for advancing the cause of the "Philosophy of the Cosmonomic Idea". The Publisher has already received requests to translate this work into Portuguese and Spanish.



1 "Metaphor consists in giving the thing a name that belongs to something else; the transference being either from genus to species, or from species to genus, or from species to species, or on grounds of analogy" (see Metaph. 1457b7-9 - Aristoteles 2001:1476).
2 In sy werk oor die kategorieë skryf Aristoteles: "Quantity is either discrete, or continuous" (Categoriae, 4b20). "Number ... is a discrete quantity" (Cat., 4b31). Hy voer aan dat die dele van 'n diskrete kwantiteit geen gemeenskaplike grense besit nie, terwyl dit altyd moontlik is om in die geval van 'n lyn, as 'n kontinue kwantiteit, 'n gemeenskaplike grens te vind. (Cat., 4b25ff., 5a1ff.)
3 Ons sal nog sien dat Aristoteles se bewering dat "a good metaphor implies an intuitive perception of the similarity in dissimilars" 'n aanknopingspunt vir die verstaan van metafoorgebruik bied (sien Poetica 1459a6-7 - Aristoteles 2001:1479).
4 Waar hy die verskil met metonimie verduidelik skryf hy: "metonymy rests on contiguity and metaphor on resemblance" (Ricoeur 2006:207).
5 "By taking an entirely different path we thus reach the conclusion of the Kantian philosophy, that categories are of no assistance in grasping reality and that as analogical fictions they cannot provide us with any true knowledge" (Vaihinger 1949:30).
6 Met betrekking tot die aard van die reëele getalle stel hy dat die (Cantoriaanse) wiskunde ook 'n enkele reëele getal self voorstel "asof die oneindige aantal syfers almal opeens bestaan" ["als ob die unendlich vielen Ziffern alle auf einmal existierten"] (Lorenzen 1972:163).
7 Sy verwys na die term bloedsirkulasie waarmee bloedsomloop aangedui word - wat uiteraard ook verstaan moet word in die lig van die etimologie van die woord "sirkel" (Botha, 2011:635 e.v.).
8 Terloops kan opgemerk word dat die Duitse ondersoeker van dieregedrag, Eibl-Eibesfeldt, beklemtoon dat ons nie werlik van diere-taal kan praat nie, aangesien dit wat as dieretaal aangedui word eksklusief binne die sfeer van interjeksie, van die uitdrukking van insiglose gemoedstemminge val ["ausschlieBlich auf dem Gebiet der Interjektion, der uneinsichtigen StimmungsauBerung"] (Eibl-Eibesfeldt 2004:214, voetnoot).
9 Hy stel ook: "All communication rests upon the possibility of choice, or selection from a set of alternatives" (Lyons 1969:89). In ooreenstemmende sin skryf Nida: "This definition of meaning in terms of 'distinctive features' and 'contrasts' immediately implies a choice, since without choice there is no meaning" (Nida 1979:203). De Klerk (1978:6) beaam wat Lyons byna 'n dekade vroeër gesê het: "Betekenisvolheid veronderstel 'n keuse".
10 Sien Leezenberg (2001:31).
11 Let egter daarop dat taalhandelinge altyd tegelyk in alle werklikheidsaspekte funksioneer. Dit geld ook van die menslike denke. By geleentheid merk Ricoeur op: "my brain does not think, but when I am thinking something is always going on in my brain" (Changeux & Ricoeur, 1998:40).
12 "Einbildungskraft ist das Vermogen, einen Gegenstand auch ohne dessen Gegenwart in der Anschauung vorzustellen" (Kant 1787-B:151).
13 Die argeoloog, K.J. Narr, belig hierdie keersy van die mens se inbeeldingsvermoë wanneer hy die uniekheid daarvan uitlig in verband met die rol van die mens se vrye vormingsfantasie in dievervaardiging van onderskeidend-menslike werktuie. Die kriteria vereis dat die vorm, funksie en vervaardigingswyse nie deur die waargenome voorwerp gesuggereer moet word nie (vgl. Narr 1974:105; Narr 1976:99-101 en Narr 1988:279-285, asook Strauss 2011:651).
14 Slegs hierdie metafoor kan generaal De la Rey beskryf asof hy werklik 'n leeu is!
15 Kritiek op die opvattinge van Lakoff en Johnson kan nagelees word in Hoofstukke 2 en 3 van Leezenberg (2001) en in Strauss (2009:143-155).
16 Die verhewe (onkenbare) wese van God benodig normaalweg die idee van 'n aanpassing of akkommodasie aan skeppingsterme sodat God homself kan openbaar. In terme van die onderskeiding tussen theologia archetypa (Godskennis in homself) en theologia ectypa (soos aan ons geopenbaar) stel Bavinck dit soos volg: "Desniettemin ligt er de ware gedachte in, dat de theologia ectypa, welke door de openbaring aan schepselen geschonken wordt, niet is de absolute zelfkennis Gods, maar die kennis Gods, gelijk ze geaccommodeerd is naar en geschikt gemaakt is voor het eindig bewustzijn, dus geanthropomorphiseerd" (Bavinck 1918-I, 6, 4, bladsy 144). Op dieselfde bladsy lees ons ook: "Want de kennis, die God van zichzelven heeft, is absoluut, eenvoudig, oneindig, en in haar absoluutheid onmededeelbaar aan het eindig bewustzijn" (Bavinck 1918:144).
17 'n Begripsgebruik van die term "lewe" kom voor wanneer ons vasstel dat plante, diere en mense in biotiese sin lewe. Wanneer egter gesê word God is lewe word dieselfde biotiese term (lewe) idee-matig, d.w.s. op 'n begripstransenderende wyse, gebruik. Metafore kan uiteraard ook sowel begripsmatig as begripstransenderend gebruik word - dink slegs aan skriftuurlike wortel-metafore soos God is [ons] vader of God is koning. Cassirer (1953:85) gebruik ook die idee van 'n "root metaphor" in sy werk oor taal en mite.
18 Hierdie onderskeiding word uitvoerig ontleed in Strauss (2009:174-205).
19 Cassirer se omskrywing van 'n metafoor belig enkele fasette van ons definisie: "One can take it in a narrow sense, in which it comprises only the conscious denotation of one thought content by the name of another which resembles the former in some aspect, and is somehow analogous to it" (Cassirer 1953:86).
20 In 'n ander konteks het ek by geleentheid ook die voorbeeld van sosiale afstand en ruimtelike afstand gebruik - en dit dan verduidelik deur na die President van 'n land en sy lyfwag te verwys. In die element van ooreenkoms (afstand) kom die verskil na vore (naby/ver): hoewel die President en sy lyfwag ruimtelik gesien naby mekaar is, is hulle sosiaal gesien ver van mekaar - daar is 'n groot sosiale afstand tussen hulle.
21 By gebrek aan 'n teorie van modale aspekte besef Lakoff met sy teorie van "conceptual metaphors" geensins dat die etiese aspek van die werklikheid met alle nie-etiese aspekte saamhang en wel op grond van die verwysende analogieë wat daarin aangetref word nie. Hy verwys na die metafoor waarmee een ervaringsdomein, liefde, in terme van 'n hoogs verskillende ervaringsdomein, naamlik reise, verstaan word (sien ook Lakoff & Johnson 1999:71). Dit word gedoen met behulp van die idee van 'n "source domain" en 'n "target domain" en die "mappings" tussen hulle (sien Lakoff 1998:206). In werklikheid behandel hy in sy analises konstitutiewe analogieë in die modale struktuur van die etiese aspek van die werklikheid.
22 Die wyse waarop metafoorgebruik in verband staan met die relasie universeel individueel sal in 'n aparte studie aan die orde gestel word.

Creative Commons License Todo o conteúdo deste periódico, exceto onde está identificado, está licenciado sob uma Licença Creative Commons