SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.52 issue4History, land studies and land claims research - an open debateEight statements on the history of modern land tenure in the Mpumalanga Lowveld author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Tydskrif vir Geesteswetenskappe

On-line version ISSN 2224-7912
Print version ISSN 0041-4751

Tydskr. geesteswet. vol.52 n.4 Pretoria Dec. 2012

 

NAVORSINGS EN OORSIGARTIKELS RESEARCH AND REVIEW ARTICLES (1)

 

Die invloed van wanpersepsies ten opsigte van die geskiedenis van Suid-Afrika op grondeise: Die BaPhalane ba Ramokoka grondeis as gevallestudie

 

The influence of misperceptions on the history of South Africa: The BaPhalane ba Ramokoka land claim as case study

 

 

Anton C. van Vollenhoven

Archaetnos Argeoloë, Pretoria antonv@archaetnos.co.za

 

 


OPSOMMING

Archaetnos1 probeer om deur middel van akteondersoeke, die bestudering van argivale dokumente en antropologiese literatuur, asook veldwerk en onderhoude met betrokkenes die geldigheid van grondeise te bepaal. Gebrek aan kennis deur die grondeisekommissaris (LCC) lei dikwels tot die prosessering van eise wat op foutiewe inligting berus, soos byvoorbeeld gebeur het met die eis van die BaPhalane Ba Ramokoka. Aangesien die prosessering van ongeldige eise op grond van gebrekkige kennis hoë kostes, 'n mors van tyd en 'n onproduktiewe stelsel tot gevolg het, word betoog dat die nodige inligting op 'n veel vroeër stadium aan die grondeisekommissaris beskikbaar gestel moet word.

Trefwoorde: BaPhalana Ba Ramokoka, grondeise, meriete, historiese wanvoorstellings, kostes, produktiwiteit


ABSTRACT

During the past few years, Archaetnos has been involved in various land claims, with a view to collecting historical, anthropological and archaeological information in order to determine the validity of such claims. This was done by doing deeds searches and studying archival material and anthropological literature, followed by a field survey where claimants indicated sites linked to their history and where they were interviewed.
In some cases it was clear from the onset that misperceptions about South African history pertain. Even when information is correct, there is sometimes chronological chaos and in certain instances so-called "facts" are being fabricated.
The above-mentioned information is used by the Land Claims Commission (LCC) to determine the merit of a claim. The lack of knowledge at this institution frequently results in cases being approved for the process even when such approval was clearly based on incorrect information. The land claim of the BaPhalane Ba Ramokoka community is one such example.
In the article the reasons for land claims in general are listed. The merit of the BaPhalane claim, as well as the information obtained during the research process, is then discussed against this background. This is, however, not done in detail, as the article insteadfocuses on the general problem created by historical misperceptions.
The findings of the research were that although the BaPhalane had a valid claim to at least four of the thirty-two farms listed, they had no valid claim to at least eighteen others. This was confirmed by the court judgement.
It is concluded that the lack of knowledge at the Land Claims Commission results in many cases being unnecessarily investigated. This results in high costs, a waste of time and an unproductive system. It is therefore clear that information is required at a much earlier stage during the land claims process.

Key words: BaPhalane Ba Ramokoka, land claims, merit, historical misperceptions, costs, productivity


 

 

INLEIDING

Die afgelope aantal jare was Archaetnos by verskeie grondeise betrokke met die doel om historiese, antropologiese en argeologiese getuienis te versamel, ten einde te bepaal of die eise geldig sou wees al dan nie. Hiervoor is hoofsaaklik akte-ondersoeke gedoen, argivale materiaal bestudeer en antropologiese literatuur nagegaan. Dit is opgevolg deur 'n veldondersoek waartydens lede van die eisergroep spesifieke terreine (hoofsaaklik grafte en woonplekke) uitgewys het en waar onderhoude met hulle gevoer is om die nodige inligting hieroor te bekom.

In verskeie gevalle was dit reeds met die nagaan van die dokumentasie afkomstig van die grondeisekommissaris duidelik dat daar wanpersepsies ten opsigte van die geskiedenis van Suid-Afrika bestaan. Van die inligting is wel feitelik korrek, maar dan word gebeure wat chronologies ver van mekaar verwyder is, aangedui asof kontemporêr met mekaar. In ander gevalle word feite opgedis wat moeilik weerspreek kan word indien die teenkant nie ook ondersoek word nie (iets wat soms verbied word).

Hierdie inligting word deur die grondeisekommissaris gebruik om die meriete van 'n eis te bepaal. Die gebrek aan kennis lei daartoe dat die Grondeisekommissie male sonder tal bevind dat 'n eis geregverdig is, in gevalle wat ooglopend gebaseer is op foutiewe inligting. Hierdie gevalle word dan, net soos geloofwaardige gevalle, aan die proses onderwerp.

Die grondeis van die BaPhalane Ba Ramokoka gemeenskap is een so 'n geval. In hierdie artikel sal die meriete van die eis, soos aangedui in die Grondeisekommissie se dokumente, en die inligting soos deur die navorsing wat daarop gevolg het, bespreek word. Ten slotte sal die hofsaak wat hieruit voortgespruit het en die uitspraak van die hof aandag geniet.

 

WETGEWING

Volledigheidshalwe word die tersaaklike wetgewing vermeld. Eerstens sluit dit voormalige diskriminerende wette in, op grond waarvan grondeise ingestel kan word. Hierdie twee wette is die volgende:

  • Die Naturellen Grondwet (wet nr. 27 van 1913)
  • Die Naturellentrust en -grondwet (wet nr. 18 van 1936) (Du Pisani 2011:182)

Tweedens is daar die 1994-wetgewing wat daargestel is om grondeise moontlik te maak en wat as regulator vir die grondeiseproses dien, naamlik:

  • Die Wet op Herstel van Grondregte (wet nr. 22 van 1994) (Du Pisani 2011:187)

 

REDES AANGEVOER VIR GRONDEISE

Die dokumentasie afkomstig van die grondeisekommissaris, op grond waarvan grondeise ingestel word, toon duidelike wanpersepsies oor Suid-Afrikaanse geskiedenis. Dit sluit onder meer verdraaide feite in. Wanneer feite wel korrek weergegee word, word dit dikwels in chronologiese wanorde aangebied. Soms word "feite" bloot opgedis.

Hierdie inligting word gebruik om die meriete van eise te bepaal. Eise wat as sogenaamd "geregverdig" beskou word, word dan aan die grondeiseproses onderwerp. As daar gekyk word na die redes wat vir grondeise aangevoer word, wil dit voorkom of daar weinig eise is wat in hierdie stadium van die proses uitgesluit word.

In die dokumentasie van die grondeisekommissaris kom daar 'n magdom redes vir die instel van grondeise voor. Die lys, wat hieronder verstrek word, is saamgestel uit verskillende eise en dien as oorsig van die redes wat vir grondeise aangevoer word. Sommige redes word by meer as een grondeis aangetref, terwyl ander redes uniek tot spesifieke eise is. Van hierdie eise klink nie asof dit 'n rede tot 'n eis kan wees nie, terwyl enkele redes eintlik as aanvullend beskou kan word tot ander voorafgaande redes wat aangevoer is. Hulle word nietemin afsonderlik gelys omdat dit in die eisvorms as afsonderlike redes aangevoer word.

Die volgende redes word onder meer aangetref:

  • Die Apartheidsregering het opdrag gegee dat die eisers die plase moet verlaat (LCC09/2007:56)
  • Diegene wat plase verlaat het, het geen kompensasie hiervoor ontvang nie LCC (137/06, Lêer II:288; LCC09/2007:56)
  • Die nieblanke inwoners het geen reg gehad om plase aan te koop nie (LCC 137/06, Lêer I:198; LCC09/2007:56)
  • Hulle mag nie titelaktes vir die grond ontvang het nie (LCC 137/06, Lêer I:199)
  • Al die plase waarop hulle gewoon het is tot Staatsgrond verklaar (LCC09/2007:56)
  • Na die Tweede Wêreldoorlog (1935 (sic); 1939; 1945) is plase deur die Departement
  • Grondsake oorgeneem (LCC09/2007:55, 59, 63)
  • Hierdie situasie het geduur tot die negentiende eeu (sic), veral gedurende die 1930's toe die Voortrekkers, wat sendelinge ingesluit het, onder die Unieregering aangekom het en hulle voorvaders verplig is om arbeiders te word sonder enige noemenswaardige vergoeding (LCC 137/06, Lêer I:59)
  • Die Voortrekkers het hulle van hulle grond verjaag (LCC 137/06, Lêer II:287)
  • Die Voortrekkers het in groot groepe gekom en was swaar bewapen (LCC 137/06, Lêer II:287)
  • Die Voortrekkers het die land afgebaken (LCC 137/06, Lêer II:287)
  • Eisers kan fonteine, grotte, myne, krale, landerye en so meer uitwys (LCC 137/06, Lêer II:289)
  • Hulle voorvaders het die grond bewoon en hulle het tradisionele ("customary") eienaarskap gehad (LCC 137/06, Lêer I:59)
  • Die grond is deur hulle voorvaders gebruik vir sover as wat mense kan onthou (LCC 137/06, Lêer I:66)
  • Die grond is so vroeg as die agtiende eeu deur hulle voorvaders gebruik (LCC 137/06, Lêer I:205)
  • Daar was geen heinings nie en die oorspronklike inwoners kon ongehinderd rondbeweeg en van natuurlike hulpbronne gebruik maak (LCC 137/06, Lêer I:66)
  • Die mense is verplig om na hulle Kapteins terug te keer (LCC 137/06, Lêer II:288)
  • Hulle is verplig om hulle lewende hawe te verkoop (LCC 137/06, Lêer I:208)
  • Sommige mense moes gratis werk (LCC 137/06, Lêer I:208)
  • Hulle huise en grafte is deur die sogenaamde eienaars vernietig (LCC09/2007:57)
  • Hulle het grafte op sommige plase gehad, maar in sekere gevalle is dit deur landbou- aktiwiteite vernietig (LCC09/2007:57)
  • Daar is grafte en ruïnes van hulle mense op die plase (LCC 137/06, Lêer II:314; LCC09/2007:57)

In enkele gevalle word daar geen motivering op die eisvorms aangedui nie, behalwe om aan te dui dat die grond aan die eisers behoort (LCC09/2007:43). In hierdie gevalle word spesifieke plase dus in die eis ingesluit as deel van 'n groter geheel.

 

DIE GRONDEIS VAN DIE BAPHALANE BA RAMOKOKA

Doel van die ondersoek

Die doel van die veldwerkondersoek ten opsigte van die BaPhalane-grondeis kan soos volg uiteengesit word:

  • Om die ruïnes, grafte en historiese strukture wat deur lede van die BaPhalane uitgewys word, te dokumenteer en te bestudeer
  • Om te bepaal of dit wel met die BaPhalane verband hou
  • Om die geskiedenis van die BaPhalane na te gaan
  • Om die spesialisverslae van die grondeisers en die verweerders te bestudeer
  • Om kommentaar in verband met die geldigheid van die grondeis te lewer.

Agtergrond tot die eis

Die eis van die BaPhalane Ba Ramokoka is ingestel ten einde twee-en-dertig plase te bekom. Die plase word in 'n gebied tussen Northam en Brits in die Limpopo- en Noordwesprovinsies aangetref. Die plase is die volgende:

1. Uitduiker 17 JQ

2. Makayaskraal 18 JQ

3. Roodepan 19 JQ

4. Doornpoort 21 JQ

5. Pylkop 26 JQ

6. Geluk 24 JQ

7. Rhenosterspruit 28 JQ

8. Driefontein 32 JQ

9. Leeuwfontein 35 JQ

10. Zeekoeigat 67 JQ

11. Legkraal 68 JQ

12. Goldreef 70 JQ

13. Zandsloot 71 JQ

14. Palmietfontein 72 JQ

15. Vlakplaats 74 JQ

16. Vaalkop 76 JQ

17. Klipplaat 77 JQ

18. Witklip 78 JQ

19. Kameelfontein 80 JQ

20. Bultfontein 126 JQ

21. Klipkopspruit 127 JQ

22. Nooitgedacht 136 JQ

23. Kruidfontein 139 JQ

24. Boskop 138 JQ

25. Doornkloof 141 JQ

26. Langrand 143 JQ

27. Tambotie 146 JQ

28. Slachtkraal 193 JQ

29. Tweerivier 197 JQ

30. Zwartdoorns 421 KQ

31. Brosdoornhoek 433 KQ

32. Hardekoolpan 436 JK

Twee van die plase wat in die eis ingesluit is, Pylkop en Geluk, het ten tye van die ondersoek reeds aan die BaPhalane behoort. Dit is onbekend waarom dit steeds in die eis ingesluit is.

Beknopte geskiedenis van die BaPhalane Ba Ramokoka

Die geskiedenis van die BaPhalane is volledig deur Breutz (1953) nagevors en word hier net in hooftrekke weergegee. Die BaPhalane is 'n subgroep van die BaKwena, wat op sigself 'n onderafdeling van die BaTswana is (Brink 2010:30). Die BaPhalane het gedurende die laat agtiende eeu van die BaKwena af weggebreek en hulle in die omgewing van die Krokodilrivier (Odi) in die voormalige Transvaal (tans Noordwesprovinsie) gevestig (Breutz 1953:324). Hier het hulle die phalane (rooibok) as totem aanvaar. Sedertdien staan hulle as die BaPhalane bekend (Brink 2010:30).

Hierna, tussen 1790 en 1820, het hulle te Mmapela in Ndebelegebied gewoon. Gedurende 1820 verhuis hulle na Thokwe op die westelike oewer van die Odirivier, by die samevloeiing van die Thokwe- en Odirivier. Tydens die Difaqane, wat tussen die twintiger- en dertigerjare van die negentiende eeu plaasgevind het, was hulle aan Mzilikazi onderdanig en het hulle aan hom skatplig betaal. Tussen 1830 en 1840 het hulle op 'n heuwel genaamd Modise wa Mogopa, noordwes van hulle hedendaagse verblyfplek, geskuil (Breutz 1953:324).

Die BaPhalane het die Difaqane as groep oorleef en onder aanvoering van Hoofman Mafodi het hulle teen 1870 verhuis na die gebied waar Ramokokostat vandag geleë is (Breutz 1953:324336). Die gebied is oos van die Pilanesberg en sowat 50 kilometer noord van Rustenburg. Hierdie gebied staan as die BaPhalane hartland bekend en is hoofsaaklik op twee plase, naamlik Ramokokskraal 25 JQ en 'n gedeelte van Geluk 24 JQ geleë (Brink 2010:4).

Volgens Bergh (1999:218) het die Lokasiekommissie van die ZAR op 27 Desember 1887 besluit dat die land wat aan die BaPhalane toegeken is, uit hierdie twee plase sou bestaan. Hierdie besluit is klaarblyklik deur die BaPhalane aanvaar. Hulle het in 1892 ook die titeltaktes vir hierdie grond ontvang, sowel as vir die plaas Elandsfontein. Dit is deur die Hermannsburgse Sendinggenootskap vir hulle in trust gehou (Mbenga & Mouton 1997:146).

Die navorsing

Uit die aard van die saak kan daar nie in hierdie artikel op detail gekonsentreer word nie, aangesien dit nie die doel daarvan is nie. Die fokus val eerder op die algemene problematiek wat veroorsaak word deur historiese wanvoorstellings in grondeise. Gevolglik gee hierdie afdeling slegs 'n oorsig van probleme wat met die inligting in die grondeisvorms en ander dokumentasie ondervind is, sowel as inligting wat deur middel van die historiese en veldwerknavorsing aan die lig gekom het. Inligting wat daarop dui dat sekere plase wel die BaPhalane toekom (soos uitgewys in die slotbevindinge), word ook nie bespreek nie, aangesien dit nie bydra tot die aanspreek van die probleemstelling nie.

Algemene probleme

Die navorsing is in 'n mate bemoeilik deur die feit dat verskeie dokumente in die staatsargief en die aktekantoor verlore geraak het. Gevolglik kon inligting in sekere gevalle nie geverifieer word nie. Nietemin was dit moontlik om oor al 32 plase 'n uitspraak te maak.

' n Verdere kwessie is dat die volledige plaas in alle gevalle by die grondeis ingesluit is, hoewel dit uit die getuienis dikwels duidelik is dat slegs 'n gedeelte van 'n spesifieke plaas geraak word. 'n Voorbeeld hiervan is die plaas Mackayaskraal (Van Vollenhoven 2011:18). 'n Verdere voorbeeld is die plase Uitduiker en Brosdoornhoek, wat deur die BaPhalane as een area beskou word (Van Vollenhoven 2011:79). Die eis sluit gevolglik beide hierdie plase in, waar dit waarskynlik net die aangrensende porsies van beide is wat moontlik deur die BaPhalane benut is. Dit was soms nodig om hierdie onderskeid tussen die moontlikheid van 'n eis op sekere gedeeltes van 'n plaas, eerder as die hele plaas, aan te spreek.

In ander gevalle word 'n plaas geëis wat lank na die ander tot stand gekom het. Die plaas Nooitgedacht dien as voorbeeld. Dit is in 1951 geproklameer en bestaan uit gedeeltes van ander plase wat nie in die grondeis ingesluit is nie (Van Vollenhoven 2011:59). Dit was dus nodig om eers hierdie plase se geskiedenis ook na te gaan ten einde dit in die konteks van die groter eis te beskou.

'n Verdere kwessie wat sterk na vore gekom het, is die geloof by die grondeisers dat grafte as "besonderse" bewysmateriaal dien en dat die uitwys van voorvaderlike grafte onteenseglike en onweerspreekbare bewysmateriaal is. Hoewel dit ook by die BaPhalane-grondeis opvallend was, word dit nêrens beter gestel as by die Mekgareng-grondeis nie. Dit word duidelik op een van die eisvorms soos volg gestel: ''our graves are our deed'' (LCC 137/06, Lêer II:289). Hierdie aspek word onder die opskrif "Veldwerknavorsing" in detail bespreek.

Laastens het die BaPhalane, ter stawing van die grondeis, onder meer 'n aantal spesialisverslae ingedien. Hierdie verslae is egter soms deur kwasi-kundiges opgestel. Een voorbeeld hiervan is die antropologies-historiese verslag, opgestel deur 'n professor in ekonomiese wetenskappe (Hadebe g.d). Die verslag het bloot onkrities die mondelinge getuienis van lede van die BaPhalane gemeenskap as feit aanvaar en hoewel ander bronne benut is, is dit geensins deur die skrywer van daardie verslag in ag geneem nie. Om 'n verslag soos hierdie as verdag uit te wys, was nie maklik nie en dit was dikwels nodig om feite te "oormotiveer" ten einde die regbank te oortuig.

Dokumentêre bewyse

Die navorsing het bevind dat die meeste van die plase wat aan die eis onderworpe is, reeds sedert die vyftigerjare van die negentiende eeu die eiendom van blanke boere was en dat dit nooit hierna aan ander groepe behoort het nie. Hierdie plase was ook nooit deel van die sogenaamde swart gebied nie (Kantoor van die Landmeter-Generaal, Plaasregisters van plase in Transvaal). Dit behoort dus reeds vroeg tydens die grondeiseproses van die eis onttrek te gewees het, omdat die Wet op die Herstel van Grondregte (wet nr. 22 van 1994) slegs voorsiening maak vir die restitusie van grondregte van persone en groepe wat sulke regte sedert 19 Junie 1913 verloor het (Du Pisani 2010:187).

Ander plase is ook in die eis ingesluit, moontlik sonder meriete. Die plaas Rhenosterspruit, waar verskeie BaPhalane tans woon, is aan hulle gegee as kompensasie vir die plaas Tweerivier vanwaar hulle in 1963 verskuif is (NAB, SAB, BAO 20/647, H128/1528/102). Nietemin is beide hierdie plase steeds op die lys van plase wat geëis is.

Die plase Tweerivier en Vaalkop is weer aan eise deur ander persone onderhewig (Makhafola 2005: 142). Die veronderstelling is dat twee verskillende groepe nie op die dieselfde plaas geregtig kan wees nie. Derhalwe het die verskillende eise 'n invloed op mekaar en die uitslag van die een kon moontlik bepalend ten opsigte van die ander een gewees het.

Dit is bevind dat die plaas Driefontein aan die BaKgatla behoort en dat dit dus nie deel van die eis behoort te wees nie (NAB, SAB, BAO 2/1546, 78/8/2/2/R50/218). Na bewering bestaan daar 'n historiese ooreenkoms tussen die BaKgatla en die BaPhalane dat laasgenoemde groep die plaas kan gebruik (Hadebe g.d.:65), maar juis dít dui dan daarop dat hulle nie die eienaars van die plaas is nie.

Voorts bestaan daar bewyse dat daar swart individue is wat eienaarskap bekom het op gedeeltes van die plase, wat in die eis van die BaPhalane ingesluit is. Die plaas Vaalkop dien as voorbeeld. Die titelakte vir die restant van die plaas is in 1922 aan verskeie nieblanke persone oorgedra (Kantoor van die Landmeter-Generaal, Plaasregister vir die plaas Vaalkop 76JQ, Akte nommer 12140). Hierdie dokument bewys dat swartmense wel soms eienaarskap kon bekom, 'n feit wat dikwels in die motiverings vir grondeise uitgelaat word. Belangriker egter bewys dit dat die BaPhalane nie die eienaars van hierdie plaas kon wees nie.

In sekere gevalle word 'n plaas geëis op grond van die bewoning aldaar van 'n spesifieke familie. Op die plaas Uitduiker was die familie Mmebe byvoorbeeld woonagtig (Hadebe g.d.:12). Die plaas kan egter nie deel van 'n groepseis word nie, aangesien slegs 'n enkele familie hier ter sprake is en nie die hele groep nie.

'n Ander bewys dat sekere plase wat in die eis ingesluit is, nie die eiendom van die BaPhalane was nie, is historiese huurooreenkomste. Dokumentêre bewyse van verskeie sodanige ooreenkomste, waar die BaPhalane grond van blanke eienaars gehuur het, is gevind. Dit sluit onder meer 'n huurooreenkoms op die plaas Leeuwfontein in, wat in die vroeë dertigerjare van die twintigste eeu deur die BaPhalane gehuur is (NAB, SAB, NTS 8127, 307/340). Dit dien as duidelike bewys dat die betrokke plase nie die eiendom van die BaPhalane kan wees nie, aangesien mens immers nie jou eie grond huur nie.

Veldwerknavorsing

Strukture wat uitgewys is, kon nie in alle gevalle as bewysmateriaal dien nie. In een geval, op die plaas Uitduiker, is die oorblyfsels van 'n struktuur uitgewys en is aangedui dat dit is waar van die BaPhalane woonagtig was (persoonlike mededeling: Frans Molefe). Die eienaar van die plaas het egter aangedui dat dit is waar bywoners op die plaas gewoon het (persoonlike mededeling: Francois Swart). Die enigste wyse om hierdie verskil te besleg sou wees om argeologiese opgrawings te doen, maar dit is geen waarborg dat dit tot finaliteit sou lei nie. Dit is egter nie benut nie, aangesien die saak daarsonder (en natuurlik op grond van ander bewysmateriaal) afgehandel kon word.

Antropologies gesproke moet daarop gewys word dat die BaPhalane deel is van die BaKwena en dat hulle weer deel is van die BaTswana. Die materiële oorblyfsels op argeologiese terreine wat met die BaTswana verbind word, sal slegs laasgenoemde reflekteer omdat die fyner onderskeid nie moontlik is nie. Die vind van sodanige terreine en die moontlike argeologiese opgrawing daarvan sou dus hoogs onwaarskynlik 'n onderskeid kon tref tussen verskillende subgroeperings van die BaTswane (soos die BaKgatla en die BaPhalane) en gevolglik is hierdie tipiese Vroeg Historiese/Laat Ystertydperkterreine nie 'n goeie hulpmiddel vir grondeise nie, veral waar verskillende groeperinge moontlik eise vir die dieselfde stuk grond indien.

Die metodiek van Argeologie, naamlik om opgrawings te doen, is nie tydens hierdie studie benut nie. Dit is deurentyd as moontlikheid oorweeg indien dit nodig sou wees. Die koste hieraan verbonde vereis egter dat dit slegs as laaste moontlikheid oorweeg sou kon word en slegs wanneer ander bewysmateriaal nie die skaal na die een of ander kant laat kantel nie.

Tipiese Vroeg Historiese/Laat Ystertydperkterreine is weliswaar nie tydens die ondersoek aan die ondersoekspan uitgewys nie, maar is wel op lugfoto's geïdentifiseer, byvoorbeeld op die plaas Kruidfontein (Gerber 2010:14). Hierdie terreine is waarskynlik ouer as 120 jaar en verteenwoordig dus 'n fase voor die instelling van die diskriminerende wetgewing (1913) wat tot grondeise aanleiding kan gee. Die regspan van die BaPhalane het dit nietemin as bewysmateriaal by die hof ingedien. In 'n spesifieke geval, op die plaas Boschkop, is 'n soortgelyke terrein dadelik deur 'n lid van die BaPhalane geëien as 'n plek waar hy sy kinderjare spandeer het (persoonlike mededeling: Lucas Modibidi). Hierdie toeëiening is noodwendig tydens die navorsingsproses bevraagteken.

Soms het die grondeienaars wat tydens die veldondersoek die ondersoekspan vergesel het, terreine uitgewys wat dan ook oombliklik deur die grondeisers toegeëien is. Dit het selfs gebeur nadat die eisers ontkennend geantwoord het op die vraag of daar nog iets op die spesifieke plaas is wat hulle wil uitwys. Hieronder tel 'n bewoningsterrein op die plaas Boschkop (Van Vollenhoven 2011:62). Noodwendig moes daar in sulke gevalle 'n vraagteken oor die geloofwaardigheid van die getuienis wees.

By ander plase, soos die plaas Bultfontein, was daar niks wat die eisers wou uitwys nie en was daar ook geen materiële getuienis van die BaPhalane se teenwoordigheid aldaar nie. Die rede hiervoor is dat daar byvoorbeeld slegs op hierdie plase gejag is of dat dit as weiding gebruik is (Van Vollenhoven 2011:56). Gevolglik is dit moeilik om te bewys dat daar wel 'n wettige aanspraak op die grond is. Hierdie voorbeeld het duidelik na vore gebring dat daar onkunde bestaan oor die verskil tussen die begrippe "benutting" en "eienaarskap". Uit die onderhoude met lede van die BaPhalane, blyk dit byvoorbeeld duidelik dat die eisers soms 'n area bloot benut het (waarskynlik met toestemming van die eienaar), maar dit word dan as bewys van eienaarskap in die motivering vir die eis ingesluit.

Daar is gevalle waar daar konflikterende inligting in verband met grafte, wat aan die ondersoekspan uitgewys is, ingesamel is. Op die plaas Brosdoornhoek is 'n klompie ongemerkte grafte uitgewys en is aangedui dat die grafte van BaPhalane voorouers is (persoonlike mededeling: Frans Molefe). Die betrokke plaaseienaar het egter beëdigde verklarings van Jan Mothei, Butana Tselapedi en Senelo Tselapedi, wat tot 'n ander groep behoort, ingedien. In die verklarings dui hulle aan dat dit hulle voorouers is wat daar begrawe is (beëdigde verklaring van Jan Mothei, 26 Januarie 2006; beëdigde verklaring van Butana Tselapedi, 26 Januarie 2006; beëdigde verklaring van Senelo Tselapedi, 26 Januarie 2006). Gevolglik is dit onmoontlik om 'n beslissing te vel, behalwe indien die grafte opgegrawe word en DNS-toetse op skeletmateriaal gedoen word. Hierdie metode is nie benut nie, omdat die saak daarsonder afgehandel kon word.

Op sommige ander plase is daar weliswaar nie teenstrydige inligting ingesamel nie, maar het ander faktore 'n invloed op die eis uitgeoefen. Hoewel die ondersoekspan in hierdie gevalle aanvaar het dat negentiende-eeuse grafte, wat uitgewys is wel tot die BaPhalane behoort, was daar egter ook blanke grafte uit die negentiende eeu op dieselfde plaas. So kom daar op die plaas Uitduiker benewens die BaPhalane grafte ook grafte van De la Reys voor (Van Vollenhoven 2011:14-15). Dit bewys dus dat grafte nie as onteenseglike bewys aanvaar kan word om eienaarskap te bewys nie. Dit bewys bloot wie daar begrawe is en niks meer nie.

In enkele gevalle, soos op die plaas Boschkop, is beweer dat grafte vernietig is (persoonlike mededeling: Lucas Modibidi). Die plek waar die grafte voorgekom het, is dus uitgewys, maar geen fisiese getuienis kon gevind word nie.

Ten slotte moet beklemtoon word dat dit algaande tydens die navorsingsproses duidelik geword het dat daar 'n sterk begriploosheid by die eisers, sowel as die grondeisekommissaris bestaan ten opsigte van wetenskaplike bewyse gebaseer op kredietwaardige bronnemateriaal. Dit is juis die rede waarom die grondeis van die BaPhalane tot in die hof gevorder het. Mondelinge getuienis, wat deur dokumentêre inligting weerspreek word, is tot op die laaste in die hof, as die "meer betroubare" inligting voorgehou.

Bevindinge

Die bevindinge van Archaetnos se ondersoek kan in vier groepe ingedeel word:

  • Daar is 'n geldige grondeis op vier plase, naamlik Geluk, Pylkop, Rhenosterspruit en Leeuwfontein
  • Die oorwig van getuienis, hoewel nie onteenseglik nie, dui daarop dat die grondeis moontlik geldig is op vier ander plase, naamlik Driefontein, Gold Reef, Kameelfontein en Tweerivier
  • Die oorwig van getuienis, hoewel nie onteenseglik nie, dui daarop dat die eis moontlik ongeldig is op ses plase, naamlik Doornpoort, Zeekoeigat, Legkraal, Vaalkop, Witklip en Bultfontein
  • Die grondeis is ongeldig op die agtien oorblywende plase

Daarbenewens is daar die onnodige kostes wat teweeggebring word deur die feit dat die eis toegelaat is om, nieteenstaande die aanvanklike foutiewe inligting en latere oortuigende getuienis, voort te gaan. Hierdie kostes sluit die hofsaak, met die daarmee gepaardgaande kostes van advokate, prokureurs en ander personeel in. Die terreininspeksies bring ook groot kostes teweeg omdat verskeie persone daarby betrokke is. Die herhalende opstel van spesialisverslae is 'n verdere onnodige koste wat aangegaan moes word. Laastens is daar gedeeltes van plase wat deur die grondeisekommissaris aangekoop is tydens die verloop van die proses. Hier word verwys na plase waar die eienaar besluit het om liewer te verkoop as om die eis teen te staan. In die meeste gevalle sluit dit plase in wat uiteindelik in die hof van die grondeis kwytgeskel is.

Die hofuitspraak

Die verwikkelinge in die grondeisehof het daartoe gelei dat die eisers hulle eis teruggetrek het op die plase waarvan die boere die eis teengestaan het. Dit is die 18 plase in die laaste kategorie hierbo onder bevindinge vermeld. Daar is weliswaar ooreengekom dat toegang tot voorvaderlike grafte op hierdie plase aan die BaPhalane verleen sal word.

Die hofuitspraak het voorts bevind dat die eis teen staatsgrond kan voortgaan. Dit is die oor-blywende veertien plase en sluit die ses plase in waarvan die bevinding was dat die oorwig van getuienis daarop dui dat die eis moontlik ongeldig is. Dit beteken dat kostes steeds verder aangegaan sal word terwyl daar nie bo redelike twyfel bewys kon word dat hierdie plase wel die BaPhalane toekom nie.

Die grondeisekommissaris is opdrag gegee om te publiseer dat die verweerders se grond van alle eise uitgesluit word. Dit sluit moontlike toekomstige eise in. 'n Kostebevel is teen die staat uitgereik en dit sluit die kostes van die verweerders in (Registrateur van die Grondeisehof, Hofbevel, 21 Februarie 2012:1-3).

 

GEVOLGTREKKING

Uit die voorafgaande is dit duidelik dat die grondeisekommissaris van die inligting, wat as motivering in die eisvorms aangebring word, gebruik maak om die meriete van 'n eis te bepaal. Die gebrek aan kennis by die kommissaris lei daartoe dat eise wat nie geregverdig is nie, wel as sodanig geklassifiseer word en gevolglik aan die grondeiseproses onderwerp word. Soos uitgewys, lei dit tot onnodige kostes.

'n Verdere probleem is dat selfs die spesialisverslae van die verweerders as "nie goed genoeg nie" gereken word. Die verslae waarna verwys is, is tydens Archaetnos se ondersoek bestudeer, en benewens enkele nietighede, kon daar nie mee fout gevind word nie. Dit beteken dat die proses alreeds na indiening hiervan, tot 'n einde kon gekom het.

Dit is derhalwe duidelik dat kundigheid van historici, antropoloë en argeoloë op 'n veel vroeër stadium benodig word. Sodoende sal sake vinniger afgehandel word en sal die produktiwiteit van die grondeiseproses verhoog word. Daarbenewens sal plase veel vinniger weer as ekonomies lewensvatbare eenhede benut word, aangesien boere dikwels ophou om hulle plase te ontwikkel en te bewerk wanneer 'n eis daarteen ingestel word.

Ten slotte moet daarop gewys word dat nie alle grondeise verdag is nie. Daar is verskeie eise wat geldig is en wat tog deur die grondeienaars teengestaan word. Hierdie eise moet noodwendig aan die proses onderwerp word. Dit is algemene kennis dat sekere van hierdie eise reeds suksesvol, tot voordeel van die eisers, afgehandel is.

 

BIBLIOGRAFIE

Bergh, J.S. (red.). 1999. Geskiedenisatlas van Suid-Afrika. Die vier noordelikeprovinsies. Pretoria: J.L. van Schaik.         [ Links ]

Bergh, J.S. 1999. Konflik tussen blank en swart in die 19de eeu. In Bergh, J.S. (red.). Geskiedenisatlas van Suid-Afrika. Die vier noordelike provinsies. Pretoria: J.L. van Schaik.         [ Links ]

Brink, E. 2010. Report on the BaPhalane Land Claim. (Ongepubliseerde verslag, Johannesburg).         [ Links ]

Breutz, P-L. 1953. The tribes of the Rustenburg and Pilanesberg Districts. Pretoria: Department of Native Affairs.         [ Links ]

Du Pisani, J.A. 2011. Grond en transformasie: historiese konteks en oorsig van die proses van grondher- vorming, 1994-2010. Tydskrifvir Geesteswetenskappe, 51(2):178-201.         [ Links ]

Gerber, A. 2010. Photography analysis report. (Ongepubliseerde verslag).         [ Links ]

Hadebe, S.M. g.d. Research report BaPhalane Ba Ramokoka Community Land Claims Northwest and Limpopo Province. (Ongepubliseerde verslag, MTK Corporate Solutions).         [ Links ]

Kantoor van die Landmeter-Generaal, Plaasregisters van plase in Transvaal.         [ Links ]

Kantoor van die Landmeter-Generaal, Plaasregister van die plaas Vaalkop 76JQ, Aktenommer 12140.         [ Links ]

LCC09/2007, Lêer in verband met die BaPhalane Ba Ramokoka grondeis.

LCC137/06, Lêer I in verband met die Mekgareng grondeis.

LCC137/06, Lêer II in verband met die Mekgareng grondeis. Makhafola, M.R. 2005. Research report. (Ongepubliseerde verslag).

Mbenga, B. & Mouton, F. 1997. The missionary as land broker: Henri Gonin, Saulspoort 269 and the BaKgatla of Rustenburg District, 1862-1922. South African Historical Journal, 36(1): 145-167.         [ Links ]

Modibidi, L., Grondeiser en lid van die BaPhalane, Persoonlike mededelings, 14-16 Februarie 2011.         [ Links ]

Molefe, F., Grondeiser en lid van die BaPhalane, Persoonlike mededelings, 14-17 Februarie 2011.         [ Links ]

Mothei, J.T., Plaaswerker op die plaas Brosdoornhoek, Beëdigde verklaring, 26 Januarie 2006.         [ Links ]

Nasionale Argiefbewaarplek, Pretoria: Suid-Afrikaanse Argiefbewaarplek, Bantoe Administrasie en Ontwikkeling (BAO), 20/647, H128/1528/102.         [ Links ]

Nasionale Argiefbewaarplek, Pretoria: Suid-Afrikaanse Argiefbewaarplek, Bantoe Administrasie en Ontwikkeling (BAO), 2/1547, 78/8/2/2/R50/218.         [ Links ]

Nasionale Argiefbewaarplek, Pretoria: Suid-Afrikaanse Argiefbewaarplek, Native Affairs Department (NTS), 8127, 307/340.         [ Links ]

Registrateur van die Grondeisehof, 21 Februarie 2012. Hofbevel in die saak rakende die BaPhalane Ba Ramokoka vs die Minister van Landbou en grondsake & 76 andere, LCC09/07.         [ Links ]

Swart, F., Verweerder en eienaar van die plaas Uitduiker, Persoonlike mededeling, 14 Februarie 2011.         [ Links ]

Tselapedi, B.K., Plaaswerker op die plaas Brosdoornhoek, Beëdigde verklaring, 26 Januarie 2006.         [ Links ]

Tselapadi, S.K., Plaaswerker op die plaas Brosdoornhoek, Beëdigde verklaring, 26 Januarie 2006.         [ Links ]

Van Vollenhoven, A.C. 2011. Report on the assessment of information relating to the BaPhalane Ba Ramokoka Land Claim Case (Case no LCC09/2007). (Ongepubliseerde verslag, Wonderboompoort, Archaetnos).         [ Links ]

 

 

ANTON C. VAN VOLLENHOVEN verwerf die grade BA, BAHons (Argeologie 1988 cum laude), MA Argeologie (1992), die Nagraadse Diploma in Museumkunde (1993 cum laude), die Diploma in Tersiëre Onderwys (1993) en DPhil (Argeologie 2001) aan die Universiteit van Pretoria; en aan die Universiteit van Stellenbosch die grade MA (Kultuurgeskiedenis 1998 cum laude) en DPhil (Geskiedenis 2010). Hy het ook 'n Bestuursdi-ploma van die Tshwane Universiteit van Tegnolo-gie (2007 cum laude). Tydens sy loopbaan werk hy as navorser en kurator by die Militêre Museum Fort Klapperkop, die Nasionale Kultuurhistoriese Museum en die Stadsraad van Pretoria. Tussen 2002 en 2007 dien hy as Adjunk-Bestuurder vir Museums en Erfenis by die Stad Tshwane. Tans is hy 'n Erfeniskonsultant en Direkteur van Archaetnos Argeoloë. Tussen 2003 en 2006 was hy 'n lid van die SAHRA Raad. Hy is lid van en dien in verskeie hoedanighede by verskeie vakweten-skaplike verenigings.

Anton is die skrywer van 71 wetenskaplike en populêre artikels en meer as 350 ongepubli-seerde navorsingsverslae. Hy is ook outeur van 'n werk oor die militêre fortifikasies van Pretoria en 'n gedeelte in 'n boek oor Mapungubwe. Hy het reeds meer as 45 referate by nasionale en inter-nasionale kongresse gelewer.

ANTON C. VAN VOLLENHOVEN obtained the following qualifications at the University of Pretoria: BA, BAHons (Archaeology 1988 cum laude), MA (Archaeology 1992), Postgraduate Diploma in Museology (1993 cum laude), Diploma in Tertiary Education (1993) and a DPhil (Archaeology 2001); he holds an MA (Cultural History 1998 cum laude) and a DPhil (History 2010) from the University of Stellenbosch. He also obtained a Management Diploma (2007 cum laude) from the Tshwane University of Technology. During his career he was researcher and curator at the Fort Klapperkop Military Museum, the National Cultural History Museum and the City Council of Pretoria. Between 2002 and 2007 he served as Deputy Manager for Museums and Heritage at the City of Tshwane. Currently he is a heritage consultant and the director of Archaetnos Archaeologists. Between 2003 and 2006 he was a member of the SAHRA Council. He is a member of and serves in different capacities at various professional associations. Anton is the author of 71 scientific and popular articles and more than 350 unpublished research reports. He is also the author of a book about the military fortifications of Pretoria and a chapter in a book on Mapungubwe. He has delivered more than 45 papers at national and international conferences.

 

 

1 Archaetnos is 'n maatskappy wat hoofsaaklik met erfenis-impakstudies en studies wat daaruit voortspruit, gemoeid is. Die maatskappy beskik ook oor 'n navorsingsafdeling. Navorsing ten opsigte van grondeise word dikwels onderneem.

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License