SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.52 número4The contractual dimension of constitutions: new challenges for South Africa? índice de autoresíndice de assuntospesquisa de artigos
Home Pagelista alfabética de periódicos  

Serviços Personalizados

Artigo

Indicadores

Links relacionados

  • Em processo de indexaçãoCitado por Google
  • Em processo de indexaçãoSimilares em Google

Compartilhar


Tydskrif vir Geesteswetenskappe

versão On-line ISSN 2224-7912
versão impressa ISSN 0041-4751

Tydskr. geesteswet. vol.52 no.4 Pretoria Dez. 2012

 

NAVORSINGS EN OORSIGARTIKELS RESEARCH AND REVIEW ARTICLES (1)

 

 

Inleiding tot Spesiale Tema : Grondberaad

 

 

Navorsing oor vele fasette van grond in Suid-Afrika, en veral oor die uiteenlopende gevolge van regeringsbesluitneming daaroor gedurende die twintigste eeu, het gedurende die afgelope 40 jaar verskyn. 'n Tiental konferensies en debatsgeleenthede was daar ook waaraan etlike dissiplines meegedoen het. Hierdie forums het ook die belangstelling gelok van professionele amptenary vanuit onder meer die owerheids- en privaatsektor. Hierbenewens wek die historiese verloop van die grondeiseproses na 1994 noodwendig die aandag van Jan Alleman, waaronder grondeienaars: as naaste aan die ontvangkant in die afgelope jare se grondwetgewing en besluitneming oor grond. Die 21 Junie 2012-Grondberaad van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns se Geskiedeniskommissie was 'n geleentheid vir 'n verskeidenheid van kundiges om te besin oor die tema: "Wie se grond? Op grond waarvan?" Van die artikels in hierdie spesiale afdeling is by hierdie geleentheid aangebied. Ander weer is verdere verwerkings uit onlangse of huidige publikasies en/ of lopende navorsing. Ten minste drie vakkundige brille is tydens die reflekteringsproses opgesit, naamlik dié van die historici, die politici en 'n argeoloog.

Om die outeursbydraes sover moontlik logies te orden ter wille van lesersvriendelikheid, is besluit om van 'n meer algemene vertrekpunt rakende grond in Suid-Afrika te beweeg (die bydrae deur Heydenrych), na meer spesifieke streeksvoorbeelde ten opsigte van die grondeiseproses en indrukke daaroor te deel (Van Eeden, Van Vollenhoven en Tempelhoff). Die status oor grondprosesse die afgelope jare en tans is veral in die laaste twee artikels deur Changuion en Van der Elst sigbaar.

Die artikel van Heydenrych oor "Grond as ruimte van politieke stryd in Suid-Afrika" besin oor grond vanuit n politieke perspektief. n Assosiasie van grond as n blywende proses van stryd of worsteling in die politiek word beklemtoon. Heydenrych beklemtoon veral die redes daartoe. 'n Moontlike heropening van die beginsel van onderhandelingsgesprekke, soos in die vroeë negentigerjare (met die bedoeling om wel oop te wees vir kompromie), word voorgehou as moontlike weg vorentoe. Dit word egter deur Heydenrych ook beskou as n baie delikate opsie weens die feit dat die politieke aard van die negentigerjare veel anders was as tans. Die skrywer is beslis daaroor dat die grondhervormingsproses tot sover oninspirerend en tegnokraties was, en nie die politiek daarvan sinvol hanteer nie.

Voorbeelde van die waarnemings deur Heydenrych is te vind in die artikels deur Van Eeden en Van Vollenhoven. In die bydrae oor "Geskiedenis, grondstudies en grondeise-navorsing - 'n oop gesprek" is die bril van historici in grondeise-navorsing opgesit. Die mate waartoe Geskiedenis as 'n dissipline betekenisvol kan wees of behoort te wees in die uiteindelike besluitneming oor eise ten opsigte van grond, is die hoofsaak. Hoe Geskiedenis kan bydra om op n multi-perspektiwiese wyse as bewysmateriaalverskaffer in grondeise-navorsing te funksioneer, is toegelig deur kortliks te verwys na die onafgehandelde grondeis op die plaas Deelkraal IQ142. Gegrond op hierdie voorbeeld is Van Eeden van mening, soos ander historici, dat die waarde van Geskiedenis in grondeise-navorsing nie genoegsaam in finale besluitnemings oor grondeise geag word nie. In watter mate daar 'n "huwelik" sou kon wees tussen Geskiedenis as wetenskap en grondeise-navorsing, binne die behoefte van die huidige regering se grondhervormingsideale, is ook aangeraak.

Argeoloog Van Vollenhoven se artikel oor "Die invloed van wanpersepsies ten opsigte van die geskiedenis van Suid-Afrika op grondeise: die BaPhalane ba Ramokoka grondeis as gevallestudie", versterk die gevolgtrekkings waartoe Van Eeden gekom het. 'n Indiepte-ontleding oor die grondeiseproses, en hoe die proses die meriete van die BaPhalane-eis geraak het, is ter sake. Die hoofsaak egter, is die skrywer se besorgdheid oor historiese wanvoorstellings in grondeise waarby die Grondeisekommissie te geredelik inval. Dit lei daartoe dat sekere eise onnodig geprosesseer word. Hoë kostes, vermorste tyd en 'n onproduktiewe stelsel is die gevolg. Van Vollenhoven moedig indiepte-navorsing op 'n veel vroeër stadium van die grondeiseproses aan.

Met sy "Agt stellings oor die geskiedenis van moderne grondbesit in die Mpumalanga Laeveld" wil Tempelhoff die leser op hoogte bring van die grondgeskiedenis en die hantering van grond in hierdie deel van Suid-Afrika. Op 'n vernuftige wyse stel Tempelhoff die leser bloot aan teoretiese stellings wat hy verantwoord op 'n empiries-filosofiese grondslag. Hy koppel dit verder in die praktyk aan die historiese ontwikkeling van grondbesit in die Laeveldstreek. Die bedoeling van Tempelhoff hiermee is om pertinent vanuit 'n andersoortige perspektief na die geskiedenis van grondbesit in die verlede te kyk, met die doelwit om bykomende insigte te vestig. Tog sal die aansprake op grond nooit 'n punt daaragter beleef nie. Derhalwe is dit van groot belang dat die geskiedenis daarvan, en akademiese perspektiewe daaroor, nie ignoreer word nie.

Die laaste twee artikels in die spesiale afdeling verskil in vele opsigte van mekaar, maar beide besin meer spesifiek oor oplossings vir die grondvraagstuk in Suid-Afrika as enige van die ander artikels wat hier ter sprake is. Historikus Changuion belig die Suid-Afrikaanse grondvraagstuk en kontemporêre besluitneming daaroor met die gedagte om ander weë as oplossings te debatteer. Sy benadering beklemtoon ook die onontbeerlike rol van die grondgeskiedenis alvorens aan sinvolle grondverdeling gedink kan word. Regerings van die dag word verder gekritiseer vir die wyse waarop hulle 'n beleid van skeiding probeer toepas het. Tereg herinner Changuion die leser aan ander komplekse faktore wat inspeel op sinvolle en/of regverdige grondverdeling, maar dat dit inderdaad moet en behoort te gebeur, word nie betwis nie. Nuwe voorstelle vir grondhervorming soos in die Groenskrif vir Grondhervorming (2011) belig, word ook deur Changuion krities ontleed. Hy sien hierin die potensiaal en die weg, indien sinvol gewysig en toegepas, tot 'n meer aanvaarbare vorm van grondhervorming.

Die laaste belangrike gedagtes oor grondhervorming in die uitgawe behoort aan die politieke wetenskaplike, Van der Elst. In sy "'n Nuwe benadering tot grondhervorming as 'n ontwikkelings-faktor in die Suid-Afrikaanse politieke landskap" deel hy met die leser 'n politieke geskiedenis van die grondhervormingsproses in die postapartheidsbedeling. Hierdie proses het ter aanvang ten doel gehad dat dit sal lei tot die verligting van wanbalanse in grondtoekenning en -verdeling van die verlede. Dit moes plek maak vir geregtigheid, armoedeverligting en volhoubare ontwikkeling. Buiten dat die hantering van die grondhervormingsproses ander vorme van wanbalanse ontketen het soos deur van die ander skrywers gedeel, was daar teen 2012 tog n mate van sukses volgens Van der Elst. Hy wys dit op n kritiese wyse uit. Die Groenskrif kry in Van der Elst se bespreking die nodige aandag en, soos Changuion, sien hy meriete daarin mits politieke waagmoed en die wil om keuses te maak en besluite te neem aan die dag gelê word.

In die lig daarvan dat die huidige ANC-regering sig onlangs opnuut verbind het tot 'n versnelde maar meer volhoubare grondhervormingsproses sonder om die land se voedselsekuriteit te ontwrig, kan aanvaar word dat Desember 2012 (ná die ANC se leierskapskongres) meer insigte mag bring met wat presies beoog word. Vanuit n akademiese besinning is die ideaal dat die waarde van die land se grondgeskiedenis, vanuit n nugter bril, ook daartoe sal bydra om toekomstige besluit-nemings in grondhervorming te rig.

 

Elize S van Eeden
Gasredakteur: Grondberaad

Creative Commons License Todo o conteúdo deste periódico, exceto onde está identificado, está licenciado sob uma Licença Creative Commons