SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.52 número3The context of the Royal Academy of Music in Munich and its South African born students, 1902-1909: Mabel Wuesto, Vera de Villiers, Daisy Bosman and Irma LohnerCorrigendum índice de autoresíndice de assuntospesquisa de artigos
Home Pagelista alfabética de periódicos  

Serviços Personalizados

Artigo

Indicadores

    Links relacionados

    • Em processo de indexaçãoCitado por Google
    • Em processo de indexaçãoSimilares em Google

    Bookmark

    Tydskrif vir Geesteswetenskappe

    versão impressa ISSN 0041-4751

    Tydskr. geesteswet. v.52 n.3 Pretoria  2012

     

    BOEKBESPREKINGS BOOK REVIEWS

     

    Democracy under stress: the global crisis and beyond

     

     

    Redakteurs: Ursula van Beek en Edmund Wnuk-Lupinksy
    Uitgewers: Sun Media, Stellenbosch
    Prys: R275:00 inklusief
    227 pp, Indeks

    Hierdie saamgestelde werk deur 'n aantal binne- en buitelandse kundiges oor die wêreld politiek en ekonomie handel oor die finansiële "aardbewing" en die gevolglike globale ekonomiese "tsunami"' oftewel Groot Resessie wat die wêreld ekonomie in September 2008 getref het. Die boek handel veral oor die newe effekte en nagevolge wat die Groot Resessie op gevestigde en nuwe demokrasieë gehad het en inderdaad nog steeds het. In feitlik al die gevestigde Westerse demokrasieë het die werkloosheidskoers tot ongekende hoogtes gestyg. In nuut gedemokratiseerde state soos Griekeland, Spanje en Portugal (al drie post 1974 gedemokratiseer) het werkloosheid onder jongmense tussen 18-30 jaar oud tot so hoog as 50% gestyg en algemene werkloosheid in hierdie state is so hoog as 25% - met name Spanje. Selfs die "ou demokrasieë" soos Frankryk en Brittanje ly onder hierdie resessie. Ten tyde van die skryf van hierdie resensie het beide state in die bykans vier jaar na die groot resessie nog nie ekonomies herstel nie. Werkloosheid is steeds in die orde van 10 -12%, staatskuld hoog, besparingsmaatreëls besonder pynlik. In verskeie state in Wes Europa het regerings geval weens nuwe en streng monetêre en fiskale maatreëls wat uiters ongewild by kiesers is/was. Dink maar aan regeringswisselings in Brittanje, België, Frankryk, Italië, Spanje, Griekeland, Nederland, met steunverlies aan die Merkel-regering in Duitsland.

    Die vraag wat in hierdie boek gestel word is hoekom die Groot Resessie ontstaan het, wat die oorsake daarvan was en hoe dit moontlik in die toekoms vermy kan word. Die outeurs is van mening dat die onderliggende konsensus oor die politieke ekonomie wat in die Weste geheers het sedert die Tweede Wereldoorlog, en veral na 1980, die sogenaamde Washington Konsensusmodel van ekonomiese groei, aan skerwe is. Die Washingtonsiening kom daarop neer dat 'n ekonomie immer kan uitbrei en vergroot, dat 'n staat se politieke ekonomie aanmekaar kan groei en sterker word en dat die bevolking steeds ekonomies en materieel beter af kan word deur die vrye mark, vrye vloei van kapitaal oor grense heen, afbreek van tariefmure en vryhandel, tesame met 'n konserwatiewe monetêre en fiskale belastingbeleid en minimale staatsinmenging in die "mark" en veral die finansiële sektor. Maar die beloofde volgehoue ekonomiese groei deur vertroue op die vryemark en minimale staatsinmenging het toe nou nie die beloofde land vir die kiesers van Europa en die VSA tot gevolg nie. Feitlik al die vermelde state het te veel geleen, banke en finansiële dienstegroepe het as gevolg van minimale regulering te veel risiko geneem en deur gierigheid in die verknorsing geraak: byvoorbeeld die bankrotskap van Lehman Brothers, die naas-insolvensie van General Motors, Royal Bank of Scotland, Northern Rock en so meer het gelei tot grootskaalse "staatsreddingsboeie" aan privaat ondernemings wat te groot geword het om te faal. Sosiaalekonomies gesproke was die effek van vermelde "go-go-kapitalisme" dat die ryk klasse in die Weste die afgelope 30 jaar al hoe ryker geword het, bedryfsleiers het ongekende groot vergoedingspakkette ontvang met minimale risiko en groot (onverdiende?) afskeidspakkette wanneer hulle afgedank is weens onbekwaamheid. Hierteenoor het gewone werkers en middelklasbestuur gaandeweg 'n kleiner deel van die ekonomiese koek ontvang, baie risiko's geloop as gevolg van werksonsekerheid: wanneer maatskappye swak vaar, kry die base rojale skeidingspakkette en werkers word afgedank deur afskaling en regskawing. Dat dit tot groot ontevredenheid onder werkers- en middelklasse gelei het, word deur die verkiesingsuitslae in die Weste die afgelope vier jaar bevestig.

    Die vraag wat in die boek aan die orde gestel word is: quo vadis die demokrasie, die Washing-tonkonsensus, die vryemark en vryhandel? Bied die politieke ekonomie wat in die Ooste soveel aandag kry dalk 'n oplossing, met name verteenwoordig die Chinese groeimodel van staats-kapitalisme en outoritêre regering met beperkte vry deelname deur entrepreneurs aan die ekonomie, 'n uitweg? Is die sogenaamde ontwikkelingstaatmodel wat opeenvolgend deur Japan, Suid-Korea, Taiwan, Sjina en Viëtnam en nou toenemend deur post-kommunistiese Rusland gevolg word dalk die antwoord?

    Op hierdie en vele ander vrae wat die Groot Resessie oproep, probeer die outeurs antwoorde gee en oplossings aan die hand doen. Die boek wys daarop dat die demokrasie inherent aan 'n spanning tussen politieke vryheid en ekonomiese ongelykheid ly. Die kuns daarvan om 'n demokrasie suksesvol en volhoubaar te regeer, is om die ekonomiese ongelykhede wat inherent daaraan is so deur owerheidsbeleid te bestuur dat daar 'n sterk mate van herverdeling van inkomste en welvaart plaasvind, sonder om die soepelheid van politieke en ekonomiese vryheid te ernstig in te boet. In wese is dit natuurlik 'n dialektiese proses wat heen en weer pendel tussen 'n klem op vryheid en 'n klem op ekonomiese gelykmaking. Sedert Reagan en Thatcher was die klem op so veel moontlik vryheid, sedert die Groot Resessie is die aandrang van die massas en die kiesers dat groter klem op gelykheid en bestaansekerheid en ook welvaartverdeling moet plaasvind.

    Die boek is goed en gebalanseerd saamgestel met hoofstukke oor die globale en ekonomiese krisis en die politieke impak daarvan, die verhouding tussen ekonomie en demokrasie, die outoritêre reaksie op die groot resessie (veral die Sjinese reaksie), en die weg vorentoe na 'n nuwe globale herskikking van die politieke ekonomie. Dit word afgesluit deur 'n toekomstekening by wyse van 'n skets van verskeie hipoteses en die moontlike scenario's wat uit hierdie hipoteses oor 'n herskikte wêreldorde voortvloei.

    Die boek word aanbeveel vir almal wat in die politieke ekonomie van die tydgenootlike wêreld en die krisis van die demokrasie belangstel, veral met betrekking tot die oorsake en invloed/ impak van die Groot Resessie van 2008.

    Albert Venter
    Departement Politiek
    Universiteit van Johannesburg

     


     

    The Afrikaans of the Cape Muslims

     

     

    deur Achmat Davids (redakteurs Hein Willemse en Suleman E Dangor)
    Uitgegee deur Protea Boekhuis, Pretoria
    318 bladsye
    ISBN 978-1-86919-236-5
    Prys: R220

    Hierdie uiters belangrike toevoeging tot die geskiedskrywing van Afrikaans vul 'n groot leemte in die gepubliseerde kennis van sowel die geskrewe as die gesproke taalgebruik van die Moesliemgemeenskap aan die Kaap. Die outeur, Achmat Davids, wie se magisternavorsing oor hierdie onderwerp postuum uitgegee is deur die redakteurs, het hom reeds vanaf 1987 onder die studieleiding van Theo du Plessis verdiep in historiese, sosiolinguistiese en vergelykend-taalkundige aspekte van Arabies-Afrikaanse tekste. Sy verhandeling is in 1991 aan die Universiteit van Natal aanvaar, en dié wat bewus was van sy werk, het uitgesien na die verdere ontginning van 'n ryke databasis van belangrike argivale tekste. Ongelukkig het sy ontydige afsterwe in 1998 'n einde daaraan gemaak. Hierdie publikasie, as sy nalatenskap, dien dus as 'n stimulus om voort te gaan met onafgehandelde werk - 'n stimulus wat ons aan die bemiddeling van die redakteurs te danke het.

    Struktureel bestaan die werk uit 'n inleidende hoofstuk, wat deur twee hoofdele gevolg word: 'n Afdeling wat bestaan uit twee hoofstukke wat die sosiohistoriese agtergrond van die ontstaan van Kaapse Moesliemafrikaans uiteensit (dit strek van sieninge oor die genese van Afrikaans, die geografiese en linguistiese herkoms, ontstaan en kultuur van die Kaapse Moesliemgemeenskap tot die ontwikkeling van 'n literêre tradisie), en nog 'n afdeling met twee hoofstukke wat handel oor (a) Afrikaanse werke in Arabiese skrif en (b) Arabies en Arabies-Afrikaans in Romeinse skrif, respektiewelik. 'n Finale hoofstuk rond die studie af met 'n aantal opsommende waarnemings, opmerkings en gevolgtrekkings.

    Hoewel die sentrale tema van die werk deur die outeur beskryf word as die Arabies-Afrikaanse literêre tradisie van die Kaapse Moesliemgemeenskap (waarvan die meerderheid tekste tussen 1868 en 1910 verskyn het), word 'n veel wyer area gedek. Eerstens moet die begrip "literêre tradisie" in sy wyds moontlike toepassing verstaan word, wat beteken dat die fokus nie op kreatiewe literêre tekste val nie, maar op 'n omvattende skryftradisie, sowel religieus (met die oog op voorligting in die Islamse lewenswyse) as sekulêr (polities en sosiaal bewus) van aard. Hierdie tradisie berus op die grondslag van die geletterdheid in die Aabiese skrif van die slawe uit Suidoos-Asië, sowel as die verenigende faktor van hulle geloof, wat 'n kennis van die Arabiese skrif as toegang tot die Qoer'aan (Koran) vereis. Aangesien daar op daardie stadium nog geen standaardvorm vir Afrikaans bestaan het nie, en die religieuse funksie juis een is wat 'n standaardregister benodig, het die godsdienstige leiers van die Moesliemgemeenskap die reeds bestaande en vir hulle bekende ortografie van Arabies as basis gebruik om die gesproke vorm van Kaapse Afrikaans te verskriftelik. Daarmee saam het daar ook 'n religieuse woordeskat tot stand gekom wat ooreenstem met die enigsins verhewe styl van die betrokke gebruikskonteks. Wat uitsonderlik is, is dat 'n vorm van Afrikaans op skrif gestel is deur 'n gemeenskap van geletterde sprekers in die ortografie van 'n genealogies onverwante taal (Arabies), gebaseer op die norme van die Kaapse vernakulêr self, en nie, soos in die geval van vele ander tale, op 'n histories voorafgaande standaardvorm van die betrokke taal nie.

    Die redes waarom juis Arabies gekies is as basis vir die geskrewe vorm van Afrikaans wat deur die Moesliems van die Kaapse Skiereiland gebruik is, berus waarskynlik nie net op die gedokumenteerde geletterdheid van die slawe afkomstig van verskeie streke in die suidoostelike Asiatiese argipel (talle van hulle het 'n goeie kennis gehad, of was inderdaad moedertaalsprekers, van 17de-eeuse Maleis, wat 'n skriftelike tradisie in die Arabiese skrif genaamd Jawi, besit het) en die verenigende faktor van hulle Islamitiese geloof nie, maar ook op die feit dat die Nederlands-gebaseerde lingua franca aan die Kaap van Goeie Hoop, wat alreeds substansieel onderskeibaar was van die Europese vorm van Nederlands, nog geen geskrewe standaard gehad het nie. Die funksies waarvoor 'n gestandaardiseerde ortografie benodig word, sluit onder andere, en in die besonder, die religieuse register in. Dit was dus, vanuit hierdie perspektief, 'n natuurlike keuse vir 'n gemeenskap wat die geskrewe taal van hulle godsdiens vereenselwig het met (Klassieke) Arabies, die taal van die Qoer'aan, om hierdie ortografie uit te brei om sowel godsdienstige geskrifte en preskriptiewe tekste oor Islamitiese norme vir 'n paslike lewenswyse, as tekste vir ander doeleindes waarvoor 'n standaardtaalvorm as paslik beskou word, in hulle gemeenskaplike Kaapse gebruikstaal in te sluit. Inderdaad beteken dit dat Arabies-Afrikaans die vroegste standaardvorm van Afrikaans verteenwoordig.

    Davids was 'n gerekende historikus en kenner van die geskiedenis van Islam aan die Kaap. Die sosiohistoriese komponent van hierdie studie, 'n noodsaaklike komponent by die ondersoek na Arabies-Afrikaans, is dan ook een van die swaartepunte van sy bydrae. Daarsonder kan veral die aard van die Kaapse Moesliemgemeenskap en die ontstaan van Kaapse Moesliemafrikaans (sy voorkeurbenaming vir die variëteit van Afrikaans wat deur dié gemeenskap gebruik word) nie na behore verstaan word nie. Die sosiohistoriese beskrywing het veral betrekking op die geografiese en linguistiese herkoms van die slawegemeenskap en sosiale dinamiek van die breër Kaapse gemeenskap. In aansluiting daarby verskaf hy 'n oorsig van die Islamities-filosofiese tendense van die tyd wat bygedra het tot die wêreldbeskouing en politieke organisering van die slawegemeenskap van die Kaap.

    Dit is egter sy ondersoek na die totstandkoming van 'n Arabies-Afrikaanse ortografie, soos hierbo gemeld, en daaruit voortvloeiend 'n transliterasiesisteem na die Romeinse alfabet, wat die kern van die studie verteenwoordig. Hy beskryf dan ook die hoofdoel daarvan soos volg: "[T]o facilitate the reading of the Arabic-Afrikaans texts for those who may not be proficient in Arabic reading (p. 17)". Vir die deursneeleser is die uiteensetting van die ortografie redelik tegnies, en nie baie toeganklik nie, aangesien die begrippe wat gebruik word om die ortografiese eienskappe van Arabies-Afrikaans uiteen te sit, deurgaans met Arabiese terme benoem word. Daar word weliswaar verduidelikende definisies voorsien van die meeste sleutelbegrippe, en die leser wat nie bekend is met die fonologie en ortografie van Arabies nie, sal telkens hierna moet terugkeer. Maar dit is'n uitdaging wat die moeite loon om te aanvaar, aangesien insig in die ortografie van Arabies 'n waardevolle bate is om 'n relatief onbekende, maar inderdaad belangrike, komponent van die diachronie van Afrikaans te verstaan.

    Terwyl Davids die uiteensetting van die verskynsel Arabies-Afrikaans as die fokuspunt van sy studie identifiseer, en daarby ook die sosiolinguistiese konteks betrek, stel hy dit duidelik dat sy bydrae nie bedoel is om antwoorde te verskaf op vrae met betrekking tot die ontstaan en ontwikkeling van die taal as geheel en van die Kaapse variëteit (veral Kaapse Moesliemafrikaans) in die besonder nie. "[O]nly an extensive comparative philological study," sê hy op bl. 16, "could effectively provide such answers" - verwysende na sodanige vrae wat deur die Arabis Van Selms as uitvloeisel van sy 1951-studie aan die orde gestel is. (Oor Van Selms later meer.) Wat Davids as realistiese mikpunt vir sy eie navorsing beskou, is om 'n bewustheid te skep van die bestaan van hierdie vorm van Afrikaans "as a useful source for broadening our understanding of the linguistic nature of Cape Afrikaans and to provide the basis to facilitate the pursuit of intensive philological studies in both Cape Muslim and Cape Afrikaans".

    In die tweede hoofstuk verskaf Davids die sosiohistoriese agtergrond van die gemeenskap waarin die literêre tradisie van Arabies-Afrikaans tot stand gekom het. Dit is 'n waardevolle bydrae, bloot vanuit 'n historiese perspektief, en dokumenteer 'n versameling sosiokulturele en taalhistoriese data wat nog nie vantevore in Afrikaanse diachroniese studies verdiskonteer is nie. Van pertinente belang is die uiteensetting van die vrystelling van slawe en die sosiale effek wat dit op die samestelling van die gemeenskap gehad het. Die ekonomiese assimilasie van die sg. vryswartes in die maatskappy aan die een kant, en die seremoniële aard van die praktyk van Islam (in teenstelling tot die weerstandbiedende mag wat dit elders verteenwoordig het) aan die ander, het aanleiding gegee tot 'n lewensfilosofie wat 'n vreedsame saambestaan (alhoewel nie noodwendig regverdig nie) tot gevolg gehad het, asook 'n flegmatiese benadering tot rampe. Geletterdheid en godsdienstige opvoeding vir almal, gebaseer op die kultureel ontwikkelde Maleis-Polinesiese agtergrond van die slawe, het die basis gevorm van 'n skryftradisie in hierdie gemeenskap, iets wat meer as 'n eeu lank volgehou is en aangepas is by die taalomgewing waarin dit gefloreer het.

    Omdat linguistiese kreolisering (d.w.s. die aanvaarding van 'n "gemengde" taal, van verskillende taalfamilies afkomstig, as huistaal) 'n onvermydelike gevolg was van die wêreld waarin die slawe 'n nuwe gemeenskap gevorm het, en hulle deur middel van die lingua franca aan die Kaap moes oorleef, het dit ook onvermydelik geword dat die taal wat tot stand gekom het, ook vir religieuse doeleindes in die madrassas (godsdienstige skole) gebruik sou word. Hierdie skole was gevolglik die geboortegrond waar Arabies-Afrikaans tot stand gekom het.

    Die Arabiese sisteem waardeur Afrikaans verskriftelik is, wat reeds gedurende die 1840's in die madrassas in swang was, het volgens Davids (p. 111) sy wortels gehad in die ortografie van Jawi. In dié opsig verskil hy van Van Selms, wat slegs na die Turkse weergawe van die Arabiese alfabet verwys, en wys daarop dat beide Jawi en Arabiese Turks gebruik maak van die Persiese (of Farsi-) aanpassings van Arabies wat in Arabiese Afrikaans opgeneem is.

    Ten einde te verstaan waarom sulke aanpassings nodig was, moet hierdie verskynsel beskou word in die breër konteks van die voorkoms daarvan ook in ander tale. Daar is meer as 30 tale en taalvariëteite wat die Arabiese alfabet benut - tale soos Urdu, Malgassies, Sindhi, Kasjmiri, Farsi en Koerdies - waarvan die meeste nie tipologies ooreenstem met of genealogies verwant is aan Arabies nie. Dit is 'n verskynsel wat bekend staan as Ajami, 'n generiese term wat algemeen gebruiklik is om te verwys na tale wat die Aabiese ortografie gebruik en dit aanpas by die fonologie van die betrokke taal. Soos in die geval van die ander Ajami-tale, het die skeppers van Arabies-Afrikaans te doen gehad met groot verskille tussen die fonetiese of klankwaardes van Arabies en die spraakklanke van hulle eie taal. Die konsonantsisteem van Arabies is bv. aansienlik meer kompleks as dié van Afrikaans, terwyl die vokalisme van Afrikaans veel meer gevarieerd is as dié van Arabies. Om hierdie probleem op te los, moes die outeurs van Arabies-Afrikaans die Arabiese ortografiese vokaalsisteem manipuleer en grafeme skep wat so presies as moontlik die vereiste foneme van Afrikaans weergee, 'n proses wat Davids as innoverende ortografiese manipulasie ("innovative orthographic engineering") bestempel (p. 21, 25 e.v.). 'n Ondersoek na hierdie proses vorm dan die kern van Davids se studie.

    Van 'n heel eerste poging om 'n (Kaaps-?) Hollandse vertaling van 'n Engelse vertaling van die Hidayutool Islaam ("Goddelike leiding van Islam") deur VT Robertson in Arabiese skrif in 1830 te publiseer, moes afgesien word, aangesien geen drukpers in die Kaap Arabiese letters kon druk nie. Verder is daar melding gemaak van 'n Arabies-Afrikaanse publikasie in 1856 (waarna Van Selms 1953 verwys as "die oudste boek in Afrikaans", ofte wel "Isjmoeni se 'Betroubare Woord'", ook bekend as Gablomaliem), waarvan ongelukkig geen eksemplaar behoue gebly het nie. Die eerste gepubliseerde teks waarvan daar wel 'n kopie bestaan, naamlik Abubakr Effendi, 'n Turkse regter wat deur koningin Victoria na die Kaap genooi is, se Bayaan al-Diin, ("'n verduideliking van die godsdiens") is eers in 1877 in Konstantinopel gedruk en uitgegee, twaalf jaar nadat los blaaie van die inhoud onder die studente van die sg. Ottoman Theological School in Kaapstad versprei is. Voor 1860 was daar reeds studentenotaboeke in omloop, waarvan sommige nog bestaan en wysigings in die ortografie bevat wat tipies Afrikaanse spraakklanke weergee. Davids stel die datum van die eerste voorbeelde van Arabies-Afrikaanse tekste (op grond van inskrywings van studentename in 'n sg. "koplesboek", d.w.s. 'n boek met voorskrifte aan kinders wat gememoriseer moes word) op kort ná 1815. Die aantal tekste wat in inventarisse opgeneem is tussen 1845 en 1957 is 74 in totaal, waarvan die meeste uit notaboeke en publikasies bestaan. 'n Interessante kenmerk daarvan is dat baie (die meeste?) van hierdie Afrikaanse tekste Arabiese titels het, iets wat dui op die agting vir die taal van die Qoer'aan.

    Die tydperk van Arabies-Afrikaans kan in drie periodes verdeel word, nl. dié voor, dié tydens en dié ná Abubakr Effendi, wat duidelik 'n belangrike vernuwer was, maar nie 'n moedertaalspreker nie, en dus nog bepaalde leemtes in sy weergawe van Kaapse Moesliemafrikaans in Bayaan alDiin gelaat het wat later reggestel is. Die vernaamste probleem wat deur die voorgangers van die Effendi aangepak is, was die Arabies-Afrikaanse weergawe van [cey], gespel ui, wat, soos in die geval van verskeie ander vokale in Afrikaans, nie in Arabies of Jawi voorkom nie. Die twee vokale [u:] en [i:], beide lang klanke in Arabies, en wat ook optree as die glyklanke [w] en [j] wanneer 'n vokaal daarop volg, is gekombineer en voorsien van 'n boskrif-[a], 'n diakritiese strepie genaamd fatha, sodat dit in Arabies die vokaalreeks uai verteenwoordig het, wat in Arabies-Afrikaans die diftong [cey] verteenwoordig.

    Sjeg Abubakr Effendi het in sy Bayaan al-Diin 'n aantal wysigings in die sisteem van voor 1862 aangebring wat sommige spraakklanke (veral die vokale) van Afrikaans getrouer weerspieël het. Volgens Davids het die Bayaan hiermee die sterk invloed van Nederlands afgeskud wat in die koplesboeke van voor 1860 gegeld het, en is sy voorbeeld deur sy opvolgers nagevolg. Sy belangrikste opvolger was (anders as die effendi) 'n gebore Kapenaar, Gatieb Magmoed, wat volgens Davids 'n moderne, eenvoudige en sintakties "feitlik perfekte" Afrikaans gebruik het en ook uittreksels uit die Qoer'aan in Afrikaans vertaal het. Hoewel Arabies-Afrikaans vanaf 1870 reeds 'n tipies Afrikaanse vorm gehad het, en grootliks verskillend van Nederlands, het die tekste deur Magmoed en andere tussen 1890 en 1915 hierop voortgebou.

    Die beperkte toeganklikheid van die Arabies-Afrikaanse tekste vir lesers sonder 'n agtergrond in Arabies, sowel as die standaardisasie van die Romeins-Afrikaanse ortografie gedurende die eerste helfte van die 20ste eeu, het egter veroorsaak dat die transliterasie van Arabies-Afrikaans (asook Arabies as sodanig) in Romeinse skrif noodsaaklik geword het. Dié transliterasie sou nie net die inhoud van die betrokke dokumente aan 'n breër lesersgroep moontlik maak nie, maar 'n betroubaarder weergawe van die uitspraak sou moontlik wees. As sodanig sou dit ook kon dien as 'n soort fonetiese transkripsie, 'n rekord van die werklike uitspraak van Kaapse Moesliemafrikaans oor die eeu waarin Arabies-Afrikaans geskryf is.

    Hierdie romaniseringsfase het reeds in 1898 begin met die publikasie van die Kitaab Tarjamah al-Riyaad deur imam Abdurakib. Volgens Davids het hierdie verwikkeling saamgeval met 'n oorskakeling na 'n ander register, 'n meer verhewe uitdrukkingstyl. Hy vergelyk die ontwikkeling van die geskrewe vorm van Kaapse Moesliemafrikaans met 'n neiging wat in 1908 deur Elffers opgemerk is en dit (die skep van 'n nuwe register) in verband gebring het met 'n soortgelyke tendens in die Christelike Afrikaanse gemeenskap:

    On the other hand, the influence of Biblical language on a religious people was great and marked.The patois (their spoken Afrikaans) they had accepted as a medium of exchange of ordinary thought to a large extent made room for better language whenever loftier themes were handled or prayers offered. Then the Scriptures were their guide, from which they borrowed every expression of reverence, and each word which in their limited everyday vocabulary found no place. (p. 99)

    Die ontwikkeling van 'n register in Afrikaans wat "hoër" was as "the street language image of Afrikaans projected in satirical columns such as Straatpraatjes in the A.P.O., the (...) African People's Organisation, a negative one", was 'n doelbewuste poging deur imam Abdurakib om "a mode of language his target community considered to be dignified" te vestig. Uit Davids se argument is dit duidelik dat die leksikale aanpassing by 'n "waardiger" styl noodsaaklik geag is in die geval van tekste in Romeinse skrif, maar nie in die geval van Arabies-Afrikaanse tekste nie, waar die skrif op sigself (gebaseer op dié van die Qoer'aan) waardigheid aan die Afrikaanse woorde verleen het.

    Soos die ortografie van Afrikaans wat vir formele doeleindes gebruik word, verander het in ooreenstemming met die standaardisering daarvan in die land as geheel, het die Nederlandse eienskappe van die kitaabs, wat begin beskou is as argaïes, plek gemaak vir 'n ortografie wat meer in ooreenstemming was met die standaardtaal, maar tog die belangrikste eienskappe van Kaapse Moesliemafrikaans behou het. 'n Teks wat eers in 1915/16 (Da Kaa Ikol Agbaar) deur sjeg Abdurarib geskryf en in 1948 deur sjeg Abdullah Ta Ha Gamieldien herskryf is, is 'n voorbeeld van 'n "gestandaardiseerde" weergawe van die oorspronklike. Davids beskryf die verskil tussen die oorspronklike en die herskrewe weergawes as "a complete metamorphosis . (of) the gemixte taal". Die publikasie van (verskillende) tekste in beide Arabies- en Romeins-Afrikaanse formaat, wat gedurende die 1930's 'n hoogtepunt bereik het, het in 1957 tot 'n einde gekom, toe die laaste Arabies-Afrikaanse titel deur sjeg Achmad Behardien verskyn het. Voortaan sou Islamitiese literatuur slegs in Romeinse skrif verskyn, iets wat toegeskryf kan word aan die feit dat Kaapse Moesliems nou meestal 'n sekulêre opvoeding ontvang het voor enige bykomende studies.

    Die romanisering (of transliterasie) van bestaande Arabies-Afrikaanse tekste het ook die begin ingelui van taalkundige belangstelling in hierdie uiters interessante faset van die ontwikkeling van Afrikaans. Aangesien navorsers met 'n kennis van beide Arabies en Afrikaans 'n redelike skaars spesie in die vergelykende taalwetenskap is, is daar in die werk van 'n Nederlandse Arabis aan die Universiteit van Pretoria (Van Selms) eers op laat stadium hiervan kennis geneem (vanaf 1951-1979), en later ook in dié van die Afrikaanse taalkundige Ponelis (1981-1993). Soos in die geval van Abubakr Effendi, vestig Davids ook die aandag op bepaalde leemtes in die interpretasie van tekste, en probeer hy 'n transliterasiesisteem tabuleer wat so getrou moontlik die fonetiese werklikheid van Kaapse Moesliemafrikaans uit die tyd van Arabies-Afrikaans weergee.

    Hoewel dit duidelik is dat Davids se insig in die fonologie van Afrikaans in sommige opsigte tekortskiet (dit geld bv. die verwarring tussen die gebruik van letters as fonetiese simbole en die klankwaardes van sulke simbole) en sy gebruik van bepaalde terme (bv. "akoesties" vir "foneties") vreemd aandoen, is daar waardevolle insigte opgesluit in die argumente vir die beoordeling van bestaande transliterasiesisteme.

    Dit blyk ook dat Davids se interpretasie van die ontstaan van individuele taalgebruiksitems in Afrikaans by tye spekulatief is, bv. met betrekking tot die vereenvoudiging van die meervoudige voornaamwoorde (soos ons teenoor wij/ons, vir beide nominatief as akkusatief), die fonologiese prosesse van homorganiese assimilasie, soos "innie" vir "in die" (wat hy toeskryf aan die Maleise eenie, "in hierdie"), asook 'n oorvereenvoudigde siening van prosesse van kontak-verwante taalverandering soos pidginisering en kreolisering. Dit is egter 'n aspek van die studie waarvan Davids dit duidelik stel dat hy "will not attempt to answer these questions" (p. 16), en sy opmerkings sal seer sekerlik vakkundige gesprek en verdere navorsing stimuleer met die oog op die sake wat hy aanroer. "Overall, this chapter demonstrates the need for more intensive and specialised studies on the phonology, syntax and lexicon of Cape Muslim Afrikaans" (p. 256).

    In die voorlaaste hoofstuk onderneem die outeur 'n kritiese ontleding van die verskillende toepassings van transliterasieopsies. Dit sluit transliterasies in van beide Van Selms en Davids van die Bayaan al-Diin, die eerste hoofstuk van Hisham Neamatullah Effendi se Siraaj al-Iidaa'ah (waarskynlik deur Davids self), en 'n vertaling deur sjeg Abdullah Ta Ma Gamieldien van die Masaa'ilAbiiLaith. Die geannoteerde tekste op sigself is 'n waardevolle bydrae tot die skat van kennis oor (en van) Arabies-Afrikaans, en sou vergelyk kon word met soortgelyke welbekende ontledings van bv. Middelnederlandse tekste as 'n metode om toegang te bied tot begrip van beide die inhoud en vorm van die tekste. Davids se kundigheid in die noukeurige ontleding en dissektering van tekste wat relatief ontoeganklik sou kon wees vir 'n "buitestander", is hier duidelik sigbaar.

    Die finale hoofstuk stel die werk weereens in perspektief en herhaal die hoofdoelstelling van die studie, nl. "not to draw any conclusion on any one or all of the linguistic aspects of Afrikaans or Cape Muslim Afrikaans, but rather to evoke a greater awareness of the existence of Cape Muslim Afrikaans as a useful resource for broadening our understanding of the nature of Cape Afrikaans" (p. 257). Aan hierdie doelstelling is daar duidelik voldoen, en Davids het daardeur 'n navorsingsveld oopgestel wat toenemende en volgehoue aandag van vakkundiges verdien om nie slegs akademiese velde bymekaar te bring wat geïsoleerd van mekaar bedryf is nie (in casu Afrikaanse taalkunde en Arabistiek), maar ook navorsers uit die Afrikaanse taalgemeenskap wat insgelyks te lank van mekaar geskei was op nie-akademiese grondslag.

    Om 'n werk van hierdie omvang te redigeer en persklaar te maak, verg veel noukeurigheid. Ongelukkig is daar 'n aantal lastige redaksionele onakkuraathede in die teks, beide wat betref formulering en klaarblyklike tegniese foute wat voorkom kon gewees het deur die betrokkenheid van 'n bedrewe taalkundige of taalpraktisyn. Ek sal nie afbreuk doen aan die waarde van die bydrae deur die soeklig daarop te laat val nie, maar dit sou van waarde kon wees indien sodanige kundigheid by 'n volgende uitgawe betrek word. Op die keper beskou, kan die oorkoepelende belangrikheid van 'n publikasie soos dié nie oorbeklemtoon word nie - dit is 'n waardige huldeblyk aan 'n kollega wat 'n blywende nalatenskap van groot waarde aan toekomstige navorsers beskikbaar gestel het.

    ('n Uitgebreide resensie van die boek is ook voorgele vir publikasie in Southern African Linguistics and Applied Language Studies.)

    Ernst Kotzé
    Emeritusprofessor in Algemene en Afrikaanse Taalwetenskap
    Noordwes-Universiteit
    Potchefstroom

     


     

    Cape lives of the eighteenth century

     

     

    Karel Schoeman
    Protea Book House, Pretoria, 2011.
    676 pp.
    ISBN 978-1-86919-484-0

    Daar was in die negentiende eeu 'n hele aantal persone wat 'n betekenisvolle invloed op die ontwikkeling van Suid-Afrika gehad het en meesal as belangrike historiese figure beskou word: Shaka, Andries Pretorius, Paul Kruger, Cecil John Rhodes en vele ander. Wat die sewentiende eeu betref, is veral die name van Jan van Riebeeck en Simon van der Stel bekend, maar geen agtiendeeeuse historiese figure het groter algemene bekendheid verkry as hierdie twee stigters van die Kaapkolonie nie. Onder die persone wat 'n belangrike rol in die geskiedenis van die agtiende eeu gespeel het, is goewerneur Rijk Tulbagh miskien die bekendste. Gedurende byna die hele eeu het die Kaapkolonie, wat in hierdie periode geleidelik uitgebrei het in die gebiede ten noorde en ten ooste van die Boland, onder die gesag gestaan van die Nederlandse Oos-Indiese Kompanjie. Oor die ontwikkelinge in die gebiede buite die Kaapkolonie is daar, wat hierdie periode betref, maar min bekend. In oorsigwerke oor die Suid-Afrikaanse geskiedenis word dan ook deurgaans baie minder aandag aan die agtiende eeu as aan die negentiende eeu gegee. Die getal gespesialiseerde geskiedwerke oor onderwerpe uit die agtiende-eeuse geskiedenis is ook nie baie groot nie. Teen hierdie agtergrond gesien, is die verskyning van 'n omvangryke werk deur 'n ervare en gerespekteerde historikus oor persone uit die agtiende-eeuse geskiedenis van groot belang. Die boek bevat 'n hele aantal biografiese studies wat gedeeltelik op Schoeman se vroeëre publikasies gegrond is, maar gedeeltelik ook op (nog) ongepubliseerde manuskripte en bied beslis 'n belangrike aanvulling tot ons kennis van hierdie periode.

    Die boek is ingedeel in sewentien hoofstukke, waarvan sommiges oor meer as een persoon handel. Die figure oor wie hy skryf, sluit persone in soos Tulbagh, die sendeling Georg Schmidt en die kompanjiesamptenaar en ontdekkingsreisiger Robert Gordon, wat as belangrike rolspelers in die geskiedenis beskou kan word, maar ook mense wat moontlik selfs aan spesialiste oor hierdie afdeling van die geskiedenis onbekend sal wees en wie se lewensbeskrywings in die eerste plek as voorbeelde dien om 'n beeld van die agtiende-eeuse samelewing in die Kaapkolonie te gee. Die meeste van hierdie persone is kompanjiesamptenare en koloniste, onder wie 'n aantal boere van die Boland en van die verdere binneland (sowel mans as vroue), maar daar word ook oor die lewe van 'n slaaf (Titus van Bengalen) en van 'n Xhosakaptein (Rharhabe) geskryf. Verskeie koloniste oor wie Schoeman handel was gedeeltelik van slawe- en Khoi-afkoms en het 'n eenvoudige bestaan gevoer.

    Na die baanbrekerswerk van P. J. van der Merwe, wie se studies oor die trekboere reeds voor 1940 verskyn het, bied hierdie boek, naas die resente studies van Nigel Penn en Laura Mitchell, een van die duidelikste beskrywings van die leefwyse van die agtiende-eeuse veeboere. Schoeman bespreek nie alle aspekte van hul sosio-ekonomiese omstandighede op 'n sistematiese wyse soos Van der Merwe nie, maar uit die behandeling van die lewe van 'n aantal individue en families kom uiteindelik 'n geheelbeeld van die leefwyse van 'n hele gemeenskap na vore. In hierdie werk is biografiese beskrywing dus hoofsaaklik 'n metode om 'n aantal aspekte van die sosiale en kulturele geskiedenis van die Kaapkolonie in die agtiende eeu te behandel. Uit die konkrete besonderhede oor die lewe van 'n enkele persoon kan soms meer afgelei word oor die kenmerke van 'n bepaalde samelewing as uit meer abstrakte ontledings van samelewingstrukture. Die nadeel van die metode is egter dat soms baie gegewens verskaf word wat net indirek met die besondere persoon te make het ten einde die lewe binne 'n wyer konteks te kan beskryf en dat die inligting wat direk oor hom of haar handel uiteindelik net 'n klein deel uitmaak van en daarom selfs byna verlore gaan in die feite wat in die biografie verskaf word. Dit is 'n algemene kenmerk van Schoeman se biografiese studies. Ook in hierdie boek vul hy die karige gegewens wat daar oor die meeste van die figure wat hy behandel bestaan met baie agtergrondsinligting aan. Hoewel hy heelwat meer skryf oor die koloniste as oor die slawe en die inboorlinge, verskaf hy 'n baie duideliker perspektief op die verhouding tussen die boere en die ander bevolkingsgroepe as Van der Merwe. Die vloeibaarheid van rasseverhoudinge in die agtiende eeu word veral goed na vore gebring.

    Soos in sy ander werke gebruik Schoeman hoofsaaklik gepubliseerde materiaal, wat werke van ander historici insluit en ook bronne soos reisbeskrywings, maar dit is verbasend hoeveel inligting oor die lewens van spesifieke mense van oor die hele spektrum van die samelewing hy uit hierdie bronne verkry. Daar is ook beperkte argiefnavorsing gedoen. Hy gebruik geen voetnote nie en verskaf slegs 'n oorsig van sy bronne aan die einde van die boek. Dit blyk egter oral uit die werk dat hy baie krities en met groot begrip met die bronne omgaan.

    Schoeman het in die afgelope jare 'n groot aantal lywige boeke oor die vroeë Kaapse geskiedenis gepubliseer en daar is blykbaar nog manuskripte wat op publikasie wag. Dit is tans nog te vroeg om 'n oordeel oor die blywende waarde van sy werk uit te spreek. Hoewel Schoeman beklemtoon dat hierdie boek eerstens vir die gewone leser en nie vir akademici bedoel is nie, is dit tog 'n sintesewerk van heelwat wetenskaplike waarde. Hopelik sal die feit dat die boek in Engels verskyn, meebring dat dit 'n wyer leserskring verkry as sy Afrikaanse geskiedwerke.

    Pieter de Klerk
    Vakgroep Geskiedenis, Noordwes-Universiteit (Vaaldriehoekkampus)
    Pieter.deklerk@nwu.ac.za

     


     

    Fiksie /Nie-Fiksie

     

     

    SKOOL; (2012) – Theo Kemp
    Uitgewer: Tafelberg
    Bladsye: 232
    ISBN: 978 – 0 – 624053057

    "Skool" fokus op die weerloosheid van die kind in die skoolstelsel

    "When we were children, we used to think that when we are grown-up we would no longer be vulnerable. But to grow up is to accept vulnerability". Anoniem

    Daar is en word baie oor Suid-Afrika se onderwysstelsel geskryf. Hierdie skrywer doen self lustig mee. Baie van wat geskryf en gesê word, berus egter op anekdotes, op wat joernaliste by kongresse gehoor het of wat deur ander aan hulle oorvertel word. Gevolglik is dit wat ons in die SuidAfrikaanse media lees, dikwels so ver van die waarheid verwyder soos die Oos-Kaap se matriekuitslae van die Wes-Kaap s'n, nogal frustrerend vir iemand wat self meer as 25 jaar middein die onderwyssituasie gestaan het.

    Daarom, gegee die scenario wat ek hierbo geskets het, was ek angstig om Theo Kemp se boek te lees. In die verteller se eie woorde is hy " besig om die verskillende simptome van verval in ons onderwysstelsel te dokumenteer" (p.24) en word hy gedryf deur die weerloosheid van die kind in die skoolstelsel (p.49). Op die agterblad word die boek aangekondig as "Theo Kemp se debuut" en "'n deurtastende ondersoek na Suid-Afrika se benarde onderwyssituasie", maar "ook 'n pakkende verhaal oor die een wat die ondersoek doen. Dis 'n reisverhaal waarin nie net 'n komplekse aktualiteit verken word nie, maar ook die lewe van die reisiger, van 'n lewe in Suid-Afrika".

    Voordat jy hierdie boek lees, moet ons die kwessie van die verteller vir die leser uitklaar. By die lees van die roman kom die leser baie gou agter dat Kemp self die verhaal vertel, en dit boonop aan sy woonstelmaat Marco, wat 'n baie gerieflike klankbord is. Marco gee hom advies soos o.a. om Orania en ook van Suid-Afrika se voorheen model C-skole te besoek. Op die oog af lyk dit ook asof hy sy eie verhaal vertel, want daar is voortdurende terugflitse na sy verlede en sy eie skooldae as kind.

    Dikwels word hierdie terugflitse as kommentaar op die huidige onderwysstelsel gebruik, of wil dit minstens die huidige skoolstelsel vergelyk met dit wat kon wees, bv.: "Ek stamp my kamerdeur hard met die regterskouer om die slot oop te kry" (p.7). Hieruit is dadelik duidelik dat Kemp se ondersoek 'n moeilike een gaan wees en dat hy op sy reis op soek na die waarheid dikwels met geslote deure en denke of telefone wat permanent 'n besettoon maak (p.88) te doen gaan kry. Tekens van 'n burokrasie wat nie WIL verander nie, en tensy jy daardie deure afskop of oopstamp, sal jy nie veel bereik nie.

    Omdat ek die boek vir my studente voorgeskryf het, moes ek dikwels die vraag hoor: "Is die stories in die boek werklik waar? Is dit nie maar net fiksie nie?" Uiteindelik besluit ek om die skrywer te nooi om self aan die klas te verduidelik. En toe kon almal hoor: Ja, 99% van die stories is waar, dis nagevors, maar hier en daar het van sy notas verlore gegaan, en dis dan dat Kemp, die verteller, se karakter 'n ander vorm begin aanneem. " Maar Theo, jy haal dan nie swaar asem nie, en jy het nog nie een sigaret opgesteek nie!". In die boek is die verteller 'n asmalyer en 'n kettingroker.

    "En Theo, hoe het jy en Marco ontmoet?". Oeps! Marco bestaan nie werklik nie, sê Kemp. "Hoe dan so?" wou die studente weet. Ek moes 'n klankbord skep. Iemand wat bereid was om na my stories te luister, wat nie afgeskrik of verveeld sou raak om elke dag te luister na 'n mal man wat 'n obsessie gehad het om die Suid-Afrikaanse skolestelsel te ontbloot vir wat dit werklik is nie. Baie mense verkeer in 'n toestand van ontkenning, want dis beter om nie te weet nie; dan is die pyn vir jou wat niks kan of niks wil doen nie, nie so erg nie. Toe skep ek maar 'n denkbeeldige persoon wat vir my die soort vrae sal stel wat werklik nodig is om tot die wortel van die kwaad deur te dring.

    Maak dit sin? Kemp die skrywer en Kemp die verteller is twee verskillende karakters.

    So sorg Kemp dat die boek amptelik as "fiksie" geklassifiseer sal word. En net in geval iemand dit NIE so verstaan nie, is daar die ontsnapklousule voor in die boek wat aandui: "Skool is fiksie".

    Nog 'n terugflits na sy kinderdae is sy ma se kombuistafel: dit gee jou 'n prentjie van hoe Kemp die SA skolestelsel sien: "'n leë koffieblik, wat ruik na oorryp tamatie, en [d]is sleg soos 'n 'groen broodkorsie en geskifte melk'(p.7). Die vraag is nou, hoe draai jy hierdie Titanic om? Want diegene wat die stelsel probeer verander, kry elke keer seer: 'die bouery maak my longe seer en maak my kortasem'" (p.10).

    Ironies is dit juis hulle wat die waarheid aanspreek, soos Kemp se ouma wat gereeld vir hom gesê het dat die land nie sal regkom voordat Mandela nie vry is nie, wat nie die stryd oorleef nie. Kemp se Ma se reaksie hierop was dat sy "...al lankal haar verstand verloor het" terwyl sy pa dit afmaak as sou Mandela 'n kommunis wees. Hoe sou mense dus die onderwysprobleme aanspreek as daar volgens hulle nie 'n probleem is nie? Boonop lyk die scenario vorentoe nie veel beter nie: "My ouma sterf aan 'n asma-aanval" (p.11).

    'n Baie insiggewende intrige in die verhaal is Kemp se byna broederlike verhouding met Dindi, die seun van sy pa se plaaswerker oor wie die bankbestuurder die volgende te sê het: "Maar die kaffertjie is fluks!" (p.216). Maar Dindi, soos miljoene ander kinders en nog 4,7 volwassenes in Suid-Afrika (p.86), kan nie lees of skryf nie. Trouens, hy weet nie eens wanneer hy verjaar nie, want hy was nog nooit in 'n skool nie (p.13).

    Maar anders as so baie ander skrywers trap Kemp nie in die slaggat om die verlede voor te stel as "net goed" en die hede as net "sleg" nie. In dié opsig is Kemp dus nie onderdanig aan stereotipering nie. Enigeen wat 'n lang loopbaan in die onderwys gehad het, sal jou vertel dat dit nie so eenvoudig is nie. Nog 'n stereotipe wat Kemp die nek omdraai, is dat township-skole net sleg is, en dat alle voorheen model C-skole "goeie" skole is.

    As voorbeeld is daar Juffrou van Eeden se elite meisieskool waar die meisies hulself uitteer en aan anorexia ly net om maerder as hul klasmaat te wees, want hulle word geleer om oor alles te kompeteer: van die atletiekbaan, tot in die klaskamer, tot in die slaapkamer. Jy lees van die hoofseun van die Hoërskool Groenkloof - ja dieselfde skool waar vier seuns tereg gestaan het op ...wat nou weer? Die hoofseun het die een afspraak na die ander. Dit laat Kemp wonder: Moet 'n hoofseun nie ook soms klas bywoon nie?

    Die skrywer verander doelbewus die name van sy karakters in die boek sodat hulle nie herkenbaar is nie. Ook maar goed, want plek-plek is hy nie baie suksesvol hiermee nie. Hierdie skrywer was vir 14 jaar betrokke by Stellenbosse onderwys, eers as skoolhoof en later as kringbestuurder. Die kanse is dus goed dat ek skole sal herken deur bloot te lees wat in die skool se voorportaal hang, of hoe die skoolhoof aantrek en praat.

    Een so 'n voorbeeld is waar hy verwys na die Laerskool Vlakte met die skoolhoof Steve de Villiers, wat baie naby klink aan die oud-politikus Bruckner de Villiers wat erwe in Idasvallei opgekoop en dit dan weer teen 'n "billike fooi aan bruin mense verkoop het"(p.34). Op dié manier is baie bruin mense op subtiele, maar oneerlike wyse uit die dorp na Idasvallei verskuif. Die skool is later na hierdie politikus vernoem.

    'n Ander voorbeeld is die skoolsekretaresse - wie se familie die een helfte Moslem en die ander helfte Christen is - wat met die skoolhoof getroud was (p.53). Jy moet omtrent van die maan af kom om nie te weet wie hierdie sekretaresse is nie.

    Kemp, wat slegs 'n paar jaar skoolgehou het, sê self: "Destyds het ek as 'n pasafgestudeerde joernalistiekstudent uit die veilige Stellenbosch gedink ek sal taai genoeg wees vir die omstandighede hier"(p.25). Dit bring nog 'n kernvraag na vore: Hoe gereed is die studente wat aan ons universiteite afstudeer om in die Suid-Afrikaanse werklikhede te gaan werk? Wat sê dit van die opleiding wat studente op Stellenbosch ontvang? En as die Maties die tweede beste kampus is, wat sê dit van die ander 25 universiteite?

    Kemp se reis neem ons na verskeie skoolsituasies wat bevestig dat die skolestelsel in SA besig is om in duie te stort (p.24, 51). Ek noem net enkeles: Hy verwys na skoolhoofde se onvermoë en frustrasie om die nuwe strafmaatreëls te interpreteer en toe te pas (Dis mos 'n kind, en 'n kind het die reg op onderwys, p.24) en verder "die kind moet berading kry, maar EK moet die sielkundige bel. Die sielkundiges is useless en op die ou end is dit MY probleem en die donnerse ding wat dagga verkoop, moet ook berading kry" (p.25). Van wedersydse respek tussen hoof en leerder is hier nouliks sprake.

    As die NP-regering geweet het dat die gemeenskap wat hy langs die N2 uit Distrik 6 verskuif het, uiteindelik sou verander in 'n monster waar R350 miljoen jaarliks aan tik bestee word, sou hy soos Frankenstein van ouds waarskynlik die idee probeer uitwis het. Want in Mitchells Plain is nie net die grond waarheen die mense verskuif is, onvrugbaar nie. Geen wonder nie dat een van Kemp se informante, Felecia, haar as volg uitlaat: "Dis hoog tyd dat iemand oor ons mense se tragedy skryf; die mense anderkant die Stellenbosch-muur!"

    Ook die regering se finansiële beleid word onder die loep geneem. Die leser verneem dat die gemiddelde gesin in Cloetesville 'n inkomste van net R800 per maand het. Maar skole moet steeds skoolgeld van ouers verhaal. Bloed uit 'n klip tap. Waarom? sal net die WKOD weet. Hoe kan skole in hierdie omstandighede oorleef? Kan ons skoolhoofde verkwalik as hulle uit pure frustrasie hul goed vat en loop? In die lig hiervan is dit geregverdig om te vra "wat is 'n probleemkind?" (p.47). Hierdie skrywer is op rekord dat daar nie iets soos probleemkinders is nie, net probleem- volwassenes (DB, 06.07.12).

    Daar is nog baie ander kwessies waarvan die leser maar self moet lees: Van 'n skoolhoof van Bisho wat sy blinde leerders al die jare dronk maak; dan is daar die Klapmuts-storie waar tientalle kinders vandag sonder ouers is nadat 'n vragmotor met 31 plaaswerkers op die Faure-treinoorgang gaan staan het. Dit laat jou besef hoe 'n groot probleem onveilige vervoer is. Volgens die regering was dit 'n ongeluk, maar sê die gemeenskap (p.89), dis geen ongeluk as onskuldige mense op oop vragmotors vervoer word nie. Ook nie as 'n bus sonder remme by 'n afgrond afstort en talle leerders verdrink nie, of as plaaskinders elke dag 20 km moet stap om by die skool te kom nie. Dis dan dat jy wonder of hierdie kinders wel deur die rivier gaan kom (p.92), meer so op figuurlike as op letterlike vlak.

    Daar is die geval van die 19-jarige skooldogter van Umlazi wat haar onderwyser aangekla het omdat hy na bewering haar sou verkrag het. Gaan lees egter die boek en vind uit dis alles behalwe verkragting: dat jong meisies seks vir onderwysers aanbied omdat hulle betaal word om melk vir hulle kinders te koop (umlaza beteken "suurmelk"). Onderwysers glo weer hulle sal van vigs genees as hulle met 'n maagd slaap! ( p. 157).

    Natuurlik is daar ook die goeie stories soos die sjebienbaas van die Oos-Kaap wat snags aan 146 matrikulante klas gee in sy sjebien, omdat die onderwysers bedags kaart speel - en hulle deur die eksamen kry. Helaas, die goeie stories is te min. Kemp verwys op meer as een plek na die Franse skrywer en filosoof , Michel Foucault se werk Discipline and Punish wat riglyne bied oor hoe die orde in ons skole herstel kan word. Maar wat weet Foucault van hoe dit is om hier te leef? Wat het sy slim teorieë Kemp gehelp?

    Dis dan dat die boek 'n onverwagse wending neem. Kemp gee die stryd gewonne. Die swart sak vol navorsingsartikels oor hoe sleg dit in ons onderwys gaan, raak te veel vir een persoon om alleen te dra. Alleen kan hy dit tog nie oplos nie, besluit hy. In 'n teleurstellende einde smyt hy die swart sak by die skoolbus se venster uit, en vertrek hy na 'n bestemming wat nie eens aan hom bekend is nie. Dit laat die leser met 'n hol gevoel op die maag: Is daar geen oplossing vir ons onderwysprobleme nie? Maar kan ons werklik teleurgesteld wees? Het jy die omgedraaide skooldas wat soos 'n galgtou lyk op die voorblad gemis? Die skool wat ons kinders se enigste hoop moes wees, word die stukkende swart sak wat soos die lyk van 'n kind langs die pad lê (p.231).

    Dit kom dus as geen verrassing nie dat die boek genomineer is as een van die finaliste vir die Rapport Jan Rabie debuutroman vir 2012. As mense dus wil antwoorde hê oor waarom dit is dat al minder onderwysers en skoolhoofde kans sien om skool te hou? (p.24), moet hulle óf vir 'n paar dae gaan skoolhou (p.29), óf hierdie boek lees.

    Michael le Cordeur
    Departement Kurrikulumstudies (Afrikaans)
    Universiteit van Stellenbosch

     


     

    OJO FERREIRA (RED)

     

     

    Serpa Pinto amongst Boer and Brit
    Tormentoso, Posbus 2244, Jeffreysbaai
    174 bladsye

    Cobus Ferreira, afgetrede professor in Geskiedenis aan die Universiteit van Pretoria, is die navorser wat onverpoosd voortgaan om die Portugese se rol in die Suider-Afrikaanse geskiedenis te ontsluit. Sy jongste publikasie is die uiters deeglike annotering van die bekende Portugese ontdekkings-reisiger en staatsamptenaar in Afrika Serpa Pinto se laaste skof van die Portugese se epiese reis van 1877-1879 dwarsoor Afrika van Angola na Durban. Dit was deel van die Portugese se teenpool vir die Britse Cape to Cairo, die sogenaamde Rose Coloured Map vir suidelike Afrika waardeur hulle die Britse strewe sou fnuik. Pinto was slegs die vierde persoon in die geskiedenis om hierdie uitdagende reis suksesvol te voltooi. Daarom is hy as 'n held in Portugal beskou en het hy nie net as parlementslid gedien nie maar ook later belangrike Portugese staatsposte in Afrika beklee. Sy oorspronklike tweedelige verslag van die reis het in 1881 in Portugees verskyn en is daarna in talle tale en ook in verkorte weergawes gepubliseer. In hierdie Suid-Afrikaanse weergawe word net hoofstukke 5 tot 12 van die tweede band van die oorsponklike weergegee. Dit handel oor sy reis vanaf sy ontmoeting met die Franse sendeling Frangois Coillard in Barotseland na Pretoria en Durban.

    Sy beskrywing van die Boere wat hy op die trekpad teëgekom het, verskil van die beeld wat doelbewus in Europa van hulle geskep is as onbeskaafde, wrede en hardvogtige mense. Die feit dat hy Portugees en nie Engels was nie, het hom 'n vriendeliker ontvangs van die Boere verseker. Hy gee 'n ander uiteensetting van die Hollanders se geskiedenis in Suid-Afrika as wat toe algemeen in Europa bekend was en verbaas met sy feitelike korrektheid en diepgaande kennis. 'n Mens maak ook kennis met eerste geslag Franse en Duitse sendelinge wie se nageslag sou verafrikaans, Gonin en Behrens. In Durban maak hy ook kennis met Lodewyk Napoleon se seun, prins Eugene Louis Jean Joseph Napoleon.

    Hy besoek die ZAR in 1879, die tyd van Shepstone se anneksasie van die Zuid-Afrikaansche Republiek. Hy toon baie meer begrip en insig in dié mense se lewenswyse en hulle lewenshouding as die meeste Europese reisigers. In Pretoria leer hy die Engelse offisiere wat die land beset beter ken en gee hy belangrike inligting oor hulle aktiwiteite en veral oor die sosiale lewe in die ontwikkelende hoofstad. Net jammer dat hy nie aan die politieke verhouding van die burgers van Pretoria met die Britse bewindhebbers veel aandag gee nie.

    Die uiters volledige en deeglike annotasies maak die werk een van ontsluiting en bekend-stelling van die mense en gebeure van die tyd. 'n Noukeurige lees van die notas is verhelderend en verbaas met die kundigheid waarmee die besonderhede van onbekende persone nagespeur is. Dit is 'n toonbeeld van uitstaande annotering. Iets wat nie duidelik is nie, is die vraag wat is 'n dogcart nou werklik. Op bladsy 197 voetnoot 424 word gesê dit is 'n perdekar getrek deur een perd en met twee insittendes wat met hulle rüe na mekaar sit. Op bladsy 118 vertel Pinto egter self dat hulle in 'n dogcart gery het met vier insittendes en vier perde.

    Die boek kan by bogenoemde adres bestel word.

    Pieter Kapp
    Navorsingsgenoot, Universiteit van die Vrystaat
    Bloemfontein