SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.52 número2Aristotelian-philosophical influences at the Synod of Dort (1618-1619) and the liberating perspective of a Reformational philosophy on divine sovereignty and human responsibilityQuestions concerning the drama at Schoonder Sigt: A closer look at the suicide of Robert Jacob Gordon in 1795 índice de autoresíndice de assuntospesquisa de artigos
Home Pagelista alfabética de periódicos  

Serviços Personalizados

Artigo

Indicadores

    Links relacionados

    • Em processo de indexaçãoCitado por Google
    • Em processo de indexaçãoSimilares em Google

    Bookmark

    Tydskrif vir Geesteswetenskappe

    versão impressa ISSN 0041-4751

    Tydskr. geesteswet. v.52 n.2 Pretoria jun. 2012

     

    Geskiedeniswetenskap en die Nuwe Suid-Afrika -moet die Suid-Afrikaanse geskiedenis herskryf word?

     

    The discipline of history and the New South Africa - should South African history be re-written?

     

     

    Johan de Vllliers

    Departement Geskiedenis, Universiteit van Zoeloeland E-pos: johanceciledev@gmail.com

     

     


    ABSTRACT

    History is a discipline of humanities which records and analyses past events. It is a narrative or chronicle of human endeavour and experience in time. Constant change is an intrinsic characteristic of all forms of history. Traditional cyclical views of history have long ago been replaced by a linear cognisance and presentation of past events in a chronological sequence, implying a beginning and an expected fulfilment. This means that previous individuals, societies and developments are unique. Consequently, the question arises whether it is of any use to acquire a thorough knowledge of past events and achievements. A qualified YES would be the appropriate answer.
    Change is a paradoxical idea. It is the notion of alteration combined with the notion of remaining the same. According to Michael Oakeshott change is nothing other than inherent continuity. One should distiguish between the past as such and written history. The historian must rely on multiple voices of the past, sometimes called representations ofpastness. Such evidence of the past may be found in written documents, oral recollections and artefacts. The historian can never truly know the complete reality of the past. It is the historian's duty to reveal existing myths and to convey to the world what they discover about past reality in order to promote the legitimate use of history and check the abuse of this vital human science.
    From the explanation of historical scholarship mentioned above it seems unfair and unnecessary to ask whether South African history should be re-written at the commencement of the twenty first century. In the re-writing of South African history new issues, challenges and opportunities must always be addressed within the context of our particular time and environment in a responsible manner. In present day South Africa historians are faced with a complex, fragmented and heterogeneous rainbow nation. A truly South African identity is in continuous development. This requires constant re-interpretation, revision and re-writing of history, based on all available and accessible sources. Each generation is bound to write its own history. Today the wheel of history has undoubtedly turned, due to fresh and challenging questions asked by a new generation.
    During the previous century four distinct phases of South African history developed, namely English orientated liberal history, Afrikaner nationalistic history, Marxist radical history and Africanist nationalistic history. Today the re-interpretation of South African history demands a new perspective of the South African position within the global household. In a multi-cultural society each group will have to maintain its own particular or private history to appreciate its own identity. Such individual histories may subsequently contribute to a more general and balanced history of South Africa. During the past two decades van Aswegen's History of South Africa to 1854, Liebenberg en Spies' South Africa in the Twentieth Century and Giliomee and Mbenga's A New History of South Africa attempted to re-interpret our past. Such representative histories can never be final. The result will always remain open and incomplete. A multi-perspective approach to the past seems to be, however, the most acceptable and appropriate focus on the vast and intricate background of South Africa's unique population.
    A few guidelines may serve the purpose of achieving a comprehensive history of South Africa in our present situation. We need to take account of the different prevailing traditions and perceptions of past reality in our communities. We must avoid a tunnel vision in our research approach and appreciate the fact that South Africa is an integral part of the world at large. In a truly democratic society historical consciousness and knowledge will provide essential qualities to a vibrant community life and responsible citizenship.The teaching of history at all levels must be promoted by well trained and enthusiastic teachers and lecturers.The reading culture of society must be supported by well stocked libraries and the availability of electronic media. Newspapers, radio and television must stimulate critical thinking about the past. Cultural museums and heritage sites must constantly remind people of their common roots and proud ancestors. Thus the history of South Africa will be constantly re-assessed and re-written, not because previous historians produced poor histories, but because the context within which their histories were written, has dramatically changed.

    Key Concepts: Change and continuity; New South Africa and New history; rewriting and re-interpretation; discipline of history; speculative philosophies of history; theoretical aspects; truth and reality; Western civilisation


    OPSOMMING

    Daar word uit verskillende oorde aangedring op die herskryf van die Suid-Afrikaanse geskiedenis. Dit kan maklik op valse veronderstellings en verwagtinge gebaseer wees. Neem in ag dat geskiedenis as mensgerigte wetenskap fokus op voortdurende inherente verandering. Die skryf van geskiedenis bied talle struikelblokke. Enkele voorbeelde verdien vermelding. Eerstens is die verlede-werklikheid onherhaalbaar. Die dialoog moet multikulturele gesigspunte erken. Beskikbare en toeganklike bronne is beperk. Nuwe vorme van uitbeelding ontwikkel.
    Postmoderne historici neig om geen finale antwoorde te verskaf op die talle vrae aan die verlede-werklikheid nie. Dit beteken dat daar nooit finale bevindings in die Suid-Afrikaanse geskiedenis kan wees nie. Dit moet in die lig van veranderende omstandighede in die hede voortdurend hersien word. Geskiedskrywing bevat slegs gedeeltelike waarhede aangesien die volledige verlede-werklikheid onbereikbaar bly.
    Historici van die Suid-Afrikaanse toneel moet vandag diverse persepsies op 'n verantwoor-delike en eerlike wyse hanteer, gebaseer op die beskikbare getuienis. Heersende mites moet ontbloot word en teenswoordige vrae relevant toegelig word uit die beskikbare bronne. Daar is ruimte vir nuwe perspektiewe en 'n meer insluitende Suid-Afrikaanse algemene geskiedenis, sonder om die baanbrekerswerk van talle historici in die verlede te verkleineer.

    Trefwoorde: Geskiedeniswetenskap; herskryf en herinterpretasie; kenteoretiese aspekte; Nuwe Suid-Afrika en Nuwe geskiedenis; spekulatiewe geskiedenisfilo-sofieë; verandering en kontinuïteit; waarheid en werklikheid; Westerse beskawing


     

     

    INLEIDEND

    Ons leef vandag in 'n verbruikersamelewing. Mense is geneig om beskikbare middele slegs tot hulle eie voordeel te gebruik en verwerp op die ingewing van die oomblik alle ander dinge as nutteloos. In die heersende gejaag na materialistiese wins fokus baie mense op huidige behoeftes en beskou dan alles uit die verlede as nutteloos. Jong mense is gewoonlik net gerig op 'n verwagte blink toekoms wat meestal getuig van hulle onrealistiese optimisme. Om mikpunte daarenteen suksesvol te behaal moet 'n mens onder andere steeds bewus bly van die breë horison van veranderende patrone en voortdurende gewysigde lewensomstandighede in die verloop van tyd, soos weerspieël in kontrasterende groei en verval, sukses en mislukkings. Realistiese projeksies oor moontlike ontwikkeling en behoeftes vereis altyd 'n kritiese vertolking van verlede-gebeure, samelewingspatrone en internasionale tendense. Hierdie besef staan bekend as historiese bewussyn ( Rüsen 1989:11-12; Van Jaarsveld 1989:20-36).

    Verantwoordelike persone moet letterlik ontwikkelings van die verlede terugskouend in ag neem om berekend die toekoms tegemoet te gaan. Dit herinner ons aan die roeiers in 'n bootjie wat terugwaarts kyk om vorentoe te beweeg. 'n Algemene werksdefinisie van geskiedenis is dat dit 'n mens-wetenskap (in die humanoria) is wat die toeganklike neerslag, verslae en ontledings van gebeure in die verlede ontgin. Geskiedenis dek die hele ervaringsveld van die mensheid. Voortdurende verandering is 'n intrinsieke kenmerk van alle vorms van geskiedenis. Die begrip verandering impliseer 'n nuwe situasie wat die oue vervang. Voorbeelde van verskillende manifestasies van verandering in geskiedenis kom voor in die wisseling van eras, omgewings (op plaaslike, streeks-, nasionale en universele vlak), gedurige ontwikkeling/verval en voortdurende aanpassings in menslike bestaanswyse/leefwyse, asook in veranderde houdings, opvattings en persepsies van mense. Gedurige verandering in geskiedenis is altyd 'n dinamiese proses (Carr 1984:109-132; Topolski 1976:1-4; Rüsen 1993:3-5; Van Jaarsveld 1980:28-32 e.v.).

    'n Besinning oor die vraag of die geskiedenis van Suid-Afrika herskryf moet word, vereis allereers dat daar oorsigtelik gelet moet word op verskillende gesigspunte oor die aard en wese van geskiedenis. Dit word vervolgens in twee afsonderlike afdelings aan die orde gestel.

     

    ENKELE SPEKULATIEWE GESKIEDENISFILOSOFIEË

    Teenoor die Ou Testamentiese siening van 'n universele skepping en eskatologiese heilstyd het ander volke, selfs nog in die klassieke tyd, vasgeklou aan die misterie van die noodlot (Moira) en die gedagte van 'n onontkombare kringloop van gebeure. Vandag word sikliese beskouings van verlede-gebeure wat ewige herhaling behels, grootliks verwerp. Die klassieke Griekse denker Herakleitus ( circa 540-circa 480 v. C.) het die vaste reëlmaat van die seisoene ook op geskiedenis toegepas as 'n verhaal van wisselende menslike belewenisse in die verlede. Alles vorm deel van 'n ewige kringloop. Wat in die verlede gebeur het, word weer in die toekoms herhaal en is dus voorspelbaar. Die pater historiae, Herodotus van Halikarnasus (circa 484-circa 425 v. C.), het die verhaal van die Persiese oorloë noukeurig opgeteken sodat toekomsverwagtinge daaruit geskep kon word. Ook Thucydides (circa 455-circa 400 v. C.) het die geskiedenis van die Peloponnesiese Oorlog in besonderhede op skrif gestel. Die Grieks-Romeinse sikliese beskouing van geskiedenis was in ooreenstemming met hulle geloof aan 'n kosmiese wetmatige sirkelgang van die werklikheid. In die Griekse mitologie was Kleio die godin van geskiedenis. Ook vir die Romeine was geskiedenis die leermeesteres van die lewe - historia vitae magistra (Dreyer 1974:31,161163; Marwick 1993:29-31).

    'n Meer onlangse eksponent van die sirkelgang van geskiedenis is die Italiaanse denker Giambattista Vico (1668-1744) tydens die era van Verligting. Hy was die eerste persoon om geskiedenis te beskou as 'n relaas van die opkoms en ondergang van menslike samelewings. Sy teorie, bekend as ricorsi of terugkeer na die oorspronklike ontwikkelingsfase van 'n samelewing, berus op drie tydvakke, naamlik die era van gode, die tyd van helde en die tydvak van mense. Uiteindelik oorskry elke samelewing sy hoogtepunt en verval dan terug na die beginstadium. Elke voltooide sirkelgang word verryk deur nuwe waardes en die geskiedenis gaan voort in die vorm van 'n spiraal (Van Jaarsveld & Rademeyer 1973:74).

    Die gedagte van terugkeer of herstel van die oorspronklike is nie vreemd nie. Sulke veranderinge het byvoorbeeld in die tyd van die Hervorming plaasgevind toe Martin Luther aangedring het op die herstel van die vroegste Christelike kerk se styl. Ook tydens die opkoms van Naziisme het Adolf Hitler die Duitsers aangespoor om terug te keer na die ou simbole van voor die Eerste Wereldoorlog. Hierdie neiging is in skrille kontras met die hedendaagse aandrang op vooruitgang ten alle koste (Gustavson 1976:179-181).

    Gedurende die twintigste eeu het veral twee persone se sikliese beskouings van die geskiedenis die verbeelding van baie mense aangegryp. Die eerste was die Duitser Oswald Spengler (18801936) met sy boek Der Untergang desAbendlandes wat in 1918 in München gepubliseer is. Dit het antwoorde probeer verskaf na die verpletterende uitwerking van die Eerste Wereldoorlog. Volgens die pessimistiese siening van Spengler moet alle selfgenoegsame kulture deur 'n vaste siklus gaan wat 'n uiteindelike katastrofe nie kan ontsnap nie (Spengler 1995:15-39).

    Nog meer opspraakwekkend was die magistrale tiendelige A Study of History van Arnold Joseph Toynbee (1889-1975) wat die ganse mensheidsgeskiedenis in terme van die opkoms en ondergang van 21 (later gewysig tot 26) beskawings geïnterpreteer het. Toynbee se werk bevat tipiese uitdrukkings, soos "uitdaging en antwoord" (challenge and response) , "inkeer en terugkeer" (withdrawal and return), "teruggang en herstel" (rout and rally), "skeppende minderheid" (creative minority), "oorheersende meerderheid" (dominant majority), "interne en eksterne arbeiders" (internal and external proletariat), "vergeesteliking" (etherealisation), die "Goue Weg" (Golden Means), "tyd van probleme" (time of troubles), die "universele staat" (universal state), die "universele kerk" (universal church) en "historiese fossiele" (historical fossils). Toynbee het voorspel dat die Westerse beskawing reeds vanaf die sestiende eeu innerlik aan die verval is, maar die ondergang kan afgewend word deur 'n terugkeer na die Christelike godsdiens. Die groot kritiek teen Toynbee (1987) se sikliese beskouing van beskawings is sy selektiewe voorbeelde om aannames te staaf.1

    'n Vars en indrukwekkende beskouing is na die Tweede Wereldoorlog gelewer deur die veelsydige Oostenrykse denker Karl (Theodor) Jaspers (1883-1969) met sy opspraakwekkende konsep van 'n as-tydperk (Achsenzeit) in die wêreldgeskiedenis. In sy boek oor die oorsprong en doel van die geskiedenis (Kom Ursprung und Ziel der Geschichte), gepubliseer in 1949, het hy aangevoer dat die jare 800 tot 200 v.C. die sentrale middelpunt vorm van universele geskiedenis. Dit was die era toe groot denkers soos Confusius, Loatse, Budda, Zarathustra, die Joodse profete en Griekse filosowe naastenby gelyktydig op die voorgrond getree het. Hulle denke en oorlewerings het mense vergeestelik en tot die opkoms van hoogkulture gelei. Dit het die grondslag gelê vir die eenheid en struktuur van die uiteindelike ontwikkeling van planetariese ordening deur verowering en dwang ('n wêreldimperium) en/of vrywillige samewerking ('n wereldordening). Die eenheid van die mensheid kan egter verhinder word deur die tegnologiese misbruik van kernwapens (Jaspers 1968:51-60,122-125 en 251-265).

    Die Marxistiese geskiedskrywing van die twintigste eeu het ook voortgaande verandering beklemtoon. Die dialektiese materialisme is gebaseer op Georg Wilhelm Friedrich Hegel (17701831) se konsep van 'n vaste gang van tese, antitese en sintese. Volgens Karl Marx en Friedrich Engels se Kommunistiese Manifes (1848) en Das Kapital (1867) is die verloop van die geskiedenis onafwendbaar, noodwendig en allesomvattend. Die einddoel van die wêreldgeskiedenis is die skepping van 'n klaslose samelewing, genaamd die kommunistiese heilstaat wat kapitalisme sal vervang (Dreyer 1974:165-166; Van Jaarsveld & Rademeyer 1973:53-55).

    Uiteindelik moet ons ook erkenning gee aan die reglynige siening van historiese verandering in die verloop van tyd. Die tradisionele Christelike geskiedbeskouing van Augustinus van Hippo (354—430 n.C.) berus op 'n wetmatige patroon. Die verval van Rome en inname deur Alarik se Gote in 410 n.C. het hom en sy tydgenote geskok. Dit gaan vir Augustinus altyd om die voortreflikheid van die Christelike lewe teenoor die sedelike verval van die heidene. In sy tweeen-twintigdelige De Civitate Dei contra paganos kontrasteer hy twee beginsels - die Goddelike teenoor die aardse, Abel teenoor Kain, Jerusalem teenoor Rome. Hy sien alles sedert die skepping en sondeval in terme van 'n stryd tussen goed en kwaad. Die stryd tussen die Civitas Dei (Stad van God) en die Civitas Terrena (aardse stad) sal eers eindig met die wederkoms van Christus. Daarom is die geskiedenisvisie van Augustinus eskatalogies gerig. Ware geskiedenis is vir hom heilsgeskiedenis. Christus is die middelpunt van die geskiedenis. Alles begin in die ewigheid (skepping), gaan deur die tyd en eindig weer in die ewigheid (wederkoms). Hierdie liniêre visie van geskiedenis met implikasies van uniekheid en onherhaalbaarheid van gebeure word vandag deur die meeste historici as vanselfsprekend aanvaar. Hulle het egter weggebreek van die gedagte van die Goddelike Voorsienigheid en fokus in die praktyk slegs op 'n klein deel van die chronologiese ontwikkelingslyn van menslike belewenisse. Alles in ag genome is sowel die sikliese as liniêre beskouings van geskiedenis gegrond op 'n bepaalde lewens- en wêreldbeskouing en nie 'n wetenskaplike saak nie (De Klerk 1981:107-114; Dreyer 1974:163 en 237; Van Jaarsveld & Rademeyer 1973:46-48).

     

    KENTEORETIESE ASPEKTE

    Die Duitse historikus Leopold von Ranke (1795-1886) het daarop aangedring dat oorspronklike bronne altyd krities ontleed moet word om verlede-gebeure noukeurig vas te stel (letterlik in Duits: Wie es eigentlich gewesen). Volgens hom is alle individue, samelewings en verwikkelinge uniek, oftewel Unmittelbar zu Gott (Gustavson 1976:263-264). Omdat die verlede-gebeure nooit herhaal kan word nie, word ons gekonfronteer met die vraag of dit dan nog vandag enige nut kan hê om 'n deeglike kennis op te doen van mense en gebeure in die verlede. 'n Gekwalifiseerde "JA" sou hier van pas wees.

    Jacob Christoph Burckhardt (1818-1897) van Basel het as kultuurhistorikus die grondslag gelê vir die postmoderne breë benadering tot menslike aktiwiteite en skeppinge in die verlede. Kulturele ontwikkeling is vir hom 'n deurlopende proses. Dit het diepgaande betekenis vir die mensdom vandag (Rüsen 1993:147-158).

    Volgens die bekende Londense filosoof Michael Oakeshott is die idee van verandering altyd 'n paradoks. Dit behels sowel die element van transformasie as die neiging om dieselfde te bly. Verandering is dus niks anders as inherente kontinuïteit nie. Daarom besluit Oakeshott dat die historiese verlede, of dit nou bekend staan as 'n mentalité, 'n beweging, 'n imperium of 'n oorlog, altyd 'n diversiteit behels wat algeheel saamgestel is uit onderling afhanklike verskille wat geen begripsverwantskap het nie. Dit is 'n kontinuïteit van heterogene en uiteenlopende spanning. Wanneer 'n historikus daarin slaag om 'n kontinuïteit van verandering saam te stel, kan hy/sy dit identifiseer met 'n spesifieke benaming, byvoorbeeld die Romeinse Ryk of Era van Verligting of Industriële Revolusie. Historiese navorsing is eintlik die skepping van historici wat herinneringe uit die verlede in die hede wil gebruik as belangwekkende of leersame inligting in ons huidige omstandighede (Oakeshott 1983:98-118).

    Dit is belangrik dat ons altyd moet onderskei tussen die verlede as sodanig en die praktiese beoefening van geskiedskrywing. Elizabeth Tonkin, Afrika-historikus, het die veelvoudige stemme van die verlede nagevors en dit genoem voorstellings van die verlede (representations ofpastness). Dit is duidelik dat ons slegs gebruik kan maak van getuienis uit oorblyfsels van die verlede (naamlik artefakte en Überresten) in die hede. Ons kan nooit werklik die volle realiteit van die verlede begryp deur geskrewe voorstellings of verhale nie. In sommige gevalle kan geskiedenis in sy geskrewe vorm ook meer wesentlik (reëel) wees as die werklikheid van die verlede. 'n Goeie voorbeeld is Frederick Jackson Turner se grens-teorie oor die oopstelling van die Wilde Weste in Noord-Amerika tydens die agtiende en negentiende eeu. Die grens het uiteindelik 'n metafoor geword vir Amerikaanse individualisme en demokrasie. Sodoende het dit 'n noodsaaklike, maar algeheel mitiese dimensie aangeneem, want die geskiedenis-teks het meer wesentlik geword as die grens-geskiedenis self (Munslow 1997:164-178).

    Die historikus Robert Berkhofer het refleksiewe beskrywing en onderrig van geskiedenis gepropageer. Om buite normale geskiedenis te beweeg, is makliker gesê as gedaan. Vier groot dilemmas van refleksiewe historiese voorstelling moet oorkom word. Eerstens is daar die probleem van uitbeelding van die verlede as geskiedenis. Tweedens moet multikulturele en veelvuldige standpunte as egte dialoog in die teks hanteer word. Derdens moet tradisionele anachronismes in die uitbeelding van die verlede in eie reg in huidige bronne te bowe gekom word. Laastens moet vars vorme van voorstelling aangebied word sonder die remskoen van allerlei nuwe eise van die professionele historiese praktyk (Berkhofer 1998:282-283).

    Die relatiwiteit van waarneming deur verskillende ooggetuies van dieselfde gebeurtenis of objek moet altyd in ag geneem word. Die Franse essayis Michel Eyquem de Montaigne (15331592) het al in die sestiende eeu vry vertaal erken : "Indien dit nie is soos dit gebeur het nie, dan minstens soos ek dit gesien het! " Daarom baat geskiedenis ook deur die perspektiewe van ander dissiplines. Die multidissiplinêre studie van veranderende samelewings is veral na die Tweede Wereldoorlog bevorder deur die Franse Annalesskool. Lofwaardige voorbeelde daarvan is Fernand Braudel se studie van die Mediterreense wêreld, Ernest Labrousse se sosio-ekonomiese studies en André Burguière se sosiaalkulturele navorsing (Van Jaarsveld 1980:78-80; Van Jaarsveld 1982:113-134; Burguière 1982:9-67).

    Frank Ankersmit van die Universiteit van Groningen het onlangs aanbeveel dat navorsers eerder moet fokus op ervaring as 'n fase of episode in die geskiedenis van 'n veranderende kultuur of ontwikkelende samelewing. Die Nederlandse kultuurhistorikus Johan Huizinga hetjuis historiese ervaring met die daaglikse bestaan van mense geassosieer. Hy het insig verkry uit hulle herinneringe, kronieke, prente, liedere en ander kunsprodukte uit hulle alledaagse lewe, maar nie die heersende politiek van hulle leeftyd as noodsaaklike element van geskiedenis uitgesluit nie (Huizinga 1937:109-139; Ankersmit 2007:9 en 420-421). Hierdie benadering tot historiese begrip (understanding) word bevestig deur Leonard Marsak van die Universiteit van Kalifornië, Santa Barbara. Hy het bevind dat oorsaaklikheid in geskiedenis eintlik nie gebaseer is op induktiewe of deduktiewe logika nie, maar op 'n besef van die veranderinge van gewone menslike gedrag (Marsak 1970:23).

    Henri Pirenne, Belgiese historikus, het die voorbeeld van Leopold von Ranke gevolg en gepleit vir 'n verbredende historiese benadering wat sou lei tot 'n universele geskiedenis van die mensheid (Weltgeschichte). So 'n benadering vereis kritiese ontleding van alle beskikbare bronne, gebaseer op oorspronklike inligtingstukke, sowel as data uit spesifieke navorsing wat reeds voorheen onderneem is en algemeen aanvaar word. Dit is duidelik dat so 'n ontwikkelingsgeskiedenis van die mensdom slegs saamgestel kan word na uitgebreide navorsing, versameling en veralgemening (Marsak 1970:22).

    'n Halfeeu gelede het Pieter Geyl van Utrecht dieselfde gedagtes geopper toe hy daarop aangedring het dat historici slegs 'n vertroudheid met die verlede besit vanweë hulle entoesiasme en abstrakte denke wat waarskynlik ondersteun word deur mitiese vertolkings van die verlede. Historici moet nooit stilbly nie. Hulle moet hulle professionele taak na die beste van hulle vermoë uitvoer. Die uitdaging is dat hulle bestaande mites moet ontbloot en oral bekend maak wat hulle van die verlede-werklikheid ontdek het. Hulle moet dus die regmatige gebruik van geskiedenis bevorder en enige misbruik van hierdie noodsaaklike menswetenskap weerlê (Geyl 1957:88-89).

    Uit die voorafgaande oorsig blyk dit dat minstens drie tipiese benaderings tot en interpretasies van die menslike verlede in verskillende eras van die wêreldgeskiedenis onderskei kan word:

    • Gedurende die premoderne era het Herodotus van Halikarnasus gepoog om die inhoud van sy historiese bewussyn op skrif te stel vir die verligting van volgende geslagte. Daarom kan die geskiedskrywing van Herodotus en sy volgelinge slegs beoordeel word binne die konteks van die tyd waarin hulle geleef het.

    • Gedurende die moderne tyd is die verlede-werklikheid volgens empiriese navorsing gerekonstrueer. In Duitsland het Leopold von Ranke met sy motto gepoog om wat werklik plaasgevind het te boek te stel. Volgens Ranke en ander moderne historici was dit nie feite nie, maar die beklemtoning van die noodsaaklike wat historiese gebeure belangrik gemaak het. Moderne geskiedskrywing moes korrekte antwoorde verskaf op vrae wat in die hede gestel is.

    • Gedurende die tweede helfte van die twintigste eeu het postmoderne historici soos Haydn White (The Burden of History) en Keith Jenkins (On What is History?) daarop aangedring dat die soeke na waarheid 'n sine qua non van historiese vakmanskap moet wees. Diebevindinge van hierdie pogings moet gereeld hersien word in die lig van veranderende perspektiewe in die hede. Postmoderne benaderings is gevolglik verplig om 'n relativistiese persepsie van die verlede-werklikheid (dit is die waarheid) te aanvaar. Die regte vrae word gevra, maar geen finale antwoorde verskaf nie. Quentin Skinner van die Instituut vir Gevorderde Studie aan die Universiteit van Princeton het onlangs beklemtoon dat ons die onsekerhede, vaaghede en selfs twyfelagtige aspekte in die menslike verlede moet erken wanneer geskiedenis geskryf of aangebied word. Hierdie uitdaging moet aanvaar word sonder dat noukeurigheid in geskiedskrywing afgeskeep word ( Allen in Tempelhoff 1997:26-44).

     

    'N NUWE GESKIEDENIS VIR DIE NUWE SUID-AFRIKA?

    Die voorafgaande oorsig oor verskillende aspekte van geskiedenis lei tot die vraag of die geskiedenis van Suid-Afrika tans herskryf moet word. Eintlik is hierdie vraag onbillik. Uit die verskillende beskouinge oor geskiedenis is dit duidelik dat geskiedskrywing en navorsing altyd dinamies is. Daar moet voortdurend antwoorde gesoek word vir nuwe vrae wat opduik. Daarom is dit vanselfsprekend dat die Suid-Afrikaanse reënboognasie sedert 1994 ook nuwe uitdagings vir historici stel wat beantwoord moet word.

    Historiese vakkundigheid word in die eerste instansie gekonfronteer deur die komplekse, gefragmenteerde en heterogene bevolkingsamestelling van Suid-Afrika. Die gevaar is dat geskiedenis maklik misbruik kan word om ander doeleindes as die suiwer wetenskaplike te bereik. Dit is ook onbetwisbaar dat 'n ware Suid-Afrikaanse identiteit steeds aan die ontwikkel is. Dit vereis gedurige herinterpretasie, herevaluering en herskrywing van eietydse geskiedenis uit beskikbare en toeganklike bronne. Elke generasie moet sy eie geskiedenis skryf. Die wiel van geskiedenis het vandag onteenseglik gedraai, veral vanweë nuwe en uitdagende probleme wat deur 'n nuwe geslag ondervind word (Van Jaarsveld 1974:91-116).

    Gedurende die vorige eeu het daar veral vier verskillende strominge in die geskiedskrywing van Suid-Afrika ontwikkel. Eerstens was daar die Engels-georiënteerde liberale geskiedenisse van akademici soos Macmillan, De Kiewiet, Marais, Thompson en Davenport (Smith 1988:2053). Dan was daar ook die Afrikaanse nasionalistiese geskiedeniswerke van persone soos Krüger, Pelzer, Scholtz, Muller en Van Jaarsveld. Derdens het daar 'n Marxistiese radikale geskiedskrywing ontwikkel soos verteenwoordig deur Legassick, Wolpe, Marks en Bundy. Laastens was daar die Afrikanistiese nasionalistiese geskiedskrywing wat ontwikkel het onder leiding van Molema, Plaatje en Soga (Van Jaarsveld 1992:135-143).

    Die herinterpretasie van die Suid-Afrikaanse verlede vereis vandag 'n nuwe perspektief op die Suid-Afrikaanse toekoms. 'n Verlede-beeld is nodig vir die bou van 'n toekoms vir almal in hierdie land. In 'n multikulturele samelewing sal elke groep waarskynlik sy eie spesifieke of private geskiedenis wil koester om sy eie identiteit te waardeer. Sulke groepe kan wees die Zoeloes, Afrikaners en Sotho-sprekendes. Kleiner groepe kan selfs betrekking hê op Asiatiese, Portugese en Italiaanse groeperinge. Hulle individuele geskiedenisse kan uiteindelik bydra tot 'n meer algemene en insluitende geskiedenis van Suid-Afrika (Van Jaarsveld 1992:143-146). In hierdie verband het Michael O'Dowd van Anglo American by geleentheid gesê dat dit die plig van elke groep in die land is om eerstens sy eie geskiedenis te koester sodat dit dan ook later 'n bydrae tot die landsgeskiedenis as geheel kan lewer. Lofwaardige voorbeelde van eiesoortige versamelings is by die Oppenheimer Instituut van die Universiteit van Kaapstad, die Brenthurst-versameling in Parktown, Johannesburg, en die Killie Campbell-biblioteek in Durban. Giliomee se Geskiedenis van die Afrikaner - 'n biografie is die jongste voorbeeld van so 'n toegespitste studie.

    Gedurende die laaste dekades van die twintigste eeu is tradisionele blank-sentriese geskiedenisse al hoe meer vervang deur meer insluitende en gebalanseerde vertolkings van ons geskiedenis. Voorbeelde is die Illustrated History of South Africa deur Saunders en Bundy, Geskiedenis van Suid-Afrika tot 1854 deur Van Aswegen en South Africa in the Twentieth Century onder redaksie van Liebenberg en Spies. Die mees onlangse voorbeeld van 'n meer insluitende benadering is die omvattende Nuwe Geskiedenis van Suid-Afrika onder redaksie van Giliomee en Mbenga. Dit is 'n pragvoorbeeld van wat bereik kan word met nuwe navorsing, konseptualisering en vertolking in ons huidige tyd. Maar natuurlik is dit ook noodsaaklik om in ag te neem dat geen algemene geskiedenis van Suid-Afrika ooit finaal kan wees nie. Dit is vanweë verskillende interpretasies en herinterpretasies. Die resultaat sal altyd oop en onvoltooid wees. Slegs onvolledige waarhede oor die verlede sal bestaan. Absolute waarheid is onbereikbaar en kan slegs deur die historikus benader word. Om hierdie rede sal 'n multiperspektiwiese benadering tot die verlede waarskynlik die mees aanvaarbare en gepaste aanslag vir skole en universiteite wees. Dan sal daar ruimte vir alle perspektiewe wees en geeneen word as primitief of snert afgemaak nie. Binne so 'n lewensituasie kan jou eie vooroordele erken en die hede beter verstaan word, asook moontlike strategieë vir die toekoms beplan word. Sodoende kan moontlik groter konsensus oor kontensieuse sake bereik word. Historiese bewussyn is vandag meer as ooit tevore onontbeerlik om die kompleksiteite van Suid-Afrika te deurgrond (Tempelhoff 1997:73-97).

    Wat is die belangrikste sake wat in ag geneem moet word wanneer Suid-Afrikaanse geskiedenis herskryf word? Eerstens moet uiteenlopende persepsies van die verlede geakkommodeer word, solank as wat dit gefundeer is op genoegsame getuienis. Tweedens moet heersende mites aangespreek word, byvoorbeeld dat die Khoekhoen slawe van die Nederlandse regering aan die Kaap was, of dat Autshumato (Herrie) die Strandloper die eerste persoon was wat Afrikaans gepraat het of dat David Livingstone die eerste persoon was wat die Victoria-waterval ontdek het. Derdens moet gemarginaliseerde gemeenskappe ook erkenning ontvang, byvoorbeeld minderheidsgroepe soos die Boesmans, Jode en Duitsers. Vierdens moet relevante geskiedenis altyd hede-gerig wees, byvoorbeeld wanneer die uitwerking van kolonialisme op 'n soewereine onafhanklike Suid-Afrika beoordeel word. Laastens moet geykte terminologie wat negatiewe konnotasies verwerf het, verkieslik vermy word. Dit was oorspronklik neutrale beskrywende benamings wat weens veranderde omstandighede in 'n nuwe konteks onvanpas geraak het. Dink maar aan uitgediende benamings soos Kafferoorlog in plaas van Oosgrensoorlog, Hottentotte in plaas van Khoekhoen, Koelie in plaas van Indiër, Mohammedaan in plaas van Moslem, Boereoorlog in plaas van Anglo-Boereoorlog, en so meer (Van Jaarsveld 1989:20-36).

    Die belangrikste vraag is of ons vandag 'n plek verdien in die geskiedenis? Wat is ons blywende bydrae vir toekomstige geslagte op hierdie vasteland en in die wêreld? Kan ons inspirasie put uit die ervarings van die verlede? Wysheid kan ongetwyfeld verkry word uit die herinneringe van vroeëre geslagte. Ons is verplig om sin te maak uit ons lewe in die huidige tyd en plek te midde van die voortgaande verloop van die geskiedenis. Die beste en mees positiewe aspek van historiese herinnering is om dit self te skep.

    Probleme met die herskryf van ons geskiedenis bied besondere uitdagings veral op drie verskillende terreine (Commager 1965:43-71). Die eerste is op die gebied van navorsing. Nuwe en bykomende bronne uit ons verlede is oorweldigend. Argeologiese ontdekkings oor die eerste moderne mense (homo sapiens ) en pre-menslike lewe in Suid-Afrika word internasionaal erken. Die Wieg van die Mensdom lê in Suider-Afrika en wel by Sterkfontein en omliggende grotte waar sowat veertig persent van die wêreld se hominied-fossiele ontdek is. Argiefversamelings word vandag in ons land gesentraliseer, ontsluit en voortdurend uitgebou deur die toevoeging van amptelike staatsdokumente. Private versamelings van individue en organisasies word al hoe meer toeganklik. Mondelinge tradisie verskaf nuwe inligting en perspektiewe. Individuele en gesamentlike navorsingsprojekte ontgin bronne deur middel van nuwe metodes van data-ontsluiting(Harris 1997:13-37).

    Die tweede terrein is die gebied van vertolking en kritiese assessering. Verskillende interpretasies oor die verlede lei dikwels tot misverstand. Dit is 'n groot struikelblok. Gesonde akademiese debat oor uiteenlopende sake is nodig vir wetenskaplike navorsing en vooruitgang, maar wanneer Suid-Afrikaanse historici hulle terugtrek in isolasie of in die openbaar spreekwoordelik opstel in venynige slagordes, dan word dit teenproduktief en selfvernietigend.

    'n Derde terrein behels politieke sake van die dag. Die historikus van die eietydse SuidAfrikaanse leefwereld moet altyd heersende politieke en sosiale sake in ag neem. Wanneer hierdie sake weliswaar so belangrik raak dat dit die Leitmotiv of dominante invloed word, sal vooroordeel die ewewigtige ontginning van beskikbare bronne versluier. 'n Oop benadering is steeds nodig om die verwringing van uitkomste te voorkom en aanneemlike afleidings te verseker.

    Op 'n meer positiewe noot moet ons alle geleenthede in die een-en-twintigste eeu benut om 'n nuwe rigting in te slaan in Suid-Afrikaanse geskiedenis. Die volgende sewe riglyne sal vir hierdie doel aangewend kan word:

    • Ons benodig 'n meer insluitende benadering wat die verskillende tradisies en opvattings oor die verlede-werklikheid in ag neem.

    • Ons moet in ag neem dat Suid-Afrikaanse geskiedenis deel vorm van 'n breër Afrika- en wêreldgeskiedenis. Ons moet 'n tonnelvisie vermy wat slegs op sekere aspekte van die geskiedenis konsentreer. Ons moet altyd onthou dat ons land 'n integrale deel is van die universele huishouding, die sogenaamde Global Village .

    • Die geskiedenis van Suid-Afrika sal natuurlik bydra tot nasiebou en verantwoordelike burgerskap, maar geskiedenis moet nooit die slaafword van 'n bepaalde politieke party of regering van die dag nie. In 'n ware demokratiese samelewing sal gesonde historiese bewussyn en kennis noodsaaklike kwaliteite verskaf aan 'n sprankelende gemeenskapslewe.

    • Bekommerde belanghebbendes dring vandag toenemend aan op die kwaliteits-verbetering van geskiedenisonderrig waarvan deeglik opgeleide onderwysers met entoesiasme deel moet vorm. Die leeskultuur van veral jongmense moet weer aangemoedig word en biblioteke moet toegerus word met toepaslike literatuur en rekenaarfasiliteite, byvoorbeeld die internet.

    • Daar bestaan 'n dringende behoefte aan doeltreffende handboeke en vaktydskrifte, veral op die terrein van eietydse geskiedenis, wat kritiese denke kan stimuleer en debattering oor historiese sake kan aanmoedig. Natuurlik sal die pers, radio en televisie ook diepteontledings van historiese uitbeeldings kan bevorder. Een van die eerste gebalanseerde handboekuitbeeldings van samelewingsgeskiedenis wat gedurende die afgelope twee dekades gepubliseer is, was die veelkantige benadering van Henning van Aswegen vir die tydperk tot 1854. Hy het meesterlik daarin geslaag om intergroep-verhoudinge in Suidelike Afrika uit te beeld.

    • Kultuurmuseums en erfenisterreine kan die algemene publiek aanmoedig om die verlede te waardeer (Nuttall & Coetzee:143-160). Sulke sentra, byvoorbeeld die museum van die Voortrekkermonument en Erfenisstigting in Pretoria, is groot kultuurbates en mag nie deur die publiek of belastingbetalers as onnodige las beskou word nie.

    • Laastens is dit gepas om te erken dat die geskiedenis van Suid-Afrika voortdurend herwaardeer en herskryf moet word. Dit is nie omdat vorige historici swak bydraes gelewer het nie, maar omdat hulle geskiedenisse in 'n bepaalde konteks geskryf is wat dramaties na 1994 verander het (Mouton 2007:vii - x). Daar is vandag steeds ruimte vir diepgaande oorspronklike studies wat op primêre navorsing berus (die boustene van geskiedskrywing), maar ook vir populariseerders van ons geskiedenis (opvolgers van skrywers soos Lawrence Green, Gustav Preller en Max du Preez). Dr Gert Scholtz het tereg opgemerk dat baie hedendaagse mense intellektueel vergaan weens gebrek aan leeslus en algemene kennis. Daar is vandag legio geleenthede vir geestelike verryking. Die wêreld is vandag, danksy moderne tegnologie, in ons voorkamers en studeerkamers beskikbaar. Tog is daar steeds groot leemtes om aan te vul te midde van die media se gulsige gejaag na opspraakwekkende nuus en ewewigtige ontledings (Scholtz 1970:19-20).

    Ten besluite kan volstaan word met die oorwoë mening van 'n deurwinterde plaaslike historikus. Ernst Stals skryf:

    Besef dat mense en gemeenskappe die beste verstaan kan word binne die konteks van die tyd waarin hulle geleef en opgetree het en nie vanuit die konteks van latere, hedendaagse tye nie. Miskien leef ons in 'n tyd dat alles, veral die verlede, in terme van vandag se waardestelsels geëvalueer en as relevant of irrelevant geag word.

    Dit mag inpas in 'n denkraamwerk wat die hede as bepalend vir die verlede beskou en dus die hede in die verlede wil terugprojekteer. Dit mag sekere aantreklikhede hê, maar dit verkrag die wese van die geskiedenis-wetenskap (Stals 2009:437).

    Natuurlik moet ons nie so arrogant wees om "beoordelaars" van die verlede te wees asof ons die eindpunt van alle geskiedenis bereik het en finale "vonnisse" kan uitspreek oor die verlede nie (Wright 1980:108; Commager 1965:68). Daar is in ons situasie vandag veel te leer uit die Suid-Afrikaanse geskiedenis, maar ons moet ook in ag neem dat die volgende geslag sake heel anders sal benader en beoordeel omdat hulle in 'n totaal ander situasie sal leef. Historici van die toekoms sal ook vir ons beoordeel. Daarom is dit gepas om beskeie en realisties te verklaar:

    DIE GESPREK OOR ONS SIENING VAN DIE VERLEDE DUUR VOORT!

    Naskrif: Hierdie artikel is gebaseer op 'n referaat wat deur die outeur gelewer is tydens die Simposium van die Akademie te Potchefstroom op 23 Junie 2011 onder die oorkoepelende tema "Wetenskap en Samelewing Vandag".

     

    BIBLIOGRAFIE

    Allen, Geoff. 1997. Geskiedkundige Rooidoek - historici en hulle feite. In J W N Tempelhoff (red.). Die Verkenning van Feit en Fiksie - 'n interdissiplinêre diskoers. Vanderbijlpark:PUK.        [ Links ]

    Ankersmit, Frank. 2007. De Sublieme Historische Ervaring. Epe: Historische Uitgeverij.        [ Links ]

    Berkhofer, Robert F. 1998. Beyond the Great Story - history as text and discourse. Cambridge: Harvard University Press.        [ Links ]

    Bober, M. M. 1965. Karl Marx's Interpretaion of History. New York: Norton.        [ Links ]

    Burguière, André, et al. 1982. Views of France - a people and its history. Translated by C Hargrove. Paris: Documentation Francaise.         [ Links ]

    Butterfield, Herbert. 1954. Christianity and History. London: Bell.        [ Links ]

    Cameron,Trewhella & S. B. Spies (reds). 1986. Nuwe Geskiedenis van Suid-Afrika in Woord en Beeld. Kaapstad: Human & Rousseau.        [ Links ]

    Cannon, John (ed.).1980. The Historian at Work. London: Allen & Unwin.        [ Links ]

    Carr, Edward H. 1984. What is History? Harmondsworth: Penguin.        [ Links ]

    Chamberlain, Mary & Paul Thompson. 2000. Narrative and Genre. London: Routledge.        [ Links ]

    Commager, Henry S. 1965. The Nature and the Study of History. Columbus: Merrill.        [ Links ]

    Cook, Patricia. 1993. Philosophical Imagination and Cultural Memory. Durham: Duke University Press.        [ Links ]

    De Klerk, Pieter. 1981. Geskiedenis as Kultuurontwikkeling. Durban: Butterworth.        [ Links ]

    Dreyer, P. S. 1974. Inleiding tot die Filosofie van die Geskiedenis. Pretoria: HAUM.        [ Links ]

    Geyl, Pieter. 1955. Debates with Historians. Groningen: Wolters.        [ Links ]

    Geyl, Pieter. 1957. Use and Abuse of History. New Haven: Yale University Press.        [ Links ]

    Giliomee, Hermann. 2009. Die Afrikaners - 'n biografie. Kaapstad: Tafelberg.        [ Links ]

    Giliomee, Hermann & Bernard Mbenga (reds). 2007. Nuwe Geskiedenis van Suid-Afrika. Kaapstad: Tafelberg.         [ Links ]

    Gustavson, Carl G. 1976. The Mansion of History. New York: McGraw-Hill.        [ Links ]

    Harris, Verne. 1997. Exploring Archives - an introduction to archival ideas and practice in South Africa. Pretoria: National Archives of SA.         [ Links ]

    Henige,David. 1985. Oral Historiography. London: Longman.        [ Links ]

    Hirst, Paul Q. 1986. Marxism and Historical Writing. London: Routledge & Kegan Paul.        [ Links ]

    Huizinga, Johan. 1937. De Wetenschap der Geschiedenis. Haarlem: Tjeenk Willienk.         [ Links ]

    Huussen, Arend H., E. H. Kossmann & H. Renner. 1981. Historici van de Twintigste Eeu. Utrecht: Het Spectrum.        [ Links ]

    Jaspers, Karl.1968. The Origin and Goal of History. Translated by M Bullock. New Haven: Yale.         [ Links ]

    Jenkins, Keith.1995. On What is History? London: Routledge.        [ Links ]

    Liebenberg, B. J. & S. B. Spies (eds). 1993. South Africa in the Twentieth Century. Pretoria: Van Schaik.         [ Links ]

    Marho editors. 1983. Visions of History. Manchester: University Press.        [ Links ]

    Marsak, Leonard M. 1977. The Nature of Historical Inquiry. New York: Holt, Rinehart & Winston.         [ Links ]

    Marwick, Arthur. 1993. The Nature of History. London: Macmillan.        [ Links ]

    Morazé, Charles. 1976. The Logic of History. Translated by W O Clough. The Hague: Mouton.         [ Links ]

    Mouton, F. A .(ed.). 2007. History, Historians and Afrikaner Nationalism. Vanderbijlpark: Kleio.         [ Links ]

    Muller, C. F. J. (red.). 1975. Vyfhonderd Jaar Suid-Afrikaanse Geskiedenis. Kaapstad: Academica.         [ Links ]

    Munslow, Alun. 1997. Deconstructing History. London: Routledge.        [ Links ]

    Nash, Ronald H. 1969. Ideas of History, 2 Vols. New York: Dutton.        [ Links ]

    Nuttall, Sarah & Carli Coetzee (eds). 1998. Negotiating the Past - the making of memory in South Africa. Cape Town: Oxford University Press.         [ Links ]

    Oakeshott, Michael. 1983. On History and other Essays. Oxford: Blackwell.         [ Links ]

    Rüsen, Jörn. 1989. Lebendige Geschichte. Göttingen: Vandenhoek & Ruprecht.        [ Links ]

    Rüsen, Jörn. 1993. Studies inMetahistory. Pretoria: HSRC.        [ Links ]

    Saunders, Christopher & Colin Bundy (eds). 1989. Illustrated History of South Africa - the real story. Cape Town: Reader's Digest Association.        [ Links ]

    Scholtz, G. D. 1970. Die Taak van die Historikus. Johannesburg: RAU-publikasiereeks no. A-27.        [ Links ]

    Shorter, Edward. 1979. The Historian and the Computer - a practical guide. Englewood Cliffs: Prentice-Hall.        [ Links ]

    Smith, Ken. 1988. The Changing Past - trends in South African historical writing. Johannesburg: Southern.        [ Links ]

    Spengler, Oswald. 1959. The Decline of the West. Translation by C F Atkinson. London: Allen & Unwin.         [ Links ]

    Stals, E. L. P. 2009. Mórewind oor die Karasberge - 'n kultuurhistoriese verkenning van die Karasstreek in die laat negentiende eeu. Pretoria: Protea.         [ Links ]

    Stone, Lawrence. 1981. The Past and the Present. Boston: Routledge & Kegan Paul.         [ Links ]

    Topolski, Jerzy. 1976. Methodology of History. Translated by O Wojtasiewicz. Dordrecht: Reidel.         [ Links ]

    Toynbee, Arnold J. 1987. A Study of History. Abridgement in two volumes by D C Somervell. Oxford: University Press.        [ Links ]

    Van Aswegen, Henning J. 1991. Geskiedenis van Suid-Afrika tot 1854. Pretoria: Van Schaik.        [ Links ]

    Van Jaarsveld, F. A. 1980. Westerse Historiografie en Geskiedenisfilosofie. Pretoria: HAUM.         [ Links ]

    Van Jaarsveld, F. A. 1982. Moderne Geskiedskrywing - opstelle oor 'n nuwe benadering tot geskiedenis. Durban: Butterworth.        [ Links ]

    Van Jaarsveld, F. A. 1984. Omstrede Suid-Afrikaanse Verlede - geskiedenisideologie en die historiese skuldvraagstuk. Johannesburg: Lex Patria.        [ Links ]

    Van Jaarsveld, F. A. 1989. Historical Consciousness and the Reinterpretation of History. Kwa-Dlangezwa: Unizul publication no. B-76.        [ Links ]

    Van Jaarsveld, F. A .1992. Afrikaner-geskiedskrywing- verlede, hede en toekoms. Johannesburg : Lex Patria.         [ Links ]

    Van Jaarsveld, F. A. & J. I. Rademeyer. 1973. Teorie enMetodiek vir Geskiedenis-onderrig. Johannesburg: Perskor.        [ Links ]

    Wright, Harrison M. 1980. The Burden of the Present - liberal-radical controversy over Southern African History. Cape Town: David Philip.        [ Links ]

     

     

    JOHAN DE VlLLIERS is sedert 2007 'n Navorsingsgenoot van die Departement Geskiedenis aan die Universiteit van Zoeloeland waar hy langer as twee dekades diens gelewer het as hoogleraar en departementshoof. Hy was ook voorheen verbonde aan die gewese Randse Afrikaanse Universiteit, sowel as die Universiteite van Wes-Kaapland en Stellenbosch. Sy navorsingspublikasies dek veral die breë terrein van krygshistoriese en sosiokul-turele aspekte van die Suid-Afrikaanse geskiedenis.

    Onlangs was hy medewerker aan 'n publikasieprojek van die Geskiedenis-kommissie van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns en dien tans op die bestuur van die WesKaapse Werkgemeenskap van die Akademie. Hy is ook Premiersverteenwoordiger op die Raad van Trustees van die Stellenbosch Museum. Daarbenewens modereer en assesseer hy gereeld nagraadse historiese studies aan verskillende SuidAfrikaanse universiteite.

    JOHAN DE VILLIERS has been a Research Fellow of History at the University of Zululand since 2007. He was professor and head of the Department of Historical Studies at this institution for more than two decades. He previously lectured at the Rand Afrikaans University, as well as at the Universities of the Western Cape and Stellenbosch. His research publications mainly focus on the broad fields of military and socio-cultural aspects of South African history.

    He has recently been involved in a publication and research project of the History Commission of the Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns. He serves on the managing board of the Western Cape branch of the Academy. He also represents the Western Cape Premier on the Board of Trustees of the Stellenbosch Museum. In addition, he regularly moderates post graduate historical studies at different South African universities.

     

     

    1 Sien byvoorbeeld pp. 334-339 van die tweede verkorte weergawe.