SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.52 número2 índice de autoresíndice de materiabúsqueda de artículos
Home Pagelista alfabética de revistas  

Servicios Personalizados

Articulo

Indicadores

    Links relacionados

    • En proceso de indezaciónCitado por Google
    • En proceso de indezaciónSimilares en Google

    Compartir


    Tydskrif vir Geesteswetenskappe

    versión impresa ISSN 0041-4751

    Tydskr. geesteswet. v.52 n.2 Pretoria jun. 2012

     

    Poststrukturalisme en die betekenis van "Tahrirplein" vir politieke subjektiwiteit1

     

    Poststructuralism and the significance of "Tahrir Square" for political subjectivity

     

     

    Bert Olivier

    Departement Joernalistiek, Media en Filosofie,Nelson Mandela Metropolitaanse Universiteit, Port Elizabeth E-pos: bert.olivier@nmmu.ac.za

     

     


    ABSTRACT

    In what way should one comprehend the recent events at Tahrir Square in Egypt, where protesters succeeded in deposing the Egyptian dictator, Hosni Mubarak, in a largely peaceful manner, while militant groups hadfailed to do so before? And what are the political implications of this? Hardt and Negri's work on revolution in Commonwealth provides the first angle of incidence into the problematic raised by these questions, as there would have to be a provisional answer to the question concerning adequate theorization of revolution, to be able to vindicate scrutinizing the revolutionary historical events in question in an intellectually responsible and responsive manner.
    It is argued that these events, as reconstructed largely through journalistic accounts at the time of their unfolding, show a veritable exigency for the process-oriented thought encountered in Deleuze and Guattari's poststructuralist ontology of "desiring machines", "schizophrenic production", "flow", the "body-without-organs" and "process". This, therefore, affords one the second set of theoretical means for articulating the subject of authentically democratic political action. To this may be added Alain Badiou's conception of the subject as "multiply placed" or positioned in space, a poststructuralist approach which is compatible with that of Deleuze and Guattari, while simultaneously amplifying its scope. Badiou's theorization of the political subject along the lines of spatial coordinates has the advantage of allowing one to avoid the "abstract subject", while coming to grips with the spatially situated subject ofpolitical action, as articulated via the "both/and" logic of quasi-transcendental thinking. The latter manifests itself in Badiou's insistence, that it is not sufficient to conceive of the "pure" subject, A, which does not exist as such, but only ever as spatially located, Ap. The fact of the subject being spatially positioned in this relationally unique way is an indication of its concrete singularity, a subject-trait which is comparable with Deleuze and Guattari's notion of the ephemeral subject produced by an ever-changing concatenation of "desiring machines". In addition, Badiou allows one to conceive of "Tahrir Square" as an "event" in the sense of a fundamental modification of the very fabric of social relations, brought into being by a plurality of singular "subjects-in-relation" acting in concert.
    The true test of this approach to the political subject is the fact that the notion of the subject, which emerges from the theorizations of these poststructuralist thinkers, meshes with evidence that the recent Tahrir Square rebellion avoided the trap of hierarchical political thinking and practice through the promotion of political liberation and radical democratization along the avenue of complex, "rhizomatic", non-hierarchical communications and action. In this manner the paralyzing tendency was precluded, of understanding and practising a mode of thinking and action in terms of oppositional, hierarchical, mutually exclusive "us/them" strategies. Poststructuralist theories such as those employed here have the advantage of eschewing transcendentalist thinking (of the "conditions for the possibility of -type"), instead of which an immanentist, quasi-transcendental thinking strategy is followed, where the conditions of both the possibility and the impossibility of events, processes or entities (that is, of these events as well as of their ruin or dissolution) are articulated.
    Seen in this light, it is not difficult to construe the "leaderless", "radically democratic" events at Tahrir Square and in Tunisia as an instantiation ofproductive processes constituted by "multiple flows of democratic desire", concretized as a multi-directionally connected series of "desiringmachines". What animated protesters in these spaces were intermittently reconfiguring, interconnected "desiring-machines", themselves constituted by flows of desire, resistant to the perpetual possibility that an illusory, self-identical "body-without-organs" might obtrude itself in the name of leadership, thus jeopardizing the radical democratic potential of the political subject of becoming, as it emerges from the density of democratic protests, and as adumbrated in Deleuze and Guattari's process-ontology.
    Similarly, these uprisings are easily comprehended as instantiations of Badiou's singular, multiply positioned, plurality of subjects-in-relation who, through the convergence of their action, give rise to what he calls an "event", a happening which fundamentally alters the texture of the discursive constitution of extant society, in this way comprising a "gateway" to unheard-of future possibilities. The article is aimed at outlining the contours of political subjectivity suggested by the preceding considerations with the help of the above-mentioned philosophical perspectives.

    Key words: Badiou, desire, Deleuze, democracy, "desiring machines", Hardt, Guattari, Negri, politics, poststructuralism, process, subject, Tahrir Square


    OPSOMMING

    Hoe moet 'n mens die onlangse gebeure op Tahrirplein, in Egipte verstaan, waar opstandelinge die Egiptiese diktator, Mubarak, se regering op vreedsame wyse suksesvol omvergegooi het, terwyl militante groepe vroeër nie daarin kon slaag nie? En wat is die politieke implikasies hiervan? Hardt en Negri se werk oor rewolusie bied die eerste invalshoek om hierdie vraag te benader. Deleuze en Guattari se poststrukturalistiese ontologie van "begerende masjiene", "skisofreniese produksie", "vloei", die "liggaam-sonder-organe" en "proses", asook Alain Badiou se opvatting van die subjek as "veelvuldig (in die ruimte) geplaas", voorsien 'n mens in die tweede plek van die teoretiese middele om die subjek van eg-demokratiese politieke handeling te artikuleer. Hierdie benadering tot die politieke subjek aan die hand van ruimtelike koördinate het die voordeel dat dit 'n mens in staat stel om die dwaalspoor van die "abstrakte subjek" te vermy, en die ruimtelikgesitueerde subjek van politieke handeling te verstaan. Die toets hiervoor is dat die subjeksbegrip wat hieruit na vore kom, versoenbaar is met getuienis dat die resente Tahrir-Plein opstand die strikval van hiërargiese politieke denke en praktyk vermy het deur politieke bevryding en radikale demokratisering langs die weg van 'n komplekse, "risomatiese", nie-hiërargiese kommunikatiewe en handelingsweg te bevorder. Hierdeur is die verlammende neiging vermy om denke en handeling in terme van opposisionele, wedersyds-eksklusiewe "ons/hulle" strategieë te begryp en te praktiseer.

    Trefwoorde: Badiou, begeerte, "begerende masjiene", Deleuze, demokrasie, Hardt, Guattari, Negri, politiek, poststrukturalisme, proses, subjek, Tahrir-plein


     

     

    1. INLEIDING: TEORIE EN REWOLUSIE: TAHRIRPLEIN

    Uit die staanspoor moet die noodsaaklikheid beklemtoon word om wat in die loop van 2011 in Egipte en Tunisië gebeur het - wat allerweë as "rewolusie" verstaan is - onder die lens van 'n bepaalde begrip van rewolusionêre handeling te plaas. Hiervolgens moet dit nie bloot as 'n intuïtief-waarneembare politiese gebeurtenis verstaan word nie, maar as die funderende materiële gebeure wat 'n mens in staat stel om alle vervreemdende pogings om rewolusie in transendentale beginsels te wortel - byvoorbeeld die Marxistiese beginsel van privaatbesit, wat aan die produksie van mense as handelsware ("commodities") ten grondslag lê (Hardt & Negri 2009:22) - te deurbreek en dit by voorkeur aan die hand van immanente kragte te begryp. Hardt en Negri (2009: 23) noem onder andere vir Horkheimer en Adorno as denkers by wie die wending van die transendentale na die immanente waargeneem kan word, en wel in hul aandrang dat die klassieke Marxistiese begripsmatige onderskeid tussen ekonomiese (infra-)struktuur en bo-struktuur ("superstructure") ongeldig is vir 20ste-eeuse kapitalistiese ontwikkeling. Met ander woorde, ook die bo-struktuur - wat in klassieke Marxisme die ideologiese sfeer beslaan wat onder andere die infra-strukturele, deur materiële produksie bepaalde produksie-verhoudinge regverdig - is materieel, asook ideologies in die materialiteit daarvan. Dit bring volgens Hardt en Negri die "fenomenologisering" van kritiek mee, wat op die kollektiewe dimensie van "liggame" ("bodies") fokus, al is dit by die twee kritiese teoretici dan nog op die "skolastiese" vlak, en nog nie in die gewaad van teoretisering wat midde-in aktivisme of militante handeling gesmee word nie (2009:24). Hulle vind laasgenoemde soort teoretisering in die werk van mense soos Mario Tronti en Cornelius Castoriadis en beskryf dit as volg (Hardt & Negri 2009:24; my vertaling; B.O.):

    Deurslaggewend is die verwikkeldheid van die analise met die worstelinge van die onderworpenes en die wat uitgebuit is, wat beskou word as die matrys van elke institusionele verhouding en elke vorm van sosiale organisasie...rewolusionêre navorsing moet deurentyd die vorms van sosiale beweging volg en opnuut daardeur gedefinieer word.

    Dit is nie moeilik om die gebeure in Egipte en Tunisië met bogenoemde teoretiese invalshoek te verbind nie - indien teorie by die konkrete stryd van beliggaamde subjekte kan leer, is daar myns insiens voldoende aanduidings dat wat in hierdie Arabiese lande gebeur het (en nog steeds besig was om te gebeur in laat 2011) uiters suggestief is vir vrugbare teoretisering oor politieke subjektiwiteit, spesifiek van 'n rewolusionêre aard. Dus: wat is die aard van die sosiale beweging(s) wat hier waarneembaar was/is?2

    "Tahrirplein" is 'n naam wat lank onthou sal word, nie alleen omdat dit die burgerlike ruimte verteenwoordig wat die politieke belangrikheid van die "agora" - die stadsplein wat in die antieke Oudheid die politieke ruimte par excellence was - opnuut uit die vergetelheid tot prominensie geruk het nie. Die tweede, miskien minder opsigtelike rede is dat dit ook in konkrete terme die realiseerbaarheid van 'n tegelyk ou en nuwe soort politieke subjektiwiteit gedemonstreer het -"oud", omdat die openbare burgerlike ruimte tradisioneel die moontlikheid van deelnemende demokratiese politiek geskep het; en "nuut", omdat dit hierdie keer gepaardgegaan het met die uitbreiding van die burgerlike sfeer deur middel van elektroniese kommunikasiemiddele wat, hoewel nie onmisbaar-noodsaaklik daarvoor nie, tog wesenlik bygedra het tot die verstommende "sukses" van die Egiptiese volk se grootliks vreedsame opstand teen die diktator Hosni Mubarak.

    'n Mens moet egter onmiddellik byvoeg dat, veral in die lig van huidige (sedert Augustus 2011) bloedige gebeure in Sirië, hierdie "sukses" ondenkbaar is sonder die stilswyende goedkeuring, of minstens gelate aanvaarding, van die protesbeweging deur die Egiptiese leër. Volgens sommige berigte (byvoorbeeld Thompson 2011) het die Egiptiese leër geweier om in te gryp omdat dit die Egiptiese bevolking, insluitend hul eie familielede, aan geweld sou onderwerp het - iets wat na bewering vir die soldate onaanvaarbaar was, net soos wat dit vroeër in Tunisië die geval was (Walt 2011:17). Daar kan sekerlik reeds hierin iets nuuts opgemerk word, in vergelyking met die soort optrede waaraan Egiptenare gewoond was wat die regering van Mubarak betref, maar dit is waarskynlik nie die mees opvallende aspek van die wyse waarop hierdie "protesbeweging" verloop het nie. Zakaria gee 'n mens 'n leidraad ten opsigte van wat waarlik kwalitatief-nuut was omtrent die populêre opstand in die Midde-Ooste, in die besonder Egipte, waar hy sê (Zakaria 2011: 23; my vertaling):

    Dit is te eenvoudig om te sê dat, wat in Egipte gebeur het, as gevolg van Facebook gebeur het. Maar tegnologie - satelliet-televisie, rekenaars, mobiele telefone en die Internet - het 'n kragtige rol gespeel wat die inligting, opvoeding en verbinding van mense in die streek betref. Sodanige ontwikkelinge bemagtig individue en ontmagtig die staat. Voorheen het inligtingstegnologie diegene in magsposisies bevoordeel, omdat dit "een teenoor menige" was. Dit is waarom rewolusionêres in die 1930s probeer het om radiostasies oor te neem -sodat hulle inligting aan die massas kon uitsaai. Vandag se tegnologieë is almal "menige tot menige", netwerke waardeur almal met mekaar verbind is, maar niemand in beheer is nie. Dit is sleg vir enigeen wat probeer om inligting te onderdruk.

    Die staat kan natuurlik terugveg. Die Egiptiese regering het daarin geslaag om Egiptenare se toegang tot die Internet vir vyf dae op te skort. Met die hoogtepunt van die groen beweging se protes in 2009 het die Iranese regering selfoondienste gestaak.3 Wat Zakaria hier aanraak, is wat Hardt en Negri (2001:299) as die onoplosbare spanning tussen die horisontale as van demokrasie en demokratisering, soos beliggaam in die internet, enersyds, en die vertikale, "oligopolistiese" as van beheer, andersyds, beskryf. Laasgenoemde poging, om beheer uit te oefen oor die wyse waarop mense die middele van elektroniese kommunikasie gebruik, is onder andere in die handelinge van korporasies waarneembaar (byvoorbeeld die "anti-trust" monopolistiese aktiwiteite van Microsoft etlike jare gelede in die VSA), asook dié van state (soos die waarna Zakaria verwys).

    Zakaria argumenteer verder dat dit 'n oorvereenvoudiging sou wees om die sukses van die opstande in Egipte en Tunisië tot dusver aan internet-gebaseerde "sosiale netwerke", of aan enige ander vorm van tegnologie, toe te skryf. Die wil om diktatoriale regerings omver te werp moet in die eerste plek daar wees, ofskoon beweer kan word dat sodanige "wil" minstens gedeeltelik opgeroep kan word deur die besef, grootliks deur elektroniese kommunikasiemiddele teweeggebring en bevorder, dat daar ander, vryer leefwyses bestaan. Dat die rebellie meer om die lyf het as elektroniese kommunikasie, blyk verder daaruit dat, soos Zakaria lesers in dieselfde artikel herinner, al hierdie komunikasiemiddele vir 'n tyd lank deur die Mubarak-regering gemuilband is, in weerwil waarvan die beweging om dit omver te werp, onvertraag momentum opgebou het.

    Desnietemin moet 'n mens toegee dat die kommunikasieruimte wat deur elektroniese kommunikasietegnologieë geskep is, ongetwyfeld 'n groot rol in die onlangse "rewolusies" in Tunisië sowel as Egipte gespeel het. Dit het bowendien noemenswaardig tot die ongewone verskynsel van "leierloosheid" (Walt 2011:14; Ghosh 2011:17) deur middel van die "risomatiese" verspreiding en herverspreiding van anonieme selfoonkommunikasies, asook "Facebook"- en "Twitter"-boodskappe bygedra. Dit is juis hier waar 'n mens voor iets te staan kom wat myns insiens die merkwaardigste aspek van die sogenaamde "Arabiese Lente" verteenwoordig: dit wil voorkom dat juis die "leierloosheid" van hierdie opstande 'n belangrike faktor was in die sukses wat tot dusver behaal is. Kan dit wees dat dit as 'n "politieke simptoom van (radikale) demokrasie" gelees kan word, in die sin dat daar hierin iets van die voorwaardes vir "suksesvolle" demokratisering na vore kom? Maar hoe kan dit die geval wees?

     

    2. PROSES-ONTOLOGIE EN BEGEERTE

    Dink aan die volgende. Die afwesigheid van identifiseerbare "leiers" het meegebring dat die betrokke diktatoriale regerings niemand gehad het waarop hulle kon konsentreer in pogings om met die opstandelinge te onderhandel nie, en dus ook nie iemand wie se gevangenisneming 'n verlammende slag vir die protesteerders sou gewees het nie. In plaas daarvan het die risomatiese kommunikasiepatrone blykbaar gepaardgegaan met wat Deleuze en Guattari (1983:1-8) as die veelvuldige of meervoudige "subjek" voorstel, sonder enige (stabiele of vaste) identiteit. Juis op hierdie punt kom 'n mens voor 'n verstommende struktureel-dinamiese ooreenstemming tussen wat hier bo as kenmerke van die Arabiese "rewolusie(s)" beskryf is, en 'n spesifieke poststrukturalistiese teorie te staan - dermate dat dit mag voorkom asof die teorie in die materialiteit van die rewolusionêre stryd self gesmee is, met ander woorde daaruit gebore is. Dit behoort egter nie so verstommend te wees nie, as in ag geneem word dat Deleuze en Guattari met die studenteopstande van 1968 vetroud was (hul Anti-Oedipus, my vernaamste bron hier, het in die 1970s verskyn), en dit waarskynlik 'n stempel op hul "wordings- of proses-teorie" gelaat het, net soos wat dit by ander poststrukturaliste soos Lacan, Foucault, Kristeva en Derrida die geval is.4

    In Deleuze en Guattari se Anti-Oedipus (Engelse vertaling:1983) word hierdie "subjek" aan die hand van 'n ontologie van prosesmatigheid, "begerende-masjiene", "begerende-produksie", "orgaan-masjiene", "vloei", "skisofrenie" (nie in die kliniese, patologiese sin nie) en die eenheid van mens en natuur getematiseer. Vanweë hierdie buitengewone "metaforika", gedeeltelik organisties-, gedeeltelik meganisties-georiënteer, waarvolgens die wêreld en die "subjek" beskryf word, is Anti-Oedipus (1983) sowel as die tweelingvolume daarvan, A thousand plateaus (1987)

    - wat die subtitel deel, naamlik Capitalism and schizophrenia (Volume 1 en 2) - intellektueelontwrigtend vir die oningewyde. Dit is veral die geval omdat dit van die begin af duidelik is dat Deleuze en Guattari al die begrippe - waarvan sommige hier bo genoem is - wat 'n deurslaggewende rol in hul ontologie speel, op 'n diskursief-bevestigende manier gebruik, met ander woorde op 'n wyse wat geen twyfel omtrent hul eie belange-georiënteerdheid laat nie, vir sover sodanige belange in hul taal-as-diskoers beliggaam word.

    Wat my eie interpretasie van hierdie moeilike tekste betref - hoofsaaklik hier Anti-Oedipus - glo ek dat, soos in alle gevalle van interpretasie, die leser moet toelaat dat die "teks self' 'n interpretatiewe konteks of raamwerk aan die hand doen, wat reeds in die lig van die titel (AntiOedipus) in hierdie geval ongetwyfeld psigo-analitiese denke is. Die lees van die teks bevestig dan ook die aanvanklike interpretatiewe invalshoek, en maak ook onomwonde duidelik dat dit 'n kritiese houding teenoor (Freudiaanse) psigoanalise handhaaf, soos byvoorbeeld uit die volgende stelling blyk: " 'n Skisofreen wat uitgaan vir 'n wandeling is 'n beter model as 'n neurotikus op die analitikus se sofa" (Deleuze & Guattari 1983:2). Wat ook duidelik is, is dat die alternatiewe begrip van die menslike subjek wat hulle voorstel, 'n verpletterende ('n akkurate woord in hierdie geval!) aanval op die gangbare (psigoanalities-geïnspireerde) opvatting van "identiteit" verteenwoordig. Dit kom onder andere in hul vervanging van psigoanalise met "skisoanalise" na vore (Deleuze & Guattari 1983:311).

    In die lig van die omvangryke aard daarvan, sal hier met 'n erg gekondenseerde weergawe van Deleuze en Guattari se proses-ontologie volstaan moet word. Dit is egter myns insiens onontbeerlik vir 'n toereikende verstaan van die nuwe moontlikhede vir demokratiese politiek wat in die "Arabiese Lente" bespeurbaar is. Vir Deleuze en Guattari (in Anti-Oedipus 1983:2) is daar nie so iets soos 'n statiese werklikheid nie. Alles wat bestaan, is voortdurend deel van, en meegevoer deur, 'n "proses" van wording, al is dit weliswaar 'n "vloei" (voortdurende verandering) wat deurspek is met oomblikke van afwisselende "rus" of onderbreking van die immer-voortgaande prosesmatigheid. Maar nie alleen is realiteit allesinsluitend, in die geheel daarvan, 'n volgehoue proses nie, maar het dit bowendien die karakter van 'nproduksieproses. Laasgenoemde neem die vorm aan van sogenaamde "begerende masjiene" wat in alle rigtings volgens die "wet van binariteit" ("twee-heid") aanmekaargekoppel is. Alles wat gewoonweg as diskrete, onderskeibare dinge en voorwerpe beskou word, is niks meer as trosse saamgekoekte begerende masjiene nie - selfs duidelik "identifiseerbare" individue is 'n aaneenskakeling van begerende masjiene: koppe, ore, oë, tonge, neuse, vingers, hande, tone, voete, bene, seksorgane, uitskeidingsorgane, lewers, harte, longe, en so meer. Laasgenoemde liggaamsdele en organe is almal "begerende masjiene" omdat hulle almal die een of ander "produktiewe" funksie het wat daarop gemik is (met ander woorde, wat "begeer") om 'n onderskeibare, nimmereindigende "taak" uit te voer. Dit is om hierdie rede dat Deleuze en Guattari kan beweer dat die skisofreen die "universele produsent" is, waar hulle egter nie die term "skisofreen" in die gewone kliniese of patologiese sin gebruik nie, maar eerder as 'n begrip wat die nie-identiese aard van entiteite wat veronderstel is om in die loop van die een of ander taakverrigting "voortdurend-identies" te bly, aandui. In hierdie sin is iedereen wat ooit by 'n "produktiewe aktiwiteit" of proses betrokke was 'n "skisofreen", en dit sluit alle mense (selfs suigelinge) in, sodra hulle na iets kyk, of aan iets raak, na iets luister of iets drink, om die eenvoudige rede dat niemand 'n geïsoleerde, monolitiese "monade" is nie, maar daarenteen uit veelvuldige "begerende masjiene" (ore, monde, tonge, ens.) opgebou is, waarvan die gekombineerde funksionering eers die sogenaamde "individu" se aktiwiteit waarneembaar maak.

    Op die keper beskou, moedig Deleuze en Guattari ons aan om die diepgesetelde gewoonte, om substansialisties te dink, af te leer, waarvolgens ons optree asof die wêreld waarlik uit onafhanklike, diskrete, onverbonde dinge bestaan wat slegs af en toe op oorsaaklike wyse met mekaar "kontak maak". Op 'n wyse wat sterk aan Spinoza, en meer onlangs Henri Bergson, herinner, moedig hulle ons aan om ons sintuie of waarnemingsvermoë ontvanklik te maak vir die prosesmatigheid van alles wat om ons "gebeur" - waar die werklikheid deurgaans 'n "gebeurteniskarakter" het, en waar voorwerpe en individue bloot die oënskynlike, illusionêre produksies van vloeiinge of strome van begeerte is.

    Maar waarvandaan kom die "normale" indruk, dat die wêreld uit duidelik onderskeibare, afsonderlike voorwerpe bestaan? Volgens Deleuze en Guattari (1983:1-8) se ontologie is veelvuldige "begerende masjiene" op enige gegewe tydstip met mekaar verbind - die hand tel 'n teekoppie op, terwyl die ander hand die piering vashou, die neus ruik die tee se aroma, die oë sien die bruinerige kleur van die tee, terwyl die tong en verhemelte die onmiskenbare tee-smaak proe. Dit geskied alles volgens die wet van binariteit, waarvolgens elke begerende masjien altyd met 'n ander verbind is. Die koppie en piering, asook die tee, is eweseer begerende masjiene as die hand, die oë, mond, lippe, tong en neus - dit is asof eersgenoemde 'n "behoefte" of noodsaak het om met laasgenoemde in verbinding te tree ten einde hul latente "begeerte" of funksie tot vervulling te bring. Sodanige konnektiewe binariteit strek in alle rigtings uit, sodat menigvuldige verbintenisse "risomaties" (soos 'n wortelstok) tussen begerende masjiene uitsprei. Geen begerende masjien is ooit as sodanig geïsoleerd nie. Trouens, 'n mens kan slegs sinvol van "onderskeibare" begerende masjiene praat vir sover hulle binne, of immanent aan, 'n begeerte-gedrewe produksieproses funksioneer - sonder 'n "vloei" van produktiewe begeerte sou geen begerende masjiene waarneembaar wees nie. Daar is eers proses, en daarna onderskeibare "komponente" van die proses. Eintlik kan 'n mens beweer dat die onderskeibare "begerende masjiene" 'n funksie van die begeerte-gedrewe proses is, net soos wat daar volgens "veldteorie" (in die fisika) eers van onderskeibare voorwerpe gepraat kan word in die konteks van 'n "veld" van energie (Shlain 1991:248-249). (Indien dit vergesog klink, dink daaraan dat, analoog hiermee, die betekenis van individuele woorde volgens die diakritiese taalmodel van Ferdinand de Saussure 'n funksie van die verskille tussen al die woorde in die taalsisteem is - "op sigself" het 'n woord geen "positiewe" betekenis nie; betekenis is 'n funksie van sistematiese verskille.)5

    Weereens: waarom ervaar 'n mens dinge as afsonderlik-bestaande, indien dit wel die geval is dat alles in die eerste plek ingevoeg is in 'n allesomvattende prosesmatige gebeure? Vir Deleuze en Guattari word ons met die illusie van alleenstaande, self-identiese dinge gekonfronteer wanneer 'n derde "gebeurtenis" die onophoudelike vorming van binêre verbintenisse onderbreek. Met tussenposes word die vloei van begeerte, wat vanuit begerende masjiene voortkom, kortstondigmomenteel onderbreek deur soortgelyke begeerte-vloei vanuit ander begerende masjiene, wat moontlik orgaan-masjiene kon wees - soos wanneer die oog aangetrek word deur 'n mooi vrou wat verbystap, en die teedrinkery tydelik ophou. Op hierdie oomblik, wanneer alles momenteel tot stilstand kom voordat die proses weer voortgaan, word iets wat die voorkoms van "identiteit" het, geproduseer. Dit is 'n ongedifferensieerde ding wat oënskynlik onveranderd bly deur die tyd. Dit is wat Deleuze en Guattari (1983:7-8) die "liggaam sonder organe" noem, en ofskoon dit "geproduseer" word, is dit self geheel en al onproduktief.

    Indien dit kripties voorkom, moet 'n mens onthou dat daar by Lacan 'n soortgelyke opvatting aangetref word, dat menslike subjektiwiteit te ingewikkeld is om as "een ding" begryp te word. In plaas daarvan beweer hy dat dit op kompleks-geartikuleerde wyse "gestrek" is tussen drie verskillende registers, naamlik die "reële", die imaginêre en die simboliese (Lee 1990:82). In die lig hiervan kan 'n mens Deleuze en Guattari se verwoestende aanval op "identiteit" verstaan as 'n aanduiding dat dit vir hulle 'n volkome nuttelose begrip is, aangesien "identiteit" - of die "liggaam sonder organe" nie as 'n begerende masjien kan funksioneer nie. Alleenlik kombinasies van begerende masjiene is in staat om die vloei van produksie, of van energie, aan die gang te hou. Daarom is alles wat normaalweg aan die hand van die kategorie van identiteit verstaan word - ek, jy, hy, sy, dit, hierdie ding - onvermydelik samevoegings van "begerende masjiene", maar sonder om aan die inherente dinamika van laasgenoemde reg te laat geskied.

    'n Mens moet byvoeg dat die indruk hier geskep mag word (soos 'n skerpsinnige leser van 'n vorige weergawe van hierdie artikel tereg opgemerk het) dat Deleuze en Guattari "anti-transendentalisties" dink, en tog ook heimlik 'n transendentale denkwyse benut. Met ander woorde, dit kom voor of hulle alle "voorwaardes-vir-die-moontlikheid-van" die immanentistiese wêreld, soos dit in hul wordingsontologie voorgestel word, van die hand wys, maar terselfdertyd tog die voorwaardemoontlikhede van 'n illusionêre self-identiese entiteit (die "liggaam-sonder-organe") artikuleer - 'n denkwyse wat tegelykertyd 'n soort subjek-identiteit impliseer en negeer. Hierdie denkwyse, wat eie is aan die poststrukturalisme, word tereg "kwasi-transendentaal" genoem, aangesien dit in dieselfde asem die voorwaardes vir die moontlikheid, asook die onmoontlikheid, van dinge en gebeure - met ander woorde, van sodanige dinge asook van hul ruïnering - artikuleer (Bennington 1993:276-277). (Soos later gesien sal word, geld dit ook vir Badiou se poststrukturalistiese logika.)

     

    3. PROSES-ONTOLOGIE EN "LEIERLOSE DEMOKRASIE"

    Om terug te keer na die gebeure op Tahrirplein: hoe moet 'n mens dit aan die hand van Deleuze en Guattari se proses-ontologie begryp? En wat kan ons hoegenaamd hieruit leer wat demokrasie betref? Eerstens is dit opvallend dat die "leierloosheid" van die Egiptiese opstand, waarvolgens individue in steeds-wisselende groepe en formasies opgetree het om hul boodskap van verset teen die Mubarak-heerskappy oor te dra, sig daartoe leen om aan die hand van hierdie proses-ontologie begryp te word. Dat daar sprake was van 'n wydverspreide kollektiewe (en individuele) "begeerte" na demokratiese politieke verandering, ly geen twyfel nie, en daarom is dit maklik om al die protesteerders as "begerende masjiene" te sien, wat telkens volgens die wet van binariteit, hulself twee-twee "aanmekaargekoppel" het, hulself telkens weer losgemaak het van die groeperings waarin hul hulself bevind het, om net weereens by soortgelyke, maar verskillende, groeperinge aan te sluit.

    Die belangrike punt wat Deleuze en Guattari 'n mens in staat stel om te begryp, is dat, ofskoon individuele identiteit as die "liggaam sonder organe" sekerlik nog in al hierdie politieke aktiwiteite 'n rol speel, die besondere identiteite van die protesteerders minder belangrik was in die proses as die "kombinasies" van individue-as-begerende-masjiene. Anders gestel: die indruk word deur die berigte oor die opstand geskep dat dit inderdaad die proses van protes was wat van die allergrootste belang was, en nie die bydrae wat die een of ander identifiseerbare individu in leierskaphoedanigheid daartoe gemaak het nie.6 Hieruit kan daar belangrike lesse geleer word omtrent die aard van demokrasie, naamlik dat wat Hardt en Negri (2005:237) onder demokrasie verstaan - paradoksaal geformuleer as "die regering van die mense deur die mense" ("the rule of the people by the people") - verstaan kan word in terme van die demokratiese proses van die optimalisering van risoom-agtige verbintenisse tussen identiteit-negerende individue wat saamgesnoer word deur die vloei van "demokratiese begeerte". Laasgenoemde kom neer op die "begeerte" om mense se "selfregering" op so 'n wyse te aktualiseer dat die onproduktiewe "liggaam sonder organe" (veral dan in die gewaad van die identiteit van die despoot) nie die produktiewe proses van demokratiese regering ondermyn nie. Hierdie interpretasie is verder versoenbaar met Alain Badiou se subjeksbegrip in terme van ruimtelike "plasing" of posisionering.

     

    4. RUIMTELIKE "PLASING" EN DIE "GEBEURTENIS"

    Badiou bied aan 'n mens die filosofies-teoretiese middele om nie alleen die onreduseerbare uniekheid van elke subjek te begryp nie, maar, voortvloeiend hieruit, ook die geleentheid om die onherhaalbare uniekheid van kombinasies van individuele subjekte - soos wat dit in die Arabiese opstande volgens beskikbare inligting op steeds-wisselende wyse gebeur het - te artikuleer. Die subjek, volgens Badiou (2009), is op veelvuldige wyse aan "plek" gekoppel, of daarby "ingebed". In kontras met sommige ander poststrukturalistiese denkers (soos Foucault en Lacan), wat die gedesentreerde subjek aan die hand van die konvergensie van veelvuldige (somtyds kontradiktoriese) diskoerse verstaan, is sy benadering ruimtelik georiënteer.

    Badiou praat van die veelvuldige posisionerings of plasinge ("emplacements") waaraan elke subjek onvermydelik onderworpe is, en waarbinne 'n mens tot "subjek word". "Wat is die betekenis van die iets-in-sigself en die iets-vir-die-ander?" vra hy (Badiou 2009:6; my vertaling; B.O.), en vervolg: "Suiwer identiteit en geplaasde identiteit; die letter en die ruimte waarin dit gemerk is; teorie en praktyk". Uit wat hy verder sê, is dit duidelik dat, ofskoon hy van "suiwer identiteit" praat, dit inderdaad bloot 'n teoretiese taalspel is, aangesien suiwer identiteit (wat hy algebraïes as A aandui) nie onafhanklik van plek of ruimte kan bestaan nie (Ap). Paradoksaal is dit nooit slegs sigself nie, of soos Badiou dit stel (2009:6; my vertaling; B.O.): "...dit is altyd op hierdie wyse dat A sigself aanbied of presenteer (dit is altyd geplaas) en sigself weier (omdat, as ruimtelik geplaas, dit nooit net sigself, A, is nie, maar daarby ook die plek daarvan, met ander woorde geplaas, Ap)". Hier word 'n mens weereens onmiskenbaar met die paradoksale "X sowel as Y"-logika van kwasi-transendentale denke gekonfronteer.

    In weerwil van Deleuze en Guattari se renons in identiteit (omdat dit volgens hulle die produksieproses van begeerte sou kortwiek) kom die versoenbaarheid tussen hierdie posisie van Badiou en hul proses-ontologie in sig wanneer 'n mens agterkom dat 'n individuele subjek volgens Badiou (2009:6) 'n identiteit (in die sin van 'n stel van vasgestelde, beperkte, maar herkenbare plasinge) kan verower. Desnietemin is daar volgens hom (2009:6) 'n oneindige aantal plekke waarmee subjekte in verhouding gekonstitueer word. Enige persoon wat dus meen dat sy of hy oor 'n vryswewende, dog intrinsieke identiteit beskik wat as sodanig onveranderd van die een plek na die ander kan beweeg, verkeer onder 'n illusie. Selfs al sou 'n subjek op ideologiese wyse aan hierdie waanbeeld vasklou, kan niemand aan 'n subjek-konstitutiewe splitsing ontsnap nie. Badiou stel dit as volg voor (2009:6): "A = (A Ap)". Met ander woorde, wat die subjek wesenlik is, kan nie aan die onvermydelikheid van ruimtelike (of, volgens Badiou, tydelike, en selfs fiktiewe) plasing ontkom nie, sodat hy dit ook as 'n soort "duplisering" van die subjek verstaan (2009:6). Ook op hierdie punt van veelvuldige subjekposisies sluit sy subjek-interpretasie by dié van Deleuze en Guattari aan, ofskoon die subjek by hulle feitlik as 'n funksie van meervoudige prosesmatige verhoudinge begryp kan word, terwyl Badiou se oorwegend-ruimtelike subjekmodel aan die hand van 'n bepaalde "plek", of liewer, potensieel oneindige "plekke" geartikuleer word.

    Dit volg hieruit dat menslike subjekte nooit noodwendig die gevangenes van die sosiale of politieke status quo hoef te wees nie, en dat hulle op kreatiewe wyse hul ruimtelike "plasinge" kan verskuif en vermeerder, om sodoende nuwe geleenthede en kontekste te skep vir sosiale en politieke handeling. Elke nuwe posisionering is, in terme van wat hier bo aangedui is, 'n hernude subjek-konstituerende moment, en wanneer 'n pluraliteit van subjekte hulself so posisioneer dat hulle veelvuldige posisies in 'n bepaalde ruimte en tyd oorvleuel, word die gronde gelê vir onherhaalbaar nuwe, singuliere kommunikasie en handeling (wat eintlik in Hannah Arendt se kategorie van "handeling" tuishoort, waar taal en politieke handeling onafskeibaar met mekaar versmelt is; Arendt 1958: 5, 7-11, 16).

    Waar 'n pluraliteit van subjekte - "subjekte-in-relasie" - op veelvuldige, maar konvergerende wyse ruimtelik geplaas is, word volgens Badiou die moontlikheid van 'n "gebeurtenis" ("event") geskep. Dit rym volkome met sy filosofie, wat volgens Hallward (2002:viii) daarop gerig is om deurentyd die potensiaal vir radikale transformasie, vernuwing en rewolusie in elke moontlike situasie bloot te lê. "Gebeurtenisse" is dus die knooppunte waar, aan die hand van handeling wat deur 'n pluraliteit van subjekte-in-relasie gegenereer word, die tekstuur van die samelewing - soos waarneembaar in kennisvorme, diskoerse, opvattings van rasionaliteit en die magsverhoudinge wat daarin gefundeer is - fundamentele veranderinge ondergaan. As sodanig is 'n "gebeurtenis" dus die opening of poort na 'n toekomstige moontlikheid, of wat Heidegger (1978: 375-378) die "nog-nie" ek-stase van toekomstigheid noem, en is dit onmoontlik om dit na die reeds-bekende te reduseer. Vanweë die onreduseerbaarheid daarvan, is dit transformatief en onweerstaanbaargebiedend ten opsigte van 'n nuwe bestaans- of synswyse. In Badiou se woorde (2002:41; my vertaling; B.O.): "...die gebeurtenis...gebied ons om [op] 'n nuwe wyse van bestaan te besluit" ("...the event...compels us to decide a new way of being"). Kenmerkend hiervan is dat 'n mens in die lig van die "gebeurtenis" nooit weer na die wêreld op dieselfde wyse as voorheen kan kyk nie - die "situasie" moet voortaan volgens die logika van die "gebeurtenis" "gedink word" (Badiou 2002:41). Na die Franse rewolusie van 1789-1792, of die Kulturele Rewolusie in China, kon politiek volgens Badiou (2002:41-42) nooit weer presies soos voorheen gepraktiseer word nie. Dit kom neer op 'n "waarheid", of "...die werklike proses van 'n getrouheid aan 'n gebeurtenis: dit wat hierdie getrouheid in die situasieproduseer" ("...a truth...the real process of a fidelity to an event: that which this fidelity produces in the situation"; Badiou 2002:42).

     

    5. RUIMTELIKE "PLASING", DIE "GEBEURTENIS", TAHRIRPLEIN EN DEMOKRASIE

    Dit behoort nie moeilik te wees om die gebeure in Tunisië en in Egipte op Tahrirplein vroeg in 2011 aan die hand van Badiou se filosofie van die singulier-ruimtelike "plasing" van subjekte, asook die verhouding tussen 'n veelvuldigheid van subjekte - subjekte-in-relasie - en wat hy die "gebeurtenis" noem, te verstaan nie. Ek het reeds vroeër kortliks op die versoenbaarheid tussen Deleuze en Guattari se proses-ontologie van "begerende-masjiene" (as konstitutief vir subjekte), enersyds, en Badiou se filosofie van ruimtelik-singuliere subjekte, in relasie tot die histories-transformerende "gebeurtenis", andersyds, gewys. Volgens my oordeel bied hierdie twee hoogsoorspronklike filosofies-teoretiese begripskomplekse 'n uiters-verhelderende perspektief op bogenoemde gebeure. Soos geargumenteer kan die steeds-wisselende, leierlose struktuur van die opstandelinge, wat klaarblyklik deur die begeerte tot radikale politieke transformasie gemotiveer en saamgesnoer is, in terme van die produksieproses van begerende masjiene (wat die teendeel is van die "liggaam-sonder-organe", oftewel ideologies-gefikseerde identiteit) geartikuleer word.

    Bowendien word hierdie begrip van nog meer fokuskrag voorsien deur Badiou, wat 'n mens in staat stel om die relevante politieke gebeure as 'n egte "gebeurtenis" te sien, wat deur die gesamentlike handeling van uniek-geplaasde, veelvuldige subjekte teweeggebring is, en as onreduseerbare gebeure 'n transformatiewe uitwerking het op die sfeer van politiek.7 Voortaan sal aan die politiek in Egipte - trouens, dwarsoor die wêreld - nooit weer op dieselfde wyse as vroeër gedink word nie, en die politieke praktyk word eweneens grondig daardeur verander. Die "waarheid" van wat metonimies deur Tahrirplein verteenwoordig word, is die "getrouheid" daarvan wat prosesmatig in die politieke situasie "geproduseer" is, en word - die feit dat niemand sedertdien kan optree asof so iets nooit gebeur het nie. (Die feit dat mense in ander Arabiese lande sedert die gebeure in Tunisië en Egipte vroeg in 2011 in die loop van die j aar eweneens in opstand gekom het teen hul nasionale owerhede, met wisselende grade van sukses, asook die ontstaan en globale verspreiding van die "Occupy Wall Street"-beweging, bevestig hierdie insig by Badiou. Selfs hier te lande was daar by geleentheid verwysings na Tahrirplein as 'n soort normatiewe ideaal van politieke protes.)

     

    6. AFSLUITING

    Afsluitend kan, in die lig van die aanvanklike verwysing na Hardt en Negri se karakterisering van teoretisering wat in die smeltkroes van rewolusionêre handeling gebore word, beweer word dat, wanneer die politieke gebeure in die genoemde Arabiese lande in oënskou geneem word, naas die twee filosofies-teoretiese begripsraamwerke wat bespreek is, daar feitlik 'n wedersydse "behoefte" ("exigency") van die een vir die ander bespeur kan word. Vanuit die oogpunt van die politieke gebeure - soos vroeër gerekonstrueer - word daar "gevra" vir teorieë soos dié van Deleuze/Guattari en Badiou, en omgekeerd, vanuit die perspektief van die twee teorieë, kan die gebeure waarvan Tahrirplein metonimies is, sonder moeite voorgestel word. Indien Badiou ernstig opgeneem word, sal dit inderdaad geensins verrassend wees indien politieke ontwikkelinge in die (veral onmiddellike) toekoms ooreenkomstig die "waarheid" van Tahrirplein in die vorm van 'n sekere "getrouheid" daaraan "geproduseer" word nie.

     

    BIBLIOGRAFIE

    Abouzeid, R. 2011. Postcard: Sidi Bouzid. TIME, 7 February, p. 2.        [ Links ]

    Arendt, H. 1958. The human condition. Chicago: The University of Chicago Press.        [ Links ]

    Badiou, A. 2002. Ethics. An essay on the understanding of evil. Vert. P. Hallward. London: Verso.        [ Links ]

    Badiou, A. 2009. Theory of the Subject. Vert. Bosteels, B. London: Continuum.        [ Links ]

    Bennington, G. 1993. Derridabase. In: Derrida, J., & Bennington, G. Jacques Derrida. Vert. Bennington, G. Chicago: The University of Chicago Press.        [ Links ]

    Deleuze, G & Guattari, F. 1983. Anti-Oedipus. Capitalism and schizophrenia (Vol. 1). Vert. Hurley, R., Seem, M., & Lane, H.R. Minneapolis: University of Minnesota Press.         [ Links ]

    Deleuze & Guattari. 1987. A thousand plateaus. Capitalism and schizophrenia (Vol. 2). Vert. Massumi, B. Minneapolis: University of Minnesota Press.         [ Links ]

    ElBaradei, M. 2011. Wael Ghonim. He helped the Egyptian people realize their power. TIME, 2 May, pp. 22-23.        [ Links ]

    Elliot, M. 2011. Learn to love the revolution. TIME, 7 March, pp. 20-25.        [ Links ]

    Feenberg, A. 2004. Looking backward, looking forward. In: Tabachnick, D. & Koivukoski, T. (eds).Globalization, technology and philosophy. Albany: State University of New York Press, pp. 93-105.         [ Links ]

    Ghosh, B. 2011. Revolution, delayed. TIME, 21 February, pp. 12-18.         [ Links ]

    Ghosh, B. 2011a. Rage, rap and revolution. TIME, 28 February, pp. 24-29.         [ Links ]

    Ghosh, B. 2011b. The revolutionaries. TIME, 14 February, pp.26-31.        [ Links ]

    Hallward, P. 2002. Translator's introduction. In: Badiou, A. Ethics. An essay on the understanding of evil.London: Verso, pp. vii-xlvii.         [ Links ]

    Hardt, M., & Negri, A. 2001. Empire. Cambridge, Mass.: Harvard University Press.        [ Links ]

    Hardt, M., & Negri, A. 2005. Multitude. War and democracy in the age of Empire. New York: Penguin Books.        [ Links ]

    Hardt, M. & Negri, A. 2009. Commonwealth. Cambridge, Mass.: The Belknap Press of Harvard University Press.        [ Links ]

    Hauslohner, A. 2011. On the Arab street, rage is contagious. TIME, 7 February, pp. 24-27.        [ Links ]

    Hauslohner, A. 2011. Democracy, Egyptian style. TIME, 18 April, pp.20-23.        [ Links ]

    Heidegger, M. 1978. Being and time. Vert. Macquarrie, J., Robinson, E. Oxford: Basil Blackwell.        [ Links ]

    Klein, J. 2011. Cairo's unsettling Spring. TIME, 18 April, p. 19.        [ Links ]

    Klein, J. 2011. Palestinian people power. TIME, 11 April, pp. 20-21.        [ Links ]

    Lee, J.S. 1990. Jacques Lacan. Amherst: The University of Massachusetts Press.        [ Links ]

    Olivier, B. 2009. Philosophy and Psychoanalytic theory. Collected essays. London & Frankfurt: Peter Lang Academic Publishers.        [ Links ]

    Olivier, B. 2009a Philosophy and Communication. Collected essays. London & Frankfurt: Peter Lang Academic Publishers.        [ Links ]

    Olivier, B. 2009b. Philosophy and the Arts. Collected essays. London & Frankfurt: Peter Lang Academic Publishers.        [ Links ]

    Olivier, B. 2009c. The contemporary context of relativity and relativism. In: Philosophy and Psychoanalytic theory. Collected essays. London & Frankfurt: Peter Lang Academic Publishers, pp. 91-122.        [ Links ]

    Olivier, B. 2011. The subject: Deleuze/Guattari or Lacan? Forthcoming, Janus Head (American Journal of Interdisciplinary Studies in Literature, Continental Philosophy, Phenomenological Psychology and the Arts).        [ Links ]

    Shlain, L. 1991. Art & physics. Parallel visions in space, time and light. New York: Perennial, Harper Collins.        [ Links ]

    Thompson, M. 2011. Strong and silent. TIME, 14 February, pp. 24-25.        [ Links ]

    Walt, V. 2011. Tunisia's nervous neighbours watch the Jasmine Revolution. TIME, 31 January, pp. 12-17.        [ Links ]

    Zakaria, F. 2011. The revolution. TIME, 14 February, pp. 16-24.        [ Links ]

    Zakaria, F. 2011. Why it's different this time. TIME, 28 February, pp. 22-23.        [ Links ]

     

     

    BERT OLIVIER is professor in filosofie aan die Nelson Mandela Metropolitaanse Universiteit (vroeër UPE) in Port Elizabeth, Suid-Afrika. Hy is die houer van 'n MA en 'n DPhil. in filosofie, en was by verskeie geleenthede 'n post-doktorale genoot aan Yale Universiteit in die VSA, asook 'n navorsingsgenoot aan die Universiteit van Wallis in Cardiff. By NMMU is hy verantwoordelik vir die onderrig van verskeie subdissiplines van filosofie, sowel as filmstudie, media- en argitektuurteorie, asook psigoanalitiese teorie. Sy publikasies strek oor 'n wye spektrum, insluitend kultuurfilosofie, filosofie van kuns, film, musiek, letterkunde en argitektuur, asook wetenskapsfilosofie, epistemologie, psigoanalitiese, sosiale, media- en diskoersteorie. In 2004 was hy die ontvanger van die Stalsprys vir Filosofie, toegeken deur die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, en in 2005 het hy die toekenning van Topnavorser aan UPE (later NMMU) vir die periode 1999 tot 2004 ontvang. In 2006, 2008, 2009, 2010 en 2011 is die toekenning van Navorser van die Jaar in die Fakulteit Lettere by NMMU aan hom toegeken, en in 2008 sowel as 2009 is hy ook aangewys as NMMU se Topnavorser.

    BERT OLIVIER is Professor of Philosophy at the Nelson Mandela Metropolitan University in Port Elizabeth, South Africa. He holds an MA and DPhil in Philosophy, has held Postdoctoral Fellowships in Philosophy at Yale University in the USA on more than one occasion, and has held a Research Fellowship at The University of Wales, Cardiff. At NMMU he teaches various sub-disciplines of philosophy, as well as film studies, media and architectural theory, and psychoanalytic theory. He has published widely in the philosophy of culture, of art and architecture, of cinema, music and literature, as well as the philosophy of science, epistemology, psychoanalytic, social, media and discourse-theory. In 2004 he was awarded the Stals Prize for Philosophy by the South African Academy for Arts and Sciences, in 2005 he received the award of Top Researcher at UPE (now NMMU) for the period 1999 to 2004, and in 2006, 2008, 2009, 2010 and 2011 he received the award for Faculty Researcher of the Year in the NMMU Faculty of Arts. In 2008 and 2009 he was also named Top Researcher at NMMU.

     

     

    1 Skrywer van hierdie artikel spreek graag sy dank uit teenoor die NRF vir befondsing wat daartoe bygedra het dat die nodige navorsing daarvoor uitgevoer kon word.
    2 'n Mens is tans (April 2012) genoop, in die lig van meer onlangse gebeure in Egipte - insluitend sogenaamde "demokratiese" verkiesings volgens die model van "representasionele demokrasie" - om te erken dat die radikale demokratiese struktuur en dinamiek van gebeure aan die begin van 2011, wat ongelooflike potensiaal (gehad) het vir die her-konsipiëring van demokrasie in radikale gewaad, soos in hierdie artikel beredeneer, in hoofsaak nie gerealiseer is nie. Myns insiens is dit die gevolg van wat Derrida waarskynlik die globale "pre-programmering" van institusionele politieke gebeure volgens dominante diskoerse sou noem (wat demokrasie alleenlik maar in myns insiens uitgediende "representasionele" terme verstaan). Of die uiters radikale demokratiese potensiaal wat, soos ek hier argumenteer, in vroeg-2011 in Tunisië en Egipte gedeeltelik geaktualiseer is, uiteindelik op meer deurslaggewende wyse na vore sou (kon) kom, is onmoontlik om te voorspel, maar in die lig van wat Badiou "die gebeurtenis" noem - soos hier verduidelik - bly dit altyd 'n moontlikheid.
    3 Dit is verhelderend om kennis te neem van Andrew Feenberg (2004:104) se opmerking dat voorstanders van pessimistiese, distopiese visies van menslike ondergang vanweë tegnologiese ontwikkeling nie kon voorsien dat, wanneer die mens eers "in die masjien is", hulle hul "nuutgevonde kragte sou aanwend om die sisteem wat hulle domineer te verander" nie. Hierin sien hy die belofte van 'n nuwe "politiek van tegnologie". Is dit nie juis wat 'n mens in die rol van elektroniese kommunikasietegnologie gedurende hierdie Arabiese opstande waarneem nie?
    4 Kyk Olivier (2009), (2009a), (2009b) en (2011), waar daar uit verskillende perspektiewe aan hierdie aspek van poststrukturalistiese denke aandag gegee word.
    5 Vir meer hieroor, sien Olivier (2009c).
    6 Hiermee wil ek nie ontken dat verskeie individue in die media uitgesonder is as mense wat noemenswaardig tot die inisiëring van die proteste in Tunisië en Egipte bygedra het nie (sien byvoorbeeld Ghosh 2011b:29, waar na aktivis Shadi Taha se rol in die protes verwys word), wat enersyds verstaan kan word as uitdrukking van die tipiese benadering tot politiek, wat steeds op individue fokus in wie mag veronderstel is om gekonsentreer te wees, en andersyds as aanduiding dat, ongeag die klemverskuiwing van identiteit na proses, identifiseerbare individue nooit volkome van die toneel verwyder kan word nie - soos Deleuze en Guattari se opvatting van die verskyning van identiteit as "derde" moment in die prosesmatige "vloei van begeerte" dan ook bevestig. Dit is wat hul prosesmodel poststrukturalisties maak: daar is proses sowel as identiteit, ofskoon laasgenoemde as iets onproduktiefs gesien word.
    7 Daar is vele individue wat aan die Arabiese protesbeweging deelgeneem het, wie se lewens en handelinge (wat in sommige gevalle tot hul dood gelei het) paradigmaties is van wat Badiou bedoel wanneer hy die menslike subjek se singulariteit in terme van die ruimtelike metafoor van "geplaasdheid" of "posisionering" artikuleer. Mohammed Bouazizi (Abouzeid 2011:2; Walt 2011:14) en Wael Ghonim (ElBaradei 2011; Ghosh 2011:17) is twee sodanige persone - hul besondere, unieke "posisionering" tydens die aanvanklike stadia van die opstand het hulle letterlik in die posisie geplaas om te kan optree soos hulle inderdaad opgetree het, en die vryheidsbevorderende gevolge van hul rewolusionêre handelinge te dra.