SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.52 número1Kolonie aan die Kaap; Jan van Riebeeck en die vestiging van die eerste blankes, 1652-1662, deur Karel Schoeman índice de autoresíndice de materiabúsqueda de artículos
Home Pagelista alfabética de revistas  

Servicios Personalizados

Articulo

Indicadores

    Links relacionados

    • En proceso de indezaciónCitado por Google
    • En proceso de indezaciónSimilares en Google

    Bookmark

    Tydskrif vir Geesteswetenskappe

    versión impresa ISSN 0041-4751

    Tydskr. geesteswet. v.52 n.1 Pretoria mar. 2012

     

    BOEKBESPREKINGS BOOK REVIEWS

     

    Prophet without honour; F.S. Malan: Afrikaner, South African and Cape liberal, deur F.A. Mouton, 2011.

     

     

    Uitgegee deur Protea Boekhuis, Pretoria.
    184 bladsye.
    ISBN 978-1-86919-414-7
    Prys: R180.

    Prophet without honour is die derde biografiese werk van Alex Mouton, professor in Geskiedenis aan die Universiteit van Suid-Afrika. Hy het, benewens ander historiese studies, in 1997 'n dubbelbiografie oor die politici William en Margaret Ballinger en in 2002 'n boek oor die joernalis en politieke meningsvormer Schalk Pienaar die lig laat sien. In sy voorwoord verklaar Mouton dat hy nie 'n gedetailleerde oorsig van alle aspekte van F.S. Malan (1871-1941) se lewe en werk probeer gee nie, maar 'n beeld wil verskaf waarin sy persoonlikheid en die kernaspekte van sy loopbaan na vore kom, naamlik "his liberalism, religious beliefs and progressive theological views, his Afrikaner nationalism and desire to create a South African nation by reconciling Afrikaners and English-speakers, as well as his anti-capitalist views". Uitgebreide biografiese werke word tans nog dikwels geskryf, ook in Afrikaans. J.C. Kannnemeyer het in die afgelope jare ses biografieë van skrywers die lig laat sien wat elk tussen 500 en 750 bladsye beslaan, terwyl 'n boek van meer as 'n duisend bladsye oor die politikus Pik Botha in 2010 verskyn het. Dit dui daarop dat daar in Suid-Afrika nog 'n lesersmark vir omvangryke biografieë bestaan. Daar is waarskynlik tog heelwat mense wat nie 'n boek van ses- of sewehonderd bladsye sal aandurf nie, maar wel 'n beknopter werk sal lees. Verder kom in 'n baie uitgebreide beskrywing die hooflyne soms nie duidelik na vore te midde van al die besonderhede nie. Mouton het goed daarin geslaag om die kernelemente van Malan se loopbaan en ook sy politieke beskouinge saam te vat, hoewel lesers soms tog meer gegewens sou wou hê. Oor Malan se bydrae op kultuurgebied - hy was onder meer vir twee termyne voorsitter van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns - word daar byvoorbeeld min meegedeel. Daar is dus nog ruimte vir verdere navorsing en publikasies oor Malan se beskouinge en werksaamhede. F.S. Malan kan egter nie as 'n baie vername figuur in die Suid-Afrikaanse politieke geskiedenis beskou word nie, en Mouton se biografie sal waarskynlik nog lank die standaardwerk oor hom bly.

    Malan se dogter, Bettie Cloete, het reeds in 1946 'n biografie van haar vader die lig laat sien, maar, soos dikwels die geval is wanneer iemand se lewe deur 'n familielid of vriend beskryf is, is dit nie 'n baie objektiewe en wetenskaplike studie nie. Mouton het deeglike argiefnavorsing gedoen en onder meer dokumenteversamelings van tydgenote met wie Malan in aanraking gekom het, soos Alfred Milner en Herbert Gladstone (eerste goewerneur-generaal van die Unie van Suid-Afrika), geraadpleeg. Hy verklaar in die voorwoord dat sy bewondering vir Malan, wat hom in die eerste plek laat besluit het om die biografie aan te pak, in die loop van sy navorsingswerk nog groter geword het. Tog behou hy deurgaans die nodige afstand tot sy onderwerp en skroom hy nie om die gebreke in Malan se persoonlikheid uit te wys en sy optrede waar nodig te kritiseer nie.

    Malan het reeds op 24-jarige leeftyd redakteur van Ons Land, mondstuk van die Afrikaner-bond, geword en hom in sy koerantartikels as Afrikanernasionalis geopenbaar. Tydens die Anglo-Boereoorlog het daar in die koerant 'n brief met lasterlike aantygings teen een van die Britse bevelvoerders in die oorlog verskyn en Malan is in die Kaapse Hooggeregshof tot 'n jaar tronkstraf veroordeel. Hy is eers kort voor die einde van die oorlog vrygelaat. Hy het sy werk as redakteur hervat, en, terwyl die leier van die Afrikanerbond, J.H. Hofmeyr, weens siekte nie meer baie aktief in die politieke lewe was nie, het Malan die eintlike leier van die Bond geword. Na die verkiesing van 1908 was die Afrikanerbond die vernaamste politieke groepering in die Kaapkolonie en is Malan deur baie as die magtigste politieke figuur in die kolonie beskou. In die parlement het die Bond ingeskakel by die Suid-Afrikaanse Party (SAP), waarvan J.X. Merriman die leier was. Malan was self ten gunste daarvan dat Merriman premier word en het in sy kabinet as minister van landbou gedien. In die aanloop tot uniewording het sommige politieke meningsvormers voorspel dat Malan die eerste premier van die Unie van Suid-Afrika sou word (p.82). Dit was egter generaal Louis Botha wat in 1910 eerste minister van die verenigde Suid-Afrika geword het met Malan as minister van onderwys en later ook minister van mynwese en nywerhede. Hy was tot die SAP se verkiesingsnederlaag in 1924 een van die belangrikste figure in die kabinet en het verskeie kere as eerste minister waargeneem. Mouton toon aan dat Malan se politieke posisie in hierdie jare tog verswak het. Hy dui verskeie faktore aan wat hierin 'n rol gespeel het, onder meer sy weifelende optrede tydens die mynwerkerstaking van 1913 (p.118). Lord Buxton, tweede goewerneur-generaal van die Unie van Suid-Afrika, het in 1919, in 'n brief aan lord Milner, toe Britse minister van kolonies, verklaar dat Malan bekwaam is maar nie veel invloed in die SAP het nie (p.135). In 1933 is 'n koalisie tussen die regerende Nasionale Party en die SAP gevorm en is verskeie SAP-lede in die kabinet opgeneem. Malan, wat nog steeds die Kaaplandse leier van die SAP was, was egter nie een van hulle nie. Mouton meen dat die vernaamste rede hiervoor was dat die SAP-leier, generaal J.C. Smuts, net lede wat geheel en al lojaal aan hom was in die kabinet wou hê. Malan was sedert die dae dat hulle saam in Cambridge studente was 'n goeie vriend van Smuts, maar het nie gehuiwer om sy mening uit te spreek wanneer hy van hom verskil het nie (p.161). Dit ly egter geen twyfel nie dat Smuts hom nie by die kabinetsamestelling oor die hoof sou kon gesien het as hy nog 'n invloedryke figuur in die party was nie.

    Mouton toon aan dat een van die redes waarom Malan se invloed in die SAP na 1910 al verder verswak het, was dat hy, anders as die meeste SAP-lede, sterk liberale en ook sosiaal-demokratiese beskouinge gehuldig het. Reeds tydens sy studiejare aan die Universiteit van Cambridge in die vroeë 1890's het Malan hom aangetrokke gevoel tot die sosiaal-demokratiese rigting in die Britse politiek (p.23). Gedurende die jaar dat hy in die tronk was, het hy ook meer sensitief geword vir die moeilike omstandighede waarin baie Suid-Afrikaners, veral swart en bruin mense, geleef het (p. 62). Tydens die onderhandelinge met leiers van die vier kolonies om 'n grondwet vir 'n verenigde Suid-Afrika op te stel, was Malan 'n sterk voorstander van die behoud van die stemreg vir bruin en swart mense in die Kaapprovinsie, alhoewel hy besef het dat dit nie moontlik was om dit in daardie stadium na die hele Suid-Afrika uit te brei nie (p.91). As kabinetslid het hy hom daarvoor beywer dat die regte van swart mense vergroot en hul lewensomstandighede verbeter word (p.139). In die verkiesingsveldtog van 1924 het hy nie sy teenkanting weggesteek teen die Nasionale Party se beleid vir strenger territoriale segregasie vir swart mense en 'n kleurslagboom om swart en bruin mense uit bepaalde beroepe te hou nie, en dit het daartoe bygedra het dat hy sy parlementsetel verloor het (p.141). Malan het hom in die jare daarna, as lid van die Senaat, uitgespreek teen pogings om swart en bruin mense van die kieserslys te verwyder (p.157). Toe die destydse eerste minister, generaal J.B.M. Hertzog, in 1936 'n wet deur die parlement gevoer het waarin swart mense in die Kaapprovinsie op 'n aparte kieserslys geplaas is, het Smuts en die meeste voormalige SAP-lede hierdie maatreël gesteun, maar Malan was sterk daarteen gekant. Hy het verklaar dat Suid-Afrika in die toekoms 'n stelsel van gekwalifiseerde stemreg sou moet aanvaar. Mouton meen dat Malan in sy loopbaan steeds die beginsel van gemeenskaplike burgerskap van alle Suid-Afrikaners aanvaar en verdedig het (p.167). Hy toon ook aan dat Malan hom vir gewetensvryheid in die kerk beywer het met sy optrede in die bekende Du Plessis-saak, wat die Nederduits-Gereformeerde Kerk in die jare 1928-1932 in beroering gebring het.

    Waarom het Malan, wat, soos die meeste Afrikaners van sy tyd, 'n Afrikanernasionalis was, 'n kampvegter vir liberale waardes geword? Wanneer 'n mens hom met tydgenote vergelyk, is die kontras met sy meer bekende familielid D.F. Malan (wie se grootvader die heelwat ouer broer van F.S. Malan se vader was) veral opvallend. D.F. Malan, een van die grondleggers van die apartheidsbeleid, was net drie jaar jonger as F.S. Malan en die twee Malans het in baie soortgelyke omstandighede in die Boland opgegroei. D.F. Malan het nie 'n politieke rol in die jare voor 1910 gespeel nie; hy het trouens eers in 1924 'n kabinetsminister geword, juis toe die tydperk waarin F.S. Malan 'n invloedryke figuur in die landsregering was tot 'n einde gekom het. F. S. Malan het, anders as sy familielid, in die jare voor 1910 noue kontak gehad met Afrikaanse politieke leiers in die Kaapkolonie soos J.H. Hofmeyr en J.W. Sauer, wat die Kaapse liberale tradisie van gekwalifiseerde stemreg aanvaar en beskerm het. Dit was waarskynlik 'n belangrike faktor waarom hy een van 'n klein groepie Suid-Afrikaners was wat nog in die 1930's dié tradisie wou voortsit en geglo het dat dit die rigting is waarin die verdere politieke ontwikkeling van die land moet verloop.

    Malan was in sy eie tyd 'n profeet wat nie geëer is nie, maar tans word Afrikaners wat jare gelede al liberale idees oor rasseverhoudinge gehuldig het deur baie mede-Afrikaners beskou as vérsiende en as figure in die Afrikaanse verlede op wie 'n mens trots kan wees. Met sy Malan-biografie lewer Mouton dan ook 'n belangrike bydrae om minder bekende positiewe aspekte in die Afrikaanse geskiedenis na vore te bring. Vanuit hierdie oogpunt gesien, is dit dalk jammer dat die boek in Engels geskryf is, maar aan die ander kant maak dit die werk toeganklik vir 'n groter leserspubliek. Lesers wat nie Afrikaans verstaan nie sal tog moeite hê met 'n hele aantal Afrikaanse aanhalings waarvan geen vertaling verskaf word nie.

    Daar kom ongelukkig 'n hele paar hinderlike taalfoute in die teks voor. Daar word byvoorbeeld op bladsy 25 na Johannes Calvyn in plaas van John Calvin verwys en op bladsy 77 word die woord dramatic(ally) verkeerdelik twee keer in 'n sin gebruik. Ten spyte hiervan bied die boek, wat in maklik leesbare Engels geskryf is en verskeie foto's bevat, interessante leesstof aan almal wat in die land se politieke en kerkgeskiedenis geïnteresseerd is.

     

    Pieter de Klerk
    Vakgroep Geskiedenis
    Noordwes-Universiteit
    Pieter.DeKlerk@nwu.ac.za