SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.52 número1Op weg naar de crisis - de Afrikaanse literatuur in Nederland in 2011Prophet without honour; F.S. Malan: Afrikaner, South African and Cape liberal, deur F.A. Mouton, 2011. índice de autoresíndice de materiabúsqueda de artículos
Home Pagelista alfabética de revistas  

Servicios Personalizados

Articulo

Indicadores

    Links relacionados

    • En proceso de indezaciónCitado por Google
    • En proceso de indezaciónSimilares en Google

    Bookmark

    Tydskrif vir Geesteswetenskappe

    versión impresa ISSN 0041-4751

    Tydskr. geesteswet. v.52 n.1 Pretoria mar. 2012

     

    BOEKBESPREKINGS BOOK REVIEWS

     

    Kolonie aan die Kaap; Jan van Riebeeck en die vestiging van die eerste blankes, 1652-1662, deur Karel Schoeman

     

     

    Uitgegee deur Protea Boekhuis, Pretoria.
    436 bladsye.
    ISBN 978-1-86919-271-6
    Prys: R300.

    Karel Schoeman is alombekend as een van die vernaamste romanskrywers in Afrikaans. Dit is minder bekend dat hy ook een van die land se voorste geskiedskrywers is. Hy het moontlik al meer publikasies op die terrein van die geskiedkunde gelewer as enige ander Suid-Afrikaanse historikus, insluitende produktiewe skrywers soos G. McC.Theal, G.D. Scholtz en F.A. van Jaarsveld. Schoeman se geskiedskrywing het sekere algemene kenmerke. Sy studies is gewoonlik nie gebaseer op argiefnavorsing nie, maar op gepubliseerde werke, insluitende dokumente, dagboeke en briewe wat in gepubliseerde vorm beskikbaar is, en in biblioteke te vinde is. Sy werke handel hoofsaaklik oor sosiale en kultuurgeskiedenis; politieke en ekonomiese aspekte word meesal net sydelings aangeraak. Verder behandel hy feitlik deurgaans sy onderwerp in 'n baie wye konteks; so word in boeke wat volgens die titel as biografieë beskou moet word baie meer agtergrondsinligting verskaf as wat gewoonlik in biografieë die geval is. Verskeie van sy werke handel oor onderwerpe waaroor daar reeds publikasies verskyn het, maar hy lewer geen kritiek op vorige interpretasies nie en probeer ook nie aantoon in watter opsigte hy 'n nuwe bydrae tot die geskiedskrywing lewer nie. Tog kan geen van sy publikasies as 'n blote herskrywing van bekende geskiedenis of as popularisering afgemaak word nie. In feitlik elke boek word daar bronne ontsluit wat vorige skrywers oor die onderwerp nie gebruik het nie en kom daar insigte na vore wat nie in ander werke te vinde is nie.

    Schoeman het 'n hele aantal geskrifte oor die geskiedenis van die Vrystaat die lig laat sien, maar die meeste van sy geskiedwerke handel oor die Kaapkolonie. Een van sy vroegste werke op hierdie terrein is sy studie oor Olive Schreiner (Olive Schreiner: 'n lewe in Suid-Afrika, 1855-1881. Kaapstad, Human & Rousseau, 1989) wat ook in Engels vertaal is. Dit sal seker altyd 'n belangrike boek oor Schreiner bly en is een van die vernaamste historiese werke wat hy gelewer het. Dit is onwaarskynlik dat die ander boeke oor die Kaapse geskiedenis so hoog aangeslaan sal word, al lewer hulle almal onteenseglik 'n bydrae tot die geskiedskrywing. 'n Hele aantal van sy publikasies handel oor die Kaapkolonie tydens die bewind van die Nederlands-Oos-Indiese Kompanjie (VOC), wat geduur het van 1652 tot 1795. Sy tweedelige werk, Armosyn van die Kaap (Kaapstad, Human & Rousseau, 1999-2001), bestryk die tydperk 1415-1733 en daarin word 'n oorsig gegee van die ontwikkelinge in Europa, en veral in Nederland, op die vooraand van die stigting van die Kaapkolonie, asook van die Kaapse samelewing in die tydperk voor 1733. Schoeman se boek Kinders van die Kompanjie (Pretoria, Protea Boekhuis, 2006) bestaan uit 'n aantal biografiese studies van persone wat 'n rol in die ontwikkeling van die Kaapkolonie voor 1700 gespeel het. Hierna het Schoeman met 'n reeks van vyf dele begin wat oor feitlik dieselfde tydperk in die geskiedenis handel. Die eerste twee bande, Patrisiërs en prinse; die Europese samelewing en die stigting van 'n kolonie aan die Kaap, 1619-1715 (2008) en Handelsryk in die Ooste: die wêreld van die VOC, 1619-1688 (2009) het reeds by Protea Boekhuis verskyn. Kolonie aan die Kaap is die derde deel van die reeks. Die vierde en vyfde bande sal handel oor die tydperk 1662-1712 in die geskiedenis van die Kaapkolonie. Hoewel daar heelwat oorvleueling met Armosyn van die Kaap en Kinders van die Kompanjie is, kom daar in Kolonie aan die Kaap geen direkte oornames uit dié werke voor nie. Schoeman het in sy nuutste boek 'n hele aantal studies gebruik wat eers na 1999 verskyn het en dit bevat heelwat inligting wat nie in sy vroeëre geskrifte te vinde is nie. Dit blyk ook uit die bronnelys en verwysings dat die boek gegrond is op die bestudering van 'n groot aantal bronne, waarvan baie nie in sy ander werke vermeld word nie.

    Soos die titel aandui, word in hierdie boek gefokus op die groep Europeërs wat in die jare voor 1662 as kompanjiesdienaars en vryburgers aan die Kaap gevestig was, met besondere aandag aan Jan van Riebeeck. Daar kom nie gegewens oor Van Riebeeck voor wat nog nie in ander publikasies verskyn het nie, maar daar is interessante agtergrondsinligting oor, byvoorbeeld, vroeg sewentiende-eeuse omstandighede in Culemborg, Van Riebeeck se geboorteplek, en Schiedam, waar hy gedurende sy jeugjare gewoon het. Schoeman vergelyk die salaris wat Van Riebeeck as kommandeur verdien het met die inkomste van mense in ander beroepe gedurende dieselfde periode en kom tot die gevolgtrekking dat Van Riebeeck se salaris nie onbeduidend was nie en "dat hy en sy opvolgers aan die Kaap dit kon bekostig om te leef in 'n styl wat hul status betaam"(p. 43). Hy wys ook daarop dat Van Riebeeck nie op sosiale vlak gediskrimineer het teen mense van ander rassegroepe nie. Die Khoimeisie Krotoa is as deel van sy huishouding beskou en 'n voormalige slavin en haar man ('n blanke kompanjiesdienaar) het saam met die Van Riebeecks in die fort gewoon. In die lig daarvan is dit onbillik om hom "in ooreenstemming met die huidige politieke modes as 'vader van apartheid' te bestempel" (p. 119). Hy meen dat Van Riebeeck waarskynlik "nie 'n maklike man en bes moontlik ook nie 'n besonder aangename man" was nie, maar dat 'n mens "verstom staan oor wat hy alles aan die Kaap bewerkstellig het" (p. 49) en dat hy daarom bewondering verdien.

    Schoeman skets onder meer die armoedige omstandighede waarin die meeste sewentiende-eeuse Wes-Europeërs, ook Nederlanders, gelewe het. Dit is juis hierdie omstandighede wat mense soms gedwing het om in diens van die VOC te tree. Die "moeisame aard" van die lewe wat die meeste mense in Europese stede en dorpe en ook op die boerderye gelei het, het meegebring dat hulle daaraan gewoond was om enige werk te verrig waaruit hulle 'n inkomste kon verkry. Hierdie aanpasbaarheid en vindingrykheid het, volgens Schoeman, hulle juis daartoe in staat gestel om in die "barre pioniersomstandighede" van die Kaapkolonie 'n bestaan te maak (p. 210).

    Dit blyk telkens dat Schoeman hom probeer inleef in die omstandighede van die sewentiende-eeuse Kaapse koloniste. Hy wys daarop dat hul tengerigheid en "hul swak gebitte of tandloosheid, hul ongewaste liggame, en hul swaar, vormlose klere" vir mense van vandag vreemd sou voorgekom het. Dan verklaar hy (soos hy dikwels in sy boeke, ook sy romans, doen) dat die verlede "ten slotte vreemd en onbegryplik" is, "hoe hard mens ook probeer om die eertydse werklikheid daarvan te verstaan" (p. 142).

    Dit lyk soms of Schoeman afdwaal van sy onderwerp, maar steeds bring hy sy beskrywing van verskillende aspekte van die samelewing in Europa uiteindelik in verband met die Europese vestiging aan die Kaap. Sy vergelyking van die vroeë Kaapkolonie met ander sewentiende-eeuse Nederlandse vestigings, op Java en Ceylon en aan die ooskus van Noord-Amerika (die latere New York), is veral insiggewend. Deur hierdie soort vergelyking en deur die beskrywing van die wyer konteks waarin die vroeë koloniale samelewing aan die Kaap beskou moet word, bied hy 'n unieke perspektief op die Kaapse verversingspos tydens die kommandeurskap van Van Riebeeck.

    Anders as baie historici bemeester Schoeman die kuns om onderhoudend te skryf. Die boek is nie 'n droë wetenskaplike relaas nie. Aan die ander kant kan Schoeman se geskiedwerke nie as ligte leesstof beskou word nie. Vir diegene wat in die geskiedenis, en in besonder die vroeë geskiedenis van die Kaapkolonie, belangstel, en selfs vir mense wat reeds 'n deeglike kennis van hierdie geskiedenis het, sal die lees van Schoeman se nuutste boek beslis 'n verrykende ervaring wees.

     

    Pieter de Klerk
    Vakgroep Geskiedenis
    Noordwes-Universiteit
    Pieter.DeKlerk@nwu.ac.za