SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.52 número1 índice de autoresíndice de assuntospesquisa de artigos
Home Pagelista alfabética de periódicos  

Serviços Personalizados

Artigo

Indicadores

    Links relacionados

    • Em processo de indexaçãoCitado por Google
    • Em processo de indexaçãoSimilares em Google

    Compartilhar


    Tydskrif vir Geesteswetenskappe

    versão impressa ISSN 0041-4751

    Tydskr. geesteswet. vol.52 no.1 Pretoria Mar. 2012

     

    MANIFES: ARS INDUSTRIALIS

     

    'n Manifes vir die internasionale assosiasie Ars Industrialis vir die bevordering van 'n industriële politiek van die gees*

     

    Motiewe en dryfvere in die skepping van Ars Industrialis

     

     

    George CollinsI; Marc CreponII; Catherine PerretIII; Bernard StieglerIV; Caroline StieglerV

    IFilosoof en kunskritikus
    IIFilosoof
    IIIFilosoof en kunskritikus
    IVFilosoof
    VJuris

     

     

    1 Ons eeu word wêreldwyd bedreig deur die feit dat "die lewe van die gees", om die woorde van Hannah Arendt te gebruik, in sy geheel onderwerp word aan die eise van die markekonomie en aan die eise van die groei van ondernemings se beleggings wat die tegnologieë bevorder van dít wat ons die kultuurindustrieë, programindustrieë, die media, die telekommunikasie en laastens die kennistegnologieë, of kognitiewe tegnologieë, noem. Al hierdie sektore, gegee die uitbreiding van digitalisering, is geneig om dit wat ons al vir twaalf jaar beskrywe as die konvergensie van die oudio-visuele, die telekommunikatiewe en die informasietegnologieë, te integreer.

    Ons noem hierdie totaliteit die sektor van die tegnologieë van die gees (ondanks die metafisiese en teologiese geladenheid wat swaar druk op die woord "gees" plaas, wat ons ook in die sin van die Engelse "mind" verstaan).

    En indien die proses van integrasie, waarin die konvergensie bestaan, tot dusver op 'n essensiële en brutale wyse die moontlikhede van die beheer van die mark oor die lewe van die gees versterk het, hou ons vol dat die tegnologieë van die gees kan en moet teregkom as 'n nuwe eeu van die gees, 'n vernuwing van die gees, 'n nuwe "lewe van die gees".

    Ons dink dat hierdie vernuwing en hierdie hergeboorte van die gees die dryfveer moet vorm van wat ons 'n industriële politiek van die gees noem.

    2 So 'n industriële politiek moet ook 'n industriële ekologie van die gees wees. Die onderwerping van die tegnologieë van die gees alleenlik aan die kriteria van die mark, handhaaf hulle as 'n funksie van die tegnologieë van beheer of kontrole, in diens van die "kontrolesamelewings" (ons ontleen hierdie uitdrukking aan William Burroughs van wie Gilles Deleuze self dit ontleen het). Hierdie funksie, wat ten doel het om die toepassings en gebruike van die middele van berekening, van kommunikasie en van inligting te sistematiseer vir die enkele diens van 'n massifikasie van gedragswyses van produksie en konsumpsie in die sin van finansiële belange wat geïnvesteer is in beleggings oor 'n baie kort termyn en in baie sterk winste in die industriële ondernemings, blokkeer die toegang tot hierdie tegnologieë vir enige ander finaliteit. En in die besonder verbied en blokkeer dit op 'n sistematiese wyse die ontwikkeling van nuwe en oorspronklike sosiale praktyke wat nie alleen deur hierdie nuwe tegnologieë moontlik gemaak word nie, maar wat deur hulle opgeroep word en waardeur hierdie tegnologieë alleen, dít is ons tese, die grondslag van 'n nuwe epog van die beskawing kan word en wat ons in staat sal stel om daardie chaos te vermy, waaroor almal dit eens is dat dit verder aan 'n inherente bedreiging inhou.

    3 Hierdie tegnologieë "van die siel" of "van die bewussyn", waarby die tegnologieë van die liggaam en van die lewende besig is om aan te pas, het vandag ten doel om te beheer en om op hegemoniese wyse individuele en kollektiewe modi van bestaan te vorm en wel vir alle lewensfases. Nou, hierdie kontrole van eksistensies, wat 'n kontrole en 'n manipulasie van die verlangens van individue en groepe is, lei tot die vernietiging van die bestaansmoontlikhede as sodanig vir hierdie individue en vir hierdie groepe: om te bestaan, kan slegs beteken om te bestaan as singulariteit. En meer noukeurig gestel: hierdie kontrole vernietig die verlange van individue en groepe - dit wat ons sedert Freud libidinale energie noem.

    Die kapitalisme het in die 20ste eeu van die libido sy hoofenergiebron gemaak: die energie wat, gekanaliseer na die objekte van konsumpsie, die absorpsie van die surplusse van die industriële produksie moontlik maak, in die totstandkoming, deur die middel van gevangenskap van die libido, van die verlangens wat geheel en al volgens die behoeftes van die opbrengste van beleggings gevorm is.

    Nou, vandag, het hierdie gevangenskap van die libido geëindig in die vernietiging daarvan en hierdie noemenswaardige feit skep 'n uiters ernstige bedreiging vir die industriële beskawing: dit lei onvermydelik tot 'n einde, tot 'n wêreld-ekonomiese krisis sonder presedent.

    4 Hierdie bedreiging van die verlange is 'n bedreiging van die mensheid in sy geheel: die ruïnering van die verlange is ook die ruïnering van die moontlikhede van sublimasie en van die konstitusie van die super-ego en dit produseer gevolglik, aan die ander kant van die ekonomiese versteurings, geïnduseer deur die model wat produksie en konsumpsie opponeer, uiters ontstellende geopolitieke, politieke, sosiale en psigiese versteuringe. Hierdie wanfunk-sioneringe wat vir die mensdom die ware vloek word, konstitueer die onlangse manifesteringe van probleme wat opgelos moet word deur dit wat dus gerieflikheidshalwe as 'n industriële ekologie van die gees en van verlange begryp word.

    5 Verlange word gekonstitueer deur simboliese praktyke wat deur die tegnieke of simboliese tegnologieë in stand gehou word. Die objekte van verlange is op 'n intrinsieke wyse singulier en as sodanig intensiveer hulle die singulariteit van die verlangende subjek. Die industriële fabrisering van verlange, wat moontlik gemaak word deur die tegnologieë van inligting en kommunikasie, bestaan in die kategorisering van singulariteite, dit wil sê in die bereken-baarmaking van dit wat, synde onvergelykbaar (die singuliere is per definisie dit wat met niks vergelykbaar is nie), onreduseerbaar onberekenbaar is. Hierbenewens is die singulariteite geheel en al nie dit wat aan die tegniek of aan die berekenbare kan ontsnap nie, maar is dit eerder dit wat sigself hierteenoor konstitueer deur die praktyk van tegnieke, tegnologieë en berekenbaarhede met die oog daarop om dit wat nie tot die berekenbare reduseerbaar is nie, te intensiveer. Dit is dít wat byvoorbeeld onmiddellik alle vorme van kuns sinvol maak, soos die gedig waarvan Claudel skrywe: "Daar moet in die gedig 'n getal wees wat berekening verhinder."

    Wat oorbly, is dat die tegnologieë van inligting en kommunikasie presies die geestelike tegnologieë is en dit beteken geheel en al ook dat hulle verrys uit die vraag van die tegnieke van die geheue waarvan Michel Foucault die betekenis geanaliseer het as tegnieke van "die skrifting van die self'. Ten einde hulle te kwalifiseer, neem hy weer die Griekse term hypomnemata op wat die groot vraag van die filosofie sedert Plato is: Plato het reeds skrifting as hypomnesis, dit wil sê as tegniese geheue, gedefinieer.

    As mnemo-tegnologieë is die industriële tegnologieë van die gees nuwe vorme van hypomnemata. En as die hypomnemata van die antieke tyd, in die besonder in die Stoïsynse en Epikuriese skole en in die primitiewe Christendom, in Rome waar die Griekse skhole die Romeinse praktyk van die otium geword het, roep die industriële tegnologieë van die gees nuwe praktyke op, dus nuwe sosiale organisasies.

    Daarom kan die verhouding van mense tot hierdie tegnologieë in geen opsig voortgaan om sig te beperk tot die gebruike soos voorgeskryf deur die werkwyses en die veldtogte van bemarking nie wat slegs geneig is om die vinnigste moontlike winste op beleggings vir die aandeelhouers te waarborg, wat, soos mens sê, die "koers in twee syfers" wil hê en indien moontlik, nooit minder as 15% nie.

    6 So 'n politiek neig in effek na selfmoord: hierdie kapitalisme is self-vernietigend. In die bevestiging van die moontlikheid van 'n industriële politiek van die gees verbind ons assosiasie sig geheel en al tot die doel om te stry teen hierdie self-vernietigende neiging van die kapitalisme deur by te dra tot die invensie van praktyke van die tegnologieë van die gees wat die objekte van verlange en die ervaringe van singulariteit herkonstitueer. Ons is van mening dat die ontwikkeling van sodanige praktyke 'n fundamentele voorwaarde is vir 'n vreedsame en wêreldwye toekoms van die industriële samelewing.

    7 Die vraag van die politieke ekonomie, gestel deur die industriële toekoms, is dus die herlansering van verlange - en nie eenvoudiglik die herlansering van konsumpsie nie, soos op koorsagtige wyse hardkoppig volhard word deur die tegnokratiese en kunsmatige maatreëls wat aan die werk is in die industriële lande en veral in Europa, wat nooit ophou om die kwaad te versterk wat dit voorgee om te verminder nie. Die industrieë van die gees wat dus alreeds bestaan, maar wat tot die kwade neig en die samelewing vernietig in plaas daarvan om 'n nuwe epog daaruit te konstitueer, produseer allerlei tegnologies simboliese uitruilings wat voortgroei en wat sal voortgaan om hulleself in die komende dekades te ontwikkel - vanaf die hede, byvoorbeeld, met die netwerke wat hoog in aanvraag is en die wi-fi-verbintenisse en binnekort met die nanotegnologieë. Nou, hierdie toerusting en dienste kan nie toegelaat word om te groei teen die sosiale kohesie en algemene belang in nie. En dit is tot dié mate dat die vraag na die algemene belang in effek ingeskrywe is in die een van die simboliek, dat die definisie van 'n industriële politiek van die gees ook die invensie van 'n nuwe vorm van openbare krag noodsaak, wat bevoegdhede van allerlei aard en van alle horisonne met mekaar verbind, soos ekonomiese deelnemers en openbare instellinge, navorsingsinstellinge en assosiasies, ekonome, kunstenaars, wetenskaplikes, filosowe, beleggers, sosiale vennote, plaaslike en territoriale kollektiwiteite.

    Ars Industrialis is in Parys, Frankryk, gesetel, maar moet allereers as Europees gedefinieer word. Dit sal van die begin af soek na gespreksgenote, vennote en lede in Europese lande en om sy aktiwiteite buite Frankryk so dikwels moontlik te organiseer. Hierbenewens is dit 'n internasionale organisasie, en nie alleenlik Europees nie, wat van voorneme is om internasionale uitruiling ver buite die Europese vasteland te ontwikkel. Dit is verder van voorneme om sy besinning na 'n wêreldvlak te neem, vir wie ook al belang mag hê by al die punte wat reeds na vore gebring is en gevolglik word terreine soos die onderwys, navorsing, wetenskap, kuns, die media, die organisasie van die openbare oudio-visuele dienste, kultuurindustrieë en privaat programindustrieë en die politieke stelsels van ruimtelike ordening betrek.

    9 Naas sy vennote en lede uit Europa en die ander vastelande beoog Ars Industrialis om in die Franse dorpe 'n netwerk van ontmoetingsplekke vir vennote en korrespondente te ontwikkel.

    10 Ars Industrialis sal hierdie verskillende netwerke bevorder deur gebruik te maak van alle beskikbare kontemporêre middele van kommunikasie en soek hiervoor die ondersteuning van openbare en privaat organe en instellings.

    Op die grondslag van hierdie tien voorafgaande mikpunte sal Ars Industrialis, 'n internasionale assosiasie vir 'n industriële politiek van die gees, die volgende doelwitte nastrewe:

    - Om 'n kollektiewe internasionale en transdissiplinêre refleksie deur middel van ont-moetinge, seminare, simposia en werkgroepe te bevorder

    - om die resultate van hierdie werke te dissemineer deur publikasies, hierdie internet-webtuiste en die opstel van mosies

    - om studies en ondersoeke voor te berei ten einde voorstelle voor te lê vir die implementering deur intervensies en eksperimente, wanneer ook al moontlik

    - om die belange van lede te verdedig teen enige vooroordeel wat mag voortspruit uit 'n aanslag op die kollektiewe belang van die assossiasie wat 'n wesenlike belang het by hulle verdediging.

    Vir nou sal Ars Industrialis ontmoetinge in Parys organiseer veral oor die volgende temas

    - die huidige en toekomstige Europese politiek in die domein van die industrieë van die gees

    - die inisiatief van Google op die gebied van die digitale biblioteek en die Franse en Europese beleid hieroor

    - die vraag na wetenskaplike navorsing in die kader van 'n industriële politiek van die gees

    - die aangeleentheid van die wêreldberaad oor die inligtingsamelewing wat deur Unesco in Tunis vir November 2005 georganiseer is

    - die rolle van die mark en publisiteit in die industriële samelewing van gister, vandag en môre

    - kuns en die industriële samelewing van gister, vandag en móre

    - die vraag na die tale in Europa en verder na die idiomatiese verskille in die breë sin van die woord

    - die psigologiese versteurings en die vrae aangaande openbare gesondheid uit die oogpunt van die industriële ekologie van die gees

    - vrae oor industriële eiendomsreg

    - gesigspunte in die VSA, Latyns-Amerika, China en Japan, veral, rakende die vraag van 'n industriële politiek van die gees en van 'n nuwe openbare internasionale krag rakende hierdie sake.

     

    Afterword

    A word of special thanks to Bernard Stiegler and Ars Industrialis for the kind permission given for the translation of this special and precious text into Afrikaans.

     

     

    * Manifes 2005. The French and English texts are available from the following address: http://arsindustrialis/le-manifeste
    Translator from the French: Fanie de Beer
    Editorial assistance: A special word of thanks to Ilze Holtzhausen de Beer for her kind and committed editorial assistance regarding this text, but also and especially for her very kind organisation of editorial assistance regarding a number of other texts in this publication as well.