SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.52 issue1 author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Tydskrif vir Geesteswetenskappe

Print version ISSN 0041-4751

Tydskr. geesteswet. vol.52 n.1 Pretoria Mar. 2012

 

Voorwoord: besinning oor menslike geestelikheid

 

 

Gasredakteur

Fanie de Beer Universiteit van Pretoria Maart 2012

 

 

In 1988 het ek 'n artikel geskryf oor "die krisis van die afwesige gees" (De Beer 1988). Behalwe vir 'n paar enkelinge het dit nie juis aandag getrek nie. Ondanks my lewendige belangstelling in hierdie tema, is dit nooit opgevolg of verder gevoer nie. Ek was oortuig dat dit uit naïwiteit en onkunde aangaande die nuutste ontwikkelinge was dat ek nog entoesiasties kon raak en oor 'n tema geskryf het wat dit nie verdien het nie. Dit was die geval ongeag die feit dat ek nooit rus in my gemoed kon kry oor die gemaklikheid waarmee die gedagte van geesteswetenskappe net eenvoudig prysgegee is nie. Boonop is die wonderlikste argumente hiervoor aangevoer.

Tot my verbystering, maar ook oorstelp van vreugde, kom ek toe in 2007 af op 'n boekie met die titel: Heropluistering van die wêreld: die waarde van gees teenoor industriële populis-me (Stiegler et al. 2006). Groot was my verbasing toe ek besef dat hierdie geskrif presies dít waaroor ek in 1988 geskrywe het, getematiseer het - maar met veel meer entoesiasme en net soveel beter as wat ek dit ooit sou kon doen. Ek het die boek verslind, baie daaroor en daarom-heen gelees en lid van die organisasie, Ars Industrialis, geword. Ek was nou meer as vroeër oortuig van die relevansie en noodsaaklikheid om hierdie tema ernstig te artikuleer en bewusmaking daarvan te probeer bevorder. Dit is juis nou nodig in 'n tyd waarin die gees enersyds die speelbal van ligsinnigheid en andersyds die pion van kubertruuks geword het (Dupuy 2002:155-180), of, miskien die ergste, net gewoon as vergeetbare "entiteit" tot verdwyning of vergetelheid gedwing is.

Namate hierdie oortuiging gegroei het, het die aangeleentheid vir my dringender geword. Dit het my genoodsaak om die Redaksie van die Tydskrif vir Geesteswetenskappe te nader met 'n versoek om 'n spesiale uitgawe oor die gees saam te stel. Die antwoord was gelukkig sterk positief en ek het aan die werk gespring en die wonderlikste samewerking van 'n groep kollegas gekry. Baie dankie aan die Redaksie!

Die deelnemers aan hierdie publikasie deel nie noodwendig my ervaring van "die krisis van die afwesige gees" nie en voel miskien ook nie noodwendig ewe sterk oor die feit dat daar sterk standpunt hieroor ingeneem moet word nie en is nie noodwendig net so entoesiasties as Bernard Stiegler en Ars Industrialis oor die tema nie, of, om dit in dieselde sin en gees as hulle na te jaag nie. Almal is dit egter eens dat dit 'n hoogs belangrike saak is om oor gees, geestelikheid en geestelike waarde te besin en na te dink. Elke artikel weerspieël dit.

Die leser sal merk met watter insig, vaardigheid en toewyding die outeurs aan hulle artikels gewerk het. Niemand sal dit kan miskyk nie. Persoonlik moet ek beklemtoon dat die oefening om elke artikel deeglik te lees en om dit, na al die toegewyde werk wat daaraan gewy is, raak te sien en die insigte te deel, een van die verrykendste en verdiependste ervaringe van my relatief lang professionele lewe was. Woorde ontbreek om aan elke deelnemende kollega my waardering na behore te betuig, asook aan elke kollega wat met ewe veel toewyding en insig aan die evalueringsprosesse deelgeneem het. Dit het my goed laat verstaan wat 'n ryk domein van intellektuele aktiwiteit weggelê is in hierdie prosesse van intellektuele skryfwerk, leeswerk en deelwerk, maar ook hoe arm en steriel die "normale prosesse" van keuring dikwels verloop.

Daar is ongetwyfeld baie perspektiewe vanwaar oor gees nagedink kan word en moet word en boonop is geen van hierdie perspektiewe ooit finaal nie. Al ons artikels is voorbeelde van hierdie diepte, verskeidenheid en noodsaaklikheid. Nodeloos om te sê: dit is onmoontlik en moontlik ook onverantwoordelik om op die lang duur, ondanks verloëning, aftakeling en doodswyg, langer daaroor stil te bly. Vir eeue lank is dit in velerlei kontekste as die definiërende, karakteriserende en kwalifiserende dimensie van menswees verstaan. Aristoteles het veral op 'n boeiende wyse 'n nalatenskap van onskatbare waarde in die konsep nous vir ons weggebêre. Sy ryk inhoud mag vir baie vergete wees, maar is gewis nog nie uitgedien nie. Dat daar in ons tyd die rug op gekeer word, is nie noodwendig 'n aanduiding van die irrelevansie of selfs die verdwyning daarvan nie, maar verklaar eerder ons eie vlakheid, middelmatigheid en vergeetagtigheid en gebrek aan visie onder die druk van al die betowerende opwinding van die 20ste en 21ste eeu; en miskien verklaar dit verder ook baie van die reekse ellendes waarvan koerante, dagblaaie, fiksieskrywers en essayiste en ander denkers ons daagliks bewus maak.

Nóg materialiste nóg empiriste en positiviste kan werklik van die gedagte van gees wegkom. Diegene wat die belangrikheid van gees meer positief bely, doen dit ook vanuit verskeie uiteenlopende perspektiewe. Ons vind dit duidelik in ons bundel geïllustreer. Vasti Roodt vergelyk die opvatting van gees en "die lewe van die gees" by Hannah Arendt en Bernard Stiegler op 'n treffende manier met besondere insig in aspekte van "die lewe van die gees"; Braam Roux het Gilbert Ryle van die kas gehaal, goed afgestof en besonder relevant gemaak vir ons tyd en situasie, veral in die konteks van wetenskapbeoefening en die relevansie van gees vir hierdie konteks; Ernst Wolff se besinning oor gees en tegniek is heel besonder en oorspronklik en bied 'n spesiale bespreking van die belang van tegniek vir 'n aanvaarbare perspektief op die gees van die mens; Willie Burger se vars bries oor gees en literatuur is besonder leesbaar en sy klem op die noodsaak van "betrokke kritiek" wat aanspraak op lesers maak om volle verantwoordelikheid vir hulle eie menswees te aanvaar, beteken om terselfdertyd 'n sterk saak vir die geestesweten-skappe uit te maak en meer spesifiek vir die sogenaamde humaniora; Melodie Slabbert en Karin van Marle se helder bespreking van die afwesige gees in die regswetenskappe kan net sowel as verteenwoordigend van die geesteswetenskappe in die algemeen gesien word, om nie van wetenskap sonder meer te praat nie, want is alle wetenskapwerk nie maar geesteswerk nie en wat is kennis sonder gees per slot van sake; Pieter Fourie toon oortuigend aan dat massa-kommunikasie, in die ontgeestelikte vorm daarvan, dringende herbesinning nodig het en gee riglyne oor hoe dit kan gebeur; Gerrit Brand illustreer uitstekend hoe gees-wees met mens-wees onlosmaaklik verweef is en argumenteer duidelik tot hoe 'n mate hierdie verweefdheid 'n saak is om voor te stry; Marinus Schoeman slaag baie goed daarin om "die gees" soos verwoord in die verskillende artikels in die belang van die universiteitswese, wat tans in 'n bra geeslose omgewing ontaard het, weer na vore te bring en te beklemtoon. My eie bydrae is 'n poging tot 'n oorsig oor die moedige en insigvolle werk van Bernard Stiegler en Ars Industrialis wat die sosiopatologiese gevolge van die verlies aan geestelikheid identifiseer en aanwysings gee in die rigting van 'n sosioterapie of selfs van wat 'n mens 'n noóterapie sou kon noem. Niemand hoort spyt te wees oor die tyd wat spandeer gaan word aan die lees van hierdie bundel artikels nie.

Die idee met die bundel is nie om profeties te probeer wees nie; dit is ook nie om die rol van doemprofeet aan te neem nie; nog minder wil dit aftakel. Dit is slegs en alleen 'n poging om die belangrikheid van menslike geestelikheid op verskillende maniere te beklemtoon en ten minste te betoog dat dit 'n saak en tema is wat vir menswees en die mensheid so belangrik is dat dit die moeite werd is om dringend en indringend sonder ophou daaroor te besin met die beste aan denkkapasiteit waaroor ons beskik, naamlik inventief en komponerend! Dit is veral belangrik in 'n tyd waarin menswees en wat dit werklik beteken om mens te wees tot diepgaande besinning dwing, veral in die lig van die posthumane moontlikhede wat in die jongste tyd so kragtig voorop-gestel word en nie sonder goeie rede nie bepleit word. Ongelukkig word die mens as "lewende inkarnasie van geestelikheid" nie toereikend hierin verreken nie. (Kyk na De Beer 2010, De Mul 2003, Dupuy 2002, Fukuyama 2003, Hayles 1999, Lecourt 2003, Stiegler 2010 om slegs enkele voorbeelde van die bespreking hiervan te noem.)

Ek waardeer die vertaalregte wat vir die eerste Manifes 2005 toegestaan is en die inspirasie wat hieruit en ook uit die tweede Manifes 2010 en al die ander publikasies uitgaan. Dit bly my vaste oortuiging dat hierdie werk en die aksente daarvan ook vir Afrika en Suid-Afrika van besondere belang is, veral teen die agtergrond van twee pasverskene publikasies (verslae, manifeste) oor die geesteswetenskappe wat werklik hoog opgee oor hulle belangrikheid, maar tog bloedweinig van hierdie gedagtes artikuleer. Baie indringende en uitdagende besinning en debat lê vir ons voor en ek vertrou dat hierdie spesiale uitgawe 'n betekenisvolle bydrae in hierdie verband kan wees.

Besondere melding moet gemaak word van die toewyding waarmee en die gees waarin prof Ina Wolfaardt-Gräbe nie alleen ondersteuning aan die projek verleen het nie, maar ook baie substansiële werk gedoen het - sonder haar gewaardeerde en inspirerende insette sou hierdie spesiale uitgawe beslis nie die lig gesien het nie.

 

BIBLIOGRAFIE

De Beer, C.S. 1988. Die krisis van die afwesige gees. Navorsingsbulletin: Tydskrif vir die SAPGN (RGN), 18(3):1-12.        [ Links ]

De Beer, C.S. 2010. Die informatisering van ons mensbeeld. Koers, 75(2):363-385. De Mul, J. 2003. Cyberspace odyssee. Kampen: Klement.        [ Links ]

Dupuy, J-P. 2002. La mécanisation de l'esprit, in Avions-nous oublié le mal? Paris: Bayard.        [ Links ]

Fukuyama, F. 2003. Our posthuman future: consequences of the biotechnology revolution. New York: Picador.        [ Links ]

Hayles, K.N. 1999. How we became posthuman? Virtual bodies in cybernetics, literature, and informatics. Chicago: The University of Chicago Press.        [ Links ]

Lecourt, D. 2003. Humain, posthumain. Paris:PUF.        [ Links ]

Manifes 2005. Die Franse en Engelse tekste is by die volgende adres te vind: http://arsindustrialis/le-manifeste; [die Afrikaanse weergawe is in hierdie bundel opgeneem].        [ Links ]

Manifes 2010. Die Franse en Engelse tekste is by die volgende adres te vind; http://arsindustrialis/le-manifeste.        [ Links ]

Stiegler, B. 2010. Ce qui fait que la vie vautlapeine d'être vécue: de lapharmacologie. Paris: Flammarion.        [ Links ]

Stiegler, B. & Ars Industrialis 2006. Réenchanter le monde: la valeur esprit contre lepopulisme industriel. Paris: Flammarion. (Ingesluit in die publikasie: Manifeste d'Ars Industrialis, pp 27-35).        [ Links ]