SciELO - Scientific Electronic Library Online

vol.51 número4Democratisation and standardisation - conflicting objectives for indigenous languages? índice de autoresíndice de assuntospesquisa de artigos
Home Pagelista alfabética de periódicos  

Serviços Personalizados

Artigo

Indicadores

    Links relacionados

    • Em processo de indexaçãoCitado por Google
    • Em processo de indexaçãoSimilares em Google

    Bookmark

    Tydskrif vir Geesteswetenskappe

    versão impressa ISSN 0041-4751

    Tydskr. geesteswet. v.51 n.4 Pretoria dez. 2011

    VAT op [əis] en [rəis]
    Maar niks op 'n stoppie nie.
    Die manne het in die [fεn] gebly
    Vir die drie dae stayaway
    Cosatu het gesê dat hulle Vrydag [fə] ons sal pay
    Die een [d∫כl] voor met 'n vlag [əni] [hant]
    Die [anər] [d∫כl] [amal] agteraan
    Dis [de:r] die strate tot [כpi] [pərarə]
    Toi toi [amal] saam
    Mense mense,
    sing sing sing ons [amal]
    sing ons [amal] saam (x2)
    Viva (hier en daar )
    Viva (aanmekaar)
    Viva (deurmekaar)
    Viva Suid-Afrika!

    Maar ná Small se eerste bundel, Kitaar my kruis, was daar heelwat kritiek op die gebruik van hierdie taal. Dit sou die bruinmense stereotipeer en was "common". Die kritiek was ongegrond, want dit was 'n effektiewe taal van verset teen politieke onreg, soos Small se drama Kanna hy kô hystoe (1965) bewys. Small het sy kritici as volg geantwoord:

    Ek sê ek praat met djou in Kaaps
    Here some van my critics
    het nog never in allie djare
    my taal hierso geperform nie
    ek sê ma net weer net soes lank gelede
    die's g'n Gamat-taal nie.
    'n straight en diep taal vannie mense
    waar hulle in gebore word en eerste kwyl
    en dan allie transactions van hulle lewe in beklink
    hulle bietjie maybe baie liefde soek, en haat
    en dan, daa' byrie final beacon vannie dood,
    in sterwe
    en, dja of course djy moet dit sing

    (uit: Kitaar my kruis,1962)

    Oosgrensafrikaans

    Oosgrensafrikaans is hoofsaaklik gepraat deur die Europese trekboere wat na die oosgrens van die Kolonie getrek het en later na die binneland om die Boererepublieke te stig. Uit dié variëteit het Standaardafrikaans ontwikkel. Die taal word hoofsaaklik in die volgende gebiede gepraat: Gauteng, Vrystaat, Natal, Oos-Kaap, Kaapse binneland en Karoo. Dit is die taalvorm wat algemeen aangewend word vir hoë funksies, byvoorbeeld literatuur, regswese, onderwys, wetenskap en media, en word deur die oorgrote meerderheid wit Kaapse Afrikaners gebruik (Grebe 2002; Van Rensburg 1997).

    Karoo-Afrikaans

    Die volgende onderhoud is gevoer met 'n middeljarige bruinman wat in die Karoo met skape boer. Let op hoe na aan Standaardafrikaans hierdie variëteit van Afrikaans is:

    Kyk Afrikaans is die [xəborənə] taal van my, ek het nie ander taal nie. Die Bantoe het sy taal, maar hier in ons land, die Karoo, het ons net een taal, Afrikaans, variant of te not, dis onse taal, dis al wat ons het, om ons sê te sê.

    Tswana-Afrikaans

    In die volgende onderhoud vertel 'n volwasse swart (Tswana) man in 'n variëteit wat baie na aan Standaardafrikaans is, hoe dit gekom het dat hulle vandag Afrikaans praat. Die voortrekkers wat binneland toe getrek het, het hulle in die omgewing van Rustenburg (Gauteng) gevestig. Hy vervolg:

    Geslagte het verbygegaan en die gevolg was omdat hulle in die teenwoordigheid was van die Voortrekkers self, moes hulle net een taal praat, en dit was Afrikaans, hulle kinders is in daardie milieu gebore en hulle het saam met die Afrikaner kinders gespeel en ook Afrikaans begin aanleer, en dit het toe sterker en sterker geword. Wat daarna gebeur het, is dat almal net Afrikaans gebruik het as 'n taal en niks meer nie.

    Tsotsitaal

    Soos hierbo genoem, het Oosgrensafrikaans na die binneland en Gauteng versprei. Hier het daar 'n mengtaal in die swart stedelike gebiede ontstaan, bekend as Tsotsitaal. Volgens Hugo (2009:161) is dit geskep deur sprekers uit verskillende etniese agtergronde wat vanaf die 1890's deur die mynboubedryf na die Rand gelok is. Sophiatown, die township wat sentraal was gedurende die apartheidstryd, word as die geboorteplek van hierdie kreatiewe taal beskou. Dit is 'n lingua franca wat vandag nog as gemeenskaplike kommunikasiemedium gebruik word deur mense met verskillende moedertale.

    Schuring (1983) beskou Tsotsitaal eerder as 'n sleurtaal of sleng, dit wil sê iets tussen 'n geheimtaal (wat die oningeligtes uitsluit) en omgangstaal (met sosialisering as oogmerk). Taalkundiges soos Van Rensburg (1997), en Schuring (1983) beskou Afrikaans as die basis van Tsotsitaal. Die persoon wat die taal kon praat (wietie/weedie), het toegang tot die strate van Sophiatown gehad en in die apartheidsera was dit 'n geheimtaal wat die sprekers onverstaanbaar gemaak het vir die owerheid (Molamu 2003). Die onderhoud met Nunu Moreiang, 'n volwasse swart man van Soweto, bevestig hierdie inligting:

    Tsotsitaal het nie spesifieke mense gehad om hom te praat, hy was gepraat deur almost elke mens, maar [da:] was twee maniere hoe jy hom kon praat. Die een was om dit in die huis te praat soos 'n familie, waar jy kon serious raak met Afrikaans, die ander manier was om hom buite te praat, die ouens, hulle het hom gepraat op 'n manier dat hulle complicate dit vir ander mense om nie te hoor, wat hulle sê.

    Tsotsitaal is al literêr ontgin in veral Engelse romans en kortverhale. Die bekendste hiervan is Athol Fugard se verhaal Tsotsi (1983) wat in 2005 suksesvol verfilm en bekroon is met 'n Oscar vir die beste buitelandse fi lm. Verskeie gedigte is in hierdie variëteit geskryf soos die volgende liefdesgedig deur Sipho Sepamla:

    Hela Baby! (Hallo liefie)
    Zwakaka daarso (Luister hier)
    Of hoe sê ek?  
    Jy moet my notch (Hou my dop)
    Jy ken mos (Jy weet mos)
    Die Hillbrow type  
    Hela sisi! (Hallo meisie)
    Look sharp (Wees versigtig)
    Ek wil jou weedie (Ek wil met jou praat)
    Ek praat die real ding (Ek bedoel dit opreg)
    Ek wala-wala net stof (Ek praat nie onsin)
    Ek wil jou smekana (Ek wil vir jou geld gee)
    Jy's my number one mbuzana (Jy's my nommer een liefling)
    Come duzy baby (Kom nader liefie)

    (Uit: Hugo 2009:164)

    Oranjerivierafrikaans

    Oranjerivierafrikaans is deur die Khoi en hul nasate gepraat en toon groot beïnvloeding van Khoi op leksikale en sintaktiese vlakke. Dit kom hoofsaaklik in die Noord-Kaap voor en kan as die basis van Namakwalands en Griekwa-Afrikaans beskou word. Volgens Hugo (2009:19) het die Khoi-veeboere vanaf 1713 weggetrek uit die Kaap, maar ander bronne (Van Rensburg 1997:9) beweer hulle het weens die pokke-epidemies aan die Kaap na die Oranjerivier getrek en die taal met hul saamgeneem. Sendelinge het hierdie taal verder uitgebou. Die variëteit word hoofsaaklik gepraat langs die Weskus van Suid-Afrika tot ongeveer 200 km noord van Kaapstad, tot in Namakwaland en die Richtersveld aan die Oranjerivier, asook die suidelike deel van Namibië. Die eerste voorbeeld van Khoi-Afrikaans is reeds in 1727 in Amsterdam opgeteken deur Peter Kolbe. Die Khoi het Nederlands makliker aangeleer as wat Europeërs Khoi kon leer. Khoiwoorde wat vandag in Afrikaans voorkom is: dagga, karos, kierie, kamma, hoeka, kwagga, aitsa! eina! Ma-goed, Ma-hulle, bietjie-bietjie, nou-nou, netnou (Van Rensburg 1989, 1990).

    Griekwa-Afrikaans

    Khoi-Afrikaans staan in die Noord-Kaap as Griekwa-Afrikaans bekend. Die Griekwas het gedurende die negentiende eeu onder kapteins Andries Waterboer by Griekwastad en Adam Kok 111 by Philippolis 'n selfstandige demokratiese stelsel gehad met 'n eie volksraad en regstelsel. Hulle het hul vorm van Afrikaans gereeld in amptelike dokumente gebruik. Ná die volksverhuising aan die einde van die negentiende eeu vanaf Griekwaland-Wes na die Oos-Kaap is dié soort Afrikaans ook in die omgewing van Kokstad gepraat (Hugo 2009:22). Volgens Van Rensburg (1997:9) was Khoi-Afrikaans in die loop van die negentiende en twintigste eeu oor 'n groter gebied versprei as enige soort Afrikaans. Khoiwoorde wat in Afrikaans oorleef het, is onder meer: abba, boegoe, dagga, karos, kierie, kamma, hoeka, kwagga en die uitroepe aitsa! en eina! Kenmerkend van hierdie variëteit is ook die beleefde meervoudsvorm -goed. Pa-goed of Ma-goed verwys na ouers. Verskeie maniere waarop sinne in Standaardafrikaans gevorm en gebruik word, toon Khoi-invloed. Voorbeelde is die dubbele ontkenning in Afrikaans (alhoewel Ponelis (1993) nie saamstem nie), verkleinwoorde soos bietjie-bietjie, en die se in besitkonstruksies (my seun se hond).

    Kupido Kakkerlak, die eerste Khoi-man wat deur die Londense Sendinggenootskap as predikant bevestig is, en wie se lewe as Griekwa-prediker opgeteken is deur André P. Brink in Bidsprinkaan (2005), het die lidmate wat onder die invloed van drank kerk toe gekom het, as volg aangespreek in Griekwa-Afrikaans:

    [luistər] [jəi], wat [dœur] [ən][dœuri] sondaarbank

    so [se:t] met stank van drank wat om jou lyfte hang
    eendag gaat [e:k] arm uutsteek hier vanaf
    die praatstoel af
    en jou kom klap
    (Hugo 2009:24)

    Namakwalands

    'n Bekende verskynsel in die tradisie van Oranjerivierafrikaans is die verskynsel van die volksliedjies. Volgens die sanger Pieter van der Westhuizen (2011) bepaal die omgewing waarin die sanger en/of skrywer hulself bevind asook die gemoedstoestand van die spreker die aard van die liedjie. Dit gebeur dikwels dat die melodie behou word, maar dat die ritme aangepas word by moderne omstandighede. 'n Volksliedjie word deel van die ongeskrewe tradisie as dit deur die gemeenskap aanvaar en gesing word. Die gemeenskap bepaal dus die tipe liedjie wat sal oorleef. Ten spyte van die feit dat die volksliedjie en volksliteratuur dikwels 'n enkele, en in sommige gevalle selfs meer as een skepper het, word dit as gemeenskapseiendom beskou. Die outeurskap van 'n volksliedjie is onbekend, en dit lei dikwels tot plagiaat as sangers die liedjies gebruik sonder om erkenning te gee aan die gemeenskap waar dit vandaan kom.

    Die volgende liedjies het hul oorsprong in Namakwaland, meer spesifiek Garies. Die liedjie is een van John Lukas van Kharkams se eie skeppings. Hy het die liedjie geskryf vir 'n meisie vir wie hy lief was, maar te skaam was om dit vir haar te sê. Gevolglik moes die liedjie namens hom praat.

    Die tier skreeu in die Tierberge - John Lukas
    Die tier skreeu in die Tierberge
    Die haan die kraai en die taaibos waai
    Saterdagmôre broek oor skouer
    die [djərə] moet my vergeef ([djərə] =Jirre = Here)
    Voordagmore op die [məit] se spoor as die [djərə] my spaar en [ək] leef.

    Die volgende liedjie is 'n baie gewilde liedjie in die streek en is reeds opgeneem deur Grietjie Adams van Garies en Pieter van der Westhuizen (2007). Dit verwys na 'n argument tussen 'n meisie en haar kêrel. Dit vertel van sy liefde vir haar en wat hy sal doen om haar liefde te wen. As sy flou val, sal hy haar ophelp, en as sy sterwe, sal hy haar begrawe.

    Mooie meisie - Grietjie Adams
    Mooie meisie, met 'n [rənə] lyfie
    mooie rokkie, aan haar lyfie
    mooie skoentjies aan haar voetjies
    mooie meisie, wat het ek gemaak?

    En as sy flou val, sal ek haar lawe
    en as sy sterwe, sal ek haar begrawe
    en op haar grafsteen, sal ek skrywe
    mooie meisie, wat het ek gemaak?

    IDENTITEIT EN AFRIKAANS

    Die meeste Kaapse bruinmense het nog nooit werklik met die witmense geïdentifi seer nie, hoofsaaklik weens laasgenoemde se rol in kolonisasie, slawerny en apartheid, waaronder die voorvaders van die Kaapse bruinmense moes leef (Dyers 2007). Omdat daar vir baie lank nie formele kontak tussen bruin- en witmense was nie, was daar baie min beïnvloeding, gevolglik het die variëteite van Afrikaans naas standaardafrikaans voortgegaan om te bestaan (McCormick 2000:206). Tog identifiseer die meeste van hulle intiem met 'n sekere variëteit van Afrikaans. Die sterk sentiment wat hierdie groep heg aan die werk van die digter en dramaturg Adam Small, die geweldige populariteit van rap (kletsrym) en hip-hop kunstenaars (bv. Brasse vannie Kaap, Prophets of Da City en D'Lou) en die sukses van teaterproduksies soos Joe Barber, District Six en Ghoema! is voldoende bewys van die intieme wyse waarop die bruinmense met 'n spesifieke variëteit van Afrikaans identifiseer. Terwyl die sprekers gemaklik toegee dat die variëteite van Afrikaans 'n laer status het as die Standaardafrikaans wat deur hul ekonomies sterker, wit eweknieë gebruik word, kan - in antwoord op die eerste navorsingsvraag - daar met sekerheid gesê word dat dit 'n bepaalde status geniet en 'n bepaalde energie by sy sprekers ontketen. 'n Bolandse radio-omroeper van Stem van die Kaap, Sedick Crombie, som dit as volg op:

    Ons hoef nooit verskoning te vra omdat ons Kaapse Afrikaans praat nie. Toe die taal 'n politieke speelbal geword het, was Afrikaans skielik nie aanvaarbaar nie, maar daardie dae is nou verby en ons het net soveel reg tot dié taal. So laat niemand vir ons vertel dat ons taal nie "suiwer" Afrikaans is nie, want daar is nie so 'n ding nie. Ons hoef nooit skaam te voel oor ons eie unieke vorm van Afrikaans nie, want dit is wie ons is en ons is trots daarop.

    (Karaan 2009)

    In hierdie artikel is daar aangetoon dat die verskillende variëteite van Afrikaans wat ondersoek is, steeds 'n belangrike funksie vervul: dit is 'n taal waarin die mense van Namakwaland en Griekwastad kan sing oor hul hartseer, 'n taal waarin die werkers kan toi-toi én die teleurstellings van 'n staking verwerk, 'n taal waarin 'n jongman van Garies én Sophiatown aan hul liefde vir 'n meisie kan uiting gee, 'n effektiewe taal teen politieke onreg, 'n taal waarin Moesliem én Christen aanbid, 'n taal vir familietyd, en 'n taal waarin met nostalgie na die ou dae verlang word. In die woorde van Adam Small (1962: ii):

    [d]it is 'n taal, 'n taal in die sin dat dit die volle lot en noodlot van die mense wat dit praat, dra ... 'n taal in die sin dat die mense wat dit praat, hul eerste skreeu in die lewe gee in hierdie taal, al die transaksies van hul lewens beklink in hierdie taal, en hul doodsroggel roggel in hierdie taal.

    In antwoord op die tweede navorsingsvraag en gebaseer op die bevindinge van die literatuurondersoek, en die uitkoms van vele onderhoude, kan tot die slotsom gekom word dat die variëteite van Afrikaans steeds 'n belangrike aanduider is van sowel groeps- as individuele identiteit. Hoewel hul taal in sekere kringe as 'n variëteit van Afrikaans beskou word, is dit vir die sprekers steeds hul huistaal: "Of dit nou 'n variëteit is of nie, dis onse taal, dis al wat ons het, om ons sê te sê," soos die man van die Karoo hier bo gesê het.

    SLOTWOORD

    My bedoeling was nie om 'n taalkundige ontleding te doen van enige variëteit van Afrikaans nie. Wat ek hoop om te bereik, is om 'n bewusmaking te ontketen vir die bestaan van hierdie variëteite in Afrikaans en hoedat dit in diens is van groepe mense wat vir hul totale menswees afhanklik is van hierdie taal, omdat dit die enigste medium tot hul beskikking is om hul diepste emosies en gewaarwordinge te verwoord. Die debat oor die variëteite van Afrikaans versus Standaardafrikaans beklemtoon opnuut dat Afrikaans aan al sy sprekers behoort en nie deur een subgroep opgeëis kan word nie (Van Rensburg 1997:18; Van Oordt 2008). 'n Verdraagsame houding wat taaltrots binne die raamwerk van 'n groter Afrikaanssprekende gemeenskap kweek, is die beste waarborg vir die vreedsame naasbestaan van tale en taalvariëteite. Met hierdie artikel word die aandag opnuut daarop gevestig dat meer navorsing nodig is oor die verskillende variëteite van Afrikaans en die rol wat dit in die lewe van die sprekers daarvan speel. Die grootste uitdaging bly steeds om die kloof tussen wit, bruin en swart sprekers van Afrikaans te oorbrug, want al praat elkeen sy eie variëteit, vorm dit vandag 'n belangrike deel van die Afrikaanse literatuur- en kultuurerfenis. Bowenal verteenwoordig elke variëteit iemand se moedertaal:

    Moedertaal
    Kind, as djy wil regte Afrikaans praat, doenit!
    Dis waarom mamma jou lat opleerit;
    kritisaais skrywers wat skryf soes mamma praat,
    maa moenie ve'wag
    mamma moet nou change nie.

    (Uit: Snyders, Versagtende omstandighede, 1995).

    BIBLIOGRAFIE

    Alexander, N. 1994. Die toekoms van Afrikaans in 'n demokratiese Suid-Afrika. In February, V. (red.). Taal en identiteit: Afrikaans & Nederlands. Voordragte gehou in die Pieterskerk, Leiden, 23-24 Junie 1992. Kaapstad:Tafelberg.        [ Links ]

    Alexander, N. 2010. Die uitdagings vir moedertaalonderrig in 'n veeltalige konteks met 'n spesifi eke fokus op Afrikaans. Referaat gelewer tydens die kongres van die Afrikaanse Taalraad, KunsteKaap, Kaapstad, 27 Augustus.        [ Links ]

    Alexander, N. 2011. Die uitdagings vir moedertaalonderrig in 'n veeltalige konteks met 'n spesifi eke fokus op isiXhosa. Referaat gelewer tydens die kongres van die Xhosafrika Netwerk, KunsteKaap, Kaapstad, 27 Augustus.        [ Links ]

    Barkhuizen, G. 1996. Using English only in the South African classroom? Per Linguam, 12(1):34-47.        [ Links ]

    Bosman, D.B. 1928. Oor die ontstaan van Afrikaans. Amsterdam: Swets & Zeitlinger.        [ Links ]

    Carstens, W.A.M. 2011. Norme vir Afrikaans. Enkele riglyne by die gebruik van Afrikaans. Pretoria:Van Schaik Uitgewers.        [ Links ]

    Davids, A. 1994. The contribution of the slaves to the genesis of Afrikaans. In February, V. (ed.). 1994. Taal en identiteit: Afrikaans & Nederlands. Voordragte gehou in die Pieterskerk, Leiden, 23-24 Junie 1992. Cape Town:Tafelberg.        [ Links ]

    Davids, A. 2011. The Afrikaans of the Cape Muslims from 1815 to 1915 - A sociolinguistic study. (H. Willemse & S.E. Dangor eds). Pretoria: Protea Boekhuis.        [ Links ]

    Denis-Constant, Martin. 2007. Chronicles of the Kaapse Klopse, with some documents on the sources of their music. Paris: Centre d'études et de recherches internationals.        [ Links ]

    Denscombe, M. 1998. The good research guide for small scale social research projects. Philadelphia: Open University Press.        [ Links ]

    Desai, D. 2004. Adjusted performance requirements in musico-stylistic conversation strategies for the Cape Malay Nederlandslied. Paper read at the 31st annual congress of the Musicological Society of Southern Africa, Stellenbosch. 26-27 Augustus.        [ Links ]

    Deurmert, A. 2004. Language standardization and language change: the dynamics of Cape Dutch. Amsterdam: Benjamins Publishing.        [ Links ]

    Dreyer, H.C. 1986. Die beskrywing van Kaapse Afrikaans as 'n variëteit van Afrikaans. Ongepubliseerde M.A.-verhandeling. Universiteit van die Oranje-Vrystaat.        [ Links ]

    DvO (Departement van Onderwys). 2009. Final report of the Task Team for the Review of the Implementation of the National Curriculum Statement. Pretoria:Staatsdrukkers.        [ Links ]

    DvO (Departement van Onderwys). 2011a. Grade 3 Systemic evaluation baseline assessment of literacy. Pretoria:Staatsdrukkers.        [ Links ]

    DvO (Departement van Onderwys). 2011b. Grade 6 Systemic evaluation baseline assessment of literacy. Pretoria:Staatsdrukkers.        [ Links ]

    Du Plessis, I.D. 1935. Die bydrae van die Kaapse Maleiers tot die Afrikaanse volkslied. Kaapstad:Nasionale Pers.        [ Links ]

    Du Plessis, L.T. 1985. Afrikaans in Beweging. Bloemfontein:Patmos.        [ Links ]

    Du Plessis, T. 1989. Azanië en Afrikaans na Afrikanernasionalisme. Spits, V(1):49-55.        [ Links ]

    Dyers, C. 2004. Ten years of democracy: Attitudes and identity among some South African school children. Per Linguam, 20(1):22-35.        [ Links ]

    Dyers, C. 2007. An investigation into the role of the Afrikaans language in indexing the individual and collective self among some township youth in South Africa. Journal of International Social Research, 1(1):83-101.        [ Links ]

    Essack, Z. & Quale, M. 2007. Students' perceptions of a university access (bridging) programme for social science, commerce and humanities. Perspectives in Education, 25(1):71-84.        [ Links ]

    Esterhuyze, J. 1986. Taalapartheid en Skoolafrikaans. Emmarentia:Taurus.        [ Links ]

    February, V. (red.). 1994. Taal en identiteit: Afrikaans & Nederlands. Voordragte gehou in die Pieterskerk, Leiden, 23-24 Junie 1992. Kaapstad:Tafelberg.        [ Links ]

    Giliomee, H. 2006. Afrikaans in die onderwys: Resultate van 'n ondersoek na die houding van ouers. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 46(2):112-124.        [ Links ]

    Grebe HP: 2002. Standaardafrikaans: Daar's 'n vlieg in die salf. Southern African Linguistics and Applied Language Studies, 20(1-2):37-46.         [ Links ]

    Hesseling, D.C. 1923. Het Afrikaans. Bijdrage tot de geschiedenis der Nederlandsche taal in Zuid-Afrika. Leiden:Brill.        [ Links ]

    Hugo, D. (red.). 2009. Halala Afrikaans. Pretoria:Protea Boekhuis.        [ Links ]

    Joseph, J. 2004. Language and identity - National, ethnic, religious. Basingstoke/New York: Palgrave MacMillan.        [ Links ]

    Kamwangamalu, N. 2003. Social change and language shift: South Africa. Annual Review of Applied Linguistics, 23:225-247.        [ Links ]

    Karaan, M. 2009. Afrikaans en die Kaapse Moesliem-gemeenskap vandag. Referaat gelewer tydens die Roots-konferensie, Universiteit van die Wes-Kaap, Kaapstad, 22-23 September.        [ Links ]

    Klopper, R.M. 1983. Die sosiale stratifi sering van Kaapse Afrikaans. In: Claassen, G.N. & M.C.J. van Rensburg (reds.) (1983: 80-100).        [ Links ]

    Kotzé, E. 2009. Hoe standaard kan 'n taal wees? Perspektiewe op die teenstrydighede van Afrikaans. Referaat gelewer tydens die Roots-konferensie, Universiteit van die Wes-Kaap, Kaapstad, 22-23 September.        [ Links ]

    Le Cordeur, M. 2010. Bal die vuis vir Kaaps. Die Burger, 17 Maart, p.11.        [ Links ]

    Le Cordeur, M.L.A. 2011. Die rol van die bruimense in die ontwikkeling van Afrikaans in Suid-Afrika. Referaat gelewer tydens die Afrikaanse Feest de Nederland, 17-19 Junie, Amsterdam.        [ Links ]

    Makoe, P. & McKinney, C. 2009. Hybrid discursive practices in a South African multilingual primary classroom: A case study. English Teaching: Practice and Critique, 8(2):80-95.        [ Links ]

    McCormick, K. 2000. Language in Cape Town's District Six. Oxford: Oxford University Press.        [ Links ]

    Molamu, L. 2003. Tsotsitaal - A dictionary of the language of Sophiatown. Pretoria: University of South Africa.        [ Links ]

    Mouton, J. 2001. How to succeed in your master's and doctoral studies: A South African guide and resource book. Pretoria:Van Schaik.        [ Links ]

    Ponelis, F. 1993. The development of Afrikaans. Frankfurt am Main:Peter Lang.        [ Links ]

    Ponelis, F. 1994. Standaardafrikaans in oorgang. In February, V. (red.). 1994. Taal en identiteit: Afrikaans & Nederlands. Voordragte gehou in die Pieterskerk, Leiden, 23-24 Junie 1992. Kaapstad:Tafelberg.        [ Links ]

    Popper, K. 2010. Karl Popper oor relativisme. Beskikbaar by http://www.youtube.com/watch?v=kdHdTrzrihU [4 April 2010].        [ Links ]

    Raidt, E.H. 1991. Afrikaans en sy Europese verlede. 3de uitgawe. Kaapstad:Nasou.        [ Links ]

    Ramphele, M. 2009. Here, mother tongue clashes with her mother's tongue. Sunday Times, 8 Maart: 11.        [ Links ]

    Roberge, Paul T. 1990. The ideological profile of Afriaans historical linguistics. In John Joseph & Talbot J. Taylor (ed.). Ideologies of language. 131-49. London: Routledge.        [ Links ]

    Roberge, Paul T. 1992. Afrikaans and the ontogenetic myth. Language and Communication. 12:31-52.        [ Links ]

    Schuring, G.K. 1983. Flaaitaal. In: Claasen, G.N. & M.C.J. Van Rensburg (reds.). Taalverskeidenheid - 'n Blik op die spektrum van taalvariasie in Afrikaans. Pretoria: Academica.        [ Links ]

    Scoltz, J. Du Plessis. 1963. Taalhistoriese Opstelle. Pretoria:J.L. van Schaik.        [ Links ]

    Scoltz, J. Du Plessis. 1980. Wording en ontwikkeling van Afrikaans. Kaapstad:Tafelberg.        [ Links ]

    Small, A. 1962. Kitaar my kruis. Kaapstad:HAUM.        [ Links ]

    Small, A.1983. Krismis van Map Jacobs. Kaapstad:Tafelberg.        [ Links ]

    Snyders, P. & Deloof J. 1995. Verzachtende omstandigheden / Versagtende omstandighede. Meerbeke, Ninove: Point.        [ Links ]

    Steyn, J.C. 1980. Tuiste in eie taal. Kaapstad:Tafelberg.        [ Links ]

    Stanford Encyclopedia of Philosophy. 2011. Available from http://plato.stanford.edu/entries/relativism/ [23 Augustus 2011].        [ Links ]

    Umalusi. 2009. From NATED 550 to the new National Curriculum:Maintaining standards in 2008. Pretoria:Umalusi.        [ Links ]

    Valkhoff, M.F. 1966. Studies in Portuguese and Creole. With special reference to South Africa. Johannesburg:Witwatersrand University Press.        [ Links ]

    Van der Merwe, H.J.J.M. 1968. Die ontstaan van Afrikaans. In: Van der Merwe, H.J.J.M. Afrikaans: Sy aard en ontwikkeling. Pretoria: JL van Schaik.        [ Links ]

    Van der Westhuizen, P. & Adams, G. 2007. Ek khokie sommer sag'ie (musiekopname). Kaapstad: CDBiz.        [ Links ]

    Van der Westhuizen, P. 2011. E-pos aan M. le Cordeur [Intyds], 25 Mei. Beskikbaar e-pos: vdwesthuisen@pgwc.co.za.        [ Links ]

    Van Oordt, C.P. 2008. Die ontwikkelingsgeskiedenis van Afrikaans: 'n inklusiewe perspektief en die implementering in 'n lesreeks. Potchefstroom: NWU. (Ongepubliseerde proefskrif voorgelê vir die graad Philosophiae Doctor in Afrikaans en Nederlands.)        [ Links ]

    Van Rensburg, M.C.J. (red.). 1997. Afrikaans in Afrika. Pretoria:J.L. van Schaik.        [ Links ]

    Van Rensburg, M.C.J. 1995. Oor Afrikaans se kreoolse status. In Bosman, N. (red.). 'n Man van woorde - Feesbundel vir Louis Eksteen. Pretoria:J.L. van Schaik.        [ Links ]

    Van Rensburg, M.C.J. 1990. Taalvariëteite en die wording van Afrikaans in Afrika. Bloemfontein:Patmos.        [ Links ]

    Van Rensburg, M.C.J. 1989. Soorte Afrikaans. In: Botha, T.J.R.(red.). 1989. Inleiding tot die Afrikaanse Taalkunde. Pretoria:Academica.        [ Links ]

    Webb, V. 1999. Multilingualism in democratic South Africa: The over-estimation of language policy. In Limage, L. (ed.). Comparative perspectives on language and literacy: Selected papers from the work of the Language and Literacy Commission of the 10th World Congress of Comparative Education Societies, Cape Town 1998. Dakar: UNESCO-BREDA.        [ Links ]

    Webb, V. 1989. Die Afrikaanse variasietaalkunde. In: Botha, T.J.R.(red.). 1989. Inleiding tot die Afrikaanse Taalkunde. Pretoria: Academica.        [ Links ]

    Willemse, H. 2009. Verandering en toekoms: Om 'n kreoolse Afrikaans te bedink. Referaat gelewer tydens die Roots-konferensie, Universiteit van die Wes-Kaap, Kaapstad, 22-23 September.        [ Links ]

    MICHAEL LE CORDEUR is verbonde aan die Fakulteit Opvoedkunde van die Universiteit Stellenbosch waar hy Afrikaansonderwys doseer. Hy is die skrywer van verskeie skoolhandboeke en was voorheen taalonderwyser, skoolhoof, en kringbestuurder van Onderwys in Stellenbosch. Hy het 'n doktorsgraad aan die Universiteit Stellenbosch verwerf en het ook grade van die Universiteit van Wes-Kaapland en UNISA. Sy navorsing handel oor die verbetering van leerders se lees- en skryfvermoë met behulp van inligtingstegnologie en die media. Hy het ook 'n bestuurskwalifikasie aan die Nagraadse Bestuurskool van die Universiteit Stellenbosch verwerf. Hy dien vir 'n tweede termyn as voorsitter van die Wes-Kaapse Taalkomitee, is die ondervoorsitter van die Afrikaanse Taalraad en beklee ook verskeie ander openbare posisies; onder andere is hy die voorsitter van die Breytenbach Sentrum, en raadslid van die Taalmuseum. Hy is in 2008 deur die SA Akademie met die Elisabeth Steijn-medalje vir sy bydrae tot onderwys bekroon.
    MICHAEL LE CORDEUR is currently lecturing Afrikaans Didactics at the Faculty of Education at Stellenbosch University. He is the author of various Afrikaans school textbooks and is a former language teacher, school principal and circuit manager of Education in Stellenbosch. He received his doctorate at Stellenbosch University and also holds degrees from the Universities of the Western Cape and UNISA. His research deals with the improvement of learners' reading and writing skills by using information technology and the media. He also holds a senior management qualification from Stellenbosch University's Graduate School of Business. Dr Le Cordeur has been elected as chair of the Western Cape Language Committee for a second term of office. He also holds various other leadership positions; amongst others, vice-chair of the Afrikaans Language Board, chair of the Breytenbach Centre, and member of the Afrikaans Language Museum. He was awarded the Elisabeth Steijn medal by the South African Academy for his contribution to education in South Africa in 2008.

    1 Volgens Essack en Quayle (2007:73) is die klassifisering van sosiale groepe volgens ras altyd problematies. Die term "Kleurling" (Coloured) verwys hier na mense wat onder apartheidswetgewing as "Kleurling" geklassifiseer is, en moet nie beskou word as die skrywer se goedkeuring van terme wat mense op rassegronde etiketteer nie. In hierdie artikel gebruik ek dubbelaanhalingstekens en 'n hoofletter om die dilemma van navorsers aan te dui. Ek, soos ook baie ander skrywers, gebruik wel die terme "bruin", "wit", en "swart" omdat dit, anders as die woord "Kleurling", nie in apartheidswetgewing voorkom nie en dus aanvaarbaar is om hier die punt van diversiteit te illustreer.
    2 Vergelyk Alexander (1994), Dyers (2004), Giliomee (2006), Makoe & McKinney (2009) en Webb (1999).
    3 Vergelyk Carstens (2011), Van Rensburg (1989), (1990) en (1997).
    4 Vir die doel van hierdie artikel verwys "inheemse tale" na die nege amptelike tale van Suid-Afrika, uitgesonderd Afrikaans en Engels.
    5 My dank aan die personeel van die Afrikaanse Taalmuseum wat die onderhoude op video opgeneem het, en dit nou in die museum bewaar vir besigtiging.
    6 Vgl. Bosman (1928), Scholtz (1963), (1980), Raidt (1991) en Ponelis (1993).
    7 Vgl. Alexander (2010), Davids (1994), Deurmert (2004), Du Plessis (1989), Roberge (1990), Van Rensburg (1995) en Willemse (2009).
    8 Die term "Moesliem" word deurgaans as wisselterm vir "Moslem" gebruik omdat dit die algemeenste vorm in die volksmond is.
    9 Die begrip "Maleier" is 'n hoogs-aanvegbare term wat verskeie eietydse skrywers soos Achmat Davids, in sy studie The Afrikaans of the Cape Muslims, besonder krities hanteer. Die woord word hier slegs gebruik omdat dit die naam is wat aan die kore gegee is en wat vandag nog gebruik word.
    10 Ek transkribeer slegs woorde wat anders as die standaardafrikaans uitgespreek word.
    11 Die gedigte in hierdie artikel word nie getranskribeer nie, en word verbatim uit die bron aangehaal.

    ^rND^sAlexander^nN.^rND^sBarkhuizen^nG.^rND^sDavids^nA.^rND^sDu Plessis^nT.^rND^sDyers^nC.^rND^sDyers^nC.^rND^sEssack^nZ.^rND^sQuale^nM.^rND^sGiliomee^nH.^rND^sGrebe^nHP^rND^sKamwangamalu^nN.^rND^sKlopper^nR.M.^rND^sLe Cordeur^nM.^rND^sMakoe^nP.^rND^sMcKinney^nC.^rND^sPonelis^nF.^rND^sPopper^nK.^rND^sRamphele^nM.^rND^sRoberge^nPaul T.^rND^sRoberge^nPaul T.^rND^sSchuring^nG.K.^rND^sVan der Merwe^nH.J.J.M.^rND^sVan Rensburg^nM.C.J.^rND^sVan Rensburg^nM.C.J.^rND^sWebb^nV.^rND^sWebb^nV.^rND^1A01^nMichael^sLe Cordeur^rND^1A01^nMichael^sLe Cordeur^rND^1A01^nMichael^sLe Cordeur

    NAVORSINGS-EN OORSIGARTIKELS

    Die variëteite van Afrikaans as draers van identiteit: 'n sosiokulturele perspektief

    The varieties of Afrikaans as carriers of identity: a socio-cultural perspective

    Michael Le Cordeur

    Departement Kurrikulumstudies (Afrikaans), Universiteit van Stellenbosch, Stellenbosch mlecorde@sun.ac.za

    OPSOMMING

    Alexander (1994:24) wys daarop dat Afrikaans in die verlede dikwels as politieke speelbal gebruik is in die naam van 'n soeke na identiteit. Hierdie artikel is nie 'n poging om hierdie debat voort te sit nie; veel eerder is dit 'n bydrae tot die debat dat persone se huistaal, in welke variëteit ook al, meer is as net 'n kommunikasiemiddel in post-apartheid Suid-Afrika. Meer spesifi ek ondersoek die artikel hoe die Afrikaanse taal in sy verskillende variëteite die onderliggende draers is van identiteit van die persone wat as "Kleurling"1 geklassifiseer is en voorheen op grond van armoede, woonplek en ras benadeel is. Vanuit 'n sosiokulturele perspektief word die ontstaan en ontwikkeling van Afrikaans asook sekere variëteite van Afrikaans met behulp van 'n literatuurondersoek beskryf. Hieronder is Kaapse Afrikaans en die verwante Moesliem-Afrikaans, Namakwalands en Griekwa-Afrikaans as voorbeelde van Oranjerivierafrikaans, en Karoo-Afrikaans en Tsotsitaal as voorbeelde van Oosgrensafrikaans. Onderhoude is gevoer met verteenwoordigende sprekers van die verskillende variëteite terwyl die lirieke van sommige liedjies wat in sommige streke baie prominent is, ook beskou word.

    Trefwoorde: variëteite van Afrikaans, Standaardafrikaans, identiteit, Kleurling, Kaapse Afrikaans, Oranjerivierafrikaans, Oosgrensafrikaans, Moesliem-Afrikaans, Griekwa-Afrikaans, Tsotsitaal

    ABSTRACT

    This article builds on the exploration of the negotiation of identity via language in post-apartheid South Africa. Specifically, it looks at the ways in which the various varieties of the Afrikaans language underpin the individual and collective identities of those Afrikaans-speaking people classified as "Coloured" and marginalised by poverty, location and race. Alexander (1994:24) points out that Afrikaans in the past often had been misused for political reasons in the search for identity. From a socio-cultural perspective and by means of a literature review this article will reflect on the origin and development of Afrikaans, amongst others: Cape Afrikaans and the related dialect of Muslim Afrikaans, Namakwalands and Griqua Afrikaans as examples of Orange River Afrikaans, as well as Karoo Afrikaans and Tsotsitaal as examples of Eastern Border Afrikaans. Interviews were conducted with representative speakers of the various varieties of Afrikaans, whilst the lyrics of Afrikaans songs prominent in some Afrikaans-speaking areas were also studied. The data gained from the literature review, supported by the evidence collected from the interviews and the songs, showed that the various varieties of Afrikaans are a sound indicator of identity in those Afrikaans-speaking communities under review.

    Key words: language varieties, Standard Afrikaans, identity, Coloured, Cape Afrikaans, Orange River Afrikaans, Eastern Border Afrikaans, Muslim Afrikaans, Griqua Afrikaans, Tsotsitaal

    INLEIDING

    Die meeste studies wat oor taalhoudings en taalverskuiwings in Suid-Afrika handel, dui daarop dat Engels die dominante taal in Suid-Afrika is, die getalleoorwig van tale soos Zoeloe (wat 23,8% sprekers in Suid-Afrika verteenwoordig) en Xhosa (17.4% sprekers), ten spyt.2 Baie ouers in Suid-Afrika is besorg oor toegang tot hoër onderwys, werkgeleenthede, of algemene sosioëkonomiese vooruitgang vir hul kinders, en beskou kennis van 'n taal met 'n hoë status, soos Engels, as noodsaaklik vir die bereiking van hierdie aspirasies. Gevolglik verkies al meer ouers om hul kinders by Engelse skole in te skryf ten koste van Afrikaans en Afrikatale (Giliomee 2006, DvO 2009, Umalusi 2009). Die werklikheid is dat die toenemende hegemonie van Engels in post-apartheid Suid-Afrika geweldige druk op ouers plaas om Engels as onderrigtaal vir hul kinders te kies (Barkhuizen 1996, Kamwangamalu 2003, Makoe & McKinney 2009).

    Volgens kenners3 is dit duidelik dat daar talle variëteite van Afrikaans voorkom omdat die Afrikaanse taalgemeenskap self so gevarieerd is. Terselfdertyd sien ons dat minderheidsgroepe soos die Afrikaners hul kollektiewe identiteit herbevestig deur middel van taal, spesifi ek Afrikaans, soos gesien kan word in die voortslepende taaldebat oor die gebruik van Afrikaans as medium van onderrig aan die Universiteit Stellenbosch. Alhoewel soortgelyke debatte in die ander inheemse tale4 minder prominent in die media voorkom (Dyers 2007:84), is daar heelwat bewyse dat daar 'n voortdurende debat oor die gebruik van inheemse tale is. Vergelyk onder meer die deurlopende debatte rondom die gebruik van tale soos isiNdebele en isiXhosa (Alexander 2011) in skole en op radio en televisie. Daar is ook die politiek-ideologiese debat rondom verinheemsing wat deur Afrikanistiese voorstanders voorgehou word. Dan is daar allerlei regeringsinteraksies rondom die gebruik van inheemse tale in die skole wat aanduidend is van 'n onderliggende spanning.

    Taal speel dus 'n belangrike rol om te bepaal wie en wat ons is, en maak ons oombliklik herkenbaar vir ander lede van 'n bepaalde spraakgemeenskap (Dyers 2007:86). Joseph (2004:39) stel dit as volg: "... we read the identity of people with whom we come into contact based on very subtle features of behaviour, among which those of language are particularly central".

    Konseptuele Raamwerk

    My waardering vir die variëteite van Afrikaans is gefundeer in die relativisme, 'n filosofi e gegrond op die siening dat kennis nie absoluut is nie, en dat elkeen geregtig is op 'n standpunt. Die eerste gedokumenteerde voorbeeld van relativisme is dié van Protagoras, soos aangehaal deur Plato: "The way things appear to me, in that way they exist for me; and the way things appear to you, in that way they exist for you" (Theaetetus 152a). Hy sê voorts: "Thus, however I see things, that are actually true - for me. If you see things differently, then that is true - for you". Volgens relativisme het die waarheid slegs relatiewe en subjektiewe waarde afhangend van verskillende persepsies en verwysingsraamwerke soos taal, godsdiens of kultuur (Popper 2010).

    Ek sal dus argumenteer dat alle variëteite van Afrikaans inherente waarde het vir die sprekers van daardie taal (Webb 1989). Wat laasgenoemde betref, is dit die enigste manier om hul diepste emosies te verwoord. Dit is in teenstelling met absolutisme wat van die standpunt uitgaan dat daar net een korrekte siening is, in hierdie geval Standaardafrikaans. Dus wat mense ook al glo - die variëteit is my taal - is waar, en dit waarin ander glo - standaardtaal - mag beter wees as dit waarin ek glo. In hierdie opsig speel mense se geneigdheid om bevooroordeeld te wees - kognitief en kultureel - 'n rol (Stanford Encyclopedia 2011).

    Dit was derhalwe belangrik vir hierdie skrywer om vas te stel wat die presiese rol is wat taal en spesifiek die taalvariëteite van Afrikaans speel in die sosiokulturele identiteite van die groepe mense in Suid-Afrika waarna ek vroeër verwys het, ten einde beter begrip tussen die sprekers van die verskillende variëteite van Afrikaans te bevorder.

    Doelwit

    Die doel van hierdie artikel is derhalwe:

    • Om die gebruik van sekere variëteite van Afrikaans en die houding van die sprekers van daardie variëteite jeens hul taal te ondersoek;

    • Om, op grond van die bevindinge en gegee die persone se spesifi eke omstandighede, ondersoek in te stel of die betrokke variëteit van Afrikaans steeds 'n belangrike aanduider is van sowel groeps- as individuele identiteit.

    Navorsingsmetodologie

    Die artikel is gegrond op data wat versamel is deur 'n literatuurstudie (Denscombe 1998:29, Mouton 2001:56). Dit het deel gevorm van 'n projek van die Afrikaanse Taalmuseum om die verskillende variëteite van Afrikaans en die rol wat dit in mense se lewens speel, op te teken. Die data verkry uit die literatuurstudie word ondersteun deur individuele onderhoude en liedjies wat tydens 'n landwye toer deur personeellede van die Taalmuseum gevoer is met persone wat waarde heg aan taal as 'n manier om uiting te gee aan hul identiteit. Al die respondente moes slegs op een vraag reageer: Watter rol speel Afrikaans as taal in jou lewe? Die onderhoude is op video opgeneem5 en is vir die doel van hierdie artikel verbatim getranskribeer om die leser 'n idee te gee van die bepaalde variëteit. Die skrywer het voorts verskeie liedjies wat deel is van die Kaapse Moesliem- en Klopsekultuur opgeneem by geleenthede waar hierdie liedjies gesing is en getranskribeer. Voorbeelde is Rosa en Viva Suid-Afrika wat onderskeidelik by die Maleierkore- en Kaapse Klopse-kompetisies gesing is. Verdere steun vir die bestaan van die verskillende variëteite van Afrikaans, is bekom deur gedigte in Kaapse Afrikaans te bestudeer. 'n Kwalitatiewe benadering is gevolg omdat dit na die oordeel van die skrywer die geskikste metodologie is om 'n analise te doen oor die verbintenis tussen taal en identiteit. Ander vergelykbare studies wat in hierdie veld gedoen is, is dié van Dyers ( 2004, 2007), wat die houdings en identiteit onder Suid-Afrikaanse leerders in bruin townships ondersoek het.

    LITERATUURSTUDIE

    Die ontstaansgeskiedenis van Afrikaans

    Volgens die literatuur (Van der Merwe 1968:20) is daar basies twee teorieë rondom die ontstaansgeskiedenis van Afrikaans. Volgens die een groep se teorie6 is Afrikaans 'n natuurlike vereenvoudiging van sewentiende-eeuse Nederlands. Voorstanders van hierdie benadering beroep hulle op die feit dat 95% van die Afrikaanse woordeskat aan Nederlands ontleen is, dat daar talle ooreenkomste met sekere Nederlandse dialekte bestaan en dat Afrikaans nou verbonde is met Standaardnederlands. Dit is veral die Europese herkoms van Afrikaans waarop voorstanders van hierdie denkwyse konsentreer (Raidt 1991:78).

    Die ander teoretiese beskouing het die intertaalteorie as uitgangspunt. Hesseling (1923) het die ontstaan van Afrikaans toegeskryf aan die skielike botsing aan die Kaap van Nederlands en die gebroke Portugees van die slawe, terwyl Valkhoff (1966) beweer het dat Afrikaans 'n gedeeltelik gekreoliseerde taal is vanweë die kontak met slawe en Hottentotte; hierteenoor praat Raidt (1991:38) van taalversteuring en nie kreolisering nie. Volgens die siening wat vandag meer geredelik aanvaar word en waarby hierdie artikel aansluit, is Afrikaans 'n gekreoliseerde taalvorm wat deur intertalige kontak ontwikkel het en as sodanig die produk is van wisselwerking tussen die verskillende taalgroepe aan die Kaap.7 Hierdie siening (Deurmert 2004) staan in skerp kontras met die vroeë idee dat Afrikaans 'n natuurlike vereenvoudiging van sewentiende-eeuse Nederlands verteenwoordig en 'n uniforme taalvorm van die sogenaamde lae sosiale stand aan die Kaap sou wees. Volgens die meer resente teorie (Deurmert 2004, Roberge 1990, 1992) was Afrikaans 'n dinamiese sosiale dialek wat tot en met 1900 aan die Kaap gepraat is.

    Uit bogenoemde is dit duidelik dat hoofsaaklik drie groepe oorsprong gegee het aan Afrikaans: die Europese nedersetters, die Khoi en San, en die slawe wat almal 'n eie dialek gepraat het (Van Oort 2008). Dit sou die basis vorm van drie soorte Afrikaans wat vervolgens beskryf word (Van Rensburg 1989 in Botha 1989:436).

    Die variëteite van Afrikaans en Standaardafrikaans

    Lank voor die einde van die agtiende eeu was die huis- en omgangstaal van baie Kapenaars nie meer Nederlands nie, maar Afrikaans (Deurmert 2004:10, Van Rensburg 1989). Mettertyd is daar drie soorte Afrikaans aan die Kaap gepraat: Kaapse Afrikaans, Oranjerivierafrikaans en Oosgrensafrikaans. Dié dialekte is oorspronklik gepraat deur onderskeidelik slawe, Khoi en die vryburgers en veeboere in die binneland (Van Rensburg 1997:7). Van Rensburg (1990:68) beskou dié variëteite as die historiese dialekte van die taal. Enige lewende taal word gekenmerk deur die feit dat die taal in sy struktuur op verskillende grammatikale vlakke variasie vertoon. Dit is vir die gewone oor die maklikste hoorbaar op die klankvlak (byvoorbeeld onder naas oener) of die woordeskatvlak (byvoorbeeld lankal naas hoeka) (Van Rensburg 1997:11).

    Oor die begrip "standaardtaal", en veral oor "Standaardafrikaans", is daar al baie gedebatteer. By sommige deelnemers aan die debat is dit duidelik dat dit 'n emosionele saak is wat hervorming benodig. Volgens Deurmert (2004:9) was die standaardisering van die taal 'n strategiese en beplande herskikking van die Kaaps Hollandse taalvorme en variëteite. Roberge (1990, 1992) is van mening dat die geskiedenis van Afrikaans ten nouste verband hou met Afrikanernasionalisme en die ontstaan van die apartheids-ideologie en sou die vroeë pogings van standaardisering die basis lê om Afrikaans as witmanstaal te vestig, en dus deel te maak van die karakter van die Afrikaner se identiteit. Daarteenoor is die ander variëteite van Afrikaans afgemaak as substandaard.

    Volgens Van Rensburg (1997:17) was dit juis een van die redes waarom veral sprekers van Kaapse Afrikaans aan die einde van die tagtigerjare van die twintigste eeu hulle sterk uitgelaat het oor die verhouding tussen die soort Afrikaans wat hulle gepraat het en Standaardafrikaans. Kinders wat met Kaapse Afrikaans grootgeword het, moes skielik al hul skoolwerk in 'n ander soort Afrikaans doen (Esterhuyse 1986). Van hul besware was dat voorgeskrewe werke 'n ander leefwêreld voorstel as dit waaraan kinders met 'n bepaalde variëteit van Afrikaans bekend was. Die debat herinner sterk aan die huidige debat oor moedertaalonderrig in Suid-Afrika waar kinders 'n Afrikataal by die huis praat, en dan in die skool met Engels gekonfronteer word (Ramphele 2009).

    Dit is belangrik dat waar variëteite vroeër as verkeerde of minderwaardige vorme beskou is, daar vandag aanvaar word dat variëteite van 'n taal gelykwaardige onderdele van dié taal is (Webb 1989:412). In die lig hiervan is Standaardafrikaans slegs een van die variëteite van Afrikaans, naas ander variëteite, wat vir die hoë funksies gebruik word. Die term "standaardtaal" impliseer dus nie dat dit 'n beter (of meer korrekte vorm) van die taal is nie (Carstens 2011:282, Ponelis 1994:107, Van Rensburg 1997:31). Gevolglik is Ponelis (1994:106) van mening dat Standaardafrikaans 'n goue eeu beleef het, maar nou 'n keerpunt bereik het wat belangrike gevolge vir die taal inhou.

    Die algemeen erkende betekenis wat wêreldwyd aan 'n standaardtaal geheg word, is dat dit die taalvorm is wat geassosieer word met belangrike gebruikskontekste - soos akademiese taal, regstaal en onderrigmateriaal wat 'n sekere prestigewaarde geniet. (Carstens 2011:285, Kotzé 2009, Van Rensburg 1997:43). Volgens Kotzé (2009) is die seleksie van die "standaardgrammatika" van Afrikaans die kollektiewe resultaat van gebruikspatrone wat oor jare deur talle taalgebruikers, -praktisyns en akademici deur 'n onderlinge skuur- en skaafproses vasgelê is. Die mense wat 'n rol daarin speel, is diegene wat belang het by, en die toewyding het tot formele taalgebruik, en behoort volgens Carstens (2011:285) nie noodwendig aan enige standaardiseringsliggaam nie. Die Taalkommissie is verantwoordelik vir die kodifisering van die woordeskat van Standaard afrikaans. Behalwe om leiding te gee wat betref die spelling van probleem- en voorbeeldgevalle, word daar ook van tyd tot tyd nuwe woorde in die Afrikaanse Woordelys en Spelreëls (AWS) opgeneem wat deur die breë taalgemeenskap geselekteer, aanvaar en op so 'n wyse gekultiveer is dat dit geredelik deur die gebruikers vir die hoër funksies van die taal gebruik kan en sal word. Daarbenewens word verskillende kultuur- en godsdienstige groepe geraadpleeg. So is daar byvoorbeeld in die jongste AWS ongeveer 80 nuwe Moesliem-woorde8 opgeneem wat spellingleiding of erkenning vereis (Kotzé 2009). Voorbeelde hiervan verskyn in 'n volgende afdeling.

    Kaapse Afrikaans

    Kaapse Afrikaans is 'n besonder lewenskragtige taal wat vandag nog in die Wes-Kaap en veral die Bo-Kaap gehoor word. Dit dien tot in die 21ste eeu nog as godsdienstaal in die Moesliemgemeenskap (Hugo 2009:43, Van Rensburg 1989:437).

    Invloed van die slawe

    Kaapse Afrikaans is hoofsaaklik deur die slawe en hul nasate gepraat en het heelwat Moesliem en Arabiese invloede bevat. Teen 1808 het Kaapse Afrikaans die grootste getal sprekers gehad - meer as 63 000 (Du Plessis 1985, Le Cordeur 2010) - waarvan die meeste slawe afkomstig was uit Angola, Guinee, Madagaskar, die Indiese kusgebiede soos Malabar, Koromandel en Bengale, die Oos-Indiese Eilande en die Indiese Argipel. Die slawe het verskillende moedertale gehad en moes Nederlands leer om met hul meesters oor die weg te kon kom. Veral Maleis, die voertaal van Indonesië, het 'n groot invloed op Afrikaans en Nederlands gehad omdat die VOC die opdrag gegee het dat slawe gedwing moet word om Nederlands te leer. In 1658 is 'n skool gestig waar die slawekinders Hollands kon leer (Raidt 1991:96). Die slawe het dikwels die kinders van hul meesters opgepas. Dit was vir hulle belangrik om Nederlands te leer, aangesien slegs slawe wat dié taal magtig was, hul vryheid kon terugkoop. Gevolglik was daar teen die einde van die 18de eeu 'n groot gemeenskap van vryslawe. Baie het ambagte beoefen, soos kleremakers, bakkers, messelaars, skrynwerkers en kokke, en die ambagte is van geslag tot geslag oorgedra. Die meeste slawe kon 'n vorm van Portugees, bekend as Maleis-Portugees, praat. Afrikaans het egter spoedig Maleis-Portugees as lingua franca, die algemene omgangstaal, vervang. Woorde uit Maleis-Portugees wat in Afrikaans behoue gebly het, is onder andere katel, kraal, sambok, bredie, ramkie, tronk, nooi en tamaai (Hugo 2009:17, Van Rensburg 1997:11-12). Die invloed van Maleis is opvallend in die uitspraak van die j- as dj-, soos in djy en djille (jy en julle). Volgens Bosman (1928) het ons hier te make met 'n eienaardigheid in Maleis-Afrikaans, beperk tot die streke waar die slawe-invloed die sterkste was. Oosterse woorde wat in hedendaagse Afrikaans gehoor kan word, is blatjang, atjar, sambreel, ramkie, spens, piesang, piering, kierang, koejawel en baadjie, maar die bekendste woord van Maleise afkoms is baie (van banjak) (Raidt 1991:47).

    Die rol van die Kaapse Moesliems

    Moesliem-Afrikaans is een van die vroegste soorte Afrikaans aan die Kaap en een van die eerste Afrikaanse manuskripte was die Moesliems se Heilige Koran. Baie slawe het die Islamitiese geloof aangeneem en uit die Koran geleer om teksgedeeltes en godsdiensgebruike uit te skryf. Daar was in dié tyd 'n hoër persentasie geletterdheid onder Moesliem-slawe as onder die Nederlandse matrose (Raidt 1991:78), aangesien die slawe se Islamitiese godsdiens vereis het dat hulle die Koran en godsdienstige geskrifte moes lees. Die Kaapse Moesliem-gemeenskap begin gevolglik reeds in 1793 met die baie suksesvolle madrassa (Moesliem-skool) in Dorpstraat (Davids 2011:68). Aanvanklik is die Maleise alfabet gebruik, maar later die aangepaste Arabiese alfabet van sjeg Abu Bakr Effendi, 'n godsdiensgeleerde van Turkye wat die Kaap in 1860 besoek het. Hy stig in 1862 sy eie madrassa op die hoek van Breë- en Waalstraat met sy vrou, Tahora, as hoof. Dit was die eerste skool waar in Afrikaans klasgegee is. Moesliem-kinders het hul godsdiensonderrig uit die Koran ontvang met behulp van die sogenaamde koplesboek waarin skryfoefeninge gedoen is in Kaapse Afrikaans, maar met die Arabiese alfabet (Hugo 2009). Die oudste vertaalde Afrikaanse teks is die Bayân al-Dîn (uiteensetting van die geloof) wat deur Abu Bakr in Arabiese skrif geskryf is (Van Rensburg 1997:13). Die Moesliems het dus 'n groot rol gespeel in die totstandkoming van Afrikaans. Volgens De Waal (in Steyn 1980:159) was dit net die Moesliems wat in Kaapstad baie getrou aan Afrikaans gekleef het. Davids verwoord dit só:

    Today [we] know that by the final emancipation of slavery in 1838, not only was Cape Afrikaans the dominant language spoken by the slaves and Free Blacks in Cape Town, but it was written in the Arabic script.

    (Davids 2011:75)

    Bekende Moesliem-woorde wat reeds in Afrikaans voorkom, is die volgende (vgl. Davids 2011:250). Die etimologiese oorsprong word ook aangedui:

    Kaapse Afrikaans Etimologiese oorsprong Betekenis
    atjar atjar (Mal) vrugtepiekelslaai  
    barakat berkat (Mal) kospakkie vir huis toe neem
    batja batja (Mal) bid uit die Koran
    bingo bingung (Sun) verward
    boeka buka (Sun) breek die vas
    djamang djambun (Sun) toilet
    kanalla karma Allah (Mal) asseblief
    labarang lebaran (Sun) alledaagse naam vir Eid
    lambar lamar (Mal) verloof
    manien-gal meninggal (Mal) dood
    mantra mantera (Mal) geestelike heling
    moeili-at meli-hat (Mal) moeilkheid
    motjie munje (Java) vrou/eggenote
    pang bapang (Mal) man/oom
    meinta/boeta-maaf minta mu'aaf (Mal) verskoon my
    poewasa puwasa (Sans) om te vas
    slamat selamat (Mal) veels geluk
    tramakasie terima kashi (Mal) terima kashi (Mal)

    * Mal = Maleisië; Sun = Sunda-Arabies; Sans = Sanskrit-Arabies

    Die volgende Moesliem-Afrikaanse lemmas kom tans voor in die Afrikaanse Woordelys en Spelreëls (Klopper 1983, Kotzé 2009):

    asser (gebedsbeurt), bai (aanspreekvorm vir ouer man), bang (die bilaal - ons tot gebed), batja (uit die Koran resiteer), boeja (vader), boeka (die vas breek), deen (geloof), djannat (hemel), djoemoea (moskeediens), do'a maak (voorbidding doen), eid (Islamitiese fees), eid moebarak (seëngroet), fietna (iemand wat skinder), gadj (pelgrimstog na Mekka), galaal of halaal (die kos is -), garaam (verbode, varkvleis is -), gatiep (assistent van imam), hadjie (iemand wat die gadj voltooi het), hak-en-tak (stry), handvol (die kinders is vandag 'n -), iblies (die duiwel), imaam of imam (predikant), inkommer, kafier (ongelowige), kanalla (asseblief), kaparrang of kaparring, karienkel (met stemglydings sing), kitaab of kitaap (geloofsonderrigboek), koefia (fes), Koer'aan of Koran of Qoer'aan of Qur'aan, kramat (graf van heilige), kris (Moesliem-naam vir 'n Christen; - draai), Labarang (feesdag) (bv. - Ramadaan/Gadj), staanvastig (ortodoks gelowig), sweetgeld, tatta (oupa), tjaia (voorkoms; gesig), trammakassie (dankie), werksloon (Islamities)(rituele plig), whaktoe (gebedstyd).

    Kaapse Afrikaans word ook gekenmerk deur talle eiesoortige idiome wat hul oorsprong in Moesliem-Afrikaans het (vgl. Davids 2011:254):

    • Aansit: Sy kan baie aansit as sy praat. (Sy is baie aanstellerig)

    • Aspris: Jy lewe aspris. (Om met opset iets te doen)

    • Brêggat: Jy kan mos sien hy's 'n ou brêggat. (Hy is 'n pierewaaier)

    • Bus: Sy is bus. (Sy is baie nuuskierig)

    • Ghasegh: Moet tog nie so ghasegh (gesig) verkoep nie. (Soek vir gunsies)

    • Huis: Moenie huisbou nie man, kry klaar. (Kry klaar )

    • Kart: Ek het hom 'n kwaai kart geskiet. (Ek het 'n goeie leuen vertel)

    • Karte: Hy is onner karte. (Hy is vol stories)

    • Kop: Waar kry jy daai kop? (Jy is seker mal)

    • Kwailappie. (Mooi so!)

    • Laa-die-daa: Hulle is laa-die-daa-mense. (Gesiene mense)

    • Laai-laai: My ouma is baing laai-laai. (Sy is skerp met die tong)

    • Lag-lag: Ons het lag-lag gewen. (Ons het maklik gewen)

    ougat /poenankies: Sy is tog te ougat /poenankies. (Sy is baie oulik)

    • Poep: Hy is 'n poep-op-'n-lappie. (Hy is nikswerd)

    • Reent: Waar slaap jy as dit reent? (Waar kom jy vandaan?)

    toe : Sy is so toe soes OK op Sondags. (Sy is baie dom)

    Ander kenmerke van Kaapse Afrikaans is (vgl. Dreyer 1986, Small 1983:66):

    • Die gebruik van ge- saam met Engelse woorde: ge-strike, ge-change

    • Die weglating van konsonante aan die einde van woorde: vi in plaas van vir, see in plaas van seer, ma in plaas van maar

    • Die besitlike konstruksie wyk af van die standaard deurdat die voornaamwoord in sy verboë vorm gebruik word: onse mense, onse taal

    • Die gebruik van Engelse woorde asof dit Afrikaans is: struggle, check jou later

    • 'n Eiesoortige gebruik van woorde om na dinge te verwys: gangsters vir bendes, jintoe vir prostituut; goose vir meisievriend, biesaggeit in plaas van besigheid

    • Assimilasie kom besonder baie voor: ammal, anners, kinners

    • Ontronding van klinkers: yt in plaas van uit, hyse in plaas van huise, lyster in plaas van luister

    • Die vrye wisselwerking ("code switching") tussen Afrikaans en Engels

    • Vokale met 'n onvaste lengte: lat in plaas van laat; gat in plaas van gaan.

    Volgens I.D. du Plessis (1935) het die Moesliems ook 'n groot rol gespeel om die Afrikaanse en Nederlandse liedere wat terugverwys na die dae van slawerny in Kaapstad aan die lewe te hou. In 'n tyd toe die meeste Afrikaners in Kaapstad verengels het, het hulle Maleierkore9 gestig. Davids (1994:40) voer aan dat die lirieke van die Kaapse Moesliem-musiek 'n Hollandse oorsprong het. Tog het hierdie kultuurbydrae weinig erkenning gekry van die Afrikaanse organisasies. Die bekendste lied is waarskynlik Rosa, 'n minnelied wat op feeste en bruilofte gesing word en waarna dikwels as die nie-amptelike volkslied van die Kaapse Moesliems verwys word. Rosa is die storie van 'n jong paartjie wat verlief raak. Die jong man gee uiting aan sy gevoelens en vra haar om met hom te trou. Drie maande later ontmoet hulle weer en stel die troudatum vas. Hul ouers kom bymekaar en hulle is getroud:

    Rosa

    Laas toe ek een meisjie [mə] het bemin,

    En hare naam was Rosa dear

    Sy was maar nimlik sestien djare [d∫αə]10 oud (sestien djare [d∫αə] oud)

    Sy was een meisje [mə] van haar woord
    En sy sê sy sal my nooit verlaat
    Sy sê en sy vollig my waar ek gaan
    Rosa Rosa dit was haar naam
    En sy vollig my waar ek gaan
    Dit was drie maande daarna (drie maande daarna)
    Ontmoet ek vir Rosa op een straat

    Spakket ek met Rosa ene word (Rosa ene word)
    Dit was die woord van trou akkoord
    En sy sê sy sal my nooit verlaat
    Sy sê sy vollig my waar ek gaan
    Rosa een my Rosa dear Rosa vollig my
    djou [d∫œu] swaer

    (Desai 2004)

    Let op na die gebruik van Nederlandse woorde in die lirieke soos: nimlik, een meisje, sy vollig my, ene word, en trou akkoord. Ook hier is die Maleis-konstruksie van djy (jy) en djou (jou) opmerklik. Verder moet die leser daarop let dat die lied gesing word met die karienkel (stemglyding) soos wat die Imam doen wanneer daar in die moskee gebid word.

    Volgens Karaan (2009) is dit bewys "die Kaapse Moesliem-gemeenskap het kom rustig raak in sy eie vel oor Afrikaans". In 'n referaat gelewer tydens die Roots-konferensie getiteld "Afrikaans en die Kaapse Moesliem-gemeenskap vandag", skryf sy as volg:

    Met die totstandkoming van die Stem van die Kaap-radiostasie 15 jaar gelede moes besluit word oor 'n taal vir dié radiostasie wat hoofsaaklik die Moesliem-gemeenskap bedien. Dit was 'n baie omstrede onderwerp, want hoewel Afrikaans die omgangstaal in dié gemeenskap is, het polities-bewuste Moesliems al verder wegbeweeg van die taal en die grootste deel van die Moesliem-gemeenskap was onbewus van die rol wat ons voorvaders gespeel het in die totstandkoming van Afrikaans. Dit was eers toe wyle Achmat Davids begin navorsing doen het oor die oorsprong van die taal dat die Moesliem-gemeenskap daarvan bewus geraak het. Dit was 'n openbaring vir baie jeugdige Moesliems, ek inkluis. Trouens, die ouer garde in ons gemeenskap het altyd na hulself as "Afrikaners" verwys omdat hulle Afrikaans as moedertaal gepraat het. As 'n radiostasie, moes ons egter versigtig trap: Ons kon nie BBC-Engels praat nie. Ons kon ook nie SAUK-Afrikaans praat nie. Dit was nie wie ons is nie en sou die meeste luisteraars ongemaklik laat voel. Wat ons nodig gehad het, was ons eie klank. Daarom was dit 'n verrassing toe ek 'n meningsopname gedoen het en bykans 80% van ons mense meer Afrikaans op die lug wou hoor. In 'n ander peiling het 89,3% die idee om Afrikaans met 'n unieke Kaapse geur terug te eis, ondersteun. Dit is nou makliker om te aanvaar dat ons nog altyd Afrikaans was, en trots te wees dat ons Afrikaans is.

    In die volgende onderhoud met 'n Moesliem-vrou van die Bo-Kaap moet die leser daarop let hoedat die spreekster dikwels die konsonante aan die einde van woorde weglaat (somme, vi), en van Engelse woorde (gangsters), assimilasie (inni, oppie) en ontronding (hystoe, niem) gebruik maak:

    Nou die [gεngstərs] [da:i] was nou vir [d∫œu] 'n [anər] storie, hulle het nog vir [d∫œu] [həistu] [xənim] as [d∫əi] [əni] aande [lup] laat, [nœu] mεttə [wa:] [d∫əi] vannaan kom. Nou staan [da:] 'n paar ouens [כpi] hoek, hulle sing, hulle sing [da:i] nuwe number wat nou uitgekom het, hulle [səŋt] [sכma] [ fə] [d∫œu], hulle [vit] [d∫əi] woon [da:], nou sê hulle kom ons walk [sam] met [ha:], nou [nim] hulle vir [d∫œu] [həistu].

    Uit die onderhoud is dit duidelik dat Kaaps presies verwoord wat die spreekster wil sê. Let op hoedat die trots merkbaar is as sy oor die goeie ou dae praat veral as sy vertel hoe die gangsters (bendes) van daardie tyd vir hulle 'n liedjie (number) gesing het terwyl hulle saam met haar huis toe stap (walk). Kaaps slaag juis daarin om haar geborgenheid tussen die gangsters te verwoord omdat sy in die eerste plek tuis voel in haar huistaal.

    Maar Kaaps is nie net 'n spreektaal of taal van onderrig nie. Dit is ook gebruik as publikasie- en skryftaal met 'n eie literêre tradisie (Van Rensburg in Davids 2011:297). Van die belangrikste skrywers in hierdie variëteit is Peter Blum, Uys Krige, Adam Small, Peter Snyders, Marius Titus en S.V. Petersen. Daar word soms neerhalend na Kaaps verwys as "Gammattaal". Gammat is 'n manlike eienaam wat afgelei is van Mohammad (in Arabies uitgespreek as Moegammad). In die voorwoord van sy bundel Kitaar my kruis benadruk Small (1962) dat Kaaps nie 'n grappigheid of 'n snaaksigheid is nie. Nog 'n skrywer in Kaaps, Peter Snyders, skryf gedurende die "struggle"tyd selfspottend en satiries oor die sprekers van dié taal se gebrek aan taaltrots en kulturele selfvertroue:

    Of hoe? - Peter Snyders11
    dit issie mooi nie:
    dit diegreid die coloured mense -
    of hoe?
    Wat traai djy
    om 'n coloured culture te create?
    of dink djy is snaaks
    om soe te skryf
    of hoe?
    Traai om ôs lieweste op te lig;
    ôs praat mossie soe nie ...? of hoe?

    (uit: Versagtende omstandighede, 1995)

    Een van die bekendste domeine van Kaaps as 'n taal wat die lot en noodlot verwoord van die mense wat dit praat, is wanneer die Kaapse Klopse op Tweede Nuwejaar die Kaapstadse strate omtower na 'n skouspel wat slegs op enkele plekke elders in die wêreld te sien is. Die Kaapse Klopse is 'n Karnaval waaraan jaarlikse tot 13 000 lede deelneem, van wie talle se gesigte swart gesmeer is. Die klopse is uitgedos in hul kleurvolle uitrustings met bypassende sambrele terwyl musiekinstrumente soos die ghoema gespeel word. Die woord "klopse" is afgelei van die woord "klubs" in Hollands of "troepe" in Engels. Die meeste lede kom van die Afrikaanssprekende, werkersklas bruinmense wat die tradisie reeds sedert die middel van die neëntiende eeu onderhou. Alhoewel die fees onder Kapenaars as die Coon Carnival bekend staan, is dit herdoop na die Cape Town Minstrel Carnival omdat die term "coon" vir sommige mense aanstoot gee. Volgens oorlewering het die Karnaval sy ontstaan te danke aan 'n groep Amerikaners van Afrika-oorsprong wat in die laat 1800's die Kaapstadse hawe binnegekom het en die seevaarders met hul spontane musikale optredes vermaak het. Die gewilde lied Daar kom die Alabama verwys na die skip waarmee die groep na bewering aangekom het. Volgens 'n ander bron was die groep Amerikaners eintlik wit wat hul gesigte swart geverf het, vandaar die geverfde gesigte van vandag. Die haglike toestande waaronder die slawe gebuk moes gaan, soortgelyk aan dit wat die swart slawe in die VSA moes deurmaak, het tot die ontstaan van hierdie karnaval aanleiding gegee (Dennis-Constant 2007).

    Een van die gewildste items op die program is die sing van die Afrikaanse moppie; 'n oorspronklike Afrikaanse lied waarvan die lirieke self deur die groepe geskryf moet word. By een van die onlangse byeenkomste het ek die volgende lied opgeneem en toe getranskribeer. Let op hoedat die lied die Kaapse bruinmense se lief en leed verwoord; in hierdie geval beskryf dit die ongenaakbare gevolge van 'n Cosatu-staking wat dikwels gepaardgaan met leë beloftes oor salarisse en stakers wat toi-toi in die strate sonder dat hulle werklik weet wat die uitkoms sal wees:

    Viva Suid-Afrika!
    Ons hoor ons hoor
    Hulle ammal doen die toi toi toi (x2)
    Daar's onrus in Nyanga, Khayalitsha en Langa
    Orals in Suid-Afrika
    hoor ons die mense praat.
    (seblief tog, seblief tog)
    Die Kaap is [ani] [brant]
    (seblief tog seblief tog)
    Kyk dis [כpi] TV
    En [əni] squatter kamp
    Die area is skoongemaak
    Om hulle eintlik in te ja
    la la la O la la la...
    Eers het [כsi] geworry nie
    toe was alles tax free
    Maar toe kom die GST
    En nou [əsət] VAT
    VAT op ko, VAT op[ti]
    VAT op [əis] en [rəis]
    Maar niks op 'n stoppie nie.
    Die manne het in die [f
    εn] gebly