SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.51 número4Looking back towards the future: news objectivity and Niklas Luhmann's concept of the "reality of the mass media"Nuances of the concept culture - in historical and systematic perspective índice de autoresíndice de assuntospesquisa de artigos
Home Pagelista alfabética de periódicos  

Serviços Personalizados

Artigo

Indicadores

    Links relacionados

    • Em processo de indexaçãoCitado por Google
    • Em processo de indexaçãoSimilares em Google

    Bookmark

    Tydskrif vir Geesteswetenskappe

    versão impressa ISSN 0041-4751

    Tydskr. geesteswet. v.51 n.4 Pretoria dez. 2011

     

    NAVORSINGS- EN OORSIGARTIKELS

     

    Geloofstaal tussen pan-literalisme, pan-metaforisme en die dubbeltaalmodel

     

    Fiduciary language between pan-metaphorism, pan-literalism and the double language thesis

     

     

    M. Elaine Botha

    Emeritus professor of Philosohy, Redeemer University College, Ontario, Canada / Navorsingsgenoot, Noordwes-Universiteit, Potchefstroom Elainebotha@gmail.com

     

     


    OPSOMMING

    Pan-metaforisme dui op 'n posisie wat argumenteer dat dit wat geartikuleer word slegs metafories tot uitdrukking gebring kan word of slegs via die gebruik van metafore toeganklik is. Pan-literalisme aan die ander kant verdedig die aanvaarding van die primaat van die letterlike in waarheidsaansprake, predikasie en interpretasie en veronderstel dat letterlike betekenis nie reduseerbaar is nie. In hierdie artikel word die standpunte van Mary B. Hesse (1983): "all language is metaphorical") en twee verteenwoordigers van die skool van Lakoff en Johnson se konseptuele metafoorteorie, Zoltán Kövecses(2011) en Jäkel (2002) kortliks aan die orde gestel: ten einde enkele fasette van die metafoordiskussie met betrekking tot geloofstaal en religieuse tekste in reliëf te bring. Die algemeen-gangbare identifikasie van letterlik en histories-konkreet teenoor metafories word afgewys. Twee kante van die problematiek word uitgelig ten einde aan te toon dat letterlik net so kategoriegebonde is as wat metaforiese taalgebruik is en voorts dat die identifikasie van letterlik en konkreet-histories aan die een kant en die jukstaposisie daarvan met metafories aan die ander kant nie houdbaar is nie. Beide Kövecses (2011) en Jäkel (2002) implementeer dimensies van die denke van die Lakoff en Johnson Skool in verband met "konseptuele metafore". Hulle redeneer beide dat religieuse tekste gebou word op erkende konseptuele metafore wat universeel voorkom. Ek redeneer dat alle taal (nie enkel begrippe nie) metafories van aard is. Omdat die begrip "religieus" dikwels binne die konteks van 'n dualistiese visie van sakraal en profaan funksioneer en soms met godsdiens in die enger sin van die woord geïdentifiseer word, word in hierdie artikel onderskei tussen "religieuse" taal en geloofstaal.

    Trefwoorde: Metafoor, religie, pan-metaforisme, pan-literalisme, konseptuele metafoor, literalisme


    ABSTRACT

    In this paper attention is given to the tension between two radical views concerning the nature of language: pan-metaphorism and pan-literalism. These positions form the extreme responses to the so called double language thesis (literal versus metaphorical). It is argued that in order to understand the role of metaphor in religious discourse the dualism of sacred and profane needs to be transcended and a new element added to the understanding of the role of faith in human discourse and experience. This element is the fiduciary moment. Polanyi speaks of the "fiduciary rootedness of all rationality" (1974:297).
    The "fiduciary moment" which expresses the human ability to believe (fides), to trust, to be certain, is an integral element of both a multi-faceted world and its potential to form the basis of a multiplicity of ways of knowing this world. In all human activity such a fiduciary element is present. This assumes that all domains of experience, domains of reality, interrelationships and cognition exhibit and share in the same stratification, of which the fiduciary (the ability to trust, to believe, to be certain) is one. This state of affairs points to the fact that the multi-faceted and multi-dimensional world exhibits both irreducible aspects and an integral internal coherence of these aspects. These aspects, facets or dimensions of reality are irreducible to one another and yet contain implicit references to other domains of experience (they are multifocal, exhibit multivocity). Distinguishing this notion of "religion" from the fiduciary moment characteristic of all human experience, knowledge and reality facilitates a clearer understanding of the presence and influence of "religious" convictions as ultimate convictions in discourse and texts.
    I argue that the universal human ability to believe, trust or seek certitude constitutes such an image-schematic structure and that, in turn, it is the root of a fiduciary conceptual metaphor. Moreover, this often tacit dimension, is present in all cognitive acts and characterises the commitment an intellectual community shares to viewing the similarities and dissimilarities (categorisations) of the world in a certain way.
    Significant recent developments in cognitive linguistics and metaphor theory have also contributed to a different understanding of religious discourse and the language of faith. On the one hand N.T. Wright argues against the notion that literal necessarily means real or concrete-historical. Mary B. Hesse's thesis that "all language is metaphorical" on the other hand shows that both literal and metaphorical language are classified and categorised and that the meaning of literal and metaphorical is always conditioned by context and remains a relative distinction. Two representatives of the Cognitive linguistic approach of Lakoff and Johnson, Zoltán Kövecses and Olof Jäkel, implement analyses of conceptual structures to show that religious discourse does not require a separate methodology to understand it. Jäkel tries to exemplify both prospects and limitations of the Cognitive Theory of metaphor in dealing with religious metaphor. The conceptual structure of JOURNEY and PATH are analysed in this process.
    My own contribution is an attempt to show that religious discourse should not be seen as sacred whereas other forms of language are regarded as profane. I suggest that the structure of language is basically the same in both instances, but that religious language is certitudinally qualified. This assumes a notion of religion understood as Clouser's (2005:23,24) definition of a religious conviction as "... a belief in something or other as 'divine' or ... a belief concerning how humans come to stand in proper relation to the 'divine'". The term "divine" is characterized "...as that which can exist independent of anything else (unconditional non-dependant reality)".

    Key concepts: Pan-metaphorism, literalism, metaphor, conceptual metaphor, religious language, religious discourse, faith


     

     

    Woord vooraf

    Die uitnodiging om medewerker te wees aan die feesnommer van die Tydskrif vir Geesteswetenskappe van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, ag ek 'n groot voorreg. Afrikaans bly my moedertaal, selfs na al die jare wat ek as Universiteitsadministrateur en Filosofiedosent in die koue Noorde (Kanada) deurgebring het. In die meer as vyftig jaar sedert ek in 1960 diens aanvaar het by die Afrikaanse Taal- en Kultuurvereniging van die S.A.S. en H. as Organiseerder van die Vroue- en Moederbeweging en Vroue- en Jeugredaktrise van Die Taalgenoot het ek my band met Afrikaans as taal nooit kwytgeraak nie en het die kontroverse rondom die taal in die algemeen en die stryd om die behoud van Afrikaans aan die Suid-Afrikaanse universiteite my blywend geboei. Miskien nog sterker was my eie soeke na die wyse waarop geloofstaal die taal en modelle van die wetenskap rig of binnedring... Hierdie soektog het my op die spoor van metaforiese taal gebring - 'n soektog wat uiteindelik weer gelei het tot die vraag na die rol van metaforiese en letterlike taal in die Bybel en die taal van die gelowige. Die ondersoekterreine was aan die Tydskrif vir Geesteswetenskappe en sy lesers oor 'n periode van meer as 50 jaar en drie primêre Bybelvertalings (1933,1953,1983) reeds goed bekend. Daarom lewer ek graag hierdie bydrae oor die besinning en konsekwensies van die rol van metafore in geloofstaal in die vertroue dat daarin aanknopingspunte aanwesig is wat vrugbaar mag wees vir toekomstige navorsing in Afrikaans.

     

    PROBLEEMSTELLING

    Een van die onderwerpe wat in die afgelope dekades groeiende belangstelling van akademici uit 'n verskeidenheid dissiplines beleef het, is die rol van metaforiese taal in die algemene spraakgebruik en in die wetenskap. Op die gebied van teologiese taalgebruik het hierdie ontwikkeling veral in die proses van Bybelvertalings aanleiding gegee tot kontroverse. Die "wegvertaling" van óf die metaforiese óf die letterlike taalgebruik van die Bybel was in verskeie kerkverbande aanleiding tot heftige diskussie. Die nuwe ontwikkelinge met betrekking tot metaforiese taal het ook aanleiding gegee tot die stel van nuwe vrae m.b.t. die kognitiewe betekenis van metafore. As alle taal metafories (of kategories) is, soos Mary B Hesse (1983) beweer, dan word die onderskeid tussen letterlik en figuurlik problematies. Dieselfde geld vir 'n uitgangspunt waar alle taal in die finale instansie as letterlik gesien word.

    Pan-metaforisme dui op 'n posisie wat argumenteer dat dit wat geartikuleer word slegs metafories tot uitdrukking gebring kan word of slegs via die gebruik van metafore toeganklik is. In die Teologie beteken dit dikwels die ontkenning van enige letterlike predikasie maar met die behoud van enige belangrike teologiese waarheidsaansprake - 'n belofte wat Alston (1989) glo by nadere ondersoek soos mis voor die môreson verdwyn. Pan-literalisme aan die ander kant verdedig die aanvaarding van die primaat van die letterlike in waarheidsaansprake, predikasie en interpretasie en veronderstel dat letterlike betekenis nie-reduseerbaar is.

    In hierdie artikel word die standpunte van Mary B. Hesse (1983): "all language is metaphorical") en twee verteenwoordigers van die skool van Lakoff en Johnson se konseptuele metafoorteorie, Zoltán Kövecses (2011) en Jäkel (2002), kortliks aan die orde gestel: ten einde enkele fasette van die metafoordiskussie m.b.t.geloofstaal en religieuse tekste in reliëf te bring. 'n Belangrike faset van hierdie diskussie is die algemeen-gangbare identifikasie van letterlik en histories-konkreet teenoor metafories. Twee kante van die problematiek word uitgelig ten einde aan te toon dat letterlik net so kategoriegebonde is as wat metaforiese taalgebruik is en voorts dat die identifikasie van letterlik en konkreet-histories aan die een kant en die jukstaposisie daarvan met metafories aan die ander kant nie houdbaar is nie. Beide Kövecses (2011) en Jäkel (2002) implementeer dimensies van die denke van die Lakoff en Johnson Skool in verband met "konseptuele metafore" in die proses van ontleding van Bybelse simbole en religieuse tekste. Hulle redeneer beide dat religieuse tekste gebou word op erkende konseptuele metafore wat universeel voorkom. Hierdie visie vorm een van die twee belangrike ontwikkelinge in die veld van metafoorteorieë wat aanknopingspunte bied vir die verdere diskussie van die metaforiese aard van menslike taal en kennis en die relatiewe geldigheid van die dubbeltaalmodel. Die tweede belangrike figuur wat lig werp op die kwessie onder bespreking is die standpunt van Mary B Hesse i.v.m. die kognitiewe aansprake van metafore en die metaforiese aard van alle taal.

    Ek wil graag in hierdie artikel redeneer dat alle taal (nie enkel begrippe nie) metafories van aard is. Omdat die begrip "religieus" dikwels binne die konteks van 'n dualistiese visie van sakraal en profaan funksioneer en soms met godsdiens in die enger sin van die woord geïdentifiseer word, word in hierdie artikel onderskei tussen "religieuse" taal en geloofstaal.

     

    SAKRAAL EN PROFAAN: BRON VAN VERWARRING

    Zoltán Kövecses (2011) argumenteer dat 'n groot deel van die dominante trekke van die Christendom begryp kan word met behulp van die alledaagse konseptuele sisteem en dat die begryp van religieuse diskoers nie 'n aparte en onafhanklik-bestaande konseptuele apparaat vereis wat op een of ander manier uniek is m.b.t. die interpretasie van die sakrale nie. Dit is inderdaad so dat religieuse taal op dieselfde stramien as gewone taal geweef is en dus ook nie van gewone, alledaagse taal verskil nie. Religieuse taal word egter juis van gewone alledaagse taal onderskei daarin dat dit uitdrukking gee aan die fidusiêre, konfessionele of "certitudinal'' karakter van handelinge, dinge of gebeurtenisse. Dit impliseer nie 'n dualistiese teenoormekaarstelling van die sakrale en die profane nie, maar die potensieel gedifferensieerde kwalifikasie van verskillende soorte taalgebruik, waarvan geloofstaal een tipe taal is. Regstaal en kerklike regstaal verskil, so ook liefdestaal in die huwelik en gesin en die taal van onderrig en so ook die taal van die politiek en van die joernalistiek. Welke metafore ook al ingespan word om in hierdie gebiede diens te doen, die grense van hulle betekenis word bepaal deur die kwalifikasie verskaf deur die konteks waarbinne die metafore funksioneer. Hierdie stelling roep twee verwante vrae op: Eerstens die vraag na die aard van letterlike taal en die onderskeid daarvan van metaforiese taal en tweedens die vraag in hoeverre die identifikasie van letterlike taalgebruik reëel of konkreet-histories aanvaarbaar is. Die laasgenoemde probleem word vervolgens kortliks aan die orde gestel:

     

    IS LETTERLIK GELYK AAN KONKREET-HISTORIES?

    Die erkenning van die sentrale rol wat metaforiese taal in algemene kennisvorming en meer spesifiek Bybelse kennis en taal speel, dwing ons om te vra of 'n sg. "pan-metaforistiese" benadering ("... alle taal is metafories...") "... that we speak for the most part metaphorically about God, or not at all", Janet Soskice (1987:119) noodwendig aanleiding gee tot 'n visie waarin die realiteit en historisiteit van gebeure of die realiteit van God en Sy handelinge in die geskiedenis ontken sal word. So 'n visie gee aanleiding daartoe dat die blote stelling dat Skriftuurlike en geloofstaal primêr metafories van aard sou kon wees, visioene oproep van twyfel oor die werklikheid van Adam en Eva of twyfel oor die historisiteit van die opstanding van Christus. Die belangrikheid van die debat word deur Janet Soskice (1987) soos volg geformuleer:

    We are circling about a very real and important debate in modern theology when we consider metaphor, and this debate centres not on whether religious language is ineradicably metaphorical, but what follows if this is so.

    Dieselfde probleem word deur N.T Wright (2006) aangespreek wanneer hy die "...challenge of interpretation ..." aan die orde stel. Wright stel onomwonde dat God die mensheid aanspreek in woorde waardeur hy aan hulle 'n duidelike perspektief op hulle roeping en taak in Sy skepping gee. Die Woord(e) waardeur Hy spreek, is kontekstueel en kultureel bepaald en word gegiet in boeke, temas, sinne, argumente, gelykenisse, ens. wat deur mense onder leiding van die Heilige Gees geformuleer word. Maar hierdie Woord is nie net 'n vergaarbak van ware informasie oor God, Christus en die hoop van die wêreld nie, maar is integrale deel van die middele waardeur die lewende God deur die krag van Sy Gees mense en Sy wêreld red en voortstu op hulle reis en taak van skeppingsvernuwing. Sommige skrywers argumenteer dat die reaksie op hierdie teenstelling van standpunte oor die Bybel ten slotte berus op die vraag of die Skrif letterlik of metafories gesien moet word. Wright (2006:91) daarenteen meen dat hierdie onderskeiding (in die vakliteratuur bekend as die "double language thesis") drastiese herbesinning verg, des te meer omdat meeste Bybellesers aanvaar dat die onderskeiding tussen letterlike en metaforiese taal 'n bruikbare en geldige onderskeiding is.

    Meer nog, word gemeen dat historiese gebeure primêr met behulp van letterlike taal beskryf word. Dit gee aanleiding tot valse probleemstellings. So byvoorbeeld word "letterlik" en "metafories" dikwels aangewend ten einde die tipe sake waarna verwys word, aan te dui. Die vraag of die opstanding van Christus "letterlik" of "figuurlik" gesien moet word, het dikwels as agtergrond die veronderstelling dat letterlik geïdentifiseer moet word met "werklik" of "reëel" (het dit werklik plaasgevind), terwyl, so word daar gemeen, metaforiese taal nie noodwendig enige konkreet-historiese realiteit aan die orde stel nie. Wright stel dat hierdie gebruik van die onderskeiding letterlik en figuurlik verwarrend is. Die Skrif is boordevol verwysings en beskrywings na letterlik-historiese en konkrete gebeure wat ryklik gebruik maak van metaforiese taal om juis hierdie (letterlike) boodskap oor te dra.

    Acknowledging (indeed celebrating) the intended literal reference, investigating the concrete events thus referred to, and exploring the full range of metaphorical meaning - these tasks are to be integrated together as key elements of biblical interpretation. (Wright 2006:195)

    Ek stem saam met Wright (2006:196) dat hierdie identifikasie van letterlik met konkreet of werklik en metafories met abstrak of irreëel die problematiek rondom hierdie begrippe verder kompliseer. Die erkenning van die kompleksiteit van die onderskeiding los nog nie die verstrengeling van letterlik-konkreet-histories en metafories op nie. Die mees letterlik-konkrete en waar stellings word dikwels juis met behulp van metafore beskryf. Wanneer die stelling dus gemaak word dat alle taal metafories is, word daarmee bedoel dat in alle taalgebruik metafore onvermydelik gebruik word en dat hierdie metafore kognitiewe betekenis dra. So byvoorbeeld is Psalm 23 voluit metafoor en (konfessioneel) "letterlik" waar, terwyl dit tog nie letterlik bedoel word nie. (God is geen Oosterse skaapherder nie.) Die essensie van die troue sorg van God vir Sy "skape" (volk) word wel letterlik bedoel, maar die letterllike bedoeling kom in metafoor tot uitdrukking. 'n Soortgelyke argument kan aangevoer word t.o.v.die gelykenis van Christus die goeie Herder (Johannes 10) as toegang tot die skaapstal. Die taalgebruik is volop metafories maar is gevul met diep-letterlike konfessionele betekenis.

    As die valse identifikasie van "letterlik" met konkreet-histories verbreek word en die stelling dat alle taal metafories is, aanvaar word, dan ontstaan die vraag in hoeverre die dubbeltaalmodel nog enigsins diens doen in dergelike metafories-dominante taalgebruik. Anders gestel: As alle taal metafories is, bly daar dan nog ruimte oor vir die erkenning van letterlike taal? Die vraag word des te meer dringend wanneer in ag geneem word dat die tipering van taal as "metafories" net gemaak kan word teen die agtergrond van letterlike taalgebruik. Die voorlopige antwoord op hierdie vraag moet gesoek word in die konteks-bepaaldheid van alle taalgebruik en die feit dat metaforiese taal in die gang van die geskiedenis in letterlike taal (dooie metafore) kan oorgaan en omgekeerd. 'n Interessante voorbeeld in hierdie verband is die geometriese vorm - die sirkel.

    In die geskiedenis van die ontwikkeling van die fisiologie van bloed en bloedsomloop het Galen en later Harvey ontdek dat die wyse waarop bloed deur die liggaam beweeg as "sirkel"vormig gesien sou kon word. Hier was die idee van 'n sirkel 'n blote metafoor (hipotese) wat later geblyk het diensbaar te wees vir die verstaan van die beweging van bloed - vandaar die beskrywing van die beweging as "bloedsirkulasie". Die idee van die sirkel kom egter van die begrip "circus" wat juis letterlik die ronde of sirkelvormige terrein van die sirkus aandui. Die betekenis wortel op sy beurt weer in die sirkelvormige gang wat deur die Romeinse perderuiters gevolg is in hulle deelname aan opvoeringe in die ronde of ovaalvormige sirkus (Circus Maximus). Harvey voer die sirkelmetafoor as hipotese in sy navorsing in. Die metafoor verwerf 'n geykte letterlike betekenis in die begrip "sirkulasie", maar in die historiese onwikkeling gaan die betekenis van die geometriese sirkel en die letterlike ryvlak van die stadion die metaforiese betekenisoordrag van die begrip "sirkus" vooraf. Daar is dus 'n historiese dinamiek ingesluit in die ontwikkelingsgang van die begrip "sirkel" - een waarin metaforiese en letterlike betekenis mekaar afwissel.

     

    GELOOFSTAAL: PER DEFINISIE METAFORIES?

    Standpunte met betrekking tot die aard van religieuse diskoers of geloofstaal en meer spesifiek die taal van die Skrif kan op 'n kontinuum tussen "pan-letterlik" en "pan-metafories" gekarteer word. Nie alle outeurs aanvaar die pan-metaforiese lesing van alledaagse taal, die taal van die Skrif en die taal van wetenskap en teologie nie. Sommige outeurs meen dat hierdie bevoorregte posisie van metaforiese taal slegs die taal van geloof, religie en Skrif toekom. Polkinghorne (1991:2) meen dat metafoor en simbool par excellence die taal van die Skrif, teologie en religie is, terwyl wiskunde die natuurlike taal van wetenskap en fisika is. Sodanige visie word dikwels gekombineer met een soos dié van McFague (1987:34) en Van Huyssteen (1997:187). Hy meen dat letterlike taal verplaas word deur 'n bewussyn van die metaforisiteit en relasionaliteit van alle taal, maar, argumenteer dan dat binne die raamwerk van post-modernisme dit veral religieuse taal is wat deur hierdie verandering gekenmerk word. Hy sê:

    Religious narrative leads us to see 'through the window' of metaphor, to the way we ought to believe. Epistemic access through metaphor is therefore neither empirically deductive, nor literally true, nor subjective illusion.

    Van Huyssteen (1997) en McFague (1987:33) sou beskryf kon word as teologiese "pan metaforiste", een van die talle subspesies van "panmetaphoricism" - 'n posisie wat deur Van Woudenberg (1998:231, 246, 247) as onhoudbaar gesien word omdat alles wat met behulp van metafore gesê kon word volgens hom ook in letterlike taalgebruik omgesit kon word. Die stelling van Van Woudenberg meen ek, is aanvegbaar en tot op hoë mate agterhaal. Hoe bruikbaar die vergelykingsteorie of die substitusieteorie in verband met metafore ook al is om die betekenis van metafore te bepaal, skiet hulle tekort wanneer dit kom by die verklaring van die kreatiewe, nuwe en interaktiewe insigte wat metafore oopmaak. Sekere metafore word juis gekenmerk deur die feit dat hulle geen vergelyking uitdruk of tot een letterlike taal gereduseer kan word nie (substitusie), maar dikwels juis nuwe, kreatiewe en verbeeldingryke perspektiewe ontsluit wat in die proses van interaksie tussen twee semantiese velde ontstaan.

     

    METAFORIESE TAAL MEER AS RETORIES EN DEKORATIEF

    In die aanvanklike fase van die heropbloei van die metafoordiskussies was 'n groot deel van die aandag gerig op die kognitiewe aansprake van metaforiese taal. Waar metafore histories gesien is as 'n retoriese en literêre instrument met weinig kognitiewe aanspraak, het dit algaande duidelik geword dat metaforiese taal werklik kognitiewe status het en toegang verleen tot die werklikheid en die waarheid, maar dat letterlike taal nie so onproblematies was as wat dit aanvanklik gemeen is nie. Hierdie feit het die stelling dat "text indeterminacy" opgelos sou kon word deur terug te keer tot letterlike interpretasie of in die geval van trans-kulturele vertaling terug te keer tot "direkte vertaling" geproblematiseer. Hiermee word die aanwesigheid van letterlike en metaforiese taal in die Skrif en geloofstaal nie ontken nie, maar word sterk klem gelê op die duidelike analise van die tipe teks waarbinne die onderskeie vorme van taal voorkom (profesie, geskiedenis, poësie, wysheidsliteratuur ens.). In die finale instansie moet erken word dat geloofs- en Skriftaal ten diepste "konfessionele" taal is. Letterlike en metaforiese taal in die Skrif moet dus onder leiding van hierdie oorkoepelende konfessionele kwalifikasie gelees en geïnterpreteer word.

    In huidige diskussies word 'n meer letterlike lees en interpretasie van die Skrif egter soms verdedig ten einde die Skrif te beskerm teen relativistiese en pluralistiese interpretasies (McFague 1985:4). Ook hier soos in die geval van wetenskaplike teorieë, is sodanige posisies gebonde aan vooronderstellings aangaande die aard van taal, waarheid, realisme, ens. Letterlike benaderinge onderskryf dikwels implisiet 'n visie van taal "... as an ideal static system with fixed meanings which are dependent upon fixed syntactic and semantic rules" (Arbib & Hesse 1986:148). Hierdie benadering is histories gewortel in die Aristoteliese konsepsie van taal, wat soos volg deur Hesse (1983:29,30) opgesom word:

    ... there is a distinction between proper and improper naming, derived from the theory of natural kinds and essences; a metaphor is a word borrowed from an alien context; its use is therefore deviant. The reason for the particular word borrowed in metaphor lies in a resemblance or analogy of meanings. The metaphor is in principle exhaustively paraphrasable by finding the proper word or words, therefore the net information gained by metaphor plus the restitution of proper meaning is nil; metaphors have no cognitive but only decorative function.

    Die implikasies van die Aristoteliese visie is deur die sogenaamde reduksionistiese metafoorteorieë - die sg. vergelykings- en substitusie beskouing - uitgewerk. Beide teorieë berus op die veronderstelling dat metafore vertaal en gereduseer kan word tot letterlike betekenis sonder verlies van inhoudelike betekenis.

    Nie-reduksionistiese teoretici soos Black, Ricoeur, Lakoff en Johnson, Colin Turbayne en Mary Hesse opponeer so 'n posisie en argumenteer vir die "primaat van die metaforiese" en in die geval van Mary Hesse ook vir die kognitiewe aanspraak van metafore (Hesse 1983:27). In hierdie verband speel die "interaksieteorie" van Max Black (1962; 1977; 1980) 'n belangrike rol. Juis omdat die interaksie tussen die twee pole van die metafoor nuwe, kreatiewe betekenis tot stand bring, wat nie vantevore daar was nie, kan die betekenis van die metafoor nie eenvoudig tot die letterlike betekenis gereduseer word nie. Die posisie van die nie-reduksionistiese teoretici word ook as "reduksionisties" bestempel deur figure soos McCormac (1985:3, 52, 73) en Rorty (1987) wat op hulle beurt weer argumenteer ten gunste van die "dubbeltaalmodel" en die primaat van die letterlike.

    Beide Kövecses en Jäkel vorm die probleemstellinge van hulle publikasies op die veronderstelling dat die werklikheid uit twee dimensies bestaan: die sakrale en die profane of soos Jäkel dit stel "...the religious and the profane...". Die implementering van die konseptule metafoorteorie ten einde aan te toon dat "religieuse/sakrale" taal ook maar op dieselfde konseptuele metafore berus as gewone alledaagse taal vorm deel van die verwarring rondom die aard van die religieuse en die rol van metaforiese taal daarin. Ten einde tussen geloofs- en ander tipes metaforiese taal (poësie, wetenskap,ens.) te onderskei, is dit van belang om die begrip "religie" te definieer. Hier word 'n definisie voorgestel wat afwyk van die alledaagse onderskeiding tussen die profane en die sakrale en die beperking van die religie tot die sogenaamd "sakrale" terrein.

    Metafore in die Skrif is "religieus" van aard. Hier word die begrip "religie" herdefinieer met behulp van Clouser (2005:23,24) se definisie van religieuse oortuigings as "... a belief in somethings or other as 'divine' or ... a belief concerning how humans come to stand in proper relation to the 'divine'". Die begrip "divine" word gekarakteriseer as "... that which can exist independent of anything else (unconditional non-dependant reality").

     

    GELOOF: FIDUSIÊR?

    "Religieus" word in hierdie artikel gebruik ter aanduiding van die toewyding aan of geloofsbetrokkenheid by dit wat as "ultimate" beskou word. Dit is 'n totale en omvattende relasie wat die volle menslike lewe en die werklikheid omspan en op gedifferensieerde wyse in alle dimensies van die werklikheid en die menslike lewe tot uitdrukking kom. Metaforiese taal wat sodanige geloofsbetrokkenheid uitdruk, sou getipeer kon word as "religieuse metafore". Hier word religie in die ruimer sin van die woord gebruik. Daar is ook religie in die enger sin van die woord. Dit is die religieuse handelinge wat verband hou met aanbidding, gebed en kultus in die religie. Sodanige handelinge is "certitudinal" of konfessioneel van aard. Dit geld ook vir dokumente en tekste soos byvoorbeeld die Drie Formuliere van Eenheid van die reformatoriese kerke of die Belhar Konfessie wat as "certitudinal" gekwalifiseer kon word. Op analoë wyse funksioneer tekste en dokumente van nie-religieuse aard soms ook op hierdie wyse, byvoorbeeld die konfessionele element aanwesig in die beleidstandpunt of politieke platform van 'n politieke party of die konfessionele element van die "Wissenschaftliche Weltauffassung der Wiener Kreis" (Neurath 1973).

    Die metaforiese aard van die taal van die Bybel is onaanvegbaar. In hierdie opsig verskil dit nie van die aard van gewone alledaagse taalgebruik of die taalgebruik van wetenskap en teologie nie. Die Skrif is boordevol bekende metafore met betrekking tot God, Sy openbaring en die religieuse respons van gelowiges op hierdie openbaring. God word voorgestel as Skepper, Vader, Koning, Herder, Verlosser, Regter. Die Skrif word geteken as die Woord van God en 'n lig wat die gelowige se weg verlig (Ps. 36). Christene word gesien as die liggaam van Christus, 'n tempel, die kinders van God, slawe, ambassadeurs, lig, sout, vissers, briewe, ens. Christene word geteken as die liggaam van Christus. Hierdie entiteitsmetafore en talle ander aspek-metafore (God is liefde, God is geregtigheid) word in die Skrif gevind. Hulle is as antropomorfe beelde in die weefsel van God se openbaring aan die mensheid ingeweef. Met betrekking tot hierdie metafore is twee sake belangrik. Eerstens funksioneer Bybelse begrippe altyd in omvattende en totalitêre sin. God se geregtigheid is allesomvattend, Sy Koninkryk sluit alle dimensies van die werklikheid in. Verlossing en versoening is universele begrippe. Dus hoewel menslike liefde en menslike geregtigheid dikwels diens doen as antropomorfe spreke oor God is daar een fundamentele verskil tussen geregtigheid as faset van die menslike lewe en geregtigheid as universele en totalitêre eis binne die Koninkryk van God en dit is die feit dat die Bybelse begrippe kosmiese betekenis herberg (Wolters 1985:10). Tweedens is die spreke, die woord fidusiêr gekwalifiseer en funksioneer metafore uit die Skrif primêr in fidusiêre sin. Binne die konteks van die relasie van die mens met God of wat as god beskou word, kan die meeste religieuse stellings gesien word as fidusiêr gekwalifiseer. Die ontleding van hierdie taal verg egter geen andersoortige metode omdat dit sakraal sou wees nie. (Ek stem saam met die bevinding van Kövecses 2011.) Hier word egter wel geredeneer dat daar in die werklikheid 'n fidusiêre ervaringskema bestaan. Hierdie skema gee uitdrukking aan die menslike vermoë om te glo (fides), om seker te wees of te vertrou as integrale element van 'n veelkleurige werklikheid met die menslike potensiaal om op 'n menigvuldigheid van wyses die werklikheid te ken. Ander voorbeelde van hierdie fidusiêre menslike vermoë en trek van die werklikheid is die vertroue van die gespanne koordkunstenaar. Hy vertrou sy vermoëns, die stewigheid van die koord of die vangnet benede. Die kliënt vertrou sy bankier, die eggenoot sweer trou aan die eggenote, ens. Dit impliseer dat alle ervaringsdomeine en realiteitsdomeine dieselfde soort stratifikasie vertoon. Daarvan vorm die fidusiêre aspek een moment. Voorbeelde van analogiese relasies tussen hierdie en ander fasette is die volgende: sosiale krediet, regsvertroue, morele trou, psigologiese sekerheid [gevoelsekerheid], vertroue ens. Daar word ook van metafore gebruik gemaak wanneer daar oor die Skrif geskryf of gepraat word. Metaforiese taal word dikwels aangewend as meta-diskoers ten einde diskursiewe gebruike te interpreteer. So byvoorbeed kan 'n Marxistiese, Feministiese of Strukturalistiese meta-diskoers aangewend word in 'n poging om verantwoording te doen van die diskursiewe praktyke in die Skrif. In so 'n meta-diskoers word 'n keuse gemaak uit die arsenaal van metafore in die Skrif self of word 'n nie-Bybelse metafoor ingevoer om die hele korpus van die Skrif te interpreteer en te ondersoek. Dit funksioneer as 'n tipe "logic-of-discovery" (Richard Harvey Brown 1994:1-34). Op die meta-diskoers vlakke in die Teologie dikteer die konvensie van religieuse tradisies, teologiese paradigmas en filosofiese vooronderstellinge welke tipe diskoers en welke keuse van metafore prioriteit geniet in die verklaringsmodelle van Skrifinterpretasie. Hierdie verskillende tipes diskoers funksioneer ook binne die voor-verstaan van die Skrif en die regulatiewe gesag ingebed in die implisiete verstaan van die aard en betekenis van Skriftuurlike taal. Op die agtergrond bly die keuse vir die primaat van óf die letterlike óf die figuurlike steeds aan die werk. Beide taalvorme berus uiteindelik op bepaalde konfigurasies van kategorieë en klassifikasie van die boustene van die werklikheid.

     

    BEIDE LETTERLIK EN METAFORIES BERUS OP KATEGORIEË EN KLASSIFIKASIE

    Tans bestaan net so veel vrae oor die definiëring van wat letterlik sou beteken as wat daar vrae is oor die aard van metaforiese taal. Sentraal in die diskussie staan die paradoksale stelling dat letterlike taal net so metafories as metaforiese taal is. Wat word hiermee bedoel? Die stelling dui daarop dat daar geen primordiale en ongekontamineerde letterlike taal bestaan wat die basis sou kon vorm van die finale beroep op die toewysing van betekenis nie. Mary Hesse (1983: 40) sê:

    All language, including 'ordinary descriptive language', is metaphorical in the sense that its use of general terms implies a normative qualification of the vastly various multiplicity of things.

    Sy (1985-1986) wys daarop dat wat op 'n sekere tydstip as "letterlike" taal gesien word binne 'n bepaalde woordeskat, net so veel aan 'n sisteem van kategorieë en "family resemblances" (Wittgenstein; sien ook Hesse 1988) gebonde is as metaforiese taalgebruik. Die verskil tussen die twee vorme van taalgebruik, is dat letterlike taal met kategorieë werk wat geyk is, deur konvensie en tradisie vasgelê is en meestal met die eerste oogopslag herken word as die standaard woordeboekbetekenis. Hesse stel dat die onderskeid tussen letterlik en metafories 'n pragmatiese onderskeiding is en nie 'n semantiese nie.

    Die letterlike betekenis is dikwels die woordeboekbetekenis van 'n woord en die mees frekwente gebruik van 'n woord wat aangeleer is; dit is die wyse waarop sprekers 'n taal aanleer; dit is die betekenis wat ostensief gedefinieer kan word en 'n direkte fisiese toepassing het in verwysing na die relatief-stabiele "natuurlike" tipes waarmee ons in die natuur omring word. 'n Taal word aangeleer deur op te let na die objektiewe ooreenkomste tussen dinge en deur te konformeer aan die sosiale gebruik; deur dinge te klassifiseer in letterlike referente (relatief-stabiele tipes). Letterlike beskrywinge is net so gestratifiseer as metaforiese beskrywinge. Die wortel van die spanning tussen letterlik en metafories is die basiese ontologiese struktuur van verskille en ooreenkomste waarop alle predikasie rus. As dit die geval is, verg letterlike taalgebruik net soveel aandag as metaforiese taalgebruik.

    Lakoff (1986:291-296) en andere (Leddy 1995) het ook gepoog om die veelvuldigheid van betekenisse wat in letterlike taalgebruik verstrengel is, te ontrafel. In hierdie analises blyk dit dat sogenaamd "letterlike beskrywinge" ook gestratifiseer en gekategoriseer is (Hesse 1984). Leddy (1995:207) argumenteer byvoorbeeld dat dit juis die vermoë is om iets te herken as 'n soortgelyke tipe ("...as an instance of a certain (same) kind...") wat aan beide vorme van taal ten grondslag lê. Die herkenning van soortgelyke entiteite veronderstel die stratifikasie en klassifisering van die entiteite na aanleiding van ooreenkomste en verskille. In dié opsig is letterlike taal net so kontekstueel gedifferensieer as metaforiese taal. Die verskil tussen die twee vorme van taal is daarin geleë dat metafore iets in terme van 'n instansie van 'n verskillende tipe verstaan ("we understand something in terms of a different kind") veronderstel, terwyl letterlike taalgebruik iets herken as 'n soortgelyke tipe.

    Leddy (1995) argumenteer dat die fundamentele boublokke van ons wêreld en menslike ervaring "essences" is wat metafories van aard is en wat bestaan op die ontologiese vlak wat alle ander onderskeidinge soos objek en subjek, substansie, attribuut en funksie voorafgaan. Hy sien hierdie essensies meer soos die idee van Plato as die Aristoteliese vorme. Die essensies word nie slegs net ontdek nie, maar ook gekonstrueer en is "... patterns in the world-as-experienced...".

    Ten einde aan te toon dat die metodologie van die Lakoff en Johnson Skool oor geskikte apparatuur beskik om religieuse taal en simbole te kan fundeer, appelleer die skool op die idee van konseptuele metafore - strukture wat ten grondslag lê van menslike denke, kenne en ervaring. Hierdie denkskool gaan uit van die feit dat metafore 'n kognitiewe aanspraak maak en dat daar 'n basisstruktuur van die menslike bestaan is waarin konseptuele srukture aanwesig is en wat deur metafore verwoord word (Johnson 1981; 1987; 1989; Lakoff & Johnson 1980; 1987; 1988; 1989; 1999). Die literatuur het heelwat vewysings na hierdie konseptuele strukture. Twee van die mees resente artikels wat hierdie metode toepas op geloofstaal, religieuse simbole en die Skrif is Kövecses (2011) en Jäkel (2002).

     

    ALLEDAAGSE KONSEPTUELE STRUKTURE AS BRUIKBARE METODOLOGIE?

    Kövecses argumenteer dat die simboliese betekenis van die Bybelse narratief in hoë mate van konseptele strukture en konseptuele meganismes afhanklik is. Hierdie strukture word deur 'n groot aantal sprekers van Engels gedeel. Sy argument is dat 'n groot deel van die dominante trekke van die Christendom verstaan kan word op die basis van ons alledaagse konseptuele sisteem. Hy stel dat die verstaan van hierdie trekke geen geheel en al onafhanklike konseptuele apparatuur verg wat op een of ander manier uniek is aan die sakrale of heilige terrein nie. Die voorbeelde wat Kövecses analiseer is onder meer die "Vader", "Seun", "lig" en "Voorsienige sorg" metafore. Olof Jäkel aan die ander kant poog om aan te toon wat die vooruitsigte en begrensinge van die Kognitiewe Metafoorteorie is wanneer dit met religieuse metafore werk. Die voorbeeld wat hy behandel is die BRON-WEG-DOEL skema - een van die mees deurdringende "image schemata" met sterk ervaringsbasis en een van die skemata wat gedetailleerde aandag in die kognitief semantiese literatuur geniet. Die skema het 'n eenvoudige basiese struktuur wat ander belangrike aspekte veronderstel soos byvoorbeeld voorwaartse beweging, beweging in 'n bepaalde rigting, vooruitgang maak, afstand afgelê, of spoed of beweging. Die WEG bestaan ook verder uit ruimtelike PUNTE in linieêre suksessie. Jäkel stel dat by nadere ondersoek vasgestel word dat "... It is not limited to religious discourse but as conventional applications in non-religious discourse as well. Thus we can make a comparison of the sublime religious uses of the metaphor with its profane manifestations in everyday English" (2011:pdf ). Wanneer die standpunte van Kövecses en Jäkel m.b.t. die WEG-metafoor vergelyk word, blyk die volgende: Kövecses meen dat daar geen behoefte bestaan aan 'n alternatiewe metodologie om religieuse metafore mee te analiseer nie. Trouens Kövecses (2011) sien die twee verskillende vorme van taal - die alledaagse en die religieuse - gegrond in die basis van die alledaagse konseptuele sisteem "...and that the understanding of these features does not require an entirely independently existing conceptual apparatus that is somehow unique to the interpretation of the sacred".

    Tot op sekere hoogte kan met beide standpunte ingestem word. Die struktuur van taal verander nie tydens die verandering van konteks nie. In hierdie opsig het beide outeurs 'n aanvaarbare perspektief. Geloofstaal en alledaagse taalgebruik berus op dieselfde struktuur, maar daarmee word ontoereikend rekening gehou met die feit dat die talige dimensie van die werklikheid 'n veelvoud van kleure herberg wat uitdrukking is van 'n dieper koherente samehang in die werklikheid. Sodanige potensiële betekenismenigvuldigheid is ook gelyktydig 'n weerspieëling van die plurivositeit of veelvormigheid van taal as een dimensie van die werklikheid. Jäkel kom tot die konklusie dat nie alle skematiese elemente wat in die alledaagse metafoorgebruik voorkom, ook voorkom in religieuse diskoers nie. Sy analise berus op die metafoor "LIFE IS A JOURNEY ..." Sentraal in hierdie metafoor is die WEG- konseptuele metafoor, wat hy beweer ontoereikend tot uitdrukking kom in die religieuse diskoers wat hy aan nadere analise onderwerp het. Ten opsigte van die stelling dat hierdie konseptuele metafoor in die geval van die religieuse diskoers sekere elemente van die alledaagse taal uitsluit, slegs enkele opmerkings. In die WEG-metafoor is 'n betekenismenigvuldigheid opgesluit wat o.a. die fidusiêre en religieuse elemente insluit. Die WEG veronderstel telbaarheid, ruimte, beweging, fisiese elemente, groei, analise, vormgewing, artikulering, ens. Almal fasette aanwesig in die konseptuele basisstruktuur van die metafoor WEG hoewel dit nie noodwendig eksplisiet in die linguale metafoor tot uitdrukking kom nie. Wat wel van belang is, is die feit dat die gebruik van die metafoor WEG sy kwalifikasie verkry vanuit die konteks waarbinne dit funksioneer. Dit is dus onwaarskynlik dat die betekenismenigvuldigheid van die bron in die doel behoue sal bly (Jäkel 2002 met verwysing na die probleem m.b.t. die sg. "invariance hypothesis"). Die betekenismenigvuldigheid sal onherroeplik die kleur van die kontekstuele kategorie waarbinne dit funksioneer, vertoon.

    Elders (Botha 2004:20;2006) het ek ook aandag geskenk aan die keuse vir leidende metafore in die Skrif wat die deurlopende storielyn van die Skrif sou karakteriseer en kwalifiseer. Die kritieke vraag met betrekking tot die rol van metaforiese taal in die Skrif en geloofstaal is, hoe dergelike metafore gedifferensieer kan word van die tipe metaforiese taal in ander kontekste. Wat die taal van die geloof en die religie en Skrif kenmerk en onderskei van ander tipe metaforiese taal is nie soseer die aanwesigheid van simbole en metafore nie of die ontoeganklikheid van die referente van die metafoor nie, maar die kwalifikasie van die tipe metaforiese taal wat in die beskrywing van religieuse ervaringe en geloofstaal gebruik word.

     

    BIBLIOGRAFIE

    Alston, William P. 1989. Divine Nature and Human Language: Essays in Philosophical Theology. Ithaca: Cornell University Press.        [ Links ]

    Arbib, Michael A. & Hesse,Mary B. 1986. The Construction of Reality. Cambridge: Cambridge University Press.        [ Links ]

    Black, Max. 1962. Models and Metaphors. Studies in Language and Philosophy. Ithaca: Cornell.        [ Links ]

    Black, Max. 1977. More about metaphor. Dialectica, 31(3-4):431-457.        [ Links ]

    Black, Max. 1980. More about metaphor. In: Ortony,A. (ed.) Metaphor and Thought. Cambridge: Cambridge University Press.        [ Links ]

    Botha, M. Elaine. 1986. Metaphorical models and scientific realism. Suid-Afrikaanse Tydskrif vir Wysbegeerte, 5(3):83-87. Also published in: Fine, A. & Machamer, P. 1986. Proceedings of the 1986 Biennial meeting of the Philosophy of Science Association, vol.1. Michigan: East Lansing.        [ Links ]

    Botha, M. Elaine. 2004. Clusters, roots and hierarchies of metaphors in Scripture and the quest for Christian Scholarship. Koers 69, (3).        [ Links ]

    Botha, M. Elaine. 2006. Metaphor, embodiment and fiduciary beliefs in science. In: Tydskrif vir Christelike wetenskap, Festschrift D.F.M. Strauss, pp 17-36.        [ Links ]

    Brown, Richard Harvey. 1994. Logics of Discovery and Narratives of Conversion: Rhetorics of invention in ethnography, philosophy, and astronomy. Philosophy and Rhetoric, 27:1-34.        [ Links ]

    Clouser, Roy A. 1991 and revised 2005. The myth of religious neutrality. An essay on the hidden role of religious belief in theories. Revised edition. Notre Dame: University of Notre Dame Press.        [ Links ]

    Davidson, D. 1978. What metaphors mean. Critical Inquiry, 5(1):31-47.        [ Links ]

    Hessse, M.B. 1983. The cognitive claims of metaphor. In: Van Noppen, J.P. (ed). Metaphor and religion. Theolinguistics. Brussels.        [ Links ]

    Hesse, M. B. 1984. Texts without types and lumps without laws. Response to a paper by R. Rorty. Texts and lumps. Published in 1985/6 New Literary History, 17,1985-86,32,(1984).        [ Links ]

    Hesse, M.B. 1988. Theories, family resemblances and analogy. In: Helman, David H. (ed.) Analogical reasoning. Dordrecht: Kluwer.        [ Links ]

    Jäkel, Olof. 2002. Hypotheses Revisited: The Cognitive Theory of Metaphor Applied to Religious Texts. Retrieved from Metaphorik.de 2011-11-11.        [ Links ]

    Johnson, Mark. 1981. Philosophical Perspectives on Metaphor. Minneapolis: University of Minnesota Press.        [ Links ]

    Johnson, Mark. 1987. The Body in the Mind. Chicago: University of Chicago Press.        [ Links ]

    Johnson, Mark. 1989. Image schematic bases of meaning. Semiotic Inquiry, 9(1-3):109-118.        [ Links ]

    Kövecses, Zoltán. 2011. The biblical story retold: Symbols in action. A cognitive linguistic perspective. (Ongepubliseerde dokument).        [ Links ]

    Lakoff, George & Johnson, Mark. 1980. Metaphors we Live by. Chicago: University of Chicago Press.        [ Links ]

    Lakoff, George & Johnson, Mark. 1987. Women, Fire and other Dangerous Things, What Categories Reveal about the Mind. Chicago: The University of Chicago Press.        [ Links ]

    Lakoff, George & Johnson, Mark. 1988. Cognitive Semantics. In: Eco, Umberto, et al. Meaning and Mental Representation. Indiana: Indiana University Press.        [ Links ]

    Lakoff, George & Turner, Mark. 1989. More than Cool Reason. A Field guide to Poetic Metaphor. Chicago: University of Chicago Press.        [ Links ]

    Lakoff. G. & Johnson, M. 1999. Philosophy in the Flesh. The Embodied Mind and its Challenge to Western Thought. New York: Basic Books.        [ Links ]

    Leddy, T. 1995. 'Metaphor and Metaphysics'. Metaphor and Symbolic Activity. Special issue. Vol 10, number 3.        [ Links ]

    Maccormac, Earl. 1981. Semantic and Syntactic meaning of religious metaphor. In: Van Noppen , J-P. (ed.) Theolinguistics. Studiereeks Tijdschrift VUB, Nieuwe Serie, nr. 8.        [ Links ]

    McFague, Sallie. 1985. Metaphorical Theology. Models of God in Religious Language. Philadelphia: Fortress Press.        [ Links ]

    McFague, Sallie. 1987. Models of God. Theology for an Ecological, Nuclear Age. Philadelphia: Fortress Press.        [ Links ]

    Neurath, O. 1973. Empiricism and sociology. Boston: Reidel Publishing Co.        [ Links ]

    Polanyi, Michael. 1974 . Personal Knowledge. Towards a Post-critical Philosophy. Chicago: University of Chicago Press.        [ Links ]

    Polkingthorne, M J.C. 1991. Reason and reality. Philadelphia:Trinity Press International.        [ Links ]

    Rorty,Richard. 1987. 'Unfamiliar Noises: Hesse and Davidson on Metaphor'. The Aristotelian Society. Supplementary vol. LXI: 283-311.        [ Links ]

    Soskice, Janet Martin. 1985. Metaphor and religious language. Oxford: Clarendon Press.        [ Links ]

    Soskice, Janet Martin. 1987. Theological Realism. In: Abraham, William & Holtzer, Steven W. (eds) The Rationality of Religious Belief. Essays in honour of Basil Mitchell. Oxford: Clarendon Press.        [ Links ]

    Van Huyssteen, J. Wentzel. 1997. Essays in Postfoundationalist Theology. Grand Rapids: Eerdmans.        [ Links ]

    Van Noppen, J.P. (ed.).1984. Metaphor and Religion. Theolinguistics, 2. Study series of the Vrije universiteit, Brussel New Series no. 12. Brussel: Vrije Universiteit Brussel.        [ Links ]

    Van Woudenberg, Renee. 1998. Panmetaphoricism examined. Philosophy and Rhetoric, vol. 31(4):231-247.        [ Links ]

    Wolters, Albert. M . 2005. Creation Regained. Biblical basics for a Reformational worldview (2nd edition). Grand Rapids: Eerdmans.         [ Links ]

    Wright, N.T. 2006. Simply Christian. Why Christianity makes sense. Harper Collins Publisher.        [ Links ]

     

     

    M. ELAINE BOTHA het die hoofdeel van haar akademiese opleiding aan die Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoer Onderwys ondergaan. In 1975 word sy benoem tot professor in die Departement Wetenskapsleer en Interfakul têre Wysbegeerte. Sy tree op as hoof van die Departement Filosofie vanaf 1990 tot 1995, waarna sy met vervroegde pensioen gaan nadat sy vir meer as 25 jaar as professor diens gedoen het aan die PU vir CHO. Haar aanvanklike opleiding was in Maatskaplike Sorg en Kultuurkunde.
    Sy vind haar weg na die akademiese studie van die Filosofie as gevolg van grondslae kwessies wat na vore tree in haar eerste doktorsgraadproef skrif wat handel oor aspekte van die Suid-Afrikaanse sosiopolitieke en kultuurgeskiedenis (1970). Sy studeer Filosofie aan die Centrale Interfaculteit van die Vrije Universiteit van Amsterdam in Nederland vanaf 1967-1971, waar sy 'n tweede doktorsgraad verwerf, hierdie keer in die Sistematiese Filosofie onder leiding van prof. Dr. Henk Van Riessen (1971).
    Sy was Vise-rektor (Akademies) aan Redeemer University College vanaf Oktober 1995 tot Junie 2000 en daarna Direkteur van Navorsing en Akademiese personeelontwikkeling en Direkteur van die Dooyeweerd Sentrum en Pascal Sentrum vanaf 2000-2004.
    Sy was lid van die Raad van die Public Justice Resource Centre in Kanada, lid van die Canadian Hallmarks Institute en 'n lid van die Campus Based Faculty Development Steering Committee of the Coalition of Christian Colleges and Universities in Washington. Sy is tans verteenwoordiger van die Christian Reformed Churches van Noord-Amerika op die Faith and Witness Committee van die Canadian Council of Churches.
    Haar akademiese belangstelling is in wetenskapsfilosofiese vraagstukke en sake rakende die verhouding van geloof en wetenskap. In dié verband beklemtoon sy die rol wat metafore speel in die bemiddeling van die verhouding. Sy het studie en navorsing gedoen by die Institute for Christian Studies in Toronto, Boston University, University of Notre Dame, die Pascal Centre van Redeemer College en die Centre for Semiotics by Aarhus University, Denemarke.
    Sy het 'n wye ervaring as gasdosent en het reeds kursusse aangebied by New College, Berkeley; Regent College, Vancouver; The Kings College, Edmonton, Calvin College, Grand Rapids en die Centre for Semiotics at Aarhus University, Denmark.
    Sy het 'n aantal boeke gepubliseer en het 'n groot aantal publikasies in geakkrediteerde akademiese tydskrifte. Haar mees resente publi kasie is Metaphor and its Moorings. Studies in the grounding of metaphorical meaning (2007), uitge gee deur Peter Lang. Sy is tans 'n Navorsings genoot van die Noordwes-Universiteit, Potchef stroom.
    In 1992 ontvang sy die Stalsprys vir Wysbegeerte van die SAAkademie vir Wetenskap en Kuns.
    M. ELAINE BOTHA was born and raised in the Republic of South Africa. She had most of her academic training at the Potchefstroom campus of the University of the North West where she became full professor in 1975 in the Department of Philosophy of Science and Interdisciplinary Studies, was also head of the Department of Philosophy since 1990. She took early retirement from this University in 1995 after having served as professor for 26 years. Her initial training was in Social Work.
    She found her way into the academic study of Philosophy as the result of the foundational questions posed by a PhD dissertation on aspects of South African socio-political and cultural history which she completed at the Potchefstroom University in 1970. She studied Philosophy at the Free University of Amsterdam in the Netherlands from 1967-1971 and completed a second PhD in Systematic Philosophy under the supervision of prof. Henk van Riessen.
    She was Vice-President (Academic) at Redeemer College from October 1995 to June 2000 and Director of Research and Faculty Development, Director of the Dooyeweerd Centre and Professor of Philosophy at Redeemer University College from 2000 to 2004. She has been a member of the Public Justice Resource Centre Board, a member of the Canadian Hallmarks Institute and a member of the Campus Based Faculty Development Steering Committee of the CCCU.
    Her academic interest is also in issues in Philosophy of Science and the integration of Christian faith and learning. She has spent sabbaticals at the ICS in Toronto, has been a Research Fellow at the Boston University, the University of Notre Dame, the Pascal Centre of Redeemer University College and the Centre for Semiotics at the University of Aarhus in Denmark. She has published a number of books and many articles in accredited academic journals. Her most recent publication is entitled Metaphor and its Moorings, published by Peter Lang in 2007.
    She has also taught at New College, Berkeley; Regent College, Vancouver; The Kings College, Edmonton and Calvin College, Grand Rapids.
    At present, she is a Research Fellow at the North-West University, Potchefstroom, in South Africa.
    She was awarded the Stals prize for Philosophy by the South African Academy of Arts and Sciences in 1992.