SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.51 número4 índice de autoresíndice de assuntospesquisa de artigos
Home Pagelista alfabética de periódicos  

Serviços Personalizados

Artigo

Indicadores

    Links relacionados

    • Em processo de indexaçãoCitado por Google
    • Em processo de indexaçãoSimilares em Google

    Compartilhar


    Tydskrif vir Geesteswetenskappe

    versão impressa ISSN 0041-4751

    Tydskr. geesteswet. v.51 n.4 Pretoria dez. 2011

     

    NAVORSINGS- EN OORSIGARTIKELS

     

    Essay:1 die doodloopstraat van die Afrikanerrepubliek van 1961

     

    The cul-de-sac of the Africaner Republic of 1961

     

     

    Albert Venter

    Departement Politiek, Universiteit van Johannesburg E-pos: ajventer@uj.ac.za

     

     


    OPSOMMING

    'n Eie republiek vir die Afrikanervolk, die politieke ideaal van die Nasionale Party sedert sy stigting in 1914, word deur die 1960-referendum 'n voldonge feit en die Republiek word op 31 Mei 1961 uitgeroep. Vanjaar, vyftig jaar later, is dit wesenlik 'n historiese artefak wat in die bewussyn van die oorgrote meerderheid van gewone wit Afrikaners vervaag en selfs verdwyn het. In die Noordkaap is Orania met sy 900 inwoners, wesenlik al voorbeeld waar hierdie idee nog prakties uitgelewe word. Republiekwording en apartheid is in 1960/61 die kern van die politieke teologie van Afrikanernasionalisme. Die hooftema van hierdie essay is om 'n moontlike verklaring te bied vir die politieke teologie van apartheid en die ideaal van 'n blanke Afrikanerrepubliek. Was dit in wese op 'n teoretiese mistasting gegrond, sodat dit binne dertig jaar teen die politieke werklikheid van Suid-Afrika op die rotse geloop het?
    In die essay word die ideaal van Republiekwording, sowel as die praktiese realisering daarvan, in die konteks van die Afrikaner politieke teologie geplaas. In aansluiting by die werk van Eric Voegelin, Mark Lilla en John Gray is die argument dat die politieke teologie van Afrikanernasionalisme fundamenteel op 'n droomwêreld gebaseer was. Die essay wys daarop dat Afrikanernasionalisme nie uniek was in die sin dat 'n groep mense, die Afrikaners, vir hulleself 'n politieke teologie versin het nie. Die magtige aantrekkingskrag van 'n politieke teologie is die omvattendheid daarvan. Dit bied 'n manier van dink en van menslike handeling en verbind daardie denke en optrede aan die hoër gedagtes van die bestaan van God, die struktuur van die kosmos, die aard van die siel, die oorsprong van dinge en, vir Christene veral, die einde van Tyd. Hierdie is 'n teologiese beeld wat ook 'n verhaal vertel van hoe God die kosmos geskep het waarvan die mens 'n besondere deel is, maar die mens gebruik veral hierdie metafoor om redes aan te voer dat dit 'n gesaghebbende gids vir die politieke lewe is.
    'n Weergawe van die "struktuurkern" van die Afrikanernasionalistiese politieke teologie, veral soos dit in die periode van die Nasionale Party-bewind (1948-1994) tot uiting gekom het, word in die essay aangebied. In die praktiese toepassing daarvan, was daar sekerlik aksentverskille, en nie alle aanhangers het presies dieselfde konnotasie daaraan geheg nie. Ek oordeel egter dat die interpretasie in die essay, die wese van dié politieke teologie uitbeeld en hoe dit in die praktiese politiek van die NP-regering neerslag gevind het. Die pragmatiese politieke handelinge van die NP-regering, wil ek suggereer, is ondersteun deur 'n politieke teologie wat hierdie handelinge moreel-religieus geregverdig het, maar ook 'n verbeelde werklikheid gekonstitueer het. Namate die verbeelde werklikheid van die politieke teologie en pragmatiese werklikheid uitmekaar gedryf het, het die politieke teologie nie meer sin gemaak nie, totdat dit deur die De Klerk-regering laat vaar is. In die proses, lyk dit my, het gewoon gewelddadige politiek die politieke teologie van Afrikanernasionalisme verplaas en nogmaals empiries geïllustreer dat die immanentisering van 'n eskaton nie 'n aardse werklikheid gemaak kan word nie. Die besluit waartoe die essay kom, is dat die "Afrikanerrepubliek" van meet af aan in 'n doodloopstraat was en binne dertig jaar tot 'n einde gekom het.

    Trefwoorde: Afrikanernasionalisme, politieke teologie, immanentisering van die eskaton, apartheid, Nasionale Partyregering, teologiese regverdiging van apartheid, afsonderlike ontwikkeling


    ABSTRACT

    An own Republic for the Afrikaners, the political ideal of the National Party since its founding in 1914, became a reality through the 1960 referendum. The Republic was formally declared on 31 May 1961. This year, 2011, fifty years on, the republic has become a historic artefact that has disappeared from the consciousness of the vast majority of ordinary white Afrikaners. In 1960/61 the ideal of a Republic and apartheid was at the heart of the political theology of Afrikaner nationalism. The main theme of this essay is to offer a possible explanation for the political theology of apartheid and the ideal of a white, Afrikaner republic. Was this political theology in essence based on a theoretical flaw and as a consequence the apartheid Afrikaner republic stranded against the political reality of South Africa within thirty years?
    In this essay the ideal of an Afrikaner republic as well as its practical realisation is put in the context of the Afrikaner political theology. Drawing on the work of Mark Lilla, Eric Voegelin and John Gray the essay argues that Afrikaner nationalism is not unique in the sense that Afrikaners devised a political theology for themselves. The power and attraction of a political theology is its comprehensiveness. It offers a manner of thought, reflection and action and connects these to the higher thoughts regarding the existence of God, the structure of the cosmos, the nature of the soul, the origin of things and especially, for Christians, the end of Time. Therefore it is a theological narrative on the creation of the cosmos by God and how humankind forms part of it. People specifically use the creation narrative as basis for an authoritative guide to political legitimacy and political life.
    The essay argues, following Voegelin, Lilla and Gray, that the political theology of Afrikaners was based on a dream world. The core of the Afrikaner nationalist political theology is presented in the essay, especially how it unfolded during the National Party rule between 1948-1994. In the practical application of the Afrikaner nationalist political theology, there were differences of emphasis and it did not have the same connotation for all National Party supporters. The author submits, however, that this essay presents the essence of the Afrikaner nationalist political theology and its practical application. The political theology of apartheid supplied a religious and moral basis for the pragmatic political actions of the National Party government. Moreover, this political theology constituted an imagined reality. Inasmuch as the imagined reality of the political theology of the apartheid republic and the pragmatic political reality drifted apart, the political theology provided less and less of a moral foundation for the apartheid government, until the political theology was discarded. In the process, the political theology was replaced by a progressively repressive and violent regime. This politics of violence demonstrated once more that the immanentisation of a mundane eschaton (Voegelin) is an empirical impossibility. The essay concludes that the political theology of the apartheid Afrikaner republic was based on a theoretical dead end and that it is no wonder that the dream decayed within thirty years.

    Key words: Afrikaner nationalism, political theology, immanentisation of the eschaton, apartheid, National Party government, theological justification of apartheid, separate development


     

     

    1. INLEIDING

    Vanjaar is die Tydskrif vir Geesteswetenskappe vyftig jaar oud. Sy geboortejaar, 1961, is voorafgegaan deur die storm en drang jaar van 1960. In Maart 1960 vind die Sharpeville-voorval plaas wat wêreldwyd weerklink en Suid-Afrika se internasionale isolasie laat toeneem. Op die terrein van die Randse Paasskou oorleef Eerste Minister Verwoerd kort na Sharpeville 'n sluipmoordaanval. Die vyftigjarige bestaan van die Unie van Suid-Afrika word op 31 Mei in Bloemfontein feestelik herdenk. In Oktober vind 'n referendum plaas waarin die regerende Nasionale Party 'n naelskraapse oorwinning vir republiekwording behaal. Die Wêreldraad van Kerke organiseer 'n konsultatiewe byeenkoms in Cottesloe, Johannesburg, waartydens kritiek op apartheid uitgespreek word. Dit word deur die NG Kerk afvaardiging onderskryf - tot groot ontsteltenis van Eerste Minister Verwoerd en die invloedryke konserwatiewe NG Kerkteoloog, dr AP Treurnicht. Die ANC besluit in Desember 1960 dat praat met die Nasionale Partyregering hulle niks in die sak bring nie - en gaan oor tot 'n gewapende stryd. Mkontho we Sizwe (MK) word in 1961 as die ANC se "volksweermag" gestig, wat die apartheidsregering met geweld moes beveg en die "mense" van Suid-Afrika van die juk van onderdrukking bevry. Die ANC wend sigself veral na die USSR en ander Oosblokstate vir hulp om die apartheidsregering gewelddadig omver te werp.

    Republiekwording, die politieke ideaal van die Nasionale Party sedert sy stigting in 1914, word deur die 1960-referendum 'n voldonge feit, en die Republiek word op 31 Mei 1961 uitgeroep. Vanjaar, vyftig jaar later, is dit wesenlik 'n historiese artefak wat in die bewussyn van die oorgrote meerderheid van gewone wit Afrikaners vervaag en selfs verdwyn het. Republiekwording en apartheid is in 1960/61 die kern van die politieke teologie van Afrikanernasionalisme. Die hooftema van hierdie essay is om 'n moontlike verklaring te bied vir die politieke teologie van apartheid en die ideaal van 'n blanke Afrikanerrepubliek. Was dit op 'n teoretiese mistasting gegrond sodat dit binne dertig jaar teen die politieke werklikheid van Suid-Afrika op die rotse geloop het?

     

    2. POLITIEKE TEOLOGIE2

    Afrikanernasionalisme is nie uniek in die sin dat 'n groep mense, die Afrikaners, vir hulleself 'n politieke teologie versin het nie. Die magtige aantrekkingskrag van 'n politieke teologie, is die omvattendheid daarvan. Dit bied 'n manier van dink en van menslike handeling en verbind daardie denke en optrede aan die hoër gedagtes van die bestaan van God, die struktuur van die kosmos, die aard van die siel, die oorsprong van dinge en, vir Christene veral, die einde van Tyd. Hierdie is 'n teologiese beeld wat ook 'n verhaal vertel van hoe God die kosmos geskep het waarvan die mens 'n besondere deel is. Die mens gebruik veral hierdie metafoor om redes aan te voer dat dit 'n gesaghebbende gids vir die politieke lewe is. Hoe hierdie gesaghebbendheid verstaan moet word, hang van die betrokke godsbeeld af. As dit 'n deus abscondita, 'n afwesige stil mag in die skepping is, kan niks gesaghebbend afgelei word nie. Indien God as persoon uitgebeeld word met bedoelings, en dat die kosmos die resultaat van daardie bedoelings is, dan is Sy bedoelings 'n uitdrukking van 'n aktiewe wil - en dus gesaghebbend. As God die kosmos skep om Sy doelwitte te verwesenlik, kan die legitieme uitoefening van politieke gesag afhang van hoe daardie doelwitte verstaan word. Sy openbaring aan die mens is die grondslag van Sy gesag oor die natuur en die mens. Politieke teologie is dus 'n gesprek oor politieke gesag wat op 'n geopenbaarde goddelikmenslike nexus berus (Lilla 2007: 21).

    Saam met die Christelike tradisie van bykans twee millennia, het Afrikanernasionaliste geglo dat 'n drie-enige God heers oor Sy skepping. God lei die mens deur openbaring, innerlike geloof en die natuurlike orde. Politieke teologie bied aan mense die grondslag waarop legitieme gesag geregverdig word. In die gereformeerde tradisie - die oorheersende een in Afrikanernasionalisme - beteken dit dat alles in die samelewing onder God se gesag staan. Hierdie tradisie is nie probleemloos nie. God die Vader het sy gebooie aan Moses bekend gemaak. Hy het Sy Seun as verlosser gestuur, wat die Wet herinterpreteer en toe weer vertrek het, met die belofte van 'n wederkoms. Die Heilige Gees bly by die mens as trooster totdat die verlosser weer kom. Wat moet Christene maak? Moet hulle onttrek aan die sondige wêreld wat deur die Verlosser verlaat is? Moet hulle die nuwe Jerusalem bou wat die Messias se wederkoms sal verhaas? Moet hulle oor die wêreld regeer deur kerk en staat, geïnspireer deur die Heilige Gees? (Lilla 2007:27). Afrikanernasionaliste het 'n bepaalde antwoord op hierdie vraag aangebied, soos ek hieronder sal argumenteer.

    Jesus en sy volgelinge het geglo dat hulle na aan die Eindtyd leef en dat die gruwels van die wêreld vinnig op pad uit was: siekte en dood, hongersnood, oorlog, verdrukking, sou alles tot 'n einde kom na die slag van Armageddon waarin Satan finaal verslaan sal word en 'n duisendjarige vrederyk tot stand sou kom: die millennium. Let daarop dat dit 'n goddelike handeling, 'n transendente handeling sou wees. Die oorspronklike eskatologiese hoop van die Christene van 'n nuwe Jerusalem (wat nie gou na Jesus se dood gerealiseer is nie, en ook nie na 2011 jaar nie) word in 400 n.C. deur Augustinus gesistematiseer. Hy was aanvanklik 'n volgeling van Manicheanisme, wat glo dat boosheid permanent deel is van die wêreld, waarin die metaforiese oorlog van duisternis teen die lig vir ewig sal duur. Mens sien Mani se invloed duidelik in die Augustiniaanse leer van die gebrokenheid van die mens en van die oersonde van Adam en Eva. Hy bring ook die radikale onderskeid tussen die Godstad en die aardstad in die hoofstroom Christologie in. Omdat die mens gevalle is in oersonde kan die Godstad nooit op aarde bewerkstellig word nie. Dus kan die aardse boosheid nooit werklik oorwin word nie - die mens kan maar ten dele die goddelike op aarde teweeg bring. Augustinus pleit egter vir 'n innerlike ommekeer weg van die sonde af, en dit word deel van die Christelike ortodoksie wat deur die Konsilie van Efesus in 431 bevestig is (Gray 2007:10,11).

    Die bou van die nuwe Jerusalem, wat die wederkoms sal verhaas, het in die Christelike tradisie 'n bepaalde aantrekkingskrag. Die teenswoordige wêreld word as boos uitgebeeld en die boosheid moet oorwin word sodat die regverdiges kan regeer en die goeie bewerkstellig word. Dis 'n eskatologiese beeld wat lei tot eskatologiese politiek. Die sentrale idee van redding, verlossing (redemption) in die Christendom, hou voortdurend die hoop lewendig dat aardse bestaan getransformeer kan word deur goddelike handeling. Christus se dood en hemelvaart laat sommige Christene met 'n leegte wat hulle aan die wêreld wil laat onttrek (Lilla 200:27).

    Onder invloed van Zoroaster, ontstaan daar ook 'n subbeweging in die Weste wat glo dat in die stryd tussen lig en duisternis op aarde, die magte van die lig uiteindelik die duisternis op aarde kan oorwin en harmonie tussen mense kan bewerkstellig. Die denke van Zoroaster het 'n magtige (powerful) invloed op westerse denke en baie politieke bewegings wat eindig in fi sieke geweld, kom onder invloed van hierdie opvattings tot stand. Want, so is geglo, die magte van die duisternis (jou politieke vyand) kan deur die mag van die lig (jou politieke teologie) oorwin word. Die verlossingsboodskap kan dus ook die hoop op die verhaasting van die eskaton tot gevolg hê: 'n hoop op die land van melk en heuning, op 'n nuwe Jerusalem, op die aardse oorwinning oor Satan. Dit is die vonk vir eskatologiese politiek: om God se vyande op aarde te oorwin, en geregtigheid hier en nou te bewerkstellig - en dit is elke Christen se plig om die aanbreek van daardie dag te verhaas. Daar is 'n wye verskeidenheid van Christelike millennialistiese literatuur, wat geensins sistematies is nie, maar almal verwoord 'n uiteindelike droom van politieke handeling wat die bestaande korrupte orde tot 'n val sal bring en 'n nuwe, aardse paradyslike toestand tot stand sal bring (Gray 2007:13-16). In die nuwe wêreldlike politieke orde sal harmonie tussen mense heers, en konflik finaal tot 'n einde gebring word. 'n Mens kan dit opsom deur die gebed: "laat U koninkryk kom, laat U wil geskied, op aarde soos in die hemel". Politieke Messianisme is nie die enigste of mees verdedigbare model van Christelike politiek nie, inteendeel, dit is deur die geskiedenis uitgewys as 'n doodloopstraat en dat dit nie tot 'n behoorlike aardse politieke lewe lei nie (Lilla 2007:39-54). Hoewel dié les al in Hobbes se tyd (die 17de eeu) geleer is, het dit nog 'n uitskot in die twintigste-eeuse Afrikanernasionalisme gevind.

    Die Christelike erfenis ontgoddelik (dedivinises) die aardse werklikheid. Dit wil sê, die werklikheid rondom ons is nie met immanente gode vervul wat in bosse, diere - oral op die aarde - woon nie. Die godheid in hierdie tradisie is werklik transendent - buite tyd en ruimte. Voorts bring die Christendom die insig dat die mens verlang na die goddellike, maar terselfdertyd besef dat hy nie goddelik kan wees nie. Dus is daar 'n inherente spanning tussen 'n verlange na die transendente en die besef van die immanente. Die mens lewe 'n bestaan wat ten beste as die tussenin (Grieks metaksee) beskryf kan word. Ons is nóg geestelik, nóg bloot materieel. Ons is ook nie heeltemal tevrede met die feit dat ons na die goddelike verlang, en na die goeie daarvan getrek word, maar dit tog nie kan bereik nie. Dus is die menslike bestaan spanningsvol. Daarbenewens is die menslike toestand in werklikheid een wat voortdurend naby die afgrond en die grens van die bestaansdrama beweeg, met die wesenlike van die menslike toestand eksistensiële onsekerheid en is ons dus ook vervreemd van onsself. Ons behoort nie nét tot die wêreld nie, en ook nie nét tot die spirituele/transendente nie. Die politieke teologie van millennialisme is wesenlik 'n poging om die inherente spanning van aardse bestaan, van die lewe in die metaksee, te oorkom (Voegelin 1952:110,111).

    Gedurende die laaste vyfhonderd jaar word die weste gekenmerk deur 'n groot aantal millennialistiese bewegings wat poog om die duisendjarige vrederyk op aarde te bewerkstellig, ten spyte van Augustinus se leer dat die godstad nie op aarde bewerkstellig kan word nie. Ek noem enkele van die bewegings: Thomas More se Utopia, die Broeders van die Vry Gees, die beweging van die Heilige Bedelaars, die Anabaptiste; die Oneida kommune in New York van 1848, Owen se New Harmony in Indiana, st Simon se staatskapitalisme. Die mees brutale van hierdie bewegings is sekerlik dié van die Sowjet Kommuniste en van Sentraal Europa (1917- 1990) en Nazi Duitsland (1933-1945). Baie hiervan was skadeloos en het nie wesenlike negatiewe gevolge gehad nie. Ironies, met die agteruitgang van die Christendom en die opkoms van die Eeu van die Verligting, het die geloof in die Eindtyd nie vervaag nie: dit het vererger, maar nou in sekulêre gedaante. Die immanente utopias van die kommuniste, Nazi's en apartheidsnasionaliste gedurende die laaste honderd jaar, het oneindige fisieke en geestelike menslike lyding tot gevolg gehad (Gray 2007:20-31).

     

    3. DIE EEU VAN POLITIEKE TEOLOGIE

    Die 20ste eeu bring 'n tydvak na vore waarin verskeie politieke teologieë poog om die bovermelde vervreemding en eksistensiële spanning te oorkom deur middel van menslike handeling. Dit poog om te rebelleer teen die wesenlike kenmerk van die aardse werklikheid: spanningsvolle onsekerheid. Die tegniek van die eietydse politieke teologieë is om die aardse werklikheid met 'n goddelike of absolute kwaliteit te omhang. Dit word gedoen deur 'n absolute sekerheid en doel vir die geskiedenis te postuleer, en 'n politieke teologie in die bereiking van daardie doel in te skryf. Die herkoms van hierdie postulaat is in die wese van die Christendom self te vind: deur 'n transendente godheid te postuleer, word die sekerheid van 'n wêreld vol immanente gode verruil vir die onsekerheid van geloof: van dinge waarop ons hoop en bewyse van 'n saak wat onsienlik is. Die mens poog om die politiek te vergoddelik. Geloof in 'n onsigbare godheid word verplaas na lojaliteit aan 'n bestaan wat die onsekerheid van geloof moet oorkom. Hierdie soort oplossing moet misluk, aangesien dit postuleer dat die conditio humana opgehef kan word, dat die onsekerheid van bestaan deur menslike handeling verander kan word (Voegelin 1952:128-132). Dit kan nie en wat dan volg is fisieke politieke geweld.

    'n Mens kan die veralgemening maak dat die moderne politiek 'n hoofstuk is in die geskiedenis van die politiek van geloof. Die 21ste eeu is getuie van die ashoop van die 20ste eeu se mislukte pogings tot die konstruksie van politieke hemele op aarde: fascisme, kommunisme, apartheid, die neo-konserwatiewe Amerikaanse hoop op die demokratisering van die Midde-Oosterse Islamities-Arabiese state, universele demokrasie en 'n globale gedereguleerde vrye mark. Ten spyte van die feit dat al hierdie vermelde pogings aangebied is as "wetenskaplike herordening van 'n gebroke wêreld"; is hulle niks anders nie as onlangse verskynsels van Christelike openbaringsopvattings wat terugreik tot die antieke tye (Gray 2007:22).

    Die uiteindelike doelwit van alle leerstellings van hemel op aarde is om fi nale harmonie tussen mense te bewerkstellig. Die vertrekpunt verklap die onwerklikheid van alle utopiste se hoop. Konflik is 'n universele menslike verskynsel. Mense het onversoenbare begeertes: opwinding en 'n stil lewe; vryheid en sekuriteit; ouderdom met gesondheid en lewenslus en so meer. Die verwerkliking van enige mensgemaakte utopie verval onvermydelik in 'n menslike hel. En laat ook nie die reël van die onbedoelde gevolge van menslike handeling buite rekening nie. 'n Politieke projek is onhaalbaar as daar geen omstandighede bestaan waarin dit prakties verwerklik kan word nie (Gray 2007: 24-27).

     

    4. DIE AFRIKANERNASIONALISTIESE POLITIEKE TEOLOGIE SEDERT 1960: KONTINUÏTEIT EN VERVAL

    Wat hieronder volg, meen ek, is 'n redelike, dog verkorte weergawe van die "struktuurkern" van die Afrikanernasionalistiese politieke teologie, veral soos dit in die periode van die Nasionale Party-bewind (1948-1994) tot uiting gekom het. In die praktiese toepassing daarvan was daar sekerlik aksentverskille, en nie alle aanhangers het presies dieselfde konnotasie daaraan geheg nie. Ek oordeel egter dat die interpretasie wat hieronder uiteengesit is, die wese van dié politieke teologie uitbeeld en in die praktiese politiek van die NP-regering neerslag gevind het. Die pragmatiese politieke handelinge van die NP-regering, wil ek suggereer, is ondersteun deur 'n politieke teologie wat hierdie handelinge moreel-religieus geregverdig het, maar ook 'n verbeelde werklikheid gekonstitueer het. Namate die verbeelde werklikheid van die politieke teologie en pragmatiese werklikheid uitmekaar gedryf het, het die politieke teologie nie meer sin gemaak nie, totdat dit laat vaar is. In die proses, lyk dit my, het gewoon gewelddadige politiek die politieke teologie van Afrikanernasionalisme verplaas en nogmaals empiries geïllustreer dat die immanentisering van 'n eskaton gewoon nie 'n aardse werklikheid gemaak kan word nie.

    Afrikaners het hulle binne die Christelike tradisie bevind. In hierdie tradisie is daar 'n goddelike band tussen God, mens en wêreld. As Christene het Afrikanernasionaliste geglo dat God 'n plan of doel met mense het, dat Afrikaners bepaald geroepe is om 'n goddelike plan in Suid-Afrika te volvoer. Vir Afrikanernasionaliste is God 'n persoon met bedoelings met Sy skepping, daar is 'n goddelike Raadsplan en dat daardie Plan deur gelowiges (Afrikanernasionaliste) op aarde uitgevoer moet word: "laat u koninkryk kom" (Kyk Treurnicht 1975:9). Afrikanernasionalisme bereik teen 1960, op die vooraand van republiekwording, en vir ongeveer 10 jaar daarna tot 1970, 'n hoogtepunt as 'n samehangende politieke teologie. Dit val deels saam met die eersteministerskap van Verwoerd en begin lostorring in koherensie en invloed met die wegbreek van die Herstigte Nasionale Party in 1969, toe Vorster reeds drie jaar eerste minister was. Daar is 'n aantal kontinue temas in die politieke teologie van Afrikanernasionalisme wat teen 1960 invloedryk was. Die eerste belangrike tema was die definiëring van "Afrikaners" as Godgeroepe volk. Daar is 'n deurlopende tema in Afrikanernasionalistiese literatuur dat Afrikaners met 'n doel deur God in 1652 in Suid-Afrika geplant is, dat Afrikaners 'n Christelike volk is en dat God 'n verskeidenheid van volkere in die wêreld gewil het, waarvan Afrikaners met name 'n godgewilde en geroepe volk is - en dus die reg het om as afsonderlike volk in Suid-Afrika te bestaan en om daardie bestaan te beskerm. Dit is dikwels as 'n Christelik-nasionale lewens- en wêreldbeskouing uitgebeeld en verkondig. Die aanhef tot die Grondwet van 1961 bevestig die idee van 'n goddelike geroepenheid: "In nederige erkentlikheid teenoor die Almagtige God, Beskikker oor die lotgevalle van nasies...".

    As voorbeeld van hoe hierdie tema gepopulariseer is, dien JC van Rooy, voorsitter van die Afrikaner Broederbond, se samevatting van 1938: "God het die Afrikanervolk met 'n unieke taal, unieke lewensfilosofie, eie tradisies en gewoontes geskep ten einde 'n besondere roeping en bestemming in die suidpunt van Afrika te volvoer. Ons moet die eiendomlikheid van die Afrikanervolk bewaar en in geloof God se doel met ons aanvaar" (Moodie 1975:110,111, my vertaling). Hierdie formulerings van die goddelike roeping van die Afrikaners is wesenlik deur die drie afsonderlike Calvinistiese Afrikaanse susterskerke van die gereformeerde belydenis ondersteun. Die geskiedenis hiervan is oorbekend, en ek haal enkele voorbeelde ter illustrasie aan. Reeds in 1938 is 'n petisie aan die destydse Parlement - onder leiding van "vader" Kestell van die NG Kerk - voorgelê waarin gevra word vir wetlike skeiding tussen blank en nieblank en 'n verbod op gemengde huwelike. Die petisie is deur 250 000 mense onderteken, grotendeels Afrikaanse Christengelowiges. Die pleidooi het wesenlik daarop neergekom dat dit die wil van God is dat blanke Afrikaners suiwer en afgeskeie van die nieblanke volkere (mense?) moet voortbestaan (Kyk Treurnicht 1975:78).

    Die sendingbeleid van veral die NG Kerk was gebaseer op aparte kerke vir Blankes, "Kleurlinge", "Bantoes" en Indiërs. Totius, die bekende Gereformeerde digter-teoloog, het die "toring van Babel"-metafoor as teologiese apologie vir apartheid gebruik. Sinodes van die NG Kerk in Transvaal en die Kaap het in 1948 besluite aangeneem wat apartheid geregverdig het. Die wese van die politieke teologie van Afrikanernasionalisme word ook deur AP Treurnicht uitgedruk in sy boek Credo van 'n Afrikaner (1975:12-24). Volgens Treurnicht is Christelike nasionalisme die grondslag van "ons" (sic) hele maatskaplike, opvoedkundige en politieke volkslewe en hy lei dit af van "die Here en sy Woord" en dat God die Afrikaner geroep het om 'n taak in Suid-Afrika te volvoer. Die Afrikaanse susterskerke het apartheid geregverdig tot in die middel tagtigerjare - en was in 'n sekere sin voor die Nasionale Party met die Skriftuurlike regverdiging van apartheid in die dertigerjare van die vorige eeu - en het eers na die NP afskeid van apartheid geneem.3 Die retoriek, simboliek en metafore wat in die kerklike regverdiging van apartheid gebruik is, pas in die algemene trant van die apartheid politieke teoloie soos hierbo en hieronder uiteengesit.

    'n Verdere gedeelte van die identiteitskepping en interpretasie van die Afrikanernasionalisme is die stryd teen Britse Imperialisme. Kortweg lees die politieke teologie dat die Britte sedert die begin van die 19de eeu daarop uit was om Afrikaners, hulle taal en hulle godsdiens te onderdruk. Die lang uitgerekte taalstryd in die Kaapkolonie, die stryd om Boererepublieke in die Noorde te vestig en die bitterheid van die Anglo-Boereoorlog, vorm deel van hierdie politieke teologie.4 Teen 1960, op die vooraand van republiekwording, word hierdie tema minder akuut in die Afrikaner politieke teologie: bande met Brittanje sou binnekort verbreek word en die Republiek waarvoor sedert 1910 geveg is, word bewaarheid.5

    Die republikeinse strewe onder polities bewuste Afrikaners het met die storm en drang van die 1930s in die Afrikaner politieke lewe (body politic) na 1948 steeds sterker geword. Nie alle Afrikaners was ewe behep met republiekwording nie, maar die leidende Afrikanernasionalistiese politieke en intellektuele elite het, na my oordeel, die strewe lewend gehou en aan die gewone Afrikaners oorgedra. Hierdie strewe word kenmerkend deur Meyer (1966:288) verwoord: "... die onsigbare nasionale vlam wat die Afrikaner aangevuur het tot staatkundig republikeinse selfstandigheid in sy eie land, vorm deel van die Westerse nasionalisme. ... Hierdie Afrikaanse nasionalisme is diep gewortel in die Hervorming en meer bepaald die Calvinisme; is vertolk en gevorm in die lig van die Bybel; ...is aanvaar as 'n goddelike roeping tot eer van Sy naam en tot heil van al die mense en volke van Afrika". Meyer gaan voort om die strewe na Afrikaans as eie taal teenoor Nederlands en Engelse oorheersing aan te dui as een van die drywers van Afrikanernasionalisme. Hy maak ook gewag van die noodsaaklikheid van 'n "eie begrensde vaderland met toereikende natuurlike hulpbronne" - 'n eie republiek dus. Les bes, volgens Meyer, is Afrikanernasionalisme gedra en gehandhaaf deurdat dit nie verswak is deur "ondertrouing en vreemdsoortige vermenging nie" (Meyer 1966:288).

    Die tweede tema in Afrikanernasionalisme, soos blyk uit die aanhaling van Meyer, het 'n duidelike rasbewuste ondertoon. In hierdie gedeelte van Afrikanernasionalisme se politieke teologie word geglo dat die wit, Europese ras 'n superieure ras vergeleke met ander rasse is en dat rasse wesenlik nie vermeng behoort te word nie. Die idee en praktyk van rasseskeiding is 'n deurlopende tema onder blanke Afrikaners sedert Jan van Riebeeck se oprigting van die amandelheining in die Kompanjiestuin. Die 19de eeuse Boererepublieke, Britse Koloniale beleid en les bes, Uniewording in 1910, maak voorsiening vir die skeiding tussen blank en nieblank. Terloops, hierdie gevoel van rassesupremasie was nie beperk tot Afrikaners nie. In die eerste helfte van die 20ste eeu was dit wydverspreid in die Britse koloniale politieke teologie, ook in die Suide van die VSA en in dele van die Portugese en Franse imperiums.6

    Teen 1960, met die bereiking van die ideaal van 'n Afrikanerrepubliek,7 (sic) word die antibritse, anti-angliseringspolitiek vervang in belangrikheid deur die aanpak van die "swart gevaar probleem". Die Nasionale Party het in 1948 aan die bewind gekom met die sogenaamde apartheidsverkiesing. Die eerste tien jaar van apartheid was eintlik tien jaar van die wettiging van sosiale gebruike onder blankes en Afrikaners in Suid-Afrika. Talle sogenaamde klein apartheidswette is aanvaar: sosiale en fisiese skeiding op bykans alle terreine van die volkshuishouding is deurgevoer. Die hoeksteen van klein apartheid, die Bevolkingsregistrasiewet, word in 1950 gepromulgeer. Hiervolgens moes alle Suid-Afrikaners in vier rassegroepe geklassifiseer word, te wete blankes, kleurlinge, Indiërs en "naturelle" (later "Bantoes"). Die geskiedenis daarvan is welbekend.8

    Met die bewindsaanvaarding van Verwoerd as eerste minister in 1958, begin die era van die politieke teologie van sogenaamde groot apartheid. Hierdie era staan in Nasionale Party terminologie bekend as die beleid van afsonderlike ontwikkeling, waardeur die sowat nege swart "inheemse volkere" tot volle politieke en ekonomiese "onafhanklikheid" gelei sou word. Die Unie/Republiek van Suid-Afrika van 1910 sou effektief "uitmekaar gehaal" moes word.

     

    5. VERWOERD, APARTHEID EN REPUBLIEKWORDING

    Met sy aanstelling as Minister van Naturellesake in 1950, het dr HF Verwoerd die kleinapartheidsopvattings van die Malanregering verruim na afsonderlike ontwikkeling. Gebaseer op die aanname dat die Bantoetaalsprekende swartmense van Suid-Afrika nege volkere verteenwoordig en dat elkeen van hierdie volke uiteindelik tot soewereine volke met 'n eie grondgebied moet ontwikkel, het Verwoerd begin met die idee van groot apartheid. Verwoerd was 'n aktivistiese en rustelose minister en die pas van verandering in sy portefeulje was vinnig. Opeenvolgend word die Naturelle Stadgebiede Wet, die Naturelle Bouwerkerswet, die Bevolkingsregistrasie wetgewing en die Bantoe onderwyswet gepromulgeer. Die Bantoe Owerhede Wet stel owerhede vir al die Bantoe volkere in die "Bantoetuislande" in werking. Kort nadat Verwoerd in 1958 eerste minister word, word die Wet op die Bevordering van Bantoeselfbestuur aanvaar - die grondslag van die uiteindelike onafhanklike "Bantoetuislande". Die verteenwoordiging van swart burgers deur blankes in die parlement word ook afgeskaf. Onder Verwoerd se leiding word die konsolidasie van tuislande voortgesit, wat poog om die Hertzogwetgewing van 1936 uit te voer, waardeur ongeveer 6 miljoen hektaar grond by bestaande "naturelle trustgebiede" gevoeg sou word - in 'n poging om afsonderlike swart "Bantoestate" tot stand te bring. Teen 1990 was hierdie wetgewing byna volledig uitgevoer, met ander woorde die Bantoetuislande was toe "gekonsolideer" - en sou ongeveer 13% van Suid-Afrika se totale grondgebied beslaan - om 70% van die bevolking te akkommodeer (SAIRR:1990).

    Verwoerd kondig ook in Januarie 1960 aan dat die kwessie van republiekwording vir Suid-Afrika praktiese politiek geword het en dat 'n referendum later daardie jaar oor die saak gehou sou word. Slegs blanke kiesers sou aan die referendum deelneem en dit sou beslis word met die minimum volstrekte meerderheidsbeginsel, met ander woorde 'n meerderheid van 50% van die uitgebragte stemme + 1 sou beslis of die ideaal van 'n republiek vir Afrikaners bereik word. Die Nasionale Party wen die referendum met 'n meerderheid van 74 580 stemme - naastenby 51% van die uitgebragte stemme. Daar was maar ongeveer 1,5 miljoen geregistreerde blanke kiesers uit 'n totale bevolking van nagenoeg 15 miljoen en slegs sowat 780 000 kiesers, 'n skrale 5% van die totale staatsbevolking, het republiekwording ondersteun - 'n aanduiding van hoe ver die vraagstuk buite die politieke werklikheid van die destydse demografie van Suid-Afrika gestaan het (Giliomee 2003:225).

    Met republiekwording word die eerste Afrikanerideaal van 'n eie, vrye republiek behaal, los van die simbole van die Britse monargie en die bedreiging van Anglisering van die Afrikanergemeenskap. Die politieke teologie van die Afrikanernasionalisme vier hierna hoogty. Al die fasette van die Suid-Afrikaanse burgerlike samelewing word daardeur in mindere of meerdere mate beïnvloed. Skoolleerplanne, veral Geskiedenis en ander sosiaal-wetenskaplike vakke, word Afrikanernasionalisties geïnterpreteer, afsonderlike universiteite en skole vir al die kleurgroepe in Suid-Afrika word tot stand gebring en uitgebrei, die belangrikste staats- en parastatale instellings kom onder Afrikanerbeheer, volksfeeste en openbare vakansiedae refl ekteer Afrikanernasionalisme se interpretasie van die verlede, pers- en literatuursensuur moet die toets van Afrikaner kleinburgerlike moraliteit deurstaan - of verbied word. Suid-Afrika onder Verwoerd en van sy opvolgers word wesenlik as Afrikanerstaat bestuur, ten spyte daarvan dat Afrikaners maar omtrent 2 miljoen van 'n staatsbevolking van ongeveer 15 miljoen in daardie tyd gevorm het. Teenoor "Engelse" blankes is klein toegewings gemaak: eentalige Engelse staatskole en die vier "Engelse Universiteite" is gedeeltelik aanvaar en in vrede gelaat - solank as wat die instellings wesenlik blank en Engels gebly het en apartheidswetgewing nagekom het.9

     

    6. DIE VORSTER- EN BOTHAREGERINGS: TOENEMENDE OUTORITARISME10

    Verwoerd word in September 1966 vermoor en sy opvolger, BJ Vorster, 'n konserwatiewe Afrikanernasionalis, sit die wese van Verwoerd se apartheidsbeleid voort, met 'n paar mindere pragmatiese aanpassings aan klein apartheid teen die einde van sy regime. Onder Vorster begin die gewelddadige verset van die ANC toeneem, die Portugese en Rhodesiese wit cordons sanitaire val en Suid-Afrika word toenemend internasionaal geïsoleer. Die "Grensoorlog" begin in 1966 in Ovamboland. Vorster het 'n hardgebakte wet en orde-benadering teen swart verset en apartheidswetgewing word met 'n ferm hand toegepas. Opponente word as kommuniste gelys, in 180 dae aanhouding sonder verhoor geplaas, tweetaligheid word op byvoorbeeld hoofsaaklik Engelssprekende hotelle in Natal afgedwing. Afrikaans word as verpligte vak en medium van onderrig op swart skole afgedwing. Die geskiedenis hiervan is ook oorbekend. Vorster het sekere pragmatiese aanpassings met betrekking tot klein apartheid en buitelandse beleid gemaak, maar die wese van die apartheidstaat is ongeskonde gelaat. Die Transkei, Ciskei, Bophuthatswana en Venda word as onafhanklike state erken en tuisland konsolidasie word voortgesit. Gedurende die Vorster-jare was daar groot planne met die beleid van afsonderlike ontwikkeling. Sprekend hiervan is dr CP Mulder, toenmalige Minister van Plurale Betrekkinge (voormalige "Bantoe-Administrasie"), se uitspraak dat wanneer al die Bantoetuislande in Suid-Afrika onafhanklik sou wees, daar "geen Swart Suid-Afrikaanse burgers meer sou wees nie" (Giliomee 2003:606). By implikasie sou rasseharmonie in Mulder se voorstelling van die wit apartheidsrepubliek heers en die "probleem van die swart gevaar" uiteindelik opgelos wees.

    In 1975 word die SA Weermag in 'n oorlog in Angola betrek en die "warm periode" van die Grensoorlog in Suidwes-Afrika neem 'n aanvang. In 1976 begin 'n ongeveer sewentien jaar lange gewelddadige opstand teen die apartheidsregering met die sogenaamde "Soweto-opstande" teen die afdwing van Afrikaans in skole. Die Suid-Afrikaanse samelewing sou tot met die De Klerkregering se onderhandelde skikking met die ANC deur 'n spiraal van toenemende politieke geweld gekenmerk word. PW Botha vervang Vorster11 as eerste minister in 1978, na die sogenaamde Inligtingkorrupsieskandaal wat senior Nasionale Party-ministers en staatsamptenare se korrupte praktyke aan die kaak stel. Die beeld van die Nasionale Party as doeltreffende en onkreukbare regerende party is daarmee aan skerwe. Botha is 'n doeltreffende administrateur en poog om die staatsdiens te hervorm. Terselfdertyd is hy 'n hardgebakte sekurokraat wat glo dat Suid-Afrika deur 'n totale - kommunisties geïnspireerde - aanslag bedreig word. Onder sy leiding word die SA Weermag uitgebou tot die sterkste weermag op die Afrikakontinent en die Grensoorlog in Suidwes-Afrika en Angola op taktiese en logistiese vlak uiters doeltreffend gevoer. Plaaslik poog Botha om die eise van Afrikanernasionalisme en die idee van 'n Afrikaans gedomineerde blanke republiek te versoen met die politieke aspirasies van toenemend verstedelikende swart mense wat geen baat sou vind by die tuislandbeleid van "groot apartheid" nie. In die tagtigerjare begin die ANC met 'n hernude gewapende binnelandse opstand teen die NP-regering, gesteun deur die breedgebaseerde United Democratic Front. In wese poog Botha om met wapengeweld en sekurokratiese metodes die ANC opstand en gewapende stryd te onderdruk. Met die afkondiging van die noodtoestand in Junie 1986 sê hy op nasionale televisie: "My regering sal die ANC breek".12 Die PW Botha-era sou gekenmerk word deur toenemende gewelddadige onderdrukking van die ANC, sowel as verwante bevrydingsbewegings soos die PAC en die UDF.

    Sedert die Sharpevillevoorval in Maart 1960, is die opeenvolgende Nasionale Partyregerings toenemend internasionaal geïsoleer deur wapen- en olieboikotte, diplomatieke en ekonomiese ostrasisme. Tydens die Botha-bewind neem beleggersvertroue af, oorsese banke trek hulle leningsgeriewe aan die SA regering in, ekonomiese groei daal en is selfs negatief, staatskuld neem toe en blanke opposisie teen die idee van apartheid en gewelddadige onderdrukking van swart opposisie neem toe. Ruimte ontbreek om 'n enigsins volledige relaas van die onderdrukkingsmaatreëls van die Botha-regering aan te bied. Die volgende skets demonstreer iets daarvan. Botha het 'n nasionale veiligheidsbestuurstelsel tot stand gebring, waarvan die toppunt die Staatsveiligheidsraad onder voorsitter van die Staatspresident (Botha) was. Tesame hiermee is 'n sogenaamde Totale Aanslag teenrevolusionêre strategie en taktiek teen swart bevrydingsbewegings op koers gebring. Die Botha-regering se veiligheidsoptredes het koverte sowel as overte operasies behels. Dit het na die val van die apartheidsrepubliek duidelik geword dat daar ernstige menseregte vergrype aan die kant van die Nasionale Partyregering was. Politieke teenstanders is vermoor, vergiftig, in gevangenskap sonder verhoor geplaas, oorgrens operasies teen die ANC is in Botswana, Lesotho, Mosambiek, Zimbabwe en Angola onderneem. Baie van hierdie vergrype en onwettige optredes deur regeringsagente het tydens die post-apartheid Waarheids-en-versoeningskommissie Verhore aan die lig gekom - soos die berugte Vlakplaas-moorde onder Coetzee en Kol. Eugène de Kock. Hierdie optrede teen burgers van die staat kon kwalik as "Christelik" geregverdig word, om nie eens daarvan te praat dat dit nie binne die perke van die Suid-Afrikaanse Romeins-Hollandse en Engelse gemenereg plaasgevind het nie - daardie regserfenis is wesenlik deur die Nasionale Party sedert 1948 genegeer en selfs verkrag.

    Enkele voorbeelde van die repressiewe optrede onder die Botha-bewind is die volgende: Hoofsaaklik blanke troepe is in swart "townships" ontplooi en maksimumgeweld teen oproerige skares is gereeld toegepas. In 1985 is byvoorbeeld 32 000 SA Weermaglede in 96 swart dorpsgebiede (townships) ontplooi. Opeenvolgende noodtoestande is tussen 1986 en 1993 afgekondig. Meer as 80 000 mense is vir periodes so lank as twee jaar sonder verhoor in aanhouding geplaas, insluitend 1500 kinders onder 16. Volgens menseregtegroepe is soveel as 10 000 mense in aanhouding deur veiligheidspersoneel van die staat op een of ander manier gemartel en aangerand. In die orde van sewentig mense het in aanhouding gesterf, waarvan verskeie verdagte "selfmoordpogings" was. Drieduisend mense is in huisarres geplaas. Meer as 500 mense is op 'n gekonsolideerde verbanningslys geplaas: hulle mog nie aangehaal word nie, geen foto's kon van hulle gepubliseer word nie - waarvan Mandela 'n sprekende voorbeeld was. Meer as honderd organisasies is verban - insluitend die ANC, PAC en SA Kommunisteparty. Die teenrevolusionêre strategie het ingesluit dat die staat vigilantegroepe teen ANC-gesinde organisasies soos die UDF tot stand gebring, bewapen en gefinansier het. Die Inkatha-beweging onder leiding van Hoofminister Buthelezi is so ondersteun. Hierdie steun het uiteindelik tot 'n uitgerekte stryd tussen die ANC en die IVP gelei en ten minste 15 000 mense het in hierdie konflik gesterf - dit het selfs tot in die post-1994 ANC-geleide regering plaasgevind. Buite Suid-Afrika is UNITA in Angola en RENAMO in Mosambiek deur die SA regering gefinansier. Dit het tot die dood en verminking van letterlik tienduisende mense gelei - insluitend die verminking van vrouens en kinders deur anti-personeel landmyne.

    Toe Botha in Augustus 1989 deur sy eie kabinet en partykoukus gedwing word om as staatspresident te bedank, was dit vir sy opvolger, FW de Klerk, duidelik dat die ideale van Afrikanernasionalisme en 'n Afrikanerrepubliek, sowel as die idee van groot en klein apartheid, polities onhaalbaar was. Op 2 Februarie 1990, met sy bekende staatspresidentsrede waarin die ANC en ander bevrydingsbewegings ontban word, Mandela vrygelaat is en 'n onderhandelde skikking vir 'n "nuwe Suid-Afrika" afgekondig word, lui die doodsklok van die Afrikaner politieke teologie en die idee dat Suid-Afrika 'n tipe "Boerestaat" of wesenlik Afrikanerrepubliek is. In die dertig jaar sedert 1960 was Suid-Afrika vir meeste Afrikanernasionaliste "ons land" met "ons staatsdiens", "ons polisie" en "ons weermag" - in weerwil daarvan dat slegs ongeveer 2,5 miljoen mense wit "Afrikaners" was uit 'n bevolking van nagenoeg 37 miljoen mense in 1990, dus maar 6,75% van die bevolking.13

    Die menslike koste van volvoering van die Afrikaner politieke teologie was hoog. Ek noem van die belangrikste voorbeelde: Ten einde gebiedskeiding tussen die rasse in Suid-Afrika te bewerkstellig, is tussen 1960 en 1990 3,5 miljoen, hoofsaaklik swart mense, uit hulle gevestigde woongebiede na "geskikte" etniese enklawes verskuif. Van die bekendste voorbeelde is die verskuiwing van Distrik Ses in Kaapstad en Sophiatown in Johannesburg. Daar is talle ander voorbeelde van menslike lyding en ontworteling wat die gevolg van die eufemisties gestelde "beleid van afsonderlike ontwikkeling" was. In dieselfde tydperk is 17 miljoen swart mense ingevolge "paswetgewing" gearresteer omdat hulle op een of ander manier die "paswette" oortree het. In 1976 begin die Soweto-opstande teen afgedwonge Afrikaans. Ongeveer 600 swart opstandelinge sterf, baie van hulle jeugdiges, en duisende word sonder verhoor aangehou. Tussen 1974 en 1983 is 2 055 persone aangekla en 1 712 mense skuldig bevind aan artikel 16 van die Ontugwet, wat seks oor die kleurgrenslyn verbied het. In die 35 jaar wat die bepaalde artikel op die wetboek was, is 11 500 mense van die "misdaad" van seks oor die kleurgrenslyn aangekla. Tussen 1984 en 1994 was daar 20 000 politieke sterfgevalle, ironies, as gevolg van die stryd tussen die Inkatha Vryheidsparty en die ANC. Daar is 3 000 mense dood as gevolg van polisie- en weermagoptrede in die grensoorlog en politieke onrus in die swart townships. In die sekurokratiese periode van PW Botha het die SA Polisie in die agt jaar tussen 1984-1992, 80 000 voorvalle van politiek gedrewe geweld aangeteken (Kyk Giliomee 2007: 316,317).

    Ongekende menslike lyding op persoonlike vlak word geïllustreer deur bekende voorbeelde, soos Sandra Laiing, wat 'n "kleurlingkind" van wit ouers was en deur die staat van hulle weggeneem - en uiteindelik deur haar pa verwerp is; met die Ontugwet as verskoning, is Breyten Breytenbach se Viëtnamese vrou, Yolande, toegang tot Suid-Afrika geweier. By implikasie sou die Breytenbachs van seks oor die kleurskeidslyn aangekla moes word - al was hulle wettig getroud in Frankryk. Papwa Sewgolum, 'n Indiër gholfspeler, moes sy prys by 'n agtervenster van 'n gholfklub ontvang; Basil d' Oliviera, 'n "kleurling" kon nie vir die Springbokke krieket speel nie. Steve Biko is in feite deur hardhandige, ongenaakbare polisieoptrede in aanhouding dood. Honderde lede van verbode politieke bewegings soos die ANC en PAC is op Robbeneiland en in ander gevangenisse aangehou, waarvan die 27 jaar tronkstraf van Nelson Mandela en ander ANC-lede soos Walter Sisulu en Govan Mbeki internasionale reperkussies gehad het. Die Nasionale Party-regering het ook sensuur met betrekking tot die openbare media toegepas. Koerante en elektroniese media is deur beperkende wetgewing en burokratiese rompslomp aan bande gelê. Boeke van prominente Afrikaanse skrywers soos Breyten Breytenbach, Etienne Leroux en Andrè Brink is verban. Vooraanstaande Afrikaners soos die teoloog Beyers Naudè is uit die NG Kerk "gewerk" deur mede-predikante en "Christene" (sic?) en uiteindelik deur die Vorster-regering onder onbepaalde huisarres geplaas vir sy ondersteuning aan die "goddelose" ANC-Kommunistiese aanslag teen Volk en staat. Tydens die PW Botha-bewind is die beperkings op Naudè opgehef na druk uit die geledere van die NG Kerk. Gesinne is uitmekaar geskeur deur rasseklassifikasie, dikwels omdat van die blanke sibbes soos "kleurlinge" gelyk het en so meer. Suid-Afrika se buurlande, soos Mosambiek en Angola, is in surrogaatoorloë betrek deur die apartheidstaat en duisende lewens en miljarde rande se infrastruktuur is daardeur vernietig.14

    Ruimte ontbreek om die ekonomiese droomwêreld van die apartheidsbeleid te demonstreer.15 Ek noem enkele voorbeelde: die sogenaamde grensnywerheidbeleid wat die droom moes bewaarheid dat swartes teen 1978 uit die blanke grootstede sou terugkeer na die tuislande; die beperkings op swart indiensneming in "blanke" gebiede - 'n ratio van twee swartes vir elke blanke werknemer; die werkreserveringsbeleid om blanke werkers te bevoordeel; die beleid van inwaartse industrialisering; CP Mulder se droom dat swartes uit die tuislande daagliks met sneltreine na die blanke gebiede sou pendel om hulle uit die wit gebiede gedurende aande en naweke te hou. Genoeg om te volstaan met die opmerking dat die staatsfinansies van die apartheidsrepubliek in 1993 wesenlik "in die moeilikheid" was. Die Nasionale Partyregering kon toe bykans geen buitelandse finansiering of beleggings trek nie, ekonomiese groei en ontwikkeling het gestagneer en die tekorte van die staatsbegroting was onvolhoubaar. In die 1990-begroting, aan die begin van die De Klerkregering, is 15% van die begroting aan verdediging, 4% aan polisiëring, 1,2% aan die gevangenisdiens maar slegs 8% aan onderwys spandeer. Dus is ten minste 20% van die staat se begroting in die laat apartheidsjare aan "Veiligheidsdienste" uitgegee: 'n klaarblyklike aanduiding van die veiligheidskrisis waarin die De Klerk-regering na dertig jaar van die gewapende stryd teen apartheid verkeer het.16 Dit was duidelik dat die Nasionaleparty-regering nooit die ideale van apartheid en 'n wit Afrikanerrepubliek sou kon bereik nie. Selfs nie die sterkste weermag en mees gesofistikeerde veiligheidsbestuurstelsel kon die Afrikanerutopia immanentiseer nie.

     

    7. BESPREKING

    Die wese van die argument in hierdie essay is dat Afrikanernasionalisme en die strewe na 'n eie Afrikanerbeheerde republiek geïnterpreteer kan word as 'n politieke teologie wat binne die westerse kultuurtradisie ontstaan, maar daardie tradisie skeefgetrek het. Die droom van die verwerkliking van 'n apartheidsrepubliek was in wese 'n verbeelde werklikheid wat min met die empiriese haalbaarheid daarvan te doen gehad het. Apartheidsgedrewe Afrikanernasionalisme maak van Christelike simboliek en terminologie gebruik om sigself te regverdig en te legitimeer. Die belangrikste teoretiese mistasting is dat die Afrikanervolk 'n goddelike roeping het en dat "God 'n doel met die Afrikaner in die geskiedenis" het. Die probleem hiermee is dat Afrikanernasionalisme as politieke teologie, en as pragmatiese politieke program, 'n droomwêreld wil bewerkstellig. Aardse bestaan is 'n misterie in die proses van ontvouing en die misterie is ondeur dringbaar. Aardse bestaan is letterlik verskriklik en moeilik om te verduur - selfs vir die sterkstes. Afrikanernasionalisme is in sy wese 'n ontkenning van die werklikheid-van-bestaan van Afrikaners in die komplekse samelewing wat in 1910 deur uniewording tot stand gekom het. Afrikaner nasionalisme as politieke teologie stel hom as kenner van die goddelike waarheid en wou deur politieke aktivisme hierdie goddelike waarheid ten uitvoer bring. Opponente is gesataniseer: let op die satanisering van Britse imperialisme; die swart gevaar; die andersheid van die "naturelle", die "Bantoes"; die totale kommunistiese, goddelose aanslag teen "Suid-Afrika en die Afrikaner". In die droomwêreld van so 'n politieke teologie word handelinge wat in die werklike wêreld as onsinnig gesien sou word, as morele handelinge aangebied. So byvoorbeeld het Afrikaner nasionaliste "uit hulle pad gegaan" om kerklike sanksie van die drie Afrikaanse susterskerke te kry vir die "morele haalbaarheid van apartheid". Uit aanhalings hierbo is dit ook duidelik dat apologete17 van apartheid en republikanisme, gepoog het om te argumenteer vir goddelike sanksie op hulle politieke teologie. Die probleem met die Afrikanernasionalistiese politieke teologie is dat dit 'n eidos of doel van die geskiedenis postuleer - daar word dus 'n sekerheid op aardse bestaan afgedwing. Die wese van die Christelike leer is egter dié van die onsekerheid van aardse bestaan. Kommunikasie met die transendente godheid is beperk tot 'n brose band van geloof in die sin van Hebreërs 11:1 van "die dinge wat ons hoop, en om oortuig te wees van die dinge wat ons nie sien nie". Dit is 'n swaar eksistensiële las en maak die belofte van 'n politieke teologie van sekerheid van aardse bestaan - 'n rasgeskeie wit Afrikanerrepubliek as die "wil van God" - des te meer aantreklik. Moet mens veronderstel dat god sigself amuseer deur spesifiek die Afrikaners uit te sonder as sy geroepenes in Suid-Afrika? Afrikanernasionalisme is na my oordeel wesenlik aangetas deur die Zoroastrisme wat leer dat die wêreld immanent 'n beter plek gemaak kan word, teenoor die Augustiniaanse leer dat die aardstad immer sondig en gebroke sal bly (Kyk Gray 2007:21-28). Voorts, so lyk dit my, was die voorstelling wat die Afrikanernasionalistiese politieke teologie van "hulle" (ons?) Afrikaanse Republiek en Afson derlike Ontwikkeling nie 'n empiries toetsbare werklikheid nie, maar 'n verbeelde werklikheid. Namate die "apartheidsgedrewe Afrikanerrepubliek" in die empiriese werklikheid ontplooi is, het die droomwêreldagtigheid van die voorstelling van "ons Republiek" in konfrontasie met die werklikheid gekom. Pogings deur die NP-regering om hierdie droom te verwesenlik - om dus die verbeelde eskaton te immanentiseer - het toenemend gewelddadig geword, soos wat die praktyk en ideaal verder uitmekaar gedryf het, en soos wat hierbo kortliks geïllustreer is.

    Die val van die verbeelde "Afrikaner en blanke republiek" met die FW de Klerk toespraak in Februarie 1990, is 'n empiriese illustrasie van die mislukking van 'n politieke teologie wat van meet af aan op valse teoretiese veronderstellings binne die Christelike tradisie en teologie gebaseer was. Nogmaals het die utopiese planne uitgeloop op outoritarisme, staatlike en fi sieke dwang, bloedvergieting en menslike lyding en offers. Ten tyde van De Klerk se toespraak het die Afrikaners maar omtrent 6,5% van "hulle republiek" se bevolking uitgemaak, maar het ongeveer 75% van die grondgebied besit. Binne die "Afrikaner en blanke republiek" het "nieblankes" ongeveer 90% van die bevolking verteenwoordig. Daar kan geen beter weerlegging en falsifiëring van die empiriese onhaalbaarheid van apartheid/afsonderlike ontwikkeling as oplossing vir die rasseprobleem in Suid-Afrika wees as hierdie werklikheid nie - en gevolglik die "droomwêreldagtigheid" van die Afrikanernasionalistiese politieke teologie. Die getuienis en feite wat in die Waarheids-en-versoeningskommissie na vore gekom het, illustreer duidelik hoe 'n selferkende Christelike volk en sy regering die morele pad byster geraak het en sy medemens wreed onderdruk en behandel het. Daarbenewens het die NP-regering as verteenwoordiger van die Afrikanernasionalistiese volksideaal teen 1990 bitter min morele grondslag oorgehad. Die geskiedenis het geen doel/eindbestemming vir 'n bepaalde volk nie. Die proses van die geskiedenis en die orde wat mense daaruit kan aflei, is nie 'n verhaal wat geskryf kan word van die begin tot die gelukkige of ongelukkige einde nie. Dit is 'n misterie in die proses van ontvouing. Buitendien was dit reeds teen 1648 in die Weste, na die Dertigjarige Oorlog, duidelik dat 'n Christelike politieke teologie, hetsy dit 'n afwesige God, 'n transendente God of 'n immanente God as vertrekpunt neem, 'n doodloopstraat is. Die Vrede van Wesfale was die begin van die idee van die skeiding tussen staat en kerk en dus van die afskeid van 'n Christelike politieke teologie as ordeningsbeginsel waarop 'n staat georganiseer word (Lilla 2007: 54). Na die Dertigjarige Oorlog het Europese leiers en intellektuele dit begin bevraagteken dat verskille oor goddelike genade, predestinasie, kettery, die sakramente, purgatorium, die korrekte vertaling van 'n Griekse naamwoord, tot oorloë en geweld tussen Christene lei. Die dominante tema in die Weste word hierna skeiding tussen kerk en staat, sekularisering en die aanvaarding van wetenskaplike getuienis onder invloed van die Verligting, eerder as die vashaak by kerklike dogma en geweld (Lilla 2007:58).18 Tog het die Afrikanernasionalisme lank bly vaskleef aan die politieke teologie van 'n geroepe, uitverkore volk wat die geopenbaarde wil van God in 'n Protestantse tradisie vervul, met sy eie republiek, afgesonder van die ander volkere en rasse van Suid-Afrika.

    Die politieke teologie van apartheid het die teoretiese vertrekpunte van die Christelik-Westerse intellektuele erfenis waarop dit gebaseer was, negeer. Geen wonder dat die Afrikanerrepubliek nie volhoubaar was nie en binne dertig jaar polities, ekonomies en moreel bankrot was. Dit was in wese van meet af 'n doodloopstraat. Die politieke gebeure sedert 1994 bied hoop en wanhoop vir Afrikaners. Hoop dat deur konstitusionalisme en demokratiese praktyk 'n pluralistiese politieke orde gevestig kan word, waarin die diversiteit van die Suid-Afrikaanse staatsvolk gehuisves kan word. Wanhoop, dat die regeerders van die nuwe orde 'n siniese kniebuiging maak na konstitusionalisme en pluralisme, maar dat hulle in werklikheid 'n sekulêre politieke teologie van staatsmonisme nastreef. Die volgende vrae ontstaan ook oor die tydgenootlike blanke Afrikaners en hulle post-apartheidsbelewenis, byvoorbeeld kerkloosheid, uitsigloosheid oor die toekoms, 'n herbeoordeling van hulle plek in die Suid-Afrikaanse geskiedenis, 'n selfverwyt en negatiewe selfbeeld oor apartheid. Hierdie is temas vir verdere navorsing en besinning.

     

    BIBLIOGRAFIE (Bronnelys /Werke Geraadpleeg)

    Die waardes van die Afrikaner. 1969. Referate gelewer by die jaarvergadering van die SAAkademie vir Wetenskap en Kuns, Junie 1969, Bloemfontein. Kyk veral FJM Potgieter: die Afrikaner se erfenis, pp. 97-106 en WJ de Klerk: Die bedreiging van ons wêreldbeskouing en lewensopvatting, pp. 113-118.        [ Links ]

    Dreyer, P.S. 1977. Afrikaner-liberalisme. Pretoria: Boekenhout.         [ Links ]

    Du Plessis, J.A. 1987. Kommunistiese Vrede of Christelike Stryd? Bloemfontein: NG kerk Sendinguitgewers.        [ Links ]

    Du Preez, J.M. 1983. Africana Afrikaner: Master symbols in South African Textbooks. Alberton.        [ Links ]

    Ferguson, N. 2003. Empire. London: Penguin.        [ Links ]

    Gagiano, J. 1986. Meanwhile back on the 'Boereplaas': student attitudes to political protest and political systems legitimacy at Stellenbosch University. Politikon (13: no. 2).        [ Links ]

    Giliomee, H. 2003. The Afrikaners. Kaapstad: Tafelberg.        [ Links ]

    Giliomee, H. & Mbenga, B. 2007. Nuwe Geskiedenis van Suid-Afrika. Kaapstad: Tafelberg.        [ Links ]

    Giliomee, H. & Adam, H. 1981. Afrikanermag opkoms en toekoms. Stellenbosch: Universiteitsuitgewers.        [ Links ]

    Gray, J. 2007. Black mass: apocalyptic religion and the death of utopia. London: Penguin. (Baie van Gray se argumente berus klaarblyklik op Voegelin, alhoewel hy nie altoos sy skatpligtigheid teenoor hom erken nie).        [ Links ]

    Hexham, I. 1981. The irony of apartheid: the struggle for national independence of Afrikaner Calvinism against Britsh Imperialism. New York: Edwin Mellen Press.        [ Links ]

    Kirsch, J. 2006. A history of the end of the world: how the most controversial book of the bible changed the course of western civilisation. Harper: San Francisco.        [ Links ]

    Lilla, M. 2007. The stillborn God: religion, politics and the West. New York: Vintage Books.        [ Links ]

    Lipton, M. 1986. Capitalism and apartheid. Kaapstad: David Philip.        [ Links ]

    Louw, NP van W. 1981. Liberale Nasionalisme. Kaapstad: Tafelberg.        [ Links ]

    Meyer, P.J. 1966. Nasionalisme: die onsigbare vlam, in Van Jaarsveld & Scholtz (1966: 287-306).        [ Links ]

    Moodie, T.B. 1975. The rise of Afrikanerdom. Power, apartheid and the Afrikaner civil religion. Berkeley: University of California Press.        [ Links ]

    O' Meara, D. 1983. Volkskapitalisme: class, capital and ideology in the development of Afrikaner nationalism 1934-1948. Johannesburg: Ravan.        [ Links ]

    Seegers, A. 2007. 'n Geheime operasie, 'n vuil grensoorlog in Giliomee & Mbenga 2007. Nuwe Geskiedenis van Suid-Afrika. Kaapstad: Tafelberg.        [ Links ]

    South African Institute of Race Relations, 1990. Race Relations Survey. Johannesburg:SAIIR.        [ Links ]

    Thompson, L. 1985. The political mythology of apartheid. New Haven:Yale University Press.        [ Links ]

    Treurnicht, AP. 1975. Credo van 'n Afrikaner. Kaapstad:Tafelberg        [ Links ]

    Van Jaarsveld, F.A. & Scholtz G.D. 1966. Die Republiek van Suid-Afrika. Johannesburg: Voortrekkerpers.        [ Links ]

    Venter, A.J. 1987. Prologomena to a Voegelinian perspective on Afrikaner nationalism and apartheid. Politeia 6(2):23-39.        [ Links ]

    Venter, A.J. 1989. South African government and politics. Johannesburg: Southern.        [ Links ]

    Voegelin, E. 1952. The new science of politics. Chicago: The University Press.        [ Links ]

    Wiser, J.L. 1983. Political Philosophy: a history of the search for order. Prentice Hall, pp. 395-398.        [ Links ]

     

    VOORBEELDE VAN DIE VERNAAMSTE APARTHEIDSWETGEWING

    Die Bevolkingsregistrasiewet van 1950, wat alle Suid-Afrikaners in vier rassegroepe klassifi seer. Die Groepsgebiedewet 1950, soos gewysig, wat aan die regering die bevoegdheid verleen om woon- en sakegebiede te proklameer vir eksklusiewe gebruik deur aangewese rassegroepe.

    Die Wet op Afsonderlike Geriewe 1953, wat bepaal dat lede van verskillende rassegroepe nie dieselfde openbare geriewe mag gebruik nie - die "hart" van "klein apartheid".

    Die Wet op die Verbod van Gemengde Huwelike, 1950, wat dit onwettig maak om oor die wetlike bepaalde rassegrense te trou.

    Die Ontugwet 1950, veral artikel 16 daarvan, verbied geslagsverkeer oor rassegrense heen. Die Wet op Bantoe-onderwys 1953, wat "naturelle-onderwys" direk onder beheer van die Departement van Naturellesake (later Bantoesake) plaas. Soortgelyke wetgewing word later vir kleurlinge en Indiërs gepromulgeer.

    Die Naturelle Wysigingswet 1952, en die Naturelle Stadsgebiedewet 1955, wat bepaal hoe en waar swart mense wettig in blanke stedelike gebiede mag woon.

    Die Naturelle (Beslegting van dispute wet) 1953, wat swartes uit formele dispuutbeslegting op arbeidsgebied uitsluit.

    Die Wet op Naturelle Bouwerkers 1951, en die Wet op Nywerheidskonsiliasie 1956, versterk die kleurslagboom tussen die verskillende rasse, die sogenaamde "werkreserveringswetgewing".

    Die Wet op die Onderdrukking van Kommunisme 1950, verbied die SA Kommuniste Party en maak dit moontlik om persone as "gelyste kommuniste" te verklaar.

    Die Strafproseswysigingswet 1953, maak dit 'n kriminele oortreding om enige regulasie te verbreek deur protesoptrede van enige aard. Selfs net die organisering van protes word krimineel strafbaar.

    Die Wet op Openbare Veiligheid 1953, gee aan die Minister van Justisie die bevoegdheid om noodtoestande af te kondig waarin gewone wette opgeskort kan word.

    Die Wet op die Verbod van Interdikte 1956, verbied swartes om hofinterdikte teen staatsoptrede te verkry.

    Die Wet op Onwettige Organisasies 1960, magtig die regering om politieke partye en organisasies te verbied - soos die ANC en PAC in 1960.

    Die Algemene Regswysigingswet 1962, 1963 en 1965 gee 'n wye definisie van sabotasie en magtig die polisie om persone in aanhouding sonder verhoor te plaas: eers vir 12 dae, toe vir 90 dae en daarna vir 180 dae - in 1965. Dit word verder versterk deur die Wet op Terrorisme 1967, wat onbepaalde detensie sonder verhoor magtig vir diegene wat van terrorisme verdink word.

    Die Wet op Interne Veiligheid van 1972, gewysig in 1976, amendeer en versterk die bovermelde veiligheidswetgewing en beperk die jurisdiksie van howe oor persone wat in aanhouding sonder verhoor is.

    Die Wet op Bantoeselfbestuur 1959, wat die grondslag van "groot apartheid" is. Dit maak voorsiening vir "Bantoetuislande" en die bestuur daarvan en uiteindelike staatkundige onafhanklikheid vir sodanige tuislande. Saam gelees hiermee, die Wet op Afsonderlike Universiteite wat universiteite vir "Bantoes", "Kleurlinge" en "Indiërs" tot stand gebring het.

    Selfbestuurswetgewing is mettertyd vir "Kleurlinge" en "Indiërs" aangeneem, wat gekulmineer het in die sogenaamde "Driekamer Parlement" Grondwet van 1983. Swartes is van hierdie bedeling uitgesluit.

    Die verskillende "grondwette" en "onafhanklikverklaring" van die Transkei (1976), Bophuthatswana (1978), Ciskei (1980) en Venda (1980), moet as deel van "apartheidswetgewing" gesien word. Nie een van hierdie state se onafhanklikheid is ooit internasionaal erken nie - 'n voorbeeld van 'n politiek onhaalbare utopiese projek as daar ooit een was.

     

     

    ALBERT VENTER is emeritus professor in Politiek aan die Universiteit van Johannesburg. Hy doktoreer in 1984 in die Staatsleer aan Unisa met 'n proefskrif oor die politieke teorie van Karl Popper. Hy is sedert 1979 dosent in Staatsleer/ Politiek aan onderskeidelik die universiteite van Pretoria, Suid-Afrika en die RAU/UJ. Hy was vir nege jaar voorsitter van die Departement Politiek aan die RAU. Hy dien in die besture van verskeie akademiese verenigings en was opeenvolgend Sekretaris, Adjunk-President en President van die SAVereniging vir Politieke Studies (1987 - 2001). Hy was van 2003-2008 'n Raadslid van die Universiteit van Johannesburg en van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns. Sy navorsingsbelangstelling dek 'n wye gebied in die staatsleer en politiek. Hy het vyf boeke oor die Suid-Afrikaanse politiek gepubliseer en 'n honderd en veertien bydraes in akademiese joernale en hoofstukke in boeke gelewer. Sy spesifieke navorsingsbelangstellings sluit in die vergelykende politiek, Suid-Afrikaanse en Afrikanerpolitiek, die politiek van diepverdeelde samelewings, demokratisering van outoritêre samelewings en politieke risiko-ontleding. Tydens sy loopbaan is hy gegradeer as gevestigde navorser van die Nasionale Navorsingstigting (NNS). Hy het verskeie buitelandse studiereise onderneem en referate gelewer.
    ALBERT VENTER is professor emeritus in Politics at the University of Johannesburg. He obtained his doctorate in Politics in 1984 with a thesis on the political theory of Karl Popper. He has taught Politics since 1979 at respectively the Universities of Pretoria, South Africa, Randse Afrikaanse Universiteit (RAU) and Johannesburg. He was chair of the department of Politics at RAU for nine years. He has served on the executive committees of various academic associations and successively served as Secretary, Vice President and President of the South African Political Studies Association (1987 - 2001). He was a member of the Councils of the University of Johannesburg and the Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns (2005 - 2008). He has wide research interests in the discipline of politics. He has published and edited five books on South African politics and has written a hundred and fourteen contributions to academic journals and chapters in books. His specific research interests include comparative politics, South African and Afrikaner politics, the politics of deeply divided societies, democratisation of authoritarian societies and political risk analysis. During his career he held a rating by the National Research Foundation (NRF) as established researcher. He has undertaken numerous interna tional study tours and read papers at international conferences.

     

     

    1 Essay word gebruik in die sin van "a composition, analytical or interpretative, dealing with its subject from a more or less limited or personal standpoint" (Webster's New Collegiate Dictionary, 1960).
    2 Daar is 'n omvattende literatuur oor Afrikanernasionalisme en sy politieke teologie, en hoe dit veral sedert die dertigerjare van die 20ste eeu ontstaan en verder ontwikkel het. Dit kan nie hier herhaal word nie. Die leser word verwys na werke soos onder andere dié van Moodie (1975); Thompson (1985); Hexham (1981); Giliomee (1981); Treurnicht (1975); Meyer; in Van Jaarsveld & Scholtz (1966), referate gelewer tydens die jaarvergadering van die SAAkademie, Junie 1968, Bloemfontein, veral die referate van CK Oberholzer, FJM Potgieter, WJ de Klerk en DH Stoker; Du Plessis (1987); Du Preez (1983); Louw (1981). Moodie se standpunt is dat die Afrikanernasio nalistiese politieke teologie (hy noem dit 'n civil religion) in die periode onder bespreking, die hele umwelt van die Afrikaners deurpriem het: "...it constituted reality for Afrikaans-speaking white South Africans", (1975: xiii).
    3 Kyk Giliomee (2003:454-56); ook Treurnicht (1975: hoofstuk 3).
    4 Die strewe na 'n eie staat, onafhanklik van Britse dominasie, is ook elders omvattend verhaal. Mens kan volstaan met die opmerking dat dit teruggaan tot die Swellendamopstand (onder die Nederlandse owerheid), die Groot Trek, die stigting van die Republieke van Natalia, die Oranje Vrystaat en die ZAR, selfs Stellaland en Goosen. Die Anglo-Boereorlog het hierdie ideaal tydelik stopgesit, maar die Nasionale Party het dit sedert 1914 weer laat herlewe en probeer verwerklik in 1961. Kyk Giliomee (1981).
    5 Kyk Thompson (1985:hfst 6); Moodie (1975: hfst 12,13).
    6 Kyk Giliomee (2003:495,496); Ferguson (2003).
    7 "Afrikanerrepubliek" moet uiteraard as 'n metafoor, indien nie as 'n onwerklik valse bewussyn nie, verstaan word. Alhoewel die Republiek onder 'n wesenlik Afrikanerbewind was, was dit op geen tydstip 'n naastenby ekslusiewe ruimte vir Afrikaners alleen nie - Meyer, Verwoerd, Treurnicht, die Nasionale Partyregering en sy ondersteuners in die periode onder bespreking.
    8 Kyk ook lys van belangrike "apartheidswette" aan die einde van hierdie artikel.
    9 Kyk aanhangsel 1 vir 'n kortlys van die vernaamste "apartheidswette" asook Du Preez (1983) en Moodie (1975).
    10 Die periode van 22 jaar kan klaarblyklik om ruimteredes selfs nie oorsigtelik behandel word nie. Die oplettende leser sal ook merk dat hervormings van die opeenvolgende NP-regerings nie wesenlik uitgelig word nie. My antwoord daarop is dat die hervormings wat daar was, nie gemik was op die uitskakeling van die verbeelde Afrikanerrepubliek nie, maar om die realisering daarvan te bestendig.
    11 Vorster het in Augustus 1978 om gesondheidsredes uitgetree as eerste minister en is as staatspresident
    12 My eie herinnering. aangewys.
    13 Kyk Race Relations Survey (1990:34,35), sowel as Gagiano (1986:7).
    14 Kyk Seegers in Giliomee (2007).
    15 Kyk Lipton (1986) Capitalism and apartheid vir 'n bespreking van die politieke ekonomie van apartheid.
    16 Kyk Race Relations Survey (1990).
    17 AP Treurnicht se uiteensetting van die goddellike sanksie vir kerklike en staatlike apartheid in sy boek Credo van 'n Afrikaner (1975) is 'n locus classicus, kyk veral pp.12-20.
    18 Alhoewel daar ander gebruike binne hierdie tradisie van die skeiding tussen staat en kerk in die Weste is, ly dit geen twyfel dat die skeiding tussen staat en kerk 'n sluitsteen van die moderne Westerse staatsreg is nie. Die tradisie het sedert die Vrede van Wesfale steeds sterker geword.