SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.51 número4 índice de autoresíndice de assuntospesquisa de artigos
Home Pagelista alfabética de periódicos  

Serviços Personalizados

Artigo

Indicadores

    Links relacionados

    • Em processo de indexaçãoCitado por Google
    • Em processo de indexaçãoSimilares em Google

    Compartilhar


    Tydskrif vir Geesteswetenskappe

    versão impressa ISSN 0041-4751

    Tydskr. geesteswet. v.51 n.4 Pretoria dez. 2011

     

    NAVORSINGS- EN OORSIGARTIKELS

     

    Vyftig jaar diens aan die geesteswetenskappe

     

     

    Pieter Kapp

    Navorsingsgenoot Departement Geskiedenis, Universiteit van die Vrystaat, Bloemfontein pkapp@telkomsa.net

     

     

    Die begrip akademie het vandag goedkoop geword. Sport, fotografie, modelle, skoonheidsalonne gebruik almal die naam vryelik sonder dat hulle iets te make het met die klassieke oorspronklike betekenis van die woord, naamlik 'n plek van intellektuele besinning en aktiwiteite en van 'n waardering en bevordering van skeppende werk. Dit was die benaming wat die oorspronklike stigters van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns in 1909 in gedagte gehad het. Hulle het selfs 'n nog meer klassieke betekenis daaraan geheg deur die natuurwetenskappe en die tegnologie nie as die werkterrein van 'n akademie te beskou nie. Die kunste en die lettere was die werkterrein van die klassieke Griekse akademie. Dit het twintig jaar se debat gekos voordat die Akademie in 1941 sy naam verander het van Akademie vir Taal en Lettere na die huidige benaming. Dit is betekenisvol dat 'n taal- en letterkundige en skrywer soos prof. DF Malherbe 'n sterk ondersteuner van die idee van 'n akademie vir wetenskap, lettere en kuns was. Hy het die Raadslede wat sy standpunt teengestaan het, as "fossiele" beskryf en op sy eie inisiatief in 1919 in samewerking met die pas gestigte Afrikaanse Studentebond 'n eie Vereniging vir Wetenskap gestig. Met die jong Louis Hiemstra, lid van die ASB se bestuur, het hy 'n eie Tydskrif vir Wetenskap begin in die verwagting dat wanneer die Raadslede van siening verander die tydskrif deur die Akademie oorgeneem kan word.

     

    1. OORSPRONG VAN 'N TRADISIE

    'n Akademie in die egte betekenis van die woord word met veral drie werksaamhede verbind: publikasies, simposia en bekronings. SAAWEK het vanaf sy stigting onder Vlaamse en Franse invloed aan al drie aandag gegee alhoewel hy geen geld gehad het om enige van die drie te bekostig nie. Maar hy het mense gehad wat bereid was om opofferinge te maak terwille van die saak. Daarom het hy vanaf 1910 'n Jaarboek uitgegee wat onder andere artikels van akademiese aard en lesings bevat het. Tot 1923 het Frans Engelenburg, redakteur van Die Volkstem en stigterslid van die Akademie, die jaarboek uit sy eie sak bekostig. Die moeilike ekonomiese jare na 1923 het die jaarboek laat verdwyn totdat dit in 1938 weer verskyn het om daarna deur 'n nuwe reeks jaarboeke vervang te word. Later (1931-1937) het die Bulletin van die Akademieverskyn. Van 1936 tot 1960 is DF Malherbe se tydskrif geïnkorporeer by die nuwe Tydskrif vir Wetenskap en Kuns. In die tussentyd is ook boekpublikasies soos dié oor die Boesmans en oor Paul Kruger met sy honderdste verjaardag bygevoeg. Waar die jaarboek oorspronklik bedoel was om artikels te plaas, het dit met verloop van tyd die plek geword waar die referate by die jaarvergadering en soms ander simposia gepubliseer is.

    Die begrip geesteswetenskappe sou eers in die tydperk 1940-1942 in Akademie-geledere in gebruik kom onder die invloed van die bestaan van die nuwe Fakulteit Natuurwetenskappe en Tegniek. Teen 1946 het die begrip egter nog so min inslag gevind dat die kortstondige tydperk waarin die Hertzogprys ook vir die geesteswetenskappe bedoel was, dit as die Hertzogprys vir wetenskaplike prosa bekend gestaan het. Dit is ook nie uit pas met die patroon van die ontwikkeling van navorsing in Suid-Afrika nie. Die navorsingsliggame wat van staatsweë in Suid-Afrika tussen 1918 en 1969 tot stand gekom het, het nie die benaming geesteswetenskappe gebruik nie, maar voorkeur gegee aan benaminge soos opvoedkundige, maatskaplike en sosiale navorsing. So byvoorbeeld het die Raad vir Opvoedkundige en Maatskaplike Navorsing wat van 1934 tot 1946 bestaan het, nie veel belangstelling gewek nie. Dié Raad is opgevolg deur die Nasionale Raad vir Sosiale Navorsing (1946-1969).

    Die Akademie was na sy stigting oorheersend 'n taal-, letterkunde- en kunsakademie. Maar die begrip dat hy met wetenskap moet werk, het oral duidelik aandag geniet. Reeds in 1915, met die uitskryf van sy eerste amptelike prysvraag in Geskiedenis, is klem gelê daarop dat dit nie genoeg is dat die Akademie hom net met belletristiese werke besig hou nie. Die wetenskap moet ook aandag kry.1 In 1916 het die Jaarvergadering 'n voorstel van die Kommissie voor Taal en Letteren aanvaar dat die Akademie hom op die terrein van die bekroning van wetenskaplike werk en nie net letterkundige werke nie, moet toespits. Hulle het selfs die moontlikheid geopper dat die Hertzogprys daarvoor gebruik kon word.2

    Die Akademie het eers in 1960 besluit om die naam van die Fakulteit Taal, Lettere en Kuns na Fakulteit Kuns en Geesteswetenskappe te verander en om terselfdertyd met sy gesaghebbende Tydskrif vir Geesteswetenskappe en die Tydskrif vir Natuurwetenskappe in 1961 te begin. Hoe sterk die idee nog in die jare dertig bestaan het dat die Akademie eintlik net vir die taal, lettere en die kunste bedoel was, word weerspieël in FS Malan se voorsittersrede in 1935 toe hy duidelik laat blyk dat hy die Akademie eintlik net as 'n tuiste vir die kunste en kultuurwetenskappe beskou.3 Dat die staat die Akademie se rol belangrik geag het, blyk uit die feit dat die Akademie 'n verteenwoordiger op die Nasionale Raad vir Sosiale Navorsing gehad het, eers in die persoon van sy sekretaris, prof FCL Bosman, en later in die persoon van sy Direkteur van die Vaktaalburo, prof SPE Boshoff. Die Akademie het ook by navorsingsprojekte betrokke geraak soos die Biografiese Woordeboek van Suid-Afrika, die Suid-Afrikaanse Musiekensiklopedie en die stigting van die Afrika Instituut in 1956.

    Prof. Nienaber se voorsittersrede, hy was toe ook voorsitter van die redaksie van die TGW, in 1966 het gegaan oor Die toekomstaak van die Akademie op geesteswetenskaplike gebied. Dit het tyd geword, het hy verklaar, dat daar 'n raad vir geesteswetenskaplike navorsing tot stand moet kom want die geesteswetenskappe en die kunste het net soveel tot die ontwikkeling en vooruitgang van die land by te dra as die natuurwetenskappe. Die Akademie het die rede opgevolg met 'n memorandum aan die regering waarin hulle die stigting van so 'n Raad bepleit het.4 Dit het in 1969 resultate opgelewer toe die Raad vir Sosiale Navorsing in die Raad vir Geesteswetenskappe omskep is. Die Akademie het ook aangebied om vir die staat die sekretariaat te behartig van die adviesliggaam van die Nasionale Adviserende Onderwysraad vir die onderrig van die geesteswetenskappe op skool.

     

    2. DIE TGW KRY GESTALTE

    In die lig van bogenoemde groeiende waardering vir die geesteswetenskappe naas die natuur- en kultuurwetenskappe het die TGW dus 'n besondere plek beklee om die geesteswetenskappe oor die breedste moontlike front te ondersteun. Van die begin af was daar geen twyfel dat taal-, letterkunde en kunssake 'n duidelike plek in die tydskrif sou kry nie. Dit was ook vanselfsprekend dat prof. PJ Nienaber die eerste voorsitter van die redaksie sou wees - die enigste man wat tot op hede die posisie beklee het. Hy is opgevolg deur prof. Elize Botha (1970-1976), prof. Edith Raidt (1977-2000) en sedert 2001 prof Ina Wolfaardt-Gräbe. Die beginsel is ook van die begin af aanvaar dat die Hoofsekretaris (Hoof Uitvoerende Beampte) formeel sekretaris van albei tydskrifte se redaksies is. Daar was aanvanklik ook 'n sogenaamde hoofredaksie wat beleid vir albei tydskrifte moes neerlê. Uit erkenning vir sy rol om publikasies van die Akademie te bevorder, is DF Malherbe as voorsitter aangewys. Die hoofredaksie het in werklikheid geen rol van betekenis gespeel nie en die koördinering is deur die hoofsekretaris en die Raad behartig.

    Op die heel eerste redaksievergadering gehou op 29 Oktober 1960 is in beginsel besluit dat die tydskrif net in artikels van akademiese meriete belangstel en is uit die staanspoor bepaal dat elke artikel aan twee keurders voorgelê sou word. Indien hulle nie saamstem nie sal 'n derde keurder as arbiter aangewys word. Keurders sou £1 vir hulle werk ontvang - skrywers sou geen vergoeding kry nie.

    Daar was vier kernsake wat gereeld sou opduik en wat van die begin af hanteer moes word. Die eerste was die taalmedium van die tydskrif.5 Die TGW het onomwonde besluit dat hy net artikels in Afrikaans en Nederlands sou plaas, die TNT het besluit om ook artikels wat in Engels ontvang word te plaas en dat alle artikels van 'n opsomming in Engels, Frans of Duits voorsien moes word. Dit is interessant hoeveel internasionale aandag die TNT wel getrek het. In hulle korrespondensie lêers is daar briewe van buitelandse universiteite en maatskappye wat navraag doen na 'n Engelse weergawe van 'n bepaalde artikel wat op nuwe navorsing gebaseer is. Soos die staat se skema vir die erkenning van gekeurde artikels later sou vereis, is kort opsommings in Engels ook in die TGW ingestel. Vanaf 2007 is substansiële Engelse opsommings van ongeveer 1 000 woorde vereis, ten einde internasionale blootstelling te vergemaklik. Dit het ook die aansoek om opname in Scopus (Elzevier) en die Social Sciences Citation Index (Thompsons) vergemaklik, wat uiteindelik met die uitgawe van Maart 2009 bereik is.6 Aansoeke is ook gedoen vir opname deur ander indekse soos IBSS en EPSCO.7

    Die tweede saak was die bestaan van gespesialiseerde vaktydskrifte wat, hoewel nie uitsluitlik Afrikaans nie, deur oorwegend Afrikaanse redaksies en artikels oorheers is. Die mededinging om artikels met tydskrifte soos dié van Teologie, Sosiologie, Geskiedenis en Filosofie was 'n belangrike probleem. Hierdie tydskrifte het 'n selfstandige bestaan gevoer en hulle redaksies het dikwels uit dieselfde mense bestaan as die TGW se redaksie. Trouens, 'n redaksielid van die TGW, prof. Geoff Cronje, het hom selfs beywer om 'n Afrikaanse tydskrif vir Opvoedkunde tot stand te bring.8 In 'n stadium is dit ook oorweeg om hierdie Afrikaanse tydskrifte in 'n oorkoepelende publikasie netwerk onder die sambreel van die Akademie te probeer uitgee.9 Die TNT het dié probleem op 'n ander wyse ervaar: sy lede het eerder artikels in Engels in internasionale vaktydskrifte gepubliseer.

    Die derde saak was die inwin van artikels. Beide tydskrifte het staatgemaak op redaksielede om artikels by hulle kollegas en kennisse te werf. Die tydskrif het nog nie die stadium bereik waar artikels vryelik van navorsers in alle navorsingsgebiede gevloei het nie. 'n Treffende voorbeeld van die rol wat individue gespeel het, is die groot aantal artikels van ekonomiese en teologiese aard wat in die beginjare verskyn het. Dit was te danke aan die persoonlike betrokkenheid van mense soos proff. Jan Sadie, Hennie Reynders en Jan Lombard op die ekonomiese terrein en prof. EP Groenewald in die teologie. Namate hulle uitgetree het, het die aantal artikels op hierdie gebiede afgeneem, hoewel die rol van prof. Geert de Wet en mnr. Jannie Rossouw wel bygedra het om later nog aan ekonomiese kwessies aandag te gee.

    Die vierde saak was die finansiering van die tydskrifte en veral die vraag na die rol van advertensies. Die standpunt was duidelik: al twee tydskrifte moes 'n waardige akademiese voorkoms hê en nie soos 'n populêre tydskrif vol advertensies lyk nie. Daarom is spaarsaam gebruik gemaak van status-advertensies van die Rembrandt Tabakkorporasie en soms van SASOL op die agterblad. Hierdie advertensie-inkomste het maar 'n klein deel van die koste van die tydskrifte gedelg en die res is uit Akademiefondse bekostig gebaseer op ledegeld. Fakulteitslede het hulle tydskrif gratis ontvang. Verkope aan die publiek was nooit noemenswaardig nie, wel wanneer die TGW 'n spesiale nommer uitgegee het wat nuttig in die skoolkurrikulum gebruik kon word.

    'n Belangrike verandering het ingetree toe die staat in 1986 die stelsel van subsidie vir geakkrediteerde tydskrifte se artikels ingestel het in 'n poging om navorsers aan te moedig om meer te publiseer. Al twee die Akademie se tydskrifte is geakkrediteer. Die stelsel wat gevolg is, is dat wanneer die redaksie 'n artikel aanvaar het op grond van 'n deeglike keuringsprosedure en die artikel in druk verskyn het, het die Akademie aan die betrokke universiteit 'n rekening vir bladgeld gestuur. Dit het geïmpliseer dat terwyl die skrywer publikasiesubsidie ontvang het waarvan universiteite dikwels die grootste deel vir hulself gehou het, die universiteite vir die bladgeld aanspreeklik was. Byna al die vaktydskrifte het hierdie metode gevolg. Dit was dus belangrik op welke wyse die universiteite byvoorbeeld die TGW se rekeninge sou hanteer. Die volgende sporadiese gegewens gee 'n aanduiding van die soort inkomste wat die TGW kon genereer:

    1987 teen R80 bladgeld: UP R2940; PU R2520; UPE R600; UOVS R900.10

    1988 se bladgeld: RAU R2240; UP R2960; US R1450; PU R1600; UPE R720; Unisa R720.11

    Die verdere jare se syfers word nie verstrek nie. Wat die syfers wel toon, is die mate waarin bepaalde universiteite artikels vir die TGW bygedra het.

    Bladgeld het bly styg. In 1988-89 was dit R80; 1991 het dit R100 geword. In 2005 was dit R110 en in 2006 R140 per gedrukte bladsy.

    Die stygende drukkoste het die koste per uitgawe oor die tyd skerp verhoog. Selfs die skenking van 'n bedrag van R50 000 deur die stadsraad van Pretoria12 het nie die finansiële probleme opgelos nie. Selfs 'n staatsubsidie is oorweeg. Teen 1989 was die drukkoste vir vier uitgawes per jaar R31 228. Teen 2003 het dit R68 000 vir dieselfde dikte uitgawes beloop. Op daardie tydstip was die totale bladgeld inkomste vir die jaar ongeveer R13 500. Namate Afrikaanse publikasies in ander tydskrifte afgeneem het, het die aanbod van artikels vir die TGW skerp gestyg. Dit was onder hierdie omstandighede dat die Hiemstra Trust in 2006 ingestem het om op 'n periodieke basis die publikasie van die TGW te fi nansier.13 Daarmee het die besondere verbintenis tussen Louis Hiemstra en die TGW konkrete betekenis gekry. Louis Hiemstra was nie net as student die eerste redakteur van DF Malherbe se wetenskaptydskrif nie, hy was jare lank 'n Raadslid, lid van die Taalkommissie en tot met sy dood in 1978 die taalversorger van die TGW.14

     

    3. TGW SE INHOUD

    Om erken te word as 'n tydskrif wat aan die vereistes voldoen om subsidie vir artikels te ontvang, moes bewys gelewer word dat die artikels se keuring op 'n streng basis geskied. Een van die belangrike aanduidings is die aantal voorgelegde artikels wat afgekeur is en die aantal wat vir aanpassings terugverwys is op grond van die keurders se aanbevelings. Die volgende statistiek gee 'n aanduiding hoe dit met die TGW gesteld was.

     


    Click to enlarge

     

    Daar is 'n skerp stygende lyn in die aantal artikels wat vir publikasie aangebied word. Anders as voorheen word min artikels gewerf, net vir spesiale uitgawes en staan dit enige persoon vry om artikels voor te lê vir oorweging.

    Die Akademie se klem op die belangrikheid van die geesteswetenskappe word deur twee stelle gegewens bevestig. 'n Ontleding van die temas wat op simposiums tydens die jaarvergaderings bespreek is, toon die oorweldigende aard van die samelewingsprobleme wat met die geestes wetenskappe verband hou teenoor die veel meer gespesialiseerde aard van die openbare betrokken heid by probleme van die natuurwetenskappe.15 Die pessimisme in 1995 oor artikels in Afrikaans vir die Tydskrif vir Geesteswetenskappe het teen 2008 plek gemaak vir 'n besonder vol aanbod van artikels sodat artikels streng gekeur moet word en waglyste ontwikkel het. Deur spesiale supplemente oor kernkwessies uit te gee, en deur die tydskrif met behulp van opsommings in Engels meer toeganklik vir nie-Afrikaansmagtiges te maak, het die tydskrif se statuur bly groei.

    'n Ontleding van die onderwerpe wat oor die 50 jaar in die Tydskrif vir Geesteswetenskappe opgeneem is, toon die multidissiplinêre aard van die Akademie se werksaamhede op hierdie gebied.

    Ontleding van die multidissiplinêre aard van die Tydskrif vir Geesteswetenskappe, vanaf Jaargang 1/1 (Maart 1961) tot 50/1 (Maart 2011) in dalende orde
    Verskillende onderafdelings is saamgegroepeer soos aangedui
    1. Afrikaanse Letterkunde (insluitende gereelde kronieke) 191
    2. Afrikaanse Taalkunde (insluitende leksikografie en woordeboeke) 142
    3. Opvoedkunde (alle aspekte insluitende tersiêre onderwys) 129
    4. Geskiedenis (net Suid-Afrikaans, onderrig en teoretiese aspekte) 109
    5. Filosofie (insluitende wetenskapsfilosofie) 85
    6. Godsdiens (insluitende Teologie) 72
    7. Ekonomiese wetenskappe (insluitende Bestuurswetenskappe en Finansies) 62
    8. Taalbeleid (sluit onderwys op alle vlakke in) 63
    9. Musiek 40
    10. Sosiologie (ingesluit Kommunikasiekunde) 38
    11. Sielkunde (ingesluit Bedryfsielkunde maar nie Opvoedkundige Sielkunde) 35
    12. Antieke tale en Kulture 31
    13. Staatsleer en Politieke Wetenskap 35
    14. Historiese Taalkunde 23
    15. Visuele Kunste (insluitende Argitektuur) 21
    16. Ander tale en Kulture 16
    17. Afrikanerstudies 18
    18. Bibliografieë 14
    19. Regswetenskappe 16
    20. Internasionale geskiedenis en gebeure 12
    21. Nederlands taal/letterkunde/geskiedenis (of in Nederlands oor Nederland) 14
    22. Afrika 10
    23. Rekenaar- en Kuberkunde 9
    24. Joernalistiek (insluitende spraakvryheid) 12
    25. Rasseverhoudinge 1
    26. Kriminologie 7
    27. Geografie (ingesluit Omgewingstudies en Demografie) 1
    28. Die Kunste in die algemeen 5
    29. Antropologie en argeologie 5
    30. Toekomsnavorsing 4
    31. Toneelkuns 3
    32. Kultuurbeleid 3
    33. Bruinmense (oor of deur hulle) 4
    34. Maatskaplike Werk 3
    35. Radio 2
    36. Rolprent 2
    37. Biblioteekkunde 3
    38. Genealogie 2
    39. Sekuriteitstudies 2
    40. Staatsadministrasie 2
    41. Jeugsake 2
    42. Verpleegkunde 1

    In hierdie lys is ingereken die gebruik om van tyd tot tyd spesiale uitgawes gewy aan 'n bepaalde onderwerp of saak uit te gee. Die eerste gedagte aan tema-uitgawes soos dit toe genoem is, was in 196716 maar die eerste "spesiale-uitgawe" (wel deel van die jaarlikse vier uitgawes en nie 'n supplement soos dit vandag soms gebeur nie) het eers in Desember 1972 verskyn gewy aan Eugène Marais. Daarna het spesiale uitgawes gevolg gewy aan Langenhoven, die Taalfeees van 1975, MER, dr. DF Malan, Gustav Preller, SJ du Toit (Totius), die Anglo-Boereoorlog, NP van Wyk Louw, Johannes Calvyn, TT Cloete. Supplement-uitgawes het beteken 'n addisionele uitgawe wat wel dieselfde nommer as die kwartaallikse uitgawe het, maar oor een saak gaan soos die uitgawe oor Moedertaalonderrig17 en oor Die verskynsel van geweld: besinninge, analises, oplossings.18 Uit bogenoemde is dit duidelik dat die TGW sy opdrag om die geesteswetenskappe oor 'n wye terrein van diens te wees, nakom. Die oorheersende rol van taal- en letterkundige bydraes is begryplik gesien die grondslag van die Akademie. Dit is ook duidelik watter gebiede meer produktief kan wees soos Sielkunde en studies oor aktuele samelewingsvraagstukke van die dag in die politiek en ekonomie. Daar is 'n afname in die aantal artikels oor filosofiese en ekonomiese kwessies. Die weinig aandag aan die brandende verhoudingsvraagstuk is waarskynlik toe te skryf aan die beleid om nie by die politiek van die dag betrokke te raak nie. Die oorwig onderwys en opvoedkunde artikels in die jongste jare is opvallend. Dit kan met reg gesê word dat die TGW en sy voorganger Die Tydskrif vir Wetenskap en Kuns eintlik 'n belangrike spieëlbeeld bied van die ontwikkeling van Afrikaanse denke op verskillende terreine. Daarom is dit belangrik dat hierdie terreine vir navorsers meer toeganklik gemaak moet word deur 'n moderne en byderwetse indeks van al die artikels wat in die twee tydskrifte gepubliseer is, saam te stel.

    Die besef van die waarde van 'n repertorium van die artikels bestaan al lankal. Die probleem is dat dit tot nou gefragmenteerd onderneem is en nêrens kompak as 'n eenheid beskikbaar is nie. Mev. G Kettley het reeds in 1961 'n repertorium van die Tydskrif vir Wetenskap en Kuns van 1922-1939 opgestel19 wat in die TGW se jaargang 11/1 Maart 1967 opgeneem is. Mev. Kettley het ook 'n indeks op kaartjies opgestel van al die Raadsbesluite en die TGW se artikels tot 1963 ook in die repertorium opgeneem wat deur die RGN gepubliseer is.20 In 1983 is me DM Olivier gevra om die repertorium vanaf die eerste uitgawe van die TGW tot 1983 op te stel.21 Die teks was in 1985 gereed en me Olivier het 'n honorarium van R500 ontvang.22 Danksy die besondere rekenaarvaardighede van prof. Walter Claassen, latere voorsitter van die Akademie, is die repertorium gerekenariseer en aan die Akademiekantoor oorhandig met die oog op publikasie.23 Teen 1991 is dit nog nie gepubliseer nie. Daar is tans gedeeltelike repertoriums van die TGW beskikbaar op Sabinet en op die interne versameling van die Universiteit van die Vrystaat. Die twee dateer onderskeidelik van 1987 en 1988. Dit sou 'n gepaste erkenning van die TGW se rol wees as hierdie stukke gevind en as 'n eenheid op die webtuiste van die Akademie geplaas kan word. 'n Nog onopgeklaarde verwysing is die feit dat die redaksie in 2001 besluit het dat 'n register van die 1998-2000 artikels in die Maart-uitgawe van die TGW sou verskyn, maar dit is nie by die TGW-versameling te vind nie. Blykbaar was die 1961-1997 register op 'n Multimate-program beskikbaar, maar dié is ook nog nie gevind nie.24 As al hierdie repertoriums saamgevoeg kan word en op die Akademie se webbladsy beskikbaar gestel kan word, sal dit 'n groot bydrae tot die Afrikaanse geesteswetenskaplike produksie sedert 1936 wees.

    'n Ander aspek van die TGW wat tans minder aandag as vroeër geniet, is boekbesprekings en wat vroeër genoem is "gedagtewisseling" tussen lede oor sake van aktuele belang. Die Akademie was versigtig om die tydskrif nie in 'n polemiese een te laat ontaard nie. Dit word mooi geïllustreer deur die wyse waarop hy byvoorbeeld WA de Klerk se skerp reaksie in 1964 op PD van der Walt se bespreking van sy Vermaak se Kind hanteer het. Die soort ding, het die redaksie besluit, moet ontmoedig word.25 Ook die lang polemiese reaksie van 'n me Briers op die spesiale uitgawe gewy aan Eugène Marais is met minder entoesiasme hanteer.26 Die gebruik van so 'n waardige akademiese tydskrif vir ernstige debat, behoort dalk nie te sensitief hanteer te word nie.

    Geesteswetenskaplike prestasies is sedert 1947 deur die Akademie erken en vanaf 1955 is dit die Stalsprys genoem. Dissiplines het op 'n rotasiebasis van normaalweg drie jaar vir bekroning aan die beurt gekom. Die samestelling van die kombinasies het van tyd tot tyd verander. Spesifieke gebiede wat nie normaalweg as 'n vakgebied funksioneer nie maar eerder as 'n navorsingsterrein, is ook by geleentheid erken. Die volgende alfabetiese statistiek bied 'n beeld van die wyse waarop die verskillende vakgebiede deur die Akademie erken is en op watter vakgebiede daar relatief meer of minder bekroonbare werk gelewer is. Dit bied 'n interessante vergelyking met die verspreiding van artikels in die TGW. Hierdie gegewens sluit net die Stalspryse in. Daar is 'n verskeidenheid ander pryse en medaljes wat almal met werk op die terrein van die geesteswetenskappe te doen het.

    Bekronings in die geesteswetenskappe 1947 tot 2008
    Afrikanistiek 3
    Afrikatale 2
    Algemene Wetenskapsleer en Navorsingsmetodologie 1
    Bewegingskunde 2
    Ekonomiese en Bestuurswetenskappe 14
    Filosofie 11
    Geografie 6
    Geskiedenis (Kultuur- en Kunsgeskiedenis) 20
    Kommunikasiekunde 2
    Kriminologie 1
    Kunste (nie skeppend) 1
    Maatskaplike Werk 1
    Multi- en interdissiplinêre Spanwerk 2
    Musiek (nie uitvoerend) 1
    Opvoedkunde 10
    Politieke Wetenskap 7
    Regswetenskap 227
    Sielkunde 10
    Sosiologie 6
    Taal- en Literatuurwetenskap 828
    Teologie 4
    Verpleegkunde 2
    Volkekunde 1

     

    4. DIE GEESTESWETENSKAPPE IN AFRIKAANS IN DIE BRANDING

    Teen 1995 het Afrikaanse intellektuele produksie onder druk begin kom. In daardie jaar het die redaksie sy kommer uitgespreek oor die dalende getal artikels wat vrywillig vir publikasie aangebied word. Tradisionele bronne van geldelike steun vir die Akademie het ook minder begin word.29 Afrikaanse akademici en navorsers het toenemend traer geword om werk in Afrikaans te lewer omdat die klem aan die universiteite gelê is op internasionale tydskrifte en mededinging en op werk in Engels. Dit is bevind dat dit in werklikheid net die Akademie se twee tydskrifte is wat ruim voorsiening maak vir akademiese werk in Afrikaans

    Die statistiek hierbo verstrek, weerspieël in watter vakgebiede Afrikaans sterk beoefen word. Dit klop met die bevindinge van prof Johan Mouton.30 Sy studie toon die afname in die gebruik van Afrikaans as hoër orde wetenskapstaal in die onderskeie wetenskapkulture. In die natuurwetenskappe het Afrikaans tussen 1990 en 2002 van 'n hoogtepunt van 921 artikels in 1991 gedaal na 183 in 2002. In die geesteswetenskappe het die situasie minder dramaties verswak. Van 'n hoogtepunt van 578 in 1991 na 293 in 1998 en daarna weer 'n styging na 352 in 2000 en 'n daling na 305 in 2001. In die sosiale wetenskappe was die situasie ernstiger - 'n daling van 239 in 1990 na 35 in 2001.

    Afrikaans se persentasie-aandeel aan wetenskaplike publikasies toon dieselfde ernstige afname in gebruik deur Afrikaanse wetenskaplikes:

    Geesteswetenskappe 26,6%
    Sosiale wetenskappe 12,3%
    Mediese en gesondheidswetenskappe 2,5%
    Natuurwetenskappe 1,6%
    Ingenieurswetenskappe 0,3%

    Mouton se bevinding is dat Afrikaans as wetenskapstaal in die tydskrifte deur 'n klein groepie tydskrifte "beskerm" word. As hulle - en die Akademie se tydskrifte staan hier voor in die tou - nie daar was nie, sou die afnemende tendens selfs meer dramaties gewees het. Dit is almal tydskrifte wat 'n voorkeurbeleid vir Afrikaans het. Die historiese perspektief hierop is 'n bevestiging dat die Akademie se beleid as pleitbesorger vir spesiale versorging van en aandag aan Afrikaans se hoër funksies as wetenskaptaal ten volle geregverdig was en is. Die Akademie se geskiedenis dui aan dat daar net vier maniere is om Afrikaans op hierdie gebied te bou. Eerstens, deur te sorg dat daar skole en universiteite is waar onderrig deur Afrikaans geskied. Tweedens, om die gebruikers van Afrikaans te inspireer en te motiveer dat hulle die waarde en nut van hulle moedertaal op hierdie gebiede begryp, aanvaar en ondersteun. Derdens, dat die middele geskep word om publikasiegeleenthede vir 'n mark wat in die eerste plek aan opvoedkundige inrigtings moet bestaan, te bedien. Vierdens, om wetenskaplikes, skeppende geeste, kunstenaars en skrywers, deur bekroning aan te moedig en te waardeer sodat hulle die onderskraging ontvang wat hulle bydraes verdien.

    Toe die Akademie in 1909 gestig is, was daar op hierdie gebiede niks nie. Dat sy bydrae kon help om produksie in Afrikaans tot bepaalde hoogtepunte te voer, is die kroon op sy droom. Dat daardie bydrae deur die oorweldigende krag van Engels onder groot druk kom, is 'n wekroep soortgelyk aan dié wat die klein handjievol dromers in 1909 op die pad van opbou en ontwikkeling geplaas het.

    Hierdie druk het ook 'n ander vorm aangeneem. The Academy of Science of South Africa31 het dit as een van sy eerste take onderneem om 'n studie van die stand van wetenskaptydskrifte in Suid-Afrika te maak. Die verslag het nuwe riglyne vir die akkreditering van tydskrifte aanbeveel. Die uitkoms van hierdie verslag het ontsteltenis in Akademie-geledere veroorsaak omdat die verslag baie dubbelsinnig was oor die toekoms van akademiese tydskrifte anders as in Engels. In 'n persoonlike onderhoud met Robin Crew van ASSAf het prof. Jacques van der Elst, Hoof Uitvoerende Beampte van die Akademie, die Akademie se standpunt oor die rol van Afrikaans as 'n akademiese en wetenskaplike taal duidelik gestel. In 'n verdere verslag het ASSAf die TGW as 'n goeie tydskrif maar met 'n te breë aanslag ("brush" is die woord wat gebruik is) beskryf, dat dit 'n te klein leserspubliek het en dat dit te konserwatief van voorkoms is. Hulle het aanbeveel dat die TGW ook artikels in Engels moet publiseer. Die redaksie het al drie hierdie standpunte afgewys.32

    Belangrike stappe is geneem om die tydskrif meer akademies toeganklik in internasionale kringe te maak. Benewens die registrasie by die Citation Index en by Scopus is gereël dat die tydskrif ook op Sabinet gelys word en is 'n uitgebreide internasionale groep medewerkers benoem van wie 15 uit die Lae Lande afkomstig is, drie van Amerika en een elk van Oxford en Sydney. Die titelblad is in drie tale aangebied en sy waardige akademiese voorkoms is behou. Nadat die tydskrif vir indeksering in sowel Scopus as die Social Sciences Citation Index gekwalifi seer het - 'n besondere prestasie vir 'n uitlsuitlik Afrikaanse publikasie - het ASSAf die Akademie uitgenooi om die tydkskrif op die Scielo platform te plaas. Artikels word dus inderdaad sowel plaaslik as internasionaal veel toegankliker gemaak, aangesien daar ook vertalingsopsies by byvoorbeeld Scielo beskikbaar is.

     

     

    PIETER KAPP is emeritus historikus van die Universiteit van Stellenbosch en tans be soekende navorsingsgenoot in die Departement Geskiedenis aan die Vrystaatse Universiteit. Sy spesialisasie terreine is die geskiedenis van internasionale verhoudinge, beskawingsgeskie denis en kultuurgeskiedenis van die Afrikaner. Hy het al sy grade tot doktorsgraad aan die Universiteit van Stellenbosch verwerf asook 'n tweede meesters graad in Contemporary European Studies aan die Universiteit van Reading in Engeland. Hy was voorsitter van die Akademie van 1999-2001. Boeke wat uit sy pen veskyn het handel oor die geskiedenis van die Westerse beskawing, Suid-Afrikaans-Amerikaanse betrekkinge, geskiedenis van die Koue Oorlog en werke oor die onderrig van geskiedenis. Prof Kapp ontvang in 2010 die Stalsprys vir Geskiedenis van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns.
    PIETER KAPP is emeritus professor of history at the University of Stellenbosch. He is currently a Research Fellow at the Department of History of the University of the Free State. His areas of specialisation is the history of international relations, the history of civilizations and Afrikaans cultural history. He obtained all his degrees up to his doctorate at the University of Stellenbosch and a second masters degree in Contemporary European Studies at the University of Reading in England. He was chairperson of the SA Acadamy of Science and Arts from 1999-2001. He has published books on the history of Western civilization, the history of the Cold War, South African-American relations and on the teaching of history. In 2010 prof Kapp was awarded the Stals prize for History by the South African Academy for Science and Arts.

     

     

    1 Akademie Jaarboek, 6/1915.
    2 Akademie Jaarboek, 7/1916.
    3 INEG PV 917 Akademie-argief: AR 1/1: Notule Jaarvergadering 20-21.12.1935.
    4 INEG PV 917 FKGN 2: Notule 24.6.1964.
    5 INEG PV 917 Akademie-argief reeks 49 Tydskrifte: Notule van die TGW 14.9.1963. Kyk ook na die
    6 Akademiekantoor: Notule TGW 18.1.2007.
    7 Akademiekantoor: Notule TGW 18.1.2007.
    8 INEG PV 917 Akademie-argief reeks 49 Tydskrifte: Notule TGW 30.4.1964.
    9 INEG PV 917 Akademie-argief reeks 49 Tydskrifte: Notule TGW 12.2.1964
    10 INEG PV 917 Akademie-argief reeks 49 Tydskrifte: Notule TGW 25.1.1988.
    11 INEG PV 917 Akademie-argief reeks 49 Tydskrifte: Notule TGW 10.2.1989.
    12 INEG PV 917 Akademie-argief reeks 49 Tydskrifte: Notule 12.2.1964.
    13 Akademiekantoor: Notule TGW 22.1.2003.
    14 INEG PV 917 Akademie-argief reeks 49 Tydskrifte: Notule TGW 8.2.1979.
    15 Sien in hierdie verband PH Kapp: Draer van 'n droom (Hemel en see boeke, Vermont, 2009) hoofstuk 11.
    16 INEG PV 917 Akademie-argief reeks 49 Tydskrifte: Notule TGW 8.3.1967.
    17 As Supplement tot TGW 46/2 Junie 2006.
    18 AS Supplement TGW 47/4 Desember 2007.
    19 INEG PV 917 Akademie-argief reeks 49 Tydskrifte: Notule TGW 27.6.1961.
    20 GM Kettley: Repertorium van tydskrifartikels, 1910-1963. (RGN, Pretoria, 1967)
    21 INEG PV 917 Akademie-argief reeks 49 Tydskrifte: Notule TGW 23.8.1983.
    22 INEG PV 917 Akademie-argief reeks 49 Tydskrifte: Notule van TGW 5.2.1986.
    23 INEG PV 917 Akademie-argief reeks 49 Tydskrifte :Notule TGW 10.2.1989.
    24 Akademiekantoor: Notule TGW 24.1.2001.
    25 INEG PV 917 Akademie-argief reeks 49 Tydskrifte: Notule TGW 26.8.1964.
    26 INEG PV 917 Akademie-argief reeks 49 Tydskrifte: Notule TGW 15.2.1973.
    27 Dit is voordat die Toon van den Heeverprys ingestel is. Dié prys is reeds 14 keer toegeken.
    28 Dit sluit nie die CJ Langenhovenprys in nie.
    29 Vir 'n uiteensetting van die Akademie se algemene finansiële toestand in hierdie tyd kyk PH Kapp: Draer van 'n droom, p 437.
    30 'n Verkorte weergawe van die navorsingsverslag verskyn in die Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 45/3, September 2005, pp. 370-385.
    31 Vir die besonderhede van die ontstaan van hierdie Academy en sy verhouding met die Akademie kyk PH Kapp: Draer van 'n droom, 315-326.
    32 Akademiekantoor: Notule TGW 4.3.2011.