SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.51 issue4 author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Tydskrif vir Geesteswetenskappe

Print version ISSN 0041-4751

Tydskr. geesteswet. vol.51 no.4 Pretoria Dec. 2011

 

NAVORSINGS- EN OORSIGARTIKELS

 

Woord vooraf

 

 

Die Tydskrif vir Geesteswetenskappe, gepubliseer deur die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, is vanjaar 'n volle vyftig jaar oud. Die Redaksie het dit goedgevind om 'n feesuitgawe saam te stel ter viering van hierdie besondere mylpaal en om die Desembernommer van 2011 hiervoor opsy te sit. Ons dank aan die agtien medewerkers wat bereid was om in die bydraes in hierdie uitgawe terug te dink oor die afgelope vyftig jaar en, in die konteks van hulle eie belangstellingsveld of akademiese dissipline, te besin oor die (voort) bestaansreg van die geesteswetenskappe; of anders aan te dui wat geesteswetenskaplike navorsing op spesifi eke terreine behels.

In Pieter Kapp se historiese oorsig van die bydrae van die Tydskrif vir Geesteswetenskappe (voortaan TGW) die afgelope vyftig jaar, word dit gou duidelik dat die tydskrif sy totstandkoming en voortbestaan te danke het aan die visie en toewyding van enkele individue - die stigters van die Suid-Afrikaanse Akademie in 1909 het vanaf die beginjare, ten spyte van finansiële druk, óók boeke en tydskrifte die lig laat sien; opeenvolgende redaksies het gesorg vir die werwing en keuring van geskikte bydraes en só die akademiese kwaliteit van die tydskrif jaloers bewaar; 'n ruim subsidie van die L W Hiemstra Trust verseker tans die publikasie van die tydskrif.

Die leiding van die redakteurs, oftewel voorsitters van die redaksie, in die uitbouing van die TGW tot 'n gerekende publikasie op nasionale sowel as internasionale vlak blyk duidelik uit Kapp se analise van die TGW se "vyftig jaar diens aan die geesteswetenskappe". Die redaksie bring met hierdie feesuitgawe graag hulde aan die vorige redakteurs van die tydskrif - professors P J Nienaber en Elize Botha het ons reeds ontval; professor Edith Raidt is ongelukkig weens swak gesondheid verhinder om 'n bydrae tot die feesuitgawe te lewer.

Dit is belangrik dat die TGW sy bydrae aan die geesteswetenskappe in Afrikaans lewer. Kapp wys in hierdie verband daarop dat Afrikaanse intellektuele teen 1995 onder druk begin kom het. Nie net het tradisionele bronne van geldelike steun vir die Akademie minder begin word nie, maar Afrikaanse akademici en navorsers het toenemend traer geword om werk in Afrikaans te lewer omdat die klem aan die universiteite gelê is op internasionale tydskrifte en mededinging en op werk in Engels. Trouens, Afrikaans as wetenskapstaal word "beskerm" deur 'n handjievol tydskrifte met 'n voorkeurbeleid vir Afrikaans. Kapp merk tereg op: "Die historiese perspektief hierop is 'n bevestiging dat die Akademie se beleid as pleitbesorger vir spesiale versorging van en aandag aan Afrikaans se hoër funksies as wetenskaptaal ten volle geregverdig was en is." Gegee die beleid om uitsluitlik Afrikaanse of Nederlandse artikels te plaas, met weliswaar 'n stewige opsomming in Engels, bly dit dan 'n besondere prestasie dat die Tydskrif vir Geesteswetenskappe tans op talle vlakke erkenning geniet: dit is nasionaal geakkrediteer; vanaf Maart 2009 is dit internasionaal geïndekseer in sowel Scopus (Elzevier) as die Social Sciences Citation Index (Thompson); dit is deur ASSAf op die Scièlo-webbladsy geplaas en Sabinet verskaf reeds 'n aantal jare 'n diens aan lesers wat artikels elektronies wil aflaai.

In sy ondersoek na "die idee van die gees" beklemtoon C S (Fanie) de Beer die noodsaak van geestesaktiwiteite in 'n tydsgewrig waar denke die gevaar staan om deur tegnologie en die "eeu van geestelike masjiene" verarm en verdring te word. De Beer poneer dat "tegniese ontwikkelinge en baie sake wat daarmee verband hou, soos die ontwikkeling van 'n posthumane mensbeeld (onder invloed van die elektroniese media-ontwikkelinge), ongeloofl ike afmetings aangeneem het en vir baie eintlik die plek van geestelike prestasie en verwesenliking ingeneem het". Om hierdie rede behoort 'n vaktydskrif soos die TGW ruimte te bied vir 'n diepgaande en vernuwende besinning oor die geesteswetenskappe, wat sal kan "... manifesteer in die meervoudigheid van denke, in die vryheid van die oneindige gees en in die volheid van die verbeeldingryke idees wat alle hier en nou, korttermyn en lukraak werkwyses en die mag van die ideologieë van die dag teëgaan, te bowe gaan en oorskry".

In aansluiting by 'n dergelike pleitrede vir 'n "meervoudigheid van denke" vra Danie Goosen in sy analise van die universiteitswese waarom die moderne en postmoderne wêreld gekenmerk word deur 'n voorkeur vir sogenaamde praktiese vrae ten koste van wat die tradisie nog as "die teoretiese lewe" beskou het. Hy wys daarop dat hedendaagse gesprekke oor universiteite oorheers word deur vrae oor hulle "...winsgewendheid, hul toeganklikheid, internasionale statuur, mededingendheid, strategiese bestuur, uitkomste, openbare beeld, skakeling en die vestiging van netwerke". Die uiteindelike gevolg van 'n dergelike reduksionisme is dat die praktiese denke "...'n instrumentalistiese aangeleentheid geword het ... [wat] gemeet [word] aan die vraag of dit instrumenteel tot die verwerkliking van eksterne doelwitte is". Toegepas op die hedendaagse universiteit, voorspel "die kontinue marginalisering van die teoretiese lewe" waarskynlik 'n verdere agteruitgang van die universiteitswese as sodanig: "Sonder 'n verbintenis tot die teoretiese lewe sal hy homself nog as 'n produktiewe deel van die kennisindustrie kan beskryf, maar kwalik as 'n 'universiteit'".

Waar die voorgaande twee artikels demonstreer op welke wyse indringende vrae oor geesteswetenskaplike aktiwiteit enersyds aanleiding kan gee tot 'n beter begrip van hedendaagse vraagstukke en andersyds rigtinggewend kan wees ten opsigte van vernuwende denke oor die geesteswetenskappe as sodanig, belig die daaropvolgende groep artikels, in 'n kritiese terugkyk oor die afgelope vyftig jaar of meer, wat op verskillende geesteswetenskaplike gebiede vermag is of behoort te word.

Johan Beckmann karakteriseer die twee paradigmas wat onderwysvoorsiening in die tydperk 1961-2011 gekenmerk het deur te verwys na die tydperk vóór en na 1994: aan die een kant die paradigma van "afsonderlike maar gelyke onderwys" en aan die ander kant "die menseregte- of transformasie-paradigma" (laasgenoemde het veral gelykheid, regstelling en toegang tot onderwysgeleenthede beklemtoon). Beckmann kom na 'n bondige ontleding van knelpunte soos onder meer toegang tot gelyke onderwysgeleenthede, gehalte en prestasie van die stelsel, kurrikulum, onderwysersopleiding en -ontwikkeling, ensovoorts, tot die slotsom dat "...die ideale wat deur die twee paradigmas nagestreef is, hulle grootliks ontwyk het en bly ontwyk". Dit bly nietemin noodsaaklik dat die ideale van gelyke en gehalte onderwys bereik sal word en wel "ter wille van al ons mense en die onbelemmerde ontwikkeling van die land".

Die volgende twee bydraes kontekstualiseer die twee onderwysparadigmas wat hierbo onderskei is, deurdat twee verskillende politieke scenario's, van onderskeidelik die vorige en die huidige regering, geskets word - Albert Venter bevraagteken die politieke teologie onderliggend aan die utopie van 'n eie Afrikaner republiek van 1961, terwyl Leopold en Ingrid Scholtz die ANC se onderneming tot niegewelddadigheid, veral teenoor burgerlikes, na aanleiding van die Konferensie van Kabwe krities bekyk. Volgens Venter het die politieke teologie van apartheid "... die teoretiese vertrekpunte van die Christelik-Westerse intellektuele erfenis waarop dit gebaseer was, negeer". Om hierdie rede was die droom van 'n eie Afrikaner republiek nie volhoubaar nie en inderwaarheid van meet af aan in 'n "doodloopstraat". Volgens die Scholtze moes die "hoë moraliteit" waarmee Mandela die gewapende stryd aangepak het, gou plek maak vir "die harde werklikhede van die intrinsieke aard van geweld en die wyse waarop dit gewoonlik blitssnel eskaleer". Dit word volgens die outeurs gestaaf deur die waarneming dat die ANC se gewapende stryd tot Mei 1983 "géén terroristiese stryd" was nie; daarna het dit egter "steeds meer tot ordinêre terrorisme gedegenereer". Hiertoe was dubbelsinnige boodskappe na die Konferensie van Kabwe dan oënskynlik 'n belangrike prikkel.

Grietjie Verhoef ondersoek die "worstelstryd" wat die rekenmeestersprofessie gevoer het om op grond van etiese waardes en professionele standaarde "domeinbeskerming" te bewerkstellig. Die gevaar van regulering van die professie deur die owerheid is "...dat rekenmeesters se eie morele verantwoordelikheid vir professionele etiek, integriteit, betroubaarheid, onafhanklikheid, professionele optrede en standaarde verplaas kon word na 'n owerheidsfunksie, oftewel 'n statuut". Kennisname van pogings tot die vestiging van etiese waardes en professionele standaarde in die rekenmeestersprofessie is steeds van belang vir die Suid-Afrikaanse samelewing in die lig van "...bemagtigingsbeleidsrigtings en toenemende voorbeelde van korrupsie".

Ook Lambert Engelbrecht, in sy ondersoek na die rol en betekenis van die ACVV, bevind dat selfstandige inisiatief, in hierdie geval gegrond op die strewe om op 'n holistiese wyse maatskaplike dienste aan die kwesbares in die samelewing te lewer, 'n organisasie kan help om politieke druk te verwerk. Die outeur ondersoek die rol en betekenis van die ACVV, die oudste welsynsorganisasie in die land (dit is in 1904 amptelik gestig) teen die agtergrond van 'n steeds veranderende politieke klimaat. Ten spyte van toenemende politieke druk van die NP-regering om apartheidspolitiek in die welsynsveld toe te pas (lewering van verskillende dienste en benutting van verskillende fasiliteite deur verskillende bevolkingsgroepe), het die ACVV reeds vanaf 1979 uit eie inisiatief begin om maatskaplikewerk-dienste inklusief te transformeer. Na 1994 was die fokus op ontwikkelingsgerigte maatskaplike welsyn, maar die kritiek wat deur die nuwe bewindhebbers op welsynsorganisasies in die algemeen uitgespreek is, was volgens die outeur ongeregverdigd sover dit die ACVV betref en wel omdat die organisasie steeds " ...'n beduidende positiewe impak op die lewens van kwesbare mense in Suid-Afrika [het] - 'n bate en prestasie waarop min instellings in Suid-Afrika kan roem".

Arnold S de Beer skryf krities oor die gebrek aan teoretiese diepgang in die opleiding van joernaliste en betwyfel die lank gekoesterde aanname in die joernalistieke praktyk dat nuus "objektief" weergegee kan word na aanleiding van die werk van Niklas Luhmann oor die "realiteit van die massamedia". Die outeur verduidelik kortliks Luhmann se konsep van hiërargies gestruktureerde sisteme in die moderne samelewing waarvolgens die politiek "die oorkoepelende besluitnemingsfunksies van die samelewing" verrig; die ekonomie "goedere en dienste" versprei; die wetenskap kennis en die regsisteem regspraak verskaf. Daarenteen het die media "...die eksklusiewe funksie in die samelewing om nuus as 'n vorm van inligting te verskaf, en in die proses leiding aan die samelewing en individue se selfpersepsie te gee".

Die volgende groep artikels het almal te make met talige kommunikasie as part en deel van kultuur in die wydste moontlike sin van die woord. In haar ondersoek na die funksie van die metaforiese en die letterlike in geloofstaal wys M Elaine Botha op die "potensieel gedifferensieerde kwalifikasie van verskillende soorte taalgebruik, waarvan geloofstaal een tipe taal is. Regstaal en kerklike regstaal verskil, so ook liefdestaal in die huwelik en gesin en die taal van onderrig en so ook die taal van die politiek en van die joernalistiek". Sy ondersoek vervolgens die kommunikatiewe waarde van "pan-metaforisme, pan-literalisme en die dubbeltaalmodel": "Pan-metaforisme" argumenteer dat "dit wat geartikuleer word slegs metafories tot uitdrukking gebring kan word of slegs via die gebruik van metafore toeganklik is", terwyl "pan-literalisme" aan die ander kant "die primaat van die letterlike in waarheidsaansprake, predikasie en interpretasie" aanvaar en verder veronderstel dat "letterlike betekenis nie reduseerbaar is nie". Die outeur formuleer, na 'n ondersoek van resente metafoorteorieë, die vir haar kritieke vraag met betrekking tot die rol van metaforiese taal in die Skrif en geloofstaal, naamlik "...hoe dergelike metafore gedifferensieer kan word van die tipe metaforiese taal in ander kontekste".

Danie Strauss, in sy ondersoek na "skakeringe van die begrip kultuur" wys eweneens daarop dat die woord "kultuur" 'n ryk-geskakeerde betekenis besit en dat taal gedifferensieer kan word ten opsigte van "... 'n verskeidenheid sfere, met name sosiale kontekste (omgangstaal), ekonomiese taal, kunstaal, regstaal, liefdestaal, geloofstaal en wetenskapstaal". Na 'n bespreking van die verskillende denkraamwerke wat tussen bepaalde skakerings van die begrip "kultuur", op sowel historiese as sistematiese wyse onderskei, wys hy weer eens op die besondere gebruik van taal in 'n poging om "kultuur" nader te definieer: "Onontslote kulture besit slegs mondelinge oorleweringe. Dit is egter eers wanneer daar 'n besef ontwikkel van die verskil tussen dit wat histories betekenisvol en betekenisloos is dat bronne vir die historikus ontstaan, vergestalt in monumente, gedenktekens, inskripsies en geskiedverhale, asook allerlei geskrewe dokumente, literêre werke en so meer."

Die ineengestrengeldheid van kultuur- en taalaktiwiteite word ook duidelik uit Izak Grové se ondersoek na die ontstaan en ontwikkeling van die Afrikaanse kunslied die afgelope honderd jaar - iets wat volgens hom ondenkbaar sou wees "...sonder 'n simbiose met die digkuns". Hierdie mening word gedeel deur W E G Louw met die oog op die opbloei van sowel die kunslied as die poësie, "...die Afrikaanse kunslied, [het] ná die volksliedmatige beginjare daarvan, die Afrikaanse verskuns as 't ware 'op die voet' gevolg ...". Dit is daarom veelseggend dat Grové die eerste voorbeeld van die Afrikaanse kunslied, die toonsetting deur Jan Gysbert Bosman (ook bekend as Bosman di Ravelli) in 1908 eksplisiet betrek op die "...eerste volwasse gedig in dié jong taal, d.w.s. Eugène Marais se ikoniese teks, Winternag". Dat die Afrikaanse kunslied inderdaad 'n kosbare besit is vir die Afrikaner is, is die slotsom waartoe Grové kom na 'n karakterisering van die kunslied die afgelope eeu: "Soos Afrikaans self is die Afrikaanse kunslied steeds vir 'n aansienlike deel van die konsertgaande publiek 'n mondstuk van iets wat nader aan die hart lê as menige ander musikale ervaring."

Hennie van Coller ondersoek die uitbeelding van die verlede in verteenwoordigende Afrikaanse prosawerke aan die hand van begrippe uit die vertaalteorie, soos vervreemding, "...'n doelbewuste vreemdmaking van die bronteks en -kultuur" (dus: vreemdmaking van die verlede) en domestikering, "...'n strategie om die onbekende meer bekend te maak" (dus: 'n poging om die vreemdheid van die verlede te minimaliseer). Die verlede, oftewel die geskiedenis, kan verder óf nostalgies óf parodiërend uitgebeeld word - onderskeidelik 'n viering van bepaalde aspekte van die verlede teenoor 'n skerp afstandname van tradisionele weergawes van veral die Afrikanergeskiedenis. Die begrip parateks verwys na die materiaal wat aanvullend tot die sogenaamde hoofteks aangebied kan word, en kan in historiese representasie onder meer foto's, ooggetuieverslae, dokumente en dergelike insluit. Sy teoretiese bydrae behels die daarstel van 'n tipologie, waarvolgens die groot korpus werke "...georden, beskrywe en gesistematiseer kan word". Hierdie tipologie is 'n tweedimensionele model, "...waar die verhouding tussen feite en fiksie die een pool verteenwoordig en die ander konsentreer op die wyse van die representasie van feite/geskiedenis in die prosawerk".

Die laaste groep artikels het steeds met taal te make, maar nou meer spesifiek afgestem op die (Afrikaanse) taalwetenskap. Piet Swanepoel bestudeer vanuit die kognitiewe semantiek die inhoud, struktuur en funksie van die kategorieë van die (on)natuurlike, bo- en buitenatuurlike, die (ab)normale en die wonderlike en die onvermydelike ontologiese en epistemologiese kwessies wat daarmee saamgaan aan die hand van twee Nederlandse natuurhistoriese tekste. Hy bevind onder meer dat 'n prioritisering van 'n empiriese epistemologie in die bestudering van die natuur nie uitsluit dat mens ook die natuur kan ondersoek oor wat dit vir die mens oor God self kan openbaar nie - 'n komplekse epistemologiese uitgangspunt wat bewys dat alle mense nie noodwendig - en dan nog op 'n spesifieke tydstip - die natuur slegs empiries objektief of teosentries-simbolies benader (het) nie. Hy kom tot die slotsom dat soos die Middeleeuers van Van Maerlant en die mense van Coenen se Vroegmoderne periode die mens van vandag ook sy komplekse web van semantiese natuurkategorieë skep, want daarsonder kan ons geen begrip vorm van wat die kategorie MENS uiteindelik beteken nie.

Jac Conradie het dit ook oor woorde - in hierdie geval die moontlike herkoms van die woord "regtig" in Afrikaans. Sy uiteensetting van die "geskiedenis" van die woord illustreer die multitalige en multikulturele aard van Afrikaans. Hy verduidelik dat die Afrikaanse modale partikels rêrig en regtig in die betekenis "waar(-lik), eg, werklik" wisselvorme is. Rêrig is afkomstig van die reduplikasievorm reg-reg, met antesedente in Maleis en Khoi. Die oorgang van reg-reg na rêrig is moontlik bemiddel deur 'n bry-uitspraak van eersgenoemde. Ofskoon die element reg afkomstig is van Nederlands recht, is 'n vorm soos rechtig feitlik onbekend in Nederlands. Hoogduits richtig, wat hoofsaaklik 'n bloot referensiële betekenis ("reg, nie verkeerd nie") het, het egter ook lank reeds die modale betekenis van Afrikaans regtig. Bowendien kan sowel Duits richtig as Afrikaans regtig versterkend/graadaanduidend, as ontkenningsversagter en as tussenwerpsel of uitroep optree.

Afrikaans se Europese verlede blyk natuurlik ook uit die ooreenkomste op byvoorbeeld fonologiese vlak met Nederlands. Wim Zonneveld merk op dat die periode van die afgelope vyftig jaar vir teoretiese linguiste baie belangrik is, weens die opgang van generatiewe grammatika. Hy skets dan drie opeenvolgende stadia in generatiewe fonologie: die reëlgebaseerde teorie van die jare sestig en sewentig; die teorie van prinsipes en parameters in die jare tagtig; en ten slotte dié van die optimale teorie in die jare negentig. Hierdie benaderings word geïllustreer met behulp van "...een aantal fonologische processen die het Afrikaans deelt met het Nederlands, zij het soms in een andere vorm...".

In teenstelling tot die vorige twee bydraes, waar Afrikaans se Europese herkoms ten opsigte van woordontleding uit Duits en fonologiese ooreenkomste met Nederlands bespreek is, kyk Ernst Kotzé in sy bydrae na die oënskynlik teenstrydige doelwitte van demokratisering en standaardisering vir inheemse tale. Na 'n ondersoek van verskeie eksperimente om variëteite van 'n taal te standaardiseer, kom die outeur tot die gevolgtrekking dat demokratisering en standaardisering nie meer teenstrydige oogmerke vir die inheemse tale in Afrika verteenwoordig nie, omdat sprekers van Afrikatale deur die gebruikmaking van nuwe tegnologie "... self die vermoë het om te bepaal, nie slegs watter taal/tale hulle verkies vir watter doelwit nie, maar ook wat die vorm van sulke tale sal wees".

Die laaste bydrae deur Michael le Cordeur sou op een vlak gelees kon word as 'n illustrasie van die gevolgtrekking in die vorige artikel: die skrywer ondersoek naamlik uit 'n sosiokulturele perspektief verskeie variëteite van Afrikaans as draers van identiteit. Die outeur meen "dat persone se huistaal, in welke variëteit ook al, meer is as net 'n kommunikasiemiddel in post-apartheid Suid-Afrika". Sekere variëteite van Afrikaans, soos byvoorbeeld Kaapse Afrikaans en die verwante Moesliem-Afrikaans, Namakwalands en Griekwa-Afrikaans as voorbeelde van Oranjerivierafrikaans, en Karoo-Afrikaans en Tsotsitaal as voorbeelde van Oosgrensafrikaans word ontleed. Op 'n ander vlak sou die artikel ook gelees kon word as 'n demonstrasie hoe taal, oftewel bepaalde variëteite van Afrikaans, funksioneer as kultuuruitdrukking. In hierdie verband sê die outeur dat die verskillende variëteite van Afrikaans steeds 'n belangrike funksie vervul: "dit is 'n taal waarin die mense van Namakwaland en Griekwastad kan sing oor hul hartseer, 'n taal waarin die werkers kan toi-toi én die teleurstellings van 'n staking verwerk, 'n taal waarin 'n jongman van Garies én Sophiatown aan hul liefde vir 'n meisie kan uiting gee, 'n effektiewe taal teen politieke onreg, 'n taal waarin Moesliem én Christen aanbid, 'n taal vir familietyd, en 'n taal waarin met nostalgie na die ou dae verlang word". En hy haal dan Adam Small aan:

[d]it is 'n taal, 'n taal in die sin dat dit die volle lot en noodlot van die mense wat dit praat, dra ... 'n taal in die sin dat die mense wat dit praat, hul eerste skreeu in die lewe gee in hierdie taal, al die transaksies van hul lewens beklink in hierdie taal, en hul doodsroggel roggel in hierdie taal.

Ten slotte: Alhoewel nie alle geesteswetenskaplike dissiplines in die bogenoemde bydraes verteenwoordig word nie, illustreer die verskillende velde wat gedek word, vanaf filosofiesteoretiese besinning tot praktiese illustrasie van kultuur- en talige kommunikasie, die noodsaak van 'n (her)besinning oor die waarde van die geesteswetenskappe.

My dank aan die redaksiekomitee wat behulpsaam was met die werwing, asook die aanwys van geskikte lesers met die oog op eweknie-evaluering, van artikels - professore Danie Goosen (Godsdienswetenskap, Unisa) en Pieter Fourie (Kommunikasiekunde, Unisa). My dank ook aan die Hoof Uitvoerende Beampte van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, professor Jacques van der Elst, deur wie se bemiddeling hierdie feesuitgawe gestalte kon kry.

 

Ina Wolfaardt-Gräbe
Redakteur: Tydskrif vir Geesteswetenskappe
November 2011