SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.51 issue3 author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Tydskrif vir Geesteswetenskappe

Print version ISSN 0041-4751

Tydskr. geesteswet. vol.51 n.3 Pretoria Sep. 2011

 

'n algemene tipologie van leksikografiese etikette

 

A general typology of lexicographical labels

 

 

Herman L. Beyer

Departement Taal- en Literatuurstudie, Universiteit van Namibië, en Departement Afrikaans en Nederlands, Universiteit Stellenbosch. E-pos: hbeyer@unam.na

 

 


OPSOMMING

Hierdie artikel stel 'n tipologie van leksikografiese etikette met die fokus op standaard tweetalige woordeboeke voor. Hoewel 'n aantal tipologieë in die literatuur voorkom wat op die oppervlak grootliks ooreenstem, is daar onenigheid ten opsigte van die dieper klassifikasies. Die literatuur toon dat hierdie stand van sake die gevolg is van algemene verwarring en 'n gebrek aan konsensus oor die gebruik van leksikografiese etikette en die pragmatiese parameters wat hulle verteenwoordig, wat veroorsaak word deur die afwesigheid van 'n teoretiese basis vir hulle klassifikasie en standaardisering. Die doel van hierdie artikel is juis om sodanige teoretiese basis te skep op grond waarvan 'n tipologie ontwikkel kan word.

Trefwoorde: domeinetiket; etikettering; etikettipologie; gemerktheid; leksikografie; leksikografiese gemerktheid; leksikografiese etiket; linguistiese etiket; makrostruktuur; mikrostruktuur; pragmatiese data; standaardvariëteit; standaard tweetalige woordeboek; stilistiese etiket; tegniese etiket


ABSTRACT

This article develops and presents a typology of lexicographical labels with the focus on standard bilingual dictionaries. Generally, a lexicographical label can be described as a meta-entry in a dictionary article which indicates to the dictionary user that the entry it is addressed to represents an element of some form of marked language usage, for example informal language, jargon, geographical variation and temporal variation. Lexicographical labels contextualise their addresses in terms of actual language usage and therefore provide important pragmatic guidance to the dictionary user, thereby promoting communicative success. They have a long history and have not only become a lexicographical tradition, but also an indispensable instrument of description for the lexicographer.
This article takes cognisance of an initial definition of lexicographical labels, the fact that a number of typologies of lexicographical labels have been proposed and the concept ofmarkedness as it pertains to language usage. With regard to existing typologies, it is noted that while they are more or less similar at the superficial level, there are significant differences in deeper classificationsand subclassifications. The literature suggests that this is the result of general confusion and a lack of consensus about the use of lexicographical labels and the pragmatic parameters that they represent, which is in turn caused by the absence of a theoretical basis for their classification and standardisation. Hence, the initial definition and the concept of markedness represents the point of departure for developing precisely such a theoretical basis. The concept of markedness is extended to lexicographical markedness, since what is regarded as linguistically marked is not necessarily marked for lexicographical purposes. A different set of norms have to be applied when deciding if a source or target language entry should be labelled. This implies that the linguistic markedness of a lexical item does not presuppose its labelling in a dictionary. The norms which should be applied to determine lexicographical markedness, and as such define lexicographical labels, include (i) the dictionary type, as a product of the purpose, function(s), typical usage situation and target user profile of the dictionary, which includes referential equivalence and translingually transposed lexicographical markedness in the case of a bilingual dictionary; (ii) certain linguistic criteria that apply to linguistic markedness, like usage restrictions pertaining to specific domains as well as relevant formal and stylistic criteria; (iii) the dictionary-specific context.
Based on these norms, the following typology of lexicographical labels is proposed:

Lexicographical labels

Main class 1: Domain labels, which indicate that specific source and target language elements belong to a specific domain
  1(a): Geographical labels, which indicate spatial distribution, for example British English
  1(b): Temporal labels, which indicate marked temporal status
    1(b)(i): Periodicising labels, which indicate specific source and target language elements' marked usage relative to contemporary language usage, for example archaic, old and neologism.
    1(b)(ii): Historical labels, which mark specific source and target language elements that refer to referents which existed earlier but currently do not exist any longer, for example historical.
  1(c): Frequency labels, which indicate marked usage frequency
    1(c)(i): Absolute frequency labels, like rare
    1(c)(ii): Relative frequency labels, like less frequently used
  1(d): Technical labels, which indicate specific source and target language elements' term status in particular specialisation areas, for example medical and soccer
  1(e): Cultural labels, which indicate the culture-specificity of particular source and target language elements, for example German cultural tradition

Main class 2: Linguistic labels, which indicate specific source and target language elements' linguistic exceptionality in terms of the dictionary type

Main class 3: Stylistic labels, which indicate specific source and target language elements' stylistic markedness

  3(a): Register labels, which mark specific source and target language elements that belong to a specific situation or set of circumstances, for example journalese and poetic
  3(b): Socio-stylistic labels, which indicate the suitability of specific source or target language elements at a specific style level, for example formal and vulgar
  3(c): Stylistic-functional labels, which indicate the marked and deliberate conversational implicatures that specific source and target language elements can represent, for example euphemism and racist

It is emphasised that the proposed typology is not necessarily exhaustive, nor should it be regarded as prescriptive or rigoristic. All identified classes are open classes, meaning that new elements can be added as knowledge about labels and pragmatic data in dictionaries expands. Rather, the typology should be seen as a functional product of scientific description.
Regardless of the typology or the typological framework that a dictionary's editorial team may select for any planned dictionary, one requirement remains constant for a user-friendly dictionary, namely that the target user should be empowered, through the user guide (and other dictionary components, where appropriate), to functionally interpret any label that might appear in the dictionary. Aligning these features to the purpose and function(s) that have been identified for a dictionary in the planning stages as part of the dictionary plan would ensure communicative equivalence in the dictionary and result in successful lingual communication.
Although the typology has been developed with the focus on standard bilingual dictionaries, it can ideally be utilised for any dictionary type.

Key concepts: domain label; labelling; label typology; lexicographical label; lexicographical markedness; lexicography; linguistic label; macrostructure; markedness; microstructure; pragmatic data; standard bilingual dictionary; standard variety; stylistic label; technical label


 

 

1. INLEIDING1

Volgens Hartmann (1983:109) vind alle taalgebruik binne die een of ander konteks plaas. Die kommunikatiewe vaardigheid van moedertaalsprekers sluit die vermoë in om hulle taalgebruik aan te pas na gelang van die konteks of situasie waarin hulle hulle bevind, sowel as die vermoë om sodanige variasie te herken (Hartmann 1983:109). As inligtingsbron moet 'n woordeboek sowel taalkundige as pragmatiese leiding verskaf (Gouws 1988:6). Indien 'n leksikale item wat in 'n woordeboek behandel word aan bepaalde beperkinge ten opsigte van gepastheid in sekere situasies onderhewig is, is dit die plig van die leksikograaf om sodanige beperkinge onder die aandag van die woordeboekgebruiker te bring ten einde kommunikatiewe sukses te bewerkstellig (Gouws 1988:7; Lombard 1993:145). Die soort leksikografiese data wat in hierdie verband aan die gebruiker gebied word, is pragmatiese leiding, wat 'n baie belangrike deel vorm van die leksikografiese data wat in 'n woordeboek aangebied word (Burkhanov 2003:102). Hierdie soort data word in die meeste gevalle, hoewel nie uitsluitlik nie, deur leksikografiese etikette verteenwoordig (Burkhanov 2003:104). Gevolglik beskou Gouws (1988:4) leksikografiese etikette as 'n onmisbare komponent van die hedendaagse leksikograaf se beskrywingsapparaat. Ook die afwesigheid van 'n etiket ten opsigte van 'n inskrywing vervul 'n bepaalde kontekstualiserende funksie (vergelyk Gouws 1988:9). Ter wille van kommunikatiewe ekwivalensie is dit derhalwe noodsaaklik dat die leksikograaf etikette so sistematies en konsekwent moontlik sal aanwend (Gouws 1988:9; Lombard 1993:143).

Hoewel die gebruik van leksikografiese etikette 'n kenmerk van moderne woordeboeke is, is dit nie 'n uitvinding van moderne leksikograwe nie; die gebruik van leksikografiese etikette het naamlik 'n lang en eerbiedwaardige tradisie in die leksikografie (Gouws 1988:4). 'n Bespreking van die geskiedenis van etikettering in woordeboeke val buite die bestek van hierdie studie; vergelyk egter in hierdie verband onder meer Cassidy (2003) en Mugglestone (2000).

As aanvanklike werksdefinisie vir die term leksikografiese etiket sal die volgende formulering van Gouws (1988:4) geld:

(1) Die term etiket verwys na daardie inskrywing(s) in 'n woordeboekartikel wat as merkers optree om die lemma of 'n ander inskrywing in die artikel se beperkinge ten opsigte van byvoorbeeld stylaard, gebruiksfeer en geografiese voorkoms aan te dui.

Vergelyk die volgende artikels uit die Pharos Afrikaans-Engels/English Afrikaans Woordeboek/Dictionary (Du Plessis 2005 - voortaan Pharos ):

(2) a. inbrokkel inge=, (rare), (tr.) crumble into; (intr.) crumble away; (intr.) go to pieces.
  b. indantreen (chem.) indanthrene.
  c. informant =mante informant, source, (SA, infml.) pimp, impimpi (Ngu.).

In (2) word die inskrywings rare, tr., intr., chem., SA, infml. en Ngu. as leksikografiese etikette beskou.

Hierdie artikel stel op wetenskaplike basis 'n tipologie van leksikografiese etikette voor. Die fokus is deurgaans op standaard tweetalige woordeboeke, aangesien leksikografiese etikette mikrostruktureel en funksioneel meer verbreid in dié tipe woordeboek aangewend word as in eentalige woordeboeke. Weens ruimtebeperkings sal nie op die meer spesifieke aard, funksies en mikrostrukturele verspreiding van alle leksikografiese etikette ingegaan word nie,2 hoewel tersaaklike en problematiese aspekte van bestaande tipologieë wel deur die loop van die bespreking aan bod sal kom. Ter wille van leesbaarheid sal leksikografiese etikette voortaan bloot "etikette" genoem word.

 

2. TIPES ETIKETTE

In die metaleksikografiese literatuur bestaan talle voorgestelde tipologieë vir etikette.3 Hoewel hierdie tipologieë in wese grootliks ooreenkom, bestaan min of meer uiteenlopende klassifikasies en subklassifikasies. Uit die literatuur blyk ook dat die navorsers bewus is van hierdie uiteenlopendheid, wat toegeskryf word aan algemene verwarring en 'n gebrek aan konsensus oor die gebruik van etikette (Norri 1996:2; Mugglestone 2000:22) en die pragmatiese parameters wat hulle verteenwoordig (Burkhanov 2003:106), wat veroorsaak word deur die gebrek aan 'n teoretiese basis vir die klassifikasie en standaardisering van etikette (Lombard 1993: 143; Hurtado 1994:22).

In die bespreking wat volg, sal gepoog word om uit die geraadpleegde literatuur en woordeboekdata 'n tipologie voor te stel wat sover moontlik leksikografies wetenskaplik beskryf kan word.

 

3. DIE BEGRIP GEMERKTHEID

Soos reeds aangetoon is, is 'n etiket 'n tipe aanduider met die funksie om die beperkte gebruik van 'n bron- of doeltaalinskrywing te merk. Hierdie vertrekpunt veronderstel dat duidelikheid moet bestaan oor die konsep beperkte gebruik oftewel gemerktheid (vergelyk Hausmann 1989:649) van 'n leksikale item.

Gemerktheid veronderstel (i) die toepassing van die een of ander norm of stel norme en (ii) die moontlikheid van ongemerktheid. Met betrekking tot standaardwoordeboeke word algemeen in die leksikografie aanvaar dat standaardtaalitems die ongemerkte of verstekwaarde (die norm) verteenwoordig, met niestandaardtaalitems wat deur middel van etikette as sodanig (dit wil sê as abnormaal oftewel gemerk) gemerk word.4

Die beperking van die begrip gemerktheid tot niestaandaardtaalitems ten opsigte van etikettering sou egter om minstens twee redes problematies wees: In die eerste plek bestaan daar 'n wye verskeidenheid tipes woordeboeke, waarvan slegs enkeles die standaardvariëteit van die teikenleksikon in bestek het (vergelyk byvoorbeeld Gouws & Prinsloo 2005:45-56). In 'n mediese woordeboek word lemmata wat nie standaardtaalitems is nie byvoorbeeld nié geëtiketteer nie juis omdat die standaardvariëteit nie die teikenleksikon van die betrokke woordeboek is nie. Vir 'n algemene etikettipologie behoort die begrip gemerktheid losgemaak te word van die standaardvariëteit. In die tweede plek is daar leksikografiese bewyse dat die standaardvariëteit selfs in standaardwoordeboeke nie sonder meer as norm geld nie. Daar bestaan byvoorbeeld volgens Gouws (1988:23) "nie 'n dwingende rede om nuutskeppings in 'n standaardwoordeboek [...] te merk nie," afgesien van die feit dat neologismes nie sonder meer as standaardtaalitems beskou kan word nie. Die motivering vir hierdie standpunt is dat daar nie 'n spesifieke beperking op die gebruik van neologismes bestaan nie - die leksikograaf beskou hulle dus as ongemerk terwyl hulle in terme van die standaardvariëteit wel gemerk is. Daarenteen word bepaalde standaardtaalitems in ander gevalle wel in standaardwoordeboeke geëtiketteer (en dus om die een of ander rede as gemerk beskou): Vergelyk onder meer die etiketwaardes "attributief", "onoorganklik", "(slegs) meervoud" en "vroulik", wat geen oordeel oor die standaardtaalstatus van hulle adresse verteenwoordig nie, maar eerder 'n ander tipe gemerktheid beskryf.

Vir die leksikograaf blyk dit nodig te wees om met 'n omvattender begrip van gemerktheid om te gaan. Richards & Schmidt (2010:352) beskryf die term markedness theory as

the theory that within and across languages certain linguistic elements can be seen as unmarked, i.e. simple, core, or prototypical, while others are seen as marked, i.e. complex, peripheral, or exceptional.

Volgens Bergenholtz & Tarp (1995:131) word onder etikettering die verstrek van inligting oor afwykings van die groter deel van die makrostruktuur verstaan. Hoewel etikette nie slegs aan makrostruktuurelemente gerig word nie (vergelyk die werksdefinisie in (1) en die woordeboekartikels in (2)), word die makrostruktuur (en die ganse woordeboek) in die moderne leksikografie afgestem op die woordeboekfunksie(s), 'n goed gedefinieerde teikengebruiker en dié se inligtingsbehoeftes en taal- en naslaanvaardighede binne 'n bepaalde woordeboekgebruiksituasie. Die logiese gevolgtrekking is dan dat die leksikografiese prosedure van etikettering ook aan die eise van hierdie norme moet voldoen en dat 'n algemene etikettipologie hiervan rekenskap sal gee. Dit gaan dus by etikettering om die markering van die komplekse, die perifere en die uitsonderlike met betrekking tot bogenoemde norme in plaas van met betrekking tot 'n enkele uitsluitlike (taalkundige) kriterium soos die standaardleksikon. Om vir hierdie multidimensionele begrip voorsiening te maak, sal daarna as leksikografiese gemerktheid verwys word. Die dimensies wat ter sprake kom, word in die onderhawige tipologie deur die formulering van die tersaaklike norme verteenwoordig.

 

4. 'N AANVANKLIKE TWEEDELING

Burkhanov (2003:105) en Verkuyl et al. (2003:297-298) verdeel die versameling etikette in twee breë klasse, te wete daardie etikette wat volgens hulle aan formele aspekte van die geadresseerde bron- of doeltaalinskrywing gekoppel kan word (Burkhanov noem hierdie klas grammatiese etikette ) en daardie etikette wat op pragmatiese beperkinge slaan, te wete die sogenaamde gebruiksetikette. Vergelyk in hierdie verband die volgende artikel uit Pharos :

(3) leges (pl., jur.) surplice fees, dues (of a church, an office).

Twee etikette is aan die lemma leges geadresseer, naamlik pl. "meervoud" en jur. "regstaal". Eersgenoemde geld as 'n lid van die subklas grammatiese etikette, aangesien dit daarop wys dat die lemma in hierdie geval slegs in die meervoudsvorm die betekenis het ten opsigte waarvan die vertaalekwivalente aangebied word. In hierdie subklas val volgens Verkuyl et al. ook etiketwaardes soos "attributief", "refleksief" en "oorganklik". Daarenteen is die etiket jur. 'n lid van die subklas gebruiksetikette, aangesien dit die gebruik van die leksikale item wat deur die lemma verteenwoordig word tot die regstaal beperk. Die subklas gebruiksetikette word in twee verdere klasse verdeel, te wete groepsetikette en registeretikette. Verkuyl et al. (2003: 299, 302) omskryf dié klasse soos volg:

(4) a. Group labels are labels indicating that a word (or word meaning) is restricted in its use. [...] The restrictions marked by these labels concern regional, professional or social domains or a temporal restriction on the application of the word or word sense [...] [my kursivering - HLB]
  b. A register label is [...] intended as a device to guide individual language users in their use of language with respect to a social group judging its appropriateness. A dictionary is often used by speakers with the need to address a certain audience, by poets, by writers and by journalists to enable them to avoid a word that they do not want to use or find a more appropriate alternative for the specific purpose of the occasion. Some dictionaries provide synonyms and near-synonyms, marking differences between them by labels like (form.), (vulg.), (poet.), (bibl.), etc.

Burkhanov en Verkuyl et al. se konsep van groepsetikette word in hierdie studie erken, maar in die onderhawige tipologie word die term groepsetikette na aanleiding van hulle definisie in (4)a en ter wille van eenduidigheid5 vervang deur die term domeinetikette. Die konsep van registeretikette soos in 4(b) gedefinieer, vra om verdere verfyning en sal uiteindelik as stilistiese etikette in afdeling 8 aangebied word.

 

5. EERSTE HOOFKLAS: DOMEINETIKETTE

Domeinetikette verteenwoordig 'n aantal breë subleksika, waarvan die belangrikstes kortliks geïdentifiseer word. Die norm wat hier geld, is dat gemerkte items se gebruik beperk is tot bepaalde domeine (die uitsonderings) wat buite die teikenleksikon (die prototipiese) van die woordeboek val.

5.1 Gemerktheid ten opsigte van ruimtelike variasie

Leksikale items waarvan die gebruik beperk is tot sekere algemeen afbakenbare geografiese gebiede en dus kenmerkend van taalgebruik in daardie gebiede is, val buite die prototipiese makrostruktuur van 'n standaardwoordeboek. Sodanige leksikale items waarvan die geografiese verbreidheid egter so toegeneem het dat hulle as lemmata kwalifiseer, maar wat kenmerkend van die spesifieke geografiese gebied bly, word uiteraard gelemmatiseer, maar hulle is steeds leksikografies gemerk; derhalwe is hulle die adresse van etikette wat beperkte ruimtelike verspreiding aandui. Gouws (1988:29) noem hierdie tipe etikette geografiese etikette. Tipiese voorbeelde van sodanige etikette is gewest. "gewestelik" en dial. "dialekties".

Volgens Lombard (1993:148) het 'n (gedrukte) standaardwoordeboek nie ruimte om te veel lemmata op te neem wat geografies geëtiketteer moet word nie. Gevolglik behoort etikette wat op ruimtelike variasie dui nie volop in sulke woordeboeke voor te kom nie. Nietemin blyk die aanwending van geografiese etikette 'n universele probleem te wees. Volgens Norri (1996:26) is dit byvoorbeeld onmoontlik om enige gemeenskaplike beleid of sisteem in die toepassing van etikette in 'n versameling Britse en Amerikaanse woordeboeke te identifiseer. Verkuyl et al. (2003:300) meld dat die voorkoms van geografiese etikette in Nederlandse woordeboeke meestal redelik arbitrêr is.

Die gebruik van 'n geografiese etiket soos dial. blyk ook onbevredigend te wees, veral indien geen aanduiding van die betekenis van dié etiket in die gebruikersgids gegee word nie (Osselton 1994:104,107). Dié etiket maak dit naamlik nie duidelik tot watter geografiese gebied die geadresseerde bron- of doeltaalinskrywing behoort nie. Volgens Gouws (1988:32) behoort naas so 'n etiket 'n spesifisering van die geografiese gebied(e) waar die bepaalde vorm wel voorkom, aangebied te word. Lombard (1993:148) ondersteun die idee dat die etiket sélf die gebied of plek waar die bepaalde vorm algemeen voorkom, behoort te identifiseer; dus sal die etiket Nam. "Namibiese variant" byvoorbeeld in plaas van dial. met of sonder 'n aanduiding van die betrokke geografiese gebied optree by 'n bron- of doeltaalinskrywing waarvan die gebruik tot Namibië beperk is. Sodanige prosedure veronderstel dat geografiese etikette duidelik deur middel van tipografiese en nie-tipografiese struktuurmerkers van etimologie-aanduiders onderskei behoort te word (vergelyk Norri 1996:14) - 'n onderskeid wat byvoorbeeld nie in Pharos geld nie. Vergelyk die volgende twee verteenwoordigende artikels:

(5) a. saagbok saw trestle, trestle for sawing, sawhorse, wood(en) horse, (saw)buck (Am.).
  b. saakgelastigde =s agent, representative, deputy; chargé d'affaires (Fr.); church administrator, commissioner; (jur.) procurator; (comm.) factor.

In (5)a word die geografiese etiket Am. ten opsigte van die vertaalekwivalent (saw)buck aangebied, wat dié vertaalekwivalent as beperk tot Amerikaanse Engels merk. Hier word 'n geografiese etiket sinvol aangewend om die gebruiker daarop te wys dat die geadresseerde vertaalekwivalent buite die taalgebied van die woordeboek val. 'n Soortgelyke beperking geld egter nie vir die vertaalekwivalent chargé d'affaires in (5)b nie; die inskrywing Fr. "Frans" hier is 'n etimologieaanduider en nie 'n etiket nie; 'n nuttige etiket hier sou dipl. "diplomasie" of iets dergeliks wees om die gebruiker daarop te wys dat die geadresseerde inskrywing beperk is tot die veld van vaktaalvariasie, soos wat die etikette jur. "regstaal" en comm. "handelstaal" tereg ten opsigte van hulle adresse in dieselfde artikel doen. Etimologie-aanduiders behoort in ander artikelgleuwe geplaas te word en tipografies van etikette onderskei te word waar die tersaaklike woordeboektipe hulle insluiting regverdig.

5.2 Gemerktheid ten opsigte van temporele variasie

Leksikale items is gewoonlik om een van die volgende redes temporeel gemerk: (i) Hulle is aan 'n ouer tydvak gebonde en het gevolglik 'n laer gebruiksfrekwensie as enige kontemporêre standaardtaalsinonieme; (ii) hulle is aan 'n sprekersgroep van 'n ouer geslag gebonde en het gevolglik 'n laer gebruiksfrekwensie as enige kontemporêre standaardtaalsinonieme; (iii) hulle verwys na referente wat voorheen gegeld het, maar wat nou nie meer geld nie en gevolglik word hulle minder frekwent as voorheen gebruik (vergelyk Gouws 1988:19, 20; Lombard 1993:149; Verkuyl et al. 2003: 301).

Sodanige leksikale items val normaalweg buite die bestek van die prototipiese makrostruktuur van 'n standaardwoordeboek, hoewel sommige temporeel gemerkte items waarvan die verbreidheid in algemene taalgebruik egter nog nie so beperk is dat hulle nié as lemmata kwalifiseer nie wel gelemmatiseer kan word; gevolglik word hulle deur die gepaste etikette wat beperkte temporele verspreiding aandui, gemerk. Gouws (1988:19) noem hierdie tipe etikette temporele etikette. Tipiese voorbeelde van sodanige etikette is arg. "argaïes" (ten opsigte van (i) hierbo), vero. "verouder(en)d" (ten opsigte van (ii) hierbo) en hist. "histories" (ten opsigte van (iii) hierbo).

Dit is moontlik dat sekere temporeel gemerkte leksikale items nie as sodanig geëtiketteer word nie, omdat hulle in terme van die doel en funksie(s) van die tersaaklike woordeboek nie as leksikografies gemerk beskou word nie. Hier geld die nie-etikettering van neologismes in standaardwoordeboeke as voorbeeld.

Dat leksikonitems in meer as een opsig leksikografies temporeel gemerk kan wees, blyk uit die volgende hipotetiese artikels (op die ooreenstemmende artikels in die Groot Woordeboek / Major Dictionary (Eksteen 1997 - voortaan Groot Woordeboek ) gebaseer:

(6) a. Suidwes, Suidwes-Afrika, (hist., vero.), South West Africa (hist., vero.) , Namibia.
  b. Rhodesië, (hist., vero.), Rhodesia (hist., vero.) , Zimbabwe.

Op die oog af kan die etiket hist. as sinoniem met vero. geïnterpreteer word en kan die gekombineerde aanbieding van dié etikette die gebruiker verwar. Hoewel die eiename Suidwes-Afrika en Rhodesië tereg as histories gemerk aangedui word, is dit ook die geval dat die gebruik van hierdie leksikale items (steeds) onder taalgebruikers voorkom wat 'n ouer geslag verteenwoordig. Hierdie stand van sake word deur die etiketwaarde "verouderend" verteenwoordig. Van belang hier, soos in die aanwending van alle ander etikette, is dat die gebruiker duidelike leiding in die gebruikersgids ontvang oor die markeringswaarde van elke etiket.

Na aanleiding van hierdie gekombineerde optrede van temporele etikette kan twee subklasse onderskei word, naamlik daardie temporele etikette wat hulle adresse in min of meer afbakenbare periodes ten opsigte van 'n bepaalde temporele deiktiese sentrum plaas, soos argaïes, verouderend en neologisme , en daardie etikette wat die historiese status van hulle adresse aandui, soos histories. Vir eersgenoemde subklas word die term periodiserende etikette voorgestel; vir laasgenoemde word historiese etikette voorgestel.

5.3 Gemerktheid ten opsigte van gebruiklikheid

Daardie versameling leksikale items wat in algemene taalgebruik 'n normale gebruiksfrekwensie vertoon (dit wil sê daardie leksikale items wat die standaardvariëteit in terme van gebruiksfrekwensie verteenwoordig) (vergelyk Lombard 1993:148), verteenwoordig in die geval van 'n standaardwoordeboek die norm. Leksikale items wat afwykings van hierdie norm verteenwoordig en steeds gelemmatiseer word, is uitsonderings en derhalwe leksikografies gemerk. Hierdie tipe leksikografiese gemerktheid word egter deur Verkuyl et al. (2003:301) bevraagteken:

Nowadays, the frequency of word forms can be established with respect to large corpora and so each word can (in principle) be marked as to the number of times it occurs in a certain year or in a certain period that is interesting to... to whom? Not to average dictionary users, who simply hope to find the word they need and leave the decision to include it to the lexicographer. It follows that frequency labels may be part of the databases underlying a paper dictionary rather than being included in the dictionary itself.

Hierdie siening kan egter vanuit 'n funksionele oogpunt as 'n enigsins oorvereenvoudigde benadering beskou word. Vir byvoorbeeld die teksproduksiefunksie sou lemmata wat ten opsigte van gebruiklikheid gemerk is, geëtiketteer word. Volgens Svensén (1993:186) sou sodanige etikette die gebruiker waarsku dat die keuse van die geadresseerde vertaalekwivalent ten gunste van 'n frekwenter ekwivalent vermy behoort te word. Etikette wat hierdie soort leiding aan die gebruiker bied, word frekwensie-etikette genoem.

Volgens Lombard (1993:148-149) kan leksikale items wat ten opsigte van gebruiklikheid gemerk is in twee klasse verdeel word, naamlik daardie leksikale items wat ongewoon is (byvoorbeeld laars, kurieus, blaak ), en daardie gevalle wat nie ongewoon is nie, maar wel skaarser as hulle wisselvorme of sinonieme in algemene taalgebruik voorkom (byvoorbeeld hul teenoor hulle ). Twee subtipes frekwensie-etikette wat met Lombard se klasse van gebruiklikheid korrespondeer, kan derhalwe onderskei word: In eersgenoemde geval sou 'n absolute-frekwensieetiket soos ongewoon aagewend word en in laasgenoemde geval 'n relatiewe-frekwensie-etiket soos minder gebruiklik. Die absolute en relatiewe frekwensie van leksikale items moet deur middel van wetenskaplike metodes vasgestel word en moet nie berus op die leksikograaf se eie intuïtiewe oordeel nie. Hierin speel frekwensietellings wat op verteenwoordigende tekskorpora gebaseer is 'n sentrale rol (vergelyk in hierdie verband Prinsloo & Gouws 2006).

5.4 Gemerktheid ten opsigte van tegniese variasie

Volgens Braun (1981:170 in Gouws 1988:27) word tegnies gemerkte leksikale items in vaktaalverband gebruik, hoewel die term vaktaal volgens Gouws (1988:27) wyd geïnterpreteer moet word om nie slegs na vakke as akademiese dissiplines te verwys nie, maar ook na ander toepassingsgebiede, soos sportsoorte, beroepsrigtings, ensovoorts. Lombard (1993:149) gebruik die term gebruiksfeer in plaas van vaktaal om hierdie wyer interpretasie te probeer ondervang. Beide vaktaal en gebruiksfeer is egter onbevredigend, want terwyl die term vaktaal te eng is om hierdie veld mee te beskryf, is die term gebruiksfeer te wyd, aangesien dié term ook onder meer ruimtelike en temporele gebruiksfere sou kon impliseer. Die leksikale items ter sprake het gewoonlik termstatus binne hulle beperkte domeine, dit wil sê hulle verteenwoordig 'n eenduidigtegniese denotasie. Derhalwe word die alternatiewe term tegniese variasie voorgestel (vergelyk ook Hausmann 1989:651). Verkuyl et al. (2003:301) beskryf die aard van die leksikale items wat tegniese variasie verteenwoordig en die taalgebruikers wat hierdie leksikale items gebruik as volg:

Even though speakers of certain professions use a general non-dialectic language [d.w.s. oor die algemeen die standaardvariëteit - HLB], they use either word forms that are not part of the standard language or they use word forms that are part of it but have a very specific meaning within the field.

Een betekenisonderskeiding van 'n leksikale item kan dus verteenwoordigend van die standaardvariëteit wees, terwyl 'n volgende een verteenwoordigend van tegniese variasie kan wees. Vergelyk die volgende woordeboekartikel uit Pharos :

(7) kniebaar [...] kneadable; plastic, pliable, mouldable; (geol.) fictile.

Volgens die bewerking van die lemma kniebaar in (7) verteenwoordig die eerste twee betekenisonderskeidinge en hulle vertaalekwivalente standaardtaalgebruik in die onderskeie tale, terwyl die derde betekenisonderskeiding en die aangebode vertaalekwivalent deur die etiket geol. gemerk is vir hulle tegniese gebruik in die vakterrein van die geologie.

Volgens Gouws (1988:27) word tegnies gemerkte leksikale items heelwat minder in standaardwoordeboeke as in omvattende woordeboeke opgeneem. Waar sodanige leksikale items wel gelemmatiseer word of as vertaalekwivalente aangebied word, sal hulle van tegniese etikette voorsien word.

Verkuyl et al. (2003:307) stel voor dat in plaas van tegniese etikette wat 'n verskeidenheid subvelde binne die veld van tegniese variasie spesifiseer, slegs een etiket, naamlik tegn. "tegnies" aangewend word. Die subveld waartoe 'n leksikale item behoort, kan dan in die elektroniese databasis van die woordeboek gespesifiseer word. Die implementering van hierdie voorstel sou tot gevolg hê dat 'n artikel uit Pharos soos volg sou kon lyk:

(8) velum [...] (tegn.) velum; (tegn.) velum, soft palate; (tegn.) veil.

Volgens Gouws (1989:203) kan een leksikale item verskillende gespesialiseerde gebruike hê wat tot verskillende vakgebiede behoort, asook niegespesialiseerde gebruike. In (8) is dit die geval dat die leksikale item velum in verskillende vakgebiede termstatus het. Dit is duidelik dat die tegniese etiket tegn. nie voldoende kontekstualisering aan die gebruiker bied om hom/haar in staat te stel om die gepaste betekenisonderskeiding en vertaalekwivalent(e) te kies nie. Die bestaande aanbod in Pharos is meer gebruikersvriendelik:

(9) velum [...] (bot., zool.) velum; (anat.) velum, soft palate; (anat., bot.) veil.

5.5 Gemerktheid ten opsigte van kulturele variasie

Kultuurspesifieke items wat gelemmatiseer word, behoort volgens Louw (1997:25) vir hulle kultuurstatus gemerk te word. Sodanige markering sal deur kultuuretikette plaasvind. Vergelyk in hierdie verband die volgende hersiene artikel uit Pharos :

(10) biltong =tonge (Afr.cult.) biltong, jerked meat.

Die etiket Afr.cult. dui daarop dat die lemma biltong 'n kultuuritem verteenwoordig wat eie aan die Afrikanerkultuur is. Kultuuretikette behoort (ook in die gebruikersgids) duidelik van geografiese etikette en etimologie-aanduiders onderskei te word.

 

6. TWEEDE HOOFKLAS: LINGUISTIESE ETIKETTE

Linguistiese etikette merk inskrywings wat linguisties leksikografies gemerk is. Voorbeelde van linguistiese etikette is attributief, onoorganklik, meervoud, diminutief en vroulik. Dit is duidelik dat vir die aanwending van linguistiese etikette verskillende norme geformuleer moet word, aangesien reeds aangetoon is dat linguistiese gemerktheid nie sonder meer gelyk is aan leksikografiese gemerktheid nie. Juis om hierdie rede sal die geïdentifiseerde norme in hierdie afdeling uitgespel word.

6.1 Woordeboektipe as norm

Die klas waartoe enige woordeboek behoort, is 'n produk van die woordeboek se ware doel (naamlik die funksie(s), teikengebruiker en tipiese woordeboekgebruiksituasie).

Hierdie norm kan geïllustreer word aan die hand van die etiket diminutief : Die lemmatiseringsbeleid van 'n standaardwoordeboek dikteer gewoonlik dat naamwoorde in die onverkleinde vorm gelemmatiseer word (inligting oor die diminutiefvorm word gewoonlik in die artikelgleuf vir morfologiese inligting in die vormkommentaar verskaf). Ten opsigte van naamwoorde kan hierdie beleid as die norm beskou word. Naamwoorde wat dus om die een of ander rede in die diminutiefvorm gelemmatiseer word of as vertaalekwivalente aangebied word, moet derhalwe deur die gepaste linguistiese etikettipe leksikografies gemerk word. Vergelyk in hierdie verband die volgende artikel uit Pharos :

(11) potjie =jies, (dim.) little pot/jar [...]

Die leksikale item potjie het 'n ander denotasie as die leksikale item pot ; derhalwe word potjie apart gelemmatiseer en semanties bewerk. Indien die aanduiding van 'n diminutiefvorm tot alfabetiese uiteenplasing lei, kan die diminutiefvorm na gelang van die woordeboektipe ook gelemmatiseer word, soos die volgende Pharos -artikel illustreer:

(12) posie (dim.) → POSE.

Die lemma posie is leksikografies gemerk en word dus dienooreenkomstig geëtiketteer. Linguistiese etikette behoort nie as ondergeskik aan ander tipes etikette beskou te word nie. Waar ander tipes etikette optree, behoort linguistiese etikette ook waar van toepassing hulle regmatige plek in te neem. Vergelyk die volgende artikel uit Pharos :

(13) sandjie =jies, (rare, children's lang.) grain of sand; piece of grit; → SANDKORREL.

Die feit dat beide 'n domeinetiket en 'n stilistiese etiket6 aan die lemma gerig is, behoort nie die invoeging van die linguistiese etiket dim. te verhoed nie.

6.2 Referensiële ekwivalensie as norm

Die norm van referensiële ekwivalensie kan aan die hand van die gebruik van die geslagsetikette fem. "vroulik" en masc. "manlik" in Pharos beskryf word. (Die begrip geslag , soos hier gebruik, slaan op die betrokke leksikale items as inherente aanduiders van natuurlike geslag.) In die Afrikaanse en Engelse leksika bestaan daar (i) die klas leksikale items wat slegs 'n manlike [+ animaat]-referent in bestek kan hê, byvoorbeeld koning [+ manlik], (ii) daardie klas wat slegs 'n vroulike [+ animaat]-referent in bestek kan hê, byvoorbeeld onderwyseres [+ vroulik] en (iii) daardie klas wat beide 'n manlike en vroulike [+ animaat]-referent in bestek kan hê, byvoorbeeld outeur [± manlik/vroulik]. Vergelyk die volgende artikels uit Pharos :

(14) a. onderwyser =sers, (masc.), onderwyseres =resse, (fem.) (school)teacher, (chiefly Brit.) (school)master (masc.), schoolmistress (fem.) [...]
  b. sekretaresse =ses (female) secretary [...]
  c. digteres =esse poetess.
  d. koning =nings king, monarch [...]

In die woordeboekartikels in (14)a en b bestaan sekere ontoereikende en inkonsekwente bewerkings wat hier eers uitgeklaar moet word. In (14)a verteenwoordig die aanwending van die etiket masc. "manlik" met die lemma onderwyser as adres 'n foutiewe leksikografiese bewerking. Die leksikale item onderwyser moet volgens Beyer (1997:109-110) as 'n polisemiese leksikale item benader word. Een betekenisonderskeiding het 'n manlike óf vroulike referent in bestek, soos in die sin

Van 'n onderwyser [± manlik/vroulik] word verwag om professioneel op te tree.

'n Volgende betekenisonderskeiding het slegs 'n manlike referent in bestek, soos in die sin

Die onderwyser [+ manlik] het sy tas kom haal.

Deur die aanwending van die etiket masc. word die eersgenoemde betekenisonderskeiding negeer. Hierdie stand van sake maak die saamgroepering van die lemmata onderwyser en onderwyseres onbevredigend; elke lemma behoort semanties volledig bewerk te woord, soos in die volgende voorgestelde herbewerking:7

(15) onderwyser =sers (school)teacher; (masc.) (school)teacher, schoolmaster (chiefly Brit.). onderwyseres =esse (school)teacher, schoolmistress.

By die hantering van die lemma onderwyseres in (15) sluit die hantering van die lemma sekretaresse in (14)b aan. In elke geval word 'n geslagtelik gemerkte lemma van 'n geslagtelik neutrale vertaalekwivalent voorsien. Volgens De Wet (1998:158) behoort by sodanige vertaalekwivalente aangedui te word dat hulle gebruik in daardie gevalle beperk is tot verwysing na slegs die vroulike referent. Gevolglik sou die volgende herbewerking van die betrokke artikels 'n verbeterde taalkundige en gebruikersvriendelike aanbod in 'n standaardwoordeboek verteenwoordig:

(16) a. onderwyser =sers (school)teacher; (also, masc.) schoolmaster (chiefly Brit.). onderwyseres =esse (school)teacher (fem.) , schoolmistress.
  b. sekretaresse =ses secretary (fem.) [...]

Die vertaalekwivalente (school)teacher en secretary in (16)a en b onderskeidelik word elk van die etiket fem. "vroulik" voorsien om hulle beperkte gebruik te merk. Die vertaalekwivalent schoolmistress word nie van so 'n etiket voorsien nie, aangesien dié leksikale item, soos die lemma onderwyseres, inherent slegs 'n vroulike referent in bestek het, soos wat hulle morfosemantiese eienskappe aandui. Tussen die lemma onderwyseres en die vertaalekwivalent schoolmistress bestaan dus referensiële ekwivalensie , terwyl dit nie sonder meer die geval is tussen die lemma onderwyseres en die vertaalekwivalent teacher en die lemma sekretaresse en die vertaalekwivalent secretary onderskeidelik nie. In die artikels in (14)c en d is daar ook van referensiële ekwivalensie tussen die onderskeie lemmata en hulle aangebode vertaalekwivalente sprake; derhalwe is ook in daardie artikels geen verdere inskrywings nodig om dié tipe ekwivalensie te bewerkstellig nie.

6.3 Linguistiese gemerktheid as (ondergeskikte) norm

Die markering van die afwesigheid van referensiële ekwivalensie tussen lemma en vertaalekwivalent deur geslagsetikette werp ook lig op die (ondergeskikte) norm van linguistiese gemerktheid: Tensy die leksikale of morfosemantiese gemerktheid van 'n leksikale item daarop dui, kan naamwoorde met 'n [+ animaat]-gemerkte referent na lede van enige of albei van die twee geslagte verwys. Hierdie norm vind ook sy neerslag in die voorgestelde herbewerking van die lemma onderwyser in (16)a, waarin die eerste betekenisonderskeiding van dié lemma en die aangebode vertaalekwivalent (school)teacher nie deur 'n etiket soos neutr. "geslagtelik neutraal" gemerk is nie, terwyl die tweede betekenisonderskeiding deur die etiket fem. gemerk is. Indien beide die lemma en die vertaalekwivalent(e) egter leksikaal of morfosemanties vir dieselfde geslag gemerk is, geld referensiële ekwivalensie tussen hulle, soos in die volgende woordeboekartikel:

(17) digteres =esse poetess.

Derhalwe kan die aanbied van 'n etiket soos fem. ten opsigte van die lemma en die vertaalekwivalent as funksioneel onnodig beskou word ten spyte van beide se morfosemantiese gemerktheid. Referensiële ekwivalensie tussen lemma en vertaalekwivalent kan egter ook ontbreek indien 'n geslagtelik gemerkte lemma van 'n geslagtelik ongemerkte vertaalekwivalent voorsien word, soos in die volgende Pharos -artikel:

(18) sekretaresse =ses (female) secretary [...]

Die leksikograaf het in hierdie geval probeer om referensiële ekwivalensie tussen die lemma (wat morfosemanties [+ vroulik] gemerk is), en die vertaalekwivalent (wat die semantiese kenmerk [± vroulik] besit) te bewerkstellig deur die invoeging van 'n oënskynlik opsionele bepaling vir die vertaalekwivalent, naamlik female. Hierdie hantering is ontoereikend, aangesien die semantiese kenmerk [+ vroulik] nie 'n opsionele kenmerk van dié vertaalekwivalent is nie. In terme van Iannucci (1985:60) is dié inskrywing 'n vertaalkomplement, dit wil sê "'n doeltaalinskrywing wat gegee word ter vervollediging van die vertaalekwivalent" (Gouws 1989:171). Volgens De Wet (1998:158) behoort by sodanige vertaalekwivalente aangedui te word dat hulle gebruik in daardie gevalle beperk is tot verwysing na slegs die vroulike referent. So sal referensiële ekwivalensie bewerkstellig word. Gevolglik sou die volgende herbewerking van die woordeboekartikel in (18) 'n verbeterde taalkundige en gebruikersvriendelike aanbod in 'n standaardwoordeboek verteenwoordig:

(19) sekretaresse =ses secretary (fem.) [...]

Linguistiese etikette kan ook die (gemerkte) leksikologiese status van hulle adresse aandui. Vergelyk die volgende artikel uit 'n Afrikaans-Duits/Duits-Afrikaans-woordeboek wat tans voorberei word:

(20) sägen2 on.ww. [sägte, hat gesägt] (infml.) snork, saag balke (idm., infml.)

Die etiket idm. "idioom" dui aan dat die vertaalekwivalent saag balke 'n idioom in die doeltaal verteenwoordig.

6.4 Norm: Transtalig verplaasde gemerktheid as norm

Vergelyk die stelsel van stilistiese markering in die Van Dale Groot Woordenboek Nederlands-Engels (Martin & Tops 1999), soos deur die volgende woordeboekartikeluittreksels verteenwoordig:

(21) a. navenant <bn., bw.> <inf.> 0.1 'in keeping (with it) [...]
  b. referee <de (m.)> <sport> 0.1 refereeref.

In die artikel in (21)a word die aanduider "↑" aan die vertaalekwivalent in keeping (with it) geadresseer; in die artikel in (21)b word die aanduider "↓" aan die sekondêre vertaalekwivalent ref geadresseer. In die gebruikersgids van die woordeboek word dié aanduiders soos volg verklaar:

(22) ↑ betekent dat een vertaling qua stijlniveau iets 'netter' is dan het Nederlands
  ↓ duidt op een iets lager stijlniveau dan het te vertalen trefwoord

Hierdie aanduiders merk die vertaalekwivalente nie ten opsigte van die doeltaalleksikon nie, maar ten opsigte van die brontaalleksikon. In hierdie gevalle geld naamlik transtalig verplaasde leksikografiese gemerktheid , waar die leksikografiese gemerktheid van 'n vertaalekwivalent in terme van die brontaal gedefinieer word.

 

7. DERDE HOOFKLAS: STILISTIESE ETIKETTE

Verkuyl et al. (2003:302-304) se klas registeretikette kan in verband gebring word met Lombard (1993:146-148) en die meeste van Gouws (1988:32-36) se stilistiese etikette. Hierdie verband blyk duidelik uit Verkuyl et al. (2003:302) se beskrywing van die funksies van registeretikette:

Language users generally operate in different social domains (family, employment, bureaucracy, church, social class, etc.) which are characterised by having a set of behavioural rules determining what can or cannot properly be said. They use different style registers to master this problem. What can be said when addressing an audience in a political meeting is quite different from what can be said privately. [...] Dictionaries want to protect people from using the wrong words in the wrong contexts [my kursivering - HLB].

7.1 Register en styl

Volgens Carstens (2003:282) verwys die begrip register na taalgebruik wat spesifiek by 'n bepaalde situasie of in sekere omstandighede pas. Die begrip styl is meer oorkoepelend en gevolglik minder presies. Carstens (2003:343) stel die volgende breë stylskaal voor: intiem - informeel - gesprekstyl - formeel - kil. Op hierdie skaal kan die verskillende registers geplaas word. 'n Leksikale item soos kossies behoort so tot die register van kindertaal en val op die vlak van intieme taal op die stylskaal. In die woordeboek sal 'n meer spesifieke etiket soos kindertaal die gebruiker egter van groter hulp wees as 'n algemener etiket soos intiem. Slegs indien 'n leksikale item nie ten opsigte van 'n spesifieke register of registers gemerk kan word nie omdat dit nie tot daardie register(s) beperk is nie, sou 'n etiket soos informeel of formeel aangewend kon word. Styl is verder 'n breër begrip as register , wat aspekte van taalgebruik bo die vlak van die leksikale item in bestek het, soos formulering, interpunksie, kennis van die onderwerp, beeldspraak, ensovoorts (vergelyk Carstens 2003:335-373). Hoewel register ook nie tot die vlak van die leksikale item beperk is nie (vergelyk byvoorbeeld hoogs gekollokeerde konstruksies soos die liggaam van Christus en die maagd Maria in die register van Christelike kerktaal), verteenwoordig die toepassing van dié begrip 'n presieser kontekstualisering van die taalgegewe waarmee die leksikograaf in hierdie gevalle te doen het.

7.2 Bestaande tipologieë van stilistiese etikette

Gouws (1988:32-35) meld tereg dat stilistiese etikette 'n wye verskeidenheid etikettipes dek en bespreek kortliks die kies van etikette, maar stel geen konkrete klassifikasie van stilistiese etikette daar nie. Ook Gouws (1989:204-205) gaan nie verder op 'n klassifikasie van etikette in nie. Gegee dat geen teoretiese basis vir die klassifikasie van etikette bestaan nie, soos vroeër uitgewys is (vergelyk Hurtado 1994:22; Norri 1996:2), en dat elke woordeboek sy eie interpretasie aan etikette en etikettipes heg (vergelyk Al-Kasimi 1977:87; Mugglestone 2000:28), verteenwoordig die toepassing van stilistiese etikettering waarskynlik die leksikograaf se moeilikste etiketteringsprobleem. Mugglestone (2000:22) beskryf etikettering in hierdie opsig as

the "most artistic" as well as the "least scientific" part of the lexicographer's work, embedded in the lexicographer's own sense of the language, and his (or her) own judgments about usage.

Vergelyk ook Lombard (1993:143). Hierdie stand van sake is die gevolg van 'n gebrek aan objektiewe norme vir die vasstelling en toepassing van stilistiese etikette (Gouws 1988:32). Landau (2001:217) onderskei die agt klasse etikette in Tabel 1, wat volgens hom die algemeenste in woordeboeke voorkom:

Klasse 4 tot 8 sou onder die opskrif van stilistiese etikette kon ressorteer. Landau se klassifikasie is egter nie sonder probleme nie. Die etiket offensive geld vir klas 4 én klas 5, en terwyl die etiket disapproving in klas 5 geplaas word, word die etiket approving in klas 7 geplaas. Dit is ook nie duidelik waarom 'n etiket soos historical in klas 7 en nie in klas 1 geplaas word nie. Verder sou 'n etiket soos rude , wat in klas 4 geplaas is, ewe goed in klas 5 kon funksioneer. Hierdie diskrepansies ondermyn dié tipologie se meriete. Die ideaal sou wees dat elke individuele etiket wat in 'n woordeboek gebruik word slegs een denotasie het en slegs een funksie vervul.

Lombard (1993:146-148) bied 'n potensieel nuttige hiërargiese klassifikasie van sogenaamde sosiostilistiese etikette aan wat blykbaar taalwetenskaplik gemotiveer is, soos die samevatting van sy bespreking in Tabel 2 hieronder toon:

Hoewel dit nuttig is, toon Lombard se klassifikasie 'n belangrike tekortkoming indien dit as die volledige versameling stilistiese etikette voorgehou word. Die probleem is dat die klassifikasie eendimensioneel is: Dit strek blykbaar skalêr vanaf daardie leksikale items wat verhewe taalgebruik verteenwoordig deur die neutrale vlak tot by daardie leksikale items wat die hoogste taboewaarde verteenwoordig. Op bepaalde punte op hierdie vertikale skaal is dit egter ook moontlik (en nodig) om vir horisontale uitbreidings voorsiening te maak, byvoorbeeld deur etikette soos kindertaal, literêr en poëties. 'n Etiket soos kindertaal kan nie as domeinetiket beskou word nie, aangesien dit nie 'n leksikale item merk wat tot die taal van kinders (of ouers) beperk is nie, maar eerder verwys na 'n spesifieke gespreksituasie , naamlik daardie situasie waarin 'n (volwasse) taalgebruiker met 'n peuter of kleuter kommunikeer, ongeag die domein waarin die gesprek plaasvind. Dieselfde geld vir die ander twee etikette. Om byvoorbeeld die leksikale items bakgat en kossies beide deur die sosiostilistiese etiket geselstaal te merk, verteenwoordig 'n enigsins onbevredigende markering wat met die vae etiket dial. "dialekties" as domeinetiket wat ruimtelike variasie merk, vergelyk kan word. Hierdie punt van kritiek op Lombard se klassifikasie sluit aan by Landau (2001:269), wat die hoop uitspreek dat die analise van groeiende verteenwoordigende tekskorpora deur toenemend gevorderde tegnologie leksikoloë in staat sal stel om soveel gebruiksvlakke te identifiseer dat leksikograwe uiteindelik enigsins vae etikette soos informeel heeltemal oorboord sal kan gooi en sal kan vervang deur 'n volledige versameling presieser etikette (vergelyk ook Hartmann 1983:118). Hierdie standpunt herinner aan voorstelle vir tot soveel as 40 stilistiese etikette, waaroor Gouws (1988:34) verslag doen. Die toepassing van soveel registeretikette kan volgens die voorstel deur 'n koderingstelsel wat terugverwys na die verklaring van elke etiket in die gebruikersgids suksesvol geïmplementeer word. Die gebruikersvriendelikheid van so 'n stelsel van etikettering kan egter bevraagteken word. Verder bestaan geen bewyse in die literatuur dat gebruikers 'n behoefte aan so 'n uitgebreide klassifikasie het nie; empiriese gebruikersnavorsing oor hierdie aspek is derhalwe nodig. Volgens Käge (in Gouws 1988:35) gaan dit in hierdie opsig vir die gebruiker om een vraag, te wete of 'n leksikale item normale, dit wil sê standaardtaalgebruik verteenwoordig al dan nie; indien nie, wil die gebruiker gewoon weet of die afwyking na onder of na bo ten opsigte van die normale stylvlak lê (vergelyk ook Lombard 1993:146). Hiervolgens sou die versameling stilistiese etikette 'n relatief klein maar breë stylskaal verteenwoordig. Verkuyl et al. (2003: 306) stel so 'n skaal voor, naamlik baie informeel - informeel - Ø- formeel - baie formeel. In die geval van 'n tweetalige woordeboek kan die toepassing van so 'n vereenvoudigde skaal egter problematies wees. Gouws (1988:35) meld dat dit 'n probleem is om vas te stel in watter gevalle die lemma en sy vertaalekwivalent tot dieselfde stilistiese kategorie behoort. In sommige gevalle is dit nie moontlik om 'n vertaalekwivalent te voorsien wat tot dieselfde stilistiese kategorie behoort nie. Vergelyk in hierdie verband die volgende artikel uit die Collins GermanEnglish/English-German Dictionary (Terrell et al. 1999):

Scheiß [ƒais] m -, no pl (sl ) shit (vulg ), crap (vulg ) [...]

Volgens die etikette in die artikel word die brontaalitem Scheiß in Duits as verteenwoordigend van sleng beskou (etiket: sl ), terwyl die Engelse vertaalekwivalente shit en crap , wat die naaste aan semanties-pragmatiese ekwivalensie kom, in die doeltaal as verteenwoordigend van vulgêre taal beskou word (etiket: vulg ). Die implikasie is dat die leksikale items shit en crap hoër taboewaardes in Engels verteenwoordig as wat die leksikale item Scheiß in Duits verteenwoordig. Die doeltaalitems se gebruik is dus meer beperk in die doeltaal as wat die brontaalitem se gebruik in die brontaal is. Indien beide die lemma en die vertaalekwivalente deur die etiket informeel of baie informeel gemerk word, sal hierdie potensieel kommunikatief kritieke verskille in stylvlak nie vir die gebruiker duidelik wees nie en ontbreek kommunikatiewe ekwivalensie. Selfs indien die lemma deur die etiket informeel en die vertaalekwivalente elk deur die etiket baie informeel gemerk word, kan die bewerkstelliging van kommunikatiewe sukses in hierdie geval betwyfel word. Ook hier geld Gouws (1996:16) se vereiste dat leksikograwe nie op die veronderstelde intuïsies van woordeboekgebruikers moet staatmaak nie, maar so eksplisiet moontlik moet wees ten einde optimale oordrag van inligting te verseker. In hierdie studie word derhalwe van die standpunt uitgegaan dat meer presiese stilistiese etikette ter wille van kommunikatiewe ekwivalensie verkieslik is bo meer omvattende etikette.

7.3 Konteks as norm vir leksikografiese gemerktheid

Die redusering van die stilistiese markering van leksikale items tot 'n klein aantal breë etikette, soos deur Verkuyl et al. (2003) voorgestel, is ook problematies indien konteks in ag geneem word. Binne 'n model waarin die leksikografiese proses en woordeboekgebruik as komponente van leksikografiese kommunikasie beskou word, beskryf Beyer (2006a:60) die term konteks as

daardie versameling veranderlikes wat normaalweg buite die beheer van die leksikograaf en die gebruiker in hulle onderskeie kapasiteite as sodanig val, maar waarbinne én die saamstel én die gebruik van die woordeboek plaasvind.

Om die problematiek te illustreer, word kortliks na die leksikografiese hantering van rassismes verwys, vernaam omdat daar heelwat metaleksikografiese literatuur oor hierdie onderwerp bestaan.8 Uit hierdie literatuur blyk dit duidelik dat dit in die huidige Suider-Afrikaanse konteks heeltemal onvoldoende sou wees om 'n rassisme in 'n woordeboek bloot van die stilistiese etiket (baie ) informeel of neerhalend te voorsien.9 Volgens Hauptfleisch (1993:124) is die etiket rassisties die beste enkele etiket om die woordeboekgebruiker op die funksioneel-stilistiese gemerktheid van so 'n leksikale item te wys. Harteveld & Van Nierkerk (1995:101) stel 'n selfs uitgebreider etiket voor, naamlik rassisties; die gebruik hiervan is uiters neerhalend en aanstootlik. Die rede vir die behoefte aan 'n heel spesifieke en unieke etiket vir rassismes kan gevind word in die besonder sensitiewe klimaat wat in Suid(er)-Afrika ten opsigte van die gebruik van sulke leksikale items heers (vergelyk Harteveld & Van Niekerk 1995:235). Dat 'n andersoortige klimaat in hierdie opsig in byvoorbeeld Europa geld, word duidelik uit Europese woordeboeke se oënskynlike traagheid om rassismes te etiketteer; daarenteen is dit duidelik dat die sosiale druk om sogenaamde politiese korrektheid te bevorder veral in die VSA 'n invloed op etiketteringspraktyke in woordeboeke aldaar uitoefen (Verkuyl et al. 2003:305). Oor die binne- en buitegroepgebruik van rassismes word nie hier uitgewei nie - vergelyk hiervoor Beyer (2006:223).

Dit word dus duidelik dat 'n enkele gestandaardiseerde universele klassifikasie vir stilistiese etikette, waaraan volgens Gouws (1988:32) en Lombard (1993:143) 'n behoefte bestaan, nie maklik tot stand gebring sal kan word nie, aangesien die geldende konteks in hierdie opsig telkens so 'n beduidende rol in die samestelling van elke woordeboek speel.10 Die standaardisering van stilistiese etikette kan egter meer geredelik moontlik wees indien die behandelde leksika se taalgebiede relatief klein is en die verteenwoordigde kulture en kontekste relatief stabiel en homogeen is. In die era van globalisering en die internasionalisering van selfs 'n taal soos Afrikaans sou aangevoer kon word dat die standaardisering van stilistiese etikette egter eerder 'n al moeiliker doelwit word om te bereik. Daarenteen sou egter betoog kon word dat globalisering juis die geleentheid bied vir groter sensitiwiteit en gevolglik die weg baan vir wyer gestandaardiseerde etikette. Weens beperkte ruimte word hierdie argumentasie egter nie hier verder gevoer nie.

7.4 'n Klassifikasie van stilistiese etikette

Op grond van sosiokommunikatiewe funksie kan drie klasse stilistiese etikette voorgestel word.

7.4.1 Registeretikette

Soos reeds aangetoon is, verwys die begrip register na taalgebruik wat spesifiek by 'n bepaalde situasie of in sekere omstandighede pas. Registeretikette word dus aangewend om die geadresseerde inskrywing in die bepaalde situasie waarin dit tipies pas te veranker. Voorbeelde van sulke etikette is kindertaal, joernalisties, boektaal en poëties. Aangesien die betrokke leksikale items ten opsigte van spesifieke stituasies of omstandighede leksikografies gemerk is, kan die verteenwoordigende etikette nie in enige relatiewe hiërargie geplaas word nie; hulle funksioneer gewoon naas mekaar en kan teoreties ook gekombineer word, hoewel hulle met verskillende stylvlakke geassosieer kan word.

7.4.2 Sosiostilistiese etikette

Sosiostilistiese etikette gee volgens Van Huyssteen (1998:69) vir die woordeboekgebruiker 'n aanduiding van die gepastheid van 'n sekere leksikale item op 'n bepaalde stylvlak. Hierdie aanduiding staan onafhanklik van enige bepaalde situasie, en dit motiveer die onderskeid tussen hierdie tipe en registeretikette. Sosiostilistiese etikette vertoon ook 'n sterker normerende karakter, aangesien die etikette bepaalde sosiolinguistiese waarde-oordele oor hulle adresse uitspreek: Die implikasie is byvoorbeeld dat leksikale items wat deur die etiket plat of vulgêr gemerk is nie in "goeie" of "beskaafde" geselskap (as elemente van die tipiese gebruiksituasie soos vasgestel vir 'n standaardwoordeboek) tuis hoort nie, afgesien van die geldende situasie (terwyl kindertaal of boektaal wel in sodanige geselskap kan voorkom sonder dat dit as onvanpas beskou word, mits die geldende situasie dit toelaat). Hoewel Lombard (1993:146-148) sy klassifikasie van stilistiese etikette as sosiostilistiese etikette voorhou, word dit in die lig van die onderskeid van stilistiesfunksionele etikette hieronder duidelik dat nie al die aangebode etikette wel sosiostilistiese etikette verteenwoordig nie. Die volgende etikette wat Lombard voorstel, geld in die onderhawige tipologie wel as sosiostilistiese etikette: verhewe, geselstaal, volksnaam, plat en vulgêr. Hierby kan etikette soos deftig, gemeensaam, omgangstaal en onfyn gevoeg word. Die alternatief vir hierdie versameling is etikette met ruimer denotasies wat gebaseer is op Carstens (2003:343) se stylskaal of Verkuyl et al. (2003:306) se skaal, en sluit etikette soos informeel en formeel in. Soos reeds genoem, moet die geskikste reeks etikette in hierdie verband deur empiriese gebruiks- en gebruikersnavorsing bepaal word.

Dekker (1991:59) bewys aan die hand van leksikografiese voorbeelde dat 'n etiket soos vulgêr in kombinasie met etikette soos vloektaal en skeltaal ten opsigte van dieselfde adres kan optree, wat veronderstel dat dié etikette nie verskillende vlakke op dieselfde skaal kan verteenwoordig nie. Begrippe soos vloek en skel moet volgens Dekker (1991:60) heeltemal losgemaak word van 'n rangorde wat dit noodwendig aan obseniteit en vulgariteit koppel. So 'n losmaak vind plaas in die onderskeiding van stilisties-funksionele etikette.

7.4.3 Stilisties-funksionele etikette

Volgens Van Huyssteen (1998:69) word stilisties-funksionele etikette gebruik om 'n aanduiding te gee van die gemerkte sosiokommunikatiewe funksies (in terme van illokusies en perlokusies) wat 'n leksikale item binne sekere kontekste kan verrig, waar hierdie funksies gewoonlik (hoewel nie altyd nie) insluit dat die gebruik van die gemerkte leksikale items deur 'n bepaalde groep as affronterend en afstootlik ervaar kan word. Hierdie tipe etiket vervul ook 'n sterk normerende rol. Die volgende etikette, wat deur Lombard (1993:146-148) as sosiostilistiese etikette voorgehou word, word in die onderhawige tipologie as stilisties-funksionele etikette beskou: skertsend, neerhalend, skeltaal en vloektaal. Hiertoe kan etikette soos eufemisties, rassisties en seksisties gevoeg word. Stilisties-funksionele etikette kan van die moeilikste stilistiese etikette wees om sinvol aan te wend. Volgens Van Huyssteen (1998:68-69) is die etiket eufemisme byvoorbeeld sterk onder verdenking, aangesien 'n bepaalde leksikale item in een situasie 'n eufemisme kan wees en in 'n ander situasie 'n disfemisme. Ander stilisties-funksionele etikette kan weer makliker aangewend word, en die aanwending daarvan is na gelang van onder meer die geldende konteks inderdaad verplig, byvoorbeeld rassisties.

'n Etikettipe wat ook tot die klas van stilisties-funksionele etikette behoort, is slengetikette. Die vasstelling van die aard van slengvariasie en die markering daarvan in woordeboeke is 'n problematiese kwessie. Die eerste probleem is dat daar nie eenstemmigheid bestaan oor wat presies die term sleng denoteer nie (vergelyk Landau 2001:240). Oënskynlik pas elke leksikograaf sy/ haar eie konsep van sleng toe, wat veroorsaak dat daar geen uniforme identifikasie of hantering van hierdie taalverskynsel in woordeboeke (of in die literatuur) gevind kan word nie. In die bespreking wat volg, kan derhalwe ook nie voorgegee word dat die finale woord oor die klassifikasie en hantering van sleng in woordeboeke gespreek word nie.

Volgens Landau (2001:237) is dit onbevredigend om sleng gewoon as baie informele taal te beskou: Sleng verteenwoordig naamlik nie 'n subleksikon wat aangepas kan word om by 'n sosiale situasie te pas nie, soos wat die geval is met leksikale items op die formeel - Ø- informeel -skaal, waarop sosiostilistiese etikette van toepassing is; nietemin word die veld van slengvariasie van ander velde met beperkte gebruik (waarvan die verteenwoordigende items deur domeinetikette gemerk word) onderskei op grond daarvan dat sy lede doelbewus niestandaardtaal verteenwoordig. Landau (2001:237) redeneer soos volg oor die aard van sleng:

Much slang has been introduced by criminals, hucksters and gamblers; how shall we characterize the cultural levels of these groups ? They are off the beaten track, but are they necessarily of low cultural level because their occupations happen to be antisocial? Much slang derives also from the cant of musicians and soldiers and other groups that feel isolated or beleaguered. Their private vocabulary perlocates through layers of language to become tomorrow's slang, then routinely peppers the conversations of young people everywhere [my kursivering - HLB].11

Hierdie soort styl het dus ook duidelik 'n soort sosiale funksie.

Hoewel die gebruik van sleng nie noodwéndig deur enige bepaalde groep as afstootlik ervaar sal word nie, kan dit wel bewustelik en effektief vir dié spesifieke doel aangewend word (vergelyk De Klerk 2006:410), en word dit in baie gevalle gebruik "to break norms, to shock and to show disrespect for authority" (De Klerk 2006:409). Hieruit word die stilisties-funksionele aard van sleng verder duidelik.

Slengtaal kan ook van verskillende tipes wees; vergelyk Southerland & Katamba (1997:555) se beskrywing van dié verskynsel:

Slang exists alongside jargon and argot [...] as members of a class of speech varieties of limited usage in the speech community. Each of these last two mentioned varieties, whether characteristic of an occupational or social group, is confined to a comparatively small number of speakers and is obscure to outsiders. Slang, while it may be fleeting and subject to rapid change, is more widespread and more familiar to large numbers of speakers. Particular 'slangs', however, are very much associated with membership of groups and, when used in the presence of another member of the same group, serve as an affirmation of solidarity with other members [my kursivering - HLB].

Volgens Southerland & Katamba (1997:555), De Klerk (2006) en Eble (2006) speel sleng ook 'n belangrike rol in die instandhouding van 'n groep se identiteit: Dit onderskei die sogenaamde in-groep, wat die sleng gebruik (en dus daartoe ingewy is), van die res van die gemeenskap wat dit nie gebruik nie en (gevolglik) nie deel van die groep is nie. Hierdie argument word deur Carstens (2003:361) ondersteun:

Slenggebruikers is [...] by uitstek groeptaalsprekers en hulle vertoon deur hulle taalvorme hulle gebondenheid aan 'n bepaalde groep, byvoorbeeld skoolkinders, studente, misdadigers, soldate.

Indien die argument uitgebrei word om selfs generasies as groepe waartoe sekere taalvome se gebruik beperk is te beskou, word dit duidelik dat sleng inderdaad groepsgebonde eerder as situasie- of domeingebonde is (vergelyk ook Carstens 2003:361-363). Volgens Landau (2001:238), De Klerk (2006:407) en Eble (2006: 413) kan sleng ook temporeel gemerk wees. 'n Leksikale item soos bok "hofmaak", wat volgens Brand (2000:44) in Groot Woordeboek deur die etiket stud. gemerk word, verteenwoordig 'n spesifieke vorm van sleng wat tot die studentegemeenskap van 'n bepaalde era of generasie (en streek?) beperk is en as sodanig vir groepstaal gemerk is. Uit die voorgaande bespreking word die sosiale funksie van sleng bevestig.

Volgens Landau (2001:237) en De Klerk (2006:408) kan slengtaalelemente wat gepas gebruik word wel later standaardtaalelemente word. Hierin vertoon slengvariasie 'n beperkte ooreenkoms met tegniesetaalvariasie, aangesien tegniesetaalitems ook later standaardtaalitems kan word. Die belangrike verskil is wel dat sodanige standaardtaalitems steeds as tegniesetaalitems kan geld, terwyl slengtaalitems wat met verloop van tyd lede van die standaardtaalleksikon geword het nié meer kontemporêre slengvariasie kan verteenwoordig nie, aangesien 'n leksikale item nie tegelykertyd verteenwoordigend van én die standaardvariëteit én niestandaardtaalgebruik kan wees nie (vergelyk Carstens 2003:361). Bron- en doeltaalelemente wat die leksikale veld van slengvariasie verteenwoordig, word deur slengetikette , as 'n subklas van stilisties-funksionele etikette, gemerk. Indien 'n bepaalde element tot 'n besondere groepsleng behoort, soos bok hierbo, kan die besondere aard van die slengtaalitem ook deur die etiket benoem word.

 

8. DIE NORME

Die term leksikografiese gemerktheid is in afdeling 3 voorgestel om reg te laat geskied aan die feit dat 'n duidelike onderskeid tussen streng linguistiese gemerktheid en gemerktheid vir leksikografiese doeleindes bestaan en toegepas word. Linguistiese norme word by die toepassing van linguistiese markering toegepas en leksikografiese norme by die toepassing van leksikografiese markering. Die (stel) norme wat ten opsigte van leksikografiese markering (dit wil sê die toepassing van etikette) geld, en wat in hierdie artikel geïdentifiseer is, is:

(i) die woordeboektipe (as 'n produk van die doel, funksie(s), tipiese gebruiksituasie en teikengebruikersprofiel van die woordeboek), wat referensiële ekwivalensie en transtalig verplaasde leksikografiese gemerktheid in die geval van 'n tweetalige woordeboek insluit;
(ii) sekere kriteria wat vir linguistiese gemerktheid geld, soos gebruiksbeperkings ten opsigte van bepaalde domeine sowel as bepaalde formele en stilistiese kriteria;
(iii) die woordeboekspesifieke konteks (soos deur Beyer 2006a:60-61 beskryf).

Vergelyk Beyer (2006:200-204) vir 'n bespreking van die volgende inskrywingstipes wat in die aangetoonde literatuur as etikette aangebied word, maar wat as gevolg van die toepassing van die bostaande norme nié as etikette in standaardwoordeboeke erken kan word nie:

- woordsoortaanduiders (volgens Verkuyl et al. 2003:297; Wachal 1994)
- aanduiders van die wetenskaplike name van fauna en flora (volgens Hurtado 1994:22; Brand 2000:23-28)
- aanduiders van etimologie (volgens Gouws 1988:36; Norri 1996:14)
- aanduiders van figuurlike taalgebruik (volgens Gouws 1988:37)
- aanduiders van leksikografiese benoeming (volgens Gouws 1988:37-40; Lombard 1993:145)
- sogenaamde mikrostruktuuretikette (volgens Gouws 1988:40)

Die feit dat hierdie inskrywings nie as etikette erken word nie moet egter nie as die negering van die verteenwoordigde datakategorieë en hulle funksies geïnterpreteer word nie; die betrokke datakategorieë kan en behoort steeds aangebied te word waar die woordeboektipe dit vereis, maar dan nie deur middel van leksikografiese etikette nie.

 

9. PERSPEKTIEF

'n Relatief breedvoerige beskrywing van die verskillende tipes etikette wat in hierdie studie onderskei word, is gegee. Dit sluit die evaluering van 'n aantal bestaande tipologieë in. Om saam te vat en 'n oorsig te bied, word hieronder 'n kort opsomming van die volledige voorgestelde tipologie gebied:

Leksikografiese etikette

Hoofklas 1: Domeinetikette, wat bepaalde bron- en doeltaalelemente se gebruik tot spesifieke domeine afbaken:
  1(a): Geografiese etikette, wat ruimtelike spreiding afbaken, soos Namibiese Afrikaans
  1(b): Temporele etikette, wat gemerkte temporele status aandui
    1(b) (i): Periodiserende etikette, wat bepaalde bron- en doeltaalelemente se gemerkte gebruik relatief tot kontemporêre taalgebruik12 aandui, soos argaïes, verouderend en neologisme
    1(b) (ii): Historiese etikette, wat bepaalde bron- en doeltaalelemente se verwysing na voorheen bestaande maar tans13 niebestaande referente merk, soos histories
  1(c): Frekwensie-etikette, wat gemerkte gebruiksfrekwensie aandui
    1(c)(i) : Absolute-frekwensie-etikette, soos weinig gebruiklik
    1(c)(ii): Relatiewe-frekwensie-etikette, soos minder gebruiklik
  1(d): Tegniese etikette, wat bepaalde bron- en doeltaalelemente se termstatus in bepaalde spesialiteitsvelde aandui, soos medies en rugby
  1(e): Kultuuretikette, wat die kultuurgebondenheid van bepaalde bron- en doeltaalelemente merk, soos Duitse kultuurtradisie

Hoofklas 2: Linguistiese etikette, wat bepaalde bron- en doeltaalelemente se relatiewe morfologiese, morfosemantiese, sintaktiese en/of leksikologiese uitsonderlikhede aandui

Hoofklas 3: Stilistiese etikette, wat bepaalde bron- en doeltaalelemente se stilistiese gemerktheid aandui:

  3(a): Registeretikette, wat taalgebruik wat spesifiek by bepaalde situasies of in sekere omstandighede pas, merk, soos kerktaal en poëties
  3(b): Sosiostilistiese etikette, wat die gepastheid van sekere bron- en doeltaalelemente op bepaalde stylvlakke merk, soos deftig en geselstaal
  3(c): Stilisties-funksionele etikette, wat die spesifieke gemerkte sosiokommunikatiewe funksies wat sekere bron- en doeltaalelemente in sekere kontekste kan verrig, aandui, soos neerhalend en sleng

 

10. TEN SLOTTE

Die bostaande etikettipologie kan nie op universaliteit of volledigheid aanspraak maak nie. Dieselfde geld die norme wat vir die bepaling van leksikografiese gemerktheid geïdentifiseer is. Vir elke nuwe woordeboek behoort 'n bepaalde werklike doel, funksie(s) en teikengebruikersprofiel in die beplanningsfase saamgestel te word (Gouws & Prinsloo 2005:13). Hierdie elemente van die woordeboekplan bepaal watter spesifieke norme vir die bepaling van leksikografiese gemerktheid toegepas word.

Die geïdentifiseerde klasse etikette is oop klasse, met ander woorde elemente kan toegevoeg word soos wat kennis oor hierdie belangrike leksikografiese inskrywingstipe en pragmatiese data in woordeboeke ontwikkel en/of die woordeboekspesifieke konteks dikteer.

Die voorgestelde tipologie is dus geensins voorskriftelik of rigoristies nie, maar verteenwoordig eerder 'n funksionele produk van wetenskaplike beskrywing.

Ongeag die spesifieke etikettipologie of tipologiese raamwerk waarop 'n woordeboekredaksie kan besluit, geld een onmiskenbare vereiste vir 'n gebruikersvriendelike woordeboek, naamlik dat die teikengebruiker deur die gebruikersgids (en ander woordeboekkomponente, waar van toepassing) in staat gestel word om 'n eenduidige en funksionele interpretasie te heg aan elke individuele etiket wat in die woordeboek verskyn, sodat die tweetalige woordeboek se data-aanbod kommunikatiewe ekwivalensie kan verseker en sodat suksesvolle talige kommunikasie gevolglik kan plaasvind.

Alhoewel die voorgestelde etikettipologie ontwikkel is met die fokus op standaard tweetalige woordeboeke, is die ideaal dat dit mutatis mutandis op enige tipe woordeboek toegepas kan word.

Na aanleiding van hierdie studie kan 'n bygewerkte definisie van die term etiket nou voorgestel word:

Die term etiket verwys na 'n bepaalde tipe meta-inskrywing in 'n woordeboekartikel met die funksie om die lemma of 'n ander inskrywing in die artikel se uitsonderlikheid in terme van (i) die woordeboektipe, (ii) die relevante linguistiese kriteria en (iii) die woordeboek spesifieke konteks te ekspliseer ten einde kommunikatiewe sukses vir die teikengebruiker te bewerkstellig.

 

BIBLIOGRAFIE

A. Primêre literatuur (woordeboekdata)

Du Plessis, M. (red.). 2005. Pharos Afrikaans-Engels / English-Afrikaans Woordeboek / Dictionary. Kaapstad: Pharos.         [ Links ]

Eksteen, L.C. 1997. Groot Woordeboek / Major Dictionary. Veertiende uitgawe. Kaapstad: Pharos.         [ Links ]

Martin, W. & G.A.J. Tops. (hoofreds.). 1999. Van Dale Groot Woordenboek Nederlands-Engels. Derde druk. Utrecht & Antwerpen: Van Dale.         [ Links ]

Terrell, P., V. Schnorr, W.V.A. Morris & R. Breitsprecher. (eds). 1999. Collins German-English / English-German Dictionary. Fourth edition. Glasgow: HarperCollins.         [ Links ]

B. Sekondêre literatuur

Al-Kasimi, A.M. 1977. Linguistics and Bilingual Dictionaries. Leiden: E.J. Brill.         [ Links ]

Bergenholtz, H. & S. Tarp. 1995. Manual of Specialised Lexicography. The Preparation of Specialised Dictionaries. Amsterdam: John Benjamins.         [ Links ]

Beyer, H.L. 1997. Aard en leksikografiese hantering van sogenaamde geslagtelik neutrale lede van Afrikaanse geslagsopposisiepare. Suid-Afrikaanse Tydskrif vir Taalkunde 15(4):107-115.         [ Links ]

Beyer, H.L. 2006. 'n Metaleksikografiese ondersoek na konteksleiding in Afrikaanse vertalende woordeboeke. Ongepubliseerde DLitt-proefskrif, Universiteit Stellenbosch.         [ Links ]

Beyer, H.L. 2006a. 'n Voorlopige model vir die sistematiese beskrywing van gebruikersvriendelikheid in woordeboeke. Lexikos 16:46-66.         [ Links ]

Botha, W.F. 1995. Ek meneer en jy meneer : Hoe word master dan gesmeer? Lexikos 5B:97-104.         [ Links ]

Brand, J.E. 2000. Lexicographic Inconsistency in the Central List of Major Dictionary / Groot Woordeboek. Unpublished MPhil thesis, Stellenbosch University.         [ Links ]

Burkhanov, I. 2003. Pragmatic specifications: Usage indications, labels, examples; dictionaries of style, dictionaries of collocations. Van Sterkenburg, P. (ed.). A Practical Guide to Lexicography. Amsterdam & Philadelphia: John Benjamins, pp. 102-113.         [ Links ]

Carstens, W.A.M. 2003. Norme vir Afrikaans. Enkele riglyne by die gebruik van Afrikaans. Vierde uitgawe. Pretoria: Van Schaik.         [ Links ]

Cassidy, F.G. 2003. The Rise and Development of Modern Labels in English Dictionaries. Hartmann, R.R.K. (ed.). Lexicography. Critical Concepts. London & New York: Routledge, pp. 255-269.         [ Links ]

Crystal, D. 1991. A Dictionary of Linguistics and Phonetics. Third edition. Oxford: Blackwell.         [ Links ]

De Klerk, V. 2006. Slang, Sociology. Brown, K. (ed.-in-chief). Encyclopedia of Language & Linguistics. Second edition. Oxford, etc.: Elsevier, pp. 407-412.         [ Links ]

De Wet, G. 1998. Die makrostrukturele vergestalting van affikse en tegnostamme in Afrikaanse vertalende woordeboeke. Lexikos 8:154-172.         [ Links ]

Dekker, L. 1991. Vloek, skel en vulgariteit: Hantering van sosiolinguisties aanstootlike leksikale items. Lexikos 1:52-60.         [ Links ]

Eble, C. 2006. Slang, Argot and Ingroup Codes. Brown, K. (ed.-in-chief). Encyclopedia of Language & Linguistics. Second edition. Oxford, etc.: Elsevier, pp. 412-415.         [ Links ]

Gouws, R.H. 1988. Die gebruik van etikette as leksikografiese hulpmiddel. Suid-Afrikaanse Tydskrif vir Taalkunde Geleentheidsuitgawe nr. 6.         [ Links ]

Gouws, R.H. 1989. Leksikografie. Pretoria & Kaapstad: Academica.         [ Links ]

Gouws, R.H. 1996. Bilingual Dictionaries and Communicative Equivalence for a Multilingual Society. Lexikos 6:14-31.         [ Links ]

Gouws, R.H. & D.J. Prinsloo. 2005. Principles and Practice of South African Lexicography. Stellenbosch: SUN PReSS.         [ Links ]

Harteveld, P. & A.E. van Niekerk. 1995. Beleid vir die hantering van beledigende en sensitiewe leksikale items in die Woordeboek van die Afrikaanse Taal. Lexikos 5B: 232-248.         [ Links ]

Hartmann, R.R.K. 1983. On Specifying Context: How to Label Contexts and Varieties of Usage. Hartmann, R.R.K. (ed.). Lexicography: Principles and Practice. London, etc.: Academic Press, pp. 109-119.         [ Links ] Hauptfleisch, D.C. 1993. Racist Language in Society and in Dictionaries: A Pragmatic Perspective. Lexikos 3:83-139.         [ Links ]

Hausmann, F.J. 1989. Die Markierung im allgemeinen einsprachigen Wörterbuch. Hausmann, F.J., O. Reichmann, H.E. Wiegand & L. Zgusta. (Hrsg.). 1989-1991. Wörterbücher. Dictionaries. Dictionnaires. Ein Internationales Handbuch zur Lexikographie. An International Encyclopedia of Lexicography. Encyclopédie internationale de lexikographie. Berlin & New York: Walter de Gruyter, pp. 649-657.         [ Links ]

Hurtado, C.J. 1994. The Integration of Pragmatic Information in Lexical Entries: A Programmatic Proposal. Hyldgaard-Jensen, K. & V.H. Pedersen (eds). Symposium on Lexicography VI. Proceedings of the Sixth International Symposium on Lexicography, May 7 - 9, 1992, at the University of Copenhagen. Tübingen: Max Niemeyer, pp. 21-35.         [ Links ]

Iannucci, J.E. 1985. Sense Discriminations and Translation Complements in Bilingual Dictionaries. Dictionaries 7: 57-65.         [ Links ]

Landau, S.I. 2001. Dictionaries. The Art and Craft of Lexicography. Second edition. Cambridge: Cambridge University Press.         [ Links ]

Lombard, F.J. 1993. Etikette in sinchronies verklarende woordeboeke. Lexikos 3: 140-151.         [ Links ]

Louw, P.A. 1997. Kriteria vir 'n standaard vertalende woordeboek. Ongepubliseerde MA-tesis, Universiteit van Stellenbosch.         [ Links ]

Mugglestone, L. 2000. Labels Revisited: Objectivity and the OED. Dictionaries 21: 22-36.         [ Links ]

Murphy, M.L. 1991. Defining Racial Labels: Problems and Promise in American Dictionaries. Dictionaries 13:43-64.         [ Links ]

Murphy, M.L. 1997. Afrikaans, American and British Models for South African English Lexicography: Racial Label Usage. Lexikos 7:153-164.         [ Links ]

Murphy, M.L. 1998. Defining People: Race and Ethnicity in South African English Dictionaries. International Journal of Lexicography 11(1):1-33.         [ Links ]

Norri, J. 1996. Regional Labels in Some British and American Dictionaries. International Journal of Lexicography 9(1):1-29.         [ Links ]

Norri, J. 2000. Labelling of Derogatory Words in Some British and American Dictionaries. International Journal of Lexicography 13(2):71-106.         [ Links ]

Osselton, N.E. 1994. Dialect in General Dictionaries. Hyldgaard-Jensen, K. & V.H. Pedersen. (eds). Symposium on Lexicography VI. Proceedings of the Sixth International Symposium on Lexicography, May 7-9, 1992, at the University of Copenhagen. Tübingen: Max Niemeyer, pp. 103-114.         [ Links ]

Prinsloo, D.J. & R.H. Gouws. 2006. Fashion Words in Afrikaans Dictionaries: a Long Walk to Lexicographic Freedom or just a Lexical fly-by-Night? Corino, E., et al. (eds). Proceedings of the Twelfth EURALEX International Congress on Lexicography, University of Turin, Italy, 6-9 September 2006: 301-312.         [ Links ]

Richards, J.C. & R. Schmidt. 2010. Longman Dictionary of Language Teaching & Applied Linguistics. Fourth edition. Harlow: Pearson Education.         [ Links ]

Southerland, R.H. & F. Katamba. 1997. Language in Social Contexts. O'Grady, W., M. Dobrovolsky & F. Katamba (eds). Contemporary Linguistics. An Introduction. Fourth edition. London & New York: Longman, pp. 540-590.         [ Links ]

Svensén, B. 1993. Practical Lexicography. Principles and Methods of Dictionary-Making. Oxford: Oxford University Press.         [ Links ]

Van Huyssteen, G.B. 1998. Leksikografiese hantering van seksuele uitdrukkings in Afrikaans. Suid-Afrikaanse Tydskrif vir Taalkunde 16(2):63-71.         [ Links ]

Verkuyl, H., M. Janssen & F. Jansen. 2003. The codification of usage by labels. Van Sterkenburg, P. (ed.). A Practical Guide to Lexicography. Amsterdam & Philadelphia: John Benjamins, pp. 297-311.         [ Links ]

Wachal, R.S. 1994. The Dictionary as Grammarian: Part-of-Speech Definitions and Labels. Dictionaries 15:159-170.         [ Links ]

Werner, R. 1991. Die Markierungen im zweisprachigen Wörterbuch. Hausmann, F.J., O. Reichmann, H.E. Wiegand & L. Zgusta. (Hrsg.). 1989-1991. Wörterbücher. Dictionaries. Dictionnaires. Ein Internationales Handbuch zur Lexikographie. An International Encyclopedia of Lexicography. Encyclopédie internationale de lexikographie : 2796-2803. Berlin & New York: Walter de Gruyter.         [ Links ]

 

 

HERMAN BEYER (DLitt) is sedert 1997 verbonde aan die Universiteit van Namibië en is tans senior lektor in die Afrikaanse taalkunde. Hy het sy naskoolse kwalifikasies aan die Universiteit Stellenbosch verwerf. Sy primêre navorsingsterrein is die teoretiese leksikografie, hoewel hy ook as praktiese leksikograaf aktief is: Hy het meegewerk aan die HAT Afrikaanse Skoolwoordeboek (2009) en werk tans aan 'n beknopte NederlandsAfrikaans-woordeboek en dien op die redaksies van 'n nuwe Afrikaans-Duits/Duits-Afrikaanswoordeboek sowel as 'n gebaretaalwoordeboek vir Namibië. In sy teoretiese navorsing fokus hy tans op modelle vir skoolwoordeboeke en woordeboekgeïntegreerde taalonderrig en -leer, as deel van 'n nasionale woordeboekpedagogie vir Namibië.
HERMAN BEYER (DLitt) has been a staff member of the University of Namibia since 1997 and is currently senior lecturer in Afrikaans linguistics. He obtained his tertiary qualifications from Stellenbosch University. His primary research area is theoretical lexicography, although he is also active as a practical lexicographer: He contributed to the HAT Afrikaanse Skoolwoordeboek (2009) and is currently working on a concise Dutch-Afrikaans dictionary while serving on the editorial teams of a new Afrikaans-German/German-Afrikaans dictionary as well as a sign language dictionary for Namibia. In his theoretical research he currently focuses on models for school dictionaries and dictionary-integrated language teaching and learning, as part of a national dictionary pedagogy for Namibia.

 

 

1 Hierdie artikel is 'n aangepaste weergawe van 'n gedeelte van 'n hoofstuk van 'n DLitt-proefskrif, 'n Metaleksikografiese ondersoek na konteksleiding in Afrikaanse vertalende woordeboeke , wat in April 2006 deur die Universiteit Stellenbosch aanvaar is.
2 Vergelyk Beyer (2006:177-187) vir 'n uiteensetting en verwysings in hierdie verband.
3 Vergelyk onder meer Al-Kasimi (1977); Bergenholtz & Tarp (1995); Burkhanov (2003); Gouws (1988, 1989); Gouws & Prinsloo (2005:129-131); Hausmann (1989); Landau (2001:217-218); Lombard (1993); Norri (1996); Svensén (1993) en Verkuyl et al. (2003).
4 Vergelyk Gouws (1988:9; 1989: 201); Bergenholtz & Tarp (1995: 31); Verkuyl et al. (2003: 299).
5 Die motivering vir hierdie terminologiese skuif is daarin geleë dat die term groepsetikette ook geïnterpreteer sou kon word as verwysend na etikette wat vorme van groeptaal merk, vernaam sleng. Vergelyk die bespreking van slengetikette onder 7.4.3.
6 Stilistiese etikette word in afdeling 7 behandel.
7 Die nesting of nisting van lemmata in 'n tweetalige woordeboek is 'n makrostrukturele kwessie wat nie die semantiese kommentaar beïnvloed nie; dus is dié aspek nie hier ter sprake nie.
8 Vergelyk onder meer Botha (1995); Harteveld & Van Niekerk (1995); Hauptfleisch (1993); Landau (2001: 234-237); Murphy (1991, 1997, 1998); Norri (2000).
9 Vergelyk onder meer Botha (1995); Harteveld & Van Niekerk (1995); Hauptfleisch (1993).
10 Vergelyk ook Hauptfleisch (1993:119); Landau (2001:251); Murphy (1997:160; 1998:1); Werner 1991:2796).
11 Vergelyk ook De Klerk (2006:407).
12 Hier verwys "kontemporêre taalgebruik" na die temporele deiktiese sentrum van die standaardwoordeboek.
13 Hier verwys "tans" na die temporele deiktiese sentrum van die standaardwoordeboek.