SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.51 issue3 author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Tydskrif vir Geesteswetenskappe

Print version ISSN 0041-4751

Tydskr. geesteswet. vol.51 no.3 Pretoria  2011

 

NAVORSINGS- EN OORSIGARTIKELS RESEARCH AND REVIEW ARTICLES

 

Suid-Afrikaanse immigrasie na Australië: 'n interdissiplinêre narratiewe studie1

 

South African immigration to Australia: an interdisciplinary narrative study

 

 

Gerhard Oberholzer

Brisbane, Australia, 4152. E-pos: obee@mansfield-crc.com

 

 


OPSOMMING

In hierdie studie is geluister na die narratiewe van Suid-Afrikaans gebore immigrante, wat hulself in Brisbane, Australië gevestig het. Die plaaslike konteks word in die gereformeerde gemeente, die "Mansfield Christian Reformed Church" gevind en die ontwikkeling van diensbare leierskap word beskryf as deel van die kultuur van die gemeente wat fokus op die nood van immigrante. Die navorsing het plaasgevind vanuit 'n epistemologie wat uit 'n narratiewe benadering vloei. Die postfundamentele teologiese posisionering inkorporeer transversale rasionalisasie, met die doel om 'n dieper verstaan van die narratiewe navorsing te bewerkstellig.
Die ontwikkeling van diensbare leierskap word as 'n natuurlike uitvloeisel van die immigrasieproses bespreek. Die gevolgtrekking van hierdie studie is dat diensbare leierskap as 'n integrale deel van gelowige immigrasie en globalisering verstaan word en dat dit intensioneel deel vorm van die leierskapkultuur in 'n immigrant-vriendelike gemeente. Die voorstel wat hieruit voortvloei, is dat verskillende gemeentes en kerkverbande van Suid-Afrika en Australië kan baat by die aanwending van diensbare leierskap binne die konteks van immigrasie en globalisering.

Trefwoorde: diensbare leierskap; narratiewe navorsing; postfundamentele benadering; praktiese teologie; interdissiplinêre gesprek; epistemologie; medenavorsers; respondente; transversale rasionaliteit; geloofsgemeenskap; globalisering


ABSTRACT

In this study narratives of immigrants are presented from a spiritual and psychological perspective. The local context is described as the faith community of the Mansfield Christian Reformed Church in Brisbane, Australia. The development of servant leadership is an integral part of the culture of the congregation. The congregation of Mansfield focuses on the needs of immigrants and they see themselves as a migrant-friendly church.
The narratives of two South African born immigrants were listened to, whofind themselves in the context of the Mansfield Christian Reformed Church. The research approach in this studyflows from an epistemology based on a narrative theory. The postfoundational approach incorporates the social context of immigrants as part of the process in exploring a deeper meaning of the stories told by co-researchers (immigrants). Within this framework of postfoundational practical theology, the praxis is therefore the starting point of research. This consists of local knowledge, described and interpreted by the co-researchers and informed by traditions of interpretation.
The experiences of co-researchers are interpreted on a second level with the appointment of four interdisciplinary respondents. The respondents take part in an interdisciplinary conversation and they each contribute from theirfield of experience in psychology and theology. This is done by using transversal rationality and the in-context experiences are thickened through interdisciplinary investigation. Furthermore, a study of relevant literature is introduced and added to the conversation. The research process is therefore developed from a postfoundational theological positioning with the aim of describing immigration narratives and interpreting these narratives in order to facilitate a deeper knowledge and insight into the immigration process. The in-context experiences of immigrants serve as the primary narrative and their interpretations of experiences will be studied.
The interpretations of the co-researchers are used as discussion points in follow up conversations and their narratives are therefore allowed into a process of growth. Their language which points to their experience, as well as their language used in the process of immigration, is listened to.
Servant leadership is discussed as a vital part of immigration for believers. The stories of the co-researchers reveal servant leadership in different forms as part of the culture of the congregation in Mansfield. The narratives show the co-researchers becoming part of the ministry of servant leadership in a migration-friendly congregation. Co-researchers experience the influence of servant leadership in their lives and tell stories of how the needs of immigrants are met by the servant leaders in the congregation of the Mansfield Christian Reformed Church.
The conclusion of this study at the end of the research process, points to some suggestions and alternative interpretations regarding immigration and globalisation beyond the local context. The outcome of the study shows servant leadership as an important part of immigration and globalisation. The intentional focus is on how a culture of servant hood will benefit an immigrationfriendly congregation. The subsequent proposal is to engage other congregations and churches, both in South Africa and Australia, in a conversation on the effect of implementing servant leadership within the context of immigration and globalisation.

Key words: servant leadership; narrative research; postfoundationalism; practical theology; interdisciplinary study; epistemology; co-researchers; respondents; transversal rationality; faith community; globalisation


 

 

1. INLEIDING

Die doel van hierdie artikel is om die verhale van Suid-Afrikaans gebore immigrante na Brisbane, Australië deur middel van narratiewe navorsing te ondersoek. Die immigrasieverhale van Pieter en Karien Venter2 word in hierdie artikel vertel. Hulle gesin het in 2005 geïmmigreer en albei se eie verhale en hul onderskeie interpretasies van hulle ervarings word hier gesamentlik weergegee. Die verhale van hulle as ouers is aangehoor en verwys ook na hulle kinders. Die kinders is egter nie as navorsingsgenote aangestel nie.

Die Venters se konteks voor immigrasie word gevind in Pretoria, Suid-Afrika. Pieter het vir Karien gekonfronteer oor die toekoms van hulle kinders en saam het hulle as gelowiges dit biddend oorweeg om te emigreer na Australië. Hulle geloofslewe het 'n beproewing ondergaan toe hulle allereers by 'n Afrikaanssprekende gemeente in Australië betrokke geraak het nadat hulle geïmmigreer het.

Die aanpassingseise wat aan hulle as gesin gestel is, sluit 'n ander styl van aanbidding in. Die Afrikaanse gemeente het nie 'n gereformeerde inslag gehad nie, maar was interkerklik en gevolglik is hulle as gereformeerde gesin blootgestel aan 'n nuwe spiritualiteit. Die hele immigrasieproses bevat ook 'n emosionele komponent en die psigologiese impak van immigrasie op die gesin word gevolglik ook ondersoek.

Praktiese teologie en sielkunde word interdissiplinêre vennote in 'n groter gesprek rakende immigrasie, deurdat twee prakties-teologiese respondente en twee respondente vanuit verskillende sielkundige dissiplines tot die narratiewe gesprek toegetree het. Hierdie navorsing belig die waarde van 'n oop gesprek met 'n holistiese benadering ten opsigte van Suid-Afrikaans gebore immigrante in Brisbane, Australië; in plaas daarvan om net eensydig teologies hieroor te reflekteer.

Hierdie immigrasieverhale vind plaas te midde van 'n groter gesprek rakende emigrasie uit Suid-Afrika en die outeur wil graag 'n kort teoretiese begronding stel ten einde die konteks van emigrasie vanuit Suid-Afrika na ander wêrelddele te belig. Kaplan (1997) verwys na die sogenaamde "brain drain" van professionele Suid-Afrikaners wat hulself in die buiteland bevind en Bhorat et al. (2002:1) beklemtoon dat die hoeveelheid mense wat hulself as immigrante in Suid-Afrika aangemeld het, misleidend is. Fourie en Joubert (1998) reken dat die werklike getal emigrante uit Suid-Afrika tot drie maal hoër kan wees as die amptelike syfer. Dit word bevestig deur die navorsong van Meyer et al., dat Suid-Afrika tussen 1987 en 1997, 233 609 emigrante verloor het, in teenstelling met die amptelike syfer van 82 811. Dit is inderwaarheid 2.8 maal hoë as die amptelike getal. Dit is derhalwe 'n onbetwisbare feit dat emigrasie uit Suid-Afrika 'n groeiende fenomeen is. Volgens Bhorat et al. (2002:29) word Australië as een van die gunsteling eindbestemmings van Suid-Afrikaners wat emigreer bestempel.

Antilla (1995:79) sê: "The central problem for every immigrant is a transitory loss of stable identity, that is, the sense of one's continuous being as an entity, distinguishable from all others". Verder reken De Freitas (1999:1) dat die mens se identiteit in noue verband staan met geslag, ouderdom, nasionaliteit, verhoudings, beroep en geloofsoortuiging. Skeiding van bekende verbintenisse (soos tydens immigrasie) kan die eie identiteit radikaal omverwerp. Reyneke (2005:913) bestempel geloof as 'n definitiewe basis om die aanpassing na 'n oorsese verhuising te hanteer en noem verder dat sosiale integrasie (soos die inskakeling by 'n geloofsgemeenskap) die basis vorm vir 'n gevoel van "behoort". Die navorsing van Sonn en Fisher (1996) bewys dat minderheidsgroepe baat vind by die inskakeling by kerkgroepe, aangesien dit sekuriteit, stabiliteit, 'n gevoel van behoort en aanvaarding meebring. Sonn sê hierop dat

...settings such as churches, extended family networks, and sporting clubs provide(d) the contexts within which people (can) participate, perform meaningful social roles, share stories, and develop skills and competencies to function in the broader society. These settings appear to be central to the successful responses to transition and change.

Hendriks (2003) noem dat die kerk van die toekoms uit lewende geloofsgemeenskappe sal bestaan. Dit kom neer op kleingroepe waar gelowiges hulle roeping, groei en getuienis onder leiding van die Woord en Gees leer uitsorteer. Dit is hier waar mense leer hoe om in die huidige globaliserende wêreldkultuur 'n alternatiewe leefwyse te ontwikkel en om te fokus op die nood van die gemeenskap.

Bogenoemde agtergrond rakende immigrasie is vir hierdie artikel relevant, aangesien die Venters deel vorm van diegene wat nie amptelik na Australië geïmmigreer het nie; met die addisionlele verskynsel van globalisering binne hulle immigrasieverhaal as gelowiges. Die Venters leef in Australië, maar het steeds besigheidsbelange in Suid-Afrika en is aktief deel van die Suid-Afrikaanse ekonomie, deurdat Pieter dikwels in Suid-Afrika werk. Karien gee egter klas as 'n deeltydse dosent in haar vakgebied by 'n plaaslike universiteit in Australië. Die Venters pas dus hierdie profiel van professionele Suid-Afrikaners (deel van die "brain drain") wat in die buiteland woon, sonder dat hulle amptelik geïmmigreer het. Verder vind hulle ook 'n geestelike tuiste in 'n geloofsgemeenskap as diensbare leiers in 'n kleingroep.

 

2. METODIEK VAN STUDIE

2.1 'n Postfundamentele prakties-teologiese benadering

Hierdie artikel lewer 'n bydrae tot die gesprek van gelowige immigrasie deurdat die narratief van die Venters nagevors word vanuit 'n postfundamentele praktiese teologie. Die doel van die artikel is nie om 'n teologiese debat oor die metodiek te open nie, maar om 'n selfstandige bydrae vanuit die praktyk ten opsigte van immigrasie te maak.

Volgens Müller (2008:2) is daar drie moontlike modelle, afhangende van die epistemologiese posisionering wat ingeneem kan word, wat ter sake is in hierdie studie waar die narratiewe van gelowige immigrante aangehoor word. Die drie moontlikhede is om 'n fundamentele, 'n niefundamentele of 'n postfundamentele perspektief op die immigrasieverhale te plaas. Hierdie studie is gegrond op 'n postfundamentele prakties-teologiese basis. Dit is dus vervolgens volgens Van Huyssteen (1997:4) belangrik om daarop te let dat die postfundamentele model onderskei moet word van die fundamentele en niefundamentele modelle.

Die fundamentele prakties-teologiese benadering laat nie ruimte vir wetenskaplike gegewens of 'n oop gesprek, waar verskillende benaderings oorweeg word nie. Om vir so 'n model te kies, sou beteken om nie in gesprek met enige ander dissipline te gaan nie. Die gevolg sou 'n teologie wees wat nie verantwoordbaar is nie.

Die niefundamentele model is 'n reaksie op die bogenoemde deurdat kennis relatief verklaar word. Dit bring 'n eie stel probleme, aangesien die wetenskap en teologie elkeen hulle eie uiteenlopende interne kriteria en oortuiginge het en die gesprek tussen die dissiplines eintlik dan geen raakpunte oplewer nie. So 'n model sou ook nie geskik wees vir hierdie prakties-teologiese studie nie.

Die postfundamentele benadering staan binne die praktiese teologie as 'n derde moontlikheid teenoor die bogenoemde twee benaderings en maak dit duidelik dat 'n interdissiplinêre gesprek van kritieke belang is. Dit is dus nodig om te verstaan dat teologie nie meer in isolasie binne die postfundamentele raamwerk bedryf word nie. Die postfundamentele benadering gaan van die veronderstelling uit dat teologie en wetenskap in verhouding staan en dat daar, ten einde die waarheid te rekonstrueer, definitiewe areas van oorvleueling gesoek behoort te word (Van Huyssteen 1997:24-25).

Die belangrikste bydrae van hierdie benadering is die feit dat die teologie 'n wetenskaplike vennoot in 'n interdissiplinêre gesprek word. Van Huyssteen (1997:4) maak die opmerking dat postfundamentele teologie 'n kritiese rol speel deurdat dit die konteks ten volle in ag neem. Die geloofsdimensie word in hierdie studie binne die geloofsgemeenskap van die "Mansfield Christian Reformed Church" in Brisbane ondersoek, aangesien die Venters se verhaal uitwys dat hulle hier 'n geestelike tuiste in Australië gevind het.

2.2 Transversale rasionaliteit

'n Postfundamentele benadering baan die weg vir die interpretasie van ervaringe en terselfdertyd wil dit verder as die plaaslike gemeenskap 'n interdissiplinêre gesprek open. Hierdie interdissiplinêre, postfundamentele gesprek vind binne 'n narratiewe benadering plaas, deurdat die verhale van mense onbelemmerd aangehoor word. Die "luister na ervaringe" word die grondslag van 'n transversale rasionaliteit. Volgens Van Huyssteen (2006:9) laat transversale rasionaliteit die klem val op 'n interdissiplinêre gesprek met die doel om dialoog te bewerkstellig. Hierdie dialoog word op verskillende vlakke sigbaar, deurdat die medenavorsers (Pieter en Karien Venter) se verhale vertel word en daar dan 'n interdissiplinêre gesprek ontwikkel tussen die praktiese teoloë en sielkundiges. Transversale rasionaliteit vra dus na spesifieke raakpunte en oorvleuelings in die verskillende bydraes van die respondente wat as vakkundiges aangestel is.

Die interdissiplinêre gesprek word binne die konteks van studie gevoer met die doel om die lewenswêreld van die immigrante te verstaan. Rasionaliteit vorm dus die basis vir die gesprek. Die konteks en interpretasie van ervaringe, tesame met moontlike tradisies wat die verhale beïnvloed, vorm volgens Van Huyssteen (1997:113) die epistemiese waardes waarmee toegetree word tot die interdissiplinêre gesprek. Die verskillende wetenskaplike perspektiewe wat saam met die teologiese interpretasies as gelykwaardige gespreksgenote bydraes lewer, het 'n demokratiese konstruktiewe dialoog tot gevolg (Van Huyssteen 1999:282-6). Die respondente vanuit verskillende wetenskappe openbaar dus die metafoor van transversale denke. Schrag (1992:149) stel dit soos volg:

The use of the concept/metaphor of transversality in all of these approaches exhibits interrelated senses of lying across, extending over, intersecting, meeting and converging without achieving coincidence.

Die belangrike bydrae hier vir 'n narratiewe studie is die besef dat, wanneer daar van een dissipline na 'n ander beweeg word, 'n interdissiplinêre gesprek moontlik gemaak word. Osmer (2006:338) voer aan dat die praktiese teologie 'n verantwoordelikheid het om die metodologie van die sosiale wetenskappe te verstaan. Die rede hiervoor is dat daar 'n pluralisme van idees in beide die wetenskappe en die teologie bestaan en dat die sosiale wetenskappe en die teologie in 'n bepaalde verhouding tot mekaar staan.

Die fokus verskuif nou volgens Schrag (1992:151) vanaf 'n blote aantekening van gebeure in 'n chronologiese volgorde na 'n sosiale verstaan van die praxis. Hy beskryf dit soos volg:

The focus is no longer on a present event of consciousness and much less on a belief structure that accompanies such an event, but rather upon the assemblages and patterns of discourse and action as progeny of communicative praxis. (Schrag,1992:151)

Hierdie kommunikatiewe praxis voed die transversale rasionaliteit op so 'n wyse dat die sosiale en historiese momente gekontekstualiseer word. Die betekenis hiervan is dat die verstaan van die verhale van immigrante 'n wedersydse kommunikasieproses word tussen die sosiale wetenskappe en die teologie, met die gevolg dat die gevolgtrekkings 'n "praxis-verstaan" tot gevolg het (Schrag 1992:153). 'n Transversale rasionaliteit laat 'n proses van integriteit toe, wat tot gevolg het dat die praktiese teologie die werklikheid in die verhale van mense met ander vakgebiede deel en dus nie anders kan as om interdissiplinêr betrokke te wees nie.

2.3 Praktiese metodiek van studie

Die kwalitatiewe aard van die navorsing lê klem op oop gesprekke as die vorm van dialoog wat gevolg word. Chase (2003:79) stel indiepte onderhoudvoering as metode voor om na die verhale van mense te luister. Persoonlike narratiewe dra altyd 'n sosiale karakter en gevolglik is dit nodig om daarop te let dat daar 'n interaktiewe komponent tussen die indivivu en die samelewing bestaan. Navorsers moet in hul onderhoude hierop bedag wees. Die doel van die gesprekke en onderhoude in hierdie studie is om saam te soek na betekenis in die medenavorsers (die Venters) se individuele verhale, binne die konteks van die sosiale bestel waarbinne hulle hulself bevind.

Phillips (1988:330) waarsku daarteen dat die sekulêre wêreld 'n invloed op mense se lewens uitoefen. Die gevolg is dat hulle nie simpatiek teenoor die kerk ingestel is nie. Die praxis van hierdie studie word vanuit die Venters se unieke perspektiewe beskryf en nie vanuit enige kerklike konteks of agtergrond nie. Die verhale van immigrasie en die betekenis wat medenavorsers self aan hulle verhale toeken, sal tydens die oop gesprekke, wanneer hulle hul lewensverhale vertel, aan die orde gestel word. Die realiteit waarbinne hulle leef in die geloofsgemeenskap van die Mansfield Christian Reformed Church en die realiteit van geloof in hulle daaglikse lewens vorm 'n integrale deel van die studie.

Die gesprekke is op band opgeneem en is in CD-formaat beskikbaar. Die doel hiervan is om te eniger tyd tydens die navorsingsproses daarna te kan terugverwys, asook om dit tot die beskikking van die breër akademiese gemeenskap te stel.

Die verhale van Pieter en Karien Venter word op die bogenoemde wyse opgeteken en in die lig van die werk van Müller (2008:1-18) word die metodiek verder bepaal deur die aanwys van interdissiplinêre respondente uit die praktiese teologie en psigologie. Hierdie studie gaan postfundamenteel te werk om die transversale rasionaliteit van die Venters se immigrasieverhale nie net op te teken nie, maar te interpreteer vanuit verskillende vakgebiede. Dit hou die voordeel in dat daar nie teologies eensydig gehandel word tydens die interpretasie van die verhale nie, maar sodoende word die psigologiese impak van immigrasie op die medenavorsers erken.

Aanvanklik word daar op grond van Müller (2008:6) se navorsing vier spesifieke vrae aan die respondente gevra waarop 'n vakkundige refleksie verwag word. Die vrae is:

• Wat is jou besorgdhede wanneer jy die verhale lees?

• Wat is die unieke perspektief vanuit jou vakgebied?

• Waarom sal jou perspektief deur ander dissiplines aanvaar en verstaan word?

• Wat is jou grootste besorgdheid indien jou perspektief nie deur ander dissiplines erken word nie?

Müller (2009:222-225) brei verder uit op die bogenoemde metodiek wanneer hy noem dat 'n tweede en derde reflektiewe beweging nodig is ten einde getrou te bly aan 'n postfundamentele studie. Hierdie bewegings word spesifiek voorgestel om, addisioneel tot die besorgdhede van respondente, ook klem te plaas op die herinterpretasie van die medenavorsers. Die volgende vraag is van wesenlike belang: "Hoe hou ons die gespreksgenote in die gesprek?"

Binne die interdissiplinêre gesprek bestaan die gevaar dat die vraag na die vakkundiges/ respondente se besorgdhede gevra word, maar die besorgdhede van die medenavorsers nie erken word nie. Die bogenoemde artikel van Müller (2009:222-225) is dus bygevoeg as 'n latere ontwikkeling op sy aanvanklike werk, waarin hy klem plaas op die insluiting van die medenavorsers in die interpretasieproses. Dieselfde metodiek word ook in hierdie studie gevolg, deurdat die medenavorsers van meet af aan deel van die gesprek gemaak word en toegelaat word tot herinterpretasies tydens opvolggesprekke, nadat die respondente hul bydraes gelewer het.

Ten opsigte van die metodiek kan dus samevattend gesê word dat elke respondent gevra word om die verhale van die Venters vanuit 'n spesifieke vakgebied van kundigheid aan te hoor en 'n unieke bydrae te lewer. Hierna word die medenavorsers die geleentheid tot herinterpretasie gegee en sodoende groei die verhale alvorens daar gevolgtrekkings en verdere interpretasies gemaak word.

Die volgende respondente3 is aangestel om die interdissiplinêre gesprekke te voer:

Respondent 1: Praktiese Teoloog - Pastorale gesinsterapie (R1)

• Leraar van die Christian Reformed Churches of Australia en pastorale gesinsterapeut, geakkrediteer by die Australian Counselling Association

• Kwalifikasies: BA; BTh; MTh; PhD (Universiteit van Pretoria)

• Teologiese veld van kundigheid: Praktiese Teologie - Pastorale Gesinsterapie

Respondent 2: Sielkundige -Voorligtingsielkunde (R2)

• Opvoedkundige Sielkundige

• Kwalifikasies: B Prim Ed (Universiteit van Pretoria); HBEd (Skool - Voorligting Sielkunde en Berading, UNISA); MEd (Skool - Voorligting Sielkunde en Berading, UNISA)

Respondent 3: Praktiese Teoloog - Jeugwerk (R3)

• Jeugleraar

• Kwalifikasies: BTh (Bible College of Queensland)

Respondent 4: Sielkundige - Kliniese Sielkunde (R4)

• Kliniese sielkundige

• Kwalifikasies: Bachelor of Psychological Science with Honours (University of Queensland); Professional Doctorate of Clinical Psychology (University of Queensland)

 

3. DIE VERHAAL VAN PIETER EN KARIEN VENTER

Die Venters se verhaal word gedeeltelik opgeteken soos verwoord in Oberholzer (2010:88-94). Let daarop dat respondent 1 (R1) sy kommentaar rakende sy besorgdhede by wyse van voetnotas lewer terwyl die ander respondente verkies om hulle bydraes aan die einde van die verhaal te maak. Respondent 4 (R4) verkies om sy bydraes in Engels as sy taal van kundigheid te lewer. Die besorgdhede van respondente word gebruik om te wys op die bydraes wat verskillende vakkundiges lewer op dieselfde immigrasie verhale.

Karien begin die verhaal deur te sê dat Pieter een oggend opgestaan het met die gedagte dat hulle na Australië moet immigreer. Daar was geen spesifieke gebeurtenis wat hulle genoodsaak het om die besluit te neem om te immigreer nie. Pieter het doodgewoon die inisiatief geneem en die groter prentjie in Suid-Afrika het hom oortuig om na Brisbane te immigreer.4

Hierdie besluit het oor 'n lang tyd vorm aangeneem en daar was verskeie praktiese sake wat eers in plek moes val, alvorens die Venters kon immigreer. Hulle het nog sterk bande met Suid-Afrika op baie raakvlakke: Pieter vlieg elke twee tot drie maande na Suid-Afrika, soos wat sy besigheidsbelange dit vereis. Verder gebruik hy Skype om in kontak te bly met die bestuurders van sy ondernemings in Suid-Afrika en hy werk hoofsaaklik smiddae en saans tot laat om die tydsverskil tussen Suid-Afrika en Australië die hoof te bied.

Karien se ouers was negatief oor hulle besluit om na Brisbane te verhuis en nou, selfs na vier jaar, het daar nie veel verander nie. Aanvanklik het Pieter dit beleef dat die skoonfamilie hom as die sondebok sien, wat hulle kind en kleinkinders van hulle af weggeneem het.5 Pieter spits hom egter daarop toe om saam met die familie te kuier en selfs saam te gaan vakansie hou, wanneer hulle in Suid-Afrika is. Karien se ouers het met hulle laaste besoek die opmerking gemaak dat hulle die kleinkinders vanuit Australië nou meer as die kleinkinders in Suid-Afrika sien, want hulle kuier vir langer tydperke by Ouma en Oupa as wat die kleinkinders in Suid-Afrika kan kuier. Karien sê dat hulle solank as wat hulle dit kan bekostig en hulle ouers nog leef, ten minste een maal per jaar in Suid-Afrika sal gaan kuier.6

Hulle gesin het aanvanklik eers by in 'n multi-denominasionele Afrikaanse gemeente in Brisbane aanbid. Dit was volgens Pieter en Karien 'n "somber situasie" - daar was baie mense wat swaar gekry het en gevolglik het hulle Sondae by die kerk teenoor mekaar gekla. Pieter wou egter nie 'n somber situasie met kerk assosieer nie.

Die Mansfield Christian Reformed Church het later in hulle immigrasieverhaal aan hulle 'n geestelike tuiste gebied, sowel as die geleentheid om geestelik te groei. Die feit dat daar heelwat Suid-Afrikaners is wat by die gemeente saamkom, is 'n positiewe kenmerk van die kerk, maar dit is nie vir hulle 'n voorwaarde vir lidmaatskap nie. Hulle skryf die groot hoeveelheid Suid-Afrikaners by die gemeente daaraan toe dat die meeste van hulle uit 'n gereformeerde agtergrond in Suid-Afrika gekom het. Pieter en Karien hou van die balans in die gemeente wat 'n familiediens met Engels as voertaal het en wat volgens hulle goed is vir die kinders, maar wat ook op 'n maandelikse basis 'n Afrikaanse uitreikerediens het.

Karien vind goeie aanklank by die visie van die geloofsgemeenskap in Mansfield en spesifiek die uitreikbediening wat op diensbare leierskap gebou word. Sy is een van die eerste leiers in die gemeente wat deur middel van vermenigvuldiging van haar selgroep die kapasiteit geskep het om nuwe mense in die gemeente te verwelkom en te laat tuiskom in nuutgevormde groepe. Hierdie proses help baie nuwe aankomelinge wat andersins geen ondersteuningsnetwerk het nie.7

Die Venters glo dat die Here 'n plan het met die groot aantal Suid-Afrikaners in Australië. Volgens hulle sal die Suid-Afrikaners oor vyftig jaar, soos die Hollanders wat na Australië geïmmigreer het in die 1950's, 'n soortgelyke impak op die Australiese samelewing hê. Die Hollanders het 'n unieke gereformeerde kerk gestig, die Christian Reformed Churches of Australia, wat goed in die Australiese samelewing geïntegreer het en talle Suid-Afrikaners raak nou betrokke by hierdie selfde gereformeerde kerk (soos die een in Mansfield in Brisbane).8

Karien besef dat hulle deur middel van hulle Bybelstudie deurentyd die leiding van die Here gehad het en dat hulle nie sonder die Here se leiding sou kon immigreer nie. Hulle geloofsperspektief word gevind in die feit dat hulle gehoorsaam was aan die Here se wil. Karien sê ook dat hulle bereid is om terug te gaan na Suid-Afrika, as die Here hulle so sou lei. Sy merk op: "Hierdie aardse lewe is in elk geval net 'n tydelike bestaan...".9

Ten slotte noem hulle die feit dat die groeiende geloofsgemeenskap in Mansfield 'n sinvolle bydrae tot die plaaslike gemeenskap maak deur middel van die uitreikbediening van selgroepe en dat dit hulle immigrasieproses sinvol beïnvloed het.

3.1 Besorgdhede van respondente

3.1.1 (R2)

Die enigste besorgdheid wat ek het, is Karien se ouers se negatiwiteit aangaande hulle immigrasie. Die probleem gaan ongelukkig nie verdwyn as dit geïgnoreer word nie; dit kan in ander areas van hulle lewe probleme veroorsaak, byvoorbeeld die kwaliteit van die kinders se verhouding met hulle grootouers en hoe hulle in die toekoms oor die immigrasieproses dink (die vraag of immigrasie sinoniem is met die afstaan van familie of dalk die begin is van 'n nuwe tipe verhouding met ander uitdagings).

3.1.2 (R3)

Die interessante van hierdie verhaal is dat die Venters hulle storie vertel rondom die idee dat hulle geïmmigreer het binne die wil van God. Hulle het egter 'n besluit geneem om te immigreer, hulself voorberei en die hele stap om te immigreer, goed beplan. Daar bestaan dus 'n moontlike spanning tussen die soeke na die wil van God en die besluitnemingsprosesse van die Venters. Die feit dat hulle deel is van 'n bediening hier in Brisbane en spesifiek 'n kleingroepbediening in hulle eie huis aan die gang hou, bevestig dat hulle bewus is van God se roeping in hulle lewe en dat hulle hulself as diensbare leiers sien.

3.1.3 (R4)

Only two potential sources of stress were identified in Pieter and Karien's immigration story. These include Karien's parents' negative attitude regarding their immigration and the potential challenges associated with being a Christian in a country where most people are not religious. Apart from these two issues it appears that the Venter family is adapting well to their new home and that they are not confronted with any major challenges at this point in time.

3.2 Unieke perspektief

3.2.1 (R1)

Vir die doeleindes van hierdie artikel word daar volgens Respondent 1 na 'n praktiese teologiese,sistematies gestruktureerde, aaneenlopende eko-hermeneutiese proses gekyk, waardeur gepoog word om menslike aksies te verlig en te vernuwe. Praktiese teologie kan volgens Respondent 1 as pastorale teologie beskryf word, waar die begrip "aksies" meer spesifiek fokus op "omgeeaksies" ("caring actions"). Rakende die spirituele verstaan van hierdie artikel word daar dus deur die pastorale gesinsterapeut na die belangrikheid van "omgee-aksies" in 'n geloofsgemeenskap verwys. Die interpretasie van die outeur is dat die selgroepbediening en die diensbare leierskap van selgroepleiers soos Karien Venter, 'n geestelike tuiste skep vir ander immigrante.

3.2.2 (R2)

Volgens Respondent 2 is opvoedkundige sielkunde 'n wetenskap wat die kind in sy totale bestaan bestudeer. Die doel is om die kind te leer ken en te begryp asook om metodes te ontwerp om die kind te help om volwasse te word. Opvoedkundige en sielkundige kennis word gebruik om die ouers, die kind en ander opvoeders te help om die betrokke probleme te oorkom. Die psigologiese verstaan van hierdie studie wys volgens die navorser hier op die impak van immigrasie op verhoudings en spesifiek die spanning wat veroorsaak word in die verhoudings van immigrantekinders met hulle grootouers.

3.2.3 (R3)

Die fokus van 'n jeugwerker en student in die teologie plaas die klem op die kinders in die gesinne. Integrasie in die Australiese kultuur is vir 'n jongmens van kardinale belang en dra 'n baie spesifieke en unieke karakter in die immigrasieproses. Die kinders moet integreer in die nuwe kultuur en samelewing en dit is noodsaaklik dat hulle saam met ander gelowige jongmense in 'n Australiese geloofsgemeenskap sal inskakel.

3.2.4 (R4)

Respondent 4 verduidelik sy unieke bydrae soos volg: "Psychology is an academic and applieddiscipline involving the systematic, and often scientific, study of human mental functions and behaviour. Moreover, it is a scientific discipline founded on sound theoretical frameworks and empirical research. A psychological assessment aims to take into account all the factors that may have an impact on the psychological well-being of an individual. The aim is then to modify the factors that are hypothesised to be causing distress to an individual." Tydens 'n opvolggesprek het die kliniese sielkundige sy interpretasie aan die outeur verklaar deurdat die ernstige gevolge van beide angs en depressie uitgewys is as moontlike gevolge van enige immigrasieproses. Immigrasie is volgens hom 'n traumatiese ervaring en behoort as sodanig beskou te word.

3.3 Die verstaan en waardering deur ander dissiplines

3.3.1 (R1)

Volgens die ervaring van Respondent 1 verstaan en waardeer ander dissiplines nie noodwendig die eko-hermeneuties gebaseerde pastoraal-teologiese perspektief nie. Die uitwys van die "omgeeaksies" van mense lewer egter in hierdie studie 'n waardevolle bydrae.

3.3.2 (R2)

Die opvoedkundige sielkundige se werk fokus op kinders, ouers en ander persone wat as opvoeders optree, of op die een of ander wyse met kinders te doen het. Dit sluit onder andere onderwysers, medici, maatskaplike werkers en arbeidsterapeute in. Die bydrae en aanbeveling van hierdie vakkundige is dus van waarde deurdat immigrante-kinders holisties benader word ten einde hul ervaringe te verstaan.

3.3.3 (R3)

Die prakties-teologiese perspektief van die jeugwerker bied 'n geestelike bydrae met 'n breër perspektief rakende immigrasie. Hierdie perspektief vloei oor in en vertoon raakpunte met 'n sielkundige, pastorale en interpersoonlike invalshoek, wanneer die integrasie van immigrantekinders in 'n nuwe samelewing as belangrik uitgewys word.

3.3.4 (R4)

"Many of the conclusions psychologists make are supported by theory and empirical research, making it more likely that other disciplines will respect and appreciate it." Dit is dus vanuit 'n klinies-sielkundige perspektief duidelik dat angs en depressie moontlike gevolge van immigrasie kan wees.

3.4 Die besorgdhede indien ander dissiplines nie 'n spesifieke vakgebied erken nie

3.4.1 (R1)

Eko-hermeneuties gesien, vind daar 'n ontmoeting van verskeie verhale plaas in die pastoraalterapeutiese situasie. Een van hierdie verhale is God se verhaal. Slegs wanneer hierdie verhaal (her)ontdek word en die relevansie tussen 'n kliënt se eie verhaal en God se verhaal vir hom duidelik word, kan hy tot insig/verstaan kom. So word beide hierdie verhale vir hom 'n krag tot verandering. Die realiteit van die kliënt verander dus. Die verhaal self word die veranderingsagent. Hierdie insig is die unieke bydrae van 'n pastoraal-gesinsterapeutiese perspektief, gebaseer op 'n eko-hermeneutiese denkraamwerk.

3.4.2 (R2)

Die waarde van die opvoedkundig-sielkundige perspektief lê in die uitwys van die belangrikheid van die verhoudings tussen kleinkinders en hul grootouers. Immigrante-kinders het behoefte aan 'n positiewe interaksie met hul oupas en oumas.

3.4.3 (R3)

Vanuit 'n geestelike perspektief is die grootste besorgdheid rakende die inskakeling van immigrante in 'n nuwe geloofsgemeenskap van belang. Binne die prakties-teologiese perspektief moet mense aangemoedig word om hulle geestelike gawes wat hulle uit die hand van God ontvang het aan te wend in die gemeente. Uit 'n sielkundige perspektief is 'n verdere besorgdheid die verhouding tussen man en vrou in die huwelik en die druk waaronder huweliksverhoudings verkeer ten tye van immigrasie. Dit moet egter raakpunte vind binne 'n Bybelse perspektief. Indien hierdie oorvleueling tussen dissiplines nie plaasvind nie, kan 'n gespanne situasie die gevolg wees.

3.4.4(R4)

Die sielkundige perspektief is van waarde aangesien immigrante somtyds onwetend op 'n psigologiese vlak onder geweldige druk verkeer. Hierdie vakgebied spreek die bogenoemde verskynsel aan.

 

4. REFLEKSIE OP DIE VERHAAL VAN PIETER EN KARIEN VENTER

Van Huyssteen (2000:239) maak 'n waardevolle bydrae wanneer hy sê dat verskillende perspektiewe 'n eie logika en verstaan na die tafel van multi-dimensionele gesprekvoering bring. Hieruit ontwikkel 'n rykdom van verstaan wat andersins nie moontlik sou wees nie.

Die postfundamentele verstaan van die immigrasieverhale van gelowiges vanuit Suid-Afrika het weldeeglik 'n rykdom van verstaan tot gevolg gehad. Die waarde lê daarin dat 'n dinamiese dialoog ontstaan het, wat nie 'n statiese en netjies afgebakende gesprek ten doel het nie, maar 'n ware luister na die werklikhede van mense se lewens.

Die terugvoer van die respondente, sowel as die lewensverhale van die Venters, hul eie herinterpretasie as medenavorsers en die interpretasie van die outeur wys op die volgende sake van belang:

• Die geloofsgemeenskap van die Mansfield Christian Reformed Church in Brisbane bied 'n unieke tuiste aan Suid-Afrikaans gebore gelowiges wat na Australië immigreer, soos wat die verhaal van die Venters as medenavorsers uitwys.

Diensbare leierskap en die selgroepbediening is deur Karien Venter se manier van immigrasie as een van die omgee-aksies uitgelig wat dit vir immigrante moontlik maak om 'n geestelike tuiste te vind.

Die verhaal van Pieter Venter het duidelik uitgewys dat die wyse van immigrasie nie eenvoudig is nie en dat globalisering een van die moontlikhede is vir Suid-Afrikaans gebore immigrante in Australië.

• Die vraag rakende die besorgdhede vanuit ander vakgebiede verskaf 'n basis vir 'n transversale rasionele verstaan van die immigrasieverhale. Hierdie verstaan lei tot aanvullende interpretasies deur die verskillende vakkundiges.

• Die vakkundiges/respondente is gekies met die doel om 'n bepaalde balans in die gesprek te bring. Respondent 1 (teologie) en 2 (opvoedkundige sielkunde) het albei hulle studie en verdere studie in Suid-Afrika voltooi. Respondent 3 (jeugwerker) en 4 (kliniese sielkunde) het albei hulle aanvanklike en verdere studie in Australië voltooi. Al vier respondente is egter in Suid-Afrika gebore, wat bydra tot die gesprek en verstaan van Suid-Afrikaans gebore immigrante.

• Dit is die doel van hierdie studie om 'n postfundamentele gesprek te fasiliteer en interdissiplinêre sienings, bydraes en invalshoeke van respondente uit verskillende vakdissiplines toe te laat om in te speel op die psigologieseen spirituele verstaan van die verhale.

 

5. GEVOLGTREKKINGS EN AANBEVELINGS

Die narratiewe karakter van hierdie studie het sekere areas uitgewys as gespreksmoontlikhede met die doel om 'n bydrae te lewer wat groter is as hierdie studie se plaaslike konteks:

• Intensionele diensbare leierskap word deur Respondent 1 uitgewys as 'n handige instrument om immigrante in 'n gemeentekonteks te bedien. Karien Venter se verhaal verwys ook hierna wanneer sy betekenis gee aan die selgroepbediening deurdat dit uitgewys word as 'n manier waarop gebore Suid-Afrikaners kan uitreik na mekaar.

• Globalisering en die moontlikheid om in Australië te woon en steeds in Suid-Afrika en ander dele van die wêreld besigheid te doen, word uitgewys deur die verhaal van Pieter Venter as 'n alternatiewe moontlikheid van immigrasie, waar die veronderstelling meestal 'n werksgeleentheid in Australië insluit.

• Die immigrasieverhale van kinders, sowel as gelowige grootouers wat hulself in gemeentes in Suid-Afrika bevind, kan in beide gevalle deur middel van 'n narratiewe studie hierdie navorsing aanvul.

• Die Venters se verhale wys op verskillende modelle van kerke wat uitreik na gebore Suid-Afrikaners in Australië. Eerstens kan Suid-Afrikaans gebore immigrante verkies om in Afrikaans te aanbid en tweedens kan hulle verkies om te integreer in 'n bestaande kerkverband en in die geval van die Venters die Gereformeerde kerk in Australië. Die Venters wys egter op 'n middeweg, deurdat hulle aan 'n Afrikaanssprekende selgroep behoort en terselfdertyd die Engelse Australiese eredienste bywoon.

Wanneer die interdissiplinêre gesprek geïnterpreteer word, kan daar ten slotte opgemerk word dat hierdie narratiewe studie 'n prakties-teologiese en sielkundige bydrae maak tot die breër gesprek rakende immigrasie van Suid-Afrikaans gebore gelowiges. Die invloed van diensbare leierskap as 'n gelowige manier van leef(spirituele bewussyn) bied aan immigrante, sowel as diegene wat globaliseer met Australië as basis vir hul lewenswêreld, 'n unieke geleentheid om immigrasie as sinvol (psigologiese gevolg) te beleef, ten spyte van die swaarkry en die spanning wat immigrasie op verhoudings plaas. Hierdie artikel lewer dus 'n bydrae tot die groter gesprek rakende die immigrasieverhale van gebore Suid-Afrikaners met 'n fokus op die spirituele en psigologiese elemente wat teenwoordig is in die ervarings van Suid-Afrikaners tydens immigrasie.

 

BIBLIOGRAFIE

Anttila, O. 1995. Some Thoughts on the Process of Immigration. Journal of the New Zealand Association of Psychotherapists. Vol 1, June.         [ Links ]

Bhorat, H. et al. 2002. Skilled labour migration from developing countries: Study on South Africa and Southern Africa,in International Migration Papers. Geneva: July 2002:1-30.         [ Links ]

Chase, S.E. 2003. Learning to Listen: Narrative Principles in a Qualitative Research Methods Course,in Josselson, R, A Lieblich and DP Mc Adams. (eds). Up Close and Personal. The Teaching and Learning of Narrative Research. Washington DC: American Psychological Association.         [ Links ]

De Freitas, J. 1999. Immigration: a Process of Transition, Trauma and Integration. Ongepubliseerde voordrag by N.Z. Psych. Soc.         [ Links ]

Fourie M. J. and Joubert R. (1998) "Emigration's Influence on South Africa: a Human Capital Theory Approach", Graduate School of Business Leadership, University of South Africa.         [ Links ]

Hendriks, J. 2003. Die Toekoms van die Kerk en die Kerk van die Toekoms.Intreerede as professor by die Fakulteit Teologie, Universiteit Stellenbosch.         [ Links ]

Kaplan D.E. (1997) Reversing the Brain Drain: the case for Utilising South Africa's Unique Intellectual Diaspora, Science, Technology and Society, vol. 2 no 2.         [ Links ]

Meyer, J. et al. 2000 Assessing the South African Brain Drain - A statistical comparison. DPRU Working Paper No 00/40. Development Policy Research Unit. University of Cape Town.         [ Links ]

Müller, J. 2008. Postfoundationalism as a Practical Way Of Interdisciplinary Work: Narrative Research on HIV and AIDS. Third International Conference on Interdisciplinary Social Sciences.22-25 July 2008:1-18.         [ Links ]

Müller, J. 2009. Transversal Rationality as a Practical Way Of Doing Interdisciplinary Work, with HIV and AIDS as a Case Study. Practical Theology in South Africa.24(2):199-228.         [ Links ]

Oberholzer, G. 2010. Die Ontwikkeling van Diensbare Leierskap in 'n Postmoderne Geloofsgemeenskap: 'n Prakties Teologiese Ondersoek van Suid-Afrikaanse Immigrante na Brisbane Australië. Pretoria: Universiteit van Pretoria.         [ Links ]

Osmer, R.R. 2006. Toward a Transversal Model of Interdisciplinary Thinking in Practical Theology. In Schults, F.I. (ed.). The Evolution of Rationality.Grand Rapids, MI: Eerdmans, pp. 327-345.         [ Links ]

Phillips, D.Z. 1988. Faith after Foundationalism.London & New York: Routledge.         [ Links ]

Reyneke, C.J.S. 2005. 'n Prakties-teologiese narratiewe navorsing van die aanpassingsproses van 'n gesin wat van Suid-Afrika na Nieu-Seeland verhuis het.Pretoria: Universiteit van Pretoria.         [ Links ]

Schrag, C.O. 1992. The Resources of Rationality: A Response to the Postmodern Challenge.Bloomington, Indiana: Indiana University Press.         [ Links ]

Sonn, C.C. 2002. Immigrant Adaptation: Understanding the Process Through Sense of Community. Perth, Australia: Edith Cowan University.         [ Links ]

Sonn, C. C. & Fisher, A. T. 1996. Sense of Community in a Politically constructed group . Journal of Community Psychology, 24:417-430.         [ Links ]

Van Huyssteen, J.W. 1997. Essays in Postfoundationalist Theology.Grand Rapids, Michigan: W.B. Eerdmans Publishers.         [ Links ]

Van Huyssteen, J.W. 1999. The Shaping of Rationality. Toward Interdisciplinarity in Theology and Science. Grand Rapids, Michigan: W.B. Eerdmans Publishers.         [ Links ]

Van Huyssteen, J.W. 2000. Pluralism and Interdisciplinarity: In Search of Theology's Public Voice. In Du Toit, C.W. (ed.). Evolution and Creativity.Pretoria: Research Institute for Theology and Religion, UNISA, pp. 217-249.         [ Links ]

Van Huyssteen, J.W. 2006. Alone in the World? Human Uniqueness in Science and Theology. The Gifford Lectures. Grand Rapids, Michigan: W.B. Eerdmans Publishers.         [ Links ]

 

 

GERHARD OBERHOLZER verwerf die volgende grade: BA met endossement Teologie aan die Universiteit van Pretoria (1989); Baccalaureus Divinitatis aan die Universiteit van Pretoria (1992); MBA aan die Universiteit van "Southern Queensland" (2004) en handig sy PhD-verhandeling in by die fakulteit van Praktiese Teologie aan die Universiteit van Pretoria in Augustus 2010. Sy teologiese en werkservaring begin as leraar van die Ned. Geref. Kerk Montclair (1993-1998), waarna hy beroep word as medeleraar na die Ned. Geref. Kerk Doornkloof (1998-2006). Tydens doktorale studieverlof (2006-2007) begin hy sy navorsing in Brisbane, Australië. Gerhard sluit in hierdie tyd aan by die Kapelaansdiens en werk vir Scripture Union Queensland (2007-2008). In Februarie 2008 word hy beroep na Mansfield Christian Reformed Church. Hy is tans 'n leraar van die gemeente, wat deel vorm van die "Christian Reformed Churches" van Australië.
GERHARD OBERHOLZER completed the following degrees: BA with endorsement Theology (University of Pretoria, 1989); Baccalaureus Divinitatis (University of Pretoria, 1992); MBA at the University of Southern Queensland (2004) and submitted his PhD thesis in the department of Practical Theology in August 2010 at the University of Pretoria. His work experience includes being a minister of religion in the Dutch Reformed Church Montclair (1993-1998), as well minister of religion in the Dutch Reformed Church Doornkloof (19982006). Gerhard commenced his research for his PhD studies in Brisbane, Australia in 2006 and finalised his thesis in 2010. During this time he worked in chaplaincy with Scripture Union Queensland (2007-2008) and accepted a position as minister of religion with the Mansfield Christian Reformed Church in Brisbane, Australia.

 

 

1 Hierdie artikel spruit voort uit doktorale navorsing wat onder begeleiding van prof J C Müller van die Departement Praktiese Teologie, Universiteit van Pretoria gedoen is.
2 Skuilname is gebruik om die identiteit van persone te beskerm.
3 Respondente se name word weerhou vanweë etiese redes
4 R1: Besluitneming: Pieter neem moontlik 'n strategiese besigheidsbesluit gebaseer op die "globaliseringsbeginsel" eerder as die "immigrasiebeginsel". Hierdie tipe denke is nie die norm vir die deursnee-immigrant nie. Ander sosiale, psigiese en geestelike beginsels kom hier in spel. Hierdie gesin gaan voort met hulle "normale" lewenswyse, maar vanuit 'n ander "hoofkwartier". Hulle neem nie werklik afskeid nie en benader die tyd wat hulle in Brisbane spandeer, net so doelgerig as die tyd wat hulle in Suid-Afrika spandeer. Hulle leefwêreld sluit beide lande in, en dit is waarskynlik vir hulle bekostigbaar.
5 R1: Uitgebreide Gesin: Karien se ouers verstaan waarskynlik nie die "globaliseringsbeginsel" nie en kan nie binne hierdie raamwerk dink nie. Hulle verwar dit met die "immigrasiekonsep". "Globalisering" pas waarskynlik nie by die norm van wat "gepas" sou wees volgens die gemeenskap waarbinne hulle grootgeword het nie. Kommunikasie vanuit twee wedersyds uitsluitende verwysingsraamwerke slaag gewoonlik nie, aangesien daar nie 'n "versmelting van betekenishorisonne" moontlik is nie.
6 R1: Omgee-aksie: Menslike omgee-aksie kan wedersydse boodskappe op die ervaringsvlak, waar daar nie woorde gebruik kan word nie, kommunikeer. Solank Karien se ouers in "immigrasie-terme" dink, ervaar hulle gevoelens wat met verlies gepaardgaan. Wanneer hulle die menslike omgee-aksie van gereelde langer besoeke beleef, ervaar hulle positiewe emosies wat pas by die leefwyse wat hulle as die "gepaste" beskou. "Globalisering" vereis baie doelgerigte beplanning en investering van kosbare hulpbronne, en kan baie selfsugtig wees, maar kan ook werklike onbaatsugtige omgee-aksie behels, ongeag die prys wat dit kos.
7 R1: Globalisering: Christene met 'n "globaliseringsbenadering" is waarskynlik meer doelgerig in hulle keuse van betrokkenheid, onder andere by 'n kerk. Dit is skynbaar nie in hulle aard om te stagneer en te verval in ou patrone nie. Hulle spits hulle meer daarop toe om 'n verskil te maak waar hulle is, onder andere ook in die groter plan van God se koninkryk.
8 R1: Globalisering: Hierdie "groter-prentjie" visionêre denke is tipies van hulle wat migreer met 'n "globaliseringsvisie". Dit is merkwaardig dat hierdie verwysingsraamwerk ook menslike omgee-aksie in die breë kan insluit! Dit is waarskynlik 'n "koninkryksperspektief" waarsonder enige kerk op pastorale en missionêre vlak steriel sal word.
9 R1: Koninkryk: Karien se verhaal getuig daarvan dat die relevansie tussen haar eie verhaal en God se verhaal vir haar duidelik geword het, en beide hierdie verhale realiteite geword het wat alles vir haar verander het.