SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.51 issue3 author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Tydskrif vir Geesteswetenskappe

Print version ISSN 0041-4751

Tydskr. geesteswet. vol.51 n.3 Pretoria Sep. 2011

 

Die oorsetting van 'n bybelteks na Niestandaardafrikaans: die kunssinnigheids- en kreatiewe aspekte daaragter

 

The intralingual translation or rewording of a Bible text into non-standard Afrikaans: the artistic and creative aspects behind it

 

 

Corné Van Der Vyver

Fakulteit Opvoedingswetenskappe, Noordwes-Universiteit (Potchefstroomkampus), corne.vandervyver@nwu.ac.za

 

 


OPSOMMING

Die oorsetting van 'n teks (soos 'n Bybelgedeelte) na Niestandaardafrikaans moet beskou word as 'n transponering (intratalige vertaling) daarvan en nie as 'n getroue en presiese vertaling (intertalige vertaling) of ook nie 'n aanpassing (intersemiotiese vertaling) nie, omdat die term transponering erkenning gee aan die kunssinnige- en kreatiwiteitsaspekte van die oorsetting. Hierdie uitgangspunt is vanuit drie gesigspunte benader: vanuit Jakobson se teorie, vanuit Du Plessis (2006) se beskouing van transponering en vanuit 'n eie transponering van die outeur waarmee sekere kunssinnige- en kreatiwiteitsbeginsels geïllustreer kon word. Na 'n kort teoretiestegniese bespreking word 'n transponering van 'n Bybelgedeelte uit Standaardafrikaans na Tsotsi-Afrikaans aangebied. Daarna vind 'n bespreking van die kreatiwiteits-, tegniese en kunsaspekte van die betrokke transponering plaas.

Trefwoorde: Vertaling; aanpassing; oorsetting; transponering; Niestandaardafrikaans; Bybelvertaling; variëteit; linguistiese vlak; leefwêreldvlak; religieuse vlak


ABSTRACT

People who are proficient in a language to the extent that they can communicate confi dently and comfortably in it, are not always aware of the technical points and artistic aspects which need to be considered when translating/interpreting/transmutating from one language into another. These manifest in the following situations: (a) texts of which the original has been recorded in Standard Afrikaans, but which should be received by the variety user in his or her own dialect/code in order to be better understood; and the reverse, (b) original texts of the variety user which exist as spoken texts in the source language/code/dialect only, and have to be translated into the standard language so that other speakers of this language can also access them.
It is sometimes thought that anybody who is proficient in a specific language, be it the standard language or a variety thereof, can translate from one into the other. In this process, however, a treasure of creativity, art and knowledge is overlooked, thus diminishing the enjoyment of reading a text. If, on the contrary, the art behind the translation of a text is comprehended, enjoyment when reading the translation is enhanced. Because language is descriptive, the reader who is exposed to a translation of the text will be introduced to the idiomatic use of the source language and thus obtain a view into the world, culture, habits and traditions of the variety user.
The research reported in this article was directed by the following: the translation of a part of the Bible into Non-standard Afrikaans should be considered a rewording (intralingual translation) and not a translation (interlingual translation) or adaptation (intersemiotic translation). Intralingual translation recognizes the aspects of creativity and art to introduce and discuss the defence of this claim to the broader academic society.
If a text cannot be identified as an intralingual translation the artistic and creative elements underpinning it cannot be recognized or appreciated. Intralingual translation attempts to give configuration to the creativity and verbal art of the original variety of e.g. Afrikaans, even though it has never been recorded before. Something of the creativity and artistic principles involved in intralingual translation manifests in the attempts of the translater to transpose the text from Standard Afrikaans into the variety.
It requires an artistic approach to transpose a text from Standard Afrikaans into a code of Afrikaans in such a way that it will read as a text with which the varietal speaker will be able to identify. According to Munday (2004: 24) it is essential that the transposer has the ability to use both codes of a language like a mother tongue speaker, with knowledge of and insight into the cultural background, humour and customs of both codes. With knowledge of both codes the transposer does not merely reset the text into readable format, but also recreates those elements that are not apparent in words.
The claim made above has been approached from three points of view, viz. the reality that very few texts have been recorded in Non-standard Afrikaans, Jakobson's theory that the signs in the source text must be replaced with signs of equivalent value or meaning in the target text; and some findings by Du Plessis (2006) that it is important that the intralingual translation takes place on three levels, namely: the language level, the geographic level and the religious level.
After a short theoretical-technical discussion, an intralingual translation of a part from the Bible in Standard Afrikaans into Tsotsi-Afrikaans is presented. This is followed by a discussion of the creative, technical and artistic aspects involved in the specific intralingual translation.

Key concepts: Translation; interpretation; resetting; adaptation; recreation; Non-standard Afrikaans; Bible translation; variety; linguistic level; living environment level; religious level


 

 

INLEIDING EN AGTERGROND

Diegene wat 'n bepaalde taal in so 'n mate magtig is dat hulle gemaklik en vrymoedig daarin kan kommunikeer, is nie altyd bewus van die kunssinnige- en kreatiewe aspekte wat in aanmerking geneem moet word wanneer 'n transponering vanuit een taal in 'n ander gedoen word nie. 'n Mens tref hierdie verskynsel in die volgende situasies aan: (a) tekste waarvan die oorspronklike byvoorbeeld in Standaardafrikaans opgeteken is, maar wat die variëteitgebruiker in sy of haar eie dialek/kode behoort te ontvang om dit beter te kan verstaan; en die omgekeerde (b) waar oorspronklike tekste van die variëteitgebruiker net as gesproke tekste in die brontaal bestaan, en oorgedra moet word in die standaardvariëteit sodat ander sprekers van die taal ook toegang daartoe kan verkry.

Robinson (2005:142) stel tereg dat daar soms gedink word dat enigiemand wat 'n betrokke taal, hetsy die standaard-weergawe of 'n variëteit daarvan, vlot kan praat, 'n oordrag van die een na die ander kan doen. Dit is egter 'n vergissing: 'n skat van kreatiwiteit, kunssinnigheid en kennis word in die proses misgekyk en daarmee word die genot by die lees van 'n teks verminder. Indien daarteenoor die kunssinnigheid, kreatiwiteit en tegniese subtiliteite agter die oorsetting van 'n teks verstaan word, verhoog dit die genot van die lees van die oorsetting. Omdat taal beskrywend is, kan die leser wat deur middel van 'n goeie oorsetting van 'n teks met die idiomatiese taalgebruik van die brontaal te doen kry, daarmee saam insig in die variëteitgebruiker se leefwêreld, kultuur en gewoontes kry. Soos Schäffner (2008:235) tereg opmerk:

[.]... contextual factors surrounding the translation cannot be ignored. These factors include the culture of the intended readers of the target text and of the client who has commissioned it, and, in particular, the function which the text is to perform in that culture for those readers. Skopos theory is directly oriented towards this function.

 

PROBLEEMSTELLING

Die vraag wat die ondersoek gerig het en waaroor hier gerapporteer word, is watter kunssinnigheidsen kreatiewe aspekte is betrokke / kom in spel by die oorsetting van 'n Bybelgedeelte vanuit een taal in 'n ander?

 

DOELSTELLING

Die ondersoek is gerig deur die volgende vertrekpunt of aanname: die oordrag van 'n teks (byvoorbeeld 'n Bybelgedeelte1) uit Standaardafrikaans in Niestandaardafrikaans is meer as 'n blote vertaling. Dit impliseer die transponering van die teks op meer as een vlak. Transponering gee erkenning aan die kunssinnigheids- en kreatiwiteitsaspekte van die oorsetting. Die doel van die ondersoek was om vas te stel of hierdie aanspraak verdedigbaar is.

 

NOODSAAKLIKHEID VAN DIE ONDERSOEK

Afrikaans is 'n heterogene taal. Volgens Carstens (2004:281) is dit 'n historiese en sosiale feit dat daar in die Afrikaanse taalgemeenskap verskeie vorme van Afrikaans voorkom. Griekwa-Afrikaans en Tsotsi-Afrikaans is slegs twee van die vorme wat in die domein van heterogeniteit van Afrikaans voorkom, en besit, soos wat Robinson (2005:23) tereg opmerk oor elke taal of kode van 'n taal, sy eie skat van uitdrukking, idioom en vorm, ingebed in 'n bepaalde kultuur en etniese agtergrond.

Daar bestaan min transponerings in Afrikaans na niestandaardvariëteite toe. Daarom kan die afleiding gemaak word dat hierdie kunsvorm nog in sy kinderskoene staan wat Afrikaans betref. Die vermoede bestaan dat die rede hiervoor is dat oorspronklike tekste (soos tradisionele verhale in die brontaal of variëteit van Afrikaans) lank gelede in Standaardafrikaans opgeteken is, omdat die gebruikers van die variëteit van Niestandaardafrikaans nie kon skryf nie en geen skoolopleiding gehad het nie. Hierdie toedrag van sake het moontlik daartoe gelei dat lesers van verhale wat oorspronklik in Niestandaardafrikaans vertel is onder die wanindruk verkeer (het) dat dié verhale uit die staanspoor Standaardafrikaanse verhale was; die lesers (het nie) besef dat die verhale oorspronklik in variëteite van Afrikaans vertel is nie en dat die verhale in die oorspronklike variëteit van Afrikaans verlore geraak het. Niemand het skynbaar daaraan gedink om verhale wat oorspronklik in Niestandaardafrikaans variëteite vertel is, in daardie oorspronklike variëteitweergawes op te teken nie. Daar was dalk nie genoeg kennis of geldbronne om dit te doen nie. Al hierdie faktore het daartoe bygedra dat die oorspronklike wyse van vertelling, uitdrukkings, idiomatiese taal, kultuur en gewoontes verlore gegaan het. Dit is derhalwe noodsaaklik om hierdie verlore wyses van vertelling, uitdrukkings, idiomatiese taal, kultuur en gewoontes te laat herleef. Volgens Carstens (2004:37) ontstaan en bestaan daar in 'n multikulturele en multitalige gemeenskap (soos Suid-Afrika) kommunikasiegapings tussen lede van die onderskeie kulturele taalgemeenskappe as gevolg van die gebrek aan insig in die gewoontes en kulture van subkultuurgroepe. Daarom is dit belangrik om 'n gevoeligheid te ontwikkel vir die behoeftes en gebruike van ander kulture; wat dan onder meer effektiewe kommunikasie tussen hulle kan bewerkstellig.

 

METODE VAN ONDERSOEK

Transponering, soos hierbo omskryf, is vanuit drie gesigspunte benader, te wete vanuit Jakobson se teorie (Venuti 2004:139) ten opsigte van vertaling, vanuit Du Plessis (2006) se beskouing ten opsigte van transponering en laastens 'n eie transponering van die outeur waarin sekere kuns- en kreatiwiteitsbeginsels geïllustreer word. Voordat daar oorgegaan kan word tot 'n beoordeling van die aanvaarbaarheid van die vraag hierbo gestel, moet sekere kernkonsepte van die ondersoek nader omskryf word.

 

KONSEPTUELE RAAMWERK

Die volgende begrippe is kernterme in hierdie ondersoek: oorsetting, vertaling, aanpassing en transponering asook Niestandaardafrikaans.

Volgens Babylon (2008) is oorsetting 'n vorm van transkripsie, dus "the conversion of spoken words into written language". Volgens die e-HAT (2009) beteken oorsetting: 1. Handeling, daad van oor te set. 2. Vertaling: bv. die Afrikaanse oorsetting van 'n Duitse gedig. Robinson (2005:169) omskryf vertaling soos volg: "The translator burrows into the source text in quest of meaning, extracts it, and renders it into the target language. Translating means channelling meaning...".

Vertaling is dus 'n proses waar 'n teks vanuit die brontaal (bv. Engels) in die doeltaal (bv. Afrikaans) oorgeskryf word. Volgens Munday (2004:4) beteken "vertaling" die handeling wat 'n vertaalstuk tot gevolg het; en volgens die Dictionary of Translation Studies (1997:86) is intratalige vertaling (rewording) "not translation in the standard sense, but transmutation of a verbal message into another medium of expression, or in other words translation in a figurative sense, since the target code is a language 'only in a metaphorical manner of speaking' "(Gorlée 1994:162).

Volgens Nida, (2008:160),

the success of the translation depends above all on achieving equivalent response. It is one of the four basic requirements of a translation, which are:

• Making sense;

• Conveying the spirit and manner of the original;

• Having a natural and easy form of expression;

• Producing a similar response

'n Voorbeeld van 'n poging tot getroue ekwivalente reaksie is die getroue en akkurate vertaling van byvoorbeeld die Bybel uit die oorspronklike Hebreeus of Grieks in 'n ander taal.

Aanpassing word gesien as intersemiotiese vertaling. Dit is wanneer 'n teks oorgedra word na 'n nieverbale tekensisteem. Volgens Jakobson (Venuti 2004:139) word intersemiotiese vertaling gedefinieer as "an interpretation of verbal signs by means of signs of nonverbal sign systems".

In musiekkonteks beteken transponering om 'n bepaalde wysie of melodie só oor te skryf dat die oorspronklike melodie of wysie presies behou word, maar in 'n ander toonaard of sleutel herskryf word. Met ander woorde, wanneer jy na die getransponeerde weergawe luister, is dit duidelik en onmiskenbaar die oorpronklike, maar dit "klink" heel anders, sonder dat dit die oorspronklike gestroop het van enige waarde of outentisiteit. Die transponeringsproses kan van toepassing gemaak word in 'n taal, maar verg dan sekere kreatiewe en kunssinnige aspekte om die woorde (tekens) vanuit een variëteit (toonaard) na 'n ander oor te sit sonder om die betekenis (wysie) van die boodskap te beïnvloed. Volgens Umberto Eco en Siri Nergaard (2008:222) behels Jakobson se benadering tot intratalige vertaling of herbewoording juis dit: "Intralinguistic translation or rewording, is 'an interpretation of verbal signs by means of other signs of the same language'". Vir die doel van hierdie artikel word transponering gelykgestel aan intratalige vertaling.

Volgens die e-HAT (2009) word die werkwoord "transponeer" soos volg verklaar: "oorbring, oorsit, bv. 'n musiekstuk in 'n ander toonsoort, 'n term van die een kant van 'n vergelyking na die ander kant verplaas". Die afleiding kan gemaak word dat oorsetting nie presies, akkuraat, getrou vanuit 'n brontaal gedoen word na 'n doeltaal toe nie, maar dat daar bepaalde kreatiewe en kunstegniese aspekte by betrokke is. Die proses vind plaas vanuit die kode van 'n taal in 'n ander kode van dieselfde taal.

In die lig van die musiekkonteks van transponering sowel as die woordeboekverklaring van transponering kan die volgende afgelei word: Alhoewel die taal waarin die oorsetting plaasvind nêrens opgeteken is nie en 'n nuwe teks geskep moet word, word die variëteit van die spreektaal nou as skryftaal opgeteken, en dit gaan gepaard met skeppende momente, soos die vorming van nuwe woorde, woordritmes en sinswendinge.

Variasietaalkundiges is genoodsaak om tekste van lewende, pratende variëteitsprekers self te verkry omdat geskrewe oorspronklike tekste nie beskikbaar is nie. Hierdie skaarste kan toegeskryf word aan die feit dat die versamelingsproses op 'n bepaalde wetenskaplik gekontroleerde wyse moet geskied. Die keuse van sprekers en die wyse van versameling is van groot belang (Du Plessis 2006:45). Die versamelingstaak is moeilik omdat daar dikwels van amateurs (byvoorbeeld die plaaslike predikant of onderwyser) gebruik gemaak moet word om die transkripsie te verrig. Dié getranskribeerde data voldoen gevolglik nie altyd aan wetenskaplik gekontroleerde standaarde vir byvoorbeeld getrouheid en akkuraatheid van die variëteit van die fiktiewe spreker se gesproke taal nie. Liggaamstaal of intonasie van die stem is teenwoordig wanneer die gesproke taal beoefen word maar nie by die lees of skrywe van 'n teks nie. Dus kan die leser van die teks die teks binne die raamwerk van die geskrewe stuk vry interpreteer. Wanneer die doeltaal nie as geskrewe taal opgeteken is nie en slegs as gesproke taal bestaan, kan die oorsetting as vrye interpretasie plaasvind.

Du Plessis (2006:45) is verder van oordeel dat die betroubare waarneming van linguistiese feite beïnvloed word deur die volgende vier probleme wat die sistematiese ondersoek van omgangstaal belemmer (en die betroubare waarneming van linguistiese feite vir die aanhangers van abstrakte databasisse selfs onmoontlik maak):

• werklike taal is (hoogs) ongrammatikaal;

• variasies kom voor in taalgedrag en in die taalgemeenskap;

• probleme ontstaan met die hoor en opneem van die omgangstaal;

• en daar is 'n skaarste aan sekere sintaktiese vorme. (Du Plessis 2006:45)

Daar het ondanks hierdie struikelblokke onlangs wel enkele intratalige vertalings (transponerings) in die Afrikaanse taalgebied die lig gesien. Hans du Plessis (2001) het in sy bundel Innie skylte vannie JirreBybelse Psalms in Griekwa-Afrikaans getransponeer. Frans van Rensburg (2006) het die Evangelie van Matteus in Tsotsi-Afrikaans getransponeer.2 Die oorspronklike tekste van Niestandaardafrikaans sprekers (soos Du Plessis se Griekwas en Van Rensburg se Tsotsi's) sou teoreties kon bestaan in die mondelinge tradisie, maar hulle is nooit opgeteken nie. Dit is moeilik om vandag die oorspronklike mondelingse tekste van Niestandaardafrikaanse omgangstaal op 'n juiste wyse van betroubare informante te verkry, omdat omstandighede (informante reageer byvoorbeeld verskillend op die omstandighede, soos byvoorbeeld 'n radio-ateljee waar 'n opname gedoen word) en linguistiese veranderlikes (die feit dat taal daagliks vernuwe) 'n rol speel.

Iets van die essensie van die boodskap in die "oorspronklike" Niestandaardafrikaans gaan verlore as die tekste nie ook in die variëteitstale herleef nie. Elke variëteit van Afrikaans is ingebed in 'n eie meegaande variëteit van gewoontes, gebruike en kultuur. Mense verkies om 'n teks te lees in 'n taalvariëteit wat aan hulle bekend is. Dis makliker vir hulle om met so 'n teks te identifiseer. Hier kom die kuns en kreatiewe vaardighede van die transponeerder ter sprake, want dit is 'n kuns om die teks vanuit Standaardafrikaans na 'n ander kode van Afrikaans te transponeer sodat die teks soos 'n teks sal lees waarmee die variëteitspreker kan identifiseer.

Volgens Munday (2004:24) moet die transponeerder nie net albei kodes van Afrikaans soos 'n moedertaalspreker beheers en aanwend nie, maar die transponeerder moet ook eerstehandse kennis dra van albei kodes se kultuuragtergrond, humor en gebruike. Met hierdie kennis en insig kan die transponeerder nie net dit wat in die teks gelees word oorsit in die ander kode nie, maar ook weergee wat nié daar staan nie. Daarmee word bedoel dat 'n moedertaalspreker soms baie meer sê as net die paar woorde wat in die teks vasgelê is. Dit is 'n kuns en verg kreatiwiteit om nuanses soos stemverbuiging en liggaamstaal waar te neem en die bedoeling daarvan te transponeer.

Alhoewel daar in Afrikaans baie dialekte in die vorm van Streeksafrikaans bestaan, is daar variëteite wat slegs diegene verstaan aan wie die spesifieke kodes van Afrikaans bekend is (Carstens 2004:292). Hiervan is Tsotsitaal 'n voorbeeld. Dié taal is juis so ontwikkel dat die gereg nie die sprekers daarvan (dit is, bendelede) kon verstaan nie, maar dat die bendelede vrylik met mekaar kon kommunikeer oor hul bendebedrywighede sonder vrees dat hul uitgevang sou word. Die bendelede praat 'n kodetaal wat slegs verstaanbaar is vir die ingewydes in die bendelewe. Sover vasgestel kon word, bestaan daar geen oorspronklike tekste in hierdie variëteit nie. Dit verg gevolglik van die transponeerder 'n vaardigheid, 'n sekere vlak van kunssinnigheid en kreatiwiteit in die oorsit van 'n bepaalde teks vanuit een kode in 'n ander, om sodoende die insig wat hy/sy besit oor die Standaardafrikaans-spreker sowel as van die Tsoti-taalspreker se kultuur, gewoontes en gebruike te benut.

Indien 'n teks nie geïdentifiseer kan word as 'n transponering (teks wat oorgesit is van een kode na 'n ander) nie, kan die kunssinnigheid en kreatiwiteit daaragter nie raakgesien en waardeer word nie. Dit sou nie 'n probleem wees in die geval van 'n vertaling van een teks uit 'n ander nie, maar in die geval van 'n transponering (intratalige vertaling) speel die kunssinnigheids- en kreatiewe aspekte 'n sentrale rol - soos verder aan verduidelik sal word. 'n Transponering probeer naamlik gestalte verleen aan die woordkuns en kreatiwiteit van die oorspronklike variëteit van byvoorbeeld Tsotsi-Afrikaans, al was dit voorheen nooit opgeteken nie. Iets van die kunssinnigheid en kreatiwiteit betrokke by 'n transponering kom na vore in die pogings van die transponeerder om die betrokke teks vanuit Standaardafrikaans op 'n getroue en aanvaarbare wyse te transponeer in die variëteit.

Niestandaardafrikaans is 'n vorm van Afrikaans wat nie as die norm vir "standaard" of "algemeen gangbare of aanvaarbare" Afrikaans beskou word nie. Niestandaardafrikaans is met ander woorde nie die Afrikaans wat 'n mens in handboeke sal vind of op skool sal leer nie. Niestandaardafrikaans is 'n variëteit van Afrikaans. Volgens Carstens (2004:288) impliseer die begrip "standaardtaal" dat daar ander taalvorme is wat nie "standaard" is nie. Die vorme is niestandaard omdat hulle a) nie algemeen oor die hele spraakgebied en b) nie onder alle taalgebruikers voorkom nie, maar wel beperk is in hulle gebruik tot byvoorbeeld 'n sekere geografiese gebied (streektale) of 'n spesifieke groep mense (groeptale). Hulle is ook nie skryftale nie.

 

TEORETIESE RAAMWERK

Jakobson se teorie

Jakobson se teorie oor ekwivalensie in betekenis wentel om die tekens in die bronteks wat vervang moet word met tekens van veronderstelde ekwivalente waarde of betekenis in die doelteks. Jakobson (2004:139) onderskei tussen drie vorme van vertaling waarin ekwivalensie 'n rol speel:

1. Intratalige vertaling of herformulering - dit behels die interpretasie van verbale tekens deur middel van ander tekens in dieselfde taal (Dit is juis hierdie faset van Jakobson se teorie wat as transponering gesien kan word omdat sy definisie van intratalige vertaling ooreenstem met die definisie en omskrywing van transponering hierbo).

2. Intertalige vertaling of gepaste vertaling - dit is 'n interpretasie van verbale tekens in 'n ander taal.

3. Intersemiotiese vertaling of transmutasie (omsetting) - dit is 'n interpretasie van verbale tekens deur middel van tekens van die nie-verbale tekensisteem.

Die oorsetting van 'n teks in Standaardafrikaans na een in Niestandaardafrikaans val in die eerste kategorie, naamlik intratalige vertaling. Volgens Jakobson moet daar tydens 'n intratalige oorsettingsproses ekwivalente van verbale tekens of 'n omskrywing van verbale tekens in die brontaal oorgesit word in tekens in die doeltaal (die variasietaal) (Venuti 2004:139). Die kundige transponeerder weet dat daar soms nie in die doeltaal 'n ekwivalent vir 'n woord in die brontaal bestaan nie. Die teken moet dus omskryf word. Hier moet 'n mate van kreatiewe transponering plaasvind. Lukas 10:25 - 37 se opskrif lees byvoorbeeld in Standaardafrikaans Die Barmhartige Samaritaan. In Tsotsi-Afrikaans moet die term "barmhartige" omskryf word om die ekwivalent in die teikentaal te bereik omdat daar nie 'n ekwivalente kode daarvoor in Tsotsi-Afrikaans bestaan wat in een woord weergegee kan word nie. Barmhartige word dus omskryf as: die Tsotsi wat gakalaa het ve die mri wat ampertjies zalti was.

Kultuurverskille en -gebruike moet in ag geneem word by 'n oorsetting om te verhoed dat vooroordeel teen die doeltaalgebruiker na vore kom. Die transponeerder moet deeglike agtergrondkennis van albei variante van die taal, sowel bron- as doeltaal, hê en albei met selfvertroue kan gebruik. Die boodskap uit die brontaal moet gekodifiseer word in die doeltaal en daarna versend word. Jakobson vervolg deur te sê dat die vertaal- of transponeerwerk twee ekwivalente boodskappe in twee verskillende kodes behels; die kuns om tekens te (her)interpreteer na ander tekens in dieselfde sisteem word hier vereis (Venuti 2004:139). Die doel van die transponeerder is om die godsdienstige en etiese betekenis van die bronteks op juiste wyse (dog sonder benadeling van die kreatiewe en die kunssinnige), soos die brontaalskrywer dit bedoel het, na die doeltaal oor te dra. Om dit doeltreffend te kan doen, moet by intratalige vertaling veral die volgende drie vlakke in aanmerking geneem word: a) die linguistiese, b) die leefwêreld- en c) die religieuse vlak. Die volgende voorbeeld in Tsotsi-taal illustreer hierdie proses:

a) Die linguistiese vlak moet in ag geneem word soos blyk uit Lukas 10:25 - 37 (die verhaal van die Barmhartige Samaritaan):

• Die woordeskat verskil. Die woord kyk in Standaardafrikaans is notch in Tsotsi-Afrikaans.

• Die uitspraak verskil, bv. jy in Standaardafrikaans word [djə] in Tsotsi-Afrikaans.

• Die sintaksis is eenvoudiger, bv. Wat staan in die wet van Moses geskrywe? word Hoet Mosas gawietie? in Tsotsi-Afrikaans.

b) Die leefwêreldvlak van die fiktiewe spreker van die omgangstaal moet in ag geneem word. 'n Transponeerder moet deeglike kennis dra van albei leefwêrelde waarin gewerk word. Die teks word geplaas teen die agtergrond en die omgewing van die verteller van die verhaal (Du Plessis 2007). Die transponeerder moet na ekwivalente soek wat in die leefwêreld van die Tsotsi-Afrikaanssprekende dieselfde sal beteken as wat dit vir die Standaardafrikaans-verteller van die Barmhartige Samaritaan beteken het (en bes moontlik vir die verteller van die oorspronklike verhaal, 'n Griekssprekende Jood, die evangelis Lukas). As daar in die Standaardafrikaanse weergawe van Jesus se verhaal gepraat word van, byvoorbeeld die pad van Jerusalem na Jerigo, word dit in die Tsotsi-weergawe die pad van Jozi of TJ na Sophiatown (Kofifi). Die persoon in die Bybelse verhaal was op pad vanaf Jerusalem na Jerigo. Jerusalem was 'n groot stad en die tempel in Jerusalem het gedien as 'n sentrale plek van aanbidding. Jerusalem was die sentrale plek vir die bring van offerandes en die offer van goedere. Jerusalem was die hoofsetel waar mense bymekaar gekom het vir gebed, om te gesels asook om te studeer. Jerusalem kan dus gesien word as die hoofstad waar besigheid gedoen is (New Media Bible). In die wêreld van die Tsotsi is die reisiger op pad vanaf Johannesburg - Jozi of TJ (die hoofstad waar besigheid, van enige aard, gedoen word) - (Molamu 2004:48) na Sophiatown, ook genoem Kofifi(Molamu 2004:53).

c) Die religieuse vlak van die standaardtaalspreker asook die niestandaardtaalspreker moet ook in ag geneem word. Die nadruk val by transponering op die godsdienstige en etiese betekenis van ou waarhede in 'n nuwe ervaringsomgewing en nie noodwendig op die teologies-tegniese aspekte van Bybelvertaling nie:

In this functional view of translation, any notion of equivalence between a source text and a target text is subordinate to the skopos, or purpose which the target text is intended to fulfil. (Mason 2008:32)

In die transponering van 'n Bybelteks met die doel dat die Tsotsi's dit kan geniet, maar tog ook die konteks en boodskap verstaan, moet die godsdienstige en etiese betekenis van die teks behoue bly. Dieselfde drie beginsels van naasteliefde moet uit die gelykenis na vore kom in die doeltaal. Die godsdienstig-etiese boodskap word egter verskillend gekodifiseer. In die oorspronklike Griekse verhaal (wat Jesus by monde van die Griekssprekende evangelis vertel het) is dit op 'n bepaalde manier gekodifiseer; daarna is dit geherkodifiseer in die (veronderstelde akkurate, tegnies getroue) vertaling na Standaardafrikaans. Dan weer in die meer kreatiewe transponering (deur byvoorbeeld taalkundiges en digters) na Tsotsi-Afrikaans. In Jesus se geval was die religieuse konteks dié van Griekssprekende Jode in die destydse Palestina, waar Samaritane as sosiaal-minderwaardige mense gesien is, mense met wie ordentlike mense eintlik nie meng nie (Reinhartz 2000:1). Die eerste lesers was intiem met hierdie konteks bekend. By Standaardafrikaanse Bybellesers is daar wel bewustheid van die minderwaardige sosiale status waaronder die Samaritane gely het, maar daar is nie meer besondere of intieme kennis van Samaritane en hulle sosiale status nie - kennis van die Samaritaan en sy lot bestaan slegs in die konteks van Bybelkennis. Die Samaritaan en sy sosiale status is nog verder verwyder van die leefwêreld van die Tsotsi; tog as lid van 'n verwarde, sosiaal en kultureel verwerpte mensegroep, 'n lid van 'n vervolgde bende, kan die Tsotsi bes moontlik goeie begrip vir die Samaritaan en sy lot hê (vgl. Molamu 2004: xx).

Die godsdienstig-etiese betekenis van die Jesus-verhaal van die Barmhartige Samaritaan het behoue gebly ondanks die oorsetting daarvan in 'n ander kode. Die betekenis van die Jesus-verhaal (uit brontaal Standaardafrikaans, byvoorbeeld) is gekodifiseer voordat dit versend is, en die betekenis daarvan is geïnterpreteer na ander tekens (Tsotsi-Afrikaans) in dieselfde sisteem (Afrikaans). Die bedoeling is om die betekenis op juiste dog kreatiewe wyse na die doeltaal oor te dra.

Du Plessis se beskouing

Volgens mededeling van Du Plessis (2007) vra lesers van sy Griekwa-Psalms dikwels of dit opgetekende gedigte of vertalings is wat tradisioneel onder die Griekwas voorkom. Hy is van oordeel dat dit oorspronklike gedigte is. Streng gesproke is Du Plessis se Griekwa-verse nie vertalings nie, maar eerder transponerings, omdat daar nie met die bronteks (in Hebreeus of Grieks) gewerk is nie. Du Plessis het deurgaans met meer as een Bybelvertaling as die bronteks gewerk - Afrikaanse sowel as Nederlandse en Engelse vertalings. In die transponering was dit vir Du Plessis belangrik om nie die Bybelse betekenis te verander nie. Daarom het hy ook 'n studie van kommentare en Bybelverklarings bly maak.

Du Plessis (2007) meen dat die Griekwa-Psalms veral op drie vlakke 'n transponering is: op taal-, geografiese en godsdienstige vlak.

(a) Op taalvlak beteken transponering van die taal eenvoudig dat die transponeerder die bronteks oorsit in die dialek van, in hierdie geval, die Griekwas. Volgens Du Plessis is dié Afrikaans in 'n sekere sin 'n abstraksie omdat jy verskillende moedertaalsprekers se Afrikaans konstrueer sodat dit in die bundel neerslag vind as die Griekwa-Afrikaans van 'n fiktiewe verteller. Vervolgens beteken dit nie dat alle Griekwas Afrikaans presies so praat nie. Die Griekwaverse is juis 'n abstraksie omdat die transponeerder 'n spreker van Griekwa-Afrikaans tot stand bring wat dit so sou kon praat. Hierdie proses verg kreatiwiteit van die transponeerder. Du Plessis beklemtoon die belang dat die taal wat gebruik word in die monde van segsmense kan bestaan.

(b) Du Plessis deel verder mee dat op geografiese vlak die omgewing van die Bybel omgesit word in die omgewing van die verteller in die bundel. As Dawid byvoorbeeld van die berg Sion praat, word dit 'n sandduin in die bundel, 'n olyfboom word 'n kameeldoring en die dal tussen die Bybelse berge word in die bundel die strate tussen die duine. Ook hierdie proses verg 'n bepaalde vlak van kunssinnigheid en kreatiwiteit van die transponeerder.

(c) Op godsdienstige (religieuse) vlak word die tweestryd van die Psalms in die bundel: Heil teenoor onheil, God teenoor bose, Goed teenoor kwaad die tweestryd tussen God as Heil en die beerlou en die waterslang as onheil (Du Plessis 2007). Die pes of die vyand van die Psalms word die hitte, die droogte of die wind van die bundel.

Du Plessis (2007) meen dat hierdie verskillende vlakke van transponering daartoe lei dat daar in die poëtiese oorsetting nuwe metafore tot stand kom. Digterlike tegnieke bring 'n nuwe teks tot stand, 'n nuwe ervaringsomgewing van ou waarhede. Volgens hom (Du Plessis 2007) is dit hierdie kombinasie van oud en nuut, van bekend en onbekend waarin die sukses van sy transponerings geleë is. Hierdie kombinasie van oud en nuut, van bekend en onbekend maak moontlikhede oop, maar behou die ou waarheid. Dit Afrikaniseer en vereenvoudig, herskep en maak op 'n ander manier toeganklik.

Transponering is dus inderdaad meer as vertaling. 'n Nuwe teks word geskep, dus is kreatiwiteit 'n vereiste element. Die transponeerder moet 'n teks skep wat nog nie vantevore opgeteken is nie, maar wel deur die gebruiker van die variëteit van die taal verstaan word. Uit die aard van die saak is dié Afrikaans dan in sekere sin 'n abstraksie omdat jy verskillende moedertaalsprekers se Afrikaans konstrueer sodat dit in die teks eintlik neerslag vind as die Griekwa-Afrikaans van 'n fiktiewe verteller. Daarom beteken dit nie dat alle Griekwas of slegs Griekwas Afrikaans presies so praat nie. Dit is 'n abstraksie omdat jy 'n spreker van Griekwa-Afrikaans skep wat dit so sou kon praat. Dit bly egter belangrik dat die taal wat wel gebruik word, inderdaad in die monde van segsmense bestaan.

 

TRANSPONERING AS KREATIEWE KUNSVORM

Die oorsetting van 'n Bybelteks in Niestandaardafrikaans is dus, soos aangetoon, eerder 'n transponering as 'n blote kliniese vertaling, aanpassing of blote oorsetting, aangesien dit rekening hou met die tegniese, kreatiwiteits- en kunssinnigheidsaspekte van die genre. 'n Voorbeeld is die transponerings van Psalm 121 in Griekwa-Afrikaans en Matteus 10: 34-39 in Tsotsi-Afrikaans.

Om te illustreer tot welke mate transponering 'n kreatiewe kunsvorm is, het die outeur van hierdie artikel die volgende transponering van Lukas 10:25-37 (Bybel in Praktyk 1996) in Tsotsitaal gedoen. Vir dié doel is die volgende gedoen:3

 

Tabel 1

 

 

Tabel 2

 

BESPREKING

Tsotsitaal is duidelik op Afrikaans gebou. Daar word soms na Tsotsitaal verwys as gebroke Afrikaans:

In our street dialect, we violated every known grammatical construction. The result was a fairly fluid set of morphological and syntactical rules that govern Tsotsitaal. It is the breaking of the rules that has made Tsotsitaal such a fascinating sociological and linguistic phenomenon. Molamu (2004:xxv)

Dié woorde is in die proses dikwels herdefinieer, herkonstrueer en herrangskik om by die lingua franca aan te sluit wat verskillende woorde, frases en uitdrukkings van verskillende tale aangeneem het om 'n eie unieke kodetaal te vorm (Molamu 2004:xxv).

In Tsoti-Afrikaans bestaan daar geen definitiewe sintaktiese vorm nie. Dit verg dus vaardigheid om die woorde/dialoog natuurlik te laat klink en die woordeskat van Standaardafrikaans na die taalgebruik van die Tsotsi-spreker te verplaas (Molamu 2004:xxv).

Voorgaande transponering in Tsotsi-Afrikaans het sekere aantoonbare kuns-, kunstegniese en kreatiewe vaardighede geverg. Aangesien daar in die eerste plek geen oorspronklike opgetekende tekste in Tsotsi-Afrikaans bestaan nie, was daar geen bestaande tekste waaraan die uitdrukkings en taalvermoë van so 'n fiktiewe spreker gemeet kon word nie. Kreatiwiteit is geverg om die taal natuurlik te laat vloei in die fiktiewe Tsotsi se mond. Omdat 'n teks in Tsotsi-Afrikaans aan die leser insae in die Tsotsi se leefwêreld en godsdienstige beskouing moet gee, moes hierdie aspekte aandag kry. Omdat die Tsotsi nie 'n kerkganger is of godsdienstig georiënteerd is nie, was dit moeilik om die Tsotsi se leefwêreld by die Samaritaan se leefwêreld uit te bring. Omdat die Tsotsi bekend is met geweld en bendebedrywighede maak die aanranding van die man vir die Tsotsi sin. Die medemenslikheid van die goeie Samaritaan maak ook sin binne die konteks van Tsotsi-bestaan waar bendelede na mekaar omsien.

Dit verg ook kreatiwiteit om ekwivalente vir die standaardweergawe van die Bybelteks in Tsotsi-Afrikaans te vind. Die godsdienstig-etiese essensie van die boodskap, wat daarmee bedoel word, mag nie verlore gaan nie, maar moet aanpas by die Tsotsi se leefwêreld sodat die Tsotsi die boodskap sal verstaan soos wat dit oorspronklik bedoel was. Daarom moes die hoofmomente in Jesus se verhaal op kreatiewe wyse teen die agtergrond van die historiese Bybelse getransponeer word in ekwivalente in die Tsotsi- leefwêreld.

Die transponering in Tsotsi-Afrikaans het die houdbaarheid van die voorafgaande teoretiese uiteensetting van transponering onderstreep.

 

GEVOLGTREKKING

Soos aanvanklik aangedui is, is die ondersoek na die aard en wese van transponering waaroor hier gerapporteer is, gerig deur die uitgangspunt dat die oorsetting van 'n teks (soos 'n Bybelgedeelte) na Niestandaardafrikaans beskou moet word as 'n transponering daarvan. Dit is gevolglik nie 'n akkurate, getroue en presiese vertaling of 'n aanpassing daarvan nie, omdat die term transponering erkenning gee aan die kunssinnige- en kreatiwiteitsaspekte van die oorsetting. Hierdie uitgangspunt is vanuit drie gesigspunte benader: vanuit Jakobson se teorie, vanuit Du Plessis se beskouing van transponering en vanuit 'n eie transponering van die outeur waarmee sekere kunssinnige- en kreatiwiteitsbeginsels geïllustreer kon word. Uit hierdie drieledige ondersoek het geblyk dat die uitgangspunt van sulke oorsettings inderdaad transponerings, en nie vertalings, aanpassings of blote oorsettings beteken nie.

 

BIBLIOGRAFIE

Babylon Search Translation @ a Clock. 1997-2008. Babylon Ltd. http://www.babylon.com/definition/transcription/en Datum van toegang: 9 Mei 2008.         [ Links ]

Bybel. 1996. Die Bybel in Praktyk. Vereeniging: Christelike Uitgewersmaatskappy.         [ Links ]

Carstens, WAM. 2004. Norme vir Afrikaans. Pretoria: Van Schaik Uitgewers, pp. 37, 281, 288, 290, 292.         [ Links ]

Du Plessis, H. 2001. Innie skylte vannie Jirre.Pretoria:Lapa Uitgewers.         [ Links ]

Du Plessis, H. 2006. Variasietaalkunde.Pretoria: Serva Uitgewers.         [ Links ]

Du Plesiis, H. 2007. Agterskylte. Mondelinge mededeling aan die outeur. Potchefstroom.         [ Links ]

e-HAT (Elektroniese Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal). 2009. Oorsetting. [CD]         [ Links ].

e-HAT (Elektroniese Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal). 2009. Transponeer. [CD]. http://www.newmediabible.org/1goodsam/travel/gstravelmainframe.htm Datum van toegang: 23 Mei 2007 1p.         [ Links ]

Gorlée, D.L. 1994. Semiotics and the Problem of Translation: With Special Reference to the Semiotics of Charles S. Peirce.Amsterdam & Atlanta, GA: Rodopi, p.162.         [ Links ]

Jakobson, R. 2004. On linguistic aspects of translation. In: Venuti, L. 2004. The Translation Studies Reader. Second edition. London & New York: Routledge, pp. 138-143.         [ Links ]

Materra, D. 1987. Memory is the Weapon. Johannesburg: Ravan Press.         [ Links ]

Molamu, L. 2004. Tsotsitaal. Dictionary of the Language of Sophiatown. Pretoria: Unisa Press, pp. xx - xxv.         [ Links ]

Mason, I. 2008. Communicative/functional approaches. In Baker, M. (ed.). Routledge Encyclopedia of Translation Studies. London: Routledge, p.32.         [ Links ]

Munday, J. 2004. Introducing Translation Studies. London: Routledge, pp. 24, 30, 42, 79, 80.         [ Links ]

Nida, E. 2008. Principles of Correspondence. In Venuti, L., (ed.). The Translation Studies Reader. New York & London: Routledge, p.160.         [ Links ]

Robinson, D. 2005. Becoming a Translator. : London: Routledge, pp.4, 23, 142, 169.         [ Links ]

Reinhartz, A. 2000. New Media Bible: The Samaritans: Then and Now. Amerikaanse Bybelgenootskap.         [ Links ]

Schäffner, C. 2008. Skopos theory. In Baker, M. (ed.). Routledge Encyclopedia of Translation Studies. London & New York: Routledge, p. 235.         [ Links ]

Umberto, E & Siri, N. 2008. Semiotic Approaches. In Baker, M. (ed.). Routledge Encyclopedia of Translation Studies. London: Routledge, p.222.         [ Links ]

Van Rensburg, F. 2006. Die Tsotsi-evangelie: O Mri vannie padkamp.Pretoria: Lapa Uitgewers, p.15.         [ Links ]

Venuti, L. 2004. The Translation Studies Reader.London: Routledge, pp.132,139.         [ Links ]

 

 

CORNÉ VAN DER VYVER is 'n dosent in die Fakulteit Opvoedingswetenskappe aan die Noordwes-Universiteit. Sy behaal die BA(Ed) in 1990 aan die Universiteit van die Vrystaat en in 2007 verwerf sy die Honneurs in Taalpraktyk aan die Noordwes-Universiteit (NWU). Sy is tans besig met 'n meestersgraad by die Skool vir Tale aan die NWU. Sy hou vir 15 jaar lank skool by primêre sowel as sekondêre skole en begin in September 2006 by die NWU as programevalueerder. Vanaf Januarie 2007 beklee sy ook die pos van junior lektor in Afrikaans by die Skool vir Voortgesette Onderwysersopleiding aan die universiteit.
CORNÉ VAN DER VYVER is employed as a junior lecturer in the Faculty of Educational Sciences at the North-West University. She obtained the degree BA(Ed) in 1990 at the University of the Free State and in 2007 she was awarded the BA Honours in Language Practice at the North-West University (NWU). Currently she is enrolled for Masters study in the School of Languages at the NWU. After having taught for 15 years in primary as well as secondary schools, she started as a program advisor at the NWU in September 2006. Since January 2007 she has also been employed as a junior lecturer of Afrikaans in the School of Continuing Teachers Education at the North-West University.

 

 

1 In hierdie artikel gaan dit nie oor die tradisionele opvatting van Bybelvertaling as vertaling van 'n geskrif waarin dogma en ideologie vervat is, wat so akkuraat moontlik aan doeltekslesers oorgedra moet word nie. Dit handel oor die skepping van 'n kreatiewe teks met die oogmerk om te vermaak en te ontroer, eerder as om te onderrig. Die Bybelteks word slegs aangewend om te verduidelik hoedat 'n transponering vanuit 'n bekende Standaardafrikaanse teks na 'n Niestandaardafrikaanse teks (kan) geskied.
2 Hier is inderdaad sprake van transponerings en nie van vertalings van die Bybel nie; die doel met hierdie transponerings was nie om akkurate getroue weergawes van die oorspronklike (byvoorbeeld Hebreeuse of Griekse) tekste tot stand te bring nie. Omdat die Bybel self egter veronderstel is om 'n getroue en akkurate vertaling van die oorspronklike Hebreeuse en Griekse tekste te wees, bestaan dit tans slegs in Standaardafrikaans, met die veronderstelling dat dit só meer toeganklik sal wees vir die deursnee Afrikaanssprekende.
3 Om dieper insig in die lewe en bestaan van die Tsotsi te verkry, is o.a. Don Materra, 'n Tsotsi-bendeleier in Sophiatown, se "Memory is the weapon" (1987) geraadpleeg.