SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.51 issue2 author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Tydskrif vir Geesteswetenskappe

Print version ISSN 0041-4751

Tydskr. geesteswet. vol.51 n.2 Pretoria Jun. 2011

 

NAVORSINGS- EN OORSIGARTIKELS RESEARCH AND REVIEW ARTICLES

 

Leser en konteks: 'n resepsiestudie oor Afrikaanse romanselesers

 

Reader and context: a reception study of Afrikaans romance readers

 

 

Maritha Snyman; Cecilia Penzhorn

Departement Inligtingkunde, Universiteit van Pretoria. marithas@lapa.co za; Cecilia.Penzhorn@up.ac.za

 

 


OPSOMMING

Hierdie artikel wys op die winste van ander literatuurstudiebenaderings as teksanalise. Na 'n kort opsomming van navorsingsperspektiewe wat op die omgang van die leser met die teks fokus, word die opset en bevindinge van 'n leserstudie onder Afrikaanse lesers van romanses beskryf. 'n Vergelyking met ander studies oor dieselfde genre dui op ooreenkomste, soos dat die genre lesers help om aan die werklikheid te ontsnap en ontvlug, maar ook op verrassende verskille. Ten spyte van die patriargale omgewing waarin die Afrikaanse romanseleser lewe, word dit - anders as in ander studies - verswyg as rede vir ontvlugting. Die studie wys op die noue verbintenis tussen teks, leser en konteks wanneer die Afrikaanse romanselesers ontvlugting van misdaad as die werklikheid waarvan hulle wil ontvlug, aandui.

Trefwoorde: romanse; romantiese fiksie; resepsiestudie; leserstudie; liefdesverhale, populêre literatuur


ABSTRACT

This article highlights the gains of approaches other than that of text analysis to the study of literature.
The romance is a literary genre that developed in Western culture mainly in English speaking countries. Romantic love is the essence of romantic fi ction and romances focus primarily on the love and romantic relationship between a man and a woman and have optimistic and emotionally satisfying endings. Until quite recently the idea of reading a romance often evoked derision, and there was a general assumption that the novels were read by less educated and less sophisticated women. However, romance publishing is big business in the West and also in South Africa and the question thus arises as to why this genre is singled out for ridicule. This article, which is based on a readership study of Afrikaans readers of romance novels, seeks to understand this phenomenon.
After a short overview of research perspectives that focus on the association of the reader with the text, the context and results of the readership study are discussed. The study was undertaken on behalf of a South African publishing house and focuses on the demography of Afrikaans speaking romance readers, their overall reading practices and the reasons for reading romances.
The investigation was loosely based on Radway's seminal study on readers of romances as discussed in her book Reading the Romance (1983). Questionnaires were included in a consignment of romances sent to members of romance book clubs. The questionnaires included, inter alia, the questions of why the respondents read romances and why these novels are preferred, or are felt to be "better" to read, than other books.
One of the main themes that emerged from the responses was the women's need to escape from the unsatisfactory realities of everyday life. This corresponds directly with results obtained from other studies of the genre. However, a surprising difference with existing studies also emerged when the responses regarding what respondents were escaping from were analysed. In spite of the patriarchal environment in which Afrikaans speaking women in South Africa fi nd themselves, this was not, as was predominant in other studies, mentioned as a reason/factor from which to escape. Instead, the South African women overwhelmingly indicated that they read romance novels to escape from the realities of rampant crime and violence touching upon their everyday lives.
The main contribution of this readership study therefore, in which Afrikaans romance readers indicate that through their reading of romance novels they manage to escape from an unsatisfactory, crime-ridden reality, is that it clearly shows the close relationship between reader, text and sociohistorical realities. It furthermore demonstrates that literature can also be studied for the role it plays in the life of the reader and how the reader, by means of romance texts, may cope with such contexts and/or realities.

Key words: romance; romantic fiction; reception study; readership study; lovestory, popular literature


 

 

1. INLEIDING

Die term romantiese fiksie verwys nie na romans waarin 'n liefdesverhaal deel van die intrige is nie, maar na 'n genre waarin die romantiese liefde tussen man en vrou die primêre fokus is. Hoewel romantiese fiksie deur verskeie permutasies gegaan en verskillende skrywers op die horison verskyn en weer verdwyn het, is dit die gekanoniseerde Jane Austen se Pride and Prejudice wat deur liefdesverhaallesers as die prototipe van die genre en die mees romantiese roman van alle tye beskou word.1

Onder die genre romantiese fiksie word verskeie subgenres onderskei wat, benewens die meer bekendes soos romanses ("romance" in Engels), romantiese spanningsverhale ("romantic suspense") en historiese romanses, ook deesdae "chick lit", "divorce lit" en selfs "granny lit" insluit (Dennys 2006).

Romanses, een van die subgenres van romantiese fiksie, se wortels lê in die volkspoësie van die Middeleeue, naamlik 'n verhalende gedig met "een amoureuse en avontuurlijke thematiek en gewoonlijk eindigend op een happy end" (Van Gorp 1980:150). In die reël verwys dit na 'n liefdesverhaal met een sentrale intrige, 'n voorspelbare struktuur en 'n gelukkige einde: 'n sprokiesagtige teks waarin die held en heldin uiteindelik gelukkig saamwoon. Die heldin is gewoonlik vurig en passievol en die held in alle opsigte haar gelyke.2 Die spanning in die teks word nie geskep deur wat die uiteinde gaan wees nie, maar hoe die held en heldin bymekaar gaan uitkom ten spyte van die struikelblokke in die eksterne omgewing en binne hulle eie verhouding. Bone (2006:18) verduidelik die aard van die romanse soos volg: "it is to some extent predictable but that's no different to Agatha Christie, Ian Rankin or John Grisham. You know what's going to happen before you start". Die romanse se doel is dus nie om intellektueel uitdagend te wees nie, maar om die leser met 'n gevoel van emosionele bevrediging of genoegdoening te laat: nie om krities die romantiese liefde onder die loep te neem nie. As Human (2007) byvoorbeeld beweer dat hy skepties staan "teenoor enige roman waarin 'n komplekse verskynsel soos die liefde binne die bestek van 'n honderdtal bladsye deurgrond, uitgeskryf en opgelos word", dui dit aan dat hy nie die wese en doelwit van die genre begryp nie.

Romantiese fiksie was nog altyd die skyf vir spot en word dikwels belaglik gemaak deur literatore en resensente wat afwysend en pejoratief daaroor skryf. Die genre word selfs in literêre werk gesatiriseer. Oscar Wilde se onvleiende karakter, Miss Laetitia Prism en E.M. Forster se ewe bespotlike Elinor Lavish (Dennys 2006) is goeie voorbeelde van die wyse waarop die genre gestereotipeer en bespot word. In Afrikaans word na die romanse (en soms ook na ander liefdesverhale wat nie romanses is nie) verwys as "hygromans", "lakenliteratuur", en selfs "suigromans". Die outeurs word spottenderwys die "sekstigers" genoem. Die soekterm "hygroman" op GoogleTM lewer talle bewyse van pejoratiewe opmerkings oor die genre in literêre gespreksgroepe, blogs, resensies, ensovoorts. Ons haal 'n paar voorbeelde aan: "Hygromans sit die knip terug ..."; "G'n prikkelende storie-agtige hygroman..."; "Dis soos 'n Huisgenoot-storie, jy weet, of soos 'n hygroman ..."; "In haar latere jare het sy onder verskillende skuilname ook talle nie-literêre boeke, en selfs 'n hygroman of twee geskryf", ensovoorts.

Die persepsie is gevolglik dat romanses literatuur is wat deur ongekwalifiseerde en ongesofistikeerde vroue gelees word (Radway 1984; Segal 2008; Wethington 1999) met die gevolg dat vroue - soos in Jarvis (2006) se studie - skaam is om te erken dat hulle hierdie "emotionally expressive writing" geniet (Jarvis 2006:71). Verskeie studies en artikels verskyn egter internasionaal en plaaslik waarin romanselesers teen die verskynsel in opstand kom (Crusie 1998; Snyman 2007; Radloff 2010).

Tog is romantiese fiksie wat romanses insluit, in 'n sekere sin die pilaar waarop die Westerse uitgewersbesigheid rus. In die VSA domineer romanses die sagtebandmark waar een uit elke vyf mense wat boeke lees, romanses lees. Romantiese fiksie was byvoorbeeld die genre wat die beste presteer het op die New York Times, USA Today, en Publishers Weekly se blitsverkoperlyste in 2008 (Romance Writers of America 2009). In die Verenigde Koningryk verkoop daar gemiddeld elke 6,6 sekondes 'n boek van hierdie genre in 'n boekwinkel (Segal 2008). Selfs gedurende die huidige resessie het die verkope van romantiese fiksie die verkope van alle genres oortref (Rich 2009).

Ook vir Afrikaanse lesers is daar 'n wye reeks romantiese fiksie en romanses beskikbaar. Geen week gaan verby waarin romantiese fiksie - romanses en ook bundels wat ou romanses insluit - nie die topverkoperlyste haal nie. Die meeste uitgewers wat Afrikaans uitgee, gee romanses op 'n maandelikse basis uit. Jacklin Enterprises vertaal byvoorbeeld van die Mills & Boonromanses vir hulle Afrikaanse boekklub (Jacklin Enterprises 2009). LAPA en Tafelberg Uitgewers, wat albei algemene uitgewers van Afrikaanse boeke is, publiseer romanses wat in Afrikaans ontwikkel word en wat deur boekklubs (soortgelyk aan dié van Mills & Boon) versprei word: Tafelberguitgewers deur middel van hulle sustersmaatskappy, Leserskring en LAPA Uitgewers deur hulle Romanza-klub. Albei bogenoemde uitgewerye, sowel as NB se Human & Rousseau, publiseer ook verskeie ander subgenres van romantiese fiksie.

Die vraag ontstaan dus waarom hierdie genre - en veral die romanse as subgenre - in diskoerse oor die literatuur uitgesonder word vir bespotting en venyn.3 Dieselfde tipe diskoers word byvoorbeeld nie aangetref oor strokiesprente, speurverhale, en "cowboy-verhale" nie - almal ook populêre genres met voorspelbare verhale wat ingestel is op ontvlugting.

In hierdie artikel wat gebaseer is op 'n leserstudie uitgevoer onder Afrikaanse romanselesers, word hierdie verskynsel onder die loep geneem deur:

• 'n kort oorsig te gee van die plek van die leser in die literatuurstudie;

• aan te toon wat die demografi ese profiel van die Afrikaanse romanseleser is en waarom hulle die genre lees; en

• aan te dui hoe 'n fokus op die interaksie tussen leser en teks besondere insigte kan lewer oor die rol van fiksionele tekste binne 'n bepaalde maatskaplike konteks.

 

2. DIE LESER EN DIE TEKS

Literatuurstudie in Suid-Afrika word dikwels vanuit 'n benadering waarin die teks die primêre uitganspunt is, bedryf. Volgens die teksgerigte benadering is letterkundiges, geskool in die tradisie van die hermeneutiek, die kundige lesers wat tekste evalueer en dan op grond van "objektiewe" literêre vereistes bepaal wat letterkunde is en wat populêr is. In Suid-Afrika bestaan daar tussen letterkunde en populêre literatuur ook nog 'n middelgrond wat middelmootliteratuur genoem word (Van Coller 2010). In 'n literatuurbenadering waarin die teks oorwegend die uitgangspunt is, word die literêre diskoers grootliks bepaal deur kenners wat volgens hulle lesersperspektief bepaalde waardes aan fiksionele tekste heg. Weideman (1988) wys byvoorbeeld op die probleme met dié benadering wanneer hy aandui dat die teksgerigte studie van literatuur die letterkunde kan dekontekstualiseer.

Daar bestaan wel voorbeelde waarin literatuurstudie fokus op die leser en die impak wat die teks op die leser uitoefen, eerder as op die teks self. Aristoteles se teorie oor katarsis is byvoorbeeld afgelei van sy waarnemings hoe die tragedie die mens se emosies beïnvloed. Daar bestaan ook voorbeelde van ander studies in die Westerse literatuurtradisie waar die verhouding tussen die leser en teks sentraal staan. Die kort opsomming wat hier volg, is nie omvattend nie.

Met die publikasie van I.A. Richards se Practical Critisism: A study in literary judgement (Richards 1930) het verskeie studies oor 'n tydperk van twintig jaar verskyn waarin die reaksie van lesers op tekste ondersoek is. Ondersoek is ingestel na die verskille en ooreenkomste tussen die begrippe waardering en (wan)interpretasie van literêre tekste en ook op die verband tussen leesresponse en persoonlikhede (Cross 1940).

Die resepsie-estetika was nog 'n literêre benadering wat die verband tussen leser en teks ondersoek het. Beskouings hieroor het gewissel van Holland (1968) wat geglo het dat lees primêr 'n herskepping van die leser se eie identiteit is; dat lesers tekste "voltooi" deur hulle eie ondervinding en kennis na die teks toe te bring (Iser 1978); en dat die teks se betekenis nie staties is nie, maar verander volgens die konteks waarbinne die leesaksie plaasvind (Fish 1980; McCormick 1994).

In die literatuursosiologie val die fokus op literatuur as 'n sosiale verskynsel - op die interaksie tussen samelewing en literatuur (Hall 1979). Ook hier is die resepsieproses soms die onderwerp van navorsing, naamlik hoe die literatuur en die samelewing mekaar weerspieël en/of van mekaar verskil en hoe lesers in verskillende kontekste op verskillende of dieselfde tekste reageer.

Buite die literêre navorsingsveld het leserstudies in die joernalistiek ontwikkel vanaf 1930. Die benadering vergelyk, onder andere, die lees van koerante met veranderlikes soos lesers se ouderdom, opvoeding en ekonomiese status, asook hoe die leser met die teks omgaan. Een van die baanbrekers op die gebied is Wilbur Schramm wat naas aspekte soos die diepte van lees ook lees met persoonlikheidsveranderlikes probeer korreleer het (Schram 1957).

Eietydse Kultuurstudie wat literatuur as 'n onderdeel van kultuur beskou en wat sogenaamde meesterkodes, naamlik ras, stam, geslag en tradisie krities ondersoek, sluit per definisie ook die leser as objek van ondersoek in en dan veral die leser en sy/haar posisie binne magstrukture in die samelewing (Malan 1990).

Lesers- en resepsiestudie word vandag meer algemeen gebruik in joernalistiek en in marknavorsing wat die resepsie van tekste, soos artikels in akademiese tydskrifte tot advertensietekste, ondersoek. Resepsiestudies wat fokus op fiksionele tekste handel hoofsaaklik oor die resepsie van kinder- en jeugliteratuur en romanses.

Die keuse van moontlike teoretiese invalshoeke waarvolgens 'n resepsiestudie gedoen kan word is, soos hierbo kortliks aangedui, legio. Die huidige studie kan getipeer word as 'n resepsiestudie met 'n literatuursosiologiese perspektief waarin die romanseleser se belewenisse binne 'n sosiaal-historiese werklikheid bestudeer word.

 

3. DIE LESERSTUDIE

Die leserstudie waaroor daar in hierdie artikel gerapporteer word, is 'n ondersoek na die leesgewoontes van Afrikaanse romanselesers in opdrag van 'n Afrikaanse uitgewer. Die leserstudie fokus op die demografie van die Afrikaanse romanselesers, wat hulle leespraktyke is en waarom hulle romanses lees.

Die studie wat onderneem is, is losweg gegrond op 'n vraelys wat as aanhangsel bygevoeg is by Radway (1984) se seminale studie, Reading the Romance - die eerste leserstudie waarin die lesers en resepsie van romanses ondersoek is.

Radway het in haar studie 'n etnografiese navorsingsbenadering gevolg waarin sy vanaf 1980 tot 1981 die leesgewoontes en resepsie van twee-en-veertig romanselesers in Smithton, 'n klein dorpie in die Weste van die VSA, ondersoek het. Die studie oor Afrikaanse romanselesers was, daarenteen, 'n kwantitatiewe studie waarby respondente anoniem bereik is. Die vraelys wat agter in Radway se boek verskyn, bevat vrae oor, onder andere, die demografie van die respondente, hulle houding teenoor die media en menings oor lees en boeke. (Die vraelys verskyn as aanhangsel na die bronnelys.)

Om die kwantitatiewe data te verryk en te verifieer, is kwalitatiewe data bekom deur die bygevoeging van 'n enkele oop vraag aan die einde van die vraelys. Die doel van die vraag "Waarom is liefdesverhale beter as ander boeke?" was om die respondente die geleentheid te gee om buite die beperkings van die veelkeusige vrae van die vraelys, hulle spontane mening weer te gee.

Vir hierdie studie het die toeganklike navorsingsbevolking bestaan uit lede van 'n Afrikaanse romanseklub. Vraelyste is ingesluit in die boeke wat een maand aan klublede gepos is. As 'n aanmoediging om die vraelys in te vul, het een leser die kans gestaan om liefdesromans ter waarde van R500.00 te wen. 'n Totaal van 593 vraelyste is terugontvang.

Die vraelys het nie na 'n spesifieke tipe romanse verwys nie en ook nie slegs na die romanses wat deur die spesifieke uitgewer uitgegee is nie, maar na die lesers se ervarings en menings oor die genre romanse in die algemeen.

Die data verkry van die vraelyste is gekodeer en statisties verwerk. Die kwalitatiewe data wat bekom is deur die oop-einde vraag is deur middel van oop kodering geanaliseer en daarna geïnterpreteer.

3.1 Afrikaanse romanselesers: wie is hulle en waar, wanneer en wat lees hulle?

Die volgende bevindinge van die studie wat betrekking op hierdie artikel het, word kortliks aangetoon:4

Ouderdom: Die grootste aantal lesers was tussen 40 en 50 jaar oud met ewe veel lesers tussen die ouderdomme 30 tot 40 as tussen 50 tot 60.

Geslag: Die oorgrote meerderheid van die respondente was vroulik - slegs 2,04% van die respondente was manlik.

Beroep: Die meeste van die respondente werk nie buitenshuis nie (41%) en byna 'n derde van die wat buitenshuis werk (29,3%), doen administratiewe werk.

Kwalifikasie: Byna 'n derde van die respondente (28,8%) het tersiêre kwalifikasies. Dit kom ooreen met die gemiddelde kwalifikasie van die wit bevolkingsgroep soos aangedui in die 2001 sensusopname, naamlik dat 29,8% 'n tersiêre kwalifikasie behaal het.

Huwelikstatus: Die meeste respondente (63,41%) is getroud.

Kinders: Die meeste respondente het kinders (65,94%), terwyl 15,85% geen kinders het nie. Van die wat kinders het, is 52,47% se kinders tussen 20 en 40 jaar oud.

Beroepe van gades: Die meeste respondente se gades is afgetree (20.6%) en byna dieselfde persentasie, naamlik 20% van die respondente se gades, beoefen beroepe wat as bestuursposte geklassifiseer kan word. Die respondente het dus waarskynlik genoeg besteebare inkomste om boeke te koop.

Stokperdjies: Van die respondente het 16,36% geen ander stokperdjie as lees nie. Die meerderheid (58,18%) beoefen ook ander stokperdjies wat 'n wye verskeidenheid insluit. Ses honderd drieen-dertig items is deur die 593 respondente as stokperdjies wat hulle beoefen, aangedui. Die meeste liefdesverhaallesers beoefen stokperdjies wat kreatiwiteit verg en wat hulle tuis kan doen.

Leesaanvang van genre: Die grootste meerderheid respondente (71,78%) begin liefdesverhale as tieners lees: tussen die ouderdomme 10 en 19. Die meeste liefdesverhaallesers (49,09%) het vir hulle plesier begin lees tussen die ouderdom 11-20. Die persentasie respondente wat vir hulle plesier begin lees na die ouderdom van 21 jaar is 'n skrale 7,31%.

Ander genres: Die respondente lees OOK ander boeke: speur- en spanningsverhale is, naas liefdesverhale, die gewildste genre. Slegs 5,55% van die respondente lees niks anders as liefdesverhale nie.

Leesfrekwensie: Die meeste respondente lees 1 tot 4 boeke per maand - ongeveer 1 per week terwyl slegs 7,14% respondente meer as 21 boeke per maand - byna 1 per dag lees. Tagtig persent van die respondente lees elke dag. Hierdie bevinding word deur die kwalitatiewe data wat in hierdie studie versamel is, ondersteun. Vergelyk byvoorbeeld 'n opmerking soos "ek lees elke oomblik wat ek 'n kans het"; "ek lees net wanneer daar tyd is, ook by die werk" en "selfs wanneer ek werk!" Indien hulle slegs naweke lees, "dan amper heeldag".

Ander leesstof: Behalwe tydskrifte en koerante wat onderskeidelik deur 50 en 4 respondente aangetoon is, is die enigste ander twee genres wat statisties beduidend is, geestelike boeke - aangetoon deur 50 respondente - en niefiksie wat deur 24 respondente genoem is. Laasgenoemde sluit boeke in met onderwerpe soos gesondheid, handwerk, resepte, die buitelewe en tuinmaak.

Tydskrifte: Liefdesverhaallesers is in beperkte mate ook tydskriflesers. Die lees van liefdesverhale neem waarskynlik die plek van tydskrifte in.

Televisie: Die meeste respondente (58,1%) kyk minder as 7 ure per week televisie. Hoewel daar nie geredelik statistiek beskikbaar is oor die gemiddelde tyd wat Afrikaanssprekende vroue televisie kyk nie, lyk dit asof romanselesers waarskynlik minder as die gemiddelde vrou televisie kyk. Die lees van liefdesverhale vervul waarskynlik dieselfde ontspanningsfunksie as wat televisie kyk vir ander vroue bied.

Radio: Die meeste respondente (44,1%) luister 7 uur en minder per week radio. Die bevinding dat 18,78% van die respondente 31 uur per week en meer radio luister, verwys waarskynlik na die funksie van die radio as die verskaffer van agtergrondmusiek terwyl ander take vervul word en dui nie soseer aktiewe radio-luister aan nie.

Opsommend kan hierdie groep respondente beskryf word as hoofsaaklik middeljarige vroue met 'n besteebare-inkomste wat (bo)-gemiddeld gekwalifiseer is en wye belangstellings het. Hulle is aktiewe lesers vir wie lees 'n baie belangrike deel van hulle lewe uitmaak (ook ander genres as romanses). Hulle is ingelig, kreatief en nie passiewe TV-verslaafdes nie. Hierdie bevindings korreleer met studies soos die van Gracie (2009) en Owen (1997:537), wat ook aantoon dat liefdesverhaallesers nie beperk is tot bepaalde sosiale vlakke of opvoedkundige agtergronde nie en dat hulle ook ander genres soos speurverhale en selfs letterkundige werke lees. Hierdie bevindings weerspreek die gestereotipeerde beeld van die romanseleser as 'n leëkopdolla wat verveeld tuis rondlê.

3.2 Afrikaanse romanselesers en hulle leesstof

Respondente heg waarde (ook fisiese waarde) aan die boeke wat hulle lees: 46% van hulle bewaar die boeke nadat hulle dit gelees het. Hierdie bevinding word bevestig deur verwysings van die respondente oor hoeveel boeke hulle het en hoe hulle dit kategoriseer.

Respondente heg ook emosionele waarde aan hulle boeke en lees nie net agter die storie aan nie. Byna die helfte van die respondente (43,09%) herlees hulle boeke gereeld, terwyl slegs 12,5% nooit liefdesverhale herlees nie.

Die meeste respondente lees soveel en wanneer hulle kan en hou nie op voor hulle klaar is nie. Die lees van liefdesverhale is 'n tipe verslawing. Dit word eksplisiet deur sommige respondente in aantekeninge in die vraelyste aangedui.

Die grootste groep respondente van hierdie studie (ongeveer 85%) is bewus daarvan dat die ooreenkoms tussen die werklikheid en dit wat in die romanse en die fiksionele wêreld uitgebeeld word, slegs gedeeltelik is. Lesers van liefdesverhale weet presies wat hulle lees en word nie "om die bos gelei" deur te glo dat die liefde wat in romanses beskryf word, noodwendig in die werklikheid bestaan nie.

3.3 Afrikaanse romanselesers: waarom lees hulle romanses?

Die bevindinge soos hierbo gestel, weerspreek weereens die algemene persepsie oor wie romanses lees, maar dit beantwoord egter nog nie die vraag waarom intelligente, kreatiewe, getroude sowel as ongetroude vroue met besteebare inkomste hierdie genre, wat met soveel neerhalende etikette benoem word, in sulke groot getalle bly lees nie. In hierdie verband moet daar gekyk word na antwoorde verkry uit twee verdere vrae.

In die laaste kwantitatiewe vraag van die studie ter hand moes lesers as antwoord op die vraag "Waarom lees jy romanses?" op 'n glyskaal aantoon watter een van die redes in die kolom hieronder aangetoon, die beste op hulle van toepassing is. Die resultate was soos volg:

 


Tabel 1 - Click to enlarge

 

Hieruit blyk dit duidelik dat die meeste respondente romanses hoofsaaklik om twee verwante redes lees naamlik: ontspanning en ontsnapping. Soos in Radway se studie bevind is, is ontsnapping uit die realiteit ook die primêre rede waarom Afrikaanse romanselesers romanses lees.

Die laaste en die enigste oop vraag van kwalitatiewe aard in die studie, het aan die respondente gevra om in hulle eie woorde neer te skryf waarom hulle daarvan hou om romanses te lees. 'n Analise van hierdie response volgens oop kodering soos beskryf deur Berg (1998) het interessante insigte oor die interaksie tussen die teks, die leser en die sosiaal-maatskaplike konteks opgelewer.

Die kodering van bogenoemde oop vraag het, soos die kwantitatiewe resultate in die tabel hierbo ook aandui, bevestig dat respondente die liefdesverhaal as óf ontspanning óf ontvlugting lees. Dit lyk asof hierdie twee begrippe op 'n kontinuum lê waarvan die een punt ontspanning is. Hier is ontspanning in die passiewe sin die doel van die leesaksie en die resultaat daarvan. Aan die teenoorgestelde punt van die kontinuum was dit duidelik dat sommige lesers hulself in so 'n mate vereenselwig met die fiktiewe wêrelde wat die boeke verbeeld dat die verbeelde werklikhede 'n substituut word vir die reële werklikheid wat die leser nie kan hanteer nie. Die ontspanning word dus vir sommige lesers ontvlugting waarin die liefdesverhaal die leser "wegvoer" en laat "ontsnap" na ander realiteite.5 Sommige lesers "leef" hulleself in so 'n mate in hierdie ander realiteite "in" dat dit 'n "substituut"-bestaan word vir 'n bestaan wat die leser nie bevredig nie. Sommige respondente gaan sover as om te beweer dat hierdie "inleef" in die liefdesroman hulle eie lewe "verander", hulle meer "insig" gee en hulle leer om hulle eie lewe beter te "hanteer".

3.4 Die Afrikaanse romanseleser: waarvan word daar ontvlug?

Radway soek redes vir die behoefte van lesers van romantiese fiksie om te ontvlug en kom tot die gevolgtrekking dat vroue wat romanses lees, wil ontvlug uit 'n oorheersende patriargale realiteit en die rolle wat die patriargale samelewing waarin hulle leef aan hulle voorskryf. Die aard van die verhoudings waarin hulle hulleself bevind, is uit hoofde van die patriargale aard daarvan, nie in staat om hulle emosionele behoeftes te bevredig nie. Hierdie gebrek aan emosionele versorging word tydelik deur die lees van romantiese fiksie aangespreek (Radway 1983).

Hoewel kritiek teen Radway se teoretiese begronding en aannames ingebring word (Purdie 1994), word Radway se gevolgtrekking in die algemeen ondersteun deur 'n Eietydse Kultuurstudieperspektief wat postuleer dat die "persoonlike" identiteit van vroue ondergeskik is aan die dominante manlike (ook literêre) wêreld waarin hulle leef (Easthope 1990).

Die Afrikaanse romanselesers noem of suggereer egter nooit in hierdie studie dat die patriargale stelsel en die invloed wat dit op verhoudings uitoefen, dit is waarvan hulle wil ontvlug of ontsnap nie. Dít, terwyl die Afrikaanse romanseleser steeds in 'n uitermate patriargale sosiale en politieke klimaat leef (Kadali 1995:74). Albie Sachs stel dit so: "... it is a sad fact that one of the profoundly non-racial institutions in South Africa is patriarchy" (Chubb 1991:23).

Om geslagsgelykheid te bereik, was (en is) 'n uitdaging vir Suid-Afrika, veral (en ook) omdat dit 'n multi-kulturele land is met tradisies wat direk teenstrydig is met geslagsgelykheid. Hoewel seksisme deur die grondwet verbied word, kom baie voorbeelde van geslagdiskriminasie steeds voor (Cawood & Potter 1996:16). So kort gelede as 2002 het die "Gender Advocacy Programme" (GAP) van Kaapstad Suid-Afrika se 50/50 veldtog geloods, wat deel vorm van 'n groter internasionale poging om die selektiewe aanstelling van vroue met as uiteindelike doel hulle gelyke verteenwoordiging op alle vlakke van regering (Charles Stewart Mott Foundation 2006) te bevorder.

Wat wel in die studie van Afrikaanse vroue voorkom, is dat al die lesers enkelduidig aantoon dat die lees van romanses vir hulle ontsnapping en ontvlugting bied uit 'n samelewing waarin misdaad en geweld hoogty vier. Hulle lees "om weg te kom", om "nie te dink aan" "moord en dood"; "moord"; "dood en geweld"; "dood en ellende"; "moord en doodslag", "moord en verkragting"; "die lewe (wat) so wreed is"; "daaglikse geweld"; "'n wêreld van vrees"; "vandag se geweld"; "geweld en hartseer"; "vandag se korrupsie"; "al die vreeslike dinge wat vandag gebeur"; "die boosheid in die land" nie, ensovoorts.

In hierdie Suid-Afrikaanse leserstudie word die verhouding tussen leser en teks dus verbind aan die sosiaal-maatskaplike realiteit waarin die Afrikaanse romanselesers hulle bevind. Om dit beter te begryp, moet gekyk word na hoe hierdie "realiteit" werklik lyk.

 

4. MISDAAD IN SUID-AFRIKA

Suid-Afrika is tans 'n besondere gewelddadige samelewing. In 1995 het 'n studie deur die World Health Organisation (WHO) aangetoon dat die moordkoers in Suid-Afrika hoër is as in enige ander land in die wêreld (Gilbert 1996:876). Daar word na Suid-Afrika verwys as "the crime capital of the world" (Masuku 2001). In die loop van meer as 'n dekade het hierdie situasie nie verbeter nie. Hoewel amptelike kanale aantoon dat daar 'n afname in sekere misdaadkategorieë is, tipeer die toename in ander kategorieë Suid-Afrika steeds as 'n uiters gewelddadige samelewing (SAPS 2009). Op 1 Junie 2010 het die Instituut vir Sekerheidstudie (ISS) se verteenwoordiger byvoorbeeld in die parlement aangetoon hoe misdaad van 2002 tot 2009 gestyg het: rooftogte by ondernemings van 5498 tot 13 920 en rooftogte by huise van 9063 tot 18,438 (Steenkamp 2010). Hoewel die ANC die navorsing van die ISS bevraagteken, moet daarop gewys word dat die Suid-Afrikaanse Polisiediens se eie statistiek soos hierbo aangehaal ook 'n styging in die misdade aantoon.

Die Amerikaanse Staatsdepartement ("State Department") identifiseer Suid-Afrika as 'n hoë misdaadrisiko-area (OSAC 2008). Hulle dui aan dat dit nie misdaad as sodanig is wat Suid-Afrika laat uitstaan nie, maar die vlak van geweld wat met misdaad gepaardgaan. Die algemene gebruik van vuurwapens tydens die meeste misdade vermeerder die waarskynlikheid van dodelike beserings by die slagoffers. Beduidend vir die konteks van hierdie studie is dan die persepsie dat witmense doelbewus die teikens van hierdie vlaag van misdaad en geweld is. Daar is toenemend bekommernis oor die moontlike voorkoms van rasgebaseerde geweld, veral teen die Afrikaanssprekende wit bevolking van die land (Stuijt 2009).

Misdaad is 'n universele probleem wat 'n negatiewe impak op die suksesvolle funksionering en stabiliteit van 'n samelewing het (Brown 2001: 270). In Suid-Afrika word die effek van misdaad op slagoffers en potensiële slagoffers op 'n persoonlike vlak gevoel op alle vlakke van gemeenskapslewe (Powdthavee 2005:531; Stuijt 2009). Nie alleen is daar 'n behoefte aan voldoende professionele dienste vir die geviktimiseerde slagoffers nie (Powdthavee 2005:542), maar is die polisiediens in Suid-Afrika ook onvoldoende (Brown 2001:282). In 'n gestruktureerde samelewing moet die bevolking glo dat die regstelsel hulle sal beskerm en dat misdadigers aan die pen sal ry. Dit is dus verstaanbaar dat daar 'n oorweldigende vrees bestaan dat waardes en morele waardes in Suid-Afrika bedreig word deur die misdaadsituasie in die land. Wat ook al die onderliggende redes/oorsake, bly die feit staan dat die Suid-Afrikaanse Polisiediens nie die vermoë of bronne het om die misdaadprobleem aan te spreek nie. Gevolglik en bykomend daartoe funksioneer die regstelsel nie op 'n vlak wat as 'n afskrikmiddel vir misdadigers dien nie en beskerm dit ook nie die waardes wat as vanselfsprekend in 'n samelewing aanvaar behoort te word nie (Brown 2001: 282; OSAC 2008).

 

GEVOLGTREKKING

In Suid-Afrika moet die Afrikaanssprekende romanselesers se behoefte aan ontvlugting gesien word teen die agtergrond van die gewelddadige samelewing waarin hulle lewe. Of soos Jarvis dit stel: "Women (use) books ... to explore issues and situations pertinent to their own lives .... They (look) for heroines facing difficulties like their own ... to explore a wide range of issues including race, gender, class, violence ..." (Jarvis 2006:71).

Die verbatim response van die lesers wat byna as 'n soort mantra lees, tipeer die aard van die werklikheid soos hulle dit beleef. Ons sou dus wou postuleer dat die (moontlike) behoefte van die Afrikaanse vroulike lesers om soos Radway se lesers te ontsnap van 'n onbevredigende manlike patriargie, gesublimeer word deur 'n groter bedreiging wat hulle persoonlike lewe oorheers.

Die wins van hierdie leserstudie was dus 'n totaal onverwagte bevinding wat die emosionele belewinge van Afrikaanse vroue in 'n spesifieke konteks ontbloot. Dit dui onder andere aan hoe die verhouding tussen teks en leser beïnvloed word deur die sosiaal-historiese werklikheid - 'n gemeenskapsrelevante benadering in literatuurstudie (Weideman 1988). Dit toon aan dat literatuur ook bestudeer kan word vir die rol wat dit in lesers se lewens speel en hoe die leser deur middel van die teks die samelewing/konteks hanteer.

Die bevindinge van die studie laat ook ander interessante vrae ontstaan: Word die verkope van romanses/romantiese fiksie beduidend beïnvloed deur die Afrikaanse leser se sosiaalmaatskaplike omstandighede? Is "ontsnapping van die realiteit" inherent aan alle fiksionele tekstualiteit? Lees alle lesers om te ontsnap? Indien wel, verskil die interaksie tussen die leser en romanses met hulle reaksie op ander genres? Die moontlikhede is eindeloos en interessant en kan groter begrip skep vir die leser se verhouding tot en gebruik van fi ksionele tekste.

 

BIBLIOGRAFIE

Berg, B.L. 1998. Qualitative research methods for the social sciences. 3rd ed. Boston: Allyn & Bacon.         [ Links ]

Bone, A. 2006. An unlikely romance. The Bookseller, 1 September: 18-19.         [ Links ]

Brown, K. V. 2001. The determinants of crime in South Africa. South African Journal of Economics, 69(2):269-298.         [ Links ]

Cawood, L. & Potter, A. 1996. Women and development. Social Work Practice, 1 (March):14-17.         [ Links ]

Charles Stewart Mott Foundation, 2006. Woman in South Africa still seek equality. Mott Mosaic. http://mott.org/publications. [15 October 2007]         [ Links ].

Chubb, K. 1991. Political liberation under partriarchy. Die Suid-Afrikaan, (32), April/Mei.         [ Links ]

Cross, N.M. 1940. The background for misunderstanding. English Journal, XXIX: 366-370.         [ Links ]

Crusie, J. 1997. Romancing reality: the power of the romance fiction to reinforce and re-vision the real. Paradoxa Studies in World Literacy Genres, 1-2:81-93.         [ Links ]

Crusie, J. 1998. Defeating the critics - what we can do about the anti-romance bias. Romance Writers' Report, 18(6):38-39, 44.         [ Links ]

Dennys, H. 2006. In the mood for love. The Bookseller, 3 Nov.:28-30.         [ Links ]

Easthope, A. 1990. What a man's gotta do: the masculine myth in popular culture. London: Harper Collins.         [ Links ]

Fish, S. 1980. Is there a text in this class? Cambridge, MA.: Harvard University Press.         [ Links ]

Gilbert, L. 1996. Urban violence and health: South Africa 1995. Soc Sci Med, 43(5): 873-886.         [ Links ]

Gracie, A. 2009. 10 Myths about romance. RWA Romance Writers of Australia. http://www.romanceaustralia.com/mythsofromance.html. [26 January 2009]         [ Links ].

Hall, J. 1979. The sociology of literature. London: Longman.         [ Links ]

Holland, N. 1968. The dynamics of literary response. New York: Oxford University Press.         [ Links ]

Human, T. 2007. Die liefde dryf jou soms tot uiterstes. Beeld, 23 Julie 2007. http://152.111.1.88/argief/berigte/beeld/2008/10/30/B1/13/djDonker.html. [2 Februarie 2010]         [ Links ].

Iser, W. 1978. The act of reading. Baltimore MD: John Hopkins.         [ Links ]

Jacklin Enterprises. 2009. Mills & Boon: Afrikaanse leesgenot. http://www.jacklin.co.za/products.php. [4 Februarie 2010]         [ Links ].

Jarvis, C. 2006. Using fiction for transformation. New directions for adult and continuing education, 2006 (109):69-77.         [ Links ]

Kadali, R. 1995. The F-word. Agenda, 25:73-78.         [ Links ]

Masuku, S. 2001. South Africa: world crime capital? Nedbank ISS Crime Index, 5(1). http://www.iss.co.za/pubs/CrimeIndex/01Vol5No1/World.html. [2 February 2010]         [ Links ].

McCormick, K. 1994. The culture of reading and the teaching of English. Manchester: Manchester University Press.         [ Links ]

Malan, C. 1990. Viool en voorlaaier: kultuurstudie in 'n Rome wat brand. Pretoria: RGN.         [ Links ]

OSAC (Overseas Security Advisory Council). 2008. South Africa 2008: Crime and safety report. http://www.osac.gov. [25 Januarie 2008]         [ Links ].

Owen, M. 1997. Re-inventing romance: reading popular romantic fiction. Women's Studies International Forum, 20(4):537-546.         [ Links ]

Powdthavee, N. 2005. Unhappiness and crime: evidence from South Africa. Economica, 72: 531-547.         [ Links ]

Purdie, S. 1994. Janice Radway, "Reading the romance". In Barker, M. & Beezer, A. (eds). Reading into Cultural studies. London: Routledge.         [ Links ]

Radloff, L. 2010. Los ons liefdesverhale uit, asseblief. Rapport: Boeke. 7 Februarie 2008.         [ Links ]

Radway, J. A. 1983. Women read the romance: the interaction of text and context. Feminist Studies, 9(1): 53-78.         [ Links ]

Radway, J. A. 1984. Reading the romance. Wilmington, Carolina; University of North Carolina Press.         [ Links ]

Rich, M. 2009. In a recession, what people want is a happy ending. New York Times, April 8 2009: C1.         [ Links ]

Richards , I. A. 1930. Practical Criticism: A study in literary judgement. New York: Harcourt, Brace and World Inc.         [ Links ]

Romance Writers of America. 2009. Romance literature statistics: overview. http://www.rwanational.org.cs/the_romance_genre/romance_literature_statistics. [26 Januarie 2009]         [ Links ].

SAPS (South African Police Service). 2009. Crime Statistics Annual Report. http://www.pmg.org.za/files/docs/090922crimestats. [3 Februarie 2010]         [ Links ].

Schramm, W. 1957. Twenty years of journalism research. Public Qpinion quaterly, XXI(Spring): 91-107.         [ Links ]

Snyman, M. 2007. Geleerde dames en here, staak die snedigheid oor liefdesverhale! Beeld: By, 7 Julie 2007: 5.         [ Links ]

Segal, F. 2008. Who said romance was dead? The Observer, 27 January, 2008. http://www.guardian.co.uk/books/2008/jan/27/fiction.features1. [26 Januarie 2009]         [ Links ].

Steenkamp, L. 2010. Polisie se herskikking het misluk. Beeld, 2 Junie 2010: 4.         [ Links ]

Stuijt, A. 2009. Whites in South Africa increasing targets of hate-crime. Digital Journal. http://www.digitaljournal.com. [20 Januarie 2009]         [ Links ].

Van Coller, H. 2010. Middelmootliteratuur vs letterkunde. (Leier van) Gesprek op 8 Julie, as deel van Volksbladfees, gehou in Bloemfontein, 6-10 Julie 2010.         [ Links ]

Van Gorp, H. 1980. Lexicon van literaire termen. Groningen: Wolters-Noordhoff.         [ Links ]

Weideman, G. 1988. Pleidooi vir 'n gemeenskapsrelevante benadering in literatuurwetenskap en -praktyk. Journal of Literary Studies, 4(2):144-166.         [ Links ]

Wethington, E. 1999. Are academic opinions about romance all negative? All about romance: the back fence for lovers of romance novels. http://www.likesbook.com. [24 Mei 2007]         [ Links ].

 

 

MARITHA SNYMAN is vanaf 1974 verbonde aan die Departement Afrikaans by die Universiteit van Pretoria. In 1999 word sy aangestel as medeprofessor in die Departement Inligting waar sy Inligting vir ontwikkeling en Ontwikkelingskommunikasie doseer. Sy verlaat die diens van UP in 2008 en word aangestel as besturende direkteur van LAPA Uitgewers. Sy bly egter op 'n tydelikdeeltydse basis betrokke by die Departement Inligtingkunde. Sy is bekend vir haar navorsing oor Afrikaanse kinder- en jeugliteratuur, veral as een van twee redakteurs van die eerste omvattende geskiedenis van die Afrikaanse kinder- en jeugliteratuur, Van Patrys-hulle tot Hanna Hoekom. Sy doen ook navorsing oor die resepsie van lesers en doseer 'n nagraadse program in Ontwikkelingskommunikasie. Self skryf sy verskeie kinder- en jeugboeke waarin haar lesersgerigte benadering duidelik blyk. Haar ander publikasies sluit resensies, artikels in tydskrifte en koerante in, asook meer as 30 publikasies in vakwetenskaplike tydskrifte. Sy is van 1992 aktief betrokke by verskeie Afrikaanse geletterdheids- en ander gemeenskapsprojekte. Tans bestuur sy 'n leesbevorderingsprojek in Upington waarby meer as 600 lesers betrokke is.
MARITHA SNYMAN has been involved with the Department of Afrikaans at the University of Pretoria since 1974. In 1999 she was appointed associate professor in the Department of Information Science at the same institution, where she was responsible for the courses Information Development and Development Communication. At the end of 2008 she left the University of Pretoria and accepted a position as Managing Director of LAPA Publishers. However, she is still involved, on a temporary part time basis, with the Department of Information Science at UP. She is best known for her research on Afrikaans children's and youth literature, notably as co-editor of a comprehensive literary history entitled Van Patrys-hulle tot Hanna Hoekom. She aslo focuses, in her research, on reader reception theory and teaches a postgraduate programme in Development Communication. She is the author of a number of books intended for children and young adoloscents in which her reader centred approach is apparent. Other publications include reviews, articles in journals and newspapers, as well as more than 30 publications in journals for the subject specialist. Since 1992 she has been actively involved in various Afrikaans literacy and other community projects. Currently she coordinates a project aimed at the improvement of reading in Upington, in which more than 600 readers participate.

CECILIA PENZHORN is vanaf 1999 in 'n voltydse hoedanigheid by die Departement Inligtingkunde aan die Universiteit van Pretoria betrokke. Sy bied tans onderrig aan in Inligtingorganisasie en -verteenwoordiging, Inligtingsetiek en Navorsing in die digitale omgewing op voorgraadse vlak. Op nagraadse vlak bied sy klasse aan in BIS (Hons) Navorsingsmetodologie en is sy studieleier of medestudieleier vir verskeie MA, MIS en MIT studente. Haar huidige navorsingsbelangstelling is in die biblioteek 2.0 Arena, spesifi ek met betrekking tot die toepassing van sosiale netwerk- en kommunikasietegnologieë in die akademiese biblioteekomgewing, asook die gebruik van Web 2.0 Tegnologie vir Inligtingsgeletterdheidsopleiding met groot groepe voorgraadse studente.
CECILIA PENZHORN joined the Department of Information Science at the University of Pretoria in a full-time capacity in 1999. She is currently involved in teaching courses in Information Organization and Representation, Information Ethics, and Digital Libraries, at undergraduate level. At postgraduate level she teaches BIS (Hons) Research Methodology, and she is study leader or co-study leader for various MA, MIS and MIT students. Her current research interest lies in the web 2.0/Library 2.0 Arena, specifi cally with regard to the application of social networking and communication technologies in the academic library environment, as well as the use of Web 2.0 Tools for Information Literacy training in large groups.

 

 

1 Volgens 'n RNA (Romantic Novelists'Association) stemming in 2005.
2 Vergelyk in dié verband bv. die verhaalmatige ooreenkomste met Shakespeare se Taming of the Shrew.
3 Dit is die vraag wat ook deur Radway en ander soos Crusie (1997, 1998) en Purdie (1992) gestel word.
4 Die volledige verslag van die studie is beskikbaar by Prof. Maritha Snyman: marithas@lapa.co.za
5 Aanhalings hier, in die res van die paragraaf, en ook in verdere opvolgende paragrawe, dui op verbatim aanhalings verkry uit antwoorde van die respondente.