SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.51 número2 índice de autoresíndice de assuntospesquisa de artigos
Home Pagelista alfabética de periódicos  

Serviços Personalizados

Artigo

Indicadores

    Links relacionados

    • Em processo de indexaçãoCitado por Google
    • Em processo de indexaçãoSimilares em Google

    Compartilhar


    Tydskrif vir Geesteswetenskappe

    versão impressa ISSN 0041-4751

    Tydskr. geesteswet. vol.51 no.2 Pretoria jun. 2011

     

    NAVORSINGS- EN OORSIGARTIKELS RESEARCH AND REVIEW ARTICLES

     

    Voorwaardelike konstruksies met indien soos gebruik in wetenskaplike tydskrifte (deel 1: basiese konstruksies)

     

    Conditional constructions with "indien" (if), as used in scientific journals (part 1: basic constructions)

     

     

    Johanna J.E. MesserschmidtI; Hans J. MesserschmidtII

    IDepartement Kurrikulumstudie. Universiteit van die Vrystaat. messerjj@gmail.com
    IIDepartement Rekenaarwetenskap. Universiteit van die Vrystaat. hansepos@gmail.com

     

     


    OPSOMMING

    Die beskrywing van die gebruike van voorwaardelike konstruksies met indien, soos wat dit in artikels in wetenskaplike tydskrifte voorkom, word vanweë die omvang daarvan in twee dele verdeel. Hierdie artikel vorm die eerste deel en handel oor basiese indien-konstruksies. In 'n basiese konstruksie bestaan die saamgestelde sin uit 'n bysin wat deur die onderskikker indien ingelei word en 'n hoofsin. Sintakties beskou is die indien-sin 'n adjunk in die hoofsin en die samestellende sinne bind hipotakties. Semanties gesproke gaan dit om twee stande van sake waarvan die een (uitgedruk in die protasis) die ander een (uitgedruk in die apodosis) tot gevolg het. In basiese indien-konstruksies gaan die protasis (p) die apodosis (q) vooraf.
    Uit 'n verskeidenheid moontlike parameters is die mate van waarskynlikheid dat 'n stand van sake gerealiseer sal word as rigtinggewer gekies om die gebruike van die indien-konstruksies in die data te klassifiseer. Vier breë kategorieë word bespreek, te wete mededelings oor die verlede, mededelings in teenwoordigetydvorm, voorspellende stellings en hipotetiese stellings. Geen duidelike grense bestaan tussen die kategorieë en subkategorieë nie en betekenisnuanses kan deur die interaksie tussen verskillende parameters verklaar word. Daar word aangetoon dat die ondersoek van outentieke taaldata onverwagte patrone blootlê.

    Trefwoorde: indien, voorwaardelike konstruksie; basiese indien-konstruksies; wetenskaplike taalgebruik; Teorie van Denkruimtes; denkruimte; protasisapodosis-volgorde; waarskynlikheidskontinuum


    ABSTRACT

    The Afrikaans subordinate conjunction "indien" (if) is used to introduce a conditional or hypothetical clause or phrase. It is used in a more formal style than "as" (if), another Afrikaans subordinate conjunction with similar meaning. Examples of constructions with "indien" in written language are taken from papers published in accredited scientific journals where Afrikaans is used in a higher function and the papers have been refereed and presumably language edited.
    Relationships between form and meaning are investigated, keeping in mind that syntactic and semantic categories do not have sharp boundaries. Following Construction Grammar, we accept that not only words and morphemes, but also grammatical constructions on the level of syntax are coupled with semantic and pragmatic aspects of meaning. The role of the conjunction is described using the Mental Spaces Theory of Dancygier and Sweetser.
    Ten accredited South African scientifi c journals from 2001 onwards were used. This corpus contained 1159 papers and 2009 sentences containing "indien" were identified. The analysis is qualitative, concentrating on the different functions of the conditional, rather than on the frequency of its occurrence.
    Conditional constructions using "indien" can be divided into two broad classes, i.e. those starting with the subordinate clause, followed by the main clause and those that do not have this order. In the latter constructions the subordinate clause either follows the main clause or is incorporated in it. In this paper (part 1 of a two-part analysis) only those constructions where the conditional clause (the protasis, sometimes designated as p) precedes the main clause (the apodosis, sometimes designated as q) are analysed. The constructions with the reverse order will be discussed in part 2.
    The order (p,q) is described in the literature as the "natural", "normal" or "prototypical" form. We prefer the term "basic", because the terms mentioned above imply certain usage frequencies. A construction is termed basic if: (1) both the subordinate clause and the main clause are complete sentences; (2) the conjunction "indien" is explicitly stated; (3) the clause order is (p,q), i.e. the subordinate clause precedes the main clause and (4) the clauses are bound hypotactically. Conditional constructions can be further classified according to several parameters. Among these are the probability of the state of affairs in the protasis, syntactic pattern and tenses, the type of mental space being built and the binding between the protasis and apodosis. This paper uses the probability of the state of affairs in the protasis, ranging from factuality to non-factuality.
    Using the parameter, "indien" mentioned above, constructions are classified as:

    • Reports on state of affairs in the past
    This type of construction is nearest to the factual pole of the continuum. The verbs of both clauses are in the past tense and reference is made to the results of a research process that is already completed. Similarities with the narrative use of the temporal conjunction "wanneer" (when) are noted.
    • Assertions in present tense form
    In this wide category several sub-categories are distinguished: These sub-categories share the same verb tense pattern, i.e. present - present. Despite the verb tenses the events are not necessarily linked to the present. A generic time is expressed. The subcategories include
    Definitions; Advice, regulations and prescriptions; Possibilities; Explanations and inferences in an epistemic space; Logical consequences; and Scientific communications.
    Rare cases of an exception to the verb pattern were noted with inferences in an epistemic space where the combination present - past was noted for back reasoning. This type of conditional is not included in the calculus of Xrakovskij.
    • Predictive statements
    In this category the subordinate clause with "indien" constructs a mental space in which a prediction is made, expressed by the main clause. The state of affairs in both clauses is further from factuality. Not only has the state of affairs in the apodosis not yet materialised, but neither has the state of affairs in the protasis. The verb pattern is present - future, where a present form stands for a future event, a situation which is known as "tense backshifting". The sub-categories include
    Predictions and Suggestions, plans and intentions.
    • Hypothetical statements
    Different degrees of improbability can be expressed in the protasis and apodosis. Several examples are given ranging from plausible to downright false. Combinations of past tense verb forms are used in both clauses with "sou" (would), the past tense of "sal" (will), figuring most prominently.

    A different type of usage is found when "indien" is used with questions and commands in the apodosis.
    There is a correlate "dan" (then) that is often used with "indien". "Dan" is mostly used as an anaphoric adverb to refer back to the protasis. Usage of "dan" improves readability and refocuses the reader on the protasis in the case of complex sentences.
    The paper concludes that the probability of the state of affairs in the protasis is an effective parameter for the classification of "indien" constructions. Through the usage of examples from actual published papers unexpected constructions were discovered that are not covered in the calculus of Xrakovskij and not often found in the examples of other authors.

    Key words: indien (if); conditional construction; basic indien constructions; scientific language; Mental Spaces Theory; mental space; protasis-apodosis order; probabilistic continuum


     

     

    1. INLEIDING

    Volgens die WAT (Schoonees et al. 1961, vierde deel:518) is indien 'n voegwoord wat hoofsaaklik in die skryftaal "ter inleiding van 'n voorwaardelike of veronderstellende bysin of uitdrukking" met die betekenis van "as", "ingeval", "mits", "op voorwaarde dat" gebruik word. Bosch (1984:94) wys daarop dat indien veral in "strakker, gestileerde betogende taalgebruik" optree. As onderskikkende voegwoord of onderskikker het indien die basiese betekenis "in die geval dat" en sinjaleer 'n voorwaardelike verhouding tussen twee stande van sake.

    As deel van 'n groter ondersoek na die gebruik van onderskikkers in hedendaagse Afrikaans, word konstruksies waarin indien voorkom as linguistiese objekte met inherente semantiese en sintaktiese eienskappe beskou, wat geïdentifiseer en beskryf kan word (vgl. Xrakovskij 2005:4). In hierdie artikel en 'n opvolgartikel word die gebruik van indien-konstruksies beskryf soos dit in geakkrediteerde tydskrifte aangetref word. Afrikaans word daar in 'n hoër funksie gebruik.

     

    2. TEORETIESE RAAMWERK

    In ooreenstemming met kognitiewe en funksionalistiese sieninge van taal (Givón 1995; Nuyts 2007:554; Tomasello 2003:5) word 'n gebruiksgebaseerde benadering tot die grammatika aanvaar. Werklike taaldata wat uit 'n korpus Afrikaanse dokumente verkry is, is die sentrale objek van beskrywing. Werklike taaldata is noodsaaklik om te verseker dat ons konstruksies beskryf soos wat hulle gebruik word en nie soos ons dink hulle gebruik word nie (Ford & Thompson 1986:354). Verwantskappe tussen die vorm en betekenis van konstruksies word ondersoek met die aanname dat sintaktiese en semantiese kategorieë nie duidelike grense het nie (Lakoff 1987:12-26; Messerschmidt 1997; Taylor 2003:xiv).

    'n Aanname van Construction Grammar, 'n deelteorie van die kognitiewe linguistiek en kognitiewe grammatika, word ook aanvaar, naamlik dat nie slegs morfeme en woorde nie, maar ook grammatikale konstruksies op die sintaktiese vlak, aan semantiese en pragmatiese betekenisaspekte verbind is (Dancygier & Sweetser 2006:9-10). Dit maak dit moontlik om nie slegs die betekenis van die onderskikker indien te beskryf nie, maar ook die verbinding waarin dit voorkom as geheel. Met behulp van meganismes uit die Teorie van Denkruimtes (Mental Spaces Theory (Dancygier & Sweetser 2006:11)), kan die rol van die betrokke onderskikker as ruimtebouer toegelig word.

     

    3. DATAVERSAMELING

    As databron is die artikels wat in tien geakkrediteerde tydskrifte sedert 2001 in Afrikaans verskyn het, gebruik. In hierdie korpus is altesaam 1159 artikels, waarvan 350 in die Tydskrif vir Geesteswetenskappe gepubliseer is, ingesluit. Die artikels dek 'n verskeidenheid onderwerpe uit 'n verskeidenheid vakgebiede. Afrikaans word hier as wetenskapstaal gebruik. Daar word aanvaar dat taalversorging en keuring van die artikels voor publikasie geskied het, wat bydra tot die "suiwerheid" van taalgebruik.

    In die artikels is 'n totaal van 2009 indien-konstruksies aangetref, wat die data vir hierdie ondersoek vorm. Die navorsers het 'n selfontwerpte rekenaarprogram gebruik om die indienkonstruksies in die elektroniese weergawe van die artikels soos beskikbaar gestel op die internet, te identifiseer en per tydskrif in lêers te plaas. Die indien-konstruksies is daarna sonder rekenaarsteun ontleed en geklassifiseer ten einde die gebruike te beskryf. Alhoewel 'n groot aantal indien-konstruksies in die korpus voorkom, is die hoofdoel nie om statistiese frekwensies van konstruksies te bereken nie (vgl. Dancygier & Sweetser 2006:23). Die beskrywing is eerder kwalitatief. Dit gaan meer om die aard van 'n konstruksie as oor die frekwensie daarvan in hierdie spesifieke korpus. Alhoewel die wetenskaplike skryfwerk wat in die korpus verteenwoordig word as behorende tot 'n bepaalde genre beskou kan word, wissel die taalgebruik tog met individuele skryfstyl en onderwerp onder bespreking. 'n Voordeel van die korpus is dat algemene gebruike sowel as seldsame gevalle wat nog nie gedokumenteer is nie of waarvan die navorser as taalgebruiker nie bewus was nie, aan die lig kom. Omdat die navorsing op outentieke taalgebruik gegrond is, word voorbeelde verbatim aangehaal. Die oorspronklike spelling en punktuasie word behou.

     

    4. INDIEN-KONSTRUKSIES

    Indien-konstruksies is nie die enigste voorwaardelike konstruksies in Afrikaans nie. "Voorwaarde" kan ook deur middel van ander sintaktiese middele, waaronder onderskikkers soos as, wanneer en mits uitgedruk word. En soos later sal blyk, sinjaleer 'n indien-konstruksie ook nie altyd 'n voorwaardelike verhouding nie.

    Voorbeelde van die konstruksies wat sentraal in die ondersoek staan, is die volgende:

    (1) Indien deurlopende assessering doelmatig toegepas word, hou die model potensieel baie voordele in (Maree & Louw 2007).

    (2) Indien kinders in terapie byvoorbeeld voel dat hulle aanvaar en gerespekteer word, sal hulle meer ontvanklik wees vir die terapeutiese proses (Vorster & Du Plooy 2005).

    Die saamgestelde sin in hierdie konstruksies bestaan uit 'n bysin, wat deur die voegwoord indien ingelei word, en 'n hoofsin. Sintakties beskou is die indien-sin 'n adjunk in die hoofsin (Huddleston & Pullum 2002:738). Dit is 'n bywoordelike bepaling by die hoofwerkwoord. Die verbinding is hipotakties van aard (vgl. Lehmann 1988:181-225; Matthiessen & Thompson 1988:311-312 vir die onderskeid tussen hipotaksis en inlywing).

    Wat die semantiese eienskappe betref, is die bipredikatiwiteit of biproposisionaliteit (Xrakovskij 2005:12) die mees opvallende eienskap van voorwaardelike konstruksies. Dit gaan hier om twee tipes stand van sake waarvan die een die ander een tot gevolg het. Die bysin staan as die protasis of voorwaardelike bysin (p) en die hoofsin as die apodosis of gevolgtrekkende bysin (q) bekend (Harris 1986:265; Ponelis 1979:357; Schoonees et al. 1956, WAT, eerste deel: 233). Ander benamings wat in die literatuur voorkom, is antesedent en konsekwent (onder meer in Johnson-Laird 1986 en Ter Meulen 1986). Verder word premise teenoor gevolgtrekking of effek/ resultaat en ook rede teenoor gevolg of effek/resultaat aangetref (Xrakovskij 2005:12). Semanties beskou, is die stand van sake in die apodosis afhanklik van die stand van sake in die protasis. Die rigting van die semantiese afhanklikheid verskil dus van dié van die sintaktiese afhanklikheid (Xrakovskij 2005:12).

    Binne die raamwerk van die Teorie van Denkruimtes (Dancygier & Sweetser 2006:11), is die funksie van 'n indien-sin die bou van 'n mentale agtergrondruimte waarbinne die hoofsin geld of verstaan kan word.

     

    5. PROTOTIPIESE OF BASIESE KONSTRUKSIES

    Xrakovskij (2005:5) verwys na Greenberg (1963:89), wat op grond van die eerste tipologiese studie van voorwaardelike konstruksies 'n woordorde-universaal geformuleer het, wat stel dat in die normale volgorde in alle tale die voorwaardelike sin VOOR die gevolgtrekking kom (p,q). Hierdie volgorde word ook as die "gewone" (Bosch 1984:95; Comrie 1986:83) of "ongemerkte" (König & Van der Auwera 1988:109) volgorde beskou. Volgens Xrakovskij (2005) is die klassifikasie van voorwaardelike konstruksies in 'n gegewe taal in prototipiese (basiese) en periferale (afgeleide) voorwaardelike konstruksies op grond van sintaktiese vorm 'n belangrike oorweging in tipologiese studies. In verskeie van hierdie soort studies word slegs prototipiese of basiese konstruksies bestudeer en beskryf (onder meer in Johnson-Laird 1986:55-75 en Xrakovskij 2005). Ons verkies die term "basies" bo "prototipies" in die konteks van hierdie artikel omdat ons laasgenoemde term as gelade beskou. Die hierbo genoemde tweeledige klassifikasie op grond van volgorde verreken vorm en nie betekenis nie.

    Die omgekeerde volgorde (q,p) is in baie tale gemerk (Xrakovskij 2005). Wanneer die bysin in sy hoofsin ingebed is, word die konstruksie ook as gemerk beskou. In 'n teksgebaseerde studie van drie boeke uit verskillende genres het Ford en Thompson (1986:353-361) bevind dat voorwaardelike bysinne met if in geskrewe Engels meer dikwels voor die hoofsin as na die hoofsin staan. Die skrywers beweer dat die beginposisie die ongemerkte posisie in terme van die diskoersfunksie is omdat dit die raamwerk verskaf vir dit wat volg. In terme van die Teorie van Denkruimtes wys Dancygier en Sweetser (2006:173) daarop dat dit intuïtief natuurlik is dat die denkruimte eers gebou word voor dit met die inhoud uitgebrei word. Die beweerde universele tendens om die protasis voor die apodosis te plaas, is ook in ons Afrikaanse korpus waargeneem.

    In hierdie artikel val die fokus op ongemerkte of basiese konstruksies en die vraag: Watter kenmerke het basiese indien-konstruksies en waarvoor word hulle gebruik?

    Gemerkte konstruksies kom in deel 2 aan bod. 'n Belangrike praktiese oorweging vir die splitsing is die omvang van die beskrywing.

    In aansluiting by tipologiese studies word in die konteks van hierdie navorsing 'n indienkonstruksie as basies gereken wanneer (1) die bysin sowel as die hoofsin volledige sinne is; (2) die voegwoord indien eksplisiet uitgedruk word en (3) die bysin voor die hoofsin geplaas is. 'n Kenmerk van 'n basiese konstruksie, wat ons nie in die literatuur teëgekom het nie, maar hierby wil voeg, is (4) dat die sinne hipotakties bind. Die anaforiese bywoord dan kan as korrelaat van indien in die hoofsin voorkom. Op grond van die genoemde kenmerke kan 1105 uit die 2009 indien-konstruksies as basiese konstruksies beskou word.

    Voorbeelde (1) en (2) verteenwoordig basiese konstruksies, terwyl die volgende voorbeelde gemerkte konstruksies verteenwoordig:

    (3) Indien wel, moet kort vlugte telkens onderneem word om bloot by te bly (Butler & Kok 2006).

    (4) Word daar dinamiet vervoer, moet gevaargeld betaal word (Ponelis 1979:358).

    (5) En dit is nie so 'n vergesogte idee indien kurrikulumbeplanners daarna streef dat onderwysers groter eienaarskap van kurrikula aanvaar nie (Carl 2007).

    In voorbeeld (3) is die bysin onvolledig, in (4) word "voorwaarde" deur inversie uitgedruk en is daar geen voegwoord teenwoordig nie en in (5) staan die indien-sin nie vooraan nie. Bowendien tree die bysin in (5) as 'n nabepaling by die naamwoordfrase wat idee bevat, op en daar is dus sprake van inlywing en nie hipotaksis nie.

    'n Basiese indien-konstruksie kan as 'n samegestelde sin selfstandig voorkom, soos in (1) en (2), of dit kan by 'n hoër sin ingelyf wees. Soms kom dit na 'n neweskikker (en, of, want of maar) voor, byvoorbeeld:

    (6) Die sekswerker self kan haar beroep op beskerming teen aanranding en uitbuiting, want indien sy aangerand of beroof word weens die aard van die werk wat sy doen, kan sy die hulp van die polisie inroep, sonder vrees vir vervolging (Scholtz 2001).

    Basiese konstruksies kom ook in komplementsinne met dat voor. Hier is gewoonlik sprake van 'n rapportering, byvoorbeeld uit dokumente of werke van ander skrywers:

    (7) Die manifes dui verder aan dat indien godsdiensonderrig die verantwoordelikheid van die ouers, familie en geloofsgemeenskap is, kan godsdienste-onderrig binne die raamwerk van opvoedkundige doelwitte deur die skool hanteer word (Van Niekerk & Aucamp 2003).

    (8) Ton Vosloo, die uitvoerende voorsitter van Naspers, beweer dat indien Afrikaans 'n ekonomiese hulpbron moet wees, dit noodsaaklik is dat die ekonomiese belange wat deur die jare opgebou is, in stand gehou word en uitgebou word (Truter & Lubbe 2002).

    Benewens die hoofwerkwoorde aandui en beweer in bostaande sinne kom komplementsinne na kognitiewe werkwoorde soos aanvaar, aflei, bepaal, beklemtoon, besluit, bevind, oordeel, voorspel, waarsku, wys en frases soos die aandag vestig op en duidelik word, voor. Komplementsinne word ook by naamwoordstukke, byvoorbeeld: die siening/aanname/uitdaging/ veronderstelling, ingelyf.

     

    6. KLASSIFIKASIE VAN VOORWAARDELIKE KONSTRUKSIES

    Om voorwaardelike en meer spesifiek, indien-konstruksies, te klassifiseer, is nie so eenvoudig nie, omdat verskillende parameters 'n rol speel en mekaar beïnvloed (Comrie 1986:97) en omdat sintaktiese en semantiese kategorieë nie duidelike grense het nie (Messerschmidt 1997). Daar bestaan 'n behoefte aan interlinguistiese veralgemening (Comrie 1986:96; Xrakovskij 2005) en daarvoor is parameters vir klassifikasie nodig. Onder die parameters wat vir die klassifi kasie van voorwaardelike konstruksies gebruik word, is die volgende:

    • Volgorde van protasis en apodosis (p,q of q,p);

    • Punte of 'n kontinuum van waarskynlikheid: werklike stand van sake, werklike moontlikhede, hipotetiese stand van sake (Comrie 1986:88-93, 97; Harris 1986:280; Johnson-Laird 1986:65-67; Ponelis 1979:356);

    • Sintaktiese patrone: kombinasies van werkwoordtye en modi (Harris 1986; Xrakovskij 2005);

    • Soorte denkruimtes wat gebou word: inhoud-, espistemiese, performatiewe, metalinguistiese ruimtes (Dancygier & Sweetser 2006);

    • Hegtheid van verbinding tussen die protasis en apodosis. In 'n hegte verbinding word die stand van sake in die hoofsin eers werklikheid wanneer die onderstelling in die bysin werklikheid geword het. In 'n los verbinding is "die stand van sake in die hoofsin minder afhanklik van die veronderstelling in die bysin. Die predikasie in die hoofsin geld dus ongeag of die onderstelling in die bysin werklikheid word" (Ponelis 1979:356);

    • Algemeen versus besonder / mate van algemeenheid (Ter Meulen 1986:133);

    • Aard van skakeling met voorafgaande diskoers (Ford & Thompson 1986:356-359);

    • Illokusionêre funksie (Xrakovskij 2005:14);

    • Eenmalig teenoor iteratief (Xrakovskij 2005:27);

    • Homogeen teenoor niehomogeen: deelnemers in die bysin en hoofsin het dieselfde referente of nie (Xrakovskij 2005:27);

    Vir die doel van die ondersoek na die gebruik van indien-konstruksies is daar 'n indeling volgens die volgorde van protasis teenoor apodosis gemaak. Soos reeds genoem, val die hooffokus op basiese kontruksies, waarin die protasis die apodosis voorafgaan. Die verdere klassifi kasie sal volgens gebiede op 'n waarskynlikheidskontinuum geskied, wat strek van feitelikheid aan die een pool tot teenfeitelikheid aan die ander pool, met moontlikheid tussenin. 'n Verskeidenheid betekenisnuanses kom veral ten opsigte van moontlikheid voor, waar bepaalde werkwoordvorme met bepaalde betekenisse geassosieer word. Die parameter wat hier as riglyn vir die klassifikasie gebruik word, is die mate van waarskynlikheid dat die tipes stand van sake waarna in die protasis en apodosis verwys word, gerealiseer sal word. Daar sal ook na ander parameters verwys word.

     

    7. GEBRUIKE VAN INDIEN-KONSTRUKSIES IN DIE KORPUS

    Vier breë gebruikskategorieë van basiese indien-konstruksies, wat gebiede op die kontinuum verteenwoordig, word bespreek met subkategorieë binne elke kategorie. Die kategorieë in die gebruik van indien-konstruksies vertoon familie-ooreenkomste (Givón 1986:77-78) tussen die lede van dieselfde subkategorie en ook tussen lede van verskillende breë kategorieë. Mededelings oor die verlede, mededelings in teenwoordigetydvorm, voorspellende stellings en hipotetiese tipes stand van sake word as breë kategorieë onderskei.

    7.1 Mededelings oor die verlede

    Aan die feitelike kant van die kontinuum kom konstruksies voor wat ooreenkomste met die verhalende gebruik van wanneer toon, soos in 'n internetkorpus waargeneem (Messerschmidt 2009). In die onderhawige indien-korpus word aspekte van 'n navorsingsproses wat reeds plaasgevind het, beskryf om die bevindinge oor te dra.

    (9) Indien die ekstrakte op niegeïnduseerde plante geplaas is, het daardie plante geblom (Groenewald & Van der Westhuizen 2003).

    Die werkwoorde van bysin en hoofsin is in die verlede tyd. Die interpretasie is iteratief en spesifiek van toepassing op die afgehandelde eksperiment onder bespreking. Die plasing van die ekstrak sowel as die blom van die plante het in die verlede plaasgevind. Dit is moontlik om 'n negatiewe denkruimte te skep waarin die ekstrak nie geplaas is nie en die plante dus nie geblom het nie.

    7.2 Mededelings in teenwoordigetydvorm

    Onder hierdie breë kategorie gebruike van basiese indien-konstruksies word die volgende subkategorieë aangetref: definisies, advies, regulasies en voorskrifte, moontlikheid, verklarings en gevolgtrekkings, logiese gevolg en wetenskaplike kommunikasie. Die werkwoordpatrone wat die groepe gebruike gemeen het, is 'n teenwoordig-teenwoordig-kombinasie. Die gebeurtenisse is egter nie aan die hede gekoppel nie. 'n Habituele, generiese teenwoordige tyd word uitgedruk (Dancygier & Sweetser 2006:95-97; Reilly 1986:311-315).

    7.2.1 Definisies

    'n Voorbeeld van 'n definisie wat as basiese konstruksie in die korpus voorkom, is die volgende:

    (10) Indien τ die triviale topologie is waarin alle deelversamelings van X oop is, dan is (X, , τ) 'n topologiese berekeningstruktuur vir elke berekeningstruktuur (Steel 2008).

    Gewoonlik kom definisies en ook algemene waarhede egter in konstruksies met q,p-volgorde voor. Hierdie subkategorie van gebruike sal daarom verder in deel 2 bespreek word.

    7.2.2 Advies, regulasies en voorskrifte

    Hierdie groep gebruike sluit by die vorige groep aan. Daar is 'n wetmatigheid te bespeur wat deur mense in reëls vasgelê is. Konstruksies soos (11) het 'n sterk feitelike karakter aangesien die regulasies vooraf vasgelê is en dit feitlik seker is dat die gebeurtenis in die hoofsin sal plaasvind wanneer die omstandighede in die indien-sin geld.

    (11) Indien hulle nie tot eenstemmigheid kom nie, word 'n derde letterkundige gevra om 'n beslissende stem uit te bring (Smuts 2005).

    Terwyl bostaande voorbeeld 'n neutrale kleur het, kan regulasies ook hulpwerkwoorde wat 'n sekere kleur/modaliteit toevoeg, in die hoofsin bevat:

    (12) Indien die leerling ewe taalbevoeg is in albei tale, kan die ouer 'n keuse uitoefen (Truter 2004).

    (13) Indien die ouer in gebreke daartoe bly, moet die hoofonderwyser 'n keuse maak (Truter 2004).

    (14) Indien die raad negatiewe antwoorde op bogenoemde vind, sal die minister dienooreenkomstig skriftelik adviseer en aanbeveel dat die president uit sy amp verwyder word (artikel 53(3)) (Wessels 2007).

    In (12) word 'n dimensie van moontlikheid toegevoeg, in (13) 'n dimensie van verpligting en in (14) 'n aspek van voorspelling. Alhoewel die teenwoordige tyd algemeen in die bysin en hoofsin voorkom, word die toekomende tyd ook soms in die hoofsin aangetref, soos (14) aantoon. Volgens die sintaktiese vorm pas hierdie laaste voorbeeld eerder by die volgende hoofgroep, maar vanweë die ooreenkomste in gebruik met (12) en (13) word dit hier aangehaal. Die gebrek aan duidelike grense tussen kategorieë kom hier na vore.

    Voorskriftelikheid word deur die hulpwerkwoord moet in die hoofsin uitgedruk. Slegs enkele gevalle van bevelsvorme kom in die data voor.

    (15) Indien die afval benut of herwin word, moet dit in die logistieke proses hanteer, opgeberg en na aanlegte vervoer word (Pienaar 2003).

    In die volgende voorbeeld kan die protasis as 'n voorstel tot die oplossing van 'n probleem of selfs as advies geïnterpreteer word.

    (16) Indien die vier fokusareas van die GOOM-misdaadvoorkomingsmodel gesamentlik aangespreek word, kan misdaad op plase in die algemeen effektief voorkom of ten minste geminimaliseer word (Kruger & Ladikos 2008).

    7.2.3 Moontlikheid

    Eenvoudige gevalle van moontlikheid, uitgedruk deur die modale hulpwerkwoord kan, kom herhaaldelik in die korpus voor:

    (17) Indien iemand voel dat hy/sy weens onregverdigheid moes aftree, kan 'n negatiewe ingesteldheid teenoor aftrede in alle waarskynlikheid geantisipeer word (Brunsdon & Lotter 2008).

    (18) Indien dit ontbreek, kan die vertaling verkeerdelik aangesien word as 'n vereenvoudigde parafrase (Vosloo 2007).

    7.2.4 Verklarings en afleidings in 'n epistemiese ruimte

    Tydens die interpretasie van bevindinge verklaar die skrywer in die hede wat in die verlede plaasgevind het. Daar vind 'n "terugredenering" plaas. In die raamwerk van Dancygier en Sweetser (2006) kan beweer word dat die indien-sin 'n epistemiese ruimte bou.

    (19) Indien 'n IN dus in onbeklemtoonde posisie 'n laer hertzwaarde toon as in 'n beklemtoonde posisie, beteken dit dat dit gereduseer het (Van Huyssteen & Wissing 2007).

    'n Meer abstrakte voorbeeld waarin ook die werkwoord beteken in die hoofsin gebruik word, is die volgende.

    (20) Indien die oordele juis is, maar nie 'n negatiewe waardeoordeel veronderstel nie, beteken dit dat die betrokke "obskuriteite" en "geheimsinnighede" uiteindelik funksioneel is in die verhale en nie verder aandag verdien nie (John 2002).

    In albei voorbeelde is die hoofwerkwoord beteken in die teenwoordige tyd. Die volgende voorbeeld wyk van die teenwoordig-teenwoordig-patroon af, deurdat die hoofwerkwoord in die verlede tyd is.

    (21) Indien besinning ons nie hierby uitbring nie, het dit min opgelewer (De Beer 2007).

    Die kombinasie teenwoordig-verlede van die werkwoordvorme is seldsaam. In ons korpus kom daar slegs ses gevalle voor. Dit ontbreek in Bosch (1984:94-97) se voorbeelde. In Xrakovskij (2005:34-35) se calculus van stellende voorwaardelike konstruksies word hierdie kombinasie as onmoontlik beskou vanweë 'n botsing van parameters. Die werklike tydverwysing van p en q is nie versoenbaar met die toelaatbare relatiewe tydvolgordes "p voor q" of "p gelyktydig met q" nie en die konstruksies val buite die calculus.

    7.2.5 Logiese gevolg

    Enkele gevalle waar die stand van sake in die apodosis as 'n gevolg van die stand van sake in die protasis eksplisiet deur die skrywer gestel word, is waargeneem. Die werkwoord volg, soms in kombinasie met dan, kom in die apodosis voor. Dit gaan hier nie oor 'n "natuurlike" gevolg nie, maar oor 'n "logiese" gevolg in die redenasie van die skrywer.

    (22) Indien verreken word dat die staat deur een van die kring-souwereine aspekte van die werklikheid gestempel word, naamlik die regsaspek, dan volg dit vanself dat die staat nooit universalisties as die totaal-verband van die menslike samelewing gesien kan word nie (Strauss 2008).

    (23) Indien 'n samelewing bereid is om verskeidenheid in taal, kultuur en godsdiens te akkommodeer, volg dit noodwendig dat die samelewing die verskeidenheid in opvoeding en onderwys sal akkommodeer (Smit & Oosthuizen 2006).

    Die verskil tussen hierdie konstruksies en (21) byvoorbeeld, is die rigting van redenasie: van oorsaak na gevolg in plaas van gevolg na moontlike oorsaak. Hierdie konstruksies is dus verwant aan dié in 7.2.4, aangesien die denkruimte wat gebou word as epistemies beskou kan word. Hulle is egter ook verwant aan sogenaamde inhoudskonstruksies aangesien werklike moontlikhede uit die aard van die apodosis as "gevolgtrekkende" bysin, soms as gevolge geïnterpreteer word.

    7.2.6 Wetenskaplike kommunikasie

    Opvallend is 'n tipe konstruksie waarin die werkwoord van die indien-sin die aktiwiteit van die navorser weerspieël wat dan insig tot gevolg sou hê.

    (24) Indien byvoorbeeld gelet word op enkele aspekte van dié kultuurhistoriese dimensies in die Afrikaanse taalomgewing, blyk dit dat daar heelwat raakvlakke ontstaan (Tempelhoff 2005).

    (25) Indien 'n mens 'n oorskouende blik oor die vier romans onder bespreking moet werp, is dit merkbaar dat Brink in al vier gevalle deur die narratiewe inrigting van die roman die moeite doen om die leser se aandag daarop te vestig dat dit 'n konstruksie is eerder as die 'waarheid' en dat hy nie op transparante wyse die stem van die slaaf of inheemse mens kan representeer nie (Viljoen 2002).

    (26) Indien ons daaroor nadink is dit opmerklik hoe 'n groot rol hierdie "beelde" gespeel het in die vorming van mense se religieuse identiteit (Wepener & Cilliers 2004).

    Die skrywer as navorser let op sake, werp 'n oorskouende blik en dink na. 'n Aktiwiteit wat ook in die data weerspieël word, is vergelyk (in die aanbieding van resultate). Dan is daar steeds iets wat duidelik word/blyk/lyk of interessant of opvallend is, ens. Die feitelike inligting aangaande die bevindinge word in die ingelyfde sinne van die apodosis versteek.

    Ook hier word die generiese teenwoordige tyd gebruik. Daar is 'n neiging om die werkwoord van die indien-sin in die lydende vorm te plaas soos in (24), alhoewel die bedrywende vorm ook voorkom met onderwerpe 'n mens (25) en ons (26). Daar is nie 'n hegte binding tussen die bysin met indien en die hoofsin nie; die bewering in die hoofsin geld onafhanklik van die bewering in die bysin. Die indien-sin skep 'n ruimte vir die spraakhandeling van die spreker (vgl. Dancygier & Sweetser 2006:113), nie vir die gebeurtenis in die hoofsin nie, wat eintlik 'n stelling of bevinding van die navorser is.

    7.3 Voorspellende stellings

    Die groep gebruike wat as voorspellend beskou kan word, lê verder weg van die feitelike kant en nader aan die teenfeitelike kant van die waarskynlikheidskontinuum. Indien-konstruksies word as irrealiskonstruksies beskou in dié sin dat die stand van sake wat in die indien-sin beskryf word, nog nie gerealiseer het nie. 'n Patroon wat duidelik in die korpus opval, is dié waar 'n teenwoordigetydvorm in die bysin en 'n toekomendetydvorm met sal in die hoofsin voorkom (presens-futurum). Voorspellings, waarskuwings, aanbevelings, voornemens en planne, asook "voorspellende regulasies" kom voor. Hierdie betekenisnuanses druk verskillende grade van moontlikheid en waarskynlikheid uit.

    7.3.1 Voorspellings

    Voorbeelde van voorspellings is die volgende:

    (27) Indien sake nie omgekeer word nie, sal die taal oor 'n eeu of twee - as hy nog gepraat word - terugkeer na wat hy oorspronklik was, te wete 'n kombuistaal (Scholtz 2006).

    (28) Indien dié geveg verloor word, sal Afrikaans 'n nekslag kry waarvan hy bitter moeilik sal herstel (Scholtz 2006).

    Die betekenisnuanses is nie altyd duidelik onderskeibaar nie en bostaande voorbeelde kan ook as waarskuwings vertolk word.

    In die bostaande voorbeelde vind nie slegs die gebeurtenis in die hoofsin in die toekoms plaas nie, maar ook die gebeurtenis in die bysin, terwyl die werkwoord van die bysin in die teenwoordige tyd is. Hierdie "teenwoordig vir toekomend" staan in die literatuur as "tydverskuiwing na agter" (tense backshifting (Dancygier & Sweetser, 2006:43)) bekend. In konstruksies soos dié met indien word agtergrond-denkruimtes gekonstrueer waarteen die hoofsin gebruik kan word om 'n voorspelling te maak (Dancygier & Sweetser 2006:43). Die teenwoordigetydvorm in die bysin dui op 'n tipe landmerktyd (Dancygier & Sweetser 2006:46). Genoemde skrywers wys daarop dat dié patroon in Engels by if en by tydaanduiders soos after en before voorkom.

    In die volgende voorbeeld kom 'n toekomende tyd, uitgedruk met gaan, in die bysin voor, terwyl sal in die hoofsin gebruik word.

    (29) Indien hy ooit 'n nuwe weergawe van sy literatuurgeskiedenis gaan publiseer, of die bestaandes sou bywerk, sal hy dié skrywers en digters na alle waarskynlikheid relatief sentraal stel in die kanon (Van Coller 2004).

    7.3.2 Aanbevelings, planne en voornemens

    In (30) hieronder word 'n voorspellende indien-konstruksie gebruik om aanbevelings op grond van navorsing te maak. Dit kan ook as planne om 'n probleem aan te pak geïnterpreteer word. In (31) berus 'n aanbeveling op 'n veronderstelling.

    (30) Indien sodanige navorsing die resultate van hierdie ondersoek bevestig, sal die twee aangewese stappe die volgende wees: ouerbegeleiding en die instel van doeltreffende maatreëls om dissipline te verseker (Wolhuter & Oosthuizen 2003).

    (31) Indien die spreker veronderstel dat die aangesprokene die betrokke persoon wat Johan heet, nie ken nie, sal 'n uitdrukking soos my broer meer gepas wees (Ponelis 2006).

    In (32) druk die skrywer 'n persoonlike voorneme uit en die konstruksie is minder neutraal as die bostaande gevalle.

    (32) Indien die "regte" woord of grammatiese konstruksie nie pas nie, sal ek dit koelbloedig oorboord gooi (Teise & Van Coller 2004).

    7.4 Hipotetiese stellings

    Verskillende grade van onwaarskynlikheid kom in die omgewing van die teenfeitelike pool op die kontinuum voor. In die volgende voorbeelde word 'n hipotetiese stand van sake veronderstel, maar daar is 'n moontlikheid dat die stand van sake in die apodosis sal realiseer.

    (33) Indien skoolhandboeke en bloemlesings ook geraadpleeg sou kon word, sou die prentjie vollediger word (Van Coller 2004).

    (34) Indien daar enige uitskieters sou voorkom, sal dit geen rol speel nie en die data nie beïnvloed nie ... (Naudé et al. 2002).

    In (33) impliseer die protasis dat skoolhandboeke en bloemlesings nog nie geraadpleeg is nie, maar die moontlikheid bestaan dat dit wel gedoen kan word. In (34) impliseer die skrywer dat hy/sy van mening is dat dit onwaarskynlik is dat daar uitskieters sal voorkom, maar dat daar tog 'n geringe moontlikheid bestaan dat dit wel sal voorkom.

    Die volgende voorbeeld kan as teenfeitelik beskou word aangesien die indien-sin die teenoorgestelde uitdruk as wat waarskynlik gebeur het. 'n Negatiewe denkruimte waarin oor 'n alternatiewe moontlikheid in die verlede gefilosofeer word, word geskep.

    (35) Indien erdwurms byvoorbeeld nie Pb geakkumuleer het nie sou dit moontlik minder "biobeskikbaar" gewees het vir inname deur kleinsoogdiere (Reinecke & Reinecke 2006)

    In (36) word teenfeitelikheid in sowel bysin as hoofsin uitgedruk. Die skrywer behoort nie tot 'n groep wat Engelssprekend is nie en die stand van sake in die apodosis geld nie.

    (36) Indien ons Engelssprekend was, was die volgende afbeelding voor die hand liggend. (Pauw 2007).

    Deur die gebruik van die verledetydvorme word afstand geneem van die werklikheid waarin die skrywer hom/haar bevind (vgl. Dancygier & Sweetser 2006:60-61). Die hulpwerkwoord sou kom algemeen in die hoofsin (in kombinasie met 'n ander verledetydvorm) of bysin of in beide voor. Spekulasie oor hipotetiese tipes stand van sake in die verlede, hede of toekoms word uitgedruk:

    (37) Indien die resultate wel baie anders sou wees, bly die vraag hoe chirurgie, veral in die openbare sektor waar die probleem waarskynlik groter is, daarop sal reageer. (Van Niekerk 2002).

    (38) Indien die kwessie van eenheid en verskeidenheid vanuit hierdie sentrale leerstuk van die Christendom beredeneer was, sou die idee van diversiteit nooit buite verband geruk kon word deur die eenheid na die onsigbare of die hiernamaals te verplaas nie (Loubser 2003).

    (39) Indien die Suider-Afrikaanse volke nie reeds self die grondtal tien ontdek en gebruik het nie, sou hulle maklik hierdie gebruik vanaf die Arabiese handelaars tydens hul 700 jaar lange kontak (sic) oorgeneem het (Durand 2004).

    (40) Indien egter net met die Totius-omdigting volstaan sou word (soos ook voorgestel is), sou dit 'n ernstige verskraling beteken het (Kloppers 2003).

     

    8. VRAE EN BEVELE IN DIE APODOSIS

    Die protasis van indien-konstruksies kan gebruik word om 'n reële of hipotetiese agtergrondruimte te skep waarin 'n probleem of vraag gestel word. Sommige vrae is retoriese vrae wat gebruik word om kritiek te lewer, soos in die volgende voorbeelde:

    (41) Indien demokrasie letterlik die mag van die mense beteken, ontstaan die vraag: Laat demokrasie inderdaad die mag aan die mense oor, of bly dit steeds 'n kwessie van die regeerders wat die mag het, of ontvang het, en dat dit hulle verder min skeel wat die wil van die mense is wat vir hulle gestem het? (De Beer 2006).

    (42) Indien die gangbare, kommersiële landbou inherent onvolhoubaar is, wat is dan die sin van die voorvoegsel "volhoubare"? (Van der Walt 2006).

    In hierdie soort vrae kom die korrelaat dan dikwels voor. Ander vrae wat in die korpus voorkom, is navorsingsvrae wat gebruik word om 'n ondersoek te rig, byvoorbeeld:

    (43) Die tweede vraag is: indien dit wel sy taak is, wie se waardes moet deur die skool onderrig of bevorder word? (Rens et al. 2005).

    Gevalle van indirekte vrae kom ook voor:

    (44) Indien Hegel se kritiek op Kant in die terme van die verhaal hierbo oor demonisering vertaal word, kan gevra word of die poging om die werklikheid aan die gesag van die abstrak-universele sedewette van die transendentale rede te onderwerp, nie demonisering moontlik maak nie (Goosen 2007).

    Voorbeeld (45) is een van die seldsame gevalle van indien-konstruksies met 'n bevelsvorm in die apodosis:

    (45) Indien 'n mens graag wil weet hoe 'n post-modernistiese teologie 'n fundamentele Bybelse waarheid soos Christus se opstanding op subtiele wyse bevraagteken, lees dan hierdie boek (Van Aardt 2006).

     

    9. DIE KORRELAAT DAN

    In die apodosis van basiese indien-konstruksies kan die anaforiese bywoord dan optree. Dan verwys terug na die stand van sake in die protasis en het die betekenis van "in dié geval" (vgl. Bosch 1984:72). Die normale posisie van dan is aan die begin van die hoofsin. In vraag- en bevelsinne skuif dit egter weg uit die aanvangsposisie, soos in (42) en (45) hierbo.

    Ten opsigte van die fakultatiewe aard van dan kan indien-konstruksies op 'n kontinuum geplaas word. Ons volstaan met drie moontlikhede:

    (46) Indien die werknemer intrinsiek bemagtig voel (of is) om die ingreep te maak, dan volg werkstevredenheid (De Beer et al. 2007).

    (47) Indien die huis volgens Bachelard se opvatting een van die sterkste kragte in die integrasie van die denke, herinneringe en drome van die mens is, dan impliseer die vervalle strukture die disintegrasie van die denke, herinneringe en drome, met gepaardgaande angs (Nel 2005).

    (48) Indien die oppergesag van God as 'n Calvinistiese beginsel beskou moet word en volksoewereiniteit as 'n "patriotse" beskouing, dan was Kruger 'n "Calvinis en patriot" (De Klerk 2006).

    Dit wil voorkom of (46) makliker lees indien dan weggelaat word, terwyl (48) feitlik onleesbaar is sonder dan. 'n Tussenposisie word deur (47) verteenwoordig. Daar is 'n neiging in die korpus om dan te gebruik by die uitdrukking van 'n gevolg, asook wanneer die indien-sin lank is en/of 'n ingewikkelde sinstruktuur het. In eersgenoemde geval wil dit voorkom of dit gebruik word vir beklemtoning, in laasgenoemde om die leser se aandag weer te fokus.

     

    10. SAMEVATTING

    Ter wille van oorsigtelikheid word kortliks na die frekwensies van verskillende soorte basiese indien-konstruksies in hierdie korpus van wetenskaplike artikels verwys. Vraag- en bevelsvorme is relatief skaars. Sewe-en-twintig basiese konstruksies (2,4%) bevat 'n direkte vraag in die apodosis en drie (0,2%) 'n bevel. Die orige 1075 basiese indien-konstruksies bestaan slegs uit stellings. Die verspreiding van die breë kategorieë vir stellende indien-konstruksies word in tabel 1 uiteengesit.

    Die hipotetiese stellings wat verskillende grade van onwaarskynlikheid uitdruk, vorm getalsgewyse 'n veel kleiner kategorie as die totaal van die meer feitelike kategorieë. Hierdie verskynsel hou waarskynlik met die onderwerpe waaroor die wetenskaplike artikels handel en die skryfstyl van die outeurs verband. Die grootste kategorie is mededelings in teenwoordigetydvorm, wat 'n verskeidenheid subkategorieë insluit (vgl. 7.2). Die teenwoordig-teenwoordig-kombinasie is die mees voorkomende werkwoordpatroon by basiese indien-konstruksies.

     

    11. GEVOLGTREKKING

    In hierdie artikel, die eerste deel van 'n beskrywing van die gebruike van indien-konstruksies soos wat dit in wetenskaplike tydskrifte aangetref is, het die hooffokus op basiese/prototipiese konstruksies geval. Uit 'n verskeidenheid moontlike parameters is die mate van waarskynlikheid dat 'n gebeurtenis sal plaasvind, as rigtinggewer gekies om die gebruike van die konstruksies te klassifiseer. Die verband tussen die mate van waarskynlikheid en die keuse van werkwoordpatrone het na vore gekom. Dit is opvallend dat 'n verskeidenheid gebruike in 'n generiese teenwoordige tyd uitgedruk word. Daar is 'n komplekse interaksie tussen verskillende parameters waargeneem.

    Deurdat werklike gebruiksdata ondersoek is, is aangetoon dat seldsame kombinasies van werkwoordpatrone soos teenwoordig-verlede, wel in voorwaardelike konstruksies voorkom en ons wil aanbeveel dat dit wel in tipologiese studies verreken moet word.

    In die tweede artikel word gemerkte konstruksies ondersoek, waarna oorkoepelende gevolgtrekkings aangebied sal word.

     

    BIBLIOGRAFIE

    Databronne

    Brunsdon, A.R. & Lotter, G.A. 2008. Aftrede as integrasionele taak. Koers, 73(2):283-302.         [ Links ]

    Butler, H.J.B. & Kok, O.B. 2006. Voedingsassosiasie tussen vee-reiers (Bubulcus ibis) en soogdiergashere in die sentrale Vrystaat. Suid-Afrikaanse Tydskrif vir Natuurwetenskap en Tegnologie, 25(1):1-18.         [ Links ]

    Carl, A. 2007. Onderwysers in die Wes-Kaap se persepsies en belewing van huidige onderwysveranderinge: vir of teen? Acta Academica, 39(3):200-223.         [ Links ]

    De Beer, F. 2006. Demokrasie of demodinamiek - die internet en demokrasie. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 46(2):159-170.         [ Links ]

    De Beer, C.S. 2007. Filosofiese besinning oor geweld: uitdagings aan informatiseringstrategieë. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 47(4 Supplement):3-27.         [ Links ]

    De Beer, T., Mentz, K. & Van der Walt, H. 2007. Die mate van werkstevredenheid ervaar deur 'n groep Afrikaanssprekende onderwysers. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 47(2):192-206.         [ Links ]

    De Klerk, P. 2006. Die politieke beskouinge van Paul Kruger - interpretasies oor 'n tydperk van 125 jaar. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 46(2):171-183.         [ Links ]

    Durand, J.F. 2004. Die ontdekking van 'n voorwerp naby Mapungubwe wat moontlik as 'n abakus gebruik was. Suid-Afrikaanse Tydskrif vir Natuurwetenskap en Tegnologie, 23(3):46-52.         [ Links ]

    Goosen, D. 2007. Demonisering en demokrasie. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 47(2):142-154.         [ Links ]

    Groenewald, E.G. & Van der Westhuizen, A.J. 2003. Enkele aspekte van die fisiologie van blomvorming by fotoperiodies sensitiewe plante. Suid-Afrikaanse Tydskrif vir Natuurwetenskap en Tegnologie, 22(1):6-13.         [ Links ]

    John, P. 2002. Vanaf die enigmatiese na die ongerieflike: Die "gevaarlike kennis" van Eben Venter se Twaalf (2000). Stilet, XIV(1):118-134.         [ Links ]

    Kloppers, E. 2003. Die postmodernisme, nostalgie en die himniese geheue. Stilet, XV(2):200-217.         [ Links ]

    Kruger, F. & Ladikos A. 2008. Die ontwikkeling van 'n misdaadvoorkomingsmodel binne 'n kommersiële produksiegebied. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 48(4):439-453.         [ Links ]

    Loubser, J.A. 2003. Kringdans: Die heilige Drie-eenheid as grond vir eenheid én verskeidenheid. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 43(3):149-163.         [ Links ]

    Maree, K. & Louw, I. 2007. Die aard, doel en effektiwiteit van assessering in tersiêre wiskunde aan die Tshwane Universiteit van Tegnologie. Suid-Afrikaanse Tydskrif vir Natuurwetenskap en Tegnologie, 26(4):279-297.         [ Links ]

    Naudé, H., Maree, J.G. & Putter, E. 2002. Bruikbaarheid van die Swanson Cognitive Processing Test vir Suid-Afrikaanse leerders met epilepsie. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 42(2):94-106.         [ Links ]

    Nel, A. 2005. Tot verhaal kom: Dagboek teen ontheemding en verlies. Stilet, XVII(2):87-103.         [ Links ]

    Pauw, J.C. 2007. Wetenskap en moraliteit. As jy lieg sal jy steel ook. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 47(2):165-180.         [ Links ]

    Pienaar, W.J. 2003. Logistieke bestuur: die oorsprong, konseptuele ontwikkeling en betekenis daarvan as 'n hedendaagse studiegebied. Suid-Afrikaanse Tydskrif vir Natuurwetenskap en Tegnologie, 22(2):52-60.         [ Links ]

    Ponelis, F.A. 2006. Bepaaldheid in nominaalkonstruksies. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 46(3):328-347.         [ Links ]

    Reinecke, A.J. & Reinecke, S.A. 2006. Die konsep van biobeskikbaarheid en die neerlê van eenvormige standaarde vir toelaatbare chemiese kontaminante in die grond. Suid-Afrikaanse Tydskrif vir Natuurwetenskap en Tegnologie, 25(3):149-164.         [ Links ]

    Rens, J.A., Van der Walt, J.L. & Vreken, N.J. 2005. Waarde-opvoeding in Skole: Kan dit? Moet dit? Tydskrif vir Christelike Wetenskap, 41(3):215-229.         [ Links ]

    Scholtz, L. 2006. Die belang van Afrikaanse onderwys vir die oorlewing van die taal. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 46(4):470-481.         [ Links ]

    Scholtz, M. 2001. Dekriminalisering van prostitusie: 'n nuwe benadering vir 'n eeu oue kwessie? Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 41(2):150-157.         [ Links ]

    Smit, M. & Oosthuizen, I. 2006. "!ke e: /xarra / /ke" Eenheid in verskeidenheid in die onderwys. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 46(4):515-528.         [ Links ]

    Smuts, J.P. 2005. Die Akademie se letterkundepryse. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 45(1):1-14.         [ Links ]

    Steel, S.J. 2008. Statistiese model seleksie. Suid-Afrikaanse Tydskrif vir Natuurwetenskap en Tegnologie, 27(4 Supplement):38-56.         [ Links ]

    Strauss, D.F.M. 2008. Transformasie en die Regstaat (Burgerstaat): Tussen die Scylla van die herstel van begane onreg en die Charybdis van 'n ondemokratiese magstaatinhoud wat aan die slagspreuk "verteenwoordigend van die demografie" gegee word. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 48(1):58-77.         [ Links ]

    Teise, V.N. & Van Coller, H.P. 2004. Magersfontein, o Magersfontein! (Etienne Leroux) as leesuitgawe - 'n edisietegniese evaluering. Stilet, XVI(2):125-146.         [ Links ]

    Tempelhoff, J.W.N. 2005. 'n Historiografiese verkenning van watergeskiedenis. Koers, 70(3):473-514.         [ Links ]

    Truter, E.J.J. 2004. Taalbeleid in die onderwys. Acta Academica, Supplementum 2:123-150.         [ Links ]

    Truter, E.J.J. & Lubbe, H.J. 2002. Die polemiek in die oorgangstyd (1994-1996) rondom die taalbesluite van die South African Broadcasting Corporation (SABC) rakende Afrikaans. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 42(3):197-214.         [ Links ]

    Van Aardt, W.J. 2006. Beginsels en metodes vir die bepaling van die ouderdom van hominied fossiele en hulle vindplekke. Koers, 71(2,3,4):587-610.         [ Links ]

    Van Coller, H.P. 2004. Is Leroux 'n vergete skrywer? Stilet, XVI(1):2-31.         [ Links ]

    Van der Walt, B.J. 2006. Koers in die Krisis van die Landbou. Tydskrif vir Christelike Wetenskap, 42(3):85-110.         [ Links ]

    Van Huyssteen, G.B. & Wissing D. 2007. Datagebaseerde aspekte van Afrikaanse reduplikasies. Southern African Linguistics and Applied Language Studies, 25(3):419-439.         [ Links ]

    Van Niekerk, A.A. 2002. Mediese etiek en chirurgie. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 42(4):260-272.         [ Links ]

    Van Niekerk, E.J. & Aucamp, B.B. 2003. Sinkretistiese Tendense in die Hedendaagse Suid-Afrikaanse Onderwys. Tydskrif vir Christelike Wetenskap, 39(3):67-85.         [ Links ]

    Viljoen, L. 2002. Kan die slaaf praat? Die stem van die slaaf in enkele Brink-romans. Stilet, XIV(2):92-116.         [ Links ]

    Vorster, C.M. & Du Plooy, J. 2005. Enkele Kanttekeninge en Transendentaalkritiese Opmerkings met verwysing na die Ontstaan en Promovering van Neurolinguistiese Programmering. Tydskrif vir Christelike Wetenskap, 41(1):235-264.         [ Links ]

    Vosloo, F. 2007. Antjie Krog se vertaling die sterre sê 'tsau': brug tussen vreemde en bekende. Stilet, XIX(2):83-99.         [ Links ]

    Wepener, C. & Cilliers, J. 2004. Portrette wat praat: Gereformeerde "konsistorie-kuns" as locus theologicus. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 44(4):333-345.         [ Links ]

    Wessels, B. 2007. Perspektief op die onafhanklikheid van die Bank van Engeland, die Reserwebank van Nieu-Seeland en die Suid-Afrikaanse Reserwebank. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 47(1):13-27.         [ Links ]

    Wolhuter, C.C. & Oosthuizen, I.J. 2003. 'n Leerderperspektief op dissipline: 'n kwalitatiewe ontleding. Koers, 68(4):437-456.         [ Links ]

    Literatuur

    Bosch, A.B. 1984. 'n Sintaktiese ondersoek na die gebruik van onderskikkende voegwoorde en sinsverbindende woorde in Afrikaans. Ongepubliseerde proefskrif: Rhodes Universiteit.         [ Links ]

    Comrie, B. 1986. Conditionals: a typology. In Traugott, E.C., Ter Meulen, A., Reilly, J.S. & Ferguson, C.A. (eds). On conditionals. Cambridge: Cambridge University Press.         [ Links ]

    Dancygier, B. & Sweetser, E. 2006. Mental spaces in grammar: conditional constructions. Cambridge Studies in Linguistics 108. Cambridge: Cambridge University Press.         [ Links ]

    Ford, C.E. & Thompson, S.A. 1986. Conditionals in discourse: a text-based study from English. In Traugott, E.C., Ter Meulen, A., Reilly, J.S. & Ferguson, C.A. (eds). On conditionals. Cambridge: Cambridge University Press.         [ Links ]

    Givón, T. 1995. Functionalism and Grammar. Amsterdam/Philadelphia: John Benjamins.         [ Links ]

    Harris, M.B. 1986. The historical development of SI-clauses in Romance. In Traugott, E.C., Ter Meulen, A., Reilly, J.S. & Ferguson, C.A. (eds). On conditionals. Cambridge: Cambridge University Press.         [ Links ]

    Huddleston, R. & Pullum, G.K. 2002. The Cambridge grammar of the English language. Cambridge: Cambridge University Press.         [ Links ]

    Johnson-Laird, P.N. 1986. Conditionals and mental models. In Traugott, E.C., Ter Meulen, A., Reilly, J.S. & Ferguson, C.A. (eds). On conditionals. Cambridge: Cambridge University Press.         [ Links ]

    König, E. & Van der Auwera, J. 1988. Clause integration in German and Dutch conditionals, concessive conditionals, and concessives. In Haiman, J. & Thompson, S.A. (eds). Typological studies in language 18. Clause combining in grammar and discourse. Amsterdam: John Benjamins.         [ Links ]

    Lakoff, G. 1987. Women, Fire, and Dangerous Things. What Categories Reveal about the Mind. Chicago: The University of Chicago Press.         [ Links ]

    Lehmann, C.1988. Towards a typology of clause linkage. In Haiman, J. & Thompson, S.A. (eds). Typological studies in language 18. Clause combining in grammar and discourse. Amsterdam: John Benjamins.         [ Links ]

    Matthiesen, C. & Thompson, S.A. 1988. The structure of discourse and 'subordination'. In Haiman, J. & Thompson, S.A. (eds). Clause combining in grammar and discourse. Amsterdam: John Benjamins.         [ Links ]

    Messerschmidt, J.J.E. 1997. Voegwoorde sonder grense. In Kotzé, E.F. (samesteller). SA Linguistiek 1997. Referate gelewer tydens die 33ste Jaarkongres van die Linguistevereniging van Suider-Afrika (LVSA) gehou aan die Universiteit van Natal (Durban), 2-4 Julie.         [ Links ]

    Messerschmidt, J.J.E. 2009. Die gebruik van die onderskikker wanneer in hipotaktiese verbindings. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 49(1):160-178.         [ Links ]

    Nuyts, J. 2007. Cognitive and Functional Linguistics. In: Geeraerts, D. & Cuyckens, H. (eds). The Oxford Handbook of Cognitive Linguistics.         [ Links ]

    Ponelis, F.A. 1979. Afrikaanse Sintaksis. Pretoria: Van Schaik.         [ Links ]

    Reilly, J.S. 1986. The acquisition of temporals and conditionals. In Traugott, E.C., Ter Meulen, A., Reilly, J.S. & Ferguson, C.A. (eds). On conditionals. Cambridge: Cambridge University Press.         [ Links ]

    Schoonees, P.C. 1956 en 1961. (hoofred.) Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT). Pretoria: Die Staatsdrukker.         [ Links ]

    Taylor, J.R. 2003. Linguistic categorization. Oxford: Oxford University Press.         [ Links ]

    Ter Meulen, A. 1986. Generic information, conditional contexts and constraints. In Traugott, E.C. Ter Meulen, A. Reilly, J.S. & Ferguson, C.A. (eds). On conditionals. Cambridge: Cambridge University Press.         [ Links ]

    Tomasello, M. 2003. Constructing a Language. A Usage-Based Theory of Language Acquisition. Cambridge Massachusetts: Harvard University Press.         [ Links ]

    Xrakovskij, V.S. 2005. Conditional constructions: a theoretical description (meaning, calculus, typology). In Xrakovskij, V.S. (ed.). Typology of Conditional Constructions. LINCON Studies in Theoretical Linguistics. Muenchen: LINCON GmbH.         [ Links ]

     

     

    JOHANNA J. E. (HANNEKE) MESSERSCHMIDT is emeritus professor en navorsingsgenoot van die Departement Kurrikulumstudie aan die Universiteit van die Vrystaat. Sy behaal die BSc-graad aan die destydse PU vir CHO. Haar studies in die geesteswetenskappe aan UNISA lei tot die ver kryging van die graad DLitt et Phil in Linguistiek. Haar onderrigtaak by die UV het die aanbieding van modules op voor- en nagraadse vlak ingesluit asook studieleiding aan M en D-studente behels. Sy het 'n leidende rol gespeel in internasionale navorsingsprojekte wat in samewerking met Vlaamse universiteite in Mangaung onderneem is. Benewens die deskriptiewe linguistiek sluit haar navorsingsbelangstellings taalverwerwing (Afri kaans en Suid-Sotho), taalonderrig en onderrigtale in.
    JOHANNA J. E. (HANNEKE) MESSERSCHMIDT is professor emeritus and research fellow of the Department of Curriculum Studies at the University of the Free State. She obtained the BSc degree at the former PU for CHE. Her studies in the humanities at Unisa led to the DLitt et Phil in Linguistics. Her teaching task at the UFS included modules on undergraduate and post-graduate levels and she also supervised Masters and PhD students. She was the instigator of several international research projects undertaken in Mangaung in cooperation with Flemish universities. Apart from descriptive linguistics her research interests include language acquisition (Afrikaans and Southern Sotho), language teaching and languages of teaching and learning.

    HANS J. MESSERSCHMIDT is emeritus professor en navorsingsgenoot van die Departement Rekenaarwetenskap en Informatika aan die Universiteit van die Vrystaat. Na studies aan die PU vir CHO en UP, behaal hy in 1980 'n PhD in Rekenaarwetenskap aan die Universiteit van die Witwatersrand. In 1978 word die "Professional Excellence Award" deur IBM aan hom toegeken. Hy is sedert 1987 verbonde aan die UV. Sy navorsingsbelangstelling lê in algoritmes, kunsmatige intelligensie en rekenaarlinguistiek. Hy het verskeie artikels in nasionale en internasionale tydskrifte gepubliseer.
    HANS J. MESSERSCHMIDT is professor emeritus and research fellow in the Department of Computer Science and Informatics at the University of the Free State. After studying at the PU for CHE and UP, he obtained a PhD from the University of the Witwatersrand in 1980. In 1978 he received the Professional Excellence Award from IBM. He joined UFS in 1987. His research interests are centred on algorithms, artifi cial intelligence and computational linguistics. He has published several papers in local and international journals.