SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.51 número2Conditional constructions with "indien" (if), as used in scientific journals (Part 1: Basic constructions) índice de autoresíndice de assuntospesquisa de artigos
Home Pagelista alfabética de periódicos  

Serviços Personalizados

Artigo

Indicadores

    Links relacionados

    • Em processo de indexaçãoCitado por Google
    • Em processo de indexaçãoSimilares em Google

    Bookmark

    Tydskrif vir Geesteswetenskappe

    versão impressa ISSN 0041-4751

    Tydskr. geesteswet. vol.51 no.2 Pretoria jun. 2011

     

    NAVORSINGS- EN OORSIGARTIKELS RESEARCH AND REVIEW ARTICLES

     

    Ideologiese oorwegings by die vertaling van Anne Frank se dagboek, Het Achterhuis, in Afrikaans1

     

    Ideological considerations in the Afrikaans translation of Anne Frank's diary, Het Achterhuis

     

     

    Carla-Marié Spies; Ilse Feinauer

    Departement Afrikaans en Nederlands. Universiteit van Stellenbosch. E-pos: cmspies@sun.ac.za / aef@sun.ac.za

     

     


    OPSOMMING

    In hierdie artikel word ondersoek ingestel na die ideologiese motiverings agter die besluitneming in die vertaling van Anne Frank se dagboek, Het Achterhuis uit Nederlands in Afrikaans (Die Agterhuis). Daar word gekyk na die besluitneming ten opsigte van die oorkoepelende vertaalstrategie, asook die hantering van ideologiese verwysings in die dagboek.
    Die dagboek is sedert die eerste Nederlandse uitgawe in 1947 in meer as 60 tale vertaal. Vanweë die verskillende vertalings en verwerkings van die dagboek word die vraag gevra wie die régte Anne Frank is, aangesien die outentisiteit van die dagboek dikwels ingeboet is en die stem en styl van die dagboekskrywer nie altyd getrou weergegee is nie.
    Die beeld van Anne en haar dagboek is dus dikwels ideologies gemanipuleer en gefalsifiseer en as antwoord hierop, besluit Spies om hoofsaaklik van 'n vervreemdingsbenadering (Venuti 1995) gebruik te maak en besonder naby die bronteks te bly in haar Afrikaanse vertaling van die dagboek. Daar word telkens dermate vervreem dat ouer Afrikaanse en Nederlandistiese uitdrukkings dikwels in die Afrikaanse doelteks voorkom.
    Die doelteks word wel toeganklik vir die doelteksleser gemaak deurdat die dagboek origens in idiomatiese Afrikaans vertaal word en deur middel van die vertaler se uitgebreide funksionele gebruik van die parateks (Spies 2011).
    Deur middel van hierdie vervreemdingsbenadering slaag die vertaler daarin om die stem en styl van Anne in die Afrikaanse teks behoue te laat bly en so 'n getroue beeld van Anne weer te gee en die outentisiteit van die dagboek te behou. Hierdie benadering verhoog die literêre waarde van die doelteks en dra by tot die aanvaarbaarheid daarvan in die doeltekskultuur en sodoende die geslaagdheid van die Afrikaanse vertaling van die dagboek van Anne Frank.

    Trefwoorde: Anne Frank; dagboek; Die Agterhuis; domestikering; egodokument; Het Achterhuis; Holocaust; ideologie; Lina Spies; outentisiteit; stem; styl; vertaling; vervreemding


    ABSTRACT

    This article investigates the ideological considerations in the decision making process of the translation of Anne Frank's diary, Het Achterhuis, into Afrikaans, Die Agterhuis. It analyses how the translator succeeds in rendering a translation which is authentic to the source text by remaining faithful to it and by conveying the voice and style of the original author into Afrikaans.
    In 2008, more than 60 years after Anne Frank's diary, Het Achterhuis, was first published in Dutch (1947), Lina Spies translated it into Afrikaans, with the title, Die Agterhuis. For the first time this famous diary was made available in Afrikaans.
    This diary has been rewritten and republished in Dutch a number of times as well as translated into over 60 languages. It has also been reworked into different genres, such as musicals and plays. Quite a number of these rewrites and translations rendered versions of the diary that were adapted and manipulated to such an extent that the resulting target texts can be regarded as unfaithful to the original/source text. These manipulations are mostly ideological in nature and mainly entail omitting and/or down toning entries in the diary which are of a strong ideological nature.
    In his adaptation of the diary, Anne's father, Otto Frank, for example omits entries where Anne depicted her mother in a bad light. Quite a number of the rewrites and translations omit the entries where Anne wrote from a feministic viewpoint about the emancipation of women (Lefevere 1992:64). Especially in German translations the entries where Anne wrote about the severity of the war and the Holocaust, which put the Nazis and Gestapo in a bad light, were rewritten to come across as less severe than they really were. An example of this is Anne's description of the German police on how to kill hostages: "zet de Gestapo doodgewoon een stuk of 5 gijzelaars tegen de muur" (the Gestapo simply puts 5 hostages or so against the wall) which was translated into German as: "dann hat man einen Grund, eine Anzahl dieser Geiseln zu erschiessen" (one then has a reason to shoot a number of these hostages). Lefevere (1992:68) argues that by using the word "man" (one) instead of specifically "Gestapo", the description is less explicit. The link between the severe deed and the German Gestapo is non-existent. Furthermore, the deed is justified in the target text because it is mentioned "das man einen Grund [hat]" to do it. Lefevere (1992:68) also mentions that by using merely "erschiessen" (shoot) instead of conveying the idea of the people being lined up against a wall, makes the deed less shocking. The inhumanity of the act which is conveyed in the Dutch source text is therefore lost in the ideologically manipulated German target text.
    Because the diary of Anne Frank is an ego document/autobiographical work (in the form of a diary) where the thoughts and feelings of a real person are portrayed, as well as a text which serves as a type of documentation of the Holocaust, it is of great importance that rewrites and translations of the diary be as faithful as possible to the source text. The manipulated versions of the diary led to the falsification of the voice of the author, Anne Frank, which Lefevere (1992) refers to as "the construction of different Anne Franks".
    The translator, Spies, as an agent of power in the translation process, believes that the nature of an autobiographical work and a documentation of The Second World War and the Holocaust call for authenticity and that the translator of these genres is therefore compelled to be subservient, to an extent, to the authority of the source text and the source text author. Spies therefore tries to remain as close to the source text as possible, whilst translating it into idiomatic Afrikaans (Spies 2008a:14).
    According to Spies (2007:10) the purpose of her Afrikaans translation is to serve as a reaction against the manipulated versions of the diary, which led to the falsification thereof and the falsely constructed image of Anne presented to the world.
    In order to render a target text which is authentic to the source text and reflects the voice and writing style of the source text author, the overall approach Spies followed in the Afrikaans translation in terms of culture and ideology is one of foreignization (Venuti 1995). This approach entails that a target text is produced by purposefully breaking conventions of both the target text language and culture to retain a part of the strangeness of the source text in the target text (Venuti 1995). All pragmatic and contextual references, such as cultural, political and religious references in the source text are therefore preserved in the target text and rendered as faithfully as possible. Translation strategies such as calques and cultural borrowing are applied and the translator makes use of older or Netherlandistic Afrikaans expressions, words and idioms in order to convey the voice and style of the author. The purpose is to make the target text seem as if it were written by the original author, but in Afrikaans.
    Because the target text is mainly foreignized, Spies frequently made use of paratext (the introduction, footnotes, epilogue and afterword) which accompany the diary entries to provide background information on the source text and author, in order to justify certain decisions made during the translation process and to clarify or explain some references in the target text which the target text readership will most likely not understand or be familiar with (Spies 2011). The combination of foreignization and paratext makes the target text more faithful to the source text, whilst rendering it acceptable, accessible and comprehensible to the target text readership.
    The ideological considerations in the translation of Het Achterhuis in Afrikaans are mainly aimed at rendering an authentic and faithful translation. By means of the Afrikaans translation of the diary, Anne's original work becomes accessible to the Afrikaans speaking, South African, target text readership. Justice is done to the diary and to the voice of Anne Frank - the face of the six million Jews who died during the Holocaust.

    Key words: Authenticity; Anne Frank; diary; Die Agterhuis; domestication; ego-document; foreignization; Het Achterhuis; Holocaust; ideology; Lina Spies; style; translation; voice


     

     

    INLEIDING EN PROBLEEMSTELLING: DIE VERTALING VAN ANNE FRANK SE DAGBOEK IN AFRIKAANS

    O ja, ek wil nie soos die meeste mense vir niks geleef het nie. Ek wil nuttig wees of vreugde gee vir die mense wat om my leef en my tog nie ken nie, ek wil voortlewe, ook ná my dood! (Frank 2008:263)

    Hierdie dagboekinskrywing van Anne Frank op 5 April 1944 kan as profeties beskou word, aangesien sy vandag inderdaad voortleef in die talle vertalings en verwerkings van haar dagboek wat wêreldwyd versprei is. Dit is danksy Miep Gies, wat haar dagboek gevind en bewaar het nadat Anne en haar gesin deur die Grüne Polizei in die Agterhuis ontdek en na konsentrasiekampe geneem is, sowel as Otto Frank, wat sy dogter se dagboek na die Tweede Wêreldoorlog in 1947 in Nederlands laat publiseer het.

    Die verskillende vertalings en verwerkings van die dagboek het egter daartoe gelei dat die vraag gevra word wie die régte Anne Frank is, aangesien die outentisiteit van die dagboek dikwels ingeboet word en die stem en styl van die dagboekskrywer nie altyd getrou weergegee word nie. In sy artikel On the construction of different Anne Franks merk Lefevere (1992:59) op dat deur byvoorbeeld die 1947- en 1986-weergawes van die Nederlandse dagboek te vergelyk, 'n mens insig kry in die "konstruksie" van 'n beeld van Anne Frank - deur haar en deur ander. Dit is aangesien die Nederlandse weergawe ook 'n hele paar keer verwerk is - en in die besonder ideologies gemanipuleer is.

    Daar het as't ware wêreldwyd 'n hele kultus rondom Anne en haar dagboek ontwikkel, wat as die sogenaamde "Anne Frank-industrie" bekend staan. Dit behels die kommersialisering van die naam en identiteit van "Anne Frank" en veral die veramerikaansing van haar en haar dagboek (Barnouw 1998:85). Deur veral die verskillende Amerikaanse weergawes van Anne se dagboek het die beeld van Anne Frank verwronge geraak en word sy deur die wêreld as 'n oppervlakkige tienermeisie beskou (veral na aanleiding van baie toneelstukke wat op grond van die dagboek geskep is), of geïdealiseer tot iemand wat sy nooit werklik was nie.

    Spies2 laat haar soos volg hieroor uit:

    [...] die Anne Frank-kultus wat ontstaan het deur veral die toneelstuk en die fi lm waardeur sy [Anne] die mees geïdealiseerde en gefalsifiseerde ikoon geword het uit 'n periode van verskrikking wat behoort tot die ergste in die geskiedenis van die wêreld (Spies 2007:10).

    Spies (2008b) sê dat daar aan die wêreld 'n positiewe, opgewekte Anne voorgehou word, wat sy inderdaad nie altyd was nie. Anne word wêreldwyd opgehemel tot 'n toonbeeld van 'n positiewe ingesteldheid te midde van haglike omstandighede. Tog was Anne glad nie altyd hierdie opgewekte kind wat aan die wêreld voorgehou word nie, maar ook 'n peinsende, nadenkende, dikwels baie depressiewe (sy het medikasie vir depressie geneem) en eintlik maar doodnormale meisie, wat soms baie opsetlik en selfsugtig kon wees.

    As gevolg van die vals beeld wat van Anne geskep is, en in 'n poging om die outentisiteit van die bronteks te behou, sê Spies (2008a:14) dat sy probeer om in die Afrikaanse vertaling so na moontlik aan die Nederlandse teks te bly, sonder om die eiendomlikheid van Afrikaans geweld aan te doen. Sy wil deur middel van die Afrikaanse vertaling weer vir Anne haar regte identiteit en eie stem teruggee.

    Soos genoem, het Anne tydens die skryf van die dagboek dele van die dagboek herskryf. Die rede hiervoor is tweevoudig. Die eerste rede is persoonlik: Anne het haar bedink oor sekere uitsprake wat sy in die dagboek gemaak het, byvoorbeeld waarin sy haar ma sleggesê het. Die tweede rede is literêr: sy het tydens haar onderduiking in die Agterhuis besluit dat sy die dagboek na die oorlog sou wou publiseer en daarom het sy sekere passasies verbeter en meer kreatief oorgeskryf (Lefevere 1992:60).

    Daar is drie "oorspronklike" Nederlandse weergawes van Anne Frank se dagboek. Die sogenaamde "a-weergawe" bevat die oorspronklike inskrywings wat Anne opgeteken het in die dagboek wat sy vir haar dertiende verjaarsdag op 12 Junie 1942 ontvang het. Die "b-weergawe", bestaan uit Anne se herskrywings van die dagboekinskrywings tot en met 29 Maart 1944, waarin sy sekere dele van die teks weglaat, verander en verbeter en ook van die name van die mense wat sy in die dagboek noem, verander. Anne se pa, Otto Frank, tik later hierdie twee weergawes oor as één dokument deur die a- en b-weergawes saam te voeg, te redigeer, sekere dele weg te laat (byvoorbeeld Anne se negatiewe beskrywings van haar ma wat sy nie self uitgeredigeer het nie) en van die inskrywings te herorden. In 1947 word hierdie weergawe, die sogenaamde "c-weergawe", gepubliseer (Barnouw 1998:13,16).

    Vanweë die verskillende weergawes is dit egter moeilik om een teks in sy geheel as die bronteks vir 'n vertaling van die dagboek te beskou. Die Frank Pressler-weergawe (Frank 2008b), saamgestel deur Mirjam Pressler en uitgegee deur Bert Bakker, ook bekend as die "leesuitgave" word gestipuleer as die enigste weergawe wat as bronteks vir die vertaling van die dagboek mag dien. Hierdie bronteks wat vir die Afrikaanse vertaling gebruik is, is gebaseer op die wetenskaplike uitgawe, wat bekend staan as die "Kritiese Edisie", getiteld De Dagboeken van Anne Frank, uitgegee deur die Rijksinstituut voor Oorlogsdocumentatie (1986). Spies volg in die Afrikaanse vertaling hoofsaaklik hierdie weergawe as bronteks, maar maak ook soms gebruik van die wetenskaplike uitgawe as bronteks. Hierdie afwykings word altyd deur middel van 'n voetnoot aangedui (Spies 2011).

    Nadat die dagboek die eerste keer in 1947 gepubliseer is, is dit al in meer as 60 tale wêreldwyd vertaal (Brand 2008b:12). In 2008 - meer as 60 jaar nadat die eerste uitgawe daarvan in Nederlands verskyn het - word dit vir die eerste keer in Afrikaans as Die Agterhuis vertaal en hierdeur word hierdie bekende dagboek ook toeganklik vir die Afrikaanssprekende leserspubliek.

    Dit is ideologies van belang dat hierdie verhaal oor onderdrukking nou ook in Afrikaans, wat as gevolg van die apartheidsgeskiedenis in Suid-Afrika as die "taal van die onderdrukker" beskou word, beskikbaar is. Annie Brisset (1990:369) voer aan dat indien 'n "klassieke werk" in 'n sekere taal, veral in 'n minderheidstaal vertaal word, dit 'n status aan daardie taal kan verleen deur die taal te legitimiseer. Spies sê sy hoop dat hierdie Afrikaanse vertaling van Anne Frank se dagboek sal help dat Afrikaans nie in so 'n negatiewe lig beskou sal word nie (in Schneider 2008:3) en noem dat die vertaling van hierdie gekanoniseerde werk 'n soort status aan Afrikaans sal kan gee (Brand 2008b:12). Die Afrikaanse vertaling van hierdie dagboek kan ook as 'n verset dien teen die imperialistiese idee wat vir baie jare geseëvier het, naamlik dat literêre werke nie in Afrikaans hoef vertaal te word nie "aangesien almal mos Engels kan verstaan".

    Die Agterhuis word positief deur die Suid-Afrikaanse, hoofsaaklik Afrikaanssprekende doeltekslesers ontvang en Spies ontvang in 2011 die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns se Akademieprys vir die Afrikaanse vertaling van die dagboek van Anne Frank (De Vries 2011).

     

    DOELSTELLING EN HIPOTESE

    Anne Frank en haar familie was Duitse Jode wat tydens die Tweede Wêreldoorlog vir die Nazi's moes wegkruip. Die plek waar hulle geskuil het, was in die agterkamers (die sogenaamde Agterhuis) van Opekta (Otto Frank se maatskappy) se kantore. Dit is hier waar Anne haar dagboek geskryf het; teen die agtergrond van die Holocaust. Die dagboek is dus binne die konteks van ideologiese en politiese konflik geskryf, en daarom is die dagboek 'n sterk ideologies en kultureel verwikkelde teks. Die teks maak ook 'n groot ideologiese impak op sy lesers. As gevolg hiervan speel ideologie dus 'n belangrike rol by die vertaling van die dagboek. In hierdie artikel sal daar spesifi ek gekyk word na hoe ideologiese oorwegings 'n impak gemaak het op Spies se besluitneming tydens en haar oorkoepelende benadering tot die vertaling van Het Achterhuis, asook hoe sy ideologiese verwysings in die vertaling van die dagboek hanteer het.

    Die hipotese wat hieruit na vore kom, is soos volg: Spies bly in die Afrikaanse vertaling baie getrou aan die bronteks, Het Achterhuis en maak hoofsaaklik van die vervreemdingstrategie gebruik ter behoud van die stem en styl van die dagboekskrywer, Anne Frank. Hierdeur slaag sy daarin om die atmosfeer wat in die bronteks voorkom, in die doelteks weer te gee, asook om die outentisiteit van die dagboek te behou.

     

    IDEOLOGIESE OORWEGINGS BY DIE VERTALING VAN HET ACHTERHUIS: VERVREEMDING AS OORKOEPELENDE BENADERING

    Met die kulturele wending in vertaalstudies het die fokus verskuif van linguistiese, of meer letterlike vertaling na die inagneming van die rol wat konteks en kultuur in 'n vertaling speel. Die sogenaamde ideologiese wending het op hierdie kulturele wending gevolg en klem begin plaas op die ideologiese faktore wat vertaalstrategieë bepaal. Die vertaler moet dus aspekte soos kultuur, gender, geloof, demografie en politiek in ag neem tydens vertaling en ook besluite maak oor hoe hierdie aspekte in die doelteks hanteer gaan word. Hierdie faktore is ideologies-gebonde en aangesien vertalers verskillende ideologiese oortuigings het, vind hierdie oortuigings neerslag in en oriënteer die vertalings. Tymoczko (2003:183) noem dat die

    [...] ideology of a translation resides not simply in the text translated, but in the voicing and stance of the translator, and in its relevance to the receiving audience.

    Omdat die vertaler se ideologie 'n belangrike rol speel in die oorwegings, keuses en besluite wat met 'n vertaling gepaardgaan, word die vertaler as 'n belangrike magsagent in die vertaalproses beskou. Venuti (1995) redeneer dat die vertaler vanweë hierdie prominente posisie meer sigbaar in 'n vertaling moet wees. In Die Agterhuis kom die stem van die vertaler sterk na vore deur middel van die parateks in die vertaling, byvoorbeeld voetnote, asook die uitgebreide inleiding tot die vertaling waarin sy 'n agtergrond van die bronteks verskaf en haar vertaalbesluite motiveer (Spies 2011).

    Volgens Megrab (1999:59) behels vertaling, soos vir Lefevere (1992:xi) die herskrywing van die bronteks in die vorm van 'n doelteks en dit behels sowel die interpretasie van die bronteks as die transformasie daarvan in die doeltekstaal. Vertalings behels daarmee saam verskillende oorwegings wat in die vertaler se gedagtes plaasvind. Twee ideologiese oorwegings wat duidelik in hierdie transformasie proses waargeneem kan word, is om (1) die doelteks vir die doelteksleser toegankliker te maak deur die brontekskultuur in die doeltekskultuur te herkontekstualiseer en (2) om bronteks georiënteerd te werk te gaan deur die brontekskultuur onveranderd in die doelteks te behou. Die eerste strategie word deur Venuti (1995) as "domestikering" en die tweede as "vervreemding" gedefinieer.3

    Domestikering is 'n strategie wat behels dat 'n deursigtige, vloeiende styl in die doelteks gebruik word om die vreemdheid of andersheid van die vreemde teks vir die doelteksleser te minimaliseer. Dit maak die doelteks vir die doelteksleser aanvaarbaar en toeganklik, aangesien die doelteksleser hom/haar met die teks kan vereenselwig en dit kan verstaan (Venuti 1995). Venuti (2000:468) beskryf domestikering as "investing the foreign-language text with domestic signifi cance". Volgens Venuti (2000:468) vind nie slegs oordrag uit die vreemde teks plaas nie, maar word die gedomestikeerde intellek en belange wat saamhang met die bronteks, as't ware in die doelteks geïnskribeer (inscribed). Die bronteks word tot so 'n mate herskryf, of gemanipuleer, dat dit op byvoorbeeld kultuurvlak heeltemal wegbeweeg van die oorspronklike. Die doelteks bevat dus nie meer, of hoofsaaklik nie meer vreemde elemente nie. Dit raak as't ware 'n "nuwe" teks, onafhanklik van die bronteks, en lees nie soos 'n vertaling nie (Venuti 2000:468-471), maar soos 'n "oorspronklik geskrewe teks".

    'n Voorbeeld van domestikering is die Franse opera Carmen (Bizet 1875) wat vertaal is in isiXhosa, U-Carmen e-Khayelitsha - 'n filmopera. Die oorspronklike teks speel af in Sevilla, Spanje, rondom 1820 en handel oor die hoofkarakter Carmen, 'n sigeunervrou, se fl ankering en liefdesverhouding met die soldaat Don José. Die isiXhosa-doelteks speel af in die Kaapstadse "township", Khayelitsha en handel oor die liefdesverhouding tussen Carmen, 'n sigaretfabriekswerker se flankering en liefdesverhouding met Jongikhaya, 'n polisiesersant. 'n Kombinasie van Bizet se oorspronklike musiek en Afrikamusiek word in hierdie fl imopera gebruik.

    Domestikering is 'n strategie wat gebruik word om 'n teks te herontdek of te herskep om nuwe betekenis daaraan te gee.

    Vervreemding, daarenteen, is 'n strategie waar die doelteks geproduseer word deur doelbewus die doeltekstaal- en doelkultuurkonvensies te verbreek om iets van die vreemdheid of die andersheid van die oorspronklike teks te behou (Venuti 1995). Hierdie behoud van die vreemdheid of andersheid word deur Venuti (2000:468-469) as wérklike interkulturele kommunikasie beskou. Hy glo dat die vreemdheid wat in die doelteks voorkom, die letterkunde in die doeltekstaal en van die doeltekskultuur kan verryk (Venuti 2000:468-470).

    Venuti (2000:470) voer aan dat aspekte van die bronteks soos die styl, tyd waarin dit afspeel, genre, historiese en geografiese merkers, sowel as name, behou moet word in die doelteks. Spies deel hierdie siening ten opsigte van die vertaling en dit is volgens haar belangrik dat die doelteksleser bewus daarvan moet wees dat dit 'n teks is wat in Nederlands geskryf is deur 'n jong meisie, Anne Frank, tydens die Tweede Wêreldoorlog in Nederland (Spies 2009).

    Venuti (2000:470) noem ook dat die outeur van die bronteks se intensie en die manier waarop hy/sy dit in woorde omskakel in 'n vertaling, behoue moet bly.4 Venuti is dus van mening dat die vreemde elemente asook die stem van die outeur in 'n vertaling behoue moet bly. Tytler (1978, in Venuti 1995:58) beskryf 'n "goeie vertaling" as een:

    [...] in which the merit of the original work is so completely transfused into another language, as to be as distinctly, apprehended, and as strongly felt, by a native of the country to which that language belongs, as it is by those who speak the language of the original work.

    Hierdie uitgangspunte sluit aan by Spies se mening dat die outeur in die vertaling van Het Achterhuis gerespekteer moet word en haar stem en styl in die Afrikaanse doelteks prominent moet wees.

    Volgens Venuti (1995:1) behoort die doelteksleser daarvan bewus te wees dat hy/sy 'n vertaling lees deur die vreemde elemente wat in die doelteks waarneembaar is en die stem van die outeur wat in die doelteks behoue bly. Venuti (1995:264) is byvoorbeeld gekant teen die "geweld" (soos hy dit bestempel) teenoor vertalings deur middel van te drastiese domestikering, veral deur herskrywing/manipulasie.

    Die konteks waarin Het Achterhuis geplaas word, is onlosmaaklik verbonde aan die teks en vorm as't ware 'n integrale déél van hierdie werk, aangesien dit as 'n tipe oorlogsdokument beskou kan word wat as belangrike dokumentasie van die Tweede Wêreldoorlog en die Holocaust dien. Die konteks waarin die dagboek geskryf is, die tyd, milieu, kultuur en politiese klimaat waarin die bronteks afspeel, word in die doelteks behou en daar word veral ten opsigte van pragmatiese en kontekstuele verwysings ([inter]kulturele, godsdienstige, ideologiese, historiese en politiese verwysings) vervreem. Al beteken dit dat van die verwysings nie noodwendig vir die moderne Suid-Afrikaner bekend sal wees nie, word kulturele faktore deurgaans deur middel van die vervreemdingstrategie in die doelteks oorgedra. Die vertaler wil juis hierdeur die doeltekslesers 'n blik gee van hoe die omstandighede destyds was en dat hy/sy hom/haar nie hiermee móét vereenselwig nie, aangesien 'n Suid-Afrikaner in vandag se konteks nooit kan, of moet kan, verstaan hoe dit was om 'n Jood tydens die Holocaust te wees nie (Spies 2009). Hierdie vereenselwiging is onmoontlik, aangesien die konteks waarin die dagboek geskryf is té radikaal verskil van dit wat binne 'n Afrikaanssprekende Suid-Afrikaner, hier die tipiese doelteksleser, se verwysingsraamwerk val. Die vertaler vervreem die doelteksleser dus bewus van die teks om die outentisiteit daarvan te behou en die werklike betekenis en boodskap daarvan aan die doelteksleser te kan oordra.

    Aangesien Anne Frank se dagboek 'n egodokument is (Jacques Presser se term vir 'n teks waarin die outeur oor sy/haar eie handelinge, denke en gevoelens skryf (Dekker 2002:7)), is 'n vervreemdende strategie ook meer wenslik. Hierdie dagboekbriewe word uit 'n eerstepersoonsvertellerperspektief geskryf en is van 'n sterk persoonlike aard. Anne se diepste gevoelens kom in hierdie dagboekbriewe na vore: haar drome, gedagtes, emosies en vrese. Met ander woorde meestal dié dinge waarvan niemand weet nie en net sy self kon voel.

    Dit is belangrik by tekste soos oorlogsdokumente en egodokumente om dit nie ideologies te manipuleer nie sodat die doelteks besonder lojaal aan die bronteks bly. Die vertaling moet die eerlikheid behou waarmee die feite, menings en gedagtes in die dagboek weergegee word, sodat die outentisiteit van die teks juis as dokumentering van die geskiedkundige agtergrond daarvan kan dien, asook die bes moontlike "ware" beeld van die skrywer (Anne Frank) kan oordra.

    Aangesien die doelteks hoofsaaklik vervreemdend is, is dit wel belangrik dat dit vir die doelteksleser toeganklik gemaak word. Die parateks in die doelteks is baie doeltekslesergerig en die inleiding tot die dagboekbriewe, die epiloog (albei deur die vertaler) en die nawoord (vertaal uit die bronteks) dra daartoe by om die agtergrond van die dagboek en die outeur te verskaf. Voetnote wat deurgaans in die doelteks voorkom, help weer om verwysings, woorde en uitdrukkings te verduidelik, of te vertaal, sodat dit vir die doelteksleser toeganklik is. Die parateks en dagboekbriewe werk dus in interaksie saam om die doelteks terselfdertyd te vervreem van, maar ook toeganklik te maak vir die doelteksleser (Spies 2011).

     

    DIE BEHOUD VAN ANNE SE STEM EN STYL IN DIE AGTERHUIS

    'n Struikelblok vir vertalers is dikwels om die stem van 'n kind, wat uiteraard sentraal in hierdie teks staan, weer te gee. Wat veral die vertaler aanvanklik gepootjie het, is dat dit vir haar moeilik was om haar te vereenselwig met die alledaagse lewe van 'n 13-jarige, byvoorbeeld haar verliefdheid, haar waarneming van haar klasmaats en dinge soos haar verjaarsdagpartytjie (Brand 2008a:3). Spies sê dit was vir haar moeilik om die eerste paar inskrywings van die dagboek nie styf en ongemaklik (asook onnatuurlik) te laat voorkom nie (Brand 2008a:3). Anne is egter uit haar kinder-/skoolmeisiebestaan geruk en het eintlik 'n versnelde volwassewording ondergaan. Spies (in Brand 2008b:12) merk hieroor op:

    Anne is van die een dag op die ander geruk uit haar sorgelose bestaan. Onmiddellik het die dagboek iets anders geword. Ons sien 'n versnelde adolessensie, volwasse gedagtes en probleme.

    Spies (2007:24) wys daarop dat Anne nie tipiese tie ner taal gebruik nie, maar voortrefl i ke, volwasse Nederlands skryf wat die vertaler se taak vergemaklik, aangesien 'n "kinderstem" dus nie werklik nageboots hoef te word nie. Anne skryf op 'n baie vertroulike en gemeensame manier aan haar dagboek, maar tog behou sy steeds 'n ietwat formele aanslag en skryf in keurige Nederlands. Dit dui daarop dat haar taalaanvoeling goed ontwikkel was. Anne beskryf byvoorbeeld in haar dagboek die geradbraakte Nederlands wat haar ma en mevrou van Daan praat en hoe sy nie hierdie "oorspronk like taaltjie" in die dagboek gaan weergee nie, maar in "behoorlike Nederlands" sal skryf (Frank 2009:64).

    Aangesien Anne in keurige, formele, deftige Nederlands geskryf het, maak die vertaler in die doelteks ook gebruik van 'n deftige, formeler en soms outydse, plek-plek selfs Nederlandistiese Afrikaans. Omdat Afrikaans uit Nederlands ontwikkel het, kan Spies Anne se skryfstyl en stem goed naboots deur van 'n ouer Afrikaans gebruik te maak om by die tyd waarin die dagboek geskryf is, aan te sluit. Sou sy die dagboek in moderne Afrikaans vertaal het, sou sy van die dagboek se outentisiteit ingeboet het.

    Spies volg die benadering wat Spivak (1992:405) beskryf as om haarself aan die linguistiese retoriek van die oorspronklike teks te onderwerp. Hierdeur stel die vertaler haar ondergeskik aan die outeur se gesag en respekteer die bronteks deur so getrou moontlik aan Anne se skryfstyl en manier van uitdrukking te bly.

    'n Voorbeeld waar daar leksikaal vervreem word deur van meer Nederlandistiese Afrikaans gebruik te maak, is die volgende:

    Donderdag, 3 Februarie 1944

    BT: Wat te doen als de Duitsers Amsterdam evacueren? (bl. 164)

    DT: Wat staan ons te doen as die Duitsers Amsterdam evakueer. (bl. 199)

    Hierdie vertaalekwivalent wat gebruik word ("evakueer"), het dieselfde betekenis as dié van byvoorbeeld "ontruim", wat moontlik as 'n meer hedendaagse Afrikaanse ekwivalent beskou kan word, maar deur van die meer Nederlandistiese ekwivalent gebruik te maak, word die erns van die saak emotief meer beklemtoon.

    Voorbeelde van Nederlandistiese woorde wat deurgaans in die Afrikaanse weergawe van die dagboek voorkom, is onderduik en Agterhuis.

    Uitdrukkings word redelik gereeld in die doelteks vervreem na Nederlandistiese uitdrukkings wat baie na aan die bronteks is, of na meer outydse of formeler Afrikaans:

    Saterdag, 20 Junie 1942

    BT: Het is voor iemand als ik een heel eigenaardige gewaarwording om in een dagboek te schrijven. (bl. 13)

    DT: Dit is vir iemand soos ek 'n heel eienaardige gewaarwording om in 'n dagboek te skryf. (bl. 39)

    Die graadwoord "heel" word in die Afrikaanse teks gebruik, om die byvoeglike naamwoord "eienaardig" te beskryf, in plaas van die meer moderne en idiomatiese Afrikaanse graadwoord "baie" of "nogal" (eienaardig).

    Maandag, 6 Desember 1943

    BT: Ik dacht lang na, totdat ik iets gevonden had, iets lachbaars (bl. 137) {grappigs in Krities e Edisie bl. 137.}

    DT: Ek het lank nagedink totdat ek op iets grappigs gekom het. (bl. 170)

    In die Kritiese Edisie van die Nederlandse teks, lees die teks "iets grappigs" (Rijksinstituut voor Oorlogsdokumentatie 1986:137) in plaas van "iets lachbaars". In die Afrikaanse vertaling word hierdie uitdrukking as "iets grappigs", soos in die Kritiese Edisie, vertaal. 'n Meer gedomestikeerde Afrikaanse vertaling, sou "iets snaaks" wees.

    Dinsdag, 7 Maart 1944

    BT: Was het een wonder dat iedereen graag met me meefietse of me een attentie bewees? (bl. 188)

    DT: Was dit 'n wonder dat almal graag saam met my skool toe en terug fi etsgery het of attensies aan my bewys het? (bl. 225)

    Hierdie uitdrukking in die Afrikaanse teks is 'n baie outydse, Nederlandistiese uitrdrukking. 'n Meer idiomatiese uitdrukking sou wees "aandag aan my gegee het". Deur van die ouer Afrikaanse uitdrukking gebruik te maak, word die atmosfeer van die bronteks egter in die doelteks oorgedra.

    Volgens Hugo (2008:13) gee Spies in haar vertaling doelbewus die Afri kaanse ekwivalent van die formele, keurige Nederlands waarin Anne skryf, weer. Hy sê as dit plek-plek nogal hoogdrawend klink, is dit omdat die vertaler getrou bly aan die styl van 'n taalvaardige tiener met literêre aspirasies. Daar is wel voorbeelde van uitdrukkings wat baie duidelik gedomestikeer is en in meer idiomatiese, moderne Afrikaans vertaal is. 'n Mens kan redeneer dat hierdie inkonsekwentheid wat vertaalbesluite betref, as negatief beskou kan word, maar aan die ander kant kon die vertaler moontlik juis van hierdie strategie gebruik gemaak het om uitdrukkings wat nie in hul Nederlandistiese vorm vir die doelteksleser sin sou maak nie, toeganklik te maak. In daardie opsig is die vertaler origens konsekwent ten opsigte van besluitneming. Voorbeelde hiervan is die volgende:

    Donderdag, 1 Oktober 1942

    BT: De volwassenen lagen dubbel en wij hadden niet minder schik. (bl. 50)

    DT: Die volwassenes het dubbel gevou van die lag en ons het nie minder pret gehad nie. (bl. 77)

    Hier sou die vertaler "lagen dubbel" as "het dubbeld gelê" kon vertaal, wat baie Nederlandisties sou klink. Sy besluit eerder om hierdie uitdrukking as "dubbel gevou van die lag" te vertaal.

    Vrydag, 26 Mei 1944

    BT: Maar ook daar huiveren we allen voor terug [...] (bl. 272)

    DT: Maar ook daarvoor deins ons terug. (bl. 314)

    Die vertaler vertaal nie "huiverend terug as "huiwer terug" nie, maar gebruik die meer idiomatiese uitdrukking "deins terug" wat meer verstaanbaar vir die doelteksleser is, alhoewel die doeltaalekwivalent steeds formeel is.

    Sommige teksgedeeltes uit die Nederlandse5 bronteks word in die doelteks behou wanneer dit 'n spesifieke kreatiewe stukkie skryfwerk is wat weergegee word, byvoorbeeld:

    Vrydag, 14 April 1944

    DT: Mijn werk, mijn hoop, mijn liefde, mijn moed, dat alles houdt mij rechtop en maak me goed! (bl. 275)

    'n Mens kan egter redeneer dat hierdie Nederlandse dele ook in Afrikaans vertaal behoort te word, maar die gebruik van Nederlandse teksgedeeltes dra wel tot 'n versterking van die vervreemdings effek by.

    Deur Anne se stem en skryfstyl na te boots, slaag die vertaler daarin om die atmosfeer van die bronteks in die doelteks oor te dra, asook om Anne se ware identiteit in die Afrikaanse vertaling van die dagboek te behou.

     

    DIE HANTERING VAN IDEOLOGIESE VERWYSINGS IN DIE AGTERHUIS

    Soos genoem, is daar dikwels deur middel van vertalings 'n wanbeeld van Anne Frank geskep. 'n Wanbeeld is ook van die Holocaust geskep deur veral die erg aangepaste Amerikaanse weergawe van Anne se dagboek, getiteld The Diary of Anne Frank. Dit is omdat daar in van die verwerkings van die dagboek sekere ideologiese aspekte uitgelaat is, of ideologies geneutraliseer of gemanipuleer is deur byvoorbeeld 'n versagte uitbeelding van die Holocaust.

    Lefevere (1992:59) gebruik die verskillende vertalings van die dagboek van Anne Frank as voorbeeld van die rol wat ideologie in vertaling speel en die impak wat dit op 'n vertaling kan hê. Soos genoem, voer hy aan dat verskillende (wan)voorstellings (images) van Anne Frank deur middel van verwerkings en vertalings gekonstrueer is. Volgens Lefevere (1992:64) is die mees ooglopende weglatings in byvoorbeeld die 1947-uitgawe waar Anne skryf oor die emansipasie van vrouens. Hierdie verwysings word wel in die Afrikaanse doelteks behou en vertaal, veral aangesien ons vandag in 'n minder patriargale samelewing woon as 60 jaar gelede. Sien die volgende inskrywing as voorbeeld wat uit die leesuitgawe in Afrikaans vertaal is, waar Anne se feministiese uitsprake wel behou word:

    Dinsdag, 13 Junie 1944

    DT: Die een vraag wat my steeds meer besig hou en nie met rus laat nie, is waarom die vrou vroeër en ook nou nog dikwels 'n mindere plek inneem as die man. Almal kan sê dat dit onregverdig is, maar daarmee is ek nie tevrede nie; ek wil die rede weet vir dié groot onreg. [...] Dit was dom genoeg van al die vrouens dat hulle dit so lank sommer so stilweg aanvaar het, [...]. In baie lande het vroue gelyke regte gekry; baie mense, veral vroue, maar ook mans, sien nou in hoe verkeerd hierdie bedeling in die wêreld vir so 'n lang tyd was en moderne vroue wil die reg op volle onafhanklikheid hê! (bl. 324,325)

    In Duitse vertalings is sekere uitlatings in die oorspronklike dagboek volgens Lefevere (1992:68) byvoorbeeld baie versag. 'n Voorbeeld hiervan is Anne se beskrywing van die Duitse beleid om gyselaars te skiet: "zet de Gestapo doodgewoon een stuk of 5 gijzelaars tegen de muur" (die Gestapo sit eenvoudig 5 gyselaars teen die muur) wat in Duits vertaal is as: "dann hat man einen Grund, eine Anzahl dieser Geiseln zu erschiessen" (dan het jy ['n mens] 'n rede om 'n aantal van hierdie gyselaars te skiet). Deur "man" in plaas van spesifiek "Gestapo" te gebruik, maak dit die beskrywing volgens Lefevere (1992:68) minder eksplisiet en skrikwekkend, en deur "erschiessen" te gebruik in plaas daarvan om die idee te skep van gyselaars wat eenvoudig teen 'n muur staan gemaak word, oor te dra, maak dit die daad volgens hom meer abstrak, en dus minder skokkend. Verder word die skrikwekkende daad in die Duitse vertaling regverdig deur die woorde "dann hat man einen Grund". Die onmenslikheid van hierdie daad, wat in die Nederlandse teks beklemtoon word, raak in die Duitse ideologies-geplooide, of gemanipuleerde, doelteks verlore.

    In sekere Duitse en Franse vertalings is daar ook geen poging aangewend om die mengsel van tale wat in die bronteks voorkom, in die doelteks weer te gee nie (Lefevere 1992:69). Hierdie ideologiese neutralisering is problematies, aangesien taal sterk ideologiese betekenis het, en veral binne die konteks van Het Achterhuis 'n groot rol speel. Die Franks was 'n Duitssprekende gesin, maar het om van die onderdrukking van die Nazi's te ontsnap, Nederland toe verhuis en, veral die kinders, Margot en Anne, het as't ware heeltemal vernederlands. Die gebruik van Duits is om die waarheid te sê nie in die Agterhuis toegelaat nie, behalwe vir die lees van klassieke werke. Die volgende voorbeeld is uit meneer Van Daan se "Agterhuis-onderduikreëls":

    Dinsdag, 17 November 1942

    BT: Gebruik van taal: [...] Toegestaan zijn alle cultuurtalen, dus geen Duits. [...] er mogen geen Duitse boeken gelezen worden, uitgezonderd wetenschappelijke en klassieke, alle overige zijn vrij. (bl. 66)

    DT: Gebruik van taal: [...] Alle kultuurtale word toegelaat, dus geen Duits nie. [...] Daar mag geen Duitse boeke gelees word nie; uitgesonderd wetenskaplike en klassieke werke. Alle ander boeke word toegelaat. (bl. 96)

    In die Afrikaanse vertaling word die mengsel van Duits en Nederlands behou om te beklemtoon dat die onderduikers wel Duits was, maar doelbewus hoofsaaklik Nederlands (wat wel in Afrikaans vertaal word) gepraat het en hulle heeltemal losgemaak het van hulle Duitse kultuur, wat hulle met die Nazi-Duitsers se onderdrukking van die Jode geassosieer het.

    Alhoewel ideologiese verwysings in ander, veral Duitse, vertalings van Het Achterhuis uitgelaat of geneutraliseer is, word alle ideologiese verwysings in Die Agterhuis behou en nie geneutraliseer nie. Spies (2009) beklemtoon dat sy juis al die ideologiese verwysings in die doelteks so getrou moontlik weergee om lojaal te bly aan die bronteksouteur, die bronteks en die ideologiese boodskap wat hierdie bronteks oordra. Dit is omdat ideologie 'n integrale deel van die dagboek vorm.

    Aangesien die dagboek teen die agtergrond van die Tweede Wêreldoorlog en die Holocaust afspeel, word terme soos Führer, Wehrmacht en Gestapo in Duits behou. Dit word nie in Afrikaans vertaal, of omskryf (byvoorbeeld "Duitse Polisiemag", vir Gestapo) nie. Hierdeur word die konteks van die Tweede Wêreldoorlog duideliker weergegee en die ideologiese konnotasies wat met hierdie woorde verband hou, word in die Afrikaanse vertaling oorgedra.

    Die vertaler gebruik ook die woord "onderduik" in plaas van "wegkruip" om "onderduik/en" te vertaal, aangesien wat die Jode tydens die Tweede Wêreldoorlog moes doen, meer as net blote skuiling behels het; hulle moes as't ware verdwyn. Die Nederlands Koenen Woordeboek (Koenen & Drewes 1976:917) verklaar "onderduiken" soos volg:

    onderduiken: (tijdens de Duitse besetting) op een verborgen plaats of elders onder een andere naam gaan leven om uit de hande der politie te blijven of zich aan bepaalde maatregelen v.d. bezetter te onttrekken; in het algemeen: zich (tijdelijk) verborgen houden, (tijdelijk) bepaalde relaties verbreken, zich schuilhouden [...].

    Verwysings na die twee religieuse groepe wat by die Holocaust betrokke was, naamlik Christene en Jode, word ook telkens behou en, soos in die bronteks, as't ware beklemtoon. In Duitse vertalings van die dagboek word daar dikwels ideologies geneutraliseer, of gemanipuleer, deur byvoorbeeld verwysings na die oorlog, of na Joodsheid of die Christendom, uit te laat.

    Woensdag, 24 Junie 1942

    DT: Ek wens ek hoef nie skool toe te gaan nie, my fiets is in die Paasvakansie gesteel en Moeder s'n het Vader by Christenmense in bewaring gegee. (bl. 45)

    In die Duitse vertaling word daar slegs na "mense" en nie na spesifiek "Christenmense" verwys nie.

    Die volgende inskrywing illustreer die vertaler se besluitneming ten opsigte van ideologiesgebonde aspekte:

    Saterdag, 27 Maart 1943

    BT: Rauter, een of andere hoge mof, heeft een rede gehouden: 'Alle joden moeten tot 1 juli de Germaanse landen verlaten hebben. Vanaf 1 april tot 1 mei zal de provincie Utrecht gezuiverd worden (alsof het kakkerlakken zijn), van 1 mei tot 1 juni de provincies Noord-en Zuid-Holland.' (bl. 89)

    DT: Rauter, een of ander hoë Mof, het 'n toespraak gehou: "Alle Jode moet teen 1 Julie die Germaanse lande verlaat het. Vanaf 1 April tot 1 Mei sal die provinsie Utrecht gesuiwer word" (asof dit kakkerlakke is) "vanaf 1 Mei tot 1 Junie die provinsies Noord-en Suid-Holland." (bl. 120)

    Mof is 'n Nederlandse skelwoord vir 'n Duitser (Sanders 2009). In Afrikaans is hierdie woord (en spesifiek met 'n hoofletter geskryf om dit van ander betekenisse van die woord "mof" in Afrikaans te onderskei) ook 'n "spot-of skimpnaam vir 'n Duitser, vroeër ook vir 'n Engelsman" (Odendal & Gouws 2009:728). Aangesien hierdie uitdrukking nie vandag meer algemeen bekend is nie, behoort die vertaler hier 'n voetnoot by te voeg om die term te verklaar sodat die doeltekslesers weet wat dit beteken. Dit is egter goed dat Spies hierdie woord nie neutraliseer na byvoorbeeld "Duitser" nie, sodat die ideologiese strekking agter die woord "Mof" ook in die doelteks behoue bly.

    In die bostaande vertaling kan 'n mens sien hoe die vertaler die doelteks duideliker maak vir die doelteksleser deur die deel wat Anne bygevoeg het (asof dit kakkerlakke is) tussen hakies, maar buite die aanhalingstekens te plaas om dit van die aangehaalde radiostem te onderskei.

    Om die ideologiese waarde van die volgende woorde te behou, en dit aan die doeltekslesers oor te dra, word die onderstreepte uitdrukkings hier onder met kulturele substitute vertaal wat die doelteksleser sal verstaan:

    Sondag, 27 September 1942

    BT: We hadden het over dienstmeisjes, dat je die 'hulp in de huishouding' moet noemen en dat dit na de oorlog zeker geëist zal zijn. (bl. 43)

    DT: Ons het daaroor gepraat dat dit na die oorlog seker van ons vereis sal word om 'n bediende 'n "huishulp" te noem. (bl. 70)

    Die doelteksleser verstaan die kulturele ekwivalente bediende en huishulp beter en die ideologiese strekking van hierdie passasie kom dus sterker oor in die vertaling as wat die vreemde leksikale items sou kon bewerkstellig.

    'n Belangrike ideologiese element tydens die Tweede Wêreldoorlog, was die radio. Anne gee dikwels in die dagboek weer wat sy oor die radio hoor. Hierdie verwysings na radio-uitsendings is ideologies van belang, aangesien die radio die enigste verbinding was wat die onderduikers met die buitewêreld gehad het (afgesien van die kontak met die mense wat vir hulle gesorg het, soos Miep) en waardeur hulle nuus oor die oorlog kon ontvang. Dit was in hierdie tyd onwettig vir Jode om radio's te besit en as gevolg van propagandistiese oorwegings mag Nederlanders nie na byvoorbeeld die Britse radiostasie (BBC) geluister het nie. Die onderduikers het saans na ses veral na die Nederlandse radiostasie (die Oranje-sender) en die BBC geluister om op hoogte van die nuus oor die oorlog te bly. Aangesien die Duitse uitsendings Nazi-propaganda uitgesaai het, het hulle nie daarna geluister nie:

    Dinsdag, 17 November 1942

    DT: [...] géén senders is verbode nie met dien verstande dat slegs by uitsondering na Duitse stasies geluister mag word, byvoorbeeld na klassieke musiek en dergelike. Dit is ten strengste verbode om na Duitse berigte te luister (ongeag van waar hulle uitgesaai word) en dit te versprei. (bl. 95)

    Die radio het vir die onderduikers as 'n baken van hoop gedien:

    Sondag, 11 Julie 1943

    DT: Dit is werklik waar dat as die berigte van buite al hoe slegter word, die radio met sy wonderstem help dat ons nie moed verloor nie en elke keer weer sê: "Kop op, hou goeie moed, daar kom ook weer ander tye!" (bl. 131)

    Daar is verskillende maniere hoe die radiostem weergegee en vertaal word. Soms word wat oor die radio gesê word, slegs deur Anne gerapporteer en soms word die direkte woorde van die omroeper/spreker weergegee. Wanneer die uitsending in Nederlands is, en ook in die bronteks in Nederlands geskryf word, word dit in die doelteks in Afrikaans vertaal en wanneer die uitsending in Engels in die bronteks voorkom, word dit ook in die doelteks in Engels behou. Soms sal Anne in die bronteks 'n Engelse uitsending vertaal en aandui dat dit 'n vertaling is. Hierdie aanslag word ook in die Afrikaanse vertaling behou. Sien die volgende aanhaling as voorbeeld:

    Dinsdag, 6 Junie 1944

    BT: Engelse uitzending in het Engels om één uur (vertaal): 11 000 vliegtuien staan gereed en vliegen onophoudelijk af en aan om troepen neer te laten en achter de linies te bombarderen. (bl. 275)

    DT: Engelse uitsending in Engels om eenuur (vertaal): 11 000 vliegtuie staan gereed en vlieg onophoudelik heen en weer om troepe neer te laat en agter die linies te bombardeer. (bl. 318)

     

    GEVOLGTREKKING

    Kulturele en ideologiese oorwegings weeg altyd swaar in die vertaling van tekste wat oor 'n oorlogsituasie, en veral dié van die Tweede Wêreldoorlog met die gepaardgaande Holocaust, handel. Soos genoem, het die manipulasie van Anne Frank se dagboek in sekere vertalings wanvoorstellings van die teks en skrywer tot gevolg gehad. Op Book SA se webblad word opgemerk dat Spies se vertaling van Het Achterhuis "een van die volledigste Anne Frank-dagboeke [is] wat nog verskyn het". Dit is aangesien sy met die heel nuutste inligting oor die dagboek gewerk het, dit nie bloot vertaal het nie, maar ook deeglik nagevors het, en aangesien dele wat voorheen deur die Anne Frank-stigting gesensureer is, nou ook bygewerk kon word (Izak 2011).

    In die Afrikaanse vertaling van die dagboek van Anne Frank, Het Achterhuis, bly die vertaler baie naby aan die bronteks deur oorwegend van die vervreemdingstrategie gebruik te maak en alle ideologiese verwysings in die dagboek so getrou moontlik in die Afrikaanse doelteks weer te gee. Alhoewel daar baie getrou aan die bronteks gebly word, gebruik die vertaler keurige Afrikaans en maak deur middel van die doeltekstaal asook die funksionele gebruik van die parateks6 die doelteks toeganklik vir die doelteksleser. Sodoende slaag Lina Spies daarin om die stem en styl van Anne Frank in Afrikaans weer te gee, getrou aan die inhoud en nuanses van die bronteks te bly en daarmee die outentisiteit van die bronteks, Het Achterhuis, in die Afrikaanse doelteks, Die Agterhuis, te behou.

     

    BIBLIOGRAFIE

    Barnouw, D. 1998. Anne Frank voor beginners en gevorderden. Amsterdam: Rijksinstituut voor Oorlogsdocumentatie. Den Haag: SDU Uitgevers.         [ Links ]

    Berman, A. 1985. Translation and the trials of the foreign. In Venuti, L (ed.). 2000. The translation studies reader. New York: Routledge, pp. 284-297.         [ Links ]

    Brand, G. 2008a. Anne Frank se dagboek nie haar verhaal nie. Gesprek by Die Burger se boekklubete. Stellenbosch: Volkskombuis.         [ Links ]

    Brand, G. 2008b. Spies loop pad met Anne Frank. Die Burger. 20 Augustus 2008, p. 12.         [ Links ]

    Brisset, A. 1990. The search for a native language: translation and cultural identity. In: Venuti, L. (ed.). 2000. The Translation Studies Reader. New York: Routledge, pp. 343-375.         [ Links ]

    De Vries, W. 2011. Akademie vereer skrywers. Die Burger. 26 Maart 2011. http://m.news24.com/dieburger/Vermaak/Nuus/Akademie-vereer-skrywers-20110325 [13 April 2011]         [ Links ].

    Dekker, R. 2002. Introduction. In: Dekker, R. (ed.). 2002. Egodocuments and history. Hilversum: Verloren, pp. 7-20.         [ Links ]

    Flanzbaum, H. (ed.). Verloren, 1999. The Americanization of the Holocaust. Baltimore: The Johns Hopkins University Press.         [ Links ]

    Frank, A. 2008a. Die Agterhuis. Dagboekbriewe 12 Junie 1942 - 1 Augustus 1944. Uit die oorspronklike Nederlands vertaal en ingelei deur Lina Spies. Pretoria: Protea.         [ Links ]

    Frank, A. 2008b. Het Achterhuis. Dagboekbrieven 12 Juni 1942 - 1 Augustus 1944. Samengesteld door Otto Frank en Mirjam Pressler. Amsterdam: Uitgeverij Bert Bakker.         [ Links ]

    Hugo, D. 2008. Dagboek van 'n onvoltooide lewe: Spies se vertaling hervestig aandag op feite van Frank. Die Burger. 23 Junie 2008, p. 13.         [ Links ]

    Izak (blogger). 2011. Lina Spies wen Akademieprys vir Vertaalde Werk vir Die Agterhuis. In: Protea Boekhuis @ Book SA: BOOK Southern Africa, 28 Maart 2011, http://protea.book.co.za/blog/2011/03/28/linaspies-wen-akademieprys-vir-vertaalde-werk-vir-die-agterhuis/ [12 April 2011]         [ Links ].

    Koenen, M.J. & Drewes, J.B. 1976. Verklarend handwoordenboek der Nederlandse Taal. Groningen: HD Tjeenk Willink.         [ Links ]

    Lefevere, A. 1992. Translation: ideology - on the construction of different Anne Franks. In: Lefevere, A. (ed.). 1992. Translation, rewriting, and the manipulation of literary fame. London: Routledge, pp. 59-72.         [ Links ]

    Megrab, R.A. 1999. Ideological shifts in cross-culture translation. In: Boase-Beier, J. & Holman, M. 1999. The Practices of literary translation constraints and creativity. Surrey: St. Jerome, pp. 59-69.         [ Links ]

    Munday, J. 2007. Translation and ideology: a textual approach. In: Cunico, S. & Munday, J. (eds). 2007. The Translator: Translation and ideology: encounters and clashes. 13(2):195-217.         [ Links ]

    Odendal, F.F. & Gouws, R.H. 2009. Handwoordeboek van die Afrikaanse taal. Pinelands: Pearson Education South Africa.         [ Links ]

    Rijksinstituut voor Oorlogsdocumentatie. 1986. Die dagboeken van Anne Frank. Amsterdam: Uitgeverij Bert Bakker.         [ Links ]

    Sanders, E. 2009. Mof. In: NRC Handelsblad, http://www.nrc.nl/krant/article1613201.ece/Mof [17 Oktober 2009]         [ Links ].

    Schneider, M. 2008. Anne Frank's diary is now also in Afrikaans. In: Jewish report. 27 Junie - 4 Julie 2008, p. 3.         [ Links ]

    Spies, C. 2011. Funksionaliteit van die parateks in Lina Spies se vertaling van Anne Frank se dagboek, Het Achterhuis, in Afrikaans. LitNet Akademies, 28 Februarie 2011,p.8 1: http://www.litnet.co.za/cgi-bin/ giga.cgi?cmd=cause_dir_news_item&cause_id=1270&news_id=99466&cat_id=284 [12 April 2011]         [ Links ].

    Spies, L. 2007. Inleiding, die dagboek van Anne Frank. In: Frank, A. 2008. Die Agterhuis. Pretoria: Protea, pp. 7-26.         [ Links ]

    Spies, L. 2008a. Die vertaling van die dagboek van Anne Frank. Lesing. Kaapstad: Holocaust-Museum, 16 Junie 2008. TEO: Webdiens van die Fakulteit Teologie van die Universiteit van Pretoria, http://teo.co.za/artikel/articles/52/1/Die-vertaling-van-die-dagboek-van-Anne-Frank/Bladsy1.html [1 November 2008]         [ Links ].

    Spies, L. 2008b. Praatjie oor haar vertaling van Anne Frank se dagboek. Stellenbosch: Protea Boekhandelaar. 28 Junie 2008.         [ Links ]

    Spies, L. 2009. Persoonlike onderhoude en gesprekke. Stellenbosch.         [ Links ]

    Spivak, G.C. 1992. The politics of translation. In: Venuti, L. (ed.). 2000. The translation studies reader. New York: Routledge, pp. 397-416.         [ Links ]

    Tymoczko, M. 2003. Ideology and the position of the translator: in what sense is a translator "in between". In: Pérez, M.C. (ed.). 2003. Appros of ideology: translation studies on ideology - ideologies in translation studies. Manchester: St. Jerome, pp. 181- 201.         [ Links ]

    Venuti, L. 1995. The translator's invisibility. London: Routledge.         [ Links ]

    Venuti, L. 2000. Translation, community, utopia. In: Venuti, L. (ed.). 2000. The translation studies reader. New York: Routledge, pp. 468-488.         [ Links ]

     

     

    CARLA-MARIÉ SPIES behaal in 2007 die BAgraad in die geestelike en sosiale wetenskappe aan die Universiteit Stellenbosch met Afrikaans en Nederlands (vakpryswenner) en Politieke Wetenskap as hoofvakke. Sy behaal in Maart 2011 haar meestersgraad in vertaling (wat ook redigering en tolking insluit) cum laude aan die US met 'n verhandeling onder leiding van prof. Ilse Feinauer oor Lina Spies se Afrikaanse vertaling van die dagboek van Anne Frank, Het Achterhuis. Sy werk as skryfkonsultant by die US Taalsentrum se Skryflaboratorium en is betrokke by slypskole vir die taalprofessies wat aangebied word deur die Departement Afrikaans en Nederlands (US). Sy doseer ook tans Akade miese Geletterdheid. Verder doen sy navorsing, vertaling en redigering op 'n vryskutbasis. In 2010 begin sy haar doktorale studie oor die interaksie tussen die literêre vertaler en redigeerder.
    CARLA-MARIÉ SPIES obtained the BA degree in humanities and social sciences from the University of Stellenbosch in 2007; her majors were Afrikaans and Dutch (of which she was awarded the subject prize) and Political Science. Subsequently, she was awarded a Master's degree in translation (inclusive of editing and interpreting) cum laude by the SU in March 2011; Prof. Ilse Feinauer supervised the dissertation on Lina Spies's Afrikaans translation of the diary of Anne Frank, Het Achterhuis. Currently, she is employed as a writing consultant at the SU Language Centre's Writing Lab and she is involved in language practice workshops presented by the Department of Afrikaans and Dutch (SU). In addition, she teaches Academic Literacy and does research, translation and editing on a free-lance basis. Ms Spies started her doctoral studies on the interaction between the literary translator and editor in 2010.

    ILSE FEINAUER is tans medeprofessor in Vertaling en Afrikaanse taalkunde in die Departement Afrikaans en Nederlands aan die Universiteit van Stellenbosch. Sy koördineer en doseer die nagraadse programme in vertaling aan die Universiteit, maar sy doseer ook voor- en nagraads Afrikaanse taalkunde. Haar voor- en nagraadse studies is aan die Universiteit van Stellenbosch voltooi. Sy is mede-outeur van 'n aanleerwoordeboek Basiswoordeboek van Afrikaans (1994), sowel as mederedakteur van 'n sintaksisbundel Sintaksis op die Voorgrond (1998). Haar eerste navorsingsliefde was die sintaksis, maar sy het ook heelwat in die leksikografie gepubliseer. Haar huidige navorsing is op vertaalteorie toegespits. Sy is redaksielid van Lexikos, 'n internasionale leksikografi etydskrif, en is lid van verskeie taal- en vertaalvakverenigings o.a. SAVI (Suider-Afrikaanse Vereniging vir Vertaling en Tolking), EST (European Society for Translation Studies) en IATIS (International Association for Interpreting and Translation Studies).
    ILSE FEINAUER currently holds the position of associate professor in Translation and Afrikaans linguistics in the Department of Afrikaans and Dutch at the University of Stellenbosch. She is responsible for coordinating the postgraduate programmes in translation at the University; and teaches translation and Afrikaans linguistics on both under- and postgraduate levels. Professor Feinauer studied at the University of Stellenbosch and completed all under- and postgraduate courses at this university. She is co-author of a learner's dictionary, Basiswoordeboek van Afrikaans (1994), as well as co-editor of a book on syntax, Sintaksis op die Voorgrond (1998). Initially she focused in her research on syntax, but she has published quite a number of articles on lexicography as well. Currently translation theory forms the focus of her research. She serves on the editorial board of Lexikos, an international lexicography journal; and she is also a member of various language and translation associations, amongst others SATI (South African Translator's Institute), EST (European Society for Translation Studies) and IATIS (International Association for Interpreting and Translation Studies).

     

     

    1 Hierdie artikel is gebaseer op die verhandeling gelewer vir die MPhil (Vertaling) aan die Universiteit van Stellenbosch, genaamd "Die Agterhuis - Lina Spies se vertaling van Anne Frank se dagboek, Het Achterhuis, in Afrikaans: Besluite, benaderings en strategieë".
    2 Lina Spies se opinies oor die vertaling en motivering vir vertaalbesluite word dikwels in hierdie artikel aangehaal. Dit is omdat hierdie artikel spesifiek handel oor die ideologiese oorwegings (wat subjektief is tot die vertaler as magsagent in die vertaalproses), die besluitneming deur die vertaler en benaderings wat deur die vertaler in die vertaling gevolg is.
    3 Domestikering word dikwels beskryf as 'n strategie waar die bronteks nader aan die doelteksleser beweeg word en vervreemding as 'n strategie waar die doelteksleser nader aan die bronteks beweeg word. Die oorwegings wat hier 'n rol speel word as "verskuiwings" (shifts) wat tydens die vertaalproses in die vertaler se gedagtes plaasvind, beskryf.
    4 Hy deel hier die siening van Abbé Prévost, 'n Franse skrywer uit die agtiende eeu se siening oor vertaling (Sien Venuti 1995:306).
    5 Let wel Nederlandse woorde en sinne word nie in voetnote in die doelteks vertaal nie.
    6 Raadpleeg die outeur van hierdie artikel se artikel waarin die funksionaliteit van die parateks in Die Agterhuis ondersoek word: "Funksionaliteit van die parateks in Lina Spies se vertaling van Anne Frank se dagboek, Het Achterhuis, in Afrikaans" (Spies 2011).