SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.51 issue1The interactive approach to reading instruction: an alternative to traditional ways of teaching readingOns ongehoorde soort: beskouings oor die Werk van Antjie Krog - Louise Viljoen author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Article

Indicators

Related links

  • On index processCited by Google
  • On index processSimilars in Google

Share


Tydskrif vir Geesteswetenskappe

On-line version ISSN 2224-7912
Print version ISSN 0041-4751

Tydskr. geesteswet. vol.51 n.1 Pretoria Mar. 2011

 

BOEKBESPREKING BOOK REVIEW

 

The A to Z of the anglo-boer war: the A to Z guide series, no 200

 

 

deur Fransjohan Pretorius
The Scarecrow Press, Inc. Lanham, Toronto, Plymouth, UK 2010; voorwoord, kaarte, kronologie, inleiding, bibliografie, foto's, inligting oor die skrywer; 577pp
ISBN 978-08108-7629-3
R549:95 (Protea Boekhuis), $29:95 +posgeld (Amazon.com)

Hierdie boek hoort in die naslaanafdeling van alle universiteite en baie ander instansies, maar ook in die tuisbiblioteke van elke belangstellende in die Anglo-Boereoorlog 1899-1902.

Prof Fransjohan Pretorius word internasionaal erken as een van die voorste kenners van die geskiedenis van die Anglo-Boereoorlog. Daarom is dit geensins verrassend dat hy versoek is om hierdie A-Z deel 200 van die Amerikaanse reeks oor militêre, politieke en sosiale gebeure in die wêreld, te skryf nie. Die eindredakteur van die reeks, Jon Woronoff, sê in die Voorwoord (pp. viiviii) dat prof Pretorius uitmuntend daarin slaag om dié oorlog, wat gesien word as die voorloper van ander konvensionele sowel as guerrilla oorloë teen kolonialisme in die 20ste eeu vir 'n wyer publiek toeganklik te maak.

Ter inleiding (pp ix-xi) verduidelik Pretorius waarom die benaming "Anglo-Boereoorlog" deur hom gebruik word vir die oorlog wat amptelik tussen die twee Boererepublieke en Brittanje gevoer is. Swartmense was ook militêr, polities en sosiaal-maatskaplik by die oorlog betrek. Duidelike kaarte van die Boere republieke en van sewe van die oorlogsterreine verhoog die waarde van die publikasie. 'n Kronologiese tydlyn (pp xxiii - xxvi) vergemaklik dit vir die leser om die verloop van die oorlog te volg. Dit is maklik om inskrywings op te spoor ('n volledige indeks sou minstens 'n verdere 30 pp beslaan het). Kruisverwysings word in die teks in vet druk aangetoon.

'n Besondere bydrae is die uitvoerige Inleiding (pp xxix -lvii) waar Pretorius die agtergrond en oorsake van die oorlog op 'n weldeurdagte manier uiteensit. Hy gee 'n oorsig van die Anglo-Boereoorlog as sodanig, asook die naweë daarvan. Hierdie volledige inleiding plaas die gebeure klaar in historiese perspektief voordat die skrywer die groot taak aanpak om die oorlog van A tot Z te bespreek en te ontleed. Vanaf die eerste inskrywing: A vir Abrahamskraal (p1) tot by Z vir ondermeer Zululand (p 507) boei hierdie werklik meesterlike en monumentale werk. Die aandag wat aan besonderhede gegee word en die deeglike navorsing wat in Pretorius se besonder toeganklike skryfstyl aangebied word, verdien besondere vermelding. Kenners van die oorlog sal verras word deur nuwe inligting, terwyl nuwe belangstellendes in die oorlog die boek met waardering dwarsdeur sal lees.

In die uitgebreide bibliografie, pp 511-569, word onderskeid getref tussen die verskillende fasette van die oorlog. Ter inleiding (pp 511-517) evalueer Pretorius die verskeidenheid bronne wat direk na die oorlog verskyn het. Engelse publikasies was tot ongeveer 1950 oorwegend subjektief pro-Brits, hierna volg 'n meer sobere benadering in algemene sowel as akademiese publikasies. Veral tydens en na die herdenking van die Anglo-Boereoorlog in 1999-2002 verskyn talle publikasies waarin Britse, Suid-Afrikaanse Engelse, Afrikaanstalige en swart historici gesamentlik meer gebalanseerde interpretasies van gebeure gee.

Die bibliografie word onderverdeel in verskeie onderwerpe: bibliografieë en historiografieë (pp 517-518); die oorsprong van die oorlog (pp 518-521 ); 'n algemene oorsig van die oorlog (pp 521-525); herinneringe, dagboeke en briewe (pp 525-534); die strydendes - militêre en sosiale geskiedenis (pp 534-545); bronne wat spesifiek betrekking het op die betrokkenheid van die Kaapkolonie en Natal; Australië, Kanada en Nieu Seeland (pp 545-548); en die rol van die Britse gemeenskap. Daarna gee Pretorius 'n lys van bronne ten opsigte van krygsgevangenes; vroue; swartmense; mediese geskiedenis; en internasionale belangstelling (pp 548-563). Biografi eë en bronne wat handel oor die vrede en die na-oorlogse gebeure (pp 563-569) sluit hierdie baie uitvoerige bibliografi e af.

Bekende persone se aandeel in die oorlog word volledig behandel, maar ook minder bekendes soos Fritz Duquesne (p 134) kom aan die beurt. Pretorius huiwer nie om deur middel van sy grondige navorsing mites reg te stel (soos die een dat Duquesne mede-verantwoordelik was vir Kitchener se dood in 1916) nie. Pretorius neem ook duidelik standpunt in oor byvoorbeeld JA Hobson se sogenaamde Joodse kapitalistiese komplot (p 196).

The A to Z of the Anglo-Boer War behoort die toets van die tyd te deurstaan. Toekomstige geslagte historici sal hierdie indrukwekkende werk dankbaar as standaardwerk hoog ag.

 

Dioné Prinsloo
Historikus

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License